BYBEL
Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei. JESAJA 40:11
Die verhale van die Bybel kry nuwe lewe in hierdie pragtige Klassieke Storiebybel vir kinders. Die Klassieke Storiebybel sluit verhale van die belangrikste gebeurtenisse van die Christelike geloof in. Die pragtige en dramatiese illustrasies beeld in grafiese besonderhede 57 van die belangrikste Bybelse gebeurtenisse uit. Die illustrasies skep ’n kontekstuele rekonstruksie van die wêreld van die Bybel wat kinders help om die boodskap van die Bybel beter te verstaan. Hierdie kinderbybel sal in die jare wat kom ’n groot gunsteling onder kinders en families bly.
ISBN: 978-1-92843-797-0
KLASSIEKE STORIEBYBEL
KLASSIEKE STORIE-
KLASSIEKE STORIE-
BYBEL
Geskenk aan
Op
Deur
KLASSIEKE STORIE-
BYBEL
Ou Testament Die begin Adam en Eva is ongehoorsaam Noag en die groot vloed Noag en die reënboog God roep Abram Abraham kry goeie nuus ’n Seuntjie word gebore Isak en Rebekka ’n Pot lensiesop Jakob se droom Josef se drome Josef se broers verkoop hom Josef in Egipte Josef vergewe sy broers God beskerm ’n babatjie God stuur Moses God bevry die Israeliete Die Israeliete by die Rietsee Tien wette Ragab help die Israeliete Die mure van Jerigo Samuel luister na God Samuel salf Dawid Dawid en die reus Salomo, die wyse koning In ’n brandende oond In ’n leeukuil Ester waag haar lewe vir haar mense
7 11 14 18 22 26 30 34 38 42 46 50 54 59 62 67 71 74 78 82 86 90 94 98 102 107 111 115
Nuwe Testament Jesus word in Betlehem gebore Sterrekykers soek Jesus Jesus in sy Vader se huis Jesus se doop Jesus kies twaalf dissipels Jesus by ’n bruilof Jesus maak ’n storm stil Jesus en sy vriende in Betanië Die barmhartige Samaritaan Saggeus klim in ’n wildevyeboom Jesus is die goeie herder ’n Seun kom terug Jesus help mense Jesus gee duisende mense kos Jesus en die kinders ’n Wonderlike geskenk Jesus ry op ’n donkie Die laaste ete saam met Jesus Petrus verloën Jesus Jesus word gekruisig Jesus lewe! Jesus vaar op na die hemel Die dag toe die Heilige Gees gekom het Die kerk se begin Petrus en Johannes en die bedelaar Stefanus is die eerste martelaar Die man van Ethiopië word ’n volgeling van Jesus Saulus word ’n volgeling van Jesus Paulus reis die wêreld vol vir Jesus
119 122 127 130 135 138 143 146 151 154 158 162 167 170 174 178 182 186 191 195 198 202 207 210 215 218 223 227 231
6
Die begin
7
N
iemand weet wanneer die heelal ontstaan het nie, maar ons weet dat dit baie lank gelede was.
Niemand weet hoe die heelal begin het nie, maar ons weet dat God alles gemaak het. God was altyd daar. Hy het nie ’n begin nie. Alles was donker en sonder enige vorm. God was daar, en Hy besluit toe om ’n pragtige heelal te skep. Hy het gepraat en op hierdie manier het Hy alles gemaak. En so, was daar lig en duisternis, dag en nag. Hy het die sterrestelsels, sterre en planete gemaak. Hy het die son en maan gemaak. Die son het bedags geskyn, en die maan en sterre het snags lig gegee. God het gepraat en wolke en oseane en riviere gemaak. Die aarde het effens gekantel, en toe was daar warm tye en koue tye, somer en winter. God het gesien dat alles wat Hy gemaak het, goed was. God het weer gepraat en daar was plante en bome op die aarde. Hy het vrugtebome en plante met sade gemaak. Elke plant het sy eie soort saad gehad. God het gesien dat alles wat Hy gedoen het, goed was.
8
God het al die diere op die aarde gemaak. Hy het goggas en visse en voëls gemaak. Hy het al die soorte wilde diere gemaak. Party was baie klein, en party was groot. Hulle het in die bome, in die berge, op die vlaktes en in die see gewoon. Hy het ook diere gemaak wat saam met mense kon woon. En God het gesien dat dit goed was. God het ook mense gemaak. Hy het ’n man gemaak van die stof van die aarde en lewe in hom geblaas. Die man se naam was Adam. Hy het in ’n pragtige tuin gewoon wat God vir hom gemaak het. Hy moes na die plante en die diere kyk. Adam was baie alleen en daarom het God ’n vrou gemaak en haar na Adam toe geneem. Adam was baie bly om die vrou te sien. Hy het haar Eva genoem. God het die mense na sy gelykenis gemaak. Hulle was ’n bietjie soos Hy. Daar was ’n klein bietjie van God in hulle. God het Adam en Eva geseën. Hy het gesê hulle moet op die aarde woon en kinders hê en vir al die diere en plante sorg. Hulle moes seker maak dat die aarde ’n goeie woonplek vir mense en diere is. God het gekyk na alles wat Hy gemaak het. Dit was baie goed. Toe het God gerus van sy werk. Genesis 1 en 2
9
10
Adam en Eva is ongehoorsaam
11
A
dam en Eva het in ’n pragtige tuin gewoon.
God sê vir Adam: “Julle mag al die bome se vrugte eet, behalwe van die boom in die middel van die tuin. Dit is die boom van die kennis van goed en kwaad. As julle van sy vrugte eet, sal julle doodgaan.” Adam en Eva woon lekker in die tuin. Hulle sorg vir die plante en bome, en gee vir die diere name. Saans, wanneer dit koel is en Adam en Eva ’n bietjie rus, kom God vir hulle kuier. Hy was hulle Vriend. En toe kry Eva ’n nuwe kuiergas. Die skelm slang kom gesels ’n bietjie. Hy sê: “Het God regtig gesê julle mag nie die vrugte in julle tuin eet nie?” “O, nee!” sê Eva. “Ons mag die vrugte eet. Dis net die vrugte aan die boom in die middel van die tuin wat ons nie mag eet nie. As ons daardie vrugte eet, sal ons doodgaan.” “God het vir julle gejok,” sê die slang. “Die vrugte aan daardie boom sal julle nie doodmaak nie. Dit sal julle slim maak. Julle sal soos God wees. Julle sal die verskil tussen goed en kwaad ken.” Eva kyk na die vrugte. Dit lyk heerlik sappig en soet! En sy wonder hoe dit sal voel om soos God te wees. Sy steek stadig haar hand uit en pluk een van die vrugte. Dit wás baie lekker. Toe pluk sy nog en gee dit vir Adam, en Adam het ook lekker saam geëet.
12
Maar toe besef Adam en Eva skielik dat hulle ongehoorsaam was aan God, en hulle was bang. Hulle het gaan wegkruip. Daardie aand kom God na die tuin toe. Adam en Eva het gemaak asof hulle Hom nie hoor nie. Hulle wou nie met God praat nie. Hulle het doodstil in hulle wegkruipplek gesit. Maar God weet alles. Hy weet wat Adam en Eva gedoen het en Hy wag tot hulle uitkom. Adam sê: “Ons weet ons was ongehoorsaam. Dit is alles Eva se skuld! Sy het die vrugte gepluk en vir my gegee.” Eva sê: “Dis die slang se skuld! Hy het vir my gejok.” God was baie hartseer toe Hy hulle woorde hoor. Hy sê vir die slang: “Van nou af sal jy op jou maag rondseil. Mense sal probeer om jou dood te maak. En jy sal hulle probeer doodmaak met jou gif.” Hy sê vir Adam en Eva: “Julle sal uit die tuin moet weggaan. Van nou af sal julle lewe nie maklik wees nie.” God het vir hulle klere gegee wat van dierevelle gemaak is. Hy sê vir hulle: “Julle weet nou wat die verskil is tussen goed en kwaad. Dit gaan moeilik wees om te kies om goed te doen.” Hy gee ook vir Eva ’n wonderlike belofte. Eendag gaan Hy iemand stuur wat sterker sal wees as al die kwaad in die wêreld. Hy sal mense help om weer vriende met God te word. Genesis 2 en 3
13
Noag en die groot vloed
14
15
D
ie aarde het stadigaan vol mense geraak. En bietjie vir bietjie het hulle opgehou om aan God gehoorsaam te wees. Hulle het verkeerde en slegte dinge gedoen. Dit het God baie hartseer gemaak. Hy sê toe: “Ek gaan weer voor begin. Ek gaan al die mense behalwe Noag en sy familie laat sterf.” Noag het naby aan God geleef. Hy was getrou aan God, en het Hom gedien. Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. God het vir Noag gesê: “Ek gaan ’n einde aan alles maak, maar Ek gaan jou en jou vrou se lewens en ook jou seuns en skoondogters se lewens spaar. Jy moet ’n ark van goferhout bou. Dit moet baie kamers hê. Bedek dit met teer aan die binnekant en die buitekant. Ek wil ook die diere en voëls spaar, daarom moet jy hulle saam met jou in die ark neem.” Noag het aan die ark begin werk. Hy het alles gedoen wat God beveel het. Die ark was baie groot. Dit het drie verdiepings gehad. Daar was ’n dak en ’n deur aan die een kant van die ark. Noag het ook kos vir sy gesin en vir al die diere in die ark ingelaai. Toe die ark klaar was, sê God: “Gaan met jou hele familie in die ark in. Neem sewe pare van elke soort rein dier saam met julle. Neem een paar van elke soort onrein dier saam. Neem ook sewe pare van elke soort voël saam. Ná die vloed kan die diere en voëls oor die aarde versprei en dit weer vol maak.”
16
In daardie dae is mense net toegelaat om sekere soorte diere aan God te offer. Hulle is “rein” diere genoem. Al die ander diere was “onrein”. Toe sê God: “Sewe dae van nou af gaan Ek reën stuur. Dit sal 40 dae en 40 nagte lank reën.” Noag en sy familie het in die ark gegaan. Die diere en die voëls het almal ingegaan. En toe almal binnekant was, het God die deur van die ark gesluit. ’n Week later het dit begin reën. Die reën het sonder ophou vir 40 dae lank neergestort. Die riviere het oorstroom. Die water was oral, en die ark het begin dryf. Die water het nog hoër gestyg, en later kon ’n mens nie meer die huise en bome sien nie. Uiteindelik was alles onder water, selfs die bergtoppe. Al die mense en diere het verdrink. Net Noag, sy familie en die diere wat God vir hom gestuur het, was veilig. Die Here het hulle veilig binne-in die ark gehou. Genesis 6 en 7
17
Noag en die reënboog
18
19
D
it het gereën totdat die hele aarde onder water was. Toe het dit opgehou om te reën, en God het ’n wind gestuur om alles droog te waai. Die ark het rustig op die water gedryf totdat dit teen die berg Ararat vasgedryf het. Noag en sy familie kon niks anders as water sien nie, en hulle moes maar geduldig in die ark wag terwyl die water gesak het en die aarde droog geword het. Eindelik het die bergspitse begin verskyn. Die water was besig om te sak! Ná nog 40 dae wou Noag sien of daar al droë grond is. Hy het ’n venster oopgemaak en ’n kraai vrygelaat. Die kraai kon nie ’n plek kry om te gaan sit nie en het aanhoudend heen en weer gevlieg. Later het Noag ’n duif vrygelaat. Die duif kon ook nie ’n rusplek kry nie, en het na ’n rukkie teruggekom na die ark toe. Noag het sewe dae lank gewag en toe weer die duif uitgestuur. Die duif het daardie aand teruggekom met ’n olyftakkie in sy bek. Toe het Noag geweet dat die plante weer begin groei het. Die aarde was besig om droog te word. Na nog sewe dae het Noag weer die duif uitgestuur, en hierdie keer het die duif nie teruggekom nie. Dit het ’n droë blyplek gekry. Toe het God vir Noag gesê: “Julle kan nou almal uit die ark gaan. Die aarde is weer droog.” Noag, sy familie en al die diere en voëls kon uiteindelik weer op droë grond staan.
20
Die eerste ding wat Noag gedoen het, was om ’n altaar te bou om God te dank omdat Hy hulle beskerm het. God het Noag en sy familie geseën. Hy het vir hulle gesê: “Ek het die aarde nuut gemaak. Ek weet mense sal weer van My vergeet en weer slegte en verkeerde dinge doen. Maar Ek sal nooit weer die aarde op hierdie manier vernietig nie. Van nou af sal daar altyd nat seisoene en dan weer droë seisoene wees. Daar sal somer en winter wees. Daar sal ’n tyd wees om te plant, en ’n tyd om die oes in te samel.” God het ook gesê: “Julle kos is die plante wat op die aarde groei en die diere wat daar woon, maar dit is julle werk om te sorg vir alles wat op die aarde leef. Julle is die oppassers van die aarde.” En Hy het gesê: “Julle mag nie ander mense doodmaak nie. My Gees woon in almal van julle. Respekteer mekaar.” Toe het God ’n reënboog in die lug laat verskyn. Hy het gesê: “Wanneer julle ’n reënboog sien, moet julle my belofte aan julle onthou. Ek sal nie weer die aarde met water vernietig nie. En wanneer Ek die reënboog sien, sal Ek ook my belofte aan julle onthou.” Genesis 8 en 9
21
God roep Abram
22
23
A
bram en sy familie het in Haran gewoon. Op ’n dag het God met Abram gepraat. Hy het gesê: “Ek wil hê jy moet wegtrek uit hierdie land en na ’n ander land toe gaan. Ek sal jou wys waarheen om te gaan.” Die Here het ook ’n belofte aan Abram gemaak. Hy het gesê: “Ek sal jou die voorvader van ’n groot nasie maak. Ek sal jou seën en jy sal ’n geëerde persoon wees. Deur jou sal baie ander mense geseën word.” Abram het God gehoorsaam. Hy en sy vrou Sarai, sy neef Lot en al sy mense het hulle besittings bymekaar gemaak en uit Haran weggetrek. Hulle het na die weste getrek totdat hulle in die land Kanaän aangekom het. Toe het hulle deur Kanaän getrek op soek na ’n blyplek. By die groot boom by Sigem het hulle kamp opgeslaan om ’n bietjie te rus. Daar het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek gee hierdie land vir jou en jou nakomelinge.” Abram het daar by Sigem ’n altaar gebou om God te aanbid en toe het almal weer opgepak en verder getrek.
24
Abram het vir ’n lang tyd rondgetrek, en toe het hy naby die groot bome van Mamre by Hebron gaan woon. Hy het sy tente daar opgeslaan en ’n altaar gebou om God te aanbid. ’n Ruk later het God weer met Abram gepraat. Hy sê: “Moenie bang wees nie, Abram, want Ek sal jou beskerm en seën.” Abram vra toe: “Here, ek glo U en vertrou U, maar ek wonder wat U gaan doen. Hoe kan hierdie land aan my nakomelinge behoort as ek nie eers een kind het nie?” Die Here sê vir Abram: “Jy sal ’n seun van jou eie hê, Abram. Glo net.” Toe het God vir Abram buitentoe geneem en gesê: “Kyk op na die lug. Tel die sterre, as jy kan.” Terwyl Abram na die ontelbare sterre in die lug staan en kyk, hoor hy hoe God vir hom sê: “Dit is hoeveel nakomelinge jy gaan hê.” Die Here het ook gesê: “Ek is die Here. Ek het jou uit jou land laat trek, en Ek sal hierdie land vir jou en jou nakomelinge gee.” Abram het nie geweet hoe die Here al hierdie dinge gaan doen nie. Maar hy het onthou hoe God hom veilig van Haran na Hebron gebring het, en hy het God vertrou en sy woorde geglo. Die Here was bly omdat Abram in Hom geglo het. Abram was God se vriend. Genesis 12 en 15
25
Abraham kry goeie nuus
26
27
T
oe Abram 99 jaar oud was, het God aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Wees getrou aan My. Lewe naby My, en wees opreg.” Hy het ook gesê: “Onthou my belofte. Jy sal die vader wees van baie nasies, en jou nakomelinge sal in hierdie land woon.” Toe het die Here Abram en Sarai se name verander na Abraham en Sara. Abraham en Sara het nie kinders gehad nie. Abraham het op God vertrou, maar hy het nie geweet hoe God sy beloftes gaan nakom nie. Op ’n dag het Abraham onder die groot bome voor sy tent gesit en rus. Dit was baie warm. Skielik sien hy drie mans nader kom. Hy het gou opgestaan en die mans gegroet. Hy het hulle genooi om saam met hom in die skaduwee van die bome te kom rus. Hy het ook water gaan haal sodat hulle hulle voete kon was. Toe gaan hy na sy vrou Sara. “Bak vir ons gaste brood,” sê hy. Hy het een van sy diensknegte gevra om vleis gaar te maak. Hy het ook botter en melk gaan haal. Terwyl die mans eet, vra hulle vir Abraham: “Waar is jou vrou?” “In die tent,” sê Abraham. Toe sê een van hulle: “Ek gaan volgende jaar hierdie tyd terugkom. Dan sal Sara ’n babaseuntjie hê.”
28
Sara het by die ingang van die tent staan en luister. Toe sy hoor wat die man sê, het sy stilletjies gelag. “Ek is te oud om kinders te hê!” dink sy. Twee van die mans was engele, en een was God self. Hy het geweet wat Sara dink en sê vir Abraham: “Onthou dat God almagtig is. Hy kan alles doen. Jy en jou vrou sal beslis volgende jaar as ek terugkom, ’n baba hê.” Sara het geskrik, want sy het besef wie die besoekers is. Sy sê toe: “Ek het nie gelag nie!” Maar die Here sê: “Nee, jy het gelag!” Sara het nie geweet wat om te sê nie. Sy wou bitter graag haar eie baba hê. Kan die Here se belofte waar word? Genesis 17 en 18
29
’n Seuntjie word gebore
30
31
A
braham en Sara was baie oud. Hulle het altyd probeer om God te gehoorsaam. Lank gelede het God vir Abraham gesê om uit sy land te trek. Abraham het sy goed gepak, sy diere bymekaar gemaak en weggetrek. Nadat hy baie ver gereis het, het hy in Kanaän gaan woon. Die Here het Abraham belowe dat Hy die land vir sy nakomelinge sou gee. Abraham het ’n baie ryk man geword, maar hy en Sara het nooit kinders gehad nie. Hulle het dikwels gewonder hoe die Here sy belofte aan hulle sou nakom. Maar uiteindelik het Sara tog ’n baba verwag. Toe het Abraham en Sara onthou van al die kere toe God met Abraham gepraat het en belowe het dat hulle ’n seuntjie sou hê. Hulle het onthou van die drie mans wat hulle besoek het en vir Sara gesê het dat sy ’n jaar later ’n babaseuntjie sou hê. Presies op die tyd wat die drie mans belowe het, is Sara se baba gebore. Sara was baie gelukkig. Sy het gesê: “Die Here het my weer laat lag. Almal wat van my baba hoor, sal saam met my bly wees.”
32
Abraham het hulle baba Isak genoem. Dit beteken: “Hy lag”. Abraham en Sara was baie bly oor hulle babaseuntjie. Hulle het met klein Isak gespeel en hom sien groei. En elke keer as hulle na hom kyk, het hulle onthou dat God vir hulle die baba gegee het, net soos Hy baie kere belowe het. Abraham het ook al God se ander beloftes onthou. Hoewel hy net een van hulle waar sien word het, het hy geweet dat hy God kan vertrou. Hy het geglo dat God die land Kanaän vir sy nakomelinge sou gee. Hy het geglo dat sy nakomelinge ’n groot nasie sou word. En God het ook sy beloftes onthou. Genesis 21
33
Isak en Rebekka
34
35
O
p ’n dag sê Abraham vir sy dienskneg: “Gaan na my familie toe en gaan soek daar ’n vrou vir my seun Isak. Moenie bang wees dat jy nie die regte vrou sal raakloop nie. Die Here sal jou help om haar te vind.” Die dienskneg kies toe tien kamele uit, laai mooi geskenke op en vertrek. Na baie dae kom hy by die stad waar Abraham se broer Nahor woon. Dit was laat middag, juis die tyd dat die vroue gaan water skep. Die dienskneg stop by ’n fontein buite die stad. Hy bid: “Here, help om die regte vrou vir Isak te vind. Ek gaan een van die meisies wat water kom skep, vra om vir my water te gee. Ek sal weet sy is die regte een as sy vir my en vir my kamele water skep.” Nog voordat hy klaar gebid het, kom Rebekka daar aan met ’n waterkruik op haar skouer. Sy was baie mooi. Toe sy haar kruik volgemaak het, vra die dienskneg: “Gee my asseblief ’n bietjie water uit jou kruik.” “Sekerlik,” sê sy. Sy gee hom water, en toe gee sy ook water vir die kamele. Die dienskneg gee vir haar ’n goue ring en twee goue armbande en vra: “Wie se dogter is jy? Kan ek vannag in jou pa se huis oorbly?” Rebekka sê: “My pa se naam is Betuel. My oupa is Nahor. En ons het baie plek vir jou en jou kamele.” Die dienskneg fluister: “Dankie, Here. U het my na die regte familie en die regte meisie gebring.” Hy het by Rebekka en haar familie gaan bly. Hulle het sy kamele versorg en die dienskneg vir ete genooi.
36
Die dienskneg sê: “Voordat ek eet, wil ek eers vir julle vertel waarom ek hier is. Abraham, my baas, het my gevra om na sy familie toe te kom om hier ’n vrou vir sy seun Isak te vind.” Hy vertel hulle van Abraham en sy lewe in Kanaän. Hy vertel hulle ook hoe die Here hom gehelp het om Rebekka te vind, en hy vra of hulle Rebekka saam met hom sal terugstuur sodat sy Isak se vrou kan word. Rebekka se pa en broer het gesien dat die Here self vir Rebekka uitgekies het, en hulle was gewillig dat sy saam met die dienskneg teruggaan. Rebekka was ook gewillig. En so het Rebekka en haar dienskneg saam met Abraham se dienskneg na Kanaän toe vertrek. Toe hulle na baie dae naby Abraham se huis kom, sien hulle ’n man in die veld. Toe Rebekka hoor dit is Isak, maak sy haar gesig met ’n sluier toe, klim van haar kameel af en gaan groet Isak. Isak het lief geword vir Rebekka en die twee is getroud. Hulle het twee seuns gehad, Esau en Jakob. Hulle was ’n tweeling, en Esau was die oudste van die twee. Genesis 24
37
’n Pot lensiesop
38
39
J
akob en Esau was ’n tweeling, maar hulle het baie van mekaar verskil. Esau was ’n jagter en ’n man van die veld. Jakob was ’n rustige mens wat maar altyd rondom die tente gebly het. Hulle pa Isak was baie lief vir wildsvleis, en hy het Esau voorgetrek. Rebekka het weer vir Jakob voorgetrek. Esau was die oudste en daarom sy pa se erfgenaam. Hy moes ná Isak se dood die leier van die familie word en ook die meeste van sy pa se besittings erf. Sy pa sou ook vir hom op ’n spesiale manier seën. Jakob het niks hiervan gehou nie. Esau was tog net ’n paar minute ouer as hy! Hy was jaloers op sy broer. Eendag is Jakob besig om lensiesop te maak toe Esau daar aankom. Hy het die hele dag in die veld gejag en hy was baie honger. Hy sê toe vir Jakob: “Gee my ’n bietjie van jou rooi kos. Ek is dood van die honger!” Jakob wou sy broer ’n bietjie terg. Hy het ook gesien dat hy hom dalk kon kul. “Ek sal vir jou van my kos gee,” sê hy, “as jy vir my al jou regte as oudste seun gee.”
40
Esau het nie twee keer gedink nie. “Ek sal jou alles gee wat jy vra!” sê hy. “As ek nie nou eet nie, gaan ek in elk geval nie langer lewe nie!” Jakob sê: “Jy moet belowe!” Esau sê ongeduldig: “Ja, goed, goed! Ek belowe. Gee nou vir my kos!” Jakob het brood en lensiesop vir sy broer gegee. Esau het dit geëet en weggeloop. Hy het glad nie verder oor sy belofte gedink nie. Hy het nie omgegee dat hy al die regte van ’n oudste seun aan Jakob gegee het nie. Maar daardie regte was vir Jakob baie belangrik. Later het hy en sy ma hulle pa gekul sodat hy die spesiale seëning vir die oudste seun vir Jakob gegee het. Toe was Esau kwaad, so kwaad dat hy sommer sy broer wou doodmaak. Jakob moes toe van sy huis af wegvlug. Genesis 25
41
Jakob se droom
42
43
I
sak was baie oud en dit was tyd om sy spesiale seën vir sy oudste seun, Esau, uit te spreek. Hy vra Esau toe om vir hom ’n wildsbok gaar te maak sodat hy hom kon seën. Rebekka het gehoor hoe Isak en Esau praat en toe gou na Jakob toe gegaan. “Bring vir my twee bokkies,” sê sy. “Ek sal dit gaarmaak soos jou pa daarvan hou. Dan kan jy dit vir hom neem en maak asof jy Esau is.” Jakob sê: “Pa sal mos dadelik weet ek is nie Esau nie!” Rebekka sê: “Jou pa is al oud en blind. As jy Esau se klere aanhet en ek jou hande met bokvelletjies toemaak, sal hy niks agterkom nie.” Jakob wou bitter graag die leier van die familie wees. Hy maak soos sy ma sê en neem die vleis na sy pa toe. Isak was nie seker wie die vleis bring nie, maar Jakob sê hy is Esau. Hy het sy hande uitgesteek sodat Isak daaraan kon vat. Sy klere het soos Esau s’n geruik. Isak seën toe sy jongste seun en beloof dat hy die leier van die familie sal word. Toe Esau uitvind wat sy broer gedoen het, was hy kwaad en hartseer. Isak en Rebekka
44
het gesien dat dit beter sal wees as Jakob vir ’n ruk lank weggaan en hulle het hom na Rebekka se familie gestuur sodat hy daar ’n vrou kon soek. Jakob moes nou ver weggaan. Op die eerste dag het hy geloop tot dit donker word. Hy moes in die veld slaap. Al kussing wat hy kon kry, was ’n klip, maar hy was moeg en het gou aan die slaap geraak. Daardie nag het hy ’n wonderlike droom gehad. Hy sien ’n leer wat op die aarde staan. Die punt van die leer raak aan die hemel en engele klim op en af met die leer. Toe kom staan die Here by Jakob en sê vir hom: “Ek is die Here God. Hierdie land sal eendag aan jou en jou kinders en hulle kinders behoort. Hulle sal ontelbaar baie word. En omdat jy en jou mense in My glo, sal Ek al die mense op aarde seën. Ek sal altyd by jou wees. Ek sal jou beskerm. En eendag sal Ek jou terugbring na hierdie plek toe.” Toe Jakob wakker word, sê hy: “Die Here is hier, en ek het nie eers geweet nie.” Hy het toe olie op die klip waarop sy kop gelê het, gegooi en die plek Bet-el genoem. Dit beteken “huis van God”. Daarna het hy gebid en gesê: “Here, beskerm my en bring my eendag weer terug na hierdie plek toe. Dan sal ek U altyd dien. En ek sal een tiende van alles wat ek het, vir U gee.” Jakob het verder gereis tot hy by sy ma se familie aangekom het. Daar het hy baie jare lank gebly. Later het die broers vrede met mekaar gemaak. Genesis 25, 27 en 28
45
Josef se drome
46
47
J
akob het in Kanaän gewoon. Hy het twaalf seuns en een dogter gehad. Die seuns se name was Ruben, Simeon, Levi, Juda, Dan, Naftali, Gad, Aser, Issaskar, Sebulon, Josef en Benjamin. Die dogter se naam was Dina. Jakob was die heel liefste vir sy seun Josef. Hy het vir hom lang klere met moue gemaak. Dit was baie mooier as die ander broers se klere en hulle was jaloers. Josef het ook stories oor sy broers by sy pa aangedra. Dit het hulle baie kwaad gemaak. Hulle het teen hom gedraai. Later kon hulle nie meer een goeie woord oor hom sê nie. Toe Josef omtrent 17 jaar oud was, het hy ’n vreemde droom gehad.
48
Josef het gedroom dat hy en sy broers op die koringland werk. Hulle was besig om die koring in gerwe te bind. Skielik het Josef se gerf regop gaan staan. Sy broers se gerwe het voor sy gerf gebuig. Josef het sy broers van sy droom vertel. Hulle was baie kwaad. “Is jy van plan om ons koning te word? Gaan jy oor ons regeer?” vra hulle. Josef se droom het gemaak dat sy broers hom begin haat het. Kort daarna het Josef weer gedroom. Hy het gedroom dat die son, die maan en elf sterre voor hom buig. Hy het sy pa en sy broers van sy droom vertel. Hierdie keer was sy pa ook kwaad vir hom. Dit het geklink asof die droom sê dat Josef se pa en ma ook voor hom sal buig. Josef se broers het nou nóg ’n rede gehad om hom te haat. Maar Jakob het die drome onthou, en gewonder wat hulle beteken. Genesis 37:1–11
49
Josef se broers verkoop hom
50
51
J
osef se broers het hulle pa se skape opgepas. Soms moes hulle ver van die huis af weggaan om weiding vir die skape te kry.
Eenkeer was hulle met die skape naby ’n plek met die naam Sigem. Jakob het Josef daarheen gestuur om te hoor hoe dit met hulle gaan. Toe Josef in Sigem kom, was sy broers nie meer daar nie. Hulle was by ’n plek met die naam Dotan. Josef is toe weg na Dotan toe. Die broers het Josef van ver af sien aankom. Hulle was nie bly om Josef te sien nie. “Kom ons maak die dromer dood en gooi hom in die put,” sê hulle vir mekaar. “Dan sal ons sien of sy drome waar word!” Ruben was die oudste seun. Hy wou nie vir Josef doodmaak nie. “Kom ons gooi hom liewer lewendig in die put,” sê hy. Hy wou stilletjies vir Josef uit die put haal en huis toe stuur. Toe Josef by sy broers kom, het hulle sy mooi klere uitgetrek en hom in die droë put gegooi. Net toe hulle wou gaan eet, sien hulle ’n klomp kamele aankom.
52
Dit was ’n groep handelaars op pad Egipte toe. Juda het dadelik ’n nuwe plan met Josef. “Kom ons verkoop Josef aan die handelaars,” sê hy. “Dan maak ons hom ten minste nie dood nie!” Ruben was nie daar nie. Die ander broers het Josef daar en dan aan die handelaars verkoop. Ruben was baie kwaad toe hy uitvind wat hulle gedoen het, maar dit was te laat. Josef was weg. Die broers slag toe ’n bok en doop Josef se klere in die bloed. Hulle het dit vir hulle pa gaan wys. Hulle het gesê hulle het dit in die veld gekry. “Dit is Josef se kleed!” sê Jakob. “Dit lyk asof ’n wilde dier hom doodgemaak het!” Jakob was baie hartseer. Sy ander kinders het probeer om hom te troos, maar hy het hartseer gebly. “Ek sal oor Josef treur tot die dag wat ek doodgaan,” het Jakob gesê. Genesis 37:12–36
53
54
Josef in Egipte
55
I
n Egipte was Josef ’n slaaf. Sy lewe was swaar. Na ’n paar jaar is hy in die tronk gegooi vir iets wat hy nie gedoen het nie. Die farao se skinker was ook in die tronk en Josef het sy droom vir hom uitgelê. Die skinker het belowe om Josef te help wanneer hy vrygelaat word, maar toe hy eers vry was, het hy van Josef vergeet. Josef het ’n lang tyd in die tronk gebly. Tog het Josef die hele tyd op God vertrou, en God was by Josef. God het ook ’n plan gehad met Josef. En eendag het Josef se lewe verander. Dit het begin toe die farao vreemde drome gedroom het. Niemand kon vir hom verduidelik wat die drome beteken nie. Hy het sy wyse manne en towenaars laat kom, maar hulle kon hom nie help nie. Toe onthou die farao se skinker hoe Josef hom in die tronk gehelp het. Hy onthou dat hy belowe het om Josef te help. Hy vertel toe vir die farao dat Josef sy droom uitgelê het en dat alles gebeur het soos Josef voorspel het. Die farao het dadelik vir Josef laat haal. In die paleis het hulle Josef eers geskeer en hom nuwe klere laat aantrek. Toe het hulle hom na die farao gestuur. “Ek hoor jy kan drome uitlê,” sê die farao. “Nee,” sê Josef, “ek kan dit nie doen nie. Net God kan vir u die antwoord gee.” Toe vertel die farao vir Josef van sy drome. In sy eerste droom het die farao sewe koeie uit die Nylrivier sien kom. Hulle was vet en gesond. Toe kom daar sewe lelike, maer koeie uit die rivier en eet die vet koeie op.
56
Hulle het net so maer gebly soos hulle aan die begin was. Farao se tweede droom was oor die graan wat op die lande gegroei het. Eers het hy sewe are aan een stingel gesien. Die are was vet en mooi. Toe het sewe ander koringare verskyn. Hulle was swak en dun en die oostewind het hulle verskroei. Die dun are het die vet are ingesluk en net so dun soos voorheen gebly. “Die twee drome het dieselfde betekenis,” sê Josef. “God wil vir u wys wat Hy gaan doen. Daar gaan sewe wonderlike jare wees met baie kos vir almal. Dan gaan daar sewe jare van verskriklike hongersnood wees. Niemand gaan kos hê nie. Niks gaan van die sewe goeie jare oorbly nie.” Josef sê ook: “My raad aan u is om ’n wyse man te soek en hom in beheer van die land aan te stel. Hy moet amptenare hê om hom te help, en hulle moet ’n gedeelte van al die graan wat in die goeie jare groei, versamel. Hulle moet dit in groot skure bêre, sodat daar in die tyd van die hongersnood genoeg kos vir almal kan wees.” Die farao het gedink dit is ’n baie goeie plan. Hy het Josef oor die hele land aangestel. Josef was tweede in bevel, net onder die farao self. Josef het deur die hele Egipte gereis. In die jare toe daar baie graan was, het hy al die ekstra graan in skure weggebêre. En toe die slegte jare kom, was daar kos in Egipte. God het Josef gebruik om die mense van Egipte van hongersnood te red. Genesis 39 tot 41
57
58
Josef vergewe sy broers
59
D
ie droogte in Egipte het ook na Kanaän versprei. Die mense in Kanaän het gehoor dat daar graan in Egipte was. Jakob stuur toe tien van sy seuns Egipte toe om graan te gaan koop. Toe die broers in Egipte voor Josef verskyn, het hulle hom nie herken nie. Josef het gemaak asof hy dink hulle is spioene. Die broers was baie benoud. Hulle het gesê dat hulle almal broers was en dat hulle jongste broer by die huis was. Toe sê Josef: “Dan moet julle julle broer gaan haal. Intussen hou ek een van julle hier in die tronk.” Josef het Simeon in die tronk laat opsluit. Die ander broers het vir mekaar gesê: “God straf ons oor wat ons aan Josef gedoen het!” Op pad huis toe het die broers die geld wat hulle vir die koring betaal het, in hulle graansakke gekry. Dit het hulle baie bang en bekommerd gemaak. Toe Jakob hulle storie hoor, sê hy: “Josef is weg. Simeon is weg. Benjamin bly net hier! Ek sal hom nie laat gaan nie.” Die droogte het nie opgehou nie, en later het Jakob-hulle se kos opgeraak. Juda sê toe vir sy pa: “Ons sal van honger doodgaan. Ons moet kos gaan koop in Egipte en ons moet Benjamin saamneem. Ek belowe ek sal hom terugbring.” Na ’n lang tyd het Jakob toegelaat dat Benjamin saam met sy broers gaan. Jakob het ook geskenke vir Josef gestuur. En die broers het twee keer soveel geld as voorheen saamgeneem.
60
Toe Josef sien dat sy broers Benjamin saamgebring het, het hy vir die opsigter van sy huis gesê om ’n feesmaal voor te berei.
Die broers was bang en bekommerd, maar Josef het hulle baie goed behandel. Ná die ete het Josef sy opsigter beveel om sy broers se sakke vol graan te maak. Hy moes ook al die geld wat hulle betaal het, in die sakke terugsit. En hy moes Josef se silwer beker in Benjamin se sak sit. Net nadat die broers weg is, het Josef sy opsigter agter hulle aan gestuur. Hy het hulle beveel om hulle sakke oop te maak. Toe hy die silwer beker in Benjamin se sak kry, het hy hom gevange geneem. Benjamin moes saam met hom teruggaan. Die ander was vry om huis toe te gaan. Die broers het geweet hulle kan nie sonder Benjamin huis toe gaan nie. Hulle het soos een man omgedraai en saam met Benjamin gegaan. Juda het met Josef gepraat. “Ek het my pa belowe om Benjamin veilig terug te neem. Laat hom asseblief teruggaan na sy pa toe. Ek sal in Benjamin se plek u slaaf wees.” Josef het gesien dat sy broers verander het. Hulle wou Benjamin beskerm ter wille van hulle pa. En toe vertel hy hulle dat hy hulle broer Josef is. “God het my na Egipte toe gestuur sodat ek baie lewens kan red,” sê hy. “Dit was alles deel van sy plan.” Josef het sy broers omhels en hulle het almal saam gehuil. Toe gaan hulle met harte vol vreugde terug na Jakob toe. Toe Jakob hoor dat Josef nog leef, het hy en sy hele familie in Egipte gaan woon. Die Here het die broers se bose planne in baie goeie planne verander. Genesis 42 tot 45
61
God beskerm ’n babatjie
62
63
D
ie Israeliete het in Egipte gewoon. Aan die begin het die Egiptenare hulle goed behandel, maar toe het ’n nuwe farao begin regeer. Hy het nie van die Israeliete gehou nie. Hy het gedink hulle gaan miskien teen die mense van Egipte veg en die land oorneem. Hy het die Israeliete soos slawe laat werk. Hy het ook sy mense beveel om al die babaseuntjies van die Israeliete dood te maak. Een van die ma’s kon dit nie oor haar hart kry om haar baba vir die Egiptenare te gee nie. Sy het hom in haar huis weggesteek. Toe die baba groter word, het hy al harder begin huil. Na drie maande kon die mense buitekant die huis hom hoor. Sy ma moes ’n nuwe plan maak. Sy het toe ’n biesiemandjie met klei en pik dig gemaak. Sy het haar baba in die mandjie gesit en die mandjie tussen die riete aan die kant van die Nylrivier weggesteek. Sy het vir Miriam, die baba se suster, gesê: “Bly hier sodat jy kan sien wat gebeur.” Miriam het naby haar boetie gebly. Na ’n rukkie sien sy dat die farao se dogter na die rivier toe kom om te swem.
64
Die prinses het die mandjie gesien. Wat kon daarin wees? Sy het haar slavin gestuur om die mandjie te gaan haal. Die slavin het die mandjie vir die prinses gebring. Sy het dit versigtig oopgemaak en daar lê ’n baba en huil! Die prinses het die klein babatjie jammer gekry. Toe kom Miriam nader en sê vir die prinses: “Ek kan iemand gaan haal wat die baba melk kan gee!” “Ja, goed,” sê die prinses, en Miriam hardloop vinnig weg om haar ma te gaan haal. Die prinses sê vir hulle ma: “Hou die baba by jou en voed hom. Ek sal jou betaal.” En so het dit gebeur dat die baba by sy eie ma kon bly. Sy het na hom gekyk totdat hy nie meer melk gedrink het nie. Toe het sy hom na die prinses geneem. Die prinses het die baba grootgemaak asof hy haar eie was. Sy het hom Moses genoem, omdat sy hom uit die water gehaal het. God wou hê dat Moses die Israeliete se leier word. Daarom het Hy Moses se ma en suster die moed gegee om hom in die rivier te sit. God het die prinses gestuur om sy lewe te red en hom aan te neem. Hy het seker gemaak dat Moses bly lewe, want hy was die een wat die Israeliete na hul eie land moes neem. Eksodus 1 en 2
65
66
God stuur Moses
67
M
oses het baie jare lank in die woestyn Midian gewoon. Op ’n dag neem hy sy skoonpa se kleinvee na die berg Horeb toe. Die mense het dit die berg van God genoem. Daar het Moses ’n vreemde ding gesien. ’n Doringbos het gebrand, maar nie uitgebrand nie. Toe Moses nadergaan om te kyk wat aangaan, hoor hy ’n stem binne-in die doringbos. Dit was die Here wat met hom praat. Die Here sê: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale uit. Jy staan op heilige grond.” Hy sê verder: “Ek is die God van jou voorvaders. Ek is die God van Abraham. Ek is die God van Isak. En Ek is die God van Jakob.” Moses was bang toe hy God se stem hoor. Hy wou nie eers na die bos kyk nie. Die Here sê: “Ek het gesien hoe swaar my mense in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle om hulp roep. Ek het gesien hoe sleg die Egiptenare hulle behandel. Daarom gaan Ek hulle vry maak. Ek gaan hulle na ’n goeie land neem. Daar is baie plek. Dit is ’n land van melk en heuning. Ek wil hê jy moet na die farao toe gaan en die Israeliete uit Egipte lei.” Moses was nog banger toe hy hierdie woorde hoor. Hy sê: “Asseblief, Here, ek kan dit nie doen nie. Ek kan nie na die farao toe gaan nie. Ek kan nie die Israeliete se leier wees nie.” Maar God sê: “Ek sal by jou wees. Jy sal die Israeliete uit Egipte lei na hierdie berg toe. Hier sal julle my aanbid.”
68
Moses sê: “Maar wat moet ek vir die mense van U vertel? Sê nou hulle vra wat u Naam is!” Die Here gee toe vir Moses sy naam: EK IS. Hy sê: “Vertel hulle dat EK IS jou stuur. Sê vir hulle Ek is die God van hulle voorvaders. Hulle moet My altyd Here God noem.’” Moses was nog altyd te bang om te gaan. Hy sê: “Israel se leiers sal nie na my luister nie. Hulle sal nie glo dat U my regtig gestuur het nie.” Die Here belowe dat Hy Moses sal help om wondertekens te doen. Moses sê: “Dis goed en wel, maar ek is nie ’n goeie spreker nie.” Die Here belowe dat hy Moses sal leer wat om te sê. Maar Moses sê: “Stuur asseblief iemand anders.” Toe word die Here kwaad. Hy sê: “Jy moet gaan! Jou broer Aäron kan in jou plek praat, maar jy moet vir hom sê wat om te sê. En jy moet die tekens doen.” Moses het toe belowe dat hy Egipte toe sal gaan en met die farao sal praat. Eksodus 2 tot 4
69
70
God bevry die Israeliete
71
M
oses en sy broer Aäron het vir die Israeliete gaan sê: “Die Here het gesien hoe swaar julle kry. Hy sal julle terugneem na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob belowe het.” Moses en Aäron het na die farao toe gegaan en vir hom gesê: “Die Here God wil hê dat u sy mense moet laat gaan.” Die farao het gesê: “Ek ken nie hierdie God nie. Hoekom moet ek na Hom luister?” Aäron gooi toe sy kierie op die grond, en dit verander in ’n slang. Die farao se towenaars kon ook kieries in slange verander, maar Aäron se kierie het hulle slange ingesluk. Maar die farao het nog altyd gedink Egipte se gode is sterker as God. Die Here sê vir Moses: “Ek sal die farao wys dat Ek almagtig is.” Toe stuur die Here tien plae na Egipte. Eers het die water van die Nylrivier in bloed verander. Die visse in die rivier het doodgegaan. Die mense kon nie die water drink nie. Toe stuur die Here ’n menigte paddas na Egipte toe. Die paddas was oral, selfs in die mense se beddens en in hulle oonde en kosbakke. Daarna stuur die Here muggies wat op almal gaan sit het en oral ingekruip het. Toe kom steekvlieë. Hulle het in die huise ingevlieg en mense en diere gesteek. Die volgende plaag was ’n dodelike siekte onder die Egiptenare se diere. En daarna het daar swere op
72
die Egiptenare en hulle diere verskyn. Die sewende plaag was die ergste haelstorm wat ooit in Egipte geval het. Dit het die oeste, die bome en die plante vernietig. Daarna het sprinkane verskyn en al die plante wat ná die hael oorgebly het, opgeëet. Toe was dit drie dae lank pikdonker in Egipte. Niemand kon enigiets sien nie. Die plae het net die Egiptenare en hulle diere getref. Die Here het die Israeliete beskerm en hulle en hulle diere het niks oorgekom nie. Elke keer as God ’n plaag stuur, het die farao vir Moses gevra om dit weg te neem. En net sodra die plaag weg was, het die farao van plan verander en geweier om die Israeliete te laat gaan. Toe was dit tyd vir die tiende plaag, die ergste van almal. God het spesiale opdragte vir die Israeliete gegee sodat hulle veilig kon wees. Hulle moes ’n lam slag wat geen gebrek het nie en sy bloed aan hulle deurkosyne smeer. Dan moes hulle die lam oor ’n vuur gaarmaak en eet. Wanneer die Here bloed aan ’n deur sien, het die mense in daardie huis niks oorgekom nie. Daardie nag is al die eersgebore kinders en diere in Egipte dood. Die farao het ingesien dat God waarlik die almagtige God is. Uiteindelik sê hy vir Moses: “Gee pad uit my land!” Die Israeliete was vry om te gaan. Eksodus 4 tot 12
73
Die Israeliete by die Rietsee
74
75
D
ie farao het die Israeliete toegelaat om na hulle eie land te trek. Die Egiptenare het selfs vir hulle geskenke gegee sodat hulle gou kon trek. Almal was bly en opgewonde. Hulle was vry! Die Here het hulle belowe: “Ek sal julle na ’n goeie land toe neem. Dit is ’n land vol melk en heuning. Daar is oorgenoeg plek vir almal.” God het die mense deur die woestyn na die Rietsee gelei. Bedags het God in ’n wolkkolom voor hulle uitgegaan. Snags was daar ’n vuurkolom wat lig gegee het. Die farao was gou spyt dat hy die Israeliete laat gaan het. Hy het skielik nie meer slawe om vir hom te werk nie. Hy roep toe sy leër bymekaar en hulle jaag met perde en strydwaens agter die Israeliete aan. Die Israeliete het kamp opgeslaan op die strand by die Rietsee. Toe hulle terugkyk en sien hoe die Egiptenare aangejaag kom, was hulle baie bang. Hulle sê vir Moses: “Het jy ons na die woestyn toe gebring om doodgemaak te word? Jy moes ons in Egipte gelos het. Daar was ons ten minste veilig!”
Moses sê: “Moenie bang wees nie. Staan vas! Julle sal vandag sien hoe God julle gaan red. Bly kalm. Die Here sal vir ons veg.” Die wolkkolom voor die Israeliete het terugbeweeg tot dit tussen die Israeliete en die Egiptenare was. Aan die Egiptenare se kant was dit pikdonker, maar by die Israeliete was dit lig.
76
Toe het die Here vir Moses gesê om sy staf oor die Rietsee uit te steek. Deur die nag het ’n sterk oostewind gewaai. Dit het die water teruggedruk en ’n pad deur die see gemaak. Die Israeliete kon op droë grond deur die see loop. Daar was ’n watermuur aan hulle regterkant en ’n watermuur aan hulle linkerkant. Die Egiptenare het die Israeliete agternagesit. Toe het God hulle strydwaens se wiele laat afval. Hulle kon nie vorentoe of agtertoe beweeg nie. Toe al die Israeliete veilig aan die ander kant was, het God vir Moses gesê om sy hand oor die see uit te steek. Die water het dadelik begin terugstroom. Dit het oor die farao se leër gespoel en al die Egiptenare het verdrink. Nie een van hulle het oorgebly nie. Daardie dag het God Israel gered van die Egiptenare, en die Israeliete het God se groot mag gesien. Die Israeliete het geleer dat hulle God kon vertrou om hulle te help. Eksodus 14
77
Tien wette
78
79
D
ie Israeliete het deur die woestyn getrek op pad na hulle land toe. Die Here het die pad gewys, en hulle gehelp wanneer hulle in die nood was. Hy het water gegee toe hulle water op was. Hy het hulle gehelp toe die Amalekiete hulle aanval. Ná drie maande het die Israeliete in die Sinaiwoestyn aangekom. Hulle het aan die voet van die Sinaiberg kamp opgeslaan. God het vir Moses gesê: “As die Israeliete my dien en gehoorsaam, sal hulle my spesiale volk wees.” Die mense het geantwoord: “Ons wil die Here dien en gehoorsaam. Ons wil sy volk wees.” God wou met die mense van Israel praat. Die mense moes hulle gereedmaak. As hulle skoon was en skoon klere aangehad het, moes almal na die voet van die berg toe gaan. Met dagbreek het ’n donker wolk die berg bedek. Daar was donderweer en weerligstrale en die mense het die klank van ’n ramshoring gehoor. Dit het al harder geword. Die mense het by die voet van die berg gaan staan en God het in ’n vuur afgekom na die berg. Daar was baie rook en die berg het begin skud. Moses het teen die berg opgeklim, en daar het God tien wette vir hom gegee.
80
Ons noem dit die tien gebooie. Dit is wat God gesê het: Ek is die Here julle God. Ek het julle uit Egipte gebring. Julle moet God liewer hê as enigiemand of enigiets anders. Julle mag nie beelde van ander gode maak nie. Julle mag nie daardie beelde aanbid nie. Gebruik God se Naam met respek. Doen al julle werk in ses dae. Die sewende dag is ’n dag om te rus en die Here te eer. Respekteer julle ouers. Moet niemand seermaak nie. Wees getrou aan die man of vrou met wie jy getrou het. Moenie steel nie. Moenie jok nie. Moenie die dinge wat aan ander mense behoort, begeer nie. Die mense was bang vir die donderweer en weerlig, en vir die harde geluide en vuur. Hulle het vir Moses gesê: “Ons is bang. Moenie toelaat dat God met ons praat nie. Luister jy liewer na Hom en kom vertel ons wat Hy wil hê.” Moses sê vir hulle: “Julle hoef nie bang te wees nie! Julle moet net altyd onthou dat God almagtig is. Julle moet hom respekteer en gehoorsaam.” Toe het hulle ’n altaar gebou en die Here aanbid. Eksodus 17, 19 en 20
81
Ragab help die Israeliete
82
83
D
ie Israeliete was in die land wat die Here aan hulle beloof het, maar daar was baie vyande wat teen hulle wou veg.
Die stad Jerigo het hoë mure gehad. Josua stuur toe twee verkenners daarheen. Hulle moes uitvind hoe sterk die stad se mure was, en of die stad se soldate gereed was vir ’n geveg teen die Israeliete. Die twee mans het deur die stad geloop en alles bekyk. Hulle het ’n vrou raakgeloop wat vir hulle blyplek in haar huis gegee het. Toe hoor die koning van die verkenners in Ragab se huis en stuur sy soldate om hulle te gaan haal. Ragab het die verkenners na haar huis se dak geneem en hulle onder ’n hoop vlasstoppels weggesteek. Sy sê vir die koning se manne: “Ek het nie geweet die mans is spioene nie! Hulle was hier, ja, maar hulle is vroegaand hier weg. As julle gou maak, sal julle hulle dalk nog langs die pad kry!” Die koning se manne het die verkenners gaan soek op die pad na die Jordaanrivier en die Israeliete se kamp toe. Ragab gaan sê toe vir die verkenners: “Ek weet die Here gaan die land vir julle gee. Hy heers oor die hemel en die aarde. Ons het gehoor hoe Hy julle op pad hierheen gehelp het, en al die mense van die land is bang vir julle. Ek het julle vandag gehelp. Belowe my dat julle my ook sal help wanneer julle die stad inneem.”
84
Die mans belowe om haar en haar familie se lewens te spaar. Ragab se huis was in die stad se muur ingebou. Sy het die mans met ’n tou deur ’n venster in die muur laat afsak. Sy sê: “Gaan kruip in die berge weg. Die mans wat julle soek, is op die pad na die Jordaanrivier toe. Wag drie dae voordat julle teruggaan na julle kamp toe.” Die twee verkenners sê vir haar: “As ons teen julle kom veg, moet jy hierdie rooi tou aan jou venster vasmaak en by die muur laat afhang. Maak seker jou hele familie is in jou huis. Ons belowe ons sal al die mense in die huis red.” Toe die mans ná drie dae weer by hulle kamp kom, sê hulle vir Josua: “Die Here sal hierdie land vir ons gee. Al die mense is bang vir ons en vir die Here.” Josua 2
85
Die mure van Jerigo
86
87
N
a baie jare het die Israeliete by die land gekom wat die Here aan hulle beloof het. Die mense van die land het gereed gemaak om teen hulle te veg. Die eerste stad waarteen die Israeliete moes veg, was Jerigo. Daar was mure reg rondom die stad. Josua was die Israeliete se nuwe leier. Hy wou die stad van ver af gaan bespied. Toe hy nader kom, staan daar skielik ’n man met ’n swaard in sy hand voor hom. Die man sê: “Ek is die leier van die Here se leër. Ek kom julle help.” Toe het Josua geweet dit is ’n engel wat voor hom staan. Hy het geweet die Here sal die Israeliete help. Jerigo se soldate was in die stad en die hekke was gesluit. Hulle het gewag vir die Israeliete. Die Israeliete het gereed gemaak vir die geveg. God het vir Josua gesê wat die Israeliete moet doen. Josua en sy leër het na die stad toe marsjeer. In die middel van die manskappe was daar sewe priesters wat op ramshorings blaas. Agter hulle was priesters wat die verbondsark gedra het. Die manskappe en die priesters het een maal om die stad marsjeer. Die priesters het op die ramshorings geblaas, maar die manskappe was doodstil.
88
Mens kon net die geluid van hulle voete hoor. Toe hulle een maal om die stad marsjeer het, het hulle na hulle kamp toe gegaan. Dit het ses dae lank aangehou. Jerigo se soldate het van die mure af gestaan en kyk. Waarmee was die Israeliete besig? Op die sewende dag het die Israeliete met dagbreek gereed gestaan. Hulle het sewe keer om die stad marsjeer. Die priesters het op die ramshorings geblaas. Die soldate was stil. Ná die sewende keer het die priesters weer op die ramshorings geblaas. Josua het uitgeroep: “Skreeu hard! Die Here gee die stad aan julle oor!” Die manskappe het geskreeu. Die ramshorings het geblaas. En toe val Jerigo se mure om. Die manskappe het die stad bestorm. Die geveg het begin. Omdat hulle vir die Here geveg het, het hulle niks vir hulleself gevat nie. Hulle het die goud, silwer, brons en yster in Jerigo na die tabernakel, die huis van die Here, geneem. Dit het aan God behoort. Die Israeliete het die stad verwoes. Hulle het net Ragab se familie gespaar, omdat sy die Israeliete voor die geveg gehelp het. Al die mense van die land het gesien dat die Here by die Israeliete was. Josua 5 en 6
89
Samuel luister na God
90
91
S
amuel het saam met Eli in God se huis gewoon. Eli was die priester. Waarom het Samuel nie by sy ouers gebly nie? Voordat Samuel gebore is, het sy ma, Hanna, vir die Here gevra om haar ’n babaseuntjie te gee. Sy het belowe sy sal die seuntjie vir die Here teruggee sodra hy groot genoeg was. Die Here het Hanna se gebed gehoor en sy het ’n babaseuntjie gekry. Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die huis van God geneem, net soos sy beloof het. Van daardie dag af het Samuel saam met Eli in die tempel gebly. Samuel was baie gelukkig in God se huis. Sy ma het elke jaar kom kuier, en dan het sy vir hom nuwe klere saamgebring. Eli was baie oud en hy kon nie meer goed sien nie. Een nag word Samuel wakker. Hy hoor iemand roep. Samuel dink dit is Eli wat iets nodig het, en hy staan op en gaan na Eli toe. “Hier is ek,” sê hy. “Wat moet ek vir u doen?” Eli sê: “Ek het jou nie geroep nie, Samuel. Gaan slaap maar weer.” Samuel het op sy bed gaan lê. Na ’n rukkie hoor hy weer iemand roep. Samuel gaan toe weer na Eli toe. Hy sê: “Ek het u hoor roep. Hier is ek!” Eli sê: “Ek het jou nie geroep nie. Gaan terug bed toe, Samuel.”
92
Samuel het nie die Here geken nie. Hy het nie geweet dat dit Hy was wat geroep het nie. Samuel hoor toe hoe iemand hom ’n derde keer roep. Hy het weer na Eli toe gegaan, en hierdie keer het Eli besef wie geroep het. Hy sê vir Samuel: “Gaan terug bed toe. Dis die Here wat jou roep. Wanneer jy sy stem hoor, moet jy sê: ‘Praat, Here. Ek is u dienaar. Ek luister.’” Samuel het op sy bed gaan lê. Toe hy weer iemand hoor roep, was hy gereed. Hy sê: “Praat, Here. Ek is u dienaar. Ek luister.” Die Here sê toe vir Samuel: “Ek het hartseer nuus vir jou. Eli se seuns het teen my gesondig, en Eli het hulle nie gekeer nie. Die hele familie gaan vir hulle sondes betaal.” Die volgende oggend het Samuel die deure van God se huis oopgemaak, net soos hy elke oggend gedoen het. Hy wou nie vir Eli vertel wat die Here gesê het nie, maar Eli sê: “Jy moenie stilbly oor die dinge wat God vir jou sê nie.” Toe vertel Samuel hom en Eli sê: “Hy is die Here God. Hy moet doen wat Hy wil.” Samuel het God liefgehad. Hy het hom getrou gedien, en God het dikwels met hom gepraat. Al die Israeliete het geweet dat hy ’n profeet van God is. Hy het die mense se rigter geword. 1 Samuel 1 tot 3
93
Samuel salf Dawid
94
95
I
srael was God se volk. Hulle het nie ’n koning gehad nie, net rigters wat hulle gelei het as daar oorlog was. Toe wil die Israeliete soos die ander nasies wees. Hulle wil ’n koning hê. God het vir Samuel gesê om Saul te salf. Hy was die Israeliete se eerste koning. In die begin het koning Saul na Samuel se raad geluister en God gehoorsaam. Maar toe begin hy sy eie pad volg. Teen daardie tyd was Samuel al oud, en Saul se ongehoorsaamheid het hom baie hartseer gemaak. Die Here sê vir Samuel: “Moenie langer oor Saul hartseer wees nie. Ek het ’n nuwe koning gekies. Maak ’n horing vol olie en gaan na Betlehem toe. Dit is waar Isai woon. Een van sy seuns sal Israel se nuwe koning word.” Samuel neem toe ’n verskalf Betlehem toe. Hy vertel vir die dorp se leiers dat hy ’n offer aan God wil bring. Hy weet dat God vir hom die jongman sal wys wat hy moet salf. Toe Isai en sy seuns daar aankom vir die offer, sien Samuel vir Eliab, Isai se oudste seun. Hy was ’n lang, aantreklike jongman, en Samuel het gedink: “Dit is seker die een wat ek moet salf.” Maar die Here sê vir Samuel: “Dit is nie die een wat Ek gekies het nie. Ek kyk nie soos mense nie. Mense kyk hoe iemand aan die buitekant lyk. Ek kyk na ’n mens se hart.”
96
Toe kom Isai se ses ander seuns om Samuel te ontmoet, maar die Here het ook nie een van hulle gekies nie. Samuel vra vir Isai: “Is dit al jou seuns?” “Nee,” sê Isai, “my jongste seun pas die skape op. Hy kon nie kom nie.” Samuel sê: “Laat hom haal. Ons gaan nie eet voordat hy hier is nie.” Isai laat haal toe sy jongste seun. Dawid was aantreklik, fiks en gesond. Hy was ook dapper. Hy het sy pa se skape teen die wilde diere beskerm, en het reeds ’n leeu en ’n beer doodgemaak. Hy het ook graag musiek gemaak. Toe Samuel vir Dawid sien, sê die Here vir hom: “Dit is die een wat Ek gekies het.” Samuel het die horing vol olie geneem en die olie oor Dawid se kop uitgegooi. Op hierdie manier het hy Dawid gesalf en vir almal gewys dat God hom gekies het om Israel se volgende koning te wees. Dawid het teruggegaan na die skape toe, en van daardie dag af het die Gees van die Here kragtig in hom gewerk. 1 Samuel 9, 10 en 16
97
Dawid en die reus
98
99
D
ie Filistyne en die Israeliete het hulle leërs bymekaar gemaak vir oorlog. Die Filistyne se leër het teen een heuwel gestaan en die Israeliete se leër teen ’n ander heuwel. Daar was ’n smal vallei tussen hulle. Goliat was een van die Filistyne se baasvegters. Hy was drie meter lank. Hy het ’n bronshelm en ’n swaar harnas gedra. Daar was bronsskerms voor sy bene. Hy het ook ’n bronsswaard en ’n lang spies gehad. Goliat het elke oggend en aand op die soldate van Israel geskree: “Kies ’n man om teen my te veg. As hy wen, is ons julle slawe. As ek wen, is julle ons slawe.” So het dit ’n lang ruk aangegaan. Koning Saul en sy vegters was bang. Niemand wou teen die reus veg nie. Dawid se broers het ook vir Saul geveg en Isai het Dawid gestuur om vir hulle kos te neem. Dawid het net by die kamp aangekom toe Goliat weer vorentoe kom en die Israeliete uitdaag om teen hom te veg. Dawid sê: “Hoe kan hierdie man so praat met die vegters van die lewende God? Wie dink hy miskien is hy?” Toe sê Dawid vir Koning Saul: “Ek sal teen Goliat veg.” Saul sê: “Jy is te jonk, Dawid. Jy weet niks van oorlog nie.”
Maar Dawid sê: “Ek pas my pa se skape op. Wanneer ’n wilde dier die skape aanval, gaan ek agter hom aan. God het my teen ’n leeu en ’n beer beskerm. Hy sal my ook teen hierdie Filistyn beskerm.”
100
Toe trek Saul vir Dawid ’n harnas aan en gee hom ’n helm. Dawid kon skaars daarmee loop. Hy het dit uitgetrek, sy herderstaf gevat en na ’n spruit gestap. Daar het hy vyf gladde klippies opgetel en in sy slingersak gesit. Met sy slingervel in sy hand stap hy na Goliat toe. Goliat het gesien dat Dawid nog jonk is. Hy sê: “Hoekom baklei jy met ’n stok? Dink jy ek is ’n hond? Kom nader dat ek jou gou kan doodmaak!” Dawid sê vir Goliat: “Jy kom met ’n swaard, ’n spies en ’n dolk. Maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here. Hy sal my help. Dan sal almal weet dat Hy ons almagtige God is.” Toe hardloop Dawid vinnig na Goliat toe. Hy haal ’n klippie uit sy sak en gooi dit met sy slingervel. Die klippie tref Goliat teen die voorkop, en die reus val op sy gesig op die grond. Dawid was maar net ’n jong skaapwagter. Maar hy het op God vertrou, en God het hom gehelp om die geveg teen die reus Goliat te wen. 1 Samuel 17
101
Salomo, die wyse koning
102
103
D
awid se seun, Salomo, het Israel se derde koning geword toe hy nog baie jonk was.
Dawid se raad aan hom was: “Wees sterk en dapper. Gehoorsaam God in alles wat jy doen.” Salomo het sy pa se raad gevolg en na Gibeon gegaan om offerandes aan God te bring. Daar het die Here in ’n droom aan Salomo verskyn. Die Here sê vir Salomo: “Wat moet Ek vir jou gee?” Salomo sê: “Here, ek is jonk. Ek weet nie hoe om ’n koning te wees nie. Ek weet nie hoe om oor u mense te heers nie. Gee asseblief vir my die wysheid om my werk te doen. Wys vir my hoe om te doen wat reg is.” God was tevrede met Salomo se antwoord. Hy sê: “Jy het nie gevra vir ’n lang lewe of rykdom nie. Jy het nie gevra dat jou vyande moet doodgaan nie. In plaas daarvan wil jy doen wat reg is. Jy wil regverdig teenoor jou mense optree. Ek sal jou wysheid en insig gee. Ek sal ook vir jou die dinge gee wat jy nie gevra het nie: rykdom en aansien. Maar onthou om My te dien. Gehoorsaam altyd my wette.” Koning Salomo het beroemd geword vir sy wysheid. Hy het baie spreuke en liedere geskryf. Hy het alles geweet van plante, diere, voëls, slange en visse. Die ander konings het hulle mense gestuur om na hom te luister.
104
Salomo het ook die tempel in Jerusalem gebou. Dit was ’n pragtige gebou met baie goue ornamente. Toe die tempel klaar was, het al die Israeliete daar bymekaar gekom. Koning Salomo het gebid: “Here, U is ons God. Ons het hierdie tempel gebou om u woning te wees, selfs al weet ons dat U nie in geboue woon nie. U is almagtig. Selfs die hemel is te klein vir U. Luister asseblief na u volk Israel se gebede en vergewe ons sondes. Wys vir ons hoe om U te gehoorsaam.” Die koningin van Skeba het gehoor dat Koning Salomo die Here dien en ook baie wys is. Sy het hom toe besoek sodat sy kon sien of alles wat sy gehoor het, waar is. Sy het baie diensmeisies en geskenke saam met haar gebring. Sy het vir Salomo alles gevra wat sy wou weet, en hy het al haar vrae beantwoord. Salomo het die tempel vir haar gewys, en ook sy paleis en sy besittings. Die koningin het vir hom goud, speserye en juwele gegee. Sy het gesê: “Ons het daar ver in my land van u gehoor. Nou sien ek dat u selfs wyser en ryker is as wat die mense gesê het. Mag die Here u God geprys word!” Sy het besef dat Salomo se wysheid en rykdom gawes van God was. 1 Konings 2–4, 7, 8 tot 10
105
106
In ’n brandende oond
107
K
oning Nebukadnesar het ’n goue beeld laat maak en dit op ’n vlakte naby Babilon opgerig. Die beeld was ongeveer 30 meter hoog en drie meter breed. Toe het hy al sy amptenare en raadgewers voor die beeld bymekaar laat kom. Sadrag, Mesag en Abednego was onder hulle. Hulle het die Here God aanbid. Die koning het almal voor die groot standbeeld laat staan. Toe het die koning se aankondiger hard geroep: “Wanneer julle musiek hoor speel, moet julle voor die goue beeld buig en dit aanbid. As julle dit nie doen nie, sal julle in ’n brandende oond gegooi word.” Die musiek het begin speel en die mense het gebuig en die standbeeld aanbid. Net Sadrag, Mesag en Abednego het regop bly staan. Koning Nebukadnesar was baie kwaad. Hy het die drie mans laat haal. Hy sê vir hulle: “Ek beveel julle om die beeld te aanbid! As julle weier, sal julle in die brandende oond gegooi word. Julle sal sien dat julle God julle nie kan red nie!” Sadrag, Mesag en Abednego antwoord die koning: “Koning Nebukadnesar, gooi ons maar in die vuuroond. Die God wat ons dien, kan ons uit die oond red.
108
Hy kan ons ook uit u mag red. Maar selfs al red Hy ons nie, gaan ons nie die goue beeld aanbid nie.” Nebukadnesar was baie kwaad. Hy het sy dienaars beveel om die oond sewe maal warmer te maak as gewoonlik. Sy sterkste soldate moes die mans vasbind en in die oond gooi. Die vuur was so warm dat die vlamme die soldate doodgebrand het toe hulle naby die oond kom. Koning Nebukadnesar het alles van ver af dopgehou. Skielik spring hy verskrik op. Hy roep uit: “Het ons nie drie mans in die oond gegooi nie? Ek sien vier mans in die vuur rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. En die vlamme brand hulle nie.” Toe roep die koning: “Sadrag, Mesag en Abednego, kom uit! Ek kan sien julle God is almagtig!” Die mans het uit die vuur gekom en almal kon sien dat hulle niks oorgekom het nie. Die vlamme het hulle nie gebrand nie. Dit het nie eers hulle hare geskroei nie. Hulle het nie eers na rook geruik nie. Toe sê koning Nebukadnesar: “Al die eer kom die God van Sadrag, Mesag en Abednego toe! Hy het sy engel gestuur en sy dienaars gered. Hulle was gewillig om te sterf eerder as om ’n ander god te aanbid. Geen ander god kan mense op hierdie manier red nie. Van nou af moet almal hulle God eer.” Daniël 3
109
110
In ’n leeukuil
111
D
arius, die koning van Babilon, het 120 goewerneurs-generaal oor sy koninkryk aangestel. Hy het drie ministers oor hulle aangestel. Een van die drie ministers was Daniël. Die ministers moes kyk dat die goewerneursgeneraal hulle werk getrou doen. Daniël was ’n baie bekwame minister. Die koning het hom vertrou, maar die ander ministers en die goewerneurs-generaal was jaloers. Hulle het probeer om hom uit te vang dat hy iets verkeerds doen, maar hulle kon niks kry nie. Daniël was ’n regverdige en betroubare leier en het altyd die wet gehoorsaam. Uiteindelik sê die ander amptenare vir mekaar: “Daniël sal eerder sy God gehoorsaam as die koning! Kom ons gebruik dit teen hom.” Die amptenare gaan toe na die koning en sê: “U Majesteit, ons wil graag ’n nuwe wet maak. Vir die volgende 30 dae moet u onderdane vir u alleen aanbid. Hulle mag geen ander god aanbid nie. As hulle nie gehoorsaam nie, moet hulle in die leeukuil gegooi word.” Koning Darius het gehou van die idee dat die mense hom aanbid. Hy vaardig toe die nuwe wet uit. Die nuwe wet kon glad nie verander word nie.
112
Daniël het drie keer elke dag tot die Here gebid. Hy het geweet van die nuwe wet, maar dit het hom nie gekeer nie. Hy het huis toe gegaan en net soos altyd voor sy oop venster gekniel en tot God gebid. Die ander amptenare het hom dopgehou. Toe hulle hom sien neerkniel, het hulle by sy huis ingestorm. Toe gaan hulle na die koning toe. “U Majesteit,” sê hulle, “ons het gesien hoe Daniël tot sy God bid. Hy het u nuwe wet oortree!” Die koning was baie ontsteld toe hy besef dat sy amptenare hom om die bos gelei het, maar hy kon nie die wet verander nie. Hy beveel toe dat Daniël in die leeukuil gegooi word, maar hy sê vir hom: “Mag jou God jou red, Daniël!” Toe het hulle ’n klip oor die opening van die kuil neergesit, en die koning het teruggegaan na sy paleis toe. Daardie nag kon die koning nie eet of slaap nie. Die oomblik toe die son die volgende oggend opkom, was Koning Darius by die leeukuil. Hy roep: “Daniël! Jy dien die lewende God. Het hy jou gered van die leeus?” Daniël het geantwoord: “U Majesteit, my God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit. Hulle het my nie seergemaak nie.” Die koning was baie bly. Sy diensknegte het Daniël uit die leeukuil gehaal. Daar was nie ’n enkele skrapie aan hom nie. Toe het die koning beveel dat Daniël se vyande in die leeukuil gegooi word. Hy het ook ’n brief aan al sy onderdane geskryf: “Almal in my koninkryk moet Daniël se God eer. Hy is die lewende God. Sy koninkryk sal vir ewig bestaan.” Daniël 6 113
114
Ester waag haar lewe vir haar mense
115
Koning Ahasveros het oor Persië regeer. Ester was sy koningin. Ahasveros was ’n wrede koning. As iemand in sy ontvangsaal ingegaan het sonder dat die koning die persoon uitgenooi het, is die persoon daar en dan doodgemaak. Die koning het nie geweet Ester is eintlik ’n Joodse vrou nie. Daar was baie Jode in Persië en baie van hulle het vir die koning gewerk. Party mense het niks van die Jode gehou nie. Een van hulle was Haman, die hoof van die koning se amptenare. Hy het vir die koning vertel die Jode gehoorsaam nie sy wette nie en smee komplotte teen die koning. Dit was alles leuens, maar die koning het hom geglo en toestemming gegee dat hy die Jode straf. Haman stuur toe briewe aan al die amptenare in die land en sê dat die Jode op die dertiende dag van die twaalfde maand doodgemaak moes word. Enigeen kon dan hul besittings vat. Koningin Ester se oom Mordegai het te hore gekom van Haman se planne. Hy was ontsteld en het vir Ester daarvan gaan vertel. Hy vra toe vir Ester om die Jode te help. Sy was tog die koningin. Ester sê: “Jy weet ek kan nie na die koning toe gaan as hy my nie uitnooi nie. As ek sommer net in sy ontvangsaal verskyn, kan hy my doodmaak.” Mordegai sê: “Miskien het die Here jou juis die koningin van Persië gemaak sodat jy jou mense kan red!” Was Mordegai reg? Ester het nie geweet wat om te doen nie. Moet sy haar mense probeer help? Moet sy liewer stilbly? Eindelik sê sy vir Mordegai: “Ek sal na die koning se ontvangsaal toe gaan. As die koning sy goue septer na my toe uitsteek, sal ek lewe. Miskien is dit wat sal gebeur. Ek gaan in elk geval probeer!”
