
9 minute read
PATRIOT OUTDOOR

Deur: Dr Kas Hamman
Advertisement
Die gryswolf (Canis lupus)
DIE KLEIN CANIDAE IS WÊRELDWYD SUKSESVOL
Klein karnivore of roofdiere soos die rooijakkals (Canis mesomelas), die rooivos (Vulpes vulpes) en die coyote (Canis latrans) vorm wêreldwyd ‘n integrale deel van natuurlike ekologiese stelsels waar hulle voorkom. Dié diere vervul ʼn belangrike funksie om sulke stelsels gesond te hou deur ou en siek diere asook karkasse te verwyder, knaagdiere en klein soogdiere se getalle te beheer en in balans te hou. Dié diere beheer ook die verspreiding van siektes deur siek diere as prooi te teiken, ander roofdiere se beweging te beperk, en hul eie aanteel te beheer in balans met beskikbare prooi.
Die voorkoms van roofdiere sowel as prooi is dikwels ʼn aanduiding dat die ekostelsel gesond of in balans is. Geen of abnormaal min roofdiere het dikwels tot gevolg dat die natuurlike prooi- getalle uit verhouding hoog raak, dus wanbalanse wat weer aanleiding gee tot agteruitgang van die ekostelsel as geheel. Onnatuurlik hoë getalle van hierdie roofdiere kan onder andere dui op ʼn versteurde ekostelsel waar roofdiere onselektief beheer word soos wat dikwels in landbou gebiede waargeneem word.
Oorsprong en kenmerke van die Canidae familie
Volgens die fossiel-rekord het die Canidae of wolf-/ hond-familie sowat 40 miljoen jaar gelede hul verskyning in NoordAmerika gemaak. Lede van die Canidae familie toon groot aanpasbaarheid in voeding en komplekse sosiale gedrag, met aansienlike variasie binne sowel as tussen spesies. Die Canidae familie is van die karnivore met die wydste verspreiding met ten minste een spesie teenwoordig op elke vasteland behalwe Antarktika. Wolwe en lede van die Canidae familie funksioneer in groepe. Hoe groter die groep, hoe meer voordelig is dit vir die individue in die groep in terme van die jag van prooi, verdediging teen ander roofdiere en die suksesvolle grootmaak en oorlewing van kleintjies. Hierdie gedrag-strategie word ook effektief toegepas deur die bedreigde Afrikawildehond (Lycaon pictus). Individue kan hulself nie verdedig teen leeus en gevlekte hiënas nie maar as groep is hierdie diere veel beter instaat om hulself teen groter roofdiere te verdedig en om prooi suksesvol te jag.
Die Afrika Wildehond (Lycaon pictus)

Die Canidae-familie het hoogs aanpasbare sosiale strukture en komplekse kommunikasiestelsels. Hulle gebruik ook ‘n diverse verskeidenheid ander sosiale gedrageienskappe, insluitend ‘n verskeidenheid liggaamshoudings om subtiele veranderinge in dominansie en onderwerping aan te dui. Hulle beskik ook ‘n hele verskeidenheid geluide soos blaf, knor, sug, tjank, “howl’ ens. Die rooivos het byvoorbeeld tot 20 verskillende roepgeluide waarmee hulle kommunikeer. Soos algemeen bekend kommunikeer die wolf- en hond-familie deur verskillende chemiese boodskappe in urine en feromoon merkers vry te stel. Sulke inligting behels byvoorbeeld die afbakening van territoriums, identifisering van ‘n dier se geslag, gesondheid, status in die trop en reproduktiewe toestand. Die wetenskap is tans maar nog in sy kinderskoene betreffende kennis en interpretasie van die komplekse sosiale gedrag en organisasie van hierdie familie diere. Tans word 35 spesies in die Canidae-familie herken. Die Dingo (Canis lupus dingo) is deur die mens na die Australasië en Indonisiese eilande versprei en is ‘n subspesie van die gryswolf. Suid-Amerika het 11 spesies van die familie, waarvan 9 spesies (hoofsaaklik Pseudalopex jakkalse) endemies is tot die vasteland. Afrika het 13 spesies waarvan 8 endemies is. Asië het 12 spesies waarvan 3 endemies is. Twee spesies, die Goue Jakkals (Canis aureus ) en die Noordpooljakkals (Alopex lagopus) is inheems aan drie kontinente, onderskeidelik Noord-Amerika, Europa en Afrika.
Klein roofdiere soos die rooijakkals, rooivos en
coyote is deel van die Canidae of wolf- en hondfamilie en sterk kenmerke van hierdie familie is sosiale bande wat vorm en tot voordeel van die trop aangewend word, asook ‘n sterk vermoë om aan te pas by ‘n veranderende omgewing. Lojaliteit tot sy eie trop in die natuur en die mens in die geval van mak of gedomestikeerde honde, is ook ‘n besondere goed-ontwikkelde kenmerk van hierdie diere. Hierdie eienskappe het dié familie diere instaat gestel om feitlik alle wêreld kontinente suksesvol te bevolk en in baie gevalle te oorheers. In die natuur teel net die dominante paar in ‘n familie-groep gewoonlik en ‘n werpsel kleintjies word in ondergrondse holte grootgemaak. Net soos die res van die Canidae familie kommunikeer hulle ook deur chemiese reukboodskappe in die urine merkers, feromoon vrystelling asook ‘n komplekse stelsel van geluide.
Interessant is die feit dat die wêreld se mees wydverspreide land soogdier nie ‘n knaagdier soos ‘n bruinrot of huismuis is nie, maar tot voor die koms van die moderne mens was dit die gryswolf (Canis lupus). Meedoënlose uitroei van wolwe, veral oor die afgelope 300 jaar, het egter hierdie diere se getalle drasties laat afneem. Die kleiner Canidae soos die rooivos, die rooijakkals en veral die coyote het egter ongeag wêreldwye intensiewe en volgehoue uitroeiprogramme, substantiewe toename in getalle en verspreiding getoon. Hierdie feit bevestig sonder twyfel die ongelooflike aanpasbaarheid en oorlewingsvermoë van hierdie intelligente diere. Die uitwissing van top karnivore soos leeus, luiperds en bere in baie dele van die wêreld, het ook bygedra tot die verskynsel dat die kleiner en meer aanpasbare karnivore soos die rooijakkals, rooivos en coyote kon floreer. Die rooivos kom byvoorbeeld tans in 83 lande op vyf kontinente voor. Deur die warm wordende klimaat tot sy voordeel te benut, gaan hierdie noordelike halfrond spesie voort om noord- en suidwaarts te versprei, veral in gebiede waar menslike besettings steeds toeneem. Britse setlaars het die rooivos (en vele ander indringers!) in Australië vrygelaat en in slegs 200 jaar het hierdie hoogs effektiewe indringer alle habitattipes beset met ‘n gepaardgaande onberekenbare negatiewe impak op feitlik alle inheemse lewe daar.

Die rooivos (Vulpes vulpes)
Coyotes was voor die 1700s beperk tot die prêries en ariede gebiede van Mexiko en SentraalNoord-Amerika. In tandem met die toenemende vestiging en verspreiding van Europese setlaars in die 1700’s, het coyotes egter ook hul verspreiding oor veral Noord-Amerika dramaties uitgebrei. Daar word beraam dat 500 000 coyotes per jaar in die groterAmerika doodgemaak word, wat neerkom op 1370 diere per dag! Dit maak hierdie die mees vervolgde dier in Amerika en waarskynlik in die wêreld! Nieteenstaande hierdie massiewe uitroei-programme, word die aanpasbare coyote vandag in feitlik alle groot stede van die VSA en Kanada aangetref waar hulle gemaklike oorlewings-nisse vir hulself geskep het. Ons bekende rooijakkals veroorsaak jaarliks groot skade weens predasie op kleinvee kuddes en ongeag intensiewe beheerprogramme oor die afgelope minstens 100-plus jaar, is daar nog steeds ‘n toename in getalle van hierdie diere in landbou gebiede in suidelike Afrika. Onlangse bevindings en gevolgtrekkings deur SuidAfrikaanse navorsers verskaf die volgende antwoorde op die vraag waarom jag en ander beheer metodes op plase in Suid-Afrika tot dusver oorwegend onsuksesvol was. • Kleiner roofdiere soos onder andere die rooijakkals, die rooivos en die Amerikaanse coyote is hoogs aanpasbare diere en beskik oor die vermoë om verskeie oorlewingstrategieë in te span om hul voortbestaan te verseker. • Rooijakkalse se gemiddelde ouderdom op privaatgrond waar gereeld gejag word was 2 tot 3 jaar, teenoor 5 tot 6 jaar in parke, reservate en gebiede waar nie gejag word nie. • Ouderdom-strukture in gebiede waar gereeld onselektief gejag word, toon onstabiele nomadiese groeperings van oorwegend jong diere, waarskynlik op soek na die vestiging van nuwe territoriums.


Ons bekende rooijakkals (Canis mesomelas)

• Gebiede waar nie gejag word nie, soos parke en reservate, toon in teenstelling hiermee normale ouderdom-strukture met gevestigde territoriale familiegroepe wat getalle effektief beheer. • Stabiele territorium gebonde teel-families vestig in beskermde gebiede en beperk die vestiging van “indringers” afhangend die beskikbaarheid van natuurlike prooi. Met ander woorde, waar voedsel in oorvloed beskikbaar is, word “besoekers” verdra. • In boerderygebiede waar gereeld gejag word, begin jong diere soos genoem, op veel jonger ouderdomme aanteel. Die hoofrede is dat daar min of geen gevestigde territoriums bestaan waar ouer diere normaalweg jonger diere se aanteel deur dominansie onderdruk soos in natuurlik funksionerende gebiede nie. • Oortollige jong diere “spoel” egter wél oor van beskermde of nie-jag gebiede na aangrensende boerdery gebiede waar gereelde jag die vestiging van stabiele territorium-diere verhoed of versteur. • In gebiede waar gereeld gejag word, kompenseer die relatief jong teel-wyfies vir die hoë mens-geïnduseerde mortaliteite (hoofsaaklik weens jag) deur groter werpsels met korter tussenposes in die lewe te bring. • Alhoewel jag (ongeag die regverdigbaarheid daarvan al dan nie) oënskynlik nog steeds as die mees effektiewe metode vir die beheer van roofdier-skade in die Suid-Afrikaanse boerderygebiede beskou word, het die navorsers bevind dat die rooijakkals oor hoogs aanpasbare oorlewingstrategieë beskik. Hierdie goed-ontwikkelde oorlewingstrategieë dra duidelik by tot hierdie besonder aanpasbare en intelligente dier se inherente vermoë om jag-mortaliteite suksesvol en volhoubaar te absorbeer.

Opsommend
Effektiewe oorlewingstrategieë van die kleiner lede van die Canidae familie soos die rooivos, die coyote en die rooijakkals, stel hierdie hoogs aanpasbare en intelligente diere instaat om suksesvol aan te pas by mens-geïnduseerde habitat veranderinge en volgehoue erge mortaliteitsdruk wat met boerderyaktiwiteite en stedelike leefwyses gepaard gaan. Dit is ‘n bekende feit dat die moderne mens met sy volgehoue toename in getalle en die impak wat dié leefwyse op die natuurlike omgewing het, bydra tot die uitwissing en bedreiging van talle plante en diere. Interessant egter is dat ons hier te doen het met ‘n groep klein roofdiere wat met hul besonder aanpasbare oorlewing strategieë tot dusver die meedoënlose aanslae op hul voorbestaan suksesvol kon hanteer en selfs hulle getalle en verspreiding in die proses vermeerder het.
Bronne BBC Wildlife Magazine – Discover Wildlife. https://www. discoverwildlife.com Fahey, B. en P. Myers 2000. “Canidae” (aanlyn), Animal Diversity. http://animaldiversity. ummz.umich.edu/site/accounts/ information/Canidae.html Flores, Dan (2016). Coyote America. Basic Books. A member of the Perseus Books Group New York. Turner, Alan; Anton Mauricio (2004). Evolving Eden: “An Illustrated Guide to the Evolution of the African LargeMammal Fauna”. Columbia University Press.
Spices by
Mouth-watering biltong with coriander & black pepper
STORE IN COOL, DRY PLACE.
Ingredients: Meat, Flavouring (TBHQ), Spices (Irradiated), Salt, Sucrose. NOT SUITABLE FOR PEOPLE WITH WHEAT GLUTEN, SOYA BEAN, EGG & MILK ALLERGY
CAPE TOWN 021 507 4500 PORT ELIZABETH 041 585 5685/5672 KIMBERLEY 053 832 9735/9787 JOHANNESBURG 011 406 3200 EAST LONDON 043 727 0827 KLERKSDORP 018 462 9385 POLOKWANE 015 292 3010 DURBAN 031 569 4838 PRETORIA 012 335 2133 NEWCASTLE 034 315 4632/4623 WELKOM 057 357 5483 BLOEMFONTEIN 051 447 3799 GEORGE 044 874 6201 NELSPRUIT 013 753 3061

