4 minute read
Ons gesels met – bl
from W122021
by nustobaydo
ONS GESELS MET Othmane Zolati
Dié 27-jarige het 30 000km te voet, per fiets én op ’n skaatsplank van Marokko tot by Kaap Agulhas gereis. Sy dokumentêre film, Africa and I, oor dié epiese tog van 4 jaar deur 24 Afrika-lande wys tans op Showmax.
Advertisement
Was jy van altyd af avontuurlustig? Nie juis nie. Ek is die enigste seun en het saam met drie susters in ’n konserwatiewe Marokkaanse gesin grootgeword. As kind was ek nogal skaam. Dit het egter alles verander toe ek 12 jaar oud was en eendag saam met vriende deur ’n woud buite ons tuisdorp, El Jadida, gaan fietsry het. Dit was net sowat 15 km, maar dit was die verste wat ek al ooit van die huis af was. Ek het agtergeraak en was só bang dat ek in trane uitgebars het. Die gespot wat ek daarna moes verduur, het my oortuig om meer avontuurlustig te leef. Toe word ek summier ’n fietsryer wat lang roetes deur Marokko aandurf!
Wanneer het die groot Afrika-avontuur begin? Op een van my fietstoere het ek ’n afdraai na Dakar, Senegal se hoofstad, gesien en dié bestemming het by my bly spook. Toe ek op 20 klaar geswot was, het ek met ’n rugsak en slegs $80 in my bankrekening die pad soontoe gevat. Ek het van die huis af deur Mauritanië (tussen Marokko en Senegal) duimgery, en ’n week later was ek in die stad Rosso, aan die oewer van die Senegalrivier.
Hoe het jy Senegal ervaar? Dit het aan al my verwagtinge voldoen! Ek het geleer hoe om palmbome uit te klim en kokosneute te oes. Ek het vrugte geëet waarvan ek die name nie ken nie, geleer mandjies vleg, hout kap met handgereedskap, en steenkool maak... Ek het in tradisionele kano’s geroei, met nette leer visvang en vir die eerste keer in my lewe rys geplant.
Dit was ’n wonderlike tyd wat my die waarde van die Senegalese woord teraanga geleer het: mededeelsaamheid, liefde en vrede tussen mense. En toe? Ek was ’n maand lank in Senegal voordat ek Mali toe vertrek het. Op die grens het hulle my in hegtenis geneem omdat ek “soos ’n terroris lyk”. Daarna is ek Ivoorkus toe, waar ek ’n rukkie gebly het om geld te verdien vir die res van my reis.
Ek het as ’n skoenverkoopsman gewerk en later in ’n ysterwarewinkel.
Dit was ’n rowwe tyd – ek het buite gebly, bo-op skeepsvraghouers geslaap, of onder vragmotors wanneer dit reën. Ek het malaria opgedoen. Maar dit het begin beter gaan toe ek by ’n koekie-en-lekkergoedfabriek begin werk. Ná ’n ruk het ek weer in die lokvalle van ’n kapitalistiese bestaan verstrengel geraak en toe besluit: Spaar net genoeg geld totdat jy ’n kamera en ’n fiets kan koop, en dan is dit tyd om aan te beweeg.
Vandaar is ek na Ghana, toe Togo en Benin waar probleme met ’n visum my ’n rukkie vertraag het. En toe klim ek – die eerste keer in my lewe! – op ’n vliegtuig, Ethiopië toe.
Wat sal jou altyd bybly? In Ethiopië het ek op eie houtjie deur die woestyn fietsgery na Kenia. Ek het egter iewers koers verloor en vyf dae lank verdwaal. Ek sou eers later besef hoe na aan die dood ek gekom het, maar meer belangrik: Hoe sterk die mens se wil om te oorleef is.
Ek het dit uiteindelik tot in Nairobi gemaak, waar ek ’n paar Marokkane raakgeloop en ’n rukkie saam met hulle gebly het. Die geld wat ek aan die Ivoorkus verdien het, was byna gedaan, maar dié groepie vriende was so gaaf om die res van my reis te befonds sodat ek my droom kon verwesenlik.
Vandaar is ek deur Tanzanië en het ook op Zanzibar gaan draai voordat ek deur Uganda en Rwanda gereis het. Teen hierdie tyd het ’n paar mense my reis begin volg en ek is selfs vir ’n TV-onderhoud genader.
Ek het besef dat ek met iets noemenswaardig besig was, en wou my ervarings van die vasteland met meer mense deel.
Het jy ooit bedreig gevoel? Ek dink gevaar is maar deel van elke avontuur!
Bygesê, daar was slegs een “kriminele” insident langs die pad: Ek is in Malawi van $50 beroof, wat veroorsaak het dat ek Zambië met slegs $5 in my sak moes aandurf.
En die gevoel toe jy uiteindelik in SuidAfrika aankom? Dit was ongelooflik, veral omdat ek om visumdoeleindes eers deur Botswana en eSwatini moes reis. Ek het reeds in Mosambiek, Malawi, Zambië, Namibië, Botswana, Zimbabwe en eSwatini ente op my skaatsplank gery. In Johannesburg het my fietsketting finaal die gees gegee. Van daar af tot in Kaap Agulhas was ek dus al die pad op die skaatsplank!
Daardie laaste 5 km tot op Agulhas was onwerklik. Die herinneringe van alles wat ek tot hier beleef het, het deur my kop gemaal: Die dag vier jaar gelede toe ek my familie gegroet het, die gestoei met malaria, die geslaap in die reën, die verdwaal in die woestyn... Op daardie oomblik het ek besef dat niks in hierdie lewe so vinnig gebeur as wat ons wil hê dit moet nie. En dat dit eintlik ’n goeie ding is.
Ek het vir myself gesê: Ek is Othmane Zolati. Ek is ’n avonturier. En mense soos ek gee nie op nie – ons maak klaar waarmee ons begin het.
Kyk Africa and I op Showmax en volg Othmane op Instagram en Facebook: @zolatiothmane