116
Sy vra toe dat al die Jode in die stad vir drie dae lank moet vas en vir haar moet bid. Vir drie dae en drie nagte sal sy ook niks eet of drink nie. Ná drie dae gaan Ester na die ontvangsaal toe. Sy gaan staan in die voorhof en kyk na die koning. Wat gaan hy doen? Toe die koning haar sien, lig hy sy septer op en wys dit na haar toe. Hy wil met haar praat! Ester nooi hom toe om by haar te kom eet. Ná die ete vertel sy hom van Haman se bose plan om al die Jode dood te maak. Die koning was kwaad. Haman het hom om die bos gelei! Haman is opgehang en in sy plek het Mordegai die koning se hoofamptenaar geword. Die koning het die Jode toegelaat om terug te veg teen die soldate wat hulle aanval. Ester het op God vertrou. Omdat sy die moed gehad het om haar lewe te waag, is die Jode in Persië nie almal doodgemaak nie. Ester 3 tot 9
117
118
Jesus word in Betlehem gebore
119
M
aria het by haar ouers in Nasaret gebly. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef. Op ’n dag stuur God die engel Gabriël na Maria toe. Die engel sê: “Die Here seën jou, Maria. Hy is by jou.” Maria het nie die engel se woorde verstaan nie, maar hy praat verder: “Moenie bang wees nie! God wil goed wees vir jou. Jy gaan ’n babaseuntjie hê, en jy moet Hom Jesus noem. Hy is die Seun van God, en Hy gaan vir ewig regeer.” Maria het steeds nie verstaan nie, maar sy sê: “Ek wil die Here dien. Ek sal alles doen wat Hy vra.” Die engel het ook in ’n droom vir Josef van die baba vertel. Die engel sê vir hom: “Hierdie baba kom van die Heilige Gees af. Hy sal die mense van hulle sondes verlos.” Josef het belowe om vir Maria en die baba te sorg. In daardie tyd het die keiser ’n volkstelling gehou. Almal moes teruggaan na die dorp waar hulle familie altyd gewoon het. Josef en Maria het van Nasaret na Betlehem gegaan, want hulle was nakomelinge van Dawid. Betlehem was vol mense. Josef en Maria kon nie ’n slaapplek kry nie, maar uiteindelik het iemand gesê hulle kan in sy stal bly.
120
En toe word die Baba daardie nag in die stal gebore. Maria het haar Seuntjie toegedraai in doeke en Hom in ’n krip neergelê. Daar was skaapwagters in die veld naby die dorp. Hulle het snags by hulle skape gebly. Skielik staan ’n engel van die Here by hulle. Die skaapwagters het groot geskrik, maar die engel sê: “Moenie bang wees nie. Ek het goeie nuus, nuus wat almal baie bly sal maak. As julle Betlehem toe gaan, sal julle ’n Baba in ’n krip kry. Hy is julle Verlosser. Hy is die Here.” Toe verskyn ’n groot groep engele wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel! En vrede aan almal vir wie God lief is!” Toe die engele weg is, het die skaapwagters haastig Betlehem toe gegaan. Hulle wou die Baba in die krip sien. Hulle het Maria, Josef en die Baba daar gekry, net soos die engel gesê het. Hulle het dadelik vir almal vertel wat die engele gesê het. Die mense het verwonderd geluister. Daarna is die herders al singende terug na hulle skape. Maria het stil na almal geluister en oor alles nagedink. Matteus 1:18–25 Lukas 2:1–21
121
Sterrekykers soek Jesus
122
123
R
’n ukkie nadat Jesus gebore is, het drie mans in Jerusalem aangekom. Hulle was op soek na ’n koning. “Ons is sterrekykers uit die ooste,” sê hulle. “By die huis het ons die ster van julle nuwe Koning in die lug gesien. Waar is Hy? Ons wil eer aan Hom bewys.” Toe koning Herodes hoor wat die wyse manne sê, was hy ontsteld. Hy was mos die koning! Hoekom praat hierdie mense van ’n nuwe koning? Koning Herodes het die priesterhoofde en skrifgeleerdes laat kom. “Wat is dit wat ek hoor van ’n nuwe koning?” vra hy. “Praat hulle dalk van die Messias, die een wat die mense gaan vrymaak?” Die priesterhoofde en skrifgeleerdes vertel hom dat ’n profeet lank gelede geskryf het dat ’n nuwe koning in Betlehem gebore sou word. Koning Herodes laat roep toe die sterrekykers. Hy het hulle uitgevra oor die ster, en toe sê hy: “Die nuwe koning is ’n Baba in Betlehem. Gaan soek Hom daar en kom vertel my dan alles wat julle uitvind.” Die sterrekykers het na Betlehem toe gegaan. Die ster het voor hulle uitgegaan en gaan stilstaan bokant die plek waar Jesus en sy ouers was. Hulle harte was bly toe hulle die ster sien. Hulle het ingegaan en Jesus by sy ouers gekry. Hulle het neergekniel en eer aan die klein Baba bewys. Toe haal hulle hulle geskenke uit: goud, wierook en mirre. Dit was spesiale, duur geskenke wat net vir konings gegee is. Wierook was ’n skaars parfuum met ’n soet geur en mirre was olie waarmee mense gesalf is.
124
Die wyse manne het geweet dat Jesus ’n spesiale Baba was. Hulle het geweet dat God Hom gestuur het om in Betlehem gebore te word, en Hom gekies het om sy mense se Verlosser en Koning te word. Daardie nag het God in ’n droom met die wyse manne gepraat. Hy het hulle gewaarsku om nie na Herodes toe terug te gaan nie, omdat Herodes Jesus wou kwaad aandoen. Hulle het toe met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan. Die engel van die Here het ook vir Josef gaan waarsku. Hy moet Maria en die Baba Jesus na Egipte toe neem, want Herodes wil Jesus doodmaak. Josef en sy familie het die volgende dag vertrek. Hulle het in Egipte gewoon totdat Koning Herodes dood is. Toe het die engel van die Here weer met Josef gepraat. Dit was veilig om terug te gaan Israel toe. Josef en sy familie het toe in Nasaret, ’n klein dorpie in Galilea, gaan woon. Die Here het Jesus en sy familie veilig bewaar. Matteus 2:1–15
125
126
Jesus in sy Vader se huis
127
J
esus se ouers het elke jaar vir die Pasga Jerusalem toe gegaan. Baie mense het probeer om ten minste een keer ’n jaar Jerusalem toe te gaan om ’n fees in die tempel by te woon. Die kinders het saamgegaan, en almal het in groepe gereis. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het sy gesin weer soos gewoonlik Jerusalem toe gegaan. Ná die fees moes almal weer huis toe gaan. Daar was baie mense in die stad vir die fees, en Jesus en sy ouers het in ’n groot groep gereis. Sy ouers het Hom nie tussen die mense gesien nie, maar hulle was seker Hy is daar iewers tussen die mense. Toe dit aand word, kon sy ouers Hom nêrens kry nie. Hy was nie by sy maats nie en ook nie by die familie nie. Later besef Josef en Maria dat Jesus in die stad agtergebly het. Hulle het net daar omgedraai en teruggegaan na die stad toe. Jesus was nie by die plek waar hulle oorgebly het nie. Vir drie dae lank het sy ouers na Hom gesoek. Uiteindelik besluit hulle om by die tempel te gaan kyk. En daar vind hulle hulle Seun. Hy het tussen ’n groep geleerde mense gesit, na hulle geluister en baie vrae gevra. Die geleerde mense was verstom oor sy slim vrae en sy slim antwoorde. Jesus het die Skrifte baie goed verstaan.
128
Toe Maria haar Seun tussen die geleerde mense sien, was sy ontsteld. Dit het gelyk asof Jesus van sy ouers vergeet het. Sy sê: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Ons was so bekommerd! Ons soek al drie dae lank na jou!” Jesus sê: “Maar julle weet mos hoe lief Ek vir my hemelse Vader is. Julle moes geweet het Ek sal hier in sy huis wees!” Sy ouers het nie verstaan wat Hy met sy antwoord bedoel nie, maar Jesus het dadelik opgestaan en saam met hulle na Nasaret toe gegaan. Jesus was gehoorsaam aan sy ouers. Hoe ouer Hy geword het, hoe sterker en wyser het Hy geword. Almal het van Hom gehou, en God was bly oor Hom. Jesus se ma het alles onthou wat haar Seun gedoen het. Sy het dit soos ’n kosbare skat in haar hart bewaar. Lukas 2:41–52
129
Jesus se doop
130
131
J
esus en sy neef Johannes was ewe oud. Toe Johannes groot was, het hy in die woestyn gaan woon omdat hy God se stem wou hoor. Toe het hy begin om mense te vertel wat God alles vir hom gesê het. Baie mense het na hom kom luister, selfs die godsdienstige leiers van Jerusalem. Johannes het gesê die mense moet ophou sonde doen. Hulle moet gehoorsaam aan God lewe. As die mense spyt was oor hulle sondige lewens, het Johannes hulle gedoop. Die mense het hom toe Johannes die Doper genoem. Mense het ook begin wonder of hy die Messias was, die koning wat God spesiaal gekies het om sy volk te red. Maar Johannes sê: “Ek is net hier om julle te vertel van Iemand wat ná my sal kom. God sal Hom self stuur. God gaan Hom baie mag gee, baie meer as wat Hy my gegee het. Hy is so ver bokant my dat ek nie eens goed genoeg is om sy sandale los te maak nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees. Hy sal weet wie regtig vir God aanbid en wie net maak of hulle Hom gehoorsaam.”
132
Op ’n dag het Jesus vir sy neef Johannes gaan kuier. Johannes was by die Jordaanrivier besig om mense te doop. Jesus vra toe vir Johannes om Hom ook te doop. Johannes wou dit nie doen nie. Hy het geweet dat Jesus die Een is wat God gestuur het. Hy sê: “Na regte moet U vir my doop. Hoekom kom U dan na my toe?” Jesus antwoord: “Doop my, asseblief. Dit is die regte ding om te doen, want dit is deel van God se plan vir ons.” Jesus het toe in die water gegaan, en Johannes het Hom gedoop. Toe Jesus uit die water kom, het die hemel oopgegaan. Jesus het die Gees van God sien afkom na Hom toe. Dit was soos ’n duif wat van die hemel af vlieg. Jesus het ook ’n stem uit die hemel gehoor. Dit was God, en Hy het vir Jesus gesê: “Jy is my Seun en Ek is baie lief vir Jou. Jy maak my bly.” Nadat Hy gedoop is, het Jesus na die woestyn toe gegaan. Hy wou alleen wees om met God te praat en na God te luister. Hy wou by God hoor wat Hy volgende moes doen. Matteus 3:13–17 Markus 1:9–11 Lukas 3:21–22 Johannes 1:31–34
133
134
Jesus kies twaalf dissipels
135
A
ndreas was ’n visserman van Galilea. Hy het na Johannes die Doper gaan luister. Johannes was ’n profeet wat in die woestyn gewoon het. Hy het gepreek hoe mense God moet gehoorsaam en mense in die Jordaanrivier gedoop. Terwyl Andreas daar is, sien Johannes Jesus verbystap. Hy sê: “Jesus is die Lam van God. Hy gaan die sonde van die wêreld wegneem.” Andreas wou meer uitvind oor Jesus. Hy het saam met Hom gegaan en die hele middag by Hom gebly. Daarna vertel hy sy broer Petrus: “Ons het die Messias, die Een wat God uitgekies het, gekry!” Hy het Petrus aan Jesus gaan voorstel. Filippus was ’n vriend van Andreas en Petrus. Hy het ook vir Jesus begin volg en ook vir sy vriend Natanael van Jesus gaan vertel en hom aan Jesus gaan voorstel. So het al meer mense vir Jesus begin volg. ’n Ruk later was Jesus langs die Meer van Galilea. Die mense het om Hom saamgedrom. Jesus sien toe twee skuite op die oewer van die meer. Die vissers het juis toe teruggekom van die meer af. Een van die vissers was Petrus en Jesus vra hom om Hom ’n klein entjie weg van die oewer af te neem. Nou kon almal Jesus sien en hoor. Toe Jesus klaar met die mense gepraat het, sê Hy vir Petrus: “Gaan na die diep water toe en gooi julle nette uit.” Petrus sê: “Meneer, ons het die hele nag vis gevang en niks gekry nie. Maar ek sal doen wat U vra.”
136
Petrus het nie gedink hulle sal iets vang nie, maar toe hy die nette in die water uitgooi, word hulle gou vol vis. Daar was so baie vis dat die nette wou skeur. Petrus moes sy vriende roep om te kom help. Hulle bote was gou so vol vis dat hulle amper gesink het. Petrus was bang toe Hy sien wat Jesus kon doen, maar Jesus sê: “Moenie bang wees nie. Van nou af gaan jy mense vang.” Petrus en Andreas het toe hulle bote gebêre en saam met Jesus gegaan. Petrus se vriende, Jakobus en Johannes, was besig om hulle nette gereed te maak om te gaan visvang. Jesus het hulle ook geroep om Hom te volg, en hulle het hulle boot by hulle pa gelos en saam met Jesus gegaan. ’n Tyd later het Jesus vir ’n hele nag op die berg gaan bid. Toe Hy terugkom, het Hy twaalf mans gekies om sy spesiale vriende, sy dissipels, te wees. Hulle was altyd by Hom en Hy het hulle vertel van God se koninkryk. Hulle het gesien hoe Hy wonderwerke doen en mense help en gesond maak. Hulle het tot aan die einde van sy lewe by Hom gebly. Die twaalf dissipels was Simon Petrus en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Tomas, Taddeus en Jakobus die seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas Iskariot. Johannes 1:35–45 Matteus 4:18–22 Lukas 5:1–11 Lukas 6:12–16
137
Jesus by ’n bruilof
138
139
J
esus het sy eerste wonderwerk by ’n bruilof in die dorpie Kana in Galilea gedoen.
Almal in die dorpie was by die troue, wat dae lank geduur het. Jesus en sy dissipels was daar, en sy ma ook. Almal het die feesvierings geniet. Hulle het saam gesing en gedans. Daar was meer as genoeg kos, maar ná ’n ruk het die wyn opgeraak. Jesus se ma het daarvan gehoor, en sy het vir Jesus gaan vertel. Sy het geweet Hy kan die bruidegom help. Jesus sê: “Liewe Ma, moenie bekommerd wees nie. Oor ’n klein rukkie gaan almal sien hoe God se krag deur My werk.” Jesus se ma gaan sê toe vir die kelners: “Doen alles wat Jesus vir julle sê.” Daar was ses groot klipkanne in die huis. Die mense het die water wat daarin was, gebruik om hulle te was sodat hulle rein kon wees as hulle na die tempel of sinagoge gaan.
140
Jesus het vir die kelners gevra om die kanne vol water te maak. Hulle het nie geweet hoekom hulle dit moes doen nie, maar hulle het die kanne tot bo volgemaak. Toe sê Jesus vir hulle: “Skep ’n bietjie uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester, die bruidegom se vriend.” Die kelners het dit gedoen. Hulle het geweet daar was water in die beker, maar die seremoniemeester het heerlike wyn geproe! Hy was verstom. Hy het vir die bruidegom gaan sê: “Almal gee gewoonlik eers die beste wyn vir die gaste. Hulle hou die goedkoop wyn vir laaste, wanneer die goeie wyn op is. Maar jy het die beste wyn vir laaste gebêre.” Dit was Jesus se eerste wonderwerk. Dit het gewys dat Hy magtig was, en dat God by Hom was. Toe sy dissipels sien wat Hy gedoen het, het hulle in Hom geglo. Johannes 2:1–11
141
142
Jesus maak ’n storm stil
143
D
aar was altyd groot skares mense om Jesus. Hulle het Hom oral gevolg en na sy woorde geluister. Hulle het siek mense na Hom toe gebring. Jesus was gewoonlik die hele dag lank by die mense. Hy het hulle vertel van God se koninkryk en almal wat siek was, gesond gemaak. Eendag het Jesus weer die hele dag lank met die mense gepraat. Teen die aand se kant sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan oor na die ander kant van die meer.” Jesus en die dissipels het in ’n boot geklim en weggevaar. ’n Paar van die dissipels was vissermanne. Hulle het dikwels in hulle bote op die meer uitgegaan, en hulle het die meer goed geken. Jesus was moeg. Hy het agter in die boot aan die slaap geraak. Terwyl Hy slaap, bars ’n hewige stormwind op die meer los. Die dissipels het die stormwinde op die meer geken. Hulle het geweet hoe om die boot veilig te hou. Maar hierdie storm was baie erg. Golwe het oor die boot geslaan en dit het vol water geraak. Die boot was besig om te sink! Hulle was in groot gevaar. Die dissipels het baie bang geword. Hulle het gedink hulle gaan verdrink. Toe doen hulle die enigste ding wat hulle kon. Hulle maak Jesus wakker. “Here! Red ons! Ons gaan verdrink!” sê hulle. Jesus het dadelik opgestaan en met die stormwind en die see gepraat. “Hou op! Bedaar!” sê Hy. Die wind het gaan lê. Die golwe het bedaar. Skielik was dit doodstil op die meer.
144
Jesus sê toe vir sy dissipels: “Hoekom is julle so bang? Glo julle dan nog nie dat Ek kan help nie?” Die dissipels het na die kalm water van die meer gekyk. Hulle het geluister na die stilte. Hulle het geweet Jesus is ’n mens net soos hulle. Hy het moeg geword na ’n dag se werk. Hy moes soms gaan rus. Maar wanneer Hy met die wind en die golwe praat, het hulle na Hom geluister. Die dissipels het gesien dat Jesus nie ’n gewone mens was nie, maar hulle het nog nie verstaan dat Hy die Seun van God was nie. Tog het hulle geweet dat Hy by hulle was wanneer hulle bang was, en dat Hy kon help wanneer hulle in gevaar was. Markus 4:35–41 Matteus 8:23–27 Lukas 8:22–25
145
Jesus en sy vriende in Betanië
146
147
L
asarus en sy twee susters, Marta en Maria, het in ’n klein dorpie met die naam Betanië gewoon.
Hulle was vriende van Jesus en toe Lasarus siek word, het die twee susters Hom dadelik laat weet. Jesus sê toe: “Deur Lasarus se siekte gaan God verheerlik word.” Jesus het niks verder gedoen nie, maar twee dae later sê Hy vir sy dissipels dat Hy Lasarus wil besoek. Die dissipels sê: “Is dit ’n goeie ding? Betanië is naby aan Jerusalem, en U weet tog dat U baie vyande daar het.” Jesus sê: “Lasarus is dood. Ons moet na hom toe gaan.” Die dissipels het saamgegaan, maar hulle het almal gedink Jesus gaan gevang en doodgemaak word. In Betanië hoor hulle dat Lasarus al vier dae lank dood is en reeds begrawe is. Daar was baie mense by die huis wat die twee susters kom troos het. Marta het uitgegaan om Jesus te groet. “Here,” sê sy, “as U vroeër hier was, sou Lasarus nie gesterf het nie! Maar ek weet dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.” Jesus sê vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.” Marta het gedink Jesus praat van die einde van die wêreld, maar Jesus sê: “Almal wat in My glo, sal lewe al het hy gesterf. Hulle sal die ewige lewe ontvang. Glo jy dit?” Marta sê: “Ja, Here, ek glo dat U die Seun van God is.” Marta gaan haal toe vir Maria. Jesus het buite die dorpie vir hulle gewag.
148
Maria het voor Jesus gekniel en gesê: “As U hier was, sou Lasarus nie gesterf het nie!” Sy was baie hartseer, en al haar vriende het saam met haar gehuil. Jesus het ook hartseer geword en gehuil. “Waar is Lasarus begrawe?” vra Jesus. Die mense het Hom gaan wys, en Hy vra hulle toe om die klip voor die ingang weg te neem. Toe bid Jesus: “Vader, dankie dat U altyd hoor as Ek met U praat.” Hy gaan staan voor die graf en roep hard: “Lasarus, kom uit!” En daar kom Lasarus uit, springlewendig al is hy nog toegedraai in sy grafdoeke. Party van die mense wat hierdie wonderwerk gesien het, het dadelik na Jerusalem toe gegaan en die priesters vertel wat gebeur het. Hierdie mense het Jesus gehaat, en hulle was ook bang dat almal later vir Jesus sal volg en nie meer vir hulle nie. Hulle het toe planne begin maak om Jesus dood te maak. Maar baie ander mense wat daardie dag in Betanië was, het van toe af geglo dat Jesus die Seun van God is. Johannes 11:1–44
149
150
Die barmhartige Samaritaan
151
O
p ’n dag het ’n persoon wat die Joodse wette goed geken het, vir Jesus ’n strikvraag gevra. Hy vra: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?” Jesus vra hom: “Wat sê die wet hieroor?” Die man sê: “Die wet sê: Jy moet die Here jou God liefhê, en jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Jesus sê: “Jy is reg! Nou moet jy dit net gaan doen!” Die man het nog een vraag gehad. Hy wou weet wie sy naaste is. Wie moet hy liefhê? Sy familie? Al die mense in sy dorp? Miskien al die ander Jode? Hy het nie gedink hy hoef die mense wat nie Jode was nie, lief te hê nie. Jesus vertel toe vir hom ’n storie. ’n Man was op pad van Jerusalem af na Jerigo toe. Dit was ’n eensame pad wat deur die berge geloop het. Daar het rowers hom aangeval, sy klere gesteel en hom geslaan. Toe het hulle weggehardloop. Die man het ’n lang ruk daar bly lê. Hy het gedink hy gaan dood. Toe kom ’n priester verby. Hy was ’n belangrike man. Die priester het gemaak of hy nie die gewonde man sien nie. Hy het aan die oorkant van die pad verby gestap. Alles was weer stil. Die man het net daar bly lê en gehoop iemand sal hom kom help. Toe kom ’n Leviet verby. Hy was ook ’n belangrike man. Hy het verby gestap sonder om eers na die man langs die pad te kyk.
152
En toe kom ’n Samaritaan aangestap. Jode en Samaritane het nie van mekaar gehou nie. Hulle het nie eens met mekaar gepraat nie. Maar hierdie Samaritaan het jammer gevoel vir die gewonde man. Hy het na hom toe gegaan en sy wonde met wyn gewas. Hy het olyfolie daaraan gesmeer om die pyn te verlig. Toe het hy hom op sy donkie getel en na ’n herberg geneem. Hy het vir die res van die dag na die gewonde man gekyk. Die volgende dag moes die Samaritaan verder reis. Hy gee toe vir die herbergier ekstra geld en sê: “Sorg asseblief vir hierdie man totdat hy gesond is. As jy nog geld nodig het, sal ek dit vir jou gee wanneer ek weer hierlangs kom.” Nadat Jesus die storie vertel het, vra Hy vir die man wat die wet geken het: “Watter een van die drie het sy naaste liefgehad?” Die man sê: “Die man wat jammer was vir die gewonde man en hom gehelp het.” Toe sê Jesus vir hom: “Wanneer jy iemand sien wat hulp nodig het, moet jy help. Almal wat hulp nodig het, is jou naaste.” Lukas 10:25–37
153
Saggeus klim in ’n wildevyeboom
154
155
S
aggeus was ’n tollenaar wat tolgeld vir die Romeine moes insamel. Die Jode het almal wat vir die Romeine gewerk het, gehaat. Die Romeine was die oorheersers en die vyand. Buitendien het die tollenaars altyd die mense gekul wanneer hulle die tolgeld insamel. Saggeus het in Jerigo, ’n stad naby Jerusalem, gewoon. Eendag merk hy op dat ’n groot skare mense deur die stad beweeg. Hulle was daar om Jesus te sien en te hoor. Saggeus wou ook hierdie man sien oor wie die mense so baie praat. Maar hy was ’n kort mannetjie, en al wat hy kon sien, was mense se koppe. Hy kon ook nie naby Jesus kom nie want die mense het te veel gedruk. Hy maak toe ’n plan. Hy hardloop vooruit na ’n groot wildevyeboom langs die pad. Saggeus het in die boom geklim en op een van die takke gaan sit. Nou kon hy alles sien. Die skare het al nader gekom. Toe Jesus reg onder Saggeus is, gaan Hy skielik staan. Jesus kyk op en sê: “Saggeus, kom gou af, want Ek kom vandag by jou kuier.” Nou kon almal sien hoe die ryk tollenaar boom geklim het. Maar Saggeus het nie omgegee nie. Hy was net bly dat Jesus hom raakgesien het. Hy het dadelik afgeklim en Jesus in sy huis verwelkom. Uiteindelik het hy ’n kans gekry om Jesus te leer ken. Die mense wat daar saamgedrom het, het Saggeus geken. Toe hulle sien dat Jesus saam met hom weggaan, het hulle begin brom. “Weet Jesus dan nie dat Saggeus ’n skelm en ’n sondaar is nie? En dat hy vir die vyand werk nie? Jesus moet mos nie met sulke slegte mense praat nie!”
156
Saggeus het geweet wat almal sê. Hy het ook geweet dat sy lewe daardie dag vir altyd verander het. Hy het Jesus ontmoet en sy volgeling geword. Daarom staan hy op en sê sodat almal kan hoor: “Here, en gaan die helfte van my goed vir arm mense gee. En as ek iemand met tolgeld gekul het, sal ek vier maal meer as wat ek gevat het, terugbetaal.” Jesus was baie bly. Hy sê vir Saggeus: “Ek het vandag na die regte huis gekom. Dit is my werk om almal te soek wat verlore is en om hulle te red. Vandag het Ek jou gevind en jou gered. Van nou af is jy ’n kind van God.” Lukas 19:1–10
157
Jesus is die goeie herder
158
159
J
esus het daarvan gehou om stories te vertel. Eendag het hy ’n storie vertel van ’n skaap wat weggeraak het.
Jesus sê: “Herders moet goed na hulle skape kyk. Sê nou ’n man het honderd skape en een skaap raak weg. Wat sal die man doen? “Die herder los die 99 skape op ’n veilige plek en gaan soek die een wat weggeraak het. Hy hou nie op met soek totdat hy die skaap gekry het nie. Dit maak nie saak hoe ver die herder moet gaan nie. Hy sal aanhou soek, selfs al gaan die son later onder en dit word donker. “Die herder is baie bly as hy eindelik sy verlore skaap kry. Hy tel hom op en dra hom op sy skouers huis toe. Dan gaan hy na al sy vriende en bure toe en vertel hulle wat gebeur het. En hulle sal almal saam feesvier.” Jesus het ook vertel van goeie herders en slegte herders. Slegte herders gee glad nie om vir hulle skape nie. Wanneer ’n wilde dier die skape aanval, hardloop die slegte herders weg. Hulle gee nie om wat van die skape word nie.
160
“Ek is nie so nie,” sê Jesus. “Ek is soos ’n goeie herder. ’n Goeie herder ken elke skaap se naam. Wanneer hy hulle name roep, kom hulle dadelik agter hom aan. Hulle weet dat hy hulle na groen gras en water sal neem. Hulle weet hy sal hulle teen diewe en wilde diere beskerm. ’n Goeie herder sorg baie mooi vir sy skape. “’n Goeie herder sal nooit sy skape alleen los nie. Hy sal sy lewe vir sy skape gee. Dit is wat Ek sal doen. Ek is die goeie herder, en Ek het skape oral oor die wêreld. Hulle luister almal na my stem. Ek het hulle almal lief. En Ek sal my lewe vir hulle gee.” Party mense het nie verstaan wat Jesus vir hulle vertel nie. Hy het verduidelik dat Hy hulle Verlosser is, en dat Hy sy lewe sal opoffer en aan die kruis sal sterf. Hy gaan dit doen vir al die mense op aarde, sodat hulle vriende met God kan wees en vir ewig by Hom kan bly. Lukas15:1–7 Johannes 10:11–18
161
’n Seun kom terug
162
163
J
esus het graag stories vertel om vir die mense te verduidelik hoe lief God vir ons is. Een van die stories het vertel van ’n man wat twee seuns gehad het.
Die man se oudste seun was tevrede om by die huis te bly en vir sy pa te werk, maar die jongste seun wou die wêreld sien. Hy sê toe vir sy pa: “Gee vir my my deel van die erfgeld.” Die pa het sy besittings tussen sy twee seuns verdeel. Nie lank daarna nie het die jongste seun sy erfgeld gevat en na ’n ander land toe gegaan. Daar het hy wild gelewe en al sy geld verkwis. Net mooi toe al sy geld op was, kom daar ’n hongersnood in die land. Die seun het baie swaar gekry, en hy gaan bly toe by mense wat hom plaas toe stuur om die varke op te pas. Hy was so honger dat hy gewens het hy kon die varke se kos eet. Maar niemand het vir hom kos gegee nie. Toe begin hy dink oor sy lewe en oor sy pa en sy huis. Hy sê vir homself: “Ek is besig om dood te gaan van die honger terwyl my pa se werkers meer as genoeg kos het. Ek sal teruggaan na my pa toe. Ek sal vir hom vra om my te vergewe. Ek verdien nie om sy seun te wees nie. Ek sal hom vra of ek soos ’n gewone werker vir hom kan werk.”
164
Toe gaan die jongste seun terug na sy pa toe. Die pa het elke dag die pad dopgehou om te sien of sy seun nie dalk terugkom nie. En eendag sien hy sy seun in die verte! Die pa het na sy seun toe gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Die seun sê toe: “Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek verdien nie meer om Pa se seun te wees nie.” Maar die pa sê: “Jy is my seun. Jy het teruggekom. Kom ons vier fees!” Die pa het vir sy seun nuwe klere en sandale gegee. Die bediendes het ’n feesmaal voorberei. En almal het begin fees vier. Die pa sê: “My seun was dood, maar hy lewe weer. Hy was verlore, maar hy het teruggekom.” Toe die oudste seun die feesvierings sien, was hy kwaad. Hy het getrou vir sy pa gewerk terwyl sy broer al sy geld uitgemors het. En nou verwelkom sy pa hom sowaar met ope arms! Hy sê vir sy pa: “Hoekom het u nooit vir my ’n fees gegee nie? Dis nie regverdig nie!” Die pa sê: “Jy het nooit gevra nie! Ek wou graag vir jou ’n feesmaal gee. Wees bly dat jou broer teruggekom het. Ek is lief vir al twee van julle.” Lukas 15:11–3
165
166
Jesus help mense
167
I
n Jesus se tyd moes mense wat sekere siektes gehad het, dikwels buite in die veld, ver van ander mense af, gaan bly. Mense met ’n gebrek kon weer nie werk nie, en dan het hulle die hele dag gesit en bedel. Jesus was jammer vir al hierdie eenkantmense. Hy het hulle graag gehelp. Jesus en sy dissipels was eendag op pad na Jerusalem toe. Hulle het heelpad van Galilea af geloop. Op pad kom hulle by ’n klein dorpie. Net toe hulle daar wil indraai, sien hulle tien mans wat na hulle toe aankom. Die mans was melaats en hulle moes buite die dorp bly. Hulle moes ook mense waarsku om nie naby hulle te kom nie. Almal het van hulle af weggebly. Die mans het ’n ent weg bly staan, maar Jesus het nie weggedraai nie. Hulle roep toe uit: “Jesus! Here! Help ons, asseblief!” Jesus sê vir hulle: “Gaan wys julle vir die priesters.” As melaatse mense gesond geword het, moes hulle na die priesters toe gaan. Die priesters kon besluit of hulle gesond genoeg was om weer by hulle gesinne te gaan woon. Toe die mans wegdraai, was hulle nog melaats. Maar hulle besluit om tog na die priesters te gaan. Op pad gebeur daar toe ’n wonderlike ding. Hulle velle was skielik glad en gesond. Hulle was so opgewonde dat hulle sommer begin hardloop het. Hulle kon nie wag om by die priesters te kom en huis toe te gaan nie.
168
Een van die melaatse mans was ’n Samaritaan. Toe hy sien dat hy gesond is, het hy nie saam met die ander gegaan nie. Hy het God hardop geprys. Toe het hy teruggegaan na Jesus toe, voor Hom neergeval en dankie gesê. “Tien mans het gesond geword,” sê Jesus, “maar net een het teruggekom om vir My dankie te sê en God te prys.” Jesus het rondgekyk en gevra: “Het ek nie tien mans gesond gemaak nie? Hoekom het net een teruggekom om God te prys?” Jesus was bly oor hierdie man. Hy sê vir hom: “Gaan nou huis toe. Jou geloof het jou gesond gemaak.” Toe het Jesus en sy dissipels verder gestap. Naby Jerigo het ’n groot skare om Jesus saamgedrom. Hulle wou sy wonderwerke sien. ’n Blinde bedelaar het langs die pad gesit. Hy het die skare hoor verbygaan, en die mense het hom vertel dat Jesus daar was. Die blinde man roep toe uit: “Jesus, Seun van Dawid, help my!” Toe Jesus die man hoor, staan Hy stil. Hy vra dat hulle die blinde man na Hom toe bring. Jesus vra toe vir hom: “Wat wil jy hê? Wat moet Ek vir jou doen?” Die man sê: “Here, ek wil graag sien!” Jesus sê vir hom: “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered.” Van daardie oomblik af kon die man sien. Hy het agter Jesus aangeloop en God geprys. Die mense wat gesien het wat Jesus doen, het ook vir God geprys. Lukas 17:11–19 Lukas 18:35–43
169
Jesus gee duisende mense kos
170
171
D
ie skares het agter Jesus aangeloop waar Hy ook al gegaan het. Soms het Jesus en sy dissipels nie eers kans gehad om te eet nie.
Op ’n dag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons gaan na ’n rustige plek. Julle het rus nodig.” Hulle het na die oorkant van die meer gevaar, maar toe hulle daar aankom, was daar ook ’n groot skare mense. Jesus was jammer vir die mense. Hulle was soos skape sonder ’n herder. Hy het hulle van God se koninkryk vertel en siek mense gesond gemaak. Later sê die dissipels: “Dit word laat. Ons moet die mense wegstuur sodat hulle iewers kos kan gaan koop.” Jesus sê toe: “Nee, julle moet vir hulle iets gee om te eet.” Filippus sê: “Hier is duisende mense! Ons het nie genoeg geld om vir almal kos te koop nie!” Jesus sê vir sy dissipels: “Kom ons kyk wat ons het!” Andreas, Petrus se broer, bring toe ’n seuntjie na Jesus toe. “Hierdie seun het vyf garsbroodjies en twee vissies, maar dis heeltemal te min!” sê hy.
172
Jesus was nie bekommerd nie. Hy het sy dissipels gevra om die mense in groepe op die groen gras te laat sit. Daar was omtrent vyf duisend mans, en net soveel vroue en kinders. Jesus neem toe die vyf broodjies en die twee vissies. Hy kyk op na die hemel en dank God vir die kos. Toe breek Hy die broodjies in stukkies en gee dit vir sy dissipels om uit te deel. Hy gee ook die twee vissies vir hulle om uit te deel. Daar was genoeg vir almal. Die mense het geëet totdat almal versadig was. Toe sê Jesus vir die dissipels: “Gaan maak die oorskietstukke bymekaar. Moet niks weggooi nie.” Die dissipels het twaalf mandjies met die oorskiet volgemaak! Matteus 14:13–21 Markus 6:30–44 Johannes 6:1–14
173
Jesus en die kinders
174
175
J
esus was lief vir mense. Hy was hartseer wanneer Hy agtergekom het hulle is ongelukkig. Dit was vir Hom heerlik om saam met hulle fees te vier. Hy was gedurig besig om hulle te help en siek mense gesond te maak. Jesus was ook baie lief vir kinders. Ouers het hulle siek kinders na Jesus gebring en Hy het hulle gesond gemaak. ’n Regeringsamptenaar van Kapernaum se seun was siek. Hy het Jesus in die dorpie Kana gaan opsoek en Jesus het sy seun gesond gemaak sonder dat Hy die seun gesien het. Toe ’n Griekse vrou Hom smeek om haar dogtertjie gesond te maak, het Hy belowe sy sal gesond wees as die ma by die huis aankom. En dit het net so gebeur. Jesus het ook ’n seun gesond gemaak wat stuiptrekkings gekry het en hom dan seergemaak het omdat hy nie geweet het wat hy doen nie. Die dissipels het eendag met mekaar gestry oor wie die belangrikste was. Elkeen wou die leier wees! Jesus roep toe ’n klein kindjie nader. Toe die kindjie tussen al die dissipels staan, sê Jesus: “Julle moenie stry oor wie belangrik is nie. As julle deel van God se koninkryk wil wees, moet julle soos ’n kindjie wees. As julle gewillig is om nie belangrik te wees nie, dan is julle deel van God se koninkryk. Kinders weet hulle ouers is lief vir hulle en sal vir hulle gee wat hulle nodig het. Dit is hoe julle op God moet vertrou.” ’n Ander keer het ouers hulle kinders na Jesus gebring. Hulle wou Hom vra om sy hande op hulle koppe te sit en hulle te seën. Die dissipels wou nie hê dat hulle naby Jesus kom nie. Hulle het gereken Jesus het beter dinge om te doen as om met kinders te speel. Kinders was mos nie belangrik nie. Jesus moes liewer met die godsdienstige leiers gesels! Hulle vra toe die ouers om die kinders weg te neem.
176
Jesus het gesien wat die dissipels doen en kwaad geword. Sy dissipels het vergeet dat Hy altyd tyd gehad het vir onbelangrike mense. Jesus sê toe: “Moenie die kinders van my af weghou nie! Julle moet altyd seker maak dat hulle na My toe kom. God se koninkryk behoort aan mense soos hierdie kinders. Dit behoort aan mense wat nie vir ander mense belangrik is nie. Dit behoort aan mense wat in My glo al het hulle nie bewyse dat Ek die Seun van God is nie. Dit behoort aan mense wat nederig is en lief is vir my hemelse Vader.” Jesus het die kinders nader geroep. Hy het sy hande op hulle koppe gesit en hulle geseën. Johannes 4:46–54 Markus 7:24–30 Markus 9:14–27 Lukas 8:40–56 Matteus 18:2–4 Markus 10:13–16
177
’n Wonderlike geskenk
178
179
E
enkeer het Jesus in Betanië by Simon gekuier. Hy was op pad Jerusalem toe vir die Pasga.
Simon het voorheen melaatsheid gehad. Daardie dag het hy vir Jesus ’n spesiale maaltyd voorberei. Terwyl hulle aan tafel was, het ’n vrou ingekom. Sy het ’n fles vol egte, duur nardusolie vasgehou. Toe sy by Jesus kom, het sy die fles oopgemaak en die nardusolie op sy kop uitgegooi. Die hele huis is gevul met die soet geur van die olie. Van die mense aan die tafel kla en brom onder mekaar: “Dis net ’n mors van geld! Ons kon die olie vir baie geld verkoop het en die geld vir die arm mense gegee het!” Hulle wou nie regtig die geld vir die arm mense gee nie. Hulle was maar net suinig. Jesus sê vir hulle: “Laat staan haar. Sy wou iets moois vir My doen. Sy het dit gedoen omdat sy baie lief is vir My. Julle kan altyd die armes help, maar Ek gaan nie meer lank by julle wees nie. Hierdie vrou weet dit. Sy het My solank met die olie gesalf vir die dag van my begrafnis. Daardie dag is naby! Verder verseker Ek julle: Oral waar my volgelinge van My praat, sal hulle ook vertel hoe sy duur olie op my kop uitgegooi het. Mense sal altyd haar pragtige geskenk aan My onthou.”
180
Intussen het ’n groot skare buite die huis bymekaar gekom. Hulle het gekom om na Jesus te luister. Dit het die priesterhoofde baie kwaad gemaak. Hulle het planne begin maak om Jesus gevange te neem en dood te maak. Judas Iskariot was ook kwaad oor alles wat Jesus gesê het. Hy was in beheer van die dissipels se geld, maar hy het daarvan gesteel. Judas gaan toe na die priesterhoofde. “Wat sal julle my gee as ek julle help om Jesus gevange te neem?” vra hy. Hulle het dadelik belowe om hom goed te betaal as hy Jesus verraai. Van toe af het Judas sy kans afgewag. Baie mense het gedink dat Jesus die Messias was, die een wat God gekies het om hulle koning te wees. Hulle het gedink Jesus gaan gedurende die Pasga hulle nuwe koning word. Matteus 26:3–15 Markus 14:1–11
181
Jesus ry op ’n donkie
182
183
J
esus en sy dissipels het die dag ná die ete by Simon na Jerusalem toe gestap. Jesus stuur toe twee dissipels na ’n dorpie daar naby.
“Julle sal ’n donkie daar kry,” sê Hy. “Bring hom vir My. As iemand vra wat julle doen, moet julle sê die Here het hom nodig. Ons sal die donkie later terugstuur.” Die dissipels het die donkie gevind en dit na Jesus toe gebring. Hulle het hulle klere op die donkie se rug gesit, en Jesus het op die donkie se rug by Jerusalem ingery. Die groot skare wat vir die Pasga in Jerusalem was, het gehoor dat Jesus op pad was. Hulle was baie opgewonde. Hulle het gedink Hy gaan hulle koning wees en hulle bevry van die Romeine. Party het hulle klere op die pad oopgegooi en ander het palmtakke gepluk en dit ook op die pad neergesit. Die mense het gejuig toe hulle Jesus sien. Hulle het God geprys en uitgeroep: “Prys die Seun van Dawid! Prys ons koning! Hy kom in die Naam van die Here!” Jesus was hartseer toe Hy die mense sien. Hy het geweet daar lê vir hulle ’n swaar tyd voor. Maar die mense was opgewonde en bly.
184
Die Fariseërs het nie daarvan gehou dat die mense Jesus so prys nie. Hulle wou die mense stilmaak. Jesus se dissipels het nie verstaan wat aan die gebeur was nie. Hulle het eers later gesien dat Jesus nie ’n mense-koning was nie. Hy was hulle Hemelkoning, die Koning van God se koninkryk. Jesus het na die tempel toe gegaan. Daar was baie mense, maar hulle was nie daar om God te aanbid nie. Hulle het diere vir die offerandes verkoop. Mense uit ander lande het hulle geld vir Joodse geld omgeruil. Jesus het die geldwisselaars se tafels omgekeer. Hy het die duiweverkopers se stoele omgegooi. Hy sê vir die handelaars: “Die tempel is bedoel om ’n plek te wees waar mense kan kom bid. Maar julle het dit verander in ’n rowersnes!” Jesus het die siek mense wat by die tempel na Hom toe gekom het, gesond gemaak. Hy het die mense vertel van God se koninkryk, en hulle kon nie ophou luister nie. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het ook die wonderlike dinge gesien wat Jesus doen, maar dit het hulle nie bly gemaak nie. Hulle was net nog meer vasberade om Jesus dood te maak. Daardie aand het Jesus en sy dissipels teruggegaan Betanië toe. Matteus 21:1–17 Markus 11:1–11 Lukas 19:28–40 Johannes 12:12–18
185
Die laaste ete saam met Jesus
186
187
D
it was tyd om reg te maak vir die Pasgamaaltyd. Die dissipels wou weet waar hulle die Pasgamaaltyd gaan eet.
Jesus het hulle na Jerusalem toe gestuur. “Julle sal ’n man sien wat ’n kruik water dra. Gaan saam met hom. As hy by ’n huis ingaan, moet julle saamgaan. Die eienaar van die huis het ’n vertrek op die boonste verdieping vir ons reggemaak.” Die dissipels gaan toe na die stad en vind die huis net soos Jesus gesê het. Hulle het die Pasgamaaltyd daar voorberei. Jesus het geweet dat dit amper tyd is om terug te gaan na sy hemelse Vader toe. Hy het geweet die Pasgamaaltyd was sy laaste ete saam met die dissipels. Hy wou vir oulaas ’n paar belangrike dinge vir hulle sê. Voordat hulle begin eet het, het Jesus opgestaan, ’n bak water geneem en sy dissipels se voete gewas. Hy sê vir hulle: “Julle moet my voorbeeld volg. Ek is julle leier, maar Ek het nou net die werk van ’n slaaf gedoen en julle voete gewas. In my koninkryk is die leiers die mense wat ander bedien.” Jesus het ook gesê: “Ek gaan weg, maar Ek sal die Heilige Gees na julle toe stuur. Hy sal julle help en julle leer hoe om My te volg. Onthou altyd om mekaar lief te hê. Julle wys dat julle mekaar liefhet as julle mekaar help.”
188
Terwyl hulle eet, sê Jesus: “Een van julle gaan my verraai.” Die dissipels was hartseer en ontsteld. Wie sal so iets doen? Jesus het geweet dat Judas die verraaier is. Hy sê vir hom: “Gaan doen wat jy moet doen.” Judas het opgestaan en alleen uitgegaan. Daarna het Jesus brood geneem. Hy het God daarvoor gedank en dit in kleiner stukkies gebreek. Toe gee Hy vir elke dissipel ’n stukkie en sê: “Eet dit. Elke keer as julle saam brood eet, moet julle onthou dat Ek my lewe vir julle gegee het.” Jesus tel toe ’n beker wyn op. Hy het God daarvoor gedank en dit vir sy dissipels gegee om te drink. Hy sê vir hulle: “Elke keer as julle saam wyn drink, moet julle onthou dat Ek my bloed gegee het sodat julle sondes vergewe kan word.” Met die brood en wyn het Jesus verduidelik waarom Hy moes doodgaan. En sy volgelinge regoor die wêreld eet nog steeds saam brood en drink saam wyn om te onthou dat Jesus sy lewe gegee het sodat hulle sondes vergewe kan word. Ná die maaltyd het die dissipels die lofsang gesing. Toe het hulle na die Olyfberg toe gegaan. Matteus 26:17–30 Markus 14:12–26 Lukas 22:7–39 Johannes 13:1–17
189
190
Petrus verloën Jesus
191
N
adat Jesus gevange geneem is, het Petrus en Johannes agter die skare aangeloop tot by die hoëpriester se huis. Daar het die soldate Jesus in die huis geneem. Gelukkig het die mense van die huis vir Johannes geken en hom toegelaat om in te gaan. Johannes het vir Petrus gehelp om ook in te kom. Hulle wou sien wat met Jesus gebeur. Dit was koud en die mense in die binnehof het rondom ’n vuur gestaan. Petrus het gehoop niemand sien hom raak nie, maar ’n diensmeisie het gesê: “Ek weet wie jy is! Jy was saam met Jesus!” Almal kyk na Petrus. Hy sê: “Nee, ek ken Hom nie!” ’n Rukkie later sien iemand anders hom raak en sê: “Jy is mos ook een van Jesus se volgelinge!”
192
Petrus sê weer: “Nee man, ek is nie!” Na ’n uur sê nog iemand: “Ek is seker jy was saam met Jesus. Jy praat nes die mense van Galilea!” En Petrus sê vir die derde keer: “Ek weet nie waarvan jy praat nie!” Net toe hoor Petrus ’n haan kraai en hy onthou dat Jesus gesê het hy sal drie keer sê dat hy Hom nie ken nie. Toe weet Petrus hy is glad nie so dapper soos hy gemeen het nie. Hy het verskriklik sleg gevoel. Alhoewel hy baie lief was vir Jesus, het hy Hom verloën toe hy bang was. Petrus het uitgegaan en begin huil. Matteus 26:31–35, 69–75 Lukas 22:54–62 Johannes 18:15–27
193
194
Jesus word gekruisig
195
J
esus en sy dissipels was saam in die tuin van Getsemane op die Olyfberg. Daar het hulle Hom gevange geneem en na die hoëpriester se huis geneem. Sy dissipels het almal weggehardloop. Teen dagbreek die volgende dag het die priesterhoofde en familiehoofde bymekaar gekom. “Is U die Seun van God?” vra hulle vir Jesus. “Ja,” sê Jesus. Daar en dan besluit hulle om Jesus dood te maak. Niemand mag sê hulle is soos God nie! Die enigste persoon in Jerusalem wat die doodsvonnis kon uitspreek, was die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus. Die priesterhoofde en familiehoofde neem Jesus toe na hom toe. Hulle sê Jesus het die mense teen die Romeine opgesteek, al was dit nie waar nie. Pontius Pilatus het Jesus ondervra en gevind dat Hy niks verkeerds gedoen het nie. Die priesterhoofde en familiehoofde het toe die skare opgesteek teen Jesus. Die mense begin skree: “Kruisig Hom!” Pontius Pilatus het altyd ’n gevangene vrygelaat as dit Pasga was. Hy vra toe vir die mense: “Moet ek Jesus vrylaat of moet ek Barabbas vrylaat?” Barabbas was ’n moordenaar en rebel. Die mense skreeu: “Laat Barabbas vry!”
196
Pilatus wou nie vir Jesus laat doodmaak nie. Hy het geweet Jesus is onskuldig. Maar die skare het al harder geskreeu: “Kruisig Hom!” Uiteindelik het Pilatus ingegee. Die soldate het ’n pers mantel om Jesus se skouers gegooi, ’n doringkroon op sy kop gesit, en ’n stok in sy regterhand gedruk. Hulle het Hom eers gespot en toe met swepe geslaan. Daarna het hulle Jesus gedwing om een van die swaar balke van sy kruis te dra. Hulle het Hom weggeneem na die plek waar Hy gekruisig moes word. Daar het hulle Hom aan die kruis vasgespyker. Dit was die manier waarop die Romeine die slegste misdadigers gestraf het. Twee misdadigers het weerskante van Hom gehang. Jesus het vir sy vyande gebid: “Vader, vergewe hulle. Hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hy het ure lank aan die kruis gehang. Teen die middag het die lug donker geword. Dit het drie uur lank donker gebly. Toe het Jesus uitgeroep: “Vader, Ek gee my lewe aan U oor.” En toe het Hy gesterf. Party van Jesus se vriende was die hele tyd daar. Hulle was baie hartseer. Matteus 26–27 Markus 14–15 Lukas 22–23 Johannes 18–19
197
Jesus lewe!
198
199
E
en van Jesus se volgelinge was Josef van Arimatea. Hy was ’n ryk man. Pontius Pilatus het Jesus se liggaam vir hom gegee, en Josef en sy vriend Nikodemus het Hom na ’n tuin daar naby geneem. Hulle het sy liggaam met olie behandel, in linnedoeke toegedraai en toe in ’n rotsgraf neergelê. Die graf het aan Josef behoort en was nog nie voorheen gebruik nie. Dit was uit die berg gekap, amper soos ’n grot. Josef het ’n groot klip voor die ingang van die graf gerol. Die graf was in ’n mooi tuin. Die dag daarna was die Sabbatdag, en almal het by die huis gebly. Vroeg die volgende oggend het ’n paar vroue na die graf toe gegaan. Dit was nog donker, maar hulle kon sien dat die klip nie voor die ingang was nie. Iemand het die klip weggerol. Hulle het in die graf gegaan, maar die graf was leeg. Jesus was nie daar nie. Terwyl die vroue nog wonder wat gebeur het, staan daar skielik twee mans in blink klere by hulle. Die vroue het voor hulle op die grond neergeval. Die mans sê: “Waarom soek julle Jesus hier? Onthou julle nie hoe Hy vir julle vertel het dat Hy gekruisig sal word en weer sal opstaan nie? Jesus het opgestaan uit die dood. Hy lewe!”
Die vroue het dadelik die goeie nuus vir die dissipels gaan vertel, maar die dissipels het hulle nie geglo nie. Net Petrus het na die graf toe gegaan en gesien dat Jesus nie meer daar was nie. Almal het weggegaan van die graf af. Net Maria het agtergebly. Sy het begin huil omdat sy nie geweet het waar Jesus was nie. Toe kyk sy weer in die graf en sien twee engele op die bank waar Jesus se liggaam gelê het. Hulle vra: “Hoekom huil jy?”
200
“Ek weet nie waar Jesus is nie,” sê Maria. Toe draai sy om en sien ’n Man daar staan. Hy lyk vir haar soos die tuinier. Die man vra: “Hoekom huil jy? Wie soek jy?” Maria sê: “Meneer, weet jy waar Jesus is? Sê vir my waarheen julle Hom geneem het dat ek Hom kan gaan haal.” Toe sê die man haar naam, en Maria sien dat dit Jesus is wat daar staan. Jesus sê vir haar: “Gaan vertel vir die dissipels dat jy My gesien het en dat Ek lewe. Sê vir hulle dat Ek op pad is na my Vader in die hemel toe. ” Maria was baie bly. Sy het Jesus gesien. Hy leef! Sy het vir die dissipels gaan vertel: “Ek het die Here gesien!” Daardie selfde aand was die dissipels almal bymekaar. Hulle het die deure gesluit omdat hulle bang was. Skielik het Jesus by hulle gestaan. “Vrede vir julle!” sê Hy. Toe het Hy sy hande en sy sy vir hulle gewys. Dit was regtig Jesus. En Hy het gelewe! Matteus 28 Lukas 24 Johannes 20
201
Jesus vaar op na die hemel
202
203
J
esus het aan die kruis gesterf, maar Hy het nie in die graf gebly nie. Op die derde dag het Hy weer opgestaan. Die dissipels het Hom dikwels gesien, en Hy het vir hulle gewys dat Hy regtig lewe. Hy het met hulle gepraat oor God se koninkryk, en Hy het ook aan hulle verduidelik dat Hy op pad is na sy Vader in die hemel.
Op ’n dag het hulle weer saam geëet. Jesus sê vir hulle: “Bly in Jerusalem. Moenie teruggaan Galilea toe nie. Onthou julle dat Ek vir julle gesê het dat Ek my Gees na julle toe gaan stuur? Wag hier, want Hy gaan hier na julle toe kom. Hy gaan julle help om My te volg, en Hy sal julle alles leer wat julle moet weet.” Die dissipels het om Jesus vergader en gevra: “Here, gaan U nou Israel se koning wees?” Jesus sê: “Julle moet verstaan dat God se koninkryk nie soos ’n koninkryk op die aarde is nie. God se koninkryk is oral waar Hy in mense se harte woon. Julle gaan deel van hierdie koninkryk wees. Dit is hoekom julle hier moet wag. Julle gaan die Heilige Gees nodig hê om julle te help. Wanneer Hy kom, sal julle nie meer bang wees nie. Julle gaan mense van My vertel, eers hier in Jerusalem, en dan verder weg in Judea en Samaria. Later sal julle na plekke ver hiervandaan gaan om mense van My te vertel. Uiteindelik, na baie, baie jare, sal almal op die aarde van My weet.” Jesus het sy dissipels buitentoe gelei. Hy het sy hande opgelig en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy weggegaan na die hemel toe. Die dissipels het gekyk hoe Hy al verder weggaan, totdat Hy agter ’n wolk verdwyn het en hulle Hom nie meer kon sien nie.
204
Toe hulle nog staan en opkyk na die lug, staan twee mans in wit klere skielik langs hulle. “Waarom staan julle hier na die lug en kyk?” vra hulle. “Jesus is weggeneem na die hemel toe. Eendag sal Hy terugkom op dieselfde manier as wat julle Hom sien gaan het.” Die dissipels het toe teruggegaan na Jerusalem toe om vir die Heilige Gees te wag. Hulle het elke dag tempel toe gegaan om God te prys. Hulle het geweet iets wonderliks gaan gebeur. Lukas 24:50–53 Handelinge 1:1–11
205
206
Die dag toe die Heilige Gees gekom het
207
N
adat Jesus na die hemel opgevaar het, het sy dissipels teruggegaan Jerusalem toe, na die bovertrek waar hulle altyd bymekaargekom het.
Hulle het gereeld bymekaargekom om te bid. Behalwe die dissipels was daar ’n groep vroue wat in Jesus geglo het. Jesus se ma en sy broers was ook daar. Later het sowat 120 mense gereeld daar bymekaargekom. Eendag sê Petrus: “Kom ons kies ’n dissipel in Judas Iskariot se plek.” Hulle het God gevra om hulle te wys wie om te kies, en ’n man met die naam Mattias het toe die nuwe twaalfde dissipel geword. Hy was van die begin af ’n volgeling van Jesus en was altyd by Hom, net soos die ander dissipels. Jesus is op die eerste dag van Pasga gekruisig. Vyftig dae later het die Jode altyd die Pinksterfees gevier. Op daardie dag het hulle die eerste graan van die nuwe oes aan die Here kom offer. Jode het van heinde en ver gekom om hierdie fees te vier en Jerusalem was gepak. Op die dag van die fees was Jesus se volgelinge soos gewoonlik in die bovertrek besig om te bid en op die Heilige Gees te wag. Skielik was daar ’n harde geluid, soos ’n geweldige stormwind. Dit het die hele vertrek gevul. Hulle sien ook iets wat soos ’n vuur lyk. Die vuur het in tonge of vlamme verdeel en op elkeen in die vertrek kom rus. Al die mense is met die Heilige Gees vervul. Hulle het in tale begin praat wat hulle glad nie geken het nie. Die Heilige Gees het hulle in staat gestel om dit te doen. ’n Skare mense het voor die huis begin saamdrom. Hulle het die geluid van die wind gehoor en wou sien wat aangaan. Toe hoor hulle hoe die mense in die huis in hulle eie tale praat. Hulle was verwonderd.
208
“Kom hierdie mense dan nie van Galilea af nie? Hoe kan dit wees dat hulle in ons tale praat? Wat gaan aan?” vra hulle. Party van die mense het begin lag. “Hulle het seker te veel gedrink!” spot hulle. Toe staan Petrus op en praat met al die mense. Hy verduidelik dat God sy Gees gestuur het. Daarom was hulle nie meer bang nie. Hulle het geweet die Heilige Gees is in hulle en help hulle. Hy wys hulle wat om te doen en te sê. Dit was ’n wonderlike dag! Handelinge 2
209
Die kerk se begin
210
211
J
erusalem se strate was vol mense wat van oral in die wêreld gekom het om deel te neem aan die Pinksterfees. Jesus se volgelinge was in ’n huis bymekaar, besig om te bid en God te prys. Skielik hoor die mense in die straat ’n geluid wat soos ’n rukwind klink. Die Heilige Gees het na Jesus se volgelinge gekom. Toe hoor die skare buite die huis hoe die dissipels in baie tale met hulle praat oor God se wonderwerke. Ná ’n rukkie praat Petrus alleen. Hy sê: “Dis nie ’n nuwe ding wat hier gebeur het nie. Die profete het al lank gelede daarvan gepraat. Die profeet Joël het gesê God gaan sy Gees uitstort op almal wat in Jesus glo. En almal wat in Hom glo, sal gered word.” Petrus vertel die mense toe van Jesus. God het Hom gestuur om onder die mense te woon en wonderwerke te doen. Jesus het baie mense gehelp. Toe is Hy verraai en die Romeinse goewerneur het Hom laat kruisig. Jesus het aan die kruis gesterf, maar dit was nie die einde nie. God het Hom uit die dood opgewek. Hy het aan die dissipels en baie ander mense verskyn voordat Hy opgevaar het na sy Vader in die hemel. En toe stuur God sy Gees om in Jesus se volgelinge te woon. Daarom was hulle nie meer bang nie. God se Gees was nou in hulle. Baie mense was seker dat Petrus die waarheid praat. Hulle vra toe: “Wat moet ons doen?”
212
Petrus antwoord: “Draai weg van julle vorige lewe. Glo in Jesus. Laat julle in sy Naam doop. Hy sal julle sonde vergewe en die Heilige Gees sal ook in julle kom woon.” Ongeveer 3 000 mense het Petrus se woorde aanvaar en is daardie selfde dag gedoop. Hulle was die heel eerste gemeente. Van toe af is die dissipels “apostels” genoem. Hulle was die leiers van die nuwe gemeente. Die gelowiges het elke dag in die voorhof van die tempel bymekaargekom. Die apostels het hulle geleer. Hulle het God geprys en hulle was vol blydskap. Hulle het ook dikwels in huise bymekaargekom en saam geëet en gebid. Hulle het alles wat hulle gehad het met mekaar gedeel. Party het hulle besittings verkoop en die geld vir die apostels gegee om vir die arm gelowiges te gee. Almal was verbaas om te sien wat God doen. Hulle het gesien hoe die apostels mense gesond maak, net soos Jesus altyd gedoen het. Almal het groot respek vir die gelowiges gehad. En elke dag het die gemeente nuwe volgelinge bygekry. Dit is hoe die kerk begin het. Handelinge 2
213
214
Petrus en Johannes en die bedelaar
215
D
ie nuwe gemeente het al groter geword. Al hoe meer mense het begin glo dat Jesus uit die dood opgestaan het. Hulle was vol blydskap en het graag bymekaargekom. Hulle het ook graag na die tempel toe gegaan om God te prys. Een middag stap Petrus en Johannes na die tempel toe om daar te gaan bid. Op pad word ’n bedelaar naby hulle neergesit. Die man was van sy geboorte af verlam. Hy kon nie loop nie. Sy familie het hom elke dag by die tempel se Mooipoort neergesit. Hy het heeldag sit en bedel by die mense wat deur die poort loop en saans het sy familie hom weer huis toe geneem. Die man het na Petrus en Johannes geroep toe hulle by hom verbystap. Hy het ’n geldjie gevra. Petrus en Johannes het nie gemaak of hulle hom nie hoor nie. Hulle het stip na die man gekyk en gesê: “Kyk na ons.” Die man het na hulle gekyk. Miskien sal hulle hom iets gee, dink hy. Petrus sê: “Ek het nie geld nie, maar ek sal jou gee wat ek wel het. In die Naam van Jesus Christus, staan op en loop!”
216
Hy het die man se regterhand vasgegryp en hom opgehelp. Die bedelaar het gevoel hoe sy voete en enkels sterk word. Hy kon staan. Eers het hy net stil gestaan, en toe het hy oral in die tempel begin rondloop. Gou word hy so opgewonde dat hy op en af spring en God luidkeels prys. Die mense het gesien hoe die verlamde bedelaar wat elke dag by die tempelpoort gesit het, skielik kon loop. Hulle was verbaas oor die wonderlike ding wat gebeur het. Almal het nader gehardloop om die man te sien, maar Petrus sê: “Julle behoort nie verbaas te wees oor wat God gedoen het nie. Hy het sy Seun Jesus uit die dood opgewek. Hy kan ’n bedelaar ook gesond maak.” Handelinge 3
217
Stefanus is die eerste martelaar
218
219
D
aar was gou so baie nuwe gelowiges dat die apostels nie meer na almal kon omsien nie. Party arm mense is toe afgeskeep met die daaglikse uitdeel van kos. Daarom het die apostels die gemeente bymekaargeroep en hulle gevra om sewe diakens te kies. Hulle sê: “Die diakens moet vervul wees met die Heilige Gees. Hulle moet wysheid hê en sorg dat elkeen die regte hoeveelheid kos kry. Dit sal ons meer tyd gee om te bid en julle van God te leer.” Die gemeente het sewe mans gekies en die apostels het vir hulle gebid en hulle geseën. Een van die sewe diakens was Stefanus. Stefanus was vervul met die Heilige Gees. Hy het baie wonderwerke gedoen. Baie mense het God geprys oor die dinge wat Stefanus gedoen het, maar ander was jaloers oor sy wysheid. Hulle het die mense toe teen hom opgestook deur te sê: “Stefanus praat lelike dinge oor God en oor Moses.” Die volk se leiers het Stefanus toe gevange geneem en mense gevind wat bereid was om leuens oor hom te vertel. Hulle het gesê hy sê verkeerde dinge van die tempel en van God. Terwyl hulle die leuens vertel, het die leiers stip na Stefanus gekyk en gesien dat sy gesig soos ’n engel s’n lyk. Die hoëpriester vra: “Praat hierdie mense die waarheid?”
220
Stefanus staan toe op en hou ’n toespraak. Hy vertel die mense die geskiedenis van die Israeliete en hoe God hulle uit Egipte na die beloofde land gelei het. Hy het hulle ook daaraan herinner dat die Israeliete dikwels ongehoorsaam aan God was. Dit het die leiers so kwaad gemaak dat hulle op hul tande gekners het. Stefanus het nie eers na hulle gekyk nie. Hy het na die hemel gekyk en gesê: “Kyk! Die hemel se deure het oopgegaan. Ek sien hoe Jesus aan God se regterhand staan. Jesus is God se Seun.” Toe het die leiers hard begin skreeu en op Stefanus afgestorm. Hulle het hom uit die stad gesleep en hom met klippe doodgegooi. Die rasende mense het hulle mantels by ’n jong man met die naam Saulus neergesit. Hy was ’n slim Fariseër en een van die mense wat Jesus se volgelinge gehaat het. Stefanus het gebid: “Here, ek gee my gees vir U!” Hy het op sy knieë neergeval en uitgeroep: “Here, vergewe asseblief hierdie mense se sonde.” En toe het hy gesterf. Hy was die eerste persoon wat doodgemaak is omdat hy in Jesus geglo het. Handelinge 7:54–60
221
222
Die man van Ethiopië word ’n volgeling van Jesus
223
N
adat Stefanus doodgemaak is, is ander gelowiges ook aangeval en vervolg. Een van die vervolgers was Saulus. Hy het van huis tot huis gegaan om gelowiges gevange te neem. Baie gelowiges het toe uit Jerusalem na ander stede en dorpe gevlug. Daar het hulle die mense van Jesus vertel en gou was daar nog meer mense wat in Jesus geglo het. Die apostel Filippus het na ’n stad naby Samaria gegaan. Baie mense het na hom kom luister en gesien hoe hy mense gesond maak. Baie mense het in Jesus begin glo. Die stad was vol blydskap. Toe sê ’n engel Filippus moet na die suide vertrek en al met die pad tussen Jerusalem en Gasa loop. Filippus het dadelik die engel gehoorsaam. Die pad was eers doodstil, maar later sien Filippus ’n man wat op ’n wa sit en lees. Dit was ’n belangrike man van Ethiopië. Hy het vir die koningin van die land gewerk en was in Jerusalem om God in die tempel te aanbid. Nou was hy op pad huis toe. Filippus hoor toe hoe die Heilige Gees vir hom sê: “Gaan na die wa toe, en bly naby die man.” Filippus het dit gedoen, en kon hoor dat die man van Ethiopië uit die boek Jesaja lees. “Verstaan jy wat jy daar lees?” vra hy die man. “Nee!” sê die man. “Ek wens iemand kan dit vir my verduidelik.” Hy vra Filippus toe om op die wa te klim. Die man was besig om te lees van iemand wat mishandel is en toe doodgemaak is. Hy het nie besef hy lees eintlik van Jesus nie.
224
Hy vra vir Filippus: “Kan jy vir my sê van wie Jesaja hier skryf?” Filippus het verduidelik dat Jesaja daar oor Jesus skryf. Sy woorde het intussen waar geword, want Jesus het ’n rukkie vantevore aan die kruis gesterf. Toe het God Hom uit die dood opgewek. Die man uit Ethiopië was baie bly toe hy dit alles hoor. Hy wou ook ’n volgeling van Jesus word. Toe hulle by water kom, vra hy dat Filippus hom doop. Hulle het stilgehou en Filippus het die man gedoop. Toe hulle uit die water kom, het God se Gees Filippus eensklaps weggeneem. Die man van Ethiopië het hom nie weer gesien nie, maar hy het vol vreugde verder gereis. Hy was nou ’n volgeling van Jesus. En Filippus? Hy is ’n rukkie later by ’n plek met die naam Asdod gesien. Hy het ’n ruk lank daar gebly en die mense van daardie omgewing van Jesus vertel. Al hoe meer mense het die goeie nuus van Jesus gehoor en Hom begin volg. Handelinge 8:26–40
225
226
Saulus word ’n volgeling van Jesus
227
S
aulus wou al Jesus se volgelinge gevange neem. Hy het geglo hulle dien God nie op die regte manier nie. Hy het eers net in Jerusalem gewerk, maar toe gaan vra hy die hoëpriester of hy ook Jesus se volgelinge in Damaskus kon gaan arresteer. Op pad Damaskus toe het iets gebeur wat sy hele lewe verander het. ’n Lig uit die hemel het skielik op hom geskyn. Dit was so helder dat dit hom verblind het en hy op die grond neergeval het. Toe hoor hy ’n stem wat sê: “Saulus, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” vra Saulus. “Ek is Jesus,” hoor hy. “Ek is die Een wat jy vervolg. Staan nou op en gaan na die stad toe. Daar sal iemand vir jou sê wat om te doen.” Die mense saam met Saulus het verslae rondgestaan. Hulle het die lig gesien en die stem gehoor, maar kon nie agterkom wat gebeur nie. Na ’n ruk staan Saulus op. Hy het sy oë oopgemaak, maar kon nie sien nie. Die mense by hom moes hom aan die hand neem en na Damaskus toe lei.
228
Daar het hy vir drie dae in ’n kamer gebly sonder om iets te eet of te drink. Ananias was ’n volgeling van Jesus wat in Damaskus gewoon het. Die Here het in ’n visioen met hom gepraat. “Ananias!” sê Jesus. “Hier is ek, Here,” sê Ananias. “Gaan na Judas se huis in Reguitstraat toe. Vra om ’n man met die naam Saulus te sien, want hy is besig om te bid. Jy moet jou hande op hom lê sodat hy weer kan sien.” Ananias was baie bang. Hy sê: “Here, ek het al baie van hierdie man gehoor. Hy is u vyand. Hulle sê hy wil almal arresteer wat in U glo.” Maar die Here sê vir Ananias: “Moenie bang wees nie. Ek het hom uitgekies om vir My te werk. Hy gaan vir baie mense in baie lande van my vertel.” Ananias gaan toe na Saulus toe en lê sy hande op hom. Hy sê: “Saulus, my broer, Jesus het op pad hierheen aan jou verskyn. Hy het my gestuur sodat jy weer kan sien. Jy sal ook met die Heilige Gees vervul word.” Saulus kon dadelik weer sien. Hy het ’n volgeling van Jesus geword en is ook gedoop. Hy het ’n paar dae in Damaskus gebly en dadelik na die sinagoges gegaan en oor Jesus begin praat. Hy het nou geglo dat Jesus God se Seun is. Almal was verstom om te hoor dat Jesus se groot vyand nou sy volgeling was. Handelinge 9
229
230
Paulus reis die wêreld vol vir Jesus
231
S
aulus was ’n Joodse naam, maar Saulus was ook ’n Romeinse burger en hy het dus ook ’n Romeinse en Griekse naam gehad. Hy is Paulus genoem in die lande waar die mense meestal Grieks gepraat het. Paulus het na baie lande gereis om mense van Jesus te vertel. Hy het gewoonlik saam met ’n groep vriende gereis en baie avonture beleef. Hulle is soms goed behandel, en soms is hulle aangeval en in die tronk gegooi. Hulle moes ’n paar keer in die middel van die nag vlug. Maar God was altyd by Paulus en sy vriende. Hy het hulle beskerm. Op sy tweede reis het Paulus deur Griekeland gereis en Athene saam met Silas en Timoteus besoek. Hy was ontsteld toe hy sien hoeveel beelde daar van verskillende gode was. Paulus het soos altyd eerste na die Jode se sinagoge gegaan. Hy het met almal wat daar bymekaargekom het, oor Jesus gepraat, die mense vertel dat Hy die Verlosser is, en hulle aangemoedig om in Jesus te glo. Paulus het ook na die markplein toe gegaan. Daar was altyd baie mense, en hy het met almal wat hy raakgeloop het oor Jesus gepraat. Die Grieke het graag met mekaar geredeneer, en hulle was altyd op soek na nuwe opinies en argumente. Nadat hulle Paulus hoor praat het, het hulle hom na die Areopagus geneem. Dit was ’n heuwel waar hulle gereeld bymekaargekom het om oor baie dinge te redeneer.
232
Hulle sê vir hom: “Verduidelik asseblief vir ons al die vreemde dinge waaroor jy praat. Ons het nog nooit so iets gehoor nie!” Paulus vertel hulle toe van die Here God wat die aarde en alles daarop gemaak het. Hy gee lewe aan alles op aarde. Hy woon nie in ’n tempel nie. Hy is nie ’n beeld nie. Hy is almagtig en alomteenwoordig en Hy is lief vir alle mense en wil graag hê dat hulle in Hom glo. Hy het daarom sy Seun, Jesus, uit die dood opgewek. Party van die mense het Paulus se woorde geglo en volgelinge van Jesus geword. Ander het nie geglo nie. Hulle het hom uitgelag. Jesus se nuwe volgelinge het ’n gemeente in die stad gestig. Paulus het hulle oor Jesus geleer en verduidelik hoe hulle Hom moes volg. Daarna is Paulus na Korinte, ’n ander groot stad in Griekeland. Dit was Paulus se lewe. Hy het die hele tyd van een plek na die ander gereis. In elke stad het hy hard gewerk om geld te verdien sodat hy verder kon reis. Hy was ’n tentmaker, en op elke nuwe plek het hy mense se tente reggemaak. So het hy baie mense leer ken. Paulus het ook briewe vir sy nuwe gemeentes geskryf. Baie van hierdie briewe is sorgvuldig bewaar en het later ’n deel van die Nuwe Testament geword. Handelinge 17
233
Kopiereg © 2023 Christian Media Publishing Christian Media Publishing Posbus 3228, Matieland Poskantoor, Stellenbosch, 7602, Suid-Afrika www.christianmediapublishing.com Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of langs enige elektroniese of meganiese weg weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, bandopname, of enige ander stelsel van inligtingbewaring. Reg no 2010/008573/07 Teks: Thea Brink Illustreerder: Chris Venter Uitleg: Zelda Botha Eerste uitgawe 2023 10
9
8
7
6
5
4
3
2
1
ISBN 978-1-928437-97-0
Jesaja 40:11 is geneem uit Die Bybel Kopiereg © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.
’N DRUKNAAM VAN
CHRISTIAN MEDIA PUBLISHING
BYBEL
Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei. JESAJA 40:11
Die verhale van die Bybel kry nuwe lewe in hierdie pragtige Klassieke Storiebybel vir kinders. Die Klassieke Storiebybel sluit verhale van die belangrikste gebeurtenisse van die Christelike geloof in. Die pragtige en dramatiese illustrasies beeld in grafiese besonderhede 57 van die belangrikste Bybelse gebeurtenisse uit. Die illustrasies skep ’n kontekstuele rekonstruksie van die wêreld van die Bybel wat kinders help om die boodskap van die Bybel beter te verstaan. Hierdie kinderbybel sal in die jare wat kom ’n groot gunsteling onder kinders en families bly.
ISBN: 978-1-92843-797-0
KLASSIEKE STORIEBYBEL
KLASSIEKE STORIE-
KLASSIEKE STORIE-
BYBEL