7 minute read
Plek van die Sponsvreters
Hennie Viljoen
Advertisement
Sterkfontein Dam is een van daardie bestemmings wat jy nie vir iemand met woorde alleen kan beskryf nie. Jy kan selfs nie hierdie magiese plek geregtigheid doen met foto’s of videomateriaal nie. As jy in SuidAfrika bly en enigsins in vlieghengel belangstel, is dit moeilik om nie bewus te wees van Sterkfontein Dam en die legendariese droëvlieg en sighengel geleenthede wat dit vir die kranige vlieghengelaar bied nie.
Soveel mense verwys na Sterkies (soos die meeste plaaslike inwoners dit noem) as 'n wêreldklas vlieghengel bestemming, en sommige mense gaan so vêr as om te sê dat dit moontlik die beste stilwater droëvlieg hengel bestemming ter wêreld is…
Vir die een of ander onverklaarbare rede het ek nog nooit Sterkfontein Dam besoek tot ongeveer 2 jaar gelede nie. Tot my absolute ellende het ek toe ontdek dat ek nog al hierdie tyd wat ek in Suid-Afrika vlieghengel (21 jaar) myself nog nooit toegelaat het om hierdie asemrowende plek te beleef nie.
Dit is soos om vir die eerste keer seks te hê, en dan meteens te besef dat jy dit al 'n geruime tyd gelede kon ervaar het, as jy jouself net vroeër al toegelaat het om die kat in die donker te knyp.
In elk geval... So, nadat ek met baie van my vriende en mede vlieghengelaars gepraat het, wat al vantevore by Sterkies was, het ek vir David Weaver gebel. Hy was hoogs aanbeveel en sommige mense beweer dat hy die Sterkfonteindam Zenmeester is. Die man, die legende, “Dawie Gras” homself... Snaaks genoeg, ek is gebore in Harrismith, en beide my pa en ma se families het daar geboer, vir generasies lank. So dit was ook vir my ‘n tipe van ‘n tuiskoms uittog, onder andere.
Ek het met David oor die telefoon gepraat, en hy het geklink soos 'n kom tot die punt toe tipe ou, geen strooi praat nie. Alhoewel ek rondom daai stadium van die geveg toe redelik skepties was, het ek nogtans 'n bespreking met David vasgemaak en toe begin voorberei vir my maagdelike reis na die legendariese Sterkfontein Dam.
Daardie aand het ek 'n e-pos van David ontvang, met 'n paar waardevolle inligtingstukke aangeheg. Dit was met betrekking tot Sterkfontein Dam se uitgeslape geelvis, die vlieë wat werk, wat 'n mens alles moet saamvat, sowel as voorgestelde tegnieke. Ek kon sien hierdie man het geweet waarvan hy praat, en dit het my regtig gemoedsrus aangaande die hele situasie gegee.
'n Goeie vriend van my, Emile Smit, was ook baie gretig om Sterkfontein Dam te gaan verken; só het ek hom toe saam genooi. Hy is nie eintlik 'n baie goeie vlieghengelaar (of in werklikheid selfs 'n goeie vriend) nie, maar ons het met sy bakkie gery, en dit het my darem 'n paar rand aan brandstof onkostes gespaar...
So, wat is die heel eerste ding wat jy doen voordat jy op 'n vlieghengel avontuur gaan? Jy ry na Frontier Fly Fishing toe vir kundige advies en natuurlik om onnodige skuld te gaan maak (wat jou vrou nie van weet nie). Soos altyd het die manne by Frontier (Tom Lewin, Dean Riphagen en Mike McKeown) 'n groot hoeveelheid kennis gehad om te deel, asook 'n paar aanbevelings om 'n suksesvolle avontuur na Sterkies te verseker. So stap ek toe daar uit met sakke vol Simms en natuurlik ‘n plat beursie.
Die volgende stap was om vlieë te bind. Ek is 'n vreeslike uitsteller wanneer dit kom by vlieëbind, maar moenie ‘n fout maak nie, ek het 'n enorme passie daarvoor. Maar soos die gesegde lui: “Van uitstel, kom afstel.” Die absolute staatmaker vlieg vir Sterkfontein Dam se geelvis is die “Good Doctor’s Beetles”. Die drie variante van die vlieg (die oorspronklike “Good Doctor’s Beetle”, die “New Generation Beetle” en die F.O.B. – “Foam Only Beetle”) is die handewerk van
Dr. Hans Van Zyl, 'n algemene praktisyn van Harrismith. Hy is die “Godfather” van Sterkfontein Dam, en hy het heel waarskynlik al meer kleinbek geelvis op droëvlieg as enige iemand anders in die land gevang. Hy is ook ‘n vreeslike aangename man, en ‘n ware legende in die SA-vlieghengel kringe.
Nadat ek die internet holrug gery het, kon ek steeds nie die presiese instruksies vir die sponsbehandeling opspoor wat die Dok vir sy "Beetles" gebruik nie. Ek het toe besluit om die goeie Dokter, in persoon te kontak. Hy was ‘n absolute heer oor die foon en was niks minder as tegemoedkomend oor die hele affêre nie. Hy het my 'n lys van die materiaal gegee, asook aan my die proses verduidelik wat gebruik word vir die voorbereiding van die spons.
So, nadat ek hopeloos te min tyd spandeer het agter my J-Vice, as wat ek moes, het ek toe darem 'n vliegboksie gevul met ‘n klomp van die Dok se "Beetles", gereed om vir die eerste keer na Sterkies toe te gaan.
So opgewonde soos ‘n meisie voor haar matriekafskeid, ry ek en Emile toe sak en pak na Harrismith. Na so drie ure se ry van Pretoria af, stop ons toe by die Rose Garden Manor gastehuis in Harrismith waar David en sy vrou Gill ons toe gasvry verwelkom het.
Daardie aand kuier ons saam met die Weavers, rondom hulle kombuistafel asof ons hulle al jare lank ken. Dis min wat ‘n mens iemand ontmoet, wat jou so vining, so tuis soos familie laat voel. Julle almal het al daai gesegde gehoor wat sê: “Where you arrive as a guest, and leave as a friend.” Nou dit was omtrent so iets.
Die volgende oggend vroeg haak ons toe die boot “Zen Zak” se sleepwa aan David se Isuzu (hy het darem nou intussen vir hom ‘n Hilux gekoop) en ons vat die pad na Sterkfontein Dam toe! Daar gekom het ons gou ons stokke en dinge reg gekry, en voor ons weer ons oë kon uitvee, vaar ons uit op die pragblou water. Ek was stomgeslaan om daardie water vir die eerste keer te kon beleef… Hoe kan damwater so skoon wees? Ek was al baie plekke in ons land, maar nog nooit het ek sulke ongerepte staande water met my eie oë gesien nie. Ons ry heel eerste na ‘n plek wat David die “Quarry” noem. Daar gekom, maak ek ‘n paar gooie, en kort voor lank was ek toe aan soos Japan! Kyk, ek het al bokkoors in my lewe gehad, maar as jy daardie eerste Sterkfontein gele aan jou garingdun voorslag het, dan vloei die adrenalien! Wonder bo wonder skep David toe die vis met die net, na ‘n redelike intense gespook en gespartel.
Na n vinnige foto het ek die vis terug in die water geplaas en aandagtig na haar gestaar terwyl sy weg geswem het, diepwater in. Net daar sê ek vir myself: “Self, jou avontuur is klaar gemaak. Jy kan maar huis toe gaan.”
Alles van Sterkfontein is kontrasterend, die blou water, die bottergeel visse, die grasgroen veld en omringende sandsteen berge. Die hele omgewing is darem maar net vir jou prentjiemooi.
Om ‘n lang storie kort te maak, het ons werklik ‘n asemrowende tyd saam met David gehad. Die storie, soos meeste van my stories, gaan nie werklik soveel so oor die fisiese visvang aspek van die avontuur nie, maar meer oor die mense wat jy ontmoet, die dinge wat jy sien en ervaar - nie die hoeveelheid visfoto’s wat jy op Instagram gelaai het nie.
As jy iets saam met jou kan neem uit die artikel, dan moet dit die volgende wees:
• Maak gebruik van ons plaaslike gidse. Hulle weet meer as ons. En al dink jou kapokhaan maatjies op Facebook hulle is kaas; dit wat hulle nog moet leer, het manne soos David al vergeet.
• Ondersteun ons plaaslike vlieghengel winkels soos Frontier Fly Fishing en ander soortgelyke instansies. Die manne het almal internasionale ervaring en weet waarvan hulle praat. Ja, van die goed wat hulle verkoop, is soms duur, maar jy kry waarvoor jy betaal, soos met enige iets in die lewe. Tensy jy hou van kitskoffie, goedkoop whisky en die WP (want dan is jy op jou eie).
• Staan saam. Ons bedryf is klein en daar is baie dreigende gevare wat ons geliefkoosdetyd verdryf bedreig . Steenkoolmyne (Dullstroom), kortsigtige regeringsamptenare (DEA & NEMBA) en natuurlik grootskaalse besoedeling (Vaal Rivier) om net ‘n paar voorbeelde te noem. Staan saam en ondersteun organisasies soos FOSAF wat namens ons baklei, sodat ons naweke eerder kan gaan vlieghengel as om by die huis te bly, gras te sny en om te kyk hoe die Bulle alweer verloor.
Oukei dan, ek is klaar gepreek. So, tot ons weer gesels; gooi hom diep in, en laat hom lank lê…