My Gunsteling Storie Bybel - Afrikaans

Page 1

Geskryf deur Ewald van Rensburg

Geskryf deur Ewald van Rensburg

Illustrasies deur Lilani Brits

Illustrasies deur Lilani Brits

Hierdie boek behoort aan :

Geskryf deur Ewald van Rensburg

Illustrasies deur Lilani Brits

’N DRUKNAAM VAN CHRISTIAN MEDIA PUBLISHING
Inhoud 1. My God is so groot 6 2. Luister altyd na God 10 3. Noag vertrou op God 14 4. Niks is vir God onmoontlik nie 18 5. Moses in die mandjie 22 6. Die tien plae 26 7. Jerigo se mure 30 8. God laat ’n donkie praat 34 9. God luister na jou gebed 38 10. Praat, Here, ek luister 42 11. Dawid word koning gemaak 46 12. Dawid en Goliat 50 13. Dawid en Jonatan 54 14. Slim Salomo 58 15. Koning Josia 62 16. God gee kos en water 66 17. God is baie sterker as Baäl 70 18. Nehemia help om Jerusalem weer mooi te maak 74 19. Die dapper koningin Ester 78 20. Daniël in die leeuhok 82 21. Jona 86 22. Jesus word gebore 90 23. Die wyse manne 94 24. Jesus besoek die tempel 98 25. Jesus word gedoop 102
26. Jesus en die duiwel 106 27. Jesus roep sy dissipels 110 28. Jesus sorg vir ons 114 29. Jesus maak die storm stil 118 30. Jesus is baie lief vir kinders 122 31. Vyf brode en twee vissies 126 32. Jaïrus se dogtertjie 130 33. Die barmhartige Samaritaan 134 34. Jesus is die goeie skaapwagter 138 35. Lasarus 142 36. Bartimeus 146 37. Jesus loop op die water 150 38. Die verlore seun 154 39. Jesus was sy dissipels se voete 158 40. Saggeus klim in ’n boom 162 41. Hier kom Koning Jesus 166 42. Die tien meisies 170 43. Die Kruis 174 44. Jesus staan uit die dood op 178 47. Jesus stap saam met twee vriende 182 46. Jesus verskyn aan sy dissipels 186 47. Jesus gaan terug hemel (sy huis) toe 190 48. Petrus, Johannes en die verlamde man 194 49. Paulus 198 50. Jesus kom weer 202

1. My God is so groot

(Genesis 1-2)

In die begin was alles donker. Daarom het God eers die lig geskep. Die son vir die dag en die maan en die sterre vir die nag. Hy het ook die see en die land gemaak. Toe maak Hy die plante en bome.

Oral waar jy kyk, was daar blomme en vrugte.

6

Vir die see, skep Hy visse van alle kleure en groottes. Vir die lug skep God die voëls wat so pragtig sing. Toe skep God al die diere, van die grote olifant tot die kleine gogga.

7

Toe God ons pragtige aarde maak, doen Hy iets baie spesiaals. Hy maak die eerste mense. Die man se naam was Adam en die vrou s’n Eva. Die Here het hulle baie lief gehad.

Kom ons bid saam:

Here, U is so groot, daar is niks wat U nie kan doen nie. Dankie dat U alles so mooi gemaak het. Amen.

8

God het al die mooi dinge in die wêreld gemaak.

Weet jy dat God ook vir jou gemaak het?

Hoe laat dit jou voel oor jouself en ander mense?

9

2. Luister altyd na God

(Genesis 3)

God het vir Adam en Eva in die tuin van Eden laat bly. Dit was ’n baie mooi plek.

God het vir hulle gesê: “Julle kan van alles eet, maar een boom is spesiaal. Julle mag nie van die vrugte van daardie boom eet nie. As julle dit doen, gaan Ek julle swaar straf.”

Eendag vermom die slegte duiwel homself as ’n slang. Hy praat toe met Eva en jok vir haar: “Julle kan maar regtig van daardie spesiale boom se vrugte eet. God sal julle nie straf nie.”

10
11

Eva en Adam eet toe van die vrugte. God was hartseer omdat hulle nie na Hom geluister het nie. As straf mag hulle nie meer in die tuin van Eden bly nie.

Verkeerde goed gebeur nou nog as ons nie na God luister nie. Gelukkig vir ons het Jesus met sy lewe alles reggemaak.

Kom ons bid saam: God, ons Vader, help my om altyd na U te luister. Amen.

12

Jesus het met sy lewe alles reggemaak. Luister altyd na God.

Kan jy aan ’n tyd dink toe jy nie na jou ma en pa geluister het nie? Wat het toe gebeur?

13

3. Noag vertrou op God

(Genesis 8-9)

Dit het baie lank gereën. Die hele aarde was soos een groot see. Maar Noag-hulle was veilig in die ark. God het belowe om Noag, sy gesin en al die diere te red.

14

As God iets belowe, kan ’n mens maar weet dat Hy dit sal doen.

God het toe ’n sterk wind gestuur om die aarde droog te waai.

15

Uiteindelik kon Noag-hulle veilig uit die ark klim.

Toe maak God die eerste reënboog. Daardeur het God vir Noag belowe dat Hy nooit weer so baie water op een slag op die aarde sal laat val nie.

Kom

ons

bid saam:

Dankie, Here, dat U altyd doen wat U belowe. Amen.

16

Elke keer wanneer jy ’n

reënboog sien, onthou dat jy God altyd kan vertrou.

Kan jy onthou toe

iemand sy/haar belofte aan jou nagekom het?

Hoe het dit jou laat voel?

17

4. Niks is vir God onmoontlik nie

(Genesis 12, 13, 15, 17, 18, 21)

God het vir Abraham gesê om na ’n ander land toe te trek. Hy vat toe sy vrou, Sara, en sy neef, Lot, saam.

God belowe toe vir Abraham dat Hy vir hom sal sorg en vir hom ’n groot familie sal gee.

Abraham en Sara het geen kinders gehad nie. Hulle wou graag kinders hê, maar hulle was al baie oud. Het God dan van hulle en sy belofte vergeet?

18
19

Eendag het drie mans vir Abraham kom kuier.

Hulle vertel toe vir hom dat Sara ’n seuntjie gaan hê. Toe Sara dit hoor, het sy gelag.

God wou by haar weet waarom sy lag. Het sy vergeet dat God enigiets kan doen?

Hulle het toe ’n seuntjie, Isak, gehad.

Kan jy dink aan

’n tyd toe jy baie lank gewag het vir iets wat jy baie graag wou gehad het? Hoe het dit jou laat voel?

20

Kom ons bid saam:

Dankie dat U ook vir my sorg. Dankie dat U enigiets kan doen. Amen.

God kan enigiets doen wat mense nie kan nie en kom altyd sy beloftes na.

21

5. Moses in die mandjie

(Eksodus 2)

Die wrede farao, die koning van Egipte, het besluit om al die Joodse seuntjies dood te maak.

Moses se mamma en sy suster, Mirjam, was baie bang dat die farao hom ook sou doodmaak. Hulle het hom in ’n mandjie op die rivier laat afdryf.

Die farao se dogter het die huilende Moses tussen die riete gekry. Sy was jammer vir hom. Moses se suster het vir haar gesê dat sy iemand ken wat na hom sou kyk.

22
23

Toe bring Mirjam Moses se eie ma na haar toe! So het God gesorg dat Moses veilig deur sy eie mamma grootgemaak word in die farao se paleis.

Kom ons bid saam:

Here, dankie dat U elke dag vir my sorg. Amen.

God sal altyd sy kinders beskerm.

24
25
Hoe hou jou familie jou veilig?

6. Die tien plae

(Eksodus 6-13)

God het vir Moses na Egipte toe gestuur om vir die farao te vra om die Israeliete te laat wegtrek. As die farao weier, sal God slegte goed (plae) met die Egiptenare laat gebeur, maar nie met die Israeliete nie. Die farao het vir Moses “Nee!” gesê.

26

En toe het die slegte goed al die Egiptenare getref: paddas, steekvlieë, donkerte vir drie dae en nog baie ander dinge. Met Moseshulle het egter niks gebeur nie!

27

Ná tien sulke plae, het die farao vir Moses gesê: “Ek het nou genoeg gehad. Julle kan maar trek.”

Hoe sal jy voel as jou huis skielik vol paddas is?

28

Kom

ons bid saam: Dankie, Here, dat U my altyd beskerm. Amen.

Jy kan maar op die Here staatmaak, want Hy beskerm sy kinders.

29

7. Jerigo se mure

Daar was ’n hoë, dik muur rondom die stad Jerigo. Dit het gekeer dat geen vyand by die stad kon inkom nie. God het vir Josua belowe dat hulle die stad sou oorneem. Hy het sy plan aan Josua verduidelik.

Die Israeliete het presies gemaak soos wat God gesê het en vir ses dae al om die stad geloop. Op die sewende dag het hulle sewe keer om die stad geloop.

30
31

Daarna het die priesters op hulle ramshorings geblaas en die res het kliphard geskreeu.

Toe het die mure inmekaar geval. Die Israeliete het gewen, nes God belowe het.

Kom ons

bid saam:

Here, ek weet met U hulp is enigiets moontlik. Amen.

32

Wanneer ons aan God gehoorsaam is, is niks onmoontlik nie.

Het jy al ooit iets onmoontlik probeer doen?

33

8. God

laat

’n donkie praat (Numeri 22)

Koning Balak wou vir Bileam baie geld betaal om slegte goed van God se mense te sê.

Maar God het besluit om hom te keer.

Bileam het met sy donkie na koning Balak toe gery. In die pad het die engel van die Here met ’n swaard gestaan.

34

Net die donkie het die engel gesien, maar Bileam kon nie.

Die donkie het drie keer vir die engel uitgedraai en elke keer het Bileam sy donkie geslaan.

Na die derde keer, het God die donkie laat praat.

35

Vir wat slaan jy my so?

Omdat jy my gek maak!

Maak ek altyd so met jou? Nee!

Het iemand al iets lelik vir jou gesê? Hoe het jy daaroor gevoel?

36

Toe maak die Here Bileam se oë oop en hy sien skielik die engel raak. Die engel sê toe vir hom: “Van nou af sal jy net sê wat God vir jou sê.” Bileam het presies so gemaak.

Kom ons bid saam:

My God, help my om nie lelike goed van ander mense te sê nie. Amen.

Jesus hou nie daarvan as jy slegte goed van ander mense sê nie.

37

9. God luister na jou gebed

(1 Samuel 1)

Elkana het in ’n dorpie saam met sy vrou, Hanna, gebly. Hulle kon nie kinders hê nie. Die mense in die dorpie het vir Hanna daaroor gespot. Dit het haar baie ongelukkig gemaak.

38

Hanna bid toe in die tempel dat God vir haar

’n kindjie moet gee. Sy het gehuil terwyl sy bid.

Eli, die priester, het met haar geraas, want hy het gedink sy is dronk. Toe vertel sy haar storie vir hom. Dadelik besef hy sy is nie dronk nie, net baie hartseer.

39

Hy sê toe vir haar: “God sal vir jou ’n kindjie gee.” Dit gebeur toe soos Eli gesê het. Die seuntjie se naam was Samuel.

God was goed vir Hanna, want sy het daarna nog vyf kinders gehad.

Niemand het ooit weer met Hanna gespot nie.

Kom ons bid saam:

God, dankie dat U altyd na my luister. Amen.

40

Het jy al vir God vertel wat jou grootste wens is?

God luister wanneer jy bid.
41

10. Praat, Here, ek luister

(1 Samuel 3)

Samuel het by Eli in die tempel gebly. Een oggend vroeg het daar iets spesiaal met Samuel gebeur. Eli het nog geslaap. ’n Stem het geroep: “Samuel!”

Samuel het geantwoord: “Ek kom!” en dadelik na Eli toe gehardloop.

Hy het vir ’n deur-die-slaap Eli gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Eli het sy kop geskud: “Dit was nie ek nie.”

Na die derde keer, besef Eli dit is die Here wat vir Samuel roep. Eli sê dadelik vir hom: “As iemand jou weer roep, sê jy: ‘Praat, Here, ek luister.’”

42
43

Dit is presies wat Samuel gedoen het en die Here het toe met hom gepraat. Almal het van toe af oral in die hele land gepraat oor Samuel wat altyd presies gedoen het wat die Here van hom gevra het.

Kom ons bid saam:

Jesus, help my om altyd te luister na wat U in die Bybel vir my sê. Amen.

44

Die Here praat vandag deur sy Bybel met ons.

Weet jy dat God met jou wil praat?

45

11 .Dawid word koning gemaak

(1 Samuel 16)

Saul was ’n slegte koning wat nie na God wou luister nie. God het toe vir Samuel na

Betlehem toe gestuur om daar ’n nuwe koning te kies.

By Isai se huis wou God nie een van sy seuns, wat voor Samuel verskyn het, kies nie.

Toe het Samuel vir Isai gevra: “Het jy nog seuns?”

46
47

“Ja, Dawid, my jongste, maar hy pas die skape op,” het Isai geantwoord. Samuel het onmiddellik gesê: “Gaan haal hom.”

Toe Dawid by die huis instap, het God vir Samuel gesê dat Dawid die nuwe koning moes wees.

Kom ons

bid saam: Dankie, Here, dat U my ook gebruik, al is ek nog jonk. Amen.

God dink jy is net so spesiaal soos Dawid.

48

Weet jy dat God ’n spesiale plan met jou het?

49

12. Dawid en Goliat

(1 Samuel 17)

Die Filistyne en die Israeliete het teen mekaar geveg. Al die Israeliete was bang vir die groot Goliat. Die sterk reus het almal wat teen hom geveg het, gewen.

Dawid het daar aangekom met kos vir sy broers. Hy het na Goliat gekyk en vir die res van die Israeliete gesê: “Moenie so bang wees nie, God is baie groter en sterker as die reus, Goliat. Ek sal teen hom baklei.”

50

Goliat het hom

doodgelag vir die seun wat teen hom wou veg.

51

Dawid het nadergekom en met sy slingervel ’n klip na die reus toe gegooi. Dit het vir Goliat tussen die oë getref. Die reus het dood neergeval!

Kom ons bid saam:

Here, dankie dat U my help wanneer ek moeilike goed moet doen. Amen.

52
God het vir klein Dawid gehelp om die groot Goliat te wen!

Is daar dalk iets wat jy bang is om te doen?

53

13. Dawid en Jonatan

(1 Samuel 20)

Dawid het ná Goliat se dood by koning Saul gaan bly. Al die Israeliete het baie van Dawid gehou, veral omdat hy vir Goliat gewen het en boonop sulke mooi liedjies kon skryf en sing.

Saul was baie jaloers op Dawid.

Toe het daar ’n mooi ding gebeur.

54

Saul se seun, Jonatan, en Dawid het beste vriende geraak. Hulle het elke dag saam gespeel en was baie lief vir mekaar.

Jonatan het egter gehoor dat sy pa, Saul, vir Dawid wou doodmaak. Hy het toe vir Dawid gehelp om van Saul af weg te kom.

55

Kom ons bid saam:

Here, dankie dat U vir my vriende gee. Amen.

Vriende help altyd vir mekaar.

Wat is jou beste maatjie se naam?

56
57

14. Slim Salomo (1 Konings 3)

Een aand het koning Salomo gedroom dat God vir hom vra: “Wat wil jy die graagste van My hê?”

“Maak dat ek altyd gehoorsaam aan U sal wees.” God het toe vir Salomo die slimste in die hele wêreld gemaak.

58

Op ’n dag kom twee vroue met een baba na koning Salomo toe. Albei sê die baba is hulle s’n. Die een vrou se baba is in die nag dood. Toe steel sy die ander se baba. Maar watter vrou is die regte mamma?

59

Salomo het ’n slim plan gehad: “Sny die baba in die helfte en gee vir elke vrou ’n halwe baba ... ”

Dadelik sê die een vrou: “Sny hom deur.” Maar die ander een het gesê: “Nee, gee dan liewer die baba vir haar. Moenie hom doodmaak nie.”

Toe het Salomo geweet wie die regte mamma is. Net die regte mamma sal so baie omgee vir haar kind se lewe. Hy gee toe die baba vir haar.

Almal het gepraat oor hoe slim God vir Salomo gemaak het.

ons

saam: Here, help my om elke dag goeie besluite te neem. Amen.

Kom
60
bid

God help ons om die regte ding te doen.

As jy vir God enigiets kon vra, wat sou jy vra?

61

15. Koning Josia

(2 Konings 22-23)

Lank, lank gelede het mense nie ’n Bybel gehad soos vandag nie. Die Israeliete het boonop vergeet wat die Here gesê het en verkeerde dinge gedoen. Dit het God se hart seergemaak.

Josia was maar net agt jaar oud toe hy die nuwe koning geword het. Hy was baie lief vir God.

Op ’n dag het hy die tempel laat skoonmaak.

Iemand het toe die wetboek van Moses daar onder ’n klomp goed gevind. Hierdie wetboek is soos die Israeliete se Bybel!

Nadat Josia die wetboek gelees het, het hy vir God belowe dat die Israeliete van toe af sou maak soos die Here sê.

62
63

Kom ons bid saam:

Here, dankie dat ek na die Bybel se stories kan luister. Amen.

Onthou om elke dag jou Bybel te lees.

64
Wat is jou gunsteling Bybelstorie? 65

16. God gee kos en water

(1 Konings 17)

Elia was ’n man wat die Israeliete van God vertel het. Maar koning Agab en die res van die volk wou nie na God luister nie.

Toe vertel hy vir koning Agab daar gaan vir baie lank geen reën wees nie, omdat Agab nie wil hoor nie. Koning Agab besluit toe om vir Elia te laat doodmaak.

God stuur toe vir Elia om naby ’n riviertjie te gaan wegkruip. Daar was genoeg water om te drink, maar geen kos nie. Elia het baie honger geword.

God stuur toe kraaie met vleis en brood in hulle bekke.

66
67

Hulle het in die oggend en die aand na Elia toe gekom.

Elia het geweet dat God altyd vir hom sal sorg.

Kom ons bid saam:

God, ons Vader, dankie dat U altyd vir my sorg. Amen.

Sê altyd vir God dankie dat jy kos het om te eet en iets het om te drink.

68

Kan jy onthou toe jy baie honger was?

Wie het vir jou iets gegee om te eet?

69

17. God is baie sterker as Baäl

(1 Konings 18)

Elia het na koning Agab en sy kwaai vrou, Isebel, toe gegaan. Hy het vir hulle gesê:

“Ek gaan vir julle wys dat God baie sterker is as julle god, Baäl. Vra julle Baäl om hout aan die brand te steek. Ek sal vir God dieselfde vra.”

Niks het met hulle hout gebeur nie. Daar was geen teken van vuur nie.

70
71

Elia gooi toe sy hout nat en bid tot God. God steek toe die sopnat hout aan die brand. Almal het besef dat God groter en baie sterker as Baäl is.

Maar Elia was nog nie klaar nie: “God gaan dit nou nog laat reën ook.”

Al wat daar in die lug was, was ’n wolkie so groot soos ’n mens se hand.

Koning Agab en die res van die mense kon nie glo wat hulle sien nie. Skielik was die lug donker. Dit het begin reën en reën en reën.

Daar is niemand soos ons God nie.

Kom ons bid saam: God, ons Vader, dankie dat U so goed is vir ons. Amen.

72

God is groot en daar is niks wat Hy nie kan doen nie.

Is daar iets waarmee God jou moet help?

73

18. Nehemia help om Jerusalem weer mooi te maak

(Nehemia 1-7)

Nehemia was ’n Israeliet. Hy was die skinker in die Persiese koning se paleis. Dit was ’n belangrike werk, want hy moes alles proe voordat die koning iets kon drink.

74

Hy het van die Israeliete wat na Jerusalem teruggegaan het, gehoor hoe sleg alles daar lyk. Selfs die mure is afgebreek.

God wou hê dat Nehemia sy mense moes gaan help om Jerusalem weer vir Hom mooi te maak. Nehemia was baie lief vir God.

75

Hy besef toe hy moet dadelik vir die Persiese koning vra of hy na Jerusalem kan teruggaan. Hy was nogal bang vir wat die koning sou sê, daarom het hy gebid net voordat hy vir hom gevra het. Die Here het sy gebed verhoor.

Hy is terug Jerusalem toe. Daar het hulle weer die plek mooi gemaak en vir God belowe dat hulle altyd na Hom sal luister.

Kom ons

bid saam:

God, ons Vader, ek wil na U luister sodat ek ook mooi goed vir U kan doen. Amen.

76

Daar is niks wat jou meer bly maak as om vir God lief te hê nie.

Is daar iets by die kerk waarby jy en jou familie betrokke kan raak?

77

19. Die dapper koningin Ester

(Ester 1-10)

Ester was ’n baie mooi vrou. Sy was so mooi dat die koning van Persië haar sy vrou en koningin gemaak het.

Eendag kom Mordegai, haar oom, na haar toe. Hy sê toe vir haar: “Al ons Jode – jy ook –is in die moeilikheid. Die slegte Haman wil ons almal laat doodmaak. Hy het vir die koning leuens vertel en nou is daar ’n wet wat sê dat al die Jode op ’n sekere dag vermoor moet word.”

Mordegai het op sy knieë voor Ester gegaan en gesê: “Asseblief, Ester, net jy kan ons red.”

78

Al was Ester baie bang, het sy die koning en die slegte Haman vir ete genooi.

79

Sy vertel toe vir die koning van Haman se planne om haar en haar mense dood te maak.

Die koning was baie kwaad vir Haman. Hy maak toe ’n nuwe wet wat die Jode gered het. Al die Jode was bly en het in die strate gedans.

Ester was ’n dapper vrou wat met God se hulp haar mense gered het.

Kom ons bid saam: My God, omdat ek U liefhet, help ek graag ander mense. Amen.

80

God werk deur

gewone mense soos Ester en jy om ander mense te help.

Wanneer laas het jy iemand gehelp?

Hoe het jy gehelp?

81

20. Daniël in die leeuhok

(Daniël 6)

Daniël was ’n belangrike man wat in Persië gebly het. Almal het geweet dat hy baie lief vir God was. Hy het elke dag in die oggend, middag en aand gebid.

Mense was jaloers op hom. Hulle laat koning Darius toe ’n wet maak dat mense net die koning mag aanbid.

Mense wat dit nie doen nie, sal in ’n leeuhok gegooi word. Daniël het hom nie hieraan gesteur nie en steeds tot God gebid.

Dié mense het vir die koning daarvan vertel.

82
83

Daniël is toe in ’n hok vol leeus gegooi. Maar

God het die leeus se bekke toegemaak en Daniël was veilig.

Toe weet die koning Daniël se God is die ware God.

Kom ons bid saam:
God, by U is my lewe veilig. Amen.
84

Net soos God vir Daniël in die leeuhok gehelp het, kan Hy vir jou ook help.

Het jy geweet gebed is ’n gesprek met God? Waaroor sal jy graag nou met God wil praat?

85

21. Jona (Jona 2)

God het vir Jona gevra om vir die mense van Nineve te gaan sê om nie meer verkeerd te doen nie. Jona wou nie na God luister nie. Jona vaar toe met ’n boot weg van God af.

Maar niemand kan van God wegloop nie, want God kan oral sien.

Nineve
86
Boot na Tarsis

Skielik is daar ’n storm op die see.

Almal op die boot is bang. Die matrose gooi toe vir Jona in die see. God stuur ’n groot vis om Jona te red. Dié sluk vir Jona in. Binne-in die vis sê Jona vir God dat hy jammer is.

87

Die vis spoeg hom op die strand uit en Jona gaan doen wat God vra. Hy sê vir die mense van Nineve om nie meer verkeerd te doen nie.

Hulle sê: “Here, ons is jammer.” God vergewe hulle.

Maar Jona is kwaad daaroor, want hy hou nie van die mense nie. God is lief vir alle mense en daarom vergewe Hy hulle.

Kom ons bid saam: God, help my om altyd jammer te sê as ek verkeerd doen. Amen.

88

Sê jammer as jy verkeerd was.

Wanneer moes jy vir iemand jammer sê?

Was dit maklik gewees?

89

22. Jesus word gebore

(Lukas 1-2)

Maria was van die dorpie Nasaret. Sy was verloof aan Josef.

Eendag kom iemand vir haar kuier. Dit was nie sommer enigiemand nie, hoor. Dit was een van God se hoofengele, Gabriël, wat vir haar kom kuier het. Hy het vir haar vertel dat sy ’n baba gaan hê wat eintlik die Seun van God is. Maria vra: “Hoe kan so iets gebeur, ek is dan nog nie getroud nie?”

Gabriël het dadelik gesê dat sy nie bekommerd moet wees nie, want vir God is niks onmoontlik nie. Die baba sal ’n wonderwerk uit die hemel wees.

90
91

Sy kon nie anders as om vir die engel te sê nie: “Sê vir God ek sal dit doen. God kan maar met my maak soos Hy goed dink.”

Die engel is toe daar weg en haar lewe was nooit weer dieselfde nie. Sy en Josef is later getroud. Dit was die grootste oomblik toe hierdie spesiale baba uit die hemel in Betlehem gebore is en sy Hom vasgehou het. Josef het toe die baba Jesus genoem. Ja, dié baba, Jesus, sou die wêreld heeltemal verander.

Kom ons bid saam: God, dankie dat U Jesus, u Seun, vir ons gegee het. Amen.

92
Jesus se Naam beteken: “God red”.
Weet jy dat jy ook ’n wonderwerk van God is?
93

23. Die wyse manne

(Matteus 2:1-23)

Wyse manne van ’n ver, ver land het op hulle kamele ’n blink ster gevolg.

Hierdie ster het vir hulle vertel dat ’n spesiale koning in die wêreld gebore is. Die blink ster het die slim mans tot by Betlehem gebring. Daar het die ster doodstil bo ’n huis bly hang. Hulle het vir Jesus, God se seun, daar gekry.

Maria, sy mamma, en Josef, sy pappa, was ook daar.

94
95

Die wyse manne het die beste en mooiste geskenke van daardie tyd – wierook, mirre en goud – vir Jesus gegee.

Daarna het hulle baie bly terug huis toe gegaan.

Jesus, U is Koning van die wêreld. Amen.

Kom ons bid saam:
96

Onthou om elke dag, nes die wyse manne met hulle geskenke, jou beste vir Jesus te gee.

Watter spesiale geskenk sou jy vir Jesus gegee het?

97

24. Jesus besoek die tempel

(Lukas 2)

Jesus word nou mooi groot. Hy luister na sy ouers.

Eendag gaan hy saam met Maria en Josef na Jerusalem om saam met die ander Jode fees te vier – hulle wil vier dat God so groot is.

Toe Maria en Josef ná die fees saam met almal terugloop huis toe, kom hulle ’n vreeslike ding agter. Jesus is weg!

98

Hulle kon Jesus nie tussen die ander kinders kry nie. Maria en Josef was baie bekommerd. Hulle loop toe dadelik terug na Jerusalem om vir Jesus te soek. Hulle soek en soek en soek oral in die groot stad ...

99

Hulle kry toe vir Jesus in die tempel en was baie bly. Daar was Jesus besig om met ’n paar slim mans oor God te praat. Die slim mans was verbaas oor hoe slim Jesus is.

Terug in Nasaret het die mense geweet God is baie lief vir Jesus en die mense het sommer baie van Jesus gehou.

Kom ons bid saam: Jesus, ek
graag
U wees. Amen. 100
wil
soos

Net soos Jesus se ouers vir Hom omgegee het, gee God en jou ouers vir jou om.

Het jy al ooit iets verloor? Hoe het dit jou laat voel? As jy wegraak, wat moet jy doen?

101

25. Jesus word gedoop

(Matteus 3)

God het vir Johannes gebruik om die mense van Jesus te vertel. Hy het hulle ook vertel dat hulle God moes liefhê.

Eendag het Johannes in die rivier gestaan en weer gepraat oor God se Spesiale Een wat sou kom.

102

Toe het Jesus daar by die rivier aangekom.

Opgewonde het Johannes dadelik vir almal gesê dat Jesus God se Spesiale Een is!

Jesus het tot by Johannes in die rivier gestap.

103

Net toe het God uit die hemel gepraat sodat

almal dit kon hoor: “Dit is my Seun wat ek baie liefhet. Luister na Hom!”

Kom ons bid saam: Jesus, ek wil altyd na U luister en aan U gehoorsaam wees. Amen.

God sê ook vir jou:

“Jy is my kind en Ek is baie lief vir jou!”

Hoe laat dit jou voel om te weet Jesus het jou baie lief?

104
105

26. Jesus en die duiwel

(Matteus 4:1-11 en Lukas 4:1-13)

Op ’n keer het Jesus na die woestyn toe gegaan om alleen te wees.

Die duiwel, wat altyd probeer om mense verkeerde dinge te laat doen, het na Jesus toe gegaan. Hy het probeer om Jesus ’n klomp slegte en verkeerde dinge te laat doen.

Jesus wou glad nie na die duiwel luister nie. Jesus het vir hom gesê dat dit altyd beter is om na God te luister.

Die duiwel het Jesus toe uitgelos, want hy het geweet dat Jesus baie groter, sterker en slimmer as hy is.

106
107

Kom ons bid saam:

Jesus, help my asseblief om net na U te luister. Amen.

Jesus is altyd aan jou kant, daarom hoef jy nie vir die duiwel bang te wees nie.

Het iemand al ooit vir jou gevra om iets te doen wat jy geweet het verkeerd was?

108
109

27. Jesus roep sy dissipels

(Matteus 4:18-22 en Johannes 1:43-51)

Eendag het Petrus en sy broer, Andreas, visgevang. Jesus het toe na hulle gegaan.

Jesus het vir hulle gesê: “Kom saam met My.

Julle gaan My help om mense te leer om God lief te hê.”

So het Jesus ook vir Filippus, wat in dieselfde dorp as Petrus en Andreas gebly het, raakgeloop en vir hom gesê: “Volg My.”

Filippus het weer dadelik vir Natanael genooi om in sy span te wees.

Jesus het later twaalf mense in sy span gehad. Hierdie twaalf mense, wat vir Jesus oral gevolg het, noem ons sy dissipels.

110
111

Kom ons

bid saam:

Jesus, dankie dat

U ook vir my as u dissipel kies. Amen.

’n Dissipel is iemand wat vir Jesus lief is, na Hom luister en graag ander mense help.

Wat wil jy graag vir jou vriende van Jesus vertel?

112
113

28. Jesus sorg vir ons

(Matteus 6:25-34)

Jesus het op ’n baie mooi plek gesit en met sy dissipels en ’n klomp ander mense gepraat oor hoe kinders van God moet lewe.

Toe Hy die voëltjies in die lug sien vlieg, het Jesus dadelik vir hulle gevra: “Sien julle die voëltjies wat hier bo ons vlieg?” Almal het opgekyk en hulle koppe geknik. “God, ons Vader, sorg vir hulle. Hy gee vir hulle kos om te eet. Onthou, God het julle, as sy kinders, nog baie meer lief. Daarom moet julle nooit bekommerd wees nie.”

114
115

Kom ons bid saam:

Jesus, dankie dat U altyd vir ons sorg en ek nooit bekommerd hoef te wees nie. Amen.

Hy sorg vir jou. Daarom sal Hy vir jou altyd gee wat jy nodig het.

116

Kan jy raai wat is die verskil tussen dinge wat jy wil hê en dinge wat jy regtig nodig het?

117

29. Jesus maak die storm stil

(Markus 4:35-41)

Eendag was Jesus en die dissipels in ’n boot op die water. Jesus was baie moeg en het aan die slaap geraak.

Skielik het daar ’n groot storm opgekom. Die see het rof geraak. Die dissipels was baie bang toe die groot branders teen die boot geslaan het. Hulle het vir Jesus wakker gemaak. Hy kon dadelik sien dat hulle baie bang was.

118
119

Jesus het die storm laat ophou en vir sy dissipels gesê: “Julle moenie bang wees nie, want Ek is mos hier by julle om julle te help.”

Kom ons bid saam:

Jesus, dankie dat U my altyd help wanneer ek bang is. Amen.

Jy kan alles wat jou bang en bekommerd maak vir Jesus gee.

Noem die dinge wat mense bang maak. Wanneer jy bang is, wat doen jy?

120
121

30. Jesus is baie lief vir kinders

(Markus 10:13-16)

Op ’n dag het ’n klomp mammas hulle kindertjies na Jesus toe gebring.

Hulle wou gehad het dat Jesus hulle moes seën.

Jesus se dissipels het met die mammas hieroor geraas. Maar Jesus het dadelik vir sy dissipels gesê dat hulle nie die kindertjies moes wegjaag nie. Hulle het mos teen dié tyd al geweet dat Hy baie lief vir kinders is.

122
123

Die kindertjies het toe almal na Jesus toe gehardloop. Hy het sy hande op hulle koppe gesit, hulle geseën en vir hulle vertel dat hulle baie spesiaal is.

Jesus het kinders (nes jy) baie lief.

Kom ons bid saam: Jesus,
belangrik
dankie dat ek vir U
is. Amen.
124

Weet jy dat Jesus ’n spesiale plek net vir jou in Hom het? Hoe laat dit jou voel?

125

31. Vyf brode en twee vissies

(Johannes 6)

Baie, baie mense het graag na Jesus kom luister. Op so ’n dag was die mense teen etenstyd baie honger. Hulle het skoon vergeet om vir hulle kos in te pak.

126

Jesus sê toe vir sy vriende hulle moet vir die mense kos gee. Andreas, een van Jesus se vriende, bring toe ’n seuntjie na Hom toe en sê: “Hierdie seuntjie het twee vissies en vyf broodjies by hom. Maar dit is te min om al hierdie mense kos te gee.”

127

Maar Jesus glimlag vir die seuntjie en neem sy kos by hom. Hy het vir God daarvoor dankie gesê. Jesus vat toe die vissies en die broodjies en gee al die mense daarmee kos. Dit was ’n wonderwerk! Almal het genoeg geëet.

Daarna het die dissipels twaalf mandjies volgemaak met die kos wat oorgebly het.

Kom ons bid saam:

Here Jesus, ek weet U kan enigiets doen. Amen.

128
’n Wonderwerk is iets onmoontlik wat net God kan doen.

Kan jy aan ’n wonderwerk dink wat met jou of iemand anders gebeur het?

129

32. Jaïrus se dogtertjie

(Lukas 8)

Toe Jesus weer met ’n klomp mense praat, het Jaïrus tussen hulle deurgestap en voor Jesus op sy knieë neergeval. Hy sê toe vir Jesus: “My dogtertjie is baie siek. Ek weet U kan haar gesond maak.” Jesus het saam met hom gegaan.

Mense het na hulle toe aangehardloop gekom en vertel dat Jaïrus se dogtertjie alreeds dood is.

130

Jesus het vir Jaïrus getroos: “Moenie bekommerd wees nie. Hou net aan glo.”

Toe hulle by Jaïrus se huis kom, het Jesus al die huilende mense stilgemaak.

Hy het hulle vertel dat die dogtertjie net slaap. Die mense het vir Jesus uitgelag.

Jesus het in die huis gegaan, die dogtertjie se hand gevat en vir haar gesê: “Staan op!”

131

Sy het dadelik gesond geword.

Jesus het gesê dat hulle vir haar kos moet gee. Almal het toe geweet daar is niemand soos Jesus nie.

Kom ons bid saam:
Here Jesus, U is regtig wonderlik. Ek is baie
lief vir U. Amen.
132

God het ons lief en help ons wanneer ons seer het en hartseer is.

Is daar dalk iets onmoontlik wat God jou mee kan help?

133

33. Die barmhartige Samaritaan

(Lukas 10:25-37)

Jesus was ’n wonderlike storieverteller en het die volgende storie vertel: “Eendag het daar ’n man alleen op ’n gevaarlike pad geloop.

Slegte mense het hom ingewag. Hulle het hom geslaan en al sy goed gesteel.

134

Daar het ’n priester verbygeloop, maar hy wou glad nie die man, wat baie seergekry het, help nie.

135

Toe loop iemand anders van die tempel ook daar verby sonder om hom te help.

Uiteindelik het ’n goeie man, ’n Samaritaan, gestop en hom gehelp. Samaritane en Jode was in daardie tyd nie vriende gewees nie. Hy het die man op sy donkie gelaai en hom na die naaste dorp toe geneem, waar hy versorg kon word.”

Hoe kan jy ander mense help?

136

Kom ons bid saam:

Jesus, help my om ander mense altyd te help. Amen.

Jesus wil hê ons moet ander mense help.

137

34. Jesus is die goeie skaapwagter (Lukas 15:3-7 en Johannes 10:1-15)

Jesus het eenkeer gesê: “Ek is die goeie skaapwagter. ’n Goeie skaapwagter ken elkeen van sy skape se name. Die skape ken sy stem. As hy roep, kom die skape na hom toe.”

Op ’n ander keer het Jesus hierdie mooi storie vertel: “Daar was ’n skaapwagter wat honderde skape gehad het.

138

Toe raak een van hulle weg. Hy het die ander skape net daar gelos en na die skaap wat weg was, gaan soek. Toe hy die skaap kry, was hy so bly!”

139
Kom ons bid saam: Jesus, dankie dat U altyd goed na my kyk. Amen. 140

Jesus ken jou op jou naam.

Het jy ooit iets spesiaal verloor en dit toe weer gevind? Hoe het jy gevoel toe jy dit gevind het?

141

35. Lasarus

(Johannes 11:1-44)

Naby Jerusalem, in ’n baie klein dorpie, Betanië, het vriende van Jesus gebly – Marta, Maria en hulle broer, Lasarus.

142

Lasarus het baie siek geword.

Hulle het vir Jesus daarvan laat weet. Maar Hy het te laat daar aangekom, want Lasarus was toe al vier dae dood.

Jesus het gehuil toe Hy sien hoe hartseer

Maria-hulle was, omdat hy ook vir Lasarus liefgehad het.

Jesus het saam met hulle na sy graf toe gegaan, weer gehuil en toe gesê: “Lasarus kom uit!”

143

Lasarus het sowaar uit die graf gestap. Almal was baie bly om hom weer te sien.

Kom ons bid saam: Jesus, dankie dat U ook my vriend is en my troos wanneer ek hartseer is.

Amen.

144

Wat beteken dit om iemand se vriend te wees?

Jesus gee om vir sy vriende.
145

36.

Bartimeus

(Markus 10:46-52)

As jy blind is, kan jy niks sien nie. Bartimeus was blind. Al wat hy kon doen, vandat hy kon onthou, was om langs die straat te sit en bedel.

Eendag het hy gehoor hoe Jesus aangestap kom en hy het hard geroep: “Jesus, help my, asseblief!” Die mense het hom probeer stilmaak, maar hy het net harder geskreeu.

Jesus het na hom toe gestap en hom gehelp.

146
147

Blinde Bartimeus kon dadelik weer sien. Hy was so bly dat hy sommer verder saam met Jesus gegaan het.

Maak jou oë toe en loop na die anderkant van die kamer.

Hoe dink jy voel dit om blind te wees?

148

Kom ons bid saam:

Jesus, help my asseblief onthou dat U my ook sal help. Amen.

Jesus help almal wat in Hom glo.

149

37. Jesus loop op die water (Markus 6:45-51)

Ná ’n lang dag van preek vir ’n groot skare mense, wou Jesus alleen gaan bid. Hy het sy dissipels gevra om in ’n boot weg te vaar en hy het agtergebly.

Jesus het toe ’n stil plek gaan soek om te bid. Die wind het baie sterk begin waai en die dissipels het swaar geroei.

Skielik het Jesus op die rowwe see na hulle aangeloop gekom!

Hy wou sy dissipels help.

150
151

Hulle het groot geskrik, want hulle het gedink dit is ’n spook!

Jesus het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Dit is net Ek!”

Toe Hy in die boot klim, het die wind ophou waai.

Weet jy dit is reg om somtyds bang te wees? In sulke tye, vra vir hulp.

152

Kom

ons bid saam:

Jesus, U is altyd by my. Help my om nie bang te wees nie. Amen.

Jesus kan jou altyd help omdat Hy so groot en sterk is en ook vir jou lief is.

153

38. Die verlore seun

(Lukas 15)

Jesus was lief om stories te vertel. Hierdie is een van sy mooiste stories ...

Eendag was daar ’n goeie pappa wat baie lief vir sy twee seuns was.

Die jongste seun besluit op ’n dag dat hy al sy geld wil hê en het toe van die huis af weggegaan.

154

Hy het na ’n baie ver land gereis en al sy geld uitgemors. Toe al sy geld op was, moes hy varke oppas. Hy het selfs die varke se kos geëet om aan die lewe te bly.

155

Uiteindelik het hy besluit om terug te gaan na sy pa toe, om jammer te sê, en om te vra of hy vir sy pa kan werk.

Die pa het gehoop sy verlore seun sou huis toe kom. Toe sy pa sien dit is hy wat aangestap kom, het hy na hom gehardloop en hom vasgehou. Sy pa was so bly om hom terug te hê dat hy vir sy jongste seun nuwe klere gegee en ’n groot partytjie gehou het.

Kom ons bid saam:

Jesus, dankie dat U my sondes vergewe. Amen.

156

God sal ons vergewe, maak nie saak wat ons doen nie.

Is daar enige iets waarvoor jy vir God wil jammer sê?

157

39. Jesus was sy dissipels se voete (Johannes 13)

Jesus en sy dissipels het aan tafel gesit. Jesus het gesien dat sy vriende se voete vol stof was omdat hulle heeldag deur die strate geloop het. Hy het sy hemp uitgetrek en ’n handdoek om sy lyf gebind. Toe het Hy water in ’n skottel gegooi. Hy het begin om sy vriende se voete te was en toe af te droog.

Petrus was een van Jesus se beste vriende. Natuurlik wou hy nie toelaat dat Jesus, hulle leier, sy voete was nie: “U sal nooit my voete was nie.”

158
159

Maar Jesus het gesê: “As Ek nie jou voete was nie, is jy nie deel van My nie.” En toe laat Petrus toe dat sy voete gewas word. Hierdeur het Jesus gewys dat Hy al sy vriende liefhet en vir hulle omgee.

Kom ons bid saam:

Jesus, help my om vir al my maats lief te wees. Amen.

Onthou om spesiale dinge vir jou maats te doen.

160

Hoe kan jy vir jou vriende wys dat jy vir hulle lief is?

161

40. Saggeus klim in ’n boom

(Lukas 19)

Saggeus was ’n baie kort man. Hy was baie ryk en het in Jerigo gebly. Niemand het van hom gehou nie, omdat hy so lelik met almal was. Hy wou baie graag vir Jesus sien, maar hy was te kort om oor al die mense se koppe te sien.

162

Die mense het hom in elk geval uit die pad gestoot, want hulle wou nie die slegte Saggeus naby hulle toelaat nie.

Hy het toe in ’n boom wat daar naby was, geklim. Toe kon hy goed sien.

163

Jesus het hom dadelik raakgesien.

Tot almal (en Saggeus) se verbasing het Jesus met hom begin praat. Hy het saam met Saggeus in sy huis geëet.

Van toe af het “Slegte Saggeus”, “Goeie Saggeus” geword wat almal gehelp het.

Kom ons

bid saam: Here Jesus, ek wil graag ander mense help en goed vir hulle wees. Amen.

164

Mense wat Jesus liefhet, help graag ander mense.

Hoe voel jy as iets onregverdig gebeur?

165

41. Hier kom Koning Jesus

(Matteus 21)

Toe hulle naby Jerusalem kom, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Bring vir My ’n jong donkie.” Hy sê toe vir hulle waar om so ’n donkie te kry en wat hulle vir sy eienaar moet sê.

Toe hulle by die plek aankom waarheen Jesus hulle gestuur het, vat hulle die jong donkie. Dadelik vra die eienaar: “Waarom vat julle my donkie?”

Hulle antwoord: “Jesus het hom nodig.”

Toe die man dit hoor, was hy tevrede en het hy sy donkie dadelik vir hulle gegee.

166
167

Jesus het op dié donkie Jerusalem ingery.

Baie mense het langs die pad gestaan, met palmtakke gewaai en uitgeroep: “Loof die Here. Hier kom die Koning!”

Kom ons bid saam: Here Jesus, ek wil ook elke dag van u liefde sing. Amen.

168

Jesus is die enigste ware Koning.

Oor watter dinge wil jy vir Jesus, ons Koning, loof en prys?

169

42. Die tien meisies

(Matteus 25)

Jesus het hierdie storie vertel oor gereed wees vir hom:

Tien meisies het met hulle olielampe vir iemand spesiaals gewag. Maar hulle het nie geweet wanneer hy gaan kom nie.

Hulle lampies het die hele tyd gebrand, want dit was donker. Maar net vyf van die meisies was slim genoeg om ekstra olie saam te bring. Al tien jong meisies het later lang gape gegee en aan die slaap geraak. Hulle skrik wakker toe iemand hard skreeu: “Hier kom hy – die spesiale een!”

170
171

Die vyf slim meisies het hulle lampe vol olie gemaak. Die ander vyf moes na die naaste winkel hardloop om te gaan olie koop. Die spesiale man was baie bly om die vyf slim meisies te sien.

Hulle het lekker partytjie gehou.

Daar was heerlike goed om te eet en te drink. Toe die ander vyf daar aankom, was dit te laat. Hulle het al die pret gemis.

Kom ons bid saam: Jesus, ek wil ook vir U bly maak in alles wat ek doen. Amen.

172

Doen altyd jou beste vir Jesus, want Hy doen sy beste vir jou.

As Jesus vandag vir jou kom kuier, wat sal jy vir Hom doen?

173

43. Die Kruis

(Matteus 27)

Jesus het vyande gehad wat Hom wou doodmaak. Hulle het Jesus gevang en hom na Pontius Pilatus gebring. Pilatus was die belangrikste man in die land.

Die vyande het Pilatus gesê om Jesus skuldig te bevind aan ’n misdaad. Maar hy kon niks teen Jesus kry nie.

Pilatus besluit toe om die mense te vra.

Toe hulle vir Jesus sien, het hulle kliphard geskree: “Kruisig Hom!”

Jesus se vyande het vir hulle gesê om dit te doen. Pilatus laat toe vir Jesus kruisig op ’n plek met die naam Golgota. Daar het Jesus tussen twee ander mense aan ’n kruis gehang.

174
175

Jesus het aan die kruis gevra dat God, sy Vader, tog die mense wat so lelik met Hom was, moet vergewe.

Die Vrydagmiddag is Jesus dood. Maar dié Vrydag staan nou bekend as Goeie Vrydag, omdat Jesus hierdeur gesorg het dat mense weer vriende met God kan wees.

Kom ons bid saam:

Here Jesus, dankie dat U aan die kruis vir my sondes gesterf het. Amen.

176

Jesus het aan die kruis gesterf sodat ons verkeerde dinge – ons sondes – vergewe kan word.

Hoe laat hierdie storie van Jesus jou voel?

177

44. Jesus staan uit die dood op

(Matteus 28)

Jesus is die Vrydag begrawe in ’n graf wat ’n vriend van Hom, Josef, gegee het. Almal was baie hartseer.

Sondagoggend vroeg het ’n klomp vroue na die graf gegaan. Hulle het gewonder hoe hulle by die graf gaan inkom, want daar was ’n groot klip voor die ingang van die graf gerol.

Toe hulle daar aankom, was die klip klaar weggerol en die graf was leeg. ’n Engel het vir hulle vertel dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat Hy lewe!

178
179

Baie bly hardloop hulle toe om vir die res van Jesus se vriende die goeie nuus te vertel. Een van die vroue, Maria Magdalena, het teruggegaan na die leë graf toe. Sy het begin huil omdat sy nie geweet het waar Jesus was nie.

Daar het iemand vir haar geroep: “Maria!” Sy het geweet dit is Jesus self. Sy het toe vir almal gaan vertel dat sy Jesus met haar eie oë gesien het.

Kom ons bid saam: Here Jesus, dankie dat U lewe. Dit maak my so gelukkig. Amen.

180

Hoe sal jy dit graag wil vier dat Jesus lewe?

