2 minute read

BOODSKAP OP DIE KIS: Hennie van

Next Article
Nawoord

Nawoord

Die storie van Susie Terblanche en die selfmoord met miergif in 'n telefoonhokkie is al hier vertel, as ek reg onthou. Met die heengaan van haar man, Oom Gert, verdien dit dalk 'n "herdruk". Wanneer die telefoon by die koerant lui, kan dit een van duisende dinge beteken: ‘n opgewonde jong vader wat die geboorte van sy eersteling wil aankondig, ‘n ramp, ‘n scoop, ‘n pluimpie, ‘n dreigement – selfs die somber mededeling dat die lewe vir iemand te veel geword het. So ‘n traumatiese oproep het mev. Susie Terblanche, eggenote van die nuusredakteur, in die vroeë 50’s ontvang. Al die inkomende oproepe ná vyf in die middag is outomaties na hul huis deurgeskakel. Sy en haar man, Gert, se verstandhouding was dat sy die rol van instaansekretaresse volledig op haar sou neem. As Susie by die stoof doenig is, skakel sy maar die plate af. As die jong moeder die baba bad, draai sy hom – waarskynlik nog Emile wat later self koerantman geword het – so sopnat vinnig in ‘n handdoek toe, en tel met hom al skoppende onder die arm die gehoorbuis op. Een middag om vyfuur lui die foon. Oudergewoonte antwoord sy: “Volksblad hier”. Die middag se stem is gejaagd. Hy moet baie dringend met die nuusredakteur praat. Sy beloof om ‘n boodskap te gee. Hy vra of hy dan asseblief maar sy storie vir haar kan vertel. Hy kan nie wag nie. Sy is die laaste mens met wie hy sal praat en hierdie is die laaste versoek wat hy ooit sal rig. Hy staan met ‘n bottel miergif in die hand en hy gaan dit nou drink. “Praat maar.” Hy wil net vra dat die nuusredakteur tog môre sal skryf hoekom hy sy lewe geneem het. Dit is alles sy skoonouers se skuld. Sy belowe. Sy sal die boodskap gee. Sy kan ongelukkig nie waarborg dat dit so gepubliseer sal word nie. Klink na laster. Sy paai en praat mooi, maar hy hou vol: sy besluit is geneem. Oor ‘n paar minute is alles verby. Sy vra waar hy is. In ‘n telefoonhokkie in ‘n hotel, antwoord hy. Sy sê dat hy nie oorhaastig moet wees nie. Sy kan ‘n predikant stuur om hom te help. Te laat, sê hy. Hy vertel dat hy ‘n verkeersman met ‘n pragtige tweeling is. Toe ‘n paar snikke en ‘n hartverskeurende: “Ek kan nie meer nie ... ek kan nie meer nie.” Vir ‘n paar oomblikke is dit doodstil. Dan ‘n geluid. Sy hoor hoe die gehoorbuis heen en weer swaai. Tak, tak, tak kap dit teen die muur van die telefoonhokkie. Die volgende dag hoor Die Volksblad by die polisie die res van die storie. Hulle is net ná vyf ontbied na die Hotel Bloemfontein in Maitlandstraat. ‘n Man het in ‘n telefoonhokkie miergif gedrink. Hy het nog ‘n paar uur gelewe. Mev. Terblanche was vreemd geroer deur die oproep. Sy gaan met ‘n kransie na AVBOB en vra dit moet op die man se kis kom. Aan die krans is ‘n kaartjie: “Ek het jou boodskap gegee.”

(Boodskap op die kis: Uit die bundel “Koerantkamerade” deur Hennie van Deventer, verskyn in September by Naledi uitgewers)

Advertisement

This article is from: