5 minute read

OM AGTERPAAIE EN GRONDPAAIE TE RY IS SOMS NODIG: Dalene Steenkamp

Next Article
Nawoord

Nawoord

Ek het groot geword as ‘plaaspolisieman’ se kind in tye waar my pa op die kleinste buitewyk polisiestasies gewerk het en nog plaas patrollie moes ry. Ek het my verstand begin kry in die suide van Suidwes op Aus. Daar het ek drie jaar oud geword. Pa het gereeld woestynpatrollies gedoen, want dié deel grens aan die Spergebied gedeelte teen die weskus van Namibië. Ook moes daar gepatrolleer word vir langplaas jagters en die boere, wie ontsettende groot plase in daardie areas gehad het, moes besoek word vir vee, vuurwapenregisters en dies meer. Later jare was ons in die noorde van Suidwes in die Otjikondodistrik. Daar is gery tot teen die Etosha- en die Kaokolandgrens om plaaspatrollies te doen. Dit was ook in die aanvangsjare van die destydse terroriste insypeling van uit Angola Nog later was dit vanuit Oranjemund direk in die Spergebied in teen die weskus op na al die plekke waar daar in die vroeë veertiger- en sestigerjare begin is om in diamante te delf. Ons het plekke besoek en by gekuier wat meeste mense nog nie eers van gehoor het nie of dalk slegs die name daarvan in boeke gelees het. Bogenfelds, Pomona, Bakers Bay, Elizabeths Bay. Die strand van robbe waar die groot see olifante soms ook heen gekom het. Pa het die woestyn geken soos die palm van sy hand en kon ‘n duin ry soos min ander. Ons het agate opgetel. Ons het sandrosies bymekaar gemaak. Ons het die Namib se duine op en af gespeel en geklim. Die hoogste duin waar ek in die Namib was, is nie die bekende Duin 7 tussen Walvis en Swakopmund nie, maar ‘n knewel wat gedoop was On Top of the World in die Spergebied tussen Oranjemund en Lüderitz. Ons vakansiemekka was maar altyd Hentiesbaai of Myl 72, toe daar feitlik nog niks was nie. Vir al hierdie omswerwinge het pa ‘n patrollie kas gehad wat toegerus was met als wat nodig was vir oorlewing en nood. Pa was altyd die kok. Hy kon die beste pot maak wat jy oor kon droom. Hy het ons geleer van kreef uit die see haal en in seewater kook op die strand. Hy het ons geleer hoe om lenchen uit te ken en nie te vertrap nie. Pa het geweet waar broei die volstruise in die woestyn en waar was die oases wat uit die niet tussen die duine op gesypel het wat die drinkplek vir die gemsbokke, jakkalse, strandjutte en ander diere was. Pa het ons geleer om op ‘n duin te kyk vir die sidewinder spoor/ sleepsels, sodat jy nie onkant betrap word met ‘n slang nie. Ons het Bogenfelds rots uitgeklim en uitgekyk oor die Atlantiese oseaan waar die koue Benguela verby stroom. Ons het so baie geleer by pa. Pa was ook ‘n veld braai man. Vele naweke het pa sommer net kar gepak, ‘n worsie en ‘n rooster ingedruk en ‘n koers in gery en iewers teen ‘n oop grondpad ‘n worsie gaan braai. Seker maar ook om ons bietjie van energie te laat ontlaai en self kop skoon te maak. Pa en ma leef lankal nie meer nie, maar hierdie rondrits tradisie van sonder fensie fieterjasies iewers koers in te slaan sit vandag steeds in my siel vas en dit is wat maak dat ons soms, wanneer die boerdery dinge ons bietjie toelaat, ook sommer net koers inslaan en iewers heen ry. So het ons die maand Julie ingedraf om so bietjie ‘n konvooi

van vriende en die kinders en kleinkinders ook weer op te kommandeer en die agter grondpaaie van die Kalahari te gaan aandurf om net sonder sorge langs die pad ‘n worsie te braai en die kalkstof van die oeroue sediment gesteentes van die stukkie land te betrag. Ons het Olifantshoek deur gery, koffie gaan drink by die Rooikar Padstal buite Olifantshoek. Vandaar wes gedraai en die grondpaaie aangevat deur Vuilnek en die pad verder gevolg Pearsons Hunt se kant toe. Kortkort gestop om die kleinkinders te laat wind skep, te gesels, iets te nuttig en weer verder aangery. Iewers langs die pad (waar daar op ‘n besige dag dalk drie voertuie verby ry) het ons wors gebraai en sommer ons kamp stoele in die pad oopgeslaan. Die kleintjies het hulle kettievernuf (of nog ‘n gebrek daaraan) probeer opskerp. Daar is ‘n vreeslike gedoente gemaak oor ‘n steenbok wat dood gery is. Ons het daarvandaan weg gebeur Van Zyl’s Rus se kant toe en voor van Zyl’s weer terug gedraai in Olifantshoek se rigting, meer oos, terug Deben se kant toe. Weer weggedraai, Mellypad gevat en om die Langberg terug gery na Olifantshoek, waar ons verby die Pudu/Watermeyer wildplase gekom het. Soms is dit lekker om net die gevoel van sorgelose kind wees en kinderjare ondervinding weer terug te kry in mens se lewe, met die mooi herinneringe wat daarmee gepaard gaan.

Advertisement

FOTO’S

My kleinseun Jacobus Minnaar (7), geklee in die kamoefleer drag saam met sy maatjie Rehanco dra ‘n dooie steenbok uit die pad om te probeer vas te stel wat die geslag en werklike oorsaak van sy dood was.

My kleindogter, Mia Minnaar (3), waaghals van formaat, met haar kettie op die stofpad, vasberade om ‘n tarentaal te gaan plat trek om vir ouma ‘n pot te kan maak. Rooikar Padstal: Die padstal is geleë so ongeveer 20km uit Olifantshoek in die Upington-rigting op die N14 roete. Regtig ‘n belewenis om daar te stop, die eienares, Martie, is ‘n voorslag vrou. Sy het een jaar, lank gelede, die Suid-Afrikaanse Boereworsmaker-kampioenskappe gewen, dus is dit ‘n moet om daar te stop om biltong en droëwors daar te koop as mens iets lekker soek om te eet. Hulle bedien ook ander etes en versnaperinge en soetighede.

Rooikar Padstal se kar. Dit is die voertuig waarna die Rooikar Padstal vernoem is. Volgens my kennis is dit steeds in goeie lopende toestand.

Pomona, een van die verlate diamantplekkies aan die weskus van Namibië in die Spergebied. Die eens glansryke bestaan en glorie is verlore en vergete in die woestyn- en see elemente.

Koffie en verversings word benut langs (in) die pad met so konvooi kuier en wegbreek na die stiltes.

Witpad tussen N14 oppad na Pearsons Hunt Vuilnek pas oor

This article is from: