1 minute read
Hoe het die Kalfiefees ontstaan?
In 2000 maak ek ‘n gastehuis oop in Vermont en weens my betrokkenheid met teater en die KKNK vra ek my vriend Cas van Rensburg, wat ook in Vermont woon, om saam met my ‘n vergadering van die Walvisfees by te woon om te versoek om ‘n Afrikaanse randfees op die Walvisfees in te stel, waarvoor die komitee glad nie te vinde was nie. Ons besluit toe om op ons eie ‘n aparte Afrikaanse feesie te hou in Augustus in die De Wetsaal op Onrusrivier en ek doop dit die Kalfiefees oor die klein omvang daarvan en die tyd van die jaar wanneer die walvisse Walkerbaai toe kom om te kalf.
Ek en Cas besoek Jean le Roux en vra hom as redakteur van die Hermanus Times om al die bemarking te help doen en die koerant se naam word aan die fees gekoppel. Ons stap uit die ANC-burgemeester se kantoor sonder enige ondersteuning en gaan klop aan by die DA-raadslede, mnre. Guthrie-Theron en dr. Annelie Rabie wat ons finansieël ondersteun om Onrusrivier se twee groot geeste in n toneelstuk te verheerlik nl. Jan en Jorie (Jan Rabie en Marjorie Wallace) wat met baie groot sukses aangebied word ook op ander feeste. Teatervriende soos o.a. Lizz Meiring, Emile Minnie en ‘n fopdosgroep word nader gehak om op te tree, selfs teatertegnici kennisse word ingespan vir die beligting en klank, ons hou ‘n karnavaloptog in die hoofstraat van Hermanus om die walvisse te verwelkom, nooi eregaste soos die destydse Wes-Kaapse premier Cecil Heradien en Ton Vosloo, betrek Northlink Kollege (toe die Tygerberg Kollege) dramastudente as kaartjieverkopers en voorportaalpersoneel, nader gastehuise om ‘n kamer gratis aan ‘n kunstenaar beskikbaar te stel.
Advertisement
Ons skep ook ‘n satellietteater in Hawston met die seën van die gemeenskap en eerwaarde Arrison, rig ‘n tent met stalletjies in, open met ‘n dans in die Sandbaaisaal en siedaar, ‘n fees in die kleine is gebore.
Dis hierdie kalfie wat nou 21 jaar later gegroei het tot n walvis en kers vashou by enige ander fees in die land, respek afdwing en groot name trek soos Sandra Prinsloo. Die skep van die Kalfiefees en die bestuur daarvan vir omtrent vyf jaar, is beslis een van die hoogtepunte van my lewe.
deur DR. NIEL LE ROUX
Kaartjies beskikbaar by