HERINNERINGE Ek kon vir ure na my leermeester in aksie kyk. Hy was 'n kunstenaar en jy kon in sy lynvlug as hy gooi en hengel die gevoel sien.
Mac Muller Herinneringe. Hoe ver gaan dit terug? So baie van wat ons identiteit in vlieghengel bepaal lê vasgevang in ons herinneringe. Ons het elkeen n verhaal, 'n eie storie, 'n unieke en spesiale verslag van gebeure wat ons gevorm het. Een ding is seker: die meeste van dié verhale sal 'n leermeester in hê. 'n Persoon wat die taak aangeneem het om ons te leer en lief te hê as kind, vriend of broer. My verhaal begin in die sewentigerjare toe vlieghengel in Suid Afrika minder bekend was. Die meeste mense wat jou gesien hengel het, sou jou medikasie aanbied oor jou vreemde optrede. Dit was 'n wonderlike tyd en ‘n geleentheid om iets te doen wat uniek en nuut was. Dit was 'n kuns wat in daardie jare net soveel aspekte soos vandag se vlieghengel gehad het. Een van my gunsteling herinneringe van my pa is by Swartwaterdam waar sy silhoeët in die laatskemer 'n lang, droeëlyn uitgooi in die mees oorweldigende vliegontwaking waarvan enige hengelaar kan droom. Ek kon sit en kyk tot sy net onder n forel ingly en was vasberade om net soos hy te wees. Ek kan nou nog onthou hoe hy agter my staan met sy hand oor myne om my te help met die ritme van my gooi totdat ek verstaan het waar die aksie moes stop. Sy aanmoediging was altyd daar. Sy kennis is ook oorgedra tydens koue wintersaande in die buitekamer waar ons sy aan sy gesit het om vlieë te bind. My eerste vlieë het soos wolkuikens gelyk, maar Pa se aanmoediging het hulle deurgetrek. Ek kan hom nou nog hoor: "Nie te veel materiaal nie. Hou jou vlieg fyn en skraal." Ek het ure spandeer om te oefen met bindkaarte uit Engeland wat die basiese beginsels help vestig het. Pa het weldrae met mý vlieë www.saflyfishingmag.co.za
begin hengel en dit was soos om sy kroon op my kop te dra. My pa was nie net ‘n leermeester nie, maar 'n gunsteling hengelmaat. Hierdie vele pragtige oomblikke bly my by: Die vroeg wakkerskud deur Pa se hand op my skouer, die warm beker koffie en sy woorde: “Trek aan, die kar is gepak”. Daardie eerste sonopkoms met die sonstrale wat kwaste vol rooi en oranje oor die hemel smeer, insekte jag vir voorbeelde om vlieë te bind of die bewyse wat jy in visse se mae kon kry oor hul gunsteling maaltyd. My eerste visstok wat binne-in my bed geslaap het. Die oomblik van skrik en opwinding om ‘n vis amper so groot soos ekself te kon vang. Die skop in my hand toe ‘n pragtige vis wegswem om nog 'n dag te veg. Katrolle wat saam skree en lyne wat deur stokogies sis soos slange.
64
Return to contents