VOORWOORD | FOREWORD
Brig HB Heymans (SAP – Afgetree)
Vlnr: Brig HB Heymans, Kol LP Bradley en Brig Sam Holmes. Baie welkom by hierdie besondere uitgawe wat ‘n afdruk is van ‘n program van ‘n prestige musiekkonsert gehou ter viering van die Suid-Afrikaanse Polisiemag se 75ste bestaansjaar en die konsert is ook spesiaal gehou ter ere van die Staatspresident, mnr PW Botha en mev Botha. Tydens my dienstermyn het my gade en ek talle van die SA Polisiemag se musiekuitvoerings bygewoon. Dit het my trots gemaak om ‘n lid van die SA Polisiemag te wees. Reeds in die SA Polisiekollege het ons met die polisie-orkes kennis gemaak wanneer hulle Woensdae-oggende “Die Stem” gespeel het tydens die vlaghysingseremonie – natuurlik ook tydens ons uitpasering. Ek was ‘n beredeman en ons het die “Musikale Rit” gedoen terwyl die orkes luister aan ons vertoning verleen het. Toe ons afmarsjeer speel die orkes, en die res van die kollege sing “Bly by my Heer” en “Sal ons ou Kennisse ooit Vergeet?” Dit was die 4de Julie 1964 – een van die dae wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie! Die SA Polisiemag was ‘n trotse instelling met ryke tradisies. Op begrafnisse het ons ook die orkes gekry om die laaste eer aan ons gevalle makker te betoon! Wat is ‘n militêre begrafnis sonder die trompet wat die “Laaste Taptoe” en “Oggendsinjaal” speel! In ons jong dae het ons ook ‘n sarsie loskruit patrone oor die graf gevuur. Op talle Weduwee- en Weesfonds-danse het die befaamde polisie-orkes ook opgetree. Sonder die orkes sou sulke aande nie veel betekenis gehad het nie. Kol LP Bradley en Brig Sam Holmes het die polisie-orkes op ‘n besonder peil gebring en ons was almal baie trots op die polisie en sy orkes. Ons dank aan hierdie manne wat ‘n goeie grondslag gele het en sekere waardes weerspieël het! Lees gerus die program. Voor ons vergeet plaas ons weer ‘n afdruk van daardie luisterryke aand! •
Ons dank aan kol Dawn Kellerman wat die Program beskikbaar gestel het
6 Nongqai Vol 13 No 1A – 1988 SAP PRESTIGE-MUSIEKKONSERT