05 ringaalwurm

Page 1

Ringaalwurm Waarom is ringaalwurm so problematies? Sheila Storey www.nemlab.co.za

INLEIDING Daar is 'n algemene gevoel dat die ringaalwurm probleem die afgelope paar jaar vererger het. Dit is veral waar vir die s.g. "buite gronde" van die Benede-Oranjerivier en sekere gebiede langs die Berg- en Breëriviere. Dit is ondanks daadwerklike pogings deur produsente om die probleem aan te spreek deur die voortdurende gebruik van aalwurmdoders. Resultate is dikwels minder bevredigend as wat verwag word. 'n Situasie ontstaan dan waar die ringaalwurm die oorheersende aalwurm word en vlakke bereik wat onaanvaarbaar is. Hierdie sentiment oor die ringaalwurm is onlangs gedeel deur produsente in Kalifornië wat ʼn werkswinkel gereël het om die kwessie van die ringaalwurm probleme op wingerd aan te spreek (Franson, Wines & Vines, 2009). Is daar 'n redelike verduideliking vir hierdie situasie?

VOORKOMS IN WINGERD EN VRUGTEBOORDE Die ringaalwurm (Criconemoides xenoplax) het 'n kosmopolitaanse verspreiding oor die hele wêreld se wingerd en steenvrug produksie gebiede en is 'n bekende patogeen van beide gewasse. In Oregon was ringaalwurm teenwoordig in 81% van die wingerde waar monsters geneem is (Pinkerton et al., 1999). Die monsters wat by twee diagnostiese sentrums in die Wes-Kaap (Nemlab en LNR Infruitec-Nietvoorbij) getoets is, bevestig dat 'n soortgelyke situasie in Suid-Afrika heers (HJ Hugo, pers. kom).

GASHEERSTATUS EN SKADE Volgens Pinkerton et al. (2005) kan ‘n bevolking van 125 of meer ringaalwurms per 250cc grond opbrengste met

10 - 25% verminder. Dit is bevestig met potproewe, waar dit vasgestel is dat ringaalwurm oor ʼn tydperk van 3 jaar in staat was om die opbrengs van wingerd met meer as 32% te verlaag. Ringaalwurm bevolkings in Suid-Afrika kan soms 2000 per 250cc grond oorskry, maar geen beraming van die skade is al gedoen nie. Menings oor ringaalwurm skade verskil egter. Daar is gevalle waar simptome soos verdwerging van die toppe, verbruinde, klein wortelstelsels met baie vertakkings en aansienlik korter wortel lengtes voorkom (Fig. 1), tot gevalle waar geen verminderde wortelmassa of ander waarneembare simptome gevind is nie. Gevestigde wingerde produseer dikwels steeds tipiese opbrengste, selfs waar 'n hoë bevolking van die ringaalwurm teenwoordig is. Maar die konsensus is dat 'n hoë bevolking beslis ʼn invloed het op wingerd vestiging, met veral 'n baie negatiewe impak in die eerste drie jaar. Daar word verder beweer dat aktiefgroeiende wingerde in staat is om ringaalwurm stres te oorkom. Die gevolge van die aalwurms word dan eers duidelik wanneer die wingerdstok se groeikrag verminder word deur ander stresfaktore soos vogstres. Dus, waar wingerde bestuur word vir 50% van die oesopbrengs (bv. in Oregon), is die invloed van aalwurmskade baie minder. Om sake verder te bemoeilik, blyk die effek van die ringaalwurm skade op wingerde te wissel tussen die verskillende geografiese streke, grondeienskappe en bestuurspraktyke (Pinkerton et al., 2005). 'n Meer direkte effek van die ringaalwurm voeding is die verandering wat plaasvind in die wortels. Die eerste is die afname in die wortelverlenging en die tweede is die verminderde oordrag van voedingstowwe tussen mikorisas

Bladsy 1 van 3


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
05 ringaalwurm by Isabel Loubser - Issuu