Jesus leef!

181

47. Jesus stap saam met twee vriende (Lukas 24:13-35)

Twee vriende van Jesus het na hulle dorpie, Emmaus, gestap. Terwyl hulle so gesels het oor Jesus se dood, het Jesus skielik langs hulle gestap.

182

Hulle het Hom glad nie herken nie, seker omdat hulle so hartseer was oor wat die mense aan Jesus gedoen het. Jesus het met hulle oor die Bybel begin praat.

183

Hulle was amper by die huis en het besluit om Jesus vir ete te nooi.

Toe Hy die brood breek, sien hulle dit is Jesus! Toe is Jesus weer weg.

Hulle het dadelik teruggeloop na die dissipels en vir hulle vertel: “Jesus leef! Ons het Hom self gesien!”

Ons moet hierdie goeie nuus met almal deel: Jesus lewe!

Kom ons bid saam:

Jesus, dankie dat ek weet U leef, want die Bybel leer dit vir my. Amen.

184

As jy enigiets vir Jesus kon vra, wat sou jy vra?

185

46. Jesus verskyn aan sy dissipels

(Johannes 21:1-13)

Petrus en die ander dissipels het die hele nag in ’n boot probeer visvang en niks gekry nie.

Toe hulle met ’n leë boot terugkom, het Jesus vir hulle op die strand gewag. Hulle het Hom nie herken nie.

186

Hy het vir hulle gesê: “Gooi julle nette weer uit!” Hulle het toe baie vis gevang. Johannes het geskreeu: “Dit is Jesus!” Petrus het dadelik in die see gespring om vinniger by die strand uit te kom.

187

Toe hulle op die strand kom, het Jesus klaar vir hulle ontbyt gemaak. Hy het vir hulle vis en brood gegee om te eet.

Besef jy dat God se hulp vir ons altyd ’n wonder is?

188

Kom ons bid saam: Jesus, dit is wonderlik dat ek U kan vertrou. Amen.

Hy weet wat ons nodig het.

189

47.

Jesus gaan terug hemel (sy huis) toe

(Handelinge 1)

Eendag het Jesus vir hulle gesê dat Hy moet teruggaan na sy Vader in die hemel toe. Dit is waar sy regte huis is. Maar hulle moenie hartseer wees nie, want Hy gaan vir al sy vriende daar plek regkry.

Jesus en sy vriende het toe teen ’n berg opgeklim.

190
191

Daar het ’n wolk gekom. Die wolk het toe vir Jesus weggeneem. Jesus se vriende het baie hartseer na bo gekyk.

Skielik staan daar twee engele.

Hulle sê toe vir die dissipels dat Jesus weer eendag sal terugkom. Hulle moet nou vir die res van die wêreld gaan vertel dat Jesus vir almal lief is.

Kom ons

bid saam: Here Jesus, ek weet U is in die hemel en kom eendag weer terug, want die Bybel leer my dit. Amen.

192

Al is Jesus in die hemel, weet ons Hy is by ons en sorg vir ons.

Verstaan jy dat alhoewel

Jesus in die hemel is, Hy altyd by jou is? Hoe laat dit jou voel?

193

48. Petrus, Johannes en die verlamde man

(Handelinge 3:1-26)

Eendag het Petrus en Johannes ’n verlamde man gesien wat by die tempel gesit en bedel het. Hy het dadelik gevra of hulle nie iets vir hom wou gee nie.

Petrus het vir hom gesê: “Kyk na ons.” Die man het na hulle gekyk, want hy het gehoop hulle gaan vir hom iets gee.

“Geld het ek nie. Maar ek gee vir jou wat ek het. In die naam van Jesus, staan op en loop!” het Petrus gesê.

194
195

Die man het opgestaan, geloop en gespring! Ja, hy was so bly dat hy nie kon ophou om vir God dankie te sê nie.

Kom ons bid saam:

Jesus, dankie dat

U vandag nog mense gebruik om ander mense te help. Amen.

196

Weet jy dat God steeds ander mense kan gebruik om ons te help?

Kinders van God help altyd mense wat swaarkry. So gebeur wonders vandag nog.

197

49. Paulus

(Handelinge 9:1-19)

Daar was ’n man met die naam Paulus.

Hy was baie lelik met die mense wat vir Jesus liefgehad het. Hulle was bang vir Paulus.

Oppad na ’n groot stad, Damaskus, het daar

skielik ’n helder lig op Paulus geskyn. Dit het hom so bang gemaak dat hy op die grond neergeval het.

Jesus het met Paulus begin praat en vir hom vertel dat hy nie meer so lelik met God se kinders moes wees nie.

Van toe af het Paulus vir Jesus liefgehad en almal van Jesus vertel.

198
199

Kom ons bid saam:

Jesus, help my om nie lelike dinge aan ander te doen nie. Amen.

Ons moet na Jesus luister as Hy sê ons is verkeerd.

200

Wat dink jy beteken dit om nie lelik met ander te wees nie?

201

50. Jesus kom weer

(Openbaring 21)

Jesus woon nou ook in ’n wonderlike plek wat ons die hemel noem, maar eendag gaan Hy terugkom. Hy self het dit belowe. Jesus hou altyd sy beloftes.

Wanneer Hy terugkom, sal Hy alles op die aarde splinternuut maak.

Dit gaan die mooiste plek ooit wees. Die vrugtebome gaan heeljaar vrugte dra en riviere gaan vloei met soet water. Ons sal almal baie gelukkig wees, want niemand gaan ooit weer hartseer wees nie. Daar sal net vreugde, geluk, liefde en veiligheid wees.

Dit is iets om na uit te sien.

202
203
Jesus belowe dat ons saam met Hom in die hemel sal wees.
204

Kom ons

bid saam: Jesus, dankie vir die wonderlike plek wat ons die hemel noem. Amen.

Hoe sal jy die hemel beskryf?

205

© Alle regte voorbehou

Christian Media Publishing

Posbus 3228, Matieland Poskantoor, Stellenbosch, 7602, Suid-Afrika www.christianmediapublishing.com

Outeur: Ewald van Rensburg

Illustrasies, ontwerp en uitleg: Lilani Brits

Besturende redakteur: Noeline N Neumann

Reg No 2010/008573/07

Geen gedeelte van hierdie publikasie mag op enige manier gereproduseer word nie –elektronies of andersins – sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer nie.

Eerste uitgawe 2018

Hersiene herdruk 2024 10 9 8 7 6 5 4 3 2 1

ISBN: 978-1-92843-626-3

Hierdie boek is vol lewendige en prettige illustrasies wat kinders aan God se Woord en sy liefde vir hulle bekendstel.

Elke Bybelverhaal het

• ’n gebed om kinders te help om met God ’n band te vorm

• ’n Christelike waarde wat die verhaal versterk

• en ’n vraag om kinders te help om te verbaliseer wat hulle gelees, gehoor en verstaan het.

Kinders sal baie ure se genot uit hierdie kleurvolle Bybelverhale kry.

ISBN: 978-1-92843-626-3

www.christianmediapublishing.com

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.