1 minute read

Sterreweg – bl

AFTREK PLEK

Veldskoen-padstal, De Doorns

Advertisement

Daar is báie padstalle in Suid-Afrika, maar nie almal van hulle kan as ’n ware instelling beskou word nie. Die Veldskoen-padstal is egter een van die meer deurwinterde aftrekplekke langs ons land se hoofweë.

Veldskoen staan knap langs die N1, min of meer halfpad tussen Worcester en Touwsrivier. Of jy dus op pad binneland toe is en proviand kort, of afry Kaap toe en voor die laaste skof deur die tonnel wil bene rek – is dit ’n lekker stilhouplek.

Die mooi gebou met sy roostuin en koelteplekkies vir piekniek hou, lok ’n mens reeds die oomblik wanneer jy stilhou. En binne wuif ’n swetterjoel lekkernye jou van die rakke af nader. Hier’s selfs ’n paar produkte wat jy nie sommer oral aantref nie, soos flesse gepiekelde kwarteleiers (R119,50), vrugterolle (vanaf R36,50), braambessiecompote (R79,50), gedroogte appelringe (R24,50) en pragtige houers Rio Largo-olyfolie (R189,50). ’n Mens stap sommer met ’n sak vol spensgoed én geskenke vir jou mense uit!

Neffens die padstal is ’n antiekwarewinkel waar jy deur ou koffieblikke, silwergerei en linne kan snuffel. Selfs al koop jy net met die oë, sal dié hoekie beslis nostalgiesnare roer.

Die padstal het ’n restaurant waar ’n mens kan aansit vir ’n stewige ontbyt of middagete. En jy kan maar weet: Die bestanddele is vars en plaaslik –padstalle het immers eerste keuse wanneer dit by ’n streek se plaaslike opbrengs kom. Die tradisionele Veldskoen-ontbyt bestaan uit twee gebakte eiers, spek, boerewors, sampioene, kersietamaties en roosterbrood – vir slegs R98! Vir middagete (sowat R95 per ete) kan jy na ’n spyskaart vol toebroodjies, slaaie en hamburgers loer. Ek het gesmul aan die karringmelkplaatkoekies met esdoringstroop (R75), en my vriend se kaas-en-tamatie-toebie met uiemarmelade en basiliepesto (R62) het net so lekker gelyk.

Hier is ’n omheinde werf met ’n trampolien waar die kleingoed gou van nog ’n bietjie energie kan ontslae raak voordat julle weer – gevoed en verfris –terugklim in die kar. Kontak 023 356 2619 en kyk op die Facebook-blad vir tye.

– Kyra Tarr >

This article is from: