4 minute read

TROU TOT DIE DOOD TOE: Genl Johan

Next Article
Nawoord: HBH

Nawoord: HBH

TROU TOT DIE DOOD TOE

Genl Johan van der Merwe

Advertisement

Dr. Swart het my dringend ontbied toe hy hoor mev. Mandela is op Brandfort ingeperk. Hy was woedend omdat hy nie geraadpleeg is nie. Ek het verduidelik dat ons self van niks geweet het nie. Dr. Swart het mnr. John Vorster, wat toe Eerste Minister was, gebel en geëis dat mev. Mandela elders hervestig moet word. Mnr. Vorster het gesê hy sal kyk wat hy kan doen, maar het later laat weet dat die omstandighede in die land dit ongelukkig vereis. Brandfort sou nooit weer dieselfde wees nie. Mev. Mandela het die plek in ʼn ommesientjie op horings geneem. Sy het geweier om by enige plek die nie-blanke geriewe te gebruik. Gou het sy die hele swart gemeenskap agter haar geskaar. Sy het ʼn sterk persoonlikheid en charisma gehad en kon haar in enige geselskap laat geld. Van die vooraanstaande blanke vroue op Brandfort het haar vir tee genooi en dit het die atmosfeer verder vertroebel. Hoofkantoor was oortuig daarvan dat mev. Mandela ʼn belangrike rol gespeel het in die onluste wat in Soweto losgebars het. Volgens hulle was sy beslis die spil waarom talle ondergrondse bedrywighede gedraai het. Genl. Burger het my later vertel dat toe hulle vroeg die oggend van 16 Mei 1977 mev. Mandela by haar huis in Orlando-Wes gaan inlig dat sy na Brandfort verskuif word, hulle haar in die geselskap van Peter Magubane aangetref het. Hy was ook ʼn ingeperkte. Sowel hy as mev. Mandela kon weens ʼn oortreding van hul inperkingsbevele vervolg word. Genl. Burger (toe kolonel) het Magubane egter bloot gewaarsku en hy het dankbaar die hasepad gekies. Sers. Gert Prinsloo het die minder aangename taak gehad om mev. Mandela se doen en late op Brandfort te monitor. Hy het informante, meeluistering en letterlik elke moontlike bron ingespan om vas te stel of sy nog politieke vure aanblaas. Hy het mettertyd inligting van informante ontvang wat daarop gedui het dat sy haar inperkingsbevele in verdagte omstandighede oortree het. Die destydse prokureur-generaal van die Vrystaat het besluit om haar op verskeie aanklagte te vervolg. Adv. George Bizos het haar verdedig en van ons getuies aan flarde geskeur. Sy is wel op een aanklag skuldig bevind, maar dit is by appèl ter syde gestel. In ’n stadium het ʼn dr. Chris Hattingh wat op Welkom gepraktiseer het, met mev. Mandela begin skakel en haar besoek. Aanvanklik was ons uiters agterdogtig en elke besoek en telefoongesprek is deeglik ontleed. Ons het egter gou agtergekom dat dr. Hattingh se belangstelling nie politiek van aard was nie en beslis nie met ondermynende bedrywighede verband gehou het nie. Dr. Hattingh het later genl. Johann Coetzee

by hoofkantoor gebel en gevra of mev. Mandela as ontvangsdame vir hom kan kom werk. Hy het belowe om die veiligheidstak oor al haar bedrywighede in te lig. Dit was duidelik bloot ʼn poging om mev. Mandela nader aan hom te kry. Ons het glad nie geglo dat hy werklik inligting sou oordra nie. Genl. Coetzee het die indruk gekry dat dr. Hattingh mev. Mandela mislei het, en het haar in my teenwoordigheid oor dr. Hattingh se voorstel ingelig. Hy het onder meer die stelling gemaak: “The man is simply a provocateur.” Mev. Mandela het nie die woord verstaan nie en uit die veld geslaan gevra: “A what?” Genl. Coetzee het verduidelik, maar ek het dadelik besef dat mev. Mandela kop in een mus met dr. Hattingh was. Hulle het saam die plan bekook om ons te oorreed om haar by hom te laat werk. Ná genl. Coetzee se verduideliking het mev. Mandela glimlaggend gesê dat sy niks onwettig doen nie en dat dr. Hattingh geen bedreiging inhou nie. Sy sou graag vir hom wil gaan werk. Die versoek is noodwendig geweier. Dr. Hattingh het later teen ʼn bees vasgery terwyl hy onderweg na Brandfort was. Hy is op slag dood. Gerugte het vinnig die ronde gedoen dat die veiligheidstak die bees doelbewus in die pad gejaag het. Die feit dat so iets prakties onmoontlik is, het die opstokers ontgaan. Tydens haar inperking op Brandfort was dit mev. Mandela se modus operandi om die reg openlik uit te tart, maar in sorgvuldige oorlegpleging met haar regsadviseurs. Sy het ’n beeld geskep van ’n verbete aktivis wat by ondergrondse bedrywighede betrokke is, maar in werklikheid bloot uittartend opgetree. Só het sy die veiligheidstak voortdurend op haar nek gehad, wat aan haar die status van ʼn politieke aktivis verleen het sodat sy uit verskeie oorde geldelike hulp ontvang het. Sommige van ons informante het op grond van haar reputasie voorvalle wat op blote uittarting neergekom het, só geplooi dat dit op ’n verbreking van haar inperkingsbevele neergekom het. Dit het ons telkens bedroë daarvan laat afkom. Daar is nooit enige bewyse gevind dat sy werklik by ondergrondse bedrywighede betrokke was nie. Hoofkantoor was nie oortuig daarvan nie en mev. Mandela moes verskeie jare op Brandfort bly. Haar inperking is op 7 Julie 1986 opgehef en sy is toegelaat om na Johannesburg terug te keer.

W Madikizela-Mandela (gebore as Nomzamo Winifred Zanyiwe Madikizela op 26 September 1936; oorlede op 2 April 2018 in Johannesburg) was 'n Suid-Afrikaanse aktivis en politikus wat verskeie regeringsposisies beklee het, en ook hoof van die ANC se Vroueliga was. Sy was ook 'n lid van die ANC se uitvoerende komitee. [ https://af.wikipedia.org/wiki/Winnie_MadikizelaMandela - afgelaai op 24-07-2021]

Vervolg met HOOFSTUK 3 en gaan oor: Suidwes: Swapo, Koevoet en die Geneefse beraad

This article is from: