courant 5 Junie 2019
dié
• Bergrivier 1Swartland Weskus & Bergrivier
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
•EJ MAAK GESKIEDENIS
Klein lyfie, groot hart `n Klein mannetjie met `n groot hart het onlangs geskiedenis gemaak vir sy skool, EJ Malgarte in Stompneusbaai. Die twaalfjarige Aston Lewis was die eerste leerder van die skool ooit wat aan `n landlooptipe wedloop deelgeneem het nadat hy vroeg in Mei vir die Patrysberg pretdrafroete oor 5 kilometer aangetree en dit voltooi het. Aston is voorwaar `n baanbreker by hierdie klein skooltjie, wat neffens die Christ The King Anglikaanse Kerk in Stompneusbaai geleë is. Hy het `n medalje en geskenke ontvang vir sy deelname die dag. Aston het self die inskrywingsfooi van R40 bymekaar gemaak en twee dae voor die wedloop aan sy afrigter oorhandig sodat hy kon gaan deelneem. Die draf-gogga het vir Aston gebyt nadat `n nuwe onderwyser, Leon Collison, aan die begin van die kwartaal by die skooltjie begin skoolgee het. Leon, `n boorling van Noordhoek, Laaiplek en woonagtig op Vredenburg, is `n ywerige drawwer en hy het aangebied dat enige kind wat wou, saam met hom kon gaan oefen. Hy glo dat buitemuurse aktiwiteite die kinders besig hou en het al menigmaal gesien hoe kinders se selfdissipline en houding positief verander wanneer hulle aan `n sport begin deelneem. En draf is `n sport waaraan byna enigeen kan deelneem, die drawwer spandeer tyd in die natuur en kan later ook mededingend deelneem. Aston en Leon het twee maal die grondpad oppad Paternoster toe aangedurf maar met nog leerders wat aangesluit het, is die roete verander. Nou het hulle `n splinternuwe strategie – die drawwers, wat gewoonlik bus ry, stuur hulle tasse huistoe met die bus en dan draf die groep almal saam tot by die eerste afklimpunt, Sandy Point Hawe. Die volgende wat afdraai is dié by Steenberg’s Cove en die langste asems gaan tot by West Point Processors, wanneer Leon hulle oplaai tot in Laingville. Langs die roete ry hy ente vooruit en draf dan terug om die kinders langs die pad te ontmoet. In hierdie stadium is Leon slegs vir die kwartaal aangestel, maar daar is hoop dat die tydperk verleng sal word en dit die eerste van baie kwartale by die skooltjie sal wees. En dat die volgende wedloop, kompeterend of vir die pret, sal wemel van deelnemers van EJ Malgarte.
Uitgawe 521
5 Junie 2019
NUUS • NEWS