Die Storie van Jesus
ISBN: 978-1-928437-21-5
www.christianmediapublishing.com
2
Aan: __________________________ Met liefde van: __________________________
Inhoud 1. Jesus word gebore
4
2. Die wyse manne
8
3. Jesus vertel ’n storie van ’n skaap
12
4. Water word wyn
16
5. Goeie Vrydag
20
6. ’n Leë graf
24
7. Die Heilige Gees kom aarde toe
28
Die Storie van Jesus
1. Jesus word gebore – Lukas 2:1–20 “Josef,” sê die engel, “jy moet Maria se baba Jesus noem. Hy is die Seun van God.” Maar eers moet Josef en Maria Betlehem toe gaan. Die enigste blyplek is in ’n stal vol diere. En dit is waar die Baba Jesus gebore word. Maria draai Hom in doeke toe en lê Hom in ’n krip neer. Die herders is daardie nag in die veld by hulle diere. Skielik verskyn ’n engel by hulle en vertel hulle van Jesus. Toe sing ’n menigte engele in die lug oor Jesus.
4
Die herders gaan dadelik Betlehem toe om die Baba te sien. En in die stal, toe hulle na Jesus kyk, hoor hulle nog die woorde van die engele se lied: “Loof God en vrede aan alle mense.” Dis presies hoe hulle gevoel het!
Soek en Leer Sammy en Amy verkyk hulle aan die Baba. Help hulle om die Bybel ook te sien. Die Bybel leer ons dat Jesus baie spesiaal is, want Hy is die Seun van God. Die mense en die engele was bly toe Hy gebore is.
5
Onthou die Bybelstorie Vertel die storie van Jesus se geboorte. Blaai terug na die vorige bladsy. Wie sien jy almal in die prent? Hoe voel hulle oor die nuwe Baba wat gebore is?
Jesus se geboorte maak almal bly – tot vandag toe nog.
6
Gebed Liewe Here, al die mense sing. Die hele aarde klap hande, die see en alles daarin. Die diere dans en spring. Al die bome is bly, want Jesus is ons Koning. Amen.
Aktiwiteit Gaan vind uit wat alles gebeur het die dag toe jy gebore is. Gesels bietjie oor almal in julle gesin se geboortedae. Gesels oor Kersfees, en sê waarom almal ekstra bly is oor Jesus se geboortedag.
7
2. Die wyse manne – Matteus 2:1–12 In ’n ver land sien sterrekykers, slim en wyse manne, een nag ’n groot, helder ster. Hulle weet: iewers is ’n belangrike koning gebore. Hulle laai toe baie kosbare geskenke, soos wat ’n mens vir ’n koning gee, op hulle kamele en volg vir ’n paar jaar die groot, helder ster. Die ster gaan hang doodstil bokant die huis waar Josef, Maria en Jesus is.
8
Jesus is nie meer ’n baie klein babatjie nie. Die wyse manne klim van hulle kamele af en gaan in. Toe hulle die Kindjie sien, weet hulle Hy is die grootste Koning van alle tye. Hulle buig voor Hom neer, en gee hulle koningsgeskenke – goud, wierook en mirre – vir Hom.
Soek en Leer Sien jy die geskenke wat die manne gebring het? En sien jy die Bybel? Die Bybel leer ons die beste geskenk wat ons vir Jesus kan gee, is om sy vriend te wees.
9
Onthou die Bybelstorie Vertel weer die storie van die wyse manne. Watter geskenke het die wyse manne vir Jesus gebring? Mirre was baie goeie medisyne teen pyn. Wierook was ook medisyne en het boonop lekker geruik.
Die wyse manne het die beste geskenke waaraan hulle kon dink, vir Jesus gegee.
10
Gebed Liewe Here, ek wil my beste vir U gee omdat ek vir U lief is. Nes die wyse manne lank terug, moet almal vir U geskenke bring, want U is groot en goed. Amen.
Aktiwiteit Wil jy graag vir Jesus ’n geskenk gee? Jy kan vir Hom ’n brief skryf om dit vir Hom te sê. Skryf op ’n stukkie papier: ‘Jesus, ek wil altyd u vriend wees. Amen.’ Jy kan dit mooi versier as jy wil. Bêre jou brief in jou Bybel.
11
3. Jes s vertel ’n storie van ’n skaap – Lukas 15:1–7, Johannes 10:1–10, Jesaja 43:1, Jesaja 49:16
Jesus het graag stories vertel. Hier is ’n storie wat Hy vertel het: “’n Skaapwagter het honderd skape gehad. Op ’n dag raak een van hulle weg. Die skaapwagter het hom dadelik gaan soek. Hy moes baie ver soek, maar eindelik kry hy hom. Die skaap het verdwaal en was bang en moeg. Die herder was so bly om sy skapie te kry dat hy hom op sy skouers getel en teruggedra het.
12
By die huis het almal partytjie gehou omdat hy sy verlore skaap gekry het.” Jesus sê vir die mense wat na sy storie luister: “Ek is soos ’n goeie skaapwagter, en julle is soos my skape. Ek sorg vir julle. ’n Goeie skaapwagter ken sy skape se name. Ek ken ook julle name!”
Soek en Leer Waarna kyk Sammy en Amy? Help hulle om die Bybel ook te kry. Die Bybel leer ons dat God lief is vir sy kinders. Hy ken elkeen se naam.
13
Onthou die Bybelstorie Kyk weer na die prent op die vorige bladsy. Vertel die storie wat jy in die prent sien. Tel hoeveel skape daar in die prent is.
Jesus is lief vir jou, en Hy ken jou op jou naam.
14
Gebed Here, dankie dat U vir my baie lief is. U ken my naam, en U vergeet nooit van my nie. My naam is op u hand geskryf. Amen.
Aktiwiteit In Jesaja 49:16 sê die Here: Jou naam is op sy hand geskryf. Skryf jou naam op ’n stuk karton. Maak nou ’n modderafdruk van jou hand oor jou naam. Laat die modder droog word. As jy na jou afdruk kyk, moet jy onthou: Jou naam staan op God se hand. Hy ken jou naam, en Hy vergeet nooit van jou nie!
15
4. Water word wyn – Johannes 2:1–12 Daar is ’n groot troue in Kana. Jesus, sy dissipels en sy ma, Maria, is almal daar. Almal gesels en lag. Hulle dans en eet en drink. Hulle vier fees oor die twee mense wat met mekaar trou. Maar toe raak die wyn op. Maria gaan vra dadelik vir Jesus om te help. Daar staan ses groot waterkanne wat elk 100 liter kan hou. Jesus sê die kelners moet hulle almal vol water maak. Toe sê Hy: “Neem daarvan na die seremoniemeester toe.”
16
Toe die seremoniemeester dit proe, sê hy vir die bruidegom: “Dis fantasties! Hoekom het jy die beste wyn vir laaste gelos?” Dit was Jesus se eerste wonderwerk.
Soek en Leer Kyk of jy Amy en Sammy kan help om die Bybel tussen al die vrolike mense te kry. Die Bybel leer ons dat Jesus wonderwerke doen om mense te help.
17
Onthou die Bybelstorie Vertel die storie van die troue in Kana. Kyk na die prent op die vorige bladsy. Hoe voel die gaste by die troue? Kan jy sien wie die bruid is? Watter wonderlike ding het by daardie troue gebeur?
Jesus hou daarvan as mense gelukkig is.
18
Gebed Here, U kan enigiets verander. U kan water in wyn verander. U kan ook hartseer mense gelukkig maak. Dankie dat U so groot en goed is. Amen.
Aktiwiteit Vandag kan jy en jou gesin ’n partytjie hou. Wat het ’n mens nodig? Vrolike mense en ’n lekker speletjie of twee. Iets om te drink en iets om te eet. Julle kan ook die plek waar julle partytjie gaan hou, versier. Voordat julle begin, moet julle vir Jesus dankie sê omdat – Hy vir julle goed is en omdat Hy by julle partytjie is.
19
5. Goeie Vrydag – Markus 15 en Lukas 23 Om nege-uur een Vrydagoggend, in die jaar 33, hang ’n onskuldige Jesus aan ’n kruis op Golgota net buite Jerusalem. Twee misdadigers hang aan weerskante van Hom. Teen twaalfuur word dit skielik pikdonker. Toe die son teen drie-uur weer skyn, sê Jesus: “Vader, in u hande gee Ek my oor.” Toe sterf Hy.
20
Daarna is daar ’n geweldige aardbewing. Rotse vlieg deur die lug. Grafte gaan oop en mense wat lank dood was, word lewendig. ’n Romeinse soldaat roep uit: “Jesus was werklik die Seun van God!” Ons noem daardie dag, Goeie Vrydag, want op daardie dag het Jesus ons gewys hoe lief Hy ons het! Maar gelukkig eindig alles nie hier nie – Sondag is oppad!
Soek en Leer Help Amy en Sammy om die Bybel in die prent te vind. Die Bybel leer ons dat Jesus aan die kruis gesterf het omdat Hy ons almal liefhet.
21
Onthou die Bybelstorie Dit was baie hartseer, nè? Wat het gebeur? Blaai na die prent op die vorige bladsy. Wat doen die mense in die prent? Hoe voel hulle?
Gelukkig is dit nie die einde van die storie nie. ’n Wonderlike ding gaan Sondag gebeur!
22
Gebed Here Jesus, Goeie Vrydag se kruis help my onthou hoe lief U vir my is. Ek weet ook U vergewe al die verkeerde dinge wat ek doen. Dankie, Jesus, baie dankie. Amen.
Aktiwiteit Leer Johannes 3:16 uit jou kop: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
23
6. ’n Leë graf – Matteus 28:1–10 en Lukas 24:34 Vroeg die Sondagmôre na Jesus se dood stap drie vroue na sy graf toe. Hulle was Jesus se vriende, en hulle is baie hartseer. Skielik is daar weer ’n aardbewing. ’n Engel het die swaar klip voor Jesus se graf kom wegrol. Die wagte by die graf skrik so groot dat hulle flou val! Die engel sê vir die vroue: “Moenie bang wees nie. Jesus het opgestaan uit die dood nes Hy belowe het!”
24
Die drie vroue hardloop reguit na die dissipels toe met die goeie nuus. Johannes en Petrus gaan dadelik kyk of dit regtig waar is. Verwonderd kyk hulle na die opgerolde doeke wat in die leë graf lê. Jesus lewe! Later daardie Sondag het Petrus vir Jesus raakgeloop. Petrus kon nie anders nie, hy moes vir almal vertel. En almal het daaroor gepraat – Jesus het vir Petrus vergewe!
Listen and Learn Help Amy en Sammy om die Bybel in die prent te vind. Die Bybel leer ons dat Jesus opgestaan het uit die dood. Niks is vir Hom onmoontlik nie!
25
Onthou die Bybelstorie Vertel van die wonderlike ding wat Sondagoggend gebeur het. Sien jy die haan in die prent? Waaraan laat dit jou dink? Wat dink jy het Petrus vir die mense vertel?
26
Gebed Here, dankie dat U uit die dood opgestaan het. Ek weet U lewe vandag nog. U is die Koning! Amen.
Aktiwiteit Skryf op ’n stuk papier: Jesus het opgestaan! Niks is vir Hom onmoontlik nie. Teken nou onder die woorde iets wat jou laat dink aan Jesus wat opgestaan het. Plak jou prent iewers in die huis op.
27
7. Die
eilige Gees ko aarde toe – Handelinge 1:6 tot Handelinge 2:41
Presies veertig dae nadat Jesus uit die dood opgestaan het, staan Hy saam met sy vriende op ’n berg. Hy belowe: “Die Heilige Gees sal na julle toe kom. En julle sal die mense van My vertel.” En toe gaan Jesus in ’n wolk van hulle af weg. Twee engele troos hulle: “Jesus sal eendag weer só terugkom.” Tien dae later is al die Jesusvriende in Jerusalem bymekaar. Skielik ruk ’n stormwind die hele gebou en tonge vuur sit op elkeen. Die Heilige Gees kom woon in elkeen van hulle – net soos Jesus belowe het.
28
Kort daarna preek Petrus vir duisende mense oor Jesus. Drie– duisend van hulle besluit om Jesus te volg. Die Heilige Gees gee alle Jesusvriende krag sodat nog groter dinge kan gebeur...
Soek en Leer Iewers tussen die mense is daar ’n Bybel. Kan jy dit sien? Die Bybel leer ons dat Jesus die Koning is van alles en dat Hy deur die Heilige Gees nou oral en altyd by ons is.
29
Onthou die Bybelstorie Blaai terug na die vorige prent. Vertel die storie wat jy daar sien. Kyk na die mense se gesigte en sê hoe almal voel.
Sê: “Die Heilige Gees woon in God se kinders. Hy help ons om Jesus lief te hê.”
30
Gebed Liewe Jesus, dankie dat U die Heilige Gees vir ons gee om in ons te woon. Oral waar ons gaan, is U by ons. Amen.
Aktiwiteit Het jy geweet jy kan op enige plek met die Heilige Gees gesels? Hy woon in jou en hoor jou wanneer jy in jou gedagtes met Hom praat. Jy hoef nie jou oë toe te maak nie. Jy kan sê: “Here, help my!” Jy kan ook sê: “Dankie vir die mooi dag, Here!” Of: “Ons het darem nou lekker gespeel, Here!” Onthou om dit vandag kort-kort te doen. Kom vertel vanaand by die huis van party van die dinge wat jy vir die Heilige Gees gesê het.
31
Kopiereg ©2021 Christian Media Publishing Christian Media Publishing Posbus 3228, Matieland Poskantoor, Stellenbosch, 7602, South Africa www.christianmediapublishing.com Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of langs enige elektroniese of meganiese weg weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, bandopname of enige ander stelsel van inligtingbewaring. Reg no 2010/008573/07 Teks: © Ewald van Rensburg Illustrasies: © Magriet Brink Uitleg en ontwerp: Zelda Botha Eerste uitgawe, eerste druk 2021 ISBN 978-1-928437-21-5
’N DRUKNAAM VAN
CHRISTIAN MEDIA PUBLISHING
32
Die Storie van Jesus
ISBN: 978-1-928437-21-5
www.christianmediapublishing.com