5 minute read
Nongqai Vol 13 No 7
In hierdie maand se Nongqai word daar so baie pitkos aangebied. Wat my veral getref het, is die nuwe rubriek “Eietydse Polisiëring” en die onrusbarende feite wat daarin reflekteer word. Seer sekerlik wil mens nie dat Nongqai in die partypolitieke debat verstrengel raak nie. In ag genome egter dat daar ‘n wesentlike verskil is tussen partypolitiek voer, en legitieme gedagtewisseling oor nasionaal-belangrike politieke kwessies (waarvan wet-en-orde in die breë altyd, in enige land, ‘n uiters belangrike komponent is) glo ek dat dit tyd geword het om padlangs te praat oor die stand van polisiëring in Suid-Afrika. Maar nie net daaroor nie – ook die stand van dienslewering in die algemeen in die openbare sektor. Ek glo voorts dis belangrik om dit vanuit ‘n arendsoog perspektief te doen (m.a.w., die globale prent, en die strategiese impak en implikasies daarvan) want andersins kan mens in hare-klowery oor die detail verval – soos die Engelse sê, dan nie die bos van die bome onderskei nie.
Sekerlik die eerste plig van enige owerheid, van oertyd af, was en bly die beskerming van sy burgers. Dit raak drie vlakke: eerstens beveiliging teen aanval van buite (die taak van ‘n weermag), tweedens die beskerming van die individu binnelands, teen misdaad, en derdens die beskerming van die gemeenskap en die staatsinstellings teen openbare geweld en wanorde. Die laaste twee funksies rus op die skouers van die polisie.
Advertisement
Maar as die polisie nie eers hulleself of hulle eie infrastruktuur kan beskerm nie (verwysend na die R11biljoen spandeer aan privaat-beveiliging) watter vertroue kan Jan Alleman dan hê dat die polisie vir hom, sy gesin en gemeenskap sal kan (wil?) beskerm teen misdaad en openbare geweld?
Die erns van die misdaad-situasie, soos dit individue raak, spreek duidelik uit die aangehaalde statistiek. Die tendens is boonop sterk verslegtend. Die gebeure in Julie verlede jaar in KZN en Gauteng, het die onvermoë om die gemeenskap teen wanorde en geweld te kan beskerm, eweseer blootgelê. Dis nou ook weer onderstreep deur die onvermoë om die onwettige Eskom-stakers aan bande te lê. Benewens die uiters negatiewe effek wat dit op mense se sieleheil het, om so in vrees te moet lewe, het die vlak van onbevooegdheid om die Staat se mees basiese funksie en verpligting en teenoor sy burgers te vervul, uiters ernstige ekonomiese gevolge. Dit strek van versnelde emigrasie van hoëpotensiaal-mense (wie se verlies die land nie kan bekostig nie) na bes moontlik
afgradering van kredietwaardigheid, stremming van reeds kranklike ekonomiese groei en verskerping van hemelhoë werkloosheid – om nie eens die biljoene aan fisiese skade en ontwrigting verloor, te noem nie.
Gegewe die skerp toename in die waarskynlikheid van polities-gedrewe openbare onrus vorentoe (soos wat inflasie, resessie en voedseltekorte gaan dieper byt) glo ek nie hierdie probleme kan meer met “hier vat en daar probeer keer” reggemaak word nie. Dit gaan nie ten eerste oor verbeterde bestuurstegnieke, aanpassings van begrotingsprioriteite of selfs vernuwing van top-leiding nie – hoe nodig dit alles in sigself mag wees. Dit gaan fundamenteel oor die onderliggende kultuur wat posgevat het. Veral dan die gebrek aan onderliggende waardes van dienswilligheid, persoonlike verantwoordelikheid, nastrewing van uitnemendheid en bowenal van ‘n verbintenis tot doen wat moreel goed en reg is (eerder as dat die amptenaar doen, dit wat hy/sy dink hulle mee kan wegkom). Die staatsdiens kan nie ‘n plek wees waar jou konneksies vir jou ‘n possie verseker, bloot met die oog daarop dat jy maand-eind ‘n tjek kan bank nie – sonder dat daar die nodige quid pro quo gelewer word waarop die belastingbetaler vir sy befondsing van die Staatsdiens, geregtig is.
Suid-Afrika het lank reeds die posisie bereik waar alles wat voorheen as verantwoordelikheid van die Staat geag is (soos bv. onderwys, mediese sorg en gesinsbeveiliging) nou privaat voor betaal moet word. Sekere dienste kan egter nie so maklik privatiseer word nie, soos water en krag, paaie en dan beskerming van die gemeenskap teen openbare oproer. Dis aksiomaties dat misdaad gaan styg, soos wat inflasie, werkloosheid en voedseltekorte toenemend gaan knyp. Dis ook hoogs waarskynlik dat Suid-Afrika nie die sosiaal-politieke onrus wat sulke moeilike tye tipies die wêreld oor meebring, sal kan vryspring nie. Daardie onrus sal verder verhit word deur die toenemende polarisasie en konflik binne die regeringsparty, en deur daardie party se toenemend moeilike stryd om meerderheidsteun te bly behou (mens sidder om te dink wat gaan gebeur, as in ‘n toekomstige verkiesing daar nie ‘n volstrekte wenner sou wees nie).
Wat is die oplossing? Ek is bevrees daar is nie ‘n voor-die-hand liggende een nie. Daar’s eenvoudig nie ‘n towerstaf daartoe opgewasse, a.g.v. die omvang en diepte wat die probleme reeds toegelaat is om aan te neem nie. Gewis moet mens sekerlik alles doen en probeer, op mikro-vlak. Maar mens bluf jouself, as jy nie wil erken dat die kernprobleem van ‘n makro-aard is nie.
En die uurglas loop uit...
Elke verantwoordelike ouer sal koelkop na eie toekoms-opsies moet kyk, en elke plaaslike gemeenskap sal ook sy gebeurlikheidsbeplanning moet in plek kry – altyd binne die perke van die wet, altyd bedag op die inherente plofbaarheid van ons bevolkingsamestelling, en altyd gemik daarop om dinge te verbeter, en nie onbesonne te vererger nie.
Twee spreuke sal tel: eendrag maak mag, en eerder voorbereid as daarna spyt...