8 minute read
‘N VERSUGTING: DIE POLISIE IS SOOS ‘N MINNARES IN ‘N POLISIEMAN SE
Al jou tyd is tot die beskikking van die staat .....
HBH
Advertisement
As redakteur van die Nongqai vir bykans 12 jaar, kyk ek terug op ‘n verreikende ervaring. Mense skakel my op my selfoon van regoor die wêreld –op een dag praat ek met vriende in Switserland, Nederland, Guatemala, Mississippi of Skotland. Ek ontvang e-posse van reg oor die wêreld! Dankie. Iewers op die aardbol sit ‘n oud-SAP-lid of ‘n oud-SAW-lid wat via die internet die Nongqai lees en “iets” wil sê. Ek voel al soos ‘n biegvader want ek deel nie alles met ons lesers nie...... Ek kry versoeke soos: my Vader was ‘n polisieman en hy is oorlede net na my geboorte, 60 jaar gelede. Hy was op Stamford Hill in Durban gestasioneer is daar miskien iemand wat my kan vertel hoe ‘n mens hy was? Van ‘n Zulu-dame: Ek soek na my Vader hy was iewers in Soweto gestasioneer. My Moeder is oorlede en het my nooit vertel wie hy was nie. Kan jy my help om hom op te spoor ... jammer ek het nie sy naam nie ... hy het Afrikaans gepraat ... ek vermoed hy was ‘n Bruinman. Oom ek weet oom en my Vader het saam in die veiligheidspolisie gewerk en dan ‘n stortvloed van vrae oor sy Vader en oor die veiligheidspolisie... Mens voer gesprekke met mense en daar is daardie soeke en heimwee na die polisieman-pa. Ek verduidelik die polisie het alles van ons geëis. Die polisie was soos ‘n minnares wat aanspraak op ons hele lewe gemaak het. Jou aanstaande vrou was gekeur, jy moes toestemming kry om te trou, jou vrou moes toestemming kry om te werk – honderde reëls oor jou lewe en jou doen en late. So op ‘n Sondag-oggend gedurende die sestigs ry die streng distrikskommandant kerk toe. Hy ry by ‘n kaptein se huis verby. Die kaptein met kaal bolyf sny gras. Groot moeilikheid vir die kaptein –hy ‘gedra hom op ‘n wyse’ – daardie wyse pas nie by ‘n polisie-offisier nie! As gevolg van die suksesvolle, volgehoue propaganda-oorlog voel baie mense vandag skuldig. Baie polisiemanne se kinders voel “skuldig” juis omdat hul Vaders aan die veiligheidspolisie verbonde was. Hulle voel skuldig omdat hul Vaders moontlik mense kon gemartel het en selfs mense se dood veroorsaak het. Ons uit die vorige bedeling kry ook glad nie die erkenning wat ons toekom nie! Wat? Kom ek stel die saak kortliks in perspektief: Ek was ‘n ooggetuie en ‘n bevoorregte polisieoffisier – ek het op die hoogste forums in die land gedien maar later het ek ook met albei voete vas op die grond gestaan in swartwoonbuurte tussen die bloed en die riool! Met ‘n kakofonie van klanke rondom my – van huilende babas, blaffende plaaslike honde en polisiehonde, sirenes, die helikopter bokant ons, die dreunsang, die “loe-loe-loe” en stampende voete van opgesweepte en ongeduldige mense en polisie luidsprekers. Die dreun van Casspirs ... Die reuke in die lug en die rook van Meloding, Thabong en Soweto! Mense wat die polisie aanval met klippe ... die reuk van brandende huise, motorvoertuie en sakesentrums wat brand... Dis soos ‘n droom. ‘n Nagmerrie. Saans as jy in die bed lê hoor jy steeds die geraas, ruik jy steeds ... , flits klippe steeds by jou verby!
Kom ons begin by die begin: Eerstens het ons ‘n Nobel-pryswenner, hoofman Albert Luthuli gehad wat met die regering wou onderhandel. Toe wou hulle nie!!! Ek was by toe mnr Robert Kennedy – broer van JFK – Durban toe gekom het om mnr Luthuli te spreek. (Ek het toe al begin dink.) Intussen het mnr Mandela vir
(Continued from page 89)
meneer Luthuli ingelig dat die SAKP-ANCalliansie op 16 Desember 1961 tot die gewapende stryd sou toetree. Hier het die poppe begin dans! Tot 1961 was die bekamping van die SAP van die rewolusionêre aanslag deur die howe en is administratief teen mense opgetree. Van 1961 is die stryd ook ondergronds gevoer en moes die polisie aanpas by die stryd. Ons moes voorspring operasies loods om die publiek, getuies en ons eie lede se lewens te beskerm! Dade van sabotasie was in die 1960’s baie algemeen. Toe in 1966 begin die insurgensiestryd. Vanaf die 1970’s het die SA Polisie aan die regering van die dag verduidelik dat daar ‘n politieke oplossing moes kom. Ons was baie min polisielede en ons moes onmenslike eise van die regering en die oppergesag van die polisie uitvoer – soms in haglike omstandighede sonder kos en slaapgeriewe! Ons het min toe- en uitrusting gehad! Ons het die verandering in die land moontlik gemaak, die politici in staat gestel om te onderhandel en genl Constant Viljoen is deur die kommissaris van polisie gewaarsku om nie te probeer om ‘n staatsgreep uit te roep nie! Tot en met die middel-negentigs het ons baie lang ure hard gewerk en nie altyd die steun en begrip van die politici, die media of ons families gekry nie. Baie mense het aan PTSS begin lei –ons het selfs die Harms- en Goldstone kommissies gekry. Ons as polisiemanne en soldate moes vasstaan! ‘n Skoolvriend was ‘n apteker en hy het my vertel hy was verbaas oor die baie kalmeermiddels wat aan polisiemanne voorgeskryf word. (Meer as aan die publiek.) Nadat ons “alles moontlik” gemaak het – die sogenaamde nuwe Suid-Afrika kry die veiligheidsmagte geen erkenning vir hul rol nie. Daar was ‘n waarheids- en versoenings komitee (WVK) – daar was min “waarheid” van die anderkant MAAR geen versoening nie! Soos ek aan ‘n Engelsman vertel: “Plenty cop-bashing!”) 150 Regstudente gaan ingespan word, aldus persberigte die week, om polisie-vergrype van die apartheid-periode te ondersoek! Ek was op die “grens”, ek was skakel-offisier met Mosambiek en ek was bykans vier maande in die Verre-Ooste (waar ek Rooi Chinese kommunisme eerstehands gesien en ervaar het) MAAR niks gesien wat so erg soos die Kerkstraatbomontploffing nie! Ek was daar, tussen die wrakstukke deur geloop, mense gehelp en dit was so onwerklik! Self op die 20ste verdieping van die Poynton-gebou was ruite gebreek! Dit was die afskuwelikste massamoordtoneel wat ek ooit in my loopbaan gesien het. Wie is daarvoor aangekla? Van jongs af het ek baie geskiedenis gelees. Om aanklagtekantoor te werk op nagdiens vir 12 nagte uit 14 nagte was suiwer plesier – ek kon honderde boeke aan diens lees wanneer dit stil was. Ek het baie oor die tweede wêreldoorlog gelees en was bewus van die Nazi’s en die Nuremberg-verhore. Die sonderlinge behandeling wat Hess ontvang het, het my opgeval. Ek het ‘n studie van die tweede wêreldoorlog en die gevolge daarvan gemaak met inbegrip van die sg Koue-oorlog. Ek kom nou by die punt: Ten spyte van al die ‘goed en goeie’ wat ons vermag het kan ons GEEN beloning verwag nie! Ons het die publiek beskerm en veilig gehou en die land kalm gehou, sodat die politici ‘n vreedsame onderhandelde skikking kon bereik. Maar “ons” word ons steeds vervolg – daar is geen gelykheid voor die reg nie! Die geallieerde magte het ook baie wandade gepleeg maar slegs die Nazi’s is vervolg en verhoor – in teendeel, baie bejaarde Nazi’s word steeds vervolg, indien hul opgespoor word. Net soos daar niks goed uit, of oor, Duitsland (1933 - 1945) en die Gestapo geskryf kan word nie, net so min durf daar iets goeds oor “apartheid-Suid-Afrika” en veral die
(Continued from page 90)
veiligheidspolisie geskryf word nie. Neem een voorbeeld van die anderkant: Suid-Afrikaners is in ‘n kamp in Angola aangehou. Sommige van die prisoniers is in die sand begrawe sodat net hul koppe uitgesteek het. Die prisoniers is toe deur ‘n bekende Suid-Afrikaner elkeen een skoot in die kop geskiet! Dit was na bewering in ‘n ANC-kamp. Is die storie waar? Ek vertel dit soos ‘n politikus dit vertel sonder om te noem wie die sondebok was. Die storie het my laat ril! So geen erkenning vir die oud-polisiemanne nie –net skuldgevoelens word bykans daagliks gekweek. Dit alles is deel van die rewolusionêre aanslag wat in ‘n mate steeds voortduur. Desperate aksies deur die opposisie het tot gevolg gehad dat die polisie (alle afdelings) ook futiele en desperate aksies geloods het – soos te verwagte word net die voormalige-SAP vervolg. Soms het die staatspresident of minister, destyds, spoedige optrede geëis. Dink aan die stres op die polisie – hul kry druk van die polisie-owerhede, druk om suksesvol te wees en druk van hul geliefdes omdat hul nooit tuis was nie. Daardie bose minnares het al jou tyd vereis. In my lewe was daar in my gemoed ‘n tweestryd tussen “God” en die “Polisie” –‘n ware digotomie – soms het ek die Polisie “bo” God – My Genadige Vader – geplaas en nie in die Kerk gekom nie weens werk! (Dink maar aan “Raka en Koki” van die digter Van Wyk Louw.) Die miskenning van die SA Polisie (en SA Weermag) se telkaart vandag, die doelbewuste skuldgevoelens wat gekweek word en die dreigende hofsake is ‘n enkele voorbeelde wat negatief op families en kinders van polisiemanne inwerk! Dit kom nou al van 1994 – dis ‘n leeftyd! Ook moet skuld vir hierdie toestand op politiek van die verlede en op sekere boefagtige en swak offisiere van destyds wat in hoë posisies was, geplaas word! Baie senior offisiere het ook die skuld vir oproer en onluste vierkantig op die skouers van die plaaslike bevelvoerder geplaas: “Kan jy nie die toestand beheer nie!” Ander senior offisiere was suiwer bang (kom ek sê versigtig) en het werklik agter “werk” weggekruip en NOOIT die kontaksituasies besoek nie. Sommige senior offisiere het slegs hul “rang” gehad en niks anders nie – sommige was ongenaakbaar en “oneerlik” in die proses en het eerder onderdane geboelie! Gelukkig was hierdie tipe offisiere in die minderheid. Vandag kyk ek terug en weet wie ware leiers in die Mag was, wie in kantore weggekruip het en eerder onderdane geboelie het om hul gesag te laat geld. Ja, ek weet van “vrot kolle” – ek is nie die enigste een wat dit geweet het nie - maar ons leef nie in