3 minute read

Mengtale ~ Mixed Languages

Engels is die mees prominente voorbeeld van ‘n mengtaal - ’n taal waarvan die woordeskat meer leenwoorde as oorspronklike woorde bevat. Moderne Engels se woordeskat is 25% Germaans en twee derdes Romaans (veral Latyn en Frans). In die wetenskap en tegnologie het Engels ‘n enorme Griekse leenwoordkorpus. Die name van basiese konsepte spruit uit Angel-Saksies en Ou-Engels, sowel as die voorsetsels en konjunksies, en die voornaamwoorde behalwe they, their en them (Skandinawies). Engels bly egter ‘n Germaanse taal weens die kernwoordeskat (Swadeshlys) wat uit-en-uit Germaans is.

Albanies (shqip [ʃcip]) met sowat 7.5 miljoen sprekers wêreldwyd is 'n Indo-Europese taal wat hoofsaaklik in die Balkan gepraat word. Albanies is ‘n amptelike taal in Albaniё, Kosovo, Masedoniё, Serwiё, en Griekeland, en ‘n erkende minderheidstaal in Italiё, Montenegro en Kroasiё.

Advertisement

As ‘n onafhanklike tak van die Indo-Europese familie, is Albanies nie besonder naby verwant aan enige ander Indo-Europese taal nie. Dit stam waarskynlik uit die Illiriese taal wat in dieselfde gebied gepraat is in Romeinse tye.

Die hoof- dialekgroepe is die noordelike Gheg en suidelike Tosk, met die Shkumbinrivier as grens. Standaard-Albanies is op Tosk gebasser.

Deur die eeue is ‘n aansienlike deel van die Albaniese leksikon deur leenwoorde vervang; die persentasie word op meer as 80% geskat. Die mees omvangryke influks het in die Klassieke Era uit Latyn gekom. Sowat 60% van die leksikon bestaan uit Latynse stamme. Ander leenwoorde kom uit Italiaans, Grieks, Suid-Slawies en Turks.

Standaard-Albanies het 29 konsonante en sewe klinkers. Die mees algemene woordorde is Onderwerp- Werkwoord-Voorwerp. Naamwoorde is manlik, vroulik of onsydig, en word verbuig vir enkel- en meervoud en vir naamval: nominatief, akkusatief, genitief, datief, ablatief en lokatief in sekere dialekte.

Van die tweede eeu vC tot die vyfde eeu nC was daar intense kontak tussen Albanies en Latyn. Tussen die sewende en negende eeue het Albanies baie by Suid-Slawies geleen, en van die negende eeu af het Roemeens grootskaals by Albanies geleen.

Maltees (Malti) is die nasionale taal van Malta en die enigste Semitiese taal wat ‘n amptelike taal van die Europese Unie is. Maltees het sowat 532,000 sprekers waarvan 380,000 op Malta, Gozo en Comino woon.

Maltees stam af van Siciliaanse Arabies wat dateer uit die Emiraat van Siciliё (831 – 1091). Siciliaanse Arabies was ‘n Maghrebi-dialek uit Tunisiё. Sedert die Normandiese verowering van Siciliё in 1091 het Maltees afsonderlik van Klassieke Arabies ontwikkel. Die taal is dus anders as die 30 variёteite waaruit die moderne Arabiese makrotaal bestaan. Die morfologie van Maltees is hewig deur Italiaans en Siciliaans beïnvloed.

Armeens word deur sowat sewe miljoen mense wêreldwyd gepaat. Die twee hoof- dialektiese groepe is Wes- en Oos-Armeens. Oos-Armeens word hoofsaaklik in die Republiek van Armeniё en Artsakh, Iran en Rusland gepraat. Wes-Armeense dialekte word in Armeniё, in Samtskhe–Javakheti provinsie van Georgiё, en in Abkhazia gepraat, en in die Armeense diaspora.

Armeens bevat verskillende lae van Iraanse leenwoorde, veral uit Middel-Persies en Parthies, en wat tot by die tyd van die Persiese Ryk terugstrek. Die taal beskik ook oor leenwoorde uit die antieke Anatoliese tale soos Luwies, en ander antieke en moderne tale soos Akkadies, Horities, Oerarties, Grieks, Aramees en Turks.

In struktuur kom Armeens met ander Indo-Europese tale ooreen, maar dit deel ook klanke en morfologiese elemente met Georgies en die Nakh-Dagestaanse tale van die Kaukasus, soos ejektiewe konsonante. Die taal het komplekse konsonantstapeling aan die begin en in die middel van woorde. e.g., t’rchun ‘voёl’ en tsnvum ‘gebore’.

Die algemene opinie in die verlede was om Nihali as ‘n Mundataal te beskou, maar daar is aspekte aan Nihali-grammatika wat drasties van Munda verskil. Sekere leksikale en strukturele eienskappe kom glad nie in Austro-Asiatiese tale voor nie. Historiese linguïste huldig deesdae uiteenlopende menings, onder meer dat Nihali ‘n band met Ainu van Japan het, terwyl ander weer vermoed dat daar ‘n konneksie met Kusunda van Nepal of selfs met Afro-Asiatiese tale in Oos-Afrika kan wees.

Nihali (ook Nehali, Nehari of Nahali)) word in die Satpuraheuwels van Madhya Pradesh en die Buldhanadistrik in Maharashtra gepraat, deur sowat 3,000 individue. Dis reg in die middel van die Indiese subkoninent. Hulle eiebenaming is Kalto en die taal kalʈo manɖi. Byna al die manssprekers is tweetalig in die Mundataal Korku en/of Marathi.

This article is from: