1
Vrede en liefde vir julle!
Liewe Vriende in Christus,
“Die sand het gespoel oor die spore van 2010.” Kyk ons terug op die lewensstrand waarlangs ons in 2010 geloop het, is ons voetspore nog net op enkele plekke sigbaar. Dit sê vir my iets! Ons kan nie in die verlede leef nie. Voor ons strek 2011 amper eindeloos uit. Wonderlik is die wete dat ons elke dag kan leef deur die genade, krag, liefde en wysheid van Christus in ons. Hy is God se Triomf in ons. Hierdie BvB (Brief van Bemoediging) het ‘n ligter aanslag. Ons Woordgidse breek Geestelike dieptes oop wat jou sal motiveer om soos ‘n Paulus die lewenswedloop met volharding te hardloop.
AFGESKAKEL Gedurende Desember het ek iets eienaardig beleef. Om af te skakel is glad nie so maklik nie. Om die werksdrang in my af te kamp is moeilik. Dit is asof die besef dat die tyd wat vir my voorlê baie korter gaan wees as die jare wat reeds verby is, my tot aktiwiteit wil dwing. Vir my is die dae te kort, vlieg die weke onkeerbaar vinnig onder my verby. Dit laat my met die gevoel dat geleenthede verlore gegaan het. Ek het soos ‘n bul met ‘n seer kop in die huis rondgeloop. Geliefdes, ek is nie in die wieg gelê vir ‘n niksdoen bestaan nie. Wat jaag ons? Is dit die tempo van die lewe in die 21ste Eeu? Is dit die onbekende eise van die moderne lewe wat ons voortstu? Om te lewe beteken verandering; verandering veroorsaak dikwels krisisse. Spanning en frustrasie is die gevolg. 2011 is ‘n paar dae oud. Die afsetter se pistool se knal het ons uit die wegspringblokke laat wegvlieg. Alreeds is die rotte met sentimeters voor! Waarom is dit so moeilik om werklik in die Here tot ruste te kom? Lê die probleem nie dalk by die idee dat “ek moet dit maak” nie? Individualisme. Ware Christenskap is ‘n “spansport!” God het elke spanlid se uniekheid, vaardighede, passie en lojaliteit baie nodig.