2 minute read

PADLANGS

JOHANVAN WYK

Die jaar 2021 was, net soos sy voorganger, een wat om baie redes onthou (of is dit dalk vergeet?) sal word. Die virus waarteen ons nou al bykans twee jaar baklei, het weereens alte gereeld opgeduik en nie net lewens nie, maar ook besighede en reisplanne deurmekaargekrap. Deur dit alles moes ons ook jagplanne maak, aanpas, en soms nóg ’n keer aanpas. Met die einde van 2021 wat ons in die gesig staar, wonder ek onwillekeurig wat alles in 2022 op ons wag.

Advertisement

Aan politiek steur ek my min – daar is immers baie ander, aangenamer dinge om aan te dink en tyd aan te bestee. Die voorgestelde wysigings aan die Wet op Beheer van Vuurwapens is egter waarskynlik een van die slange wat weer in 2022 kop sal probeer uitsteek. Ek kan net hoop dat logika sal seëvier en dat hierdie netelige aangeleentheid wat almal van ons as jagters en vuurwapeneienaars baie naby aan die hart lê, koelkop beredeneer en hanteer sal word.

Hier by die tydskrif was 2021 vir ons sommer lekker besig ten spyte van die siklus van agt tydskrifte per jaar in plaas van twaalf. Min mense besef dit, maar soos een van ons kollegas onlangs tereg opgemerk het, daar is bykans nooit nié iets wat ons aandag verg of gedoen moet word nie! Met die tydskrif wat nou 76 bladsye is in stede van 68 soos voorheen, het ons lesers ook nou meer om na uit te sien in elke uitgawe. Ons sal in 2022 voortgaan om leesstof en vermaak van topgehalte aan julle te voorsien. Wees verseker dat ons innig dankbaar is vir elke leser van SA JAGTER/HUNTER!

Wat skietsake betref, was ek bevoorreg om die laaste maand of wat aan ’n paar skietkompetisies te kon deelneem. Dit was opmerklik dat daar telkens ’n gees van opgewondenheid en entoesiasme onder die deelnemers, oud en jonk, geheers het. Sportskiet is voorwaar in goeie hande in Suid-Afrika danksy organisasies soos SA Jagters.

Met die feesseisoen wat op hande is en die gebruiklike toestroming van verkeer na verskillende vakansiebestemmings, wens ek julle graag ’n geseënde Kersfees toe. My wens is dat julle saam met jul gesinne en ander geliefdes ook ’n behoorlike ruskans in hierdie tyd sal kry.

Volgende jaar met sy uitdagings lê vir ons voor, maar ek is seker ons sal mekaar eersdaags weer om die kampvuur ontmoet!

Soos altyd, wees veilig!

OMDIE EINDE VAN DIEJAAR IN DIE OËTEKYK

This article is from: