Nongqai Vol 15 No 9A - Genl-maj BJ du Plessis

Page 1


BEN SE MEMOIRES: “2 PLUS 5 PLUS………” = (BEN EN CORRIE; PLUSKOBUS, ANTON, WERNER, CHRISTO, NICO PLUS……)

Deur: Ben du Plessis

2016

‘n KORT WOORD VOORAF

Brig HB Heymans – Redakteur van die Nongqai

Alles het as ‘n spanpoging begin. Lt-genl Johan Ferreira het genl-maj Ben du Plessis se skryfwerk onder die aandag van Nongqai gebring. Aanvanklik het brig (dr) Hannes Strydom vir my hierdie manuskrip geleen. Die uiteinde is ek het vir dr Hannes Strydom en genl Du Plessis vir ontbyt genooi en vir toestemming gevra om hierdie e-Boek selfs in verkorte vorm te publiseer. Die Generaal het met sy familie oorleg gepleeg en Nongqai kon toe toestemming kry om die hele publikasie as ‘n eBoek te publiseer.

Die Generaal het ‘n besondere knap stukkie werk gelewer. Die werk is van geweldige kultuurhistoriese belang. Die Generaal is ‘n dekade ouer as die redakteur en dit is werklik van belang om te sien hoe die SA Polisie deeglik vanaf die 1950’s beskryf word. Toe was daar nog regte Magalle (voetmanne) en Bosluise (beredemanne) in die Mag. Die outeur vertel van die hoofkonstabel met die swart/blou uniform dra met die wit petoortreksel. (Onder-offisiere en konstabels het swart pette gedra.)

Die “ou manne” het my vertel as hulle hof bygewoon het, moes hulle in uniform getuig en met hoofdeksel die getuiebank betree en die voorsittende beampte salueer. Tydens die aflegging van die voorgeskrewe eed is die hoofdeksel verwyder en daarna weer opgesit. Na die lewering van getuienis is die voorsittende beampte weer gesalueer.

Hierdie werk is belangrik omdat die skrywer die etos van die SA Polisie pragtig beskryf en in die praktyk uitleef. Daar is so baie om van te leer en kennis van te neem. Hy beskryf die ontwikkeling en opleiding van lede en offisiere van die SA Polisie in detail.

Ek het baie gesukkel om die tipografie van ons twee se verskillende rekenaars met mekaar versoen te kry. Daar was baie setfoutjies – dis natuurlik die rekenaars se skuld! Ek vra verskoning indien daar klein setfoutjies ingesluip het wat ek nie raakgesien het nie.

Om af te sluit: Mens voel trots op die voormalige SA Polisie se diensrekord soos verwoord deur genl Ben du Plessis. Onwillekeurig dink ons: Nou watter faktore het gelei wat die toestand waarin die polisie tans verkeer? As mens die stuk lees en dan kom ons agter daar is geen plaasvervanger vir byvoorbeeld: dissipline, stiptelikheid, lojaliteit, diensbaarheid, eerlikheid, integriteit en werkywer is nie. Om polisieman te wees is veeleisend – die Mag het eerste in ons lewens gekom en ons moes al ons tyd tot beskikking van die staat gestel het. Die generaal het ‘n eed geneem tydens attestasie en hy het sy woord gestand gedoen.

“Ons vir jou Suid-Afrika” kom duidelik in die stuk na vore. Nongqai wens die Generaal geluk met die publikasie want dit gee vir ons ‘n besonderse kykie na die verlede. Die Generaal het toestemming gegee dat die e-Boek in navorsing gebruik mag word. Ons dank aan die Generaal!

DIE SKAKEL – THE LINK

https://nongqaimy.sharepoint.com/personal/archive_nongqai_org/_layouts/15/guestaccess.aspx?share=EdB55 nXHbwhFonsSQ106r3UBx6IPR5m6Hjos-2qtxjYrzA&e=yfuqyT

Klik op die skakel om oop te maak en af te laai. Click then on the link to open.

INLEIDENDE VOORWOORD

Genl-maj

BJ du Plessis

My kinders het by verskeie geleenthede, wanneer ons gesellig bymekaar gekuier het tydens ons aftreejare, ons gesprekke in die rigting gestuur van wat ons as ‘ou mense’ in ons lewens ervaar het. Die gesprekke het dan onwillekeurig by ’n versoek geëindig waar ek en my vrou Corrie, noodgedwonge die gesprek in die rigting van ons jonger dae, voor en na ons huwelik, gestuur het. Ons het dan ook die mooi herinneringe, die swaarkry dae, die liefde jeens mekaar as man en vrou en ons as ’n familie en ons werk, aangeraak. Hulle het dan male sonder tal gevra dat daar van hierdie vertellings en herinneringe tog op skrif gestel moet word, voordat ons dalk nie meer daar is om dit aan hulle en hulle kinders te kan oordra nie. Wat ’n moeilike versoek was dit nie, want waar begin ’n mens en wat laat jy eenkant staan? Wat gaan jy in elk geval so ’n klomp vertellings noem?

Sal dit wat op skrif gestel word, wyer as net deur die familie gelees word? Ek het toe besluit dat ek dit net aan ons familie en ‘n paar vriende sal skenk!

Met hierdie memoires het ek só volledig moontlik getrag om die tyd wat die Liewe Vader aan my en Corrie geleen het, te skryf oor wat met my/ons lewe tot op datum gebeur het. Ek moes uiteraard van die fynere besonderhede wat maklik oor die hoof gesien kon word, met haar konfereer. My innige dank en liefde vir haar bydrae, veral waar my gedagtes my in die steek gelaat het. My lesers kan gerus Spreuke 31: 10-31 lees waar die gawes, talente en kwaliteite van ’n vrou besing word, wat ek graag, sonder om soetsappig óf om skynheilig te wees, ook aan die vrou wat die Here op my pad gebring het, wil toedig. Sy wil egter nie enige bydrae tot hierdie memoires gee wat haar kinder- en jong meisie-jare sou dek nie. Ek het haar siening daaroor respekteer, maar die lief en leed wat ons saam as ’n egpaar ervaar het, vergoed beslis vir daardie tye in haar lewe wat nie oor geskryf is nie.

Ek het besluit dat die memoires wat in hierdie geskrif verwoord is, die titel “2 plus 5 plus....” te gee. U sal dalk wil weet wat aanleiding tot hierdie titel gegee het, maar soos u vorder met die lees van hierdie geboekstaafde herinneringe, sal u die toepaslikheid van hierdie titel ontdek. Wanneer daar na die opskrifte van die hoofstukke gekyk word, kan die leser maklik dink dat alles net oor myself en my polisiewerk gaan en dat die trompet van ‘eie-ek’ hard en duidelik geblaas word. Nee, ek meld wel wat daar in my lewe tydens dié gemelde tydperke gebeur het, maar dit strek tog heelwat wyer as net die polisiewerk. Ek probeer ook om ons jongmenslewe te verwoord, vandat ek vir Corrie leer ken het, totdat daar kinders in ons lewe ingekom het. Anekdotes, humor, ware gebeurtenisse - mooi en soms nie só mooi nie – soms vertellings wat mens met ’n knippie sout moet neem, ja, ook gebeure wat aan my vertel is, en dan probeer ek soms my eie emosies oor aangeleenthede wat ons en ons kinders se wel en wee raak, te verwoord. Ek het reeds vroeg in my lewe as polisieman besef dat wat met my gebeur en wat ek bereik het, nie deur my eie toedoen was nie, maar dat Iemand groter en magtiger as ekself, en iemand anders en ook groter en magtiger as die omstandighede wat in my lewe gebeur het, teenwoordig was. Daarom dank ek my (Ons) Hemelse Vader vir Sy Genade wat Hy oor my uitgegiet het, toe Hy my daagliks op my lewenspad, met al die gevare, beskerm en gedra het.

Niemand sal hierdie woorde wat ek op skrif vasgepen het, sien as ’n letterkundige verhandeling óf ’n draaiboek wat geskryf is sodat dit verfilm kan word óf dat die leser dit selfs as ’n naslaanwerk vir navorsing sal gebruik nie. Dis net maar ’n poging om my liewe kinders, skoondogters, kleinkinders en agterkleinkinders tevrede te stel na aanleiding van hulle versoek aan my. Ek wil hiermee egter ook die bystand, liefde, maar soms ook ergerlikheid, van my vrou, erken.

Ek vertrou dat jy, liewe leser, wie dit ook al mag wees, dit sal geniet, beleef en dit sal vashou wat vir jou aangeraak het. Ons sien en praat weer met mekaar as ons die geleentheid gegun word, maar sou ons nie meer daar wees nie, dan in die hiernamaals. My oorlede vader het altyd gesê dat dit wat ons aan mekaar skuld, in die hemel betaalbaar is, MAAR dan moet ons sorg dat ons daar sal beland.

Opgedra aan Corrie, my geliefde vrou, minnares en moeder van my kinders en al my nasate. Ek gaan nie ’n spesifieke datum hier neerskryf nie, want dit wat ek wil verwoord, sal só met verdrag bygewerk word.

“Aan God al die eer en mag Hy u seën op u lewenspad!”

Ben du Plessis, Eggenoot, Pa, Oupa en Oupagrootjie. Begin op 06/08/2010 en gefinaliseer in 2015

7.1 Wedervarings te Redhouse Polisiestasie.

7.2 Ontmoeting met Corrie en eerste bevordering in die Polisiemag.

7.3 Insidente van belang kort voor en na ons huwelik.

8.1 Ons

9.1 Neem amptelik Knapdaar-polisiestasie oor as stasiebevelvoerder

9.2 Wedervarings tydens die ANC/PAC-verhore te Burgersdorp

9.4 Interessante gebeurtenisse tydens diens te Knapdaar-polisiestasie

9.5 Geboorte van Werner en Christo en hulle dinge ................................................................174

9.6 bevorderingseksamen en bevordering na adjudant-offisier

HOOFSTUK 10: VERPLASING VANAF KNAPDAAR NA KORSTEN POLISIESTASIE IN PORT ELIZABETH.

10.1 Ons behuising terwyl ek by polisiestasies in Port Elizabeth gestasioneer was.................191

10.2 Eerste aansoek vir bevordering na luitenant ...................................................................199

10.3 Opening van die Algoapark-polisiestasie, Port Elizabeth

10.4 Geboorte van Nico en sy dinge ......................................................................................201

11.1 Word versoek om na Humansdorp te gaan om die vakante pos van stasiebevelvoerder dringend te gaan vul.................................................................................................................203

11.2 Aard van dienste en vriendekring te Humansdorp

11.3 Gesin se wedervaringe te Humansdorp

11.4 Interessante gebeure en ondersoeke van misdaad te Humansdorp ................................217

11.5 Bevorderingseksamen na luitenant en bywoning van die kursus om as offisier bevorder te word

12.1 voorbereiding vir verplasing na Pretoria

12.2

12.4 Kursus as opleidingsbeampte by Staatsdienskommissie (SDK) en verdere

12.5

15.5

15.6 Oorplasing na SA Polisie-hoofkantoor as hoof van administrasie ...................................371 HOOFSTUK 16: ONS AFTREDE

16.1 Hoekom afgetree voor die ouderdom van 60 jaar? ..........................................................373

16.2 Wel en wee tydens aftrede

16.3 Ons verhuising na Wilgers-aftreeoord

HOOFSTUK 17: SLOTGEDAGTES.............................................................................................398

HOOFSTUK 19: DIE DU PLESSIS’S SE GESLAGSREGISTER.................................................418

HOOFSTUK 20: LYSTE VAN MEDALJES, AANPRYSINGS EN SERTIFIKATE ONTVANG WAT NIE IN MEMOIRES VERMELD WORD NIE

20.1 SA Polisie Medaljes en -aanprysings ...............................................................................423

20.2 Ander sertifikate en toekennings ......................................................................................424

20.3 Rolbal sertifikate en toekennings

HOOFSTUK 1: MY VOORSKOOLSE KINDERJARE

Barend (Ben) Johannes du Plessis het die eerste lig gesien op 2 Oktober in die jaar 1936 – ek kan dit nie onthou nie, maar ek weet ek was daar. Ek was, volgens oorlewering, in ’n huis te Barrydale, in die distrik van Swellendam, gebore waar een of ander babavanger, soos die vroedvroue destyds

genoem is, my kom vang het. Die 4de kind van Jacob Johannes (Japie) du Plessis en Hendrika (Drika) du Plessis, gebore van Eck

Oupa en ouma Dupie in 1960 (Foto: Ross P.E.)

Ek sal nie verder in my voorgeslagte delf nie, want as jy mooi lees sal jy sien dat my van, van Franse afkoms is en dat daar dalk, nadat die Franse Hugenote voet aan wal in die suidpunt van Afrika gesit het, ’n afdwaling van ons voorvader(s) kon gewees het wat die Hugenote-bloedlyn nie so reg en onbevlek gehou het nie. Ons almal dink mos maar dat ons nog die regte klassifikasie in die RSA se bevolkingsregister het, daarom laat ek die leser maar glo dat hulle, en ek, nog in die regte bloedlyn is al is ons Du Plessis-kinders maar redelik blas van kleur!

Wat kan ek van my voorskoolse kinderjare onthou? Geleerdes beweer dat ’n mens eintlik eers dinge kan onthou vandat jy so 3 jaar oud is, maar ek bewys hulle verkeerd, want ek kan onthou dat ek sedert my geboorte reeds ’n borsbaba was, vandaar my liefde, tot vandag toe nog, vir die vroulike geslag in my lewe! Ha, ha. Ek weet ook dat ek bederf was, want ek was tot in daardie stadium, die jongste aankomeling van my ouers, totdat nog meisies en seuns na my die kollig kom verdof het, sodat ek maar gewoonweg my gang moes gaan tussen nege kinders.

Kom ek noem hulle: Rassie (die familie het hom die eerste jare Boetie genoem), Anna, Kowie, Ben (die familie het my toe Broer genoem), Hendrika (ons het haar Babie genoem), Maggie, en toe begin hulle my Ben noem want die laaste drie seuns is toe gebore sodat daar onderskeid tussen ons gemaak kan word, naamlik Japie, Thys en Fanie. Hierdie is net hulle noemname, ons laat hulle familie - (doop) name maar eenkant. Wag ek dwaal af, laat ek dan maar begin met my storie, want dis mos waaroor dit gaan.

Ek kan nog in my geestesoog sien hoe ek daar in Barrydale by oupa en ouma van Eck, my moeder se ouers se huis, saam met ander kinders gespeel het. Ons was ’n hele paar bymekaar en skielik hoor ek hoe iemand sê: “Daar kom jou Pa !”

Ek kyk op en sien dat Pa met so ’n ouerige motorkar, ek dink hy het later gesê dit was ’n laat 1920 model Chevy (Chevrolet) sedan met ’n seiltent, in die straat voor ouma-hulle se huis stilhou. Die spelery word gestaak en ons kyk almal nuuskierig na die motor, want só skuins vanaf die agtersitplek tot by die passasierskant steek daar ’n groot houtkas uit. Ons het toe onder mekaar gewonder wat dit is, en een van die ouer kinders sê toe: “Dis ’n doodskis.”

In daardie stadium het ek, seker omdat ek nog te jonk was, my nie verder aan die doodskis gesteur nie, het seker ook nie geweet wat ’n mens met ’n doodskis maak nie. Ma en pa het baie jare later toe ek hulle van hierdie toneeltjie wat ek onthou, vertel het gesê: “Ja, jy kan goed onthou. Pappa het mos daardie jare ’n garage in Barrydale gehad – Die Central Garage – en hy het die doodskis met een van die garage motors na ouma-hulle se huis toe gebring, want oupa Ben, dis nou my ma se pa, is oorlede en hy moes ‘gekis’ word.”

Weet julle dat noudat ek hierdie toneeltjie vir julle beskryf het, sien ek dit weer voor my afspeel. Verder het ek geen herinneringe van die begrafnis en wat daarna op daardie dag en weke later gebeur het nie. Só kom dinge terug uit jou ‘black box’. Het julle nie geweet dat ’n mens, net soos die hedendaagse vliegtuie, ook ’n ‘black box’(stemopnemer) het nie? Die sielkundiges noem die mens se ‘black box’ jou onderbewussyn, óf soms verwys die oningeligtes sommer na jou varkies wat jy verloor het, en dan praat jy allerhande dinge. Dan sien hulle jou as ’n ietwat mallerige mens – O, ek is só bly nou weet ek ook wat my al die tyd makeer het!

Wat ek van hier af kwytraak, is soos ek dit in herinnering kon terugroep en die beskrywings mag dalk ietwat verskil van hoe my broers en susters, wat ouer is as ek, dit beleef het.

Só het die Tweede Wêreldoorlog gekom, en pa het toe vir ons vertel dat hy ook wou aansluit, maar hy was medies afgekeur omdat hy ’n lekhart gehad het. Hy het dit oorgehou van ’n siekte wat hy as kind gehad het, ek dink hy het gesê dit was rumatiekkoors. Hy het toe maar in Barrydale bly werk, want hy het sy garage opgegee en saam met oom Giepie Botha, die broer van sy swaer, Theuns Botha, van Barrydale, transportlorrie gery tussen Buffeljachtsrivier se spoorwegstasie en Barrydale, want daar was geen spoorlyn of spoorweg padvervoerdiens, tussen Swellendam en Barrydale nie. Om die eindpunt, hetsy Barrydale of Swellendam te bereik, moet jy deur die Tradouwpas deur die Langeberge ry. Daardie jare ’n baie nou grondpad met opgeboude klipmuurtjies om te keer dat jy nie die afgrond kan inval as jy die pad sou byster raak nie. Vir my bly dit een van die mooiste bergpasse in Suid-Afrika.

Hedendaags is die pad geteer en die pad is heelwat breër gemaak. Skansmure aan die afgronde se kant is opgebou met klippe wat uit die berg los gekom het toe die berg met dinamiet oopgeskiet is om die pad breër te maak. Die geplaveide gedeeltes teen die skuinshange om rotsstortings te keer, is ook van die berg se klippe gebou. Dié pas is lank gelede reeds as ’n kultuurhistoriese pas verklaar.

L bo :Tradouwpas met inligtingsteken. R bo: Bo-op pas is ’n fontein waar jy kan water drink.

L Onder: Een van die klipformasies in die pas. (Foto’s: Google)

R Onder: Roete van pas deur die Langeberge. (Foto: Weg tydskrif Nr. 114 p.6)

Pa het toe later, toe die tweede wêreldoorlog nog aan die gang was, by die Kaapse Provinsiale Administrasie se Paaie-afdeling, as werktuigkundige aangesluit. So het ons kinders toe die spreekwoordelike ‘Kraaie van die Nasionale Paaie’ geword, want pa-hulle het die nasionale pad vanaf Beaufort-Wes tot by Hanover (in die Kaapprovinsie) gebou. Nou het ons van padkamp na padkamp getrek soos wat die pad stuk-stuk klaar gebou is. Ek is nou heelwat ouer en nou is daar meer van my ‘onthou’ van my voorskoolse kinderjare.

Ek kan die eerste sink-en-plankhuis van die eerste padkamp onthou. Die planke was ’n af-werking teen die sink aan die binnekant, en die afskortings tussen die vertrekke was ook van planke. Die huise het ook geen spitsdakke gehad nie, daarom het ons in die barre Karoo maar redelik gebraai in die somermaande, en in die wintermaande?.....Vrek koud!! Die plankafwerking is plafonplanke

‘ceiling boards’genoem. Dit was by Letjiesbos (ons het sommer Lytjiesbos gesê). Die kamp het langs die spoorlyn Kaap toe gestaan en ons het gereeld langs die spoorlyn gespeel. Daar was vele vermanings dat ons nie by die treinspore moet speel nie, want die treine sal ons doodtrap.

’n Foto van padpredikant wat Letjiesbos se afdraai aantoon.(Foto: Ben)

Kinders se ore sit mos op hulle stêre, en kort-kort moes dit maar daar oopgemaak word, nietemin, dit het ons nie weerhou om soms tog daar te gaan speel wanneer ma ons nie gesien het nie.

Dis soos die kwartpennie (Oortjie) gelyk het. (Foto: Google)

By geleentheid het ons ’n oortjie muntstuk (kwartpennie) op die treinspoor gesit, en as die trein verby is tel ons dit langs die spoorstaaf op, dan is dit só plat getrap dat jy nie eers die twee mossiesembleem op die muntstuk kon herken nie. ’n Kwartpennie was van koper, in vandag se geld seker so ’n agtste sent werd. Dis al geld wat ons kinders van tyd tot tyd gekry het, want wat koop die grootmense met ’n oortjie? Die werklike grootte van dié muntstuk was maar so groot soos vandag se vyfsentstuk, maar as die trein met hom klaar is, dan is dit groter as ’n pennie (die grootte van vandag se vyf rand muntstuk). Die oortjie of kwart-pennie, was destyds die kleinste (in waarde) van ons land se betaalmiddels.

Kom ek noem gou die waarde-orde van klein tot groot:

Muntstukke: Kwartpennie (oortjie-koper), halfpennie (stuiwer-koper), pennie (koper), 3 pennies (’n trippens of tiekie - silwer), ses pennies (sikspens-silwer), 12 pennies (’n sjieling-silwer), 24 pennies (twee sjielings-silwer en ons kleurlingvriende, ons het hulle mos sommer Kaapse kêrels ge-noem, het gepraat van ‘2 bob’), 30 pennies (halfkroon, silwer, die Kaapse kêrels het sommer ‘two-and-six’ gesê óf ‘half a crown’ genoem). Dan is die laaste muntstuk in die reeks 5 sjielings (’n Kroon), wat ook silwer was. Terwyl ek julle nou met hierdie ou muntstukke verveel het, kom ons kyk ook na die note.

Papiergeld: 10 sjieling noot (bruin), eenpondnoot (so ’n grys-blou kleur), vyfpondnoot (amper pers blou); tienpondnoot (groen) dan was daar nog die twintig pondnoot en die grootste noot se waarde was vyftig pond – latere jare het die honderd pondnoot ook sy verskyning gemaak. (Die laaste paar note was net vir die ryk mense beskore, want ons armmense was nie ryk aan geld en nie, maar aan kinders en huislike liefde. Ons kinders het maar van pennies en sjielings gepraat.)

Bo van L-R: 5/- vyf sjielings ook ’n kroon genoem; 2/6 -twee sjielingsen ses pennies, ook ’n halfkroon genoem en 2/-twee sjielings ook ‘two bob’ genoem; Onder van L-R: Twaalf pennies ook genoem ‘bob’ of sjieling 1/-); ses pennies ook genoem sikspens en drie pennies ook genoem ’n tiekie. Al hierdie muntstukke was van silwer (Foto: By ‘n advertensie in Huisgenoot)

Waar was ek nou weer? O ja, na Lytjiesbospadkamp het hulle dieselfde huise opgebreek en gaan herbou op ’n plekkie met die naam van Klipbank. Terloops, padkampe was eintlik nie herbou nie, maar ‘opgesit’ op ’n besondere plek, soos vooraf bepaal deur die Provinsiale Administrasie van die Kaapprovinsie. Die rede daarvoor was dat ’n nuwe teerpad gewoonlik gebou moes word, en in dié geval die hoofpad vanaf Johannesburg na Kaapstad. By hierdie staanplek, dis nou Klipbank, was dit net die kamp in die dorre Karoo. Daar was watertenks vir elke huis voorsien wat eenkeer per week met water uit watertenkers van die padkamp, vol gepomp is. Elke huisbaas het sy eie ‘wind charger’ (windlaaier) gehad wat die twee motorbatterye vol gelaai gehou het, want ons het so ’n krakerige radio gehad, ’n PYE-maak, en pa-hulle het saans met hulle ore styf teen die radio gesit om te hoor hoe die oorlog tussen die Ingelse (Engelse) en die Duitsters (Duitsers) verloop. Die padkamp se werkswinkels en die ingenieur, die baas van die padkamp (‘enjeneer’ soos almal hom genoem het), het krag vanaf ’n groot dieselopwekker ontvang. Pa moes die watertenker gereeld tussen die oorhoofse kragdraad, wat by ons huis verby geloop het, deur sein met aanwysings aan die bestuurder, amper soos ’n ‘traffic cop’, maar dan het hy later op die tenker se tenk geklim en die tenker laat terugstoot tot by ons huis se tenk. Hy moes egter eers die kragdraad oplig sodat die tenker kan deurkom. Hy het by een so ’n geleentheid weer op die tenker gestaan en met sy rug na die kragdraad en so half gesit-staan en aanwysings aan die drywer (bestuur-der) geskree, terwyl hy besig was om die pyp van die pomp in die tenker se tenk te sit. Die volgende oomblik toe sien ons net hoe die kragdraad pa van die tenker afslaan, mooi in die waai van sy gebukkende bene vasgeslaan, en hy val op daardie skoon klipharde Karoogrond (die plek se naam was nie verniet Klipbank nie) voor die huis. Hy was omtrent uit, ons het ma geroep, die oom van die tenker het kom help en pa is in die huis ingedra.

Al wat ek verder kan onthou is dat ons kinders vir dae aanmekaar ons stil moes gedra want pa het in hulle slaapkamer, wat donker gemaak is, gelê. Genadig het die Here hom gespaar en ek weet net dat hy na ’n paar dae weer gaan werk het. Ek weet nie of dit die volle verhaal is en of daar dalk ander bydraende omstandighede was wat tot pa Japie se afgevallery bygedra het nie.

Van pa Japie se werkery het ek nie veel geweet nie, behalwe dat hy ’n motorwerktuigkundige (‘mechanic’) was. Hy het daagliks saam met die ander padwerkers na die terrein vertrek waar die pad gemaak is. Hy moes die lorries, padskrapers (graders), laaigrawe en stootskrapers herstel en aan die gang hou. Hy het, net soos die ander werkers, ’n kosblik gehad waarin sy toebroodjies en koue swart koffie in ’n gewone wynbottel was. Soms ’n stukkie koue vleis of frikkadelle daarby. Hy het later vir hom ’n koskassie van laaghout (3-ply) gemaak met ’n behoorlike deksel waarop ’n koffer (soetkys) se handvatsel vasgeheg was. Hy het ook ’n neus-en-klampie aangesit sodat hy dit kon toesluit.

Die groen geverfde koskassie van oupa Dupie (Foto: Ben)

Hierdie kissie is nog steeds in besit van ons familie. My suster Kowie besit dit nou. Terloops, ek kon dit gedurende ’n kort besoekie aan hulle plaas, De Kop, te Swellendam, ’n foto van hierdie groen geverfde kassie neem. Hierdie kissie het later pa Japie se ‘liasseerkabinet’ geword waarin hy al hulle belangrike persoonlike dokumente gehou het.

Só trek ons maar saam, na ’n paar maande, óf was dit dalk ’n jaar of twee? na die volgende staanplek toe. Hierdie slag is die kamp by Drie Susters ‘opgesit’. Dié bekende baken en die Shell vulstasie met ’n motel sowat drie kilometer in die rigting van Beaufort-Wes is ’n welkome stilhouplek op jou reis met die N1 vanaf óf na Kaapstad. Dit is en bly nog Karoo wêreld.

Rassie en Anna was in die skool en het elke dag met die padkamp se skoolbus, sommer ’n lorrie met ’n seil wat deur ’n raamwerk opgehou word, skool toe gegaan. Ek weet nie eers na watter skool toe nie – Ek dink dit was Richmond. By Drie Susters kan ek onthou dat ek na die windlaaier gekyk het, dit was windstil en die lemme het stil gestaan, maar dit was vol gepak met bye. Ek het glo na die huis toe gehardloop, volgens Ma, vir haar gesê: “Mamma moet kom kyk, daar is baie bye op die ‘wind charger’, hulle het rooi oë.” Terloops, almal het van ‘n ‘wind charger’ gepraat en nie die mooi beskrywend Afrikaanse woord, windlaaier nie.

Mamma het vertel dat sy gaan kyk het en sy gesien het dis ’n klomp brommers wat ek gesien het. Ek wonder nou nog wat die aantrekkingskrag daar vir die brommers was. Hulle het seker ook maar warm gekry en gehoop dat daar ’n windjie sal kom wat die lemme sou laat swaai sodat hulle ook ’n bietjie kan afkoel. Ha, ha, ha. Ek wonder vandag nog of hulle werklik rooi oë gehad het.

’n Foto van die Drie Susters koppe in die Karoo. (Foto: Werner)

Ons het na ’n tyd weer versit en saam met van die padkamp se mense ons tuiste te Richmond (KP) gevind. Hierdie slag het ons in ’n privaat dorpshuis gebly, want die hele kamp het nie verskuif nie, net pa en die ander ‘mechanics’, (werktuigkundiges), want hulle moes die tipbaklorries, die padskrapers (‘graders’), trekkers (Caterpillars) en padrollers, in standhou. Hulle werkswinkel was net buite die dorp en hulle het elektriese krag van die munisipaliteit af gekry. Die ander kampmense, die lorrie-, trekker-, padskrapers- en padrollerbestuurders, het ’n bietjie later gekom en die kamphuise is net buite die dorp ‘opgesit’. (Ek het gedurende Oktober 2011 weer ons woonplek te Richmond besoek en ’n paar foto’s geneem, wat elders in hierdie boek verskyn.)

Hier het ek in Sub A (Graad 1) in die skool gekom. Nogal baie lief en leed hier as kind ervaar. Nou sal ek in die volgende hoofstuk meer van my wedervaringe in my skoolloopbaan te Richmond (KP), en in al die ander laerskole waarin ek my sit en leer moes ken, vertel.

HOOFSTUK

2: MY KINDERJARE IN LAERSKOLE

Wat kan ek, wat julle as lesers interessant mag vind, van my eerste skooljaar vertel? Kom ek haal net so ’n paar historiese gebeurtenisse aan van wat by elk van die plekke waar ek in laerskole was, gebeur het. Alles kan uiteraard nie vertel word nie, want afgesien van die geheue wat nie alles uit die ‘black box’ wil terugroep nie, mag ek ook nie dit wat dalk onwelvoeglik was, ‘publiseer’ of skryf nie!

2.1 Richmond (KP)

Ek gaan eers so ’n paar gedagtes wissel oor ons verblyf in Richmond, Kaap. Julle moenie hierdie plek verwar met die Richmond en ’n Hanover in Natal (vandag KwaZulu Natal) nie, want ons Richmond was steeds in die Karoo. Na hierdie paar gedagtes gewissel is, gesels ek met julle oor my wedervaringe op die Richmond Laerskool.

Daar was nie veel van ’n padkamp op Richmond nie, werkswinkels en ’n paar tradisionele padkamp huise buite die dorp. Ons het nie in die kamp gebly nie maar in ’n dorpshuis in die dorp, soos reeds in vorige hoofstuk genoem, wat die Provinsiale Administrasie van Kaapland (soos dit toe bekend gestaan het), vir ons in die dorp gehuur het.

Dit was ’n redelike groot huis met drie slaapkamers en ’n agterplaas waar daar ook buite-geboue was. Daardie buitegebou het meer na ’n ou stal gelyk. Daar was eintlik niks in gestoor nie, net ’n paar hoenders wat ons daar gehad het. Een van daardie hoenders was ‘n swart haantjie wat meer in die huis ingekom het as om buite in die erf te gaan skrop. Pappa het hom toe sommer daar en dan Piet gedoop. Dit het later geblyk dat Piet nie ’n haantjie is nie, maar ’n hen toe Piet eendag begin eiers lê het. Die huis was in Loopstraat, skuins-oor die NG Kerk en op die hoek van ’n ander straat, ek kan nie meer daardie straat se naam onthou nie. Die voorkant van die huis was redelik naby die sypaadjie met geen tuinery voor nie. Daar was darem ’n stoep wat breed genoeg was sodat ’n regte outydse tuinbank daarop kon staan.

Een aand was die huis amper in rep en roer. Dit het só gebeur:

Die meisies se kamervenster het na die stoep toe gewys. Toe aandete verby was en aandgodsdiens gehou is, het ons ons vermaak deur na die baba, Japie, se manewales te kyk en Maggie wat nog redelik klein was, se spelery met ons ander. Ons het na ’n rukkie na ons kamers toe verkas. Toe Anna hulle kamer se gordyne toetrek, roep sy met ’n gedempte gilletjie uit: “Pappa, kom kyk hier is ’n man op die stoep!”

Pappa het by die voordeur uitgegaan en ’n blanke boemelaar vas aan die slaap op die tuinbank gekry. (Ja, daardie tye was daar al boemelaars wat deur die land rond geswerwe het). Pappa het hom wakker gemaak en aangesê om sy loop te kry, weg van ons huis af. Hy het toe geloop. Daar was van die meisies wat toe vreeslik bang was om te gaan slaap, en kort-kort het Pappa maar gaan loer of die man sy weg gevind het. Die meisies is later gerusgestel dat geen persoon weer daar sal kom slaap nie. (Ook maar ’n flouerige gerusstelling, maar hulle het onwrikbaar geglo aan die optrede van die vader des huis!)

Die N.G. Gemeente Richmond (KP) se kerkgebou met die sykant van die huis waarin ons gebly het regs voor. (Foto: Ben)

Nou nog twee ervarings waarby ek en Rassie, buite skooltyd, betrokke was. Kyk, verstaan my nou mooi, ons twee was soos ’n spreekwoordelike Dawid en Jonatan, en ons het vir alles kans gesien en geheimenisse wou ons openbaar gemaak hê, en uitdagings moet oorwin word. Hier volg dit nou: Ek het mos gemeld dat die huis skuins-oor die NG Kerk was, het ek nie? Wel in die kerk se erf, sowat 20-30 treë weg van die kerkgebou, was daar ’n klein geboutjie met spitsdak, ’n dubbeldeur voor en twee klein venstertjies hoog, amper onder die dak. Dit was vir my en Rassie ’n versoeking, maar ook ’n uitdaging om te gaan kyk wat in hierdie misterieuse gebou is. Ons het een middag, net

na ons van die skool gekom het, in die kerkerf ingegaan. Rassie kon nie by die eerste venstertjie in kyk nie, want dit was te hoog, ek was te klein om hom op te tel, nou moes ek die kyk-werk doen en ’n op terrein-waarneming aan hom oorvertel wat ek gaan sien. Hy lig my op, ek kyk in en wat sien ek?..... moet ek julle in afwagting hou en later die geheim openbaar? Kom ek sê dit vir julle en laat ek nou julle nuuskierigheid bevredig. Wel, die venstertjie was vol stof aan die binnekant en ek kon nie mooi sien wat binne is nie. Ons twee verskuif na die ander venstertjie toe. Ek kyk en daar sien ek ……… ’n doodskis op ’n rak staan! Die geboutjie het reg rondom die binnekant twee rakke, die een bo die ander, gehad. Ek ‘sein my observasie’ verbaal na onder en vra Rassie om my af te tel, want nou is ek vrek bang. Hy sê: “Nee man, kyk nog, wat is nog daar?”

“Ek sien niks verder nie”, sê ek toe.

Hy sit my op die grond neer en gaan na die, dubbeldeur toe, maar dis gesluit. Ek hoor hoe daar op die gruis geloop word en ek kyk om, en daar kom ’n oom van die kerk se kant af aangestap. Hy vra toe aan ons: “Wat soek julle, seuns?”

Rassie, die oudste, moet nou die praatwerk doen, want ek, die dapper man wat ek is, wil-wil net weghol huis toe. Rassie sê toe dat ons graag wil weet hoekom is daar ’n doodskis in die gebou. Die oom sê toe: “Dis die kerk se lykhuis. Ons hou die lyk in die kis daar, totdat die begrafnis plaasvind.” (Daardie jare was die doodkis met die afgestorwene nie in ’n kerk toegelaat nie.)

Die oom was vriendelik. Hy sê toe dat hy die koster is, en nou die lykhuis gaan oopsluit, want die begrafnis word later dié dag gehou, dan kom die lykbesorger om die kis te kom haal. Rassie bly nuuskierig en gaan saam met die oom tot by die deur en hy kyk in, ek hou my skaars, want wat ek gesien het, het ek gesien en stel nie verder belang om dit van naderby te bekyk nie. Ons nuuskierigheid is bevredig. Dié aand was ons ervaring en kennis wat ons opgedoen het, natuurlik die gespreksonderwerp by ons almal.

Net so oorkant ons huis se sykant wat na die ander straat toe gewys het, was daar ’n klipkoppie, nie baie groot nie, maar redelik steil, en ons was verbied om soheentoe te gaan want ons sal ons nekke breek, maar wat is ’n verbod as dit nie verbreek kan word nie? Eendag hoor ons kinders praat en lag daar van die koppie se kant af, ek en Rassie sluip stilletjies by ons huis se erf uit, waar ons gespeel het, en klim die koppie na bo. Bo vind ons ’n hele paar seuns en gou-gou besef ons dis mos ons skoolmaats en ons vra wat maak hulle daar. Hulle vertel toe dat die klippe wat só opgestapel is, die oorblyfsels van ’n fort is wat dateer uit die tyd van die Boere-oorlog. Die Kakies, Engelse soldate, het dit beman en daar is nog baie patroondoppies te vinde as ’n mens in die grond rondkrap. Dis ’n nuwe ervaring en ons grou ook ywerig saam met hulle. Ons het net ’n paar platgetrapte patroondoppies van Lee Metford’s ,303 gewere, gevind. Ons het dit lank as aandenkings gehou, later het dit seker ook maar, soos baie aandenkings, asblik toe gegaan.

Die eertydse ‘lykhuis’ van die gemeente in die voorgrond. Dit word nou as kantoor gebruik. Die voorste gedeelte van dié lykhuis is aangebou. Dit was aanvanklik net verby die 2 klein venstertjies tot by die eerste aflooppyp. Lees hieronder. (Foto: Ben).

Ek het reeds vroeër gemeld dat ek gedurende Oktober 2011 ’n draai by hierdie huis gemaak en ’n paar foto’s geneem het wat elders verskyn. Die huis is nog steeds daar, ja selfs ’n tuinbank op die stoep – heel waarskynlik nie dieselfde tuinbank nie! Die lykhuis is steeds daar, maar is vergroot en die dubbeldeur ingang na die straat se kant toe, is toegebou en nou het dit ’n enkeldeur wat na die kerk se kant toe wys. Die venstertjies het elkeen ’n gordyntjie voor. Ek het ook ’n inwoner by die huis oorkant ons ou woning gekry. Hy het gedurende 1970 daar gebou en ingetrek. In ons tyd was daar nie huise oorkant ons na die koppie se kant toe nie.

Die eienaar van die huis oorkant ons huis, het bevestig dat die lykhuis in die sewentigerjare opgeknap en aangebou is en nou as ’n kantoor gebruik word deur die werknemers van die gemeente – predikant, sekretaresse en die koster. Hy het met my in gesprek getree en ons het lekker gesels.

Die klipkoppie in Richmond waarop daar die oorblyfsels van ’n fort van die Engelse was. (Foto: Ben). Hy stel baie belang in die ou wonings in die dorp en hy het gesê dat hy gehoor het dat ons ou woning, een van die oudstes is wat nog onaangeraak sonder verbrekings en aanbouings daar staan, want baie van die ander ou huise het reeds aanbouings ondergaan.

Die ou fortjie op die koppie is ook opgeknap en met ’n draad omheining afgesper en daar wapper ’n Union Jack vlag om aan te toon dit was ’n Engelse fort. Ek kon ongelukkig nie met my regterheup wat vervang is en die linkerknie wat mankoliekerig is, daar opklim om te kyk hoe dit nou daar lyk nie. Ek moes die inwoner, ag, ek het vergeet om sy naam te vra, verlaat terwyl hy nog baie lank wou gesels en ek ook nog baie vrae wou vra, want ek moes terugkeer motor toe waar drie vrouens in die hitte op my gesit en wag het. Hoekom drie vroue? Wel, Corrie, my suster Maggie en ’n gemeenskaplike vriendin, tannie Rita Smaal. Albei is weduwees. Rita het saam met ons deur ons land op toer gegaan. Die stilhouplek op Richmond was bloot om die ou paaie van nostalgie te kon loop en om bene te rek terwyl ons op ons pad terug was na huis en haard wat ons 26 dae vantevore verlaat het.

By Richmond was dit warm in die somer en koud in die winter. Elke klaskamer het ’n “Queens stofie” in die middel van die klaskamer gehad. Die skoorsteen het deur die dak gegaan, nie baie goed geseël nie, want as dit met steenkool of gekloofde hout brand, asem ons die rook in, maar sit het ons bly sit soos ’n klomp krimpvarkies om die stofie. Vanmiddag ruik jy na stroois – soos ouma Dupie altyd gesê het.

Daardie eerste winter toe sien ek vir die heel eerste keer kapok – mense weet vandag nog nie óf daar ’n verskil tussen kapok en sneeu is nie - maar ons het geweet dis lekker om daarin te speel en dan soos ’n maer vark te tjank van die koue, want ons hande is stokstyf en blou van die koue nadat ons mekaar met die kapok toegetakel het. Op pad skooltoe loop ons kleintjies koes-koes langs ’n kapok belaaide heining af om ons teen die koue windjie te beskerm, maar dan kom die groter kinders en slaan teen die heining sodat die kapok uit die heining op jou kop en by jou hemp inval, dan is jy papnat en blou-koud as jy by die skool aankom. Ja, die distansie wat ons skool toe moes loop het vir ons kleintjies soos myle (kilometers) ver gevoel. Toe ek later jare gaan kyk het hoe ver dit is, en vir van my kinders gewys het, moes ek ontdek dat dit nie baie verder as ¾ kilometer is nie.

Wat het ek nog daar ervaar? In die somer is daardie gedeelte van die Karoo oorgeneem deur swerms en swerms treksprinkane. Sulke groot bruines. Dit het die lug amper verdonker soos met sonsverduistering! Ek lieg nie, ja, amper! Ek vang toe ’n paar en sit dit in een van die pennie-boksie

grootte vuurhoutjiedosies. (Dis ’n groot boks, want oupa Dupie het ook pyp gerook, soos wat ek ook in latere jare gedoen het, en ’n pyproker kom nie die dag deur met die halfpennie-boksie vuurhoutjies nie. Die mense het mos gesê ’n pyproker rook vuurhoutjies en suig tabak, want as die windjie waai, kry jy nie sommer die pyp met net een vuurhoutjie opgesteek nie.)

Dis hoe die bruin sprinkaan lyk. Swerms soos hierdie wat die lugruim verdonker. (Foto’s: Google).

Sprinkane in die Karoo. Kyk hoe kaal is die veld gevreet. (Foto: Google)

Wel, die sprinkane het lewendig gebly in hierdie vuurhoutjieboksie tot die volgende oggend, waar ek dit in die klas op die blondekop dogter voor my se kop gesit het. Die meisies in die klas wat die sprinkane gesien het, het geskree en gegil en vir die klein merrie gesê van die ongediertes wat op haar kop is. Sy begin met haar arms en hande in die lug te slaan om die sprinkane van haar kop af te kry, dit het gelyk soos ’n draaiende windpompwiel soos haar arms draai en wring en soos haar twee vlegsels heen en weer geskud word, om van die drake ontslae te raak. Ag siestog! Dis nog nie die einde van die storie nie, want daar kry ek toe my eerste pakslae, nogal deur ’n juffrou met ’n

liniaal in haar hand. Die straf was nog nie verby nie, ek moes soos ’n afkophoender in die klas rondskarrel om weer die paar sprinkane te vang en in die boksie terug te plaas. Die rumoer begin weer van vooraf soos die meisies, sodra die rond-springende sprinkane naby hulle kom, begin skree en gil en op die banke spring. Ek is opdrag gegee om die ‘arme diertjies’ (is sprinkane dan diertjies? Wel, die juffrou het só gesê) buite te gaan los sodat hulle hulle vryheid kan gaan geniet! Nou kan ek die volgende vraag vra: “What is the moral of the story?” “Don’t play with girls, rather marry them!” My Engels is nogal goed, nè?

Nagedagte: Een van my generaal kollegas, luitenant-generaal Lou Erasmus, gesels met my gedurende November 2012 tydens ’n generaalsklub byeenkoms. Daar vind ek toe uit dat hy ook in Richmond (KP) skool gegaan het. Hy vertel toe vir my dat die sub A juffrou, juffrou Vos was. Hy en ek is ewe oud, dalk was ons twee nog in dieselfde sub A-klas. Hy vertel toe, sonder dat ek hom daarna verwys, hoedat hy saam met ’n klomp skoolmaats gereeld patroondoppies by die ou fort, naby die NG Kerk gaan optel het. Hy ken ook die lykhuis op die kerkterrein en hy het ook die jaar wat die sprinkane oor die dorp en in die distrik was, as laerskoolkind ervaar. Is dit nou nie blote toeval dat ons twee kollegas oor dieselfde goed kon praat nie? Kyk maar net hoe klein is die wêreld waarin ons ons bevind.

Dis ook hier waar ek gehoor het van die siekte bekend as pokke. Weet julle nie wat dit is nie? Wel, ek het ook nie tot in daardie stadium geweet dat daar so ’n soort siekte is nie. Ons kinders het maar net gehoor van verkoue, die ‘Groot Griep’ wat sovele grootmense en ook kinders laat sterf het gedurende 1913, en dan natuurlik witseerkeel. Aan ons was vertel, ten regte of onregte, dat ons nie in die bitter koue sonder ’n warm kledingstuk moet wees nie, want dan kan ons griep opdoen en ons moes ook nie die wit skilletjies onder die lemoene se oranje skil eet nie, want dan gaan ons witseerkeel opdoen. Dalk was die gesegdes van die ouer mense net gedoen om ons ‘bang’ te maak vir hierdie siektes, sodat ons, ons nie onnodig aan gevare kan blootstel soos bv. longontsteking en versmoring wanneer die wit skilletjies dalk in jou keel kan vassteek en jou van die lewegewende lug wat jy moet inasem, kan ontneem nie.

Wel, terug by pokke. Ons het gehoor die grootmense in die dorp, en so ook Pa en Ma, praat dat daar ’n oom in die dorp is wat pokke het en dat sy huis onder afsondering (kwarantyn) geplaas is, want dit is ’n geweldige ernstige siekte wat hoogs aansteeklik is. Ons het gereeld met ompad om daardie huis geloop, want ons was die dood voor oë gesweer dat as ons van daardie ‘kieme’ sou optel, ons kan doodgaan, want jy het sulke groot lelike swere met groot rowe op in jou gesig en op jou hande gekry wat jou baie siek gemaak het. Hulle het ook vertel dat as jy wel van daardie sere gesond word, dit lelike gate (letsels) in jou gesig sal agterlaat. Daar was ook ’n groot geel vlag aan ’n stok by die voorhekkie van hierdie huis. Ons het later verneem dat ’n geel vlag die teken is dat iets of ’n plek onder kwarantyn is. Gelukkig het ons nie weer gehoor van ander ooms, tannies of kinders wat in die dorp pokke gekry het nie. Pokke is nou se dae ’n baie seldsame siekte, want kinders word sommer vroeg-vroeg in hulle babajare geënt teen pokke. Dit is daardie merkies net onder jou linkerskouer se knop wat jy as kind gekry het, toe jy geënt is en die ente gegroei het. Later jare het hulle die baba meisietjies op hulle boudjies geënt want die ente wat ‘gegroei’ het, laat ’n litteken met ’n klomp gaatjies agter op jou vel. Dan is dit ’n teken dat jy nou immuun is teen die pokvirus (nie kieme nie). Hoekom daar? vra julle my – dis maar die ydelheid van die vrouens geslag, want wanneer hulle moulose rokke, vandag toppies, dra of in mini-swemdrag geklee is, wil hulle ’n onbeskadigde, syagtige, gladde mooi vel aan die ‘kykers’ óf bewonderaars vertoon. Kom ek vertel julle kortliks van ons aandgodsdiens wat na aandete by die tafel gehou is. Dit was vir baie jare die gebruik en dus ook die geval by Richmond. Pappa het uit die Bybel gelees, ons het geluister, dan het ons almal by ons stoele gekniel en Pappa en Mamma het net na mekaar gebid en dan volg die kinders se gebede, een-een, van die oudste tot die jongste. Rassie het dan saam

met ons na die kamer toe gegaan en ’n hoofstuk, met prentjies, uit die Kinderbybel gelees. Dan is daar drie of vier vrae wat ons moes antwoord. Dié aand word die verhaal van Noag en die Ark gelees wat op die berg Ararat geland het na die groot vloed. Die een vraag was: “Wat het Noag gedoen nadat hy uit die Ark gekom het op die berg?”

Suster Kowie, net ouer as ek, antwoord: “Hy het die Ark se deur toegemaak!”

Nou lag ons almal kliphard. Sy is onthuts oor ons laggery en wil weet: “Wie het dan die deur toegemaak as dit nie hy was nie?”

Ek dink Anna wat dié aand gelees het, moes maar verduidelik dat Noag eintlik ’n altaar vir die Here gebou het en ’n offer aan Hom gebring het. (Ek glo nie Kowie was verkeerd nie, want wie anders sou die Ark se deur dan toegemaak het, Hu?!)

Naskrif: By Richmond het my ouers my eerste Bybel aan my gegee, dit was 1943. Ek het nou nog daardie Bybel. Op die eerste binneblad het Pappa die volgende geskryf:- ’n Geskenk aan Ben du Plessis van sy ouers. 1ste Aug. 1943. Ek bewaar dit nog as ’n kleinood. Met verloop van tyd en gereelde gebruik, het die buiteblaaie redelik begin verweer. Pappa het mos soms bekleewerk gedoen – stoele oorgetrek, ens. Hy het die sitplekke van die eetkamerstoele met ‘pegamoid’, ’n soort patente leer, oorgetrek. Hy het toe al ons kinders se Bybels met die oorskiet stukke oorgetrek. Daar is nog ’n sigaretbrandmerk op my Bybel se oortreksel wat daar gekom het toe ek later jare as polisieman te Redhouse, ’n brandende sigaret daar neergesit het. (onnadenkend, nè). Ek het aan die slaap geraak en later wakker geskrik van die rook en stank toe die oortreksel gebrand het. (Ek het Nuwejaarsdag 1985 opgehou met rook). Die skade is gedoen, maar ek probeer nie om dit vandag te verberg nie, dit kan daar bly as ’n teken dat ons nie ongeërg moet wees teenoor die Bybel as die Woord van God nie.

Soos wat oupa Dupie se gebruik was om vir elkeen van sy kinders ’n Afrikaanse Bybel te koop wanneer hulle skool toe gaan, het ek gedurende 1983 die nuwe vertaling van die Bybel vir elkeen in ons gesin aangekoop. Dit was toe die SA Bybelgenootskap se 50 jarige herdenking van die Bybel in Afrikaans gevier is.

Links: My eerste Bybel wat my ouers aan my gegee het. Let op die brandmerk. Regs: Die binneblad van die Bybel met oupa Dupie se handskrif. Ek het ons troudatum en die geboortedatum van die tweeling ingeskryf. Die ink het reeds ’n bietjie verkleur. (Foto’s: Ben).

Dis genoeg van my laerskooldae te Richmond, nou vertrek ons Worcester toe. Ek kan ongelukkig nie onthou hoe en waarmee ons gereis het nie. Seker maar met ’n padkamp lorrie (Dalk was dit weer ’n rooie. Ha, ha)

2.2 Voorsorg se Plaasskool (Worcester Distrik)

Worcester, hier kom ons! O wee, soos dit maar in die lewe gaan, as jy iets bereik het in jou werk, moet jy maar altyd die spit afbyt, want Pa was nou een van die senior ‘mechanics’ en die ‘mechanics’ moes vooruit om die kamp te ‘gaan opsit’. (Jy slaan nie ’n padkamp op nie, jy gaan ‘sit hom op, óf dit word staangemaak’, want huise en werkswinkels moet afgebreek en weer op die nuwe plek ‘opgesit’ word.) ’n Nuwe vreemde wêreld breek voor my oop, die plek is só groot en mooi – ek dink so by my sigselwers, dis amper om soos in die hemel te kom. Ek het mos gehoor, in ons Bybel klassie in sub A, dat die hemel mooi is en dat jy nie bang moet wees om dood te gaan nie. Wel ons is nou in die mooi plek, nou kan ek seker maar doodgaan!

Wreed word ek ontnugter, want ons ry net deur die dorp en langs ’n groot dam verby tot op ’n plaas. Daar is een moerse groot plaashuis, met lang stoep voor en so twee klein geboutjies langsaan. Die een is groter as die ander en ons hoor dis ons skool. Dis nou dié Voorsorg se plaasskool. Die ander geboutjie is klein en ons hoor dis die ‘lewetrie’ (buite toilet). Ek gaan kyk en sien daar is ’n sitplek met ’n gat in en ’n emmer wat vol gaga is. Dis beslis nie die hemel op aarde hierdie nie! “Hoekom”, vra ek vir Pappa, “moet ons hiernatoe kom?”

“Jong seun, ons moet nog die kamp buite die dorp gaan opsit, daarom bly ons nou op hierdie plaas van meneer Goosen, die plaaseienaar, en hierdie huis is naby die skool, en julle hoef nie ver skool toe te loop nie. Ja, en dan kan julle darem in die tussentyd nog voortgaan met julle skoolwerk, anders sou julle baie maande van skoolgaan verloor, óf ons moes julle in ’n koshuis op Worcester, sit.”

Pa en Ma en die ander kinders is reeds by die huis in, en ek draal nou só stadig agterna. Ons bly net in die helfte van hierdie moerse groot huis, want die ‘prinsipaal’ (skoolhoof) en sy gesin bly in die ander helfte. Hy is meneer Von Solms met sy vrou en seun Leon en ’n klein snipbek dogtertjie – ek kan nie onthou wat haar naam was nie.

Hier het baie dinge met ons gesin, en in besonder met my, gebeur. Rassie het op Rawsonville, by Goudini Hoërskool, skoolgegaan en in die koshuis gebly en naweke met ’n trapfiets huis toe gekom. Anna, Kowie en ek, ook Babie, is in die plaasskool. Juffrou Behrens was die kwaaiste mens wat ek nog op aarde in my kort lewentjie gesien en gehoor het. Sy was kwaaier as die losloperkat wat by ons ingetrek het. Ja, erger as ou juffrou Rottemaaier.(Van Heidie faam.) Ek in sub B, ag ek weet ook nie só mooi nie, dalk was ek al in st.1, Kowie in die standerd net bo my en Anna in die ander klaskamer in st. 4, waar meneer Von Solms die onderwyser is. (Waar was Babie dan?) Sub A, B en st’s. 1, 2 & 3 in een klas en st’s. 4, 5, en 6 (die seniors) in die ander een. Die klasse is met ’n houtafskorting geskei. Nou begin die sports. Ek wat in die laer klasse se deel saam met my susters was, begin die seniors se werk ken en leer, en weet nie wat eintlik in my standerd aangaan nie. Word maar gereeld oor die vingers getik om te luister en my werk op my lei met die griffel te doen. Die nat sponsie óf ’n nat lappie, om die lei mee skoon te vee, is watersopnat sodat ek dit op die kind voor my kan uitdroog, wat weer gelei het tot ’n paar wikse. Ons speel buite met ‘groot speeltyd’, wat tussen die twee sessies is. Die eerste sessie van half agt (07:30) tot by etenstyd en die tweede vanaf 2 uur (14:00) tot halfvier (15:30) toe. Ek sit en kyk hoe die senior seuns, ek dink ons was maar sowat 25 kinders altesaam in die skooltjie, dis nou van speen-oud tot seniors, ’n stel koekepanwiele op die terrein rondstoot en daarmee hardloop. Die wiele lyk soos klein treinwieletjies met ’n vaste as wat in jou hande ronddraai as die wiele begin draai. Jou hande is besmeer van roes en stof en droë spoeg soos die ouens hulle hande nat spoeg

as die draaiende as te warm word. Kry dan gereeld nog raas by die heks, nie Liewe Heksie nie, maar juffrou Behrens, omdat jou hande só vuil is.

Ek sit met my linkerhand gestut op een van ’n akkerboom se uitstaande wortels en sê toe vir die ‘bestuurder’ wat toe in beheer van die motor was (die koekepanwiele) dat hy dit nie op die twee uitstaande boomwortels sal kan opry nie. Hy doen dit terwyl my hand nog op die een wortel rus – O gaats, daar glip die swaar wiele met as van die wortel waarop my hand gerus het, af en maak my ou klein linker duimpie so plat soos ’n pannekoek. Ek skree soos ’n maer vark, maak my broekie nat - ja daardie dae het ons seuns nie onderbroekies gedra nie, en hardloop huistoe – net sowat 20-30 treë weg van die skooltjie af. Mamma skrik haar buite weste, maar paai tog mooi en draai ’n lappie om die duimpie. Ek kan die aand nie rustig slaap nie, en Pappa leen die volgende môre meneer Von Solms se motor en neem my die volgende dag na Worcester toe, sowat 3 myl (± 5 km) vanaf die plaas, na die dokter toe. Die dokter kyk so na die duim wat nou amper so groot soos ’n reus s’n is, ek jok nie, dit was rêrig baie groot en seer, en hy sê: “Hierdie nael moet af!”

Ek sit op ’n stoel in die spreekkamer en hy sê toe vir Pappa: “Hou die seun vas en laat hy sy kop tussen sy bene sit, sodat ek die nael kan uittrek.”

Ek maak klein kreuntjies soos ’n hondjie wat seergekry het, maar loer tog so ongemerk na wat hy gaan doen. Hy neem ’n skerppunt skêrtjie en begin dit van vooraf onder die nael in te druk. Ek gee een gil en weet nie wat verder gebeur het nie. Toe ek tot my sinne kom, toe is die dokter besig om die duim toe te draai met ’n verbandjie. Ek het tot vandag toe nog, en sal ook tot in my doodskis, die letsel oorhou wat daardie koekepanwiele en die dokter se skêrtjie aan my linker duim gedoen het. (Die naelbed is beskadig en in twee geskeur. Nou het ek ’n gebreklike linker duimnael.)

Pappa het net gesê: “Toemaar, dis oor voor jy ’n meisie is!”

Te dêm om nie ’n meisie te wees nie, dit was waar-ag-en-tag-en-tag baie seer! Piepie seer!

Ons het Sondae die Sondagskool op meneer Goosen se groot plaas, sowat 500 treë weg van ons huis af, gaan bywoon. Kaalvoete, maar baie mooi aangetrek. Ons het sommer deur die wingerd soontoe gestap. Tannie Goosen het die Sondagskool aangebied. Almal het in die sitkamer plat op die vloer gesit. Een Sondagmôre, op pad terug huis toe, het my magie so twee- óf drie keer gekramp en ’n paar draaie gemaak. Nou weet ek, ek moet by die ‘lewetrie’ (dis nou ’n toilet) uitkom en begin hardloop, al langs die wingerd af, maar sowat halfpad huis toe, kom die groot poep wat nie ’n poep was nie en ek moes my Sondagbroekie uittrek – steeds dra ons nog nie onderbroekies nie. Nou loop ek maar vinnig huis toe, al met ’n water leisloot wat langs die wingerd is, langs sodat die meisies wat agter my gestap het, nie my kaal boudjies kan sien nie. Toe ek so om die hoek van die huis wou stap hoor ek grootmense praat. Daar sit Pappa, Mamma, meneer Von Solms en sy vrou op die stoep en drink koffie. Ek duik terug agter die huis in, kyk rond, sien net ’n ou stuk streepsak wat by die vuurmaakplek lê en besluit dat dit net die regte bedekking vir my onderlyf is. Met die stinkende broekie in my een hand en die stuk goiingsak om my onderlyf, stap ek die stoep op en gaan die huis in. Ek praat of sê niks, maar ek hoor net hoe die grootmense kliphard lag. Sulke onnadenkende grootmense! Ek het later by Mamma gehoor dat die goiingsak nie my boude toegemaak het nie. Ons het nie ’n badskamer nie, ja die Bolanders praat nie van ’n badkamer nie, ek moes maar net water in ’n waskom gooi en my boude skoon was.

Ek het, saam met Rassie en Pappa, Saterdae hout gemaak sodat daar vuurmaakhout gedurende die week kan wees. Daar was so vier óf vyf droë bloekomstompe wat ‘n ent van die huis gestaan het. Ons het die een genader om dit af te saag. Pappa staan op ’n leer en kyk by die bokant van die boomstomp in en sê toe: “Hier is ’n uil met kleintjies in die boom se holte. Hier lê een van Mamma se hoenderkuikens wat die uil vir haar kleintjies gebring het.”

Pappa jaag die uil uit die nes, en die uil se kuikens word uit die nes gebring.

Pappa sê: “Trap hulle dood!” (Daardie jare was daar nie so iets soos ’n Dierebeskermingswet wat uile beskerm het nie, want uile was as ’n pes gereken en ons het die twee uilkuikens doodgetrap.)

Die boomstomp word afgesaag en nou begin ons dit kloof met bytels en ’n voorhamer. Dit was ’n groot stomp, ons moes dit net daar waar dit geval het toe ons dit afgesaag het, begin kloof. Hierdie storie het toe ’n ander einde. Die klein klikbek dogtertjie van meneer Von Solms vertel vir die ‘heks’ (juffrou Behrens) ek het die uilkuikens doodgetrap. Ek word uitgeskel as ’n moordenaar en kry ’n ordentlike loesing by haar. (Ons kinders was nooit veronderstel om ons pakke slae, wat ons by die skool gekry het, aan Mamma en Pappa te openbaar nie. Een van ons, ek weet nie meer wie dit was nie, het dit uit onkunde gedoen, toe kry hy/sy weer ’n ordentlike loesing met Pappa se leer lyfband.) Daarom die geheimhouding van die pakslae wat die juffrou my gegee het.

Noudat ek groot is en ook voëls en diere in die natuur kan waardeer, was dit dalk tog geregverdig dat ek ’n moordenaar genoem moes word. Glo my, hierdie uilskuiken (ek) sal nie weer ’n uil, of ander voëls, se kuikentjies doodmaak nie.

Nog so een of twee voorvalle waar hierdie jongeling by betrokke was. Ek was eintlik maar net ’n belangstellende toeskouer, maar nogtans moes ek ook maar deurloop onder die tugtende hand van die vader des huis.

Pa werk aan meneer Von Solms se motor se onderkant. Wat hy gedoen het, weet ek nie, maar hy kyk so onder die motor deur na my toe wat met ’n bottel melk van meneer Goosen se plaas afkom. Ons het daagliks melk daar gaan koop – ’n trippens (drie sent in vandag se geld) ’n bottel – ’n wynbottel - vol. Die bottel het ’n kurkprop op. Ek gooi die bottel melk in die lug op en vang dit weer terwyl ek loop en fluit – het toe net geleer om nes Pappa te fluit as hy in die huis óf buite die huis rondloop. Pappa skree onder die motor uit: “Jy gaan die bottel laat val en breek!”

Ek kyk weg van die bottel af wat besig is om met die aarde se aantrekkingskrag na onder af te daal, vang dit mis, die bottel breek en die melk word vermors. Pappa kruip so stadig onder die motor uit, met ’n ‘shifting spanner’ (hulle noem dit in Engels ’n skroefsleutel óf ’n skroefhamer, want ons het almal gedink ‘shifting spanner’ is mooi Afrikaans) in sy hand. Ek skrik my uit die weste en hol terug, die wingerd in, terug na die Goosen’s toe en vra nog ’n bottel melk. Ek sal later die geld bring! Terug by die huis het ek genadiglik nie pak gekry nie, maar moes die bottel melk self betaal. Ek het die skuld van ’n trippens die volgende Vrydagaand gaan betaal. Met watter geld vra julle? Ons kinders het daardie jare by die skool ’n klein boekie met blaadjies waarop blokkies getrek is, gekry. Dit was ’n posspaarbankboekie. Jy koop elke Vrydag ’n seël vir ’n trippens by die juffrou, en plak die seël in een van die blokkies. Sodra die blaadjie vol is, gee jy dit by die Poskantoor in en dan plak hulle ’n sertifikaat in jou boekie dat jy tien sjielings gespaar het – ’n trippens is 3 pennies en ’n sjieling is 12 pennies en tien sjielings is dus 3x4x10 = 120 pennies. Jy het dus 40 seëls nodig om op een van die blaadjies van die boekie te plak. My trippens van die volgende week het ek gebruik om die Du Plessis’s se skuld te betaal! Ek is ’n armgat maar my skuld het ek getrou betaal, tot vandag toe nog!

Ek het mos gesê dat by hierdie plaasskool groot dinge met my gebeur het. Jammer Mamma en Pappa is nie meer met ons nie, maar glo my hulle was baie trots op hierdie seun, wat tussen vier dogters in ouderdom ‘gestaan’ het, Anna en Kowie voor my en Babie en Maggie agter my. Rassie is gedurende die week in die koshuis, so ek was maar die een wat moes uithaal en wys dat ek ’n volwaardige seun is vir wie almal kwaad geraak en tog voor lief was. Rassie en ek het naweke, wanneer hy ook tuis is, agter die huis in ’n buitekamer geslaap wat rug-teen-rug teen Mamma-hulle se slaapkamer was. Dit het ook ’n binnedeur na die Von Solmse se gedeelte van die huis gehad, maar die sleutel het aan ons kant in die slot gesteek. Ons buitekamer het een venster en ’n buitedeur gehad. Daar het ons baljaar en kort-kort hoor ons die gedempte vermaning van Pappa dat ons moet

stil wees, want hulle en die Von Solmse wil Sondagmiddae gaan rus. Hou jy nou twee jong seuns se bekke stil, veral as die een wat altyd aan die ontvangkant van die een of ander proefneming die jongere een is wat ’n bek opsit as hy dalk seergemaak word. Ek noem en beskryf nou slegs vier van die vele insidente wat oor naweke plaasgevind het:

Ons het leë ‘jamblikke’ op die een bed, dis Rassie s’n, se koppenent staan gemaak, want my bed was ’n divan met ’n klapperhaarmatras, wat nie kop- óf voetstukke gehad het nie, dan kyk ons wie die blik daar met ’n kettie kan afskiet sonder dat die klip, of ‘wheel bearings’ wat Pappa vir ons as kettie-ammunisie gebring het, teen die muur beland. Watter geraas was dit nie as die blik getref is nie en dit het gewoonlik met ’n “Hiep-hiep-hoera-a-a-a!” gepaard gegaan. Ons was dan gewoonlik aangesê om die kamer te verlaat as ons nie ’n pak slae wil hê nie, en om buite, ver weg van die huis en buite hoorafstand, te gaan speel/kettieskiet, sodat dié wat wil slaap, kan slaap, en dié wat wil rus, kan rus en dié wat Hiep-hiep-hoera wil skree, kan skree so hard en lank hulle wil.

Nog ’n gewilde speletjie wat ons gespeel het, was om van ’n groen boomtak van ’n akkerboom ’n veerpyltjie of twee te maak. Ons het die bas afgestroop, ’n twee duim lank spyker (±4,5cm) in die onderent ingeslaan, die spyker se kop afgeknip met ’n tang, en die punt dan op ’n stuk leiklip of die sementstoep skerp geskuur.

Die agterkant het ons dunner gesny met ons Joseph Rodgers messe. Daardie jare het al wat seun was gespog met ’n Joseph Rodger mes, die beste staal uit Engeland. Daardie messe (met enkel lem) het elk net ’n paar sjielings gekos.

As ’n seun nie ’n Joseph Rodgers mes gehad het nie het hy ’n goedkoper BEST knipmes gehad. Ons het altyd gesê BEST staan vir ‘Baas Ek Sny Treurig, maar Tog Sny Ek Blik!’ Vorentoe gespel en dan terug gespel. Die kleurlinge, baie Afrikaanssprekende persone ook, sê sommer ‘Jy reverse agteruit.’ Ai, waar is daai dae? Ons het gereeld rympies gemaak van afkortings. Bv. vir GPO/HPK – wat op alle poskantoorvoertuie se deure geskryf is. Het ons sommer gesê: ‘Gee Pennie Oom / die sinsnede wat ons vir die afkorting HPK gegee het, is te lelik vir woorde.

Ek het gedurende ons vakansie in 2010 weer ’n enkellem Joseph Rodgers mes te Jeffreysbaai gekoop. Die koopprys?.... ’n hele R319,00!! Die prys staan nog op die boksie

Só lyk my nuwe duur Joseph Rodgers mes. (Foto: Ben)

Jong julle moenie my so in die rede val nie. Waar was ek nou weer? O ja, by die agterkant van die selfgemaakte/gesnyde pyl.

Ons het op die agterkant van die pyl in wording, ’n kruis gesny en twee stukkies karton gevou en ’n stertvin (‘flights’) gemaak. ’n Teiken op ’n stukkie karton getrek (so vier ringe) en dit dan as teiken teen die muur bokant Rassie se bed met ’n spyker vasgesit. Ons het nooit enige ongelukke of misgooie gehad nie, maar dié Sondag gooi Rassie eerste, ek lê op my maag op sy bed en kyk so op na die teiken. Sodra die veerpyl, dit het meer na ’n missiel gelyk, in die karton en/of die muur vassit, trek ek die pyl uit en gooi dit terug na Rassie toe. Dit steek in die plankvloer voor hom vas, hy trek dit uit die vloer uit, mik weer en gooi, dié slag skram die pyl van die muur af en steek só een duim (±2cm) in my linker boud vas – deur die dun ou kortbroekie – nog steeds dra ons mos nie onderbroeke nie – ek vlieg op, skree asof ek vermoor word, Rassie gryp my vas, druk my bek toe en sê ek moet ophou tjank want Pappa sal ons kom foeter. Ek bly snik en kyk of ek die pyl kan sien, maar Rassie sê: “Jong, kom ons trek dit uit, dit sal nie eens bloei nie, want ’n spyker maak nie ’n groot gat nie.”

Hy het die pyl uitgetrek en ek het ’n bek getrek en oë toegeknyp en my vuis in my mond gedruk om nie te skree nie. Hy neem toe Vicks en smeer my boud daarmee. Dit was die einde van die dag se pyltjie gooiery. Ons het eers later jare vir Pappa en Mamma van hierdie episode vertel. Ek het gelukkig nie ‘kli(e)m-in-die ka(a)k’, of wat is die siekte se naam nou weer, van die spykerwond opgedoen nie – dalk het die Vicks tog gehelp! (Amper soos beet vandag se dae vir VIGS sou help – só was dit mos deur die vroeëre swart vroulike Minister van Gesondheid, Nkosazana Zuma, vertel.)

Die sleutel in die slot van die deur wat na die Von Solmse se gedeelte van die huis gaan, het nie lank gesluit gebly nie, ons wou sien wat agter daardie deur is. Rassie het dit mooi oopgesluit, en sien toe daar staan so ’n paar groot suikersakkies wat krop gebind is. (Ek kan sommer sien julle maak sulke bobejaanwenkbroue want julle weet nie wat suikersakkies is nie. Daardie jare het die winkels hulle suiker van die leweransiers in goiing/hempsakkies gekry. Dit was net mooi die helfte só groot soos ’n streepsak, wat ook van goiing/hemp gemaak is. In streepsakke het meel, mieliemeel, mielies, koring en ander gebruiksgoedere gekom. Die boere het dit ook gebruik om die koring wat gedors word, in te sit en by die koöperasie en die meule te lewer.) Wat is krop bind vra julle? Ek vergeet julle is mos stadskinders wat nie weet van wat alles op ’n plaas aangaan nie. Kom ek verduidelik:

“Dis wanneer ’n sak se inhoud nie tot bo vol is nie, dan neem jy die boonste punte en bring dit bymekaar en bind dan ’n tou daarom vas – amper op dieselfde manier soos die dogters vandag se dae hulle poniesterte vasknoop. Mooi verduidelik nè?”

Jong, julle laat my afdwaal. O ja, Rassie stuur my in om te kyk wat in die sakkies is, hy sal ‘kywie speel’ (dophou) en die deur só op ’n skrefie oophou. Nou moet ek stilletjies loop want die deur aan die anderkant van die kamer staan oop en ek hoor hoe mense praat. Ek sukkel om die tou se knoop los te kry, maar slaag tog daarin om die eerste sak s’n los te kry. Wat is daar in hierdie sakkie? –wag ek vertel julle later. Ek kry die tweede sakkie ook, na ’n groot gesukkel, oop en vind rosyntjies daarin. Die geheime inhoud van die eerste sakkie? – dit het droëperskes bevat. Nou vra julle vir my, wat maak die prinsipaal met só baie droëvrugte?

Wel in ons jare het die skole eenkeer per week droëvrugte aan die skoolkinders gegee en ook lewertraan – baie gaga, is eintlik walvisolie. Dis om te verseker dat die armblanke kinders wat skool bywoon, genoeg vitamiene inkry. Jong almal was maar arm, dis toe net só na die 2de wêreldoorlog, kos was min en peperduur, geld was nog minder en die Smuts-regering (Die Sappe) het maar gehelp waar hulle kan – amper soos die voedingskema wat die Mandela-regering aan die skole in

die sogenaamde agtergeblewe gebiede (swartgebiede) gegee het, wat gestaak moes word, want daar was ook allerhande onheilighede en korrupsie wat daar uitgebroei het. Hierdie fontein van peuselgoed vir ons twee het nie lank geheim gebly nie, want ons moes dit ook met die ander kinders deel anders verklap hulle ons dalk by Pa en Ma.

Die laaste insident waarna ek nou gaan verwys, is die groot pak slae wat die vier Du Plessis kinders, almal wat tuis was, seun en meisies, van Pappa gekry het. Dit was Anna, Ben, Babie en klein Maggie, ja sy was groot genoeg om ook ’n paar rapse te kry. Kowie was toe reeds na ouma Annie van Eck toe op Barrydale. Sy sou amper soos die hedendaagse au pair dienste vir ouma lewer, want ouma het begin oud word en kon nie al haar huispligte na behore verrig nie. ’n Niggie van ons, Ria Kirchner, dogter van een van Mamma se susters op Barrydale, suster van wyle oom Attie Kirchner, het eers hierdie diens gedoen, maar sy het klaargemaak met skool op Barrydale en het begin werk. Amper verloor ek die draad van my storie – julle moenie my só in die rede val nie. Wel meneer Von Solms het ’n droë boom naby die skool afgekap en die takke en stompe het langs sy kant van die huis gelê. Pappa sê die môre, net voor hy met die padkamp se rooi Ford platbaklorrie werk toe ry, ons moet tog nie daardie takke na die houtmaakplek, aan ons kant van die huis, neem nie. Dis nie ons hout nie, maar meneer Von Solms s’n. Pappa kom die aand, net na donker tuis, en die lorrie se ligte val op ons houtmaakplek en hy sien die takke lê by ons hoop wingerdstompies en droë wingerdlote. Pa kom die huis in, donderweer was nog nooit só swaar nie, was hy kwaad?....Dis baie lig gestel. Nou begin die inkwisisie:

“Anna, wie het die takke na ons houthoop toe gesleep?”

“Nie ek nie, Pappa.” Nou dieselfde vraag aan my:

“Nie ek nie Pappa,” en só met die ry af van Hendrika (Babie) tot by Maggie. Japie was ook daar, maar hy was nog klein en kon geen takke sleep nie.

“Nou as julle nie vir my wil sê nie, looi ek julle al vier”

Met die aanhoor van hierdie straftoemeting wat gaan kom, hoor jy alreeds die kakofonie van tjank in vier verskillende stemhoogtes, Ma wat skerm, Pa luister nie, hy raps elkeen met een hou en begin weer van vooraf by die oudste. (Ek sweer myne was die seerste want ek is mos die seunskind) Uitkoms kom gelukkig gou, want meneer Von Solms kom by die huis in en vra: “Japie wat gaan aan dat die kinders só skree?”

Pa vertel hom dat hy besig is met ’n ondervragingstegniek om die waarheid by sy kinders uit te vind oor die takke wat by ons houthoop lê.

Von Solms, (ek wonder darem wat was sy noemnaam?) sê: “man, ek is jammer, ek moes eintlik vir julle laat weet het, ek het Leon, (dis sy seun) gesê om die takke daarnatoe te neem.”

Pa sê dankie en Von Solms gaan huis toe. Mamma skep op en so deur die snikke, trane en loopneuse, eet ons in stilte ons kos. Na dankie sê na ete, vat ons boeke, elkeen kniel langs sy stoel en Pappa begin bid. Hy vra vir Liewe Jesus verskoning dat hy sy kinders vanaand onnodig geslaan het. (hy het getugtig gesê). Nou begin die snikke weer van vooraf en die kakofonie is nou in skerper toonhoogtes. Pappa sê amen, en Mamma, wat gewoonlik dan begin bid, bid die aand nie en sê toe: “Toemaar, kom julle moet gaan was en gaan slaap.”

Ons hele lot, van die kleinste tot die grootste, sê gewoonlik ook, nog knielende, ons gebedjies op nadat Mamma gebid het, maar dié aand kom sê ons, ons gebedjies op by Pappa en Mamma as ons hulle kom nagsoen. Ons elkeen word na die nagsoen vasgedruk, voordat ons, ons bedwaarts wende. Baie jare later, ek het al gewerk, vertel ek ook so by ’n etenstafel na ete, dat dit darem ’n seer pak slae was wat ons verniet gekry het.

Almal wat dié aand van die tugtiging teenwoordig was, stem saam en ons lag alte lekker oor dié episode. Pappa sê toe so droogweg: “Ek dink julle het dit seker maar verdien vir dié goed wat julle alles aangevang het wat ek en Mamma nie van geweet het nie!” Weer lag ons lekker oor die ‘waarheid’ wat gespreek is.

Ek het wel gesê dat ek net oor vier insidente melding sou maak, maar ek wil darem ook vertel van wat nog by daardie plaasskooltjie te Voorsorg met my en Rassie gebeur het toe ons die foefieslaaid (verafrikaans van die Engelse ‘foofy-slide’) gedokter het, en…….. ag, los dit, kom ons gesels nou oor wat daar op Worcester gebeur het toe ons kamphuis klaar ‘opgesit’ is by die padkamp en ons soontoe moes trek: Wel julle hou nou só aan dat ek ook die foefieslaaid episode moet vertel, daarom sal ek só kort moontlik ’n relaas daarvan gee. (Julle moet onthou dat alles wat ek en Rassie aangevang het, nie op die ingewing van die oomblik gebeur het nie, maar dit het met vooraf beplanning, koukus en sameswering gepaard gegaan en as daar konsensus is, dan het die uitvoering daarvan gevolg.):

Daar was ’n baie groot bloekomboom net buite ons buitekamer, naby die wingerd se draadheining, en so 15 treë weg was daar die buite lewetrie, hierdie een het nie meer ’n put gehad nie, maar ’n emmer, ‘n paar treë weg was daar ’n vyeboom, net so hoog soos die lewetrie se dak. Die boonste anker van die foefieslaaid was so twaalf voet (± 3,5 meter) van die grond af aan ’n sytak van die bloekomboom vasgemaak. Ons het bloudraad gebruik. Man, julle pla my, bloudraad is baie dikker as binddraad en baie sterk en werk moeilik, verstaan julle nou? - die vashegtingspunt op die grond is net buitekant ’n steengebou wat as waskamer gebruik is, so vyftien treë weg van die bloekomboom af, waar ons ’n ysterpaal in die grond ingeslaan het en die bloudraad daarom vasgewoel het. Ons het darem eers ’n stuk gegalvaniseerde waterpyp, ongeveer 8duim (±20cm) lank, by die onderpunt van die draad in gesteek, voordat ons die bloudraad om die ysterpaal vas gewoel het. Nie een van ons kon die pyp, wat as handvatsel moes dien, teen die skuins draad opgooi tot by die ontvangkant in die bloekomboom nie. Nou het ons ’n slinger geprakseer deur ’n stuk bloudraad te buig, dit by die pyp se bek in te steek en dan moes jy ’n ent na die boom se kant toe hardloop en met ’n Dawid se slingervel-aksie, die pyp na boontoe skiet en die een wat wil ‘slaaid’, staan op ’n tak en vang die pyp. Dit het elke slag gewerk! Dawid sou nie beter kon doen nie.

Almal kry nou kans om met die ‘slaaid’ af te gly. Die roete is oor die lewetrie, tel jou bene op anders vang jou maermerrie die dak, oor die top van die vyeboom, die blare en groen vye spat die wêreld vol, dan kom die waskamer vinnig nader en jy los so vier of vyf tree van die eindpunt en maak sagkens in ’n stofwolk met moeder aarde kennis. Nou het julle die modus operandi (die betekenis van hierdie groot Latynse woorde is - wyse van optrede) van hoe daar met die ‘slaaid’ gegly word. Om nou die storie kort te knip, die klein Leon von Solms wil ook foefieslaaid ry. Ons sê toe vir hom, ons sal hom die volgende dag toelaat. Hy het hoeka al ons geheim van die ‘slaaid’ by sy pa gaan openbaar en ons was eintlik kwaad vir hom oor sy klikbekkigheid. Rassie en ek besluit ons gaan hierdie ‘slaaid’ dokter. Waar die bloudraad om die tak in die boom gedraai is, knip ons dit so halfpad met ’n tang af, en draai die punt van die draad losweg oor die gedokterde punt. Die volgende dag toe Leon daar afseil, breek die draad, gelukkig net nadat hy oor die lewetrie en die vyeboom is en val hom disnis op die harde grond. Tjank natuurlik en hol kruppel-kruppel huis toe. Ons bly maar staan en probeer troos. Toe sy pa, Von Solms, die ongelukstoneel kom besoek, toe sê ons vir hom dat die draad per ongeluk gebreek het – seker warm geword van die pyp wat teen die draad skuur as ons gly. Ons woord word aanvaar en ons moes toe die ‘slaaid’ afbreek en die draad gaan bêre.

Terugskouend, en met my kennis van die Reg wat ek in die polisie opgedoen het, kan ek met my tong in die kies nou die volgende uitspraak maak:

“Dit was jare der jare gelede en niemand kan ons nou weens aanranding, óf poging tot moord, aankla nie, want ek beroep my nou op die Romeins-Hollandse Reg, waarop ons regstelsel gebaseer

is, wat baie uitdruklik bepaal dat ’n misdaad van daardie aard, na 20 jaar verjaar. Niemand kan jou dan vervolg nie, en verder, ek was nog nie veertien nie, en ’n kind van veertien jaar of jonger word deur die Strafreg as nie ‘toerekeningsvatbaar geag’ vir misdadige gedrag wat andersins strafbaar sou wees nie. Wel nou het ek oor hierdie kriminele daad van my gebieg, hoop julle doen dit ook eendag. Skotvry nè!”

Nou kan ek uiteindelik ’n bietjie konsentreer op my laerskooldae te Worcester Boys High School: Julle sê dis mos nie ’n laerskool nie, hoe dan nou? Wel lees die volgende afdeling en julle sal ’n antwoord op julle vraag kry. Sterkte.

2.3 Worcester – Die Dorpskool

Ons het op dieselfde rooi platbak Fordlorrie, waarop die letters NRF/CPA op beide deure verskyn, geklim. Ons gesin se wêreldsgoed is opgelaai en die pad gevat na die dorp Worcester toe. Ek wonder óf julle dalk nou al kon raai waarvoor die letters NRF/CPA staan. Ons het almal gedink dat dit Afrikaans vir die padkamp se naam is, maar later het ons verneem dat daardie letters vir National Roads Fund / Cape Provincial Administration’ staan. Op al die voertuie en padmaakmasjiene was hierdie letters op die een óf ander plek geverf en dit het ook ’n nommerplaat met die letters PA, gevolg deur syfers, opgehad. Ons kleinere kinders het altyd vir die ander skoolkinders gesê dat die PA op die nommerplaat, sê dis Pappa se lorrie. Ons het hulle nooit reggehelp nie, want dan verloor ons, ons aansien by die kinders. Ag ek dwaal nou bietjie af, maar só gedurende die vyftigerjare het die kleur van die padmaakmasjiene en -voertuie van rooi na geel verander. Vandag (2015), word dieselfde kleur vir alle Provinsiale padmaakmasjiene en -voertuie gebruik.

Ons ry deur die dorp, na De Doorns se kant toe, en só ’n ¾ myl (± 1 kilometer) buite die dorp kom ons by die padkamp aan waar die kamp ‘opgesit’ is. Ons maak ons almal diens- en handvaardig en begin die kleinere goed van die lorrie aflaai. Pa en ’n paar ‘boys’ (swartmense – hulle was almal Xhosas wat onder kontrak vanaf ‘Kxfferland’ (Die Transkei) gewerf is om op die paaie te kom werk en ander handewerk in die kampe te verrig.) Onthou ons het almal só gepraat, dit was nie rassisties nie, almal het mekaar verstaan. In die Geskiedenisboeke van ons tyd, is selfs melding gemaak van die ‘Kxffxroorloë’ – ek dink hulle het gesê daar was sewe, en ons moes dit leer en die datums onthou. Waar was ek nou weer? O ja, die intrek en ons moes plek vind vir alles en ook vir ons as kinders. Julle het seker al agtergekom dat ek nie veel datums óf jaartalle meld nie, maar hier kan ek onthou was dit 1947. Julle vra my hoekom onthou ek dit? Ons het by die skool elkeen ’n medalje (van koper, ons het aanvanklik gedink dis van goud, omdat dit so mooi geblink het) aan ’n lint, en ’n Unie- en Engelse (Union Jacks) vlaggies gekry en langs die hoofstraat van Worcester in gelid gestaan en geskree en ons vlaggies gewaai, want die Koning van Engeland (King George VI) en sy vrou en hulle twee dogters, Elizabeth en Margaret, het ons land besoek. Elizabeth het na die afsterwe van Koning George VI in 1953, koningin van Engeland geword en tydens my memoires se teboekstelling, 2015, het die ou siel nog regeer. Margaret het ook groot geword en sy was die rondloper kind van die koning en sy het baie liefdes gehad. Sy is nog voor haar ma, Koning George VI se vrou, oorlede. Nietemin, die prosessie het in groot swart motor, waarvan die agterste gedeelte nie ’n kap opgehad het nie, met hoede op en met wit handskoentjies aan, na die kinders, ja, ook vir grootmense wat graag die ‘Royal family’ wou sien, gewaai. Ek wonder nou nog wat van my medalje geword het. Ag, dis seker tien klowe deur soos die platgetrapte patroondoppies van die Engelse fort op Richmond, waar dit ook ’n onbekende rusplek gevind het. Nou vir skool toe gaan. Mamma stap saam met ons. Die meisies word by hulle skool gelaat en toe stap Mamma saam met my na Worcester Boys High School/Skool skool toe. Ons sit in die saal en alles is Engels, Engels gepraat, Engels gebid en selfs, begryp jou aan, Engels gesing. Watter katastrofe! Ek wil weghol, maar moet gedwee sit. Gelukkig, toe die saal leegloop kom daar ’n onderwyser na ons toe. Hy sê toe vir

Mamma, die slag op Afrikaans, amper soen ek die man: “Mevrou, welkom, ek sal jou seun by sy klas besorg. Vanoggend was dit die Engelse oggend en môre is dit weer Afrikaans.”

Só het hulle die taalgebruik elke tweede dag omgeruil. Ons moes selfs op die Engelse dag ons vrae in die klas in Engels vra en met mekaar op die speelgrond ook Engels praat. Daardie dag was beide speelgronde redelik stil, net die ‘Limies’ (Engelse kinders) het lawaai, want ons Afrikaanse kinders kon mos nie in Engels skree, lawaai en speel nie! Nou was ek meer gelukkig nadat ek gehoor het dat ek ook Afrikaans in die skool kan praat. Die Afrikaanse oggende in die saal was alles in Afrikaans, en die Engelse oggende alles in Engels. Elkeen moes ’n Halleluja en ’n Church Praise sangboekies aanskaf. Toe kon ek darem ook saam uit die Engelse singboekie sing. Boys High was van sub A tot by st. 10 (graad 1 tot by graad 12) Ons laerskoolkinders het net ’n aparte speelgrond gehad, want die onderwysers was bang die groot seuns sal ons afknou.

Afdruk van die medalje wat elke kind in 1947 ontvang het. So het die motor gelyk waarin hulle deur die strate gery het. (Foto’s: Google)

Ons was nie lank op dié dorp nie, maar tog kan ek een insident baie goed onthou. Ek moes hospitaal toe gaan, dieselfde ou siel wat my linkerduim se nael só vermorsel het, ja, ek gee hom die skuld en nie die speelding, die koekepan wiele nie, sal my mangels kom uithaal. Nou is ek só bang en vra vir Mamma of hy weer sy skêrtjie gaan gebruik om my mangels uit te haal. Mamma stel my gerus en sê dat ek niks sal weet of voel nie, want ek sal slaap as hulle dit doen. In die teater, ek het later hierdie groot woord van teater geleer, het hulle ’n bakkie op my neus gesit en gevra ek moet diep asemhaal en tot tien tel. (Ek het agterna gehoor dat daar chloroform in die bakkie is wat oor my neus geplaas was) Ek dog toe só, ek is mos al mooi groot ek sal sommer tot honderd ook tel as hulle dit wil hê. Ek begin tel: Asem in-een, asem uit, asem in-twee, asem uit, asem in-drie, asem uit, asem in- vi… en toe sien ek allerhande goed voor my oë – dis reënboë, spelonke, motors, mense, goggas, riviere, drake en ag, weet nie wat alles nie. Toe ek wakker word, lê ek in die hospitaalbed tussen die wit lakens. Ek wil die nursie (verpleegster) wat by my bed staan, vra waar Mamma is en wanneer kan ek huis toe gaan, maar my mond gaan net oop en toe, soos ’n vis wat op droë grond na asem snak, en my keel brand soos vuur. Sy praat gelukkig en sê ek moet mooi stil lê, dan sal ek gou gesond word. Ek sal die volgende dag kan huis toe gaan as Mamma my kom besoek. Die nag word ek wakker, ek voel nat om my nek, ek jeuk en my vel brand. Wat de hel gaan aan! Ek roep,

maar net sulke kreungeluide kom uit, gelukkig word die oom wat in die bed langs my lê, wakker, en ek hoor hy roep: “Nursie, nursie, kom help die seun!”

Sy kom in en toe lig sy met ’n flits in my oë en sy vloek. Dit was te lelik wat sy gesê het. Sy sit die lig aan en sê: “Jy is vol bloed en die miere loop oor jou nek en klere wat vol bloed is!”

Ek word gewas, en kry ’n jurk-affêre om aan te trek. Kry skoon lakens en nou word ek weer in die bed gesit. (Ek was nou al sê amper 11 jaar) Het gelukkig nie verder deur my mond van waar die mangels verwyder is, gebloei nie en die nag rustig deurgeslaap. Die oggend het Pappa saam met Mamma hospitaal toe gekom en ons is weer met die rooi Ford platbaklorrie huis toe.

Voordat ek oor my ‘onthou’ by die volgende skool gaan skryf, wil ek baie graag ’n paar staaltjies van wat Pappa, dis nou oupa Dupie, as ’n kind in Worcester aangevang het, te boek stel, soos wat dit aan ons kinders deur homself en Pappa se suster, tant Kotie, oorgedra is:

Pappa het as kind in Worcester groot geword en by dieselfde Worcester Boys High School / Skool skoolgegaan. Pa-hulle het nie ver van die skool gebly nie en die Skool vir Dowes en Skool vir Blindes was albei in Worcester geleë. Pappa het vertel dat hulle teen die skool vir dowes rugby gespeel het. Hulle, as horendes, was maar onnutsig tydens die spel, want die dowes kon nie die fluitjie hoor as spel moet stop nie, dan het die horendes net gaan stil staan, dan weet die dowes die fluitjie het geblaas. Nou het dit gebeur dat as een van Pappa-hulle se spanmaats met die bal hardloop en hy sien een van die dowe outjies wil hom duik, het die spanmaat botstil gaan staan. Die dowe outjie huiwer en gaan ook staan, nou spring hulle spanmaats weg en hol dat dit bars en só wen hulle lang ente veld. Dit het glo nie lank vir die dowes geneem om hierdie truuk uit te vind nie, toe het die dowes aanhou speel, totdat die hele span gaan stilstaan het en in die proses was die horendes baie swaar gelak nadat spel reeds gestop het.

Tant Kotie, een van Oupa Dupie se susters, en haar man oom Hennie, het op die plaas Keerweder in Stellenbosch se distrik geboer. Tant Kotie het heelwat van oupa Dupie se gesegdes en dinge aan ons vertel. Sy vertel dat oom Paul, een van Pappa se broers net ouer as hyself, glo op en af in Durbanweg, dis die straat waarin Pappa-hulle se huis was, met oom Paul se fiets gery het. Daar was glo ’n ou tantetjie wat naby hulle gebly het wat ’n paar hoenders gehad het wat in ’n oop stuk veld oorkant hulle huis gaan skrop het vir iets om te pik, sodra hulle uit hulle hok losgelaat is. Oom Paul kom weer straat af en die tantetjie roep die hoenders hok toe en hulle begin oor die straat te hardloop. O wee, oom Paul ry die een hoender morsdood. Die tantetjie gil, maar Pappa wat eenkant weg van die ‘ongelukstoneel’ gestaan het, skree vir oom Paul: “Paul moenie worry nie, jy het aan die linkerkant van die straat gery. Dis die hoender se skuld dat hy dood is.”

Ons het nooit gehoor wat die uiteinde van hierdie ooggetuie se getuienis wat hy op die toneel gelewer het, was nie. Lyk my of die onnutsige streep nie net by Pappa alleen was nie, maar dalk oorerflik was en steeds is, selfs by van sy kinders en kleinkinders!

Die foto spreek boekdele oor hoe mooi en rustig dit daar op die plaas Keerweder was. (Foto: Ben)

Tant Kotie het ook vertel dat oupa Dupie, toe hy een middag van die skool af by die huis aangekom het, hy vir sy ma gesê het dat Ackermans ‘n winkel op die dorp oopgemaak het, Hy het ‘n rympie van sy aankondiging gemaak. Dit het glo soos volg geklink: “Ma, Ma, Ackermans is ‘n lekker man, hy trek die hotnots goedkoop aan. Dis alles net one and eleven pence hay penny.” (Dit het beteken dat die klomp kleurlinge wat hy tydens die opening voor die winkel sien saamdrom het, en die advertensie van die klere teen die winkel se vensters wat een sjieling elf en ‘n halwe pennie kos, die hotnots van goedkoop klere voorsien. Dis in vandag se terme sowat 19 ½c.) Ackermans is hedendaags, (2015), nog steeds in bedryf en klee almal wat daar koop, nie net die kleurlinge nie, teen redelike bekostigbare pryse. Vandag se advertensies lees egter R9,99 of enige randsyfer gevolg met ’n 99! Sulke bedrae smokkel maar vandag nog met ons almal se koppe, want ons sien net die R9,00 raak en vergeet van die 99c wat amper nog ’n rand is!

Die volgende staaltjie het Pappa self vertel wat sy pa, dis nou my oupa, gedoen het. (Ek kan nie onthou of oupa Hansie nog gelewe het toe ek al verstand gehad het nie.) My oupa was die man in die dorp wat klapperhaarmatrasse en perdekarkussings reggemaak en ook nuwes op bestelling gemaak het. Hy was, volgens Pappa, ’n baie perfekte vakman en het nie veel nonsens geduld as mense hom lastig val as hy besig is om aan ’n matras of kussing te werk nie. Nou vir iets verder tot die aanloop van wat ek gaan vertel soos deur Pappa aan ons oorgedra. Daardie jare was daar nog nie spoeltoilette in Worcester nie en die emmerstelsel was die algemene belangrike plekkie, kleinhuisie, se opvanghouer. Pappa-hulle was nege kinders en een ou emmertjie was nou nie genoeg om al die opvangste te akkommodeer voordat die volgende nagwa sy verskyning maak nie, daarom was hulle bevoorreg om ’n tweede emmer te mag gebruik. Nou moet ek darem vertel dat die emmer was ’n vier gelling (± 15 liter) paraffienblik met ’n hingsel van bloudraad. Hierdie emmer was ook vol en het in die agterplaas aan die agterkant van die kleinhuisie gestaan, met ’n klein seiltjie daaroor sodat die brommers nie broeiplek het nie. Nou vertel Pappa verder:

Terwyl oupa Hansie, dis nou oupa Dupie se pa, besig is om die klapperhaar vir ’n matras te pluis, kom een van die bure daar aangestap en begin met oupa te gesels. Dis ’n ouerige buurman wat tydig en ontydig sy opwagting by die Du Plessis’s maak. Hy is nuuskierig verby, wil altyd iets weet, eintlik ’n bietjie van ‘n skindersiek, altyd uitgevat in ’n pak klere met onderbaadjie, hoed, hemp met stywe boordjie en das, horlosieketting, blink gepoleerde skoene en met ’n wandelstok in die hand en vol allerhande fieterjasies.

Oupa gesels nie veel nie, want die klapperhaar word op ’n besondere wyse gepluis en sy aandag is daarby om nie te fouteer nie. Wanneer klapperhaar gekoop word, word dit in ’n sak vas gepars en dan vorm dit harde klonte. Die klapperhaar word dan in ’n bondel op ’n seiltjie uitgeskud, en word dan met ’n rottang óf kweperlat, met ’n opwaartse beweging van die onderkant van die bondel na die bokant daarvan geslaan. Die saamgekoekte klapperhaar word op dié wyse van mekaar geskei en word ‘flossy’ (donserig).

Die buurman vra, kom ek gee hom sommer ’n naam, Jan: “Hansie, wat is daar onder die paraffienblik toegemaak?”, en hy begin sommer in die rigting van die toegemaakte blik te stap.

Oupa keer en sê: “Jan,kom weg daar,dis waterskilpaaie wat ek gevang het en ek wil hulle gaarmaak vir my hoë bloeddruk.”

“Ja maar Hansie, kan ek nie net ’n bietjie loer nie, ek het nog nooit waterskilpaaie gesien nie?” sêvra die buurman.

Oupa sê: “Jong daardie goed is wild, as jy daardie seiltjie oplig, spring hulle dalk uit en ek sal hulle nie weer gevang kry nie.”

‘n Varswaterskilpad lyk heelwat anders as die see-skilpad, en hulle stink vir die vale. (Foto: Google)

Die buurman staan só na die blik en kyk, gee nog ’n paar treë nader, staan stil, draai na oupa toe en sê: “Ag buurman, dis nou jammer dat ek hierdie goed nie te siene kan kry nie.”

Oupa sit sy rottang, reeds ’n bietjie ergerlik weens die buurman se onaangekondigde en onwelkome teenwoordigheid, neer en stap na hom toe en sê: “Nou goed, kom ek gaan wys hulle vir jou, maar wees versigtig, staan nader met jou kop tot by die blik en as ek die seiltjie optel, steek jy jou kop vinnig in die blik in en kyk jou kyk.”

“Hansie, sal die goed my nie byt nie?”, vra Jan.

“Nee” sê oupa Hansie, “daar is net drie in die blik, alhoewel hulle vreeslik wild is, lê hulle nou redelik stil, slaap seker, maar as jy vinnig jou kop indruk en kyk, sal hulle nie wakker word nie.”

So gesê, so word dit nou gedoen: Jan staan nader met sy neus tot by die kant van die blik, en sê: “Hansie jong, maar die goed stink vreeslik.”

Oupa ook nie links nie en sê: “Ek kan sien jy weet niks van waterskilpaaie af nie, die goed stink mos aller vreesliks. Knyp net jou neus toe en hou jou asem op as jy jou kop indruk.”

Jan staan reg, oupa weet dat hierdie paraffienblik is kant en wal van die Du Plessis’s se verwerkte kos en ongedreineerde water en koffie. Oupa begin om die kant van die seiltjie stadig op te lig en sê: “Jan, druk in en kyk!”

Oom Jan druk sy kop, met toegeknypte neus, vinnig onder die seiltjie in toe oupa dit verder oplig, drup van die inhoud in die blik aan sy snor, gesig en bril. Hy gee een skree en ruk sy kop weg en kom regop. Hy praat glo in tale wat die mense in die Babelse tyd nie sou verstaan nie, maar die kinders wat daar rondgestaan het, sien die petalje en hoor die aller vreeslikste woordeskat in die Hooghollandse taal. Hulle skater soos hulle lag, en maak dat hulle wegkom.

Pappa was seker ook teenwoordig, want hy kon hierdie storie met smaak en gebare vertel, só asof jy die ‘waterskilpaaie’ kon ruik en die buurman gebukkend sien staan, voordat hy regop gekom het na die kyksessie in die blik. Oom Jan het glo vir maande nie sy gesig by die Du Plessis’s gewys nie. (Seker nog steeds sy gesig, snor en bril gewas en homself gereinig van die skilpaaie se stank!)

Daarmee word hierdie afdeling afgesluit, want daar lê nog ver paaie vir hierdie Du Plessis en sy familie voor. Dis ’n ontdekkingstog wat enig is van sy soort. Kom lees wat volgende my lewenspad gekruis het as kind van ’n ‘padmaker’ se familie. Terloops, Christine Barkhuizen-le Roux het ’n baie interessante boek, ‘Die padmaker’ geskryf, waarin die wel en wee van ’n kind van ’n padmaker beskryf word. Skaf dit gerus aan. Dit word deur Human en Rousseau uitgegee.

2.4 Barrydale se Sekondêre Skool

Nou die beloofde ervarings wat ek by ons volgende standplaas en skool gehad het. Wel, julle is seker nou al vertroud met ons gesin se geskiedenis wat verblyf op ’n plek aanbetref. Die hoenders gaan nie uit hulle hok nie, alhoewel die hekkie oopstaan, die hondjie, half-foksie-half-stoepkakkertjie, staan by die deur en roer nie, en ons kinders staan aangetrek al is dit 5 nm (17:00). Wat dink julle gaan hier aan? Ja, julle is reg, die hoenders, die hond en ons staan reg want ons gaan weer trek!!Pappa kom die huis in en sê: “Ou vrou, ek is Kraaifontein toe verplaas. Ek sal maar weer vooruitgaan en julle kan dan op Barrydale by Lewiesa gaan bly.”(Mamma se suster Louisa en haar man, oom Harry.)

Barrydale vanaf ‘die hoogte’ gesien (Roete 62). Die rooi dak van Barrydale se Hoërskool kom netnet uit tussen die donker bome, links van die dame se kop. (Foto: Google)

Die tydjie te Barrydale het ons by al die tannies, ooms, neefs en niggies gaan kuier. Ek kan nie onthou wat my susters, in die kort tydjie wat ons daar was, alles gemaak het nie, maar ek weet dat ek die koppie (in die Transvaal, soos die Gauteng Provinsie toe genoem was, sou die Vaalpense dit eintlik ’n berg genoem het) bokant die skool saam met seuns, dis nou neefs en klasmaats, botterboom gery het.

Weet julle nie wat ’n botterboom is nie? Dis ’n vetplantagtige plant, eintlik dwergboompie met ’n dik stam van ongeveer 12 duim in deursnee (±30cm). Dit kan enigiets van drie voet na viervoet (±1,2m) hoog óf selfs hoër groei. Ek het op Google rond geswerf en sien toe die foto wat hieronder afgedruk is. Daardie foto van botterbome is heelwat groter en dikker as wat ons in Barrydale se rante gevind het. Ons sou bitter graag ook sulke groot botterbome wou gehad het toe ons onsself vermaak het deur dit te ry.

Kyk net hierdie groot botterbome! Die botterbome wat ons gery het, was darem kleiner. (Foto: Google).

Die botterboom het nie ’n diep wortelstelsel nie. Jy breek dit sommer uit die grond uit, breek die sytakke af, dit breek baie maklik, laat twee sytakke se stompies aan die groot stam oor, neem ’n stuk leiklip en sny die een kant (die onderkant) van die botterboom in sulke lang vertikale snitte, sodat die bas gekneus kan word en die snotterige slym kan uitkom. Die voorbereiding is klaar, nou draai jy die stomp om, klim wydsbeen oor die stam, bene en voete in die lug, hou aan die twee stompies vas en daar gaan jy, ore in die nek teen die steilte van die koppie af - regtig honderd bedonderd. Stuur kan jy dit nie, jy klou net vir die vale vas, en as dit te vinnig gaan na jou smaak, los jy die hingsels (vashou plekke aan die stompies) en skuur op jou blaker tot stilstand. As die botterboom ’n groot een is, lê jy soms op die bokant met bene reguit na agter. Dis egter moeiliker om van die botterboom af te val as die sitposisie, want in hierdie posisie het jy nie vastrap plek op die grond as jy wil stop nie. Dan rol jy maar af en val jou des merdes!! (Mooi woord nè?)

Onse kakiebroekies is gewoonlik gevlek en vol stof as ons by die huis kom. Ek luister dan maar geduldig na Mamma se ‘bergpredikasie’ van hoekom ek nie weer moet botterboom ry nie. Die rede was dat die botterboom se slym vlek glo die kakiebroek se sitvlak en die vlek kom nie uitgewas nie. Ek het geluister en besluit om nie weer te ry nie. Daardie besluit het net bly staan totdat ek telkemale maar weer deur my vriende omgepraat is om deel te hê aan hierdie resies berg-af. Ons kon maar netsowel elke aand Psalm 23 as gebed opgesê het, en dit soos volg verander het: ‘Die Here is ons Herder,’ nie in die dal van groen weivelde nie…,’ ‘teen die koppie se hang wanneer ons botterboom gery het.’

Julle vra al weer na onderbroekies. Nee, nog nie begin dra nie, maar die broeke het darem voerings van meelsakkies in gehad wat jou boude en jou kroonjuwele ’n bietjie beskerm het. As die broeke se sitvlakke ’n bietjie dun geraak het, het dit ‘spare wheels’ (sulke amper niertjievormige lappe) op die stêre gekry. Gewoonlik ook van kakiemateriaal, maar die kleur was helder in kontras met die

verbleikte kakiekleur van die broekies. Die grootste gros seunskinders se ouers was maar arm en hulle het ook hierdie ‘spare wheels’ op hulle broeke gedra.

Al ons kinders wat toe al reeds in die skool was, ek dink dit was net Anna, Kowie, ek en Babie, dalk Maggie ook, het vir die baie kort tydjie wat ons by tant Lewiesa-hulle gebly het, by die Sekondêre skool te Barrydale klasse bygewoon. Rassie was vanaf Richmond (KP) deur Pappa-hulle in die koshuis te Rawsonville, in die Worcester se wynlande, geplaas sodat hy nie baie van sy skoolwerk in die hoërskool moet verloor nie. (Rassie my broer, as hierdie beskrywing waar jy jou bevind het, nie reg is nie, aanvaar dit maar as ‘moontlik waar!) Jong, weet julle nie wat ’n sekondêre skool is nie? Dis ’n skool wat vanaf sub A (graad 1) tot by st. 8 (graad10) is. Daar is geen st. 9 en matriek klasse nie. Die kinders wat st. 8 geslaag het, moet óf op Riversdal óf op Swellendam óf op Montagu hulle laaste twee skooljare gaan klaarmaak. Barrydale se sekondêre skool, het sedertdien ’n volwaardige hoërskool geword. Vandag is Barrydale ’n gewilde blyplek van die Kaapse Engelse elite, want hulle het bykans alle ou woonhuisies opgekoop en dit in ‘mansions’ verander. Hierdie menere, en dames, is reeds gevorderd op hulle lewenspad en hulle kinders is reeds uit die huis. Dit het veroorsaak dat die Barrydale sekondêre skool waarin ons was, wat vandag ’n volwaardige hoërskool is, nie veel wit kindertjies as leerders het nie, maar dit het nou ’n volwaardige nuwe SuidAfrika se konglomeraat van rasse (amper soos ons nuwe landsvlag) geword!

Ek het vroeër vir die interessantheid en die komiese daarvan vertel hoe my oupa Hansie du Plessis, sy ou buurman gevang het met die waterskilpaaie-storie wat hy uitgedink het om van die ou nuuskierigeagie ontslae te raak. Wel, ek dink tog dat die lesers ook die vertellings wat ons as kinders moes aanhoor en ons hare laat rys en ons harte teen ontelbare slae laat klop (pomp) het, sal geniet. Hierdie vertellings, kom ek noem dit sommer stories, onwaarhede of poetsbakkery vir ons kinders wat dit glo ernstig moet opneem, het gewoonlik die volgende pad gevolg:

Oupa en ouma Dupie het gereeld by die Van Eck familie in die dorp gaan kuier. Dis nou die familie van ouma Dupie, haar broers en susters, ouma Dupie was mos een van 13 kinders, waarvan daar ’n hele klomp op Barrydale gewoon het. Die kuiery het eers na sononder plaasgevind want die aandete moes eers agter die rug wees, die skottelgoed gewas en die aandgodsdiens moet reeds gehou gewees het. Barrydale was daardie jare ’n ou klein dorpie en ons het dan as hele gesin so gesels-gesels na van die ooms en tantes toe geloop. Daar was net grondstrate en geen beligting langs die strate nie. Die enigste elektrisiteit was glo ’n diesel kragopwekker wat die kerk en die pastorie van ds. Kikilus van lig voorsien het. Dit was donker, maar ons was glad nie bang nie, want pa en ma is mos by ons.

Die grootmense gesels oor grootmenssake in die voorhuis (sitkamer), ons kinders is gewoonlik in die kombuis waar ons allerhande speletjies, soos swart varkie, bewaar die knikkertjie, telefoon, ens., by kerse of lampe, speel. Die geselsery gaan maar oor ditjies en datjies, totdat een van die kinders, dis nou een van ons gesin óf een van die neefs of niggies kom tande tel by die grootmense. Nou word die tandeteller só subtiel moontlik as deel van die grootmense se geselsgroep ingesluit en die gesprek word onwillekeurig na die onderwerp van goëlery gestuur. Die tandeteller kom gewoonlik gou by ons kinders sê waarin die rigting van die grootmense se gesprek gestuur word. Ons is bang vir die kombuis waar die skaduwees van ons kinders teen die muur flikker, en stop ons spelery summier en gaan voorhuis toe om ook deel van die toehoorders te wees. Nou is ons ore oop, maar ons skuif so ongemerk nader na ons ouers toe en nader na mekaar toe, want daar gaan nou oor goëlery gepraat word. Weet julle nie wat goëlery is nie? Wel, dis die towerkunsies van Maleiers. Ons het hulle sommer Slamse genoem. Ek wonder, hoekom? Seker verwringing van die naam Islam.

Kom ek vertel ‘n paar van hierdie stories:

Oom Arrie van Eck (ouma Dupie se broer) het ’n boormasjien gehad waarmee hy boorgate geboor het in die distrik en selfs tot so ver as Ladismith KP (Ladi met ’n ‘i’ en nie ’n ‘y’ nie). Hy vertel hy sit een aand saam met sy twee volk (kleurlingmans) wat by die boormasjien werk, by die kampvuur waar hulle aandete genuttig het. Glo ’n wildsbokkie geskiet, en van die vleis gaargemaak, die ander vleis het hy ingesout en in een van die doringbome opgehang. Dis nagdonker. Die vuurtjie wat sommer op die grond naby die bokwa gemaak is, begin laer brand en kwetter kort-kort soos wat ’n klippie in die vuur bars van die hitte. Hy en die volk slaap elk op ’n grondseiltjie onder die bokwa. Die windkant is met goiingsak afgesper om die wind uit hulle slaapplek te hou. Die drie se geselsery raak al hoe stiller.

Oom Arrie sê skielik só saggies moontlik: “Manne watter bleddie hond loop hier rond, hier is mos nie huise naby nie?” Die volk vlieg van hulle sittende posisie op en gaan na oom Arrie toe.

”Kyk daar!” en hy wys in die rigting van die boormasjien.

“Kan julle die hond sien?”

“Ja, Oubaas.”

Dis ’n pikswart hond, maar ’n grote, jong. “Kyk die hond is amper só groot soos ’n donkie.” Oom Arrie spreek nou die grootmense in die voorhuis aan, met ons kinders wat nou amper op mekaar sit en met groot oë na oom Arrie kyk.

”Japie, (dis nou oupa Dupie) die hond begin in sulke klein sirkeltjies loop en kom al hoe nader na die vuur toe waar ons sit.

Die volk sê: “Jerre Oubaas, die ding gaan ons kom opvreet, kyk hoe rooi is sy oë.” Ek sien dat hulle reg is, die hond se oë sit baie naby mekaar, voor in sy kop en nie langs sy kop soos ander honde s’n nie, en die kwyl loop uit sy bek.

Ek dog toe so ek gaan my nie laat opvreet van ’n hond nie, en spring op en skree; “Voertsek jou ongedierte”, maar hond se kind kom voetjie-vir-voetjie nader met sy kop omlaag met sy rooi oë stip op ons vasgenael en sy bek begin al meer en meer kwyl.

Ek gryp my geweer en besluit ek sal die ding moet skiet, anders vreet hy ons dalk op. Ek laai die Lee Metford ,303, het dit nog van oorlede Pa, (dis nou groot oupa Ben) geërf waarmee hy in die Boere-oorlog vele Kakies, (dis nou Engelse soldate geskiet het. Jy spreek kakies met ’n lang ‘a’ uit maar spel dit net met een ‘a’). Ek lig die geweer, korrel na ’n plek tussen die twee nou oë, wag ’n sekonde of twee, en toe dit ongeveer 5 treë van ons af is, die twee volk, staan nou al agter my en sê: ‘Oubaas skiet die ding’. My vinger krul stadig om die sneller, en net voordat ek sou skiet, is die hond weg. Dit het sommer net weggeraak. Mense, sommer net voor ons oë verdwyn, sonder dat hy weggestap of weggehardloop het. Ek kyk na die volk en hulle sê: ‘Oubaas dis ‘n spook, ons moet versit.’ Ek sê: Nee man, dis g’n spook nie, dis net ’n hond en ons kan nie versit nie, want die gat is halfpad geboor. Skielik begin die enjin van die boormasjien ‘start’ en ek hardloop om dit af te sit, want die stamper se tou kan nie sonder om vasgehou te word, begin stamp nie. Toe ek by die boormasjien kom toe vrek die enjin sommer self.

Weet jy, Japie, die oggend kyk ons of ons spore kan sien, maar daar is geen spore nie. Ek het die hond nie weer gesien nie, die boorgat klaar geboor en die boer op wie se plaas ek geboor het, het later vertel dat dit nie die eerste keer is dat die hond op sy plaas gewaar is nie. Hy glo dis ’n basterkruising (kan dit wees) tussen ’n donkie en ’n groot hond wat glo in die Boereoorlog op die plaas deur die Engelse doodgeskiet is. Dit was seker maar sy spook.”

Wel lesers, ek weet net dat ons daardie aand erg skrikkerig saam met oupa en ouma Dupie terug is na die huis waar ons gebly het. “Pappa, sal die hond ons nie kom vang nie?”

Ons word gerusgestel, maar bang het nie ’n naam nie, trap mekaar se hakskene kort-kort raak en almal wil die naaste aan Pappa en Mamma loop. Ons is te dankbaar bly dat ons ongesiens en onaangeraak was op die pad huis toe. Ek wonder nou nog of ’n donkie en ’n hond kan kruis om so ’n kruising (baster gedierte) daar te stel. Die hond met die donkie óf die donkie met die hond –begryp jou aan!

By ’n ander geleentheid het ons weer by oom Boet van Eck, nog een van ma se ander broers, en sy vrou Mina, (spreek maaina uit) gaan kuier. Weer na skemer. Oom Boet was ’n grofsmid (“blacksmith”) wat pikke, ploeë en koevoete skerp gemaak het en wawiele se ysterbande gekort het en nog allerhande ystergereedskap gemaak het. Dié twee mense het ook heelwat kinders gehad, maar ons het slegs met die drie jongstes kontak gehad want die ander was reeds amper grootmense. Wel, ons sit een aand weer so almal om die groot mense geskaar toe oom Boet met ’n goëlstorie begin:

“Mense, waar was julle toe ons nog so jonk getroud was en op ’n plaas naby Ladismith gebly het, toe daar ’n regte goëlaar met sy goëlery by ons betrokke was. Ek en Mina sit in die voorhuis, by kerslig, en ek lees uit die Hollandse Bybel ’n stukkie vir die huisgodsdiens. Terwyl ek lees, hoor ek hoe die kombuis se deur oopgemaak word – die bo-deur se skuiwer weggeskuif word en die onderdeur se werwel kraak toe dit afgedraai word - voetstappe klink op die perskepitvloer van die kombuis”. (Nou skuif ons kinders weer nader na mekaar om naby Pa en Ma te wees, want nou voel ons só koud in ons nekvelle van bangheid).

“Ek bly stil. Ek vra vir Mina :

“Wie sal dit nou wees wat só laat kom kuier?”

“Ek weet nie, ou man ”, antwoord Mina. Ek los die Bybel oop op die voorhuistafel, neem die kers en beide van ons gaan na die kombuis toe. Die bodeur se skuiwer is op knip, die werwel op die onderdeur reg gedraai en daar is niemand in die kombuis nie. “Dis snaaks, ek wonder wat gaan aan?”

“Ek weet tog nie, ou man, ons kan maar teruggaan.” Ons het pas ons sit op ons stoele gekry, toe hoor ons daar is weer voetstappe in die kombuis en skielik val daar ’n koppie van die kombuiskas af en ons hoor hoe die skerwe oor die vloer skuur. Dit word gevolg deur ’n groter slag, ons dink dis ’n bord, en ons spring op en gaan kyk, elk met ’n kers in ons hande. Daar is absoluut niks gebreek nie, en alles is stil. Ons gaan terug voorhuis toe, maar van verder lees en bid is daar nie sprake nie. Ons gaan toe maar inkruip. Rol rond, maar later oorval die vaak ons en ons slaap maar onrustig dié nag.”

“Die volgende môre het Mina met die kombuisbediende (hulle het toe nog gepraat van kombuismeid) gepraat. Sy ‘oe’ en ‘aa’ maar net en hou haar hande voor haar mond. Mense dié aand weer presies dieselfde geluide van kombuisdeur wat oopgaan, voetstappe, maar hierdie slag val daar meer goed op die vloer. Ons gaan kyk weer, sien die kombuisdeur is toe, daar is niemand in die kombuis nie, maar hierdie slag lê daar nie minder as drie koppies en twee borde fyn-enflenters op die vloer. Mina vee die stukke glas op en gooi dit in die paraffienblik wat langs die stoof staan waarin ons alle kombuis afval ingooi. Wel mense, ons het die volgende dag na ons buurman toe gery met die kapkar en perde. Die buurman was heelwat ouer as ons en hy sê dit klink na ’n goëlery. Ek vra die oom. “Oom, wat moet ons maak?”

Hy sê: “Jong, ek het gehoor dat ’n mens ’n pot kookwater op die stoof hou en as dit weer gebeur, gryp jy die pot en gooi dit op die plek waar die breekgoed lê.”

“Daardie aand stook ek die Dover stoof met die arnosterbos-stompies (renosterbossies wat volop is in die Karoo) en daar is ’n groot ysterpot vol water wat op die stoof staan en kook. Ons sit in die

voorhuis, weer half in die donker met net die kerslig wat so flikker-flikker en wag dat iets gebeur. Dieselfde storie word herhaal, die kombuisdeur wat oopgaan, op knip gesit word en voet-stappe. Ek staan stilletjies op en kyk om die kombuis se binnedeur in die kombuis in, ek sien niks, toe val daar meteens voor my oë ’n koppie van die kombuiskas af. Ek gryp die swart pot met water, brand nogal my hand, maar gooi die inhoud oor die vloer. Ons hoor iemand skree en dit raak doodstil. Ons tel die stukkende koppie op en ons gaan hou dié slag godsdiens in vrede.”

“Die volgende môre kom ons kombuismeid se man, hy is een van my werkers wat die blaasbalk moet trek, en sê dat sy vrou haar hande verbrand het en nie kan kom werk nie. Mina gaan na die stroois toe en praat met die vrou. “Wat soek jy in my kombuis in die nag?”

“Miesies ek is kwaad vir miesies wat laas week só kwaai met my was toe ek die strykgoed nie behoorlik gestryk het nie. Ek het ’n Slams (dis nou ’n baster kleurling wat in die Kaap is, wat die nasate van die ingevoerde slawe was) gespreek en hy het gesê ek moet die miesies kwaad aandoen deur haar uit die huis te goël. Ek moet my hare en my naelknipsels onder die agterstoepie gaan begrawe dan sal miesies-hulle my nie sien nie!”

“Wel, Mina vertel dié storie vir my en ek gaan toe na die agterstoep by die kombuis en langs die onderste trappie krap ek in die grond en kry ek toe wragtig ’n bondeltjie kroesies hare van ’n kleurling en ’n paar naelknipsels. Ek gooi dit toe in die vuur. Dit was die einde van die goëlery.”

Vrek bang het ons ook dié aand saam met Pa-hulle huis toe gestap. Ons was as kinders altyd gewaarsku om ons naels wat ons afgeknip het, bymekaar te maak en in die asblik te gooi en ons hare wat aan die borsels is, in ’n papier toe te draai en ook in die asblik te gooi, want anders kan die Slamse ook mense kry om by ons te kom goël as ons met die kleurlinge ’n potjie geloop het. Ha, Ha, Ha. Terloops, ek gooi steeds my hare wat aan die hareborsel vassit en my naelknipsels in die asblik! Ook maar bang nè?

Ek volstaan maar met hierdie twee vertellings, anders gaan jy, my liewe leser, vanaand net koppies en borde hoor val en groot honde sien rondloop!

Ons verblyf by tant Lewiesa was, soos reeds gemeld, nie ’n lang tydperk nie, ek dink dit was maar weer net so ’n maand of ’n paar weke, toe het Pappa ons kom haal Kraaifontein toe. Kom geniet my (ons) wedervarings op Kraaifontein.

2.5 Kraaifontein Laerskool

Waar is hierdie fontein waar die kraaie bly in die wêreld? Ons het maar weer met ’n PA-lorrie (Provinsiale Administrasie) getrek – ’n bietjie meer meubels en aardse besittings en kinders ook meer. Rassie het op Rawsonville in die koshuis agtergebly om sy matriek klaar te maak. Op Kraaifontein aangeland, sien ons dat die kamp ‘opgesit’ is in ’n groot bloekkombos, so tussen die treinspoor wat van die Kaap (Kaapstad) na Durbanville toe gaan en die ou teerpad na Paarl toe. Dit is mooi sanderige wêreld waar ons kan speel – so dink ons. Toe ons klaar afgepak het, hardloop ons toe ook sommer sulke draaie tussen die bloekombome deur. Ons voete en bene is pikswart –ek dink nou eers dat die sand wat ons bene en lieste só swart gemaak het, heel waarskynlik die feit is dat dit só naby die spoorlyn was, want daardie jare was alle spoorvervoer deur middel van stoomenjins getrek wat met steenkool gewerk het. Ma het altyd gesê dat die sand vetterig is. Al wat ek weet is dat dit het saans skrop gekos om skoon te kom. Ja, dan praat ek nie eers van die skurwe voete en hakskene wat fyn barsies kry van kaalvoet loop in die winter nie. Dan is dit oneindig seer as Mamma jou voete moet skrop, want jy is te kleinserig om dit self behoorlik te doen. Dan, as sy klaar is, maak sy kersvet en paraffien smeersel aan en smeer die geskropte voete en hakskene daarmee. Ai, eina! Ewenwel, ons moes maar skool toe loop, deur die bloekkombos, oor die treinspoor na die laerskool wat net aan die anderkant van die stasie geleë was. Die skool was deel

van die destydse klein gemeenskappie, dorpie, van so om en by ’n honderd siele – dit was nou die dorp Kraaifontein! Vandag se dae is dit natuurlik een van die groter voorstede van Kaapstad, dit lê net duskant Brackenfell. Ja, hier kan ek weer die jaartal onthou, dit was 1948, want daar het die agtste Du Plessis die lig gesien. Dit was Thys wat op 15 November 1948 gebore is, net ’n dag na Charles, die seun van Koning George V1 se dogter Elizabeth, later die Koningin van Engeland, Elizabeth II.

Kom ek vertel julle gou ’n insident of twee van wat ek waargeneem en onthou van klein Thys as ’n baba en van Pappa wat hospitaal toe moes gaan:

Thys was ’n paar maande oud en lê in sy babamandjie, cum cot-affêre, in die voorhuis (Dit is wat ons almal nou se dae die sitkamer noem). Mamma is besig in die kombuis en sy hoor hoe Thys klaerige huilgeluidjies maak, maar sy gaan aan om dit waarmee sy besig is, klaar te maak. Hy raak egter stil en nou gaan Mamma voorhuis toe en daar sien sy die dogtertjie van ons kleurling bediende (ons het destyds nie van kleurlingdogters gepraat nie, sommer kleinmeid gesê) van jaar of vier oud, wat by die bababedjie staan en sy hou ’n stuk wors, waaraan sy besig was om te eet, by Thys se mond. Hy lek en kou-kou so ewe met die trane nog in sy oë. Mamma berispe die klein dogter en steek haar pinkie in Thys se mond en haal die wors stukkies uit sy mond. Nou skree hy weer, en só ook die dogter na die streng berisping van die ounooi. Mamma het hom darem stil gekry en die dogter se ma het haar weer gepaai. Ek wonder nog wat sou gebeur het as Mamma nie kom kyk het hoekom die kind skielik so stil geraak het nie.

Pappa was ’n redelike strawwe roker, so af en toe pyp gerook, maar meestal sigarette. Sy ‘brand’ was Kommando ‘oval’ (plat sigaret). Jy het daardie dae ook die Kommando ‘round plain’ (rond sonder kurk) en Kommando ‘round cork’ (rond met kurk) gekry. Hy het die laaste twee soorte net gerook as die ‘oval’ nie beskikbaar was nie. Daardie jare is die sigarette net in ’n groot boksie met 50 sigarette in, verpak. Pappa het elke week sy voorraad aangevul, sewe pakke 50 vir die week. As die week se voorraad op is, dan rook hy pyp tussen in. Die een Sondagmiddag begin Pappa baie braak en kla van erge naarheid. Om dit te probeer verdryf neem hy kort-kort ’n sigaret en begin dan te rook. Hy raak egter elke keer erger naar en sê hy het ook ’n erge pyn op die krop van sy maag. Mamma dokter hom met allerhande medisyne, boegoe tee, groen amara, witdulsies en nog watag weet nie eens waarmee nie - maar Pa sê toe: “Vrou jy moet maar die dokter laat kom.”

Ek kan nie eens meer onthou hoe Mamma die dokter gekontak het nie, want ons het nie ’n telefoon gehad nie, maar wat saak maak is dat hy wel gekom het. Later kom die dokter daar aan en hy sê hy dink dis ’n ontsteekte blindederm, en Pappa sal moet hospitaal toe gaan. Hy sal ’n ambulans laat kom. Die ambulans kom en Pappa word in die ambulans gelaai, Mamma neem afskeid met ’n soen en begin huil met klein Thys op haar arm, Maggie en Japie, ook nog klein, begin ook snot en trane huil, want Mamma huil dan. Ons ander staan stil rond en sluk ons hartseer weg soos iemand wat aan ‘n wurgpatat wurg. Pappa is toe vir die ontsteekte blindederm opereer en het na ’n paar dae, dalk langer as ’n week, huis toe gekom en sy rokery was op ’n end. Het nooit weer gerook nie en die week se voorraad sigarette, asook die pyp en twak, het hy vir iemand anders in die kamp gegee.

Ons het by geleentheid vir oom Hennie en tant Kotie Roux, Pappa se suster, op hulle plaas Keerweder in die Stellenbosch se distrik gaan kuier. Pappa het ’n neef van ons, Bennie van Eck, aan ons almal as Hakkel-Bennie bekend om hom te onderskei van al die ander Benne in die familie, se tweesitplek-Ford motor met ’n kattebak wat na buite oopslaan, geleen vir hierdie rit. (‘Two seater’ met ‘dickey seats’) Die voorste sitplek was nog ’n lang aanmekaarsitplek, en só ook die sitplek in die kattebak as dit oopgeslaan is. Hoe ons almal in die motor ingepas het en óf ons almal saam was, weet nugter, maar ek weet dat ek darem saam was. (Hakkel Bennie was ongetroud en het ook op die Paaie gewerk en in die enkelkwartiere gebly).

Hy was die seun van een van Ouma Dupie se broers, oom Thysie, en skoonsuster Bettie wat te Klapmuts op ’n plaas gebly het.

Op dié plaas Keerweder het oom Hennie ‘n skaaphond gehad wat baie goed op sy opdragte reageer het. Wat ek nou gaan kwytraak is soos ek dit in my jongetjiesjare onthou. Hy het byvoorbeeld vir die hond gesê: “Gaan karretjie toe!”

Dit is ’n groterige seepkis met twee fietswiele agter en ’n disselboom met ’n vooras waaraan daar twee wieletjies van ’n babawaentjie (‘pram’) is. Oom Hennie-hulle se kinders, Susan, Hennie, Johan en Pietie was nog baie klein. Van hulle het in die karretjie geklim en die hond het gedwee voor die voorste wieletjies gestaan en wag dat oom Hennie hom kan inspan deur ’n tuigie om sy lyf te sit en aan die vooras vas te maak. So loop hy op die werf rond met die kleingoed in die seepkiskarretjie. Hierdie hond was nie net sterk nie, maar ook slim, want oom Hennie sê toe vir Pappa dat hierdie hond sal nou ’n hoender op die werf gaan haal sodat hy, oom Hennie, die hoender vir ons kan gaarmaak. Oom Hennie sê vir die hond: “Gaan haal vir my ’n hoender!”

Die hond spring daar weg en gaan na die klompie hoenders wat onder die akkerbome wei en skrop. Oom Hennie gaan intussen na die stoorkamer langsaan die huis, haal ’n groot swart driepootpot se deksel af en nou staan ons almal ’n ent weg en kyk wat die hond gaan maak. Die hond beweeg nader, so kruip-kruip en dwing een van die hoenders eenkant toe en nou begin hy, nes ’n wafferse skaaphond, sulke halfsirkeltjies om die hoender te hardloop, dan linksom, dan regsom, dan kruip hy op sy pens reg agter die hoender, en só kom die twee nader en nader na die buitekamer toe. Oom Hennie sê ons moet net ’n bietjie verder wegstaan sodat die hond die hoender by die stoorkamertjie se oopstaande deur kan indwing. Die hond het stadig maar seker die hoender by die stoorkamer se deur ingedwing en dit was nie lank nie toe spring die hoender in die oopstaande pot in en daar gaan sit die geveerde dier in die pot. Die hond gaan lê by die swart driepootpot, en kyk na oom Hennie asof hy wou vra : “En wat nou?”

Dit was omtrent ’n oefening wat ons nie sou glo as ons dit nie self gesien het nie. Oom Hennnie roep die hond uit die stoorkamer, ons gaan huis toe en die hoender kom ook uit en maak dit volspoed terug na die ander hoenders toe. Oom Hennie sê die hond doen hierdie oefening gereeld as hy die hond se vaardighede aan besoekers wil demonstreer. Die belofte van ‘dat hy vir ons ’n hoender wil gaarmaak’, was maar met die tong in die kies gesê. Tant Kotie het, daarenteen natuurlik, ’n feesmaal vir haar jongste broer, Pa Japie en gesin, voorberei en opgedis. Ons het altyd lekker op dié plaas gekuier en geëet. Dit is ook daar waar ons kinders, saam met die grootmense, altyd ’n klein glasie droë witwyn saam met ons ete gekry het. Dit het daardie jare maar nie veel van ’n boeket en smaak op die palet van ons kinders gehad wat ons kon waardeer en met die ouer mense mee kon saampraat nie.

Toe ek die ‘Storie Album van die Roux familie,’ saamgestel deur Helena Roux, die eggenote van Hennie Roux (Jr), oom Hennie Roux se seun, ontvang en deurgelees het, maak Helena ook melding van die hoender wat deur die hond huis toe gebring word.

Kom ek haal aan wat sy op bladsy 141 van die Storie Album skryf:

“ Toe Susanne (ek het nie eens geweet haar naam word só gespel nie), Hennie, Johan en Pietie klein was (± 1945-1950) het Pa ’n skaaphond, Rinto, gehad – sy naam kom van die fliek Rin-tin-tin, wat oor ’n hond gegaan het, het Pa vertel. Pa het ter demonstrasie ’n swart Australorp (sien onder) deur Rinto na die agterdeur laat bring. Dan het hy ’n swart Judge Brand pot, na die hen, wat nou moeg was, uitgehou. Die hen het dan sommer in die pot geklim en gaan sit. Die kuiergaste was dan baie verbaas”.

Australorp-hen (Foto: Google)

Ek het reeds van die patentmedisyne uit die huis se medisynekassie waarmee mamma vir pappa gedokter het, melding gemaak, maar ek wil bitter graag darem ook die volgende vir julle vertel:

Pappa het maar kort-kort probleme met sy maag gehad, seker maar die spanning by die werk en seker maar sy rokery wat ook ’n rol gespeel het in sy voortdurende sooibrand. Wel, hy het raad daarvoor gekry. Kom luister nou na hierdie boereraat. Die boereraat het gekom toe ons weer by ’n geleentheid met Hakkel-Bennie se motor na Keerweder toe is.

Oom Hennie het sy eie wyn gemaak en twee bottels beleë rooiwyn aan Pappa gegee. Tant Kotie het toe gesê dat daar ’n botteltjie elk van die volgende Lennon se Huismedisyne op die rooiwyn gegooi moet word – Witdulsies, Groenamara, Lewensessens en Rooipoeier. (Ek kan nie meer onthou of dit werklik die resep was nie. Dalk was daar ook Duiwelsdrek by.) Dan moet Pappa saans ‘n klein wynkelkie vol, die kelkie het hy ook aan Pappa gegee, van hierdie doepa drink. Dit sal glo die maag regdokter. Oom Hennie het gesê dat as die tweede bottel leeg is, kan Pappa weer kom haal. Tuis gekom, het Mamma die resep soos aan haar verduidelik, nagevolg, en dit in een van die bottels aangemaak en sommer vir Pappa een wynkelkie vol gegee om te drink. Hy trek ’n gesig erger as wat Al Debbo ooit kan dink om te trek, getrek, sy oë rol in hulle kaste en hy kom regop uit sy stoel en sê:

“Nee matig vrou, die goed smaak slegter as sleg. Ek sal maar met my maag se probleme opgesaal sit.”

Die einde van die storie? Nee liewe vriende, daar is nog ’n nadraai wat vertel moet word afgesien van die feit dat Pappa nie weer van die doepa gedrink het nie. Die bottel met die doepa word in hulle slaapkamer, tussen die bed en agter die deur op die vloer gebêre en die ander bottel wyn in sy hangkas.

Nou vir die nadraai van dié storie. Daar in Kraaifontein was ’n oom Tesnaar wat gereeld in die kamp kom skoene haal het om te versool. Hy het ’n trapfiets gery waarop daar ’n paraffien kassie op die draer (‘carrier’) vasgemaak was en waarin die skoene vervoer was. Dit was alombekend dat hierdie oom maar lekker die mannetjie met die kurkhoedjie kon soen, en gereeld by sy klante vir ’n doppie vra. Weet julle nie wat ‘die kurkhoedjie soen ’ beteken nie? Dis ’n erkende Afrikaanse idioom. Dit is om gereeld sterk drank te gebruik. Nou se dae het drank in bottels meer plastiekproppe as kurkproppe. Ons sal seker die idioom moet verander om te lees ‘die mannetjie met die plastiekhoedjie soen.’ Ha ha.

Wel, die oom bring eendag ’n paar skoene huis toe wat hy klaar versool het. Hy gesels met Pappa en nou vra oom Tesnaar uit gewoonte of daar nie iets is om sy dors mee te les nie. Ja, sê Pappa:

“Weet jy, ek het ’n bottel rooiwyn by my swaer in Stellenbosch gekry. Dit is wyn wat vir ’n paar jaar in ’n akkervat lê om ’n bietjie te verouder.”

Nou wy Pappa redelik lank en breedvoerig uit oor die eienskappe van hierdie wyn en hoe gesog dit is op die tafels van konings, goewerneurs en ministers. Nou vra oom Tesnaar of hy nie net maar aan hierdie voortreflike wyn kan proe nie. Pappa sê: “Ja, ek sal jou laat proe.”

Pappa sê: “Ben gaan haal die bottel wyn in die kamer.”

Ek vra toe: “Pappa die een ….” en voor ek kon vra die een in die kas, sê Pappa :

“Ja, die een wat agter die deur staan en bring sommer ’n glas uit die kombuis uit saam!”

Ek gaan haal die bottel doepa, bêre die klein wynglasie wat by die bottel was daar waar ek die bottel gevat het en gaan kombuis toe en kry een van die geriffelde koeldrankglase. Ek lag so stilweg in my binneste, want ek weet hier kom nou sports. Ek oorhandig die bottel met doepa aan Pappa en hy gee die glas vir oom Tesnaar. Pappa gooi ’n goeie skeut, so drie vinger, wyn in die koeldrankglas. Die oom vra nog of Pappa nie wil saam drink nie, maar nou word daar verskonings gemaak van:

“Dis te naby etenstyd, ek drink gewoonlik saans ’n sopie voordat ek gaan slaap.”

Die oom sê: “Gesondheid” en vat so ’n groot moontlikste sluk en trek die glas van sy lippe af. Hy sluk ’n lang sluk, smak sy lippe, maak sy een oog toe en sê:

“Oom Dup, jy was reg. Hierdie is ‘n wonderlike wyn, ek proe eintlik die akkervat in hom.”

Ons kinders lag saggies en gaan lag buitekant die huis. Einde van die storie? Nog nie, oom Tesnaar het daarna nog gereeld van hierdie wyn kom drink en só het die bottel eintlik klaar gekom. Dalk het sy maag reggekom, as hy ’n moeilike maag gehad het, anders het hy baie gehou van die akkervatsmaak van die wyn! Ek kan nie onthou wat van die ander bottel rooiwyn geword het nie, want Pappa het nooit, maar nooit drank gekoop nie. Hy het wel, as ons by oom Hennie en tant Kotie op die plaas kom, saam met hulle ’n klein kelkie droë witwyn by etenstyd gedrink, van dieselfde soort wat ons ook moes drink. “Dit gee glo eetlus!”

Ek volstaan net by die laaste twee insidente wat my nog helder voor die gees is, voordat ek van ons trek na en ons verblyf op Riversdal gesels, waar ek vir ’n maand of twee in die laerskool st. 5 (Graad 7) was. Die volgende jaar in st. 6 (Graad 8) en toe vanaf st.7 (Graad 9) na die hoërskool toe is in Swellendam.

Een middag, net na skool, sien ons ’n polisievangwa (ons het dit in daardie tyd só genoem, later het ons in die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) gepraat van ’n patrolliewa) deur die padkamp ry in die rigting van die spoorwegstasie. Ek en die ander padkampkinders het nie gesien wat hulle in die bloekombos kom soek het nie, maar die volgende dag hoor ons by ’n klasmaat, sy pa was ’n polisieman op Kraaifontein, die volgende storie: ’n Konstabel van Kraaifontein het met ’n kleurlingman wat gearresteer was vir diefstal, op die perron by die spoorwegstasie gewag vir die omdraai passasierstrein wat vanaf Durbanville na Kaapstad loop. Alle gearresteerdes word per trein na Bellville polisiestasie geneem vir aanhouding. (Kraaifontein het glo nie ’n voertuig gehad nie. Was seker daardie tyd ook ‘n soort van ’n satellietpolisiestasie, soos ons dit later van jare in die SAP genoem het.) Net voordat die trein arriveer, het die beskuldigde losgeruk, die konstabel het die aangeklaagde vasgegryp, die beskuldigde het glo, in die proses wat hulle gestoei het, die polisieman se rewolwer gegryp, en die konstabel is op die perron doodgeskiet. (Ja, daardie jare was daar ook maar geweldsmisdade in ons land). Die beskuldigde het in die rigting van die bloekombos gehardloop. Ons “spokes person”, die seun van die polisieman, sê toe vir ons dat die beskuldigde by ’n kaia in die bloekkombos, onder ’n bed gevind

is. Wat die uitslag van die wrede moord was, het ons, as kinders, natuurlik nie in belanggestel nie, wat ons kampkinders wel oor versigtig was, sê maar bang, is om alleen-alleen deur die bos skool toe en terug huis toe te loop. Ons het van toe af in groepe geloop.

Die laaste insident is ietwat ten koste van my optrede, maar sien tog die humor daarin raak. Mamma het vir al die jare wat daar kinders in die huis was, self brood gebak. Pappa het eiehandig drie broodpanne van drie een gelling oliekannetjies (± 2,5 liter) gemaak. (Ek het self ook later sulke broodpannetjies vir ons huishouding gemaak) Sy het elke tweede dag gebak, en as die brood nog te warm is om aan te sny, moes ons maar noodgedwonge ’n brood of twee by die naaste kafee gaan koop. Dié dag is dit weer só en ek word gestuur om net ’n halwe witbrood by die kafee in Kraaifontein, net anderkant die spoorwegstasie, te gaan koop. Hierdie slag was dit net ’n halwe brood, want ma het nie genoeg kontantgeld vir ’n vol brood gehad nie. Ek dink ’n halwe brood het sowat ’n trippens (2½ sent) gekos en ’n heel brood ’n sikspens (5c). Wel, ons kinders was maar lekker dun maag en ek self was lekker honger. (Weet julle, Pappa het altyd die volgende vermaning gehad: “Weet julle wat honger is? Julle was nog nooit honger nie, my kinders, maar ‘lus om iets te eet’, ja wel!”) Wel ek was ‘net baie lus om te eet’ en hier loop ek met ’n halwe witbrood terug huis toe – seker so een myl (1,6 km). Die versoeking is groot en ek begin die halwe brood van die afsnykant stukkie-vir-stukkie uit te pluk en te eet. Hoe langer ek loop, so meer pluk ek stukkies brood uit. Later is die brood behoorlik uitgehol, net die korsies is oor. By die huis gekom sê ek vir Mamma ek is terug en ek sit die brood op die tafel neer, met die uitgeholde kant na onder, en ek maak dat ek wegkom. Ek hoor Mamma roep my, maar ek kruip naby die werkswinkels, agter ’n lot groot sementpype, weg. Toe alles stil raak, gaan ek nader en vra vir Mamma om verskoning. Wel sy kon, net soos enige ma maar kan, ook ’n platriem gebruik. Ek moes tevrede wees met twee houe en die ander kinders moes tevrede wees met elkeen ’n stukkie korsie om die ‘knaende lus om te eet’, te stil.

Ja, julle weet seker teen hierdie tyd dat ons weer verplasingsvaardig was. Ek neem julle nou op reis na die dorp Riversdal toe

HOOFSTUK 3: MY KINDERJARE IN DIE HOËRSKOLE

Eintlik was Riversdal nie my eerste hoërskool nie, want Worcester se Boys High School/Skool was die eerste, maar omdat ek die skooltydperke in my lewe so kronologies moontlik wil hou, het ek Worcester Boys High maar op sy plek in my lewenservaring gehou. Nou vertrek ons Riversdal toe:

3.1 Langenhoven Hoërskool Riversdal

Pappa is na Riversdal toe verplaas as ‘hoof mechanic’ (die hoof werktuigkundige). Dit was ’n bevordering vir hom, want nou het hy, die padvoorman en die enjineer (ingenieur) as driemanskap, die bestuur van die kamp hanteer. Hy was dus nou een van die ‘base’. Hy kry vir die eerste keer ’n bakkie om mee te ry. Ons trek is maar weer per padkamplorrie vervoer, en ons het ons sinkhuis te Kraaifontein agtergelaat, want nou het die Kaapse Provinsiale Administrasie (KPA) asbeshuise begin aankoop en ons was gelukkig om in ons eerste asbeshuis op Riversdal in te trek. Die asbeshuise was in seksies van 3 voet (amper ’n meter), by agt voet hoog (amper 2 ½ meter), en was met ’n spitsdak van asbes. Dit was darem ’n beter blyplek as die platdak sink- en houthuise wat ons tot nou toe, behalwe vir die dorpshuis op Richmond, gehad het. Hierdie asbeshuise was nog maar koud en warm – gelukkig was die buitenste panele dubbeld om die ergste hitte en koue buite te hou. Later van jare het hulle selfs die pienk glasvesel tussen die mure ingesit.

Ons kinders moes so teen die einde van die skooljaar, as vreemdelinge daar begin skoolgaan. Anna in die hoërskool en ons ander in die McFarlane Laerskool. Ek was vir slegs ’n maand of twee in die laerskool waar ek st. 5 (Graad 7) geslaag het. Standerd 6 (Graad 8) is ook daar voltooi. Die hoërskole in die Kaapprovinsie het almal eers by standerd 7 (Graad 9) begin. Alle hoërskole in die Republiek het later jare ook vanaf standerd 6 (Graad 8) begin. Die hoërskool in Riversdal se naam was die Langenhoven Hoërskool, dieselfde naam as die hoërskool te Swellendam, waar ek ook later skoolgegaan het. Die nuwe hoof van daardie skool het ook in Januarie, toe ek hoërskool toe is, daar begin as nuwe prinsipaal (skoolhoof). Hy was meneer Ottfried Rhode. Hy was ’n medeopsteller van die Afrikaans / Duitse woordeboek vir alle hoërskole in die land waar Duits as vak aangebied is (Ich bin, du bist, er sie est ist, wir sind. ihr… en verder – soek maar op wat dit beteken). Ons het hom as ’n befoeterde man ervaar. Die gebruik was, het ons verneem, dat een van die juffrouens die lied wat Maandagoggende tydens die saalopening gesing gaan word, altyd ’n psalm, se woorde op ’n skryfbord (swartbord) geskryf het. Die bord is op ’n esel op die verhoog staangemaak en dan sing almal hartlik saam! Sy befoeterdheid het gou deurgekom na ons in die saal. Daardie oggend was die lied Psalm 146, verse 1 en 2. ‘Prys die Heer met blye galme’.

Ottfried Rhode begin sy toespraak met: “Dankie vir die verwelkoming, maar ek sien die kinders hier moet nog gehelp word om ons psalms te leer, want dit word op die bord vir hulle neergeskryf. Vandag is die laaste dag wat dit só sal wees. Dis ’n baie maklike en bekende psalm, een wat ons voorvaders tydens die Groot Trek saans by boekevat gesing het. Elke onderwyseres en onderwyser moet, sodra ons na die klasse verdaag, die kinders ’n folio papier gee en hulle moet die woorde van hierdie psalm, verse 1 en 2, neerskryf. Diegene wat dit nie ken nie, sal uitskryfwerk kry.”

Ek weet niks wat hierdie bulperd verder tydens die opening kwytgeraak het nie, want ek weet só voor my siel, ek ken nie al hierdie psalm se verse se woorde agtermekaar nie, en vir uitskryfwerk had ek ook geen lus nie. Ek het darem ’n Hallelujaboekie gehad. Ek sal dit maar daaruit afskryf. O wee, ons was die eerste periode by die Engelse juffrou en sy vang my toe uit dat ek afskryf. Ek dink sy was Miss De Beer. Nou staan ek voor in die klas, sy het die Hallelujaboekie gevat, en sy gee vir my al die kinders se pogings wat hulle op papier kwytgeraak het. Sy beveel my om dit na die Hoof se kantoor toe te neem en vir hom te sê dat sy my na hom toe gestuur het omdat ek afgeskryf het. Ek loop na die hoof se kantoor toe, my poephol maak só tiekie/halfkroon soos dit saamtrek en los. My gedagtes gaan tog in eerste rat in en ek dink aan ’n moontlike vryspring van ’n paar houe deur hierdie bulperd op sy, en my, eerste dag by hierdie skool. By die toe deur van die kantoor laat my grysstof my nie in die steek nie en ek dink aan ’n plan wat ek aan hom sal sê.

Ek klop: “Kom binne” Ek maak die deur oop en gaan in.

Ek sê: “Môre Meneer, juffrou De Beer stuur haar klas se skrifte aan u, en sy vra of Meneer nie vir haar ’n rooi potlood het nie, hare is weg!”

Hy krap in een van die lessenaarlaaie, jy kan sien hy ken nog nie hierdie lessenaar nie, en uiteindelik kom hy met so ’n stompie van ’n rooi potlood te voorskyn en gee dit vir my. Ek verlaat die kantoor en nou is ek die trotse eienaar van ’n stomperige stuk rooi potlood. Ek het dit nooit vir Miss De Beer gegee nie, want sy het mos nie daarvoor gevra nie. Ek glo nie ek was skuldig aan afskryf nie, want ek het dit uit my eie Hallelujaboekie afgeskryf, nie van iemand anders se werk af nie. As kleinkinders nou hierdie slim en weldeurdagte geheimenis wat ek nou openbaar het, gaan lees, moet hulle tog nie só optree nie – Liewe Jesus sal julle straf. Gelukkig het Liewe Jesus my laaankal vir hierdie vergryp vergewe!

In die Engelse ‘grammar’ klas het die volgende insidentjie gebeur waar ons almal geskater het van die lag. Ons Engelse onderwyser was Mister Dry, sy bynaam was Numb. Hoekom hierdie bynaam, weet ek nou nog nie want dom was hy nie, dalk so ’n bietjie gevoelloos, want hy het niemand en

niks oorgesien nie. Sy seun, John, was ook in my klas. Numb vra sy seun om iets in die ‘grammar book’ op ’n sekere bladsy te verduidelik. Was seker iets oor ‘has’ óf ‘have’ óf ‘have had’ óf ‘had had’, ag, ek weet nie meer presies watter ‘tense’ dit was nie, maar hy stotter en steek vas en sy pa roep hom vorentoe met sy ‘grammar book’ in sy hand en nou moet hy weer alles van vooraf begin verduidelik. Ons wag almal in spanning. Wel sy pa het ’n groot pankop gehad, hy sit in die stoel by die lessenaar en John staan langs hom met die oop ‘grammar book’ in sy hand. Hy begin net te praat, toe bly hy skielik stil, en lig die ‘grammar book’ stadig op en slaan sy pa op sy pankop –kaplaks.

Die Ouman krimp weg onder die hou, spring regop en vra hom ergerlik: “Why did you do that?”, “There was a fly on your head, sir, and I had to kill it, mister!” sê hy so ewe kordaat.

Nou skater ons almal van die lag en sy pa stuur hom terug bank toe, en beloof om hom by die huis te gaan straf. Ons klas sit die res van die periode stil, maar kort-kort lag ons stilweg vir hierdie episode!

Hierdie skool het tot 2009 nog bestaan, maar is nou ’n skool vir die agtergeblewenes. Ek is daardie einde van die jaar bevorder na st. 7 (graad 9) en nou begin ons mos al groter raak. Nou het ek ook rugby begin speel, want Rassie het vir Pappa gesê hy sal vir my ’n rugbybroek en -trui koop. Rassie het ook by die KPA in Kaapstad, by die grondontledingsafdeling in ’n laboratorium, gewerk, daarom kon hy hierdie finansiële las dra. Ons het die plek waar hy in die Kaap gewerk het, sommer die klipkokers genoem, want hulle het grond-, gruis-, klippe- en sandmonsters geneem so ver as wat die pad opgevul en gebou word om vas te stel of die pad ’n stewige fondasie het, waarop die teeroppervlak gebou moet word. Elke padkamp het sy eie ‘klipkoker’ gehad en hulle moes hulle resultate aan Kaapstad deurstuur voordat ’n pad se permanente oppervlak gelê kon word. Ek dink die monsters was daardie tyd maar per voertuig na Kaapstad toe deurgeneem. (Rassie as jy nou hier lees van jou eerste werk by die KPA, en dis só ietwat anders as wat ek dit onthou het, aanvaar dan my weergawe sodat niemand kan aanspraak maak dat ek leuens in my memoires geskryf het nie. Ha, ha!) Ons klipkoker te Riversdal was ’n meneer Martins, half verstrooide en bebrilde jong man wat vooroor geloop het soos ’n ou man. Hy het nogal gereeld by Pappa-hulle aan huis gekom, ek dink dit was meer oor die ouer suster, Anna se teenwoordigheid as belangstelling in ons as familie. Anna wou uiteraard niks met hierdie ou petieterige mannetjie te doen hê nie.

Ek het ook aan atletiek deelgeneem en het ons skool by Mosselbaai aan die SWD (Suid-Westelike Distrikte) skole atletiekkampioenskappe verteenwoordig. Ek het aan die verspring deelgeneem, het egter nie baie ‘ver’ gekom nie, want ander wat beter as ek was, het gewen. My rugby was vir die onder 85lb. (pond) - (2,2 lb. gewig, is gelykstaande aan een kilogram.) Dit was maar die ligte outjies. Rugby het my die SWD laat leer ken, want ons het rugby gespeel teen Bredasdorp, Napier, Caledon, Riviersonderend, Swellendam, Oakdale Landbouskool in Riversdal, Ladismith (KP), Heidelberg (KP) en Albertinia. Ons het, soos dit maar gaan, soms gewen, soos die Stormers en ook verloor, soos die Bulls. Ha, ha.

Ek moet julle vertel van die skool se konsert, My Sarie Marais, waaraan ek ook as ‘akteur’ deelgeneem het. Dit het afgespeel tydens die Boereoorlog tussen ’n Boer en ’n Britse soldaat wat om die hand van ’n boeredogter meegeding het. Die boerseun was ’n Rapportryer, (die Rapportryers was jong boerseuns wat per perd rapporte van hoe die oorlog op die slagveld verloop, na die Boeregeneraals geneem het), op wie die boeredogter verlief geraak het en die drama het gegaan toe die Britse soldaat ook vir haar begin ogies maak het. Wil julle weet wie het die boeredogter as vrou gekry? (Ek kan maar julle nuuskierigheid temper deur die aap uit die mou te laat – Die boerseun het die boeredogter, Sarie Marais, se hand verower.) Ek was een van die Rooibaadjies – dis nou die Kakies. Pappa het nogal vir my ’n ,303-geweer uit ’n ou stuk vloerplank gesaag en ek het dit met

swart skoenpolitoer swart gemaak. Dit was die mooiste Engelse geweer van die lot Kakies wat in daardie konsert gespeel het. Ons het met hierdie konsert na Mosselbaai, De Rust en Oudtshoorn getoer. Ons het in skoolkoshuise geslaap. Ons vervoer was weer ’n 3 ton platbaklorrie van een van die boere waarop daar ’n seilkap oorgetrek was. Dit was allesbehalwe ’n sagte en rustige rit, want dit was maar stamperig en die wind het onder die tent ingewaai en almal het by ons verskillende bestemmings soos windverwaaide hoenders gelyk.

By die skool het ons seuns altyd sokker met ’n tennisbal gespeel – eintlik net doelloos geskop. Ek wonder nou nog hoekom alle Afrikanerseuns speeltye sokker gespeel het, al was dit met ’n tennisbal, maar dat nie een van hulle groot hoogtes in daardie sport bereik het om vir die Provinsiale, óf Nasionale Sokkerspanne gekies te word nie, ja vir rugby wel!! Ewenwel, terwyl ek ook een speeltyd die bal help rond skop het, kom daar ewe skielik ’n klip baie vinnig na my toe aangerol, ek kyk nie behoorlik nie en laat waai met my kaalvoet en skop hierdie “bal”, die regter groottoon bars oop en bloed spat, ek krul van die pyn. Terwyl ek my toon vashou en nog wil besluit of dit seer genoeg is om te huil, óf om te lag, kom een van die senior seuns na my aangehardloop en vra my om verskoning omdat hy die klip tussen die spelende jonger kinders ingerol het, en ek die een is wat toe moes seerkry. Hierdie seun was een van ons senior rugbyspan spelers, sy naam is Danie (Basie ge-noem) Malherbe.

Die voormelde insident het uitgeloop op ’n vriendskap met Danie (Basie) Malherbe. Sy pa -hulle het so sewe myl (±11km) vanaf die dorp op die plaas Kweekkraal, geboer, en hy het my gereeld gevra om by hulle, tydens die skoolvakansies, op die plaas te kom kuier. Basie was so drie-vier jaar ouer as ek, maar die verskil in ouderdom het nie gemaak dat ons nie goeie vriende geword het nie. Ek het sedert ons troue, so een- of tweekeer daar aangegaan. Sy ouers is reeds lankal dood en Basie het ’n bekende boer in die Riversdal distrik geword, nadat hy onderwys opgegee het. Ek wonder of hy nog in lewe is?

Net buite die dorp, aan Albertinia se kant, was daar ’n plaasdam tussen bloekombome. Ons kampkinders (seuns) was maar altyd so vier of vyf bymekaar, en het gereeld daar gaan ‘visvang.’ Ons visvanggerei was ’n bloekomlat, lyn was ’n stuk dun winkellyn en die hoeke was baba doekspelde wat ons soos hoeke gebuig het. Ons het net platannas (paddas) gevang, en eendag trek ek my lyn uit die water, en daar is ’n slang aan die hoek. Ek skrik en wil net weghol, toe een van die seuns sê dis ’n paling wat aan die hoek is. Ons moet dit gaarmaak. almal was nou glad kenners van koskook en paling gaarmaak en het nou met allerhande resepte vorendag gekom, wat eintlik niks anders was as om die vuur te maak, die paling ‘af te skil’ en dan oor die vuur te braai nie. Ek weet nie hoe dit smaak nie, want die vanger het die reg gehad om te weier om van sy vangs te eet.

Ja ek moet julle vertel van die eerste keer wat ek, en ek glo ook die ander kinders, behalwe Rassie wat in die Kaap gewerk het, die see gesien het. Pappa het ’n drie-ton-platbaklorrie (al die lorries wat ek kan onthou was platbakke, want daar was nie busse, taksies (taxi’s), stasiewaens óf SUVvoertuie nie) by ’n oom Jan van Zyl op die dorp geleen en ons hele kaboedel met slaapgoed, kos en klere is agter op die bak en nou gaan ons see toe. Die bestemming was Jongensfontein, net langs Stilbaai, waar ons die groot klomp water gesien het. Daardie jare was daar nog nie ’n brug oor die rivier by Stilbaai nie, maar ook ’n pont wat, net soos Malgas s’n nou nog, met die hand getrek is. Die strandhuis was ’n plankwoning (Bungalow) wat ook oom Van Zyl se eiendom was. Dit was ’n groot gebeurtenis, want selfs ou ‘Tiger’, ons ou klein bruin steekbaardhondjie, was ook in sy element as hy oor die seesand hardloop. Ons kinders was maar baie bang vir hierdie water wat só raas, en ons het nie baie verder as só enkeldiep in gewaag nie. Pappa kon swem, en hy het in die branders baljaar. Daar het ek ook vir die eerste keer alikreukels geëet. Dis ’n skulpdiertjie. Ons het ’n paraffienblik vol seewater gemaak, die alikreukels daarin gesit, en dit dan op ’n oop vuur by die

strandhuis gesit. Sodra die water gekook het, het ons die alikreukels uitgehaal, die slak in die skulp uitgeskep, en dit dan geëet. Dit was nie die lekkerste ‘viskos’, soos tannie Lilian Vreÿ altyd sê, wat ek al geëet het nie. (sy bedoel eintlik seekos, want viskos is mos die kos wat visse eet!)

Ek is vir die grootste deel van die ses weke einde van die jaar skoolvakansie na Basie Malherbehulle toe. Ons het maar in die plaasdam rondgeploeter, hy kon swem, maar ek nie, en só kon die ander buurplase se kinders ook swem wanneer hulle by ons op Kweekkraal kom kuier het. Ek vertel julle wel later hoe ek tog geleer swem het.

Ek het vroeër melding gemaak van waterskilpaaie wat stink. Wel dit is ’n feit. Waterskilpaaie stink vir ’n beker. In daardie plaasdam by Basie-hulle was daar baie waterskilpaaie. Hulle kom kort-kort op om asem te haal. Al wat jy dan sien is net die kop wat só skuins die wateroppervlak breek en dan hang hulle so vir ’n minuut of twee, met die dop en pote onder water. Danie het ’n ,22 geweer gehad. Ons het dit as ’n “repeater saloon” geweer geken. Dit kon 10 ,22 patrone in ’n pypmagasyn onder die loop neem. Jy haal net die geweer oor nadat jy ’n skoot geskiet het en dan word ’n nuwe patroon outomaties in die ontstekingskamer ingeskuif. Dan is die geweer gelaai en reg om te skiet. Ons het teiken geskiet na die koppe van die waterskilpaaie wat kom asem haal. As dit ’n kopskoot is, breek die skilpad, amper met ’n “summer sault”, die water oppervlak en dryf dit witpens bo. Die kleurlingkinders gaan dan in en hulle gaan die waterskilpad haal om huis toe te neem om dit gaar te maak.

Waarnatoe nadat Riversdal ons sien kom en gesien gaan het? Wag ek moet julle darem nog vertel hoedat ek voor die plek gekom het waar ons huis in die kamp op Riversdal gestaan het, en daar geen huis gevind het nie. Die huis het soos mis voor die son verdwyn. Dit het soos volg gebeur: Ons, ek en Basie met sy pa se Jeep, ’n voormalige tweede wêreldoorlogvoertuig, kom van die plaas af met die teerpad dorp toe. So twee kilometer van die dorp af kon jy die padkamp, wat op die rif van ’n reeks koppies ‘opgesit’ is, sien. Dit was al sterk skemer en net só voor Kersfees. Ons huis was neffens drie groot bloekombome, die enigste bome tussen die huise, die ander bome het by die werkswinkels gestaan. Ek kyk-en-kyk so teen die gesigseinder van die koppie in, want dan sien jy die huise afgeëts en ook die bome, en ek sê na ’n rukkie vir Basie: “Jong dit lyk my ons huis is weg!”

Ons ry die kamphek in na die plek waar ons huis gestaan het, en ons vind net ’n fondasie. Die huis is weg! Ek vra by die Lategan’s se huis, net langs ons s’n, of hulle weet waarnatoe Pa en Ma is. Ek word toe meegedeel dat ons na Swellendam se kamp verplaas is en dat die huis afgebreek is en daar opgesit gaan word. Weet julle dat Pa-hulle nie eens geweet het wat Basie Malherbe-hulle se plaas se naam óf hulle telefoonnommer was nie? Hulle kon my dus nie laat weet het nie, want onsself het ook nie ’n telefoon in die huis gehad nie, daar was daardie tye ook nog geen selfone nie. Hulle het seker maar gedink dat ’n kind wat nou net st. 6 (graad 8) geslaag het, sal tog seker regkom! Ons hoor toe by die Lategan’s dat Pappa ’n boodskap by hulle gelaat het dat hy by die Van Zyl’s, in die dorp bly en dat ek soontoe moet gaan.

Daar aangekom word daar lekker gelag omdat ek só moes soek vir ons huis. Nadat Basie koffie gedrink het, ry hy en ons gesels kopstukke daar by die Van Zyl’s – hulle het net twee dogters Elize en Stienie, gehad. Pa vertel toe dat Ma en die ander kinders reeds op Swellendam by tant Christina, ouma Dupie se suster, en oom Piet (Swaer) Swanepoel bly in afwagting dat ons huis ‘opgesit’ moet word. Oom Piet Swaer was só genoem omdat daar ook baie Piete in die Van Eck familie (dis nou ouma Dupie se familie) is. Hy vertel ook toe dat hy weer as die hoof werktuigkundige Swellendam toe verplaas is, omdat die pad tussen Heidelberg na Swellendam en van Swellendam na Riviersonderend oorgebou moet word. Hier openbaar hy ook aan my die geheimenis, waarvan Mamma -hulle nog nie eens weet nie, dat ons ’n nuwe huis kry. Die nuutste wat die KPA vir die

kampe aan-koop, naamlik ’n houthuis, (dit was Masonite’ huise genoem) wat net soos die asbeshuise in seksies gemaak word, met houtwol (dis die skaafsels en krulle wat by die hout fabrieke gekry word) tussen die dubbellaag houtmure geplaas om die temperatuur in die huise te reguleer - warm in die winter en koeler in die somer. Ek weet nie of dit regtig gehelp het nie. Dit het nogtans ’n spits sinkdak gehad sodat dit darem na ’n dorpshuis kon lyk en nie by hulle afsteek nie. Dit is glo die rede waarom ons huis nog nie klaar ‘opgesit’ is nie, want hulle wag nog vir die houtwol wat vanaf George moet kom. Ek en Pa het die nag by die Van Zyls geslaap.

Dis die eerste keer dat ek saam met my Pa in ’n bed geslaap het, behalwe natuurlik as hy my dalk as baba by hom in die bed geneem het. Ha ha ha. Ons, ek en Pappa, is die volgende oggend met die kamp se bakkie Swellendam toe waar ons by Mamma en die ander lede van die gesin aangesluit het.

3.2 Swellendam Hoërskool

Ons het die week tussen Kersfees en Nuwejaar (ek dink dit was 1950) in die nuwe huis ingetrek. Die kamp was hier ook op die koppie suid van die dorp, agter die ou begraafplaas ‘opgesit’. Dit was klipperig en die erf was soos daar in Genesis 1 geskryf staan, ‘woes en leeg’, die enigste verskil is dat ons kinders, saam met Pappa, die woes en leeg in ’n tuin moes omskep, en nie Ons Hemelse Vader nie. Vuil klere en waterblase op ons hande het getuig van ons harde werk. Ja dit was Des.1950, want ek het by Swellendam Hoërskool st. 7 (Graad 9) in 1951 begin, st. 8 (Graad 10) 1952 geslaag en in 1953, nadat ek slegs drie maande in st. 9 (Graad 11) was, het ons na Port Elizabeth verhuis.

Hierdie skool het vroeër dieselfde naam as Riversdal se hoërskool gehad, naamlik ‘Langenhoven Hoërskool, Swellendam’. Dié skool het later ’n naamsverandering ondergaan want daar was te veel verwarring tussen die twee skole wat dieselfde naam gehad het. Die skool se naam het later slegs ‘Swellendam Hoërskool’ geheet.

Ons kinders het nou die mooi getal van nege volgemaak, want Fanie, my jongste broer, is hier op 15 Augustus 1952 gebore. Ek kan net onthou dat Mamma ‘n paar dae van die huis af weg was, want die volle geheimenisse m.b.t. geboortes en kleintjies kry, was my nog nie beskore om te weet nie. (Glo julle my?) Het hom seker in die berg, dalk nog by die bergspits wat as twaalfuur kop in die Langeberge rondom Swellendam bekendstaan, gaan vang, geskeer en doeke aangesit. Sal nie weet nie!

Op Swellendam het ek heelwat ervarings gehad, ek sal dit nie noodwendig in die volgorde wat dit plaasgevind het, neerskryf nie, want my gedagtes het nie vêrkykers sodat ek in die vêrte in my ‘black box’ kan terugkyk om te sien hoe alles kronologies inmekaar steek nie. Wel, die gedagte is dat dit, wat volgens my, nogal interessant vir die leser sal wees, nogtans gemeld moet word.

Die Hoërskool, Swellendam soos dit in 2015 daar uitsien. (Foto: Ben)

Hier het ek geleer trapfiets ry, nogal op ’n meisiefiets. My suster Anna het as winkelklerk by Buirski Algemene Handelaars in Voortrekweg, gewerk. (Snaaks dat die ghoeroes van die dorp die naam van die Hoofstraat nie Voortrekker- óf Voortrekkersweg genoem en laat karteer het nie!) Daar was ’n ander meisie, Cecelia Roodtman, wat werk toe gekom het met haar meisiefiets, ’n dikwiel ene. Ek het ook Vrydagmiddae vanaf 2nm (14:00) by die winkel as ’n handlanger (‘handy man’) gewerk, en dan was die winkels oop tot so halfses die middag en Saterdag was dit oop vanaf 8vm (08:00) tot so 3nm (15:00). Vir hierdie twee sessies op die Vrydag en Saterdag het ek ’n halfkroon verdien. Die waarde was twee sjielings en ses pennies (2/6). ‘n Halfkroon was nog egte silwer, maar die 2/6 het na die desimale omskakeling, 25c geword. Ag, ek dwaal bietjie van die fietsry-leerdery af, maar kom ek meld nog hoe die nuwe desimale-muntstelsel, wat in 1961 in gebruik geneem is, daar uitgesien het:

Die kopermuntstukke van die verlede word toe vervang met brons muntstukke, die oortjie het verdwyn en die halfpennie (stuiwer) het ’n halfsent geword en die pennie, ’n een sent-muntstuk. (100 sente was ’n Rand – soos dit nou nog is!)

Die egte silwermuntstukke van die verlede, die 3 pennies (tiekie), het 2c, die ses pennies (sikspens), het ’n 5c, die sjieling, ’n 10c, die twee sjielings (two bob) 20c, die halfkroon (twee en ’n sikspens) 25c – dit het later verdwyn en die kroon (vyf sjielings) ’n 50c muntstuk geword. Die vervangende muntstukke is van brons gemunt. Later was die R1,00, R2,00 en R5,00 note vervang met munte wat gemunt is uit ’n mengsel van silwer en nikkel.

Terug by die fietsryery. Ek het, as die werk stil raak in die winkel, die fiets geneem en so op myself die leerdery agter die winkel in ’n systraatjie, aangepak. Meisiefietse het mos nie ’n dwars raam (‘frame’) voor gehad nie, dus kon ek maklik afspring as die wiele te haastig na my sin gespin het. Dit was nie lank nie, toe bemeester ek hierdie besondere wyse van vervoer en van outomatisasie,

beenkrag nie perdekrag nie! Nou ja, alle fietse wat in winkels gekoop word, se agterrem se hefboompie is gewoonlik aan die linkerkantse handvatsel en die voorrem se hefboompie aan die regterkantse handvatsel. Amper soos die verskil van die Europese motors se flikkerlighefboompies teenoor dié van die Skrefiesoë van Asië se motors vandag. Fietse wat opgebou óf van onbekende oorsprong saamgeflans is deur hulle eienaars, se remme se hefboompies kan enige kant wees, óf dit kan een óf geen hefboompies hê nie, dan moet jy ander maniere bedink om die fiets tot stilstand te bring. My ervaring met ‘n fiets is soos volg in die annale van Ben du Plessis se geskiedenisboek opgeteken!

Ek help vir Pappa om gate in die klipperige voortuin van ons nuwe huis, met ’n koevoet te slaan, sodat die beplande blomtuin van die beoogde groentetuin met ’n sifdraad geskei kan word. Dis Saterdag. Pa sê ek moet gou die Saterdag Burger koerant by Tolmie se boekwinkel in die dorp gaan haal. Hy sê nog só spottende: “Ek spoeg op die grond en voordat die spoeg droog is, moet jy terug wees.”

