jeugbediening

Page 1

JEUGBEDIENING Die amptelike verkondiging van Gods Woord wat aan die Kerkraad opgedra is (NGB Art. 30; KO Art. 48), moet ook die dooplidmate en jeug van Berg­en­Dal in hul lewenswêreld, bereik. Dit is 'n omgewing en tydsgees wat heeltemal anders is as dié van hul ouers. Die gemeente moet ouers juis help om in dié leefwêreld hul doopbelofte gestand te doen, én verbondskinders om hul geloof ­ gepas vir die ouderdomsfase waarin hul verkeer ­ in 'n veilige omgewing te voed en hul in die uitlewing daarvan te oefen. Dooplidmate en jongmense is immers onlosmaaklik deel van die eredienste en gemeenskap van gelowiges in Berg­en­Dal (KO Art. 50). In Berg­en­Dal funksioneer daar 'n Jeugbedieningsgroep wat saam met die leraars, spesifiek hiervoor verantwoordelikheid aanvaar. Hierdie bediening gee uiting aan dit wat in ons missie gestel is, naamlik dat: "Die Ned. Geref. Kerk Berg­en­Dal geroep is om as gemeenskap van gelowiges God Drie­Enig te verheerlik, deur .... in ons geloof, hoop en liefde te groei deur die persoonlike en gesamentlike bestudering van sy Woord en ons Christelike belydenis, en die onderrig daarvan aan ons kinders. wanneer ons die Evangelie van Jesus Christus met hulle deel deur ons woorde en dade, in opregtheid en nederigheid ... en wanneer ons daagliks volgens die eise van Gods Woord leef..." BEDIENINGSTERREIN EN PERSONEEL Die verkonding van die Woord behoort in elke erediens só te geskied dat dit ons kinders en jongmense bereik. Die Gesinsdiens vervul hier in 'n spesifieke behoefte. Die eerste aanddiens van elke skoolkwartaal word ook as 'n Jeugdiens ingerig, met temas en musiek wat spesifiek op die ouer kinders gerig is. Berg­en­Dal se begeleidingsgroep bestaan ook uit hoërskoolkinders en studerende jongmense in ons gemeente. Die Jeugkamer is die plek waar die hart van Berg­en­Dal se jeug gekoester en gesellig klop. Die gemeente beskik ook oor pragtige kategeselokale, elk vernoem na 'n plek in die heilsgeskiedenis van ou Israel en die kerk. Die grondliggende jeugwerk wat in Berg­en­Dal gedoen word, is die verbondsonderrig aan dooplidmate: Sondagoggende in die Junior Kategese (Voorskools tot Graad 4) tussen 10:00 en 10:30, en in die Senior Kategese (Graad 5 tot Graad 11) tussen 10:35 en 11:15. Elke jaargroep word in twee kleingroepe gedeel sodat daar nie meer as ongeveer 10­12 kinders per groep is nie,


elk onder leiding van 'n kategeet. Dit beteken dat twintig belydende lidmate elke jaar by die kategese betrokke is. Die Graad 10 en 11's (Belydenisgroep) word op 'n rotasiebasis deur die twee leraars behartig. Die bestuur van die kategese word deur 'n voorsitter en twee sekretarisse behartig, met die leraars in adviserende hoedanigheid. Berg­en­Dal is ook verantwoordelik vir kategese aan die inwoners van Huis Eie Haard, die koshuis van Hoërskool Sentraal. Dit vind op Woensdagaande (18:10 ­ 19:00) plaas, en word deur vier of vyf kategete saam met een van die leraars (vir die Belydenisgroep) behartig. Die benadering en organisering van Berg­en­Dal se kategese word volledig beskryf in die Riglyne vir Kategese (Bylaag 19). Toerusting van kategete is 'n groot prioriteit, en ten minste vier geleenthede per jaar word hiervoor gereël. Die jaarlikse afsluiting van die kategese vind vir die Juniors by 'n Gesinsdiens in die saal plaas, en vir die Seniors by 'n aanddiens in November. Die belydenisaflegging van katkisante vind die laaste Saterdagaand van Oktober in 'n spesiale erediens plaas, gevolg deur die Nagmaal die Sondagoggend. 'n Komitee van ouers van die Graad 10­katkisante, is elke jaar vir die reëlings van 'n geselligheid die Saterdagaand, verantwoordelik. Benewens die kategese, is daar in Berg­en­Dal 'n jeugaksie vir elke ouderdomsgroep: ♦ Kinderkrans vir voorskoolse­ & laerskoolkinders tot ongeveer 11 jaar. Kom Sondagmiddae in die kwartaal byeen. Gelei deur 'n leidster (Mathilda Henning) en helpers. Program: Bybelfokus, geloofslewe, pret. Groot plesier is die twee "uitkamp ­aande" by die kerk, Junie en November. ♦ Jongspan vir laerskoolkinders tussen 11 en 13 jaar. Kom Vrydagaande of Sondagmiddae in die kwartaal byeen. Gelei deur 'n leier/leidster en helpers. Program: Bybelfokus, praktiese geloofslewe, sosiaal. ♦ Camisards vir hoërskoolkinders tussen 13 en 18 jaar. Kom twee­weekliks op 'n Sondagaand byeen. Gelei deur 'n leraar of jeugwerker. Program: Bybelfokus, aktuele sake/"issues", kuier. Jaarlikse hoogtepunt: Camisardkamp in Septembervakansie (oop vir almal tussen 13 en 20). ♦ Matriek­omgeegroep vir die matrieks. Kom twee­weekliks op 'n Sondagaand byeen. Gelei deur 'n leraar of jeugwerker. Program: Bybelfokus, lewensvrae, kuier. ♦ Studente­omgeegroep vir alle naskoolse jongmense (studente, jongwerkendes). Kom weekliks byeen, meestal Sondagmiddae. Gelei deur 'n leraar of jeugwerker. Program: Bybelfokus, lewensvrae, kuier. Ander gewilde aksies wat in die gemeente geloods is en ons kinders en jongmense suksesvol betrek het en goed afgewissel kan word, is muntleggings ten bate van die sending of Bybelgenootskap; 'n Kategese­konsert en 'n Tweerand­aand (jeugkermis).


'n Gemeente soos Berg­en­Dal, geleë in die onmiddelike buurt van twee groot skole, kan ook nooit sy oë sluit vir dit wat in die onderwys van ons kinders gebeur nie. Daarom moet die Jeugbedieningsgroep ook op hoogte bly van verwikkelinge in onderwysbeleid en die behoeftes van skole, onderwysers en leerders in ons gemeente. Daar is 'n pos vir 'n Jeugwerker in Berg­en­Dal, waarvoor senior teologiese studente in aanmerking kom. Die Jeugwerker is veral verantwoordelik vir die bediening aan kinders in Huis Eie Haard, die koshuis van Hoërskool Sentraal, maar is ook by ander jeugaksies in die gemeente self, behulpsaam. Vir volledige besonderhede, sien die Posomskrywing vir Jeugwerker (Bylaag 20). 'n Groot aantal lidmate het hul gawes beskikbaar gestel om in die werksaamhede van die Jeugbedieningsgroep aangewend te word. Hierdie lidmate se name is op die Gawebank in die Kerkkantoor beskikbaar. FUNKSIONERING Die taak van die Jeugbedieningsgroep in Berg­en­Dal is as volg: •

Die bedieningsgroep sien toe dat besluite van die kerkraad oor dooplidmate en jong­ mense in Berg­en­Dal deur almal daarby betrokke uitgevoer word en dat die nodige reëlings getref is vir die bediening aan hierdie jong lidmate.

Die bedieningsgroep sien om na die oorhoofse beplanning en koördinering van die verskillende aksies en komitees wat betrokke is by die jeugbediening in Berg­en­Dal.

Die bedieningsgroep dien as skakel tussen die kerkraad, die jeugwerker, kategete, leiers/leidsters van jeugaksies, jongmense self en die ouergemeenskap.

Die bedieningsgroep dien ook as skakel tussen die kerkraad en instansiesbetrokke by die jeug, buite Berg­en­Dal, bv. die Rings­ en Sinodale Jeugkommissies, ander ge­ meentes en die skole.

Die bedieningsgroep begroot jaarliks vir die werksaamhede van hierdie bediening, samel sover moontlik self fondse in om die werk in stand te hou en bestuur daardie begroting.

• Die bedieningsgroep dra sorg vir navorsing, beplanning, inligting en voorligting in be­ lang van die jeugbediening in Berg­en­Dal, en adviseer die kerkraad oor beleid en be­ sluite in dié verband. Die bestuur van die Jeugbedieningsgroep word as volg saamgestel:


♦ Die ouderling wat deur die kerkraad as voorsitter vir hierdie bediening aangewys en be­ vestig is; ♦ die leraars; ♦ die jeugwerker (dien ook as sekretaris); ♦ die voorsitter van die kategetevergadering; ♦ die sekretarisse van die Junior­ en Senior Kategese; ♦ die leier/leidster van die Kinderkrans; ♦ die leier/leidster van die Jongspan; ♦ 'n verteenwoordiger van die Camisards; ♦ 'n verteenwoordiger van die Matriek­omgeegroep; ♦ 'n verteenwoordiger van die Studente­omgeegroep; ♦ op uitnodiging en van tyd tot tyd, 'n kenner uit die onderwys­wêreld; ♦ enige ander belangstellende lidmate van Berg­en­Dal. Om bogenoemde funksies effektief uit te oefen, vergader die bestuur van die Jeugbedieningsgroep ten minste een keer per kwartaal. Verslag van hierdie vergadering word aan die Bestuursraad gelewer. Indien nodig, kan die voorsitter van die bedieningsgroep 'n spesiale vergadering belê. Die onderskeie komitees hierbo genoem, vergader uiteraard soos nodig om hul werksaamhede te hanteer


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.