Helde in die Bybel - Afrikaans

Page 1

Helde van die Bybel ISBN: 978-1-928437-22-2

www.christianmediapublishing.com


2


Aan: __________________________ Met liefde van: __________________________

1


Inhoud 1. Noag en die ark

4

2. Jerigo se mure

8

3. Jong Dawid en Goliat

12

4. Abigajil en die twee kwaai mans

16

5. Elisa en die blinde soldate

20

6. Skelm Saggeus word gawe Saggeus

24

7. Paulus en Silas sing in die tronk

28


Helde van die Bybel


1. Noag en die ark – Genesis 6–9 God het vir Noag gesê: “Dit gaan so baie reën dat die aarde soos een groot see gaan wees! Jy moet ’n ark bou, want Ek wil jou beskerm.” Noag was lief vir God en het die ark gebou, al het die mense hom gespot. Noag, sy familie en ’n mannetjie en ’n wyfie van elke soort dier het in die ark gegaan. Dit het baie lank gereën, maar Noag-hulle was veilig en droog.

4


Uiteindelik het God ’n sterk wind gestuur om die aarde droog te blaas. Noag-hulle kon weer uit die ark klim. Toe maak God die eerste reënboog. ’n Reënboog sê vir ons: ’n belofte wat God maak, is ’n belofte wat Hy hou!

Soek en Leer Kan jy die Bybel in die prent sien? Help Sammy en Amy om dit te vind. Die Bybel leer ons dat God sy beloftes hou.

5


Onthou die Bybelstorie Wat het in die storie van Noag gebeur? Waar is die reënboog? God se reënboog het altyd sewe kleure: rooi, oranje, geel, groen, ligblou, donkerblou en pers. Kyk of jy die kleure kan kry.

As jy ’n reënboog sien, moet jy altyd sê: Die reënboog sê vir ons dat God altyd doen wat Hy belowe!

6


Gebed Liewe Here, wanneer ek ’n reënboog sien, weet ek dat U u beloftes hou. U slaap nooit nie en U sal my altyd beskerm. Baie dankie! Amen.

Aktiwiteit Teken ’n reënboog. Wys jou prent vir ’n maat en vertel jou maat dat God altyd doen wat Hy belowe. Hy het belowe om sy kinders op te pas. Plak jou prent iewers op. Wat moet jy onthou as jy jou prent sien?

7


2. Jerigo se m re – Josua 2 and 6 Josua stuur twee spioene na Jerigo, maar die soldate sien hulle! Ragab laat ’n lang rooi tou by haar venster uithang en help die twee spioene om by die tou af te klim en te ontsnap. Die spioene vertel toe vir Josua dat daar dik, hoë mure om Jerigo is. Josua en sy soldate wonder hoe hulle ooit teen Jerigo se mense kon wen. Maar God sê: “Loop elke dag een keer om die stad, ses dae lank.

8


Op die sewende dag moet julle sewe maal omloop. Dan moet die priesters op hulle ramshorings blaas, en julle ander moet hard skree. Dan sal die mure omval!” Weet julle, dit het net so gebeur! Israel het gewen. En Ragab is ook gered!

Soek en Leer Onthou om die Bybel in die prent te soek. Miskien kan die kat jou help! Die Bybel leer ons daar is niemand so sterk soos God nie.

9


Onthou die Bybelstorie Wat het in die storie gebeur? Loop sewe keer om ’n stoel of ’n boks en sê:

“My God is so groot; daar is niks wat Hy nie kan doen nie!”

10


Gebed Liewe Here, niemand is so sterk soos U nie. Iemand wat by U wegkruip, hoef nie bang te voel nie. Amen.

Aktiwiteit Speel wegkruipertjie. Het jy ’n plek waar jy gaan wegkruip as jy bang is? Hoe kan jy by die Here wegkruip? Hoe kan Hy jou help as jy bang is? Onthou altyd as jy bang is: Die Here is by my. Hy is baie sterk, en Hy kan my help.

11


3. Jong Dawid en Goliat – 1 Samuel 17 Al die Israeliete is bang vir die grote Goliat. Jong Dawid kom daar aan en sê vir sy broers en die res van die Israeliete: “Moenie so bang wees nie, God is baie groter en sterker as die reus Goliat. Ek sal teen hom veg. God het my al gehelp om ’n leeu en ’n beer dood te maak!” Jong Dawid neem toe sy slingervel en gaan staan voor Goliat. Goliat lag hom uit! Toe sê Dawid vir hom: “Jy kan maar spot. Ek kom in die naam van die Here, die Almagtige.”

12


Dawid tel toe ’n klippie op, sit dit in sy slingervel, en gooi ... Goliat val morsdood neer! Dawid het op God vertrou, en God het hom gehelp.

Soek en Leer Ek wonder of Sammy en Amy die Bybel sal kry. Help hulle gou! Die Bybel leer ons dat God ons help as ons op Hom vertrou.

13


Onthou die Bybelstorie Dit was ’n lekker storie, nè? Vertel weer wat alles gebeur het. Kyk weer na die vorige prent. Hoe voel die soldate? Waarom is daar ’n “dinkwolkie” bokant Dawid se kop? Waaraan dink Dawid?

Sal die Here jou ook help as jy Hom vra?

14


Gebed Here, ek vertrou op U. Mense wat U nie vertrou nie, val soos Goliat. As ek sukkel, sal U my altyd help. Amen.

Aktiwiteit Gaan soek ’n mooi ronde klippie. Skryf daarop: Vertrou God! Bêre dit in jou huis naby die voordeur, waar almal dit kan sien. As jy die klip sien, moet jy onthou dat die Here ons help as ons moeilike dinge moet doen.

15


4. Abigajil en die twee kwaai mans – 1 Samuel 25

Nabal is ’n baie onvriendelike man, maar sy vrou, Abigajil, is baie gaaf! Nabal is ook baie ryk. Dawid se manne het Nabal se veewagters gehelp. Maar toe Dawid se manne vir Nabal kos vra, jaag Nabal hulle weg! Dit maak Dawid baie kwaad. Hy wil sommer met Nabal gaan baklei. Abigajil wil die kwaai manne keer. Sonder dat Nabal weet, laai sy 200 brode, 2 kruike wyn, 5 gaar skape, 5 bakke gebraaide koring, 100 rosyntjiekoeke en 200 pakkies gedroogde vye op donkies.

16


Sy neem dit vir Dawid. Toe Dawid sien hoe gaaf Abigajil is, is hy nie meer kwaad nie. Maar toe Abigajil vir Nabal hiervan vertel, word hy so kwaad dat hy ’n beroerte kry en dood neerval! Aangesien Abigajil vriendelik en goed was, kon sy ’n groot geveg keer.

Soek en Leer Wie kan vir Sammy en Amy help om die Bybel te vind: die hond of die kat? Die Bybel leer ons dat God wil hê ons moet vriendelik en gaaf met mense wees. Daar is niemand soos God nie!

17


Onthou die Bybelstorie Hoe goed kan jy die storie onthou? Wat het die manne gedoen? En wat het Abigajil gedoen? Watter mense in die prent is nog kwaad? Wie is vriendelik?

Abigajil was vriendelik en gaaf, en so het sy ’n groot geveg gekeer.

18


Gebed Here, u goedheid strek tot in die hemel. U is goed en vriendelik teenoor alle mense. Help my om ook altyd so te wees. Amen.

Aktiwiteit Skryf op ’n groot stuk papier: “Wees gaaf met mense.” Plak dit iewers op. Was jy vandag al gaaf met iemand? Gesels met jou broers en susters, en maak planne om vandag gaaf te wees met iemand. Vanaand kan julle vir mekaar vertel wat julle gedoen het.

19


5. Elisa en die blinde soldate – 2 Konings 6:14–23

Die koning van Aram het besluit om Elisa te kom vang. Elisa se werker skrik skoon sy asem weg, want orals waar hy kyk, is daar soldate! Maar Elisa sê: “Toemaar! Daar is meer aan ons kant!” Die Here maak die werker se oë oop en hy sien oral engele. Die soldate storm op Elisa af, maar die Here maak hulle almal blind. Elisa lei hulle tot by die koning van Israel. Toe maak God weer hulle oë oop.

20


Die koning van Israel wil weet wat hy moet doen. Moet hy hulle doodmaak? Elisa sê: “Nee, wees gaaf met hulle. Gee vir hulle lekker kos en drinkgoed, en stuur hulle dan huis toe.” Toe was daar vrede tussen Aram en Israel!

Soek en Leer Soek die Bybel in die prent. Dis nie ver van Sammy en Amy af nie! Die Bybel leer ons om nie te baklei nie, en vriendelik te wees met mense.

21


Onthou die Bybelstorie Waarom het Elisa se werker sy asem weggeskrik? Wat het toe gebeur? Gaan kyk weer na die prent op die vorige bladsy. Elisa lyk glad nie bang nie. Waarom nie? Het die koning na Elisa se goeie raad geluister? Wat het toe gebeur?

Onthou, goeie dade is altyd beter as baklei!

22


Gebed Here, dankie dat U altyd by my is wanneer ek skrik en bang is. Help my om liewer gaaf te wees as om met ander mense te baklei. Amen.

Aktiwiteit Dink aan ’n manier om vrede te maak as jy en jou broers en susters weer baklei. Vra jou ma of pa om julle te help om ’n plan uit te dink, en om julle te help om dit te doen as julle weer kwaad is vir mekaar.

23


6. Skelm Saggeus word gawe Saggeus – Lukas 19:1–10

Skatryk Saggeus was ’n baie kort mannetjie. Niemand in Jerigo het van hom gehou nie, want hy was ’n skelm. Eendag hoor Saggeus Jesus is in Jerigo. Hy wil graag vir Jesus sien, maar daar is te veel mense! Die mense staan voor hom en stamp hom uit die pad. Maar Saggeus maak ’n plan. Hy klim in ’n boom. En toe kon hy alles sien. Jesus het hom ook gesien. Toe Hy onder die boom kom, begin Hy met Saggeus praat.

24


Almal is baie verbaas dat Jesus gaaf is met so ’n ou skelm. Jesus het by Saggeus gaan eet. En Saggeus het besluit om alles wat hy gesteel het, terug te gee. Jesus was baie bly, en Saggeus was gelukkig. Só het Jesus skelm Saggeus verander in gawe Saggeus.

Soek en Leer Almal in die prent kyk na Saggeus. Kan jy sien wie ’n Bybel vashou? Die Bybel leer ons dat Jesus mense help wie se lewe nie mooi is nie.

25


Onthou die Bybelstorie Dit was darem ’n mooi storie! Kan jy onthou wat gebeur het? Vertel.

Jesus sien almal raak. Hy maak mense wie se lewe deurmekaar en sleg is, weer mooi.

26


Gebed Here, elke dag sal ek vir U lief wees, en ook vir ander mense. Ek voel so bly, omdat ek u kind is. U maak alles vir my mooi. Amen.

Aktiwiteit Gesels met jou familie oor hoe Jesus mense verander. Kan een van hulle vertel hoe Jesus hulle verander het? Kan hulle van iemand vertel wie se lewe mooi geword het nadat die persoon die Here Jesus leer ken het? Onthou: Die Here Jesus sien jou ook raak, en is lief vir jou. Hy wil jou lewe ook beter maak.

27


7. Paulus en Silas sing in die tronk – Handelinge 16:16–35

In die stad Filippi word twee van die Jesusvriende, Paulus en Silas, in die tronk gegooi omdat hulle die mense van Jesus vertel het. Teen middernag sing Silas en Paulus vir die Here. Al die mense in die tronk sit en luister. Net toe ruk ’n aardbewing die tronkdeure oop. Almal se boeie raak los, maar almal bly doodstil sit.

28


Die tronkbewaarder het groot geskrik, maar toe sien hy niemand het weggehardloop nie. Hy wil graag in Jesus glo, en Paulus help hom en sy mense daar en dan om Jesusvriende te word. Toe was hy Paulus en Silas se wonde, neem hulle na sy huis toe en gee hulle lekker kos. Paulus en Silas was altyd bly omdat hulle die Here Jesus geken het. Hulle was selfs in die tronk bly daaroor! So het God Paulus gebruik om van meer en meer mense Jesusvriende to maak.

Soek en Leer Help Amy en Sammy om die Bybel in die prent te vind. Die Bybel leer ons dat Jesusvriende selfs in die moeilikste tye kan bid en sing en bly kan wees omdat hulle weet: God sorg vir ons!

29


Onthou die Bybelstorie Wat was vir jou die lekkerste deel van die storie van Paulus en Silas? Blaai terug na die vorige prent. Vertel die storie wat jy daar sien. Lyk Paulus en Silas kwaad of hartseer? Hoe lyk die tronkbewaarder?

30


Gebed Liewe Here, dis so lekker om liedjies oor U te sing! Ek wil U prys so lank as ek lewe, ek wil vir U sing so lank as ek hier is. Amen.

Aktiwiteit Teken ’n prent van mense wat vrolik sing en God prys. Waaroor is die mense bly? Sê: “Dit is goed om vir ons God te sing.” Sing ’n lied waarmee julle God loof. Vandag moet julle ook elke nou en dan vir mekaar sê waaroor julle bly voel.

31


Kopiereg ©2021 Christian Media Publishing Christian Media Publishing Posbus 3228, Matieland Poskantoor, Stellenbosch, 7602, South Africa www.christianmediapublishing.com Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of langs enige elektroniese of meganiese weg weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, bandopname of enige ander stelsel van inligtingbewaring. Reg no 2010/008573/07 Teks: © Ewald van Rensburg Illustrasies: © Magriet Brink Uitleg en ontwerp: Zelda Botha Eerste uitgawe, eerste druk 2021 ISBN 978-1-928437-22-2

’N DRUKNAAM VAN

CHRISTIAN MEDIA PUBLISHING


33


Helde van die Bybel ISBN: 978-1-928437-22-2

www.christianmediapublishing.com


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.