Gr 12-Gasvryheidstudies-Handleiding

Page 1


Graad 12 • Handleiding Gasvryheidstudies

Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za

© Optimi

Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.

Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.

Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.

Reg.nr.: 2011/011959/07

Gasvryheidstudies

Handleiding

Graad 12

Aangepas vir KABV

Master Gasvryheidstudies Graad 12

F. Le Roux, S. Burger, D-L. Kempen, H.A. Saaiman, L. van Velden Sample

Master Gasvryheidstudies Graad 12 Leerderboek

Teks © Outeurs 2013

Ontwerp en illustrasies © Master Books CC 2013

Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder skriftelike toestemming van die outeur gereproduseer of langs enige elektroniese of meganiese weg weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, opnames, of enige ander stelsel van inligtingbewaring.

Eerste publikasie 2013

Uitgegee deur Master Books

Epos: florette.masterbooks@yahoo.com

Setwerk en omslag ontwerp deur Leandri van der Elst (Leandri@unboxed.co.za)

Omslag foto verskaf deur Nicolas van der Walt, FBI Chef’s School and Pastry Academy

Die outeurs het moeite gedoen om enige kopieregklarings te doen. Indien daar enige kopieregnavrae is, kontak asseblief die outeur.

Indien die outeurs enige kopiereg materiaal oorgesien het sal hulle graag dit regstel met die eerste geleentheid.

Gedruk en gebind deur NUMASA

Erkennings

Die outeurs wil graag die volgende mense opreg bedank:

• Nicolas van der Walt, FBI Chef’s School and Pastry Academy vir insette en foto’s

• Martha Kok vir proeflees

• Macmillan (Esma du Plessis en David van der Merwe) vir Illustrasies

• Peter Davidson vir foto’s

• Ina van Schalkwyk vir taalversorging

• Sherry Neville en Bernita Naude van Macmillan vir hulle ondersteuning

Inhoudsopgawe

Nota aan die leerder

Geagte leerder

Welkom by die wonderlike wêreld van die Gasvryheidsbedryf! Dit is een van die bedrywe in SuidAfrika wat die vinnigste groei en bied ’n groot verskeidenheid loopbaangeleenthede. Hierdie boek gaan jou eerstens voorsien van die nodige agtergrondinligting oor moontlike werksgeleenthede –insluitend entrepreneursgeleenthede – en tweedens toerus met die kennis, vaardighede, houding en waardes wat jy nodig het om jou vir ’n loopbaan voor te berei.

Al die betrokke onderwerpe wat deur die kurrikulum vereis word, word deur die inhoud van hierdie boek gedek. Die aktiwiteite is gerig daarop om jou te begelei in die versameling van kennis deur middel van navorsing en vereis dat jy in ’n groep deelneem aan besprekings en groepwerk. Ons vertrou dat hierdie boek jou gaan begeester met ’n blywende entoesiasme vir Gasvryheidstudies! As jy dit oordeelkundig gebruik en hard werk, sal jy weldrae besef dat jy reeds al die vaardighede wat jy nodig het vir ’n geslaagde loopbaan in die Gasvryheidsbedryf, in die praktyk toegepas het!

Die outeurs

Sample

Die Gasvryheidsindustrie se bydrae tot die Suid-Afrikaanse

ekonomie

In hierdie hoofstuk sal jy leer om …

Jou kennis en begrip van die volgende areas te demonstreer:

• Bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie

• Areas in die akkommodasiebedryf wat inkomste genereer

• Areas in die akkommodasiebedryf wat nie inkomste genereer nie

Bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie 1

1

• Die Gasvryheidsbedryf lewer ’n totale bydrae van ongeveer 9,1% tot die Bruto Binnelandse Produk (BBP) in die ekonomie van Suid-Afrika.

• ’n Toename in die aanvraag vir produkte sal werksgeleenthede vir plaaslike inwoners in sakeondernemings skep sowel as in sekondêre maatskappye wat produkte aan ondernemings soos voedselverkoopspunte verskaf. Tot en met 2010 is sowat 940 000 direkte en indirekte werksgeleenthede in die Gasvryheids- en Toerismebedryf geskep. Die Vaardigheidsontwikkelingsprogram van die regering poog om die bydrae tot die ekonomie tot 12% in 2015 te verhoog met ’n totaal van 712 000 direkte en 870 000 indirekte werksgeleenthede.

Belangrike woorde

BBP: Die Bruto Binnelandse Produk verwys na die totale waarde van goedere en dienste wat in ’n jaar in ’n land vervaardig en gelewer word.

Direkte werksgeleentheid: ’n Posisie in ’n Gasvryheids-, Akkommodasie- of Toerismebesigheid, bv. hotelontvangspersoon, kamerbediende of toergids.

Indirekte werksgeleentheid: ’n Posisie wat nie deel vorm van die Gasvryheids- of Toerismebedryf nie, maar noodsaaklike produkte en dienste aan die bedryf verskaf, bv. vervaardiging van linne vir gebruik in akkommodasie-instellings, vervaardigers van voedsel en meubels, ens.

Sample

• Ekonomiese groei word gestimuleer. Plaaslike inwoners, sowel as mense van buite die area sal in die aanvraag na die produkte wat deur bemarking geskep is, voorsien en die plaaslike inkomste verhoog.

• Inkomste wat geskep is, dra by tot die ontwikkeling en verbetering van die land se infrastruktuur.

• Fondse word vir bewaring, onderhoud en verantwoordelike benutting van natuurlike hulpbronne voorsien.

• Toeriste bring waardevolle buitelandse valuta die land in.

• Die aansien en lewenstandaard van die plaaslike gemeenskap verbeter.

Klaskamerakti witeit 1

Hou ‘n dinkskrum oor al die verskillende loopbaangeleenthede in akkommodasieinstellings.

Areas in die akkommodasiebedryf wat inkomste genereer 2

Areas in die akkommodasiebedryf wat inkomste genereer, is die areas waar mense vir produkte en dienste betaal.

2.1 Gastekamers en funksielokale

Gastekamers word deur gaste per nag beset. Tariewe vir akkommodasie word per kamer of per persoon per nag gehef. Akkommodasie-instellings poog om die hoogste moontlike besettingsyfer per nag te behaal, aangesien meer kamers wat per nag verhuur word, ’n groter inkomste vir die instelling beteken.

Funksielokale is vertrekke wat vir funksies soos bv. huweliksonthale, verjaardagpartytjies, feesvierings, konferensies, besigheidsvergaderings of uistallings uitverhuur word. Funksielokale word per uur of per dag uitverhuur. Tariewe wissel afhangend van die grootte en soort funksielokaal. Ekstra fooie word vir geriefsprodukte vir gaste bv. maaltye en verversings of toerusting soos projektors of klankstelsels gehef.

Instellings bied dikwels pakkette aan wat akkommodasie teen ’n spesiale tarief vir afgevaardigdes aanbied.

Belangrike woorde

Afgevaardigde: ’n Persoon wat ’n sakeonderneming by ’n vergadering of konferensie verteenwoordig.

Geriefsprodukte (“amenities”): Produkte wat vir die gerief van die gas of afgevaardigde aangebied word, bv. penne, skryfpapier en koeverte, gebottelde water, seep, naaldwerkstelletjies, ens.

2.2 Voedsel- en drankdiens

Dikwels sluit akkommodasie-instellings ontbyt by die tarief vir die kamer in. Restaurante, koffiewinkels, ens. kan ook deel vorm van die instelling of kan uitgekontrakteer word om deur privaat maatskappye bestuur te word wat nie verwant is aan die akkommodasie-instelling self nie. Gaste betaal ook ’n aansienlik duurder as normaalweg om van kamerdiens gebruik te maak wanneer voedsel en drank bestel en by die gas se kamer afgelewer word.

2.3 Kroeë

Die meerderheid instellings beskik oor ’n dranklisensie wat hul toelaat om alkoholiese drank op die perseel te verkoop. Die verkoopspunt kan ’n kroeg of pub wees waar selfs ook ligte maaltye bestel kan word. Hierdie kroeë of pubs is toeganklik sodat lede van die publiek ook van die fasiliteite gebruik kan maak, en nie slegs ingeboekte gaste van die akkommodasie-instelling nie.

2.4 Wassery

’n Wassery waaruit inkomste verdien word, verwys na ’n wassery wat ’n wasdiens aan gaste lewer waarvolgens gaste se klere gewas, gestryk of droogskoongemaak kan word. Gaste betaal per item, en kan in die meeste gevalle op ’n eendagdiens staatmaak.

Areas in die akkommodasiebedryf wat nie inkomste genereer nie

Sekere areas in akkommodasie-instellings is noodsaaklik vir die behoorlike funksionering van die instelling. Sommige hiervan skep nie ’n inkomste nie omdat gaste nie direk vir hierdie dienste betaal nie. Daar word egter vir die koste verbonde aan die uitvoering van hierdie take begroot en dit word uit die inkomste van die instelling befonds.

3.1 Ontvangskantoor (“front office”)

Die ontvangskantoor is die hart van elke akkommodasie-instelling, Dit is die kantoor waar gaste met die instelling kontak maak wanneer hy / sy bespreek, inboek of die rekening vereffen. Enige navrae word ook deur die ontvangskantoor hanteer. Dit is uiters belangrik om ’n goeie eerste indruk op die gas te maak, aangesien dit bepalend kan wees vir sy / haar tevredenheid met die verblyfervaring in geheel.

3.2 Bemarking

3 Sample

Bemarking kan omskryf word as al die aktiwiteite wat uitgevoer word om potensiële gaste bewus te maak van die akkommodasie-instelling en van die produkte en dienste wat daar aangebied word. Dit is die taak van die bemarkingspan om die gaste oor te haal om dié betrokke instelling vir hul tydelike verblyf te kies.

3.3 Menslike hulpbronne

Hierdie department in enige Gasvryheidsinstelling hanteer die indiensneming van die mees geskikte personeel vir die poste in die instelling. Gelyke indiensnemingsvereistes van die regering word gewoonlik in ag geneem. Hierdie departement hanteer ook enige personeelaangeleenthede soos in hoofstuk 2 bespreek.

3.4 Finansies/Boekhouding

Die finansiële departement kontroleer alle finansiële prosedures in ’n akkommodasie-instelling. ’n Begroting word opgestel, en die inkomste wat van gaste verhaal word, word dienooreenkomstig aangewend.

3.5 Wassery

Die was, stryk en droogskoonmaak van die instelling se linne soos bv. lakens, tafeldoeke, gordyne, ens. skep nie ’n inkomste nie, maar is noodsaaklik vir die funksionering van die fasiliteit. Sommige instellings verkies om die wassery uit te kontrakteer en benut dan ’n diensverskaffer wat die linne op of weg van die perseel af versorg. Sommige diensverskaffers verkies om die linne af te haal en te ruil vanuit hul eie linnevoorraad, sodat die akkommodasie-instelling nie die reuse finansiële uitleg hoef te maak om hul eie linne aan te koop, te onderhou en te vervang nie.

Belangrike woorde

Op die perseel (“on site”): by die akkommodasie-instelling, in hul fasiliteite. Weg van die perseel (“Off site”): nie op die terrein van die akkommodasie-instelling nie, maar by die perseel van die diensverskaffer.

3.6 Instandhouding

Sommige akkommodasie-instellings verkies om permanente instandhoudingspersoneel in diens te hê. Hierdie personeel werk skofte, aangesien instandhouding soms enige tyd van die dag of nag mag nodig wees, bv. herstelwerk aan televisiestelle of probleme met loodgieterswerk. Hulle doen ook roetine-onderhoud soos bv. restourasie of tuinwerk, en help met moeilike skoonmaaktake soos die was van gordyne, matte, ens. Sommige instellings meen egter dat dit goedkoper is om kontrakteurs vir sulke take te gebruik en kontak ’n diensverskaffer wanneer die dienste benodig word. Die nadeel van hierdie scenario is dat die herstelproses tyd mag neem as die diensverskaffer nie onmiddellik beskikbaar is nie, en dit kan ’n ontevrede gas tot gevolg hê.

3.7 Sekuriteit

Sekuriteit sluit al die maatreëls in wat in plek geplaas word om mense en eiendom te beskerm. Sekuriteitspersoneel moet goed toegerus en opgelei wees om situasies soos verdagte optrede, diefstal, bomdreigemente en brande te hanteer. Die meeste instellings het kamersleutels met kaartstelsels vervang vir beter sekuriteit. Verlore en gevonde goedere word volgens beleid van die instelling hanteer.

EKSTRA AKTIWITEITE

Kennis en begrip

Sample

1. Ontwerp ’n breinkaart van al die areas in die akkommodasiebedryf wat inkomste genereer en wat nie inkomste genereer nie. (10)

2. Soek prente van mense wat in akkommodasie-instellings werk. Maak ’n collage daarvan of plak dit by die korrekte posisie op die breinkaart wat jy in taak 1 ontwerp het. (5)

Uitbreiding

3. Jou familie woon in ’n streek in Suid-Afrika wat gedurende die Desember-vakansie deur vakansiegangers oorstroom word. Hulle kla dat hul wens dat iets soos vakansie en vakansiegangers nooit bestaan het nie. Skryf aan hulle ’n brief waarin jy verduidelik hoe belangrik die Gasvryheids- en Toerismebedryf vir die ekonomie van Suid-Afrika is. (10)

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.