Ons gesels met Duane Vermeulen Duane Vermeulen is as Suid-Afrika se rugbyspeler van die jaar aangewys. Vermeulen is ook as die Superrugby- en Unlocked-speler van die jaar vereer. AWSUM het met hom gesels oor sy skooldae en hy deel sy raad aan leerders van vandag. Ons moet begin deur te vra oor jou skoolloopbaan. Wat sal jy altyd van jou skooldae onthou? Ek het `n ongelooflike tyd in HS Nelspruit gehad, regdeur van st 6 tot in matriek. Ek kon nie vir `n beter tyd gevra het nie. Ons het regtig goeie onderwysers gehad en almal het regtig `n verskil in my lewe gemaak en ek glo ook in ander skoliere se lewe. Op die sportveld het ek dit baie geniet. Ek het ups and downs gehad, moelike tye, pa-en-seun aande wat moeilik was, want my ma kon nie saam gaan nie, so ek het saam met `n pel se pa gegaan, maar ek dink dit het ook van `n mens die man gemaak wat jy vandag is. Met deursettingsvermoë en harde werk het dinge great uitgedraai. Wat sal onderwysers van jou vertel? Watter tipe ou was jy op skool? (Duane lag). Man, ek dink dis `n moeilike een. Ek was `n besige mannetjie op skool, maar ook somtyds baie stil. Ek het `n paar great onderwysers gehad met wie ek `n goeie pad gestap het. Mnr Jos van Dyk, Sarel Cilliers, mnr Meyer (wat Aardrykskunde gegee het) en ek het ook my Hotelbestuur - onderwyser, mnr Els, baie geniet. Hulle het my baie opdraende gegee. Ek moes `n paar keer buite die klas gesit het, so ek dink hulle sou sê ek was baie besig, maar het ook maklik in iemand se hart ingeklim. Watter tipe ou was ek? Ek het baie van my sport gehou. Ek het by my standpunte gestaan. Dis seker maar daarom dat ek die onderwysers opdraend gegee het. Ek het baie goeie vriende op skool gehad – van st 6 tot matriek toe. `n Lekker groep ouens en meisies. Almal het mekaar aangevul op hulle swakpunte en ook mekaar ondersteun in hulle sterkpunte. Wat sal jy altyd van sportgeleenthede op skool onthou? Is daar enige hoogtepunte? Daar is baie! Eerstens was daar die Mpumalanga - finaal wat ons gespeel het. Ons het die finaal teen HTS Middelburg of Ermelo (dink ek) gewen en dieselfde aand het ons matriekafskeid gehad, so dit was chaos om terug te kom. Die grootste hoogtepunt was `n ongelooflike 2004 Cravenweek in my matriekjaar wat by NHS aangebied is. Ek kon Nelspruit verteenwoordig en kon vir almal wys waarvoor skool staan en wat ons skool kan bied. Jy het in Nelspruit grootgeword. Wat maak die area en sy mense so uniek? Ek is in Nelspruit gebore en het toe vir agt jaar in die Kaap gebly, maar na my pa oorlede is, is ons weer terug na my ma se ouers en het weer in Nelspruit gaan bly. Ek was lanklaas in Nelspruit, maar ek het nog steeds goeie pelle daar en my ma en grootouers bly nogsteeds daar. Ek moet sê, dis `n spesiale plek en `n dorp wat na aan my hart lê. Wat inspireer jou in die lewe? As jy `n verskil in iemand anders se lewe kan maak op die manier hoe jy jou werk en jou passie uitleef, hoë standaarde en dissipline volg en ander dit raaksien, is dit die mees inspirerende ding wat daar is. Die lekkerste ding op aarde om te hoor, is as mense daar buite is sê jy het `n verskil in hulle lewe gemaak. My familie inspireer my ook. Ek doen alles vir my vrou en my twee seuntjies. Dit is is met tye moeilik. Ons is baie weg en ver van mekaar af, maar ek wil graag my twee laaities wys dat hulle pappa `n verskil in mense se lewe gemaak het en ook `n verskil in hulle lewe maak, sodat hulle ook eendag kan sê my hero is my pappa, soos my pa my hero in my lewe was - en nog steeds is. Wat is die belangrikste lewensles wat jou skool vir jou geleer het? Ek dink die grootste lewensles is nederigheid en dissipline saam met harde werk. Ons skool se leuse is “Palmam Qui Meruit Ferat”. Dit beteken laat hom wat dit verdien, die palmtak dra. Ons skool het vir ons `n ongelooflike platform gebied om jouself uit te leef en te wys wie jy is, om jou talente te erken en daarop te bou.
Wat sou jy sê vat dit van `n speler om die hoogste vlak van `n sportsoort te bereik en daar te bly? Ek dink die groot ding is deursettingsvermoë en om nooit op te hou nie. Ons het so `n ding by die Bokke: jy moet eers `n warrior wees voor enige iets anders kan saamkom en ek dink dis daai passie vir dit wat jy doen en dan van daar af net daarop te bou. Dit maak nie saak of mense deure voor jou toemaak nie, jy gaan op jou manier daai deur weer oopmaak, of oopslaan of oopskop. Stel vir jou doelwitte en werk van daar af hard. Jy moet ook kennis in jou veld hê n nie altyd dink jy weet alles nie. Met elke geleentheid wat daar is, leer jy iets nuuts – of dit is van `n coach, van `n speler, of van `n wedstryd self. If youre not winning, you’re learning. As jy nie `n rugbyspeler was nie, watter sport sou jy wou beoefen? Daar is twee. Ek sou regtig graag atletiek wou doen. Ek het spiesgooi geniet of ek het altyd gedink om NFL te gaan speel. Net om myself te toets en te kyk. Ek weet nie of ek rêrig goed daarin sou wees nie, maar sou dit graag `n go wou gegee het. As jy nie in jou posisie gespeel het nie, in watter ander posisie sou jy graag wou speel? Ek sou graag in die agterlyn wou speel, maar is ongelukkig nie vinnig genoeg nie. Ek dink vir my om deel van `n spansport te wees, is seker die lekkerste. Om tyd saam met pelle, wat dieselfde passie as jy het, te spandeer en saam dieselfde doel wil bereik.
“Dit maak nie saak wat jy doen nie, maar as jy glo dis die beste vir jou, of dit vir jou sport of jou familie of wat ook al jy doen is, 60% van mense gaan altyd hou van dit wat jy doen en 40% gaan teen jou wees”. Wat is die beste raad wat jy al ooit ontvang het en wat jy vandag met die eerders wil deel? In 2015 het ons `n sielkundige by die Bokke gehad, met die naam Pieter Kruger, en hy het breinprofieltoetse met elke speler gedoen en gesit en met elke speler gesels. Die les wat hy daai dag vir my geleer het is op `n 60/40 weegskaal gebasseer – dit maak nie saak wat jy doen nie, maar as jy glo dis die beste vir jou, of dit vir jou sport of jou familie of wat ook al jy doen is, 60% van mense gaan altyd hou van dit wat jy doen en 40% gaan teen jou wees. Toe ek jonger was, het ek altyd daai 40% probeer omdraai, maar ek het vrede daarmee gemaak en geglo dat 60% is wat mens nodig het. As jy gelukkig daarmee is, sal mense jou ondersteun, maak nie saak wie wat sê nie. Jy moet net 100% vasstaan in die besluit wat jy geneem het en alles gee. Ek basseer tans my lewe op die 60/40 weegskaal en glo dit het `n ongelooflike groot verskil in my lewe gemaak en hoop dit maak `n verskil in die Nellieleerders se lewe.