Generaalsklub' Nuus

Page 1

Mei 2020 Nr. 10

Trotse studentkonstabels in die 1960s – ‘n “Magal” en ‘n “Bosluis” oftewel ‘n voet- en ‘n berede lid

Foto: Heymans Argief

Tel. 083 625 2380 012 803 0990 epos: jhferreira0@gmail.com

GENERAALSKLUB NUUS
Nuusbrief van die Generaalsklub van die S.A. Polisie

ONS LEUSE

Ons deel graag in mekaar se lief en leed, wissel gedagtes oor aktuele sake, beur mekaar op met boodskappe van geloof en hoop, lag saam oor humor en alles wat in ligte luim is maar doen niks wat nie met ons Christelike beginsels versoenbaar is nie.

Ons is lede van die Generaalsklub in woord en daad

In hierdie spesiale digitale uitgawe

Onderwerp

Boodskap van die Voorsitter

Redakteursbrief

Kapelaansbrief

Polisievrou se afdanking was onregmatig

Twintig jaar later

Die stokkie

Weeklag van ‘n wielstapper

Cheese!

Die Suid-Afrikaanse Polisie Bejaardesorgfonds verjaar

Die Foxstraat beleg

Die Vinger van God

Derde Wêreld

Ter nagedagtenis aan die kameel

Drome en nagmerries

The Head of the Household

Generaal

Viljoen: Soldaat en politikus

Tel. 083 625 2380

012 803 0990 epos:

Bladsy

jhferreira0@gmail.com
In Memoriam Uit Sharon se foto Album 1 4 4 6 8 13 17 21 22 25 29 32 33 36 40 40 46 47
Constand

Boodskap deur die Voorsitter

Die jaar 2020 sal waarskynlik in die wêreldgeskiedenis onthou word as die jaar van die Covid19 Corona virus. Rondom hierdie sentrale tema sal daar les bes ook “drop-down” boksies wees vir goed soos dom en irrasionele besluite, swak implementering van selfs goeie besluite, die geskarrel om 'n geskikte teenmiddel te vind, die statistiek en dan natuurlik die vertoning van ons politieke en ander leiers. Ek vermoed ook 'n stewige “drop-down” boksie oor fopnuus en die verwarring wat dit veroorsaak het.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ek graag die volgende standpunt wil inneem. Ons het uiteraard in ons land al 'n stewige kwota van al die bogenoemde faktore in wisselende vorme ervaar, maar waar laat dit ons? Meer belangrik, waar laat dit ons as verantwoordelike nugterdenkende individue en as lede van 'n sosiale klub geskoei op “Christelike beginsels en waardes soos vervat in die Bybel as die onverganklike woord van God?”

Terwyl hierdie waardes en beginsels 'n stewige gesprek sou regverdig wil ek vir die doel van hierdie boodskap slegs fokus op basiese temas soos goeie orde en verantwoordelike optrede. As polisielede is ons almal deeglik geskoei in die kultuur van dissipline, ordelikheid en verantwoordelikheid. Die Suid-Afrikaanse skrywer en digter, Hennie Aucamp, het dit in een van sy verse uit 'Pluk die dag' in 1994 baie mooi saamgevat: In krisistye is kultuur geen luukse nie maar die hoogste vorm van selfbehoud. Want kultuur staan vir interne orde, en interne orde is die fondament van alle beskawing. Ons het natuurlik nie vreeslik baie inspraak in of beheer oor wat in die groter Suid-Afrikaanse politieke en maatskaplike omgewings gebeur nie maar ons kan vashou aan dit waaroor ons wel beheer het. En dit is binne ons eie kultuur-omgewing met sy sin vir ordelikheid en verantwoordelikheid. Hierin lê baie dinge opgesluit en ons mense sal lekker

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

1
Genl.maj. Johan Burger

lank hieroor kan debatteer, maar vir my beteken dit in kort die aanvaarding van die volgende werklikhede:

• Dat daar 'n hoogs aansteeklike en selfs dodelike virus iewers rondom ons teenwoordig is. Ek aanvaar ook dat daar nog nie 'n teenmiddel beskikbaar is nie en dat ek 'n persoonlike verantwoordelikheid het om alles moontlik te doen om infeksie te vermy en sou ek die infeksie opdoen, om alles moontlik te doen om verdere verspreiding daarvan te voorkom.

• My optrede is nie soseer gebaseer op die verklaarde ramptoestand met sy dikwels verwarrende en soms onsinnige regulasies nie, maar eerder op begrip vir pogings om (ten minste aanvanklik) die tempo van infeksie sodanig te vertraag dat dit tyd gekoop het vir die skep van bykomende mediese infrastruktuur soos hospitaal-beddens, respirators en ander hulpmiddele. Hierdie infrastruktuur is noodsaaklik vir die verwagte styging in infeksies en hospitalisasie soos die inperkingsmaatreëls geleidelik oor die volgende weke en maande verslap gaan word.

• Dat ek my op die mees redelike maniere moet hou by die voorgeskrewe regulasies al stem ek nie altyd met alles saam nie. Ek aanvaar ook dat ek my in hierdie opsig tot die howe kan wend sou dit nodig word maar ook dat daar organisasies soos AfriForum, Solidariteit en andere is waartoe ek my kan wend of wie se aksies ek kan ondersteun, sou ek my daarmee kan vereenselwig.

• As 'n voormalige senior polisie-offisier en lid van die generaalsklub aanvaar ek ook dat jonger lede en andere wat normaalweg waarde aan my standpunte sou heg, ook boodskappe wat ek kommunikeer ernstig sal opneem en dit in daardie gees verder sal versprei. Gevolglik het ek 'n verantwoordelikheid om my woorde versigtig te kies en om veral daarteen te waak om boodskappe te versprei in gevalle waar ek nie van die geloofwaardigheid van die inligting of die bron oortuig is nie.

• Laastens, ek koester graag my verbintenis met my eie 'subkultuurgroep', die Generaalsklub. Dis waar ek kontak het met mense, soos Steve Hofmeyr sou sê, van my asem. En al het ons nie tans die voorreg van sosiale byeenkomste nie het ons gereelde kontak deur

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

2

middel van ons WhatsApp groep, die Generaalsklub’nuus en ander kommunikasieplatforms.

Die Covid-19 pandemie het 'n ongekende krisis vir die wêreld en ook vir Suid-Afrika geskep. Dit het 'n ernstige ontwrigting van ons almal se lewens veroorsaak maar ook vir ons eiesoortige uitdagings en geleenthede geskep. Dit alleen skep 'n pragtige oorhoofse tema vir ons volgende Generaalsklub-Nuus!

Hou moed! Ons sal weer mettertyd ons sosiale lewens hervat en byeenkomste reël. Ek dink die weersiens sal heuglik wees en ons sal opnuut bewus word van die waarde van ons klub en van ons byeenkomste. Intussen wil ek graag vir Johan Ferreira bedank vir die onbaatsugtige anker-rol wat hy speel om ons lede deur middel van ons kommunikasie-platforms ingelig en met mekaar in voeling te hou. Ons waardeer ook veral sy toewyding ten opsigte van die samestelling en verspreiding van die Generaalsklub Nuus.

Baie dankie ook aan ons sekretaris, Vic Haynes, vir sy voortgesette werk agter die skerms. En dankie aan al ons komiteelede wat altyd regstaan om gesprekke oor noodsaaklike sake telefonies of andersins vinnig af te handel. Mag ek ook 'n besondere woord van dank en waardering rig aan ons twee dominees, doktore Jan du Preez en Casper Krüger. Jan en Casper se beurtelingse geestelike boodskappe op Maandae het baie gou 'n gewaardeerde begin tot die nuwe week geword. Daarbenewens is albei hierdie here stil-stil betrokke by verskeie persoonlike aksies van meelewing met ons lede. Ons dank julle daarvoor.

Tot volgende keer - groete en baie sterkte vir u almal.

Johan Burger Mei 2020 ooOOoo

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

3

Redakteursbrief

Ek skakel nou die dag vir genl. Vic Hayes. Sy eggenote, Adri antwoord, maar voordat sy hom nader roep, vra Adri vir my of ons darem nog nie teen die mure uitgeklim het om so lank tot die huis ingeperk te wees nie? Adri, ons sit reeds bo op die muur!

Ofskoon die hardekopieë van die April uitgawe weens die inperking nog nie aan al ons lede oorhandig kon word nie, het ons Voorsitter aan die hand gedoen dat ons maar weer ‘n nuwe uitgawe moet uitgee – maar hierdie een slegs in digitale formaat. Die rede daarvoor is dat ons almal grotendeels in ons woonplekke vasgekluister sit en daar weinig kontak tussen ons lede kan plaasvind. Hopelik sal hierdie digitale uitgawe effens help om darem op ‘n manier ‘n bietjie kontak met die Klub te hê en om die stille ure mee te verwyl.

Wanneer dinge hopelik eendag weer na normaal terugkeer, kan ons dan by u vasstel wie dit ook in ‘n gedrukte formaat verlang.

Intussen word u sterkte toegewens en ons kan maar net vertrou dat ons mekaar spoedig in lewende lywe mag sien.

Johan Ferreira: Redakteur

ooOOoo

Kapelaansbrief

Psalm 100 begin met die woorde: ”Juig tot eer van die Here, almal op aarde!

Dr. Casper Krüger

Dien die Here met blydskap!

Kom voor die Here met gejubel!”

Dit is half moeilik om die woorde jou eie te maak as jy ‘n “inperkings” vonnis uitdien. Elke dag toegegrendel en net binne die vier mure van jou huis. Die omstandighede en die woorde van die Psalmis dwing ‘n mens onwillekeurig tot introspeksie .

Hoe lyk my blydskap voor die Here?

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

4

Is ek altyd aan die mor en kla?

Het ek vrede gemaak met my lewensomstandighede en die plek waar ek my nou bevind op my lewenspad?

Eensaamheid is vir baie afgetredenes en bejaardes ‘n hartseer werklikheid. Vervreemding van die dinge waaraan ek gewoond was en verval van verhoudinge met my vriende en kinders word ‘n daaglikse ervaring. Dan is dit so maklik om die Here te verwyt en die skuld voor die deur van die kerk te lê. Navorsing deur die Gerontologiese Vereniging van SA het bevind dat dit dikwels die individuele bejaarde is wat, selfs in gewone tye, ten spyte van al die dinge wat rondom hulle aangebied word, nog steeds verwag dat ander mense na hulle moet uitreik en dan self niks doen om hulle probleme aan te spreek nie.

Elke dag wat ons gespaar word, elke asemteug is ‘n rede tot jubeling voor die Here. As ek dan by my “klein omstandigheid” verby kyk en na luid van Fil. 4 ‘n besluit neem om “altyd bly te wees voor die Here”, dan breek die lig weer helder deur.

As ouer mense moet ons daarteen waak om nie bekend te staan as die moeilike mense in die gemeenskap nie.

Laat ons lig dan helder skyn en die blydskap van die Here in ons oë en op ons gesigte weerspieël word.

Pottebakker

Groot Pottebakker van die klei

Vorm die pad

Wat

Na U toe lei

Groot Pottebakker van my klei

Vorm die pad

Wat my na U toe lei

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

Groot Pottebakker van alle klei

Vorm die mense

Om my

Na U te lei

Groot Pottebakker van my klei

Vorm my

Om mense

Na u te lei

Casper Krüger

epos: jhferreira0@gmail.com

5
ooOOoo

Polisievrou se afdanking was onregmatig.

Ná ‘n arbeidsgeding van byna ‘n jaar lank is daar in Maart verlede jaar bevind dat lt.genl. Khombinkosi

Jula, Wes-Kaapse polisiehoof, een van sy senior polisieoffisiere onregmatig afgedank het.

Genl.maj. Reneé Fick1 is op 11 Mei 2018 as adjunkprovinsiale kommissaris vir batebestuur afgedank. Die klagtes teen haar was dat sy geweier het om ‘n wettige opdrag uit te voer en weens pligsversuim.

Haar saak is deur die vakbond Solidariteit op hersiening geneem en haar afdanking is na ‘n arbitrasieverhoor deur die Bedingingsraad tersyde gestel. Fick kan nou na haar werk terugkeer.

Solidariteit het in sy stukke aangevoer dat Fick se afdanking onregverdig en onregmatig was.

Die polisie moes toe nagenoeg R950 000 aan Fick terugbetaal vir die inkomste wat sy verloor het ná haar afdanking.

Jula het Fick destyds van pligsversuim aangekla nadat sy verskuiwings wat hy in haar afdeling sonder haar medewete gemagtig het, glo nie uitgevoer het nie. Hy het haar ook nie ingelig of hy ander polisiebeamptes het wat die poste kan vul na die verskuiwings nie. Sy het slegs die kennisgewings van sy kantoor ontvang, waarna sy die kennisgewings weer na sy kantoor teruggestuur het sonder om dit aan die twee polisiebeamptes wat verskuif moes word, te bedien. Fick is toe aangekla van pligsversuim omdat sy nie die kennisgewings oorhandig het nie. ‘n

Skriftelike waarskuwing is aan haar uitgereik, maar sy het dit nie onderteken nie. Jula het tugstappe teen haar ingestel waarna sy summier afgedank is. Fick het toe hulp ingeroep omdat sy haar werk wou terughê.

1 Genl.maj. Reneé Fick is die dogter van wyle genl.maj. AJ (Apie) van Dyk.. Is dit die eerste pa en dogter-generaals wat die polisie opgelewer het? Sy is steeds dienend en (nog) nie ‘n lid van die Generaalsklub nie.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

6
Genl.maj. Reneé Fick

“In die 39 jaar wat sy vir die polisie gewerk het, het sy ‘n skoon rekord gehad. Daar was nooit enige klagtes of tugstappe teen haar nie,” het Anton van der Bijl, hoof van Arbeidsreg by Solidariteit, daarna op ‘n mediakonferensie in Bellville gesê.

Talle polisiebeamptes en oudpolisielede was teenwoordig by die mediakonferensie om hul steun aan Fick te toon.

“Hierdie oorwinning stuur ‘n boodskap van waagmoed uit,” sê Francois Redelinghuys, woordvoerder van Solidariteit. “Dit laat geregtigheid geskied vir ‘n getroue en lojale polisielid.”

Ettienne Pio, prokureur van Solidariteit, sê niemand van die polisie het tot dusver erken hulle het ‘n fout begaan nie. Van der Bijl sê hulle oorweeg regsgtappe teen diegene wat Fick onregmatig afgedank het, maar hy kan nog nie sê teen wie dit sal wees nie.

Die polisie moet die geld voor 10 April 2019 aan Fick betaal. Sy sal dan ook weer begin werk.

Ané van Zyl, verslaggewer van Die Burger: 29 Maart 2019

Reneé word geesdriftig deur haar kollegas en personeel terug verwelkom

Foto: Brig Zirk Gouws ooOOoo

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

7

Twintig jaar later

Die konstabel stap flink en doelgerig, soos almal hom ken, sy rondte. Dit is nog vroeg in sy skof, ‘n paar minute voor tienuur die aand – en dit is koud. Die snerpende windjie sny dwarsdeur sy dik winterjas.

Terwyl hy sy voetpatrollie in Adderleystraat doen, voel hy aan die winkels se deure en slotte om seker te maak dat hulle behoorlik gesluit is.

Terselfdertyd hou hy die bedrywighede oral in die straat dop.

Hy is ‘n netjiese polisieman, waaksaam en die toonbeeld van ’n trotse handhawer van die reg en orde.

Die meeste mense in daardie deel van die stad het al vroeg huiswaarts gekeer. So hier en daar brand daar nog ‘n lig in ‘n winkel of kafee. Maar feitlik al die winkels het al weens die gure weer hul deure vir die aand toegemaak.

Die konstabel stap meteens stadiger. By die donker ingang van ‘n perseel sien hy ‘n man wat doelloos daar staan.

Hy stap dadelik soontoe, maar wanneer hy die man wil vra wat hy daar in die donkerte doen, praat die man voordat die konstabel ‘n woord kan uitkry:

“Dis alles reg, konstabel. Ek wag vir ‘n vriend. Ons het twintig jaar gelede afgespreek om mekaar hier te ontmoet. Laat my toe om te verduidelik ... twintig jaar gelede, agter hierdie deure, was daar ‘n kafee - die ou Voortrekker Kafee”.

“Ja,” beaam die konstabel, “Ek het self dikwels hier koffie gedrink. Die plek was ongeveer vyf jaar terug nog hier, maar soos jy kan sien, bestaan dit nie meer nie.”

Die man by die deur se gesig is in die donkerte gehul, maar daar is ‘n duidelike litteken langs sy regteroog waarneembaar. Die konstabel sien dat hy ‘n duur horlosie dra, ‘n dik sigaar rook en deftig aangetrek is. Daar pryk ‘n goue dasspeld met ‘n blink diamant aan sy hemp.

“Vanaand, presies twintig jaar gelede,” sê die man, “het ek en my vriend Jan Smit hier geëet. Ons was boesemvriende. Hy is een van die beste mense wat ek ooit geken het. Ons het saam hier in die Kaap grootgeword en mens kan maar sê

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

8

ons was soos Dawid en Jonathan. Ek was agtien en Jan was twintig jaar oud. Ons het hier afskeid van mekaar geneem want ek het die volgende dag my heil in Johannesburg gaan soek. Ek was vasbeslote om ‘n sukses van my lewe te maak. Maar ek kon Jan nie oorreed uit die Kaap pad te gee nie. Daar was net een plek in die wêreld vir hom - en dit is die Kaap. Toe ons gegroet het, het ons mekaar belowe om op die kop na twintig jaar, weer hier op hierdie einste plek te ontmoet. Ons het vir mekaar gesê dat ons dan sou weet of ons voorspoedig en suksesvol was.”

“Dis ‘n interessante storie,” sê die konstabel. “Dis nogal ‘n baie lang tyd om so lank te wag. Het jy ooit weer van hom gehoor nadat jy Johannesburg toe is?”

“Wel, ons het vir ‘n ruk kontak behou”, sê die man. “Maar na ‘n jaar of twee het ons paaie uitmekaar gedryf. Johannesburg is ‘n groot stad. Ek het ook maar rondgetrek en kort-kort van adres verander. Maar ek ken vir Jan Smit. Ek weet hy sal vanaand kom as dit enigsins vir hom moontlik is. Hy sal nie vergeet nie. Ek het meer as ‘n duisend myl hierheen gereis om hom vanaand weer te ontmoet. En die groot afstand wat ek moes reis om hierheen te kom, pla my nie - as ek vanaand net weer my vriend kan sien.”

Die man het op sy duur horlosie gekyk. “Drie minute voor tien”, sê hy. “Toe ons destyds afskeid geneem het, het ons afgespreek om mekaar om tienuur vanaand hier te ontmoet.”

“Het jy toe gevind wat jy in Johannesburg gaan soek het?” vra die konstabel.

“Ja, beslis! Ek het baie goed vir myself gedoen, baie dankie. Johannesburg is ‘n harde plek. Maar ek het naderhand die kortpaaie leer ken om bo uit te kom. As Jan maar die helfte van die sukses as ek behaal het, sou hy ook baie goed gevaar het.

Maar hy was nie eintlik so ‘n ambisieuse kêrel nie en het die lewe maar taamlik versigtig benader. Daarom is ek vanaand gretig om te sien hoe die lewe hom behandel het. In die Kaap is die lewe rustiger en die mededinging nie so fel soos in Johannesburg nie. Daar moet ‘n mens maar hard spook en veg om sukses te behaal.”

Die konstabel draai toe om. “Mag jou vriend wel opdaag. As hy teen tienuur nie opdaag nie, sal jy dan maar loop?”

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

9

“Nee wat, nie dadelik nie – ek sal vir ten minste nog ‘n halfuur wag. As ou Jan nog lewe glo ek hy sal hier opdaag. Totsiens konstabel, en ‘n mooi aand vir u.”

“Goeienag meneer,” antwoord die konstabel en gaan voort met sy patrollie.

Daar begin nou ‘n ysige reëntjie uitsak en die wind waai al hoe hewiger. Die enkele mense wat nog in die straat ronddrentel het, beweeg vinniger huis se kant toe om uit die snerpende koue te kom.

En by die donker ingang van die winkel wag die man wat meer as ʼn duisend myl gereis het om ‘n ou vriend weer te sien ...... Dis nou op die kop tienuur, maar hy wag nog ‘n rukkie.

Na ongeveer twintig minute, kom ‘n lang man met ‘n dik jas met sy kraag opgeslaan, haastig aangestap. Hy gaan reguit na die wagtende man en groet hom met ‘n stewige handdruk.

“Is dit jy Willem Goosen?” het die man onseker gevra.

“Is jy Jan Smit?”, antwoord die man by die ingang. “My maggies, Jan, jy het werklik gekom!”

Die man wat pas daar aangekom het, klem die man by die ingang se hand in syne.

“Ek het werklik gewéét jy sal kom! Twintig jaar is ‘n lang tyd. Ek wens die kafee was nog hier, dan kon ons weer lekker saam hier geëet het.

“Het Johannesburg jou goed behandel, Willem?”

“Johannesburg het vir my alles gebied waarna ek gesoek het, en nog meer.”

“Jy’t baie verander, Jan. Ek kan nie onthou dat jy so lank was nie....”

“O, ek het nog so ‘n bietjie na my twintigste jaar gegroei.”

“Sê my Jan, het die Kaap jou ook so goed behandel?”

“Goed genoeg, ek werk nou vir die Staat. Kom, Willem, ons kan na ‘n ander plek gaan en daar weer lekker gesels oor die ou dae.”

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

10

Die twee mans stap die straat af. Die man van Johannesburg begin om oor sy lewe en sukses in die vreemde te spog. Die ander man, met sy kraag hoog opgeslaan, luister aandagtig.

Op die hoek van die straat is daar nog ‘n oop kafee met ‘n helder verligte ingangsportaal. Toe hulle wou ingaan, bekyk hulle mekaar mooi. Die man van Johannesburg staan skielik stil en sê: “Jy is nie Jan Smit nie. Twintig jaar is dalk ‘n lang tyd, maar nie lank genoeg om ‘n mens se gelaatstrekke te verander nie.”

“Twintig jaar verander soms ‘n goeie man in ‘n slegte man......” sê die ander man.

“Jy is onder arres, Willem Goosen! Die Johannesburgse polisie het ons laat weet dat hulle na jou soek. Hulle het by ‘n beriggewer verneem dat jy op pad Kaap toe is. Hulle het ons versoek om op die uitkyk vir jou te wees. Kom maar saam met my na die polisiestasie” .

