Skoolseun in hospitaal ná rugby
2
Plaasaanval: Boef skiet bejaarde in bors
3
Die Pos is die beste in die land ®
R6.00
19 Mei 2017
4
Inwoner sterf ná trekker omslaan Pieter Engelbrecht is vandeesweek oorlede nadat die trekker waarop hy gery het, omgeslaan het.
Ronél van Jaarsveld ’n Bekende inwoner van Bela-Bela is vandeesweek op slag dood nadat ’n trekker agteroorgeslaan en hy daaronder beland het. Die 79-jarige Pieter Engelbrecht was op Maandagoggend, 15 Mei, op die plaas Zimbi Lodge in die Nooitgedacht-omgewing saam met ’n werker op die trekker toe dit vermoedelik om ’n draai omgeslaan het. Die reën wat die naweek geval het, het die paaie moeilik begaanbaar gemaak en sy familie vermoed dat dit die rede is waarom die trekker omgeslaan het. Die werker, Oscar Malavuzha, kon afspring en het volgens ao. James Findlay van die Modimolle-polisie slegs ligte gesigbeserings opgedoen, maar Engelbrecht was onder die trekker vasgepen. Malavuzha het gehardloop en hulp by die ander plaaswerkers gaan soek, wat die bure gekontak het. Die bure het op hul beurt mediese hulp ontbied, maar dit blyk dat Engelbrecht op slag dood is. Engelbrecht, wat op Bela-Bela gewoon
het, het sy stiefseun, Braam Beukes, in die week op die plaas gehelp. “Dit was my liewe man se lewe om so op die plaas te kan help,” het Ria Venter, Engelbrecht se vrou hartseer gesê. Ek het elke dag vir hom ’n mandjie kos ingepak. Hy het my elke oggend 09:30 gebel om te sê dat hy nou gaan sit en eet en gevra hoe dit gaan. Ek het gewag vir sy oproep toe Braam-hulle opdaag met die slegte nuus,” het sy aan Die Pos gesê. Sy het gesê hulle het pas ’n nuwe pad na ’n plato op die plaas voltooi. Haar man het altyd gestap, maar omdat sy rug seer was, het hy en Malavuzha met die trekker gery. Engelbrecht, wat steeds baie aktief was, se groot passie in die lewe was hardloop. Hy het tot tien jaar gelede nog gedraf, maar moes dit ná ’n knievervanging prys gee. Venter het gesê dat hul huis vol van sy medaljes en trofeë is. Hy was jare lank ’n bekende drawwer op die dorp. Engelbrecht laat sy twee seuns Neels en Willem Engelbrecht agter, sowel as sy dogter Sandra van Wyk. Sy roudiens vind op Saterdag, 20 Mei, om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente in Mentzlaan plaas.
12