Sendeling in sel oor flits in bagasie
2
’n ‘Katterige’ storie by polisiestasie
3
Bekende pastoor sterf onder narkose ®
2 Junie 2017
R6.00
4
Boer soek ’n man Andries van der Heyde
Heleen Lello (regs), ’n beesboer van Pienaarsrivier, het ingeskryf vir die kykNET-program, Boer soek ’n Vrou, en is gekies om deel te wees van die top 10 boere. Minki van der Westhuizen, programaanbieder, het Lello reeds op die plaas besoek.
Die Waterberge spog weer vanjaar met ’n deelnemer op die gewilde kykNET-program Boer soek ’n Vrou. Heleen Lello, ’n beesboer van die Pienaarsrivier-omgewing, het aan Die Pos gesê sy het een oggend ’n preek op televisie gekyk waar kykers aangemoedig is om voluit te leef. ’n Advertensie van die Boer soek ’n Vrou-program het ná die program gewys en sy het daar en dan besluit om “voluit” te leef en in te skryf vir die kompetisie. “Ek het dit regtig nie beplan nie. Ek het altyd geglo dat mense wat aan dié program deelneem, geen selfrespek het nie. Ek glo egter die Heilige Gees het my op daardie oomblik aangeraak en aangespoor om in te skryf. Toe het ek.” Lello, wat vrou-alleen op haar plaas, Drie-eenheid-boerdery boer, kom oorspronklik van Bela-Bela. Haar twee kinders, Lené en Collin, het ook in die omgewing grootgeword en skoolgegaan. Sy is in 2003 van haar man geskei. “Ek was altyd daar vir my kinders, maar om vrou-alleen dinge aan die gang te hou het sy op- en afdraandes. Ek glo in die Woord en dat ’n man ’n vrou moet respekteer soos wat die Woord voorskryf. Ons almal het ’n verlede en ’n mens kan vry kom van baie dinge,” het Lello gesê. Sy is uit 70 ander inskrywings gekies as deel van die program se top 10. Volgens haar is sy baie beïndruk met die aanbieder, Minki
van der Westhuizen, wat reeds by haar besoek afgelê het. Sy het gesê Van der Westhuizen het haar op haar gemak laat voel en ongelooflike empatie teenoor haar getoon. “Ek beskou die program as ’n nuwe uitdaging en glo dat dit vir my ’n platform sal skep vir nuwe vriendskappe en geluk. As die regte man vir my daar buite is, moet my kinders hom eers goedkeur. Hulle was baie opgewonde toe hulle hoor dat ek op televisie gaan wees,” het Lello gesê. Volgens Lello moet haar ideale man ’n ware heer wees, asook nederig, en korrek teenoor haar optree. Dit moet iemand wees wat haar kinders sal respekteer en wat die plaaslewe ken en weet hoe om te alle tye ’n plan te maak. “’n Lewe met geld bring min geluk en daarom het ek Christelike waardes om tot die Here se diens te wees en om naby my hartsmense te wees,” het sy gesê. “Soms voel ek dat ek sommer die program moet verlaat, maar what will be, will be. Ek hou van nuwe uitdagings en maak maklik vriende. Dit is deesdae moeilik om ’n boer te wees — veral ’n vroueboer.” ’n Klomp belangstellendes wat die top tien boere wil ontmoet, het reeds aan hulle geskryf. Lello het gesê Van der Westhuizen sou op Maandag, 29 Mei, haar briewe bring, waarna die mense wie se briewe Lello gekies het, later op die plaas verwelkom sal word. “Ek gaan eers die kat uit boom kyk, want ek wil nie ou foute herhaal nie: die regte man moet dit wat die Here as grondslag gelê het vir sy vrou wees.”
12