7 Maart 2010 Vierde Lydensondag
Vir Jesus Christus is ‘n mens se heling méér as die heiligheid van ‘n Sabbat! “Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: ‘Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!’... Toe sê die Here: ‘... hier is ‘n vrou, ‘n dogter van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur Satan gebind is. Mag sy dan nie op die Sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?’” (Lukas 13:12 en 16) Ons is in die middel van Lydenstyd: ‘n seisoen van selfondersoek opweg na Golgota se kruis en Getsémane se leë graf. Meesterverteller wat hy is, is Lukas besig om ons oë te open vir die bedoeling van Jesus Christus se koms na die mensdom. Tot hiertoe in sy evangelie, vertel “dr.” Lukas ons van die mag wat Jesus oor siektes gehad het – koors (4:39), melaatsheid (5:13), verlamming (5:24) en ander gebreklikhede (6:8) – oor dood (7:13-16); die natuur (8:25); die daaglikse, kleine nood van brood (9:16); en oor besetenhede deur bose magte (8:28, 39). Wonderwerke in Galilea in klein dorpies soos Nasaret, Kapernaüm en Naïn, in die agterplaas van Israel. Maar ook in die “heidenwêreld” oos van die Jordaanrivier, in “die land van die Geraseners” (8:26). En selfs in die streke van Joodse “vyande” – “die inwoners in ’n dorp van die Samaritane (wat) Jesus nie wou ontvang nie”! (9:51-53). Só, opweg na Jerusalem en sy kruis, word dit duidelik: Jesus is deur God gestuur na álmal toe, órals. Oór alle grense heen. Selfs oor godsdiensgrense en religieuse rigiditeite heen. Dáároor bou spanning nou op: vroeg in die evangelie is Jesus uit Nasaret se sinagoge gedryf oor sy Skriflesing en toepassing daarvan op Homself (4:29). Dan volg die woordewisselings met Fariseërs en skrifgeleerdes: oor die genesing van ’n melaatse (5:21); oor of jy op ’n Sabbat mag koringoes en ’n siek persoon mag help (6:2 en 7); oor die rituele van reiniging (11:38). En nou – nadat Jesus twéé keer al gesê het dat sy bestemming Jerusalem en die kruis is! – bots hy met die godsdienshoof van ’n sinagoge (13:14). Want gaan godsdiens nie oor iets meer as reëls nie? Is die heling van ’n mens nie méér as die heiligheid van ’n Sabbat nie? JL. Hartlik welkom by ons eredienste vanoggend. Agter in die kerk is Bybels en Liedboeke indien u een benodig. Ons orrelis is Johan Cromhout en Stephan Bezuidenhout begelei in die saal. Uit die binnehof is deure na die Moederskamer en toiletgeriewe. U word ook uitgenooi om ‘n koppie tee ná die diens in die binnehof te kom drink. 1