2 minute read

Nawoord: HBH

Kyk ek na die Kruis sien ek Liefde, Genade en Barmhartigheid … Kyk ek ander pad .... Kyk ek so na Suid-Afrika sien ek moord, roof, korrupsie, selfverryking en dies meer... Facebook vra wat dink ek? My vrou het ‘n knellende hoofpyn en ek neem haar na die apteek. Ek parkeer in die son ... Ek kyk na die motorwag wat die motorvoertuie “oppas”. Hy help elke bestuurder met handgebare – soos ‘n wafferse spietkop - wat in trurat die parkeerplek verlaat. Ek bak lekker in die winterson, in ons voertuig, goed beskut teen die snerpende windjie en koue. Sy dienste kry nie baie aftrek nie – ek het niemand gesien wat hom ‘n fooitjie gegee het nie. Hy is warm aangetrek en het ‘n klapmus met hoed en rooi glimbaadjie en jeans! Ek besluit om hom ‘n fooitjie te gee al was ek vandag my eie “karwag”. Ek knoop ‘n geselsie aan en vra hom hoeveel hy daagliks verdien. Hy vertel my. Ek vra hom of hy moet betaal om daar te “werk”? Ja, ‘n groot deel van sy inkomste gaan elke dag na “die ou daar voor” vir die voorreg om daar te kan werk. Hulle moet eers betaal voor hulle kan werk. Nou wonder ek: Kan die winkelsentrum nie sy eie wagte aanstel en hulle behoorlik vergoed nie? Waarom hierdie brandarm volksgenote uitbuit? Ek dink die winkelsentrum kan parkeerfooie hef en die parkeergeld vir die karwagte gee. Ek kry ons mense so tussen die rand van oorlewing en armoede so jammer – mense kom ons ondersteun hulle juis omdat hulle ‘n “diens” lewer – ons weet almal hulle kan eintlik “niks doen” indien ‘n voertuig gesteel word. Maar, hulle kan darem alarm maak. Dan is daar nog bedelaars ook... hulle lewer geen diens nie – sit net en bedel met ‘n skuttende wit polistireen bekertjie .... In Durban waar ek in my jong dae straatpolisieman was, was dit ‘n oortreding om te bedel en as ‘n ongewenste persoon “rond te dwaal” sonder inkomste of heenkome – of iets tot dien effekte. Ek sien nou die dag ‘n bedelaar tussen die verkeersbane, voor die verkeerslig se stoplyn, op sy knieë en bedel – kan so maklik omgery word. Ook as mens verkeerslig nader moet mens stadiger ry omdat die bedelaar tussen die bane staan – sommige trek ook donker klere aan .... Ek sien nou anderdag ‘n kind bedel en die polisie ry verby – dis skooltyd en duidelik is die kind sorgbehoewend. Hulle doen “niks” en ry net verby. In my jong dae het ons so ‘n kind na plek van veiligheid verwyder.... Ai ons mense kry swaar! Dis winter ... Veral diegene in plakkerskampe en op straat. Wat kan ons doen? Ons kan die kerk se verskillende aksies en uitreikingsprogramme steun en ons kan darem die karwagte ietsie vir hul diens gee ....

Advertisement

This article is from: