2 minute read

Man (19) aangekla van moord op 59-jarige

■ Joe Dreyer

Phalaborwa se inwoners het met skok Saterdagoggend die nuus van Oom Hannes van Dyk se afsterwe probeer verwerk. Hy was 59-jaar oud. Daar word beweer dat oom Van Dyk Vrydagaand saam met ‘n vriend by ‘n gewilde kuierplek op Phalaborwa, Royal Bliss nagklub, gaan kuier het en dat daar later die aand ‘n onderonsie tussen hom en nog ‘n inwoner van dié dorp, ‘n 19-jarige by name Eugene Mulder, ontstaan het.

Advertisement

Hierdie onderonsie het volgens ooggetuies vinnig eskaleer en later in ‘n fisiese konfrontasie ontaard waartydens dit beweer word dat Mulder vir van Dyk met ‘n elmboog bygekom het. Die voorval het na bewering in die parkeerarea buite die nagklub gebeur. Die polisie is omstreeks 01:00 Saterdagoggend ontbied.

Volgens Brigadier Motlafela Mojapelo van die SAPD se provinsiale kommunikasie afdeling het die lede op die toneel aangekom en ‘n man op die vloer in ‘n plas bloed sien lê.

“Die polisie het in die vroeë oggendure van Saterdag, 11 Maart, ‘n oproep ontvang dat ‘n man by die Royal Bliss Bar aangerand is en hulle het onmiddelik lede na die toneel ontbied. Met hul aankoms het die lede ‘n man op die vloer sien lê en hy was besig om te bloei, Die ambulansdienste is ontbied en die man is na die naaste hospitaal geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het.”

Mulder is deur die polisie later opgespoor en inhegtenis geneem waar hy na sy verskyning op aanklagte van moord in die Phalaborwa Landdroshof, inhegtenis bly in afwagting vir sy volgende verhoordatum volgende week. Hy is nie tydens sy eerste verskeining gevra om te pleit nie.

Die polisie se ondersoek duur voort en daar word ook gekyk na bewerings wat deur ander lede van die gemeenskap gemaak is, oor die moontlikheid dat ‘n groep jongmans van die dorp ‘n dodelike speletjie daarvan maak om veral ouer mans by kuierplekke te teiken. Die polisie kon nie kommentaar hieroor lewer nie, maar het bevestig dat hulle wel die gerugte van so spel, sowel as ander soortgelyke aanvalle ondersoek.

Intussen het dié wie vir Oom Hannes geken het, hul misnoë en skok oor sosiale media platforms bekend gemaak en is daar teen tye van hierdie berig, reeds ‘n onoffisiële beweging op die been gebring om geregtigheid vir Ooom Hannes en sy gesin te verseker.

“Hierdie bakleiery in Phalaborwa is niks nuuts nie en dit was net ‘n kwessie van tyd totdat hierdie hartseer gebeurtenis homself sou uitspeel,” het een inwoner gesê. “Die jong ouens in ons dorp drink by hierdie kuierplekke en soek vir moeilikheid met die ouer mans. Daar is ‘n groepie jong latte wat die laaste ruk hierdie tipe lukrake aanvalle uitvoer en ons is moedeloos dat daar niks daarvan kom nie.”

Hannes van Dyk se gedenkdiens is vandag (Vrydag die 17de Maart) uit die NG Kerk Phalaborwa gehou. Hy laat drie seuns agter.

This article is from: