1 minute read
LES 1: HEELGETALLE
Die les gaan oor heelgetalle, waarvan die leerders in graad 4 geleer het. Die les dien as hersiening, daarom is die voorgestelde tydstoekenning slegs 2 uur. Indien leerders nog nie die inhoud verstaan nie, moet daar meer tyd aan die les spandeer word en die tyd moet goed bestuur word.
Hersien die verskillende notasies van getalle. Dit is belangrik om seker te maak dat die leerders gemaklik met die verskillende notasies is. Dit lê die grondslag van die taal van wiskunde en as leerders reeds gemaklik met die begrip is, kan dit leerders se begrip van nuwe konsepte makliker maak.
In hierdie les gaan leerders heelgetalle: • tel • orden • vergelyk • voorstel • se plekwaardes aandui (uiters belangrik vir die berekeninge wat later in die kwartaal gedoen gaan word.)
Hierdie les is hersiening van die begrippe wat hulle in graad 4 het. Dit is belangrik om seker te maak dat die leerders die begrippe onder die knie het voordat hulle in eenheid 2 met groter getalle begin werk.
Weet jy wat ’n heelgetal is?
Heelgetalle is getalle sonder breukdele of desimale. Heelgetalle is ook altyd positief en nooit negatief nie. Onthou: 0 is ook ’n heelgetal.
Leerders het reeds in graad 3 en graad 4 met heelgetalle begin werk. Maak seker dat hulle weet ’n heelgetal is nie ’n gedeelte (’n breuk) van ’n getal nie. Gebruik speletjies om hierdie konsep vas te lê.
Voorbeeld
Skryf verskillende getalle neer, insluitend verskillende breuke en heelgetalle. Leerders moet hulle oë toehou en willekeurig op ’n plek op die papier druk. Hulle moet identifiseer of die getal wat hulle gekies het ’n heelgetal is of nie.