“Maar voordat ons loop, het iemand my gevra om hierdie briefie vir jou te gee. Dit kom van een van my kollegas. Hy is ‘n polisieman hier in die Kaap.”

Met bewende hande lees hy:

Willem, ek was betyds by die winkel.

Ek het gesien jy is die man wat deur die polisie in Johannesburg gesoek word. Ek wou jou nie self arresteer nie, toe stuur ek maar ‘n kollega om dit te doen. Alles van die beste en mag dit goed met jou goed gaan.

JAN SMIT NR. 20142 (B) KONST.

In ‘n Afrikaanse milieu vertaal en oorvertel deur Johan Ferreira Oorspronklike publikasie: After twenty years. Page & Company; New York: 1906. Henry, O.

ooOOoo

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

11

Kommentaar:

William Sydney Porter, of eerder bekend onder sy skrywersnaam, O. Henry, was ‘n Amerikaanse skrywer. Sy kortverhale was baie gewilde leesstof.

Hy is in 1862 in die staat Noord Carolina in die VSA gebore en in 1910 in New York oorlede.

Sy verhale word gekenmerk deur ‘n onvoorspelbare en verrassende slot.

Sy kortverhaal “After Twenty Years” is in 1906 gepubliseer. Hollywood het selfs ‘n kort film daaroor gemaak.

Soos met twee van my vorige pogings, het ek weer probeer om hierdie kortverhaal in Afrikaans oor te vertel, maar ek het die vrymoedigheid geneem om dit in ‘n Suid-Afrikaanse konteks te plaas.

In Henry se verhaal was die karakters Jimmy (in my poging Jan Smit) en Bob (Willem Goosen). In Henry se verhaal het Jimmy in New York agtergebly en Bob het na die Weste uitgewyk. In my weergawe bly Jan Smit in die Kaap terwyl Willem Goosen sy heil in Johannesburg gaan soek.

Henry se verhaal speel af in die vroeë 1900s, maar my weergawe vind in die vyftigerjare of vroeë sestigerjare van die vorige eeu af, in die era toe ons nog jong polisiebeamptes was.

Die name, plekke en strate (behalwe Adderleystraat, Kaapstad en Johannesburg) wat ek gekies het is uit my duim gesuig, maar ek moet bely dat die naam Willem Goosen by my opgekom het. Dit het my laat teruggedink aan die talle, vervelige byvoegings en wysigings in die “Polisiekoerant” en ander sirkulêre wat ek in 1963 as ‘n jong student tydens die lang nagskofte moes aanteken en byhou. Die werklike Willem Goosen het gereeld as ‘n gesoekte of ontsnapte misdadiger daarin verskyn.

Met apologie aan O. Henry Johan Ferreira ooOOoo

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

12
O. Henry

Brigadier Fanie Bouwer, (Toe nog ‘n kaptein)

Die Stokkie

Van die netjiese, met leer oorgetrekte stokkies wat offisiere en adjudant-offisiere in die Polisie al die jare onder die arm vas geknyp het, is daar sedert die 1990s geen teken meer nie.

Daar is besluit om met die stokkies weg te doen nadat daar in ‘n opname onder offisiere besluit is dat dit geen nut meer het nie. Dit moes deur alle offisiere en adjudant-offisiere gedra word. Die stokkies was vir baie polisiemanne soos ‘n “seer duim”. Offisiere het gekla dat dit oral in die pad was en net ‘n beslommernis was om dit heeltyd saam met hul uniform te dra.

Dit is egter nie seker wat die presiese doel van die stokkies was of wat dit gesimboliseer het nie. Dit is vermoedelik destyds deur weermagte op parades as ‘n “tree-stok” (yardstick) gebruik sodat die afstande tussen troepe wat dril, gemeet kon word.

In die Transvaal het die kwajongens van destyds van ‘n “stokkiespolisieman” gepraat as hulle verwys na ‘n polisieman wat al opgang gemaak het.

Die stokkies was aanvanklik nie eenvormig nie. Baie polisiemanne het ‘n eie karakter aan sy stokkie gegee. Ná die Tweede Wêreldoorlog is besluit om alle stokkies eenvormig te maak en dat slegs hoofkonstabels (later adjudant-offisiere) en uniformdraende offisiere dit moes dra.

Ek onthou nie meer presies hoe die dril gewerk het nie, maar ek dink jy moes die stokkie onder die linkerarm vasknyp en tussen jou duim en wysvinger vashou wanneer jy ‘n senior gesalueer of ‘n saluut van ‘n ondergeskikte beantwoord het. Ná die saluutbeweging moes die linkerarm weer langs jou linkersy laat sak word terwyl die stokkie steeds onder die linkerarm vasgeknyp moes bly.

In die “Op-die-plek-rus” houding was jou hande agter jou rug, met die stokkie so skuins boontoe in die waai van jou regterarm.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

13

Die stokkie was nooit saam met ‘n Sam-Browne gedra nie.

Wanneer ‘n lid gewoonweg in die openbaar gestap het, moes die stokkie in die regterhand parallel met die grond gedra word. Die stokkie moes wanneer daar gestap word, onder die linkerarm vasgeknyp word wanneer gesalueer is, en dan nadat die saluutbeweging voltooi en die lid voortgestap het, weer horisontaal langs die sy in die regterhand vasgehou word.

Die meeste van ons het naderhand bietjie ongeërg en pronkerig met die stokkie geword en dit sommer terwyl ons geloop het, en so nou en dan teen jou broekspyp getik! Die stokkie was egter altyd in jou regterhand gehou. (Byna soos die “swagger stick” van Charlie Chaplin en in die Johnny Walker “Black Label” advertensie!)

Bokkie met sy stokkie

Wanneer lede op die groter sentra tot die rang van adjudant-offisier bevorder is, moes hulle eers deur ‘n instrukteur touwys gemaak word hoe om die stokkie te dra. Op ander plekke moes die nuwe “stokkiedraers” maar by die “ou hande” afgekyk het.

Daar is besluit om nie meer die stokkie te dra omdat die doel daarvan hoofsaaklik uitgedien is.

Die gebruik daarvan het toe weggeval. Volgens ‘n generaal, destyds by Hoofkantoor, het dit die begin van die einde van die statuur van die polisieman en offisier ingelui.

Toe die stokkie in die tyd van die vorige polisiekommissaris, generaal Hennie de Witt afgeskaf is, was daar glo ‘n vurige debat onder die lede van die topbestuur.

Daar word vertel dat generaal (ds.) Stoffel Colyn een van die voorstanders vir die behoud van die stokkie was. Hy het dit op ‘n Bybelse grondslag verdedig ..... iets soos die staf van ampsgesag.

Artikel deur Brigadier Fanie Bouwer (Afgetree): Nongqai Vol. 11. No. 7: p.72

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

14

Gedagtes aan die stokkie en ander dinge

Ek weet van slegs twee offisiere wat ‘n stokkie gedra het wat nie deur die Kwartiermeester uitgereik is nie, naamlik -

• Brigadier Louis Snyman. Sy stokkie het ‘n regaf ivoorhandvatsel met ‘n silwer versiering wat dit aan die stokkie geheg het, gehad. Hy het dit met sy toegevoude vuis omklem. Dit was glo deur die Britse Koning aan hom oorhandig uit erkenning vir sy diens tydens die Tweede Wêreldoorlog; en

• Luitenant “Donker Afrika” Botha van die Kollegepersoneel (in 1964) wat ‘n stokkie gedra het wat uit ‘n uitgekerfde houtstaaf gemaak is en een of ander voorwerp versinnebeeld het. Ek dink nie dit was juis in daardie jare ‘n amptelik-voorgeskrewe stokkie nie, maar dalk was selfs die hoër gesag te lugtig om hom daarvoor aan te spreek. Mense het nie sommer met hom gesukkel nie!

As ek een persoon onthou wat die stokkie altyd met groot waardigheid en militêre presisie gedra het, was dit luitenant Lourens Hutton (later brigadier) wat destyds parlementêre diens verrig het. As ‘n jong konstabel het ek smiddae na werk in Schoemanstraat by die Polleys deurloop langs Wachtuis vir my geleentheid huistoe gewag. Die lenige luitenant Hutton het klokslag elke middag by my verbygestap. Hy het my saluut beantwoord deur sy stokkie met ‘n flink beweging onder sy arm in te druk, drie treë aangeloop (voorgeskrewe dril), sy kop na vinnig na my kant toe geswaai, gesalueer en daarna, steeds besig om te salueer, drie tree verder gestap, en dan vorentoe gekyk terwyl hy sy hand weer laat sak het.

Die stokkie was ook vir ons ‘n verskoning om nie in ‘n winkel of kafee in te stap en met ‘n brood en ander kruideniersware in die hande uit te stap nie. Dit het nie goed in ‘n uniform gelyk nie.

Dit is ook interessant om te onthou hoe die adjudant-offisiere en offisiere hul stokkies op groepfoto’s gedra het.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

15

1964. Troep 19. Die stokkiedraers was a/o Okkie van Greunen lt. “Donker Afrika” Botha, Lt.kol. Louis Snyman, Kol. Daantjie Maritz, maj. “Rondom Mooi” Rossouw, a/o. Alwyn Lesch en a/o. Hans Van Rooyen

Waar al die sittende lede met strak gesigte met hul gestrekte arms en met geklemde vuiste op hul knieë geposeer het, het die adjudant-offisiere en offisiere ook hul arms gestrek en die stokkie parallel in hul vuiste vasgehou.

Ek weet van etlike offisiere wat ook hul stokkie as ‘n tugmaatreël aangewend het. As ‘n jong lid drooggemaak het, is hy voor die keuse gestel om óf te buk en ‘n paar rapse met die stokkie te ontvang óf om sy rusdae kwyt te wees. Die meeste lede het maar gebuk om die skrobbering en straf agter die rug te kry.

Mnr. Mark Naudé, ‘n vriend in Nieu Seeland skryf: “A commonly quoted theory is that the sticks are a throwback to Roman times when centurions carried a stick as a sign of office (as well as to administer corporal punishment).”

Ek het iewers gehoor van ‘n geval in die sewentigerjare, glo destyds in Silverton. Ene luitenant du Preez het ‘n jong konstabel van Buren wat een nag sonder toestemming die menasie-spens betree het voor dié keuse gestel. Hy het tydens ‘n middernagfees al die ander lede se rantsoen vir die volgende oggend se ontbyt verorber. Maar soos ek die saggeaarde luitenant ken, sou die lid nie eers die sagte tikkie gevoel het nie ..... of die storie wel waar is, sal ek nie kan sê nie!

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

16

‘n Ander “simbool” waarmee ons met ons bevordering tot luitenant uitgereik is, was die egte leer aktetas met die republiekwapen wat in goue letters daarop gedruk is. Aanvanklik het die nuwe aktetasse ‘n ligte bruin kleur gehad, maar namate die trotse besitter dit eers met “dubbin” behandel en later met skoenpolitoer (military tan) vertroetel het, het dit al hoe donkerder en duursamer geword. Die stokkie was dan nie meer onder die arm gedra nie, maar tussen die twee leerbande ingesteek.

Net soos ons ons skoene se punte soos spieëls “gespit en polish” het, het ons dit ook met ons stokkies gedoen.

Mens weet nie of die stokkie ooit as ‘n amptelike simbool van die SuidAfrikaanse Polisiemag beskou kan word nie, maar toe ek as ‘n jong adjudant-offisier met my “wawiele” en stokkie uitgereik is, was dit een van die trotse mylpale van my loopbaan. Dit was maar één van daardie gewaarwordinge dat daar groter gesag op my skouers rus.

Dat die stokkie soms ‘n lastige voorwerp was, is nie te betwyfel nie. Maar dit was met trots gedra.

Dit is tog jammer dat die stokkie nie maar behou kon word tot aan die einde van die Suid-Afrikaanse Polisiemag in 1994 nie. Die stokkie was ‘n kenmerk van die Mag soos ons dit geken en wat ons met trots gedra hetdie Mag wat in die nuwe bedeling tot niet gegaan het.

Johan Ferreira ooOOoo

Weeklag van ‘n Wielstapper

Alexanderbaai 10 Oktober 1959

Liewe Ouers

Jammer dat ek nou eers skrywe, maar ek wou dié land eers goed deurkyk om aan u ‘n geloofwaardige kykie in Namakwaland te kan gee. Buitendien - pos is hier maar nie te gereeld nie.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

17

My reis hierheen was voorspoedig. Tot in Kaapstad het ek ‘n kompartement met ‘n vriendelike omie gedeel. Toe hy hoor dis hierdie Vaalpens se eerste besoek aan die Kaap, het hy moeite gedoen om vir my en nog twee ander polisiemanne – ook onderweg na Alexanderbaai – by die sweefspoor te laat uitkom.

Tafelberg, die see en die natuurskoon in die Kaap is onbeskryflik mooi. Daar sou ek graag ‘n paar dae wou oorbly, maar ons moes nog dieselfde aan die trein na Bitterfontein in Namakwaland haal. En die trein was vol uitgelate jong manne! Almal was op pad na Alexanderbaai, maar mens sou eerder dink hulle is op ‘n vakansietog êrens heen.

Die volgende dag moes die asemrowende natuurskoon van die Kaap plek maak vir ‘n landskap oortrek met bossies, maar tog met so ‘n verdwaalde vygie tussenin. Ons het die middag op Bitterfontein aangekom. Dis waar ons die “Land-uit” manne moes ontmoet wat toe vanuit Namakwaland verplaas is.

En was die “Land-uit” manne uitbundig! Maar voor hul vertrek, sing hulle vir ons op die wysie van “Ou Ryperd” – ‘n lied oor die wielstappers. Dit was hartroerend; so aangrypend dat daar in menige oog ‘n sweem van ‘n traan was.

Toe skei ons paaie.

Ons is met ‘n bus vort. Bult op en bult af – oor Garies, by Kamieskroon verby tot op Springbok, waar ons vir ‘n wyle bene kon rek. En langs die pad was daar steeds net bossies. Maar duskant Springbok loop die pad verby berge met ‘n prag van hul eie.

Toe swenk ons weg en kies koers na die kus.

Later verander die bergland na duineveld en sandvlaktes tot waar Port Nolloth vir ons aan die weskus begroet met ‘n snerpende wind wat waai en by tye die onaangename aroma van die kreeffabriek na jou aandra.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

18
Kolonel H.A.P Nel (Donkiejare later)

En die wind het ‘n bondgenoot in die malmokkie – so ‘n vreemde mistigheid wat jou vasdruk – terwyl die mishoring aanhoudend en mistroostig loei. Dis toe dat ‘n ongekende weemoed my oormeester en ‘n verlange na vergete gisters in my laat nestel. Aai, in hierdie harde land is ‘n jaar bitter lank!

En kuslangs is ons toe op die laaste skof na Alexanderbaai.

En ons dink dis weer die eindelose stryd met die sinkplaatpad. Toe wag daar vir ons die verrassing van ‘n breë en gladde soutpad wat gemaklik ry, maar wat skynbaar sonder einde oor die vlaktes strek om in die verte met die horison te versmelt.

Toe die son dié aand oor die see by Alexanderbaai sou sak, het ons “Land-in” manne moeg en tam hier aangekom. Tussen ons en Bitterfontein lê daar immers ‘n stowwerige tweehonderd en sestig myl. En opeens besef mens huis en haard is bitter ver.

Die lang busrit tussen Kaapstad en Alexandebaai is 785 km

Maar die Grootwiel wag op ons.

Eers was die wiel rond. Nou is dit ‘n dubbele halfmaan van doringdraadplek-plek so ‘n driehonderd voet uitmekaar – wat van die see af landwaarts uitklok. En tussen dié twee hoë drade van die halfmaan wat Alexanderbaai se diamantvelde omhein, is daar die strook niemandsland waar g’n sterfling durf kom nie.

Vir die binnekantste “wiel” is Mynwese verantwoordelik, maar ons moet snags die groot “wiel” aan die binnekant bewaak. Hiervoor is daar op die

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

19

roete ‘n netwerk voetpatrollies uitgewerk met so ‘n twintigtal besoekpunte. En dis hier waar die sersante ons tog so graag voorlê, want hulle is mos gedurig op jou spoor.

Vir ‘n polisieman is die “wiel” g’n lekkerland met ‘n luilekkerlewe nie. Hier word die nag ‘n dag gemaak met “wielstap” in los sand waarin soms beswaarlik beweeg kan word. En dan is daar nog die winde wat sonder ophou om jou warrel en deur jou waai.

Ook in die winde kom die kontras so eie aan Namakwaland na vore. Waar jy in die donker van die nag vingeralleen vorentoe beur met jou gedagtes en verlange as enigste geselskap, kom die warm oostewind land-af of die ysige westewind oor die see spookagtig om jou huil. En al wat môre en oormôre vir jou inhou, is die herhaling van die eindelose en doodse voetslaan deur die sand.

Maar dis juis in die eensaamheid van die stap deur die nag dat jy deur vrae geteister word wat ewe kordaat by jou kom spook oor die sin van dit alles. En as mens het ons ook mos ‘n binnekant – ‘n gevoelskant of emosie – waar uitputting en radeloosheid selfs ‘n groot man soms laat huil in die alleenheid van die nag wat hom soos ‘n donker kombers toevou. Is hy daarom dan ‘n papbroek?

Dan het ons as mens tog ook ‘n waarde wat geag moet word.

Waarom dan die eerste ou botseltjie van ‘n jong man se loopbaan met ‘n onnodige “default” verwoes net omdat hy ‘n minuut te laat of te vroeg by sy punt uitkom? En te meer is die verwoesting sinneloos, want in die onmeetlikheid van die woestyn kom tyd skynbaar tot stilstand.

En waarom begrawe ons ‘n jaar van ons lewe – kosbaar soos dit is – hier in die sand van Namakwaland waar selfs ons voetspore deur die wind toegewaai sal word as dié daaroor gaan sodat geen teken dat ons hier was sal oorbly nie? In die sweet en trane van ons swaarkry en verlange word die mens se gierigheid na gou en maklik ryk word hokgeslaan.

Namakwaland is ‘n land vol teenstellings – verlate en vaal en ongenaakbaar en tog ook ryk aan eie bekoring. Mens moet Namakwaland eers ken om hom te kan verstaan en sy vreemde bekoring te kan waardeer. Dis ‘n

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

20

land wat ‘n houvas op jou kry en dan kan jy hom – so weet ander te vertel – nie weer verlaat nie. Maar dié land kan mens ook “vang” en deur sy verlatenheid tot waansin dryf.

Bid vir my en my makkers dat ons in dié vreemde land end-uit sal staande bly. En Pa en Ma, bid ook dat Namakwaland se harde en ongenaakbare natuur juis vir my ‘n nuwe afhanklikheid van my Skepper sal leer wat my ook enduit sal bybly.

Verskoon die ellelange weeklag, maar nou voel ek beter en weer lus om voort te gaan.

Liefde en skryf tog gou.

Henk.

Wyle Kolonel H.A.P. Nel (Toe hy nog ‘n jong konstabel was) Uit Lekkerlandstorie – Die Verhaal van Ou Grootwiel, Brosjure saamgestel deur genl.maj. Jan du Preez

ooOOoo

Cheese!

My husband, a clergyman, often has his photograph taken at baptisms, weddings and receptions and some of the pictures end up in the newspaper.

For a long time, they were singularly bad; in almost every photograph his eyes were squinting, his mouth was open, his expression was one of displeasure.

One day I asked, "Can't you remember to say 'cheese'? You know, that's supposed to improve one's facial expression."

"Cheese?" he said, surprised. "I thought the word was mouse.”

ooOOoo

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

21

Die Suid-Afrikaanse Polisie Bejaardesorgfonds verjaar

Op 12 Maart 2020 het die Suid-Afrikaanse Bejaardesorgfonds sy 37ste bestaansjaar gevier.

Talle van ons bejaarde lede het by die kantoorkompleks van die Fonds aangekom waar die bestuur en hul vrywilligers die gaste met lekkernye en tee getrakteer het. Daar was geen tekort aan tuisgebakte koek, koeksisters, terte, soutighede en lekker eetgoed wat deur die fonds se vrywilligers en ander weldoeners aangedra is nie.

Tydens die geleentheid is daar hulde gebring aan drie oorlewende stigterslede van die Bejaardesorgfonds, naamlik mevroue Elize Kruger2 , Ina Westraat3 en Rita Visser4 (wat al hoogbejaard is). Mevrou Hannetjie Engelbrecht5, nog ‘n stigterslid kon ongelukkig weens haar gevorderde ouderdom nie die geleentheid bywoon nie. Daar is ook afskeid geneem van genl.maj. Willie Ngobeni wat na baie jare se diens besluit het om die tuig neer te lê.

Om hul hulde en waardering aan die oorlewende stigterslede te betoon, het generaal Hennie Fischer en sy gade Drienie ‘n reuse verjaardagkoek wat kunstig versier is, spesiaal vir die geleentheid geskenk. Die drie dames wat na vore genooi is om die koek te sny, het trots hul posisie voor die koek ingeneem. Hulle is hartlik toegejuig en het hul waardering uitgespreek vir die mooi gedagte.

Na die gebruiklike seremonie en toesprake het almal om die tafels saamgedrom, kopstukke gesels en heerlik gesmul aan al die verversings wat so deftig voorgesit is.

Die Generaalsklub is baie trots op die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Bejaardesorgfonds. Ons eer hulle. Toe hulle nog in die fleur van hul

2 Gade van genl.maj. Piet Kruger - wat ons meganiese ingenieur was.

3 Gade van lt.genl. Hennie Westraat.

4 Weduwee van brig. Barry Visser, in lewe verbonde aan die Kwartiermeester.

5 Weduwee van genl.maj. Maans Engelbrecht, in lewe die Kwartiermeester van die SA Polisie

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

22

lewens was, het hulle die toekomsvisie gehad om nie net aan hul eie oudag te dink nie, maar ook besef het dat ons bejaardes op hul oudag ook op ‘n instansie sal kan leun om hulle by te staan wanneer hulle dit dalk nie meer self kan doen nie.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

23
Die personeel van die BSF Mevroue Rita Visser, Ina Westraat en Elize Kruger: Drie van die oorlewende stigterslede van die Bejaardesorgfonds

Brig. Peet Nieuwoudt en mev. Annelene Oberholzer oorhandig ‘n afskeidgeskenk aan genl.maj. Willie Ngobeni

24 Tel. 083 625 2380 012 803 0990 epos: jhferreira0@gmail.com
Mevv. Elena Huggett en Ann Nel geniet die oomblik

Genl.maj. JAP Burger

Die Foxstraat beleg

Op 28 April 1975 is berig ontvang dat terroriste die Israeli Konsulaat in Foxstraat, Johannesburg beset het. Verskeie gerugte het die ronde gedoen dat dit die werk van die Japanse Rooi leër was en almal was in rep en roer. Kolonel Daantjie Joubert, op daardie stadium die adjunk-afdelingsbevelvoerder van die Veiligheidstak, Johannesburg het my opdrag gegee om te gaan vasstel wat daar aangaan.

Met my aankoms op die toneel het ek kolonel “Rooi Rus” Swanepoel aangetref wat met sy motor in die middel van die straat gestaan het, vermoedelik om die straat af te blokkeer. Oral op die dakke van geboue rondom die Konsulaat het gewapende lede van die uniformtak posisie ingeneem. Elke nou en dan het skote uit die gebou geklap en dan het die polisie

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

25
Lt.genl. Hennie Westraat aan die woord
ooOOoo
Johan Ferreira Maart 2020

teruggeskiet. Kol. Swanepoel het dan met sy HMK op die gebou gevuur en geskree “come out, you bloody cowards, come and fight like a man!”

Gedurende die middag het verskeie senior offisiere by die toneel aangekom, o.a. die Afdelingskommissaris brig. W H Kotze, brigadier Prinsloo, Hoof van Veiligheid en genl. Mike Geldenhuys en vele ander. ‘n Brigadier-generaal van die Israelse Intelligensiediens het gereël dat water en kosvoorraad met toue teen die gebou opgehys word. Ek het genl. Geldenhuys gevra of ‘n mens dit nie moet stop nie want met genoeg kos en water kan die “terroriste” ons lank besig hou. Hy het toe die water en kosvoorsiening gestop. Ek het ook 9mm doppies in die straat opgetel en die Israelse brigadier gevra wie van hulle skote afgevuur het. Hy het dit heftig ontken en toe ek hom daarop wys dat die Dawidster agterop die doppies voorkom het hy amper stuipe gekry. Hy was regtig so vol van homself dat hy daarvan kon stik.

Ek was eintlik teleurgestel oor die aanvanklike weifelende optrede van ons senior offisiere.

Nie een het werklik bevel van die toneel oorgeneem nie en dit het gelyk of elkeen vir die ander wag om iets te doen. Moontlik was daar ‘n politieke opdrag wat strenger stappe verbied het, want later die aand het genl. Hendrik van den Berg en minister Jimmy Kruger daar aangekom en toe het dinge rigting begin kry.

Terwyl die skietery aan die gang was het ek ‘n jong man gesien wat heen-en-weer geloop en op ‘n handradio (walkie-talkie) gepraat het terwyl hy opkyk na die gebou. Ek het lt.-kol. Joubert wat ook op daardie stadium daar aangekom het, se aandag op die verdagte optrede van die jongman gevestig. Ons het hom ‘n ruk lank dopgehou. Lt.kol. Joubert het my gelas om hom vir ondervraging na John Vorsterplein te neem.

Genl. Hendrik van den Bergh

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

26

Protter

Die jongman, Charles Protter het my ingelig dat hy sekere opdragte van sy broer David Protter 6 , ‘n veiligheidswag by die Israeli Konsulaat, ontvang het. Hy moes toegang tot die gebou beheer en personeellede net twee-twee laat ingaan. Later is ‘n skoot vanuit die konsulaat op hom gevuur en hy het uitgehardloop. Hy was deur middel van die handradio in kontak met sy broer David om te probeer uitvind wat daar aangaan. Op my vraag wie die terroriste in die konsulaat is, het hy my meegedeel dat daar geen vreemde persone in die konsulaat is nie en dat hy vermoed dat dit sy broer is wat vir die skietery verantwoordelik is.

Ek het Charles Protter aan s/sers. Marralich oorhandig en teruggegaan na Foxstraat waar ek die inligting aan lt.kol. Joubert oorgedra het. Nadat ek aan genl. Geldenhuys verslag gedoen het, het hy opdrag gegee dat Charles Protter gehaal moes word aangesien hy homself wil ondervra.

Gedurende die voorval is daar telkens skote vanuit die Konsulaat op die Trust Bank-gebou en dan weer op die Carlton Hotel gevuur wat die indruk geskep het daar verskeie gewapende persone in die gebou is.

Gedurende die konflik is twee persone gewond; ‘n blanke dame genaamd Evelyn en ‘n swartman genaamd Edwin.

Ongeveer 20:00 het genl. Hendrik van den Berg, minister Jimmy Kruger en die Israelse Ambassadeur, Mnr. Una by die toneel opgedaag. Genl. Van den Berg het onmiddellik die hardewarewinkel reg onder die konsulaat as operasiekamer opgekommandeer, gereël vir radiokommunikasie met die persone in die konsulaat en begin met onderhandelinge. Na lang onderhandelinge is daar namens die “terroriste” toegegee dat die gewondes vrygelaat sal word maar dat indien die polisie enigsins vyandig teenoor die persone in die konsulaat optree, die ander gyselaars doodgeskiet sou word. Genl. Van den Berg het onderneem dat geen stappe deur die polisie gedoen sou word nie.

6 David Protter was die flambojante hoof van sy eie Sekuriteitsmaatskappy in Tzaneen. Dit was toe ek tussen 1995 en 1999 in Pietersburg gestasioneer was. Red.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

27

Die twee gewonde persone asook Mnr. Shemi Tzur, ‘n personeellid van die konsulaat, wat heeltemal van sy kop af geraak het, is vrygelaat en na die noodsentrum in die Carlton Hotel geneem. Maj. Schalk Visser, (later Brigadier) en ek is opdrag gegee om die persone na die hospitaal te vergesel en te ondervra.

Die blanke dame Evelyn het telkemale gesê : “I am not saying anything, he’s going to kill them”, wat alreeds ‘n aanduiding was dat daar van slegs een persoon gepraat word. Op ‘n vraag van my wie die terroriste in die gebou was, het Edwin ewe verbaas vir my gesê : “No Sir, there are no terrorists in the building, the police are shooting at us but we don’t know why. The only armed person in the building is Mr Protter, the Security Guard, he is protecting us from the Police.”

Met ons terugkeer het ons aan genl. van den Berg verslag gedoen. Ons het dit aan hom gestel dat na aanleiding van die navrae wat ons gedoen het en die inligting ingesamel, ons oortuig was dat David Protter vir die hele voorval verantwoordelik is. Mnr Una, die Israeliese ambassadeur was verskriklik ontsteld en dit afgemaak as ‘n klomp snert. Genl. van den Berg het ‘n ruk lank na ons gestaar en toe die radio geneem en vir David Protter gesê: “Come on David, we know it is you. Talk to me.” Na ‘n lang stilte het David Protter die radio-telefoon geneem en gesê: “OK General, I knew that when I let those people free, you’re going to find out the truth”.

Daarna het die onderhandelings tussen genl. van den Berg en Protter voortgegaan. Protter het verskeie eise gestel o.a. dat Mnr. Una in die middel van die straat moet gaan staan sodat hy hom kan identifiseer aangesien hy met hom wou praat maar eers seker wil maak dat dit hy is. Die eis is geweier. Protter het onder andere ook geëis dat vervoer vir hom en ander na die lughawe gereël word sodat hy per vliegtuig die land kon verlaat. Ook hierdie eis is geweier. Hierdie onderhandelinge het dwarsdeur die nag voortgegaan en genl. van den Berg het elke eis met kalme beredenering van die hand gewys.

Om ongeveer 05:30 op 29 April 1975 het Protter besluit om homself oor te gee op voorwaarde dat hy nie doodgeskiet sal word nie. Hy het eers van die gyselaars vrygelaat en daarna met die oorblywende gyselaars met die

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

28

hysbak afgekom. Hy het seker gemaak dat hy in die middel van die groep mense staan sodat daar nie “per ongeluk” op hom geskiet kon word nie. Die Rooi Rus, brig. Swanepoel het Protter vasgegryp, hom deursoek en geboei. Daarna is hy per motor na Hoofkantoor geneem waar hy geprosesseer is. Hy is later tot 17 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Die optrede van genl. van den Berg vandat hy op die toneel aangekom het totdat die arrestasie gedoen is, het getuig van professionaliteit, beslistheid en kennis van die menslike karakter. Hy het ‘n besondere indruk op my gemaak.

Genl.maj. JAP Burger (Bronne geraadpleeg: Hennie Heymans: Nongqai)

Die Vinger van God

Halfpad tussen Keetmanshoop en Mariental op die grootpad na Windhoek, draai mens af op ‘n grondpad. Net ‘n paar kilometer verder het ‘n eensame rotsmassa op ‘n lae koppie in die lug uitgetoring –Mukurob – ook bekend as “Die Vinger van God.”

Volgens wetenskaplikes was die rotsmassa in die prehistoriese eeue deel van die Weissrand-plato maar ongeveer 50,000 jaar se erosie het dit korreltjie vir korreltjie van die res van die plato geskei. Voordat dit in 1988 ineengestort het, was dit een van Namibië se grootste toeristebestemmings. Dit het toeriste vanuit die ganse wêreld gelok. Die “Vinger van God” was grootliks uit sandsteen gevorm. Dit was 12 m hoog en tot 4,5 m wyd.

Wat die stellasie merkwaardig gemaak het, was dat dit aan die onderkant slegs 3 m hoog en 1,5 m wyd was.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

29
--ooOOoo--

Die basis was baie smaller as die breë rotsmassa waarop dit gebalanseer het.

“Die

Daar is nie eenstemmigheid wat die massa die nag van 7 Desember 1988 laat neerstort het nie. Sommige kenners beweer dat ‘n hewige stortbui vroeër die week die sandsteenkolom verswak en dit laat omkantel het.

‘n Ander kenner het weer geglo dat die Spitak-aardbewing in Armenië daardie aand selfs ook in Namibië waargeneem is en die rotsmassa laat omtuimel het.

Al wat van die kolom oorgebly het, was ‘n hoop rotse en klippe wat die volgende oggend deur ‘n boer en sy drie seuns ontdek is.

Die Nama-volk het deur die eeue talle legendes en mites aan Mukurob toegedig.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

30
Mukurob – oftewel Vinger van God

Een van die legendes was dat die Herero-volk byna aanhoudend in oorloë met die Nama-volk gewikkel was. Op ‘n dag het ‘n Herero groep glo met hulle blinkvet beeste vanuit die vrugbare sentrale weivelde van Namibië oor die droë velde in die suide van die Nama-tuisland getrek.

“Kyk hoe ryk is ons, ons het pragtige vet beeste!”, het hulle gespog. “En wat het julle ........ net ‘n spul klippe!”

Die spitsvondige Namas was nie op hul bek geval nie en het teruggekap: “Ons het hierdie uitsonderlike rots. Julle kan maar soveel beeste hê soos julle wil, maar ons sal in hierdie land bly heers solank as wat daardie rots hier staan!”

Dit het die Herero’s kwaad gemaak en hulle het besluit om die rots om te trek. Hulle het ‘n klomp rieme om die rots gewikkel en dit aan hulle beeste gespan om die rots om te trek. Maar so hard soos hul probeer het, kon hulle nie daarin slaag nie. “Mû kho ro!” het die Namas vir hulle geskreeu - “Sien julle nou!”

Die Namas het ook geglo dat die heerskappy van die wit man tot ‘n einde sou kom die dag wanneer hierdie geologiese verskynsel omval.

Toe Suid-Afrika later die “New York Treaty” met Angola en Kuba in New York en ook ‘n bilaterale ooreenkoms met die Kubane om uit SWA te onttrek onderteken het, is die weg gebaan na die Verenigde Nasies se Resolusie 435 wat op 1 April 1989 aanvaar is.

Namibië het op 21 Maart 1990 hul onafhanklikheid ontvang.

Die Namas in Namibië glo vas in die legende dat hulle onafhanklikheid toegeskryf kan word aan die feit dat die “Vinger van God” ineengestort het.

Artikel in Huisgenoot: 29 Desember 1988 --ooOOoo--

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

31

Ek sit nou die dag by ‘n swembad by ‘n privaatskool in ‘n redelike gegoede buurt. Dit was weke voor die uitbreek van die Covid 19 pandemie. My kleinseun ontvang daar swemlesse en oupa verheug hom in die vreugdes van kleinkinders. Heimlik verlang ek na my eie kinderdae hoe ons in die spruite en plaasdamme geswem het. My ou wêreldjie was seker vir sy tyd so iets tussen die tweede en derde wêreld het ek gepeins. Maar dit was my wêreld, die enigste wêreld wat ek geken het. Tog bevind ek my op daardie oomblik in die eerste wêreld. My eie kinderdae lê baie ver agter my.

Voor my sit daar ‘n vrou. Onwillekeurig sit ek haar en beoordeel. Nie veroordelend nie, dis darem te sondig, het ek myself seker getroos. Sonder énige gevoel van meerwaardigheid oortuig ek myself tog dat sy seker uit ‘n tweede wêreld kom want sy sit en lees die Kaapse koerant SON.

My oog vang skelmpies die opskrifte in die koerant wat sy lees: ”Vrou slaap met lyk in Shack. Huisgesin verloor vierde familielid in bulletreën.” Ek besef dat die vrou voor my lees van gebeure in die derde wêreld. Dit voel ver. Ek besef as ek my hand uitstrek kan ek aan al drie wêrelde raak. Suid Afrika is nie ‘n derde wêreld land nie dit is een land met drie wêrelde binne sy grense en hulle raak aan mekaar.

Covid 19 het ons elkeen in ons eie hoekie ingedruk, elkeen gedwing om in sy eie wêreld te vertoef en om te peins. Niemand is regtig veilig in sy hoekie nie ook nie in sy eerste, tweede of derde wêreld nie. Hoekom nie? Ons grense raak aan mekaar. Steek uit jou hand - Dit is daar.

Wouter Grové 23 April 2020 - Midde in die Inperking

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

32
ooOOoo
Lt.genl. Wouter Grové

Ter nagedagtenis aan die kameel

Sedert die ontstaan van die Suid-Afrikaanse Polisie het 'n besondere dier baie waardevolle diens aan die Mag gelewer - die kameel. Die kameel is sedert 1914 vir patrolliewerk gebruik, hoofsaaklik in die dorre streke van die Noord-Kaap en Kalahari.

In een stadium was daar tot 417 van die diere "in diens" van die SA Polisie.

As blyk van waardering vir die diens wat die kamele en hul ruiters aan die Suid-Afrikaanse Polisie gelewer het, is 'n kameel-en-ruiterstandbeeld, geskep deur die bekende beeldhouer van die Polisie, brig. Buks van Staden, deur die Minister van Wet en Orde, mnr. Adriaan Vlok, op Upington onthul. Die onthulling van die standbeeld het ook deel van die Suid-Afrikaanse Polisie se 75ste bestaansjaarvieringe gevorm.

Op 25 April 1988, as voorloop tot die onthulling van die standbeeld, is 'n spesiale funksie by die polisiestasie op Witdraai gehou. Vier kamele met polisieruiters sou vanaf Witdraai vertrek op pad na Upington. Die geleentheid is deur talle senior polisie-offisiere, onder andere brig. J H de Beer, atdelingskommissaris van afdeling Noord-Kaap, en maj. E B Viviers, distrikskommandant van Upington, bygewoon. Die persoon by wie die gedagte aan die standbeeld oorspronklik ontstaan het, genl.-maj. Frik Reyneke, het die gaste toegespreek.

Tydens die seremonie het die vier kamele onder 'n tradisionele kameeldoringboom gelê en rus voor hul lang reis van 330 kilometer na Upington. Die kamele is deur 'n boer van die distrik, mnr. W Knoezen, tot beskikking van die Suid-Afrikaanse Polisie gestel en hulle is deur die ruiters, adjt.off. J G van Zyl van Witdraai, sers. P R de W Botha van Noenieput, sers. F L C Steyn, ook van Witdraai, en konst. J S Burger van die Gemsbokgrenspos, self afgerig. Die kamele se name is Kuifie, Adri (vernoem na Min. Adriaan Vlok), Piet en Frikkie (vernoem na genl. Reynecke).

Tydens die seremonie het genl. Reynecke 'n feesmedalje aan elkeen van die vier ruiters oorhandig. Hy het op sy beurt 'n pragtige muurhorlosie, geskenk deur die lede van die Mag op Witdraai, as blyk van waardering ontvang. Die ruiters was elk geklee in die berede uniform van daardie tyd. Genl. Reynecke het, geklee in die uniform van 'n berede sersant, voor die vertrek van die viermanskap self ook op een van die kamele gery.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

33

Voor die vertrek het die generaal 'n patrollierapport (SAP 60), geteken deur sy seun, luit. Reynecke, aan sers. Steyn oorhandig. Adri was egter nie baie ingenome met die seremonie nie en het sers. Botha twee keer afgegooi voordat die optog kon vertrek.

Op 29 April 1988 is die kameel-en-ruiterstandbeeld deur die Minister van Wet en Orde, mnr. Adriaan Vlok, onthul. Die onthulling is voorafgegaan deur 'n optog deur die strate van Upington, waaraan onder andere die polisieorkes en 'n pollsiedrilpeloton deelgeneem het. Die geleentheid was een van die groot hoogtepunte van die SA Polisie se 75ste bestaansjaarvieringe en is deur talle senior polisie-offisiere en hoogwaardigheidsbekleërs bygewoon. Onder die teenwoordiges was ook die Kommissaris van die SA Polisie, genl. H G de Witt, lt.-genl. Stan Schutte, speurhoof van die SA Polisie, genl.-maj. H P M de Villiers, die senior stafoffisier van Hoofkantoor, brig. J H de Beer, afdelingskommissaris van afdeling Noord-Kaap, maj. E B Viviers, distrikskommandant van Upington, mnr. Japie van Wyk, adjunk-minister van Landbou, eerw. A Julies, minister van die Begroting in die Raad van Verteenwoordigers en genl.-maj. Frik Reynecke, op sy laaste werksdag in die Suid-Afrikaanse Polisie.

Mev. Joey Badenhorst van Krugersdorp het 'n boek met haar herinneringe aan haar vader, wyle maj. J C E Scheepers, aan genl. de Witt tydens die geleentheid oorhandig. Maj. Scheepers het in die dertigerjare, toe hy die distrikskommandant op Upington was en later op Kimberley afgetree het, waardevolle ondervindinge met kamele vir die nageslag vasgelê. Sy kleindogter, Fransien de Ridder, wat spesiaal vir die geleentheid vanaf Kaapstad na Upington gereis het, was ook teenwoordig.

Die Minister het in sy toespraak hulde aan die kamele en hul ruiters wat in daardie jare wet en orde in die dorre streke van ons land gehandhaaf het, gebring.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

34

Brig. Buks van Staden by sy skepping

Onder die hooggeplaastes teenwoordig was maj. EB Viviers, genl.maj.. Frik Reyneke, brig. Buks van Staden, genl. Hennie de Witt en mnr Adriaan Vlok

Adri was egter nie baie gelukkig met die toedrag van sake nie en het deurentyd gedurende die verrigtinge gebrom. Daarna het die Minister die standbeeld, wat slegs as 'n meesterstuk bestempel kan word, onthul. Die Minister, die Kommissaris en die afdelingskommissaris het ook kranse aan die voet van die standbeeld gelê ter nagedagtenis aan die kamele en hulle ruiters.

Nou is die polisie-kameel en sy ruiter in brons verewig sodat daardie era in ons Polisie geskiedenis nooit vergeet sal word nie . . .

Artikel in Servamus September 1988 deur stud. Schalk van der Merwe

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

35
ooOOoo

Hallo Ma,

Drome en nagmerries

Moenie skrik nie. Ek skryf gewoonlik net wanneer daar probleme is. Dié keer is dit darem nie te erg nie, net in aanhouding. Fase 4, julle ook, so moenie worry nie.

Ek en vroutjie geniet die rustigheid van die inperking die afgelope maand. Ons eet laat dit bars en slaap snags soos klippe. As dit maar net slaap was, was dit reg, maar drome en nagmerries teister my omtrent elke nag. Ek droom die vreestelikste goed, sommiges diep in die vergetelheid. Ek droom dan nou die nag ek kruip in die klerekas weg toe die Lammervanger my kom haal het die dag toe ek in

Sub-A stokkiesgedraai het.

Maar ma, dit is darem nie almal slegtes nie, nee laasnag se droom is grootliks die rede vir die brief.

Ma, so droom ek ek doen diensplig en kry ‘n langnaweek af en kom plaas toe. Ek het nog nie eers koffie gedrink nie, of pa boek my dat ek Sondag saam met hulle Moederkerk toe gaan. Ma ek was lanklaas in die kerk en pa se uitnodiging in hierdie tye was betyds. Pa sê hoeka hy is bekommerd oor die vreemde invloede waaraan ek blootgestel word met my diensplig.

Ma, en so gaan ons toe mos kerk toe. Soos tevore was pa al douvoordag op want hy glo mos ‘n mens gaan vroeg kerk toe, en jy kom nie saam met die dominee ingestap nie. Ewentewel, so is dit agtuur die oggend en die koster is nog besig met die eerste gelui toe sit ons al daar onder die peperbome voor die kerk en wag. Halfnege en pa vlieg daaruit met sy manel. Waarnatoe nou pa? vra ek. Nee ons het ‘n spesiale kerkraadsbiduur teen die pes wat in die nag wandel, glo die Corona-19 een.

Teen kwart voor nege kan ma dit ook nie langer hou nie en sê ons moet gaan sit. Ons stap binne en gaan weer op ons ou plek…die vierde ry van voor, onmiddellik agter die pastoriebank, sit. Ons het net gesit toe kom mev. dominee en Marietjie, Ou Dominee hulle se enigste oogappel, ook ingestap en kom sit hier vlak voor my.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

36
Lt.genl. Hennie Westraat

Ma en mooi was mos nog nooit lelik nie, Marietjie nog so mooi soos altyd. Ma, en sy lag breed toe sy my gewaar, en ek moet my inhou om te wil groet. Mevrou Dominee sien ek, dra nog dieselfde hoedjie met die pouveer wat dáár staan. Intussen speel die orreliste hoge stukke uit haar koraalboek. Sy’s besig om die regte stemming te skep dink ek.

Dis negeuur en ou Visgraat die Koster gaan staan voor die preekstoel en bedui na die orrelis se kant toe dat sy klaar moet kry met haar korale. Die twee deure langs die preekstoel gaan oop, Ou Dominee voor en hy gaan staan op die 2de trappie van die preekstoel. Hy kyk doer in die kerk se dak op, lyk amper of hy prewel waar sal my hulp vandaan kom. Ou Dominee het klaar gestaar en geprewel en neem sy plek in op die preekstoel. Intussen het die diakens en ouderlinge ook opgedraf en staan nou almal kiertsregop so asof hulle op ‘n bevel wag. Hulle staan nog so toe gaan sit hulle soos een man sonder dat iemand ‘n bevel gegee het. Militêre presisie soos ons sersantmajoor sou sê. Die orreliste laat ook nie op haar wag nie en val weg met Laat heer u gees die leraar sterk. Toe ons klaar is lyk Ou Dominee ook meer op sy gemak, hy lyk welkom.

Ou Dominee rits die afkondigings af, en vertel in detail wat alles die week gaan gebeur op die kerklike front, dis die sendingbiduur, die gewone biduur en om nie van die susters biduur te vergeet nie. Daar is nie Sondag Sondagskool nie, dis koshuisnaweek herinner Ou Dominee ons. Ou Dominee spreek die seën uit en kondig die loflied aan. Dit sal Ps. 48 wees… die Heer is groot waar Sions top. Die gemeente laat ook nie op hulle wag nie en die orreliste trek al die stoppe uit en sy laat waai. Voor ek weet het ons die eerste versie kafgedraf.

Ou Dominee is selfs vanmore in top gear want dis woerts-warts en hy is klaar met die geloofsbelydenis en die 10 gebooie. Dis nou tyd vir die Skriflesing. 1 Kor.13 sal dit wees. Ek weet klaar waaroor Ou Dominee gaan preek… almal weet die liefde dink ek. Ek is voorwaar reg…die liefde wat tog soveel kan verdra. Dis nou tyd vir die kinderkerk en al die kinders kom sit almal grootoog hier om die preekstoel. Ou Dominee beginnne te vertel die kinders van Daniel in die Leeukuil. Ou Dominee raak selfs so opgewerk en dit voel amper ek ruik die leeu se asem hier teen my. Ou Dominee vermaan vir oulaas die kinders om nie na plekke te gaan waar jy met jou lewe kan boet nie. Bly weg daar ... bly by julle se huis.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

37

Ou Dominee begin eindelik met sy preek en hy het ons te vertelle dat dit vanoggend die Liefde se beurt is waaroor hy gaan preek en dat sy preek in 3 hoofpunte saamgevat gaan word. Ou Dominee begin en voor ons weet lê die eerste punt daar kant en klaar. Hy beginne met die 2de punt, maar Ou Dominee kry hom nie mooi staangemaak nie en hy begin afdwaal. Dankie tog dis twee minute later en Ou Dominee het weer rigting gekry en punt twee is klaar. Hy beginne met die 3de punt en ek begin al dink aan ma se gebakte aartappel en die skaapboud en die sagopoeding wat ons aanstons gaan geniet.

Ma, maar Ou Dominee het anner planne gehad. Plaas dat hy met die derde punt Amen sê, kry hy mos die Heidelberg se Kategismus aan sy kort hare beet. Sondag Sewe of so iets. Ou Dominee roei met die vraesessie en dit voel amper of ek in die katkisasie klas sit. Ma, dis toe hier waar die moeilikheid die oorhand neem, die duiwel sal so wragtie hier inskuif en my wysmaak dat ek glo nie meer weet hoeveel orrelpyppe daar is nie. Ma sal ek dan vergeet het, hoeveel keer het ek hulle al tevore getel nie? En ek beginne tel; 7 groot dikkes en 14 middelslag pype. By die tellery van die klein dun pypies begin dit bodder. Ou Dominee nog steeds besig met die derde punt, staan nie vanoggend stil op die preekstoel nie. Hy wieg dan hierdie kant toe en dan weer daai kan toe dan is hy voor die 53ste pypie dan is hy voor die 55 ste pypie en enige mens sal mos deurmekaar raak veral as jy lanklaas soos ek orrelpype getel het. Ek is klaar pype getel en Ou Dominee is nog steeds nie klaar nie. Nou beginne ek die gloeilampe op die kandelaar voor die preekstoel te tel. Vyftien sestien en toe ek sal sewentien sê spring Ou Dominee my voor en klop my met ‘n haarbreedte toe hy sy amen inkry voor ek klaar getel het.

Dis tyd vir die slotgebed. Ou Dominee gaan haal hom vêr. Dis vir die siekes, die minder siekes, vir die by oop grafte, vir diegene in die gevangenisse en daar is baie verseker Ou Dominee ons; vir die dorpsdam wat bra leeg is, dat daar tog reën sal kom, want met al die handegewassery gaan ons voorwaar ook watertenks van die regering moet afbid.

Amen, en dis tyd vir die kollekte. Ou Dominee kondig aan die koor van Huis van Jaarsveld - ons ouetehuis op die dorp - se koor sal nou sing. Die koor val weg … Beautiful isle of somewhere, Land of the true, where we live

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

38

anew; Beautiful isle of somewhere sterf die laaste akkoorde weg. Ek voel geraak en voel ek wil hande klap maar ons is geleer ‘n kerk is ‘n plek van orde en jy bars as jy hande klap.

Dis tyd vir die slotsang. Ou Dominee vat ‘n slukkie water en dit lyk of hy iets gewigtigs op die hart het. Broers en susters, gaan Ou Dominee voort.. in hierdie ontwrigtende tye waarin ons ons bevind moet ons beslis afsluit met iets gepas. Wat sal dit wees wonder ek? Ou Dominee spring my weer voor en kondig aan dat ons sal sing Uit Dieptes gans verlore - van redding vêr vandaan - die Voortrekkerwysie, Suster, beduie Ou Dominee in die rigting van die orrelis, en jy mag maar so bietjie spoed kry daarmee. Ons is eindelik deur die dieptes en Dominee spreek sy seën uit.

Dis mos toe die gemeente antwoord met drie amens as gesang dat ek onder die derde amen wakker skrik. Was ek in die kerk of het ek gedroom. My ou vroutjie vermaan my dat ek saans nie vleis moet gaan eet voor ek gaan slaap nie .. dis die vleis wat die onrustigheid in my losmaak

Ma, nou die laaste haakplek. Hoe kry ek die brief by ma hulle? Slakkepos is uit. En waar lê fase een as die poskantoor weer begin briewe aflewer. Ma, Boetie is ‘n ou planmaker en ek het die brief gegee aan die Ondernemer om dit saam te vat as hy daar in ma-hulle se rigting sy joppie moet gaan doen.

Julle moet mooi loop. oor in wapad brand ‘n lig - en dis nie Eskom nie.

Groetnis van jul seun hier diep in die gevangenis

Boetie

Lt.genl. Hennie Westraat April 2020 --ooOOoo--

The Head of the Household

When everyone on earth was dead and waiting to enter Paradise, God appeared and said:

"I want the men to make two lines.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

39

One line is for the men who were true heads of their household, and the other line for the men who were dominated by their women.

I want all the women to report to St. Peter."

Soon, the women were gone, and there were two lines of men.

The line of the men who were dominated by their wives was 100 miles long, and in the line of men who truly were heads of their household, there was only one man.

God said,

"You men should be ashamed of yourselves, I created you to be the head of your household!

You have been disobedient and have not fulfilled your purpose! Of all of you, only one obeyed. Learn from him."

God turned to the one man: "How did you manage to be the only one in this line?"

The man replied: "My wife told me to stand here."

Nog ‘n bydrae deur lt.genl. Hennie Westraat

ooOOoo

Generaal

Constand Viljoen: Soldaat en Politikus

Generaal Constand Viljoen was sonder twyfel die gewildste hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag. Hy het gedurende 1985 afgetree.

Nadat die staatkundige onderhandelinge gedurende 1990 ‘n aanvang geneem het, het dit spoedig geblyk dat die ANC/SAKP-Alliansie as die uiteindelike politieke mag in Suid-Afrika gaan triomfeer. Mnr. Nelson Mandela het met die hulp van mnr. Joe Slovo die staatkundige onderhandelinge vernuftig gemanipuleer. Hy was die media se gunsteling en met die ondersteuning van alle swart organisasies, die

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

40

Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, die vakbonde en die meeste akademici kon hy die politieke toneel na willekeur domineer.

Genl. Constand Viljoen

Gedurende 1993 het generaal Constand Viljoen en drie ander afgetrede generaals van die Weermag die Afrikaner Volksfront gestig en tot die politiek toegetree. Die meeste lede van die Afrikaner Volksfront (AVF) was voormalige lede van die Weermag. Verskeie radikaal regsgesinde persone het hulle ook by die AVF aangesluit. Spoedig het daar in die geledere van die AVF planne van gewelddadige verset en sabotasie begin broei wat lustig tydens vleisbraaie en ander geleenthede die onderwerp van bespreking was. Ek was in daardie stadium die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie en luitenant-generaal Johan le Roux, die hoof van die Misdaadinligtingsdiens (voormalige veiligheidstak) het my oor die bedrywighede van die AVF ingelig. Ek het generaal Viljoen genooi om by my by Wachthuis te kom tee drink. Tydens ons gesprek het ek genl.

Viljoen baie versigtig gewaarsku dat hy in gedagte moet hou dat daar nie so iets soos geheime planne bestaan nie en dat alles wat in die geheim gedoen word op een of ander wyse uitlek. Hy was sigbaar geskok en het duidelik onmiddellik gesnap waaroor dit gaan. Volgens inligting het hy daarna alles moontlik gedoen om enige sprake van geweld in die kiem te smoor. Desondanks het lede van die AVF tog by dade van sabotasie betrokke geraak en is tot gevangenisstraf gevonnis.

Genl. Viljoen het ongelukkig die wilde perd opgesaal deur lede van die Afrikanerweerstandsbeweging (AWB) by die AVF in te sluit. Ofskoon daar in AWB-geledere persone met integriteit en hoë morele waardes was, was daar ook talle ongedissiplineerde persone wat gewoonweg as skobbejakke beskryf kan word. Daar was reeds ‘n geruime tyd sprake dat die AVF staatkundige onderhandelinge by die Wêreld Handelsentrum te Kempton Park gaan ontwrig. Ek het lt.genl. Johan Swart, een van die hoofadjunkkommissarisse van die Polisiemag, opdrag gegee om alle

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

41

moontlike maatreëls te tref om die Wêreld Handelsentrum te beskerm.

Genl. Swart het met genl. Constand Viljoen gaan onderhandel en laasgenoemde het hom die versekering gegee dat hy alles onder beheer het en dat daar beslis geen ontwrigting sal wees nie. Generaal Viljoen se integriteit en eerbaarheid was bo verdenking en genl. Swart het gevolglik genl. Viljoen se versekering dat daar geen voorvalle sal wees nie, onvoorwaardelik aanvaar. Dit was ongelukkig ‘n oordeelsfout.

