1 minute read
MY OPLEIDING IN DIE SAW: Wied Jonk
Wied Jonk
In 1971 het ‘n nuwe koers vir vroue in Suid-Afrika aangebreek.
Advertisement
Waar die Outeniquas se tone vastrap, het 128 jong vroue n pad begin oopbreek in ‘n toe nog onbekende manswêreld. Op ‘n sonnige lentedag is ons soos slagskape in ‘n vreemde kraal ingeboender: Tree aan! Links om! Nee, ander links!! Voorwaaaarts! Mars! Vreemde opdragte wat bitter min van ons nog nie tevore gehoor het nie, maar ons was vasberade om deur te druk, met twee linkerarms of te nie.
Hier het ons bande gevorm wat die tyd deurstaan het. Die grondslag is gelê vir dissipline in ons wese, lewenslank Ons moes improviseer, voertuie diens, leer bestuur, tuisverpleging, noodhulp, flink dink en, improviseer! Net nie met die driloefening nie. Ons het naweke by die George hospitaal gaan diens doen en die verpleegsters gehelp en so ook ander se nood en pyn leer ken.
Selfverdedigingslesse en karate het ons paraat laat voel. Daar was gimnastiek, sommige het geskilder, gesing en ons fantastiese koor het oral opgetree. Die vroue het uitgeblink in verskeie sportsoorte.
Ek kom van ‘n plaas na ‘n laerskool in ‘n piepklein dorpie, na ‘n plattelandse hoërskool. Ek was bekrompe, skaam en sonder selfvertroue. Ek was soos ‘n kind in ‘n swietswinkel. Ek kon nie wag vir elke nuwe dag vol nuwe avonture.
Ek is so dankbaar iemand het die mosterdsaadjie geplant wat ‘n sterk, lewensveranderende boom geword het in meeste van ons se lewens. Hierdie opmars in die militêremag in Suid-Afrika.
Ons kon uitpasseer met selfvertroue, paraat met waardigheid en n samehorigheid wat nou na 50 jaar steeds voortleef. Die jare tussenin het weggeval, die drade word weer opgetel en saamgevleg.
Ek en nege ander soldoedies het in 1972 mekaar by nog ‘n eerste in SA, die polisiekollege weer raakgeloop, of is dit raak gedril? Ek en een van hulle Magda Wilken, nou Storm, loop al 50 jaar saam, onbepland maar wonderbaarlik .
Dis ‘n vreugde om terug te kyk op hierdie Route 50!