Woord@berg-en-dal- Des-2009

Page 1

woord@berg-en-dal kwartaalblad van die ng kerk berg-en-dal posbus 28048, danhof 9310 <woord@berg-en-dal.org> jaargang 5 no 4

Desember 2009

Vrystaat weifel: reformasie of akkommodasie? • NG Sinodesitting soek hoop én stel teleur - Jan Lubbe Die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat het by haar 50ste sinodesitting in 2005 haar gereformeerde identiteit herbevestig. Vier jaar later, ná die 51ste sitting, hang daar vraagtekens hieroor, en die nagenoeg 350 afgevaardigdes wat vir vier dae teen R 275 000 per dag (!) hier in Bloemfontein byeen was, sal daardie vrae uiteenlopend beantwoord. Dit was 'n sinodesitting wat hoop wou gee - te midde van 'n swaarmoedigheid oor landsomstandighede; syfers wat wys dat in die afgelope sewe jaar 40 000 lidmate van die Vrystaatse NG Kerk weg is; gemeentes wat finansieël swaar trek; vrywilligers en predikante wat moed verloor. Daarom is besluit om tydens die eerste twee dae 'n inspirerende beeld te gee van die omvangryke werk wat deur die Vrystaatse Kerk gedoen word - van Japan tot Zambië, maar veral hier plaaslik in die Vrystaat onder bejaardes, wesies, ge-

stremdes, vigslyers, weggooimense. Aan hierdie onbaatsugtige getuienis- en barmhartigheidswerk wat mense se konkrete lewensomstandighede verlig, word R 7,1 milj. spandeer (= 71% van die sinodale begroting). Min oë het droog gebly toe 'n koor van doofstom kinders in die sinodesaal “gesing” het. Die Torings van Hoopprojek in die middestad waar 'n lang ry behoeftiges en haweloses hul aandete kom haal, gryp die verbeelding aan. Net so diep is afgevaardigdes geraak deur die verhale van

hoop uit klein gemeentetjies op die Vrystaatse platteland - óók deur hul pleidooie om hulp. “Dit het my laat wonder watter positiewe bydrae ons in Berg-en-Dal as 'n besonder geseënde gemeente, kan maak”, skryf leierouderling Victor Reitz as afgevaardige, in sy verslag terug aan die Kerkraad. Deur God geroep Die oorkoepelende tema van die sinodesitting was “Die kerk wat God ons roep om te wees”.

Groot skuiwe kom by Siësta - Jan Lubbe Dit is nie net by Prellerplein dat daar in die laaste maande groot boubedrywighede was nie. Op die groot stuk grond langs die motorhuise van Siësta Tehuis vir Bejaardes in Genl. Conroystraat, het 'n blok woonstelle van 40 eenhede opgeskiet wat in Junie volgende jaar onder die naam “Graceland” gaan open. Na uitgebreide onderhandelinge het die bestuur van Siësta besluit om hierdie grond af te sny en aan die Graceland Trust te verkoop. Siësta het self ook insae in die planne gehad en aan die einde van Mei is die grond oorgedra en het die bouwerk begin. Elkeen van die eenhede bestaan uit twee slaapkamers, 'n badkamer, eet/sitkamer en kombuisie. Parkering word onder afdakke voorsien. Volgens mnr. Ken Kahts wat met die verhuring gemoeid is, sal die huur in die omgewing van R 3 500,00 per eenheid beloop. Dit beteken dat daar baie sentraal in Dan Pienaar naby die skole en winkelsentrum relatief bekostigbare verblyf vir oud en jonk beskikbaar gestel gaan word. Dit het ook implikasies vir Berg-en-Dal: sou hier 'n beduidende aantal lidmate van die NG Kerk vestig, kan dit 'n nuwe bedieningspunt word - iets wat met die verdigting van die woonbuurt ál meer deur die kerkraad in gedagte gehou moet word. Die inkomste van R 2,6 miljoen wat hiermee deur Siësta bekom is, gaan gebruik word om skulde van die Tehuis te delg en om nuwe motorhuise aan te bou. Dit is deel van 'n opknappingsproses wat in die laaste jaar by Siësta gedoen is en positiewe reaksie onder inwoners te gevolg gehad het. Ook wat die bestuur betref, is daar 'n proses op gang waardeur inwoners groter inspraak in die ontwikkeling van die Tehuis gaan kry.

Intussen is bouwerk aan die nuwe winkelsentrum by Prellerplein onbepaald gestaak, weens probleme wat Ströhfeldt-kontrakteurs ondervind, en loop die voltooiing en opening daarvan oor na later in 2010.

En die engel het vir die herders gesê: “Moenie bang wees nie...” (Luk. 2:10). SJ Fourie ontferm hom oor twee van die herders, Lambrecht Scheepers en JanLouis Fourie, vóór die Kerssangdiens van 22 November. woord@bergendal wens al sy lesers 'n geseënde Kersfees toe en 'n nuwe jaar in die teenwoordigheid van Hom oor Wie die goeie tyding regtig gaan: Immanuel!

BINNE Jaareind: Vorentoe gekyk ..................................................................3 Kermis sê dankie ...............................................................................4 Lente en Advent.................................................................................7 Apostolicum .......................................................................................9 Lied 284 onskriftuurlik?....................................................................12 Wat is Gereformeerd (III) .................................................................13 Kerkmuis..........................................................................................16


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.