Lede van die AWB het hulle weinig aan generaal Viljoen se bevele gesteur en op 25 Junie 1993 het ‘n groep gewapende AWB-lede met ‘n Viper gepantserde voertuig deur die deure van die Wêreld Handelsentrum gebars. Hulle het die lede van die verskillende politieke partye wat by die onderhandelinge betrokke was, met vuurwapens as gyselaars aangehou, slagspreuke op die mure gespuit en die gebou ontwrig. Lt.genl. Chris Serfontein, toe die speurhoof van die Witwatersrand, het omstreeks om 08:00 op 25 Junie 1993 die boodskap gekry dat die AWB lede van die verskillende politieke partye in die Wêreld Handelsentrum gyselaar hou. Hy het onmiddellik met ‘n voertuig na die Handelsentrum vertrek, maar in ‘n verkeersknoop beland waar hy gestrand was. ‘n Lid van die polisie met ‘n motorfiets het hom te hulp gesnel en na die Handelsentrum vervoer. By sy aankoms het hy ‘n chaotiese situasie aangetref. Lede van die anti-onluseenheid was reeds tussen lede van die AWB ontplooi. Die atmosfeer was uiters gespanne en hy het besef dat die geringste voorval tot ‘n bloedbad sou lei. Hy het die lede van die anti-onluseenheid beveel om kalm te bly en in geen omstandighede hulle vuurwapens te gebruik tensy hy so beveel nie. Lt.genl. Johan Swart het kort daarna ook op die toneel verskyn en hulle het daarin geslaag om die lede van die AWB te oorreed om te onttrek. Daar was geen sprake van enige arrestasies nie. Die Regering en die ANC se oorheersing van die staatkundige onderhandelinge het tot verset by van die ander partye gelei, wat besluit het om ʼn alliansie as teenvoeter te stig. Aan die begin van Oktober 1993 het die Inkatha Vryheidsparty, die Konserwatiewe Party en die Afrikaner-Volksfront, wat die AWB ingesluit het, asook die regerings van Bophuthatswana, KwaZulu en Ciskei, die Vryheidsalliansie gestig.

Op 27 Oktober 1993 is Wet 151 van 1993 geproklameer ingevolge waarvan ʼn Uitvoerende Oorgangsraad tot stand gekom het. Die doel van dié raad

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

42

was om die mag, wat voorheen in die Regering gesetel was, te deel sodat die Nasionale Party nie meer die land alleen regeer nie.

Die ANC/SAKP-alliansie het op 7 Maart 1994 met massamobilisasie begin om die regering van pres. Lucas Mangope in Bophuthatswana tot ʼn val te bring. Staatsamptenare het gestaak en wydverspreide onrus het in die gebied voorgekom. Pres. Mangope het op 8 Maart 1994 in oorlegpleging met sy kabinet besluit om die hulp van die Vryheidsalliansie in te roep. Op 10 Maart 1994 het pres. Mangope met die KP-leier, mnr. Ferdi Hartzenberg, en genl. Constand Viljoen van die AVF in verbinding getree en hulle gevra om te kom help. Hy het dit egter beklemtoon dat die AWB nie betrokke moet raak nie omdat dit die weermag, polisie en gemeenskap teen hom kon laat draai.

Hulle het ingewillig, en genl. Viljoen het met kol. Jan Breytenbach, wat in bevel van die Boerekrisis-aksie (BKA) was, gereël om lede van die BKA gereed te kry om onmiddellik na Bophuthatswana te vertrek. Sowel mnr. Hartzenberg as genl. Viljoen het mnr. Eugène Terre’Blanche, AWB-leier, nadruklik gevra dat die AWB nie betrokke moet raak nie. Volgens die reëlings wat tussen pres. Mangope en genl. Viljoen getref is, sou die BKAlede op die vliegveld in Mmabatho, hoofstad van Bophuthatswana, bymekaar kom. Die Bophuthatswana-weermag sou hulle van wapens voorsien en hulle sou saam met die weermag optree om die orde te herstel.

Ongeveer 200 BKA-lede het om middernag op 10 Maart 1994 op die vliegveld by Mmabatho bymekaar gekom, gewapen met handwapens en haelgewere. Die Bophuthatswana-weermag het 147 R4-gewere aan hulle uitgereik en die BKA-lede het in groepe van ongeveer 30 man in Mmabatho ontplooi, waar hulle die uitsaaistasie en die belangrikste sakesentrums bewaak het.

Mnr. Terre’Blanche en sy luitenante het in weerwil van die nadruklike versoek om weg te bly, intussen ook na Bophuthatswana opgeruk. Ongeveer 400 AWB-lede was reeds in Mmabatho toe die BKA-lede daar aankom. Hulle was met jaggewere en ander vuurwapens gewapen.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

43

Op 11 Maart het die onrus toegeneem en in Mmabatho het die oproerige skare begin om winkels te plunder en te verwoes. AWB-lede het wild en wakker op die skare begin vuur en verskeie mense doodgeskiet en gewond. Pres. Mangope se vrees is bewaarheid toe lede van Bophuthatswana se weermag en polisie op die AWB-manne begin vuur het. Konst. Ontlametse Bernstein Menyatsoe van Bophuthatswana se polisie het drie gewonde AWB-lede koelbloedig met ʼn R4-geweer doodgeskiet terwyl die SAUK en internasionale televisiespanne die voorval op kamera vasgelê het. Hy het in 1999 amnestie vir die voorval gekry.

Genl. Georg Meiring, hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, het intussen ook in Mmabatho aangekom. Ná samesprekinge tussen hom en genl. Viljoen het laasgenoemde besluit om die lede van die BKA te onttrek en na Suid-Afrika terug te keer. Genl. Meiring het onderneem om ʼn infanterie-kompanie van die SAW beskikbaar te stel om te help om die orde in Mmabatho te herstel. Die kompanie het met skemer op 11 Maart in Mmabatho aangekom en die BKA-lede het na Suid-Afrika teruggekeer.

Geen BKA-lid was by die skietery in Mmabatho betrokke nie.

Op 12 Maart 1994 het mnr. Pik Botha, Minister van Buitelandse Sake, en mnr. Mac Maharaj, sekretaris van die Uitvoerende Oorgangsraad, in Mmabatho aangekom. Hulle het pres. Mangope ingelig dat sy bevoegdhede as president deur die Regering en die Uitvoerende Oorgangsraad opgeskort is en dat die amptenary in Bophuthatswana voortaan deur die Uitvoerende Oorgangsraad beheer sou word. Die onluste het daarna bedaar. Weer eens het die ANC/SAKP-alliansie op meesterlike wyse daarin geslaag om sy doel te bereik en pres. Mangope te onttroon.

Die Suid-Afrikaanse Polisie was bewus van die BKA- en AWB-lede wat na Bophuthatswana onderweg was. Ek het met die regsafdeling van die Polisie oorleg gepleeg oor hoe ons hulle regtens kon verhinder om die gebied binne te gaan. Benewens die bevoegdhede wat die Wapen- en Ammunisiewet aan die Polisie verleen het, was daar egter geen regsgronde waarop teen hulle opgetree kon word nie. Hulle was binne die perke van die reg as die vuurwapens in hul besit gelisensieer was en korrek vervoer is. Bophuthatswana was ʼn onafhanklike gebied met sy eie regstelsel.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

44

Pres. Mandela het op 7 Junie 1996 ʼn geregtelike kommissie onder voorsitterskap van regter P.R. Tebbutt aangestel om die geweldpleging in Bophuthatswana te ondersoek. Ek het in my getuienis verduidelik watter regsoorwegings gegeld het, maar regter Tebbutt wou telkens weet of die Polisie nie meer kon gedoen het nie. Regtens was daar beslis niks meer wat ons kon gedoen het nie. Die regter het gemeen dis jammer dat die Polisie nie die AWB-lede verhinder het om Suid-Afrika te verlaat nie, maar nie gesê hoe hy gedink het dit gedoen kon gewees het nie. As ons die AWB-lede sou voorgekeer en hulle hulle verset het, kon ʼn bloedbad gevolg het waarvoor die Polisie sonder twyfel aanspreeklik gehou sou gewees het. Die AWB-lede se onvoorspelbare en radikale optrede vereis dat die Polisie altyd op suiwer regsgronde teen hulle opgetree het.

Die bevinding van die kommissie is op 25 Maart 1998 bekend gemaak. Hierin word kritiek uitgespreek op mnr. Lucas Mangope en sy regering, maar veral op mnr. Mangope, die Suid-Afrikaanse regering en die Uitvoerende Oorgangsraad, die Afrikaner-Volksfront en genl. Constand Viljoen by name, die AWB en mnr. Eugène Terre’Blanche, die ANC, asook die Polisie. Elkeen is in mindere of meerdere mate vir die geweldpleging aanspreeklik gehou. Dit is opvallend dat die ANC, wat hom daarop toegespits het om die onafhanklikheid van Bophuthatswana te vernietig, en na my mening die onluste in Bophuthatswana ontketen het, die ligste daarvan afgekom het in die kommissie se kritiek.

Gedurende 1994 het die Vryheidsfront onder leierskap van generaal Viljoen 9 setels in die Nasionale Raad verower. Generaal Viljoen het ‘n baie goeie verhouding met mnr. Nelson Mandela gehad en laasgenoemde het hoë agting vir genl. Viljoen gehad. By geleentheid, waar voormalige hoofde van die Polisiemag en die Weermag samesprekings met mnr. Mandela oor die verlening van amnestie gehad het, het mnr. Mandela genl. Viljoen, wat deel van die Weermagafvaardiging was, genooi om by hom te kom sit en sodoende genl. Viljoen van die res van die afvaardiging geïsoleer.

Gedurende 2001 het genl. Viljoen die leierskap van die Vryheidsfront aan dr. Pieter Mulder oorhandig en uit die politiek getree. Hy het op sy plaas naby Ohrigstad gaan boer waar hy oorlede is.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

45

Genl. Viljoen se integriteit, eerbaarheid, Afrikanerskap en geloof in die Drie-Enige-God was kensketsend van sy lewe en sal altyd die kroon span oor my herinneringe aan hom.

Johan van der Merwe 18 April 2020

ooOOoo

In Memoriam

• Mevrou Anette Mellet, eggenote van wyle genl.maj. Leon Mellet is op 14 Maart 2020 in die Somerset-Wes hospitaal oorlede. Anette se skielike en onverwagse dood is met groot skok deur ons lede begroet.

• Op 18 Maart 2020 is mnr. Hennie (Paling) Stander, eggenoot van lt.genl. Magda Stander in Pretoria oorlede. Hy het na ‘n groot stryd met kanker, soos Magda dit met groot hartseer gestel het, die tydelike met die ewige verwissel.

• Op 3 April 2020 het ons ook afskeid geneem van genl.maj. Jan Lourens van Valhalla, Pretoria. Hy het aan nierversaking gely. Sy laaste standplaas in die Mag was in Johannesburg.

• Genl.maj. (dr) Tertius Geldenhuys is op 13 April 2020 na ’n lang siekte oorlede. Ofskoon hy nie ‘n lid van die Generaalsklub was nie, was hy welbekend aan ons lede. Hy het by Regsdienste in Hoofkantoor gewerk.

Ons eer hul nagedagtenis en betuig ons innige meegevoel met hul naasbestaandes.

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

46
Wyle mev. Anette Mellet 10.01.1952 – 14/03/2020 Wyle mnr. Hennie (Paling) Stander 09.04.1941 – 18.03.2020

Wyle genl.maj. Jan Lourens 15.09.1940 – 03.04.2020

Wyle genl.maj. (dr) Tertius Geldenhuys 07.05.1955 - 13.04.2020

Uit Sharon se Foto Album

Voor: Genl.maj. Sharon Schutte, lt.genl. Magda Stander

Agter: Dir. Erika van Eyk, genl.maj. Abrie Burger en brig. Elzet Adlam. Die foto is geneem net na brigadier Duveen Botha se roudiens. --ooOOoo--

Tel. 083 625 2380

012 803 0990

epos: jhferreira0@gmail.com

47
ooOOoo

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.