Generaalsklub' Nuus

Page 1

GENERAALSKLUB NUUS

Desember 2020 Nr. 12

Nuusbrief van die Generaalsklub

van die S.A. Polisie

‘n Geseënde Christusfees en ‘n

Voorspoedige 2021 word u toegebid

ONS LEUSE

Ons deel graag in mekaar se lief en leed Wissel gedagtes oor aktuele sake

Beur mekaar op met boodskappe van geloof en hoop

Lag saam oor humor wat in ligte luim is Maar doen niks wat nie met ons Christelike beginsels versoenbaar is nie

Ons is lede van die Generaalsklub in durf en daad

In hierdie uitgawe

Onderwerp Bladsy

Boodskap van die Voorsitter

Redakteursbrief

Kapelaansbrief

Kersgeskenk van ‘n jonggetroude paartjie

Timour Hall Villa

Brig Henk Heslinga: As die skryfgogga begin byt

Brig Fanie Brits se twee boeke

Daardie toespraak

Bleek geskrik

‘n Ongewone Nasionale Saluut

Onderhoude vir geadverteerde poste

Na ‘n halfeeu steeds dienend

Huweliksklokkies

Suksesresep

Blonde blaps Train commuter chats In Memoriam 1 4 5 6 7 10 24 28 30 31 33 35 35 36 37 38

Boodskap deur die voorsitter

In 1992 het koningin Elizabeth van die Verenigde Koninkryk in 'n openbare toespraak na al die toentertydse moleste in die koningshuis, daardie jaar as volg beskryf:

1992 is not a year on which I shall look back with undiluted pleasure. In the words of one of my more sympathetic correspondents, it has turned out to be an annus horribilis.

Johan Burger

Die jaar 2020 is nog nie heeltemal verby nie maar ons kan reeds met oortuiging verklaar dat dit ook vir ons 'n annus horribilis was, meer as net 'n buitengewone jaar. Ek weet nie hoeveel van ons lede of moontlik familie van ons lede die Covid-19 virus opgedoen het nie maar ek bid vir almal wat siek was sterkte en beterskap toe. Ons bekendste slagoffer van die Covid-19 virus is natuurlik generaal Johan van der Merwe. Hy was in 'n stadium baie siek en ons is diep dankbaar dat hy reeds byna volkome herstel het.

Maar 2020 was nie 'n slegte jaar net as gevolg van die Covid-19 virus en gepaardgaande beperkings op ons lewens nie. Erg soos dit was met ontberings aan sosiale interaksie, familie-byeenkomste, vrye beweging en die verpligte dra van maskers in die openbaar, om maar net 'n paar te noem, maar die wêreld rondom ons het ook al hoe verder verval. Ons ekonomie was reeds lank voor 2020 in die moeilikheid maar die nasionale ramptoestand en gepaardgaande inperkings het dit wat oorgebly het tot 'n nuwe laagtepunt gevoer. Net tyd sal leer of en in watter mate die ekonomiese herstelplan van president Ramaphosa, wat hy op 15 Oktober in die parlement aangekondig het, die ekonomie gaan red.

Dan is daar die ontsaglike maatskaplike gevolge van die ekonomiese agteruitgang. Miljoene mense het hulle werk en inkomste verloor en moet op maatskaplike toelae en ander hulp staatmaak om te oorleef. En hierdie is nie 'n toestand wat oornag gaan verander nie. Ons weet ook dat terwyl die meeste arm mense hulle nie aan misdaad skuldig maak nie is daar

1
Dr.

geweldig baie navorsing wat 'n duidelike verband toon tussen misdaad en die 'verdwyning van werk'. En ons sit reeds met 'n misdaadkrisis.

Ernstige en geweldsmisdaad styg byvoorbeeld al sedert 2012 jaar op jaar en alles dui daarop dat die drywers van hierdie misdade, onder meer die maatskaplik-ekonomiese faktore, nog vir 'n taamlike tyd met ons sal wees.

Die strafregstelsel is tans onder geweldige druk hoofsaaklik as gevolg van die skade wat deur 'n dekade van staatskaping veroorsaak is. Enersyds is die vermoë van veral die polisie en die vervolgingsgesag doelbewus verswak met aanstellings wat daarop gerig was om 'n netwerk van korrupte politici, senior staatsamptenare, 'sakemanne' en verskeie ander persone te beskerm. Andersyds is hierdie instellings nou onder druk nie net omdat die omkeerproses sedert verlede jaar besig is om 'n nuwe en meer geloofwaardige leierskorps te vestig nie, maar ook oor die omvattende ondersoeke en vervolgings van diegene wat deel was van die grootskaalse plundering van die staat.

Vir ons as oud-polisielede is dit veral die verval en agteruitgang in die polisie wat ons soms met 'n gevoel van matelose ongeloof laat. Ons ken baie van die redes, onder andere die aanstelling van mense in senior poste waarvoor hulle hoegenaamd nie geskik is nie en 'n beleid van regstelling wat tot die punt van absurditeit geforseer word. Voeg daarby die groeiende elemente van oneerlikheid en selfverryking en ons het 'n resep vir chaos en mislukking. Die gevolge hiervan sien ons in die onvermoë van die polisie om 'n daadwerklike verskil in die stygende vlakke van misdaad te maak en les bes die groeiende aantal senior offisiere wat gearresteer word weens korrupsie, bedrog en verskeie ander klagtes.

Teen hierdie agtergrond is dit moeilik om enige positiewe goed raak te sien. Maar daar is tog enkele ligpunte in hierdie donker tonnel van slegte nuus en wanhoop. Byvoorbeeld, ten spyte van al die geregverdigde kritiek teen president Ramaphosa is hy besig om teen die weerstand van baie in sy eie party 'n baie sterk anti-korrupsie agenda te dryf. En die steun hiervoor binne die ANC is besig om geleidelik toe te neem. Dit versterk natuurlik Ramaphosa se posisie aansienlik. Ons moet ook toegee dat Ramaphosa se aanstelling van adv. Shamila Batohi in 2019 as hoof van die

2

Nasionale Vervolgingsgesag en lt.genl (dr /adv ) Godfrey Lebeya in 2018 as nasionale hoof van die Valke die begin was van 'n ontwikkelende omkeerproses by hierdie instellings.

Daar is ook aanduidings dat die skoonmaakproses binne die polisie kan lei tot die implementering van baie van die konstruktiewe aanbevelings in die Nasionale Ontwikkelingsplan. Dit sluit in 'n nuwe benadering ten opsigte van die aanstelling van die nasionale kommissaris en sy of haar adjunkte. Daarbenewens is daar sterk ondersteuning vir die evaluering van offisiere in sleutelposte ten aansien van hulle geskiktheid. Verder is sommige van die prosesse en kriteria met betrekking tot indiensneming en aanstelling ook ingesluit in die konsepwysigingswet op die SuidAfrikaanse Polisiedienswet van 1995.

Die feit dat Suid-Afrika tans ontsaglike ekonomiese uitdagings die hoof moet bied skep ook enorme geleenthede. Die meeste lande, insluitende die sogenaamde ontwikkelde en gevestigde ekonomieë stoei ook maar met die nagevolge van die Covid-19 pandemie. Almal is gretig om weer ekonomies op koers te kom en dit skep geleenthede. Ons moet dit net aangryp. En namate die ekonomie herstel en groei sal dit ook groot armoede verligting met gepaardgaande maatskaplike voordele teweeg bring.

Maar die beste nuus is dat dit binnekort Kersfees is waar ons rondom die herdenking van Jesus se geboorte weer die blye boodskap kan hoor en deel. Miskien moet ons ook weer in hierdie tyd daaraan herinner word dat ons bekommernisse en ons toekoms en ook die toekoms van hierdie land uiteindelik in die hande van ons Hemelse Vader is. Kom ons vertrou Hom daarmee.

'n Baie geseënde Kersfees aan almal en mag ons, veral aan die einde van so 'n uitsonderlik moeilike jaar, Sy liefde en vrede in oorvloed ervaar.

Dr. Johan Burger November 2020

ooOOoo

3

Redakteursbrief

Ons voormalige Nasionale Kommissaris, George Fivaz, se kenmerkende groetwoord: “Is jy nog heel?”, kom nog gereeld by my op. Ten spyte van ‘n paar stampe en stote kan ons darem antwoord: “Ja, deur die Genade van Bo is ons nog redelik heel!”

In hierdie uitgawe kan u onder andere ietsie sien oor twee Kersverhale, ‘n artikel oor Timour Hall en twee oud-brigadiers se skryftalent. Dit is nogal waar dat sommige polisiebeamptes na hul aftrede ontluik in gerekende skrywers. Per slot van sake het ons die soet en die suur, die lag en die traan van die lewe in al sy fasette beleef en ervaar. As polisiebeamptes in hul aftreejare terugdink aan alles wat hulle beleef het, is daar ‘n magdom insidente wat hulle kan neerpen. Of dit nou waarheid of fiksie is, die verhale sal onteenseglik geïnspireer word uit dit wat hulle in die Mag ervaar het.

Daar is ook ‘n penskets van genl.maj. Theo Kleinhans. Meeste van ons het seker al onverwagte probleme ervaar wanneer ons iewers ‘n toespraak moes aflê. Ook ‘n juweel van ‘n storie toe Johan Burger en Hein Kilian in 1972 twee inbrekers op heterdaad betrap het. Daar is ook ‘n legende van ‘n Generale Saluut wat skeefgeloop het en huweliksklokkies wat weer eens by een van ons lede gelui het.

Met die naderende Kerstyd, wonder baie van ons oor die geskenke wat ons vir ons geliefdes kan gee Oorweeg gerus die boeke wat brigadiers Henk Heslinga en Fanie Brits gepubliseer het. Dit sal beslis ‘n goeie Kersgeskenk wees wat elke lid (of sy gade wat hom of haar deur die jare ondersteun het) sal herinner aan die jare wat hy of sy in die Mag gehad het. Mag u en u geliefdes ‘n Geseënde Christusfees en ‘n voorspoedige 2021 tegemoetgaan.

Johan Ferreira (Redakteur) ooOOoo

4
Johan Ferreira

Kapelaansbrief

ʼn Eietydse Kersverhaal

(na aanleiding van die evangelies Matteus en Lukas)

In die donkerte van ʼn vervalle woonstelblok sit Maria –slegs 15 jaar oud – alleen in haar klein klam kamer. Josef het haar so pas vir die nag kom groet. Na sy vertrek is die kamer skielik helder verlig. Voor haar staan ʼn glimmende soldaat. Hy vertel haar dat sy die draer is van die seun van God. Dit sal nie net haar lewe verander nie, maar ook die lewens van talle ander mense … meer as wat sy haarself kan indink. Hiermee het Maria ʼn probleem: “Ek het nog nooit met ʼn man geslaap nie … nie eens met Josef nie. Al my vriende sê ek moet hom in die bed kry, maar hy weier”. Dan word sy onderbreek: ”Maria, moenie die krag van God onderskat nie, want vir Hom is niks onmoontlik nie”.

Soos die dae, weke en maande verbygaan word Maria se swangerskap al meer opvallend. Al hoe meer mense vermy haar. Sy is net nog ʼn geval van die groeiende statistiek oor tiener swangerskappe. Behalwe Josef –wat aangesê is om by Maria te bly – glo niemand haar storie nie. Die kamertjie wat Josef huur, is muf en koud en is boonop in ʼn buurt wat mense ten alle tye moet vermy. Maar dit is al wat die jong egpaar kan bekostig. Vir seker nie ʼn plek vir die geboorte van ʼn Koning nie. En vir seker nie die geboorteplek van ʼn baba wat die gang van die wêreld moet verander nie.

Op die geboortenag verskyn dieselfde helder lig aan ʼn prostituut wat daar inwoon. Haar werk vir die nag is afgehandel. Haar beroep word as laag én veragtelik beskou. Haar lewe het uitmekaar geval. Gekonfronteer deur die heerlikheid van die soldaat bedek sy haar gesig. Sy glo haar einde het aangebreek. En dan hoor sy: “In hierdie eenvoudige woonstelblok is so pas die hoop van die wêreld gebore … ʼn seuntjie wat eendag alles sal verander en vir miljoene mense soos Josef en Maria hoop sal bring”. Oor die volgende paar jaar sou Josef en Maria swoeg om aan die lewe te bly. Vreemde mense daag by hul op om die Kind te sien. En hulle bring geskenke – goud vir ʼn koning; wierook vir ʼn priester; en mirre vir Iemand wat aan ʼn skandpaal sou sterf.

5
Dr. Jan du Preez

Mag elkeen van ons in die opregte eenvoud van die Kersverhaal – saam met ons geliefdes – ʼn geseënde Christusfees vier en geniet.

Jan du Preez

A Modern Day Christmas Story by Gareth McMillan –http://www.zaphodmcmillan.com

ooOOoo

Kersgeskenke van ‘n jonggetroude paartjie.

Martiens en Susanna is ‘n jonggetroude paartjie.

Nadat hulle maandelikse verpligtinge nagekom is, het hulle maar bitter min geld oor – om nie eers te dink aan die Kersgeskenke wat hulle vir mekaar wil koop nie.

Ten spyte van hul armoede het hulle, met sterre in hul oë, nes geskop in hul beskeie woonstelletjie.

Hulle kon nog geen luukshede of spaargeld bymekaarmaak nie, maar hulle het elkeen ‘n kosbare item.

Martiens het ‘n goue sakhorlosie wat eers aan sy grootoupa, toe aan sy oupa, daarna aan sy vader en uiteindelik nou aan hom behoort. Dis is ‘n trotse familie erfstuk wat al van die vierde geslag aan hom oorgedra is.

Susanna het weer ‘n blink, welige en gesonde haredos wat tot by haar knieë hang. Sy het dit nog nooit voorheen korter laat sny nie.

Dis Oukersaand en dit raak laat vir Susanna om vir Martiens ‘n Kersgeskenk te gaan koop.

Sy wil baie graag vir Martiens ‘n goue ketting vir sy sakhorlosie koop, maar al die kettings wat sy in die winkelvensters te siene kry, is te duur vir die bietjie geld wat sy het.

'Sy hardloop gou terug na hul woonstel, skud haar pragtige bos hare los en gaan staan voor die spieël. Net daar besluit sy om haar hare te verkoop sodat sy genoeg geld bymekaar kan maak vir die goue horlosieketting.

6

Sy gaan vinnig na ‘n salon en verkoop haar kosbare hare en ontvang net genoeg geld om die ketting te gaan koop.

Toe Martiens van die werk af kom, bekyk hy vir Susanna en wonder wat so anders is aan haar. Sy vertel hom dat sy haar hare verkoop het om vir hom ʼn Kersgeskenk te koop.

Voordat Susanna die goue ketting vir hom kan gee, haal Martiens ‘n toegedraaide pakkie uit sy sak en gee vir Susanna die Kersgeskenk wat hy vir haar gekoop het.

Susanna maak die pakkie oop en sien die pragtigste stel eksotiese, ingevoerde tonikums, vergulde kamme en silwer borsels wat sy al so lank begeer het.

Susanna kyk weg, pik haastig die trane uit haar oë, omhels hom en oorhandig haar geskenk aan Martiens – die goue horlosieketting.

Martiens laat sak sy skouers, val op die ou rusbank neer en vertel toe vir Susanna dat hy sy goue horlosie verkoop het om vir haar geskenk te betaal .......

Daar is nogal ‘n ooreenkoms tussen Martiens en Susanna se geskenke met dié wat die wyse manne vir die Christuskind in die krip gebring het. Mens kan wel wonder of Martiens en Susanna se geskenke nie dalk meer beteken het as dié van die wyse manne nie ... hulle geskenke is uit hul liefde vir mekaar en uit persoonlike opoffering gegee.

Met apologie aan O. Henry vir die inspirasie uit sy kortverhaal

The Gift of the Magi wat in 1905 in The New York Sunday World verskyn het. Johan Ferreira ooOOoo

Timour Hall Villa

Talle van ons lede, veral die Kapenaars – en besoekers aan die Kaap – het al die trappe bestyg na die bekende Timour Hall Villa in Plumstead.

Dit is die imposante Kaaps-Hollandse herehuis wat deur die IPA in die moederstad bedryf word. Afgesien van die feit dat dit ‘n gesogte

7

gastehuis vir besoekende polisieoffisiere aan die Kaap is, word dit ook as ‘n swierige onthaal-venue gebruik.

Tydens parlementsittings was dit die hoogtepunt van ons sessieamptenare om daar deur ons Kaapse kollegas onthaal te word. Dit was ‘n jaarlikse instelling wat met die kenmerkende gasvryheid en swier van die IPA-lede aangebied is.

Die verhaal van Timour Hall het in 1765 begin toe Johan Georg Lochner van Mannheim in Duitsland hom in Kaapstad gevestig het. Hy was aanvanklik ‘n soldaat maar het hom mettertyd gevestig as ‘n wamaker en later ook as kleremaker.

In 1790 het hy eiendomsreg teen aan die Swartrivier in Rondebosch bekom. Hy het ‘n welvarende en gesiene burger van die Kaap geword.

Hy is twee keer getroud en tussen die twee eggenotes is veertien kinders gebore. Een van sy nasate was die bekende Helene Johanna Lochner, ‘n skrywer en illustreerder van kinderboeke.

Om vir sy groot gesin te sorg, het hy later bykomende grond in die hedendaagse Plumstead aan die Dieprivier bekom en ‘n woonhuis en buitegeboue opgerig. Aanvanklik was dit ‘n gewone Kaapse woonhuis.

Na Lochner se dood het die eiendom gereeld van eienaar verwissel en is daar ook telkens aanbouings en veranderings deur die onderskeie eienaars aan die oorspronklike geboue aangebring.

Die bekendste inwoner van Timour Hall was Sir Percy Fitzpatrick, die skrywer van die klassieke boek, Jock of the Bushveld.

Deur die jare is daar onder andere ‘n Kaaps-Hollandse gewel, ‘n portiek en ʼn imposante stel trappe wat deur die stoep na die voordeur lei aangebring. Die voor- en agterkant van die woning beskik oor ‘n dubbele stel trappe met ‘n uitgeboude erker-venster aan die agterkant.

