
13 minute read
VOORWOORD
Die handleiding en fasiliteerdersgids dek al die werk van graad 4 Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT). Die boek is opgestel in lyn met die KABV-riglyne wat die Departement van Basiese Onderwys vereis.
Die KABV gee ’n uiteensetting van die minimum werk wat gedek moet word. Die handleiding en fasiliteerdersgids bevat soms meer inligting as wat die KABV vereis.
Die boeke is in vier eenhede en 18 lesse verdeel. Elke les word oor ’n tydperk van twee weke behandel (10 uur), en elke eenheid strek oor ’n kwartaal. Eenheid 1 en 2 is in fasiliteerdersgids 1/2,
en eenheid 3 en 4 is in fasiliteerdersgids 2/2. (Die handleiding is in vier boeke verdeel, elke eenheid op sy eie.)
Aan die einde van eenheid 2 en eenheid 4 (kwartaal 2 en 4) skryf die leerders eksamen (verwys na die portefeuljeboek).
Eenheid 1 bestaan uit vyf lesse.
• Les 1: Jy is ’n reënboog! • Les 2: Waar wil jy woon? • Les 3: Onder my bed ... • Les 4: In die winkel • Les 5: Taai tongknopers
Eenheid 2 bestaan uit vier lesse.
• Les 6: Ware vriende • Les 7: Voor hulle vir ewig verdwyn • Les 8: Wees werklik, wees jouself • Les 9: Speel met sintuie
Eenheid 3 bestaan uit vyf lesse.
• Les 10: Geheime skatte • Les 11: Vreemde vlieënde voorwerpe • Les 12: Boomhuise • Les 13: Grawe die geskiedenis op • Les 14: By die teater
Eenheid 4 bestaan uit vier lesse.
• Les 15: Wonderhonde • Les 16: Besoedeling om ons • Les 17: Die towertrui • Les 18: Vakansie!
Die lesse is in aktiwiteite opgedeel, wat die leerinhoud en vrae daaroor bevat.
Elke les bestaan uit vier afdelings: • Luister en praat • Lees en kyk • Skryf en aanbied • Taalstrukture en -konvensies
Afdeling 1: Luister en praat
Luister en praat is integraal in alle tale. Hoe meer ’n nuwe taal gehoor en gepraat word, hoe makliker word dit aangeleer. Elke les begin met die bespreking van ’n onderwerp, wat die les inlei. Dit is belangrik dat leerders in die tweede taal praat en dit hoor. Hulle selfvertroue sal verbeter hoe meer hulle die taal praat.
Dit is belangrik om woorde duidelik en korrek uit te spreek wanneer tekste hardop gelees word. Help leerders ook reg indien hulle sinskonstruksie of woordgebruik verkeerd is wanneer hulle praat. Moedig leerders aan om een keer ’n week ’n Afrikaanse televisieprogram te kyk of na ’n Afrikaanse radioprogram te luister.
luistertoetse toegepas word. Die luisterproses word in aktiwiteit 1 uiteengesit. Neem kennis van wanneer die leerders notas mag neem.
• Luisterproses: Volg die luisterproses vir die eerste paar weke en kyk hoe die leerders vorder. Indien dit nie vir hulle nodig is om drie keer na die teks te luister nie, hoef die teks nie vir ’n derde keer gelees te word nie. Die proses moet egter in take/eksamens gevolg word.
• Lees hardop: Leerders gee soms vir mekaar ’n informele punt met die rubriek by die aktiwiteit en ander kere assesseer jy hulle informeel. Die rubriek in die bylae (addendum) kan ook hiervoor gebruik word. Let wel dat leerders wat minder gevorderd is dalk nie die hele teks sal kan lees nie – neem altyd die leerder se leesvaardigheid in ag. Die doel van die informele assessering is om leerders se lees te verbeter.
Afdeling 2: Lees en kyk
Hoe meer leerders met Afrikaanse tekste omgaan, hoe makliker gaan hulle die taalgebruik verstaan en dinge soos spelpatrone optel.
Indien leerders die leesteks in afdeling 2 self kan lees en verstaan sonder dat jy dit eers vir hulle lees, is dit goed.
Dit is belangrik dat leerders Afrikaanse tekste selfstandig lees. Verleen altyd hulp met die uitspraak of betekenis van woorde wanneer leerders selfstandig lees.
Leerders moet aangemoedig word om elke kwartaal ’n boek selfstandig te lees (sien “selfstandige lees”aktiwiteite). Moedig hulle aan om meer as een boek per kwartaal te lees, en om boeke in hul huistaal te lees (en in Engels, indien dit nie hul moedertaal is nie).
Indien daar nie genoeg tyd is om al die taalaktiwiteite in ’n les te doen nie, maak seker nuwe werk word behandel voordat vorige taalwerk ingeoefen word.
Afdeling 3: Skryf en aanbied
Hoe meer die leerders Afrikaans skryf, hoe beter. Wanneer ’n mens skryf, is jy meer geneig om grammatika beter te verstaan en spelling te oefen. Let op die skryfproses, wat in die handleiding en fasiliteerdersgids uiteengesit word. Moedig leerders aan om soveel as moontlik in Afrikaans te skryf. Hulle kan byvoorbeeld elke dag, apart van ander aktiwiteite in die handleiding, ’n paragraaf skryf oor wat hulle die vorige dag ná skool gedoen het, of dit kan met die aktiwiteite van die dag skakel.
Die leerders word ook aan ’n verskeidenheid soorte tekste blootgestel, elk met sy eie formaat (byvoorbeeld stories, dialoë, artikels, plakkate en gedigte).
Afdeling 4: Taalstrukture en -konvensies
Deur in interaksie met Afrikaans in gesproke of geskrewe formaat te kom, word die grondslag vir grammatika gelê. Alhoewel al die inhoud vereis deur die KABV in die handleiding gedek word, is dit raadsaam om bykomende taaloefeninge vir die leerders te gee. Dit hoef nie ’n aktiwiteit te wees nie, dit kan informele hersiening van die vorige dag se werk wees (byvoorbeeld ’n oefening waar die leerders sinonieme moet gee, of laat hulle die vertaling van Afrikaanse woorde gee).
Dit is uiters belangrik dat taalaspekte goed vasgelê word – dit vorm die basis vir alle taalwerk tot in graad 12 (die werk word in elke graad net moeiliker). Hoe meer leerders met die verskeie taalaspekte in aanraking kom, hoe beter word dit vasgelê.
Let ook op dat leerders meer selfstandig begin werk soos die jaar vorder. Verleen hulp indien nodig. As hulle byvoorbeeld die teks in afdeling 2 selfstandig kan lees sonder dat jy dit eers vir hulle lees, is dit goed – dit hang af van die leerders se vaardigheidsvlak.
TYDSTOEKENNING
Volgens die KABV moet leerders 5 uur per week in Afrikaans EAT onderrig word, dus 10 uur per les (wat oor twee weke strek). Dit beteken dat huiswerk nie by hierdie tyd ingesluit is nie. Indien leerders dus die aktiwiteite nie tydens onderrigtyd klaarkry nie, moet hulle dit as huiswerk voltooi.
Verder moet daar 2 uur aan luister en praat spandeer word, 5 uur aan lees en kyk, 2 uur aan skryf en aanbied en 1 uur aan taalstrukture en -konvensies. Soos reeds genoem, vereis die KABV dat taalstrukture en -konvensies binne konteks aangeleer word, dus is die tyd hiervoor ingesluit in die KABV se voorgestelde tye vir die verskillende afdelings.
Let wel dat die tydstoekenning by die aktiwiteite nie noodwendig tot 10 uur per tweeweeksiklus optel nie. Dit is omdat die tyd wat aan ’n aktiwiteit afgestaan word deur die getal leerders in die klas bepaal word. Sommige aktiwiteite vat ook langer, waar die fasiliteerder die leerders se lees assesseer, die voordra van ’n gedig, mondelinge, ensovoorts. Hier kan die aktiwiteit oor ’n paar dae strek sodat alle leerders kans kry om die aktiwiteit te voltooi.
Gebruik eie oordeel om seker te maak dat leerders deur al die werk kom. In sommige gevalle strek werk oor meer as een periode – wees oordeelkundig in hoe om hierdie lesse aan te pak.
BEPLANNING
Die boeke is só saamgestel dat die fasiliteerder so min as moontlik beplanning hoef te doen. Dit is wel nodig om goed vir die aanbieding van die lesse voor te berei (veral omdat die tyd wat aan aktiwiteite afgestaan word deur die getal leerders in die klas bepaal word).
Gaan deur die les en kyk wat jy moet voorberei (soos om die hardop lees van ’n teks te oefen, die klas te versier om by die tema te pas, die nodige voorbereiding vir taalspeletjies en ander aktiwiteite te doen, om vir die leerders te sê dat hulle die volgende dag items klas toe moet bring, ensovoorts). Beplan ook watter aktiwiteite jy op watter dag van die tweeweeksiklus gaan behandel (dag 1 tot 10). (Dit sal ook afhang van die leerders se skedule in ander vakke.)
Die aktiwiteite kan behandel word in die volgorde waarin dit in die boek is, maar dit is nie nodig om al die luister en praat-aktiwiteite aan die begin van die les te doen nie. Begin elke les met die eerste aktiwiteit en die aktiwiteite wat volg wat met die eerste aktiwiteit te doen het. Dit word aanbeveel om les 1 te behandel in die volgorde waarin die aktiwiteite is. In ander lesse kan die taalspeletjie byvoorbeeld eers later in die week gedoen word.
Indien leerders sekere taalaspekte goed bemeester het, is dit nie nodig om al die aktiwiteite in die klas te doen nie (of leerders hoef nie al die vrae in die klas te beantwoord nie). Indien hulle byvoorbeeld verstaan hoe afkortings werk, kan hulle die aktiwiteit oor afkortings as hersiening by die huis doen (wat dan in die klas gemerk word).
WOORDESKAT EN SPELLING
Leerders maak in les 1 hul eie woordeboek. Waar aangedui, moet hulle die woorde met hul betekenis, die Engelse woord gee, of ’n sin of prentjie in die woordeboek skryf/teken (sien meer besonderhede in les 1).
Leerders kan verder enige woorde wat vir hulle nuut of moeilik is in die woordeboek skryf. Hulle moet seker maak dat die woorde korrek gespel is.
Die leerders skryf ’n speltoets aan die einde van elke les. In plaas hiervan kan hulle elke dag of aan die einde van elke week ’n speltoets skryf.
Nadat lettergrepe in les 2 behandel is, moet leerders vir elke speltoets met ’n glimpen (highlighter) uitlig waar hulle moontlik verkeerd kan spel. Dit help hulle om vir lokvalle (traps) uit te kyk.
WOORDELYSTE
Die woordelyste in die bylae agterin die boek is vir verwysing. Daar is lyste met trappe van vergelyking, sinonieme en antonieme, geslag, vergelykings, ensovoorts. Dit is ’n goeie idee dat die leerders sover moontlik die inligting in die bylae leer (nadat die werk in die handleiding behandel is). Dit brei hul woordeskat uit en dit is kennis wat hulle tot in graad 12 gaan gebruik, asook in die alledaagse lewe.
OOR DIE TEKSTE
• Die nodige toestemming is verkry om die gedigte, stories en spotprente in die boek te gebruik. • Waar daar nie erkenning gegee word nie, het die skrywer van die boek self die stories/gedigte geskryf. • Alle ander tekste, soos koerant- en tydskrifartikels, instruksies en plakkate is deur die skrywer van die boek geskryf/saamgestel. By koerant- en tydskrifartikels is die joernaliste se name fiktief (fictional).
ANDER
• Regdeur die handleiding verskyn Zak die taalmonster. Hy gee vir leerders wenke en gaan saam met hulle op die reis deur graad 4 EAT.
• Elke les het ’n tema. Probeer om die tema so lewendig as moontlik vir die leerders te maak – die klas/vertrek kan byvoorbeeld volgens die tema van die les versier word. Leerders kan ook byvoorbeeld prentjies oor die tema inkleur (indien daar nog tyd ná onderrigtyd oor is) en dit kan in die klas opgesit word.
• Daar is ’n tabel aan die begin van elke les in die fasiliteerdersgids. Hierdie tabel bevat die aktiwiteite waarin die aspekte hoofsaaklik behandel word, saam met die tydstoekenning. Hierdie aspekte (byvoorbeeld sinonieme en antonieme) kan ook in ander aktiwiteite in die les voorkom (soos in die leesbegripvrae), maar dit is nie die hoofaktiwiteit nie en word nie in die tabel gelys nie. Waar verskillende aspekte in een aktiwiteit voorkom, word die tydstoekenning slegs die eerste keer gegee waar die aktiwiteitnommer voorkom.
• Daar word by sommige aktiwiteite ’n rubriek vir informele assessering gegee. Die rubrieke vir take en eksamens is in die bylae. Dit is jou keuse oor watter rubriek om te gebruik – leerders moet gewoond raak aan die rubrieke waarvolgens hulle geassesseer word, maar dit hoef nie vir elke aktiwiteit gebruik te word nie.
• Soos genoem, moet die leerders vir sommige aktiwiteite items klas toe bring – lees vooruit en gee die leerders genoeg tyd om die items te kry. Hulle moet byvoorbeeld soms tydskrifte/koerante klas toe bring of ’n rekwisiet (prop) om rolspel mee te doen. Gee hulle byvoorbeeld ’n week of twee om die items te kry. Jy kan natuurlik ook tydskrifte/koerante en rekwisiete in die klas vir sulke aktiwiteite hou.
• Die woordeskat van sommige woorde in die tekste word gegee. In die eerste paar lesse word definisies gegee, en later word meer vertalings gegee en definisies van slegs die moeiliker woorde. Die woorde wat ’n definisie/vertaling het, is in vetdruk in die teks. Die woorde in die woordeskat verskyn in die volgorde waarin die woorde in die teks voorkom. Dit word ook binne konteks van die teks en in die tydsvorm van die teks gegee.
• By sommige tekste word die uitspraak van woorde gegee, byvoorbeeld: Duidelik word uitgespreek as “dui-dlik”. Hierdie klanke tussen aanhalingstekens is Afrikaans, nie Engels nie.
• Leerders kan tussendeur die aktiwiteite kort, informele toetse oor taalaspekte skryf, byvoorbeeld oor geslagsvorme, intensiewe vorme, ensovoorts.
• Waar die leerders sukkel om die antwoord op ’n vraag te bepaal, moenie die antwoord weggee nie. Lei hulle tot die antwoord (vra vrae wat hulle tot die antwoord lei), of vra die vraag terug vir hulle (soos “Wat dink jy is ...?”).
• Die opskrifte in die handleiding is sover moontlik volgens die KABV se opskrifte. Al staan daar “dra ’n gedig voor”, moet die teks in die handleiding gebruik word (tensy anders vermeld).
• ’n Voorbeeld van eksamenvraestelle word in die bylae gegee. Laat leerders dit ter voorbereiding op die eksamens skryf sodat hulle die formaat kan sien. Soek addisionele vraestelle op die internet.
• Meer gevorderde leerders kan deur die jaar navorsing doen, ’n plakkaat oor die les se tema maak en vir die klas daarvan vertel. Byvoorbeeld, hulle doen navorsing wat by “vir die nuuskieriges” gegee word. Hulle kan ook opdrag gegee word om inligting oor ’n spesifieke digter of skrywer te doen.
Byvoorbeeld: Doen navorsing oor A.G. Visser. Kry een van sy gedigte en vertel vir die klas daarvan. o Wie was A.G. Visser? o Waaroor gaan die gedig? o Wat is die rymskema? o Is daar vergelykings in die gedig? Wat beteken dit?
WERKBOEK
Daar word aanbeveel dat leerders belangrike aspekte in hul werkboek oorskryf en nie net die opdragte in die aktiwiteite volg en die vrae beantwoord nie (laat hulle byvoorbeeld neerskryf wat ’n sinoniem is of hoe ons ’n selfstandige naamwoord uitken). Hulle kan ook die antwoorde van elke bespreking in afdeling 2 in hul werkboek skryf ná die bespreking afgehandel is.
Leerders moet ook ’n A5-lyntjiesboek (of ’n A4-boek) vir hul eie woordeboek hê (sien “Woordeskat en spelling”).
VOORGESKREWE EN AANBEVOLE BOEKE
Daar word geen addisionele boeke vir Afrikaans Eerste Addisionele taal voorgeskryf nie.
Leerders moet toegang tot ’n goeie, verklarende woordeboek (soos die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal –HAT) hê, asook ’n tweetalige woordeboek. ’n Tesourus is ook voordelig.
Soos reeds genoem, word leerders aangemoedig om minstens een leesboek per kwartaal te lees. Dit kan enige toepaslike boek van die leerder se keuse (en op sy/haar leesvlak) wees. Soos reeds gestel, hoe meer daar gelees word, hoe makliker en beter word die taal aangeleer. As leerders lees, brei hulle woordeskat uit en hul spelling verbeter.
Aanbevole leesboeke (van makliker na meer gevorderd)
• Tippie-reeks (vir leerders wat baie met lees en/of Afrikaans sukkel) • Z is vir Zackie-reeks – Jaco Jacobs • Wiskunde gee my maagpyn – Jaco Jacobs • Blou Maandag – Jaco Jacobs • Oupa se medalje – Phil Earle • Slym se stories – Fanie Viljoen • Olivia se olifant – Sylvia Bishop • Haasdas se nuuskas-reeks – Louise Smit • Vakansiepret-reeks – Theresa van Baalen • Liewe Heksie-reeks – Verna Vels • Cowboy Koekemoer-reeks – Henry Ferreira • Zinzi en Saffraan-reeks – Asia Citro
Gaan snuffel tussen die boekrakke van die biblioteek in julle omgewing rond, of enige goeie boekwinkel.
FORMELE ASSESSERING
Geen aktiwiteit in die handleiding word as formele assessering gedoen nie. Raadpleeg die portefeuljeboek vir alle formele assessering.
Eksamens
Daar is twee eksamens in graad 4 – die Junie-eksamen en Novembereksamen. Die uiteensetting van die vraestelle verskil van die vorige uiteensetting (waar die leerders al drie vraestelle tydens eksamentyd skryf).
• Vraestel 1: Mondeling (lees hardop / luisterbegrip / toespraak / rolspeel, ens.) • Vraestel 2: Reageer op tekste (leesbegrip van ’n teks, leesbegrip van ’n visuele teks, opsomming, taalstruksture en -konvensies) • Vraestel 3 (word voor die eksamen geskryf): Skryf (opstel en transaksionele teks, soos dialoog, dagboekinskrywing, boodskap, ens.)
Daar is voorbeelde van elke vraestel in die bylae (hoewel die leerders nie noodwendig sulke vraestelle gaan skryf nie, kan dit vir oefening gebruik word).