
2 minute read
Hulpakkette diskrimineer teen wit-sakelui
■Jeff Jackson
Die VF Plus het gisteroggend, Donderdag die 9de April, met die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, in gesprek getreë en het ʼn dringende beroep op haar gedoen om die kriteria vir die hulppaket van R200 miljoen aan klein-, mikroen mediumgrootte ondernemings (KMMO’s) te herroep en om ag te slaan op die VF Plus se voorstelle om groot skade en werkverliese in dié sektor te vermy.
Advertisement
Die VF Plus dring ook daarop aan dat die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, die sektorale bepalings en die toepaslike wetgewing ten opsigte van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB ook bekend as BBBEEE) opskort vir ten minste hierdie tyd van nood om dit vir die verskillende departemente moontlik te maak om hulp te bied ongeag daarvan.
Volgens die party is dit skokkend en onaanvaarbaar dat die regering in ʼn tyd waar dit vir elke onderneming belangrik is om die gevolge van die Covid-19-inperking te oorleef, steeds ras gebruik om te besluit wie hulp gaan kry om te oorleef, en wie nie.
Minister Kubayi-Ngubane het vandeesweek aangekondig dat die bystand vir KMMO’s gegee sal word in ooreenstemming met die ANC se beleid oor SEB en ekonomiese transformasie.
Volgens dié party het die toerismesektor ʼn baie hoë indiensnemingsyfer, en die minister se optrede kan groot werkverlies tot gevolg hê. Michal Groenwald, woordvoerder vir die VF-Plus, meen dat die meeste KMMO’s in die toerismesektor alleen-eienaars is wat daarom nie gebonde was aan die bemagtigingsvoorskrifte nie. “Omdat die sektor meestal ongeskoolde werkers in diens het, is dit ironies dat swart werkers die hardste getref sal word deur afleggings,” sê hy.
“Met Covid-19 moet die regering die heersende probleme en omstandighede verreken en hanteer en nie dié van die verlede nie. SEB-kriteria wat op ras en regstelling gegrond is, is misplaas en skep nuwe diskriminasie sonder om te handel met die huidige probleme.”
Die party sê verder in ‘n persverklaring wat gister uitgeryk is dat met SEB as kriterium, die regering slagoffers skep in die huidige krisis. “Dit kan ʼn groot verleentheid vir die regering skep aangesien sake-eienaars ʼn internasionale mark bedien en sommige ʼn sterk internasionale profiel het.”
Soos in die boodskap aan die minister vermeld, is ʼn groot komponent van die toerismebedryf gebou op eenman-ondernemings wat daagliks toeriste rondneem en avontuursportsoorte soos valskermspring aanbied. Die VF Plus stry dat dit onmoontlik is vir sulke ondernemings om aan enige SEB-vereistes te voldoen en die regering stuur met hierdie kortsigtige en onmenslike besluit die boodskap aan wit entrepreneurs in die bedryf, dat hulle oorlewing en bydrae tot die ekonomie nie vir die regering belangrik is nie.
Die wet wat SEB rig moes, met die inwerking stelling van spesiale Covid-19-maatreëls, dadelik opgehef gewees het om sodoende toe te sien dat SEB-bepalings nie ʼn rol speel in die toekenning van fondse aan sake-ondernemings nie. Die VF Plus wil intussen die eienaars van alle KMMO’s aanmoedig om steeds aansoek te doen om hulp. Die party sal alle moontlikhede oorweeg om die regering tot ander insigte te bring oor die saak, of om hom daartoe te dwing as dit moet.
“Die VF Plus het nog altyd gesê rassistiese beleid soos RA en SEB is diskriminerend en een van die hoofredes vir die kreeftegang van Suid-Afrika se ekonomie. Die party sal voortgaan om dit ten sterkste teen te staan tot dit geskrap word in die belang van almal in die land.”