Meeste van hierdie aanbouings is deur Aletta Jacoba Smith aangebring. Sy was die kleindogter van William Duckitt, die patriarg van ‘n prominente Kaapse familie. Sy het die eiendom in 1878 gekoop en dit Timour Hall Villa genoem. ‘n Groot gedeelte van die oorspronklike landgoed moes met die verloop van die jare plek maak vir die immer groterwordende Kaapstad.

8

Daar is talle buitegeboue, waenhuise, stalle en ook ‘n deftige saal vir danse en onthale.

Die laaste privaat eienaar van Timour Hall, was ‘n dr. Pheiffer, ‘n geneesheer wat in die Kaap gepraktiseer het. Sy weduwee kon later nie meer die eiendom onderhou nie en het dit in die sestigerjare aan die Kaapse Provinsiale Administrasie verkoop.

Die Kaapse Provinsiale Administrasie het destyds beoog om ‘n skool op die gronde te vestig, maar het blykbaar van plan verander en in plaas daarvan is ‘n kwekery op die gronde gevestig.

Timour Hall is in 1977 as ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar, maar die ou gebou het stelselmatig sy glorie weens onbruik en ‘n gebrek aan instandhouding verloor.

Timour Hall is in die middel-1980s aan die IPA (Internasionale Polisie Assosiasie) verhuur, wat dit as ‘n gastehuis en plek vir funksies en ander geleenthede ingerig het. Die reuse taak om die gebou te restoureer moes

9
Timour Hall Villa

egter op die IPA se koste gedoen word. Dit was onderneem onder die bekwame toesig en leiding van die welbekende argitek, mnr. Gawie Fagan.

In April vanjaar, as gevolg van die Covid-pandemie, was daar sprake dat die IPA nie meer kon voortgaan om die plek te bedryf nie, maar ‘n nuwe bestuur is in April 2020 deur die IPA verkies en hulle het gelukkig besluit om daarmee voort te gaan.

Op 1 Augustus 2020 het Timour Hall sy deure, onder die bekwame bestuur van mnr Reece Harvey en sy vrou Sabine van die IPA, weer oopgestel.

Johan Ferreira

Ontleen uit https://ipasafrica.co.za/main/houses/timourhall/

ooOOoo

As die skryfgogga begin byt

Deur Brigadier Henk Heslinga1

Henk Heslinga

My Storie

Om mee te begin. Ek skryf net in Afrikaans. Ek is ʼn storieskrywer. Ek skryf nie vir enige letterkundige erkenning nie en my leserskorps is die middelklas wat van ‘n goeie storie hou. Ek het geen regse aanhang nie, nog minder is ek ‘n rassis, maar ek is versot op en is vol bewondering op ons land se vervloë helde met hul roemryke verlede en dis hulle wat my aanspoor om stories te skryf.

My ouers het in Groningen in Nederland gewoon. My pa was deel van Insulinde Koffie en Tee, hulle familie besigheid en fabriek. My oupa was die eienaar en my pa en sy tweelingbroer het daar gewerk. Hulle het koffie en tee van oor die wêreld ingevoer, dit verpak en dan weer in Nederland en in die aangrensende lande versprei. Volgens my kennis was dit ‘n goeie besigheid en my ouers

1 Henk Heslinga se selnommer is 082 872 2311 en sy eposadres is henkheslinga48@gmail.com

10

en hul familie was welgesteld. Die familie het groot eiendomme in Groningen besit asook twee vakansiehuise op Ameland met ‘n uitsig oor die duineveld en die verraderlike en meestal stormagtige Noordsee.

Toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit. Nederland het na twee dae se gevegte oorgegee en is toe deur die Duitse weermag binnegeval en beset. My pa het aktief aan die ondergrondse versetstryd teen die Duitsers deelgeneem. Einde se kant van die oorlog is hy deur die Duitsers gearresteer en in die tronk in Groningen gegooi as gevolg van sy betrokkenheid by die Nederlandse Ondergrondse Beweging. My pa het ‘n geheime radiosender in hul huis bedryf en het as ‘n koerier opgetree om boodskappe na Engeland en na die Franse Versetbeweging te herlei en te versprei. My pa was ‘n hele paar maande in die tronk. Ek besit steeds sy hout-tronklepel.

Na ‘n hewige stryd het die Kanadese met die inval van die geallieerde magte in Europa my pa en sy mede gevangenes uit die tronk bevry.

Terug by die huis en na die vrede was daar niks oor van die familie se fabriek en die besigheid nie. Al die masjinerie en voorraad was deur die Duitsers gesteel. Ekonomies was Nederland ten gronde. Daar was nie geld nie en my pa en sy familie moes weer van voor af begin. Daar was nie geld om te leen nie. Koffie en tee was moeilik om in te voer en die familiebedryf het gesukkel om ‘n bestaan te maak.

Op 18 Februarie 1948 is ek in die Groningen Siekehuis gebore.

Vir my pa het Nederland sy kleur van rykdom en voorspoed verloor. Soos baie Nederlanders van daardie tyd na die oorlog wou my pa uit Nederland padgee. Hy en my ma het besluit om te emigreer. Hulle wou ‘n nuwe bestaan gaan maak. Suid-Afrika toe het hulle besluit, na my ma se jongste suster wat toe reeds daar woon.

Gedurende April 1950, op tweejarige ouderdom het ek saam met my ouers en twee ouer susters op die Edinburgh Castle vanaf Southampton Engeland vertrek na die Unie van Suid-Afrika. Ons het in Kaapstad aan wal gegaan waar my ma se jongste suster en haar man ons ingewag het. My oom was die distriksgeneesheer op Dibeng in die Noord-Kaap en hy het voorgestel dat my pa ‘n besigheid of ‘n winkel daar begin want daar gaan myne in die gebied oopmaak. My pa het egter ‘n aantreklike werkaanbod uit Pretoria ontvang wat hy toe eerder aanvaar het.

11

My ouers het hulle in Wonderboom-Suid in Pretoria gevestig en ons het later jare na Waverley verhuis waar ek ‘n stigtersleerling van die Hoërskool Staatspresident C. R. Swart was.

Na die Republiekwording op 31 Mei 1961 was ons die eerste immigrantefamilie wat burgerskap van die Republiek van Suid-Afrika van die destydse hooflanddros van Pretoria ontvang het.

As kind en jong seun was ek altyd gespot as ‘n “Kaaskop” en daar was maar altyd by die skool en by die kerk so half neerhalend na die immigrante en hulle kinders gekyk wat ek dink ‘n baie bitter pil vir my ouers moes gewees het om te sluk. My ousus is Tukkies toe en word toe in haar eerstejaar as Joolkoningin gekroon wat ons aansien ‘n groot hupstoot gegee het.

Toe sy haar graad behaal en my ander sussie ook met ‘n paar onderskeidings universiteit toe gaan word daar gepraat van die immigrante-ouers met hulle slim kinders, ekke natuurlik uitgesluit.

My pa wou graag in die kerkraad dien, maar die stoere broeders van die kerkraad van Totiusdal se Gereformeerde Kerk met predikant Wimpie de Klerk het dit botweg nie toegelaat nie. Geen immigrant mag op die kerkraad dien nie en my pa se naam het nooit op die stembriefies verskyn nie.

Hier staan ek as minderjarige wat tydens die insweringseremonie hierdie twee reëls van die Stem moes opsê: “Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra. Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou Suid-Afrika.”

Al hierdie negatiewe dinge het ek as jong kind gesien en ervaar en ek het ‘n passie ontwikkel om as ‘n Afrikanerseun geïdentifiseer en gesien te word. Ek het Afrikaans by die huis met my ouers gepraat en met my twee ouer susters het ons huistaal gou na Afrikaans verander. Ek het enige

12

vorm van Nederlandse tradisies verpes en toe ek ouer word, het ek my van alle Nederlandse funksies soos Oranjedag, Sint-Nicolaasdag en ander tradisionele kulturele byeenkomste gedistansieer.

Dit was maar moeilik om die “Kaaskop” skelnaam heeltemal te ontsnap, maar toe ek by die SA Polisie aangesluit het, was dit vir my ‘n geleentheid en het ek myself voorgeneem om as ‘n Afrikaner aan te sluit en dat ek nie meer onder die ou skelnaam van “Kaaskop” verpes en gesien wil word nie.

My loopbaan in die S.A. Polisie.

Henk as ‘n student-konstabel in die Polisiekollege

Op 11 Januarie 1965, op sestienjarige ouderdom, het ek by die Suid Afrikaanse Polisie aangesluit. Troep 31, F-kompanie met kaptein de Klerk aan die stuur, het vir my gewag met sersant Isak Potgieter as die troepsersant. Ek was daar vir 12 maande opleiding. Ek het van die gedissiplineerde en geordende lewe van die kollege gehou en my opleiding terdeë geniet. Voetdril en skietkuns was vir my lekker asook die wetstoepassingsklasse wat my die geheime geleer het hoe om ‘n polisieman te wees. Die weke en maande het verbygevlieg en vroeg in Desember 1965 het ons op die Wanderers in Johannesburg as volwaardige polisiemanne uitpasseer.

My eerste stasie was Brooklyn, daarna Bronkhorstspruit en toe Silverton uniformtak. Dieselfde jaar het ek my meganiese kursus in Benoni geslaag, aangebly vir ‘n swaarvoertuiglisensie en daarna het ek en sewe ander lede ‘n Saracen instandhouding en bestuurderskursus deurloop. Dit was ‘n belewenis vir my om so ‘n reuse pantservoertuig te kon bestuur.

In 1967 is ek na Gingindlovu in Zululand verplaas waar ek kuspatrollie moes ry van die Tugelarivier mond tot by Richardsbaai wat in daardie tyd net ‘n sandduin was. Dit is waar Goldreich en Wolpe van ʼn duikboot met ʼn rubber dingy aan land gegaan het. Ek is toe genomineer om vir 18 maande lid te word van die destydse Wildebeeste onder die bevel van

13

brigadier Pat Dillon van Hoofkantoor Pretoria om in Rhodesië en SuidWes Afrika te gaan grensdiens doen.

Ons is deur stafsersant J. C. Ueckerman van 1-Tempe Valskermbataljon en nog drie ander instrukteurs in die kollege en in die veld rondom Skurweberg opgelei. Daarna het ons per pad met nuwe weermag “Big Daddies” en baie voorraad na Rhodesië gereis. By Llewellyn Barracks het ons ‘n oriëntasiekursus deurloop en is ons in Rhodesiese kamoefleerdrag uitgedos. Ek het ondermeer by Kasangula, die Saracen-seksie waarmee ons patrollie gery het en Vic Valle, toe bekend as Sprayview diens verrig en as ek reg kan onthou was ek toevallig by die Vic Valle lughawe toe ons gehelp het om generaal Wouter Grové - ek dink hy was toe ‘n luitenantse huismeubels uit die Flossie op die Big Daddies te laai.

Daarna het ek vir 8 maande in die Zambezivallei by Ambush Bay aan die Zambezirivier asook by Chirundu hoofkantoor diens verrig. Die malaria het onder ons geroer want die kinien pille was darem te bitter om te drink. Ek het ook malaria opgedoen en was baie siek en is na die Sinoya hospitaal vir behandeling uitgevlieg, maar het dit darem oorleef.

In die laaste ses maande het ek diens verrig op Katimo Mulilo in die Caprivi Zipfel met die gevreesde majoor Karools Mouton as die basisbevelvoerder. Ons hoofkantoorseksie het baie saam met hom patrollie op die kaplyn gestap en hy het nie einde gehad nie. My plek was altyd die een voorste verkenner, mooi uitgewerk want dan hoef ek nie LMG te gedra het nie. Die majoor het nie nonsens verdra nie en dit was net bekhou, jou ding doen en aanstap. Dit was wonderlike tye in my lewe waarop ek versot was en na die 18 maande in die bos was dit vir my nogal ‘n hengse aanpassing om weer tussen mense te wees.

Die lewe en gevare in die bos asook die ryke ondervinding wat ek as ‘n jongman in die vegtende Rhodesië opgedoen het, het ‘n blywende indruk op my gelaat wat ek diep binne in my gekoester het. Dit was mooi en romantiese tye en die avonture en vasbyt in die bos het gou my seunskind jare van my af weggeneem en my in ‘n jong, fikse en parate konstabel verander.

Soos my ma tereg opgemerk het: “My seun jy was 18 jaar oud toe jy hier weg is en nou na al die maande in die bos het jy as ‘n man teruggekom.”

14

Gedurende 1970 het ek ‘n speurderkursus deurloop, my sersant eksamen geslaag en is as ‘n proefspeurder by Potchefstroom speurtak aangestel. Toe ek my adjudant-offisier eksamen in 1974 slaag is ek Rustenburg speurtak toe verplaas. In 1980 is ek na Seshego in die destydse Lebowa polisie oorgeplaas om opleiding aan die speurders te verleen.

In die latere jare van my loopbaan het ek weer verskeie kere grensdiens in Ovamboland en in Rhodesië gedoen en as ‘n speurder het ek vir 6 maande saam met die BSAP se Special Branch by Marondellas op die noord-oostelike grens teen Mosambiek diens verrig. Kolonel Goosen van Port Elizabeth was ons bevelvoerder. Wat ‘n fantastiese offisier en leier was hy! Ons het ons tyd daar terdeë geniet. Nog ‘n era van ondervinding wat ek binne in my kon opgaar het.

In 1981 het ek offisier geword en is as die bevelvoerder van Sanab te Pietersburg aangestel. Einde 1982 het ek vir 18 maande ‘n draai by Koevoet gaan maak. Oorlede luitenant Frans Conradie het my gewerf. Ons was saam in die bos en het altyd saam gedraf. Ons het in Oshakati gewoon. Eers was ek bevelvoerder van ZM en daarna groepsbevelvoerder van ZE, ZM en ZF. Die terroriste het Ovamboland vanuit Angola met mening binne gedring. Ons Koevoet groepe het opdrag gekry om 20 kilometer in Angola vir spore te soek, hulle te agtervolg en uit te wis.

Hulle moes daar gestop word. Ek was in die weste ingedeel met Ruacana as hoofbasis.

Daar was verskeie suidelike infiltrasies van Swapo waar ons saam met Swapol op hulle spore gehardloop het tot anderkant die rooilyn. Ek was ‘n langafstandatleet en het toe reeds verskeie Comrades gehardloop. Ek het dit geniet om voor saam met die spoorsnyers op die spoor te hardloop en dis waar ek geleer het om ‘n spoor te kan lees, te soek as hulle begin te ”back track” en om te koes as die skote begin te klap.

Die laaste paar maande was ek saam met kaptein Wit Willem Botha, generaal Dreyer se skoonseun, by die ondervragingseenheid betrokke. Daar was min om te doen, die meeste terroriste was reeds dood en om besig te bly het ons elke dag Ondangwa toe gery om by die lugmag se baan te gaan muurbal speel.

15

Die ondervinding en gevegsblootstelling wat ek as offisier by Koevoet opgedoen het, is onvergeetlik en het diep spore in my menswees getrap. Daarna was my realiteite en die uitkyk op die lewe heel anders. As offisier was ek trots daarop, ek kon my man staan, vinnige en die regte besluite op misdaadtonele neem en daarby bly staan.

Ons was ‘n handjievol offisiere, ek dink ons was 12, wat Koevoet in sy vroeë bestaan en in sy volle glorie beleef het. Van ons kon ongeskonde van Oshakati wegry terug “States” toe en Ovamboland agter ons laat, maar ander was nie so gelukkig nie en is met lelike littekens en seerplekke terug “States” toe.

Soos die jare verbygaan het Koevoet se belewenisse in my vervaag en die visioene van die wrede en skrikwekkende doodslag waarmee ons heeltyd moes saamleef het uit my drome begin padgee. Die lewe het weer begin normaliseer en ek kon ongehinderd met my loopbaan as offisier in die Polisie voortgaan. Koevoet het my as offisier laat staande bly, my geslyp en gelouter en ek kon met trots daarmee saamlewe.

Middel 1983 is ons terug “States” toe en het by Silverton en Pretoria Moot speurtak gewerk. Daarna is ek na Pretoria Sanab verplaas en gedurende 1985 is ek deur generaal Basie Smit na Soweto verplaas. Wat hy gedink het ‘n straf vir my was, was die beste ding wat met my as persoon en vir my loopbaan gebeur het. Eers was ek takbevelvoerder van Jabulani speurtak en is in Februarie 1986 as tweede in bevel by Soweto Moord-enRoof aangestel.

Ek het Soweto geniet en het die hartjie van die onluste beleef. Soweto het gebrand. Politieke moorde soos die van dokter Asvat, die Stompie Sepeimoord en nog talle ander het ons besig gehou. Passasierstreine is deur ‘n Derde Mag in ‘n doodsakker verander, afleweringvoertuie is gekaap en aan die brand gesteek en meeste van die drywers is geskiet of met klippe doodgegooi. Dit was klipgooi, winkels plunder en aan die brand steek, moorde is op straat en op die treine gepleeg - alles onder die dekmantel en vaandel van die ‘struggle’ .

Halssnoermoorde het voorgekom en ek was in so ‘n bevoorregte posisie dat ek tydens so ‘n halssnoermoord ‘n volledige sterfbedverklaring van die slagoffer kon afneem en wat volledig opgeneem is deur die video-

16

eenheid. In die hooggeregshof van Johannesburg, na my getuienis en die video opname wat vir die voorsittende regter gespeel is, is bevind dat die sterfbedverklaring en video opname aan al die wetlike vereistes voldoen en is as getuienis aanvaar. Drie manlike beskuldigdes is ter dood veroordeel en die 17 jarige meisie wat die binneband vol met petrol om die oorledene aan die brand gesteek het, is weens inherente boosheid vir 30 jaar tronk toe gestuur.

Moord en doodslag in Soweto was aan die orde van die dag. Dis was iets verskrikliks gewees. Verminkte lyke van vrouens en kinders is langs die spoorlyn opgetel wat uit bewegende treine gegooi is. Die trauma onder die inwoners wat aangeval en vermink is het sy tol geëis. Dit het in ‘n bloederige anargie en woedevlae ontaard - net om in opstand teen die wit regime te kon kom. Dit alles net vir die ‘struggle’.

