5 minute read

Die Uitdagings Van Leierskap

Next Article
Enough Is Enough

Enough Is Enough

Die dalende lede talle in ons Losies is nie ’n verskynsel wat uniek is vir ons tyd in die geskiedenis van Vrymesselary nie. Dit is ook nie ‘n verskynsel wat ons in ons land of in ons Konstitusie uniek ervaar nie. Inteendeel, gebeur dit wêreldwyd en in die meerderheid van Konstitusies. Deur Agb Br Tony Bosman, APGM, GLSA Noordelike Afdeling

Deur die eeue het lidmaatskap in Losies vermeerder en gekrimp. Dit is nie noodwendig ‘n ritmiese siklus nie, maar daar is ‘n paar algemene aanwysers of gebeurtenismakers wat verband hou met hierdie groei en inkrimpings. Byvoorbeeld, tydens tye gedurende en na ‘n oorlog, is daar ‘n geneigdheid om ‘n groei in ledetalle te sien. Namate die lewenskwaliteit van die groter gemeenskap verbeter en die selfbevrediging stadia van sosio-ekonomiese toestande meer algemeen word, neig die getalle in Losies om af te neem.

Advertisement

Om dit eenvoudig te stel, wanneer mense mekaar nodig het, is hulle geneig om na ‘n instelling of samelewing te soek wat hulle kan voorsien met die nou verbintenisse wat hulle benodig. Hierdie gedeelde etos word die sametrekkings krag wat hulle vas hou. Stelselmatig, wanneer die behoefte aan afhanklikheid daal, maak mens staat op tasbare of materiële dinge vir bevrediging.

Ek wil nie die indruk skep dat dit die enigste rede is waarom daar by die Orde aangesluit word nie, vêr van dit. Wat ek wil voorhou is, dat as mens, is een van ons kern eienskappe, dat ons sosiale wesens is wat grootliks op selfbevrediging gefokus is.

In die moderne tyd het die samelewing die produk geword van ‘n selfbevredigings kultuur, wat meer en meer eis, dit vinniger eis, met die verwagting van die aanspraak daarop. Ons tegnologie leer ons om minder afhanklik van mekaar te wees en meer afhanklik te wees op inligting, konnektiwiteit en die tegnologie wat dit lewer. Ons leer om by digitale groepe aan te sluit en hulle te verlaat sodra ons behoefte vervul is, of daar is ‘n voorval wat ons nie aanvaarbaar vind nie en daarom beweeg ons na die volgende digitale groep toe. Miskien begin die tendens in ons fisiese of werklike lewens groepe uit te speel.

Dit bring my by die aspek van Leierskap en die samegaande uitdagings daaraan verbonde. Baie van die jonger geslag is nou selfgeleid en selfgerig. Hulle het nog nie die vaardigheid geleer om ander te lei nie. Toe ons die voorreg gehad het om lid te wees van Losies met groot ledetalle, was dit nie ongewoond dat die paadjie van ‘n Vrymesselaar, van Leerling tot Agbare Meester, oor ‘n tydperk van tien of meer jaar sou strek nie.

As gevolg daarvan het die jong Vrymesselaar baie style en metodes van leierskap ervaar van talle Agbare Meesters en Oud Meesters wat as hulle Mentors opgetree het. Tans is dit egter nie ongewoon dat ‘n jong Vrymesselaar binne n tydperk van vyf of minder jare die Meester van die Losie word nie. In die beperkte tyd is hy gelukkig om die leierskap van twee Meesters te ervaar. Oud Meesters is min, Mentors is min en leiding vir die jong Meester is ongelukkig nie wat dit moet wees nie. Om sake te bemoeilik, vind ons ook dat dit noodsaaklik is vir ‘n Oud Meester om weer die amp van Agbare Meester te aanvaar.

Die Oud Meester wat van ‘n ouer geslag is, het die verwagting dat die junior lede die hiërargiese orde van dinge natuurlik sal verstaan en respekteer en daarvolgens optree. Dit is ‘n verwagting wat ons weet nie meer in die werklikheid gevestig word nie.

Tog hoor ons dikwels kommentaar dat die sukses van ‘n Losie ‘n weerspieëling van sy Leierskap is. Alhoewel daar waarheid in hierdie persepsie is, is dit nie ‘n aspek wat afsonderlik staan nie. Ons kan sien dat daar ‘n veelvoudige dinamiek by die spel is.

Ons Losies is van nature hiërargies. Hiërargieë vereis struktuurvlakke en dit vereis ‘n leier. Soos die jong Vrymesselaar vandag vinnig in ‘n posisie van leierskap binne die Losie vorder, moet hy ook leer om die vaardighede te ontwikkel om ander te lei. Vir sommige is dit natuurlik, vir ander moet dit ‘n kognitiewe proses wees. Hy word nie net uitgedaag deur die gebrek aan ondervinding en tekort aan mentorskap nie, maar terselfde tyd het hy nie die gereedskap en die kennis om die leiers van die verlede te lei wat nou aan sy hoë amp onderworpe moet wees nie. Die ouer generasie Agbare Meester staar weer die uitdaging in die gesig om ‘n self geleide generasie te lei en het ook tot op ‘n mate ‘n tekortkoming. Ek het nie die antwoord nie, maar ek glo dat dit vir albei die gevalle, noodsaaklik is om deurlopende introspeksie en persoonlike ontwikkeling te kweek as ons Losies suksesvol moet wees.

Wat ek graag wil doen, is om elkeen van julle Broeders te vra, om na jouself te kyk en na te dink oor daardie deel van u Belofte wat u geneem het, om die doelstellings van Vrymesselary, na die beste van u vermoë te bevorder, as ook jou belofte om die Grondwet en Wette van die Groot Losie te gehoorsaam. Sou jy voel dat jou verwagtinge nie nagekom word nie en dat jy nie jou regmatige belonings ontvang nie, doen selfondersoek en vra vir jouself of hierdie emosie n weerspieëling van jou verpligting is, of is daar dalk meer plek om die ruwe klip glad te maak?

My Broeders, ons het almal ‘n verpligting om die Meester van die Losie te ondersteun, voordat ons verwagtinge ons dade laat vaar. In hierdie proses om ons verwagtinge te bemeester, bereik ons een van die vele doelwitte van selfverbetering, op die Masonieke pad om ‘n Tempel van gladde stene word. Laat daardie eienskap van verdraagsaamheid beoefen en bemeester word, sodat ons die voorbeelde van leierskap vir die volgende generasie Vrymesselaars kan wees.

This article is from: