Afrikaans Huistaal:
Die Testament deur Rohna Peens
Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za
© Optimi
Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.
Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.
Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.
Reg.nr.: 2011/011959/07
Die
Radiodrama deur Rhona Peens
Studiegids saamgestel deur
Dr. Sonia (du Plessis) Blignaut
Testament Sample
DIE TESTAMENT STUDIEGIDS
KOPIEREG 2019
SONIA BLIGNAUT (DU PLESSIS)
www.studiegidse.co.za studiegidse@gmail.com Sel 0832543906
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag gereproduseer word in enige vorm of op enige manier, elektronies of meganies, insluitende fotokopiëring, plaat- en bandopname of deur enige inligtingbewaring- en ontsluitingstelsel, sonder die skriftelike verlof van die skryfster nie.
ePub ISBN 978-0-6397-4844-3
INHOUDSOPGAWE
1. Wat is ‘n drama?
Die Griekse woord drama beteken handeling. Die handeling boots menslike handeling na deur sprekende en handelende akteurs.
1. As ‘n drama wat opgevoer word, kan die handeling nie op te veel plekke laat plaasvind nie. In die hoorspel sal dit die luisteraar deurmekaarmaak.
2. Die handeling word in hierdie geval op hoorbare wyse voorgestel.
3. Gebeure wat nie direk voorgestel kan word nie, moet op ander maniere weergegee word. Die voorgeskiedenis sal deur middel van vertellings of gesprekke meegedeel word, byklanke suggereer rekwisiete en handeling. (Rekwisiete is die beweegbare artikels of voorwerpe wat in die drama gebruik word. In die hoorspel word dit gebruik om klanke te maak wat ’n illusie gee van die werklikheid).
4. Die drama bied ‘n hoogs gekonsentreerde weergawe van die verhaal.
5. Daarom speel handeling ‘n belangrike rol in die drama. Dit sluit ook die innerlike handeling in, dit wil sê alles wat in die gemoedere van die karakters plaasvind. Die innerlike handeling is genoeg om spanning op te wek.
6. In die drama is botsing in die gemoed die bron van handeling. Vanweë die beperkte omvang word die oomblikke van botsing baie meer in die drama beklemtoon.
7. Dikwels is daar ‘n botsing in die gemoed van die held as een emosie die oorhand probeer kry of as hy tussen twee alternatiewe moet kies.
2. DIE TESTAMENT AS EENBEDRYF
Sample
Die testament is ‘n drama. Dit is ‘n eenbedryf, die formaat is beknop. Die gebeure word op hoorbare wyse voorgestel. In Die testament sentreer die gebeure rondom oom Josef se testament, die erflating en die gesin se nakoming van voorwaardes aan die vererfing daarvan. As gevolg van hierdie voorwaardes moet die gesin ‘n bepaalde rooster volg op die plaas, Nuutgevonde, waartydens bepaalde oordele en vooroordele van hulle gekonfronteer gaan word. By die nakoming van die voorwaardes verander hulle waardes en bereik oom Josef tog wat hy van meet af wou bereik.
Die drama as hoorspel en eenbedryf bring bepaalde beperkings mee ten opsigte van:
o die lengte van die drama (die konsentrasie van die gemiddelde luisteraar moet in ag geneem word),
o die plek waar die handeling afspeel, want die handeling kan nie op te veel plekke plaasvind nie – dit sal die luisteraar verwar,
o die tipes handelinge wat kan plaasvind, want sekere handelinge of gebeurtenisse kan die luisteraar verwar
o die tydsverloop.
o Weens die beknopte formaat is daar ook net beperkte geleentheid vir karakateropenbaring en karakterontwikkeling. Daar is ook ‘n beperkte aantal karakters en die dialoog is ook baie gekonsentreerd.
3. Die testament as hoorspel / radiodrama
Die hoorspel is ‘n drama wat deur middel van die radio vir luisteraars uitgesaai word. Die testament is ‘n hoorspel (radiodrama) wat ‘n gedramatiseerde, akoestiese uitbeelding van ‘n fiksionele wêreld is. Dit het geen visuele komponent nie. Die gebeure word gedramatiseer en dis ‘n suiwer akoestiese uitbeelding. Omdat dit geen visuele komponent het nie, steun die radiodrama op dialoog, musiek en byklanke om die luisteraar te help om die karakters te visualiseer en die storielyn te volg. Alhoewel dit ouditief in die fisiese dimensie is, is dit in die psigologiese dimensie ‘n sterk visuele krag: die luisteraar beleef dus die gebeure as’t ware in sy verbeelding as ‘n werklikheid.
Dit is belangrik dat die luisteraar se belangstelling so gou as moontlik gewek word en voortdurend behou word. Die spanningskurwe in ‘n hoorspel is gewoonlik eenvoudiger en daar is minder onverwagte wendings.
4. Die voordele en nadele van die hoorspel
NADELE
1. Die visuele element ontbreek heeltemal: die luisteraar kan nie sien hoe die karakters lyk en aangetrek is nie, of hoe die milieu waarin hulle optree, lyk nie Die dramaturg kan nie ‘n konkreet-realistiese voorstelling nastreef nie.
2. Dis moeilik om fisieke beweging weer te gee.
3. Net sekere handeling kan deur byklanke gesuggereer word, daarom moet uiterlike handeling so eenvoudig moontlik gehou word.
4. Dit is moeiliker vir die luisteraar om karakters te identifiseer, want sy kan nie hulle voorkoms as hulpmiddel gebruik nie. Daarom moet die aantal karakters streng beperk word.
5. Aanvanklik kan die luisteraar tussen die verskillende karakter onderskei op grond van stemverskille. Verskille in spraakpatroon help ook om tussen die Sample
verskillende karakters te onderskei, byvoorbeeld geleerde taal, gewone omgangstaal of die gebruik van kenmerkende uitdrukkings.
VOORDELE
1. Die hoorspel is by uitstek ‘n woordkunswerk omdat daar uitsluitlik op woorde en klanke gesteun word om alles mee te deel.
2. Die luisteraar se aandag word nie afgelei deur alles wat hy sien nie; hy konsentreer op die woord en kan die fynere nuanses van die woordgebruik waardeer.
3. Dit beroep hom op die luisteraar se verbeelding en kan hom aktiefskeppend aan die hoorspelgebeure laat deelneem.
4. Die luisteraar kry die geleentheid om self die gebeure voor te stel sonder dat ‘n bepaalde visuele voorstelling die hoorspel gebeure verhoog hom beperk.
5. Dit is nie so gebonde aan tyd en plek soos die verhoogdrama nie en die plek van handeling kan baie maklik verander; daar kan ook maklik heen en weer in die tyd beweeg word.
6. Die hoorspel kan dinge suggereer wat moeilik sigbaar op die verhoog voorgestel kan word.
7. Die feit dat ‘n mens nie die karakters kan sien nie, kan die spanning in die drama verhoog.
8. Die hoorspel het ‘n besondere vermoë om die innerlike van ‘n karakter uit te beeld, want die aandag word nie deur konkrete figure en voorwerpe afgetrek nie.
5. DIE BOU VAN DIE DRAMA IN DIE TESTAMENT
Karakters tree nie in ‘n vakuum op nie; hulle word in ‘n sekere situasies geplaas om reaksie by hulle uit te lok. Die intrige is ‘n reeks gebeurtenisse of situasies wat geleidelik tot ‘n klimaks gevoer word en in die ontknoping opgelos word. Oom Josef se testament en die bepalings en voorwaardes wat hy aan hy sy erfgename stel om te erf bepaal die intrige van die drama. Die drama word tradisioneel in fases ingedeel om beter insig in die verloop van die handeling te kry.
Sample6. 5.1 Die eksposisie (uiteensetting / aanloop)
In die eksposisie word die karakters wat by die situasie betrokke is, aan die luisteraar bekendgestel. Die situasie word belig en die moontlike botsing tussen die karakters word ook openbaar. Die dramaturg wil die toehoorders so gou as moontlik op hoogte bring van die vernaamste feite wat hulle moet weet om die drama te kan volg. Sy moet hierdie inligting deur middel van dialoog of byklanke verskaf, sy kan dit nie self aan die luisteraar / leser meedeel nie. Die nodige besonderhede word in ‘n gesprek tussen twee of meer karakters bespreek en op die manier aan die luisteraars oorgedra. In Die testament word die gehoor ingelig dat Herman ‘n opportunis is wat vinnig geld wil maak omdat hulle dit finansieel nie breed het nie, of finansiële probleme het. Hy speel die Pick Six en hoop nie dit is die bankbestuurder
nie, na aanleiding van die telefoongelui. Zenobia word ook bekendgestel as ‘n tipies egosentriese jongmens. Gideon Hansen, oom Josef se prokureur, het aangekondig dat oom Josef oorlede is en die hele Rousseau-gesin moet hom die volgende dag in sy kantoor gaan spreek. Die nuus laat Katinka onaangeraak en Zenobia is ook gevoelloos daaroor. Sy stel net belang in die moontlike erflating. Dit blyk dat die familie oom Josef se plaas erf, maar hulle bly tans nog in die stad.
7. 5.2 Motoriese moment
Die uiteensetting is voltooi. Nou moet iets gebeur wat die handeling aan die gang sit. Dit word die motoriese moment genoem. Die lees van die testament aktiveer die motoriese moment en die verdere intrige in die drama. Hierna sal die spanningslyn oor die inhoud van die testament verhoog en ontwikkel. Die kontras tussen die Van Wyks en die Rousseau’s word beklemtoon. Die Van Wyks het dit as ‘n plesier en voorreg beskou oom vir oom Josef te werk en hulle harte is maar seer oor sy oorlye. Vir hulle was hy ‘n dierbare man en iemand wat meer as ‘n werkgewer was, hy was meer as ‘n vriend. Die Rousseau-gesin kon maar net Sondae op die plaas gaan inloer omdat hulle besige mense is en Katinka staan selfs ongevoelig oor die dood van oom Josef. Herman voel ongemaklik oor die plaas wat hy geërf het. Hierteenoor is Katinka darem aangedaan oor die huisinhoud wat sy geërf het. Zenobia is egter geskok omdat sy oom Josef se 1945 Willis-bakkie geërf het waarna sy neerhalend verwys het as sou dit uit Noag se ark kom
8. 5.3 Die verwikkeling en ontwikkeling
In die verwikkeling en ontwikkeling word die handeling wat met die motoriese moment aan die gang gesit is, verder gevoer tot by die hoogtepunt. Die situasie word al hoe meer gekompliseerd, die botsing al hoe hewiger, sodat die spanning voortdurend toeneem.
Sample
Die handeling oor oom Josef se testament word verder gevoer. Die voorwaardes in die testament word uitgespel en die spanning oor die uitvoerbaarheid daarvan deur die Rousseau-gesin neem toe. Zenobia reageer heftig oor oom Josef se voorwaardes. Sy is ondankbaar en wil nie die bakkie hê nie. Sy verwys neerhalend na hom as seniel en sy skaapkopetervriende as kannibale. Spanning oor die uitvoerbaarheid van die voorwaardes neem toe. Die gesin moes gewone handewerk verrig soos vloere skrop, klere stryk en in die roomkamer werk. Oom Josef het besef dat sy familie gemaklik in die stad gelewe het en nog nooit gewone huiswerk gedoen het om hulle bestaan te regverdig nie. Hy wou waarskynlik sy familie leer dat handewerk edel is en dat ‘n mens dieper moet kyk en die mense om jou regtig moet raaksien. Die gesin ontdek kontant, maar hulle besluit om stil te bly daaroor. Hulle optrede is strydig met oom Josef se agste voorwaarde dat hulle absoluut eerlik moet wees in alles wat hulle doen. Dit verhoog die spanning want die Rousseau’s kan hulle erflating verbeur indien hulle nie die voorwaarde van eerlikheid nakom nie. Dit blyk dat oom Josef juis slim is. As mense nie met kleiner bedrae geld eerlik kan optree nie, kan hulle ook groter bedrae geld nie op ‘n eerbare wyse hanteer nie. Gideon Hansen kontroleer of hulle al oom Josef se voorwaardes op die rooster oor die tydperk van drie maande nakom. Ruan kom kuier en die ouers is
bekommerd dat hy sy oog op Zenobia het op grond van die geld wat sy moontlik kan erf.
Herman ontdek ‘n brief wat oom Josef se seun, Jans, geskryf het. Hy verduidelik waarom hy sy vrou, Zelmarie, per ongeluk doodgeskiet het. Jans erken dat hy suinig was en niks vir Zelmarie gegun het nie. Hulle geld het ‘n probleem tussen hulle geskep en tot verkeerde keuses gelei. Jans skiet Zelmarie per ongeluk dood omdat hy haar wou keer om saam met Rudolf Marx weg te loop. Die Rousseau’s besef dat hulle nie moeite gedoen het om oom Josef by te staan in sy persoonlike krisis nie. Dit was ook die rede vir die voorwaardes in sy testament. Die hele spanningslyn in die drama is gebaseer op die gesin se hantering van ‘n groot erflating. Katinka kom tot die besef dat geld wat stom is, nie reg sal maak dit wat krom is nie – swak verhoudinge en keuses sal nie deur baie geld reggemaak word nie. Herman kom egter nog steeds materialisties voor. Hy het nog steeds die een-en-twintig miljoen rand wat hulle kan erf, in die oog. Tog vind hy die nuwe ervaring van die skaapkopetery interessant. Hy kom tot die besef dat oom Josef ‘n geliefde persoon was en dat hy hopeloos te min respek vir hom gehad het. Hy besef ook dat hy moet luister na wat ouer mense te sê het. Hy toon ook ‘n belangstelling in die beesboerdery en maak van Jantjie ‘n bondgenoot.
Katinka kom ook onder die besef dat mense oom Josef liefgehad het en dat hulle as gesin nie genoeg respek teenoor hom betoon nie. Verder besef Katinka dat ‘n mens eintlik trots kan wees op enige vorm van erfporsie, wat dit ook al mag wees. Sy vra vir Mieta om haar te leer om konfyte te kook en in te lê soos tante Raaitjie dit gedoen het. Sy erken dat haar gedagtes die hele week in die dorp na die plaas gedwaal het. Sy wonder hoe haar meubels in die plaashuis sal lyk.
Op hierdie stadium dink die Rousseau-gesin dat hulle binne die voorwaardes van oom Josef se testament gebly het en daarom geregtig is op die kontantbedrag wat hy sou nalaat. Die spanning verhoog dus, want die luisteraar weet dat hulle nie aan al die voorwaardes voldoen het nie.
9. 5.4 Hoogtepunt of klimaks
Die konflik in die drama loop in ‘n stygende spanningslyn tot by die hoogtepunt of klimaks wanneer Gideon Hansen die Rousseau-gesin daarop wys dat hulle nie al die voorwaardes van die testament nagekom het nie. Hulle was nie eerlik oor die kontant wat hy vir hulle op strategiese plekke gelos het nie. Gideon Hansen mag slegs eenmiljoen rand vir hulle belê waarvan hulle net die rente kan kry. Hulle mag egter die plaas, die huisinhoud en die Willis verkoop, maar die Van Wyks behou vruggebruik vir die res van hulle lewe.
Sample
10. 5.5 Ommekeer / wending
Daarna neem die handeling ‘n beslissende wending, die ommekeer. Dit blyk dat die familielede dankbaarheid en erkenning begin toon oor dit wat hulle wel geërf het. Herman weier om die plaas te verkoop en is dankbaar oor die rente op die kontantbedrag. Katinka aanvaar ook die testament se bepaling en Zenobia het liefgeraak vir die Willis-bakkie.
11. 5.6 Ontknoping / afwikkeling
In die ontknoping / afwikkeling ontwikkel sake verder in die rigting tot by die ontknoping. In Die testament ontvang Herman ‘n oproep waarin die ontvoerder aandui dat hy eenmiljoen rand eis. Katinka sê dat hulle alles sal verkoop of enigiets sal doen om Zenobia terug te kry. Volgens Herman is hulle lewens betekenisloos sonder Zenobia. Die lewenswaarheid waartoe hulle gekom het, is dat ‘n mens se lewe meer waarde het as aardse goedere.
Gideon Hansen laat blyk nou dat Zenobia se ontvoering ‘n skynontvoering was. Hy moes bepaal of die familie werklik bereid was om alle prys te gee. Hulle reaksie was genoeg bewys vir Gideon dat hulle die groot kontantbedrag wat hulle sou erf, deur goeie besluite sal kan bestuur. Die hele gesin het nou tot insig gekom oor oom Josef se bedoeling met sy erflating. ‘n Laaste voorwaarde word aan Zenobia gestel dat sy vir drie maande slegs met Gideon Hansen mag uitgaan. Op hierdie wyse probeer oom Josef vir Zenobia blootstel aan beter keuses met betrekking tot ‘n lewensmaat.
12. HANDELINGSFASES
Daar is geen duidelike indeling in tonele of bedrywe in die hoorspel nie; daar word gewoonlik van “handelingsfases” gepraat om die verskillende onderafdelings aan te dui. ‘n Nuwe fase kan ingelei word deur ‘n kort pouse, die uitdoof van stemme, ‘n paar mate musiek of byklanke wat ‘n nuwe plek van handeling aandui.
13. DIE ROL VAN BYKLANKE IN DIE HOORSPEL
Sample
Die gebruik van byklanke om die woord aan te vul, is baie kenmerkend van die hoorspel. Byklanke word gebruik om die milieu waarin die handeling plaasvind of die fisieke handeling wat die dialoog begelei, te suggereer. Die klanke word met aanduidings in die dialoog verbind om die luisteraar ‘n duidelike indruk van die gebeure te gee. Byklanke kan ook tydsverloop suggereer en so die oorgang tussen fases vorm. Musiek word gebruik om atmosfeer te skep en sekere fases van die handeling te beklemtoon.
14. BOTSING / KONFLIK
Soorte konflik in die drama
Tussen persone
Die primêre konflik is geleë tussen die Rousseaugesin en oom Josef, soos verwoord in terme van sy voorwaardes in sy testament. As hulle daaraan kan voldoen, kan hulle ‘n bedrag tussen een en een-entwintig miljoen rand erf.
Die gesin se lewenswaardes bots met dié van oom Josef. Hulle is selfgesentreerde stadsjapies wat hom as suinig en seniel beskou. Hulle meen dat hy hulle uit die graf wil regeer. Hy, aan die ander kant, is ‘n gemeenskapsmens wat deur die lewe gelouter is en weet dat geld mens se lewe kan verwoes. Hy het sy seun Jans en sy skoondogter, Zelmarie, verloor deur misplaaste materialisme.
Sy doel met die testament is om die gesin bloot te stel aan gesonde lewenswaardes wat hulle sal bemagtig om verantwoordbaar teenoor die gemeenskap te wees en te wys dat hulle ‘n groot som geld verantwoordelik kan bestuur. Aanvanklik kry hy baie teenstand van die gesin. Zenobia beskou dit as “gross” en meen dat oom Josef seniel was. Katinka voel verontreg dat oom Josef haar harde werk misgekyk het en die beskuit wat sy gebak het, vir die ouetehuis gegee het. Hulle neem hom kwalik dat hy hulle aan so ‘n situasie laat beland het en Herman meen dat hulle nie ‘n keuse gelaat is nie. Herman beseer sy rug, Zenobia breek haar naels en kry ‘n splinter in die hand en skaam haar morsdood omdat sy met die Willis werk toe moet ry.
Oom Josef se voorwaardes veroorsaak ook botsing tussen die begunstigdes, Herman, Katinka en Zenobia. Katinka is geïrriteerd met Zenobia as dié kla dat sy ‘n splinter in haar hand het. Zenobia meen dat mans pieperig is as haar pa sy rug beseer wanneer hy die vloere skrop. Herman verwyt Katinka dat sy haar verlustig in sy pyn. Katinka verwys sarkasties na Zenobia wat aangebied het om die vloer te was, as groothartig. Zenobia is kwaad omdat Mieta die strykwerk gedoen het en Katinka gerus het terwyl sy en Herman hulle doodgewerk het. Uit Katinka se antwoord blyk haar misnoeë dat sy al die huiswerk al die jare alleen gedoen het.
SampleSoos hulle mettertyd blootgestel word aan die plaasgemeenskap, kom hulle onder die indruk dat oom Josef eintlik ‘n geliefde, gewaardeerde man onder die mense was. Ten spyte hiervan besluit hulle tog nog om die vind van die kontant nie te openbaar nie. Dit plaas hulle in direkte konflik met een van oom Josef se bepalings, naamlik dié van eerlikheid. Hulle verbeur dus die een-en-twintig miljoen rand. Tog blyk die konflik tussen die gesin en oom Josef opgelos te wees, want hulle reageer met dankbaarheid oor die eenmiljoen wat hulle wel geërf het. Oom Josef het toe tog bereik wat hy aanvanklik na gestrewe het, naamlik om hulle te laat afsien van hulle oordrewe materialisme.
Ten spyte van hulle oneerlikheid gee oom Josef hulle selfs ‘n laaste kans om al die geld te erf met die skynontvoering van Zenobia. Hulle is bereid om alles op te offer om haar terug te kry. Gideon besef dat hulle nou verantwoordelik met die geld sal
werk. Al die konflik tussen oom Josef en die gesin word opgehef en hulle spreek selfs hulle waardering rondom sy insig en lewenskennis uit.
15. TYD EN RUIMTE IN DIE TESTAMENT
16. 9.1 Vertelde tyd
• Dit is die tyd wat in die fiksionele wêreld gedek word, m.a.w. in Die testament ongeveer drie maande: vanaf oom Josef se dood tot drie maande daarna.
17. 9.2 Verteltyd
• Dit is die tyd wat geneem word om die literêre werk te lees, op te voer, ens. In Die testament is dit ongeveer 30 minute.
18. 9.3 Ruimte
Die ruimtes wat in Die testament aan die luisteraar gesuggereer word.
• Die Rouseau-gesin se stadswoning;
• Gideon Hansen se kantoor op meer as een geleentheid;
• Nuutgevonde se plaaskombuis, sitkamer en roomkamer;
• Die gesuggereerde buiteruimte waar mense naderkom of wegbeweeg deur die klank van motors of voetstappe of stemme;
• Die ruimte van oom Josef en sy vrou se grafte wat deur dialoog gesuggereer word;
• Orrelmusiek wat die begrafnisruimte suggereer;
• Die beeskraal
19. HANDELING
Daar is gedurig ‘n wisselwerking tussen uiterlike en innerlike handeling van ‘n karakter.
Vanweë die beperkings bied die drama ‘n hoogs gekonsentreerde weergawe van die verhaal. Slegs dit wat essensieel is, kan uitgebeeld word. Daarom speel die handeling in die drama so ‘n belangrike rol, want in die drama moet daar gedurig iets gebeur. Daarmee word nie net die uiterlike, fisieke handeling bedoel nie, maar alles wat in die drama gebeur, ook agter die skerms.
‘n Baie belangrike handeling is die innerlike handeling van karakters, met ander woorde, alles wat in die gemoedere van die karakters plaasvind. Die funksie van die handeling, of dit innerlik of uiterlik is, is dat dit spanning opwek. Daarom is botsing of konflik ‘n belangrike element in die drama. Botsing is die bron van handeling in die drama. Vanweë die beperkte omvang van die drama, word die oomblikke van botsing baie meer in die drama beklemtoon. Dit lei daartoe dat die sentrale tema na vore kom en die karaktertrekke baie duideliker geopenbaar word.