Gelukkig het my pantser gehou. Koevoet het my hard gemaak. Die wreedhede het my nie getraumatiseer nie. Ek het geweet hoe voel en klink dit as daar van naby op jou geskiet word. Ek het geweet hoe klink geweerskote as dit naby jou klap en ek het geweet wat om te doen en hoe om terug te skiet as jou lewe in gevaar was. Dan was ek bly dat Koevoet in my lewe was wat my daardie vaardighede geleer het wat ek kon gebruik om my en my kollegas se lewens te kon help beskerm.

Vandag kan ek trots daarop wees dat ek deel was van ‘n handjievol speuroffisiere van Soweto Moord en Roof wat gedurende daardie gruwelike onlustejare staande kon bly en steeds onder uiters moeilike omstandighede ‘n hoë standaard van werk kon lewer en om ongeskonde anderkant te kon uitkom.

Gedurende 1989 met die grootskaalse inval van die Swapo magte in Ovamboland het ek vrywillig weer 4 maande diens op Ruacana gaan verrig. Die tydjie daar was hard en wreed en ons moes op die spore van groepe tot 180 terroriste hardloop, maar gelukkig het daar vrede gekom anders sou daar baie van ons jong polisiemanne onnodig in die stof gebyt het.

Gedurende 1991 is ek met die rang van luit-kolonel na die departement van Justisie gesekondeer as hoofondersoeker van die Goldstone Kommissie. Ek het baie gereis en was die land vol met verskeie

17

ondersoeke. Ek het generaal Grové by Boipatong gekry toe hy die toneel kom besoek het. Ek het in 1992 die weermag se geheime inligtingskantoor DKI en die BSB se kantoor in Pretoria blootgelê en het saam met regter Goldstone en die kantoor die toekenning van nuusmaker van die jaar deur die Pretoria Persklub ontvang. Ek het daarna besluit ek wil terug SAP toe gaan. By hoofkantoor aangekom was daar ‘n warboel want heelwat generaals het skielik bedank en generaal Grové het hom oor my ontferm en my as bevelvoerder by Pretoria Moord en Roof aangestel.

My twee en ‘n half jaar as bevelvoerder van Pretoria Moord-enRoofeenheid was heel anders as my tyd in Soweto. Die aanvaarding as bevelvoerder, die lojaliteit teenoor jou en die vriendskappe onder die kollegas was nie altyd daar nie en die skaduwee van Hoofkantoor se kritiese oë het soos ‘n groot sambreel oor my en die eenheid gehang. Alles wat op die eenheid gebeur het, is aan hoofkantoor oorgedra wat gereeld konflik veroorsaak het. Ek was nie gewoond aan sulke tipe kollegas nie, maar het vasgebyt en my ding as bevelvoerder vreesloos gedoen.

Misdaadgewys was dit ook heel anders gewees. Die aggressiewe misdade het plek gemaak vir meer fyn en gesofistikeerde beplande moorde soos die Heyns moord, die Porsche moord en die van Loggerenberg liefdesdriehoek moord asook die skoenveter moord waar ‘n eiendoms magnaat met ‘n skoenveter deur ‘n prostituut en haar broer verwurg is. Die steeds geheimsinnige en onopgeloste moord op die Du Plessis egpaar wat terwyl hulle geslaap het, oorval is en met messe dood gesteek is. Die man 34 keer gesteek en die vrou 18 keer. Die homoseksuele moord op dokter Pretorius van Medunsa en nog vele ander.

Blatante transito rooftogte van geldwaens het gereeld voorgekom en was met militêre presisie en met ‘n hoë lewensverlies deur sindikate van tot 40 gewapende mans sterk, beplan en uitgevoer, die pantserwaens met springstof oopgeblaas en met die geld gevlug. Vragmotors met hul duursame vragte is deur roofsindikate haarfyn agtervolg en gekaap en baie van die vragte is oor ons landsgrense heen gesmokkel en daar verkoop.

In 1995, op versoek van die Malawiese regering was ek deur die destydse nasionale kommissaris George Fivaz as leier van ‘n groep deskundiges aangestel om die moorde op 4 ministers 17 jaar gelede, met die ondersoek

18

te gaan help. Die destydse premier van Malawi dr. Hastings Banda, sy lewensmaat en nog 5 ander ministers was daarvoor aangekla. Die verdediging het op lykskouings aangedring om so die oorsaak van dood van die oorledenes te kon vasstel. Daar was voorheen nooit lykskouings in Malawi uitgevoer nie en daar moes eers ‘n volkstemming gehou word sodat die vermoordes vir ‘n lykskouing opgegrawe kon word. Ons kon al die liggame vind en uitgrawe en forensies laat ondersoek. Die patoloog dokter Patricia Klepp wat deel van die span was, het bevind dat al vier is as gevolg van kopbeserings dood, vermoedelik deur knopkieries toegedien en nie as gevolg van beserings opgedoen in ‘n motorongeluk soos beweer is nie. Die voertuigwrak en die toneel van botsing is ook deur ons opgespoor en deeglik ondersoek en daar is bevind dat die skade aan die wrak aangerig in die sogenaamde botsing nie die beserings en dood van die oorledenes kon veroorsaak het nie. Alhoewel ons almal getuienis in die hooggeregshof van Malawi in Blantyre gelewer het, is die saak teen dr Banda en enige een van sy medebeskuldigdes voor uitspraak van die rol verwyder.

Die reeksmoorde van David Sithole was vir my uitstaande en as bevelvoerder het ek en dr. Micky Pistorius van Hoofkantoor alle tonele besoek, dit herkonstrueer en geanaliseer om haar te help sodat sy haar profiel samestelling van die moordenaar kon doen.

Die afgryse en wreedheid van ‘n reeksmoord, die eensame manier êrens in ‘n oop veld waarop die oorledene tot haar einde moes kom het ook ‘n blywende indruk op my gemaak. Hoe word jy ‘n reeksmoordenaar? Word jy so gebore of gebeur daar iets in jou kop dat jy een word? Wat is die dryfveer wat jou so iets laat doen en wat gaan in so ‘n persoon se denke aan as so ‘n moord beplan word? Dis van die onbeantwoorde vrae wat by my bly spook het. Ek het bly wonder, hoekom, hoe gebeur so iets?

Ek is daarna tot brigadier bevorder en as bevelvoerder van ‘n oorgrenseenheid aangestel wat met behulp van duursame satelliet tegnologie en toerusting wat aan ons rekenaarstelsel gekoppel was. Onder die vaandel van Interpol en SARPCO het ons overte operasies saam met die verskillende polisiemagte in al die SADC lande gehou om geroofde en/of gesteelde voertuie te identifiseer en op beslag te lê. Daar was oor die tydperk van 4 jaar ongeveer 2400 vragmotors en voertuie dwarsdeur die

19

SADC lande geïdentifiseer en op beslag gelê wat deur die betrokke assuransiemaatskappye hetsy plaaslik verkoop of terug na die RSA gerepatrieer is.

April 1999 het generaal Suiker Britz die diens verlaat en is ek deur generaal Manie Schoeman as waarnemende komponentshoof in die pos aangestel. Na 35 diensjare en 31 jaar as ‘n speurder het ek op 31 Desember 1999 met die rang van brigadier die diens met ‘n vrywillige uitdienstredingspakket verlaat.

Ek is ‘n direkteurspos in die maatskappy Agri Inspec aangebied wat deel van die melkprodusente organisasie was en het forensiese ondersoeke in die landboubedryf gedoen. Ek het in die smokkelhandel van suiker begin spesialiseer wat ek vir 16 jaar gedoen het. Die ondersoeke het my vrylik in ons land en buurlande laat reis. Ek het onder meer ondersoeke vir die Suid-Afrikaanse Suiker Assosiasie, TSB Malelane, Huletts en Illovo gedoen en was vir 18 maande in Tanzanië en Zanzibar betrokke om die smokkelnetwerke van die suiker smokkelsindikate daar te identifiseer. Ek het op talle opslagplekke afgekom waar duisende tonne suiker deur die sindikate gestoor en versteek was afkomstig van Pakistan, Indië, Bangladesh en Brazilië. Ek het ook ‘n smokkeroete per skip vanaf Kenia via die eiland Themba na Zanzibar en van Zanzibar na Bagamoyo op die Tanzaniese vasteland blootgelê waar tonne onwettige suiker die land ingebring is.

In 2005, een oggend vroeg toe ek by die werk in Val de Grace stop is ek deur rowers oorval en van my eiendom beroof. Ek het my verset, ‘n hewige geveg het ontstaan en ek is toe met ‘n mes bygedam dat die wonde onder narkose deur ‘n ortopeed geheg moes word. Die Post-traumatiese stres-sindroom het my oorval waarna ek bedank het. Ek en my vrou het ons in 2006 op ons wildplasie by Tshipise by Musina gaan vestig.

As forensiese konsultant is ek gedurende 2016 gevra om ‘n ondersoek na die melk en roomysbedryf in Zambië te doen. Ek het weer ‘n ondersoek in Zambië gaan doen waar melkpoeier as dierevoeding vanuit die Oekraine deur Beira hawe ingesmokkel is. Ek kon so tonne melkpoeier identifiseer waarop die invoerder die korrekte invoerbelasting van die waarde moes betaal. Daarna het ek weer ‘n ondersoek na die smokkel van suiker dmv die omseiling van doeane regulasies vanuit die RSA en

20

Swaziland na Mosambiek gedoen. Ons het weer ‘n draai in Namibië met die suiker gemaak wat na Angola gesmokkel word en in Julie 2019 was ek deur Illovo versoek om ‘n ondersoek in Malawi te kom doen wat my vir 4 maande besig gehou het.

oOOo

Boeke deur my geskryf en gepubliseer

Chimurenga

Kaptein Martins en sy eenheid volg die spore van die groep terroriste, bekend as die Krokodille wat Hilda se ouers op hul plaas langs die Zambesirivier vermoor het. Hulle vind die terroriste se basis wat hulle totaal en al vernietig, maar die bevelvoerder met die gevegsnaam Tiger oorleef die aanval en vlug terug na Tete waar sy hoofbasis is.

Hilda besluit sy wil terugkom na haar geboorteplaas en rig ‘n kliniek daar op ter ere van haar ma. Sy verrig wondere onder die plaaslike inwoners en word die Wit Engel genoem. Tiger kry opdrag om haar te ontvoer en sy en haar verpleegster word as gyselaars te voet na hulle hoofbasis in Tete in Mosambiek geneem.

Dit ontaard vir haar in ‘n marteltog deur die bos. Henk en sy eenheid gaan doen hulle verkenning en beplan om haar en haar verpleegster uit die kloue van die klomp terroriste te ontset.

oOOo

Omnibus

Die boek bevat spannende verhale oor vervloë misdaad, vol met drama en aksie, maar anders as wat die koerante en nuusdekking dit destyds uitgebasuin het. Rondom die werklike is ‘n fiksie verhaal opgedis. Die Kerkstraatbom en die ontploffing by die Johannesburgse landdroshof en spoorwegstasie bom en nog vele ander interessante verhale is opgedis. Die gebeure agter die skerms, wie die beplanners was en wie die bomme geaktiveer het, is oor nagevors en oor geskryf. Hulle latere lewe en hoe

21

die lang arm van die gereg hulle tot aan die einde toe agtervolg en telkemale suksesvol toegeslaan het.

oOOo

Bloedwolf

Die windverwaaide Wes-Transvaalse dorpie Swartruggens word geruk deur ʼn afgryslike wrede moord van ʼn swart prostituut agter in die skrootwerf van die spoorwegstasie. Haar naakte liggaam is tussen ʼn stapel ou dwarslêers gevind met haar keel is van oor tot oor oopgesny. Speurder adjudant-offisier Klein Daan Steenkamp van die Rustenburgse speurtak word deur sy distrikspeuroffisier gestuur om te gaan kyk wat daar aangaan. Die moord skok hom en wat hy op die toneel waarneem maak ʼn blywende indruk op hom.

oOOo

Muishond – Sinopsis

Tshiholo die Muishond is ‘n slu en gemene kalant, net soos sy naam beweer. Hy is vreesloos en wreed en sy haat stu in hom op soos ‘n oorkokende vulkaan vir die mense wat hom vir 12 jaar in die tronk laat beland het. Sodra hy uit die tronk gelaat word, gaan hy en sy 3 getroue tronk bendevriende hulle opspoor en laat betaal – hulle gaan smeek en roggel in hulle eie bloed. Sy venynigheid laat jou na jou asem snak.

Majoor Jaap le Roux, bevelvoerder van die Moord en Roofeenheid in Pietersburg is bekend vir sy vernuf om die mees geslepe misdadigers op te spoor. Sal hy kan uitvind waar hierdie gewetenlose moordenaar en sy drie meelopers volgende gaan toeslaan?

Ek kan met trots sê dat ek hierdie boek aan generaal-majoor Suiker Britz opgedra het.

oOOoo

22

Bloedgoud - Sinopsis

Majoor Jaap le Roux, die bevelvoerder van die Moord en Roofeenheid te Pietersburg word na die toneel uitgeroep en hy en sy span neem die ondersoek oor. Timothy en Zimba se identiteit word vasgestel asook die plek waar die moorde plaasgevind het en hulle word voorgelê.

Timothy met die bynaam The Boss en Zimba sy jarelange vriend en ook ‘n Zama-zama myner uit Zimbabwe het hulle rykdom in ‘n verlate goudmyn in Eerstegoud naby Pietersburg gevind. Hulle gaan huur nog mynwerkers in Zimbabwe wat ‘n komplot teen hom en Zimba smee om hulle te vermoor en om die myn te vat.

Timothy-hulle kom dit agter, skiet die drie dood en gooi hulle in ‘n veld naby Potgietersrus.

Timothy en Zimba word in die ou myn vasgekeer en veroorsaak ‘n ontploffing wat baie ernstige gevolge vir Jaap en sy kollegas inhou. Zimba word ook gedood in die ontploffing en na ‘n lang gesukkel en nog moorde vind Timothy sy pad terug na Zimbabwe.

Daarna vind daar heelwat verwikkelinge plaas wat die leser sal laat regop sit. Timothy word deur Jaap-hulle gearresteer maar word uit aanhouding ontset en vlug weer die wêreld vol totdat die lang arm van die gereg hom inhaal.

--ooOOoo--

Slotwoord

Groete, van Henk en Hanlie Heslinga Henk en Hanlie Heslinga

Een ding wat fantasties is en dit is om vir die eerste keer jou eie boek in jou hand vas te hou met die wete, my ou maat, dis myne en ek het hom geskryf. Gaan probeer dit. Miskien word ‘n treffer gebore.

Nou is ek 72, sit ek by die huis en probeer boeke skryf.

23

NS. My vrou het in November 2018 na 41 jaar diens waarvan 28 jaar as ‘n speurder met die rang van luitenant-kolonel afgetree en is nou in Musina in die gastehuisbedryf.

ooOOoo

Brigadier Fanie Brits2 se twee boeke:

Dit is makliker om dit aan brigadier Fanie Brits oor te laat om sy boeke in sy eie woorde bekend te stel:

:::::

Beste genl. Johan

Ek beskou myself as uiters bevoorreg dat jy die ekstra myl stap om myself, en ‘n sinopsis van my boeke in die Generaalsklub se nuusbrief van Desember 2020 bekend te stel. Dit word hoog op prys gestel.

Ja, my twee boeke, In die skadu van die galg en Op pad na die galg, wat ‘n duologie vorm, is ‘n reis na gister. Die boeke fokus op opsienbare moordsake wat in die Wes-Kaap plaasgevind het, die Moord-en-Roofeenheid van die Wes-Kaap en om die lede van dié eenheid, onder andere lt.genl. Nick Acker, op die voorgrond te plaas.

Dit vorm ook ‘n geheelbeeld van my as mens en as ‘n Moord en Roofspeurder wat die fokus laat val op die kultuurgeskiedenis en kriminele profiel van ons land.

Brigadier Fanie Brits

My subjektiewe mening is dat die inhoud van my twee boeke geloofwaardig, georden en objektief is, sonder om eie mening te negeer oor die wyer spektrum van polisiëring.

Terugvoering wat ek van lesers van die boeke ontvang het is dat hulle aanklank vind by my skryfstyl en dat dit helder, toeganklik en meesleurende leesstof is. Menings wat reeds aan my oorgedra is, is dat die boeke lees soos

2 Fanie se kontakbesonderhede is soos volg: Tel.021 919 2939 en sy eposadres is fansu@telkomsa.net

24

uitstekende fiksie, al is dit rillers. Daar is ook genoem dat die boeke oor dokumentêre en navorsingswaarde beskik.

‘n Biografie oor myself is as volg:

Nadat ek in 1964 by die Polisiemag aangesluit het, het ek ‘n droom geleef om ‘n top speurder te word.

Ek moes geduldig vir ‘n jaar wag (ek was nog nie 21 nie) voordat ek in 1968 na speurdersersant bevorder is nadat ek intussen ‘n meganiese en speurderkursus deurloop het. Ek het in 1972 ‘n offisiers-kursus deurloop nadat ek in 1970 my adjudant-offisiers eksamen geslaag en as Takbevelvoerder van Natalspruit (later Katlehong) aangestel is.

Ek was uiters geseënd aangesien ek sedert 1965 met my dienstydperk aan die Oos-Rand, diens gedoen het as bevelvoerder of adjunk-bevelvoerder tot ná my uitdienstrede.

Aan die einde van 1978 is ek kortstondig na Bellville as speurtakbevelvoerder verplaas, toe ek opdrag gekry het om as eenheidsbevelvoerder van SANAB, Kaapstad, waar te neem.

In Junie 1980 is ek na die Moord-en-Roof eenheid te Bishop Lavis verplaas waar ek as ondersoekbeampte en bevelvoerder tot die einde van 1989 diens gedoen het.

Te midde van die lang ure wat ek as ‘n speurder in al die vertakkinge van die speurdiens, veral die Moord-en-Roofeenhede moes werk, het ek myself ook akademies bekwaam en die grade BA (Pol) en Honneurs BA aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf.

Ek is toe - saam met ‘n kollega - op ‘n drakoniese wyse aangekla in ‘n saak waaroor ek in die laaste hoofstuk van my tweede boek skryf. Ons was vrygespreek - nie onskuldig bevind nie - wat ‘n drama van leuens!

Ek is toe aangestel as die distrikspeuroffisier van Bellville en later Stellenbosch distrikspeuroffisier. Met bevordering tot die rang van brigadier en na ‘n senior bestuursontwikkelingskursus te Graaf Reinet het ek diens gedoen as MBO van die Suid-Skiereiland toe ek in 1994 medies ongeskik bevind is.

25

Ek is toe nadergetrek vir 6 jaar diens as voorsitter van die Bellville GPF. Ek was ook bevoorreg om as areabestuurder diens te doen vir Statistiek SA en munisipale, provinsiale en nasionale verkiesings.

Ek beskou myself as ‘n “survivor” wat ‘n onheilige magspel oorleef het!

Om terug te kom na die twee boeke.

In die eerste boek, In die skadu van die galg, is die doodstraf 13 keer opgelê aan moordenaars waarin ekself die ondersoekbeampte was.

Die een saak wat nooit uit my geheue gewis sal word nie is die Veritymoorde. Shaun Vaughn Verity het uit jaloesie sy dogtertjie en sy vrou, ‘n skoonheidskoningin, se koppe met ‘n rooikrans-stomp inmekaargeslaan en hulle toe met ‘n matmes van oor-tot-oor keelaf gesny het. Daar was baie drama met betrekking tot die ondersoek van die saak, totdat die adjunk-prokureur generaal ingegryp en ek opdrag gekry het om die saak de novo te ondersoek. (Sien foto Fig A).

In die tweede boek, Op pad na die galg, skryf ek 6 hoofstukke oor vrouemoordenaars, onder andere die Marlene Lehnberg- en Marthinus

26
Figuur A: Links Janet Verity – Figuur B: Regs Tamsyn Verity

Choegoe- oftewel die berugte skêrmoordsaak wat deur lt.genl. Nick Acker ondersoek was.

Omdat ek eerstehandse kennis van die bendekultuur het, skryf ek ‘n hele hoofstuk daaroor - ‘n bielie van ‘n boek van 551 bladsye waarin ek ook ‘n wrede plaasaanval en ‘n gefnuikte plaasaanval daarin beskryf.

‘n Uitstaande hoofstuk in die tweede boek is die Kruisboog-moordwaaroor ek ‘n jaar lank navorsing gedoen het. ‘n Helleveeg van ‘n moordenares wat skotvry daarvan afgekom het toe sy haar eerste man doodgeskiet het. Sy skiet haar tweede man in sy slaap dood en dit kom na vore dat sy haar 12 jarige dogtertjie ingespan het om haar te help om van sy liggaam in die Liesbeekrivier ontslae te raak.

Chatburn se liggaam nadat dit uit die Liesbeekrivier verwyder is met die pyl duidelik sigbaar

Geskiedenis word gemaak toe haar man se liggaam - reeds in ‘n stadium van ontbinding - gevind word en sy vingerafdrukke op ‘n unieke manier geneem en sy identiteit sodoende vasgestel word. Dit is vanselfsprekend dat ek afsluiting en berusting moes vind met betrekking tot die Guguletu 7-saak wat teen my grein, aan my opgedring was om te ondersoek.

27

Die linkerhand se afgestroopte vel wat oor prof. Knobel se hand getrek is om Graham Chatburn se vingerafdrukke te neem.

Ja, en natuurlik die hel wat ek en my familie moes deurmaak toe ‘n senior offisier ‘n saamgeflanste dossier met sameswerings teen my ondersoek het om my loopbaan kort te knip.

Bogenoemde gebeure word in hoofstukke 17 en 21 in die boek beliggaam.

Generaal Johan, dit is maar ‘n lang relaas, maar baie dankie weer eens.

Groetnis

Fanie Brits.

“‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop”. Spr. 16:9

ooOOoo

Daardie toespraak

Genl.maj. Theo Kleinhans

Uitnodigings na amptelike geleenthede in die Tuislande is op gereelde basis by hoofkantoor ontvang. Daarin is die kommissaris uitgenooi om 'n besondere geleentheid by te woon.

Wanneer sy dagboek dit nie moontlik maak nie het hy dan gewoonlik 'n ander generaal afgevaardig om die funksie te vervul.

Die uitnodiging om na 'n sekere tuisland te gaan vir 'n

28

amptelike parade het ongeveer 1993 aangekom. Die geleentheid was die terug-verwelkoming van die tuisland se kandidaat-offisiere vanaf die Suid-Afrikaanse opleidingsentrum waar hulle as nuwe luitenante opgelei is.

Die kommissaris kon (of wou?) nie die geleentheid bywoon nie en hy het my afgevaardig om dit by te woon. Ek was in daardie stadium ‘n generaalmajoor en Hoof, Personeelinstandhouding, maar steeds betrokke by die sekonderings en ander aangeleenthede met die Tuislande.

Die uitnodiging het bloot gelui dat die kommissaris se teenwoordigheid verlang word as gas by die geleentheid. Aangesien dit altyd die eggenotes ingesluit het, het ek en Ester die vorige dag vertrek en in 'n nabygeleë hotel tuisgegaan. Dit was een van vele soortgelyke geleenthede en roetine. Die parade sou 10:00 die volgende dag plaasvind.

Die volgende oggend het ons na die dorpie gery. Ons was bietjie vroeg aangesien ons eers in die dorp by ‘n apteek wou aandoen. So kwart oor nege ry ons verby die stadion waar die parade later sou plaasvind. Daar staan toe baie voertuie en ons hoor die militêre orkes speel. Ons ry nader en sien dat die parade al ingemarsjeer en opgestel is voor die pawiljoen.

Op die podium is die hele kabinet sitgemaak.

Ons kry sitplek 'n entjie vanaf die podium en wag maar dat die parade sy verloop neem. Inderhaas kom die (gesekondeerde) kommissaris van die polisiemag na my aangedrafstap – hoog gestres. Ek moet dadelik na die podium kom want die hoofminister gaan aanstons die gaste verwelkom en dan is dit tyd vir die hooftoespraak.

Tot my skok vertel hy my dat ek die hoof funksionaris is en die toespraak moet lewer wat die nuwe offisiere aan hulle gemeenskap moet voorstel –synde dat hulle by die Suid-Afrikaanse Polisie opgelei is, is hierdie geleentheid waar hulle nou as volwaardige offisiere voorgestel word!

Aangesien ek nie as funksionaris uitgenooi is nie het ek nie eens 'n sabel aan nie – net die Sam Browne. Ek keer vinnig 'n jong luitenant voor wat verbyloop en "konfiskeer" sy sabel wat ek inderhaas aangespe.

By die podium stel die hoofminister my aan die skare voor en oorhandig

29

die mikrofoon aan my. Ek trek los en maak 'n toespraak van ongeveer 20 minute uit die vuis uit oor die voortreflike lede wat so goed gedoen het in hulle kursus. Gelukkig was ek daardie in stadium die voorsitter van 'n herintegrasiekomitee wat die samevoeging van die elf polisiemagte voor die 1994 verkiesing moes beplan. Ek is vol van statistieke en beleide wat alles net beter gaan maak!

Die Hoofminister en kabinet was heel ingenome op die funksie agterna en niemand het ooit my inhoud van my "toespraak" bevraagteken nie.

Alhoewel ek later in hoofletters met die kommissaris gesels het weet ek tot vandag nie waarom die parade vervroeg is en waarom die uitnodiging so onvolledig by hoofkantoor aangekom het nie.

Genl.maj. Theo Kleinhans ooOOoo

Germiston 1972. Nagskof. Ek en sersant Johan Burger3 is aan diens.

Dié van ons wat in Germiston gestasioneer was, sal weet dat daar nooit ‘n tekort aan aksie was nie. Germiston is ‘n baie goeie leerskool vir enige jong polisieman. Misdaad was ook maar aan die orde van die dag en veral besigheid- en huisinbrake het gereeld voorgekom.

Daardie jare het meeste van die sakepersele alarms gehad wat maar net ‘n lawaai gemaak het. Sommige alarms was darem aan ‘n bord by die polisiestasie gekoppel.

Inbrake het meestal plaasgevind deur toegang te kry om ‘n ingang oop te forseer of deur ‘n venster en soms deur die dak. Die kans was maar so vyftig-vyftig om iemand op heterdaad te betrap.

Dié spesifieke nag gaan daar ook ‘n “stil” alarm af, en dit nogal in Presidentstraat - die hoofstraat van Germiston. Johan en ek jaag toe na die perseel en met ons aankoms vind ons niks verdag voor die gebou nie.

3 Deesdae ons geagte voorsitter (Red.)

30

Soos dit twee goeie polisiemanne betaam, ondersoek ons die toneel deeglik en in ‘n gangetjie agter die perseel sien ons toe ‘n verdagte persoon besig om goedere aan te vat wat iemand van binne af aangee.

Die twee jong manne

Hein Kilian en Johan Burger

Ons bekruip die ou toe terwyl hy die buit aanvat. Hy is druk besig om met die persoon aan die binnekant te gesels. Sonder dat hy agterkom dat ons hom bekruip, gryp Johan die man en druk sy mond toe. Ons sien toe daar is ‘n gat in die muur gekap en twee hande wat van binne af ‘n klomp gesteelde goed aangee, wat ek dadelik aanvat en op die hoop langsaan neersit. Die man aan die binnekant gesels al die tyd en ek ‘yebo’ buite en hou aan vat en pak die goedere op die hoop.

Toe alles uiteindelik aangegee is, begin die ander ou van binne af uitkruip en ek verleen nogal ‘n helpende hand.

Die volgende oomblik, al geselsende, staan die klong toe so tussen my, Johan en die ‘buite helper’ en hy kyk op.

Om die uitdrukking van verbasing in daai ou se gesig te kan sien, kan geen geld ter wêreld koop nie…. Man, dit is die eerste keer in my lewe dat ek ‘n swart ou sien bleek word in die donker!

Daai gesig sal ek nooit vergeet nie…!!

Bydrae deur kolonel Hein Kilian, en genl.maj. Johan Burger

ooOOoo
‘n Ongewone Nasionale Saluut

Iewers het ek die storie gehoor ... ek kan nie onthou wie dit vir my vertel het nie en ek is ook nie juis seker of daar enige waarheid in die storie steek nie.

Miskien is dit een van daardie “urban legends” wat maar in elke organisasie die rondte doen. Die bron is altyd onbekend en niemand kan

31

sweer dat dit werklik gebeur het nie. Ooggetuies sal ook nooit na vore tree om te getuig dat dit wel gebeur het, of nie.

Maar, terwille van die humor versprei ek dit maar verder:

Destyds het die polisie nog net een vastevlerk-vliegtuig gehad ... 'n Cessna wat nie juis hoog kon vlieg nie ... en ook nie juis baie vinnig nie.

‘n Sekere generaal (onbekend) met sy aide-de-camp en ander personeel het met die Cessna vanaf Pretoria na iewers in die hinterland gevlieg om 'n polisiestasie te gaan open. Die vlug het vier- of vyf uur geduur.

Toe die geselskap uiteindelik by hul bestemming neerstryk, was hulle bra moeg van die lang en die stamperige vlug.

Die generaal het gou sy Sam Browne en swaard aangegord, want hy is vooraf gewaarsku dat ‘n erewag met orkes en al by hul aankoms op hom en sy geselskap gewag het.

Toe die generaal van die trappies uit die vliegtuig tree, kom die erewag flink op aandag. Die bevel Generale Saluut - “presenteer geweer” word gegee en die orkes trek los."

32
Die Cessna

Tydens die afklim, struikel die generaal oor sy swaard en val met sy volle seremoniële uniform, kaplaks op die grond neer ...... maar hy hou kop ..... en maak geskiedenis .... hy is die eerste generaal wat die saluut in ‘n lêende posisie en plat op sy rug, beantwoord.....

Glo dit of nie - besluit maar self!

ooOOoo

Onderhoude vir geadverteerde poste

In die nuwe Suid-Afrika was dit my twyfelagtige voorreg om as die adjunk provinsiale kommissaris in Pietersburg te beland.

Dit was die hooggety van transformasie, “equity, representivity en affirmative action.” In die eerste jaar van my dienstyd in Pietersburg, was my taak feitlik voltyds om poste te adverteer, kortlyste op te stel en in panele te sit om onderhoude met applikante te voer. Inderdaad was ek deur die provinsiale kommissaris belas met die reëlings om ‘n nuwe polisiediens uit die vier voormalige polisiemagte in die provinsie tot stand te bring.

Dis seker te verstane dat almal wat op die keuringspanele gesit het, hard geargumenteer het om “hul” kandidate op die kortlys vir die senior poste te kry. In die Noordelike Provinsie – nou Limpopo - was daar kandidate van vier voormalige polisiemagte, naamlik die SAP, Lebowa, Gazankulu en Venda wat gekeur moes word om in die top-poste aangestel te word.

Nepotisme, stamgebondenheid en politiek het nogal ‘n groot rol gespeel. Sommige kandidate wat deur hul voormalige kommissarisse voorgestoot is, was helaas nie altyd geskik of opgewasse om in die vakante poste aangestel te word nie. Maar bekwaamheid of geskiktheid was nie juis deur hul promotors in ag geneem nie.

Dit was maar ‘n vervelige werk, maar iemand moes verantwoordelik daarvoor wees. Wat vergoed het vir die sleurwerk, was die talle komiese insidente tydens sulke onderhoude, veral as die kandidaat geen benul gehad het wat van hom gevra is nie.

33

Op ‘n dag was die keuringspaneel besig om onderhoude vir ‘n pos ‘n Thohoyandou te voer.

Toe die eerste kandidaat voor die paneel instrompel, ruik ons sommer dadelik lont. Die man is beslis nie “alleen” nie en gisteraand se brandewyn en vanoggend se “russians en chips” gemeng met die aroma van die regmakers wat hy net voor die onderhoud “gevat” het, het soos ‘n swaar gordyn om hom gehang. Hy is ook al te vriendelik en glimlaggend soos ons almal se beste maatjie.

Tydens sulke onderhoude sien mens baie soorte kandidate, dié wat oorloop van selfvertroue, die gladdebekke en ook die manne wat met stomheid geslaan word ....

Om alles te begin, heet die voorsitter “sy” kandidaat welkom en bedank hom vir sy teenwoordigheid. Een van die paneellede val toe weg met ‘n vraag oor die skorsingsbeleid en prosedure wat gevolg moet word, ensovoorts.

Die kandidaat lyk soos ‘n gans wat na die swaar weer kyk, stotter en stamel en het nie die vaagste benul wat om te antwoord nie.

Een van die paneellede kon dit nie langer verduur nie, en vra vir die kandidaat:

Vraag: “Do you take a drink?”

Antwoord: “Yes Sir, occasionally”

Vraag: “When did you have your last drink?”

Antwoord “I think last night, Sir.”

Vraag: “How many times a night do you take a drink .... once or twice?”

Antwoord: “Thrice.”

Johan Ferreira ooOOoo

34

Na ‘n halfeeu steeds dienend

Vyftig jaar gelede (1970) was hulle saam op offisierskursus. Vandag na al die jare stap hulle nog die pad saam: Hennie Westraat, Nick Snyman en Wouter Grové in Oktober 2020 aan die werk op die bestuursvergadering van die Wes-Kaap Generaalsklub. Wat ‘n genade!

Huweliksklokkies

Terwyl hierdie uitgawe al by die drukkers was, moes ons dit inderhaas kanselleer omdat ons pas verneem het dat lt.genl. Mike Bester en mev. Linda Lourens stil-stil en tydens ‘n privaatseremonie op 23 Oktober 2020 in die huwelik getree het.

35
ooOOoo
Dankie aan genl.maj. Wouter Grové wat hierdie foto met ons deel.

Baie geluk aan Mike en Linda en ons bede vir julle is dat jul bootjie altyd in kalm waters sal vaar. Mag jul huwelik geseën wees met vreugde, geluk en voorspoed.

Mike en Linda op die heuglike dag ooOOoo

Suksesresep

Lodewyk, ‘n groenteboer, was maar ‘n ruwe diamant. Een jaar wen hy die trofee by die kerkbasaar vir die beste groente.

Toe die dominee die beker aan hom oorhandig vra hy: "Waaraan skryf u die sukses van u mooi groente toe?"

36

“Hoendermis,” sê Lodewyk.

Later roep die dominee Lodewyk se vrou eenkant: "Mevrou, u kan gerus u man leer om ‘bemesting’ te sê, dit klink darem aaklig om van ‘hoendermis’ op groente te praat”.

"Wat bedoel u?" vra die Lodewyk se vrou verbaas. “Weet jy hoe lank dit my geneem het om hom so ver te kry om ‘mis’ te sê?”

ooOOoo

Blonde blaps

Griet kry werk by 'n skoonmaakagentskap en word na die Hoogenboesem gesin se deftige woning gestuur. Daar laat val sy per ongeluk 'n geblomde vaas en dit spat aan skerwe.

"Daardie vaas was 300 jaar oud!" roep mev. Hoogenboesem ontsteld uit.

“Dankie tog" sug Griet. “Ek dog dis 'n nuwe vaas.”

ooOOoo

Train commuter chats

Catching the train home one evening after work, my husband and two of his colleagues shared a pair of seats facing each other with a stranger. My husband was telling his friends a long story, but they kept interrupting.

After some time, the stranger turned to one of the men and in a frustrated tone said, "Will you please let him finish? I get off at the next station."

ooOOoo

An elderly woman attentively watched a chewing gum chomping train passenger sitting opposite her. After several minutes, she said to him: “It’s really nice of you to chat with an old woman, but I'm very hard of hearing."

ooOOoo

37

In Memoriam

Mev. Nellie Gloy van Pretoria, weduwee van wyle genl.maj. Hans Gloy is op 15 September 2020 oorlede. Sy was 82. Sy word oorleef deur haar seun, André en dogter Alta.

Ons innige simpatie word aan haar familie en naasbestaandes betuig.

Wyle genl. Hans en mev. Nellie Gloy

38
ooOOoo

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.