Wel, dis sowat 1 myl (±1,6km) van die kamp af en ek sal my gat moet roer as ek Pappa reg wil bewys. Ek begin te draf, en toe ek by die ‘enjineer’ se huis verby draf, sien ek sy kok, ’n swartman, kom ons noem hom Jantjie, stoot sy fiets net by die huis se hekkie in. Almal ken my in die kamp, en ek vra hom of ek die fiets kan leen. Hy willig in, en ek gryp die fiets en laat waai. Nou is ek op die steil afdraand, op ’n gruisstraat wat die verlenging is van die dorp se geteerde Kerkstraat. By Rademan se huis aan die onderpunt van die gruis afdraand, speel daar drie kleinerige kinders in die straat. Ek soek die klokkie, daar is niks, ek skree, maar met my spoed waai my asem saam met my spoeg weg. Ek gryp die linker hefboom aan die handvatsel vas om my spoed so effe te breek en dan so skuinsweg om die kinders te gaan. Maar o wee, dis toe al die tyd die voorste wiel se remhefboompie, ek is te laat om dit te los en die ander hefboompie te gryp, daar neuk ek gat oor kop oor die handvatsels en oor die drie kinders wat in die straat gespeel het. Ek bly lê, voel-voel aan my ledemate, dit werk nog almal, maar my regterarm, aan die binnekant van die elmboog is daar ’n groot oop wond, vol stof en bloed. Ek voel half skaam, tel die fiets op, buig sy “handles” reguit en ry nou versigtig verder, nadat ek by die kinders gevra het of hulle seergekry het. Hulle sê net: “Nee wat, ons het net groot geskrik!”

Kry die koerant en kom nou teruggery kamp toe. Langenhoven het mos geskryf: “Onthou die afdraand wat jy nou afgaan, is ’n opdraand as jy terugkom!” Wel, by die afdraand waar ek geval het, is mos nou ’n opdraand. Ek het nie genoeg krag in my pype nie en stoot maar die fiets tot by die ‘enjineer’ se huis. Jantjie is in die voortuin, en ek sê dankie – gelukkig makeer die fiets nie iets nie. Daar kon ook nie veel met daardie ‘fiets’ verkeerd gegaan het nie, want dit was nie veel meer as twee wiele aan ’n gebuigde raam (‘frame’) en hantvatsels (‘handles’) sonder ’n klokkie met net ’n voorrem nie. Dis ‘n baie basiese fiets, my liewe leser – baie basies!

Ek stap by ons huis se hekkie in en gee die koerant vir Pappa waar hy op die stoepie sit. Ek sien die spoeg kol is nog nat en Pappa wens my geluk omdat ek só vinnig gemaak het. Nou gaan ek maar aan om die koevoet te stamp, maar ek sug, kreun en trek ’n gesig, wat ’n ma alleen kan liefhê, want met elke slag wat die koevoet tussen die klippe inbeur, kry ek ’n terugslaghou (“recoil”) in my seer elmboog. Ek het intussen my hempsmou afgerol om die wond te bedek. Pappa vra later: “Hoekom sukkel jy so met die gat grawery en hoekom rus jy so baie?

Nou moet die waarheid uit en ek sê: “Ek het seergekry toe ek met die fiets geval het.”

“Watter fiets, en ek het jou mos nie met ’n fiets gestuur nie? Waar het jy seergekry?”

Ek sê toe vir hom: “Ek het met Jantjie se fiets gery en ek het daar by die Rademan’s se huis op die gruispad geval.”

“Nee man, wat het jy seergemaak?”

Ek wys hom die hempsmou wat nou al lekker donker gevlek is van die bloed. Pappa sê toe dat ek maar binnetoe kan gaan sodat Mamma kan kyk en help. Ek sit die koevoet neer en gaan in huis toe. Mamma kyk net een slag, sy laat my die hemp uittrek en begin die wond te was met soutwater, nou pis ek so bietjies-bietjies en nou word daar iodine (jodium) opgegooi en ’n verband omgebind. Vrek seer. Geen verdere behandeling nie, die wond moes maar self heel. Vandag nog spog ek met so twee dikkerige littekens aan die binnekant van my regter elmboog. Sal daarmee in my graf ingaan, soos met die beskadigde naelbed van die linker duim.

Terwyl hierdie vallery tydens ’n koeranthalery plaasgevind het, laat ek julle van Tolmie se winkel en die koerante vertel. Die Saterdag koerante kom met die 3nm (15:00) trein vanaf Kaapstad, dit word deur ’n kleurling werknemer van Tolmie by die stasie afgehaal en in ’n buitegeboutjie, agter die winkel geplaas. Die bondel word oopgemaak en ’n leë kondensmelkblikkie word daar neergesit. Elkeen in die dorp weet waar om die koerant te kry, sy tiekie (3sent) daarin te plaas en dan te loop. Tolmie maak Maandag eers die blikkie leeg. Hy het almal vertrou. Ons het nooit gehoor dat oom Tolmie gesê het daar is van die koerante weg waarvoor daar nie betaal is nie.

Oom Tolmie was ook die dorp se manskleremaker. (Terloops, sy een seun het ‘n NG predikant geword – dalk ken van die lesers hom. Ek, ons, het hom nooit geken nie.) Hy het ’n groot werktafel gehad waarop hy kruisbeen, amper soos ‘n Boeddha, gesit en naaldwerk gedoen het. Dit was so half agter in die winkel, uit die publiek se sig. Hy het alleen die winkel beman met net die kleurlingman wat skoonmaker en afleweraar was. Jy kom daar by die winkel, lui ’n klokkie en oom Tolmie klim van sy tafel af en kom bedien die klant. Ons het altyd ons tolle en albasters by hom gekoop. As dit albastertyd is, vra ons vir tolle. Na die derde of vierde een wat vir tolle kom vra, sê oom Tolmie: “Maar dis dan albastertyd, hoekom vra julle tolle?”

Ons sê dat ons net die volgende week begin tolgooi. Nou bestel hy tolle vir Afrika, en daar lê dit in die winkel vir weke en soms maande voordat dit eintlik tol tyd is. Die ou oom was omtrent vir ons seunskinders die herrie in as hy uitvind dis ’n streep wat ons vir hom getrek het. Hy het later hom ook nie aan ons ‘bestellings’ gesteur nie.

By ons skool, soos seker ook maar by alle skole, was daar besondere tye wat ons sekere speletjies tydens speeltye beoefen het. Somertyd tennisballe rond geskop, ons eie sokkerreëls gemaak, albaster so teen einde van die somer, dan tol gegooi in die winter en teen die einde van die winter, bok-bok-staan-styf-hoeveel-vingers-op-jou-lyf !? Dan aan die begin van die somer weer vir ’n paar weke kennetjie. Rugby net in die winter op Woensdae na skool gespeel waar die onderwysers toesig gehou het – was kastig afrigters wat besig was met afrigting. Ons moes maar met gewone klere opdaag, geskrum, bal rondgegooi, geskop en weer geskrum, bal rondgegooi, geskop en weer....... en so gaan dit die hele middag aan. Die skool se rugbyspanne is dan klaar ‘afgerig’ vir die middag, spanne word gekies en ons moet dan reg wees vir Saterdag se spel teen ’n buurskool. Krieket het ons nooit gespeel nie, dit was die Engelse se ooms (“uncles”) van die dorp wat dit gespeel het. Die een prokureur, oom Powell, was die groot kokkedoor by die dorp se krieketspan en ook die president van die Suid-Westelike Distrikte se krieket.

My tweede val met ’n fiets het ek ervaar gedurende Mei 1951, tydens Pinkstertyd by die NG Gemeente, Swellendam Moedergemeente. Die 30ste Junie elke jaar was destyds die einde van die belastingjaar vir besighede en werkende mense. Ek, as handlanger by die winkel op Vrydagmiddae, moes dus, saam met die personeel van Buirski, die Vrydagaande in Juniemaand die voorraadopname (‘stock taking’) van die winkel doen, sodat dit gereed is vir die belasting indiening in Juliemaand. Die eerste Vrydagaand van voorraadopname het ek vir die Roodtman-meisie gevra of ek nie gou na die kamp toe kan ry om vir Pa-hulle te gaan sê dat ons tot laat in die aand met

voorraadopname sal besig wees nie. Sy het ja gesê, en ek laat waai huis toe. Pa-hulle het geen telefoon gehad nie, daarom dat ek die boodskap in persoon moet gaan oordra. Die dikwielmeisiefiets se wiele sing vir ’n vale.

Ek lewer my boodskap af, draai terug en ry ore-in-die-nek terug winkel toe. Gruis afdraand gaan dit honderd bedonderd, dieselfde een waar ek so hard met moeder aarde geval het met Jantjie se fiets. Toe ek die bruggie oor die Koringlandsrivier in Kerkstraat nader, kom een van die padkampmense met hulle motor by my verby, op pad kerk toe vir die Pinksterdiens, en terselfdertyd is daar ’n motor wat van die kerk se kant af aankom en hulle sal op die bruggie bymekaar moet verbygaan en ek is ook op dieselfde bruggie. Die padkampmense se motor slaan die regter trappedaal van die fiets met die linker agterkant van die motor en ek trek deur die lug soos ’n vrot vel. Die kar stop, ek is vol stof want ek het op die grond gedeelte langs die teerpad geval, my twee elmboë en al twee die kniekoppe is nerfaf, en die oom klim uit en vra of ek seergekry het. Ek sê nee wat, grootbek wat ek is, en hy en die tannie ry kerk toe, ek stof myself af en klim styf-styf op die fiets en ry nou rustig winkel toe. By die winkel vertel ek hoedat ek geval het, gelukkig is die fiets nie stukkend nie, en tannie Fay Buirski, die winkeleienaar se vrou, is baie bekommerd oor my nerfaf plekke waardeur die bloed stadig begin deursypel. Ek moet nou summier gedokter word – weer die alom beskikbare jodium (“iodine”). Sy neem sommer ’n botteltjie iodine, Lennon se huismedisyne, van die winkelrak af en spons my oop skuurwonde daarmee. Dit was daardie jare die wondergeneesmiddel vir oop wonde en almal het dit maar gebruik. Vrek seer gebrand, maar ek hou my “pose” en nou word ek verskoon om verder blikkieskos, sigaretpakkies en allerhande voorraaditems te tel. So ongeveer 10nm (22:00) gaan bring meneer Buirski ons twee, vir my en Anna, weg huis toe met sy Plymouth paneelwa – seker 1930+ model. Met hierdie paneelwa het hy altyd die bestellings (‘orders’) wat per briefie (‘notiesietjie’) deur ’n bediende by die winkel afgegee is en deur een van die winkelassistente opgemaak is, by die klante se huise gaan aflewer. (Notiesietjie is seker maar die verafrikaans van die Engelse woord “notice.”)

Ek is in st.7 (Graad 9) en my vakke is: Afrikaans, Engels, Boekhou (halwe vak) en Handelsrekene (halwe vak) (hedendaagse Rekenkunde) Skei-Nat (Vandag se wetenskap) Biologie, Duits en Geskiedenis (hoofvak) (Duits was ’n keusevak met Matesis (Wiskunde)). Leer moes ek maar leer, maar vir ’n outjie wat slim is, kyk hoe spog ek nou, was dit mos niks. Ek het weer aan atletiek deelgeneem en rugby gespeel, maar nie veel hoogtes bereik nie – was dalk nie toegewyd genoeg nie. Het toe oorgeslaan na tennis toe. Pappa het gesê dat ek van my werkgeld ’n raket kan koop. Ons skoolhemde was wit, dus was daar nie ekstra uitgawe nie en ons rugbybroeke was ook wit, geen verdere uitgawe nie. Kaalvoet was goed genoeg vir vele ander kinders wat tennis gespeel het, en daarom ook goed genoeg vir my. My eerste raket by die Swellendam/Heidelbergse Koöperasie ge-koop teen 17/6 sewentien en ‘n sikspens(R1,75c) Dit was ’n Slazenger Junior met nylonsnare. Het ’n skroefpers van hout (“press”) as persent bygekry om die raket, as jy dit bêre se kopgedeelte in vas te skroef sodat dit nie buig (“wob”) nie. Het vir die skool se ‘krummel span’ gespeel en eendag gewen en ’n ander dag verloor, soos dit ook maar met alle goeie tennisspelers gaan. Ha, ha, ha. Ek het nog tot in die Polisiekollege met hierdie raket gespeel.

Omdat ek nou in die hoërskool is, kan ek darem meer dinge onthou – van die goeie ervarings, sowel as die nie-só goeies nie. Partykeer, wanneer ek hier sit en tik en terugdink oor my lewens-ervarings, dan wonder ek soms of alles nie maar net ten goede was nie. Ek laat dit maar aan julle, die leser(s), oor wat my ken óf geken het.

Ek het reeds melding gemaak van my skoolvakke wat ek geneem het, dit was mos die eksamenvakke, maar ons het ook nog Maandagoggende, na saalopening, een periode Godsdiensonderrig gehad, eenkeer per week ’n gimnastiekklas, gewoonlik op Woensdagoggende net voor groot speeltyd en les bes Vrydagmiddae se laaste periode was ‘Landbou periode’ vir die seuns en

vir die meisies ‘Huisvlyt’. Weet nie wat hulle alles ‘gevlyt’ het nie, maar ons seuns moes die vyfhonderd roosbome wat op drie terrasse voor die skoolgebou geplant is, gereeld in die winter snoei, in die somer bemes, nie self nie, maar met kompos en kraalmis, en die grond moes omgespit word. Ons moes ook die graspolle op die seuns en meisies se speelgrond met skoffels afskoffel. Goedkoop handearbeid? Daar was daardie jare net ’n ouerige wit oom wat die opsigter was en die klaskamers skoongemaak en na skool dit gesluit het. By die personeelkamer was daar ’n kleurlingtannie (ons het haar sommer aia genoem) wat tee moes maak.

Gedurende 1952, toe ek darem na st. 8 (Graad 10) toe bevorder is, moes die seuns, elke middag na skool, ‘n uur of wat kom pik slaan want daar is besluit dat die skool nou ’n swembad moet hê sodat daar ook swemlesse aan die kinders aangebied kan word. Weer net goedkoop handearbeid. Die los gepikte grond is met ’n damskrop, só genoem want dit was gebruik om gronddamme mee te skrop, wat deur een van die boere in die distrik aan die skool geleen is, uit die al dieper wordende swembadgat, gesleep. Weet julle nie hoe ’n gronddam geskrop word nie? Wel, wanneer ’n nuwe dam gemaak word, word die damwal gebou met die grond wat hulle op die gelykte uitgrawe om ’n diep kant vir die dam te maak. ’n Ou dam word geskrop gedurende ’n droë jaar wanneer die dam sonder water is. ’n Dam slik van tyd tot tyd toe met modder wat met die reënwater op die vloer van die dam by die damwal vasgedruk word, en wanneer die dam leeg is, word daardie slik met ’n skrop uitgeskraap en die damwal word aan die voorkant, nie die waterkant nie, daarmee versterk. So ’n damwal word met die jare al breë en breër. Is julle nou tevrede? Goed.

Die boere gebruik gewoonlik donkies of muile om die skrop te sleep en ’n plaaswerker om die handvatsels van die skrop te hou en dit dan by die plek, waar die grond gestort moet word, om te slaan sodat die grond uit die skrop kan val. By die skool was, in die plek van die donkies of muile, twee seuns wat met ’n dwarshout wat in die sleepstang gesteek is, getrek het en die plek van die plaaswerker, was een van ons laaities. So elke derde skrop vol grond is die ‘trekdiere’ en die ‘skrop hanteerders’ omgeruil. Wel als het goed afgeloop en ’n swembad is gebou, net met sement en stene, geen hedendaagse “gun nite” of veselglas, of is dit glasvesel?, nie, en só het ons darem ons hande-werk kon geniet toe die swembad vol water getap is en ons kon leer swem. Baie keer amper versuip, maar in die proses darem geleer om bo te bly – dank die Vader daarvoor want ek sou dit later in die SA Polisiekollege nodig hê.

Het ek al gemeld dat die kamp weer by ’n bloekombos ‘opgesit’ is? Wel dit was! Ons kampseuns het op ons eie begin hoogspring en paalspring oefen. Hoe? Ons het mooi dik bloekomlatte gesny vir staanders wat in die grond geplant word en dunner latte wat as dwarslatte gebruik is, wat op spykers in die staanders gerus het. Só is die hoogspring apparatuur geskep. Die grond aan die ander kant is met ’n pik losgemaak sodat die val darem nie só hard is nie. Die ‘skêr-aksie/tegniek’ was die algemene wyse waarop daar hooggespring is. Jy hardloop so skuinsweg nader, trap met die linkervoet voor, maar amper onder die dwarslat vas, regterbeen skiet op en jy knip-glip oor die dwarslat. Dit was nie moeilik nie, maar jy kon nie goeie hoogtes bereik nie. Ek kon darem later met hierdie tegniek sommer oor ’n 3voet 3dm (amper ’n meter) hoë draadheining spring, sonder om te val of dat my voete aan die draadheining verstrengel raak. By die skool leer ons liggaamsoefeningonderwyser ons die nuutste hoogspring tegniek – die toe nuwerwetse “western roll.” Ek kon dit nooit bemeester nie, ander het, soos ek, op hulle bekke geval en die wenners van die item het die volmaakte rol oor die dwarslat, tydens atletiekbyeenkomste, uitgevoer en dan in die hoop saagsels beland wat as skokdemper daar gegooi is. Sedertdien gebruik al wat hoogspringer is, die “fosbury flip” tegniek. Dis nog moeiliker as die eertydse “western roll.” Dit was alles maar net ’n voorloper in die ontwikkeling van atletiek apparatuur en -hulpmiddels wat hedendaags by atletiekbyeenkomste gebruik word. Ons paalspring se oefenry het nie veel suksesse opgelewer nie, want ons ‘paal’ was ook maar ’n dikkerige bloekomlat en die hoogste hoogte wat bereik is, voordat

die ‘paal’ gebreek het, was nie veel hoër as die hoogte wat bereik is met die skêrtegniek in hoogspring nie.

Ons het ook ons trauma daar beleef toe ouma Annie op Barrydale, dis nou Mamma se ma, dié een by wie Kowie as hulpverlener gebly het, ’n erge beroerteaanval gekry het. Pappa het nie ’n voertuig nie, maar toe mnr. Buirski hoor van ons ouers se dilemma, het hy daardie selfde Plymouth paneelwa aangebied sodat Pa-hulle na Barrydale kon gaan om by Ouma te wees. (Regte Joodse toegeneentheid teenoor sy medemens). Ons groter kinders is toe deur suster Anna gehelp om te eet, te klee, te leer en soet te wees, terwyl Mamma en Pappa met die twee jongstes na Barrydale is. Oupa Dupie-hulle was net ’n dag of twee, dalk nog net ’n naweek weg, ek kan nie meer so mooi onthou nie, wat ons toe alleen by die huis was. Barrydale was daardie jare nog deel van Swellendam se munisipaliteit, want die dorp is sowat 35 myl (±50km) vanaf Swellendam en is verbind met die nou alombekende Tradouwpas deur die Langeberge, met Swellendam. Tans is Barrydale een van die dorpe in die groter munisipaliteit in die Overberg. Ouma Annie het nog lank daarna geleef, maar was bedlêend tot haar afsterwe. Ek en Corrie het haar nog in lewe gesien na ons troue in Oktober 1959 toe ons met ons wittebrood die familie te Barrydale gaan opsoek het. Later is sy deur tant Louisa (Lewiesa), een van Mamma se susters, en haar man oom Harry, op Barrydale opgepas en verpleeg. Kowie was toe al getroud en sy en Japie van Daalen het in Ouma se huis aangebly. Ek het, soos reeds genoem, Vrydagmiddae en Saterdagoggende, tot so 1.30 nm.(13:30), in Buirski se winkel gaan help. Ek het reeds gemeld dat die betaling aan die einde van die maand ’n hele twee en ’n sikspens (2/6 halfkroon, ongeveer 25 sent in vandag se waarde) was. Ek moes vir die twee damesklerke, my suster tannie Anna en Cecilia Roodtman, help om blikkieskos van die boonste rakke af te haal en om die spreekwoordelike hansie-my-kneg (“handyman”) te wees. Ek word ook na plekke in die dorp gestuur. Ek lees nou die dag ’n beriggie in die Beeld koerant wat ek nou in my eie woorde weergee:

‘Wie onthou nog daardie kruidenierswinkel waar ’n mens met jou mandjie instap, al die mense groet en ’n paar minute sommer net praatjies maak. Dan vra jy vir een pond suiker en vyf pond mieliemeel? Dit was in die dae voor die groot plastiek omwenteling hier teen die 1950’s gekom het. Toe moes alles eers afgeweeg en in bruinpapiersakkies (kardoesies) verkoop word. Die inhoud van die sakkies moes dan met ’n pen of ’n perspotlood, (indelible pencil) opgeskryf word. Baie min was vooraf verpak. Skoen- en stoeppolitoer en bakpoeier was darem in blikkies. Waspoeier in boksies en melk in glasbottels, kaas en dadels het in ’n blokvorm van ’n paar pond in ’n houtkrat gekom en jy moes self die gevraagde hoeveelheid uit- en afsny. Koekmeel, mieliemeel, suiker, sout, boontjies, gesplete ertjies (“split peas”) het in sakke gekom en in houers (“bins”) wat agter die toonbank is, gegooi en dan word die hoeveelheid wat aangekoop word, met metaalskoppies in die bruinpapiersakkies gegooi en op ’n Avery skaal (‘n blik weegbak en houer in ’n staal geraamte) geweeg. Daar was sowat 10 verskillende los ystergewigte waarmee die korrekte gevraagde goed, geweeg word. Die ons- gewiggies (sal vandag seker gramme wees) was egter van geelkoper. Lekkers was uit groot glas-potte, wat op die toonbank gestaan het, in ‘n horinkie, wat uit koerantpapier gedraai is, gegooi en toegevou. Daardie koerantpapierhorinkie het gelyk soos die roomyshorinkies van vandag, met dié verskil dat ons die roomyshorinkie saam met die roomys kan eet.’

‘By die slagter was jou vleis in waspapier en daarna in bruinpapier toegerol. Alle pakkies, veral as dit ietwat bonkig is, word nog ook met ’n toutjie, vasgemaak. Die rol tou hang aan ’n draad wat in die dak vasgeheg is.’ (In die kruidenierswinkel was daar soms ook ‘n soortgelyke bol tou.)

Kan julle julle nou self indink hoe arbeidsintensief hierdie wyse van werk was? Met hierdie paar gedagtes sluit ek my diens by Buirski se Algemene Handelaar af.

Die jaar 1952 snel ten einde en nou is dit eksamentyd. Die st. 8 (Gr.10) eksamens wat in die Kaapprovinsie geskryf word, was, net soos die hedendaagse matriekeksamen, ook ’n Departementele eksamen en moes by die Stadsaal van Swellendam geskryf word. Een-een by ’n tafeltjie en drie onderwyseresse om toesig te hou en jy kry nou, in plaas van los foliovelle en vrae wat op die swartbord geskryf word, ’n eksamenantwoordstelboek, jy kry ’n eksamennommer en vir die eerste keer kry jy nou ’n vraestel wat gedruk en gebind is. Die vreemdheid verdamp gou en koppe-af en penne-op en breins-aan het die drie ure elke dag laat verbysnel. Ek het dit genadiglik geslaag. Altyd gewonder hoekom ek as ’n bo-gemiddelde leerling nie in die eersteklas geslaag het nie, want die antwoorde was dan só maklik. By nabetragting deur die onderwysers, besef jy eers dat van die antwoorde wat jy gegee het, nie met die vrae verenigbaar was nie. G’n wonder die antwoorde was só maklik nie! Ek sal later in my lewe die regte antwoorde op eksamenvrae weergee en wel in die eersteklas slaag!

Ek is nou in st. 9 (Graad 11) en nou word ons seuns deur die hoof, meneer R. P. Oelofsen onderrig. Hy is ook ons Duitse onderwyser en het ons gemaan om met skoene en kouse skool toe te kom, want ons is nou die seniors en moet ’n voorbeeld vir die jong laaities stel. Oelofsen het onder ons kinders as (Ronnie Poep Orkane) bekend gestaan want hy het sowat ’n halfdosyn verskillende geure in die klas gepoep. Baie van ons ‘seniors’ het die vermaning nie baie ernstig opgeneem nie, maar was tog nog skrikkerig vir ’n straftoemeting deur ou RPO as ons nie skoene aan het nie. Ek het, soos baie standerd neges, my skoene en kouse in my boeksak (grys karton tipe koffertjie) gesit en net voordat ek die skoolhek ingaan, saam met ’n paar ander kampkinders, kouse en skoene aangetrek. Dieselfde ritueel is gevolg vanmiddag as ons huis toe gaan. Dan waai die skoene en kouse en ons loop kaalvoet huistoe.

Ek besit nog dieselfde koffertjie. Hierdie koffertjie was by geleentheid ook vir oupa Dupie geleen toe hy in Port Elizabeth Hospitaal toe moes gaan vir ’n operasie. Sy voorletters en van (J.J du Plessis) verskyn nog in die binnekant van die deksel. Ek het vroeër, as getroude man, die koffertjie gebruik om ons persoonlike dokumente in te bewaar. Ek gebruik dit nog steeds as ons dokumente te veel is vir my ses plastiek liasseerlaaitjies. Ek glo nie een van my kinders, óf selfs kleinkinders het nog een van hulle skoolboeksakke óf koffers nie.

My eerste skoolkoffertjie toe ek hoërskool toe gegaan het. Sien die sleuteltjie aan ’n skoenveter. (Foto: Ben).

Groot vriende van my in hierdie skool was Piet Smal, later professor by UPE, en ook by die Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth, waar hy afgetree het, Kobus Muller, later skoolhoof en hy het in ’n motorbotsing gesterf, Uilspieël Uys, later professor by UNISA, Hennie van Riel, rekenmeester te SANLAM in Bellville, Niklaas van As, boer en later my swaer, is getroud met my suster Hendrika (Babie). Dan was daar MC, (Tuie) Steyn– sy pa was die tuiemaker op die dorp. Hy was later NG Kerk leraar te Humansdorp en is reeds oorlede. Johnny Steyn se pa, oom Robbie, het by die Swellendam/Heidelberg Koöperasie as klerk by die kruideniersafdeling gewerk en hy het later Streekhoflanddros te Pietersburg geword (ook reeds oorlede). Robert Steyn, sy pa, was ook ’n klerk

by dieselfde koöperasie, maar by die hardeware (alternatief vir ysterware) gewerk. Hy het nes sy pa, ook ’n effe van ’n boggeltjie gehad. Dan was Gielie Spamer ook nog daar, ’n wilde mannetjie, hy het gerook, gevloek en sommer met enigeen skoor gesoek. Jy wou hom liewer as ’n vriend as ’n vyand hê. Hy het later posmeester by die SA Polisiekollege geword en nog later hoofposmeester te Pretoria Poskantoor. Ek vertel julle later van ’n insident in die klas waarby Gielie betrokke was. Ja, daar was nog ander soos Duinemol Dunn met sy skewe voortande, Fritz Crause en Marius Greeff, wie ek later jare by ’n Rapportryers byeenkoms in Wonderboom, Pretoria raak geloop het. Daar was nog ’n paar ander, maar ek het nie veel met hulle te doen gehad nie, behalwe om maar die lief-enleed van skoolkind in dieselfde klas as hulle te beleef. Meisies ook heelwat, maar ek onthou net dié wat in die kamp gebly het, hulle was Gertruida (Gerty) Botha, ’n wilde meisie as daar ooit een was, die beste Duitse punte behaal, sal later weer van haar skryf toe ek al polisieman was. Annette (Boktet) Greeff, só genoem, want sy het ’n redelike groot boesem gehad wat hangende was soos ’n bokooi se twee spene. Ag ek vergeet die ander meisies se name, want ek het in daardie stadium nog nie die verskil tussen seuns en meisies gesien en ervaar nie (julle dink ek lieg nè?) en my belangstelling was toe net by my studies. (Julle dink ek lieg alweer?) Ek het my vooruitsigte gestel op wat ek in my lewe na matriek gaan maak. (Julle dink ek lieg nog steeds!)

Nou vir die insident waarby Gielie Spamer in die Geskiedenisklas, by ’n meneer (sy van kan ek nie meer onthou nie, maar ons het hom Ghwar genoem), betrokke was. Hy, dis nou Ghwar, het die manier gehad om met ’n rottang in die klas rond te loop en dan vrae aan die kinders te vra oor die vorige dag se les – hetsy dinge wat in Mesopotamië gevind is, die hiërogliewe skrif, die piramides, Napoleontiese oorloë, ens, ens. Die meisies wat nie die antwoorde geweet het nie, het ’n hou op hulle twee oop hande, palms na bo gedraai, met die rottang gekry. Die seuns kry twee houe oor hulle sitvlakke (al weer diskriminasie m.b.t. aantal houe en plekke waar dit toegedien moet word). Hy het die gewoonte gehad om vir die seuns te sê: “Buk!” Hy het dan na jou kopkant toe beweeg en wydsbeen oor jou kop gestaan en jou kop met sy bene vasgeknyp. Dit lyk baie snaaks, maar nie een van ons het durf lag nie, net só agter ons hande geglimlag, dan volg die twee rapse só van bona-onder oor jou boude. Gielie weet nie watter jaar die Krimoorlog plaasgevind het nie, óf ’n vraag in dier voege, en hy word aangesê: “Buk!” Hy buk en Ghwar kom weer om na sy kopkant toe en knyp Gielie se kop tussen sy bene vas. Net voordat Ghwar kon slaan, gryp hy Gwar se twee bene vas en staan Gielie met die meneer half regop, ons gaap oopmond van verbasing. Ghwar se bene lig van die grond af, hy druk op Gielie se rug om nie te val nie. Gielie loop half gebukkend met hom na die oop venster toe. Dit was nog van die opskuiframe soort. Ons klas was op die eerste verdieping en dis vrek hoog grond toe.

Ghwar sê: “Gielie sit my neer.”

Gielie sê: “Meneer gaan my nie slaan nie, anders gooi ek jou deur die venster.”

Daar was wederkerige kommunikasie tussen hierdie twee siele. Ons kinders wou lag, maar het verbaas geluister na hierdie twee se tweerigtinggesprek terwyl die twee kop-en-gat in mekaar gevleg is. Wat ’n spektakel, amper soos ’n koeksister! Uiteinde was dat Ghwar beloof het om Gielie nie te slaan nie. Gielie sit hom sagkens neer naby die lessenaar. Ghwar skud sy klere reg en sê Gielie moet hom na buite vergesel. Ons het later verneem dat die skoolhoof, ou Ronnie Poep Orkane Oelofsen, het toe vir Gielie drie van die bestes gegee. Klas gee vir die res van die periode was ’n antiklimaks en nuwe dinge moes maar later self gesnap word. Die hele episode was die “talk of the town”, want wie kan hierdie episode vir homself hou? Dit was ook die laaste van sy gewoonte om seuns se koppe tussen sy bene vas te knyp.

NG Kerk Swellendam (Moedergemeente). Dit is ’n Kultuurhistoriese monument. (Foto: Ben). Swellendam met die mooi blou Langeberge, die groen koringlande, akkerbome langs die strate en die talle ou Kaaps-Hollandse huise en die rustige gekabbel van die Koringlandsrivier met sy koperbruin bergwater wat deur die dorp vloei, en die historiese NG Kerk (Moedergemeente) wat oor die inwoners waak, sal binnekort iets van die verlede wees, waarna ons slegs kan terugverlang. Julle vra hoekom? Hier teen einde Maart 1953, einde van die eerste skoolkwartaal, gaan ons weer trek! Dié slag Port Elizabeth toe.

Elders is ’n foto van die NG Kerk Moedergemeente, Swellendam. Dit is en bly ’n mooi kerk wat, naas die Grotekerk in Kaapstad, een van die oudste kerkgeboue in die Kaapprovinsie is. Dit is ook een van die Nasionale Kultuurhistoriese geboue in Swellendam.

Daar is ook nog die Swellendam Drosdy wat insgelyks ook ’n Kultuurhistoriese gebou is. Dis sekerlik een van die interessantste besienswaardighede op die dorp.

Die Drosdy op Swellendam. (Foto: Google)

Dis die moeite werd om die geskiedenis van hierdie mooi Bolandse dorp (of is dit Suid-Kaapse dorp?) na te vors, óf om net jou nuuskierigheid te bevredig, deur die Drosdy te besoek en alles rakende die dorp te lees. Het julle byvoorbeeld geweet dat Swellendam ook bygeleentheid, natuurlik jare gelede, ’n republiek uitgeroep het? Die Drosdy was ook die eerste magistraat se woning. Dit is uiteraard vandag ’n museum saam met die buitegeboue waar daar ook rytuie uitgestal word.

In die volgende hoofstuk wy ek uit oor oupa Dupie wat na Port Elizabeth verplaas is en ons huisgesin wat sak-en-pak saam is.

HOOFSTUK 4: OUERS WORD NA PORT ELIZABETH VERPLAAS

Matriek? Nee, liewe lesers, ek het dit toe nie in daardie jaar 1953, gemaak nie, want gedurende Maart 1953 kom Pappa tuis en kondig ons volgende verplasing aan. Port Elizabeth toe! Ons trek gaan einde Maart 1953, met ’n padkamp lorrie vooruit, hierdie slag nie ’n rooi 3 ton platbaklorrie nie, en ons almal volg in ’n geel padkamp 3/4 ton bakkie met ’n seilkappie op. Pappa, Mamma, Fanie en Thys voor in die bakkie en ek, Anna, Babie, Maggie en Japie agterin. Daar is ’n matras in die bak gedeelte, maar ook ’n klomp koffers (soetkyse) en beddegoed. Nou ry ons tuinroete langs PE se Baai toe.

Daardie jare was die Grootrivier- en die Bloukranspasse nog gruispaaie en vol draaie. Soos die bakkie die draaie omgaan, só het van ons kinders se mae ook begin draaie maak. Naar broer, naar, en gekots dat die wêreld agter ons kon sien hier is mense wat die hede met die ewige gaan verwissel. Ons gee die bobbejane verteerde kos so ver ons ry. Ons klap teen die bestuurskajuit se kap en Pappa hou stil. Ons is almal grys in die gesig, water word gegee om ons monde uit te spoel om die suur smaak te verdryf en ons loop ’n paar draaie om ons self weer net as mensekind te

oriënteer. Nou gaan ons verder, die passe is verby, só dink ons, maar hier begin die Van Stadenspas, gelukkig darem teerpad en nie baie lank nie.

Weldra is ons in die Baai. Ons vergaap ons aan hierdie vreemde plek, die wind waai dat die stofwolke in sulke warrels verby ons rol. Ons kom by die kamp aan, dis net buitekant die stad by Cradockplek ‘opgesit’. Vandag se dae is hierdie woonbuurt Algoapark en ’n industriële gebied waar daar nou baie fabrieke is. Die militêrekamp is net langs ons padkamp geleë. Hierdie slag nie bloekombome naby nie, net die plek wat skoon geskraap is en die huise wat netjies langs mekaar opgesit is. Elkeen se erf met ’n sifdraadheining (dit was die groot ogiesdraad, ook bekend gestaan as vark ogiesdraad) afgesper. Dis elke bewoner se persoonlike gebruiksgedeelte. Die huis is ’n nuwe houthuis (“Masonite”) net soos ons in Swellendam gehad het. Ons is honger en dors, die wind waai sulke vlae en Mamma staan met Fanie op die arm en trane biggel oor haar wange, sy praat nie ’n woord nie, sy snik-snik net. Pappa troos en sê dat alles sal regkom, die ander kleiner kinders trek ook skewebek soos hulle wil huil, maar genadiglik word dit weggesluk toe Pappa alleen ry om te gaan kos koop. Ons ander wag by die huis op die huisraad wat moet kom, want alhoewel hulle vooruit gery het, moes ons hulle langs die pad verbygegaan het waar hulle dalk vertoef het.

Die huisraad kom aan en ons help fluks met die aflaai daarvan. Mamma wys die kamers aan en plekke waar die meubels gesit moet word. Hierdie huis het darem ’n badkamer gehad, ’n enkel sinken-plank platdak eenheid wat vanaf die agterstoep aan die huis vasgeheg is. Ons kon darem warmwater maak, want nou het ons ’n kopergeiser wat met plankies en hout by die bokant in ’n opening ingevoer word en dan aan die brand gesteek is. Watter luukse! Pappa het ook dadelik die voorstoep met planke toegebou om die wind en stof uit die huis te probeer hou.

Toe kom die werksoek vir Anna en vir my het ons ’n hoërskool in die P E se Baai gesoek wat dieselfde keusevakke vir my kan aanbied. Babie, Maggie en Japie, ek dink ook Thys en Fanie wat albei daar begin skoolgaan, het nie probleme gehad nie, want hulle moes maar net inval by die naaste skole, naamlik die Celliers Hoërskoolen die Dr. Viljoen Laerskool. Ons kon nie een hoërskool vir my in die Baai vind nie, maar Brandwag Hoërskool te Uitenhage het op een na dieselfde vakke aangebied. Pappa het gesê dat ek in die koshuis sal moet bly óf ek moet die skool verlaat en begin werk soek.

Die Donkin Reserwe in Chapelstr. Port Elizabeth. (Foto: Ben)

My keuse het toe op die ‘werksoek’ alternatief geval. Ek sou graag by die Poskantoor wou begin werk om as elektrisiën bekwaam te word. Moes teleurgesteld my skrede na ander werke wend, want ek het nie Matesis (Wiskunde) as vak gehad nie. Ek wou ook nie werktuigkundige word soos Pappa nie, want ek kan nie die olie en vullis onder my naels verdra nie. Toe na die banke toe. Ook teleurgesteld, want ek is net 16jaar oud en hulle neem eers outjies in wat matriek geslaag het. Ek dop dus elke toetsveld wat ek vir werk eksploreer. Hoe het ek dan in die Polisie beland? Kom ek vertel dit in die volgende hoofstuk.

HOOFSTUK 5: AANSOEK OM BY DIE SA POLISIEMAG AAN TE SLUIT.

Pappa roep my een Saterdagoggend gedurende April 1953, en sê ek moet kom luister na wat daar oor die radio gesê word van jongmanne wat deur die Polisiemag benodig word. Die versoek is dat alle jongmanne van 16 jaar en ouer, met die minimum skolastiese kwalifikasie van st. 8 (Gr.10), nou as ’n junior lid van die SA Polisie ingeneem sal word. Hulle kan ook na hulle opleiding in die SA Polisiekollege verder as ambagslui in die Mag opgelei word. Navrae moet by die naaste polisiestasie gedoen word. Dit het na ’n uitkoms geklink want ek was nou net mooi moeg van rondloop tussen Poskantoor, Bank en ander moontlike plekke wat ‘seuns’ op ’n permanente basis sou inneem wat vir hom ’n loopbaan in die lewe sou verseker. Die naaste polisiestasie was by Berry’s Corner (Korsten polisiestasie) in Kempstonweg en ek sou my maar daarnatoe wend.

5.1 Ervarings in afwagting van goedkeuring om as polisielid aanvaar te word. Ek het met my werksoekery, al redelik maklik met die busryery reggekom en die Maandagoggend is ek vort soontoe. By Korsten polisiestasie verwys hulle my na Mountweg polisiestasie wat die Polisie se Hoofkantoor in Port Elizabeth was. Hulle neem my toe met ’n Harley Davidson motor-fiets met syspanwa (“side car”) na Mountweg toe. By Mountweg word ek na ’n kantoor toe geneem waar daar ’n groot omie in ’n donkerblou uniform en ’n pankop sit en hy word aan my as Van Zyl voorgestel. Ja, dis die nimlike Buurman van Zyl, die befaamde afrigter van die toentertyd se NoordTransvaal se rugbyspan. Later sal hy weer, onder ander omstandighede, my pad kruis. Nou word daar vrae gevra en hy gee my ’n vorm om al my persoonlike inligting in te vul en gee my ’n nota waarop al die dokumente gelys is wat ek moet bring. Dit was: Twee resente getuigskrifte, my st. 8 (hedendaags Graad 10) skoolsertifikaat, my ouers se geskrewe toestemming, die registrasiesertifikaat van die SA Weermag vir Burgermagopleiding en my geboortesertifikaat. Pappa het briewe aan meneer Buirski en die Skoolhoof te Swellendam geskryf en hulle het toe die getuigskrifte aan ons adres gestuur. Ek het ’n bus gehaal om die dokumente vir die vet polisieman te Mountweg te gaan gee. Ek onthou ons het vanaf Adderleystraat (hedendaags is dit “Main road”) in Mountweg met die motorfiets teen die bult opgedraai en dit was nie so ver gewees nie, sodat ek besluit het om by die onderpunt van Mountweg af te klim en teen die steil Mountweg op te stap. Die dokumente word afgegee, my vingerafdrukke word geneem en ek word verwittig dat hulle dit na Pretoria toe sal stuur en my sal laat weet of ek goedgekeur is al dan nie.

Ek draal daagliks maar in die kamp rond by my pelle en doen allerhande takies vir Ma by die huis. Ek staan buite ons huis en kyk hoedat die kamp se trekkers, vragmotors en padskrapers besig is om die veld langs die ou teerpad na Uitenhage oop te skraap en plek-plek op te vul om ’n nuwe dubbelpad na Uitenhage te bou. Die stof is natuurlik iets vreeslik en Mamma verwens elke slag hierdie onheilige Port Elizabeth as die lakens en ander klere wat gewas is, rooi van die stof van die draad afgehaal moet word. Toe koop Pappa ’n petrolwasmasjien. Mamma is man-tot-man, óf is dit man-tot-vrou onderrig gegee hoe om die petrolenjin aan die brand te skop – amper soos ’n mens ’n motorfiets aan die brand moes skop. Die wasmasjien was ’n Maytag model wat die klere ná die wassiklus tussen twee rollers kan uitdroog. Daar word vroegoggende gewas en voordat die stof

kom, word dit afgehaal en onder die voorste afdak wat toegebou is en die agterstoep wat ook onderdak was en weg van die stofmakery is, opgehang om verder droog te word. Ons het nie eens ’n bediende gehad nie. Mamma en die drie dogters (Anna, Babie en Maggie) het maar saans kom stryk.

Tydens hierdie leeglêery van my tuis in afwagting van die besluit van die polisie of hulle my gaan aanvaar of nie, het ek saam met my ander broers en oupa Dupie die strande van Port Elizabeth besoek waar ons gaan swem het – eintlik nie gaan swem nie, net die branders gaan ry het. Oupa Dupie kon goed swem en het ons ook geleer hoe om die branders te ry. Daardie jare was daar nog nie eens ’n sport soos branderplank- en sweefplankry nie. Ons het maar op ons pense saam met die branders wat besig is om te breek, uitgeskuur kant toe. Somtyds, as ons tydsberekening verkeerd is, het die branders voor die tyd gebreek en ons word gat-oor-kop in die seesand in gemaal en rond gespoel. Ons het maar opgestaan en weer die een na die ander brander ingeduik en gewag op die groot een sodat ons dit behoorlik kan ry. Oupa het valstande gehad en het gewoonlik sy tande uitgehaal en dit in sy baaibroek se klein sakkie gesit en toegeknoop. By een swemgeleentheid het Oupa vergeet om sy tande uit te haal, toe duik hy weer deur ’n aankomende brander in. Hy kom regop en hy gryp sy mond vas en roep bo die geraas van die branders uit: “Ek het my tande verloor! Kom help my soek!”

Ons drie seuns, dis nou ek, Japie en Thys, Fanie was nog te klein om saam te kom see toe, kom nader en ons soek op die seebodem, terwyl die branders die een na die ander aangerol kom en booor ons breek. Die soektog blyk vrugteloos te wees en ons las die amptelike soektog af. Ons gaan voort met die brander ryery. Ons gaan later huis toe en Oupa vertel Ouma van sy groot verlies. Hy sal later weer vir hom laat tande maak. Dis nog nie die einde van hierdie storie nie.

By geleentheid, nie lank na die tand-verloor-episode nie, kom daar een van die padkamp kollegas van Oupa kuier en hy word met volle detail vertel hoe hy, dis nou Oupa, sy tande verloor het en dat hy nou op sy “rims” ry as hy eet en moet kou. Die besoeker sê: “Dup jong, jy moet daar by die strand gaan vra waar die lewensredders se kantoor is, hulle tel allerhande goed op miskien is jou tande een van die herwonne verlore skatte.”

So gesê, só gedaan. Ek ry saam met Oupa Kings Beach toe waar ons branders gery het toe hy sy tande verloor het. By die lewensredders se kantoor vra Oupa die groot vraag: “Ek het my tande nou die dag in die see verloor, het julle dit dalk gekry?”

Die man, met ’n glimlag op sy songebrande gesig en wit tande wat in die mond se opening sit, buk vorentoe, haal iets onder die toonbank uit, kom regop en plaas ’n skoenboks vol valstande voor Oupa neer. “Kyk maar Oom, dalk is jou tande hier tussen in.”

Daar lê skewe tande, ondertande, bo-tande, in pienk- en donkerbruin hars geset. By ’n paar is daar tande uit en gaap hulle jou so skewebek aan, by ander is daar stukkies goud inlegsels. Van die ander stelle tande is vol sand en ander vol fyn skulpies en droë bloublasies en wie-weet -wat-nog.

Oupa kyk net een kyk, en sê: “Jong ek sien nie my tande nie. Dankie. Totsiens.”

By die motor gekom begin ek hardop te lag en Oupa sê: “Ek sweer my botande van die stel het tussen daardie klomp gelê, maar ek het ‘n grillerige gevoel gehad wat so oor my lewe loop, wat my laat besluit het, te dêm met die tande, ek sal maar vir my ’n ander stel laat maak.” Oupa het later, nadat sy “rims” te seergekry het met die etery vir hom, ’n ander stel valstande laat maak.

Nou weer terug by die aansoek om by die polisie aan te sluit. Eendag, dit was so om en by die 10de Junie 1953, kom daar ’n polisieman by die huis aan. Ek is nie tuis nie, en Mamma sê die man het gevra dat ek na die polisie se hoofkantoor te Mountweg moet gaan, want my aansoek is goedgekeur. Luister nou hoe dit gekom het dat ek in daardie Port Elizabeth verdwaal het op pad na Mountweg polisiestasie, ’n plek wat ek teen daardie tyd geweet het waar dit geleë is:

Alta Kirchner, ’n niggie van my en suster van Attie en Bennie Kirchner wat ook in Port Elizabeth gewoon het, het gereeld by ons kom inloer. Alta (later getroud met Naudé) was ’n verpleegster by Port Elizabeth se Provinsiale Hospitaal en het by privaat mense naby die hospitaal loseer. Toe ek vir haar sê ek moet weer Mountweg polisiestasie toe gaan, en dat ek sommer weer met Mountweg sal opstap, vertel sy my dat die Provinsiale Hospitaal sowat twee blokke van Mountweg polisiestasie is, en as ek tot op die plein met die bus ry, en daar ’n bus na Kaapweg haal, ek baie gou by die polisiestasie sal uitkom. Toe ek dus nou na Mountweg polisiestasie moet gaan, besluit ek om só te ry soos sy verduidelik het.

Ek het my mooi aangetrek en met Pappa se nommer agt swart Sondagskoene, wat nog effe te groot was vir my junior voete, die bus so om en by 9vm (09:00) gehaal en by die plein afgeklim. Kry dadelik ’n bus waarop daar ‘Kaapweg/ Cape Road’ staan en klim in. Sover ons ry kyk ek rond na hierdie Hospitaal-landmerk en of ek die Mountweg polisiestasie ook kan opmerk. Ek het nie geweet dat die Hospitaal en Mountweg polisiestasie albei in Dobsonstraat, ’n straat wat parallel met Kaapweg loop, geleë is nie en dat ek nie een van die twee vanaf Kaapweg te siene sou kry nie. Die bus snel voort, weg van die stadsplein af.

Die mense klim een na die ander af en toe dit by Sesdelaan, Newtonpark omdraai en stilhou, toe klim ek saam met die laaste passasiers af. Ek glo by my sigselwers dat die Hospitaal en Mountweg polisiestasie nou hier iewers naby sal wees. Ek begin loop, en ai, as jy darem dom is, verdwaal jy gou, want min wetende was ek besig om in ’n verkeerde rigting te loop. Eintlik besig om Kaap toe te loop. Kom later by ’n straat uit wat Birdrylaan heet, hier sien ek ’n kleurlingman en ek vra hom om my te verduidelik hoe ek by Mountweg polisiestasie kan uitkom. Hy kyk my so snaaks aan en sê, met ’n regte skollie-aksent: “Seur, djy is aan die wrong side van die Baai, djy moet nou hier met dié straat, Bird avenue, afloep, want hier travel nie buses nie. Loep tot by Kemspton road en daar sal djy ’n bus moet catch waarop ‘City/Stad’ aan die voorkant staan.”

Só gehoor, só gedoen, maar nou loop ek al kruppelende met hierdie swart kerkskoene van Pappa wat my hakskene karnuffel.

Ek loop-en-loop en kom, dit voel ure later, by Kempstonweg uit. Daar staan ’n bus en sowaar dit gaan stad toe. Ek vra die kondukteur om my by die punt van Mountweg te laat afklim. In Adderleystraat, by die punt van Mountweg, stop die bus en ek klim af en nou pak ek die heel bekende steil straat met nuwe ywer en vol moed aan en kom al hinkende-pinkende so ongeveer 11vm (11:00) by die vet omie polisieman aan (dis weer Buurman van Zyl). Hy wens my geluk dat ek voorwaardelik as rekruut vir die polisie goedgekeur is en dat ek nou op 16 Junie 1953 by die Polisiehoofkantoor te Pretoria moet aanmeld, waar ek ’n doktersondersoek moet ondergaan. Ek moet maar bagasie saam-neem, want as ek die doktersondersoek slaag, gaan ek ingesweer word as rekruutkonstabel. Hy gee vir my ’n papiertjie, dit het ek later gelees, is ’n treinkonsessiebewys vir ’n tweedeklas enkel treinkaartjie na Pretoria. Ek moet my plek bespreek en die konsessiebewys by die kaartjieskantoor inhandig om my kaartjie te bekom. Hy gee my ook ’n papiertjie wat ek alles

moet saamneem Pretoria toe. Ek kom voetseer, maar tog baie bly, so om en by 12:00 middag tuis nadat ek weer met Mountweg afgestap het tot in Adderleystraat waar ek ’n Cradock Place bus huis toe gehaal het. ’n Hele drie ure se wegwees vir slegs ’n 5 minute se gesels by Van Zyl en voete wat dadelik uit die skoene geskop word om die pyn te verlig.

Dit is nou spreekwoordelik min dae. Pappa doen die bespreking en ek moet op 14 Junie 1953 die trein op Port Elizabeth stasie haal na Pretoria toe. Pappa en Mamma gaan saam na HUB Stores toe, waar my oudste suster Anna werk gekry het, en hy maak ’n rekening vir ons gesin oop. Ek word uitgerus met klere, onderbroeke (Ja ek het nou al onderbroeke gedra), onderhemde, pajamas, sokkies, skoene, das, kerkhemp, een trui ’n langbroek en sportbaadjie, en o ja, ook ’n armhorlosie. Dit was alles so om en by £50.0.0.(sowat R100,00). Toe koop Pappa ook ’n koffer en twee leerbande (“rug straps”) wat om die koffer geplaas word om die reisdeken (“rug”) op die koffer vas te bind. Nou is ek reisvaardig. Die klere word die aand met swart merkink gemerk. Pappa sê toe dat hulle die rekening sal afbetaal en dat ek later vir hulle kan terugbetaal.

Oom en tannie Chris Cronjé, ons bure in die kamp, neem vir my en Pappa en Mamma stasie toe. Ek kry my kompartement, en vind daar ’n ander outjie, Ben Klopper, wat ookna die SA Polisiekollege toe gaan. Terloops, hy het later vir die Suid-Afrikaanse Kriminele Buro van die Polisie (SAKB) as vingerafdrukdeskundige en fotograaf gewerk. Het as kolonel weens mediese redes met pensioen afgetree. Dis darem die tweede keer dat ek treinry, want op Kraaifontein het ek eenkeer saam met Pappa Kaapstad toe gery waar hy gaan inkopies doen het. Ek het nou wel nie vroeër iets van hierdie treinrit Kaapstad toe gesê nie, maar kom ek meld dit sommer hier waar ons nou van treinryery gepraat het:

Ek en Pappa ry met daardie omdraai passasierstrein van Durbanville na Kaapstad toe. Dit was toe ons in die padkamp te Kraaifontein gebly het. Dit was ’n nuwe ervaring wat ek geniet het. In Kaapstad klim ons by die stasie af en stap oor die Kaapse parade, na een van die winkels toe. Die parade was destyds dié plek waar enige persoon vir hom ’n stalletjie kon kom opsit om alles wat hy te koop wil aanbied daar uit te stal. Toentertyd se vlooimark. Die parade is omring met ‘n lae muurtjie, omtrent 3voet (±3/4 meter) hoog. Daar sit hordes van die Kaapse manne (kleurlinge) waarvan ek julle al vroeër vertel het. Voor ons loop ’n ou tantetjie en een van die Kaapse manne dra twee van haar papier drasakke (“paper carry bags”). Een ou sê daar van die muurtjie af: “Hey gammat, ek sê jy dra die ou miesies se bags nè!”

Hulle is almal mos baie gevat met hulle sêgoed en die draende outjie laat nie op hom wag nie en sê dadelik: “Ja man, en lek djy die ou miesies se gat, hoor!”

Hy draai sy kop na die vroutjie toe en sê: “Hoe sê ek hom nou, ou miesies!”

Nou lag die klomp op die muurtjie. Ek en Pappa loop glimlaggend voort op ons sending. (Ek wonder nou nog wat die ou miesies gedink het.)

Die treinrit Pretoria toe het sonder enige voorval plaasgevind en by die Pretoria-spoorwegstasie moes ons, volgens die brief wat Van Zyl vir my gegee het, by die Spoorwegpolisie aanmeld sodat hulle die SA Polisiekollege telefonies van ons koms kan verwittig. Nou wag ons twee voor die stasie saam met ons soetkyse (koffers) en “rug straps” en “rugs” in afwagting van ons vervoer. Só tien treë van ons af staan daar nog drie manne, gekoller en getaai, ook met hulle se soetkyse met “rugs” en “rug straps.” Ja, almal het daardie tyd só met “rug” en “rug straps” gereis. Daar kom ‘n groot platbaklorrie aan en ’n polisieman in uniform (ek het toe nog niks van range geweet nie) klim uit en vra so in die algemeen: “Is julle die manne wat ek moet kom haal?”

Ek en Ben Klopper staan nader en nou sien ons dat daardie ander drie ook nader staan. Ben Klopper was ouer as ek, ek skat so drie-vier jaar, maar die ander drie het reeds baard gehad, dit skyn

sommer so swart ‘deur hulle se kakebene’. Groot manne, mense, groot manne! Ons klim op die platbaklorrie met ons aardse besittings tussen ons bene, ek bedoel nou die soetkyste met “rug” en “rug straps”, want die ander goete daar is mos ’n man se privaat goeters, en só vertrek ons op reis na ons bestemming, die SA Polisiekollege.

5.2 Opleiding in die SA Polisiekollege Pretoria

Ons ry die SA Polisiekollege se terrein binne en die lorrie stop by ’n klein sinkgeboutjie waarop die naam ‘Dienskamer/Duty Room’ met wit verf op ’n swart houtbord geverf is. Ons klim af en ons persoonlike besittings word afgelaai. Ons word ingeboek, en word gesê waar ons gaan slaap. ’n Rekruut sal ons gaan wys en nou dra elkeen van ons, ons eie pakkasie. Die slaapplek is houthutaffêre, hulle noem dit ’n ‘bungalow’, waar elkeen van ons vyf nuwelinge ’n bed vind met opgevoude komberse, lakens, ’n verekussing en ’n kussingsloop. Daar is altesaam 36 beddens in dié bungalow maar almal was nog nie beset nie. Ons plaas elkeen ons soetkyse onder ’n bed en maak die bed op. Ons is nou ledig en ons, ek en Ben Klopper, loop maar die res van die dag so lui-lui in die kamp (vandag noem hulle dit die kampus) rond.

Ewe skielik kom ’n bulderende stem iewers uit die hemel op ons af: “Haai julle twee daar “dubbleup”, wat se slentery is dit met julle?”

Ons kyk rond en ‘n skraelgat outjie met drie strepe op sy swart uniformbaadjie se mou, kom in ons visier. Ons weet nie wat “dubble-up” beteken nie en kyk vervaard na mekaar en die mannetjie sê, die slag in verstaanbare Afrikaans: “Komaan, hardloop moenie so stadig loop nie!” (Later gehoor dis ’n ondersersant, “lance bom”, en sy naam is Lesch. Later gehoor sy bynaam is Kraai.)

Tydens ons opleiding het ek ook gehoor dat ’n sersant aan ’n klomp rekrute sê: “Onthou dat die drie gevaarlikste dinge in hierdie kamp is ’n “lance bom, ’n rekruut konstabel, want hy kan enig-iets aanvang wat dalk kan ontplof en ’n atoombom wat die Amerikaners op ons kan kom afgooi.”

Ek en Ben weet nie waarheen nie, maar ons hardloop maar, met ‘n draai agter die eerste gebou in en terug na ons bungalow toe, weet eintlik nie waar dit is nie. Daar is ses van hierdie bungalows agtermekaar geplaas en nou soek ons die een waarin ons geplaas is. Ons vind hierdie huisvesting van ons en daar kon ons toe gelukkig vir die ander ouens wat reeds ’n paar dae voor ons aangekom het, vra wanneer en waar ons moet gaan eet. Ons wag nou dat ete moet aanbreek en verwyl die tyd deur almal in een kol bymekaar gekoek te sit en gesels oor wat ons reeds ervaar het en wat ons dink alles nog vir ons voorlê. Die manne wat reeds ’n paar dae hierdie vreemde wêreld verken het, sê toe dat die etery in die groot saal, genoem menasie, gaan plaasvind en ons moet net saam met hulle stap. “Moet ons nie soontoe hardloop nie?” vra ons.

Nee man, eetsaal toe laat hulle jou toe om te loop. Later het hierdie gebou, waarin die eetsaal (menasie) is, bekend gestaan as ‘Die Gouws-gebou’. Ek dink die ‘Nuwe Suid-Afrika’ se aanstellings in die SA Polisiekollege het dit seker ook weer hernoem. Toe daar so om en by 12 uur middag ’n skril sirene afgaan, hoor ons een van die manne sê: “Daar dubbel-K middel A, die kat!” (In goeie geselskap praat ons maar dat die kat skree). Nou stap ons rustig na die eetsaal toe, want al die rekrute kan nou stap, slegs ‘n paar ouens hardloop om voor in die opskepry te kan wees. Seker vrek honger!

Later, na ete, kom daar ’n rekruut by ons bungalow en op ’n papiertjie staan ons vyf nuwelinge se name geskryf en daar word gemeld dat ons die volgende oggend, 16de Junie 1953, om 7vm (07:00) by die dienskamer moet wees, want dan neem hulle ons na die Polisie Hoofkantoor toe vir ons mediese ondersoek en indiensneming, indien ons die ondersoek sou slaag. Die volgende oggend 7 uur staan ons vyf voor die dienskamer, dis Juniemaand en bitter koud, ons is weer gestewel en gespoor vir die oudiënsie met die dokter by Hoofkantoor. Ons ry weer met die oop platbaklorrie stad

toe, die wind waai snerpend koud by jou wange verby, jou oë traan en jou neus loop en om die ergste wind weg te keer word jou baadjie se kraag (“collar”) opgeslaan. Gelukkig neem die rit nie baie tyd in beslag nie. Ons hou voor ’n grys gebou, waarop ’n uithangbord met die woord ‘Kompolgebou’ pryk, stil waar ons afklim en aangesê word om in te gaan en te vra waar ons vir die dokter moet wag. Die Hoofkantoor was op die hoek van Pretoriusstraat en Bureaulaan. Jare later, nadat die SA Polisie se Hoofkantoor na nuwer geboue, onder andere Thibault-gebou, Wachthuis en Veritas in die stad verhuis het, het die ou Kompol-gebou die Polisiemuseum gehuisves.

By die ingang vra ons ’n polisieman waar die dokter se kamer is. Hy neem ons na ’n kamer toe, daar is niemand nie, maar hy sê dat ons daar moet wag, want die dokter sal enige tyd sy opwagting maak. Later kom daar ’n dik tannie met ’n witjas aan. Sy sê: “Goeie môre, ek is dokter, (kan nie meer haar naam onthou nie, ek wonder of dit nie Vanstootgaring was nie, dalk nog Van Grote Boesem), gaan agter die skermafskorting in en trek uit!”

Ons al vyf gaan agter die afskorting in en lag saggies onder mekaar oor die vrouedokter wat ons gaan ondersoek. Sy roep eerste vir Ben Klopper, hy was maar net so ’n maergat soos ek en sy hele liggaam bewe, seker van die koue, maar ook van senuagtigheid, en al wat hy aan sy lyf het, is net soos ons ander vier ook, is sy onderbroek.

Ons hoor sy sê vir Ben: “Het ek nie gesê julle moet uittrek nie? Gaan trek uit?”

Hy kom agter die skerm in en ons ander vier skrik vir hierdie dokter se skril opdrag en ons trek ook summier ons onderbroeke uit. Nou staan ons poedelnakend, soos ons, ons eerste lewenslig aanskou het, met dié verskil ons was toe mos klein pap babatjies wat geen skaamte het nie! Ons staan en bewe en klappertand só, want dis Juniemaand in Pretoria, dat ons nie kan praat nie, ons lag net so sinies onderlangs vir mekaar. Ek gryp eerste my kroonjuwele vas ter beskerming van wat ongewenste oë dalk kan sien, en die ander drie volg my aksie. Ben loop egter ewe braaf kaalgat na die dokter toe.

Ons luister wat sy alles vir hom vra. Skielik sê sy: “Hoes!” Ons hoor Ben ’n kuggie gee, maar sy sê: “Hoes ordentlik!”

Toe ons beurte kom, kom ons vir die eerste keer agter hoekom ons ook moes hoes. Sy neem jou kroonjuwele in haar hand en dan sê sy: “Hoes!” Dis om vas te stel of jy nie dalk ’n sakaarbreuk in jou testikels het nie. Kan ’n man só verneder word. Gelukkig het ons al vyf hierdie hoes ondersoek geslaag.

Ons gaan na ’n ander kamer in Hoofkantoor, en daar sit toe ’n man in uniform met drie strepe en ’n ster op sy mou. (Later gehoor dis nou ’n 2de klas sersant – glo een van die belangrikste mense in die Mag). Hy gee aan elkeen van ons ’n vorm en ons vul ons name in. Nou moet elkeen afsonderlik die gedrukte bewoording op die vorm lees – nou word jy ‘ingesweer’, want dit wat ons lees en dan moet onderteken, is ’n beëdigde verklaring. Nadat ons klaar gelees het, moet ons, ons regterhand opsteek en sweer, ek het nog nooit gesweer nie, want die Bybel sê mos jou ja is jou ja, en jou nee is jou nee, maar ek steek toe maar my hand op en sê toe die Bybelse-vloekwoord: “So help my God” op.

Die bewoording kan ek nie meer so mooi agtermekaar onthou nie, maar dit was iets soos: ‘Dat elkeen van ons in die Mag diens sal lewer vir Suid-Afrika en in Suid-Wes Afrika en in die Britse Protektorate en die Koning van Engeland sal oor ons heers en ons moet aan hom gehoorsaam wees, en vir hom help in ’n oorlog as daar een is, en dat ons nie sal dros nie, óf iets in dier voege’ – amper soos ’n troubelofte van lewenslank, plus tien jaar!’

Elkeen kry ’n magsnommer, myne was 30095. Ek kan onthou Ben Klopper s’n was 30094, dis seker hoekom hy eerste die koue moes trotseer vir die mediese- en hoesondersoek. Senioriteit volg-orde

sien, nie die een wat die bes geskape kroonjuwele het nie!! Ons word met ’n handdruk gelukgewens en ons wag buite op die sypaadjie vir ons vervoer, terug Kollege toe.

Ek tydens my opleiding as rekruut-konstabel in die SA Polisiekollege 1953. Links ons slaaplokaal en in agtergrond die menasie.

(Foto: Ben – deur troepmaat geneem)

Ek is die kleinste van die vyf nuwe rekrute en word as ’n berede man (ons was destyds Bosluise genoem) by ’n berede troep ingelyf (Ek was maar so 115pond in gewig (±52kg) met ’n borsmaat van net 34duim (± 100cm) en ek maak net-net die lengte-afsnypunt van 5vt 6duim (±1,80m). Die ander vier manne is heelwat groter en hulle word by die voetmanne se pelotonne ingelyf. (Hulle word Magalle deur ons genoem) My salaris word aangepas op die kerf van £200.0.0 per jaar (±R400,00) Dit werk toe sowat £16.6.0 per maand uit, maar dan is daar die volgende aftrekkings: £1.4.0 vir menasie, 10/- vir wassery, £1.0.0 vir sportklub, terugbetaling van rugbyklere £1.5/- en £1.0.0 vir die kerk, 5/-(sjielings) vir hare sny – ons moes elke week hare sny @ 15 pennies per sitting, 10/- se koepons waarmee ons versnaperinge by die droë kantien kon gaan koop. Ek moes dus met minder as £10.0.0 klaarkom (±R20,00). Elkeen moes ’n posspaarbankboekie open by die mobiele poskantoor wat daagliks tussen 12:00 en 13:00 by die dienskamer kom staan het, en ons was verplig om elke maand van ons soldy (salaris), of was dit dalk net ‘n gasie? spaar. Ek het maar so £2.0.0 óf £4.0.0 (R4,00 óf R8,00) pm gespaar.

Ek het gelukkig nie gerook nie en drank se smaak was nog vreemd aan my verhemelte, maar ons het soms saans uit die Kollege uitge-‘slip’ en by ’n Portugese kafeetjie, op die hoek van Mitchell- en Rebeccastrate, genoem Koos Kokkerot, gaan vis en skyfies koop en allerhande ander lekkernye wat ons nie in die Kollege by die droë kantien kon koop nie. Dan was daar nie veel geld oor om die maand te spandeer nie. Terloops die droë kantien was daardie jare ook in die hedendaagse Gouws gebou gesetel – daar waar die offisierskroeg tans is. Die hedendaagse konferensiekamer het die plek geneem van die snoekerkamer en die plek waar ons koerante kon lees.

Ons nuwe rekrute word die volgende môre met die perdelorrie na die kwartiermeester toe geneem. (Die perdelorrie was in die kollege gebruik waar daar een peloton of meer rekrute iewers heen geneem moes word, amper soos die rooi platbaklorrie van die padkamp wat altyd die kamp-mense se trek vervoer het.) Die kwartiermeester was daardie tyd in sulke rooi steengeboue tussen Proesen Vermeulenstrate en Bosmanstraat aan die oostekant. (Die Staatsdrukker het later daardie geboue betrek nadat die kwartiermeester na Jacob Mareestraat verhuis het.) Ons betree hierdie vreemde plek en moet nou volgens ons magsnommers staan. ’n Witman met ’n witjas, hy was glo ook ’n polisieman, wat sy rang was weet ons nie, maar hy gee jou net een kyk en skree hier in die gang af: “Boots, brown, ceremonial, number 8 , one pair”; dan weer “pima suits (dis nou pajamas) size 34, one”, dan volg “leggings number 5 one pair,” dan volg “buttons brass ¾ inch 12” en nog vele meer items wat in Engels in die gang af uitgeskree word.

Dan kom daar, soos ’n eggo uit ’n grot, iewers vanuit die holtes van die gebou waar daar ’n klomp rakke is: “Boots, brown, ceremonial, size 8, one pair; pima suits, size 34, one; leggings number 5, one pair; buttons brass ¾ inch 12;” en ’n swart lid, ook geklee in ’n witjas, dop tussen die rakke uit met die bondelkleding- en uitrustingstukke, en só het dit aangegaan totdat jy jou hele uitrusting het wat in ’n staaltrommel ingebondel word. Almal het nou geteken vir hierdie klomp goed en nou moet ons terug na die perdelorrie toe. Daar is geen hulp met die trommels nie, nou bedink ons klomp ’n metode om die trommels by die lorrie te kry. Ons besluit om treintjie te speel. Ek neem my trommel se een handvatsel en ’n ander ou neem my trommel se ander handvatsel en met sy ander hand een van sy trommel se handvatsels en só loop die klomp rekrute, seker so agt óf meer, soos die slangdans van die Venda-meisies, deur die gebou, deur die voorhof, in die straat in waar die perdelorrie staan en só kom die trommels met een besending by die lorrie aan. Daar het een agtergebly, wat twee outjies later gaan haal het.

Die slangdans van die Venda meisies. Ons was gelukkig nie kaalbassoos hierdie klomp jongmeisies nie (Foto: Google)

Ons help die een die ander om hulle trommels met uitrusting op die hoë bak van die lorrie gelaai te kry, en weg is ons Kollege toe. Ons junior lede, dié tussen 16 en 18 jaar oud, se opleiding het langer as die ander ouer manne se opleiding geduur. Die ouer voetmanne (Magalle) het 6 maande opleiding gehad, die beredemanne (Bosluise) sewe maande. Ons junior manne, Bosluise en

Magalle was vir twee ekstra maande in ’n aparte peloton, Junior Peloton 31, saamgegooi, waarna ons uitgeplaas is na ons regte pelotonne toe. Ek was aanvanklik ook in die Junior Peloton 31, maar het my opleiding in berede Peloton 41 klaargemaak. In die twee ekstra maande het ons allerhande take moes verrig soos kampdiens (‘Fatigue’, dis waar ons die sigaretstompies en vuurhoutjies op die gronde moes optel en die drie parade gronde met besems gelyk sleep, óf perdemis gaan optel in die twee ryskole). Ek en nog ’n outjie was gelukkig, want ons word na net ’n week se kampdiens afgevaardig om by die kleremakers te gaan werk. Dit was sersant Marais en onder sersant (ook ‘n lance bom net soos Kraai Lesch) Killian. Ons twee moes die lyfbande van die uniform baadjies (“tunics”) se gaatjies met oogringetjies (“eyelets”) vaskram. Ons het honderde, indien nie duisende, van hierdie ringetjies in die bykans twee maande vasgekram. Ons verpligte twee maande as junior rekrute, is verby en ons word na ons onderskeie pelotonne oorgeplaas. Ons opleiding begin nou in alle erns. Die teoretiese vakke (onderwerpe) is die volgende: Veeartsenykunde, Eerstehulp, Taalklasse (Engels en Afrikaans), Staande Orders van die Mag moet geleer word, Ondersoek van misdaad, Strafprosesreg, om arrestasies te kan uitvoer, Gemenereg definisies, (“Common Law definitions”) alles in Engels, en Volkekunde. Al hierdie vakke, óf sal ek liewer sê, onderwerpe, was in net een boek, so ‘n half duim, in vandag se taal 1,5cm dik, saam gevat. Dit het rooi harde buiteblaaie gehad en buite op mooi in Engels gedruk: “Recruit’s Law Syllabus.” Dis hierdie boek wat ons amper in geheel moes memoriseer. Die praktiese opleiding het onder andere die volgende behels: Voetdril, Berede, Liggaamsoefeninge (wat boks, jujitsu, stoei en apparaatwerk ingesluit het), swemonderrig (wat lewensreddingklasse en duik ingesluit het) en Geweerkuns (“musketry”).

Wag, ek moet darem vertel dat as jy in die SA Polisiekollege aanland kyk hulle ook na jou tande en indien daar slegte tande is, moet dit getrek óf gestop word. Myne was gelukkig almal bytvaardig. Daar was ’n outjie met die naam van Oppel in ons troep (Peloton). Hy word een oggend in die Gemeenreg (“Common Law”) klas gevra om die definisie van “Culpable Homicide” (Strafbaremanslag) in Engels op te sê. Ja, ons moes dit soos resitasies leer, maar sy twee voortande was só sleg (eintlik vrot) dat ’n tandarts dit moes trek. Hy het nog gewag vir ’n plaatjie om die twee getrekte tande te vervang. Die definisie in gewone taal, sonder enige verwringing van die uitspraak deur ’n haasbek, klink só: “Culpable homicide is the killing of a human being without the intention to kill.” Nou trek hy los met die definisie: “Kaal poephol homicide is ze killing of a human being wiz out ze intention zo kill.”

Ons almal skater soos ons lag, want daar is nie voortande in sy bek waarteen sy tong kan vasdruk wanneer hy sekere van die Engelse woorde moet uitspreek nie. Hy het later ’n losplaatjie met twee tande vir sy bo-kaak ontvang en toe was die ‘poephol nie meer kaal nie’. Ha ha ha. Ek sien nou eers dat sy van amper ’n volmaakte anagram is van hoe hy die woord “culpable” uitgespreek het, dit kort nog net een ‘o’ en vergeet van die ‘h’!

Na alles was die leerdery van die definisies in Engels nie te moeilik nie, want ek het dit, soos baie ander Afrikaanssprekende outjies, gememoriseer en dan óf op skrif weergegee óf mondelings voorgedra. Soms het ons nie eens geweet wat dit beteken nie, bv. “Defeating the ends of Justice”, en “Embezzlement” en “Perjury”, ens., moes ons maar só met die verloop van tyd uitvind as sersant Ogilvy, ons wetsersant (instrukteur) dit verduidelik het.

Woensdagmiddae, net na middagete, was sportparade. Die hele kollege se personeel en alle studente word op die paradegrond bymekaargemaak. Die sersant-majoor van die kollege, hoofkonstabel Bokkie Breedt, staan op die podium en nou roep hy uit: “Rugbyspelers, by ondersersant Louw; tennisspelers by konstabel Jacobs, swem by sersant Welgemoed, gimkana by ondersersant Bothma, muurbal by…” en só gaan hy aan en die manne word na hulle mentors toe

ingedeel. Daar bly ’n hele klomp oor en nou sê hy: “Die swaarvoertuig bestuurders, kom na vore”, nou bly daar nog net ’n klompie oor.

Hy bulder verder: “Die ander manne staan stil. Die swaarvoertuig bestuurders neem die swaar besems en begin die drie paradegronde vee, sersant Tulleken sal julle dophou. Die ander wat nou staan, neem die grawe en harke en gaan maak die roostuine skoon”.

Só word die hele inname geregimenteer na hulle onderskeie sportsoorte, asof tuinwerk en besemsleep nou ’n sportdissipline is – sports ja, maar nie ’n sportsoort nie! Ek het eers by die rugbyspelers ingeskakel en ons is met die perdelorrie na ‘Bobby Loftus’ toe geneem. Dit was die toentertydse sportgronde van die Polisie, wat regoor die Pretoria slagpale, waar die Stadsraad nou geboue het, geleë was. Nadat ek met die tweede oefening my regterenkel verstuit het, het ek by die volgende sportparade by die tennisgroep ingeskakel, tot aan die einde van my opleiding. Die tennisbane was net langs die roostuine, waar “Rosehof” later gebou is. Dit is die wooneenhede van die dames wat hedendaags onder opleiding is.

Ons ouens wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie, moes vir 14 dae elke aand die 200 vrae in die Kortbegrip, met antwoorde, leer. ’n Ouderling van die NG Gemeente van Pretoria-Wes, was die leermeester. Die veertiende aand is ons mondelings getoets en jy moes 100% slaag anders word jy weggewys en nie ‘aangeneem’ nie. Ek het dit gelukkig geslaag. Ons was sowat 24 jongmanne, party van hulle nie meer só jonk nie, wat die Sondag in ons uniforms in die Sinkkerk in die kollege voorgestel is. Die Sinkkerk was ‘n redelike groot sinkgebou wat twee sysaaltjies gehad het. Die een het as konsistorie gedien en die ander een was waar die kerk se administrasie deur die kapelaan, Ds. Harper Maartens, gedoen is. (Hy was destyds die enigste kapelaan in die polisie.) Die gebou het selfs ‘n klein torinkie gehad. Daar was ook ’n paar manne van die Gevangenisdiens (Likkewane) saam met ons. Die Gevangenisdiens se opleiding was daardie jare ook in die SA Polisiekollege. Hulle het in twee sink bungalows, naby die kollege hospitaal, gebly. Ja, ons was die bevoorregtes, want ons is vooraf met uniforms uitgereik vir hierdie okkasie, want die ander rekrute kry hulle uniforms eers só twee weke voor hulle uitpassering.

Die perdryery was ’n perd van ’n ander kleur. Ek het nog nie veel perde van naby gesien nie, maar wel baie rooi padmaakmasjiene, wat nog te sê hoe om perd te ry. Van perd opsaal glad niks geweet nie, maar gekyk hoe die ander dit doen. Die buikgord vasgemaak en toe die bevel kom: “Op- klim!” en ek my linkervoet in die stiebeuel plaas en regop wil staan, voordat ek my regterbeen oor die saal swaai, soos dit aan ons gedemonstreer is, toe skuif die perd se saal af en dit hang onder die perd se pens. Ek gryp in die lug rond om my balans te hou want my linkervoet sit nog in die stiebeuel wat ook onder die perd se pens, saam met die saal, hang. Die perd staan ook nie meer stil nie, trap rond, maar met ’n gesukkel kry ek darem my voet uit die stiebeuel. O matag, nou kom ondersersant (weer ‘n “lance bom”) Bothma op sy perd nader gery en nou praat hy in die Afrikaanse taal, woorde wat ek nog nie voorheen gehoor het nie en nou vinnig moes aanleer.

Die uiteinde was dat ek, en ook die ander manne, eers man-tot-man onderrig moes word hoe om ’n buikgord vas te maak. Kom ek verduidelik dit ook stap-vir-stap vir julle soos vir “Leeu loop.”: Jy sit die saal op die perd se rug en trek die buikgord vas en só stap jy met die perd na die ryskool toe –almal in enkelgelid agtermekaar. In die ryskool, net voordat die bevel kom om op te klim, moet jy die buikgord nog so een of twee gaatjies vastrek, want perd se kind is maar lui om te werk en blaas hom op wanneer hy die saal op sy rug voel.

Toe ek eers die ritme van boude op die saal hou wanneer die perd draf, bemeester het, dit word mos saalboomsteek genoem, het ek daarna nie baie probleme met die ryery gehad nie. Julle moenie nou allerhande gedagtes kry of ‘saalboomsteek’ ’n aanvaarde Afrikaanse uitdrukking is wat in goeie

geselskap gemeld kan word nie, wel ek kan julle verseker, dit is! Die opdrag is dat, nadat ons in die ryskool klaar gery het, moet ons van die perde afklim en hulle met die teuels na die stalle toe teruglei.

Foto van berede polisiebeamptes – Foto gevind in ’n ou polisie tydskrif. Dit lyk na sersant Otto wat hier voor die ruiters op sy perd sit.

Ek het eendag vir die beroemde, of sal ek maar dit by die naam noem - die befoeterde perd Matie, gehad. Matie was ’n bruin hings met lang witstreep (witkous genoem) op sy regter agterbeen. Ek glo hy het ook ’n streep in sy kop gehad! Hy hardloop sommer met jou na die stalle toe. Of jy moet loop, soos die opdrag is, steur hy hom glad nie aan nie, hy trek jou en dan moet jy hom later noodgedwonge los anders gaan hy jou sleep. Ek was te lig in die broek om hom te kon beheer met die teuels wat nou losweg deur jou vasgehou word. Matie hardloop toe stalle toe en ek moes maar weer die gramskap van die instrukteur verduur. Gelukkig geen strafdiens gekry nie. Die perde word by die stalle afgesaal, ’n halter aangesit en aan ‘n staalkabel buite die stalle vasgemaak. Die saal en toom word in die saalkamer gebêre en jy gaan dan terug waar jou perd vasgemaak is waar hy geborsel (ge-“groom”) word. Die polisieperde was nooit met ’n staalroskam geroskam nie, want dit sou die perd se vel maklik kon beskadig. Ons het wel ’n staalroskam gekry, want die borsels word na elke drie –vier hale wat die droë sweet op die perd se hare weg geborsel is, aan die roskam skoon gevee. Klaar geborsel, word jou perd terug stal toe geneem en jy verkas, saam met die ander lede van die peloton, na jou volgende teoretiese klas toe. Almal het altyd gesê die polisieperde lyk só mooi en goed opgepas, maar g’n wonder nie, want ons Bosluise moes maar die donkie- en sleurwerk doen! Die Ma- galle (voetmanne) het somtyds ook ‘staldiens’ gedoen. Die swartmans wat die staljongens is, het hulle net water toe gelei, beddegoed saans uitgesit (bale strooi oopgebreek en op hulle vasmaakplekke gestrooi) en voer in die krippe geplaas.

By ’n geleentheid het ek vir ‘Darkie’ gery en was ek besig om sy regteragterbeen te borsel, waar hy by die staalkabel vasgemaak is. My kop het na sy kop se rigting gewys, maar ek het afgekyk na sy agterpoot toe om die wit droë sweet merke by die “fetlock” weg te borsel, toe skop die vervlakste perd my.

“Moenie my in die rede val nie, ek sal vir julle verduidelik wat die ‘fetlock’ van die perd is.”

“Wel dit staan ook bekend as ‘die muis’ of die ‘koeël’ van die perd – nou nie die koeëls van ons mansmense nie, maar dit is die klossies hare net bokant die hoefgewrig van ’n perd.”

Julle vra nou: “Pa, waar kom jy aan hierdie wysheid?”

“Wel, julle moet onthou hierdie wysheid van my het ek in die SA Polisiekollege as beredeman opgedoen in die Veeartsenykunde klasse. Kom ek kom terug na my storie toe.”

Die hou tref my aan die binnekant van die linkerknie en ek trek soos ’n lapswael deur die lug en beland op die grond. Die instrukteur is naby en help my op, en toe gaan kyk hy so waar-ag-en- tagin-tig of die perd nie seergekry het nie. Toe kom hy weer na my toe wat nou kruppel-kruppel rondstaan en hy sê ek moet na die hospitaal toe gaan. Dit was ’n sinkgeboutjie, sowat 400 treë weg van die stalle, en ek loop hinke-pink die ent na die hospitaal toe.

Sersant Kotzé was die mediese beampte (“medic”) in bevel van die hospitaal. Hy wou graag dokter genoem word, want hy het ’n witjas oor sy uniform gedra en ons kon nie sien wat sy rang is nie, daarom het die rekrute hom sommer dokter genoem. Hy kyk na my knie, dis rooi geswel, hy gee ’n smeermiddel (“embrocation”) en sê ek kan maar weer by die peloton gaan aansluit. Hulle het net geen genade óf empatie óf simpatie vir ’n siek- óf beseerde rekruut getoon nie.

Die volgende insident, toe ons, in ’n stuk oopveld op die Kollegeterrein prakties opgelei word hoe om ’n ‘Oproerige skare’ vanaf die perde te beheer, het vir ’n lagwekkende sessie gesorg. Die oop stuk veld was toentertyd op die plek waar die twee rugbyvelde later gemaak is en die nuwe stalle gebou is. Die peloton met ruiters word in ’n omgekeerde ‘V’-formasie opgestel, elke ruiter het sy .303-geweer, ’n berede knuppel en sy kombinasielyfband met rewolwer as wapentuig, saam met hom op die perd. Langs die saal aan die linkerkant is daar ’n geweersak waarin die geweer geplaas is en aan die regterkant van die saal is daar ‘n dun worsagtige leersilinder (“scabbard”) waarin die berede knuppel hang. Die berede knuppel het dieselfde vorm as die gewone voetman (patrollieman) se houtknuppel, met dié verskil dit is presies 3 voet (±90cm) lank. Die bevel word gegee: “Vorentoe op stap gang!” Die hele formasie begin vorentoe beweeg.

Dit word volg met die bevel: “Trek knuppel!” Die knuppel word uit die skede getrek en horisontaal voor jou uitgehou, regoor die perd se kop.

Die volgende bevel word uitgeskreeu : “Val aan!”

Dan slaan jy met die knuppel, vanaf die reguit vorentoe houding, met ‘n effe swaai beweging na jou regterkant na agtertoe, so in die rigting van die perd se regterboud, terwyl jou kop in dieselfde rigting as die beweging kyk, want jy slaan mos nou na ‘n persoon óf persone in die skare langs jou perd. Onmiddellik kom jy regop in die saal en terselfdertyd, swaai jy terug na die horisontale posisie, dan ’n spieëlbeeld beweging na jou linkerkant toe, om ’n persoon óf persone in die skare aan jou perd se linkerflank te piets, en eindig met die terugswaai weer in die horisontale houding. Hierdie slaanaksies word ’n paar maal herhaal terwyl die perde in die formasie bly en stadig vorentoe stap. Troepmaat Combrink ry in die omgekeerde ‘V’-formasie se punt, ek volg regs van hom, en toe hy by geleentheid die knuppel van die linkerkant af terugswaai na die vorentoe houding, slaan hy sy perd se twee ore raak. Die perd spring vorentoe en in die lug op, soos die Ruiter in Swart se perd, maar met die verskil Combrink val af, land op sy kop en sy helm se binne toutjie breek en die helm word tot oor sy ore ingedruk. Die perd kies koers die vlakte in op pad na die stalle toe. Combrink spring op, probeer sy helm van sy oë af kry en hardloop so dronk-dronk in my perd vas. My perd skrik, maar gelukkig kon ek hom beheer. Ons almal lag natuurlik kliphard en dit klink soos donderweer soos wat sersant Bothma op ons skree om stil te bly. (Ons almal ken nou al die nuwe Afrikaanse uitdrukkings wat hy gebruik). Arme Combrink word aangesê om die amper 1myl, terug

te loop stalle toe (± 1,6km), om sy perd te gaan versorg. Ons ander gaan natuurlik nog voort met die oefening.

Om my ervaring as beredepolisieman af te sluit, moet ek tog vertel hoe die perde Saterdagoggende met net die “numnah” (saalkleedjie van vilt) en oorgord en ’n sneffel in die bek, gery word. ’n Sneffel is ’n stang wat in die middel skarnier en net een stel teuels aan vas gegespe kan word en wat ook geen kenketting het nie. Die tradisionele stang is van soliede vlekvrye staal met klein knoppies op die dwarsbalk waaraan twee stelle teuels vasgespe kan word. Dit het ook ’n kenketting van vlekvrye staal gehad wat agter om die perd se ken geplaas word en dan aan die stang vasgeheg word. Met ’n stang kan ’n beduiwelde perd goed beheer word, want sou hy wil bokspring of ruk en pluk, word die dubbelteuels stewig na agter getrek, sodat die stang se knoppies en die kenketting hom laat seerkry. Hy bedaar baie gou. Die geheim is egter dat die ruiter hierdie hulpmiddels baie oordeelkundig moet aanwend, anders word die perd se bek deurgeskuur en/óf sy ken word deur die kenketting met ’n oop wond gelaat.

Wel nou vir die ryery met die saalkleedjie en die oorgord en sneffel. Die perde word elke Saterdagoggend om 4vm (04:00) opgesaal met die saalkleedjie en oorgord. Sy halter waarmee hy in die stal geslaap het, word met ’n toom vervang waaraan die sneffel reeds vasgegespe is. Dis donker-ure van die môre en die perde word uitgelei na die ryskool toe. In die ryskool moet ons nou op die perde se rûens kom sonder stiebeuels waarin ons voete geplaas kan word en sonder ’n saal waaraan ons kan vashou met die opklimslag.

Die opdrag word bloot geskree: “Opklim, en ‘mount’!” vir die Engelse laaities, en dan druk jy op die perd se rug en wieg op jou bene en spring op die perd se rug. Male sonder tal het van die outjies oor hulle perde se rûens gespring, anderkant af, dan moet hulle dit maar weer oordoen óf soos ek dit eenkeer ook moes oordoen, want ek kon nie op my perd se rug kom nie. My perd was seker so 17 hande hoog. Dit was een van die grootste perde in die stal.

“Wat beteken 17 hande hoog?”

“Moenie my so baie in die rede val nie. Mens kan sien julle het nie met perde grootgeword nie, dit net op TV gesien. Dit beteken dat die perd word met mens se twee hande teen mekaar vanaf die hoef tot by sy skof gemeet - amper of jy jou plat hande een bo die ander sit en trapsgewyse na bo gaan al langs sy linker voorbeen op tot by sy skof, dan tel jy die aantal kere wat die hande verwissel het. Jou duime word nie as deel van jou hand getel nie. Dis ’n maklike manier, maar nie só akkuraat nie. Die korrekte manier is om ’n reguit maatstok, vanaf die grondoppervlak langs die perd se voorste linker- of regterbeen te plaas, maak ’n merk reg oor die perd se skof op die stok en meet die lengte met ’n maatband in duime. ’n Man se plathand word op 4duim gestel en nou deel jy die lengte van die punt van die stok tot by die merk deur vier. Nou kry jy die korrekte hoogte van ’n perd in hande. Hulle gebruik tans nog hierdie wyse van meet.” Hulle gebruik ook ’n meetstok in duime afgemerk soos hier onder aangedui. Gedeeltes van 4 duim wat nie ’n volle handbreedte verteenwoordig nie, word in komma 1, 2 of 3 geskryf en gesê, by voorbeeld 14,3 hande.

Kom ek hervat my storie hoe ek op my perd gekom het toe ons moes saalkleedjie ry. Ek het teen sy pens vasgespring in plaas van bo-op sy rug. Ek het darem met die tweede probeerslag in die opklimpoging (eerder bestyging) geslaag. Daar is geen stiebeuels nie. Jy moet nou jou knyp met jou bene ken om bo te bly. Na ’n uur se ry waar daar op ’n stap, draf en galop gery is, word die perde teruggeneem stal toe, afgesaal en weer ’n halter aangesit. Hulle word nie nou geborsel nie, maar word uitgelei na ’n groot kamp aan die suidekant van die Kollege. Die kamp grens aan ’n stortingsterrein van Yskor (tans Mittal genoem) se afval metale en aan die anderkant tot teen die Weskoppieshospitaal. Hulle word daar losgelaat. Hulle bokspring eintlik van uitgelatenheid. Ons bring die halters terug stal toe. Die swart arbeiders gaan hulle gewoonlik so om-en-by 4nm (16:00)

die Saterdagmiddag haal en nou moet die berede- en voetmanne, wat nie ’n naweekpas gekry het nie, hierdie perde wat nou vol ou sweetkolle en vaal van die stof is soos hulle in die grond rondgerol het, skoonmaak. Dit was maar ’n gesukkel, tog het hulle weer blinkhaar in die stalle ingegaan.

Meetstok om perde se hoogte in duime te meet en dan om te skakel in hande. (Foto Google).

“Julle vra dat ek vir julle moet vertel toe ek ’n telegram van Pappa ontvang het, terwyl ek in die Kollege was? Hoe weet julle daarvan? Wie het uitgepraat?”

Almal bly stil. “Wel vir die oningeligtes sal ek dit nou maar verbaliseer!”

“Ek is in ’n Veeartsenykunde klas, toe ’n rekruut met pienk- of was dit rooi? koevert in sy hand aan die oop deur klop en die koevert aan die instrukteur gee. Hy kyk daarna en roep my nader en gee dit aan my. Hy sê ek kan maar buite toe gaan en dit oopmaak. Ek maak dit oop en lees: Telegrafeer dringend £5.0.0 (R10,00) stop Pappa. Geen rede hoekom ek die geld moet stuur nie, ook nie óf my posspaarbankboekie so ’n bedrag in het nie, maar die telegram is ‘Dringend’ gemerk. Ek neem weer my plek in die klas en die instrukteur vra of dit slegte nuus is, en ek antwoord: “Nee, sersant.” Na die klas en tydens die middaguur gaan ek na die mobiele poskantoor toe en vra hoe ek £5.0.0 kan telegrafeer, want dis mos nie ’n ding wat jy elke dag doen nie. Hoe de hel telegrafeer jy nou ’n £5noot met die telefoondrade? Daar was darem sowat £8.0.0 in dié boekie. Hulle help my en die geld word getelegrafeer. Julle wil weet hoe dit gedoen word? Julle kry ook nie end met julle vrae nie! Wel hulle neem jou boekie en gee vir jou ’n blou vormpie wat jy moet invul – die persoon aan wie die geld moet gaan, sy adres, die bedrag en jou posspaarbankboekie se nommer waaruit die geld geneem moet word. Jy teken die vormpie en die klerk maak ’n inskrywing in die boekie dat £5.0.0 onttrek word. Daar word nou ’n telegramvorm vir jou gegee waarop jy weer die besonderhede moet herhaal aan wie die geld moet gaan. Dan moet ek nog ’n paar pennies betaal vir die boodskap op die telegramvorm en jy kry jou boekie terug, en die balans is £2.10/- en ’n paar pennies. By ontvangs van die telegram deur die ontvanger gaan hy na die poskantoor toe waarvandaan hy die telegram ontvang het, en hy neem dan die telegram soontoe, handig dit in en hy kry sy geld, nadat hydaarvoor geteken het. Daar het julle dit nou.”

Ek het later eers gehoor hoekom Pappa dit só dringend nodig gehad het. Pappa het met ’n padkamplorrie dinamiet op die spoorwegstasie te Noordeinde, Port Elizabeth gaan haal en in ’n kruising in Noordeinde, ek dink dit was die kruising van Cawoodstraat met Adderleystraat, (Adderleystraat is nou Hoofstraat óf het dit nou ook reeds ’n ‘regstellende naam?’) het ’n Indiërman met ’n huurmotor in die lorrie vasgery. Pappa het al die jare, selfs toe hy ook die garage te Barrydale gehad het, nie ’n bestuurderslisensie gehad nie. Hy moes toe binne sewe dae sy bestuurderslisensie by die polisiestasie toon, en toe hy dit nie kon toon nie, moes hy óf hof toe gaan

óf hy moes £5.0.0 (R10,00) Erkenning van Skuld boete betaal. Hy het op die laaste opsie besluit. Hy het toe ook vir die eerste keer ’n bestuurderslisensie gaan uitneem. Omdat ek hierdie geld aan hom getelegrafeer het, het Pappa later gesê dat ek nie die klere wat hulle vir my moes koop, aan hulle hoef terug te betaal nie.

Elke rekruut moes ook met die .303-geweer en .38-rewolwer aan skietoefeninge deelneem. Ek het nog nooit voorheen met so ’n groot geweer óf rewolwer óf pistool geskiet nie. Pappa het nie vuurwapens gehad nie, en daar was nog nie skoolkadette in my tyd op skool, waar ek kon leer skiet nie. Soos reeds gemeld, het ek darem na waterskilpaaie se koppe met ‘n .22 geweertjie geskiet.

Die dag met die skietkompetisies vir die beste rewolwer- en geweerskut onderskeidelik vir ons peloton, het ek tweede geëindig met die geweer en ek het die medalje as beste rewolwerskut van die peloton verwerf. My besonderhede is daarop gegraveer en ek moes dit in ontvangs neem tydens die uitpaseringsparade aan die einde van my opleiding einde Februarie 1954. Ek is tans nog in besit van hierdie medalje. ’n Mens sou dink dat as jy die medaljewenner is, dit in goud sal wees. Nee, hierdie medalje wat ek verower het as beste rewolwerskut, was in silwer – egte silwer en in ’n plat kartonboksie. Ek het later ’n egte silwerkettinkie aan die medalje geheg. Die kartonboksie is reeds 10 klowe deur, daarom het ek die kettinkie aangesit om dit maklik te vind tussen al my medaljes wat ek later in die polisie ontvang het.

Toe ek later jare as kolonel, die bevelvoerder by Hoofkantoor se Staateiendomseksie diens verrig het, het ek hierdie rewolwer ingehandig en toe is ’n Beretta ,765 pistool aan my uitgereik. Ek besit nog daardie pistool, want ek het dit, met die goedkeuring van die kwartiermeester, kon aankoop met my pensioenering. Ek het ook ’n ,38 Smith and Wesson rewolwer by die kwartiermeester gekoop, toe die ,38 rewolwers in die Mag uitfaseer is.

Hierdie rekruutkonstabel, dis nou ekke, het ook op ‘wagdiens’ aan die slaap geraak. Ons rekrute het gewoonlik ’n naweek, dis vanaf Saterdagmiddag 1nm (13:00) tot Sondagaand 12 middernag afgehad. Ons was op naweekpas en ons kon kom en gaan soos ons wil. Ek besluit toe een Saterdagmiddag om na broer Rassie en sy vrou Sarie toe te gaan vir die dag.

’n Foto van die medalje wat ek as beste rewolwerskut in die kollege ontvang het.

Links: Voorkant met die ou SAP-wapen op met ’n kroon. Regs: Die keersy met my besonderhede. (Foto: Ben)

Vir dié wat nie weet nie, of dit nog nie gesien het nie, só lyk die Webley Scott-rewolwer waarmee ek as konstabel uitgereik is en die medalje gekry het toe ek as beste rewolwerskut van die peloton (troep) aangewys is. (Foto vanaf Internet.)

Elke Saterdagmiddag het die Stadsraad van Pretoria twee busse Kollege toe gestuur sodat dié wat op naweekpas is, daarmee gratis stad toe kon ry. Die busse het so om en by 2nm (14:00) vanaf die wetskamers in die Kollege vertrek (Hierdie kamers is sedertdien afgebreek om plek te maak vir tweeverdieping slaaplokale). Rassie-hulle het in ’n privaat hotel in Proesstraat gebly met hulle babaseun, Johan. Ek het lekker gekuier en so om en by sesuur die aand sê ek vir Rassie: “As julle twee bioskoop toe wil gaan, sal ek vir Johan oppas.”

Só gesê, só gedoen, en ek word later met die slapende Johan in sy stootwaentjie (“pram”) in die kamer gelos, eintlik toegesluit, alhoewel die sleutel aan die binnekant was. Hulle kamer was gelukkig op die grondvloer. Ek lees in tydskrifte en my wagstaan (eintlik wagsit) begin in alle erns en met toewyding, soos net ’n gedissiplineerde polisierekruut dit kan doen.

So teen agtuur begin Johan kriewelrig raak, ek gee bottel en ry die stootwaentjie so liggies heen en weer. Die baba raak stil en slaap. Teen 10nm (22:00) is die klein klits weer wakker en skree dat hoor en sien vergaan. Ek wieg die stootwaentjie weer so heen en weer en sing al die kinderliedjies wat ek by my moeder gehoor het toe ek nog ’n baba was, maar dis vrek of hy wil slaap. Ek sit later op die kant van die bed en stoot die stootwaentjie steeds so liggies al wiegende, met die waentjie se vere wat al tjiertjie-tjiertjie kla, heen en weer. Wel, toe ek wakker skrik, staan Rassie en Sarie in die kamer. Hulle sê hulle het só teen 10,30nm (22:30) tuis gekom en die deur gesluit gevind, klop vir ’n vale, maar daar is geen reaksie vanuit die kamer nie. Hy gaan na die venster toe, dis op knip, maar op die een of ander manier kry hy dit tog oop en klim in, sluit die deur vir Sarie oop en vind my, met my kop in die stootwaentjie, by Johan se voete, albei van ons slaap die slaap van dooies. Watter verleentheid was dit nie vir die toekomstige parate polisieman nie! Ek besluit, na ’n koppie tee, om maar terug te keer na die Kollege toe.

Dis 11nm (23:00) en ek stap plein toe om ’n bus na Proklamasieheuwel toe te haal. Ek sal dan by Rebeccastraat afklim en verder Kollege toe stap. Daar is nie ’n bus in sig nie, maar so teen 11,30nm (23:30) kom daar ’n bus verby en daar staan aan die voorkant: “Depot.” Ek is heilig oortuig dat dit die Polisiedepot moet wees, want almal in Pretoria praat van die Polisiedepot en nie van die SA Polisiekollege nie, en ek het mos die middag met ’n bus uit die depot stad toe gery.

Ek waai my hand sodat die bus moet stop, hy verminder spoed en ek spring soos ’n wafferse akrobaat op. Net die bestuurder is in die bus, daar is geen kondukteur nie. Later hou die bus by die munisipale busloodse te Boomstraat stil. Ek is skoon verdwaal. Die busbestuurder sê vir my ek moet nou maar terugstap Kerkstraat toe en dan regs draai en stap totdat ek by Rebeccastraat kom. Ek begin toe maar die staptog soos beduie, ek is op en wakker, want ek het mos my vroeë slaap by Rassie-hulle geslaap en so 12:30vm (00:30) sleep ek my moeë voete en lyf die bungalow in. Die pasnaweek was dus nie eintlik ’n rus naweek vir my nie.

Ander wedervaringe tydens my opleiding was maar van verbygaande aard, want almal van ons het maar die een of ander ou ongelukkie gehad, en niemand het vir iemand anders gespot of afgekraak nie, want ons was broers saam in verdrukking, gelag, ja wel. Voor ons uitpassering moes ons met vol uniform en uitrusting (“full kit”) op parade gaan staan, waar luitenant Louis Snyman (later Brigadier) ons kom inspekteer het. Snyman het sulke snaakse vingers gehad, het soos manlike penisse gelyk, wat aan ’n groot paar hamme vasgeheg is, wat hande genoem word. Nou kan julle dink wat sy bynaam was, maar in goeie geselskap het ons maar altyd van ou p**le, ekskuus, piesangvingers gepraat. Hy daag op en begin na elke rekruut kyk, amper soos wat jy ’n perd by ’n gimkana sal beoordeel en takseer, en vir elkeen het hy iets te sê gehad.

Hy druk sy (snaakse) regter voorvinger teen een van die troeplede se helm en sê: “Maak jou “helmet” se binneband stywer, jy loer, nes ’n skelm, onder jou “helmet” uit”.

Hy druk-druk so met sy offisiersstokkie op die volgende een se maag en sê: “Maak hierdie gespe (“buckle”) van die holster ordentlik skoon”.

So het hy by elkeen ’n eiertjie te lê gehad. Vir my het hy só gestaan en kyk, om my gestap en gesê: “Waar kry jy hierdie patroondoppe waarin jou bene is?” (dis nou die kamaste).

Ek is die enigste een wat hom geantwoord het, want vir my het hy mos ’n vraag gevra. Ek sê toe: “By die kwartiermeester, luitenant.”

Die troepfoto, geneem net voor uitpassering. Ek is die outjie in die agterste ry, tweede van links, teen die een pilaar. Sien die swart pyltjie. Die ander persone op die foto in die voorste ry is ons instrukteurs en die Bevelvoerende offisier en sy adjudante. (Foto: SAP Kollege)

Hy sê niks verder daarop nie en gaan aan met sy foutvindery tot by die laaste een. Daardie aand was ons troepsersant, Fred Geldenhuys, by ons bungalow en ons het tot wie-weet-watter tyd in die

nag nog ons uitrusting (“kit”) skoongemaak (ge-‘bone’). Terloops, Fred Geldenhuys is die ouer broer van Jan Geldenhuys wat as ‘n brigadier in die Mag met pensioen afgetree het te Middelburg (Tvl).

Ons uitpasseringsparade in ons berede seremoniële uniform, wit hemp, donker-blou das, donkerblou “tunic”, geriffelde-gabardine rybroek, kamaste met spore en ’n helm, kaphandskoene (“gauntlets”) met ’n blink gepoetste (ge-‘bone’-de’) bandelier oor ons linkerskouer en met ’n ,303 geweer met bajonet en bajonetskede (“scabbard”), het ons 30 manne soos een man gedril en afmarsjeer. Ons was aanvanklik 36 manne in die peloton, maar ses het uiteindelik nie die pyp gerook nie.

Een het gedros, een het die aand voor die uitpassering, sonder magtiging die kamp verlaat, ge-‘a wall’, (“absent without leave”) een het vroeg-vroeg in die opleiding sy ontslag gekoop en drie moes agterbly vir verdere opleiding. ’n Troepfoto (pelotonfoto), geneem ’n dag voor uitpassering, verskyn elders.

Ons almal was letterlik en figuurlik gestewel en gespoor. Ons beredemanne het mos met rybroek, kamaste en spore aan ons stewels uitpasseer.

Na die parade, tree ons by die dienskamer aan en een-een word verwittig waarheen hy verplaas word. Ons pak ons trommels en wit “kitbags” sakke, (hedendaags is dié sakke bruin en word duffelsakke genoem) asook ons eie soetkysie met privaat klere waarop die reisdeken met “rug straps” vasgegespe is. Ons bind hangetikette daaraan met die naam van ons bestemming. Myne is Port Elizabeth. Twee ander manne van ons peloton is ook na Port Elizabeth uitgeplaas.

Die volgende hoofstuk wy ek aan die ervarings en geheimenisse wat ek as jong polisieman in Port Elizabeth (Die Baai) sal ontdek en ervaar.

HOOFSTUK 6: EERSTE STANDPLAAS TE BAAKENSTRAAT POLISIESTASIE, PORT ELIZABETH

Al drie die berede konstabels, Vosloo, Wolfaardt en ekself, met ons nuut verworwe kennis, wat na Port Elizabeth toe uitgeplaas is, moes maar met die trein na ons bestemming toe reis.

Die grote Port Elizabeth het ons begroet waar ons jong konstabels moes diens doen. (Foto: Google)

Die Johannesburgers, Pretorianers, die Oos- en Wesrand se lede is deur hulle onderskeie afdelings met opruktrokke en vangwaens kom haal. Die ander wat landwyd uitgeplaas is, het ook maar met

die trein moes reis. Met ons aankoms op (ek dink dit was so die 2de of 3de Maart 1954) Port Elizabeth spoorwegstasie, het ons na die Spoorwegpolisie se aanklagkantoor op die spoorwegstasie gegaan en die aanklagkantoor te Mountweg polisiestasie geskakel. Ons drie berede konstabels, geklee in vol uniform met helm, vlootblou baadjie (“tunic”), rybroek, kaphandskoene, kamaste en spore die lot. Ons het by die hoofingang van die spoorwegstasie gewag dat die ‘vangwa’ wat hulle sal stuur, opdaag. Daar loop toe ’n paar Kaapse manne (ons het hulle sommer kleurling skollies genoem) by ons verby en een van hulle vra: “My lanies, waar is djulle se pêre?”

Ek antwoord toe sommer so op die ingewing van die oomblik: “Hulle kak nog in die stalle!”

Hulle lag maar net en loop verder. Vossie en Wolfaardt lag sommer kliphard. Die vangwa kom, ons laai ons trommels en wit kitbags in die agterkant van die toegeboude patrolliewa in en nou ry ons Mountweg toe. Dis die setel van die Hoofkantoor van Port Elizabeth Polisie. Ons sal later hoor dis Distrik Nr. 14 en die distrikskommandant is ’n luitenant-kolonel John Love Drummond – ’n regte egte Engelsman. Ons word welkom geheet en nou word ons standplase aan ons uitgedeel. Ek gaan na Baakenstraat, in die sentrale stad, Vossie gaan na Uitenhage en Wolfaardt na Nuwe Geregshowe toe, ’n stasie ook in die stad waar die Landdros- en Hooggeregshowe se setels is. Alles natuurlik onbekende plekke vir ons drie. Sal wel later by ons regte standplase afgelaai word. ‘n Kamer in die Mountweg kaserne word aan myself en aan Wolfaardt toegewys. Mountweg hoofkantoor was ’n dubbelverdiepinggebou. Die kaserne is op die eerste vloer, want die aanklagkantoor en al die administratiewe kantore van die polisiestasie en die distrikskommandant en sy personeel, was op die grondvloer. Ons kamers was maar vrek klein, ’n enkelbed met klapperhaarmatras, twee lakens, een kussing en ’n dubbel hangkas. Hierdie kamers was op die kamer inventarisse beskryf as: “Barracks cubicle.” Nou weet julle presies hoe klein dit was, want ’n “cubicle” kan ook ’n hokkie beteken, en ons kamers was nie veel groter as net ’n hokkie nie. Daar was dertig kamers, met een groot gemeenskaplike badkamer waarin daar ’n halfdosyn storte, seker ’n dosyn handwasbakke en ’n paar baddens was. Ja, daar was ook ’n paar spoeltoilette.

Baakenstraat Polisiestasie in PE. Die ingang is by die twee motors aan die regterkant van die foto. Die ander gedeelte van hierdie gebou was deur die Hoofposkantoor beset. (Foto: Google)

Ek moes die volgende oggend by Baakenstraat polisiestasie in uniform aanmeld met my trommel en ander uitrustingstukke, sodat dit nagegaan kan word. Ons beredemanne het, bykomend tot ons seremoniële uniforms, ook kakie-uniforms gehad – ’n vlootblou pet met ’n los kakie-oortreksel, ’n kakie tuniek, –hemp (met los boordjies), -das en ’n -langbroek met bruin sagte leer stewels. Ja, ja, ja, ek het toe al onderbroeke gedra, moenie my in die rede val nie. By Baakenstraat word ek na die stasiebevelvoerder, hoofkonstabel (Rooi Jaap) Jacobs (later het hierdie rang ’n naamsverandering ondergaan naamlik adjudant-offisier en nog later inspekteur) se kantoor toe geneem. My trommel met my uitrusting word nagegaan en ’n stel lapelnommers word aan my uitgereik. Die letter en nommers was E 444 (Die E het na “Eastern Province” verwys en die 444 verwys na die hoeveelste polisieman jy is wat in die Oostelike provinsie gestasioneer is). Daardie jare het ons nog nie lapelwapens op ons uniform baadjies gehad nie. Die “numeral letters and numbers complete set of 4” word op die “tunics” se lapelle gedra. Ek word aangesê om die volgende dag in my kakie-uniform by die aanklagkantoor as aanklagkantoorreserwe te begin werk. Omdat ek nog nie 18 jaar oud is nie, kan ek nie op rondte diens geplaas word nie. Beskermde diens, sien!

6.1 Werksaamhede en ervarings te Baakenstraat-polisiestasie

Ek moet darem nou een van my geheimenisse vir julle blootlê. Ja, ek het ook ’n kriminele rekord! O gaats, julle het almal gedink dat ek nooit as ’n beskuldigde voor ’n hof was nie, maar dat ek, volgens vertellings, wel baie mense daarin laat beland het. Kom ek trek hierdie donker sluier weg sodat julle nuuskierigheid bevredig kan word:

Ek is aanklagkantoorreserwe (A/K-reserwe) by Baakenstraat, dit weet julle nou al, en ons moet elke halfuur die selle besoek. By een geleentheid hoor ons ’n lawaai vanuit die selle kom (die selle was in die keldergedeelte van die gebou), ek en die ander A/K-reserwe gaan met die trappe af, sluit die sel oop waar hoor en sien vergaan van die lawaai. Die komberse brand, want een van die aangehoudenes het rookgoed en vuurhoutjies ingesmokkel en die zol wat hy gedraai het van ’n bladsy uit die Bybel wat in elke sel gehou is, se brandende twak het die kombers aan die brand gesteek. Ons blus die vuur met water en waarsku dat geen rokery geduld sal word nie, en as daar weer ’n brand in die sel is, kan hulle almal maklik in die rook versmoor. Niemand kom na vore om skuld vir die zoldraaiery te neem nie. Ons sluit die sel en loop weg.

Die ander aanklagkantoorrreserwe sê vir my ek moet teruggaan en deur die loergaatjie in die deur kyk of ek kan sien wie die skuldige is, want hy moet aangekla word van beskadiging van staatseiendom – komberse gebrand. Ek loop suutjies terug, kyk vir bykans 10 minute deur die loergaatjie en toe sien ek wie die skuldige is. Ek sluit die sel oop en gryp die skuldige, hy ruk los en val agteroor, ek skop na hom en tref hom op sy mond. Die Sondag na hierdie voorval kom luitenant Witkop Jordaan op stasie besoek en hy vra vir die aangehoudenes of hulle enige klagtes het. Die een met sy opgeswelde lippe kla dat die jong lanie (polisieman) hom geskop het. ’n Aanrandingsaak word summier teen my geopen. Ek hoor eers die Maandag daarvan. Die saak word ondersoek en via die distrikskommandant na die prokureur-generaal (PG) in Grahamstad gestuur vir sy beslissing. Ek word ses weke later deur die PG aangekla van aanranding gewoon en verskyn in die Jeughof. Ja dis reg, die Jeughof, want ek was mos nog nie 18 nie, en Pappa, as voog oor my, moes ook die verhoor bywoon. Ek sê my sê toe ek die geleentheid kry, en die landdros (daardie jare was hulle nog ’n magistraat), vind my skuldig aan aanranding gewoon met versagtende omstandighede en ek word met 10/- (tien sjielings), vandag se R1,00, beboet of 5 dae gevangenisstraf. Ek het natuurlik die boete gekies en nie die gevangenisstraf nie. Ha, ha. (Gelukkig geen vingerafdrukke geneem nie). Ek het toe maar die 10/- betaal. Daar is nou die hele geheim geopenbaar, amper soos al die openbarings soos in die Bybelboek Openbaring. Gelukkig het hierdie oortreding en vonnis, volgens ons Reg, reeds jare gelede verjaar. Later in my lewe kom hierdie saak terug en spook toe ek aan ’n bevorderingseksamen na luitenant wou deelneem. Later meer hieroor.

Ek moet julle vertel van my eerste visvangekspedisie saam met ’n paar konstabels wat saam met my in die Mountweg kaserne gebly het. Ja, ons moes almal in die kaserne bly, maak nie saak of jou ouers in die Baai gewoon het of nie. Ek het egter gereeld op my rusdag (een rusdag in veertien dae, dis nadat jy van nagdiens afgekom het) ’n draai by my ouers se huis gaan maak. Ons kon, as polisiebeamptes, gratis op die stadsraad se busse ry. Ja, ja, ja, ek vertel nou-nou verder. Ek sê vir een van die manne ek moet hof toe gaan om getuienis in ’n saak te gaan gee.

Nou iets ten koste van my eie kennis, óf die gebrek daaraan. Een van die manne sê vir my dat ek vishoeke moet gaan koop by Dexter’s Sports, in Adderleystraat, regoor die Nuwe Geregshowe, sodra ek my getuienis in ’n saak afgelê het. Die opdrag is dat ek ‘elf hoeke’ moet koop. Nadat ek klaar getuienis gegee het in die saak wat voor die hof was, dit was seker maar teen ’n dronkie wat onskuldig gepleit het, want as dronkies skuldig pleit, is geen getuienislewering nodig nie, gaan ek Dexter’s toe en sê vir die verkoopsman dat ek elf vishoeke moet kom koop, want die manne wil gaan visvang.

Hy vra toe; “Watter grootte hoeke en watter soort vis gaan gevang word?”

Ek sê toe dat my maters nie gesê het watter soort vis hulle wil vang nie, maar dat ek elf hoeke moet koop. Die verkoopsman haal toe twaalf hoeke uit ’n boksie en gee dit vir my.

Ek sê nee, “Ek moet slegs elf hoeke koop!”

Die verkoopsman glimlag en verduidelik aan my dat ons heel waarskynlik elwe, (“shad”) wil gaan vang en dat ek my maters verkeerd verstaan het om net elf hoeke te koop. Hulle het seker gemeen dat dit hoeke moet wees waarmee elwe gevang word. Daardie soort hoeke word in dosyne verkoop. Watter verleentheid as ’n ou in die Karoo groot geword het waar die enigste vis wat jy ken, dit is wat jy by die “Fish en Chips” winkel koop. Wat is verkeerd in hierdie organisasie van ons, ja, reeds van her vroeg af? “Kommunikasie, kommunikasie!” Ons het toe elk met ’n handlyn van die kaai af (breekwaterwal) in die hawe gaan visvang. Hierdie sport het my nie aangestaan nie, want ek het heelwat vislyn gebreek want die hoeke en/of sinkers het kort-kort aan iets vasgehaak. Ek glo dat daar nie veel van die ‘elf hoeke’ oor was toe ons teruggekeer het kaserne toe nie.

Toe ek in Oktober 1954 18 jaar oud geword het, plaas hoofkonstabel Rooi Jaap Jacobs my dadelik op rondtediens (“beat duty”) – Nagdiens natuurlik. Die Augustusmaand winde van Port Eli-zabeth is laat en waai in Oktober dat sien en hoor vergaan. Ek besluit om daardie eerste nagdiens na 2 Oktober, met my rybroek en kamaste aan rondtediens te gaan stap want dis vrek koud in die Baai. Ek rapporteer vir diens en die wyksersant, 2de klas sersant Elf Bouwer, kyk my só en sê : “Du Plessis, jy’s reg aangetrek, fietspatrollie nommer een op die Hill vir jou.”

Mense julle ken nie die Hill in Port Elizabeth nie, elke straat vanaf die polisiestasie na die Hill toe is ’n lang en stywe opdraand tot by Crusaders se sportgronde, later hernoem na St. Georgespark stadion, en terug afdraand na die polisiestasie toe. Op my heenreis stoot ek die fiets en met die afkom ook, want die “back pedal” van die fiets werk nie en ek sal my morsdood val teen geboue. Ek ry net sulke entjies-entjies waar die strate horisontaal met die heuwel se topografie loop. Nooit weer het ek daarna my berededrag aangetrek nie, behalwe as daar jaarliks parade-inspeksie gehou is, dan moes ons só aantrek.

Op rondtediens het daar van tyd tot tyd ook interessante dinge met my gebeur óf dinge wat ek aanskou het wat met ander ouens gebeur het. Ons was daardie jare sowat 20 blanke konstabels en vier sersante wat per skof aangetree het. Byvoorbeeld op Hoofstraat was ons vier lede, die begin punt van dié rondte is vanaf die vertrekpunt van die munisipale busse by Koningin Victoria se standbeeld op die plein tot by Russelweg, daar maak ons na ’n halfuur punt, dan terug na die vertrekpunt toe. Dit was gewoonlik Rondte nommer 5. Die eerste ou begin vanaf eerste vertrekpunt

en eindig na ’n uur weer daar, dan begin hy maar weer om die “beat te slog”, die tweede ou is op dieselfde rondte geplaas maar hy begin sy skof by Russelweg en eindig na ’n uur weer daar, die derde ou begin ook by die vertrekpunt maar loop die omgekeerde roete tot by Russelweg waar hy punt maak, en die vierde ou begin nou by Russelweg en loop die omgekeerde roete tot by Koningin Victoria se standbeeld. Dit klink dan só in die paradekamer nadat ons geïnspekteer is, met sakboekie in ’n leer- sakboekomslag, flits, (slegs nagdiens en namiddagskof vanaf 6nm (18:00) fluitjie, knuppel, boeie en ’n rewolwer (slegs op nagdiens) en die wyksersant teken dan jou sakboekie. Hy lees dan die lede se name uit en na elke naam, die rondte se nommer. Ek het mos al vir julle gesê dit klink soos volg, moenie my in die rede val nie!:

“Du Plessis rondte 5, eerste punt vorentoe, Van Eyssen, rondte nommer 5 tweede punt vorentoe, Wedderspoon rondte 5 eerste punt vorentoe, anti-kloksgewys en laastens, Welgemoed rondte 5 tweede punt vorentoe, anti-kloksgewys” (Hierdie vanne het ek nie uit my duim gesuig nie, hulle was regtig, saam met nog ander, op ons skof).

Die manne wat aan diens kom, se aanmelding is elke slag ’n kwartier voor die aanvang van ons skof. Met ander woorde om kwart voor ses in die oggend vir ons skof van 6vm-2nm (14:00); dis ook kwart voor 2nm (14:00) vir die 2nm-10nm (14:00-22:00) skof, en die aandskof weer kwart voor tien vir die nagskof wat strek vanaf 10nm (22:00) tot 6vm die volgende oggend. As jy ’n arrestasie op jou skof gemaak het, wag jy vir ’n bus en dan laai jy hom daarin om hom aanklagkantoor toe te neem. Die bus stop sommer voor die aanklagkantoor in Baakenstraat. Ek het vroeër al gemeld dat ons polisiemanne het gratis op die munisipale busse gery, en ons het ook nie busgeld vir die gearresteerde betaal nie.

By die aanklagkantoor word jou gearresteerde ‘deur die boeke gesit’. Hoe kry jy iemand ‘deur die boeke gesit’, vra julle my? Dis regte egte polisietaal. Elke polisieman weet wat dit beteken en wat om te doen om ’n gearresteerde deur die boeke te sit. Vir die oningeligtes beskryf ek kortliks die prosedure wat gevolg word in hierdie taak:

Wel, jy skryf ’n verklaring op ’n dossiervorm uit oor die misdaad wat hierdie persoon begaan het, gee dit vir die aanklagkantoorreserwe, hy vra jou om die beskuldigde te ‘skud’, dis nie om hom fisies te skud nie, maar jy gaan sy sakke deur en haal al die los eiendom uit sy sakke. Hy het net sy klere aan. Jy neem sy lyfband, geld, sakdoek, skoenveters, messe, pyp, twak óf sigarette, briewe, enigiets wat jy los in enige van sy sakke kry en dit oorhandig jy dan aan die aanklagkantoorreserwe. Hy skryf ’n kwitansie uit die register Prisonierseiendomkwitansieboek (PEK), in Engels “Prisoners’s Property Register.” (PPR) ek en hy onderteken die kwitansie in die boek, hy gee een vir die beskuldigde, die ander een plaas hy in ’n seilsakkie, wat genommer is saam met sy eiendom, skuif dit toe met die treklintjie en plaas dit in ’n trommel in die aanklagkantoor. Die oorspronklike bly in die kwitansieboek. (Terloops, ons moes elke maand al die inskrywings in die registers om die beurt in Afrikaans en Engels aanteken.)

“Is hy nou deur die boeke gesit?” vra jy my.

“ Nee man, ek kom nog daarby, hy is nou net geskud.”

Die aanklag teen hom moet nog geregistreer word, eers in ’n Register van Aanklagtes Aangeneem (RAA), in Engels “Register of Charges Accepted” (RCA) hy kry ’n geval nommer, sy arrestasie word in die Voorvalleboek(VB), in Engels “Ocurrance Book” (OB) ingeskryf en nou word sy naam ook in die selregister ingeskryf. Die vier registers word nou met die vier inskrywings se nommers oor en weer gekoppel, en dit word ook op die dossier, waarin die verklaring(s) geplaas word en waarop sy aanklag gemeld word, aangebring sodat daar geen onduidelikheid is oor hierdie persoon se arrestasie, deur wie gedoen, wanneer gepleeg, wanneer aangehou en wanneer vrygelaat. Nou is hy deur die boeke gesit!! ’n Omslagtige papieroorlog as ons dit vandag met die rekenaar gedrewe

prosedure sou wil vergelyk. Die verskil is dat ons had nie ’n rekenaar wat ons kon blameer as ’n aangeklaagde persoon se besonderhede nie ingeskryf is nie, óf dat die gearresteerde se besonderhede van ’n rekenaar se hardeskyf verdwyn het nie! Hierdie ‘deur die boeke sit’ prosedure word gevolg vir almal wat gearresteer is, ongeag ras, geslag, geloof óf stand in die gemeenskap. ’n Moordenaar en ’n dronkie gaan dieselfde prosedure deur, só ook ’n prokureur, polisieman óf predikant wat gearresteer word.

Daardie jare was daar selle vir blankemans en vir blankedames gereserveer. Alle nie-blankemans (Kleurlinge, Indiërs en Naturelle, daardie jare was die swartes naturelle genoem) was saam in ’n sel toegesluit. Die nie-blankedames (ook alle nie-blanke rasse deurmekaar) was in die selle wat vir hulle gereserveer is, toegesluit. Jy het byvoorbeeld nie mans in ’n dames sel, óf ’n nie-blanke in ’n blanke sel toegesluit nie, al was daar nie meer plek vir ’n nie-blanke in sy sel nie en al het die blanke mans se sel leeggestaan. Jy moet dan maar noodgedwonge met ander polisiestasies skakel om te hoor óf daar plek is vir gearresteerdes, selfs tronk toe geneem as dit nodig was. (So moes ons, nes die ander Staatsdepartemente en besighede, (klein) apartheid tot die letter van die wet uitvoer.)

Julle vra, wat het van die aangehoudenes se eiendom geword as hy hof toe gaan? Ek skets baie kortliks die prosedure:

Wanneer hulle hof toe geneem word, gewoonlik die volgende oggend, óf Maandagoggend na die naweek se sit in die sel, word elke aangehoudene se eiendom aan die begeleier oorhandig, sodat hy dit saam met die aangehoudenes na die hof kan neem. Die aangehoudenes word per spesiale opruktrok na die hof vervoer. In Port Elizabeth was die gebruik dat die aangehoudenes weer by die hof by die aanklagkantoor te Nuwe Geregshowe ingeboek en geskud word. Die rede daarvoor is dat hulle eiendom onder mekaar kon uitruil of dalk in transito eiendom van buite ontvang het. As ’n aangehoudene dalk onskuldig bevind, óf op borgtog uitgelaat word, kry hy sy eiendom by die aanklagkantoor te Nuwe Geregshowe, en as hy skuldig bevind word en tronk toe moet gaan, neem die begeleier sy eiendom saam met hom na die tronk toe, waar die bewaarders die eiendom ontvang en daarvoor teken.

Ek het reeds gemeld dat die voetmanne (Magalle) met vlootblou uniforms uitgereik is, en ons beredemanne (Bosluise) met rybroek en kamaste, maar ons is, soos reeds gemeld, ook met kakie uniforms uitgereik vir elke dag se diens. Daar is egter van die voetmanne wat ookmet kakie uniforms uitgereik was, hulle was die bevoorregtes wat amptelike patrolliewa bestuurders of motorfiets bestuurders was. Net ’n regstelling, die uitreiking word slegs gedoen as jy daarvoor aanvra deur middel van ’n SAP-vorm, vanaf jou stasie wat dan na die kwartiermeester in Pretoria gestuur word. Elke polisiebeampte het jaarliks ’n uniformtoelaag ontvang. Beredemanne het £15.0.0 (R30,00) en voetmanne £12.0.0 (R24,00) per jaar ontvang. Daardie bedrag was pro rata verdeel in 12 gelyke eenhede wat dan by jou maandelikse salaris as toelaag gegee is. Die speurders het ’n aparte toelaag gekry. Dit was regtig onvoldoende, want as jy ’n volledige stel uniform moet aanvra, dan het dit heelwat meer as die toelaag beloop.

Die bevoorregte voetmanne (Magalle) op ons stasie wat ook kakie uniforms kon dra was: Konstabels Vollie Vollgraaff, Jack O’Connel, S.S. Smith, “Brag” Grundling (het altyd gespog oor iets), M.A. Strydom (moedertjie genoem na aanleiding van sy voorletters) en Koos Vreÿ en dan was daar ook nog Monty Mongigali. Hy was ’n eks-tweede wêreldoorlog ou met ’n Italiaanse van. Hy was die ondersoeker van sake wat nie deur speurders ondersoek word nie en het bekend gestaan as ondersoeker van uniformsake en navrae en het ’n Harley Davidson motorfiets met syspanwa bestuur.

Hy het nogal baie imponerend gelyk met sy polisiepet, stofbril, ook uit die tweede wêreld oorlog se toerusting en leer kaphandskoene. Sy broekspype het hy, net soos trapfietsryers in die verlede, met

twee “clips” vasgemaak sodat dit styf om sy enkels span. Die Harley Davidson is tweede wêreldoorlog motorfietse wat gebruik was deur die “Despatch Riders.” Dis deur polisiemagte wêreld wyd oorgekoop.

Net ’n staaltjie elk van die volgende twee bestuurders: Vollie Vollgraaff en Monty Mongigali.

Konstabel Vollie: Hy het ’n privaat donkergroen 1948 Ford twee sitplek motor gehad, dit het soos ’n bottel geblink en soos ’n kat gespin met sy V8-masjien. Hy het egter net daarmee werk toe gekom as dit reën, andersins het sy goeie eggenote hom werk toe gebring met sy privaat Harley Davidson motorfiets (sonder syspanwa). Sy het bestuur en het Vollie se polisiekleurbaadjie, die donkerblou een met die vertikale ou-goud strepe, aangehad en ’n stofbril op haar oë. Sy laat waai teen ’n spoed wat skrik vir niks, daar van Algoapark af, waar hulle gewoon het, deur die stad sodat die kleurbaadjie se punte in die wind wapper. Vollie sit op die passasiersitplek (“pillion”) in vol uniform, die kakie een, met die een hand druk hy die pet op sy kop vas, met sy kop so skuins teen vroulief se rug gedruk, met die ander een om vroulief se lyf en só kom hy male sonder tal by die polisiestasie aan om te kom werk. Dis ’n gesig wat menige konstabel glimlaggend oor gepraat het, nie teenoor hom nie, want hy was ’n konstabel met meer as 9 jaar diens. Hy het sulke onderstebo sersantstrepe, genoem diensstrepe, net bokant die mouboordjie (“cuff of the sleeve”) van beide moue van sy “tunic” gehad. Die strepe was soos volg verdien: Die eerste een na 3 jaar diens, dan na 5, 7 en 9 jaar diens, kom daar elk een streep by, ’n totaal van 4 onderstebo strepe. Ons jonges het nog respek vir die ou garde gehad, maar die Kaapse manne, die skollies, het gesê: “Djulle moenie fear vir die laanies met die afdraand stripes nie, maar fear die ouens met die opdraand stripes, die sargents, hulle gaan die law books teen djou gooi as hulle djou vang.”

Net so ’n Harley Davidson motorfiets met syspanwa het Mongigali gery. Hierdie een is in Australië gebruik. (Foto: Google).

Konstabel Monty Mongigali: Hy het, soos reeds gemeld, die minder ernstige sake wat deur die uniformtak op ’n stasie ondersoek moet word, soos byvoorbeeld nie-onderhoudsake, waar vrouens kom kla dat hulle mans nie onderhoud vir die kinders betaal nie, gewone aanrandingsake waar geen ernstige wonde toegedien is nie, en hy het ook die diening van dagvaardings en uitvoering van lasbriewe, by ons stasie gedoen. Eendag kom daar ’n kleurlingvrou die aanklagkantoor binne,

uitgevat in Sondagklere en sy ruik skerp na 4711 ‘Olie Kolonie’ (Eau de Cologne) reukwater waar ek as aanklagkantoorreserwe diens doen. Sy vra toe: “Seur, kan ek vir sargeant, constable, health inspector, social worker, mister Monty spreek?”

Ek besef toe dat dit eintlik konstabel Mongigali is wat sy wil spreek. Sy het blykbaar nie sy rang geken nie en hom toe met al hierdie hoghere range beklee. Ek vra haar toe hoekom wil sy hom spreek, toe gee sy ’n lang relaas van hoe haar man haar aanrand wanneer hy dronk by die huis kom en dan het hy geen geld meer wat hy vir haar en die kinders mee kan onderhou nie, want hy drink alles uit. Ek wou haar verklaring afneem, maar sy weier, want die ‘mister Monty’ met sy indrukwekkende rang, en sy motorfiets, moet dit self doen, want hy het reeds by ’n geleentheid haar man gewaarsku om hom te gedra en geld huis toe te bring. Wel, ek sê toe vir haar hy is nie op kantoor nie ek sal ’n boodskap vir hom los. Ek het toe vir hierdie konstabel, ook met 4 afdraand (onderstebo) strepe, ’n geskrewe boodskap gelos. Ek het nie weer van die klaagster of van Monty gehoor wat van dié saak geword het nie. Seker opgelos.

Ek moet darem ook vertel hoe ek byna ’n kollega in die kaserne doodgeskiet het. Kom ek vertel julle eers die aanloop tot hierdie byna tragiese gebeurtenis. Ek wonder of ek nie nou maar hierdie geval later in dié boek sal meld nie, dan hou ek julle gespanne en gee julle aandag. Dalk sê julle vir my: “Don’t prolong the agony,” laat waai. Goed hier volg die relaas van wat en hoe dit gebeur het.: Ons berede polisiebeamptes, Bosluise, word uitgereik met ’n kombinasielyfband met rewolwersak, ’n ,38 Webley Scott rewolwer en met 12 rondtes ammunisie. Die voetmanne, die Magalle, kry nie hierdie uitreiking in die Kollege nie. Voetpatrolliediens gedurende die dagligure, doen geen polisieman met ’n rewolwer aan sy liggaam nie, net met sy boeie, knuppel en fluitjie. Sodra dit 6nm (18:00) word, kom hulle almal na die paradekamer waar hulle met ’n rewolwer en ses patrone uitgereik word, dis nou die Magalle. Die beredemanne het hulle eie kombinasielyfband en rewolwer en eie patrone. Hulle laat hulle rewolwer en patrone tuis, maar het sy eie kombinasielyfband aan. Hy trek ook een van die rewolwers en patrone wat in die aanklagkantoor in die brandtrommel gehou word.

Ek werk dié dag nagdiens, het lekker geslaap tot so 3nm (15:00), opgestaan en toe maar tussen die kamers in die kaserne by die ander outjies wat wakker was, ingeloer en gesels. Ek gaan toe na die kamer van konstabel Kleinhans toe, want een van die Magalle wat saam met my op nagdiens is, het gevra dat ek Kleinhans se kombinasielyfband moet saambring werk toe, want die rewolwersakke wat by die aanklagkantoor uitgereik word, het net ’n skouerband en geen lyfband nie. Kleinhans is, net soos ek, ook ’n Bosluis en vandaar die versoek om sy kombinasielyfband saam te bring nagskof toe.

In Kleinhans se kamer sit-lê konstabel Bezuidenhout, ook te Baakenstraat gestasioneer, op Kleinhans se bed met sy rug teen die muur en kyk na my en Kleinhans. Kleinhans staan voor die oop hangkas deur, kyk in die spieël aan die binnekant van die hangkas deur en is besig om sy das te knoop, want hy gaan uit vir die middag. Ek vra vir Kleinhans om sy kombinasielyfband te leen vir een van die nagdiens ouens, ek dink dit was vir Fryer, en hy wys so met sy kop na een van die laaie in die hangkas en sê ek kan dit maar neem, ek moet net sy rewolwer onder die klere in die laai bêre. Ek buk agter Kleinhans verby, neem die kombinasielyfband uit die laai, haal die ,38 rewolwer uit die sak en toe ek dit só uit die sak uittrek, kets ek die rewolwer (trek die sneller asof jy sommer net ’n ongelaaide vuurwapen se snellerdruk wil toets), onnadenkend natuurlik, en een harde knal weergalm deur die kamer en eggo terug in die gang. Ek skrik my buite weste, het nie geweet Kleinhans het sy wapen gelaai in die kombinasielyfband gehou nie. Bezuidenhout se oë rek soos pierings en hy gryp na sy kop. Hy staar met stokstyf oë na my, Kleinhans buk weg en gee een harde vloek. Ek staan nog met die wapen in my hand. Gelukkig praat Bezuidenhout, toe weet ek hy leef nog. Hy staan op en net langs die plek waar sy kop teen die muur gerus het, net onder die

vensterbank, sit daar ’n blerts waar die pleister van die muur weggeskiet is en die koeël vasgeslaan het. Kleinhans vra: “Wat de hel het gebeur?” Die hele situasie word aan hom verduidelik. Op aandrang van die ander twee, hou ons drie nou vinnig ’n Sanhedrin-vergadering, soos in die Bybelse tyd, om die aangeleentheid só geloofwaardig as moontlik te laat klink, sou daar navrae kom na die skoot wat afgevuur is. Ouens wat in die gang was kom nader en vra: “Wat het gebeur?:” Ons dink vinnig en besluit om te sê dat ons ’n klapper afgeskiet het. Almal is tevrede en toe hulle loop, konfereer ons drie nog verder. Ons drie onderneem om by die storie van die klapper te bly, want as die stasiebevelvoerder óf enige van die senior polisiebeamptes uitvind wat gebeur het, sou ons al drie aan die pen moes ry weens ons nalatigheid. Ons sou departementeel verhoor moes word, want, eerstens het ek die rewolwer onnodig gekets, tweedens het Kleinhans sy vuurwapen gelaai gebêre, en derdens ons drie het saam besluit om die nalatige optrede te verberg. Al drie van ons het maar lelik vaal om die kiewe gelyk toe ons na die skoot en ons vergadering, ons eie pad gegaan het. Ek ys nou nog as ek aan hierdie gebeurtenis terugdink, want ek sou heel waarskynlik tronk toe moes gaan as ’n beskuldigde wat óf van moord aangekla sou word óf, as hulle genadig is, weens strafbare manslag. Ekbeloof Kleinhans om die afgevuurde rondte met een van my 12 rondtes te vervang. Wanneer ons later in die jaar ons skietoefeninge gaan hê sal ek een rondte minder skiet sodat my getal patrone nog 12 is wanneer die parade-inspeksie plaasvind. ’n Woord van waarskuwing aan u die leser: Daar is ’n spreekwoord wat lui “Die duiwel laai ’n vuurwapen!”, maar ek kan u die versekering gee, dis nie die duiwel wat die vuurwapen laai nie, dis die mens!! Wees dus altyd bedag op die moontlikheid, wanneer ’n vuurwapen hanteer word, dat dit gelaai mag wees. Wees versigtig! Maak seker as jy ’n vuurwapen neem om dit na die grond/vloer te rig en kyk of daar nie ’n patroon in die magasyn van ’n pistool óf in die silinder van ’n rewolwer is nie! Ek sê weer, wees versigtig! Laastens, wanneer gefouteer, moenie dat ander mense jou in die versoeking plaas en aan die versoeking toegee sodat jou optrede met ’n leuen verdoesel kan word nie! Die volgende is net ’n stelling wat u as leser tot nadenke moet stem: Het u al ’n leuen vertel? Indien wel, het u al vergifnis daarvoor gevra? – Ek het dit reeds jare gelede al gedoen! Dankie Here vir die vergifnis!

Na hierdie byna tragiese gebeurtenis wat hierbo geskets is, word in die vertellings wat nou volg my wel en wee te Baakenstraat polisiestasie verder geboekstaaf. Ek het vele arrestasies vir minderwaardige (“petty”) oortredings, maar ook vir meer ernstige misdade uitgevoer wat in my teenwoordigheid gepleeg is, of wat ek ondersoek het. Ek trag nou om die aard en omvang van minder ernstige arrestasies te beskryf, waar, veral ons nie-blanke bevolking, aan die ontvangkant was:

Minderwaardige, of soos in die amptelike statistiek na verwys word, geringe misdade, is bv. die volgende: Urineer in die publiek, dronkenskap, besit van blanke drank (ja, kleurlinge mag net ’n bottel wyn en ’n halfbottel brandewyn per week besit en swartes niks!), drink in die publiek, oproerige gedrag, dobbel in die publiek, slenter op straat; nie-nakoming van die permitstelsel wat daardie jare op die wetboek was waaraan die swartes moes voldoen, en vele ander pasboekoortredings.

Die permitoortredings waaraan swartes skuldig kon wees, is bv.: In ’n blanke stadsgebied wees sonder werkspermit (Wet op Instromingsbeheer – “Influx Control Act”); Versuim om belasting (“Poll Tax”, ook bekend onder die swartes as Kopbelasting) te betaal – ongeveer 15/- per jaar (R1.50); ‘n Besoeker (swart persoon) wat langer as 72 uur in ’n beheerde gebied is; Geen nagpas- alle swartes, mans sowel as vrouens, moes na 9nm (21:00) uit die stad wees, tensy hulle ’n nagpas het wat hulle gemagtig het om na 21:00 op straat te wees, ens. Voor die ingebruikneming van die Bewysboek / “Reference Book” vir swartes, mans en dames, was al hulle permitte, passe, belastingkwitansies óf registrasiesertifikate op vol óf halwe folio’s geskryf óf gestempel. Sou die polisieman enige swarte vra om hulle permit, ens. te toon, het hulle ’n haakspeld, waarmee een van hulle sakke se bokante

vasgesteek is, losgemaak en ’n hand vol klein stukkies papier uit daardie sak opgediep en aan die polisieman oorhandig. Hierdie stukkies papier is die gevolg van die baie oop- en toevou van die vol óf halwe folio’s, sodat dit op die voue in stukkies skeur. Dan moet jy die stukkies op hulle regte plekke, soos ’n legkaart, bymekaar bring. Daar was reeds in 1953/1954 ’n begin gemaak om ’n Bewysboek / “Reference Book” aan alle swartes, toe nog naturelle genoem, uit te reik wat hulle dagin en dag-uit by hulle moes dra waarin al die permitte, magtigings, passe, belastingsertifikate, werkgewer se besonderhede, ens. aangeteken moes word. Almal het hierdie boek ’n Pasboek / “Pass Book” genoem. Van die eerste groot optogte deur die swart bevolking was juis toe daar gedurende 1955 teen die pasboek geagiteer is en daar landwyd swart vroue, en soms swart mans, die Bewysboeke in die openbaar verbrand het. Daar was selfs gedurende hierdie jare (ek dink dit was gedurende 1956) ’n opmars na die Uniegebou deur swart vroue wat ook daarteen geagiteer het. Baie swartes was toe tydens dié opmarse arresteer – veral die belhamels.

Ons polisiebeamptes moes die wette van die land polisieer, want die wette was daar om nagekom te word, en sou dit nie gehoorsaam word nie, het die nie-nakoming van die voorskrifte wat op Die Wetboek staan, op wetteregtelike misdade neergekom. Terugskouend kan ons vra: Was dit ’n menswaardige wyse waarop hulle behandel is? Liewe leser besluit maar self. Die polisiemanne het dit nie as sodanig gesien nie, want hulle het hulle taak uitgevoer en die ‘misdadigers’ arresteer, ongeag of die wette diskriminerend teen hulle was, al dan nie.

Blankes se eerste persoonskaart met ’n foto van jou, is ook gedurende dieselfde jare uitgereik. ’n Afdruk van my eerste persoonskaart verskyn elders. (My foto is reeds in 1954 in die Polisiekollege geneem, maar die persoonskaart is eers in 1955, uitgereik toe ek al amper 19 jaar oud was. My persoonsnommer was 125 131213 W.) Die Indiërs en kleurlinge het dieselfde tipe persoonskaart gekry. Die letter ‘W’ het na die persoonsnommer van ‘n blanke verskyn, die letter ‘A’ na dié van ‘n Indiër en ander Asiate en die letter ‘K’ na dié van kleurlinge.

My eerste persoonskaart. Foto was in 1954 geneem net voor my uitpassering. Dié persoonskaart was eers in 1955 uitgereik.

Na aanleiding van die vraag hierbo gestel, wil ek nog die volgende meld rakende menswaardigheid en/of diskriminasie soos ons dit in die vroeë jare in die SA Polisie teen die nie-blanke lede van die Mag ervaar het. Die eertydse Polisiewet het gemeld dat ’n blankekonstabel senioriteit het oor enige nie-blanke lid, ongeag sy rang, met ander woorde ’n blankekonstabel, sersant óf adjudant-offisier, hoef nie ’n nie-blanke-offisier te salueer nie, en die nie-blanke offisier, adjudant-offisier of sersant kan ook nie ’n ‘wettige bevel’ aan ’n blankekonstabel, sersant of adjudant-offisier gee nie. Die teendeel was ook waar, as ’n blankekonstabel ’n ‘wettige bevel’ aan ’n nie-blanke lid, ongeag sy rang, gee, en hy kom dit nie na nie, dan kan die nie-blanke lid departementeel verhoor word weens versuim om ’n wettige bevel te gehoorsaam. Terloops, hierdie bepaling was gedurende die sewentigerjare in die Polisiewet, en die Regulasies wat daarvolgens uitgevaardig is, herroep toe die eerste nie-blanke offisiere in die Mag aangestel is. ’n Verdere interessantheid was dat geen nie-

blanke lid van die Polisie ’n blanke inwoner kon arresteer as die persoon ’n oortreding begaan het nie. Daar is tog as uitsondering sulke gevalle opgeteken, maar toe was daar in die hof beredeneer dat die nie-blanke lid sodanige arrestasie uitgevoer het:

a) In sy hoedanigheid as ’n burger van die land;

b) die oortreding in sy teenwoordigheid gepleeg is en

c) voorts, dat dit ’n misdaad was wat ingevolge die Eerste Bylae van die Strafproseswet as ’n oortreding gelys is, en daarom uitgevoer was. (Vandag staan so ’n arrestasie in die algemene spreektaal bekend as ’n burgerlike arrestasie.) Hierdie oortredings was die mees ernstige oortredings soos moord, strafbare manslag, huisbraak en diefstal, waar die bedrag betrokke meer as ’n sekere bedrag beloop het, ens., ens.

Ek sal julle nie nou vermoei om al die oortredings wat onder hierdie Bylae gelys is, te meld nie. Ek kan ook nie al die misdade wat onder daardie Bylae gelys is, onthou nie. Hierby aansluitend wil ek net die volgende insident meld:

Kleurlingkonstabel Dick Erasmus, van Baakenstraat polisiestasie, was een nagdiensskof op rondte nommer 5, Hoofstraat, gepos. Daar was nog drie blankekonstabels wat dieselfde aand ook daar rondtediens gestap het. Hy sien ’n blankeman wat ’n geparkeerde motor se wieldop afsteel. Hy hardloop nader, blaas sy fluitjie, gryp die man aan sy arm, hou hom vas en hy skree kliphard dat dit in die nagtelike ure tussen die hoë geboue in Hoofstraat terug eggo: “Basies, kom help my, ek het ’n fo***n witbaas gevang wat ’n “hub cap” gesteel het.”

Die drie witkonstabels het dadelik gereageer en hom te hulp gesnel. Een van die witkonstabels het toe die finale arrestasie gemaak en Dick het net ’n getuieverklaring in die saak ingedien. Nou kan ek ook maar oor hierdie paragraaf, ‘Sela’ sê.

Ek het vroeër die naam van 2de klas sersant Elf Bouwer genoem. Wel ‘Elf’ was sy bynaam wat dieselfde Dick Erasmus aan hom gegee het. Dick het gesê hierdie sersant het ’n mooi gesiggie, wat amper soos ’n elfie s’n lyk. Hy het onder andere ook vir my ’n bynaam gegee wat later in hierdie geskrifte na verwys sal word. My bynaam was ‘Duifie”, want Dick het gesê ek lyk so sag en onskuldig soos ’n duifie. Ek dink hy het hom dalk misgis met sy beoordeling, maar nietemin, ek het lank hierdie bynaam gehad, maar algaande het dit in onbruik verval. Slegs Koos Vreÿ het my vir ’n tyd lank nog só genoem. Hy het dit later ook laat vaar omdat Ian, sy oudste seun, nie ‘duifie’ kon sê nie en my oom ‘puisie’ genoem het. Later in die hoofstuk waarin ek my wedervaringe by die Redhouse polisiestasie verwoord, sal u weer die naam van kleurlingkonstabel Dick Erasmus teëkom. Wanneer ’n polisieman rondtediens in ’n stedelike kompleks gestap het, en hy geen fisiese konfrontasie met persone gehad het nie, het hy óf nie sy oë oopgehou vir die pleging van ’n misdaad in sy teenwoordigheid nie, óf hy was dalk te bang om in ’n geveg betrokke te raak. Nou kan ek maar slegs ’n paar van my vele fisiese konfrontasies met gearresteerde persone in my loopbaan, vertel. Die volgende is twee van die vele gevalle wat plaasgevind het toe ek nog te Baakenstraat gestasioneer was:

Eerste geval van konfrontasie met ’n gearresteerde; Ek word op rondte nommer 16, Queenstraat, Port Elizabeth gepos. (Tans is dit Hoofstraat / ‘Main Road’ óf het dit sedertdien ook ’n naamsverandering in die Nuwe Suid-Afrika ondergaan?) Jy begin by Russelweg en stap aan die Westekant van dié straat tot by die St Pauls-kerk op die hoek van Albanyweg en Adderleystraat (Adderleystraat is tans die verlenging van Hoofstraat / ‘Main Road’) en na ’n halfuur maak jy daar ’n punt. Dan kruis jy die straat by die verkeerslig en stap aan die oostekant van dieselfde straat terug na die beginpunt waar jy na ’n halfuur ’n punt maak. Op my

heenreis na my punt by St Pauls-kerk, en naby die gebou wat die Streekkantoor van Dept. Arbeid huisves, vind ek ’n swartman wat verdag voorkom. Ek nader hom en versoek hom om sy permit ‘om in die beheerde gebied van Port Elizabeth te wees’, te toon. Hy kon dit nie toon nie. Ek visenteer hom en vind ’n Okapi mes in sy besit. Die lem van hierdie mes is langer as 3 ½ duim (ongeveer 8,5cm). Sodra ’n sakmes se lem langer as 3 ½ duim is, word dit ook as ’n gevaarlike wapen, in terme van die voormalige Wet op Gevaarlike wapens, geag. (Dis die wet wat daardie tyd gegeld het, ek weet nie of daar tans nog so ’n wet bestaan nie, en as dit bestaan, wat die omskrywing van ’n gevaarlike wapen is nie.) Ek arresteer hom deur hom aan sy een arm vas te hou en stap met hom oor die straat om by die naaste bushalte te kom. Ek is, so in die loop, besig om met my ander hand my boeie uit my kombinasielyfband te haal om hom te boei. Toe die meneer sien dat hy nou geboei gaan word, ruk hy los en laat spaander. Ek is fiks en hardloop hom baie gou in en druk hom op die sypaadjie vas. Nou begin hy stoei en wriemel soos ’n slang. Ons stoei behoorlik, dan is ek bo-op hom en dan is hy weer bo-op my, maar hou, hou ek hom vas soos strooi (str*nt) aan ’n wolkombers vassit. Gelukkig stop daar ’n bus op pad plein toe en die kondukteur help my om die man te boei. Ons sit hom in die bus en neem hom Baakenstraat aanklagkantoor toe.

O, julle vra my: “Waar in die bus sit jy die prisonier?”

Wel die dubbeldekkerbus se trappe na die boonste dek, by die agterkant van die bus, loop met ’n halfmaan na bo dan is daar ’n redelike groot holte onder die trappe waar die kondukteur gewoonlik staan en sy persoonlike besittings wat hy tydens sy skof gaan nodig hê, bêre. Daar word die prisonier nou so sittende ingedruk en jy staan voor hom. My asem jaag en bors fluit, twee van my tuniek se knope is afgeskeur, my pet het geval, my das sit skeef en ek is vol stof. Ek lyk asof ’n meelsak op my uitgeskud is, so vol stof is my uniform. Ek staan maar en probeer my so ongeërg en so goed moontlik afstof en betaamlik maak vir die mense wat op die onderste dek sit. Almal kyk belangstellend na die polisieman en wat hy met sy prisonier maak. Daar was natuurlik ook meisies onder hulle, en jy probeer lyk asof jy in Hollywood se films speel. Ek weet nie of ek daarin geslaag het nie, maar wat ek weet toe ek by die aanklagkantoor met my prisonier afklim, toe is die gearresteerde meneer so mak soos ’n lammetjie. In die aanklagkantoor moet ek in my verklaring meld watter tyd die man gearresteer is, en toe ek na my linkerpols kyk, vind ek my armhorlosie is weg. Ek moes dit tydens die stoeiery verloor het. Ek het die man deur die ‘boeke gesit’ op aanklagte van Besit van ‘n gevaarlike wapen en Weerstand bied teen arrestasie. Ek het met ’n bus terug gegaan na my rondte in Queenstraat. Ek gaan terug na die plek waar ek met my prisonier gestoei het en soek nou my horlosie, amper soos om ’n naald in ’n hooimied te soek, maar wonder bo wonder tel ek dit, met ’n gebreekte armband en nog in ’n lopende toestand, teen die sypaadjie se randsteen op. Dit was ’n Union Special, die Amerikaanse weergawe van die Rotary Switserse horlosie. Hierdie Union Special goudkleurige horlosie het ek by Rassie geruil vir ‘n Rotaryarmhorlosie met ‘n sekondewyser. Ek het dit later vir Pappa gegee toe ek vir my ’n silwer sakhorlosie, nogal met sewentien robyne (“rubies”) by Podbilsky se pandjieswinkel (“Pawn shop”) in Queenstraat vir £3.0.0 (R6,00) gekoop het. Noudat ek terugdink, wonder ek wat van hierdie sakhorlosie geword het. Ek onthou ek het dit later vir Pappa gegee en hy het die Union Special armhorlosie aan my teruggegee toe ek nie meer rondtedienste verrig het nie. Terloops, die polisie het jou uitbetaal as jou horlosie beskadig word of verloor terwyl dit op diens gebeur het, maar dan moet dit ’n sakhorlosie wees. Dis ook die rede hoekom ek toe die sakhorlosie by ou Podbilsky gaan koop het. Dit was iets beter as die algemene ou Zobo sakhorlosies wat jy vir ’n appel en ’n ei kon koop. Ek dink die aankoopprys van ’n Zobo was sowat 15/- (vyftien sjielingsongeveer R1,50).

Soortgelyke groen en wit dubbeldekkerbusse was daardie jare in gebruik deur die PE Tramway Bus Co. Kyk na die trappies, die holte onder die trappies is duidelik waarneembaar waar ons die gearresteerde laat sit het. (Foto: Google).

1950 – 1960 Westclox Zobo pocket watch. (Foto: Google).

• Die tweede geval van fisiese konfrontasie met ’n gearresteerde:

In hierdie geval was dit nie ’n manlike prisonier nie, maar ’n vroulike een, wie se anatomie uiteraard anders is as dié van ’n man. Die vrou, wat ’n goeie skeut drank agter die blad gehad het en sy een van die ‘dames (?) van die nag’ (’n prostituut). Dit het só gebeur:

Ek was saam met Alan Welgemoed op nagdiens op rondte Nr. 3, Suid-Einde in Port Elizabeth, gepos. Suid-Einde (“South End”) was die Baai se gevreesde Distrik Ses van Kaapstad en dit was my eerste ervaring in hierdie hool. Daar het alle rasse nog deurmekaar gewoon, alle klasse, alle onheilighede het daar uitgebroei en geweld was aan die orde van die dag. Toe ek nog as aanklagkantoorreserwe diens gedoen het, het ek bewus geraak van al die misdaad wat daar gepleeg word, want ek moes die verklarings in die aanklagkantoor afneem van die klaers wat daar kom kla het, óf klagtes aan die patrolliewa bestuurders oordra wat hulle daar moes gaan ondersoek. Gelukkig is ek saam met Welgemoed, hy was een van die Baaise polisie boksers wat jaarliks in Pretoria aan die Polisie se bokskampioenskappe om die liggewig titel gaan meeding het. Ek was verseker van ’n bekwame ondersteuner as ons dalk in ’n geveg sou beland, min wetende dat dit nie die geval sal wees nie. Terwyl ons in South Beach Terrace, ’n swak beligte laan naby die treinspoor stap, sien ons ’n kleurlingvrou wat ’n motor by die robot in Walmerweg nader en met die bestuurder praat. Die motor trek weg en hou by ons stil en die bestuurder meld dat die kleurlingvrou hom tot seks uitgelok het. Ons neem sy besonderhede en ons stap na die vrou toe. Ek herken haar dadelik as Rosy Gelderblom, ’n ou bekende klant van die polisie, want sy was al baie vir oortredings onder die Ontugwet opgesluit.

Alan sê: “Dup ou maat, arresteer haar, dan neem ons haar polisiestasie toe.”

Dié plek is aan die onderent van Walmerweg, naby die twee hotelle waar die klomp kleurlingvissermanne hulle dag se vangste se geld uitsuip en dronk op die sypaadjies rondsit en -lê. Ek gryp Rosy aan haar arm en ek sê vir haar dat ek haar arresteer vir Uitlokking tot Ontug, natuurlik in hulle spreektaal: “Ek arrest jou vir soliciting onder die Immorality Act.”

Nou sit sy ’n helse bek op en skree en ruk en pluk my rond om los te kom van my greep. Sy vloek die aller ergste vloeke soos: “Jou ma se moer!” en “Ek hoer nie met wit laanies nie, fok jou!”

Wel dis nog meer klagtes teen haar, naamlik Vuiltaal gebruik in die openbaar en weerstand bied teen arrestasie. Sy gaan plat in die teerpad sit, sodat die motors om ons twee moet ry, en die blerrie Alan steek nie sy hande uit om my te help nie, hy staan net op die sypaadjie en ek kan sien hy lag. Dis toe ek en die vrou en die vrou en ek! As ek aan haar raak om haar op te tel en te boei, skree sy hard uit: “Jy vat my aan my pramme, los my!”

Die klomp dronk vissermanne staan nou nader en por haar aan om my te slaan en hulle sêgoed aan my was nog erger as dié wat Rosy my toegesnou het. Ek sukkel, en genadiglik hou die patrolliewa by ons stil, want die sersant wil ons kom besoek op ons rondte. Ek het gelukkig daarin geslaag om vir Rosy te laat opstaan terwyl ek haar vashou. Die sersant en Alan help my om die vrou agter in die patrolliewa te laai, en ons klim saam agterin om haar na die aanklagkantoor te neem.

Ek is vies vir Alan en vra hom: “Hoekom help jy my nie?”

Hy antwoord, “Jong hier in Suid-Einde moet jy jou eerste arrestasie sonder hulp uitvoer, anders gaan die klomp skollies jou nooit met rus laat as jy hier kom “beat” stap nie. Wel, jy het die toets geslaag.”

Hierdie nuus was darem ’n troos, maar het ek ongemaklik gevoel?, ja beslis, maar ek het nie weer by latere geleenthede in Suid-Einde enige probleme gehad wanneer ek daar arrestasies gemaak het nie.

Ek sluit my wedervarings te Baakenstraat af deur te meld watter wegsteekplekke van bewysstukke soos geld, dagga, kaartjies, messe, ens. daar aan gearresteerdes gevind is. Manlike polisiebeamptes mag nie ’n vroulike prisonier visenteer nie. By Baakenstraat was daar ’n ou blanketannie wat ook in Suid-Einde gebly het wat gedurende die dag by die polisiestasie was en aangestel is as spesiale matrone wat vroulike verdagtes óf prisoniers in afsondering visenteer het. Omdat die tannie so teen 5nm huistoe verkas, word vroulike prisoniers versoek om self eiendom wat hulle aan hulle persoon het, aan jou te oorhandig, sodat dit as haar eiendom in die aanklagkantoor in ‘n seilsakkie gehou kan word.

Ek het by geleentheid ’n swart vrou in Hoofstraat gesien wat ’n uitermate groot baba op die rug het, maar ek kan geen kop van die kind sien nie. Toe ek aan die ‘baba’ vat, voel ek dat daar iets hard onder die kombers is. Ek het haar as verdagte na die polisiestasie toe geneem. By die aanklagkantoor vind die spesiale matrone dat daar ’n klomp drank in bottels, wat in papier toegedraai is, onder die kombers is. (swartpersone mag nie blanke drank, dis bier, wyn en spiritualieë besit nie). Sy is toe aangekla dat sy die ‘blanke drank’ sonder ‘n permit besit het. Daar was egter ‘n uitsondering. As ‘n swarte ‘n naskoolse kwalifikasie gehad het, het hy ipv die bewysboeke met ‘n bruin omslag, wat die ander swartes gekry het, ‘n bewysboek met ‘n groen omslag gekry. Op die laaste bladsy het die Naturellekommissaris (later die Bantoe Sakekommissaris) ‘n endossement gemaak dat hy, net soos ‘n kleurling, een bottel wyn en ‘n ½ bottel brandewyn mag besit.

Ek het ’n kleurlingman arresteer vir dronkenskap en tydens visentering in die aanklagkantoor, vind ek dat daar in elk van sy skoene ’n tiensjiellingnoot (ekwivalent van R1,00 elk) weggesteek is. Hy was natuurlik bang iemand beroof hom van sy geld in sy dronkenskap en het dit toe daar versteek; ’n Vrou kom kla dat sy vermoed haar tuinjong het ’n paar pondnote uit haar handsak gesteel wat op die kombuistafel gelê het. Hy word as verdagte ingebring en in die aanklagkantoor word hy visenteer. Hy was baie opstandig en ons kry aanvanklik niks aan sy persoon nie, maar toe gaan ek weer alle moontlike plekke deeglik na. Ek vind twee klein opgevoude tweepondnote, (ekwivalent

van R4,00 elk) in sy leerlyfband waarin ’n slit aan die onderkant gemaak is, wat tussen die twee lae leer ingedruk is. Nou is hy nie meer opstandig nie;

Ek kry dagga by ’n skollie wat met sy hande omhoog staan en toelaat dat ek hom van bo tot onder visenteer. Kry ’n daggazol in die voering van sy pet.

Ons het messe gereeld gekry in gearresteerdes se kouse, vuurhoutjies en stukkies swael van ’n vuurhoutjieboks, tussen die swartes se kroeshare ingewoel;

Dobbelaars sit maklik die geld (die weddenskapgeld) en dobbelstene wat op die toneel moet wees, in hulle monde;

Party daggarokers hardloop weg as jy aankom, maar een of twee staan botstil, hulle roer nie. By een so ’n geleentheid visenteer ek toe die een wat bly staan het en ek vra hom om sy skoene uit te trek. Toe hy gaan sit om sy skoene uit te trek, toe lê die daggazol op die grond. Hy het daarop gestaan.

Links: ’n Daggazol wat halfpad gerook is. Regs: ’n Dagga blaar – let op die waaier vorm van die blaar en die ongelyke aantal blare aan die blaarstingel. Altyd 5,7,9 of dalk 11. Wanneer ons nuwe polisiemanne oplei in die geheimenisse van deursoeking, het ons die vorm van ’n daggaplant se blare met die van ’n mens se hand vergelyk. Dit is mos ook in die vorm van ’n waaier! (Foto’s: Google).

Ek laat julle nou by hierdie relaas, want as ek moet meld waar daar in ’n woning of ’n voertuig bewysstukke weggesteek word, sal ek folio’s vol skryf. Ek volstaan deur net te sê: Sovele dinge daar in ’n woning is en soveel plekke daar in ’n voertuig is, sovele wegsteekplekke is daar. Ons het maar orals gesoek, somtyds gevind, ander tye niks gekry nie.

Ek moet darem nog vertel watter fiasko daar by Baakenstraat polisiestasie was toe die afdelingskommissaris onaangekondig, geklee in privaat klere, die stasie op ’n Saterdagmiddag kom besoek het. Ek het dit self nie gesien nie, maar dit was die “talk of the town” agterna en twee polisiebeamptes is toe baie gou verplaas. Kom ek verduidelik baie kortliks watter posisie ’n afdelingskommissaris daardie jare in die Mag beklee het. Ons land het net vier provinsies gehad, naamlik Kaapprovinsie, Natal, Die Oranje Vrystaat en Transvaal. Elkeen van die provinsies het ’n afdelings-kommissaris gehad, ook genoem ‘adjunk-kommissaris’ – ’n hoofman oor al die polisie distrikte en –stasies in die provinsie. Later het hulle die groter provinsies in meer afdelings verdeel bv. Westelike Provinsie verdeel en Noord-Kaap, Oostelike Provinsie en Boland, Transvaal was

verdeel in Witwatersrand, Soweto, Noord-, Oos – en Wes-Transvaal en Verre Noord Transvaal en Natal is in twee gedeel as Natal en Port Natal. Oranje Vrystaat het ook ’n verdere afdeling gekry naamlik Noord OVS. Wel, ons in Port Elizabeth was by die Oostelike Provinsie ingedeel met ’n afdelingshoofkantoor te Grahamstad. Nie een van die polisiemanne wat dié Saterdagmiddag by die stasie aan diens was, het die afdelingskommissaris, kolonel Van der Linde, geken nie – ekself sou hom ook nie herken het nie. Hy was ’n redelike kort mannetjie, ’n boepens, gryskop en hy het onder die polisiemanne as ‘Bitter bal van der Linde’ bekend gestaan – moenie my vra hoe hy aan sy bynaam gekom het nie.

Tweedeklas sersant Johnny Ferreira was die wyksersant en konstabel Banty (Bantie in Afrikaans uitgespreek) Mathews was die vangwabestuurder. Hulle was glo lekker aangeklam op diens en toe die kolonel inkom en hy staan by die toonbank en dié twee, Johnny en Banty, hang aan mekaar se skouers en praat ’n klomp bollie, toe vra die kolonel glo: “Weet julle wie is ek?”

Johnny maak sy een oog toe en kyk so skewekop na die kolonel en sê: “Ek ken jou nie, maar ek weet dat jy baie lyk soos ’n vetgat Jood. Kom Banty, dat ons ry.”

Hulle verlaat die aanklagkantoor, die kolonel gaan om die toonbank, kry vir tweedeklas sersant Vos as aanklagkantoorsersant, en die kolonel sê toe aan hom: “Ek is die afdelingskommissaris. Keer daardie twee dronk polisiemanne, hulle gaan ’n ongeluk maak”.

Die aanklagkantoorreserwe, ek kan nie meer onthou wie hy was nie, hardloop uit, maar die vangwa vertrek met ’n geskree van bande. Sersant Vos bel toe Mountweg polisiestasie en ook Nuwe Geregshowe polisiestasie om die twee manne te gaan voorkeer en sê hulle moet van die vangwa afgehaal word. Hulle was te Nuwe Geregshowe gestop en van die vangwa afgehaal en die afdelingskommissaris het die distrikskommandant, luitenant-kolonel John Love Drummond, opdrag gegee om die twee lede te ‘peck’, dis om hulle departementeel te laat verhoor, en hulle moes sommer nog die Maandag by Cambridge polisiestasie te Oos-Londen vir diens aanmeld. Dit klink amper so bekend soos wat dit vandag nog by sommige polisiestasies gaan en soos sommige polisiemanne steeds optree. Daar is niks nuuts in die wêreld nie – behalwe rekenaars!

Vele ander kleinere insidente het my lewe aangenaam, soms onaangenaam, te Baakenstraat polisiestasie gemaak, maar ek ag dit nie van soveel belang dat dit in hierdie geskrif van my ingesluit moet word nie.

Ek sluit nou hierdie hoofstuk af, want daar lê nuwe ervarings vir my voor toe ek hoor ek word na Redhouse polisiestasie toe verplaas. Dis ’n polisiestasie aan die buitewyke van Port Elizabeth op pad na Uitenhage.

HOOFSTUK 7: VERPLASING NA REDHOUSE POLISIESTASIE, PORT ELIZABETH

Na my dienstydperk by Baakenstraat polisiestasie, het hoofkonstabel Aubrey Quirk, die nuwe stasiebevelvoerder wat hoofkonstabel Rooi Jaap Jacobs opgevolg het wat met pensioen afgetree het, my een oggend vanaf die kaserne te Mountweg laat haal. Ek was nog ietwat moerig want ek het nagskof gewerk en eers nadat ek ontbyt geëet het, so om en by 7vm, tot slaap gekom in my kamer. Ek moes vaak-vaak weer uniform aantrek, want ek het nie geweet wat op my wag nie. Dit was op 15 Januarie 1955 wat ek voor die stasiebevelvoerder op aandag gestaan het. Sy boodskap was kort en kragtig: “Jy word na Redhouse toe verplaas om ’n konstabel wat na sersant toe, in sy

eksamen geslaag het, te gaan vervang. Jy moet môreoggend by die stasiebevelvoerder te Redhouse rapporteer.”

Net dit, net so!, niks meer nie, niks minder nie, niks verder nie, geen reëlings nie, geen verdere opdragte nie. Ek kry net ’n roetevorm in die hand waarin die verplasing gemeld word en wat ek by die nuwe standplaas moet inhandig. Hoe ek daar gaan kom, is my saak. Daardie jare het jy nie met ’n hoofkonstabel (Wit keps) teëgepraat en vrae gevra nie. Dis net: “Ja, Meneer, nee, Meneer” en weg is jy. (Langenhoven het mos gesê toe ’n man vir hom vra wie die werk moet doen waaroor daar besluit is: “Ek Meneer, jy Meneer, wie moet die wa se wiele smeer, Meneer? Jy - Meneer!”)

Julle vra hoekom noem ons hom ‘Wit keps’? Wel, sodra jy na hoofkonstabel bevorder word, het jy ’n los wit geriffelde gabardine oortreksel gekry waarmee jou donker blou pet oorgetrek word. Ek het by van die ander lede op die stasie gehoor dat die stasiebevelvoerder te Redhouse eersteklas sersant Strydom is. Ek het hom geken, want hy was die toesighoudende sersant by Baakenstraat toe ekdaar begin werkhet. Hy was die broer van konstabel M.A. (Moedertjie) Strydom en sybynaam was ‘Kleingetryn’ Strydom. Hy was klein van portuur maar ’n baie streng en ’n slim man wat die Polisie se Staande Orders, al 700 daarvan, op die punte van sy vingers geken het. Ek het vroeër melding gemaak dat konstabel Koos Vreÿ ook een van die vangwabestuurders te Baakenstraat was. Hy het dieselfde tyd as ek by Baakenstraat met verplasing vanaf Middelburg (KP) arriveer. Ons twee het toe eintlik goeie vriende geraak, die spreekwoordelike broers saam as nuwelinge op ’n groot stasie. Hy was getroud en ek het so dan en wan by hulle gaan kuier waar hulle in 6de laan Newtonpark, Port Elizabeth gebly het. Toe ek sien hy werk eers die 2-10nm (14:00 – 22:00) skof op 16 Januarie 1955 by Baakenstraat, het ek hom toe maar gevra om my die volgende oggend na Redhouse toe te neem.

Ek arriveer toe wel op die oggend van 16 Januarie 1955 by Redhouse polisiestasie se aanklagkantoor. Ons vind konstabel Gert Schoeman daar en hy boek my in op hierdie verplasing wat my toegeval het, en hy sê hy sal my gou deur die polisiestasie en terrein neem, want die stasiebevelvoerder is baie besig en kan my nie nou te woord staan nie. Koos Vreÿ stap saam met ons en op hierdie eksplorerende toer en ek het die volgende waarnemings gedoen:

Die Redhouse polisiestasie was in Dearestraat, Redhouse en ’n dubbelverdieping privaat woning is vir ’n polisiestasie ingerig. Op grondvlak was die sonkamer die speurders se kantoor met speurdersersant Ben van der Pol die hoofman oor vier en nie oor ’n honderd nie, met speurderkonstabel Gray Greyling sy onderbou as personeel saam met kleurling speurderkonstabel Casper van Heerden en naturelle speurderkonstabel Shishuba. Greyling het ook later ’n offisier geword en as luit-kol. by die Veiligheidspolisie te Port Elizabeth afgetree. Ek het nog vir hom klas gegee toe hy op offisierskursus gekom het. Langs die speurders se kantoor is die groot sitkamer in twee gedeel. Die een deel was die ontvangsarea van die publiek, en die ander deel agter ’n saamgeflanste toonbank, was die aanklagkantoor. Dan is daar ’n gang waar die spens as ’n bewysstukkamer ingerig is, die eetkamer was die stasiebevelvoerder se kantoor en die kombuis het die kombuis gebly vir ons ongetroude lede om daar kos te maak.

Op die eerste vloer was daar ’n badskamer, (met ’n s soos ons Bolanders gepraat het) met toilet en bad, twee kleinere slaapkamers langs mekaar, een groot gesinskamer waarin daar twee beddens en twee hangkaste was en ook ’n oop balkon. Die plek waar ek my hoof moes neerlê, was die groot kamer, saam met konstabel Gibson. Die paradekamer was ook die plek waar die ses nieblankekonstabels en een swart 2de klas sersant, Ngxe, aan diens gekom het, en waar hulle ook gerus het. Daar was ’n klein kombuisie met ’n swart houtstoof waarop die pap vir die prisoniers gemaak is.

Al twee die nie-blankespeurders se kantoor was in die een kamer van die buitegebou, langs die paradekamer. Agter die buitegebou was daar ’n motorhuis vir die speurders se motor. Daar was ’n alleenstaande klein stoortjie op die terrein waarin die vier trapfietse van die stasie gehou is. Omdat die polisiestasie vroeër ‘n woonhuis was het die kwartiermeester drie voorafvervaardigde sinkselle langs mekaar, een vir nie-blanke mans, een vir nie-blanke vrouens en een vir blankes, in die agterplaas van die polisiestasie aangebring.

Ek word deur konstabel Gert Schoeman tot by die stasiebevelvoerder se kantoor geneem, waar ek voor die sersant op aandag moet staan, en hy groet my en hy sê dat ek nou kan ontspan. Ja jong, in ons dae was ’n sersant een van die mees gerespekteerde range, en Kleingetryn was ’n eersteklas sersant, wat hoër in rang is as ’n tweedeklas sersant. Ek word aangesê om aanklagkantoordienste te verrig. Daar is nie ’n aanklagkantoorsersant nie, net een wat toesighoudende- en administratiewedienste verrig, naamlik 2de klas sersant Sarel Orffer, wat later verplaas is en deur 2de klas sersant Waky Wakeford vervang is. Dan is daar drie vangwabestuurders, wat ook aanklagkantoordienste verrig het, naamlik konstabels A.L. du Plessis, Gert Schoeman, Serfie Serfontein en ‘n maand na my aankoms op die stasie is konstabel Koos Vreÿ ook na Redhouse toe verplaas. Konstabel H. (Lang Dup) du Plessis meld sowat ’n maand later ook aan as nog een vangwabestuurder wat ook aanklagkantoordienste moet verrig. Hy kom van Korsten polisiestasie af. Ons is nou drie Du Plessis’s op die stasie. Om ons te onderskei van mekaar word ek summier “Klein Dup” gedoop, óf soos ek op Baakenstraat bekend gestaan het, as ‘Duifie’ aangespreek. Die ander twee het bekend gestaan as ‘Ou Dup’ en die ‘Lang Dup’ onderskeidelik. In my tyd te Redhouse het daar heelwat nuwe manne gekom en gegaan en meer lede bygekom, want die bedieningsgebied het die snel ontwikkelde swart woonbuurt, KwaZakhele, ingesluit, voordat dit later ’n selfstandige polisiestasie gekry het wat uitsluitlik deur swart lede beman was. Kom ek noem sommer vir interessantheidshalwe die volgende blankes se vanne, want al die nie-blankes s’n kan ek nie almal onthou nie:

Sersant Langeveld wat sy vrou, in sy beskonkenheid, vanaf hulle woonstel in Noordeinde, Port Elizabeth se dak wou afgooi, het oorspronklik van Walvisbaai gekom. Konstabel Gotlieb Antonie Jansen (Fires) van Vuuren, wat baie lief was vir die rokdraende geslag en vele geliefdes gehad het en amper eendag deur die wettige man van een van sy geliefdes geskiet is. Hy kon ontsnap. Hy het later majoor geword en is medies-ongeskik uit die Mag ontslaan terwyl hy in Johannesburg gestasioneer was.

Konstabels Edgar F.M. Dennis (uitgespreek ‘Denny’) en Van Jaarsveldt, wat later swaers geword het toe Dennis met Van Jaarsveld se suster getroud is, nadat Van Jaarsveld in Veeplaas nie-blanke woonbuurt dood is toe die vangwa waarin hulle gery het, met ’n donkie gebots het. Dennis het later brigadier geword en by die kwartiermeester in Pretoria afgetree. Ek het ook nog vir hom klas gegee toe hy in Pretoria op offisierskursus gekom het. Konst. Saai Zaaiman, hy is later getroud met een van ’n tweeling wat in Sydenham, Port Elizabeth gewoon het. Hierdie twee meisies was alom in die Baai bekend dat hulle soms onwettig op nagskof saam met die polisiemanne die tyd verwyl het! Ou Saai kon bietjie kitaar speel en jodel en was baie lief vir visvang. Hy was so ietwat van ’n droë drol! My seuns het van só iemand gepraat as ‘vlak getjap’.

Dan was daar Coetzee en Meyer, wat saam met my vir Port Elizabeth se Polisie se derde span (‘krummel {hoi paloi} span’) rugby gespeel het. Rynie Stoltz en speurderkonstabel Louis van Rensburg. Hulle was swaers, met twee susters getroud. Van Rensburg het later speurdersersant geword en toe vir die Oppenheimer as mynpolisiebeampte (speurder) gaan werk. Albei het daardie tyd te Despatch gewoon. So terloops, toe Harry Oppenheimer by geleentheid gevra is, of hy ook sy mynpolisie en -veiligheidsbeamptes oplei, toe was sy antwoord: “No, the Police College train them for me!”

Speurderkonstabel Blackie Swart wat sy regteroog verloor het toe ’n skollie hom met ’n mes gesteek het in die proses van arrestasie weens huisbraak. Hy het later offisier geword. Hy het as ’n majoor ook in ’n motorbotsing beswyk. Ek het ook vir hom tydens sy offisierskursus klas gegee. Speurderkonstabel Piet Strydom, later ’n speurdersersant was my beste vriend op die stasie. Hy is later met die telefoniste te Redhouse Poskantoor, Susan McLeod, getroud. Hy het later, redelik jonk nog, aan ’n hartaanval beswyk. Voor sy troue het ons saam-saam by twee Potgieter susters gekuier. Julle vra net gekuier? Ag ja man, net bietjie gekuier! Ek by Suletta en hy by die ouer een, Elaine. Hulle het te Aloes spoorweghuise gebly waar hulle pa stasievoorman was. Later het hulle in die Baai in die voorstad Humerail gebly. Dit was maar kortstondige vriendskappe.

Konstabel Lappies Labuschagne, hy staan op verplasing na De Wetsdorp in die Oranje Vry-staat as stasiebevelvoerder. Hy het reeds sy sersanteksamen geslaag en was in afwagting van bevordering na 2de klas sersant toe. Konstabel L.D. (Lourens) Slabbert. Hy was die strooijonker by ons troue. Hy het later ’n sersant en die stasiebevelvoerder te Wolwefontein, in Uitenhage se distrik, geword.

Ek wil darem ‘n paar nie-blankes se name ook noem. Ek het die een of ander ervaring saam met hulle beleef, en daarom noem ek hulle nou al:

Kleurlingkonstabel Dick Erasmus, ook vanaf Baakenstraat. Kan julle onthou, die een wat die witman in Hoofstraat in Port Elizabeth, gearresteer het? Ek meld later weer iets omtrent hom. Kleurlingspeurderkonstabel Casper van Heerden - die swart lede kon nie Casper behoorlik uitspreek soos sy vader en moeder hom gedoop het nie en altyd gepraat van “Kaspielê”. Kleurlingkonstabel Tarentaal – die man wat kort-kort siek gerapporteer het.

Naturellekonstabel Shange, ’n Zulu, kon goed kierie slaan, sterk soos ’n bees en wonder bo wonder, hy kon mooi Afrikaans praat. Naturellekonstabel Kgaile (spreek ‘Gaaihielê’ uit), ’n Xhosa, hy was redelik oud, maar vir jare reeds te Redhouse en by die eertydse Swartkops polisiestasie, voordat Swartkops se polisiestasie gesluit en hy na Redhouse oorgeplaas is. Redhouse is jare later ook gesluit toe ’n nuwe polisiestasie te Amsterdamhoek, net aan die noordekant van die Swartkopsriviermond gebou is.

Wel, ek kan nog vele name noem, maar ek volstaan hierby wat die naamlys betref. Ek sal oorgaan tot die wel en wee van my paaie waar ek ondervinding in die SA Polisie by Redhouse opgedoen het.

7.1 Wedervarings te Redhouse Polisiestasie.

Nadat ek ‘n maand in die kaserne gebly het en gesien het dat die kosmakery nie eintlik een van my talente is nie, het ek soggens net graanvlokkies en ’n sny brood vir ontbyt geneem, en dan ’n aandete by die Redhouse privaat hotel gaan eet. Elke aand natuurlik poeding, die swakheid in my eetgewoontes. Later egter, het die poeding nie meer só lekker gesmaak nie, want om elke tweede aand rabarber (“rhubarb” is ‘n plant met baie suuur plantstingels!) met vla te kry, het my maag laat rebelleer. Sooibrand was my voorland, want hier by Redhouse het ek begin rook – Stuyvesant sigarette. Die sigarette was later te duur vir my self-gerantsoeneerde sakgeld, 1/- en 6 pennies (15c) ’n pakkie van twintig, daarom het ek oorgeslaan na pyprook toe. Die pyprokery het ook nie baie gehelp om die suur maag te streel nie, dit eintlik aangehelp!

Hoe het jy, liewe leser, die eerste keer rys gekook? Ag ja, ek weet julle kan almal kos kook, maar laat ek julle maar van my ekskursie vertel:

Ek het saam met Dennis en Gibson in die kaserne gebly en een Saterdagmiddag, toe ons van die lokasies (vandag “townships” genoem) af terugkom by die polisiestasie, het ek aangebied om vir

100

ons ’n “stew” te maak. Die Vader alleen weet hoekom ek só dapper was. Die volgende is my eie resep van hoe om rys te kook. Myne was ’n volslae mislukking. Dit het só gebeur:

Die bestanddele: Alle resepte in resepteboeke meld wat benodig word.

1) Ek het by die China (Tjaina) -winkel ’n pond rys (ongeveer 500 gr.) gekoop;

2) Twee blikkies soutvleis (“Bully beef”) gekoop; en

3) ’n Halfdosyn eiers by een van die lokasie-inwoners gekry. (Seker eiers van hoenders wat rondom haar kaia in die stront rond skrop).

Die metode:

Dit kom mos ook voor in alle resepteboeke: Ek maak ’n 5 liter aluminiumkastrol, waarin die prisoniers se pap gewoonlik gemaak word, vol water. Plaas die kastrol op die tweeplaat elek-triese stofie, (“hot plate”) en gooi die pakkie rys daarin. Nou gaan ons lekker rustig in die aanklagkantoor rook en gesels.

Die reaksie: Toe die rys begin kook. Hierdie paragraaf staan nie in elke resepteboek nie!

Ons vergeet van die rys en nou hoor ons na ’n ruk ’n onaardse gesis en geborrel. Ek hardloop kombuis toe, sien die kastrol se deksel staan skeef en waar jy kyk, loop rys - oor die kastrol se rand, op die stofie, op die tafel, op die vloer. Ek probeer desperaat die deksel terugdruk, brand my hand, en met ’n gesukkel kry ek die kastrol van die stofie af. Ek soek naar-stigtelik ’n hol ding om van die rys uit die kastrol ontslae te raak. Skep sommer met ’n koppie van die rys uit en gooi dit in die opwasbak, nou is die kastrol nog tot by die rand vol rys.

Die voortsetting: Hoe om die “stew” te maak. Dis eintlik ‘n voortsetting van die metode. Hierdie afdeling kry jy ook nie altyd in ‘n resepteboek nie!: Nou vir die “stew”. Die ander twee lê soos hulle lag. Ek maak die twee blikkies soutvleis oop, gooi dit in die pot, roer dit met ’n lepel, breek drie eiers in die pot, roer weer, gooi sout in en sit die pot vol bravade terug op die stofie. Ons staan liewers hier by die stofie en die pruttende kastrol rond, om te sien wat gaan nou weer gebeur.

Die resultaat: Die ‘stew’ begin kook:

Toe die affêre weer begin kook, begin die inhoud weer uit die kastrol uit te peul. Ek vang dit wat ‘oorvloedig’ is, op met ’n bord en sit dit maar eenkant. Toe alles gaar lyk, neem ons hierdie dis wat nou werklik nie aantreklik gelyk het nie, na buite. Dit het ’n rooi kleur gehad, gemeng met die geel van eiers, wit rys wat nou ’n grys kleur het soos wat die aluminium van die kastrol die rys gekleur het.

Die bediening: Die voorsit van die “stew”:

Wel, ons het toe, soos ’n klomp “hostel boys”, elkeen met ’n lepel, om die pot op die gras gaan sit. Was redelik lus vir eet, het maar proe-proe só skeppie vir skeppie geneem. Dit het wel nie aantreklike gelyk nie, maar dit het darem nie te onaardig gesmaak nie. Ons drie het seker ‘n kwart van die pot se inhoud verorber en die ander driekwart vir die prisoniers gegee. Hulle het natuurlik hierdie baaskok se poging werklik geniet, want dit was ’n verandering van die daaglikse drie porsies pap!

Naskrif: Ek wonder of Corrie nie hierdie resep in haar resepteboek wil oorskryf nie?

In ons polisiewyk was daar heelwat lokasies, hedendaags “townships” genoem. Daar was Missionvale, Kleinskool, Bethelsdorp, Chetty, Veeplaas, New Look, en Maxgaki se grond en later het die nuutgestigte swartwoonbuurt Kwazakhele bygekom, voordat daardie gebied ’n eie

polisiestasie gekry het. Soos ons polisiewyk digter bevolk geraak het met die groot swartbuurt, Kwazakele, het ons gereeld nuwe wit- en swart lede bygekry. Ons moes gereeld ook op die uitkyk wees vir ‘handel na ure’ deur die eienaars van die kleinere winkeltjies. Daar was nogal vele “china shops” wat, afgesien van hulle winkellisensie ook ’n kafeelisensie gekry het. Die kafee-eienaars het dan negosieware (kruideniersware) na-ure oor die kafeetoonbank verkoop. Winkelure was toentertyd vanaf 7vm (07:00) tot 5nm (17:00) op Saterdae net tot 1nm (13:00) en op Sondae was winkels gesluit. Sou daar dan kruideniersware gedurende die ‘toe tye’ verkoop word, was die winkelen kafee-eienaars beboet. Daar was beslag gelê op die kruideniersware wat só verkoop is, want dit moet as bewysstuk voor die hof gebring word. Die hof het dan die bewysstukke verbeurd verklaar en dit was dan by ‘n latere geleentheid op veilings verkoop.

Een van die groot sondaars wat telkemale boetes moes betaal vir ‘handeldryf na ure’ was ’n Chinese man, Yung Lee, in Veeplaas. Hy het ’n gebroke Engels gepraat en Afrikaans nog swakker. Hy kon byvoorbeeld nie ’n ‘r’ sê nie en daarvoor het hy ’n ‘l’ gebruik. Hy het eendag aan my vertel dat hy die kleurlingklante krediet gee, maar dat hulle dan net wegraak en hy ly die skade. Dit het só geklink: “You know sil, I give the coulelds cleddit, then they lun away and they nevel come back again.”

Ek moet julle darem eers vertel van die groot liegbek, Volker, wat by die Nuwe Geregshowe (dis die polisiestasie by die landdroskantoor, destyds magistraatskantoor genoem) gewerk het. Hierdie Volker was ’n ou omie van sowat 65 +jaar oud en ’n spesiale konstabel. Hy was reeds ’n klompie jare afgetree, en het as hofklerk by die naturellesakekommissaris se kantoor gewerk. Die naturellesakekommissaris, met die rang van magistraat (landdros), het ook ’n hof gehad en het al die sake waarin swartmense (naturelle) in verband met oortredings van die sogenaamde Paswette / “Pass laws” en oortredings van die Wet op Naturelle Administrasie, gearresteer is, verhoor. Wel, oom Volkie, soos ons hom genoem het, was klein van postuur, ‘n gryskop, sy uniformbaadjie was so twee nommers te groot vir hom, hy het vooroor geloop en knaend met ons jong konstabels by sy ruskamer gesels. Al die polisiemanne in die Baai het geweet hoe baie oom Volkie kan lieg, sonder om ’n oog te knip óf te lag oor die stories wat hy vertel. Ons wat al sy stories gehoor het, het gewoonlik nuwe konstabels wat by die hof moet wees om getuienis af te lê, met teepouse na oom Volkie se ‘kantoor’ geneem en hom dan aan die praat gekry sodat die nuweling ook kan hoor hoe ‘bekwaam’, ‘slim’, ‘dapper’, ‘sterk’ óf ‘geloofwaardig’ hierdie man is, óf in sy jongdae was, soos hy dit self aan die toehoorder openbaar. Hier volg ‘n paar van sy stories wat hy met groot erns aan ons vertel het:

Nuwe Geregshowe polisiestasie in Port Elizabeth. Die ingang links is na die landdroskantoor en howe en die ingang regs na die polisiestasie. Daar is sedertdien ’n nuwe gebou opgerig vir Landdros- en Hooggeregshowe. Die polisiestasie beset nou die hele gebou. (Foto: Google)

Oom Volkie aan die woord:

“Ek was in my jongdae, seker die beste duiweboer wat met opregte wedvlugduiwe geboer het, maar ek het ook ’n sagte plekkie gehad vir die wilde duiwe wat op die stadsplein vir kos kom soek het. Ek het by geleentheid een mooi blou duif hen, met ’n vrat op haar neus so groot soos ’n akker, gevang waar sy by Koningin Victoria se standbeeld op die plein op die sement oppervlak vir kos geskrop het. Julle weet mos dat duiwe met groot vratte op hulle snawels goeie renduiwe is. Wel, hierdie hen het toe geblyk ’n verdwaalde “homer” (wedvlugduif) te wees.”

‘n Mooi voorbeeld van ‘n wedvlugduif. Sien die vrat op haar snawel.(Foto Google)

“Ek het dit eers uitgevind toe ek haar saam met my ander duiwe laat oefen het. En het sy nie ’n goeie renduif geword nie?! Ek het hoevele pryse met haar gewen. Die PE Loft’s Association (PE se Wedvlugklub) wou met alle mag hierdie duif koop, maar sy was beslis nie te koop nie, ook nie haar kinders nie – hulle was almal wenners. Die president van die Loft’s Ass. het te Uitenhage gebly, sowat 20 myl (±32km) vanaf PE, en hy het vreeslik gesoebat om selfs net twee eiers van die hen te kry. Na ’n lang oorweging stem ek in, maar ek bedink my en besluit ek gaan hom net een eier gee wat hy kan laat uitbroei. So gesê, so gedoen. Ek het al amper van die gebeurtenis vergeet, toe ek een oggend baie vroeg, seker ’n maand nadat ek die eier aan die president gegee het, hoor dat hier langs die huis op die sementpaadjie wat na die duiwehok lei, sulke fyn piepgeluidjies kom en ook tip-tip-tip-tip-geluidjies. Ek gaan by die huis uit om ondersoek in te stel. Wat dink julle sien ek?”

“Ek weet nie oom”, antwoord die oningeligte polisieman.

“Wel, hier sien ek ’n duifkuiken, hy het nog nie eens vere nie, net sulke klein pennetjies, sy pootjies is vol bloed, en hy is op pad na my duiwehok toe. Ag, ek vat die ou dingetjie en streel hom so ’n bietjie en neem hom hok toe. Wat dink julle gebeur toe?”

“Weet nie Oom!” kom die antwoord.

“Wel julle sal my nou nie glo nie, maar wragtig daardie super wedvlugduif hen, kom nader en sy begin die kuiken te voer. Dit was al die tyd die eier wat ek aan die president van die PE Loft Ass. gegee het, wat hy laat uitbroei het, se kuiken. Ek het die kuiken toe ook later as een van my spogduiwe gehou en nie weer aan die president van die Loft Ass. gegee nie.”

“Hel, Oom, dit was darem maar ’n “homer” duisend. Wat het van haar geword?”

“Man, ’n bleddie kat het haar later gevang!”

Ek wonder nou nog of hierdie duif nie die hedendaagse miljoen dollar wedvlug vanaf die Karoo na Sun City toe sou gewen het nie.

Nou vir sy volgende storie:

“Manne, julle wil weet of ek ook regte egte polisiewerk gedoen het. Ja man, ek was in ’n stadium ’n beredeman en was daar in die Transkei gestasioneer. Ek wil dit eintlik nie self sê nie, maar ek was ‘n dêm goeie ondersoeker van sake. Ek het allerhande ondersoekwerk gedoen, bekwaam in dit wat ek gedoen het, en ek was baie pligsgetrou en het elke aand teruggekom na die kantoor toe. Ek het nie op my patrollies uitgeslaap nie. Ek het ’n baie mooi vosperd gehad met die naam van, ag, ek

kan nou nie meer sy naam onthou nie, maar dit was ’n hings. Julle weet mos wat ’n hings is, weet julle nie?”

“Dis ’n mannetjies perd wat nog al sy ‘tools’ het. Nou ja, julle onderbreek my, laat ek julle nou vertel hoe vinnig daardie perd kon hardloop. Ek was een middag teen sononder op pad terug polisiestasie toe en ek wil graag voor donker daar kom. Ek was nog sowat 10 myl (± 16km) van die stasie af en ek gee my vosperd die teuels en laat hom voluit hardloop, want ek wil binne ’n halfuur by die stasie wees. Ek weet dat ek nog die Keirivier moet oorsteek wat in vloed is, maar ek kan die dêm perd nie inhou nie, hy hardloop asof hardloop uit die mode gaan.

Ek sien hier kom die rivier al nader en nader, maar vosperd “slack” nie af nie, hy hardloop sommer so oor die water tot by die anderkantse wal en nou hardloop hy eers! Ek kyk nog so terug na die rivier se kant toe, toe sien ek nog die ry perdespore soos wat dit die water ingeduik het toe hy oor die water gehardloop het, toe weet ek, hierdie perd gaan my betyds by die stasie bring. Ons het dit binne die halfuur gemaak. Ek wil die perd eers koud lei, dis mos hoe dit in die polisie gedoen is, maar die ros het nie eers gesweet nie. Ek het hom maar sy baal hooi en twee emmer mielies gegee omdat hy so ’n goeie rit vir my gegee het.”

“Hel Oom, is dit regtig waar?, kon hy só vinnig hardloop en was die voer nie ’n bietjie baie nie?”

“Man wil jy my nou vertel ek lieg vir jou? Vra hierdie Du Plessis, hy ken my, ek is mos die eerlikste polisieman in die Baai.”

“Dankie Oom, totsiens Oom.”

Oom Volker het nog ander stories gehad, maar kom ek volstaan maar by hierdie twee, dis dié twee wat die naaste aan die waarheid is! As nagedagte het hy altyd gesê: “Ek was nie altyd só kort nie, ek was in my jongdae sesvoet ses duim (amper 2 meter) lank. Ek het só kort geword omdat ek my vir die polisiemag opgewerk het. “Liegbek!” (Dis dalk die rede waarom sy tuniek so twee nommers te groot was vir hom. Hy het kleiner geword! Ha, ha.)

Ons jongmanne by Redhouse het gereeld, nadat ons die oggendskof in die aanklagkantoor gewerk het, vrywillig as patrolliewabemanning, sonder om oortyd af te vra, saam met die patrolliewa gery. In ons jongdae was daar nie ‘n ding soos betaling vir oortyd nie, jy kan aftyd (“time due”) verdien as jy byvoorbeeld na jou dienstoer vir die dag / nag verby is, moet hof toe gaan óf dalk ’n vergadering by die stasiebevelvoerder óf distrikskommandant moet gaan bywoon. Jy doen dan aansoek vir tyd af (“time due”) op ’n uitrol vorm (“pro forma”) wat dan deur die stasiebevelvoerder geëvalueer word en dan goed- óf afgekeur word. Word dit goedgekeur, hou jy dit by jou, want jy kan die ure afkry as jy in dienstyd dalk aan die een of ander sport gaan deelneem óf as jy dalk sommer net op ’n middagóf oggendskof nie wil kom werk nie, aangesien jy dalk besigheid het om af te handel. Die goedgekeurde “time due”-vormpie word dan op die diens sersant se rapport vasgeheg om jou afwesigheid te verduidelik. Ons vrywillige diens was opwindend en ons wil graag arrestasies maak van besit van dagga, óf rook daarvan óf handeldryf daarin, drankhandel, aanranding ernstig en alles wat op ’n skof kan gebeur. Die patrolliewabestuurders was almal getroude manne en hulle was te bly om die jong latte by hulle te hê wat die arrestasies kan uitvoer sodat hulle die getuienis in die hof kan gaan aflê en die beskuldigdes deursoek, deur die boeke sit, dossiere opskryf en in aanhouding plaas. (Hulle was seker in dié opsig slim, want nou kan hulle in hulle aftyd rustig met hulle families verkeer i.p.v. om ure in die hof deur te bring.) Só is ons jongmanne aan praktiese polisiewerk blootgestel en kon ons, ons bevorderingseksamens met meer vertroue tegemoet gaan, want ons ervarings-veld word daardeur verbreed. Ek gesels later daaroor.

Kom ek vertel julle gou wat die kleredrag was van getuies wat in ’n magistraatshof (landdroshof) getuienis moes kom aflê:

Privaat persone – mans = Met das en baadjie; Privaat persone – dames = Met ’n hoed op en sykouse aan. Hulle was gewoonlik ook grimeer, want dis mos ’n “outing” waar sy aan die mensdom blootgestel word!

Polisiebeamptes – uniformtak = Vol uniform met pet op. Jy hou jou pet op in die hof, maar as jy die eed moet aflê, verwyder jy daardie hoofdeksel, hou dit eenkant, neem die eed en plaas die pet weer terug op jou kop.

Polisiebeamptes - Speurders = Das, baadjie en langbroek.

By die Hooggeregshof, of die Rondgaande Hooggeregshof, waar ’n uniformlid getuienis moet aflê, salueer hy eers die regter, dan verwyder hy sy pet, neem die eed en sit weer die pet op. As hy klaar getuig het, salueer jy weer die regter en verlaat die getuiebank. Die speurder moet ’n pakklere, verkieslik ’n donker pak, aanhê en ’n hoed. Hy moet die hoed verwyder as hy die eed neem en dit weer opsit as hy getuig.

Ja, nee, regte oud-modiese Engelse gebruike. Daardie pis-voeterigheid en gebruike het verval toe ons ’n Republiek geword het. Kleredrag is tans baie informeel, behalwe die landdroste, regters, staatsaanklaers, advokate en prokureurs dra nog steeds hulle togas. Die togas se snit verskil van mekaar. Kom ons laat dit daar.

Julle sê julle wil graag weet wat alles op die gebied van misdaad in Redhouse se polisiewyk my pad gekruis het? Daar was werklik honderde gevalle van ernstige, en ook minder ernstige misdaad wat ons polisiemanne, ek inkluis, moes hanteer en ondersoek. Ek was net na my troue beseer toe twee huisbrekers my in die motor waarin ek hulle na die polisiestasie toe geneem het, aangeval het. Daardie episode sal ek onder ’n ander seksie in hierdie hoofstuk beskryf. Kom ek meld baie kortliks die volgende paar gevalle:

Ek is saam met sersant Sarel Orffer en ’n paar nie-blankekonstabels by ’n huis van een van die swart werkers by Van Coller se steengroewe te Aloes. Ons het inligting ontvang dat die bewoners dagga verkoop. Dis stikdonker, ons laat die vangwa sowat 300 treë agter die steenoonde en ons bekruip die besondere huis. Ons klop en toe die deur oopgaan sien ek, in die lig van my flits, hoe ’n swartman na my kap met iets in sy hand, ek duik weg en hy kap weer, maar Sarel Orffer het ’n lang onluste knuppel by hom (“axes pick handles complete one”) en hy slaan die swartman teen die kop en hy val. Ons storm die hut binne en ek is op hom. Orffer sien dit was ’n handbyltjie waarmee die blikskottel na ons gekap het. Die byltjie sit in die deurkosyn vas. Hy word geboei, want ons het dagga en ‘n drankbrousel in sy huis gevind. Hy was ook aangekla vir aanranding op polisiebeamptes. Tydens sy verhoor het hy by die magistraat gekla dat die polisie hom geslaan het. Sarel het toe gaan getuig dat hy die man geslaan het,-“…..en Edelagbare, ek het hom goed geslaan, want hy het met ’n byltjie na ons gekap….” Die landdros het niks verder gesê nie en hom skuldig bevind aan al die aanklagtes teen hom.

’n Foto van my in my kaserne kamer by Redhouse polisiestasie in Port Elizabeth (Foto: Ben - geneem deur ’n kollega).

’n Plaasboer, Coen van Rensburg, die skoonpa van Alex Kellerman die oud-SAUK omroeper, kla dat daar een van sy beeste vermis word en hy vermoed dit is deur ’n ander boer op die buurplaas geslag. Ek neem ’n verklaring, Piet Strydom, die speurdersersant, is saam met my, en ons gaan na

die plek waar dit vermoed word die bees geslag is. Ons kry net ’n bietjie bloed, maar die draadheining is geknip. Ons gaan na die plaas toe waar die draadheining geknip is. Ons dink dat iemand op daardie plaas moet die verdagte wees. Ons vind meneer S.A.P. Nordier. Hy besit ’n slagpale by sy motorhawe en winkel wat hy langs die PE-Addopad, bedryf.

Kom ek laat die ondervraging van meneer Nordier eenkant. Ons betree die slaghuis en die blokman wou nog keer toe is ons by die koelkamer in en vind ’n beeskarkas. Hy beweer dis die eienaar se bees wat hy, die blokman, geslag het nadat hy dit op sy werkgewer se bevel geskiet het. Ons kry die kop en vel van ‘n bees. Op die kop en vel vind ons die oormerke en die brandmerk van Coen van Rensburg se vermiste bees is. Die eienaar van die plaas, Nordier, was toentertyd ’n gesiene boer van die distrik en Vrederegter. Hy was saam met die blokman aangekla, maar net die blokman was later skuldig gevind. Ons het vermoed dat Nordier se Vrederegterskap dalk die rede was waarom hy nie skuldig bevind is nie. Ek sê dit maar met die tong in die kies.

Ek het opgehou om rugby te speel en na oorreding deur die stasiebevelvoerder, Kleingetryn Strydom, begin om aan ,22 kleingeweer skietkompetisies deel te neem. Ek was ’n kranige skut met die kleingeweer, dis nou die waarheid en geen grap nie! Dit was een van my verborge talente wat ek eers moes ontdek toe ek begin deelneem het aan hierdie sport. Ons polisiespan het bestaan uit 1ste klas sersant Daantjie (Kleingetryn) Strydom, 2de klas sersant Connie van Graan, myself, toe nog ’n konstabel, en 2de klas sersant Hans Hurter, later het 2de klas sersant Gert Schoeman en 2de klas speurdersersant Leslie Laas, ook by ons aangesluit. Ons was ’n gedugte span wat jaarliks die vallende plate kompetisie en die 4-span kompetisie op 50 en 100 treë in die OP Kleingeweer liga (“The Eastern Province Small Bore Rifle Ass.”) gewen het. Tydens die inter-klubkompetisies, het ons gewoonlik skoonskip gemaak. Ek het sovele egte silwer lepeltjies, en ander silwer items as pryse saam met my span verwerf, dat Corrie eendag besluit het, genoeg is genoeg van al hierdie kaggelkakkies wat skoongemaak moet word, dat ons dit moet wegpak. Ek kan nie meer onthou hoe daar uiteindelik daarvan ontslae geraak is nie, maar weg is dit weg.

Ek het my Oostelike Provinsiale kleure, saam met die ander lede van die span, verwerf toe ons polisiespan Oostelike Provinsie moes verteenwoordig by ’n Posliga skietkompetisie wat deur Engeland vir spanne uit die Statebondslande gereël het. Hierdie kompetisie het bekend gestaan as “The British South African (BSA) Postal League for Common Wealth countries.” Die kompetisie word op jou eie skietbaan geskiet en die telkaarte word ongemerk verseël en per lugpos na Engeland versend. Op ’n gegewe datum word al die telkaarte van die verskillende Statebondslande se spanne wat deelgeneem het, oopgemaak en deur ’n onafhanklike instelling gemerk. So word jou span se posisie bepaal. Ons het so ongeveer in die middel van die spanne geëindig. Ek het nooit die Oostelike Provinsie se kleurbaadjie, das en sakwapen aangeskaf nie. Dit was te duur vir hierdie jongman wat nou ook gerook het en my ,22 patrone vir oefening moes koop, ’n hele een sjieling en ses pennies (15c) per boksie van 50 wat ek op ’n middag se oefening weggeskiet het. Ag ja, die ou baadjie was ook ’n baie lelike een, met sulke swart en rooi vertikale strepe met ’n sakwapen waarop daar ’n swart olifant was.

Net nog twee ander insidente waarby ek betrokke was. Die Swartkopsrivier het mos deur ons polisiewyk te Redhouse geloop. Van die inwoners het by die stasiebevelvoerder kom kla dat die hengelaars, meestal kleurlinge, vis in stryd met die munisipale regulasies in die rivier by Swartkopsdorp, vang. Dit was “jiggering” genoem. Daar is só baie vis in daardie rivier dat die hengelaars drie vishoeke aanmekaar vasgemaak en aan ’n handlyn in die rivier tussen die skool visse ingegooi het. Die driehoeke het dan soos ’n miniatuur ankertjie gelyk. Sodra die hoeke in die water gegooi word, begin hulle dan die handlyn met lang hale na die kant van die rivier terugruk. In die proses haak een of meer van die drie punte van hierdie driehoekkontrepsie in die lywe van visse vas. Geen aas word gebruik nie.

Sulke hoeke word gebruik om visse te vang d.m.v. ‘jiggering.’ (Foto Google)

Die stasiebevelvoerder stel vir my en ou Saai Zaaiman, wat ’n gesoute hengelaar was, aan om met ’n handlyn en privaatklere tussen die hengelaars te gaan sit en vis op die wettige wyse te vang. Ons sou só die oortreders vang en hulle arresteer. Ek het nog nooit enige vis gevang nie, behalwe daardie paling en platannas wat ons in die modderdam buite Riversdal gevang het toe ek daar op skool was. Ons sit die hele goddelike oggend daar tussen die klomp kleurlinge, maar hulle vang rustig vis met handlyne. Saai is in sy noppies want hy vang kort-kort ’n vis wat darem eetbare grootte is. Ek kry net een byt en toe ek die handlyn intrek, sit daar ’n baie ou klein vissie aan my hoek. Saai sê: “Dup, gooi weer jou handlyn in met hierdie “mullet” (‘n hardertjie) wat nog aan jou hoek is, dan is die kanse goed dat jy ’n groot vis sal uittrek.”

Só gehoor, só gemaak. Vang toe niks. Ons onttrek so teen middag terug polisiestasie toe. Saai met sy visse en ek met niks. Geen arrestasies gemaak nie.

Nou volg daar so ietwat van ’n stinkstorie. Weer ’n geval waar die stasiebevelvoerder my die volgende opdrag gee:

Hierdie slag moet ek die oortreders van verkeersake in Swartkops gaan hanteer. Ek het per trapfiets vanaf Redhouse na Swartkops toe gery. Seker so 5myl (±7km) van mekaar. Ek moet die dagvaardingboekie, wat op elke polisiestasie gehou word, neem en die motoriste vanaf Amsterdamhoek en Swartkops wat nie by stoptekens in Swartkops stilhou nie, dagvaar om in die hof te verskyn. Hy (die stasiebevelvoerder) het in een van die Engelse koerante, ek dink dit was die Eastern Province Herald, ’n redelike “snotty” brief gesien wat deur iemand van Swartkops geskryf is, wat meld dat die polisie en die verkeerspolisie hulle werk nie na behore in Swartkops doen nie, want motoriste stop nie by stopstrate nie. Ek het toe wel net drie motoriste gedagvaar, want snaaks genoeg, as die motoriste ’n polisieman by ’n stopstraat sien staan of stadig deur die hoofstraat van die dorp per fiets patrolleer, dan gehoorsaam die meeste motoriste die verkeerswette. Ek ry baie stadig met my fiets al in die hoofstraat van Swartkops langs, in die rigting van PE. Ek sien dat die munisipalevoertuig wat nog die emmerstelsel te Swartkops kom leegmaak, so ’n 100 treë voor my in Grahamstadweg, die hoofstraat, staan. Net agter die ‘jemwa’, dis nou hierdie lorrie, staan daar ’n motor, wat deur ’n vrou bestuur word, en sy wag dat daar ’n motor van vooraf kan verbykom, voordat sy agter die lorrie kan uitkom op pad Port Elizabeth toe. Ek sien hoedat ’n swartwerker van die munisipaliteit met ’n vol emmer ongereinigde menslike afval, op sy skouer, al fluitend, van skuins oor die straat na die lorrie aangehardloop kom. Hy sien nie dat die vrou wat nou besig is om agter die lorrie uit beweeg nie. Sy blaas toeter en hy stop viervoet vas in sy gang op pad na die lorrie toe, verloor sy balans en daar tuimel die emmer na vore en dit tref haar motor op die windskerm. Dit spat in flenters en die inhoud van die emmer bemors die enjinkap en ook die vrou wat agter die stuur sit. Wat ’n gemors. Ek ry met my fiets nader, en nou moet ek

aandag gee aan hierdie strontongeluk. Omstanders het my gehelp om die motor eers uit die pad te stoot en die vrou staan in trane buite die motor met die gaga wat van haar afdrup. Ek gaan vinnig by ‘n huis in en vra of hulle nie na die vrou sal omsien nie. Hulle willig in. Ek neem die besonderhede van die swartman, die lorriedrywer asook van die dame en haar motor. Ek het ’n saak van ‘Beskadiging van eiendom’ geregistreer. Dié saak het nooit in die hof gedraai nie. Dit was sivielregtelik deur die vrou en haar man hanteer. In ons kinderdae was die ‘jemwa’ ‘n wa wat deur donkies getrek word, en waar swartwerkers ook in die nagtelike-ure hierdie werk gedoen het.

Ek is gedurende April 1957 deur die stasiebevelvoerder genomineer om by die SAP Meganieseskool te Benoni ’n voertuigbestuurderskursus te deurloop. Ek het dit vanaf 1 Mei tot 12 Junie 1957 bygewoon en my ligte voertuigbestuurderslisensie gekry. Die rede vir die nominering was dat ons nog bestuurders op die stasie benodig het, want die wyk het al hoe meer uitgebrei en die boere het gevra dat daar ’n spesiale voertuig en lede vir polisiediens in die distrik toegeken word om aan hulle klagtes aandag te gee. Tydens my kursus te Benoni het ek heelwat ervarings gehad, waarvan ek slegs ’n paar van sal vertel: Terloops, die OP se polisie ,22-span was opgebreek toe ek in Benoni vir ’n motorbestuurderskursus was. Ek word egter dringend per telefoon vanaf die kwartiermeester in Pretoria opdrag gegee om, terwyl ek op kursus is, te bly oefen, want ek is deel van die OP se polisiespan wat aan die SA Polisie se ,22-skietkampioenskappe (Bisley) in Pretoria moet gaan deelneem. Ek was tydens die kursus elke Woensdagmiddag afgegee om te gaan oefen. Ek moes met ’n vreemde P7, 22 BSA met Martini Henry-slotaksie geweertjie, wat vir my heeltemal vreemd was, oefen, want my Anschutz ,22-geweer met grendelaksie en Zeiss teleskoop op ’n drievoetrus/-bok (“tripodal rest”), het ek, in PE tuis gelaat. Ek was ook later vir twee dae verskoon sodat ek aan die kampioenskappe kon gaan deelneem. Die grootste verrassing was toe ek die 25 treë individuele lêposisie kompetisie met ’n voltal, 2 kaarte van 10 teikens elk, behaal het en met die kontant eerste prys van ’n hele £1.17.6 weggeloop het (± R3,75) Dit was rookgeld vir die maand! In die spankompetisies het ons egter geen pryse gewen nie.

Ek het ook een naweek op ’n Saterdag, met twee Springs polisiemanne, Gryffenberg en McCarthy, wat saam op kursus was, plek gekry in die Springs Polisie se rugbyspan. Ons span sou ’n voorwedstryd vir die Curriebekerwedstryd tussen die destydse Oos-Transvaal en Transvaal se provinsiale spanne, op die PAM Brink stadion in Springs, gespeel het. Ek was amper vrek dié dag, want onfiks is nie die term wat vir my liggaamlike toestand beskryf kon word nie. Ek het katte geskiet vir ’n vale. Ek het bykans ’n jaar gelede rugby laat staan toe ek begin skyfskiet het. By Benoni het ons saans na klasse, sommer net rugbyballe rond gegooi en geskop. Dalk het die twee vriende ’n potensiële wedstrydwenner in my aksies raakgesien, vandaar die uitnodiging. En ek, die poephol wat ek is, het die uitnodiging my laat welgeval! Die resultaat? amper vrek, en ons het nog verloor ook!

Wanneer daar ’n nuwe inname van kandidaatmotorbestuurders vir ’n kursus by die Benoni Meganieseskool aanmeld, word daar kampreëls aan ons voorgehou. Met ons inname was dit ook nie anders nie en een van die reëls was dat, as ons saans dorp te wil gaan, daardie dae was Benoni ’n dorp, vandag het Benoni reeds stad-status, dan moet ons om vadersnaam nie die hotelle besoek en met die Libanese moeilikheid maak nie. Dis nou die familie en rasgenote van die Toweels! almal is boksers, of hy nou ’n Toweel is of nie, hulle baklei met alles onder die son - met boksysters (“knuckle dusters”), kettings en messe. Van ons kursusgangers het die een of ander potjie met van daardie manne geloop en bloedneus by die kamp opgedaag. Die fliek “The Greatest Show on Earth” wys in die bioskoop op die dorp en drie van ons gaan nou fliek toe. Ons moes natuurlik stap. Dis die era van die “duck tail” haarsnit vir mans en meisies (‘Chicks’) en ook vir die Libanese. Ons drie, ek, Gryffenberg en McCarthy besluit ons trek nie mooi aan vir die fliek nie, en kam ons hare, beplak

met Brylcream, soos die ‘ducktails’ s’n, sodat ons nie as ‘platpote of Fuzz’ (polisiemanne) geïdentifiseer kan word nie en sodoende dalk onskuldig in ’n bakleiery beland nie. Dit het goed gegaan tot ons in die ry by die kaartjieskantoor moes staan, toe ek ’n groot waterafslaanbehoefte, watter groot naam vir piepie, kry en ek langs die ry afloop op soek na die ou by die deur om vir hom te vra waar die kleedkamer is. Sal ’n klein meisietjie nie sê: “Pappa, kyk daardie ducktail, hy wil voor indruk.”

Ek moes net mooi verduidelik wat my aksies alles beteken het. Wel, ons vermomming het gewis gewerk – dalk nie vir niemand anders nie, maar vir die dogtertjie wel, dalk ook vir die Libanese, want hulle het nie met ons skoor gesoek nie. Ons het agterna lekker gelag vir hierdie insident.

Na my kursus kom ek by die stasie aan en ’n splinternuwe 1957 blou Volkswagen 1200 motor-kar word aan my toegeken as voertuig vir sake wat deur die uniformafdeling in die distrik ondersoek moet word, en speurderkonstabel, Blackie Swart, doen die sake wat die speurders se aandag in die distrik verg. (Elke polisieman met die van Swart, word in polisietaal ‘Blackie’ genoem en elke Du Plessis en Du Preez word DUP genoem.) Hy kry ’n splinternuwe groen Ford F100 V8 toegeboude patrolliewa. Die Volkswagen was my getroue metgesel op ondersoekdiens wat ek soos goud opgepas het, maar nogtans was ek in drie motorbotsings betrokke.

Die eerste een was ek op pad na die polisie motorhawe in die woonbuurt Southdene. Ek nader ’n draai na links in die pad en ek sien een van die ‘winkellorries’ van vooraf aankom. Daar loop twee skoolmeisies met hulle kort jurkies langs die pad, naby die draai, ek sien die bestuurder van die vragmotor beweeg weg van sy kant van die pad af, want hy hou die twee meisies dop. Ek besef die lorrie gaan die draai sny en ek hou stil net voor die draai, die lorrie kom reguit vir my motor, die bestuurder kyk na vore en besef hy gaan die Volksie tref en ruk die swaar lorrie na links, maar tref tog die Volksie. Die Volksie kan nog ry maar is erg geskraap en ingeduik aan die regtervoordeur en –agtermodderskerm. Ek het gelukkig nie seer gekry nie. Die bestuurder was later skuldig bevind aan roekelose en/óf nalatige bestuur.

Julle vra my wat is ’n ‘winkellorrie?’ Wel die Departement van Gesondheid het kruideniers-ware teen ’n verlaagde tarief aan mense verkoop. Daar was onder andere koffie, suiker, botter, vet, kookolie, langlewemelk in bottels, en nog ander noodsaaklike kruideniersware. Daardie “Goewernment garage” (GG) lorries het eenkeer per week deur die woonbuurtes gery en op vooraf bepaalde plekke in ’n woonbuurt gaan stilhou. Enigiemand kan iets daar koop, maar slegs een item per soort, dan het baie huisvrouens hulle bediendes saamgeneem om sê byvoorbeeld ook een pond botter te koop, want hulle huishouding sal nie net met een pond botter ’n week uitkom nie. Daardie gebruik is later jare ingetrek. Daar het julle nou die ‘winkellorrie’! Die ander twee gevalle waar ek in die Volksie was wat in ’n ‘ongeluk’ beskadig was, word later gemeld.

Nou volg ‘n paar aangeleenthede wat ek mee te doen gehad het as distriksondersoeker: Ek kry een Saterdagoggend, so teen 11,30 vm. (11:30) ’n telefoonoproep by die polisiestasie van ’n meneer Gouws, die plaasbestuurder van Regter George Wynne se plaas, Coegakamma, dat ’n koedoebul onwettig op die plaas geskiet is. Regter Wynne is ’n regter in die Hooggeregshof te Grahamstad. Meneer Gouws meld dat hy twee swartmans aanhou wat besig was om die koedoe af te slag. Verdere inligting wat toe telefonies aan my oorgedra is, is dat nie hy of die regter het enigiemand toestemming verleen om op die plaas te jag nie. Almal in die O P was bewus dat dit die toeseisoen vir jag in die provinsie is. Die plaas is op die PE - Addopad geleë, ongeveer 20 myl (±32 km) vanaf die polisiestasie. Dis buite jagseisoen en ek vertrek met my amptelike Volksie, saam met ’n kleurlingkonstabel, na die toneel om die klagte te ondersoek. Ons vind die karkas van ’n koedoe en die twee swartmans. Die koedoe is afgeslag en die karkas lê op die vel in ’n bos. Die plaasbestuurder is teenwoordig. Verklarings word afgeneem en die twee swartmans word

109

gearresteer. Hulle word ondervra en hulle sê dat ’n Garage-eienaar naby Cookhouse, ene Mitchley en ’n Katolieke Priester van Addo, Vader Mac Manus, hulle gehuur het om die koedoe wat Mitchley geskiet het, te kom afslag.

Dis nie hierdie koedoebul wat geslag is nie, maar dis so ‘n mooi foto dat ek dit hier geplaas het sodat die lesers dit ook kan geniet. (Foto: Google)

Ek het die polisiestasie vanaf die plaas gebel en gevra dat een van die vangwaens moet kom om die koedoekarkas te kom oplaai. Ek het toe met die PE Cold Storage gereël dat hulle die karkas in een van hulle koelkamers moet hou totdat die saak afgehandel is. Ek het by die swartmans verneem dat dié twee here aan hulle gesê het dat hulle by die Addo Hotel sal wees. Ek het toe van die plaas af gery na die Addo Hotel toe, waar ek na die Garage-eienaar en die man met die omgekeerde boordjie, Vader Mac Manus, gesoek het om hulle te arresteer. Volgens die kroegman was hulle vroeër die dag daar, maar beide van hulle is toe weg Port Elizabeth toe. Hy meld toe dat Mitchley een van die beamptes (“judges”) is wat by die perdewedrenne wat elke Saterdag te Fairview resiesbaan in Port Elizabeth plaasvind, werk.

Ek ry terug polisiestasie toe, en sluit die twee swartmans toe. Sersant Wakeford, wat in die aanklagkantoor is, bel die kantoor by die Fairview Resiesbaan en vra om met Mitchley te praat. Hy het met hom gesels en hulle sou na die laaste wedren plaasgevind het, Redhouse polisiestasie toe kom. Beide van hulle kom later die middag daar aan met ’n prokureur, mnr. McWilliams, wat vra dat ons nie sy kliënte moet arresteer nie, maar net moet waarsku om die Maandag in die hof te Port Elizabeth te verskyn. Die prokureur vra ook of ons nie die twee swartmans op ’n waarskuwing om ook die Maandag by die hof te wees, kan vrylaat nie. Ons het aan hulle versoek voldoen, want as ons nie die twee witmans toesluit nie, sal dit onregverdig teenoor die twee swartmans wees wat in die selle gehou gaan word tot die Maandag.

Die saak het ek volledig gedurende die naweek ondersoek en dit die Maandag voor die hof gebring. McWilliams, die prokureur het toe gevra vir ’n uitstel van 14 dae. Die staatsaanklaer skakel my ’n dag voor die verhoordatum en meld dat hierdie saak in een van die siviele howe, wat nie in sitting was nie, gaan plaasvind. Die beskuldigdes se prokureur het met die hooflanddros gereël dat die verhoor daar moet plaasvind, want hulle wou dit eintlik van die pers weghou omdat daar ’n priester betrokke is, en dit dalk ’n skande vir sy amp sou wees. Ek dog toe só by my sigselwers, bog man, waarom moet hulle saak uit die kollig van die gemeenskap gehou word, en ek skakel anoniem die Afrikaanse koerant, die Oosterlig, en die Engelse oggendkoerant Eastern Province Herald, en ek sê net die volgende: “Daar sal môre ’n interessante kriminele saak in Siviele hof Nr.1, verhoor word.” Net dit en niks verder nie. Joernaliste, wat maar ’n nuuskierige spesie is, was toe teenwoordig op die hofdatum.

Uiteinde van die storie?..… die swartmans word staatsgetuies en die senior staatsaanklaer by die landdroshof van Port Elizabeth vervolg die omgekeerde-boordjie-man en die garage-eienaar. Hulle word skuldig bevind en elkeen word gevonnis tot ’n boete van £100.0.0 (R200,00) of ses maande gevangenisstraf op elk van die twee aanklagtes. Hulle het die boete betaal – dit was nogal wyd in die Baai se koerante vermeld. Onder andere het die Eastern Province Herald só oor die aangeleentheid gerapporteer: (Vry vertaling deur my)

“Dis beter vir ’n man om sy vrou met ’n mes te steek, óf om sy skoonma te skiet as om ’n bok buite jagseisoen te jag, want twee maande tevore is ’n man in Uitenhage landdroshof tot drie maande gevangenisstraf gevonnis wat sy vrou met ’n mes gesteek het, maar die hele vonnis is vir 3 jaar opgeskort, en ’n man het sowat ’n jaar gelede sy skoonmoeder doodgeskiet toe sy hom aangeval het en hy was aan strafbare manslag skuldig bevind en het ’n opgeskorte vonnis van sesmaande gevange-nisstraf gekry. Nou vir die ironie van die koedoe wat geskiet is – Die priester en motorhaweeienaar is beide skuldig bevind op twee aanklagtes. Elkeen is gevonnis tot ’n boete van £100.0.0 (R200,00) of 6 (ses) maande gevangenisstraf op elk van die twee klagtes.”

Kom ek voeg die volgende by met my tong in die kies: “What is the moral of the story? – don’t hunt during the closed season on private property, rather shoot your mother in-law!” Ha, ha.

Ek sal baie kortliks oor drie (van baie) ernstige motorbotsings vir julle skets, want ek dink julle sal die probleme waarmee ons as landelike polisiebeamptes mee te kampe gehad het, beter verstaan:

Die eerste geval is van ’n motorbotsing waar die een voertuig weggery het en ek dit later opgespoor het. Dit het op die PE-Grahamstad pad te Aloes, naby Matthews se steengroewe, gebeur. ’n Jong getroude egpaar is om ongeveer 10nm (22:00) op pad na Port Elizabeth toe waar hulle hul wittebrood sou deurbring. Hulle is albei bewusteloos en baie ernstig beseer. Van die swartmense by die steengroef sê dat hulle het ’n vragmotor gesien wegry, in die rigting van Grahamstad, nadat hulle die slag gehoor het. Hulle dink dis ’n melklorrie. Die motor is erg aan die bestuurder se kant ingeduik en het op sy sykant langs die pad gelê. Die insittendes was reeds verwyder. Ek neem so goed ek kan in die nag afmetings en observasies op die toneel. Ek sien dat die wit motor rooi- en groen verfmerke bokant die regtervoordeur by die dak se ronding het. Ek tel ’n stukkende voorste wit plastiek weer-kaatser op die teerpad op. Dit het ’n bietjie groen verf op die rand aan. Ek neem, na ongeveer ’n week, verklarings van die twee beseerdes in die Provinsiale hospitaal in Port Elizabeth. Hulle het erge beenbreuke opgedoen. Die vrou se pelvis was gebreek en die man het ‘n paar ribbes gebreek en sy een been was bokant die knie gebreek. Hulle kon net onthou dat die vroutjie bestuur het en dat hulle voertuig met ’n lorrie gebots het wat oor die middellyn in die pad, op hulle afgepyl het. Sy kon nie wegswaai nie. Verder weet hulle niks. Ons het vir ’n paar dae padblokkades gedurende die dag sowel as in die nag so om en by 10 uur die aand (22:00), alle melklorries wat vanaf die Baai na Grahamstad op pad was, gestop en ondersoek. Het selfs te Alexandria gaan draai, want dit was eintlik die voedingsarea van melk vir Port Elizabeth. Geen sukses.

Ek begin toe melkerye in die stad besoek om hulle vragmotors na te gaan. So twee weke later kom ek by Kobus (Bus) Rademeyer se Melkery op Swartkops en gesels met die eienaar. Ek vra toe vir Bus, of ek sy twee vragmotors wat op die terrein is, kan ondersoek. Hy stem in en hy gaan saam met my. Terwyl ek na sy twee vragmotors kyk, vertel hy my dat sy broer, Pieter, wat ook ’n melkery in Noord-Einde in die Baai bedryf, ’n stel afgetrap het met een van sy werkers wat een van sy melklorries ongematig bestuur het, en dat hy die man afbetaal het. Ek sê toe vir hom dis hoekom ek graag sy vragmotors wil ondersoek, want ek is op soek na ’n melkvragmotor wat sowat 14 dae gelede in ’n botsing met ’n motor was. Ek besef dadelik dat ek nou warm op ’n leidraad is en bedank hom vir die inligting.

Ek gaan na sy broer Pieter se melkery in Noord Einde Port Elizabeth. Ek vind ’n lorrie op sy terrein en sê vir Pieter hoekom ek ’n melklorrie soek en ek wil graag die lorrie wat op die terrein is, ondersoek. Hy willig in. Die lorrie se bakwerk is groen, met rooigeverfde pyp sykante waarop daar wit skuurmerke is. Die regter voorste wit plastiek weerkaatser het nog ’n stukkie wat in die huls sit. Die opgetelde stuk wat ek oral met my saamneem in my aktetas, pas perfek in die weerkaatser. Ek skroef die weerkaatser huls af en hou dit saam met die opgetelde stukkie weerkaatser. Nou het ek die lorrie, waar is die bestuurder? Ek versoek die Plaaslike Vingerafdrukkantoor (PVAK) in die baai om die lorrie te kom fotografeer, in besonder waar daar wit skuurmerke op die bak gesien kon word.

Pieter Rademeyer sê dat hy net die vorige week die bestuurder afbetaal het, want hy het dronk op diens gekom en hy het gesê dat hy die eerskomende Vrydag sy geld moet kom haal. Ek het nou ’n naam, van en Bewysboeknommer, maar geen adres. Ek vra vir Pieter om die swartman die Vrydag daar te hou, totdat ek opdaag.

In plaas daarvan dat Pieter vir my skakel, gaan ek vroeg-vroeg Noord Einde toe en wag dié Vrydagmôre, vanaf 9vm (09:00) by die melkery. Toe ta sy geld kom haal, arresteer ek hom. Hy is skuldig bevind aan:

1) Voertuig gebruik sonder die eienaar se toestemming,

2) Roekelose en nalatige bestuur waar ernstige beserings opgedoen is,

3) Versuim om na ’n botsing stil te hou,

4) Versuim om botsing te rapporteer, en

5) Bestuur sonder ’n geldige Openbare bestuurspermit. (sy Openbare bestuurspermit het reeds verval)

Vroeër dae was daar nie so iets soos ontleding van verfmonsters, forensiese-ondersoeke en nog wat deur die SA Polisie gedoen word nie. In baie ernstige gevalle kon jy skriftelik aansoek doen na die Speurhoof van die SA Polisie te Pretoria Hoofkantoor, via jou distrikskommandant, om bewysstukke na die SABS en/of die WNNR toe te stuur vir ontleding. Dit was ’n baie omslagtige wyse, daarom het ondersoekers se suksesse daarvan afgehang hoe oplettend hulle op die misdaadtoneel is en hoe noukeurig hulle waarnemings en die ondersoek diens gedoen en op skrif gestel het.

Die tweede geval het op dieselfde pad gebeur maar net verby die plaas van die Van Rensburgs, naby die Coega spoorwegstasie. Die aanklagkantoor te Redhouse ontvang ’n telefoonoproep dat daar ’n ernstige motorongeluk op die Grahamstadweg naby Coega plaasgevind het. Die volgende besonderhede is kripties aan die aanklagkantoorreserwe gegee:

’n Motor het van agter in ’n vragmotor vol swartes ingery. Daar is mense dood en baie beseerdes. Ek vertrek na die toneel van die botsing, vergesel van ’n swart konstabel. Ek arriveer op die toneel. Dit was nagdonker, so ongeveer tussen 10 en 11 nm (22:00 en 23:00). Ek vind ’n lorrie met ’n selfgemaaktekap skuins oor die pad en dit blokkeer die verkeer. Die lorrie se agterkant lê op ’n motor wat halfpad onder die bak in en platgedruk is. Die lorrie se agterwiele met as is ’n ent onder die bak teruggedruk. Die swartes skree, huil en kerm. Heelwat van hulle het by die agterkant van die lorrie uitgeval en seergekry. Ek verkry die volgende inligting by die bestuurder van die lorrie:

‘Die swartes op die bak van die lorrie is lede van ’n sokkerspan van Grahamstad. Hulle het almal gesit en sing omdat hulle hul wedstryd in die Baai gewen het. Hy het redelik stadig teen die effense opdraand gery, toe daar ’n geweldige slag aan die agterkant van die lorrie was. Die lorrie het dwars in die pad gedraai en toe hy uitklim hoor hy net hoe die mans op die bak skree en huil en daar het ’n paar manne langs die pad gelê en kerm en huil.’

Ek lig met my flits en ek sien die bestuurder van die motor is dood agter die stuurwiel en ’n manlike passasier agter hom op die agterste sitplek is ook papgedruk. Ek kon niemand anders in die motor sien nie, maar ek hoor twee vroue met mekaar praat. Die pad is geblokkeer.

Ek merk die posisie van die twee voertuie deur met die patrolliewa se domkrag holtes op die teerpad te kap.(Hedendaags het elke patrolliewa ‘n blikkie spuitverf om merke op die pad te spuit.) Ek vra hulp by van die motoriste en trek die motor, met groot gesukkel met toue, wat van die motorist vir ons gegee het, en draad, onder die vragmotor uit. Die draad het ons sommer van die heining langs die pad afgeknip. Ons forseer die kattebak oop, skop die agtersitplekkussing vorentoe en die een dame kruip uit. Sy is vol bloed, en die volgende een wriemel haar, soos ’n kreef al agteruit, vanaf die linkervoorkant deur na die opening by die kattebak en kom uit. Sy makeer absoluut niks. Net vaal van die skok. Terloops, ek het die volgende môre die Afdelingsraad van Port Elizabeth laat weet van die draad wat geknip en gebruik is. Hulle sou die heining kom herstel.

Hierdie pad was destyds die hoofweg kuslangs en slegs 20 voet (± 6meter) wyd, en daar was geen spoedbeperking op enige oop pad nie. Motors was daardie jare groot en kragtig en het baie vinnig op die nou nasionale paaie gery. Om ’n lang storie kort te knip, twee ambulanse het die beseerde sokkerspelers verwyder en ek het die polisie se lykswa vanaf Mountweg in die Baai laat kom. Die twee lyke is met ’n groot gesukkel uit die plat gedrukte voertuig uitgehaal. Onthou daar was nog nie so iets soos lewenskake nie. Ons moes alles oop forseer. Die lorrie is ook met ’n groot gesukkel van die ryvlak van die pad gesleep. Ons het nog nie tweerigting radio’s in ons voertuie gehad nie en selfone was iets wat eers in die jare vorentoe ontwerp is. Ons moes maar van plaastelefone af vir dokters, ambulanse, insleepvoertuie, hospitale en ook die aanklagkantoor skakel.

Ek neem die twee dames in die patrolliewa tot by die Coega Hotel. By die hotel ondervra ek hulle oor die botsing. Dis twee susters Botha – nou herken ek die oudste een as Gertie Botha, ja, die nimlike padkampmeisie wat in my klas op Swellendam die hoogste punte vir Duits behaal het. Sy is later glo met ’n dokter getroud. Die ander een is haar jonger sussie. Albei is verpleegsters in die Baai. Hulle storie is soos volg:

‘Ons was in die Baai by die Queens Hotel, waar die twee mans met ons kom gesels het. Hulle neem ons toe tot by hierdie (Coega) hotel. Ek en my sussie drink twee drankies en vra die mans om ons na die Baai toe terug te neem. Ons klim in hulle kar en ry op die pad, ons was nie bewus dat ons nou eintlik van die Baai af wegry in Grahamstad se rigting nie. Die bestuurder is kwaad en vloek en sy maat bly ook nie agter met sy onaangename woordeskat nie. Ek sien die lorrie ‘n hele entjie voor ons, en ek buk af om my skoene uit te trek, en die volgende oomblik hoor ek net die geweldige slag en ek sit so gebukkend op die sitplek vasgedruk. My sussie het naar gevoel en met haar kop op die man wat langs haar gesit het, se skoot gelê. Ons ken nie hierdie mans nie.’

Wel my liewe lesers, wat ons dink en wat ons hoor en wat ek ervaar het, is nou nie verder ter sprake nie, maar ek weet ek moes die Maandagoggend, nadat die mans se identiteit vasgestel is, die doodstyding aan hulle vrouens in die voorstad Kensington in die Baai gaan meedeel. Watter hartseerstorie was dit nie! Kom ek los dit daar, en kyk na die volgende geval.

Die derde geval: Weer op dieselfde pad na Grahamstad, ek dink dit sou vandag die pad-van-diedood gedoop gewees het, ook weer net verby Coen van Rensburg se plaas en slaghuis langs die pad, kry ek laataand ’n berig van ’n botsing tussen ’n motor en ’n bees. Ek kom op die toneel aan en vind ’n groot Afrikanerbees wat agter ’n blou Austin Healey Sportmotor, morsdood aan die kant van die pad lê. Die sportmotor se bestuurder staan langs sy motor, hy is een van die twee Van der Riet jongmanne wat saam met sy broer en pa op hulle plaas, Lake Farm, by die Sondagsrivier boer. Hy vertel: ‘Ek het teen sowat 70 m.p.u. (± 119 km/p.u.) gery, oor die treinspoor gegaan en toe ek by Coen van Rensburg se slaghuis verby is, sien ek twee beeste wat voor my, agtermekaar, oor die

pad loop. Ek kon nie uitswaai nie, het net my kop op die stuurwiel laat sak en rem getrap. Ek slaan die voorste bees en voel hoedat die kolos oor my skuur. Ek het nie seergekry nie, maar my motor se opslaan “windshield” en “bonnet” is in hulle maai.’ (Dit was ’n ander woord wat ook met ’n ‘M’ begin).

Die Austin Healey sportmotors van die vyftige jare het almal seilafslaankappe gehad, net soos die 1959 een wat hier afgedruk is. Hierdie een is egter ’n linkerhandstuur. (Foto: Google).

Wat ’n Godsbestiering, as daar ooit een was! Coen van Rensburg moes maar later vir die skade aan die voertuig opdok en ’n afkoopboete betaal vir Diere sonder toesig op ’n openbare pad toelaat. Die polisiemanne wat ongelukstonele bywoon waar plaasdiere, behalwe honde, katte en hoenders, wat in ’n openbare pad doodgery is, moet altyd trag om die eienaar(s) op te spoor. Want as die diere sonder toesig op ’n openbare pad gelaat word, of as die eienaars toelaat dat hulle op daardie pad wei of loop, is sodanige eienaar(s) skuldig aan ’n oortreding van die Motorvoertuig Ordonnansie van die Kaap Provinsie. (Ek weet nie wat die bepalings in hierdie verband van die ander provinsies was nie.) As vee op ‘n openbare pad aangejaag word, moet minstens twee persone teenwoordig wees. Een met ‘n rooivlag voor en een met ‘n rooivlag volg die vee. Vee mag ook nie in die nagtelike-ure aangejaag word nie. Dis weer ‘n ander oortreding onder die Wet op Veediefstal as dit wel gedoen word.

Die foto’s van die twee voertuie wat hieronder verskyn, was elk in afsonderlike botsings betrokke waar persone gedood is. Dit was twee strafbare manslag sake wat ek ondersoek het op die Port Elizabeth-Uitenhage hoofweg. (Die ou pad deur Missionvale en Kleinskool)

Hierdie foto’s was deur die SA Polisie se Plaaslike Vingerafdrukkantoor (PVAK) in PE geneem en was bewysstukke in die onderskeie saakdossiere.

Die boonste motor het ’n voetganger dood gery, en weggejaag. Kyk na die windskerm, dis aan die passasierskant flenters. Die bestuurder het ongeveer 400 meter vanaf die punt van botsing stilgehou. ’n Witman kom by my waar ek by die lyk van ’n swartman staan en opmetings doen. Die man sê toe vir my: “Ek het die man raakgery toe hy voor my motor ingestap het. Ek het só groot geskrik ek wou eintlik wegry, maar my vroulike passasier het geskree ek moet stilhou, want sy het glassplinters in haar oë.”

Ek het na die motor gestap en besonderhede van die bestuurder, sy passasier en die motor neergeskryf en die bestuurder versoek om sy motor die volgende dag na die Redhouse polisiestasie toe bring sodat dit gefotografeer kan word.

Die onderste foto is van ‘n voertuig wat met ’n bus gebots en aan die brand geslaan het. Die bestuurder was alleen in sy motor en hy is verkool voordat die vlamme geblus kan word. Ek het op die toneel arriveer terwyl dit nog gebrand het. As ek nou terugdink oor hoe ons sonder selfone en “pagers” moes klaarkom om ambulanse, fotograwe en insleepvoertuie te skakel om hulp te verleen op ‘n misdaadtoneel, dan besef ek dat boodskappe tog by daardie instansies uitgekom het, om hulp te kom gee. Beide hierdie twee botsings het gedurende 1957/1958 plaasgevind en toe het die polisie in die Baai ook nog nie oor tweerigtingradio’s in die voertuie beskik nie. Tweerigting radio’s is eers in 1959 in alle polisie vangwaens in die Baai geïnstalleer

Ek het my skietsport laat staan en my Anschutz geweer met die losstaande Zeiss teleskoop aan ’n nuweling tot die skietsport, Kleingetryn Strydom se swaer, vir £30.0.0 (R60,00) verkoop. Ek het hierdie wapen en teleskoop destyds deur die SA Polisie se kwartiermeester bestel en moes die £20.0.0 (R40,00) wat dit gekos het, oor ses maande afbetaal. Dit is sommer maandeliks van my salaris verhaal. Ek het dus ’n wins van £10.0.0 (R20,00) gemaak.

’n Anschutz ,22 skyfskietgeweer soortgelyk as dié een wat ek gehad het en toe later verkoop het. (Foto: Google).

Ek het weer rugby begin speel en moes maar die een myl (1,6km) na die busterminus in Veeplaaslokasie (woonbuurt) stap en daarvandaan met die busdiens wat vir die nie-blankes daargestel is deur ’n Chinese sakeman, Forlee, tot in die stad ry. Daar het ek weer ’n munisipale bus tot by Mountweg polisiestasie gehaal (Ek het darem nou al geweet waar dié plek is, en het nie weer verdwaal nie! Ha, ha.) en dan die twee straatblokke na die polisie se rugbyvelde, bekend as die ‘Dam’, in uniform en met my togsak, stap. Die omgekeerde roete weer terug na Redhouse die middag so teen sesuur na ons klaar geoefen het. Ons afrigter was die vet omie polisieman by wie ek aangesluit het, die nimlike Buurman van Zyl. Hy was toe hoofkonstabel (adjudant-offisier wat in latere jare die inspekteursrang geword het).

Ek het vaskopflank gespeel en hy het jou met die fluitjiekoord pimple en pers geslaan as jy nie reg skrum nie. Op daardie veld het ek drie kiestande verloor toe ek vir Schalk Visagie geduik het. Schalk was die Oostelike Provinsie se rugbyspan se vleuel, polisie se 100 treë naelloopkampioen en later die swaer van wyle P.W. Botha, die Staatspresident van RSA. Ek was half katswink, voel daar’s klippe in my mond, spoeg dit uit op my hand en sien dis drie kiestande, ek het opgestaan en gesien niemand bekommer hulle oor my nie, want die spel gaan ’n ent verder al weer voort. Ek het nie verder geoefen nie, maar Schalk ook nie, want sy knieë was albei seer nadat hy gelak was en hy het só kruppel-kruppel na die kleedkamer (“tog room”) toe geloop. Kyk hoe spog ek nou! Na daardie plettervat moes ek so ’n maand later ’n plaatjie in my mond kry om die uitgestampte tande te vervang. Ek het nie veel hoogtes met rugby bereik nie, maar het tog in die derde span, so af en toe, meer af as toe, span gekry. My swak enkels het gemaak dat ek kort-kort die distriksgeneesheer moes besoek a.g.v. van verstuite enkels. Ek het rugby ook vaarwel toegeroep, want ek het nou ernstig begin studeer vir my 2de klas sersanteksamen, want die eerste probeerslag was ’n flop. Ek het te veel rondgerits op die patrolliewaens en naweke saam met Piet Strydom en ons meisies, die twee Potgieter susters, rondgekuier. Ek het besef om rond te rits en los-hotnot te wees, nie my aspirasies in die Mag sal bevorder nie.

7.2 Ontmoeting met Corrie en eerste bevordering in die Polisiemag.

Ek het reeds gedurende 1957 ernstig by Corrie gekuier. In teendeel, ons was al gekys voordat ek in 1957 na Benoni toe is vir die motorvoertuigbestuurskursus. Corrie sê sy kan onthou dat ons gedurende April 1957 begin uitgaan het. (’n Geheue soos ’n olifant, moenie dink jy kan haar pisbol nie!). Ken julle nie hierdie uitdrukking nie? = Jy kan die persoon nie om die bos lei, of verkeerd bewys nie. O, julle wil weet hoe ons twee by mekaar uitgekom het? Ek kan nie meer die fynere detail onthou nie en wat ek nou gaan kwytraak het Corrie my geheue mee verfris:

Hulle het in die militêrekamp in Cradockplek, nou Algoapark, gebly en langs die militêrekamp was die Nasionale Paaie se kamp waar ons gebly het. Ons het geweet van mekaar maar ons het eers

eintlik mekaar van naderby gesien toe sy saam met haar oudste suster, Lenie, na ons huis toe gekom het waar ons versnaperinge geniet het na my suster Anna se troue. Ek was die strooijonker en ek het gehoor iemand sê sy het net oë vir my gehad. (sy sê ek jok, want toe was sy nog verlief op ’n man wat by die SAS & H se kantore gewerk waar sy ook ’n tikster was – glo julle haar?) Wel ek het daardie dag nie veel aandag aan haar gegee nie. (Glo julle my?)

Gedurende Aprilmaand 1957 het ek een Sondagmôre langs haar in Algoapark NG Kerk kom sit. Ek het saam met haar broer, Boet (Theodorus Lambertus), die kerk ingekom en ek wou by my susters, Maggie en Babie gaan sit. Wel, tannie Lenie, Babie en Corrie het almal Sondagskool gehou en het saam in een ry gesit. Corrie was laaste in en ek het toe langs haar plaasgeneem. In afwagting van die aankoms van die swartspan (diakens en ouderlinge) het ek na die mense gekyk en toe sien ek twee jong meisies voor ons, waarvan een ’n ou verehoedjie-affêre opgehad het (alle vrouens het daardie tyd nog hoede kerk toe gedra). Ek vra toe so saggies vir haar: “Noem julle nou daardie dingetjie ’n hoed?”

Sy het so sagweg begin lag, en elke slag as ek na haar kyk, wil sy net lag. Ek was baie ernstig, nou weet ek ook nie waarom sy my gesegde so snaaks gevind het nie. Ek dink dis daar waar ek ’n gevoel, ’n gedagte, ’n krieweling, ’n oorweging, of noem dit net wat julle wil, van: “Hierdie meisie moet ek beter leer ken”, gekry het. Dié gevoel het nie net by ’n gevoel gebly nie, en ek het d.m.v. my suster Hendrika (Babie) ’n afspraak met haar gereël.

Corrie nog in die fleur van haar lewe. (Foto: Weet nie meer nie).

Hierdie afspraak was die begin van ons verhouding wat nooit in enige vaarwaters beland het nie, ek bedoel hiermee dat ons mekaar nie te lyf wou gaan óf in bekgeveg betrokke sou raak, óf ons in stilstuipe wou terugtrek nie. Die gewone verskille wat somtyds wel opgeduik het, het ons nooit voor die kinders besleg nie. Dit was dus ’n verhouding wat in omvang en innigheid gegroei het tot waar ons ons nou as bejaarde geliefdes steeds met mekaar saamgebind is. Wel, hierdie eerste afspraak was toe ons saam na ’n ysskaatsvertoning in die Baai gegaan het. Dit was die blyspel “Holiday on Ice.” Die vertoning het plaasgevind op die tennisbane by die Davis Tennis Stadion te Humewood, waarop daar ’n kits ysskaatsbaan opgestel was. Dit was vrek koud daar langs die baan, maar ons het dié aand geweldig geniet want die skaatsery was iets om te kon sien. Grasieuse walse op ysskaatse en afgewissel met komiese optredes deur hansworse. “Dankie Meisie, dat jy ingewillig het om saam met my te gaan!”

Ek het ook toe gereeld, as ek nie gewerk het nie, na die Kerk Jeug Vereniging (KJV) byeenkomste gegaan. Al die jongmense het dit sommer Kry-Jou-Vrou-byeenkoms genoem. My susters, Babie en Maggie, Corrie, haar suster Lenie en haar broer, Boet (Theodorus ook Theo genoem) het gereeld die KJV-byeenkomste bygewoon. Ek het somtyds in uniform, as ek klaar gewerk het, daar aangekom om saam met hulle huis toe te stap, óf ek het hulle met Pappa se 1936 Oldsmobile motorkar opgelaai en huis toe geneem. Ek kan julle ’n geheimpie vertel:

Daar was ander meisies in die KJV wat ook nogal erg ogies gemaak het vir hierdie Don Juan, maar ek het net met oë geflirt en dan so onderlangs na hierdie Rooikop gekyk, dan kon ek so ietwat van ’n ergerlikheid opmerk. Aag, jy jok ou man!

Gou-gou het ek ernstig begin kuier by die Scholtze en ek weet dat ek soos ’n tweede seun vir hulle was, want sy is een van agt kinders waarvan daar net een seun, Boet, was. Verliefdheid by beide van ons het oorgegaan in liefde wat nou, met die skrywe van hierdie herinneringe, langer as 55 jaar hou en met die verloop van jare verinnig en blywend geword het. Toe die Afrikaanse sanger Lucas Maree gedurende Februarie 2011 oorlede is, moes die luisteraars op die radio, tydens ’n kits inbelpeiling hulle mening oor die lug sy gewildste liedjie nomineer. Die uitslag was: ‘Droomvrou.’ Ek kan ook maar soos hy sê, Corrie is my droomvrou.

“Dankie vrou vir jou liefde. Soms het ek gewonder as ek so lank saans op patrollies uit was en jy alleen by die huis moes sit, en later toe jy alleen die vyf kinders moes versorg toe ek maande lank iewers in die RSA diens moes verrig, óf ek ooit jou liefde waardig was?” Terugskouend kan ek nou sê: “Ek het altyd na jou, en later ook na die kinders, verlang en julle was altyd in my gedagtes, al het ek dit dalk nie só pertinent gesê en gewys nie!”

Foto’s soos ons gelyk het tydens ons verlowing. Ja, wat het die jare nie aan ons gedoen nie! (My foto: Rees, P.E. en Corrie se foto: Ross, P.E.)

Ons twee het toe op 28 Junie 1958, nadat die inkwisisie sessies by die twee ouerpare verby was, verloof geraak. Nog ’n mylpaal in ons gesamentlike lewe.

Die foto’s van ons wat geneem was, is ‘n paar dae voor ons verlowing deur die fotograwe ingekleur, want daardie jare was kleurfotografie nog nie só algemeen deur fotograwe gebruik nie. As jy dan vra vir ’n kleurfoto, het hulle aantekeninge van jou hare-, oë- en jou klere se kleur gemaak sodat hulle die swart en wit foto so na as moontlik aan jou kleredrag ens. kan inkleur.

Ek het redelik, stadig met my studies in 1958 begin, maar toe ek vlam vat, het dit voor die wind gegaan. Ons het ’n dik boek met lesings vanaf die kwartiermeester aangevra waarin die ses Polisieonderwerpe (Vakke) saamgevat is, naamlik:

• Gemenereg,

• Strafprosesreg,

• Mag Administrasie A (Dis die SA Polisie se Staande Orders),

• Mag Administrasie B (Dis die S.A. Polisie se Staande Orders Voorrade en -Finansieel),

• Wettereg en

• Ondersoek van Misdaad.

Ons moes self leer vir die Engelse en Afrikaanse vraestelle. Kom ek meld net een van die sinnetjies wat ons van Afrikaans na Engels moes vertaal in die Engelse vraestel wat ons ontvang het. “Die span osse lê in hulle jukke in die maanligaand en herkou terwyl die touleier sy water op ‘n vuurtjie kook vir koffie.” Ek het vertaal, gekyk, weer verander, weer vertaal, die sin ’n ander konstruksie gegee, vir herkou ’n ander Engelse naam van “again chewing” gegee en ’n touleier sommer ’n “rope leader” genoem. Ek het ook nie ‘n Engelse word vir jukke gekry nie. Ek weet nou nog nie of die touleier geherkou en die osse in die maanlig water gekook het nie. Wel ek het die vraestel geslaag! Toe julle slim blikskottels, hoe vaar julle met dié vertaling? (Slaan maar na in ’n woordeboek.)

Elke kandidaat moes al die agt vakke gelyktydig met 50% óf meer deurkom om bevorder te word. Jy skryf hierdie agt vakke in vier dae na mekaar, een in die oggend en een in die middag. Elke vak het ’n drie-uur vraestel. As jy aan ’n bevorderingseksamen deelneem en jy is ’n uniformlid, dan moet jy in uniform die eksamen aflê, want jy word as ‘aan diens’ geag. Die speurders het in privaatklere gaan skryf. Ons moet elke dag by die aanklagkantoor gaan ‘uit boek’ na die eksamenlokaal toe. Wel ek het dit gemaak toe die uitslae laat in 1958 bekend gemaak is.

Ek moes soms nagpatrollies ry by die plase en voorstaan dienste (padblokkades) op die distrik se paaie hou, ter voorkoming van veediefstalle, dagga- en dranksmokkelaars en vir algemene sigbaarheid van die polisie. Ek het dit baie geniet, soms saans in die bospaadjies, waar Blue Water Bay voorstad bokant Amsterdamhoek tans is, steenbokkies en grysbokkies gekry wat ons onwettig met die polisievangwa gejag het. Ja, ek weet dit was onwettig, maar ons almal het darem te lekker aan die biltongetjies gesmul.

Afgesien van die bokkies wat ons met die patrolliewa doodgery het, sulke moordenaars!, het ek een aand saam met Koos Vreÿ en ’n swartkonstabel op die ou Grahamstadpad na die plaas van meneer Lake gegaan waar ons observasie moes hou vir die moontlikheid van ’n onwettige beesslagtery wat op sy plaas sou plaasvind. Ons het geen onwettighede opgemerk nie en in die vroeë môre-ure vertrek ons terug polisiestasie toe.

Op pad na die Grahamstadpad toe, nog op die gruispad wat vanaf die plaas lei, vind ons heelwat springhase. Hulle lyk mos amper soos klein kangaroes, en ons hou stil en die swartkonstabel vang een van die springhase en sit hom agter in die toegeboude patrolliewa. By die polisiestasie sit ek die diertjie in my ingeboude klerekas, op die vloer onder die onderste rak. Ek gaan slaap en vergeet van die springhaas. Teen ongeveer ontbyttyd, word ek wakker van ’n geraas in die ingeboude kas,

en toe ek dit oopmaak, spring die blerrie springhaas uit, ek skrik my half deur ’n mik, onthou nou eers van die springhaas, maak die kamerdeur toe en nou spring hy in die kamer rond. Ek vang hom en gaan sit hom in een van die sinkselle wat leeg is, en vergeet weer van die dêm haas. Later kom maak die aanklagkantoorsersant my wakker en sê hy het twee swartmans wat gearresteer was in die sel geplaas waar die springhaas is. Hy was onbewus dat die springhaas in die sel is. Toe hy die sel toesluit toe skree daardie twee prisoniers asof hulle vermoor word. Hulle is stadsmense en weet nie watse lelike ongedierte hier rondom hulle spring en sulke blaas-piepgeluide maak nie. Hy het die sel oopgesluit en die springhaas gesien. Hy het toe die twee gevangenes in die ander sel gaan toesluit en nou wil hy weet wat moet hy met die springhaas maak. Ek sê toe vir hom dat ek die aangeleentheid verder sal hanteer. Ek trek aan en sit die springhaas in ’n prisoniereiendomseilsakkie, trek die sak se opening om sy nek toe en so ry ek met hom na Perseverance, ’n landbougemeenskap so 5 kilometer van Redhouse af, en los die springhaas in die veld. Nog nie die einde van die storie nie. Ek kom terug by die polisiestasie en nou gesels almal oor hierdie palawe wat in die sel gebeur het. Ek word streng deur die stasiebevelvoerder, Kleingetryn Strydom, aangespreek, met ’n glimlag om sy mond, en ek gaan op na my kamer toe. Wat vind ek toe? Die blessitse springhaas het al twee my leerkamaste wat ook in die ingeboude kas was, stukkend gevreet. Ek moes dit maar weggooi en ander bestel, want ek moes dit vir paradeinspeksiedoeleindes kon toon. So vang slim (die springhaas) sy baas!

Ek moes toe ook die kamer by Redhouse polisiestasie ontruim want die kamer moes vir ’n kantoor vir ’n bykomende speurder ingeruim word. Ek het toestemming gekry om by Pappa-hulle in die padkamp in Algoapark te gaan bly. Pappa het gereël dat daar ’n ekstra kamer by ons huis aangesit word, een van die nou al bekende houthuis se seksies is verwyder en die nuut aangehegte kamer het nou uit die sitkamer uitgegaan.

Dit was juis in hierdie tyd nadat ek by oupa Dupie-hulle gaan bly het, dat ek in my tweede ‘botsing’ in die Volksie betrokke was. Een aand het ek omtrent 10,15nm (22:15) van diens gegaan en die Volksie oorgeboek aan konstabel Meyer om dit tydens sy nagskof te gebruik, want die stasie se patrolliewa was vir herstelwerk by die polisiemotorhawe. Ek sou weer met een van Forlee se busse vanaf Veeplaas huis toe ry, maar Meyer sê hy moet na Korsten polisiestasie toe gaan om petrol vir die Volksie in te tap. Ek ry toe saam met hom, want oupa Dupie-hulle se huis is op pad na Korsten toe en hy sou my daar aflaai. Hy het geen ondervinding van die Volksie se direkte stuurmeganisme nie, en toe ons by die Port Elizabeth-Uitenhage hoofpad links moet indraai op pad na Korsten toe, is sy draaibeweging rukkerig en die Volksie slaan om en kom op sy dak te lande. Die motors het destyds nog geen sitplekgordels gehad nie, en hier lê die Volksie op sy dak in die hoofpad. Ek en Meyer lê so half oor mekaar en nou moet ons uit die motor kom. Die deure kan nie oopmaak nie, maar die agteruit het uitgeval. Ons kruip handeviervoet by die agterruit se opening uit. Nie een van ons het seergekry nie. Die derde geleentheid word later in detail vertel.

Ek het reeds vroeër genoem dat Kgaile, onthou julle nog hoe sy van uitgespreek word? – Gaaihielê, ’n ou naturelle-(swart) konstabel wat jare reeds te Swartkops en Redhouse gestasioneer was, en die distrik baie goed geken het. Wel, ek moes aandag aan ’n klagte van ’n Joodse boer, mnr. Hymie Touze, gaan skenk. Daar was ’n bokslagtery op sy plaas wat langs die Sondagsrivier, op die PEAddopad is. Om daar te kom moet jy eers in die Addo-polisiewyk inry, terug na die Sondags-rivier toe, die rivier op ’n laagwaterbrug kruis en dan kom jy weer in ons polisiewyk in. Ek ken die pad tot by die laagwaterbruggie, maar weet nie waar die plaas is nie. Kgaile sê hy weet, hy sal saamgaan. Toe ek oor die laagwaterbruggie gaan vra ek toe vir Kgaile: “Jong, ken jy die pad plaas toe?”

“Ja baas Dupie, dis die pad hierdie.”

Ek ry en kort-kort, as ek ’n uitdraaipad nader, vra ek hom of dit nog die pad is, dan antwoord hy net: “Dis die pad hierdie.”

En ek ry reguit aan. Later loop die pad binne in ’n lemoenboord dood, en hy sê: “Baas Dupie, dis nie meer die pad hierdie nie.”

“Ek kan dit sien, waarnatoe nou?” vra ek en hy antwoord net: “Ek weet nie baas Dupie.”

Hier sit ons in ’n lemoenboord met ’n pad wat doodloop. Ek moet meld dat al die afdraaipaaie op dié pad ondergeskikte gruispaaie is waar daar geen predikante is om hulle eindbestemming aan te dui nie. Nou draai ek maar om en nou ry ek in op al die klein paadjies wat uit die oorspronklike grondpad uitdraai op soek na die plaas van Hymie Touze. Laat die middag kom ons toe wel by oom Hymie aan. Daar staan in die Bybel dat ‘Jy nie op Prinse moet vertrou nie’, maar ja, so kan jy jou ook verneuk en verdwaal met geen padtekens (predikante), en met Kgaile wat die pad ken! Onthou, dalk is almal verkeerd! Terloops, ons kon darem die bokslagter op die plaas uitvang en arresteer.

Na die uitslag van die bevorderingseksamen gekom het, moes ek nog byna ’n jaar wag voor die rangtekens op die regtermou van my, die konstabel, aangewerk kon word. Ons geslaagde kandidate se name het in die Polisie se Mag Orders verskyn. Ons was oor die 300 landwyd. My naam het op 125 verskyn. Die konstabels word so 50 op ’n slag, elke ses maande of langer uitmekaar, bevorder. In die tussentyd gaan ek, as verloofde man, aan met my taak as distrikspolisieman en soms ook as aanklagkantoorbeampte. So lui die telefoon een middag so teen 12 uur en ek antwoord;

“Redhouse polisiestasie, konstabel Du Plessis wat praat.” ’n Vrouestem sê:

“Meneer is dit die charge office?”

“Ja, kan ek help?” Sy sê:

“Meneer, ek is kleurlingkonstabel Tarentaal se vrou wat praat. Hy kan nie vanmiddag kom werk nie, want hy is siek, meneer.”

Dit was gemene saak dat hierdie lid ten minste elke maand vir ’n paar dae af siek boek en elke slag veins dat hy die een of ander siekte het. (Het glo lekker in die bottel gekyk, maar was nooit dronk op diens nie.) Hy laat liewer sy vrou die polisiestasie bel. Die staande opdrag is dat die aard van ’n lid se siekte, as hy afsiek boek, in die Voorvalleboek ingeskryf moet word, hy moet aangesê word om op die eersvolgende geleentheid die distriksgeneesheer te gaan spreek, en sy naam word dan ook in die amptelike siekboek aangeteken. Ek vra haar toe:

“Wat makeer hom?” Sy sê:

“Meneer weet, hy het ’n vreeslike rugseer, sy bors is seer, sy bene is baie seer, hy kla van ’n erge kopseer, ’n keelseer, en weet meneer wat?”

“Nee jong ek weet nie. Wat?” Sy hervat en sê:

“Meneer hy voel self ook nie te lekker nie!”

Ek het maar net geglimlag en vir haar die opdrag gegee wat sy aan haar man moet oordra m.b.t. die distriksgeneesheer se ganery. So het hy ook dié dag sy gewone siekte kon veins. Ons kon hom egter nooit departementeel aankla vir die veins van ’n siekte, (“malingering” in Engels) nie, want die distriksgeneesheer het hom elke keer wel vir ’n dag of twee afgeboek. Geen dokter kan mos, na ’n ondersoek, bevind dat ’n persoon se ‘rug is nie seer nie!’

Noudat kleurlingkonstabel Dick Erasmus ook by Redhouse is, het hy vir sy eie vervoer gesorg en toe koop hy vir hom ’n 50cc tweeslag Java motorfiets waarmee hy vanaf Korsten, waar hy woon, na Redhouse toe ry. Hy verkoop toe later hiérdie ‘piskriek,’ (dis ‘n motorfiets wat baie stadig ry en net so 30 myl per uur kan ry) en koop vir hom ’n 250cc Triumph motorfiets. Ek wil sy nuwe motor-fiets ry en ek vra hom eendag of hy my nie ’n geleentheid, (’n “lift”) met sy motorfiets sal gee tot by my

ouers se huis nie, want hy ry omtrent voor die padkamp verby Korsten toe. Hy sê toe: “Baas Duifie, ek kan nog nie iemand “lift” met hierdie motorfiets nie. Kan jy motorfiets ry?, dan kan jy my “lift” tot by die Ou miesies se huis. Ek sal dan verder self huis toe ry.”

Ek sê summier ja en hy val vir hierdie slenter van my. Ek ken g’n motorfiets se werking nie, maar klim op en hy klim op die passasiersaal (“pillion”) en ek vra hom: “Dick waar sit die ding aan dat ek hom kan “start”?”

“Jere baas Duifie, kan jy die ding ry?”

“Ja man, ek ken net nie ’n Triumph nie.”

Hy klim toe van die passasiersitplek af, en kom verduidelik waar ek die sleutel moet insit, hoe ek die ratte (“gears”), met die voetpedaal moet oorskakel en hoe ek die ding aan die brand moet skop, en so voorts, en so voorts.

Ek kry dit reg, hy klim weer op en nou vlieg ek daar weg, ruk amper my nek af en Dick gryp my met beide arms om my lyf en druk my soos Corrie my nog nie gedruk het nie, en nou gaan dit lekker. Hy skree so in my ore: “Change sy gears!”

Ek trap daardie rathefboom af, óf was dit op, en nou gaan dit eers lekker. (Oorlede Pappa het altyd, wanneer hy vinnig met sy motor ry, gesê: ‘Dit gaan nou ‘ore in die nek’ óf ‘honderd bedonderd!’). Ons gesels selfs nou met ons koppe so skuins na mekaar gedraai.

Ek sê: “ Jong ek ruik rubber.”

Dick sê: “Ek dink ons ry dalk te vinnig, want ek het hierdie fiets nog nie vinniger as 30 m.p.u. gery nie en ons ry nou teen 35 m.p.u.”

Ons hou by ons huis stil en ek klim af.

Dick sê: “Sjoe, bliksem, my regtervoet brand vreeslik, kyk hoe lyk my ‘bootse’ nou gebrand. Ek het dit op die ‘exhaust’ gesit in plaas van op die “footrest”.”

Ek lag lekker en sê vir hom: “Dick, dis die heel eerste keer dat ek ’n motorfiets self bestuur.”

Hy lag net en sê dat ek hom nie weer sal uitvang nie. Hy gaan eers saam na die huis toe en groet vir Mamma en vra vir koue water óf koffie. Mamma ken ook vir Dick, want hy het gereeld saam met my op die vangwa gery en wanneer ek tuis gestop het vir koffie of koeldrank, het Mamma hom ook koeldrank óf koffie en beskuit gegee. Hy het altyd sy hawersak, waarmee alle polisiebeamptes destyds uitgereik was, by hom, want sy gesegde was altyd:

“Ek weet nooit wat die ou miesies vir my het nie.” By ons huis het hy altyd iets te ete of drinke by die ou miesies gekry.

Ek het vroeër melding gemaak van swartkonstabel, Shange, die Zulu, by ons stasie, wel, ek moet tog ’n insident waarby ek, hy en Koos Vreÿ betrokke was, meld:

Inligting word ontvang dat daar in Bethelsdorp, destyds ’n kleurling woongebied, en die nalatenskap van ’n dorpsontwikkeling in die 1800’s deur die Engelse sendelinge Dr’s. Phillip en Kemp, drank en dagga by ’n sekere huis verkoop word. Ons vertrek so ongeveer 4nm (16:00) vanaf die stasie. Shange was een van die twee nie-blankekonstabels wat saamgegaan het. Koos was die patrolliewabestuurder en ek die voorsitplek bemanning. Ons vind die huis, Koos stop vinnig, ek spring uit en terwyl ek om die vangwa hardloop, maak ek die agterdeur vir die nie-blankelede oop. Koos spring uit en hy en Shange gaan na die voordeur en ek en die ander nie-blankekonstabel gaan by die agterdeur staan om ’n moontlike ontsnappingsroete te blokkeer.

Ek hoor net ’n geweldige slag, hoor niks verder nie, en Shange maak die agterdeur van binne oop. Ons betree ook die huis. Ek vra vir Shange: “Wat het so ’n geraas gemaak?”

Hy antwoord sommer so ongeërg: “Ek het die voordeur oopgemaak.”

Ek sien Koos staan net binne die voordeur en hou sy regterhand vas. Ons visenteer die huis, kry wel dagga en arresteer die huisbaas.

Ek vra vir Koos wat sy hand makeer. Hy antwoord: “Ek wou nog aan die deur klop toe skop die bleddie Shange die deur oop en hy slaan terselfdertyd ’n wilde hou met sy kierie, en tref my op my regterhand.” (Ek het mos al gesê dat Shange ’n Zulu is, wel hy het nooit, maar nooit, soos Zulus se gewoonte is, sonder ’n kierie in uniform geloop nie.)

Koos se hand, net bo die gewrig, gou-gou baie geswel. Hy moes distriksgeneesheer toe gaan, maar gelukkig was niks gebreek nie. Met die skop van die deur, het Shange dit van die skarnierkant af oopgemaak! (Dis maar ‘n polisie gesegde as ons die deur oopskop as die bewoners dit nie wil oopmaak nie.)

’n Klomp jong manne saam by ’n polisiestasie is maar altyd vol onnutsighede teenoor mekaar. Ek het eendag saam met die patrolliewabestuurder in die lokasies rondgery, nadat ek alreeds van diens was. Ek was lus vir aksie en ek sit my pyp in die patrolliewa en rook en ons ry stadig verby ’n paar kleurlingmans wat voor ’n kafee in Veeplaas staan. Ek ruik dagga wat gerook word, sê vir die bestuurder: “Stop, stop. Ek wil hulle deursoek.”

Die vangwa word skielik gestop, ek spring uit en begin die paar kleurlinge visenteer. Kry nie dagga of iets onwettig in hulle besit nie. Ons ry verder en dieselfde situasie herhaal hom, sien ’n paar kleurlinge, ruik dagga wat gerook word, stop, spring uit, visenteer en kry niks. Ry verder en ek steek weer my pyp op. Ek voel ontsettend naar en sê vir die bestuurder ek wil braak. My magtig, dis al die tyd ek wat dagga rook, iemand het dagga pitte in my tabaksak gesit. Ek is nou omtrent naar en kwylbek. Gelukkig braak ek nie, maar ons ry nogtans terug polisiestasie toe. Met my subtiele ondervragingstegnieke, vind ek uit dis konstabel Rynie Stoltz wat die skuldige is. Ek beloof ek sal ook vir hom ’n poets bak. Hy rook ook mos pyp. Hy is egter getroud en sy vrou is ’n baie jaloerse entjie mens. Toe hy by ’n latere geleentheid weer in die aanklagkantoor aan diens kom, en sy pyp oop en bloot op die tafel lê en hy selle toe is op selbesoek, neem ek sy pyp en steek die mondkant van die pypsteel in die potjie rooi ink wat op die kantoortafel staan. Daardie rooi ink wat die Staat voorsien, wat klou soos strooi aan ’n wolkombers en alles vlek. Later het hy my vertel dat hy mooi moes verduidelik dat die rooi aan sy lippe en sy hand, nie lipstiffie van ’n ander vrou is nie, maar ’n poets is wat iemand op hom gebak het. Ek het maar erken dis ek wat hom net teruggekry het vir die naarheid wat ek gehad het van die daggarokery. “Tit for tat, hey!”

7.3 Insidente van belang kort voor en na ons huwelik. Na ons verlowing het ons vriendskap met Koos en Lilian voortgeduur. Hulle het toe op Swartkops in een van Gert Schoeman se skoonpa se drie huise gebly. Die drie huise was langs mekaar. Kooshulle bly in die een, Gert-hulle in die middelste en konstabel Serfie Serfontein in die ander. Ons het selfs by geleentheid saam met Koos-hulle in sy Mini Minor rondgerits. Koos het later ’n liefde vir Peugeot-motors ontwikkel en tot sy dood het hy een gehad. Ons was hegte vriende. Koos is gedurende Junie 2001 oorlede en ons vriendskap met Lilian duur nog steeds voort. Om aan te sluit by Koos se voorliefde vir Peugeot-motors, wil ek hier meld van sy laaste rit in die nuutste model Peugeot op die mark, voor sy afsterwe.

’n Foto van Koos Vreÿ se Mini Minor. Verskoon maar die gehalte van die foto – dis met ’n ou bokskamera geneem. (Foto: Ben)

Ek het gedurende 2001 ’n nuwe Peugeot 406 motor gekoop en ons het hulle besoek terwyl ek en Corrie in Mei 2001 in PE was waar ek aan die Suid-Afrikaanse Mans Rolbalkampioenskappe gaan deelneem het. Koos was toe al siek, maar ek het hom vir ’n rit in ons nuwe Peugeot deur Port Elizabeth geneem. Hy het dit geweldig geniet. Min wetende dit sou die laaste geleentheid wees wat ons vir Koos in lewe sou sien, want ’n maand later het ons weer dieselfde paadjie PE toe gery om sy begrafnis te gaan bywoon.

Ek het my eerste motor, ’n tweedehandse pikswart Ford Consul, 1953 model vir £300.0.0 (R600,00) by die motorhandelaars Williams Hunt & Brook, Adderleystraat, Port Elizabeth, gekoop. Ek moes ’n deposito van £100.0.0 (R200,00) betaal en die restant oor 24 maande teen £10.0.0 (R20,00) per maand betaal. Saam met die rente het die motor £340.0.0 (R680,00) gekos.

Daardie jare was dit ’n verpligting onder die Huurkoopwet dat ’n derde van ’n voertuig se aankoopprys as deposito betaal moet word en dat die langste termyn van die huurkoop 24 maande is. Ek wonder wat sal die jong latte vandag maak as daardie bepaling nog sou geld? Gelukkig was die rentekoers maar min!

Net voordat ek bevorder is tot 2de klas sersant op 01 Augustus 1959, word ons troudatum vir 03 Oktober 1959 bepaal. Amper het hierdie jong Rock Hudson polisieman (windgat met ’n helse ego van homself nè) nie getroud gekom nie, want ek het amper verdrink tydens ’n arrestasie wat ek gemaak het. Die volgende is ’n verkorte weergawe van hoe dit gebeur het:

Ek hoor telefonies dat daar by twee huise in Amsterdamhoek woonbuurt ingebreek is en dat die inbreker padlangs in die rigting van Swartkops, met ’n sak goed oor sy skouer, loop. Hulle gee ’n kort beskrywing. Ek gryp die patrolliewa en Dick Erasmus is op kampdiens en ek kommandeer hom op. Hy laat die prisoniers wat hy oppas in die aanklagkantoor en ons is vort. Die distansie na Amsterdamhoek toe is nie verder as so 5 myl (±7 km) vanaf die polisiestasie nie. Toe ek die smal motor/treinbrug kombinasie oor die Swartkopsrivier te Swartkops oor is en wil indraai na

Amsterdamhoek toe, hou ’n motor wat van vooraf gekom het, by my stil. Die bestuurder spring uit en hy wys na ’n swartman wat toe net oor die treinspoor hardloop met die sak nog oor sy skouer. Ek jaag na hom toe met die patrolliewa, hy laat val sy sak en hy spring toe in die Swartkopsrivier.

Ek sê vir Dick: “Vang hom!”

’n Soortgelyke 1953 Ford Consul motor was my eerste ‘wiele’ (Foto: Google)

Hy sê: “Baas Duifie, ek kan nie swem nie.”

Ek het ’n nuwe paar bruin polisieskoene aan om dit uit te trap voor die huweliksdag sou aanbreek, ek skop dit uit, stroop sommer my kombinasielyfband van my lyf af, knoop my uniformbaadjie tuniek vinnig los en spring in die water agter ta aan. Toe ek wil swem, vind ek die water is nie so diep nie, net so ’n bietjie hoër as kniediep, ek hardloop/struikel deur die water na die inbreker toe. Toe ek hom wil vat, verdwyn hy onder die water, daar is ’n diep sloep en ek agterna en gryp hom vas. Nou klou hy my só vas dat ek nie kan swem nie, ons al twee is onder die water – modderwater en slymerige grasse – ek spartel om los te kom van ta af om asem te skep. Gelukkig los hy my, ek swem so ’n paar treë terug en ek voel weer grond onder my voete. Ta se kop verskyn, al proesende sommer weer hier by my van onder die water uit, ek gryp sy kroesies vas en trek hom uit. Mense, was ek moeg. Ta spoeg en proes maar hyself is nou makker en ek sleep-dra hom wal toe.

Op die wal staan daar ’n plaasboer wat ek ken, sy naam is Isak Potgieter, hy het sy ,303-geweer by hom. Hy is op pad na ’n skietoefening saam met die Skietkommando by die Cape Recife skietbaan in Port Elizabeth. Hy het die hele petalje aanskou, en toe ek met my prisonier so aangesleep-stap kom, skree hy:

“Dup, los die bliksem laat hy hol, dan skiet ek hom!”

Ek was só moeg en amper gee ek gehoor aan sy versoek. Ek skree toe: “Nee man, kom haal hom liewer by my.”

Isak kom nader en in die vlakwater neem hy die prisonier by my. Dick staan op die wal, pas my kombinasielyfband met rewolwer, skoene en baadjie op, hy bewe van bangheid, maar neem tog die gearresteerde by Isak en sit hom in die patrolliewa. My gat en lyf en alles is watersopnat, maar my

man bring ek stasie toe. Dick het intussen die sak met gesteelde goedere opgetel en by die patrolliewa neergesit. Gelukkig het die bietjie lewensredding oefeninge wat ek in die Polisiekollege gedoen het, my goed te pas gekom. As ta nie naby my sy kop by die water uitgesteek het nie, sou ek seker ook nie verder probeer het om ’n medalje vir dapperheid te verwerf om agter hom aan te duik om hom van verdrinking te red nie! Is ek rassisties? nee, ek was te bang ék verdrink!

Kort na my bevordering word ek deur eerste klas sersant Daantjie Strydom (Kleingetryn), ons stasiebevelvoerder, meegedeel dat daar te veel sersante op die stasie is en dat ek verplaas gaan word. Seker so’n week of twee drie voor die troue hoor ek dat ek na Burgersdorp in die NoordoosKaap verplaas word. Ek moes toe inderhaas verduidelik dat ek op 3 Oktober 1959 trou en dat daar darem ’n paar groot items sal wees wat op Staatskoste vervoer sal moet word. Dis nou die vrou uitgesluit, sy was nou nie deel van die ‘groot items’ nie, want sy was maar ’n klein meisietjie, en dat ek met my motor sal reis in plaas van met die trein. Dit het gemaak dat daar goedkeuring vanaf Hoofkantoor in Pretoria verkry moes word vir die verhoogde verplasingskoste, omdat my huwelikstatus verander het.

Ek het nou die brawe skoene aangetrek en ’n laerskoolfoto van Corrie in geskandeer.

Dit was ’n plaasskooltjie met net 16 kinders daar in die Suurveld, Humansdorp. Corrie is die klein dogtertjie wat met die kort rokkie voor derde van links staan. Julle kan mos sien dat sy dus nie as van die ‘groot items’ genoem kan word nie. Ha, ha. Terloops, Corrie se broer Theodorus (Boet), die enigste seun tussen 7 dogters tuis, staan derde van regs in die voorste ry.(Foto is jare der jare gelede geneem, weet nie deur wie nie.)

Gelukkig het ek nie foto’s van my toe ek laerskool toe gegaan het nie, want dit sou net spykerbeentjies, gelapte kortbroek en knopknieë wees wat die aandag sou trek.

Ek en Corrie het nou begin om die reëlings te tref vir die troue. Ons moes ook by ons gemeente se kerkkantoor ons gebooie gaan opgee. Daardie jare moes ’n paartjie wat in hulle gemeente se kerk wil trou, hulle voorneme om te trou amptelik deur die predikant vanaf die preekstoel, vir drie Sondae na mekaar, aan die gemeente bekend maak. Dit was genoem, ‘die gebooie loop’. As die voornemende bruidegom in ’n ander gemeente ’n lidmaat is, moet die gebooie gelyktydig met dié van sy aanstaande bruid, in sy gemeente ‘loop’.

Corrie het reeds oor ’n paar jare haar trousseau (bruidsuitset) bymekaar gemaak en Oupa Scholtz het aan haar ’n trousseaukis as geskenk gegee, waarin al die fyngoedjies, kleingoedjies, grootgoedjies, slaapgoedjies, mooigoedjies, skaamgoedjies en die beddegoedjies tussen motbolle gebêre is. Ons het ook ’n eetservies van oupa en ouma Dupie as trougeskenk gekry. Die troukaartjies moes uitgestuur word, daardie dae alles per landpos, trourok moes gemaak word en ook die strooimeisie s’n. Ek moes reël vir ’n strooijonker en ek moes ’n nuwe uniform laat maak vir die grootste dag in my lewe. Ek het vir konstabel Slabbert van Redhouse gekry om as strooijonker op te tree. Slabbert het saam met my die bevorderingseksamen geskryf en ons het gehoop dat hy ook ’n 2de klas sersant sal wees wat saam met my dieselfde rangtekens kon hê. Hy het ongelukkig nie geslaag nie, maar ek het hom nogtans gevra om as strooijonker op te tree. Corrie het self vir haar trourok se maak betaal en ook vir my suster Maggie se strooimeisierok. Dit het daardie tyd ’n aardige bedrag van so om en by £100.0.0 beloop (R200,00), dit sluit nou materiaal en maakloon in. My nuwe uniform het ek by ’n kleurlingkleremaker, Langford, te Bethelsdorp laat maak. Die maakloon was £15.0.0 (R30,00). Ek het die kakiemateriaal van die kwartiermeester in Pretoria bestel en terselfdertyd ook ’n nuwe paar bruin polisieskoene vir die troue. (Daardie skoene wat ek uitgetrek het voor ek in die rivier agter die inbreker ingespring het). Die troukoek en die blomme moes ek ook betaal. Ons ouers was nie finansieel in die posisie om enige koste van die huwelik en die onthaal te betaal nie.

Omdat ons onthaal in ’n kerksaal was by die NG Gemeente, Port Elizabeth Sentraal, kon ons nie vonkelwyn gebruik om die heildronke in te stel nie. Ek het die bestuurder van die Coega Hotel geken en hom gevra om alkoholvrye sjampanje vir my te bestel. Daardie jare kon ons nog van sjam-panje praat, want Frankryk was nog nie ’n alleenhouer van die naam sjampanje vir vonkelwyn nie. Daardie verbod het die Franse eers in die tagtigerjare wêreldwyd afgekondig. Ek het ’n dag of wat voor die troue die sjampanje by die Coega Hotel gaan haal.

Ek en Corrie het maar vroegtydig gespaar om vir alles te betaal. Een van my neefs, Bennie Kirchner, die oudste broer van oom Attie Kirchner, (beide reeds oorlede) het as seremoniemeester opgetree. Ek het ook die oggend vroeg na Bethelsdorp toe gery en my uniform by die kleremaker gaan haal en terselfdertyd ook ’n klomp varkoorblomme langs die pad by kleurling blommeverkopers gekoop vir die ruiker in die saal.

Ons troumotors was twee 1959 Vauxhall Cresta modelle, die een oorwegend groen en die ander blou en wit. Oom Lukas le Roux, ’n polisiekonstabel met omtrent 20 jaar diens wat te Baakenstraat polisiestasie gestasioneer was, het die strooimeisie, tannie Maggie, met sy groen en wit motor, gery. John Grebe het sy motor, die blou en wit ene, as bruidsmotor gegee en dit is deur hom bestuur. Hy was die verloofde van Miriam, een van die tiksters wat saam met Corrie gewerk het, met wie hy later in Desember 1959 getroud is. Daar was gelukkig geen koste verbonde aan die gebruik van die twee motors nie.

Ons moes maar op die goedkoopste manier waarop ons ons huweliksbevestiging kon bekostig, laat plaasvind, maar nogtans sal dit altyd by ons bly waar ons ons ewige verbintenis aan mekaar bevestig het. Die enigste skuld wat ons na die troue gehad het, is die troualbum en -foto’s wat bestel is by ’n fotograaf te Port Elizabeth. Terloops, ons het die troualbum met die foto’s eers nege maande later, gedurende Junie 1960, net voor die tweeling se geboorte, by Knapdaar ontvang. Die kwitansie

vir die aankoop en betaling daarvan is nog agter in die album en toon dat ons ’n hele £23.14.6 (R47,45) daarvoor moes opgedok. Dit bly nog altyd iets mooi en die bedrag daarvoor betaal, was en is steeds die moeite werd. Die huwelik het sonder enige teëspoed plaasgevind, almal het dit geniet want die eetgoed was genoeg en die wat wou eet, het geëet, die wat wou huil, het gehuil en die wat wou lag, het gelag.

Ek en Corrie het by pa Scholtz-hulle se huis gaan verklee, koffers opgelaai en begin groet. Ons het teen sterk skemer met die swart Consul motor op wittebrood vertrek. Op pad na Humansdorp toe waar ons in die Royal Hotel sou slaap, het dit begin reën. Ons was net dankbaar dat dit nie tydens die huwelikseremonie, die onthaal en fotonemery gereën het nie. Daar is mos’n bygeloof dat as dit op jou troudag reën, dan sal die huwelik nie hou nie! Sê wie!?

Pa Japie en Ma Hendrieka met die nuwe egpaar in die middel, met Ma Annie en Pa Flip Scholtz aan hulle linkerkant.

Corrie met haar spierwit trourok en liefde wat glimlaggend uitstraal

Ons twee nadat die huweliksband in die NG Kerk, Port Elizabeth Sentraal saamgebind is.

Die nuwe egpaar en gevolg. Strooijonker konst. Lourens Slabbert en strooimeisie, my suster Maggie.

(Alle foto’s : Ross Port Elizabeth)

Die volgende môre het ons die pad Boland-toe geneem. By Knysna moes ons die Sondagoggend ’n werktuigkundige gaan soek om die motor se windskermveërmotor te herstel (wat ’n lang woord

vir die klein onderdeeltjie wat hy moes vervang), want dit het die gees gegee toe ons deur die Tsitsikammawoud gery en dit al harder begin reën het.

Ons oponthoud aldaar was gelukkig nie baie lank nie en die koste van die herstelwerk was baie min, slegs ’n paar sjielings. Ons kon verder ry en die aand het ons by die Royal Hotel, te Rivers-dal geslaap. (Ja jong, alle plattelandse dorpe het mos ’n Royal Hotel gehad, só genoem óf hernoem na die “Royal Family” wat Suid-Afrika in 1947 kom besoek het. Ons ou volkie was toe mos nog baie “Royal”.)

Terwyl ons so al kykende deur die mooi natuurskoon in die Suid-Kaap reis, wys ek haar baie dinge en plekke uit wat sy nog nie gesien het nie. By Mosselbaai die robbe en Diaz se kruis en die Poskantoorboom en die Gouritzrivierbrug. Toe ons so ongeveer 4myl (ongeveer 6km) vanaf Riversdal is, hou ek langs die pad stil en ek vertel haar dat die kleuterstorie van “The Sleeping Beauty” nie net ’n storie is nie, maar dat haar ‘slaapplek’ in die Langeberge is. Ek wys na die gedeelte in die berg wat ons almal sovele kere gesien het, maar dat ons, eintlik ek, glad nie die slapende mooi ding kan sien nie. Sy kyk na die plek en sy sê baie opgewonde: “Ja, ek sien haar. Kyk net hoe mooi is haar profiel afgeëts teen die blou lig.”

Ek kyk en kyk, maar kan geen mooi vrouegesig uitmaak nie. Sy wys toe na die groot uitstaande kranse teen die gesigseinder en trek met haar vinger in die lug die profiel van ’n vrou se kop na. Toe sien ek uiteindelik die slapende ‘mooi ding’. Ek wat vir jare nie die “Sleeping Beauty” kon sien nie, sien dit nou baie helder. Dankie my vrou vir die uitwys van hierdie natuurwonder in die Langeberge by Riversdal. Hier is ’n foto van die slapende mooi ding. “Kan julle haar vind?”

Die “Sleeping beauty.” Kyk regs bo in die foto. Werk dan van die groot hoë kranskop af, aan die linkerkant van die kranskop, na onder. Die hoë kop is haar haredos, dan verder af haar plat voorkop met die oogwimper wat uitstaan, dan die neus, dan die bolip, dan haar nek; dan haar bors en verder die gelykte waar haar liggaam onder die kombers lê. (Gebruik jou skeppingsvermoë) (Foto: Google)

Ons het ons hele drie weke wittebrood by familie deurgebring, want eerstens was dit maar die algemene wyse van vakansie hou deur almal, en verder was hotelle te duur vir ons kripvreters en daar was nie, soos nou die geval is, vakansie blyplekke soos gastehuise en “lodges” nie. Ons het vooraf per brief aan al die familie laat weet wanneer ons by hulle sal aankom en vertrek, almal was dus voorbereid op die jonge egpaar se verblyf. Kom ek meld net so ’n klompie familie by wie ons vertoef het, by die ander het ons net gesig gewys: Op die plaas Keerweder by oom Hennie en tant Kotie Roux (oupa Dupie se suster), in Parow by oom Fanie en tant Sarah du Plessis (oupa se broer); by Boet en Tiekie du Plessis, oom Fanie se seun en ons neef te Vasco in die Kaap; oom Theuns en tant Christie Botha (oupa se suster) op die plaas Vaandelsdrift by Drew, in die distrik van Swellendam; by my suster Anna en Pieter Dunn en by suster Babie en Nicolaas (Nieklaas) van As

te Malgas en in Barrydale by suster Kowie en Japie van Daalen. Japie is Kowie se eerste man wat oorlede is toe hy later te Groote Schuur Hospitaal ’n opehartoperasie ondergaan het. Die wêreldbekende dr. Chris Barnard, wat later die eerste menslike hart in ’n pasiënt oorgeplant het, het hom ook opereer. Terwyl ons by Kowie-hulle gekuier het, het ons al ouma Dupie se broers en susters wat te Barrydale gebly het en nog in lewe was, gaan opsoek. Ons het oumagrootjie Annie, ouma Dupie se ma, ook gaan opsoek wat bedlêend was by tant Louisa (Lewiesa) na ’n beroerteaanval. Ons is toe vandaar na Corrie se suster Loffie en Japie Kritzinger te Joubertina. Dit was omtrent ’n nuwe ervaring vir Corrie om al die nuwe familie van my te kon ontmoet, maar sy het later gemeld dat die ontmoetings net goeie herinneringe by haar gelaat het.

Terug by die huis word die kamer van my suster Maggie, vir ons twee ingerig want daar is ’n dubbelbed, en sy verskuif na die aangeboude kamer waar ek as jongman vir bykans ’n jaar en ’n half gebly het. Corrie moes by die SA Spoorweë en Hawens, waar sy as tikster gewerk het, bedank. Destyds kon ’n dame nie by ’n staatsinstelling bly werk as sy getrou het nie. Sy het maar tuis by Mamma gebly en gehelp waar sy kon. Ek het my werk te Redhouse hervat en nou is ek weer in die gewone roetine van aanklagkantoordienste en ondersoek van misdade en bywoning van klagtes. Ek moet nou eers op 1 Desember 1959 by Burgersdorp polisiestasie vir diens aanmeld. Amper was ek weer nie in staat om te gaan nie, want ek was in ’n redelik ernstige motorongeluk betrokke, pas nadat ek weer diens hervat het. Corrie was amper ’n bloedjong weduwee gelaat (ek het pas 23jr oud geword voor ons huwelik en Corrie was ’n jeugdige volwassene van 21 jaar.)

Ek het beloof om ook te skryf oor die derde motorongeluk met die Volksie wat ek gehad het. Dit het soos volg gebeur:

Ek en sersant Wakeford is in die aanklagkantoor te Redhouse polisiestasie, ek doen diens daar en hy sien die registers na. Die telefoon lui, ek antwoord en ’n mev. Ferreira skakel vanaf die Kleinskool woonbuurt om te sê sy hoor daar is twee swartmans, elk met ‘n groot koffer wat by die busterminus staan. Hulle lyk verdag. Nou moet ek eers die situasie van Kleinskool en mev. Ferreira skets. Kleinskool is 99,99% ’n kleurling- en swartlokasie. Daar was net ’n paar blankes wat by hulle besigheidspersele gewoon het. Hulle het die nodige permitte onder die Groepsgebiedewet gehad om in ’n geproklameerde nie-Blanke gebied te bly. Mev. Ferreira en haar man het ’n winkel en slaghuis in dié lokasie besit. Dit was op die ou Port Elizabeth-Uitenhage pad. Die munisipale busse het reg voor hulle winkel omgedraai en daar tyd verwyl totdat die vertrektyd aangebreek het. Daar was omtrent net drie of vier telefone in Kleinskool, en almal wat probleme gehad het, het na hierdie besighede gegaan en gevra dat hulle vir Redhouse se polisie moet bel, vandaar dat onsmale sonder tal na ernstige, maar ook na onbenullige óf valse klagtes uitgeroep is. Ons patrollievoertuie in die Baai was daardie jaar (1959), wel met tweerigtingradio’s toegerus, maar gewone motors wat deur speurders en uniformlede gebruik is, was nog nie met tweerigtingradio’s toegerus nie.

Ek sê vir Wakeford ek sal gou ry, dis seker weer een van mev. Ferreira se vele klagtes namens een van die inwoners. Die patrolliewa is uit, die speurders is beide by die hof en dis net ek en Wakeford en ’n swartkonstabel wat die prisoniers oppas wat op die terrein werk. Ek gryp die blou Volkswagen en weg is ek Kleinskool toe. Dis so ongeveer 4 myl (±6,5km) vanaf Redhouse. Ek sien die bus staan by die vertrekpunt, en mev. Ferreira kom pad toe en sê die twee swartes is in die bus, hulle sit op die boonste dek. Ek klim uit, klim op die bus en vra die kondukteur om my saam na bo te vergesel. Ek vra die swartes wat het hulle in die tasse, en hulle antwoord net: “Ons klere.”

Ek maak die tasse oop, vind ’n klomp nuwe klere en ander nuwe items en voor by hulle voete lê ’n panga, ’n breekyster (“Tommy bar”) en ’n bandligter (“tyre lever”). Ek en die kondukteur bring die twee mans af en ek plaas hulle op die agterste sitplek van die Volkswagen. Sit die een koffer agter die agterste sitplek en die ander een voor onder die neuskap (“bonnet”). Ek plaas die panga, breekyster en bandligter op die vloer voor die voorste passasiersitplek. Ek het, omdat ek in die

aanklagkantoor gewerk het, nie boeie of ’n rewolwer by my nie. Niemand van die omstanders wou saam met my ry nie. Ek besluit, kom wat wil, ek ry met my vangs terug polisiestasie toe, dis nie ver nie. Hulle sal ook nie deure kan oopmaak nie, want die Volkswagen het net twee deure.

In die ry kyk ek kort-kort in die truspieëltjie om die twee dop te hou. So ongeveer 300 treë weg van die nuwe Port Elizabeth-Uitenhage teerpad, die een wat ons kamp se mense gebou het, kyk ek in die spieëltjie en sien die een agter my staan half regop. Ek wil stilhou, hy gryp my om die skouers en arms, ek laat los die stuurwiel waar ek dit op die tien-voor-twee posisie gehou het, gryp die stuur toe aan die onderkant vas en begin instinkmatig die rem te trap. Die ander een buk vooroor die rugleuning van die passasiersitplek om van die inbraakgereedskap by te kom, maar op daardie oomblik druk die een wat my vashou, my oor op die passasiersitplek. Dalk sal die vraag by julle ontstaan oor hoekom ek hulle nie met die veiligheidsgordels vasgemaak het nie. Wel, die motors van daardie jare het nie veiligheidsgordels gehad nie!

Die motor begin skerp na regs swaai, rol om, ek word uit die motor geslinger en trek met ’n boog deur die lug, die motor kom op sy wiele in ’n doringbos en turksvyboom bo-op my tot ruste. My kop lê by die motor se linker voorwiel. Ek lê onder die motor wat my in die doring- en turksvybos vasdruk. Ek sien rook onder die motor uitkom, nou wriemel ek my, soos ’n krap in “reverse gear” onder die motor uit. Ek wil nie onder die motor doodbrand nie, sal liefs om my lewe teen die swartes baklei –ek weet toe nog nie waar hulle is nie.

Ek is eindelik onder die motor uit, kyk rond en die een swarte kom na my toe aan gehardloop met die een wieldop van die Volkswagen in sy hande. Ek spring regop, en hy slaan na my met die wieldop. Gelukkig gee my regterbeen pad en ek val en die wieldop vlieg uit sy hand en woer-woer oor my kop die bosse in, ek spring weer op, weer val ek en ek hoor die een skree vir die ander een: “Baleka!” (hardloop in IsiXhosa). Hulle hardloop die digte bosse in. Ek staan uit die stof op, kan omtrent nie op my regterbeen trap nie – so ’n lam gevoel. Ek struikel hink-’n-pink na die pad toe, want die motor staan sowat 10 tree in die bos, en ek stop dadelik ’n motor wat vanaf PE na Uitenhage op die ou pad ry. Ek versoek die blanke bestuurder om om te draai en my na die Redhouse polisie-stasie te neem (Daardie jare kon ons nog op die samewerking van die burgery staatmaak om jou te help in die uitvoering van jou pligte.) Hy doen dit en hy ry ore in die nek die ongeveer 3 myl (±4,8km) polisie stasie toe. Ek gee baie kripties ’n verslag van die gebeure aan Wakeford, en hy bel dadelik die distrikskommandant op Korsten en terselfdertyd kom my vriend, speurdersersant Piet Strydom, terug by die kantoor van die hof af.

Dinge gebeur nou baie vinnig. Die distrikskommandant stuur sy swart Ford Farelane V8 amptelike voertuig om my na die hospitaal te neem. ’n Soekgeselskap word op die been gebring om die aanvallers te soek. Strydom laat vingerafdrukdeskundiges kom asook ’n fotograaf om die voertuig vir vingerafdrukke te ondersoek en foto’s van die wapens, koffers en die motor wat beskadig is, te neem. Ek is saam met die bestuurder van die Ford, konstabel Mulder van Korsten, oopketel op pad na die hospitaal toe. Toe ons naby die padkamp kom, vra ek die bestuurder om net gou by Pappahulle se huis, waar ons toe gebly het, stil te hou. Die bestuurder gaan in en sê vir my ma (ouma Dupie) dat ons op pad hospitaal toe is, want ek was in ’n ongeluk betrokke. Corrie het uitgekom, my in die kar gesien, ek het vir haar gesê ek is reg en sy moenie bekommerd wees nie. By die hospitaal het ’n dr. Schepers (’n Engelssprekende spesialis, vandaar die spelling van sy naam), ’n ortopeed wat reeds telefonies deur die distriksgeneesheer versoek is om na my om te sien, vir ons ingewag.

So lyk die Volksie nadat dit die pad verlaat en gerol het toe die twee inbrekers in ‘n doringbos vasgedruk was. (Foto: SAP Fotograaf in P.E.) my aangeval het en ek onder die bak

Ek is dadelik na ’n ondersoekkamer en nou word my broek uitgetrek om te sien hoekom ek nie behoorlik op my regterbeen kan trap nie. Hy vind ’n pendoring wat in my regterkuitspier ingesteek is, dis wat ’n spasma veroorsaak sodat ek nie behoorlik op die voet kan trap nie. Nou begin hy al pratende na die ongeluk uitvra terwyl hy dorings uit my bene en kop begin uithaal, van hulle moes hy eintlik uitslag. Na sowat ’n halfuur, met die nodige inspuitings teen klem-in-die-kaak (“tetanus”), gaan ek en die bestuurder terug huis toe met die 36 dorings wat uit my lyf gehaal is, en as aandenkings in gaas toegedraai is. Die bestuurder sal ’n verslag aan die distrikskommandant gee oor my vordering. Ek word vir ’n paar dae afsiek geboek. By die huis gaan ek in post traumatiese skok toe die nuwe jong vroutjie my in die bad help om behoorlik te kan bad. (Ek wonder darem of dit nie was omdat ek die koel hande van ’n bekommerde bruidjie op my kaal lyf gevoel het nie? Ha, ha.)

Een oggend vroeg, sowat 7vm (07:00), terwyl ek nog by Pappa-hulle tuis was om aan te sterk na die ervaring wat ek gehad het, kom Pieter Strydom daar aan en hy vra my of ek gou na sy motor toe kan kom, want hy het ’n verdagte gearresteer. Ek gaan uit en herken dadelik die swartman as die een wat my aangeval het. Pieter sê net dat hy nou kan begin werk om die ander een op te spoor. Die ander een was ’n dag of wat later deur hom gearresteer en ek moes hulle later amptelik op ’n uitkenningsparade gaan uitken. Ek sou later, toe ek reeds op Knapdaar gestasioneer was, na PE terugkom om getuienis in die Streekhof te kom aflê teen die twee swartmans wat aangekla is weens poging tot moord, inbraak en diefstal by ’n besigheidsperseel en in besit van inbraakgereedskap. Het ek al ge-noem waar hulle ingebreek het? Nie?, wel hulle het by ’n winkel in Despatch ingebreek. Goeie speurwerk gedoen deur Pieter Strydom. Pieter is na die afhandeling van die saak, deur die voorsittende streeklanddros vir sy ondersoekwerk gekomplimenteer. Beide van die gearresteerdes het soveel vorige veroordelings gehad dat hulle tot gevangenisstraf ter voorkoming van misdaad gevonnis was. (Dis ’n verpligte tydperk van 15-20 jaar in ’n gevangenis). Die ander prisoniers in die gevangenis het daarna verwys as: “Hulle kry die bloubaadjie.” Daardie jare was die gevangenes se drag ’n groenerige-kakiebaadjie en langbroek van dieselfde materiaal en die somerdrag was die langbroek vervang met ’n ¾ kortbroek gemaak van materiaal wat bekend gestaan het as ‘molvel.’ Die gevangenes wat die ‘bloubaadjie-vonnis’ gekry het, het inderwaarheid ’n bloukleurige serge materiaal baadjie in die tronk gedra.

Na ’n paar dae is ek terug by die werk en nou begin ons verplasingsdatum baie vinnig nader-kom en baie ou dingetjies moet gereël word. Al ons presente en breekgoed word in ’n kas gepak en die trousseaukis word ook deur die polisie se pakker, sersant Basson, te Mountweg polisiestasie behoorlik bekis. Hy sal dit per trein na Burgersdorp toe versend, saam met die kas breekgoed. Ons neem afskeid van die twee hartseer vergrote families, want hierdie twee jongmense vertrek nou na ’n vreemde plek en omgewing, weg van dit wat aan hulle bekend is en vir wie hulle lief is. Die lewe vir ons mense wat vir die staatsdiens óf Provinsiale Regeringsdiens gewerk het, is uitgelewer aan die moontlikheid dat daar op kort kennisgewing ’n verplasing in die weer sal wees. Oupa en ouma Dupie, asook oupa en ouma Scholtz, het net na ons ook uit Port Elizabeth getrek. Oupa Dupie-hulle wat op die Nasionale Paaie gewerk het, is na Uniondale toe verplaas, my broer Japie wat net matriek klaar geskryf het, is na die SA Leer gimnasium toe in Pretoria, my suster Maggie wat in die Baai by die Departement Openbare Werke (DOW) gewerk het, het tydelik by ons vriend, Pieter en Susan Strydom te Despatch ingetrek, in afwagting van haar verplasing na DOW se kantore in Pretoria. Oupa Scholtz, wat nog steeds by die SA Weermag diens gedoen het, is Grahamstad toe verplaas. Só is albei families binne die bestek van 3 maande uit ons gevestigde gebiede ontwortel.

Julle vra: “Waar de hel is Burgersdorp!?”

Wel, ons almal het dié vraag gevra. Ek openbaar hierdie geheim in die volgende hoofstuk.

HOOFSTUK 8: VERPLASING NA BURGERSDORP-POLISIESTASIE

Nie een van ons óf ons familielede het geweet waar Burgersdorp is nie. Ons raadpleeg maar ’n padkaart en werk ons roete uit en vertrek met ons swart Consul motortjie na die onbekende standplaas toe. Ry teerpad via King Williamstown, op na Jamestown. Ongeveer 4 myl (6,4 km) vanaf Jamestown op ’n grondpad oor Witkop na Burgersdorp toe. Watter vreemde omgewing was dit nie vir ons nie! Grondpaaie, Karoobossies, skape by die duisende en beeste by waterpunte by die windpompe wat oral te sien is.

Die swart en rooi sirkels op padkaart is om te wys waar Burgersdorp en Knapdaar geleë is. (Kaart: Padatlas van Suid-Afrika – 18de uitgawe)

Dit was Desember en uiters warm. Daar was toe nog nie sprake dat ’n motor en/of huise met lugversorgers toegerus kon word nie. Ons kom eers die middag te Burgersdorp aan, ons het albei al gedink ons kom nooit daar nie, en gewonder of ons nie dalk verdwaal het nie. Ons reis het ons deur vreemde omgewings en plekke en paaie geneem, eintlik die eerste wat ons as getroude egpaar saam ontdek het. Min het ons besef dat van nou af sal ons as ’n gesin, met die jare van saamwees, ons op ontdekkingstogte bevind wat ons op ver paaie deur ons land sal neem.

8.1 Ons kort verblyf

en ervarings te Burgersdorp

Die eerste indrukke van ’n plek is altyd die blywendste in ’n mens se geheue. Hier kom ons ’n vreemde dorp binne deur ’n nou poort van hoë berge, ek noem dit eintlik hoë koppe, wat aan beide kante van die dorp lê. Die dorp lê in der waarheid in ’n kom, met die woorde “Welkom Kakebeenwa, 1948” wat met klippe teen die hoogste punt van die berg aan die suidekant van die dorp uitgepak en met kalk afgewit is. Die dorp is rustig, so hier en daar ’n paar motors wat in die dorp beweeg en mense wat deur die strate dwaal – niemand is haastig nie. Die NG Kerk met sy ronde koepeldak en toring, naby die Grand Hotel en ’n straatblok verder die eerste Afrikaanse Taalmonument regoor die Gereformeerde kerk, dra by tot die rustigheid van hierdie dorp.

Ons soek die polisiestasie en vind dit ook aan die suidekant van die dorp. Dit is ’n massiewe gebou waarvan die vooraansig die indruk skep van ’n spoorwegstasie. Ons klim uit en stap die aanklagkantoor in waar konstabel Kieste de Beer die aanklagkantoor beman. Ek het later eers verneem dat hy sy bynaam gekry het omdat hy twee hangwange gehad het wat kompleet soos ’n

bobbejaan se kieste gelyk het wat vol kos geprop is. Ek stel onsself voor en hy neem ons deur na die stasiebevelvoerder, sersant Jacob Steyn, se kantoor toe. Die mense is almal vriendelik. Na ’n paar woorde se gesels, word daar nou navraag gedoen na moontlike woonplek waar die jong paartjie hulle kan tuismaak.

Ons verneem dat daar twee hotelle en ’n losieshuis op die dorp is. Ons besluit op die losieshuis en konstabel De Beer gaan ons die losieshuis wys. Dit is die ‘Nicosia Losieshuis’. Dis ’n dubbelverdiepinggebou binne loopafstand van die winkels, kerk en polisiestasie. Ons ontmoet die eienaar, mev. Susie Zietsman en haar eggenote Johan wat die hooftelefonis te Burgersdorp se Poskantoorsentrale is. Hulle gee vir ons ’n redelike groot kamer op die grondvloer by die hoofingang. Hierdie dorp is daardie tyd van die jaar, Desember, soos ’n bakoond en die feit dat die dorp in ’n kom geleë is, maak dit ook nie koeler nie. Die kamer is netjies, die swaar gordyne is toegetrek en dis skemerdonker in die kamer wat die hitte ’n bietjie draagliker maak. Op die tafel is daar ’n kraffie met water met ’n omgekeerde glas oor die tuit en dit lyk só uitlokkend en verfrissend, want daar is sulke klein borreltjies aan die binnekant van die kraffie asof dit koud en vars ingegooi is. Corrie neem die glas, gooi water in en neem ’n lekker groot sluk van hierdie ‘verfrissende water’, maar o wee, sy sluk stadig daaraan en trek ’n gesig, haar adamsappel gaan stadig op en af soos sy sluk, amper soos iemand wat aan ‘n wurgpatat wurg.

Sy kry haar asem terug en sê: “Dis dan brakwater!”

Beide van ons sal nog vir langer as vier jaar brakwater drink, met dit koffie en tee maak, in die voorbereiding van kos gebruik en só gewoond raak aan die smaak daarvan. Soveel so dat wanneer ons neutvars (soet) water op ’n plek kry, dit eintlik nie ’n smaak het en nie ons dors les nie.

Ek is die volgende dag in uniform by die kantoor en nou ontmoet ek die lede op die stasie:Konstabels Tiny Pretorius, die distriksondersoeker, Tred Treadway, Kieste de Beer, Teup Vermeulen, Daan Mulder, speurdersersant Daddy Fuchs en sersant Wimpie van der Merwe wat dienste as staatsaanklaer in die landdroshof (destyds die magistraatshof genoem) verrig. Daar is sowat ’n halfdosyn swart- en kleurlinglede, waarvan die name my ontgaan het. Ek vind nou uit dat die polisie- stasie inderdaad vroeër die spoorwegstasie was en dat die lang perron nou deel vorm van die oprit aan die suidekant van die polisiestasie, wanneer prisoniers op- óf afgelaai word. Die nuwe spoorwegstasie is bokant die hospitaal aangelê in die woonbuurt Leon Cachet. Die polisiemanne het glo self drie tennisbane gebou waar die spoorlyne langs die perron geloop het, een met ’n sement oppervlak en die ander twee met miershoopgruis. Die ou polisiestasie was aan die westekant van die dorp by die ingang na die woonbuurt bekend as Murray Hill, waar al die spoorweghuise gebou is. Dié gebou en terrein word tans as munisipale werkswinkels en -kantore gebruik.

Polisiewerk en -dienste is mos regdeur die land eenvormig en op dieselfde lees geskoei, daar-om is die registers en metode van diensverrigting in die aanklagkantoor niks vreemd vir my nie. Ek moet nou eers die plekke in die kantoor, waar bewysstukke, prisoniers eiendom, sleutels, verbruikbare items, wapens, ens. gehou word, ontdek.

8.2: Burgersdorp, plek van Verrassings

Soos reeds gemeld, is die dorp op die oog af ’n rustige plek, maar daar wag egter ’n paar verrassings vir my in die polisiemilieu waarin ek my nou bevind. (Hierdie plek is vol verrassings!). Daar was ook ’n paar verrassings wat ons uit ’n kultuur-historiese perspektief op die dorp raakgeloop het. Daardie verrassings word na die verrassings wat ek in my hoedanigheid as polisiebeampte ervaar het, kortliks beskryf:-

Die eerste verrassing:

Sers. Wimpie van der Merwe en die stasiebevelvoerder vra my of ek enige kennis het van aanklaerswerk in die hof, waarop ek natuurlik nee geantwoord het. Hier kry ek dus my eerste verrassing. Wel, sê hulle, ek sal vanaf die volgende week, ek dink dit was so om en by die 9de Desember 1959, tot vroeg in Januarie 1960 in Wimpie se plek moet waarneem as staatsaanklaer, want hy en sy gesin vertrek vir bykans ’n maand met vakansie see toe. Wimpie neem my na sy kantoor toe waar hy my in die geheimenisse van ’n staatsaanklaer se werk inlyf. Ek word die res van die week gewys hoedat ’n klagstaat teen ’n beskuldigde voorberei word en elke dag gaan ek saam met hom na die magistraatskantoor toe, waar ek die magistraat (landdros), meneer Fouché en meneer JK van der Walt, die assistent-magistraat, ontmoet.

’n Tweede verrassing wag op my, ek kon nie glo dat hierdie plek só vol verrassings is nie. Die verrassing is dat die hoofmagistraat, meneer Fouché, ook vir ’n maand met verlof weggaan, nou sal ek en JK die reg-en-geregtigheid en Justisie se werksaamhede van die distrik moet hanteer. Al twee van ons is nog redelik onkundig wat die werksaamhede alles behels. Wag ek meld ’n bietjie later so ’n blaps of twee wat elkeen van ons in die afwesigheid van die gesoute amptenary gemaak het. Burgersdorp was die magistraatshofsetel en het die hele munisipale- en afdelingsraad gebied ingesluit. Elke magistraatsdistrik het ’n naam gehad wat nie noodwendig die naam van die dorp sal wees waar die magistraatsetel is nie. Só was Burgersdorp se distrik byvoorbeeld bekend as ‘Albert’ en Grahamstad as ‘Albanie’. Afdelingsrade was destyds in die Kaapprovinsie verantwoordelik vir buitestedelike gebiede se paaie- en gesondheidsdienste, soos wat die ander Provinsies hulle Buitestedelikerade (“Peri Urban Councils”) gehad het. Daar was nog twee polisiestasies in die magistraatsdistrik, naamlik Witkop waar ondersersant Tulie van Deventer die stasiebevelvoerder was en Knapdaar waar 2de-klas sersant A.J. van Niekerk (sy bynaam was te lelik, kom ek noem hom maar liewer peestertjie) die septer geswaai het. Hulle was ‘C’-klas stasies en hulle het ook onder die direkte bevel van die stasiebevelvoerder van Burgersdorp geval en hulle kriminele sake was ook in die magistraatshof te Burgersdorp verhoor.

Ek is reeds ’n week vroeër as waarnemende staatsaanklaer by die landdroshof op Burgersdorp ingesweer, wat ek toe al sukkelende met ’n geswoeg en gesweet met klagstate en dienste van ’n aanklaer besig was. Terwyl ek nog met hierdie dagtaak geworstel het, ontvang ek my derde verrassing. Ondersersant Tulie van Deventer neem ’n week voor Kersfees vakansie en kom eers na Nuwejaar 1960 terug. Konstabel Tred Treadway van Burgersdorp word tydelik as ondersersant deur die distrikskommandant te Middelburg (KP) aangestel en moet by Witkop die stasie in die afwesigheid van Tulie hanteer. Die Saterdagmiddag van die eerste naweek wat ek op bystanddienste geplaas word, dis die week voor Kersfees 1959, kom roep hulle my by die losieshuis, en die boodskapper sê ek moet vir tydelike ondersersant Treadway by Witkop polisiestasie dringend skakel.

Ek stap sommer Burgersdorp se aanklagkantoor toe en skakel Witkop polisiestasie en praat met Treadway. Hy sê ek moet asseblief uitkom, want een van die gesiene boere van die distrik, meneer Toy van Niekerk, hy was voorsitter van die Witkop Boerevereniging, het blykbaar selfmoord gepleeg. Hy sê dat hy dink die geval behoort deur ’n sersant ondersoek te word. Ek meld toe aan hom dat hy as ondersersant aangestel is en dat hy dieselfde magte, bevoegdhede en verantwoordelikhede as ’n volwaardige sersant het, maar nee, hy dink tog ek sal die geval beter kan ondersoek. Dus nog ’n verrassing, want selfmoord gevalle het ek ook nog nie hanteer nie. Ek het nog net daarvan in die koerante gelees, maar het darem met my studies geleer hoe om onnatuurlike sterfgevalle te ondersoek. Nou moes ek die teorie met die praktyk versoen.

Ek gaan terug losieshuis toe, vertel Corrie wat gebeur het, trek my uniform aan en ek sê dat ek nou na Witkop toe gaan om die skietvoorval te gaan ondersoek. Ek neem ’n swartkonstabel saam om die pad aan te wys, want die gebied is só vreemd vir my soos die pad na die hemel óf na die hel

toe. Ek vind Treadway op die plaas en natuurlik ’n paar boere met hulle vrouens en die ontslape man se vrou en kinders wat almal maar hartseer is. Ek vra na die toneel en hulle beduie my na ’n kamp wat omhein is en ongeveer 500 meter van die opstal is. Ek vra waar die man is en hulle neem my na die slaapkamer waar ek die lyk, ten volle geklee, op die bed aantref. Die vrou, met trane in haar oë, moet die identifisering doen, en toe word sy verskoon. Treadway is saam met my en ek ondersoek die lyk. Daar is ’n klein ingangswondjie onder sy ken, maar geen uitgangswond nie. Geen verdere wonde óf merke nie. Sy klere is vol stof. Ek vra na die wapen, en hulle oorhandig ’n ,22 geweer aan my. Daar is nog patrone in die magasyn en ek ruik dat die wapen wel afgevuur is. Ek lê beslag op die wapen as bewysstuk. Ek gaan na die toneel en een van die boere gaan saam met my en Treadway. Hy is die een wat deur mev. Van Niekerk geskakel is om te kom help om haar man huis toe te dra. Die toneel is bloot die kamp wat met ses doringdraadlyne toegespan is. Geen ander merke of bewysstukke nie. Die plek waar hulle hom opgetel het, word uitgewys, asook waar die geweer gelê het. Ek maak ’n rowwe terreinplan in my sakboekie sodat ek later ’n volledige plan kan optrek, met ‘n sleutel tot die plan wat ook distansies aangedui. Ons soek na die patroondoppie, maar kon dit nie vind nie. Die vrou deel my mee dat Toy met die geweer uit die huis is en niks gesê het nie. Die verwydering van die ontslapene na die Burgersdorp hospitaal se lykshuis is gereël en die eggenote was versoek om die volgende Maandag die lyk by die lykshuis te kom identifiseer. Ja mense, waar daar persone gedood word a.g.v. van ’n wederregtelike handeling, moet een van die nagelate familielid/lede die traumatiese taak van uitkenning van die lyk doen. Ek het die nodige inskrywings in die polisieregisters gemaak en ’n Geregtelike Nadoodse Dossier is geopen.

Wil julle weet wat die uiteinde van die skietvoorval was wat ek ondersoek het? Tydens die Geregtelike Nadoodse Ondersoek wat in die landdroshof gehou is, is ’n bevinding van: “Dood as gevolg van ’n skietwond aan die hoof. Geen misdaad word vermoed nie” gemaak. Ons het vermoed dat hy selfmoord gepleeg het, maar die familie het gedink dat die wapen per ongeluk afgegaan het toe hy deur die draadheining geklim het, op pad terug huis toe. Saak afgehandel. (Fynere detail van my ondersoek word nie hier verwoord nie. Ek volstaan met dit wat hierbo geskryf is.)

Ek het gemeld dat ek en JK (Uitgespreek – Jaykay) van der Walt, die assistent-magistraat, saam ’n paar floppies in die hof gemaak het met ’n paar strafsake waar ek as aanklaer opgetree het en wat hy as voorsittende beampte verhoor het. Ek noem slegs die volgende geval, want die ander deurstampies was maar net administratief van aard wat dadelik reggemaak kon word en geen invloed op die uitslag van die sake gehad het nie:

Wel, ek het aangekla teen ’n kleurlingman wat ’n skaap in die distrik gesteel en geslag het. Ek dink dit was een van konstabel Tiny Pretorius se sake wat hy ondersoek het. Die beskuldigde was ’n ou tronkvoël en het ’n redelike lang kriminele rekord gehad. Hy pleit skuldig en nadat ek die Staat se saak afgesluit het met die boer en ander getuies se getuienis wat ek gelei het, het hy niks ter verdediging óf ter versagting te sê gehad nie. Ek vra vir skuldigbevinding en ’n swaar gevangenisstraf sonder die keuse van ’n boete, met die vorige veroordelings teen hom as motivering. Ek beveel 8 (agt) maande gevangenisstraf, sonder die keuse van ’n boete, aan. Dit word aanvaar. Beide van ons, ek en JK, het vergeet dat magistrate in laerhowe destyds slegs ’n jurisdiksie van ’n maksimum van 6 maande gevangenisstraf, sonder die keuse van ’n boete, wat hy na skuldigbevinding op ’n beskuldigde kon oplê, gehad het.

Die oorkonde van die saak, moet dan ook nog aan die prokureur-generaal (PG) gestuur word vir voorlegging aan ’n regter wat die saak moet hersien en die vonnis moet bekragtig, al dan nie. Iemand vertel toe vir ons van hierdie blaps, daarom stuur ek toe die saak se oorkonde, met ’n opsomming van die getuienis, na Grahamstad, die hooggeregshofsetel van die Oos-Kaap, en toe begin die poppe dans. Die vonnis wat opgelê is, is te swaar, want dis buite verhouding tot die misdaad en tweedens die magistraat het sy jurisdiksie oorskry. Nou moet ek en JK maar deur middel

138

van skriftelike verduidelikings die aangeleentheid met die hooggeregshof se griffier, die regter se opmerkings beantwoord om die floppie te beredder. Die uiteinde van die saak is dat die regter, nadat hy van ons antwoorde op sy vrae wat ons op skrif gestel het, kennis van geneem het, beslis dat:

a) Die skuldigbevinding word gehandhaaf (goedgekeur),

b) die vonnis word verander om soos volg te lees – 8 (agt) maande gevangenisstraf waarvan 2 (twee) maande gevangenisstraf opgeskort word vir 3 (drie) jaar met die gewone voorwaardes, ens.

c) verhoging van jurisdiksie word terugwerkend aan die voorsittende magistraat, dis nou JK, gegee wat die saak verhoor het, en

d) beide van ons was vermaan om nie weer so ’n blaps in die regspleging te begaan nie.

Wel ons was verlig want daar was geen verdere nagevolge as gevolg van hierdie blaps nie. Daardie saak was destyds in “Prentice Hall”, die bundels wat jaarliks deur departement van Justisie uitgegee word van belangrike straf- en siviele sake se vonnis en/of hersienings wat deur die Hooggeregshowe deur die land hanteer is, gerapporteer. Moenie nou vir my die besonderhede van die saaknommer, beskuldigde, ens. vra nie. Die jaartal was in 1959/1960, maar dit net terloops. Hoe lees die spreekwoord?: ‘Deur skade en skande word ’n mens wys!’

Ek en Corrie het vriende met die ander jongmense wat in die losieshuis gebly het, gemaak. Van hierdie vriende was onder andere ’n outjie met die van Vorster wat van die bruin valkies wat saans in ’n groot bloekomboom, naby die woonbuurt Murray Hill kom slaap het, gepraat het as ‘die baie voële’. Nogal ’n snaakse uitdrukking vir voëls nè. Hy het hierdie uitspraak kwytgeraak deurdat die takke van die bloekombome, waarin die valkies saans kom slaap het, spreekwoordelik wit ‘geverf’ was van die ‘voële’ se mis. Daar was ook ’n getroude outjie, Dawie Moll, wat na die spoorweë te Burgersdorp verplaas is. Ons al drie was maar ewe vreemd op hierdie vreemde plek. Sy familie het nog nie by hom aangesluit nie. Ons het later, toe sy vrou Lilly, die twee seuns en dogtertjie arriveer het, baie goeie huisvriende geword.

Ek het nou weer my raket uitgehaal en Saterdae en Woensdagmiddae begin tennis speel, en daarmee volgehou toe ek Knapdaar toe verplaas is. Corrie het dan Saterdae saam met my gegaan en by Lilly Moll gaan kuier, óf sy het met die tennisspelers se vrouens by die tennisbaan gesit en gesels. Alhoewel ons ’n getroude paar was, het ons naweke maar so ’n paar van die losieshuisbrakke (inwoners) in die swart Consul ingedruk en die dorpe in die omgewing gaan verken. Ons was Steynsburg toe en het ook draaie op die ‘groot plek’ Knapdaar, waar daar ’n polisiestasie is, en die warmwaterbronne te Aliwal-Noord, gaan maak.

Ek het mos gemeld dat hierdie Burgersdorp vol verrassings is. Die volgende verrassing was toe Corrie sê sy wil graag die distriksgeneesheer gaan besoek want sy voel nie lekker nie, want sy het die vermoede dat sy swanger is. Haar vermoede is bevestig toe sy ’n besoek aan die distriksgeneesheer, dr. Niehaus, gebring het. Later het sy so terloops opgemerk dat die vermoede reeds begin posvat het toe ons uit Port Elizabeth vertrek het, maar sy het dit as ’n verrassing vir my gehou. Watter verrassing was dit nie! Ek verwys later na die groot geskenk wat ons ontvang het.

Wel, hier is die volgende verrassing wat so in die middel van Januarie 1960 na ons kant toe gekom het. Die distrikskommandant van Middelburg (KP), kaptein W.A. Bekker, daag uit die bloute te Burgersdorp op en hy gaan in ’n vertroulike gesprek met die stasiebevelvoerder, Jacob Steyn, in sy kantoor. Nou wonder die teenwoordiges by die polisiestasie wat de duiwel nou aangaan. Sovele manne wat daar was, so vele vrae in hulle gedagtes. (Dit het ek later gehoor): “Is dit ek wat fouteer het?, Wat gaan hy met my maak? Nou speel alle handelinge die afgelope paar dae, weke, maande waarin ek betrokke was voor my gedagtes verby wat dalk die oorsaak van hierdie geheimsinnige gesprek met die stasiebevelvoerder tot gevolg het.” Hierdie dinge het ook maar deur my gedagtes

geflits. Die ys word gebreek vir die ander ouens toe ek deur Jacob Steyn gevra word om na sy kantoor toe te kom. Kaptein Bekker vra my sommer reguit of ek omgee om op 1 Februarie 1960 as stasiebevelvoerder by Knapdaar polisiestasie te gaan oorvat. Ek is te dankbaar dat die onderhoud nie oor iets anders gaan nie, en stem dadelik in. Hy meld net kortliks dat daar probleme by daardie stasie is en dat die stasiebevelvoerder dringend Port Elizabeth toe verplaas word.

Later het Jacob Steyn my vertel waaroor die gesprek in sy kantoor gegaan het. Die stasiebevelvoerder, 2de klas sersant A.J. (Peestertjie) van Niekerk, se vrou het probeer selfmoord pleeg deur vlieëspuitgoed, Pyagra, te sluk. Die rede was glo omdat sy uitgevind het dat hy ’n buiteegtelike verhouding met een van die plaasboere se vrouens gehad het. (Toe hierdie episode van hom rugbaar geword het, het almal toe so stilweg onder mekaar gesê: ‘O, is dit hoekom sy bynaam Peestertjie is!’) Sy vrou het die poging tot selfmoord oorleef, want sy het glo die meeste van die slegte goed uitgespoeg. Toe sy weer tot verhaal kom, het sy die distrikskommandant te Middelburg (KP) getelefoneer en oor haar man se huweliksontrou gekla. Sy het toe gevra dat hulle dringend verplaas moet word.

Ons verblyf by Burgersdorp as my standplaas het presies twee maande geduur, want nou moet daar gereedgemaak word om na Knapdaar toe te gaan. Ons het nogal baie vriende gemaak met ons kort verblyf op Burgersdorp. Daardie vriendskappe het egter nie doodgeloop nie, inteendeel, dit het verstewig, want tydens ons verblyf van vier jaar op Knapdaar, het ons gereeld Burgersdorp toe gegaan vir inkopies, sportbeoefening en hofsake. Daaroor word meer volledig in die volgende hoofstuk vertel.

Nou kortliks die verrassings wat ons in ons hoedanigheid as Afrikaanssprekende egpaar op die dorp ervaar het wat van kultuur-historiese belang vir Afrikaners is:-

Eerstens: Ons ontdek dat daar by die ingang van die dorp vanaf Aliwal-Noord se kant, ’n blokhuis is. Dit verskyn elders.

Dit is ’n fort wat gebou is om die dorp te verdedig teen aanslae van buite. Hierdie fort se geskiedenis, het ek nie nagevors nie, maar soos alom bekend by ander dorpe in die Oos-Kaap, was dit deur die Engelse gebou sodat dit deur Engelse soldate gebruik kan word. Hulle sou enige aanslag wat die Boeremagte sou loods om die dorp van die Engelse besetting te ontset, vanuit die blokhuis kon afweer. Daar was skietgate in die mure en ’n dak om die Tommies (dis nou Engelse soldate) teen die versengende Karoo-hitte te beskerm. Kom aan, hoe lyk dit, wil een van julle lesers nie by die Burgersdorp se inligtingskantoor, ’n bietjie navorsing gaan doen nie? Ek het die foto van die blokhuis van die internet getrek.

Die blokhuis aan die westelike ingang van Burgersdorp – Aliwal-Noord se kant. (Foto: Google)

Tweedens:- Ook by die ingang van die dorp vanaf Aliwal-Noord se kant, was die Gereformeerde kerk se eerste kweekskool. Dit is amper regoor die tronk geleë. Dit is sovêr ek weet as ’n kultuurhistoriese gebou verklaar, maar dit was in ons tyd nog in gebruik. Wel nie deur die Gereformeerdes nie, maar as hoofkwartier vir Burgersdorp se Voortrekkerbeweging. Ons het altyd maar net daar verby gery en nie werklik die gebou gaan besoek nie.

Derdens:- Die heel eerste Afrikaanse Taalmonument in ons land, is op die klein pleintjie in die middel van die dorp opgerig. Dit was aanvanklik nie omhein nie, maar met die jare het ongewenste persone daar vergader en is dit beskadig. Dit is later deur die Afrikanergemeenskap herstel en toe is dit met ’n tralie omheining afgesper. Sedertdien is die tralie omheining ook verwyder en die plein waar die monument is, is heeltemal verfraai met twee gedenkstene in die toegangsboog tot die plein. Dalk, as die Liewe Heer ons nog sou spaar, sal ons weer hierdie dorp van verrassings gaan besoek en meer rustig na al die gemelde plekke kyk, dalk nog foto’s neem, so nie moet my kinders wat belangstel, maar die takie verrig en in hulle memoires daarvan skryf.

Die volgende twee gebeure, wat deur die ou inwoners van die dorp aan my oorvertel is, word vir die humor wat ons daarin kan lees, vermeld. Ek sal nie vir die waarheid daarvan instaan nie:

Die eerste geval het gegaan oor hoe ’n boer in die distrik, kom ons noem hom ‘Labuscagne’, ’n poskoets beroof het. Gedurende 1948 het poskoetse, getrek deur perde, deur die land gereis, op pad na die inwyding van die Voortrekkermonument te Pretoria. Daar was ook ‘n kakebeenwa wat die groep vergesel het. Elke koets was vergesel van twee jong manne wat as rapportryers die koets te perd vergesel het. Poskoetse het uit die vier verskillende provinsies na Pretoria gereis. By elke dorp waardeur die koets en waens gereis het, het die burgemeesters groetebriewe (rapporte) gegee wat by die inwyding van die Voortrekkermonument gelees sou word. Dit sou dan daar in ’n plek gehou word. ‘Labuscagne’ het glo die poskoets, met al die rapporte, by ’n driffie net buite die dorp op die Steynsburg grondpad met sy perd en geweer voorgelê.

Die eerste taalmonument in Suid-Afrika te Burgersdorp. Die terrein is sedertdien baie mooi opgeknap en die tralieheining is verwyder.(Foto: Google)

En, soos wat daar in die ‘Western’ flieks poskoetse deur die “crooks” aangeval en beroof is, het hy glo, met ’n vermomming, die koets voorgekeer, die koetsdrywer en die twee rapportryers vasgebind en die leerpossak met die al die briewe geroof. Die kakebeenwa het op ‘n ander uitspanning vir die

nag uitgespan. Hy het die mense en die koets net so daar gelos. Dit was glo ’n groot gedoente. Die segsman wat my die storie vertel het, sê dat ‘Labuscagne’ niks oorgekom het nie, want hy het die possak glo by die polisiestasie op die dorp gaan inhandig. Hy het glo gesê hy wou net wys hoe maklik die koets met die belangrike groetebriewe beroof kan word.

Die tweede insident waarby dieselfde ‘Labuscagne’ betrokke was, is die volgende:

Hy gaan dorp toe om aankope by die Albert Koöperasie te maak. Hy besoek Standard Bank en wil ’n tjek van £100,00 wissel (R200,00). Die kassier sê vir hom dat hy ongelukkig nie sy tjek kan wissel nie, want hy het sy oortrokke geriewe se limiet oorskry. Hy is smoorkwaad en gaan direk na die Barclays Bank op die dorp. Hy spreek die bankbestuurder en sê hy wil sy bankrekening vanaf Standard Bank na Barclays Bank toe oordra, maar hy wil eers sy skuld by Standard Bank vereffen. Barclays Bank open ’n tjekrekening vir hom en gee hom ’n tjekboek. Die aangeleentheid raak nou baie interessant. Hy reël met Barclays Bank om vir hom £100,00 se kleingeld te gee. Dit moet £25,00 in sikspense (silwer munte), £25,00 in tiekies (silwer munte), £25,00 in pennies (koper munte) en £25,00 se halfpennies (koper munte) wees. Ek het reeds vroeër in hierdie boek gemeld wat die betaalstelsel in die 50-tigerjare was, met die waarde van elke muntstuk. Wel hy kry toe ’n paar seil banksakkies waarin 1000 sikspense, 2000 trippense, 6000 pennies en 12000 halfpennies is. Hy gaan plaas toe en kom te perd die dorp ingery. Gaan maak ’n draai by die kroeg, neem ’n paar kappe en so kwart voor drie in die middag, ry hy met sy perd by die oop voordeur van Standard Bank in. Hy ‘parkeer’ sy perd voor die toonbank en sit die paar seil banksakke met die silwer- en koper munte voor die kassier neer en sê: “Ek kom my skuld by julle betaal.”

Dit word vertel dat hy het met perd en al in die bank gebly totdat ieder en elke werknemer van Standard Bank opgekommandeer is om die geld te tel. Daardie jare het alle banke om 3nm vir die publiek gesluit sodat die boeke vir die dag afgesluit kan word. Daar was ook nie die hedendaagse tellermasjiene wat die munte kon weeg en dan die totaal vir jou gee nie. Wel, hy is eers later die middag met sy perd uit die bank uit en met ’n bewys dat hy sy £100,00 betaal het, in sy sak.

Toe ek my segsman vra: “Het die perd nie die bank bevuil nie?” toe word ek vertel dat dit was maar so ’n effe suur-stinkende-affêre in die voorportaal van die bank wat agterna deur die skoonmakers skoongemaak moes word. Die voorafgaande insident het ek netso oorgedra soos wat dit aan my vertel was. Ek is nie aanspreeklik vir die waarheid daarvan nie!

Ja, liewe lesers, julle het seker nou al agtergekom dat polisiebeamptes onder die ou bedeling, nie eintlik kon aanspraak maak om na ’n besondere plek verplaas te word nie. En dat hy ook nie kan weier as hy aangesê word om met verplasing te gaan na ’n standplaas wanneer die Polisie gevind het dat daar (’n) vakature(s) is wat gevul moet word

Die volgende hoofstuk gaan oor ons verplasing na Knapdaar polisiestasie en ek meld daarin wat ek as van belang ag.

HOOFSTUK 9: VERPLASING NA SAP KNAPDAAR IN BURGERSDORP-DISTRIK

Ons kon darem so vir ’n oggend, nadat ek ingestem het om as stasiebevelvoerder na Knapdaar toe te gaan, gou deurry om dinge daar te gaan deurkyk om vas te stel wat ons in die vorm van meubels moet aanskaf en watter geriewe daar beskikbaar is. Ons kom op Knapdaar aan en vind die polisiestasie. Kom ek gee ’n kort beskrywing wat ons by Knapdaar waargeneem het:

Dis ’n plaashuis, ongeveer 25 myl (±40km) vanaf Burgersdorp. Die huis lê net sowat 100 tree vanaf die gruispad tussen Burgersdorp en Bethulie in die Oranje Vrystaat Provinsie (Tans net bekend as

Die Vrystaat). Daar is ’n regte Handelshuis-tipe winkel wat langs die gruispad geleë is, wat aan ’n ‘Irishman ’, McVitty, behoort. Hulle woonhuis was langs die winkel. Hierdie winkel het alles van klerasie, hardeware en kruideniersware verkoop. As jy ’n toiletpot (’n kamerpot óf beter bekend as ’n piepot) benodig, sou jy dit ook daar kon koop. Daardie jare het die Handy Andy skoonmaakmiddel net op die mark gekom, en dit was selfs ook by hierdie winkel beskikbaar.

Langs die winkel was daar omtrent twintig kampe wat met draadheinings afgekamp is, waar daar maandeliks vee-vendusies gehou word. Naby die hek wat die ingang na die polisiestasie is, (almal het maar gepraat van die polisiekamp) het die plaaseienaar se skoonouers,oom Rooi en tant Sannie du Plooy, gebly. Hulle huis was teenaan die gruispad. Hulle skoonseun, Floors Coetsee, die grondeienaar, het op ’n plaas sowat 5 myl (8 km) van die stasie af gebly. (Floors Coetsee het ‘n seun gehad met sy doopname van President Paul Kruger Coetsee. Hulle het hom toe Dentjie genoem, die verkleinwoordjie van president. Hy het toe by sy pa-hulle gekla dat die kinders hom spot met sy buitengewone name. Sy ouers het toe sy naam by Binnelandse Sake laat verander na Paul Coetsee toe, maar die ironie was dat almal hom nog steeds ‘Dentjie’ genoem het.) Die huiscum-polisiestasie, was ’n kasarm van ’n plek, groot kombuis, spens en drie slaapkamers met ’n sitkamer en ’n sig-sag-gang wat deur die huis loop. Die een slaapkamer word deur ’n ongetroude polisiekonstabel, P.A. Myburg (Piet), as enkelkwartiere gebruik. Die polisiekantoor het op die stoep uitgegaan en was net een vertrek groot. Dit was duidelik dat die badkamer later op die voorstoep, naby die voordeur van die huis, aangebou is. Daar was twee buite kleinhuisies, dis nou vandag se buite toilette, – een vir die huisbewoners en een vir die publiek en die konstabel se gebruik. Daar was ’n sandsteengebou wat vroeër die stalle was waarin die polisiebakkie en die bevelvoerder se motor kon staan, met ’n afskorting wat as kamer vir die swartlid, konstabel Molea, se gebruik daargestel is en net langsaan dié afskorting, ’n tweede afskorting. Hierdie vertrek is in ’n sel omskep. Op die terrein was daar ’n sinkplaatstoor waarin die petrol, olie en alle skoonmaakmiddels geberg word.

Ek het uit my onthouvermoë nou ’n rowwe terreinskets van die polisiekamp, die woongebied van die ander inwoners en die ‘besigheidsgebied’ van Knapdaar, geteken. Die skets verskyn elders in die boek. Ek dink dis jollie-goed gedoen – wat dink julle? Ek moet darem so ’n bietjie spog, want ek het by vele geleenthede tydens getuienislewering oor motorbotsings en strafbare manslag sake in die landdroshowe komplimente van die voorsittende landdroste ontvang met betrekking tot die volledigheid en akkuraatheid van sketsplanne van misdaadtonele.

Ek het elementêre motorbotsingstonele altyd volgens skaal geteken, maar dit nooit só op die plan aangedui nie, want ’n 1/16de duim (±1mm) verskil op ’n lyn wat getrek is, kan lei tot ’n uur lange kruisverhoor onder eed, want dit kan maklik ’n meter (óf soos ons in die ou mate beskryf het, ’n 3vt) verskil maak. So ’n verskil kan dan daartoe lei dat alle ander mates op die plan in dispuut geplaas kan word, en jou getuienis as gevolg daarvan verwerp word. Gelukkig sal hierdie rowwe skets seer sekerlik nie in ’n hof getoets word nie. Ha, Ha. “Because why? the reader is none the wiser!” Daar was ’n spoorwegstasie waar die stasiemeester en sy twee stasievoormanne in spoorweghuise gebly het. Verder was daar nog drie ander spoorweghuise waarin twee blanke ploegbase (“gangers”) van die spoorweë gebly het en in die derde huis het die oorlaaikruier, Jopie van Rensburg, ’n oujongkêrel, en sy weduweemoeder gebly. Daar was ook sowat ’n dosyn bliktente waarin die swartspoorwegwerkers gehuisves is. Net sowat ’n 100 treë vanaf oom Rooi se huis, was daar die gemeenskapsaal, waarin die Vroue Landbouvereniging (VLV) en die Boerevereniging hulle maandelikse vergaderings gehou het. McVitty se handelshuis en sy bediendes se kwartiere asook die veevendusiekrale word alles op die skets aangedui.

Kom ek trek ’n denkbeeldige sirkel om die woon- en besigheidsgebied soos hierbo beskryf. Dit sou ’n sirkel van ongeveer 600 meter in deursnee wees. Alles was dus binne loopafstand, maar die

polisiëringsgebied waarbinne die 60+ plase geleë is, was ongeveer 1800vk myl (± 2900 vk. kilometer) groot en baie uitgestrek. Aan die oostelike grens van die polisie se polisiëringsgebied was Aliwal-Noord, aan die suidekant Burgersdorp, aan die westekant Venterstad en aan die noordekant Norvalspont, nog in die Noord-Oos Kaap. Bethulie in die OVS was net oor die Oranjerivier (tans die Gariep genoem). Die boerderybedrywighede was oorwegend veeboerdery (skape en ’n paar melkkoeie) met so ’n bietjie saaiery as dit die jaar ’n goeie reënjaar was. Boere langs die Oranjerivier, het ook met groente en lusern geboer deurdat daar regdeur die jaar genoeg water uit die Oranjerivier gepomp kon word. By al die plase was daar ’n verskeidenheid vrugtebome. As dit die jaar mooi gereën het, het almal vrugte in oorvloed gehad.

Ons wou bitter graag weet hoe hierdie plekkie aan sy naam gekom het. Daar was ’n paar weergawes, maar die meeste van die ouer geslag het volstaan by die feit dat die boere en togryers wat deur die distrik met wa en osse gereis het, by ’n uitspanning daar naby gaan oornag het en van die trekosse het daar gedurende die nag gevrek. Hulle het dan die volgende môre vroeg-vroeg weer ingespan en met die orige osse die pad Burgersdorp, of Bethulie in die OVS toe, voortgesit. Hulle het knap daar gekom en toe weer vertrek. Wat was dan die oorsaak van die vrektes onder die osse?

Die ouergeslag sê dit word vermoed dat daar ’n giftige plant by die uitspanning was waaraan die osse gevreet het wat die vrektes veroorsaak het.

Ek praat later oor die blommeprag in die veld by Knapdaar. Dalk was dit die oorsaak hoekom die togryers van vervloë dae die plek vermy en ’n ander uitspanplek gemaak het. Oom Rooi du Plooy het nog die ou uitspanning aan my uitgewys. Dit was só ongeveer ¾ myl (±1km) vanaf Knapdaar in die rigting van Burgersdorp en die nuwe uitspanning so 2 myl (± 3,2km) verder.

Ons kyk wat ons in die huis sou benodig, en maak die volgende opgawe: Ons sou ’n kombuiskas,tafel en -stoele moet koop asook ’n houtstoof en ’n primusstofie. Die spens sou darem ’n klein yskassie moet hê, paraffien gedrewe, want daar is geen elektriese krag beskikbaar nie. Ons slaapkamer sou eerste gemeubileer word, en die tweede een eers later. Ons moes ’n dubbelbed, mans- en dameshangkaste asook ’n spieëlkas aanskaf. Omdat daar geen elektrisiteit was nie, sou ons met blakers en kerse en ’n paraffienlamp moet klaarkom. Ons sou dit óók moes aanskaf.

Die polisiekantoor het darem ’n stormlamp en lampolieverwarmer gehad. Die polisiekantoor kon maandeliks ’n kwota paraffien vanuit die staat se voorraad gebruik. Daar was geen binnenshuise toiletgeriewe nie daarom moes ons ook ’n slopemmer en kamerpot koop, want as ons ’n groot behoefte gedurende die nagtelike ure sou ontwikkel, kon ons nie gou-gou na ’n toilet toe gaan nie. Die sitkamervloer moet darem ’n mat, ’n koffietafel, ’n 3-sitplekbank en 4 gemakstoele hê. Daar moes gordyne vir die kombuis, spens, ons slaapkamer en sitkamer se vensters gehang word. Die aangeboude badkamer op die voorstoep het nie gordyne nodig gehad nie, want die enigste venster se ruite was met wit verf toegeverf.

By die dorp teruggekom, gaan ons na die enigste meubelwinkel, CW Hoffman en Kie, wat al ons benodigdhede sou kon voorsien. Ons gesels met oom Coert Hoffman en hy laat my ’n rekening oopmaak en ons koop al die goed wat ons nodig het en hy sal dit op die dag van die verplasing by Knapdaar gaan aflaai. Die goed wat ons gekoop het, het die allemintige bedrag van £250.0.0 gekos (R500,00). Ons het maandeliks so £5.0.0 (R10,00) op hierdie skuld afbetaal.

Corrie se trousseaukis en die kas met die geskenke het sedertdien ook gearriveer en dit sou ek met die polisiebakkie by die losieshuis kom haal sodra ons gevestig is. Corrie en tannie Lily Moll het toe begin om gordyne te maak van materiaal wat sy, Corrie, by Pep Stores gekoop het. Tannie Lilly Moll was ’n regte raakvatter wat kleremaak betref. Later sou sy ook vir Corrie leer hoe om met materiaal te werk en klere te maak. Die stasiemeester te Knapdaar se vrou Jenny, was netso bedrewe met

naaldwerk en hierdie twee vriendinne was haar leermeesteresse. Die stasiemeester self, Jack Petzer, en Jenny was later ook deel van ons vriendekring te Knapdaar.

Hier dra ek ‘n Knapdaarhoedjie wat ek present gekry het. (Foto – Werner)

9.1 Neem amptelik Knapdaar-polisiestasie oor as stasiebevelvoerder

Op 1 Februarie 1960 arriveer ons te Knapdaar, en nadat ons so ’n bietjie rondgestaan en die wêreld om ons ingeneem het, het die huisraad gearriveer. Toe raak ons vir ’n paar uur besig met die plasing van die meublement, en ons het natuurlik ook inkopies gaan doen by McVitty se winkel. Knapdaar polisiestasie sou dus my heel eerste polisiestasie wees waar ek die septer as stasiebevelvoerder moes swaai. Dit was ‘n heel vreemde situasie, want nou moet ek die besluite vir lede neem óf daar teen oortreders opgetree moet word al dan nie, beplanning van patrollies en indeling van dienste, die handhawing van dissipline, samewerking met die boeregemeenskap, die indiening van verslae en opgawes na die distrikskommandant se kantoor te Middelburg (KP) en die samewerking met buurpolisiestasies se bevelvoerders.

Daardie mantel van verantwoordelikheid het nou op die 23-jarige sersant se skouers kom val. Hierdie mantel sal ek moet dra, hoe vreemd dit ook al mag wees. Gelukkig het die

stasiebevelvoerder van Burgersdorp, Jacob Steyn, my algaande in die geheimenisse van die taak van ’n bevelvoerder ingelyf, en soms as gevolg van my voortvarendheid, óf sal ek dit weens my onkunde noem, het ek op die duur manier geleer. Ek sal later in hierdie hoofstuk só hier en daar van die voorvalle noem waar ek my ervaring as polisieman opgedoen het, die goeies en ook dit wat ek met dure lesse geleer het.

Ek begin nou saam met konstabels Piet Myburgh en Molea die distrik leer ken deur op voertuigpatrollies uit te gaan. Hierdie kontrei se boere is omtrent 80% Doppers (Gereformeerdes), 15% Gatjaponners ook genoem ‘gaatjieponders (NGK lidmate) en 5% Engelse wat almal reeds verafrikaans het. So hier en daar nog een wat na “Home” verlang en met ’n stywe bolip Engels praat. Kom ek onderbreek my gedagtegang en vertel net die een insident waarby een van die Engelse boere, Eddie Friend, wat met ’n Afrikaanse meisie, Dalene, getroud was, betrokke was. Eddie se ma het by hulle gebly en sy was juis een van die ‘stywe bo-lip’ Engelse wat nie Afrikaans wou praat nie. Dalene het vertel dat sy en haar skoonma by geleentheid woorde gehad het oor iets wat sy, Dalene, gedoen of gesê het, en toe het sy haar skoonma toegesnou: “Nou praat jy stront!”

Die ouvrou vra toe: “Stront, stront, what is that?”

Dalene het bloot geantwoord: “Dis kak as jy nie weet nie.”

Die skoonma was glo nie baie ingenome met hierdie stelling nie. Wel ek laat hierdie stukkie humor eenkant en bepaal my nou verder met wat op die misdaadfront gebeur het.

Misdaad was maar relatief min en het meer gewentel om padvervoer oortredings deur boere wat met trekkers en sleepwaens wat ongelisensieer is, op die openbare paaie ry, swartarbeiders (plaasvolk soos hulle genoem was) wat uit diens gedros het. (skuldig aan ‘Diensverlating, ’n ou 1882 Wet wat daardie tyd die arbeidskwessies tussen werkgewer en werknemer op plase gereël het) en die aller teenwoordige messtekery en kierieslanery oor naweke wanneer die sorghumbier (daardie tyd kafferbier genoem) die sinne van die werknemers verdof het. Diefstalle was ook aan die orde van die dag, veral veediefstal waar skape gesteel word en dan weggery word óf vir potslagtery, waar van die werknemers op ’n plaas gewoonlik net een skaap geslag het.

Ons was so ’n maand of wat op ons standplaas toe Piet Myburgh se ma en pa vanaf Prieska daar kom inloer het. Hulle het op Burgersdorp gebly en in die dag uitgekom na ons toe. Alhoewel ons ’n ekstra slaapkamer gehad het, kon hulle nie by ons oorbly nie, want daardie kamer was nog nie gemeubileer nie. Hulle het vir Corrie ’n broodmes en broodbord persent gegee, want sy het een van haar vingers raak gesny deur die brood teen haar bors vas te druk en dit dan te sny. (Haar ma het ook die brood op dié manier gesny. ‘Só piep die oue, só piep die jonge’, óf is dit ‘só sny die oue, só sny die jonge?!’) Ons het by geleentheid ’n lekker braaivleis daar gehou en ook ’n waatlemoen geslag. Corrie was nog redelik siek nadat sy die waatlemoen geëet het – seker maar die swangerskap óf dalk was die waatlemoen effe verlep, kan nie meer onthou nie.

Piet Myburgh was net ’n paar maande saam met my daar toe hy met ’n onbekende siektetoestand deur die distriksgeneesheer te Burgersdorp gediagnoseer is. Hy kon nie skryf nie, want sy hande was aan die bokant vol blasé. Daar was ook blase tussen sy vingers, en sy nek was baie pynlik. Piet en die dokters te Burgersdorp was onkundig m.b.t. die oorsake van sy siektetoestand. Die distriksgeneesheer het net so ’n olierige salf voorgeskryf vir die blase, maar dit het eintlik nie gehelp nie. Sodra hy ’n pyn ontwikkel, a.g.v. die blase of selfs net vir ’n hoofpyn, het hy na McVitty se winkel toe gestap en KPP-pynpoeiers gaan koop en twee gedrink.

Eendag sê een van die swartwerkers van oom Rooi, vir Molea, dat Piet in uniform in die braksloot lê. Hy het vroeër aan my gesê hy gaan winkel toe om hoofpynpoeiers te gaan koop. Ek gaan dadelik af na die braksloot toe en sien hy is nie by sy positiewe nie. Ek gaan terug polisiestasie toe, kry my

147

motor en sê vir Corrie ek gaan vir Piet dokter toe neem. Ek laai hom in my motor en jaag deur Burgersdorp toe.

Die dokter kom uit sy spreekkamer en kyk sommer so in die motor na hom, en sê hy dink dis ’n hartaanval en ek moet hom dadelik hospitaal toe neem. Hy was daar vir so ’n dag of wat behandel en toe per ambulans na Queenstown se hospitaal toe oorgeplaas. ’n Lang storie word nou kort geknip. Hy word van Queenstown na Port Elizabeth se Provinsiale hospitaal oorgeplaas waar ’n dr. Deans hom met porfirie diagnoseer. Dr Deans was toe die land se kenner op die mediese toestand van porfirie, wat eintlik ’n genetiese oorerwingstoestand by persone is wat veral in sekere Afrikaanse families voorkom. Omdat ’n porfirielyer ’n allergie vir erge son ontwikkel en ook nie barbiturate mag gebruik om die pyn te stil nie, het dr. Deans aan Piet gesê dat hy so ver moontlik beskerming moet verleen aan sy liggaamsdele wat normaalweg deur die dag ontbloot is en liefs uit die son moet bly. Hy het ook gemeld dat pynmiddels wat barbiturate bevat, eintlik ‘gif’ is vir ’n porfirielyer. Terloops, die genedraer van hierdie siektetoestand was glo ’n Hollandse meisietjie Maria Talifert wat gedurende die 1800’s die land saam met haar ouers ingekom het as ’n immigrant vanaf Nederland.

Ek het Piet se ouers nog dieselfde dag geskakel en hulle het toe saam met hom, in die ambulans, vanaf Burgersdorp na Queenstown en Port Elizabeth gegaan. Piet het heeltemal herstel en is na sy herstel na Tarkastad toe verplaas om in die aanklagkantoor te gaan werk. Die rede vir dié verplasing was dat indien hy weer siek sou word, moet hy naby ’n groot mediese sentrum wees sodat hy dringend vir porfirie behandel kan word. Oos-Londen is naby genoeg waarheen hy sou kon gaan.

Ek het hom jare later te Algoapark polisiestasie in PE gesien toe hy daar as ’n sersant gestasioneer was en ek as ‘n Pretoria hoofkantoor offisier ’n hoflikheidsbesoek aan die polisiestasie gebring het. Tydens ons kort gesprek, het hy my toe meegedeel dat hy vanaf Tarkastad na Port Elizabeth verplaas is sodat hy naby dr. Deans kon wees wat verdere navorsing oor porfirie gedoen het. Hy was toe ’n getroude man en was toe nog steeds een van dr. Deans se kontrole pasiënte. Sy latere wel en wee het ek nie opgevolg nie. Ons het wel verneem dat dr. Deans ’n hele klompie jare gelede reeds geëmigreer het, ek glo dit was na Engeland, want hy was redelik Engels in sy gesprekke met sy pasiënte.

9.2 Wedervarings tydens die ANC/PAC-verhore te Burgersdorp Redelik vroeg in 1960, ek dink dit was so om en by Maart/April, het die destydse regering van die dag, ’n noodtoestand in Suid-Afrika afgekondig wat vir ’n hele paar jaar sou duur. Daardie wet wat passeer is, het vir die aanhouding van persone, sonder verhoor vir 90 dae óf vir 120 dae, voorsiening gemaak. Die tydperk het gevarieer na gelang van die tyd wat nodig was om ’n saak teen die aangehoudenes te ondersoek. Die aangehoudenes was persone wat die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme en die Wet op Oproerige Byeenkomste oortree het. Dit was die era waar die nou al bekende ‘Hoogverraadverhoor’ in Pretoria plaasgevind het wat vir bykans vyf jaar geduur het. Dit was na die arrestasie van die persone wat landwyd gedurende Desember 1956 gearresteer was, waaronder ook Nelson Mandela was. Al die beskuldigdes in daardie Hoogverraad hofsaak is in Maart 1961 vrygespreek, wat gelei het tot hernude gevalle van sabotasie en organisering om die wit regering omvêr te werp.

Dit was ook die begin van die Poqo-opstande, die gevegsvleuel van die nuutgestigte Pan Africanist Congress (PAC ), ’n wegbreekgroep vanaf die ANC. Ons moes gereeld snags op patrollie uitgaan om die kwespunte in die distrik te gaan besoek. Die enigste kwespunte wat in ons polisiewyk was, afgesien van die polisiestasie, die ou padbrug en die ou treinbrug wat langs mekaar oor die Oranjerivier, na Bethulie in die OVS gelei het en die twee spoorwegstasies, Knapdaar en Olive. Olive was so ongeveer 5 myl (±8km) vanaf die Oranjerivier af. Dit was ’n kleiner spoorwegstasie as

148

Knapdaar. (Kan dit kleiner wees? Ja, dit kan, want daar is nie ’n polisiestasie nie en ook nie ’n winkel nie!)

Die rede vir die noodtoestand was die dreigende aanvalle op polisiestasies en sleutelpunte in die land deur die Poqo’s. Hulle wou die polisiestasies in Paarl en Worcester aanval, maar hulle opmarse was in beide gevalle afgeweer en heelwat swartpersone wat aan die opmarse deelgeneem het, het gesterf. Die nou alombekende aanval was op die Sharpeville polisiestasie waar heelwat swartes van die ANC deur die polisie doodgeskiet is toe hulle daardie polisiestasie wou aanval. Hierdie aanval het ook aanleiding gegee tot die noodtoestand wat afgekondig is.

Opstande en aanvalle op die polisie en burgerlikes, het sporadies plaasgevind. Byvoorbeeld die Spoorwegpolisie te Queenstown was aangeval en toe die SA Polisie kom hulp verleen, was hulle ook aangeval en van hulle was beseer. Aanvallers is ook daar doodgeskiet. Die Bashee-moord, waar blanke padwerkers by die tydelike padkamp by die Bashee-brug in die Transkei, aangeval en vermoor is, het alles bygedra tot die politieke stryd wat deur die ANC en PAC in die Oos-Kaap onder die swartbevolking aangewakker is. Alle landelike polisiestasies in die Republiek se stasiebevelvoerders was opdrag gegee om hulle polisiestasies en -wonings tydens nagtelike ure te verdonker om opsporing deur moontlike aanvallers (terroriste) te bemoeilik. Ons moes vroegaand reeds alle ligte in die polisiestasie uitdoof. Wanneer ons snags op patrollie uitgaan, het Corrie, volgens haar vertelling, al die kerse en die lamp doodgemaak en met haar kop onder die kombers met ’n flitslig gelê en boek lees. Ek het haar leer ken as een wat ’n ‘leesgierige’ persoon is, vandaar dat sy vandag nog lief is vir lees en sy seker tot in lengte van dae sal bly lees, mits haar sig dit sal toelaat.

Die lede van die Veiligheidspolisietakke van die Oostelike Provinsie te Port Elizabeth en die nuutgestigte polisie-afdeling, Suid-Westelike Distrikte, te Oudtshoorn, het nou die hele Noord-OosKaap deurkruis met besoeke en ondersoeke om die ANC en PAC organisasies se plattelandse takke en selle asook om medewerkers te identifiseer. Persone aldus opgespoor is dan ingevolge die wetgewing wat die 90- en 120 dae aanhoudings sonder verhoor reël, by die polisiestasies in ons polisiedistrik, Middelburg KP, aangehou. So moes ons elke 14 dae die aangehoudenes van polisiestasie tot polisiestasie verskuif, en later toe aanklagtes teen hulle ingebring is, is die verskuiwing van aangehoudenes nog voortsit sodat hulle almal te Burgersdorp verhoor kan word. Burgersdorp was toe as die verhoorsetel aangewys. Die aparte aanhoudingsplekke was bloot om te voorkom dat die aangehoudenes in groot groepe in ’n polisiesel kan bly organiseer en dalk in aanraking met hulle families mag kom wat vir hulle kon kos bring en sodoende dan boodskappe na ander lede van hulle onwettige organisasies, sou kon uitsmokkel. Met ander woorde, hulle onwettige bedrywe gaan dan voort terwyl hulle in aanhouding in polisieselle is.

Hierdie aanhoudings en verhore het tot in 1962 aangegaan en ek en Molea moes male sonder tal help met die vervoer en bewaking van hierdie politieke gevangenes by die Landdroshof te Burgersdorp en by die verskillende polisiestasies in die distrik. Die volgende polisiestasies was aanhoudingsplekke vir die bykans 100 gearresteerdes: Burgersdorp, Middelburg (KP), Steynsburg, Conway, Teebus, Molteno, Hofmeyr, Witkop, Venterstad, Colesberg, Norvalspont, Hanover en ja, daar was selfs een by Knapdaar aangehou. Sy naam was Felix Faniso, hy was so ’n skraal-gat-bebrilde-swartman van Burgersdorp wat glo die Minister van Finansies in die ANC-regering sou wees as hulle die land sou oorneem. Terloops, julle weet seker dat die land se ANC-regering eers in 1994 werklikheid geword het. Dank die Liewe Vader die oorname sou eers later plaasvind toe daar eers stabiliteit in die land kon kom en die land nog verder opgebou kon word.

Ek het nooit weer iets van Felix Faniso gehoor of gesien nadat hy tronk toe is vir sy lidmaatskap van ’n verbode organisasie, die ANC, nie. Blykbaar was hy nie groot genoeg óf slim genoeg om Minister te word nie! Dis geskiedenis hoe die land weer onstabiliteit beleef het met insurgente van die ANC en PAC wat in Afrika en in oorsese lande as vegters (terroriste) teen die Regering van die tyd, opgelei en bomme geplant en moord en doodslag gesaai het. Dit word later in aparte hoofstukke verwoord toe grensdienste gevolg het. Ek, en later ook ons kinders, het grensdiens verrig. My ervarings tydens grensdiens word later vermeld.

Hierdie afdeling word voorlopig afgesluit, aangesien die geboorte van ons eerstelinge nou die kollig gaan steel na die voorafgaande donker en morbiede prentjie wat geskilder is.

9.3 Geboorte van ons eerstelinge, Kobus en Anton en hulle dinge

Corrie moes nou ook elke maand na die distriksgeneesheer toe gaan met haar swangerskap. Die ondersoeke is gewoonlik gereël wanneer ek ’n prisonier of twee na Burgersdorp toe vir verhoor moes neem, óf wanneer die patrolliewa gediens moet word. Ons ‘plaaspolisiemanne’ kon ons vroue en kinders in die patrolliewaens as passasiers laat ry, as die rit ’n amptelike rit was. Ons moes net ’n geskrewe vrywaringsvorm inhandig en hulle besonderhede elke slag in die logboek aanteken. Sodra haar besoek by die dokter afgehandel is, het sy maar vir my by tannie Lilly Moll óf by tannie Van der Walt, die assistent-landdros JK van der Walt se ma, gewag.

Corrie het redelik erg begin swel. Haar gesig was rond geswel en haar voete poffertjies. Gedurende Junie 1960, ek dink dit was die 25ste, gaan ek die Saterdagmiddag tennis speel, en sy sê sy voel nie lus om saam te gaan nie, maar ek oorreed haar tog en gaan laai haar by tannie Lilly Moll af en ek gaan tennis speel. Toe ek na tennis vir Corrie by Lilly gaan haal, word ek lelik die Leviete deur Lilly voorgelees omdat ek nog nie vir Corrie dokter toe geneem het nie, en word in geen onsekere taal opdrag gegee om vir haar dadelik dokter toe te neem. Ek gaan na die distriksgeneesheer se huis toe, maar hoor dat dr. Niehaus op die plaas is. Ons ry toe maar terug Knapdaar toe met die belofte dat ek haar die Maandag dokter toe sal bring. Ek bel die dokter vanaf Knapdaar na sy plaas toe, en hy sê hy glo nie dis iets ernstig nie, maar sy moet haar maar stil gedra en ek moet haar maar Maandagoggend spreekkamer toe bring.

Maandag, die 27ste Junie, kom ons by die spreekkamer aan en dr. Niehaus skrik hom deur die weste nadat hy ’n urienmonster ontleed en gesien het dat daar te veel eiwitte in die monster is. Dit het gedui op ’n moontlike wanfunksie van die niere wat kan lei tot nierstuipe tydens geboorte. Hy bespreek dadelik ’n bed vir haar in die plaaslike hospitaal en ek moet haar dadelik gaan inboek, maar hy stem tog, na oorreding, in dat sy eers weer kan terugry Knapdaar toe sodat sy vir haar nagklere en allerhande mooimaakgoedjies kan saambring hospitaal toe. Het ek al genoem dat Knapdaar 25 myl (±40km) vanaf Burgersdorp is, óf het ek nie? Wel, ons ry terug, sy pak nagklere in, ons reël met Piet Myburgh dat hy maar by tant Sannie sy etes moet gaan neem, en ou Emily sal vir my iets aanmekaar slaan. Ek het self ook genoeg kos van tant Sannie af gekry om die hongerpyne te stil – ekself wou net nie weer rys kook nie! Ha, ha.

By die hospitaal kom ons ooreen dat ek nie die aand sal kom besoek nie, want drie keer se heenen-weer-ryery, is darem te dik vir ’n daler! (Dis mos ‘n ou gesegde wat seker nou in onbruik verval het!) Sy sou nou in die hospitaal moet bly om rustig te verkeer sodat die niere se funksie weer tot normaal kan terugkeer. Haar swangerskap was toe so ongeveer 35 weke ver gevorder en sy het redelik ongemak verduur want die ou skraal meisietjie wat my vrou geword het op 3 Oktober 1959 het nou ’n gewig gehad waaraan sy nie gewoond was nie. Die geboortedatum van die baba, toe nog nie eens geweet daar is twee aan die kom nie, was bepaal vir om en by 4 Augustus 1960. Dr. Niehaus, die distriksgeneesheer, het nog geen inwendige ondersoek gedoen om die ligging van die baba, ens. vas te stel nie. Daar was toe ook nog nie die hedendaagse flikkergramme (sonar) wat

die vordering van die baba se ontwikkeling in die baarmoeder kon waarneem om enige abnormaliteite vroegtydig te kan identifiseer nie.

Die volgende môre, 28ste Junie 1960, om ongeveer 07:00 die oggend staan ek in my kamerjas en maak vir my en Piet roereiers vir ontbyt. Die telefoon lui en ek antwoord dit. Dit is matrone Nella Steyn van die hospitaal, Jacob Steyn se eggenote, met wie ek saam tennis speel, en sy sê: “Môre Dup, veels geluk, jy is die pa van ’n tweeling!”

Ek redeneer nog dat Corrie nie hospitaal toe is vir ’n bevalling nie, maar vir behandeling, maar sy bly my gelukwens. Sy sê verder: “Die eerste een is ’n seuntjie wat 5 voor 6 die oggend gebore is en ons wag nog vir die tweede een om gebore te word.”

Ek sit half verleë, verslae en ongelowig die telefoon neer. Ek dink nog dis ’n grap, want ek ken vir Nella, sy is ’n regte grapjas. Ek eet eers klaar, en trek my uniform aan. Weer lui die telefoon en dis weer Nella. Sy sê: “Jong jy moet klere bring vir die kleingoed.”

Ek sê nou reguit vir haar: “Jong jy maak verniet grappe, ek kom later vir haar besoek.”

Sy klink nou ernstig en sê: “Ek wed jou ’n bottel sjampanje, dis die heilige waarheid, jy moet die klere bring. Onthou dit moet rooi sjampanje wees anders bring jy dalk ’n bottel p*s (piepie) hier aan.”

Ek sê toe maar: “Goed ek kom!” Ek bly die ongelowige Tomas en wil nou regtig seker maak dat daar ’n bevalling was.

Ek skakel die telefoonsentrale te Burgersdorp en Johan Zietsman antwoord, hy is, soos ek reeds vroeër gemeld het, die eienaar van die losieshuis waar ons op Burgersdorp gebly het. Ek vra hom om die hospitaal te bel en te vra hoe dit met Corrie gaan want sy is in vir behandeling. Sekondes later skakel hy terug en sê: “Geluk ou Dup, jy is die pa van ’n tweeling.”

Dinge gebeur nou baie vinnig. Ek gryp die koffer wat agter Corrie se klerekas staan waarin sy reeds heelwat kleertjies, doeke, ens. bymekaar gesit het vir die kleinding wat gebore gaan word. Ek reël gou by die kantoor dat ek afwesig sal wees en weet nie wanneer ek sal terugkeer nie. Die swart Consul sing die grondpad af hospitaal toe. By die hospitaal is sy nog in die kraamsaal waar hulle haar finaal gereedmaak om terug te gaan in die saal. Die tweede baba, ook ’n seuntjie is om 09:26 gebore, net voordat ek by die hospitaal aangekom het. Nella wys die twee kleingoed vir my en nou is ek nie meer ongelowig nie maar heel in my skik en vol vreugde met die twee ‘groot’ seuns.

Ek gaan na haar toe, wens haar geluk, sy lyk maar pootuit na die lang wag tussen die twee geboortes. Ons beide is in die wolke, maar min wetende wat daar nog vir ons voorlê met hierdie twee rakkertjies. Ek groet haar en gaan heel eerste na tannie Lilly Moll toe en vertel haar van die groot geskenk wat ons van die Hemelse Vader ontvang het.

Sy vra: “Is hulle “premature”? en ek sê : “Nee man, hulle is groot” en ek wys met my hande hoe groot, amper soos die vistermanne wys hoe groot die vis was wat weggekom het.

Ek wil nou teruggaan Knapdaar toe, maar gaan maak weer gou ’n draai by die hospitaal. Nella sê dat die kleertjies wat ek gebring het te min is en te groot is en dat die kinders ander kleiner kleertjies moet kry. Ek gaan weer na Lilly Moll toe en vertel haar die teleurstellende nuus dat die twee kleingoed eintlik vroeggebore babas is, wat nog in die broeikas moet bly. Die hospitaal het net twee broeikaste gehad en dit was reeds beset deur ’n tweeling wat, voor ons tweeling se aankoms, ook dié nag aan die nie-blanke kant gebore is. Wel om die storie kort te maak, Lilly het toe vinnig twee of drie bababaadjies vir die kleingoed gemaak. Regte popklere en nou eers besef ek dat hulle maar regtig baie klein is. Die eerste outjie het net 3lb 15 onse (±1,4 kg), dis Kobus en die tweede een, dis Anton, slegs 4lb 7onse (±2,1 kg) weeg. Watter wonderlike geskenk het ons met hulle geboorte van ons hemelse Vader ontvang nie! Ons loof en prys Hom daarvoor.

Die nuus versprei vinnig in Burgersdorp en Knapdaar, want dis die eerste blanke tweeling wat in die hospitaal gebore is en Johan Zietsman by die telefoonsentrale bel al wat leef en beef. Ek ry terug Knapdaar toe en stuur ’n telegram na oupa en ouma Scholtz in Port Elizabeth asook na oupa en ouma Dupie te Uniondale toe. My suster Anna word ook getelegrafeer en sy moet die ander susters en broer Rassie verwittig en Pa Scholtz sal die familie aan die Scholtz-kant verwittig. Daar word die dag nie veel gewerk nie, want nou moet daar weer dorp toe gery word om te kyk of ek nie ’n bababedjie kan kry wat groot genoeg is om twee kinders te akkommodeer nie. Ek hardloop gou by oom Coert Hoffmann in en vra of hy enige bababedjies het wat groot genoeg is waarin ’n tweeling kan slaap. Hy sê: “Ja, ek het ’n tweedehandse pienk bababedjie. (“cot”)”

Ek koop dit sommer net daar, ek dink die prys was £5.0.0 (R10,00) en sal dit later met die polisiebakkie kom haal. Terug by Knapdaar by McVitty se winkel, koop ek sowat 500 ml blou verf waarmee ek later die bababedjie blou geverf het. Corrie en die kinders bly vir 16 dae in die hospitaal, sodat haar niere eers weer normaal kan funksioneer en die tweeling albei eers gewig kan optel voordat hulle kan huis toe gaan, want albei het gewig verloor (‘n paar onse) na die eerste paar dae na die bevalling. Dit is glo normaal by vroeggebore babas.

Dis winter en vrek koud in die Karoo en die kinders word in die hospitaal elk met twee doeke, een om die boudjies en een om die bene, en dan met ’n dun kombersie toegedraai. Elk kry ’n warmwatersak en dan word hulle snoesig in wolkombersies toegevou. Ons het vooraf vir net een baba voorsiening gemaak en by Volpe’s te P E doeke, baadjies, borslappe, spelde, ens. gekoop. Ek bestel vinnig nog doeke, en ander kleertjies wat arriveer toe Corrie alreeds terug by die huis is. Dié twee het saam deur 36 doeke gedurende die dag en nag gegaan, daarom moes ons genoeg doeke aanskaf, want elke slag as die doeke geruil moet word, is daar by elkeen van hulle twee doeke wat deurdrenk is van piepie óf van ander uitskeidings. Ja, daar was daardie dae glad nie so iets soos wegdoenbare doeke nie. Ons moes maar die gagga eers van die doeke afskud en dit dan met die hand was. Die gewaste doeke het dan soos witvlae op die wasgoedlyn gehang. Dit was nie om te wys dat ons nou ‘oorgegee’ het en die wit vlag gehys het nie, maar om te wys ons kinders se doeke word gereeld gewas. Ha, ha.

Ek gaan Corrie en die kleingoed haal en neem die vrou van een van die twee spoorweg ploegbase, (“gangers”) ook ’n Du Plessis, saam hospitaal toe. Die tweeling lê lekker vasgedraai in kombersies in die arms van die twee vroue. Nou terug Knapdaar toe. Nella en verpleegpersoneel leer vir haar hoe om die kinders aan die bors te laat drink, haar borste te behandel, die kleingoed te was, toe te draai, te weeg en te versorg, want dit is daardie winter bitter koud. Sy moet haarself oppas want sy moenie siek word nie. Sy wat self nie melk drink nie, moet ’n kalsiumpoeier, Calsuba, met melk aanmaak en drink. Sy moet gereeld ’n urienmonster van haar neem en ek moet dit toets. Die dokter het gewys hoe dit getoets moet word, en as daar enige afwykings daarin te bespeur is, moet ons hom dadelik laat weet.

Die urienetoetsmetode was soos volg: Ek ontvang die urine in die kamerpot, gooi ’n proefbuisie driekwart vol, hou die proefbuis effe skeef en verwarm die boonste kwart van die urienmonster met ’n vlammetjie. Sodra die urine aan die bokant begin borrels maak, word die vlam weggeneem en as die urine helder bly is daar geen probleme, maar sou dit troebel raak, is daar probleme, dan moet die dokter dadelik gebel word. Hierdie toets moes elke slag as sy urine passeer, uitgevoer word, dag en nag vir 14 dae. Dit was die kritieke tydperk waarin sy nog ernstige nagevolge van die bevalling sou kon ontwikkel. Gelukkig was die urientoets elke slag normaal. “Dankie Hemelse Vader!”

Ek word gou ontnugter m.b.t. my rus-, slaap- en loopgewoontes. Ek loop sagter op die plankvloere in die huis, maak deure saggies toe, help maar om elke drie ure in die nag warmwatersakke vol kookwater te maak, en om kinders se stêre droog en skoon te maak. Corrie staan ook maar saans

uit die bed op om aandag aan die kinders te gee. O aarde! die noodlot slaan toe, sy kry melkkoors. Nou moet ek ook daar dokter-dokter speel nadat die dokter gesê het dat sy in die bed moet bly en ook warm kompresse op die borste plaas. Nou moet ek noodgedwonge die opstaan werk in die nag doen, want sy word verbied om op te staan, want die melkkoors kan dalk omsit in ’n ernstiger siektetoestand. In die dag kon sy darem met haar nagkabaai en kamerjas in die kamer sit waar die son by die venster inskyn. Met hierdie nuwe taakomskrywing vir my, is daar nou ’n nuwe rus- en slaap-roetine wat ek in my geheue moet vaspen. Die volgorde van my self opgelegde taak is kortliks soos volg:

• Die eerste een wat huil, dis so elke drie ure, moet ek opstaan;

• eers die paraffienlamp (die stilbrander Alladin) aan my kant van die bed op die bedkassie, opsteek;

• kamerjas aantrek;

• die eerste een wat gehuil het optel, droogmaak (soms skoonmaak), vasdraai en vir Corrie gee om aan die een bors te drink;

• sy sit-lê nou en ek gee ’n bedbaadjie aan om oor haar skouers en bors te sit om nie weer ’n koue op haar borste te kry nie;

• gaan kombuis toe, steek primusstofie op, sit water op om te kook;

• terug kamer toe;

• die ander een huil, maak hom droog (soms skoonmaak);

• terug kombuis toe, gooi kouewater uit eerste warmwatersak;

• terug kamer toe, neem nommer een by haar, gee nommer twee vir haar vir die ander bors;

• vryf nommer een se winde uit;

• sit nommer een in bababedjie, op nommer twee se plek;

• neem ander warmwatersak kombuis toe, en gooi koue water uit;

• gaan kombuis toe, maak die twee warmwatersakke vol kookwater, sit primusstofie af en gaan kamer toe met die twee warmwatersakke;

• plaas eerste warmwatersak agter nommer een se rug, plaas ander warmwatersak in nommer twee se plek, waar nommer een gelê het, en maak dit toe;

• woel ’n kombersie om nommer een en kyk watter kant hy nou lê want netnou moet hy aan die anderkant van die bababedjie lê, anders druk die koppies aan die eenkant plat want die fontanelle op die hofies is baie groot a.g.v. hulle vroeggeboorte;

• Nou neem ek nommer twee by haar, sy gee haar bedbaadjie vir my en sy wurm-kruip salig terug op haar lêplek;

• ek vryf die tweede een se winde uit, plaas hom op sy lêplek nadat die warmwatersak uitgehaal en nou agter sy rug geplaas word;

• woel hom toe met ’n kombersie, gooi een kombersie oor al twee;

• Corrie slaap al weer die slaap van ’n dooie, ek gaan om na my kant, trek kamerjas uit, gooi dit op ons bed se voetenent;

• draai die paraffienlamp dood en kruip in langs haar. Nou is ek helder wakker en begin skape tel en allerhande ouvrou stories en wenke toepas om vaak te raak om te kan slaap.

• Corrie haal reëlmatig hier langs my asem, ek sluimer in en skrik wakker toe sy aan my druk en sê: “Een van die kinders is wakker!”

• Ek kyk op die wekker en sien dis presies 2 uur vandat ek gaan inkruip het, en nou begin die roetine soos hierbo – ditto, ditto, slegs die nommers verander afhangende watter nommer seun word eerste wakker.

Hierdie pajamadril rek darem nou te lank uit elke slag as ek opstaan. Ek is nie verniet ’n polisieman wat sistematies kan beplan en ’n metode van optrede, ‘modus operandi’, kan uitwerk nie. So na die derde ekskursie begin ek die plan van optrede wat ek uitgedink het, in werking stel. Dit werk nou so:

• Ek steek die lamp op en maak dit nie dood as ek kom lê nie, draai dit net baie laag – dit spaar nie net vuurhoutjies nie, maar ek kan 2 sekondes langer onder die komberse lê;

• ek staan op en trek my kamerjas aan en trek dit nie weer uit nie, klim met kamerjas en al in die bed, dit spaar weer ’n paar sekondes; en

• as ek opstaan maak ek nie albei oë oop nie, kyk net deur een oog op ’n skrefie, anders gaan die slaap uit my oë uit, en só spaar ek omtrent 5 minute en slaap ek baie gouer.

Hel, dit was maar moeilik, maar dit was ons eerstelinge en ons het geglo dit gaan só met al die mammas en pappas wat ‘n baba ryker geword het. Min wetende dat ons dit egter in oorvloed gehad het omdat daar twee is wat aandag geniet. Pajamadril het tot die uiterste ons geduld en liefde beproef, met en vir die kinders, maar ook vir my en Corrie se voortgesette huwelikslewe. Ons familie was nou baie vroeg in ons lewe reeds ’n optelsom van 2+2.

Alhoewel ek nou slegs van nommer een en nommer twee gepraat het, het ons reeds, by wyse van konsensus, die tweeling name gegee, wat reeds by die landdroskantoor te Burgersdorp geregistreer is. Corrie het op die naam Kobus besluit vir die oudste van die tweeling en ek het op die naam Anton besluit vir die jonger een.

Bedags het ek die swart Consul motor voor die aanklagkantoor in die vierkant, waar die sipresheinings is, getrek en Corrie het dan in die motor kom sit en brei óf boek lees. Sy het die motor as sonkamer gebruik, omdat die huis só koud was. Sy kon daarvandaan deur die enkelkwartiere stap na ons kamer toe as die kinders dalk begin klaerig raak en aandag soek. My polisieroetine gaan nou voort en ek begin ook weer tennis speel. Corrie bly aanvanklik nog ’n paar weke tuis en later sal sy en die tweeling met my saamgaan Burgersdorp toe as ek gaan tennis speel.

Ek het toe ’n plan gemaak met die kinders agter in die motor. Ek het ’n kombers styf in ’n rol opgerol en dit teen die skuinste van die agterste sitplek waar dit teen die rugleuning kom, geplaas en ’n groot kartondoos by McVitty gekry en die twee langs mekaar daarin laat lê. Later, soos hulle gegroei het, het ons hulle kop-en-voete teenoor mekaar in die kartondoos laat lê. Toe die kartondoos begin beknop raak, het ek die binnemate van die motor se agtersitplek en die opening van die agterdeure gemeet en toe ’n skets gemaak van ’n mandjie wat ek aan die Skool vir Blindes te Worcester gestuur het, met die versoek hulle moet so ’n mandjie van rottang vir my maak en dit dan blou gespuitverf. Intussen maak ek ’n houtbankie wat ek tussen die voorkant van die agtersitplek en die voorste sitplek se rugleuning inskuif om daardie opening toe te maak sodat die mandjie gelyk kan staan. Die mandjie is per spoor aangestuur en het ’n hele £3.0.0 (R6,00) gekos.

Ek het klapperhaar by McVitty bestel en Corrie het matrastyk (’n dik materiaal) gekoop en ’n matrassloop gemaak. Ek het toe ’n klapperhaar matrassie vir die mandjie gemaak en die matras wat in die bababedjie was, wat redelik platgelê was, het ek ook herstoffeer.

Nou vra julle dalk: “Waar het Pa geleer om stoffeerwerk te doen?”

Ek het gesien hoe oupa Dupie ons kinders se matrasse gestop het en hoe die klapperhaar gepluis word. Onthou julle nog hoe ek beskryf het hoe oupa Dupie se pa, oupagrootjie Hansie, die klapperhaar gepluis het? Die bondels klapperhaar is dan op ’n seiltjie, geplaas en met ’n rottang óf kweperlat van onder na boontoe geslaan sodat die gekoekte klapperhaar kan loskom. Ek het nie ’n seiltjie gehad nie en het sommer ’n stuk karton geneem waarop die saamgekoekte klapperhaar geplaas is. Ek het ook geen rottang gehad nie, toe maar ’n kweperlat gesny. By ons was daar ook nie ’n paraffienblik wat as nagemmer gedien het wat buite onder ’n seiltjie toegemaak was nie en ook nie ’n nuuskierige buurman wat in die blik wou kyk hoe lyk waterskilpaaie nie. Die slaanaksie is amper soos ‘n kam wat deur gekoekte hare getrek word, met die verskil i.p.v. bo na onder word die klapperhaarklonte van onder na bo geslaan om dit te pluis. Die rygnaald om deur die gestopte matras te steek om leervelletjies aan vas te bind, het ek van ’n fietsspeek gemaak. Die twee matrassies het waarlik mooi gekom en dit het jare gehou en is saam met die bedjie en mandjie weggegee toe ons dit nie meer benodig het nie. Ek sou só “smile”, want 5 is genoeg!

Die tweeling groei soos die spreekwoordelike pampoenranke en lê die hele mandjie vol. Die volgende is ook dinge waarby Kobus en Anton by betrokke was. Ons kuier een Sondag by Antonie Pieterse-hulle, een van die plaasboere in die distrik. Kobus en Anton was seker so drie-vier maande oud toe hulle dié dag by die Pieterses mekaar as tweeling ontdek het. Hulle lê in die mandjie voete teen voete en slaap. Toe hulle wakker word, begin hulle mekaar te skop. Dis ’n vreemde situasie vir ons, en ewe skielik begin Kobus kliphard lag toe Anton hom teen sy voete skop. Toe skop Kobus weer vir Anton teen sy voete en daar begin Anton lag. So het dit vir ’n redelike lang tydjie aangegaan. Ek glo dis die tyd toe hulle wel deeglik van mekaar se teenwoordigheid bewus geword het. Ons grootmense het ons verkneukel in hierdie petalje. Hierdie petalje het afgespeel net voor óf net na die tweeling gedoop is.

Die tweeling is op 2 Oktober 1960 in die NG Gemeente Burgersdorp ten doop gebring. Iewers is ’n foto en die berig wat in die Oos-Londen se destydse Afrikaanse koerant, Die Grenswag, verskyn het waar ons die tweeling tydens die doopplegtigheid vashou. Die laaste sin by die beriggie wat by die foto geplaas is, het ongelukkig in die slag gebly, maar dit vertel tog nog van die gebeurtenis. Alhoewel die tweeling baie van ons aandag geverg het, het ons egter nooit stil by die huis gesit nie. Ons het gereeld by plaasboere in Knapdaar se polisiewyk en by vriende op Burgersdorp gekuier, maar saans vroeg huis toe gekom. Die tweeling het ook gereeld saam tennis toe gegaan waar hulle uiteraard baie bederf was. Ons het met hulle selfs vir oupa en ouma Dupie te Uniondale gaan kuier. Ek moes by geleentheid ’n hofsaak te Port Elizabeth gaan bywoon om getuienis te lewer, en Corrie en die tweeling het by oupa en ouma Scholtz te Grahamstad gebly terwyl ek vort is Port Elizabeth toe. Tant Lilian Vreÿ en oom Koos was netso nuuskierig om die kleingoed te sien en by hulle moes ook ’n draai gemaak word.

Toe hulle al kon loop het ons Pretoria toe gegaan en by oom Rassie en tannie Sarie tuisgegaan. Op pad Pretoria toe, het ons nogal baie teëspoed met die Consul gehad deurdat ons twee buitebande afgeskryf het. Corrie wou in Pretoria vir haar kraamdrag gaan koop want sy het vir Werner verwag. Daar moes toe herstelwerk aan die Consul se stuurmeganisme gedoen word en twee buitebande moes gekoop word. Daar was net ’n paar rand tot haar beskikking oor waarmee sy net twee stukkies materiaal vir kraamrokke kon koop, want die motor het die geld wat ons vir die aankope gespaar het, bykans alles opgeslurp.

’n Koerantfoto vir die ‘Grenswag’, enigste Afrikaanse koerant in Oos-Londen, geneem, tydens die doopplegtigheid van die tweeling te Burgersdorp N G Gemeente op 2 Oktober 1960 (op my 24ste verjaardag). Corrie hou vir Kobus vas en Anton deur myself. (Foto: Johan Zietsman, Burgersdorp)

’n Mens sê maklik dat ‘die beskermengel is met jou kinders.’ Ons het wel ondervind dat daar kragte en magte buite ouers is wat hierdie twee en al ons ander kinders, tydens hulle lewe beskerm het. Ons glo dit was engele uit die hemel. Die volgende twee voorvalle waar hulle beskermengele vir hulle in hulle kleuterjare oortyd gewerk het, word aangehaal:

Die tweeling was so omtrent 7 maande oud en kon al lekker stewig sit. Corrie plaas hulle op ’n kombers op die vloer in ons slaapkamer met allerhande speelgoed rondom hulle. Sy gaan maar aan met haar dagtakies, maar kom loer kort-kort by hulle in. Skielik huil een baie hard en sy pyl op die kamer af en sien dis Kobus wat só huil. Sy sien daar is heelwat heuningbye in die kamer, teen die ruite van die venster en op die vloer. Daar sit ’n by aan die linkerkant van sy boonste lip en dié het hom gesteek. Sy kom roep my en ons haal die by af en verwyder die angel. Hy raak later stil. Hy kry toe ’n regte opgeswelde bolip. Beide word uit die kamer verwyder en ek gaan haal die gifspuit. Daardie jare was daar nog nie aerosol kannetjies nie. Ek maak die spuit vol met pyagra gif en spuit die bye dood. Ek sê toe vir haar dat wanneer ek in die nag vir hulle opstaan en ek staan voor die bedjie, dan voel die vloerplanke warm onder my kaalvoete.

Ek gaan haal oom Rooi du Plooy en hy sê dat daar beslis ’n byenes onder die vloer is. Hulle inkomplek is een van die luggate onder die fondasie van die huis. Hy gaan toe en boor ’n paar gate in die vloer om te sien wanneer hy heuning aan die boorpunt sien. Só kry hy toe die oppervlak van die byenes onder die vloer. Hy boor klein gaatjies in die twee stukkies plat planke oor die vloerplanke en heg dit met ‘n paar skroewe. Toe saag hy die vloerplanke deur. Die gesaagde deel is toe ’n reghoek, oor vier 6duim (±15cm) vloerplanke en ongeveer 18duim (± 38cm) lank. Ek is vrek bang vir bye en hou die petalje van buite af deur die venster dop. Corrie, die kinders, Emily, ons huishulp, en Piet Myburgh is almal ook buite en ons kamerdeur is toe, sodat die huis nie oorvlieg? (dis ’n nuwe woord!) kan word van die bye nie. Oom Rooi lig nou die uitgesaagde reghoek aan die twee dwars plankies wat hy bo-op vasgeskroef, het uit, en só kom die hele nes uit en sit dit met planke en al in ’n klein sink badjie. Hy vind die koningin en ek gee hom ’n vuurhoutjieboksie om haar in te sit. Die bye pak hom toe en só kom hy met die hele swerm wat aan sy hand en arm hang na buite en sit hulle in ’n kartondoos wat hy saamgebring het. Hy het die swerm later in ’n regte byekorf geplaas. Ons het baie heuning gehad, soveel so dat oom Rooi-hulle ook kon neem. Ek het later die reghoek van planke weer netjies op hulle plekke vasgespyker deur eers ’n paar balkies teen die twee vloerbalke, wat in die opening sigbaar was, vas te spyker.

Een Sondagmiddag daag oom De Wet Jordaan en tant San, ’n boer in die distrik en skoonpa van Johan Zietsman, op om te kom kuier. Ons sit in die sitkamer en gesels en die tweeling is buite aan die voorkant van die huis waar hulle met hulle speelgoed speel. Hulle was toe al heelwat groter en het mooi woordjies kon praat. Ons hoor hoe hulle lag en op hulle manier praat en Kobus kom in en sê: “Goggo” en ek gaan uit en sien Anton sit met ’n uitgebrande vuurhoutjie in sy hand en hy steeksteek so na ’n skerpioen. Sodra hy hom raak, krul daardie stert van hom op met die angel wat reg is om te steek. Ek het die skerpioen op ’n plankie laat opklim en in die veld gaan sit. Só beskerm die engele jou kinders en só beskerm ek die skerpioen teen ’n doodsvonnis!

Omdat Corrie toe reeds vir Werner verwag het, kon sy nie altyd dié tweeling oppas toe hulle begin kruip en loop nie. Ons het een van oom Rooi se plaaswerkers se dogtertjie, Elizabeth, ons het haar sommer Liesbet genoem, sowat 10 jaar oud, gekry om hulle op te pas. Toe die tweeling al lekker kon loop, het hulle oral saam met hulle kinderoppasser gegaan, selfs sovêr as na McVitty se winkel toe. By een geleentheid het Corrie vir die oppassertjie geld gegee om vir die twee elkeen ’n suigstoklekkertjie te gaan koop. ’n Dag of wat later hoor ons by iemand dat sy saam met die tweeling op die winkelstoep gesit het waar sy aan elkeen ’n suigstoklekkertjie gegee het. Sy self het glo om die beurt ook ’n lek of twee geneem. Dit sou seker die regte ding gewees het om ook geld vir ’n stokkielekker vir haar te gee. Gelukkig het die twee nie siek geword van die gemeenskaplike gelekkery aan die stokkielekkers nie. Ons het haar natuurlik daaroor voor stok gekry, want dit was daardie jare nie ’n algemene ding dat jy jou lekkers, kos, klere, bed óf wat ook al, met swartmense gedeel het nie. Hedendaags is dit mos niks nuut nie, want swartmense trou met witmense en anders om ook. Ons huisbediende, ou Emily, het gereeld met die tweeling in Xhosa gepraat, en hulle het nogal goed gereageer op haar pratery, maar self kon hulle nie die taal baasraak nie. Later toe oupa Scholtz, wat steeds in die SA Weermag se Ondersteuningsdienste gewerk het, vanaf Grahamstad terug verplaas is Port Elizabeth toe, het ons met hulle en die swart oppassertjie ook daar gaan kuier.

Die kinderoppasser het gereeld met die twee gaan stap en dan ’n draai by haar ma, wat vir tant Sannie werk, gaan maak. Een Sondagmiddag staan Corrie en ek in die gang in ons huis en kyk deur die voordeur se venster waar die tweeling is, want dis doodstil. Ons sien hulle is by die dammetjie by oom Rooi en tant Sannie se huis, sien punt “K” op die rowwe sketsplan, en dat die twee van hulle lê so halflyf oor die dammetjie se rant om met hulle hande in die water te spat. Die oppassertjie staan eenkant en gesels met een van tant Sannie se bediendes se kinders.

Ek maak die voordeur oop en skree vir Liesbet om te kyk na die kinders, en op daardie oomblik tuimel Kobus gat-oor-kop in die dammetjie in. Ek hardloop deur die kamp, deur die braksloot na die dammetjie toe en hoor gelukkig hoe hy skree asof die wêreld vergaan. Dankie Vader tog, hy lewe, hy het nie verdrink nie. Toe ek by hom kom, hou hy op om te huil, toe sien ek hy het nog steeds sy hoedjie op sy kop en dié is kurkdroog, maar sy broekie en hempie is watersopnat. Sy hoed wat op sy kop bly sit het, was dus net soos die cowboys wat skiet, baklei en stoei en hulle hoede wat regdeur die bakleiery op hulle koppe bly sit. Ons het begin bespiegel hoe dit moontlik was dat sy hoed nie nat geword het nie en ons het tot die gevolgtrekking gekom dat hy moes met die inval, ’n volle salto gemaak het en só met sy voete in die dammetjie te lande gekom het, sonder dat sy kop onder water was. Ek dink dit was die laaste onbeplande salto wat hy seker in sy lewe gemaak het!

Anton wat reeds vroeg in sy lewe ’n skerpioen uitgetart het, deur dit met ’n uitgebrande vuurhoutjie te tormenteer, het vergeet wat die vader des huis aan hom gesê het dat ’n skerpioen ’n gevaarlike diertjie is. Wel, ons het gereeld saans in die sitkamer gesit waar ek met hulle gespeel het en Corrie óf gebrei het óf gesit en lees het. Wanneer dit slapenstyd was, het ons in prosessie na die kombuis toe gestap om die laaste drinkgoedjies vir die aand vir ons te gaan maak. Dit was nog voor Werner gebore is. Sy stap voor, gevolg deur die tweeling, en ek dek die agterhoede met die olielamp. Dis nou die Alladin stilbrander lamp. Ons gaan die sig-sag gang af kombuis toe. Toe ons die tweede

draai in die gang neem op pad na die kombuis, gaan Anton en loop voor sy ma uit. Die gang daar was nog nie helder verlig nie, want ek het heel agter met die lamp geloop. Skielik skree hy soos ’n maer vark. Ons kom almal tot stilstand. Hy sê: “Iets het my gebyt, dis baie eina.”

Anton, gryp sy regtervoet vas en hy bly huil. Ek kom nader met die lamp. Ons kyk na sy voet, maar sien net ’n klein rooi kolletjie, net by die enkel. Ek swaai die lamp in die rondte in die gang, tot in die donkerste hoekies en daar sien ons ’n vaal skerpioen met sy angel nog in ’n gereedstaan hou-ding om aan te val.

Ek maak die skerpioen dood en nou is ons bekommerd dat die skerpioen dalk een van die giftige soort is. Ons kry Anton tot bedaring. Ek stap gou oor na oom Rooi du Plooy se huis. Die oom en tannie is al in die slaapkamer. Ek klop teen die venster en die oom gee antwoord. Ek vertel toe so deur die toe venster dat ’n skerpioen Anton gesteek het. Die tannie gee toe antwoord en sê, dat as dit een van die vaal skerpioene is, is dit nie die giftige soort nie, en ons moet net lampolie (paraffien) aan die plek smeer. Ons het toe maar die boereraat van tant Sannie toegepas en die enkel met lampolie gesmeer. Wel, hy het stil geraak en het gelukkig nie siek geword van die skerpioensteek nie. So algaande leer ons as ouers, maar ook die kinders, dat ons altyd bedag moet wees vir moontlike gevaarsituasies.

Ek het tydens ’n besoek aan McVitty se winkel twee rooi Triang treinlokomotiefspeelgoed, gemaak van plaat, gesien – die enigste twee wat daar was. (Later jare is hierdie plaatspeelgoed deur die firma Tonka, oorgeneem.) Ek koop beide en gee dit vir hulle. Daar word ’n tou aan elke enjin vasgebind en waar hulle oor die gruispad polisiestasie toe óf op die gruis gedeelte rondom ons huis loop, hoor jy net ke-lang-ke-lang-ke-lang soos hulle die enjins oor die gruis trek – amper soos bokke wat klokke om hul nekke het om die jakkalse te verdryf. Met hierdie geraas van die enjins op die gruis, het ons darem altyd geweet waar hulle hul in die polisiekamp bevind. Dit was waarlik sterk speelgoed. Hulle het selfs daarop gesit en die een die ander rond getrek.

Kinders wat by ’n polisiestasie grootword, ontdek sekere dinge en hoor sekere sinsnedes en woorde wat hulle vroeg-vroeg in hulle woordeskat opneem. Hierdie nuut verworwe taalkennis van hulle kom dan op die onmoontlikste tye vorendag. Só vind ons die twee plat op hulle blakers by die agterdeur en nou stamp hulle die twee enjins teenmekaar. Dan sê Kobus: “Fokkit”, Anton lag uit sy maag uit en nou is dit weer Anton wat sy taalkennis bekend stel deur ‘fokkit’ te herhaal as hy Kobus se enjin stamp. Nou lag Kobus dat jy hom wie weet waar kan hoor. Ons het stilweg na die wedersydse kommunikasie tussen die twee in polisietaal geluister en toe maar tussenbeide getree en gesê hulle moenie die enjins só teen mekaar stamp nie, want dit gaan breek en dat hulle moet ook nie daardie woorde gebruik nie. Ons het hulle dit nie weerhoor sê nie, maar hulle sal dalk, wanneer hulle eendag hulle memoires skryf, kan meld of hulle daardie gewraakte woorde onthou het en ook in die polisie óf hulle alledaagse lewe gebruik het! Ek het, in my studies toe ek Afrikaans by Unisa gestudeer het, gehoor dat daardie en ander soortgelyke vloekwoorde, wat eintlik niksseggend is, baie keer as stopwoorde in ’n gesprek gebruik word. Wel, hulle het daardie woord as werkwoord en nie as stopwoord gebruik toe hulle die twee enjins teen mekaar gestamp het – hulle het toe al die proffies verkeerd bewys. (Slim kinders!)

Wat gebeur as pa óf ma iets voor jong (slim) kinders doen wat hulle in hulle skeppende klein breintjies vaslê en dit dan later ook wil nadoen? Ek weet wat die antwoord is, want die volgende insident waarby ekself en die tweeling betrokke was, bewys net die stelling, dat kinders geneig is om grootmense na te aap in sêgoed, aksies en gesigsuitdrukkings. Kom ek vertel julle:

Soortgelyke speelgoedtreinenjins vir die tweeling gekoop. (Foto: Google).

Ek het by Andries de Ridder, tannie Anna, Corrie se suster, se man, gesien en gehoor dat hy nie van koppies, pierings en borde hou wat gebars of getjip is nie, en dat hy dit summier weggooi. Ons sit een môre in die kombuis en koffie drink en per abuis kry ek koffie in ’n koppie waarin daar ’n klein krakie is. Dit was nogal fyn koppies wat Corrie by tannie Anna de Ridder, as trougeskenk gekry het. Die tweeling sit net buite die agterdeur en speel. Ek drink my koffie klaar en kantel my stoel só effe agteruit en gooi die leë koppie by die oop kombuisdeur uit, oor die draadheining wat neffens ons huis verby loop, binne in die veld waar die skape van oom Rooi du Plooy wei. Die koppie breek in stukke.

Later gee Corrie die kinders ook drinkgoed in van dieselfde koppies. Toe hulle hul koppies leeg gedrink het, sien sy dat beide van hulle na die draadheining toe stap en ook hulle leë koppies oor die draad gooi. Gelukkig het hulle nog nie die krag gehad om dit ver te gooi nie, en dit val net agter die draadheining op die grassies en dit bly nog heel. Ek moes maar oor die draadheining klim om die koppies te gaan optel. Ons het lekker gelag hieroor. Nou word hulle vertel om nie hulle koppies oor die draad te gooi nie, want hulle koppies is mos heel en nie só stukkend soos Pappa se koppie was nie. Dit het ook nie weer gebeur nie. Ja, so moet ’n mens maar versigtig wees met wat jy voor klein mensies doen en wat hulle klein oortjies hoor!

Ek het nou ons wedervaringe tydens en na die geboorte van Kobus en Anton geskets, maar sal nou eers weer van my interessante gebeurtenisse m.b.t. polisiewerk in die volgende afdeling meld.

9.4 Interessante gebeurtenisse tydens diens te Knapdaar-polisiestasie

Die gebeurtenisse wat nou beskryf gaan word is nie noodwendig in datumvolgorde waarin dit plaasgevind het in die vier jaar wat ons te Knapdaar was nie, maar ek meld dit alles onder hierdie afdeling omdat ek van die interessantste gebeurtenisse tydens my dienstermyn te Knapdaar bymekaar wil hou.

My heel eerste tjekbedrogsaak wat ek moes ondersoek was as gevolg van ’n verandering van die bedrag in woorde en in syfers op ’n Volkskas tjekvorm vanaf R1,00 na ’n bedrag van R101,00. Die klaer was een van die vele Coetsee-boere in die distrik. Hy het naby Knapdaar geboer en het ’n witman, ongeveer 25 jaar oud, op die gruispad vanaf Burgersdorp na Knapdaar op pad na Bethulie in die OVS, gesien loop. Hy gee hom toe ’n geleentheid tot by Knapdaar. Die man vra Coetsee om hom een rand te gee, want hy wil daarmee kos koop. Die desimale betaalstelsel het net begin en R1,00 was toe die ekwivalent van die destydse 10/- (tiensjielingnoot). Die plaasboer sê toe vir hom dat hy ongelukkig geen kontant by hom het nie, maar hy sal hom ’n kontanttjek gee wat hy byMcVitty se winkel kan gaan wissel, waar hy ook kos kan koop. Die klaer skryf toe die Volkskas Bank tjek uit en dié meneer stap verder vanaf Knapdaar in die rigting van McVitty se Handelshuis wat langs die pad na Bethulie is. Daardie jare was R1,00 nog goeie geld en om ’n tjek daarvoor uit te skryf was nie baie snaaks nie, want die tjekvorm se koste het slegs 2d (twee pennies ±1½c) beloop. So twee weke later kom Coetsee by die polisiestasie aan en hy wys die tjek vir my wat deur die Volkskas

Bank uitbetaal is vir ’n bedrag van R101,00 i.p.v. R1,00. Die tjek was in Bloemfontein gewissel en nie by McVitty soos die plaasboer vir die man gesê het om te doen nie. Die bedrag was met ’n blou balpuntpen verander en die oorspronklike bedrag wat deur Coetsee ingevul was, is ook met ’n blou balpuntpen geskryf. Hieronder volg ’n getikte weergawe van hoe die verandering gemaak is. (Ek tik met gewone tikskrif die oorspronklike lopende skrif van Coetsee in op die voorbeeld en die veranderde gedeeltes in dik swart skrif wat die beskuldigde geskryf het):

Betaal Kontant of Toonder

Die bedrag van

Een honderd en Een rand alleen

R 101,00

Dis al wat ek nog van Volkskas bank kon opspoor – ’n banksakkie.

Ons het sommer van die ploegiebank gepraat. Die embleem van ’n ploeg met die woorde Arbeidsaamheid daar onder (Foto: Google)

Daardie jare was Volkskas die enigste Afrikaanse bank en alles was net in Afrikaans op die tjekvorms gedruk. Met groot gesukkel, baie telefoonoproepe en talle briewe wat geskryf is, het die Bloemfontein se speurders die beskuldigde later te Bloemfontein op ’n lasbrief arresteer. By die bank waar hy die tjek gewissel het, het die kassier die ‘toonder’ gevra om sy naam en adres op die keersy van die tjek te skryf (dit was nog nie verpligtend dat alle burgers identiteitsdokumente moes hê nie.) Hy het, as ’n regte amateur vervalser, sy regte naam en adres daarop aangeteken. Hy is vanaf Bloemfontein, in boeie en twee tydelike konstabels na Burgersdorp, oorgeplaas en is daar verhoor. Saak afgehandel. (Kyk net watter uitgawe was aangegaan om ‘n vervalser, waar R100,00 ter sprake was, vir sy misdaad te kom boet.)

Die tweede interessante saak het gedurende 1962 gebeur toe ’n blanke boemelaar egpaar, Logie, (uitgespreek Loughie) op spoorwegeiendom deur ’n swartman aangeval en die vrou seksueel aangerand is. Een Sondagoggend vroeg-vroeg, om en by 05:00, ontvang ek ’n telefoonoproep vanaf Lewies Coetsee, ’n plaasboer, van die plaas Omega. Hy meld dat twee boemelaars, ’n man en vrou, by sy plaas aangekom het en die volgende relaas van gebeure geskets het:

Hulle is vanaf Oos-Londen op pad Bloemfontein toe en het by die spoorweghalte Rockleigh in ’n melkkanskuiling langs die treinspoor, oornag.

’n Swartman het ongeveer 10 uur die aand (22:00), die skuiling ingekom. Hulle sien toe dat hy ’n kierie in sy hand het. Die swartman begin hulle sonder enige rede te slaan. Die man, Logie, het ’n kruppelregterbeen en hy struikel uit die melkkanskerm langs die treinspoor, en kruip val-val na die Burgersdorp-Knapdaar gruispad toe.

Die swartman het die vrou probeer verkrag deur haar op die grond neer te gooi en haar rok te skeur. Sy het geskree, die swartman hardloop toe weg en sy sluit haar by haar man aan. Hulle skuil toe,

vir die res van die nag, langs die pad in die karoobossies, naby die hek wat na die plaas Omega toe lei. Toe dit lig word, gaan hulle na die plaas Omega toe en rapporteer die voorval aan die plaasboer Lewies Coetsee.

Ek vertrek vanaf Knapdaar en arriveer redelik vroeg by Lewies op die plaas. Die plaas is ongeveer 3 myl (±5km) vanaf Knapdaar. Die ondersoek wat ek gedoen het, is soos volg:

Ek vind uit dat daar Saterdagaand ’n bierpartytjie van plaasarbeiders op die buurplaas, Alfa was. Ek besoek die melkkanskuiling by die halte en tel ’n kierie en ’n vuil sakdoek op die toneel op en lê beslag daarop. Ek vind redelik baie skoenspore in die skuiling wat dui op ’n stoeiery. Daar is ’n skoenspoor met ’n motorbuiteband afdruk wat nie dié van die twee blankes s’n is nie. Dit was ongelukkig nie duidelik genoeg dat ‘n gipsafdruk daarvan gemaak kan word nie.

‘n Doberman Pincher hond. Die SAP s’n was gekruis met ’n English Blood Hound (Foto: Google).

(Terloops, die plase Alfa, Omega, Elim (Die Bybel se plekname) en Hoogstede was erfplase van die Coetsee-familie. Dit het sowat 1km in lyn van mekaar gelê.)

Die egpaar word na die polisiekantoor geneem. Ek neem verklarings en bel die Speurhondhanteerder, sersant Valie Venter, by Aliwal-Noord polisiestasie. Hy arriveer so om en by middagete met sy twee Doberman Pincher honde, gekruis met die English Blood Hounds. Hondemanne wat uitkennings met hulle honde moet doen, of moet spoorsny, het altyd twee honde wat gebruik word om ’n uitkenning te doen en om spoor te sny. Die rede daarvoor is dat albei die honde dieselfde positiewe uitkenning van ‘n misdadiger moet doen, om twyfel uit te skakel.

Ons vertrek na die plaas Alfa toe en reël ’n reuk uitkenningsparade deur die honde om die beurt aan die sakdoek en kierie te laat ruik en nou moet die honde die eienaar daarvan uitruik wat moontlik een van dié arbeiders is wat in een lang ry agtermekaar sit. Dis ’n negatiewe uitslag. Ek gesels met die plaaseienaar, Gerhard Coetsee, en hy sê my dat van sy werkers by die melkery gemeld het dat daar ook van Knapdaar se spoorwegwerkers by die bierpartytjie was.

Ons keer terug na Knapdaar waar ek nege spoorwegarbeiders bymekaar maak en dieselfde reuk uitkenningsparade word met hulle gehou. Ons vind ’n positiewe uitkenning deur albei honde afsonderlik wat die reuke vanaf die kierie en sakdoek neem en elke slag, m.a.w. 4 keer, dieselfde persoon uitwys. Die ‘uitgeruikte’ man word gearresteer. Ons gaan na sy sinktent op spoorwegeiendom en vind ’n paar stewels met ’n sool wat ’n soortgelyke afdruk op die grond maak as dié wat in die melkkanskuiling gesien is.

Ek het opgemerk dat Logie kruppel loop en ek vra hom toe: “Het jy seergekry, hoekom loop jy só kruppel?”

Hy trek sy regter broekspyp op en wys my ’n lang letsel aan sy regter onderbeen wat hy oorgehou het toe hy jare gelede deur ’n motor omgery is. Ek laat Logie en sy vrou in die sel slaap en die

beskuldigde neem ek na Burgersdorp polisiestasie toe vir aanhouding. Ek bring sommer die saak die Maandagoggend voor die hof. Hy word skuldig bevind, maar vir sy kriminele rekorddoeleindes wat vanaf die polisie se SA Polisie se Kriminele Rekord Buro (SAKB) moet kom, word die saak uitgestel. Logie en sy vrou word getuiegeld deur die Klerk van die Hof betaal. Hulle vra of ek hulle op pad na Knapdaar by die Dreunberg spoorwegaansluiting sal aflaai, want hulle wil nou via AliwalNoord na Bloemfontein toe stap. Die beskuldigde is by sy latere verskyning gevonnis tot 6 maande gevangenisstraf, sonder die keuse van ’n boete, op elk van die twee aanklagtes naamlik: Seksuele aanranding op mev. Logie en aanranding gewoon op meneer Logie.

Die laaste inligting oor hierdie saak is nog nie vertel nie. Gedurende die hofsitting waar die beskuldigde verhoor is, het hy tydens sy kruisondervraging aan my gevra of ek vir die hof kan vertel hoe die speurhonde hom uitgewys het. Onmiddellik het die voorsittende magistraat (landdros) hom gewaarsku dat sou hy wel wil hoor hoe die honde hom uitgewys het, dit as getuienis toegelaat sal word. Die regsbeginsel in daardie stadium, ek glo vandag nog, was dat die uitwysing van ’n verdagte(s) deur speurhonde nie as getuienis in ’n strafsaak aanvaar word nie, en dat die vervolging deur die Staat dit ook nie as getuienis aan die hof kan voorhou nie. Hierdie regsbeginsel het egter twee uitsonderings gehad, naamlik:-

a) Sou die getuienis oor die wyse van uitkenning deur (’n) speurhond(e) deur ’n ander onafhanklike getuie se getuienis gestaaf word, sal dit aanvaar word, óf

b) As ’n beskuldigde óf sy regsverteenwoordiger die uitwysing in dispuut plaas, dan kan die vervolging, die Staat, sodanige getuienis lei, nadat die regsbeginsel daaroor as ’n waarskuwing mondeling aan die verdediging (beskuldigde) oorgedra is.

Daardie getuie, die een wat getuig oor die wyse van uitkenning deur die speurhonde, se getuie-nis word dan aan kruisondervraging onderwerp en word dan deel van die getuienis vir die vervolging. Ek het toe stap-vir-stap getuig oor hoe die twee speurhonde die beskuldigde uitgewys het. Daar was geen kruisondervraging deur die verdediging aangevra nie, en my getuienis het bly staan.

Kom ek verduidelik so kripties moontlik hoe die parade opgestel word en hoe dit plaasvind. Die hondegeleier laat die eerste hond ruik aan die voorwerp wat op die toneel gevind is. Dit kan net ’n skoenspoor, ’n hoed, ’n skoen of wapen wees wat die beskuldigde hanteer het of op die toneel agtergelaat het of laat val het. Gewoonlik sal daar ten minste 4 persone gevra word om saam met die verdagte aan die uitkenningsparade deel te neem. (In ons uitkenningsparade was daar 8 ander persone saam met die beskuldigde wat in ‘n ry agtermekaar gesit het). Hulle sit almal ’n tree van mekaar in ’n reguit lyn en almal kyk na voor. Beide honde word buite sig van die parade gehou. Die eerste hond word na die parade gebring en losgemaak van sy leiband, hy ruik by elkeen tot by die laaste persoon en kom dan terug en plaas sy voorpote op die verdagte se skouers en hy gee ’n blaf of twee. Die beskuldigde kry die geleentheid om van plek te verwissel as hy deur die hond uitgewys word. Die hond bly buite sig van die parade. Die roetine word herhaal. Ruik die hond hom weer uit, bring die hondegeleier gewoonlik sy tweede hond om die beskuldigde uit te wys. Dieselfde handeling word weer gedoen. Omdat die maksimum straf van 6 maande gevangenisstraf, sonder keuse van ’n boete, vir elk van die twee aanklagtes teen die beskuldigde opgelê is, moes die oorkonde van die saak aan die Hooggeregshof te Grahamstad vir bekragtiging gestuur word. Daardie saak se uitspraak en vonnis is toe wel bekragtig en ook in die Regsbundel, Prentice Hall, waarin straf- sowel as siviele sake wat belangrike uitsprake deur howe in die land opgelewer het, kwartaalliks genotuleer. Hierdie saak was een van die uitsonderings in ’n strafsaak waar die getuienis oor hoe speurhonde ’n beskuldigde uitgewys het, aanvaar is. My wedervaringe in die SA Polisie, sal later weer met die van Logie en sy vrou kruis. Lees maar die omstandighede waar ek jare later te Humansdorp met hulle te doen gehad het.

In die foto hieronder wys hoe ’n polisiehond gebruik word om met sy reuksintuig ’n beskuldigde uit te wys. (Foto: SAP Hondeskool)

Ek kan onmoontlik nie alle interessante sake waarby ek te Knapdaar betrokke was, weergee nie, maar wil tog oor drie skietvoorvalle wat plaasgevind het, rapporteer. Dit word gevolg deur my wedervaringe toe ek tydens die ‘groot reën’ as lyfwag vir oud-minister van Arbeid (1961), Senator Jan de Klerk, die vader van oud-staatspresident F.W. de Klerk, moes optree.

Ek sal dan hierdie gedeelte afsluit met ’n geval waar ek op ’n klagte van Aanranding Ernstig aangekla is en later self in die landdroshof te Burgersdorp onskuldig bevind is:

Eerste skietvoorval:

Op een Sondagoggend, kry ek ’n telefoonoproep van Jan van den Berg, ’n plaasboer van die plaas Odendaalstroom. Die plaas is langs die Oranjerivier waar hy met skaap en lusern boer. Ja, alles gebeur op die platteland mos op ’n Saterdagaand, dan rapporteer die klaers eers hulle klagte by hulle werkgewers en die werkgewers dra dit weer op die Sondag oor aan die polisie. Geen rus vir ’n plaaspolisieman oor naweke nie!

Sy een werker meld dat hy laatmiddag Saterdag, met sy perdekar met twee perde op pad was vanaf die plaas Môrester, die plaas van Wentzel Norval, na sy huis toe by Odendaalstroom. Hy het ’n knalgeluid gehoor en die perde het skielik vreeslik geskrik. Die een perd het in die tuig gestruikel, opgespring en beide perde het op loopgesit, met sy vrou en twee kinders wat by hom op die perdekar was. Hy kon die perde eers sowat 100 treë verder tot stilstand bring. Hy ondersoek toe albei die perde. Die haarperd staan en bewe en staan mank met beide sy agterbene. Hy kan niks sien nie, maar hy wonder of die knalgeluid nie ’n skoot is wat van oorkant die rivier op die perde geskiet is nie. Hy het toe verder na sy huistoe gegaan. Die perde het redelik gemaklik op pad huistoe gedraf.

Ek het die oproep aanvanklik nie as te ernstig beskou nie, maar tog uitgery Odendaalstroom toe. My ondersoek van hierdie skietvoorval het soos volg verloop:

As ’n beredepolisieman wat basiese Veeartsenykunde in die SA Polisiekollege geslaag het, ondersoek ek beide perde by die werknemer se huis. Die werknemer wys die perd aan my wat ten tyde van die voorval as haarperd ingespan was. Ek sien ’n baie klein ingangswond aan die regteragterbeen, halfpad tussen die hoef en die knie. Daar is ook ’n klein uitgangswondjie aan die binnekant van dieselfde been, effens hoër as die ingangswond. Daar is ook ‘n klein ingangswond aan sy linker-agterbeen. Daar is egter geen uitgangswond nie. Ek ondersoek ook die ander perd,

wat hotkant ingespan was, maar ek kon geen wonde, van enige aard, aan sy twee agterbene vind nie.

Ek pyl die hoek van die twee ingangswonde en die uitgangswond, en dit strek met ’n hoek van ongeveer 45º van onder na bo. Ek vra die werknemer uit na die klapgeluid wat hy gehoor het. Hy meld dat hy stemme van oorkant die Oranjerivier gehoor het. Dit het soos seunsstemme geklink. Die rivier was redelik vol en het op daardie plek ongeveer 100 treë wyd geloop. Hy het die plek waar dit gebeur het, aan my uitgewys. Die Goedemoed Gevangenisterrein is aan die oorkant van die rivier in die destydse OVS provinsie. Ek besef toe dat die voorval heel ernstig is, want ’n klagte van poging tot moord is die geskikste aanklag wat ondersoek moet word. Ek neem verklarings en gaan terug Knapdaar toe.

By die kantoor registreer ek toe voorlopig ’n saak van ’n oortreding onder Die Dierebeskermingswet. (perd beseer a.g.v. skietwond). Sou dit by verdere ondersoek blyk dat iemand doelbewus op die persone op die perdekar geskiet het, sal ek die klagte na ’n ernstiger een van poging tot moord moet verander. Ek bel sersant De Vos, die stasiebevelvoerder te Goedemoed polisiestasie, en versoek hom om by die gevangenisdiens navrae te doen of daar seuns by hulle ouers op die terrein was en óf hulle dalk met ‘n vuurwapen geskiet het. Indien wel, moet hy my so spoedig moontlik terugskakel sodat ek verdere ondersoek kan gaan instel. Hy skakel die Sondagmiddag terug en meld dat die bevelvoerder van die gevangenis se seun en ’n skoolmaat na watervoëls op die rivier met ‘n ,22 geweer geskiet het. Hulle is terug na die seunskoshuis te Bethulie toe. Ek versoek De Vos om die bevelvoerder, ’n majoor in die gevangenisdiens, te vra om na Bethulie se seunskoshuis toe te gaan, want ek wil sy seun en dié se maat ondervra en hy moet, as voog teenwoordig wees. Ek ry Bethulie toe en wag by die koshuis vir die majoor, wat sowat ’n kwartier later opgedaag het. Ek vertel die majoor van die saak wat ek ondersoek en dat ek sy seun eers moet ondervra. Sy seun, in standerd 8 (gr. 10) en 16 jaar oud, kom uit sy kamer en ek ondervra hom in die sitkamer van die koshuis. Hy erken dat hy ’n paar skote met sy pa se ,22 geweer na wilde-eende op die rivier geskiet het. Hy het nie die perdekar en die drywer met sy familie daarop, aan die oorkant van die rivier gesien nie. Hy het nie een van die eende raakgeskiet nie. Ek neem ’n beëdigde verklaring van hom af, in die teenwoordigheid van sy pa, en ek verkry die maat se adres in die dorp en ondervra hom ook in sy pa se teenwoordigheid. Hy bevestig die storie van die seun wat geskiet het en hy sê hyself het nie geskiet nie, hy was net teenwoordig. Ek gaan Goedemoed gevangenis toe en lê beslag op die ,22 geweer en besoek die toneel waarvandaan die seun geskiet het.

Ek sien dat die rivier breed loop op die plek en dat die plek waar die klaer met sy perdekar was, reg teenoor ’n rietbos in die middel van die rivier is. Die afleiding kan gemaak word dat ’n koeëlpunt die water op ’n lae hoek getref en opgeslaan het en die perde geraak het, vandaar die opwaartse ingangswonde. Die Staatsveearts het later die perd ondersoek en hy kon geen koeëlpunt in die linkeragterbeen van die perd vind nie. Ek trek ’n terreinplan op, dien ’n verklaring in en my ondersoek is afgehandel. Die saakdossier word na die aanklaer op Burgersdorp gestuur wat dit na die prokureur-generaal (PG) te Grahamstad toe stuur vir ’n beslissing. Die PG beslis dat daar geen kwaadwilligheid bewys kan word nie en die seun word nie krimineel vervolg nie. Saak afgehandel. Die geweer word weer aan die eienaar, die majoor by Goedemoed Gevangenis, oorhandig. Die Vuurwapen en Ammunisiewet van destyds het die besit van ‘n vuurwapen deur ‘n persoon van 16 jaar gemagtig. Ek weet nie of daar later enige siviele aksie deur die swartman ingestel is nie.

Die tweede skietvoorval:

Dit het ook op die plaas Odendaalstroom plaasgevind, met die verskil dat ek met my diensrewolwer op ’n vlugtende verdagte geskiet het. Die besonderhede is kortliks soos volg:

Ek word een Saterdagaand laat, (weer ‘n Saterdagaand) ongeveer 11nm (23:00) deur Van den Berg geskakel en hy sê dat een van sy werknemers, ’n swartman, baie ernstig beseer is toe ’n kleurlingman hom aan die linkerkant van sy nek met ’n mes gesteek het en dat hy geweldig bloed verloor. Hy het reeds die ambulans vanaf Aliwal-Noord laat kom. Aliwal-Noord is nader aan Odendaalstroom as aan Burgersdorp.

Ek arriveer omtrent middernag op die plaas. Die plaas is sowat 25myl (±42 km) vanaf Knapdaar en daar is omtrent 6 plaashekke op die pad wat elke keer oop- en toegemaak moet word, wat baie tyd in beslag neem. Met aankoms op die plaas is die ambulans reeds daar en die swartman is alreeds in die ambulans. Daar is ’n groot stuk materiaal om sy nek gedraai, met bloed deurdrenk en hy is reeds flou. Die ambulansmanne is besig om hom te stabiliseer en hulle vertrek na ’n wyle met hom na Aliwal-Noord hospitaal toe.

Ek verneem na die messteker. Die arbeiders op die plaas sê hy was ’n besoeker op die plaas vanaf Venterstad. Sy naam ontgaan my nou, maar die ander werknemers sê hy is sowat 18 jaar oud en dat hy weggehardloop het. Ons besoek die woning van sy oom waar hy gekuier het, maar hy weet ook nie waar die seun is nie. Hy is net weg. Die mes het ons ook nie gekry nie. Dis nou ounag en ek kan geen verdere ondersoek doen nie en keer terug Knapdaar toe.

Sondagmôre so teen 8 vm. (08:00) is ek terug op die plaas. Neem verklarings van getuies af, kry die mes ’n ent verder in die karoobossies. Dis blote geluk dat ons, ek en swartkonstabel Molea, dit gevind het. Die messteker is steeds soek. Ek ry Aliwal-Noord Hospitaal toe. Die swartman is nog gekoppel aan allerhande pype en die dr. sê dat hulle hom deur die loop van die dag na Queenstown se hospitaal gaan oorplaas want sy kanse om te sterf is groot as hy nie ’n gespesialiseerde operasie aan sy nek ondergaan nie. Ek skakel Queenstown se hospitaal en hulle deel my mee dat ‘n nood operasie wel gedoen is en dat die pasiënt nog onder sterk verdowing gehou word. Ek versoek hulle om my dadelik te bel indien sy toestand versleg, sodat ek die Queenstown se speurders kan versoek om ‘n serfbedverklaring van die pasiënt af te neem.

By drie geleenthede daarna was ons na Odendaalstroom uitgeroep, want van die werkers het beweer dat hulle die messteker se slaapplek ontdek het. Ons bekruip die plekke in die nagtelike ure, maar vind hom nie daar nie. So het ons hom op drie verskillende plekke gaan voorlê, maar ta is net weg. Die vierde keer, ongeveer ’n week na die messtekery, bel Van den Berg en sê hy het ’n slaapplek in sy lusernstoor opgemerk. Ek reël met hom dat ek en konstabels Cronjé en Molea teen skemer sowat 1½ myl (±2,4 km) van die plaas sal stilhou en wag tot donker en dan te voet na die plaas sal stap om hom só na 9nm (21:00) te gaan verras.

So gemaak en ons al drie vertoef by Van den Berg in sy huis en geniet ’n geselsie en ’n lekker koppie koffie met regte egte boerebeskuit. Nege-uur slaan en nou stap ons drie polisiemanne, saam met Van den Berg, stilletjies na die lusernstoor toe. Dit is ’n ou opstal sonder binnemure en geen vensters en geen deure nie, slegs die openinge waarin die deure en vensters was. Ek plaas Cronjé, Molea en Van den Berg by die uitgange en ek klim op die lusernbale wat tot teen die dakbalke opgestapel is, en loop voetjie-vir-voetjie al voelende in die donker al met die boonste lusernbale langs tot naby die kant van die opgestapelde lusernbale aan die agterkant van die gebou. Ek skakel my flits aan en ta sit en slaap agter ’n sinkplaat wat skuins teen ’n lusernbaal rus.

Ek moet nou vanaf my punt, wat sowat agt/nege lae lusernbale hoog is, by hom uitkom, en dis loodregaf. Ek roep na hom, hy kyk op, hy skop die sinkplaat weg, en terselfdertyd spring ek af, boop hom. My flits gaan dood, hy wriemel onder my uit en hy hardloop Molea uit die pad by die uitgang, ek agterna. Ek skud my flits heen-en-weer, kry dat dit weer lig, trek my rewolwer en skiet een skoot op die voortvlugtende kleurlingman. Hy val teen ’n noem-noembos wat tussen die lusernstoor en

die rivieroewer staan. Hy lê doodstil, oopgevlek teen die noem-noembos. Ek is paniekbevange, want ek het nou ’n mens doodgeskiet!

Ek en Cronjé kom gelyk by hom aan, ek vat die kleurlingman aan sy een skouer en vra: “Haai, leef jy nog?

Hy antwoord stamelend: “J-j-j-aa Baas.”

Ek trek hom uit die noem-noembos en vra: “Het ek jou raak geskiet?”

“N-n-n-ee Baas, maar dit was naby, ek het gehoor hoe fluit die koeël oor my kop.”

Dank die Vader, nou voel ek meer op my gemak, wil amper lag van verligting. Ek sê vir Molea om die man te boei, en saam met Cronjé na die patrolliewa toe te stap.

Molea sê: “Sersant, hierdie man het in sy broek gek*k!”(ge-dubbel K middel A).

Molea word aangesê om hom eers na sy oom se huis toe te neem dat hy ’n ander broek kan gaan aantrek. Intussen neem ek Van den Berg se verklaring. Die koeël was dus werklik naby hom verby, maar nie by die kant wat hy bevuil het nie!

Kom ek sluit af. Die kleurlingman was toe nie 18 jaar oud nie, maar 16 jaar. Die klaer het wonderbaarlik herstel en het ’n paar weke later kom getuig in die saak. ‘n Sterfbedverklaring was dus nie nodig nie. Die Aliwal-Noord speurders het ‘n beëdigde verklaring van hom geneem. Die landdros vind hom skuldig aan aanranding met die doel om ernstige liggaamlike letsels te veroorsaak, en omdat hy ’n jeugdige is, vonnis hy hom tot 6 houe met ’n ligte rottang. Ek vra die landdros of hy op die gevangesettingslasbrief (“committal warrant”) ’n aantekening kan maak dat die houe deur sersant Du Plessis toegemeet kan word in plaas van konstabel Tiny Pretorius wat normaalweg die houe moet uitdeel om soortgelyke vonnisse te kan voltrek. Dis só gevra, dis só geskryf, en nou gaan ek die kleinjong ’n regverdige pak slae gee vir al die moeite wat ons met dié saak gehad het. Saak afgehandel.

Die laaste skietvoorval:

Seker die mees traumatiese geval wat ek nog ondersoek het. Dit het op ’n plaas in die distrik, op pad na Bethulie, plaasgevind waar twee seuns alleen tarentale gedurende ’n skoolvakansie kom jag het. Die verkorte gebeure word soos volg weergegee:

Die een seun se pa is ’n dokter op Bethulie en dis sy plaas wat net ’n veepos is, is in Knapdaar se polisiewyk. Onbewoonde blanke plase was alombekend as veeposte, want daar is net vee aangehou en daar was gewoonlik net so een of twee swartwerknemers wat die septer op so ’n veeposplaas geswaai het. Op die dokter se plaas, Springbokvlakte, was slegs so ’n naweek- cum vakansiehuisie met twee kamers en ’n kombuis wat met kleistene gebou is. Die dokter óf sy familie het dit vir kort tydjies gebruik tydens die jagseisoen en ook om soms oor naweke weg te breek van die daaglikse roetine in die dorp. Daar was darem ’n telefoon in die huisie sodat die werknemer sy baas kan skakel as daar iets gedurende die week sou fout gaan op die plaas.

Die dokter se seun is 16 jaar oud en in die hoërskool te Bethulie. Hy het ’n seunsmaat saamgeneem om ’n paar dae op sy pa se plaas te gaan deurbring waar hulle tarentale sou gaan jag. Die dokter het hulle die naweek saamgeneem en hulle twee het op die plaas agtergebly nadat die dokter en sy vrou Sondag terug is Bethulie toe. Hulle sou die dokter bel wanneer hulle gehaal kan word. So om en by middagete se kant op die Maandag kry ek ’n telefoonoproep van die dokter en hy sê hy gaan uit plaas toe, want een van die seuns is geskiet. Hy is heel ontsteld en ek deel hom mee dat ek dadelik plaas toe sal ry. Die plaas is ongeveer 5myl (±8km) vanaf Knapdaar en 10 myl

(±16km) vanaf Bethulie. Cronjé is saam met my en ons kom amper gelyktydig met die dokter op die plaas aan. Die dokter en sy vrou gaan voor ons die huisie in. Ek en Cronjé gaan ook in, waar die dokter se vrou reeds hulle seun vertroos, want hy huil onbedaarlik en hy sê kort-kort deur sy snikke: “Pappa, Mamma, dit was ’n ongeluk!” hy ruk in sy ma se arms, en sê “Ek het dit nie aspris gedoen nie, glo my, dit was ‘n ongeluk.”

Die dokter wat agter sy vrou gestaan het, gaan na die enkelbedjie toe en buk oor sy seun se maat wat skuins oor die bedjie lê met die gesig na bo gedraai en oë wat oopgesper is en niks siende na bo staar. Die dokter ondersoek die seun en kom regop en verklaar die seun dood. Hy is natuurlik geskok, gaan na sy vrou en seun en omhels hulle en troos beide van hulle wat snikkend in sy omhelsing staan.

Ek staan nader en neem besit van die situasie. Al snikkende vertel die seun dat toe hy die geweer in die slaapkamer ontlaai het, het ’n skoot afgegaan en sy maat getref. Hy huil onbedaarlik en ek sê vir sy ouers dat ek by ’n latere geleentheid ’n verklaring van hom sal afneem wanneer hy tuis is en nie só bewoë en geskok is nie. Sy ouers moet teenwoordig wees en hulle kan ook ’n prokureur vra om teenwoordig te wees, as hulle só sou besluit. Ek vra die dokter op die plaas om ’n sertifikaat uit te skryf dat die seun se maat dood is. Hy druk sy ooglede stadig toe. Uit sy dokterstas haal hy ’n voorskrifskryfblok uit en meld net kortliks dat die seun oorlede is. Hulle vertrek met hulle seun Bethulie toe, nadat ek op die ,22-geweer beslag gelê het. Die dokter het voor hulle vertrek gesê dat hy die ouers van sy seun se maat, asook hulle predikant, van die treurspel sal inlig.

Ek is dankbaar vir die telefoon wat by die huisie beskikbaar is en met Johan Zietsman as telefonis te Burgersdorp, reël ek met Burgersdorp se distriksgeneesheer om die volgende dag ’n lykskouing, post mortem, by die lykhuis van die Burgersdorp se hospitaal uit te voer. Ek skakel ook vir die AVBOB-tak in Burgersdorp om die lyk van die seun te kom haal. Terwyl ek wag dat AVBOB se lykbesorger vanaf Burgersdorp die lyk kan kom verwyder, ondersoek ek die lyk vlugtig. Hy is ook sowat 16 jaar oud, met mooi gelaatstrekke, geklee in kakiehemp en -kortbroek en kaalvoet. Daar is ’n klein ingangswond net links van sy borsbeen regoor ’n klein gaatjie in die kakiehemp. Dit ruk maar aan ’n jong sersant se emosies as jy die jongeling so doodstil sien lê en besef dat hier ’n lewe geneem is terwyl hy en sy ouers ook seker nog vooruitsigte en ideale vir hom in sy lewe gekoester het. Daar het ook gedagtes deur my kop geflits van wat daar nog vir my eie twee seuns, nog baie klein, in hulle lewe voorlê en wat sal ek maak as ek ’n boodskap van iemand moet ontvang dat hulle dood is. (Ons ander drie kinders was nog nie deel van ons bekommernis as ’n vader en moederdes-huise nie.)

Die lykswa daag op, en ook die seun se ouers vanaf Bethulie. Ek moet ten alle tye bystaan om later te kan getuig dat die lyk geen ander beserings opgedoen het vanaf my aankoms op die plaas totdat dit in die lykswa gelaai is nie. Die ouers is natuurlik hartverskeurend, die ma staan op haar knieë by die bed en hou haar lewelose seun om sy bolyf vas en huil onbedaarlik en snik-praat met hom terwyl haar kop op die seun se bors rus waar gou-gou ’n groot nat kol op die kakiehemp deur haar trane veroorsaak word. Die pa staan eenkant en kyk met geboë hoof stip na sy vrou en die seun op die bed en die trane loop ongehinderd oor sy wange met skouers wat ruk soos wat hy probeer om sy snikke te beheer. Hy gaan nader, raak liggies aan sy vrou se skouers en trek haar liggies van die seun se lewelose liggaam af, neem haar in sy arms en begin troos. Woorde word stil tussen hulle en die twee se snikke is al wat in die klein vertrekkie gehoor word. Hierdie tafereel wat voor my afspeel, het ook ’n knop in my keel gelaat. Ek staal my maar en na ’n rukkie roep ek die ouers eenkant toe en meld ek dat die seun se lyk nou deur die lykbesorger verwyder gaan word. Die ergste is ek moet hulle nou meedeel dat hulle die seun se lyk die volgende môre by die lykhuis te Burgersdorp hospitaal moet gaan uitken, voordat die lykskouing ’n aanvang kan neem,

Die lykswa vertrek met die lyk en só ook die ouers. Ek en Cronjé gesels nou met die swart- werker wat op die plaas bly. Hy was saam met die seuns toe hulle tarentale gaan skiet het. Hy het egter nie gesien of gehoor toe die geweer in die huisie afgegaan het nie.

Ek neem nou kortpad met die einde van hierdie besondere hartseer geval:

Alle verklarings word beëdig, lykskouing word deur die distriksgeneesheer gedoen, bewysstukke word ingehandig, ’n saak van strafbare manslag word geopen, want die seun het in sy verklaring gemeld dat die maat op die bed gesit het terwyl hy, die dokter se seun, voor hom gestaan en die geweer opgetel en dit ontlaai het, toe hy heel waarskynlik per abuis die sneller raakgevat het en so die noodlottige skoot afgevuur het. Die saakdossier word na die PG te Grahamstad gestuur. Hy weier om die seun te vervolg en gelas dat ’n ope-geregtelike nadoodse ondersoek deur die landdros gehou moet word. Dit beteken die geregtelike nadoodse ondersoek word in ’n ope landdroshof gehou met ’n voorsittende landdros, en die beëdigde verklarings van getuies, wat in die getuiebank onder eed staan, word een vir een deur hulle self voorgelees en ingehandig. Die seun, óf as daar ’n prokureur óf advokaat deur sy ouers aangestel is, kan dan vrae aan die getuie wat sy verklaring voorgelees het, vra. Dit is gedoen en die bevinding, wat later deur die PG bekragtig is, was: “Dood veroorsaak deur ’n ,22 koeël wat die hart deurdring het. Die dood is nie aan die opsetlike of kwaadwillige handeling deur enige lewende persoon toe te skrywe nie.”

Baie jare later het ek gewonder hoeveel berading die dokter se seun ontvang het om oor hierdie traumatiese gebeurtenis te kom. Hedendaags word slagoffers, getuies en selfs polisiebeamptes vir berading verwys, sodat hulle kan vrede maak met dit wat gebeur het óf wat hulle waargeneem het, en geen skuldgevoelens óf post-traumatiese afwykings óf terugflitse in hulle lewens daaroor kan ervaar nie! Met die genade van ons Hemelse Vader is dit wat ek hier op skrif neergepen het, nie ’n sielkundige terugflits in my verlede nie, want daarvoor het Hy, ons Hemelse Vader, reeds gesorg dat ekdit met empatie en sonder sielkundige nagevolge kon verwerk. Dit is maar slegs ’n beskrywing van wat ek op die toneel van hierdie skietvoorval, waargeneem en ervaar het.

Die voorval wat ek nou gaan beskryf is waar ek as lyfwag vir die destydse Minister van Arbeid, reeds jare gelede oorlede, minister Jan de Klerk, die vader van ons eertydse Staatspresident, F.W. de Klerk, moes optree:

Ja nee, ’n polisieman op die platteland, en as hy ook ’n sersant is, was omtrent die spreekwoordelike naald met die groot kop in die gemeenskap. Ek was, soos reeds verwoord, staatsaanklaer, speurder, traumaberader, tugmeester, inligtingsbron vir mense, soms kinderoppasser, selfs huweliksberader vir ons swartvriende se vrouens wat hulle mans kom verkla het, en nou ook lyfwag vir ’n Baie Belangrike Persoon (BBP). Ek wonder of Salomo in die Bybel, met al sy wysheid, só ’n veelsydige dagtaak gehad het, soos ek. Hy het wel vele vroue gehad, ek praat nie daarvan nie, ek praat van sy dagtaak! Ha, ha.

Die Oudefontein feesterrein, is naby die Oranjerivier, op die plaas Oudefontein van een van die vele Coetsee’s. (as ’n Coetsee sy van met ’n ‘s’ spel, kan jy maar seker wees hy is ’n Gereformeerde [Dopper]). Jaarliks, op 16 Desember word die terrein deur die inwoners van Knapdaar, Venterstad, Bethulie, en ook Burgersdorp ‘Dingaansdag’ of ‘Geloftedag’ soos dit later bekend gestaan het (hedendaags bekend as Versoeningsdag) kom herdenk. Hulle het dan tot na Nuwejaar op die terrein kom uitkamp om die Kersgety saam met vriende en familie te vier. Dieselfde terrein is ook vir ander feesgeleenthede deur die Gereformeerde gemeenskappe van Bethulie, Burgersdorp en Venterstad gebruik. By een so ’n feesviering sou Minister Jan de Klerk as gasspreker kom optree. Op die nag voor sy optrede, reën dit katte en honde. Brakslote word spruite en die Stormbergspruit word ’n rivier en gruispaaie word modderbaddens. Hy arriveer ’n dag voor die tyd met ’n ‘Goewerment Garage’ motor (GG), hedendaags bekend as Staatsgarage se Daimler-Benz ministeriële voertuig

tot op Bethulie waar hy en sy eggenote by die hotelbaas, ’n vriend van hulle, tuisgaan. Hy en sy eggenote sou met hulle bestuurder na die feesterrein toe gaan. Hulle kon nie in die gruispad, wat nou ’n modderbad is, ry nie en dalk vasval nie. Burgersdorp polisie skakel my en sê dat ek vir minister De Klerk by Oudefontein moet gaan sê dat hy dringend die Eerste minister, Dr. Verwoerd, moet bel rakende ’n mynramp aan die Rand, waar daar honderde mynwerkers vasgekeer is. By die feesterrein hoor ek dat sy ampsmotor op die gruispad tussen Bethulie en Oudefontein, vasgeval het, en dat van die distrik se plaasboere besig is om die GG-voertuig met ’n trekker uit te sleep. Ek ry nog redelik maklik deur al die moddergate en op die snot-gladde gruispad. Ek ry in die rigting waar die motor vasgeval het.

Die boodskap word aan minister De Klerk oorgedra. Die bestuurder van die GG-motor is ook die lyfwag van die minister. My oop driekwart ton polisiebakkie met kettings oor die agterwiele, is omtrent die enigste voertuig wat die modderpaaie aandurf. (Ek kan mos maar ’n bietjie spog – ek wat weet hoe om op nat grondpaaie te bestuur! – Ou spogter!) Ek stel voor dat ek hom sal oppas en hom met my polisiebakkie Burgersdorp toe sal neem om die Eerste minister te skakel. Pretoria sou ook ’n Weermag Dakotavliegtuig vanaf Bloemfontein stuur om hom op Burgersdorp op te laai, terug Pretoria toe. Ons kom veilig by Burgersdorp polisiestasie aan en hy skakel die eerste minister in Pretoria. Ons verneem dat daar twee mynrampe aan die Rand, by Coalbrook- en Clydesdale myne, was. Ons wag buite die dorp op die koms van die Dakota.

Die Dakota land op ’n skoongeskraapte stuk veld op die munisipale meentgronde, net buitekant Burgersdorp wat al die jare as landingstrook diens doen.

’n Soortgelyke Dakota vliegtuig wat min Jan de Klerk sou kom haal het en wat op die landingstrook te Burgersdorp vasgeval het. (Foto: Google).

Toe die vliegtuig na die landing aangery kom (op Engels sê hulle “it taxies in”) na waar ons wag, val daardie Dakota in die modderoppervlak van die skoongeskraapte veld vas. Mense, vaster as vas, sodat sy linkervoorwiel en linkervlerk in die modder vassteek. Dit kan nie roer nie. Die Afdelingsraad se padkamp is nie ver daarvandaan nie, en nou gaan konstabel Tiny Pretorius van Burgersdorp se polisie die werksvoorman by sy huis roep om die vliegtuig met ’n padskraper (“grader”) óf met ’n Caterpillar-stootskraper uit die modder te trek. Hy arriveer saam met konstabel Tiny Pretorius en probeer die vliegtuig met ’n Caterpillar-stootskraper uittrek. Dit slaag nie. Ek stel voor ek neem die minister terug Bethulie toe om by sy vrou aan te sluit, dan kan hulle weer ’n GG motor van

Bloemfontein stuur om hom te kom haal. Die bestuurder het gehoor dat ek die minister verwittig dat hy sou terugvlieg Pretoria toe. Die motor waarmee hy gekom het, het mev. De Klerk teruggeneem Bethulie toe en daarvandaan het die bestuurder alleen teruggery Bloemfontein toe. Alles lekker deurmekaar! Hulle was onder die indruk dat die polisie vir haar sal kom haal om by haar man aan te sluit sodra hy terugkom vanaf Burgersdorp om na Oudefontein feesterrein te gaan. Min wetende van al die drama met die vliegtuig, ens.

Die minister sê egter ons moet eers probeer om by Oudefontein uit te kom, sodat hy sy toespraak vir iemand kan gee. Ons ry veilig met die polisiebakkie tot daar. Dit reën nog eenstryk deur. Ek het steeds kettings aan die doodgewone oop bakkie se agterwiele. Toe ons by Oudefontein aankom, groet hy die mense en ons gaan almal in een groot markiestent in. Hy praat net sowat 15 minute en toe daar ’n breek kom in die reën, vertrek ons twee na Bethulie toe. Ons bereik Bethulie veilig. Ek stel voor om tyd te bespaar moet ek hom en sy eggenote tot op Smithfield neem en daar wag vir die Staatsgarage (GG) voertuig, want tussen Bethulie en Smithfield is die pad ook ’n gruispad wat nat is. Vanaf Smithfield kan hulle op ’n teerpad na Bloemfontein reis.

Minister De klerk reël met sy vriend, die hoteleienaar, om Smithfield polisiestasie te bel en te vra dat hulle die GG-voertuig daar moet voorstaan en vir hom moet wag. Hy moes ook vir Bloemfontein weermagbasis (Tempe) skakel om gereed te staan met ’n vliegtuig wat hom en sy vrou na Pretoria toe kan vlieg. Alles het toe mooi uitgewerk. Almal was maar vol modder, die bakkie se ligte seegroenkleur is bruin-rooi van die modder en die kettings oor die agterwiele is amper deurgeskuur. Ek moes heelwat later tydens die jaarlikse Parade inspeksie ’n nuwe stel kettings bestel. Terloops, die Dakota wat vasgeval het, kon eers twee dae later uit die vasvalposisie uitgesleep word en terugvlieg Bloemfontein toe. Gelukkig geen skade opgedoen met die vasvallery nie. Die vliegtuig se loods en sy bemanning het intussen in die Grand Hotel op Burgersdorp tuisgegaan. Ek kan nou net sêSela! Mooi storie nè.

Ek moet julle nog vertel van hoe konstabel Molea van die oop Chev. (Chevrolet) patrolliewa (bakkie) afgeval het. Dit was een aand ongeveer 11nm, net voor Kersfees. Ek dink dit was in 1963, maar die datum is nie nou ter sake nie. Ek kry ’n telefoonoproep van een van die plase, so ongeveer 20 myl (±32 km) vanaf die stasie dat daar ’n groot lawaai by die werknemers se huise is en dat hulle berig ontvang het dat een persoon baie ernstig gewond is a.g.v. ’n messtekery. Ek trek gou uniform aan, roep Molea om ook aan te trek sodat ons kan gaan kyk wat op die plaas aangaan. Dit was vir my snaaks Molea kom nie voor by my inklim nie, maar bly agter op die oop bakkie sit. Wel, hy moes die 6 plaashekke oop- en toemaak. By die plaas aangekom, sien ek dat Molea te veel gedrink het. Hy was dronk. As ek dit geweet het, het ek hom nie saamgeneem nie, maar ewenwel, hy was daar en ons arresteer 3 swartmans vir oproerige gedrag en aanranding. Ons vertrek op ons terugreis Knapdaar toe.

Molea sit met sy blaker so wydsbeen oor die kant van die bakkie, hier agter die bestuurderskajuit, met sy rug teen die kajuit vasgedruk. Ek ry om tuis te kom want dis nou Oukersdag - amper 1uur in die oggend, en die mense moet toegesluit en registers moet nog opgeskryf word. Die pad is ’n plaaspad met dwarswalle om stormwater weg te keer as dit reën. Hierdie dwarswalle begin sowat 2 myl (±3,5km) van die polisiestasie af. Nadat ek die voorlaaste hek deur is en vir die grootpad maak, waar die laaste hek is, hoor ek ’n geklop teen die bestuurderskajuit. Ek is ergerlik, hou stil en steek my kop by die venster uit, en vra: “Molea, wat is dit?”

Toe gee een van die gearresteerdes antwoord: “Baas, Molea het van die bakkie afgeval!”

Ek spring uit, met my flits lig ek in die pad af en sien Molea ongeveer 30 treë van die bakkie af aan die kant van die pad lê.

Ek gaan na hom toe, hy kerm en kla, antwoord my nie, ek sien sy agterkop is vol bloed en dis kaal geskuur op die grondpad en vol stof. Sy gekerm is regte dronkmansverdriet. Ek roep een van die gearresteerdes en ons dra Molea na die bakkie toe en lê hom plat op die bakkie se vloer neer. Nou ry ek polisiestasie toe. Die een gearresteerde maak die laaste hek oop en ons kom by die polisiestasie aan. Molea kerm en vra net na Eva. Eva is sy suster (ek glo nog dit was sy houvrou) wat by hom bly. Ek gaan roep haar en sy gaan nou saam met my en die drie gearresteerdes Burgersdorp toe. Ek laai hom bydie hospitaalaf en neem die drie mans Burgersdorp aanklagkantoor toe, waar ek hulle toesluit.

Ek en Eva ry terug Knapdaar toe. Corrie het ook van die gekerm en gekla van Molea wakker geword, gelukkig het die kinders vas geslaap. Ek kom in die vroeë more-ure terug by die polisiestasie. Ek het ’n saak van Onverskillige óf Nalatige Bestuur geopen en self die saak teen my ondersoek. Dit word normaalweg nie toegelaat dat jy ’n bewering teen jouself ondersoek nie, maar toe ek in die oggend die aangeleentheid telefonies aan die distrikskommandant te Middelburg (KP), rapporteer, was dit sy opdrag dat ek die saak moet ondersoek en aan hom stuur.

Die DK het die saak na die prokureur-generaal (PG) te Grahamstad gestuur, want alle sake teen polisiebeamptes, hoe gering ook al, moet deur die PG gelees word en hy sal dan besluit of die polisiebeampte aangekla moet word al dan nie. Die PG het geweier om my te vervolg. Molea was aangekla weens dronkenskap terwyl hy aan diens was en was later departementeel verhoor en met R5,00 beboet. Dié boete was van sy salaris verhaal. Kyk net hoe maklik het ons met gearresteerde plaaswerkers omgegaan en hulle gebruik, sonder dat hulle ontsnap het. Die dorp- en stedelike polisiemanne, kon nie op dieselfde wyse hulle gearresteerdes hanteer nie, want hulle het al te veel met die polisie gebots en is meer aggressief in hulle verhouding met die gereg.

Soos wat die Karoo met bruin sprinkane gepla was toe ek nog ’n laerskoolkind te Richmond (KP) gewees het, word dele van die Karoo steeds van tyd tot tyd deur ’n sprinkaanplaag geteister. Sprinkaaneiers lê glo vir jare dormant in die grond en wanneer oorvloedige reën val, sal die eiers uitbroei en die klein sprinkaantjies begin te loop. Hulle vreet alles wat voorkom en nou groei hulle soos paddastoele. Daardie fase van hulle lewensiklus word voetgangers (“hoppers” in Engels) genoem. Die Engelse se benaming is baie toepaslik, want hulle hop-hop soos hulle spring om by elke groen grassprietjie of bossie uit te kom, want hulle vlerke is nog nie ontwikkel nie.

Na sowat ’n week begin hulle vlerke uitkom. Aanvanklik vlieg hulle met die vlerke wat nog swak ontwikkel is, net so ’n kilometer of twee-drie op ’n dag. As dit sononder raak gaan sit hulle vir die nag. Nou word daar weer eiers gelê op elke plek waar daar oornag word. Môreoggend, douvoordag begin hulle vreet en teen 8uur die oggend begin hulle weer vlieg. Die swerms bly dis vir ’n week of twee in die omgewing, en wanneer hulle vlerke goed ontwikkel is, vlieg hulle oor die hele Karoo. Daar word verneem dat daardie tipe swerm-sprinkane tot in die noorde van Afrika trek-vlieg en alles vreet wat voorkom. Dis dieselfde soort bruin sprinkane wat jare gelede ook in die Karoo getrek en alles wat voorkom opgevreet het. Dieselfde soort wat in die vuurhoutjieboksie vir die oproer in die Sub A-klas te Richmond (KP) veroorsaak het. “Haai, Pa!”

Wel, in 1963 se somer, was dit die Noord-Oos Kaap wat deur hierdie plaag geteister was. Toe dit Venterstad / Knapdaar / Burgersdorp / Aliwal-Noord binneval, moes ons polisiestasies as kontakpunte optree vir die sprinkaanbestryders van die Departement Landbou.

Sodra ’n boer ’n swerm(s) opmerk op sy plaas, het hy teen sononder die naaste polisiestasie geskakel. Die polisiestasie skakel die koördineringskantoor op die naaste dorp. Hulle sal die helikopters voor dagbreek uitstuur om die sprinkane wat nog sit en vreet, te gaan spuit met spuitstof uit spreiers wat aan die onderkant van die helikopters gemonteer is. Dan word ¾-ton bakkies met dromme gifpoeier na die plek gestuur om gifpoeier te gaan spuit. Die plaaseienaar word versoek

om so teen 3-4uur die oggend die presiese plek te gaan merk met ’n paar brandende lanterns sodat die plek deur die helikopterloodse waargeneem kan word.

Ons polisiestasie was dus vierkantig betrek om met die uitroeiing van die sprinkane betrokke te wees. Van die voetgangersprinkane het ook oor die hoofspoorweglyn vanaf Johannesburg na OosLonden, wat verby Knapdaar geloop het, geloop. Dan het die goederetreine wat vanaf Bethulie se kant oor die sylyn by Swaartrek na Knapdaar ry, gaan staan, want hulle wiele het begin gly op die miljoene sappige sprinkaantjies en hulle kan nie met hulle vrag vorder nie. Dan is ’n deel van hulle vrag by Swaartrek afgehak, dit is op die sylyn gerangeer en met die een gedeelte van die vrag na Knapdaar se spoorwegstasie toe geneem. Dit word daar op ’n sylyn te Knapdaar gerangeer, en nou met ’n stoomenjin wat agterstevoor loop, teruggery na Swaartrek om die ander afgehakte gedeelte van sy vrag na Knapdaar te bring. Nou word die trein weer ‘opgemaak’ en sy tog verder aangepak na Burgersdorp op pad na Oos-Londen toe.

Ons moes daagliks ons bakkie se voorruit, hoofligte en verkoelers van derduisende dooie sprinkane skoonmaak. Dit het so ’n vetterige oranjekleurige sap gelaat en moes behoorlik afgeskrop word. Die verkoelerrooster (“grid – core”), dit lyk mos soos ’n heuningkoek, moes liggies en versigtig skoongeskraap word, sodat dit nie stukkend gesteek word nie, want die polisiebakkie sal na net sowat 50 kilometer begin kook, want die warmwater kan nie deur die verstopte verkoeler verkoel word nie. Motors het ook male sonder tal met sprinkaanvoëls gebots, wat in swerms agter die hophopende-voetganger-sprinkane wat oor die paaie geswerm het, geloop en sprinkaantjies te kies en te keur opgepik het. Hulle het hulle nie aan padveiligheidreëls gesteur nie! Ha, ha.

Ek het vroeër reeds gemeld dat die insidente en interessante gebeurtenisse tydens ons verblyf te Knapdaar, nie in datum- óf jaarvolgorde gemeld word nie. Ek weet dat jy, liewe leser, nou begin wonder wanneer gaan ek die beloofde insident wat aanleiding daartoe gegee het dat ek voor die hof moes verskyn op ’n klagte van ‘Aanranding met doel om ernstige letsels toe te dien’, beskryf. Wel, ek gaan julle nuuskierigheid bevredig deur dit nou kortliks te beskryf. Hou in gedagte dat dit kort voor ons verplasing terug na Port Elizabeth plaasgevind het. Inteendeel ek en Corrie het reeds al begin om ons los eiendom in te pak en voorbereidings vir ons verplasing na Port Elizabeth te maak. Daardie voorbereidings en verplasing word onder ’n ander hoofstuk behandel. Die aanleidende feite van die voorval is soos volg:

Dit was baie vroeg in Januarie 1963, toe alle polisiestasies opdrag gekry het om weer die kwespunte in hulle distrikte gereeld te gaan besoek. Ons kwespunte was net die twee spoorwegstasies en die trein- en padbrûe oor die Oranjerivier tussen Knapdaar se polisiewyk en Bethulie s’n in die Oranje Vrystaat (tans die provinsie Vrystaat genoem). Ons het vir die hele jaar gereeld snags hierdie kwespunte gaan besoek. Hier teen Oktober –November 1963, toe ek reeds op verplasing na Port Elizabeth gestaan het en reeds na die rang van adjudant-offisier bevorder is, het die geval, wat nou bespreek gaan word, plaasgevind.

Ek en konstabel Molea het met ons nuwe toegeboude Chevroletbakkie om ongeveer 10nm (22:00) op die gruispad na Bethulie toe gery op pad na die brûe toe om dit te inspekteer, toe ons drie swartmans wat met fietse kry wat in die rigting van die brûe ry. Een met ’n lig en die ander twee sonder ligte. Ek stop by die drie mans, klim uit en praat met hulle. Die een man het ’n knopkierie met ’n stuk yster oor die knop van die kierie, by hom, en ek deel hom mee dat hy vir ‘Besit van ’n gevaarlike wapen’ gearresteer word. Ek vat die kierie by hom en sê hy moet in die patrolliewa klim. Die ander twee sal ek dagvaar omdat hulle fietse sonder ligte gery het.

Die man wat die kierie by hom gehad het, gooi sy fiets neer en hardloop weg van die patrolliewa af, die donkerte in. Ek hoor hom teen ’n draadheining langs die pad vashardloop en ek gooi instinktief die knopkierie in daardie rigting. Ek sê vir Molea om die kierie te gaan soek, want ek moet dit by die

polisiestasie as bewysstuk inhandig. Hy roep my en sê dat die man wat weggehardloop het, lê en kreun by die draadheining. Die knopkierie het by hom gelê. Ek gaan soontoe en besef dat ek dalk hierdie man raakgegooi het, maar kan geen merk aan hom sien nie. Hy en sy fiets word in die bakkie gelaai, en ons ry verder na die brûe toe en ondersoek die pilare van die brûe vir moontlike sabotasie by die ingang aan ons kant van die rivier. Ons vind niks, draai om en ry polisiestasie toe.

Die swartman, sy naam was Boetetjie Jas, word by die polisiestasie ‘deur die boeke gesit’ en opgesluit. Hy kla dat sy kop baie seer is. Ek kyk en sien ’n knop aan die agterkant van sy kop. Die volgende dag kom van sy familie by die polisiestasie aan en betaal ’n boete vir ‘Besit van gevaarlike wapen.’ Hy word vrygelaat en hulle vertrek.

’n Dag later bel sy werkgewer, ’n plaasboer in die distrik, en sê die werker lê in sy huis en hy is bewusteloos. Ek ry dadelik soontoe, vertel die boer wat gebeur het, en laai die swartman op en jaag met hom deur na Burgersdorp hospitaal toe. Hy word dadelik opgeneem en ’n drup word aan hom gesit. Ek verlaat die hospitaal en gaan by Burgersdorp polisiestasie aan en vertel Jacob Steyn wat gebeur het. Ek vra dat speurdersersant Daddy Fuchs die saak moet ondersoek. Jacob Steyn rapporteer telefonies die saak aan die distrikskommandant te Middelburg (KP).

By die polisiestasie te Knapdaar maak ek volledige aantekeninge in my sakboekie asook in die voorvalleboek en registreer ’n saak van “Aanranding met die doel om ernstige letsels te berokken” en verstrek die saaknommer aan speurdersersant Daddy Fuchs.

Ek verstrek nou net bondige inligting hoe die saak verder verloop het:

Ek verneem dat die swartman, ’n dag of wat na sy opname te Burgersdorp hospitaal, na die Livingstone Hospitaal te Port Elizabeth oorgeplaas is. Die diagnose was moontlike bloeding op die brein. Ons verplasing word einde Januarie 1964 uitgevoer en ek begin op 1 Februarie 1964 by Korsten polisiestasie in Port Elizabeth as 2de in bevel van die polisiestasie. Ek word gedurende Maart óf April 1964 meegedeel dat die prokureur-generaal (PG) beslis het dat ek aangekla moet word van “Aanranding met die doel om ernstige letsels te berokken” en dat ek te Burgersdorp landdroshof verhoor moet word.

Ek reis op staatskoste per trein Burgersdorp toe, kry staatsverdediging omrede die voorval plaasgevind het terwyl ek aan diens was, en word onskuldig bevind op die aanklag. Daar kon nie bewys word dat ek die swartman raak gegooi het nie, en dat hy die besering kon opgedoen het toe hy teen die draadheining vasgehardloop het en die draad hom agteroor teruggeskiet het en hy as gevolg van die val, sy kop teen die grond kon beseer het.

Ek is nou nog oortuig dat dit onwaarskynlik is dat ek hom kon raakgegooi het met ’n “pot shot” agter die kop, ongeveer 15 treë weg in die donkerte waar ek hom nie kon sien nie. Terloops, Boetetjie Jas het gesond geword, sonder dat hy geopereer is. (Dit was toe nooit bloeding op die brein nie, maar slegs erge harsingskudding wat die brein laat swel het, wat ’n drukking veroorsaak het.) Hy het kom getuig, maar in sy getuienis gemeld dat hy weet nie hoe hy beseer is nie. Watter verligting was dit nie vir my en Corrie nie, want hierdie saak het soos ’n swaard oor ons hoofde gehang, alhoewel ons beide geglo het dat ek nie die besering aan Boetetjie Jas veroorsaak het nie.

Ek gaan in die volgende afdeling weer ’n paar opmerkings en dinge beskryf wat met die twee ander kinders, Werner en Christo, op hierdie standplaas gebeur het. Ek sal dalk noodgedwonge ook na van die tweeling se kaskenades saam met die ander twee moet vermeld, want die kinders speel mos saam en hulle is mos nie engeltjies nie!

Toemaar ek jok, hulle is, net as hulle slaap! Wie kan na slapende kleuters kyk en nie die onskuld en vreedsame uitdrukking op hulle gesiggies raaksien nie? Dan is hulle mos die spreekwoordelike engeltjies op aarde.

9.5 Geboorte van Werner en Christo en hulle dinge

Ons het die geboorte van Werner afgewag wat op 22 November 1961 plaasgevind het. Tannie Lenie, Corrie se oujongnooisuster, sy was ook die oudste van haar susters, het kom kuier en sy het vir my en die tweeling kom huishou. Sy het seker so ’n maand by ons gebly voordat sy terug is Port Elizabeth toe. Sy het aangebied om die nuweling se peetma te wees, wat ons ook só in die doopregister laat aanteken het. Ek wonder of die gebruik om peetma of peetpa nog in die huidige bestel gebruik word.

Ek ry Burgersdorp toe om vir Corrie en klein Werner te gaan haal. Ons tel die tweeling by tant Sannie se huis op, en toe hulle in die kar klim, praat sy met hulle, maar toe begin hulle huil. Sy vra wat makeer, maar hulle kan nie getroos word nie, want die tannie hier voor met die baba op die skoot ken hulle nie. Haar trane sit maar vlak. Gelukkig hou hulle op met hulle swanesang toe ons by die huis afklim. Nou ontdek hulle wie dié tannie eintlik hul is, want dié ‘tannie’ is nou nie meer vreemd nie, want sy gee dan nou só baie liefde en aandag vir hulle! Ons gesin het nou vermeerder, nadat ons net-net twee jaar getroud is, na ’n optelsom van 2+3. Ons het ook die mandjie wat ons vir die motor laat maak het, op ’n staander wat ek van hout gemaak het, ook in ons slaapkamer langs ons bed geplaas waarin Werner kon slaap. Die tweeling was nog te klein om alleen in die ander kamer te kon slaap, en het nog maar in die groot bababedjie geslaap. Die bababedjie se voorste kant word afgeslaan, sodat hulle self kan in- en uitklim. Ons het nou ook ’n babawaentjie (’n prêm / “pram/perambulator” in Engels), ’n drie-in-een tipe, aangekoop. Dis ’n kombinasie van ’n stootwaentjie, ’n drawiegie en ’n stootkarretjie. Daar moet elke slag net ’n verstelling gemaak word.

Die winter van 1962 was maar snerpend koud in ons geweste. Ek het altyd, met ’n tong in die kies gesê dat toe Die Liewe Heer die koue vir die wêreld hier gemaak het, het Hy dit wat toe oorgebly het nadat elke plek sy porsie koue ontvang het, Hy dit vir Knapdaar gegee het, daarom dat dit elke winter só bitter koud was in ons kontrei.

Die volgende is ’n kort beskrywing van hoe ons baie groot geskrik het toe Werner sowat 6-7 maande oud was, en hy byna ’n ernstige hoofbesering opgedoen het. Die omstandighede is soos volg: Werner sit op Corrie se skoot in die kombuis waar sy hom met vaste kossies voer – ek dink dit was Purity, want dit was maar die inding om vir kleintjies te gee en dit was oral beskikbaar. Ek is ook in die kombuis en staan maar net by hulle twee. Ek sien dat die horlosie/wekker wat aan die bokant van die kombuiskas is, staan, en ek haal dit af om dit op te wen. Die horlosie is in ’n los plank gemonteer. Dit plank glip uit my hand, ek gryp daarna en vang dit, maar die punt van die plank raps nogtans vir Werner op sy kop, net waar die fontanel begin toegaan. Hy skrik vervaard en nou begin hy onbedaarlik huil. Corrie troos en sy kry hom dat hy ophou huil en hy begin slaap. Wel daar was net so ’n rooi skaafmerkie op die plek waar die houtplank hom geraps het.

Ons het so ’n paar dae later weer eens groot geskrik toe ons hom haastig op 11/07/1962, na Burgersdorphospitaal toe moes neem. (Inligting oor die datum is in ons Afrikaanse Familiebybel aangeteken). Ek is in die polisiekantoor besig, Corrie en die tweeling sit in die Consulmotor voor die kantoor om lekker warm te kry in die snerpende koue. Die huiswerker, ek dink dit was Emily, het na die motor toe gekom en vir haar kom sê dat Werner lê en ruk. Corrie gaan die huis deur die enkelkwartiere binne en sy roep ook vir my. Werner se liggaam is in spasma en bly ruk soos hy stuiptrekkings kry. Ons skrik ons buite weste, ek skakel dadelik die distriksgeneesheer op Burgersdorp en praat met die nuwe dokter, Ivan C.H. Bekker. Hy sê hy kom dadelik uit Knapdaar toe, maar ons moet hom intussen met yswater afspons. Ons doen dit, maar sy liggaam bly ruk-ruk.

Ivan kom en ek wys aan hom die skaafmerkie op Werner se kop en vra of dit nie dalk die oorsaak is van Werner se liggaamlike toestand nie. Hy sê hy glo nie, maar hy sal Werner liewer dadelik hospitaal toe wil neem. Hy neem vir Corrie en Werner met sy motor Burgersdorp hospitaal toe. Ek reël vinnig met tant Sannie du Plooy dat die tweeling by haar moet bly en ek gaan dadelik met my motor ook Burgersdorp toe. By die hospitaal plaas hulle Werner in ’n ysbad en die rukkings neem af en nou lê hy rustiger. Ek kom by die hospitaal en Jacob Steyn se vrou Nella, die matrone, sê sy sal nou met hulle motor, so ’n groot 1955 Pontiac, vir Corrie en Werner Bloemfontein Nasionale Hospitaal toe neem. Suster Basson sal saamgegaan om Werner vas te hou. Dis so 150 myl (±240km) vanaf Burgersdorp. Dr. Ivan Bekker het reeds telefonies met dr. Repko, ’n breinspesialis, by Bloemfontein in verbinding getree. Dr. Repko het vir hulle by die hospitaal ingewag. Hy het dadelik begin om Werner te ondersoek.

Ek ry terug Knapdaar toe met die geweldige skuldgevoel van hoe ek ons klein seuntjie dalk met my onnadenkende optrede beseer het, en sê nou hy hou vir die res van sy lewe iets daarvan oor, óf soos die duiwel, wat nou oortyd werk, vir jou allerhande voorspooksels laat sien en dink, soos byvoorbeeld: “Sê nou hy gaan dood?” Ek ry al vinniger met hierdie verwyt in my gedagte, polisiestasie toe om die nodige reëlings te gaan tref om ook Bloemfontein toe te gaan. Reël telefonies met die distrikskommandant op Middelburg (KP) vir ’n paar dae verlof. Konstabel Cronjé sal vir Burgersdorp-polisie nader indien hy hulp verlang. Ek trek my uniform uit, pak klere vir my en Corrie in ’n koffer, gaan na tant Sannie en sê vir haar wat die toedrag van sake is, en óf hulle vir ’n paar dae langer na die tweeling sal omsien. Sy stem in, gaan na McVitty toe, die Algemene Handelaar te Knapdaar, want ek weet nie hoeveel geld ons benodig vir verblyf in Bloemfontein en vir petrol nie. Ek gaan ’n lening van £30.0.0 (R60,00) by hom aan en vertrek dadelik Bloemfontein toe. (Daardie jare was daar ook nog geen kredietkaart- en garagekaart geriewe nie, alleen kontant.) Ek het ook nog nie ’n tjekrekening gehad nie, slegs ’n spaarrekening by Volkskas Bank op Burgersdorp. Na hierdie voorval het ek wel ’n tjekrekening by Volkskas Bank geopen.

By die hospitaal se ontvangs, in Bloemfontein, neem hulle my na die saal toe waar Corrie en Werner is. Gelukkig kry ek nog vir dr. Repko wat op sy rondtes kom en hy sê dat die beserinkie aan Werner se kop nie die stuiptrekkings veroorsaak het nie, maar dat Werner se koors só hoog gestyg het dat dit koorsstuipe tot gevolg gehad het. Dr. Repko het toe die volgende dag, deur middel van ’n lumbale punksie (“lumbar puncture”), rugmurgvog van Werner getrek om seker te maak dat daar nie dalk tog bloed in die rugmurg is wat sou dui op ’n breinbesering nie. Dit was negatief. Wat ’n verligting vir beide van ons as ouers. Die Here word gedank vir hierdie diagnose en die feit dat ons nie ons meer hoef te bekommer oor die besering wat die plank, waarin die wekker gemonteer was, aan sy kop gemaak het nie. Ons is verlig dat hy nie bloeding op die brein opgedoen het nie. Werner word nog twee dae onder observasie gehou. Hy is redelik inskiklik en tevrede in die hospitaal. Ons neem ons verblyf in Die Roberta privaathotel, net oorkant die hospitaal. Die hospitaal laat ons toe om Werner tydig en ontydig te kom besoek.

Op 12/07/1962, terwyl ons by die privaathotel gebly het, ontvang ons berig dat ek dringend Burgersdorp hospitaal moet bel. Ek bel Burgersdorp toe, en verneem dat Anton ook gehospitaliseer is met koorsstuipe. Kobus bly huil en is ontevrede om alleen agter te bly. Daar word besluit dat hy maar saam met Anton in die hospitaal moet agterbly. Beide van ons raak nou haastig om terug te gaan huis toe, om by die tweeling te wees en hulle uit tant Sannie se hande te neem.

Die volgende dag word Werner ontslaan en ons vertrek met hom terug Knapdaar toe. By Knapdaar vind ons dat die tweeling ook reeds ontslaan is en ons kry hulle by tant Sannie. Almal is baie opgewonde en vol vreugde dat almal nou weer heelhuids en gesond tuis is. Voor Werner se siekte kon hy redelik lank alleen regop sit, maar na die hospitaalepisode, moes hy maar weer van nuuts

af geleer word om te sit, want die medikasie wat hy moes drink het hom meer laat slaap as om wakker te wees. Toe die medikasie uitgewerk is, het ons hom, soos ons ook met die tweeling gemaak het, in ’n kartonboks gesit, en met kombersies gestut. Hy, die tweeling en ons, het gelukkig gou weer in ons normale roetine ingeval van kos en melkbottels voorberei, eet, skree, stêre droogmaak, sit, loop, werk en slaap.

Nadat konstabel Piet Myburg as gevolg van sy porfirie verplaas is, het ek ’n jong konstabel vanuit die SA Polisiekollege gekry. Sy naam is Cronjé – ek bedoel dis soos ons hom genoem het, nooit op sy naam Kobus nie, net op sy van. Hy was sowat ’n jaar by my toe hulle hom as vrywilliger na Alexanderbaai se diamantdelwery vir ’n jaar gestuur het. Die polisiemanne wat as vrywilligers soontoe gegaan het, kon na hulle tydperk van ’n jaar diens by Alexanderbaai, na ’n polisiestasie van hulle keuse verplaas word. Hy was ’n boorling van Albertinia, in die Kaapprovinsie en het toe gevra om soontoe verplaas te word. Daar was egter nie ’n vakature nie en hy is toe na Riversdal, Albertinia se buurdorp, toe verplaas. Hy was later ’n sersant wat as hondegeleier by die SA Polisie Hondeskool opgelei is en ons het hom, toe ons te Pretoria-Noord gebly het, vir ete uitgeneem. Hy was daardie tyd te Mosselbaai gestasioneer. Ons het kontak met hom verloor en sy verdere omswerwinge is vir ons onbekend.

Cronjé was ’n regte kinderbederwer. Hy het by geleentheid, toe Werner nog ’n baba was, hom opgetel en na die kombuis toe geneem waar Corrie gewerk het. Hy het net gesê: “Mevrou, hy het gehuil, toe tel ek hom maar op.”

Sy het gesê dat hy net gekla het en nie gehuil het nie, want hy wil seker net kos (melk) hê. Sy was toe juis besig om vir hom melk gereed te kry, en toe moes hy maar so ’n wyle met Werner in sy arms bly staan totdat sy vir Werner by hom kon neem.

Hy het gewoonlik vir haar gevra of die tweeling saam met hom kan gaan om die patrolliewa te gaan bêre. Sy het aanvanklik geweier want dis winter en bitter koud. Hy beloof om hulle gou-gou huis toe te bring. Nadat hy die patrolliewa in die motorhuis parkeer het, het hy elkeen onder sy arms vasgehou, soos wat jy twee waatlemoene sou dra, en met hulle huis toe gehardloop om so gou as moontlik uit die koue uit te kom. Hulle het gekraai van die genot om só gedra te word. Hy het ook ’n Vespa bromponie gehad waarop hy hulle in die polisiekamp mee rondgery het, die een agter op die passasierssitplek, met sy hande styf om Cronjé se lyf en die ander een staan tussen sy bene en hou ook aan die handvatsels vas. Kort-kort word hulle plekke omgeruil. Ons het hom maar kort-kort gemaan om versigtig te ry sodat die kinders nie moet seerkry nie. Hy het, as ’n konstabel, nog geluister na die ‘sersant en die sersant se vrou’ en het gelukkig nooit met hulle baie vinnig gery nie. Cronjé was opgevolg deur ’n konstabel Van Tonder. Hy het ook van die diamantvelde van Namakwaland gekom, maar hy het net ’n paar maande gebly toe is hy verplaas. Ek het toe vir ’n paar maande alleen saam met die swartkonstabel, Molea, die fort gehou – die spreekwoordelike ‘hoofman oor twee’ waarvan een ekself is! Nog ’n paar maande later van alleen swoeg en sweet, stuur hulle vir my ’n ander man, konstabel Oelofsen. Hy was vroeër in die polisie en het nou weer aangesluit. Hy het die eerste maand of wat met privaatklere gewerk, voordat sy uniform wat vanaf die kwartiermeester in Pretoria bestel is, gearriveer het. Hy het een naweek huis toe gegaan, daar in die Grens afdeling van die polisie (Oos-Londen), die dorp kan ek nie meer onthou nie, maar ek weet hy wou gaan trou. Hy soebat my om tog vir hom borg te teken vir R100,00 wat hy benodig om in die huwelik bevestig te kan word. Ek teken toe maar as borg nommer een by die destydse SAS-Bank, hedendaags die SASFIN BANK. Hy arriveer toe ook ’n paar dae later met sy bruid. Ek rapporteer toe sy huwelik per brief aan die distrikskommandant. Ja, daardie jare moes dit só gedoen word, want dan het jy so ’n paar rand ‘lewenskoste’ per maand meer gekry. Die ghoeroes in die staatsdiens was seker bewus dat ’n vrou

aan ’n man se sy hom meer geld uit die sak jaag. Ha, ha. Later het hierdie toelaag verval. Waar gaan die man nou bly, want die enkelkwartiere, dis nou die een kamer in ons huis, het net ’n hangkas en enkelbed. Hulle slaap nou maar voorlopig só op die nou enkelbedjie – albei slaap voor. Ha, ha!

Gelukkig hoor die Coetsee’s van sy dilemma en hulle knap die ou vroeëre opstal, sien punt BB op die rowwe sketsplan, so ’n bietjie op. Hy leen oral maar stukkies meubels en hulle neem hulle etes by tant Sannie du Plooy. Hy is later terug verplaas na ’n polisiestasie in die Grens, die naam kan ek nie meer onthou nie. Die laaste paar maande voor ons verplasing na Port Elizabeth, het ek en Molea maar weer alleen die misdaad in die polisiewyk bekamp.

Ons het pas by ons nuwe standplaas te Port Elizabeth arriveer, toe ‘arriveer’ die eerste dreigbrief vanaf SAS-Bank dat ek as borg vir die lening wat Oelofsen aangegaan het, die uitstaande bedrag moet betaal. Dit was so om en by R80,00. Ek het ’n ooreenkoms met die SAS-Bank aangegaan dat ek hulle R2,00 per maand sal terugbetaal. Dit is aanvaar en hierdie betaling het vir bykans drie en ’n halfjaar aangegaan, juis in die tyd dat ons dit allermins kon bekostig. Ek het elke maand getrou ‘n poswissel ten bedrae van R2,00 by die poskantoor gaan koop, dit kos my R2,05 (kommissie van R0,05) en dit per gewone pos na SAS-Bank gestuur. Ek het ’n eed geneem om nooit, maar nooit weer nie, borg vir iemand te teken nie – selfs nie eens vir ’n familielid nie. Nou genoeg van die polisiemanne wat onder my bevel te Knapdaar gedien het.

Ek het nog gereeld op Burgersdorp gaan tennisspeel, en Corrie met die drie kinders was maar al die tyd saam om, hetsy by die tennisbaan te kuier óf om by tant Lilly Moll die tyd te verwyl. Gedurende Augustus 1962, terwyl ek tennisspeel, gee my linkerknie ’n harde klapgeluid toe ek oor die grondoppervlak van die tennisbaan skuur om ’n valhoutjie wat na my toe gespeel is, by te kom. Ek slaan soos ’n os neer, maar staan tog kruppel-kruppel op. Daardie aand toe ek by die huis op Knapdaar rustig verkeer, begin die knie te pyn en swel geweldig. Toe ons die aand by die polisiestasie arriveer, het ek ’n inskrywing van hierdie besering in die voorvalleboek in die kantoor gemaak. Sportbeserings in die Suid-Afrikaanse Polisiemag was daardie jare as ’n besering aan diens geag. Daar was egter voorskrifte wat nagevolg moes word:

• Die sportsoort moes ’n SAP Hoofkantoor goedgekeurde sportdissipline wees;

• Jy moes aan diens geboek het toe jy vertrek het om die sport te gaan beoefen;

• Dit moes ’n SA Polisie sportklub wees, anders moes jy vooraf skriftelike goedkeuring kry om by ’n privaat klub te mag deelneem;

• Jy moes in dié sportdissipline se goedgekeurde sportdrag geklee wees;

• Jy moes nugter wees;

• Dit was nie a.g.v. jou nalatige optrede wat tot die besering gelei het nie;

• Die besering en omstandighede hoe opgedoen, moes volledig beskryf word;

• Daar moes ’n aantekening van die besering in die stasie se voorvalleboek gemaak word;

• Jy moes die distriksgeneesheer by die eersvolgende geleentheid gaan spreek, sodat hy ’n verslag oor die besering kan opstel en tot ’n bevinding raak oor opvolgbehandeling;

• Alle dokumente word as ’n ‘Beseringsraad’ hanteer en die Beseringsraad moes via jou distrikskommandant na SAP Hoofkantoor versend word; en

• Dié raadsnotule sal dan na die Departement van Arbeid gestuur word, waar die Ongevallekommissaris (huidig die Vergoedingskommissaris), sal besluit of jy enige tydelike óf permanente ongeskiktheid as gevolg van die besering gaan oorhou al dan nie. (Terloops, die

bevinding was dat ek ’n 2% permanente ongeskiktheid van die gebruik van my linkerknie sou oorhou en ’n tjek ten bedrae van R108,00 was as vergoeding aan my gestuur.)

Die distriksgeneesheer het besluit dat ek ’n operasie aan die linkerknie moes ondergaan, sodat ’n chirurg die geskeurde kraakbeen kan verwyder. Ons vertrek op siekteverlof na Port Elizabeth waar ek op 07/09/1962 in die Provinsiale hospitaal geopereer is. Corrie en die drie kinders en die tweeling se oppassertjie, die swartdogter van Knapdaar, bly by oupa en ouma Scholtz in die militêre kamp te Foresthill, terwyl ek vir bykans ’n week in die hospitaal moes bly. Corrie het toe vir Christo verwag en sy het by geleentheid met ’n kom met wasgoed op die paadjie na die waskamer, wat eenkant van die huise gestaan het, amper soos ’n ablusieblok by ’n woonwapark, gestruikel en geval en haar knie stukkend geval. Almal was benoud en bekommerd dat sy sou aborteer, maar sy sê net: “My babas sit vas waar hulle sit. “Dankie Vader, Christo toe nog ’n fetus, het bly sit waar hy gesit het!

Nou gou ’n episode wat sy gehad het toe sy vir my in die hospitaal kom besoek het. Die volgende relaas is soos Corrie aan my vertel het:

Sy ry bus tot op die plein in die Baai, vandaar met ’n bus hospitaal toe. Sy kon nog nie motor bestuur nie en oupa Scholtz ook nie. Terwyl sy met die tweeling en Werner op een sitplek inskuif, kom die kondukteur en kap so ver hy loop teen die regop yster stutpale in die bus en roep-“tickets please.” Die laaste kap is by die stutpaal by haar en Werner skrik vir die vreemde man met die pet en die harde slag hier by hom en sit ’n bek-op wat skrik vir niks. Sy moet eenkant troos en aan die ander kant sukkel om geld vir die kaartjie uit te haal. Gelukkig het kinders onder vier jaar oud gratis bus gery. Watter ervaring!

By die hospitaal wil Werner net op die bed klim, ek laat hom toe en toe val hy mooi op my linkerknie wat vrek seer was na die operasie. Ek het maar my ‘pose’ gehou en net ’n gesig getrek en niks verder gesê nie. Die tweeling kry kans om ook vir Pa in die bed te kom soen. Hulle moet stil gehou word, en ek laat hulle maar ook op die voetenent van die bed sit. Ek dink dit was die eerste en laaste keer dat sy met al drie en ’n swaar swanger lyf my kom besoek het. Sy het die kinders maar tuis by ouma Annie Scholtz gelaat en alleen gekom met die daaropvolgende besoeke.

Na die operasie het ons vir ’n paar dae te Uniondale, by oupa en ouma Dupie, oorgebly, en toe teruggekeer Knapdaar toe. Ek het op Uniondale gereeld met my broer Thys se trapfiets gery om die linkerknie die nodige oefening te gee, soos die chirurg aanbeveel het. My linkerknie was nog styf en ek moes maar met die stywe knie die swart Consul terug bestuur

13 Januarie 1963 het aangebreek toe Christo die lig gesien het as ons vierde seun toe hy ook in die Burgersdorp hospitaal gebore is. Nou het die optelsom verander na 2 + 4. Ons het hom met net soveel vreugde in die familie ontvang soos die drie ander seuns voor hom. Corrie se ma, ouma Annie Scholtz, is toe deur oupa Flip Scholtz gestuur, eintlik opdrag gegee, om na ons toe te kom om die huishouding te kom waarneem, terwyl Corrie self ’n ruskans kan kry met amper 4 babas op haar hande. Ouma Annie sou reeds ’n week of meer voor die geboorte van Christo by ons arriveer. Maar ai, die koms na ons toe het gepaard gegaan met so ietwat van ’n riller van ’n treinreis.

Hier volg die verloop van die treinreis na ons toe:

Ouma moes tot by Burgersdorp se spoorwegstasie ry, waar ek en konstabel Oelofsen haar sou ontmoet. Die trein se verwagte aankomstyd was so ongeveer 8nm (20:00). Ons wag op die stasie te Burgersdorp. Die trein trek in en ouma Annie Scholtz klim nie af nie. Ek kry die kondukteur en vra hom of hy weet of ouma op die trein is. Hy kyk op sy passasierslys en sê dat sy wel op die trein is. Ons gaan na die kompartement en daar vind ons ’n ander dame, reeds in die bed, en sy sê ouma het by die vorige stasie (Stormberg) afgeklim. Die trein vertrek verder.

Ek gaan na die treine se bedryfkantoor op die stasie en vra die stasievoorman of hulle met die Spoorweë se Van Schoor-telefoon-klokstelsel met Stormberg spoorwegstasie in verbinding kan tree om vas te stel of ouma nie iewers daar op die stasie is nie. Ons wag so ’n paar minute, die klok lui in Burgersdorp se treine bedryfkantoor, en Stormberg se stasievoorman laat weet dat sy daar is, en dat hulle haar nou op ’n goederetrein, wat ’n passasierswa aan het, sal sit. Die goederetrein is gereed om na Burgersdorp toe te vertrek. Ek versoek Stormberg om ouma liewer daar te laat wag en dat ek haar daar sal kom haal, want ek weet dat die goederetrein by elke klein halte langs die lyn sal stop om melkkanne op- en af te laai. Daardie goederetreine het ook soms beestrokke by haltes, waar boere hulle beeste na die groot stede se slagpale toe kan laai, af rangeer. Dit sal ure neem voordat sy by Burgersdorp sal arriveer.

Ek het net terug verlang na die stoomenjins, daarom hierdie foto. (Foto: Werner)

Ek en Oelofsen vertrek met my Opel stasiewa Stormberg spoorwegstasie toe. Terloops, na my operasie en besoek aan Uniondale en terug by Knapdaar, het ek die swart Consul motor verkoop en toe ’n 1959 Opel Car-A-Van voertuig aangeskaf. Daar was meer ruimte vir die kinders wat nou al meer en meer geword het. Dit was so ’n ligte twee kleur beige motor. Luister nou verder na ons wedervaringe met die gaan halery van ouma Scholtz by die Stormberg spoorwegstasie.

Dis ongeveer 25myl (±40km) gruispad langs en dit reën lekker hard. Die pad is baie nat en glyerig. Ek en Oelofsen bespiegel hoekom sou ouma dan op Stormberg spoorwegstasie afgeklim het, en ons lag maar onder mekaar vir dié situasie waarin ouma haar nou bevind. Ons kry haar op Stormberg spoorwegstasie se wagkamer. Sy is redelik “op gecharge” dat ons nou eers daar aankom en verder is sy die herrie in vir die kondukteur wat vroeg-vroeg reeds kom sê het die volgende stop is Burgersdorp.

Die trein se enjin het glo water ingeneem op ’n sylyn nie ver van Stormberg spoorwegstasie af nie, en toe die trein weer stop, was dit net ’n paar myl vanaf Stormberg spoorwegstasie, maar sy het gedink dis Burgersdorp. Die hele wêreld is vir haar vreemd, sy soek na my en kan my nie kry nie. Sy het darem teenwoordigheid van gees behou om na die stasiegebou te gaan en navraag gaan doen óf hulle nie weet van iemand wat haar moet kom haal nie. Sy het toe eers besef dis op Stormberg spoorwegstasie waar sy afgeklim het. Die stasievoorman het toe vir haar gesê sy kan in die goederetrein se passasierswa gaan klim, want dié trein vertrek later Burgersdorp toe. Die res weet julle nou.

Ons kon heelwat na 11nm (23:00) vir ouma oor die drumpel van ons huisie in die Karoo laat stap. Hoef haar mos nie te dra nie, want daar was mos nie ’n troue nie! Wel haar verblyf by ons het bykans ’n maand geduur en ons was regtig baie bly en bevoorreg vir die onbaatsugtige en liefdevolle hulp wat ouma Scholtz vir ons gegee het. Sy het later maar knorrig begin raak omrede die tyd vir haar te

stadig verbygegaan het en sy wou eintlik vroeër terugkeer Baai toe, maar sy moes maar geduldig wag vir die datum waarop haar plek op die trein terugbespreek is.

Die tweeling het nou al redelik sterk geloop en het ook heel rustig deurgeslaap in die nag. Hulle kon darem al van die dubbelbed in die spaarkamer op- en afklim, daarom het hulle nou so in die dwarste van die bed langs mekaar geslaap. Werner is verplaas na die bababedjie toe en Christo na die mandjie op die staander in ons kamer. Christo was die woeligste van die vier, want hy het gereeld gelê en skop wanneer hy wakker is. Hy het soms soos ’n swemmer op droë grond sy arms woes geswaai en bene geskop as hy op sy maag gelê het. Hy het ook die gouste leer loop, so op ongeveer 11 maande, en allerhande dinge begin praat, want hy het by die ander drie geleer. Later in sy lewe was hy maar net só onnutsig soos die ander drie boeties gewees.

Gedurende Julie 1963, al weer in die winter, begin Werner se keel aan die linkerkant te swel en hy kla dat dit baie seer is. Die eerste gedagte is dat dit pampoentjies is en dat die ander drie seker die een na die ander gaan inval, maar nee, hy bly kla en ons neem hom Burgersdorp toe. Die distriksgeneesheer diagnoseer ’n verstopte spoegklier. Hulle opereer hom en word dadelik ontslaan, met slegs ’n pleistertjie oor die klein wondjie aan die onderkant van sy linker kakebeen, want die swelsel het ook ’n abses gehuisves wat moes dreineer. Hy het gou-gou oor hierdie operasie gekom en sy gewone gang, as koningskind, tussen ons ander koningskinders in die gesin volgestaan. Ek noem hulle koningskinders, want ’n koning kan nie soos ons geseënd wees met vier woelwater seuns, wat deur ons Hemelse Koning aan ons geskenk is nie.

Ek is nou op die plek waar ek tog iets wil skryf oor die mooi veldblomme in die distrik. Die Kaapse Weskus is nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreld wyd bekend vir die Namakwaland se blommeprag. Wel, hier in ons kontrei, die Noord Oos-Kaap, veral in Burgersdorp se distrik, was daar ook elke jaar vanaf Juliemaand tot so aan die begin van September, net sulke mooi veldblomme te sien. Die verskeidenheid van spesies soos in die Wes-Kaap, was daar nie, maar die pers vygiebossies, die geel- en oranje tulpe en die stink, geel blommetjies wat na die eerste reën te voorskyn gekom het, was net so ’n lus vir die oog.

Die boere was egter nie so baie ingenome met die tulpe en die stink blommetjies nie, want die tulpe in hulle blomstadium was baie giftig vir skaap en bees, en die stink geel blommetjies was uitsoekkos vir beeste en dan smaak hulle melk en room na hierdie stink plantjie. Bitter was die smaak, maar ons moes daaraan gewoond raak. Die boere het maar hulle vee in kampe gejaag waar daar nie so baie giftige en slegruikende blommetjies was nie. Terloops, die boere het beweer dat sodra die tulpe klaar geblom en die stingels en blare reeds verdroog is, dan kan die vee dit maar vreet, want dit is dan nie meer toksies nie. Ek vertel dit soos wat dit aan my oorgedra is!

Juis gedurende die winter van 1963, het ek aan my bevorderingseksamen na adjudant-offisier deelgeneem. Dit word later onder ’n aparte hoofstuk behandel. Die tweeling het ’n erge velaandoening ontwikkel. Sulke knoppies en rooi swelsels oor die gesig en lyf. Die dr. te Burgersdorp het dit maar met allerhande salf en wat nog behandel, maar geen beterskap was te bespeur nie. Hy verwys ons toe na dr. Klein, ’n dermatoloog, te Port Elizabeth. Ons bly ’n week in die Baai by oupa en ouma Scholtz, terwyl ons bykans elke dag by dr. Klein moet wees. Wel, hy diagnoseer die velaandoening as synde ’n allergie vir die uiterste weersomstandighede – vrek warm in die somer en vrek koud in die winter. Hy gee ’n voorskrif vir ’n spesiale smeermiddel wat deur ’n apteker aangemaak moet word en ’n doktersertifikaat dat ons om mediese redes van die kinders se velaandoening, na ’n plek verplaas word wat ’n meer gematigde klimaat het – verkieslik na polisiestasies by die kus. Die uiteinde van hierdie aansoek van my word onder die volgende hoofstuk hanteer.

Ons het gou-gou besef dat die kinders in hierdie erge koue, genoeg truitjies en warm kleertjies moet hê. Corrie het by haar vriendinne, Jenny Petzer, die stasiemeester se vrou op Knapdaar en Lilly Moll op Burgersdorp, gekyk en geleer hoe om warm kleertjies te maak – lang broekies en baadjies wat hoog toeknoop. Aanvanklik het ek vir die tweeling se truie met breinaalde begin brei tot by die mou se fatsoenering en uitholling, dan het sy oorgeneem en die boonste gedeelte van die pante klaar gebrei. So kon ons twee truie binne die bestek van ’n paar dae klaarkry. Ons het toe die kinders meer en groter word, besluit om ’n breimasjien te koop. Dit was van die eerste handmodel Singer breimasjien wat ’n dubbelbed gehad het, wat die brei van patrone vergemaklik het. Glo julle nou dat ek ook kan brei?

Ons albei het aanvanklik gesukkel om die ding aan die gang te kry, en moes maar die Britse taal probeer ontsyfer waarin die “handbook” geskryf is. Die prentjies by die beskrywing het ook nie veel gehelp nie, en na die derde laataand se gesukkel by lamplig, kry ek die onderdele waarna hulle in die “handbook” verwys, in die staaldeksel van die breimasjien kas vasgegespe. Toe is die Britse taal en benaminge van die onderdele so duidelik soos daglig, asof Engels altyd so duidelik soos daglig is vir ons Afrikaanssprekende mensspesie! Daarna het ons vele truitjies vir die kleingoed gebrei. Selfs ook vir haarself en later toe ons in die Baai gebly het, het sy ook truie vir ’n paar ander mense gebrei. Dit was egter nie vir ’n lang tyd nie, toe het sy besluit die krom sit voor die breimasjien is nie bevorderlik vir haar rug en postuur nie. Ons het later hierdie masjien aan ’n instelling in Pretoria-Noord geskenk wat armlastige skoolkinders van klere en kos voorsien het. Kyk gerus na die foto van die vier seuns elk met ’n truitjie aan wat ons gebrei het. Jy kan sommer die trots uit hulle sien straal.

Voordat ek oorgaan tot die volgende hoofstuk, waarin ek ’n kort beskrywing van my bevorderingseksamen meld en ons voorbereiding vir ons verplasing vanaf Knapdaar na Port Elizabeth gaan beskryf, wil ek tog melding maak van hoe ons met oupa Scholtz-hulle en ook met oupa Dupie-hulle kontak behou het, want nie een van die ouerpare het ’n telefoon aan huis gehad nie, en selfone was nog bitter ver in die verskiet. Ons moes maar met ’n brief antwoord op briewe wat ons van hulle ontvang het, en dit dan per landpos versend. Vandag se dae praat almal van die slakkepos. Gewoonlik het tannie Lenie die skryfwerk vanaf die Scholtze hanteer en oupa Dupie vanaf die Du Plessis’s. Dit was gewoonlik ’n

Anton, Christo, Werner en Kobus met truitjies wat met breimasjien gebrei is. (Foto: Ben met bokskamera)

weeklikse óf soms tweeweeklikse Sondagtaak wat verrig is. Ek het gewoonlik die korrespondensie met die Du Plessis’s gevoer en Corrie dié aan die Scholtze. Ek wil graag nou die laaste brief wat ons aan oupa en ouma Dupie geskryf het, toe beide nog in lewe was, aanhaal:

S.A. Polisie

Knapdaar.

26/08/63

Liewe ouers en broers (Thys en Fanie was nog in die huis en skoolgaande)

Ons bedank u weer eens vir u briewe. Ons is bly om te verneem dat dit nog goed gaan onder omstandighede. Ons hoop en vertrou maar net dat Mamma geopereer kan word soos verwag, en dat alles ’n sukses sal wees. Ons het nog niks verder weer van dr. Gellman se beserings in die koerant gesien nie.

(Hy was oupa Dupie-hulle se huisdokter in die Baai en toe ons later terug is in die Baai, was hy ook ons huisdokter. Hy was glo in ’n motorbotsing en het baie erge beserings opgedoen.)

Verder het ons ook nog nie gehoor wanneer ons moet vertrek nie. Die pakmateriaal het egter alles al opgedaag, en ek moet glo die verpakkings self waarneem.

By ons twee nou ook beter dae en dit is regtig ’n plesier om weer te sien hoe die kinders hulleself gate uit geniet buitekant. Klein Christo is baie beter en hy wil nou net kruip. Hy sit baie oulik alleen en staan alreeds hande-vier-voete. Ons wil hom eerskomende Vrydag laat ent, sodat dit ook agter die rug kan kom. Almal hier is natuurlik spyt dat ons weggaan, maar hulle sal mettertyd daaraan gewoond moet raak. Ons sien al uit om te trek, al is daar só baie dinge daaraan verbonde. (Ek was nog nie bevorder nie, maar almal het geweet dat ek nie as ’n adjudant-offisier daar sal kan aanbly nie.)

Ons hoop dus dat ons u ook eersdaags sal sien, al is dit dan net vir ’n dag of twee.

Ons sluit met al ons beste wense en min nuus.

U seun en dogter, Ben, Corrie en seuns.

Dit is nie ‘n lang brief nie, maar uit die brief kon julle seker aflei dat ek toe reeds verneem het dat ek verplaas gaan word (Clanwilliam). Maar die drama rakende hierdie verplasing word onder Hoofstuk 10 behandel. Ouma Dupie was toe wel in Port Elizabeth vir ’n histerektomie geopereer. Oupa Dupie het toe ’n brief aan ouma Dupie, op die keersy van ons brief, geskryf en na Port Elizabeth toe gepos, sodat ouma Dupie ook die nuus vanaf Knapdaar kon lees. Dit was glo die laaste brief wat oupa Dupie aan ouma Dupie geskryf het. Ouma het dit bewaar en toe sy oorlede is, het ons hierdie ‘tweeledige brief’ by haar persoonlike dokumente gevind en dit was toe deur ons kinders, dis nou my broers en susters, aan mygegee omdat ditop die agterkant van ons brief aan ouma-hulle geskryf was.

Ek haal ook die inhoud van hierdie brief aan:

Uniondale 3/9/63

Liewe Mamma

Ek sit nou maar gou ’n paar reëls en skryf, dalk ontvang jy dit darem voor ons Saterdag daar opdaag. Ons het voorspoedig hierheen gery en was omstreeks ½7 tuis. Die kinders en ek is gesond en hulle is gehoorsaam, en leer fluks. Hulle kla net dat die snye brood wat Katriena vanoggend vir hulle ingesit het, was soos hotnots snye.

Ek hoop dat jy ’n rustige nagrus gehad het, en dat jy vandag nog met jou standvastige geloof die operasie in die gesig gestaar het. Ek was elke halfuur wakker en het ½6 al opgestaan om koffie te maak. Die kinders het ek ¼ oor koffie gegee en laat aantrek en leer.

Ek het die dogters al drie gebel, maar net vir Kowie, Kitty Bert (dis tannie Babie se skoon-ma) en Anna se meid gekry. Kitty wou vir Babie roep maar ek het nie kans gesien dat sy die rant moet uitloop nie. Anna en Piet was eers vandag terug verwag uit die Pêrel (Paarl) waar hulle al ag dae met Piet by die Dr. was.

Ek het Dr. toe vanmiddag gebel en hy het my die versekering gegee dat alles afgehandel is volgens plan en dat jy niks te vrees het nie. (Pappa het vanuit sy kantoor by die Nasionale Paaie se Administrasiekantoor al die belwerk gedoen.)

Toe ek ’n rukkie terug godsdiens hou en besig was om te bid, het Ds. by die voorhuis ingekom, in die donker, om jou saal nommer te kry, want die susters van die CSV wil dit glo hê. Ek het Ds. vanoggend toe ek die telegramme gaan wegstuur het, gaan meedeel soos jy gevra het en het ook sy vrou daarvan vertel.

Die bure in die omtrek stel almal belang en moes almal hulle deel bydra om hulp te belowe as iets kort, so moet nie bekommerd wees nie.

Ek sluit maar die paar briefies van die kinders in en vertrou dat dit jou bereik en jy dit sal geniet. Ou Willem is nog steeds in die bed, maar siet vandag daar heel goed uit en wil môre werk, maar ek reken hy moet eers ’n paar dae af wees.

Ou vrou, ek praat só graag met jou van liefde en nou wag ek tot op die derde blaadjie om jou te vertel hoe ek jou mis, en lief het en hoe baie ek verlang na jou teenwoordigheid in die huis.

Ons gun jou nou van harte die gesondheid wat ons weet wat jy in die toekoms gaan ondervind, want God sal dit vir jou gee.

Ek sluit met baie liefde en verlange en ’n spoedige beterskap van jou ou man en seuns.’

Hierdie brief is en bly nog ’n kleinood in ons huis, want hierin vergestalt die liefde wat ek en al my broers en susters in ons ouerhuis ervaar het, want daar was wedersydse liefde by ons ouers.

“Dankie Pappa, en Mamma – ons eer julle nagedagtenis.”

Ek wil graag nog die laaste komiese situasie waarby Werner betrokke was, kortliks verwoord:

Dis Kersfees 1963, en ek koop drie Triang metaal kruiwaentjies vir die drie aspatats, Kobus, Anton en Werner. Dit word nog Oukersaand in hulle kamer geplaas en Kobus en Anton kom Kersoggend baie opgewonde, elkeen met hulle kruiwaentjie, ons kamer ingestoot. Werner, wat toe nog maar 2 jaar en een maand oud was, huil iewers vanuit die gang. Ek gaan kyk. Hy staan by sy kruiwaentjie wat tot teen die gangmuur gestoot is en nou kan hy dit nie daar wegkry nie Ek help hom en hy bly nou stil en stoot dit die gang af in die rigting van ons kamer, maar hy sou ’n draai moes maak om by die kamerdeur in te kom, en daar steek hy weer vas en begin weer te huil, want die kruiwaentjie kry hy nie gedraai nie. Nou leer ek hom hoe om draaie te stoot. Hy kry dit nog nie reg nie, maar ek wys hom om die kruiwaentjie half op te tel en van die versperrings wat sy weg gaan kruis, weg te skuif, om só die moeilikste van die aller moeilike bestuursfunksies van ’n kruiwa te kan baasraak.

Met hierdie wenk het hy die kruiwaentjie altyd net reguit vorentoe gestoot, by die versperring, hetsy dit die muur, die bed, die hangkas, die kamerdeur, of wat ook al is, die kruiwaentjie opgetel, weer reguit vorentoe neergesit en aangegaan op sy staptog tot hy weer teen iets vasloop, dan doen hy die regstelfunksie en vort is hy. Gelukkig het hy dit teen die einde van die dag met soveel vaardigheid gedoen, dat hy sy huil vir die res van Kersdag iewers vêr weg in sy gedagtes gebêre het.

Ek glo dat al drie hierdie seuns vandag nog kruiwaens met groot vaardigheid kan stoot! Ha ha. 9.6 bevorderingseksamen en bevordering na adjudant-offisier

Ek het gedurende 1963 aansoek gedoen om aan die bevorderingseksamen vanaf sersant na adjudant-offisier te mag deelneem. My aansoek is goedgekeur en die eksamen het gedurende Junie 1963 plaasgevind. Weer het die eksamen oor 5dae gestrek met 10 vakke wat geskryf moet word, twee op ’n dag, waarin elke kandidaat ten minste ’n 50% slaagsyfer moet behaal. Die eksamen was te Middelburg (KP) geskryf. Jacob Steyn van Burgersdorp het ook aan dié eksamen deelgeneem. Ons het saam gery na Middelburg toe en beide van ons het in die Royal Hotel aldaar tuisgegaan. Die eksamenlokaal was die kantoor van luitenant Ettienne Skein. Terloops, sy seun was later jare prokureur te Humansdorp. Ons was vier kandidate nl. Jacob Steyn en ekself wat elkeen by ’n kopkant van ’n kantoortafel, wat op sy lengte geplaas is, gesit het, seker om te verhoed dat ons dalk op mekaar se skrifte kan afkyk. Sersante Steyn van Steynsburg en Martin Venter van Middelburg het elk ook só by ’n ander kantoortafel gesit. Luit. Skein het by sy kantoortafel gesit en dossiere nagelees en finansiële-registers nagesien. Ons kon nie van mekaar afskryf in die lokaal nie, en praat nog minder, en oneerlikheid was ook nie in ons twee se geaardheid nie – weet nie wat die ander twee gemaak het nie!

Ek draai vas by ’n vertaling na Engels, ja weer na Engels, die slag word daar na ’n “soutpotjie” in ’n sin verwys wat vertaal moet word. Ek vertaal maar die sin en ek los ’n opening vir soutpotjie se vertaling, want “salt pot”, “salt jug”, “salt container” óf “salt receptacle” wil nie reg klink nie. Later skryf ek die woord soutpotjie op my kladpapier en skuif dit oor na Jacob toe. Hy kyk daarna, klad sommer so gemaak-gemaak op sy geskrif en stuur die kladpapier terug. Ek sien daar is niks op geskryf nie, maar hy trek my aandag en vorm die woord ‘sel’ met sy lippe en wys met sy regterhand asof hy ’n selsleutel draai. Ek krap kop, maar later kom hierdie stomstreke van Jacob tog deur na ’n helder oomblik in my brein: Siedaar! die woord is “salt cellar”. ’n Mooi storietjie né, het mos nie afgekyk nie, net my brein ’n bietjie in rat geplaas! Later lag ons saam oor die insident, want hy sê die woord wat hy met sy lippe gevorm het, was glo “salt” in ’n vraagvorm en nie “cell” soos ek gedink het nie. Dus, wat is die gevolgtrekking? – Ek sal nooit kan liplees nie!

Die uitslae kom sowat twee maande later, net ek en Jacob Steyn van die vier kandidate het geslaag. Die nodige bevorderingsdokumente word ingevul en na Pretoria toe gestuur, met ’n aanbeveling waarnatoe die suksesvolle kandidate verplaas moet word. Die distrikskommandant skakel my telefonies en sê dat hy nou reeds van vier plekke aan die kus antwoorde gekry het en hulle rapporteer dat daar geen vakature is waarin hulle my kan plaas nie. Soos dit maar nog altyd in die polisiemag gegaan het, word niks m.b.t. verplasings en bevorderings geheim gehou nie, altans nie vir lank nie. Ek hoor met ’n ompad dat die kandidate wat geslaag het, in twee groepe bevorder gaan word en dat ek en Jacob Steyn binne die eerste groep val. Ek weet maar tegoed dat al die navrae oor ’n geskikte standplaas vir my a.g.v. die kinders se mediese toestand, negatief was, dalk gaan maak dat my bevordering teruggehou gaan word totdat daar ’n pos vir my gevind is.

Ek en Corrie besoek saam met die tweeling, die distriksgeneesheer op Burgersdorp en vra dat dr. Ivan Bekker die tweeling moet ondersoek om vas te stel of daar beterskap is by hulle velaandoening. Hy bevind dat hulle wel beter is en hulle behoort dit later te ontgroei, maar dat ons tog met die spesiaal aangemaakte salf, wat die spesialis te Port Elizabeth aangemaak het, moet aanhou. Hy

reik so ’n sertifikaat uit en ek stuur dit deur na die distrikskommandant. Hulle aanvaar die sertifikaat. Ek word saam met Jacob op 1 Oktober 1963 na adjudant-offisier bevorder. Nou wag ons in angs om te hoor waarnatoe ons verplaas gaan word. Kom ek laat julle ’n bietjie in afwagting. Lees so ’n bietjie later oor hoe ons uiteindelik in Port Elizabeth beland het.

My herinneringe wat tydens ons verblyf te Knapdaar opgeroep word, sal nie volledige wees as ek nie die volgende twee aspekte ook noem nie:

Eerstens: Die erf waarop die polisiestasie geleë was, was omhein en daarop was ’n ry vyebome, agtien in getal, amper soos ’n laning want elke boom se kroongedeelte het teen en in die volgende een ingegroei. Dit was die groot wit Kaapse vy-variëteit. Dit het elke jaar in oorvloed gedra. Ons was die voorsieners van vye vir al die boere om ons asook vir ons vriende en polisiemanne te Burgersdorp. Corrie het ook bottels en bottels vyekonfyt gekook, fyn vyekonfyt, heelryp-vyekonfyt en dan my spesiale voorkeur, groen ingemaakte vye. Die Molls op Burgersdorp was ook een van ons gereelde ontvangers van ’n groot mandjie of kartonboks vol vye. Die Petzers by die spoorwegstasie was ook voorsien vir hulle konfyt kokery.

Tweedens: Ek het ook jaarliks gedurende die jagseisoen wat van Mei tot Julie gestrek het, uitnodigings ontvang om springbokke op van die plase te gaan skiet. Ander boere het sommer net as ’n goeie gebaar, ook ’n springbok of twee by die polisiestasie afgelaai. Gelukkig het dié gebaar deur die gemeenskap, nie my óf my polisiemanne se lojaliteit teenoor die Polisiemag en die bekamping en ondersoek van misdaad beïnvloed nie. Inteendeel van hulle moes maar ook hulle boetes betaal vir hulle trekkers op die pad wat nie gelisensieer was nie. Wel die wildsvleis was só baie, dat ek net biltonge gesny en droëwors gemaak het. Die ribbekaste en voorkwarte het ek gereeld vir van die spoorwegamptenare te Knapdaar en vir die Molls te Burgersdorp geneem, want ons was later redelik dik vir fyn wildsvleis, wildsfrikkadelle, wildspastei, ens.

Links: ’n Springbok. Ek het hulle in die hardloop geskiet, nie terwyl hulle lê nie! Regs: ’n Springbok wat besig is om te pronk – kyk hoe maak die wit hare op sy kruis oop. (Foto’s: Google).

Ons het by geleentheid vir oupa Scholtz- en oupa Dupie-hulle ’n skoenboks vol biltong en droëwors gestuur. Springbokbiltong bly nog steeds ons voorkeur biltong, want as dit droog is, het Corrie dit gekap sodat die vleisvesels so van mekaar af wegtrek en dit kan amper soos biltong poeier opgeskep word. Dit ‘smelt’ eintlik in jou mond. Hoe lus kry ek nou vir so ’n stukkie Springbokbiltong!

Ek gaan die beloofde inligting in die volgende hoofstuk beskryf hoe dit gekom het dat ons nie na Clanwilliam toe verplaas is nie, maar wel na Korsten polisiestasie in Port Elizabeth.

Julle vra hoe het dit gekom dat ons na Korsten polisiestasie toe verplaas is? Ek kan onmoontlik die hele geskiedenis, óf sal ek dit ’n sage noem, in net ’n paar woorde verduidelik nie. Kom ek verduidelik dit so kort maar ook so volledig as moontlik:

Gedurende Augustus 1963 hoor Jacob Steyn hy bly aan op Burgersdorp as stasiebevelvoerder en ek word telefonies verwittig, wat later per brief bekragtig word, dat ek as stasiebevelvoerder na Clanwilliam aan die Weskus verplaas word met my diensaanvaarding op die vroegs moontlikste datum in Januarie 1964. Ek moet so spoedig moontlik ’n opgawe van verplasingskoste opstel. Die distrikskommandant verwys na die voorskrifte soos vervat in SA Polisie Staande Orders Voorrade en Staande Orders Finansieel.

Ek was bekend met daardie voorskrifte, soos vervat in daardie orders, want dit was deel van ons leerplan na die rang van adjudant-offisier toe. Dit het baie kortliks onder andere die volgende ingesluit:

Twee tenders kry vir die vervoer van ons meubels per meubelvervoerwaens. Indien nie beskikbaar nie, die koste verbonde aan die vervoer van meubels per Spoorweg mobielepakwa. ’n Mobielepakwa van die SA Spoorweg en Hawens, dit was die destydse benaming van die afdeling van die Departement van Vervoer, het ’n sleepstang en rubber wiele gehad. Dit word van die spoorwegtrok afgesleep en met ’n spoorweg stompneusvoorhakervoertuig tot by jou woning gesleep en afgehak. Jy pak self jou meubels en persoonlike besittings daarin, sluit dit en bestel ’n spoorweg stompneusvoorhakervoertuig wat die mobielepakwa terug sleep na die spoorwegstasie toe, waar dit in die trok deur spoorwegamptenare vasgemaak word. Daardie koste het die verhuring, die koste van vervoer vanaf spoorwegstasie na plek waar die meubels opgelaai en verpak word, en die aflaai en vervoer daarvan by die bestemming ingesluit. Die verplasingskoste het ook die koste van die voorsiening van pakmateriaal, asook die soort en getalle pakmateriaal benodig en koste aan die verpakking van die meubels en ook wat die koste beloop om die lid en sy familie by sy bestemming te kry, ingesluit.

Ek het alles volledig uitgevind en op skrif gestel en per hand oorgeneem na Middelburg toe. Daardie jare was daar geen faksgeriewe by polisiestasies nie, net land posdiens. Die mees voordeligste was om die meubels self te verpak met pakmateriaal wat die kwartiermeester vanaf Pretoria sal voorsien en die huur en gebruikmaking van ’n Spoorweg mobielepakwa. Ek bestel die pakmateriaal, bespreek die mobielepakwa en ’n toe spoorwegtrok vir 2de of 3de Januarie 1964, kan nie meer die presiese datum onthou nie, en in die tussentyd gaan ek nog aan met my polisiewerk in die distrik, want Oelofsen was toe alreeds verplaas.

Nou vir die beskrywing van hierdie voorbereiding en die uitvoering daarvan. Glo my dit lees soos ’n riller!:

Ek word goedkeuring verleen om ’n week lank af te neem om die verpakking en bekisting van meubels self te doen, en dat Burgersdorp se distrik ondersoeker, konstabel Tiny Pretorius,(groot en lang mans word mos almal ‘Tiny’ genoem) ook klagtes in my polisiewyk moet aandag gee;

Ek het alreeds gedurende Augustus 1963 al ons meubels opgemeet, dis nou bedstyle, bedbasisse, matrasse, hangkaste, spieëlkaste, sitkamerbank en -stoele, kombuiskas, -tafel en -stoele, yskas, ens. Ek bestel ’n enorme aantal greinhoutplanke (slegs ’n globale getal in voete - 375 voet (±100 meter) in totaal om raamwerk om dié items te bou, jaartse en jaartse (meters en meters) goiing-

sakmateriaal (“hessian”) en vier bale strooi of bale papiersnippers om houtgedeeltes van meubels te bedek in die bekisting;

Vier groot houtkaste om breekgoed en kombuisgereedskap in te pak;

My vriend, die stasiemeester, Jack Petzer, laat my ‘n maand of twee later weet die pakmateriaal is daar. Ek gaan haal dit met die patrolliewa. Ek soek die houtkaste, en vind uit ek moet dit self aanmekaar slaan. Daar is bondels planke en ’n sak spykers wat gestuur is om hierdie ou takie te verrig. Daar is twee saamgeperste bale papiersnippers en ’n helse lang rol goiingsakmateriaal en bondels op bondels rowwe greinhoutplanke (“split poles”) waarmee die rame van die bekisting gemaak moet word.

Ek staan stom verslae en kyk na hierdie spul. “Wat het my besiel om vir die distrikskommandant te sê ek sal self die bekisting en verpakking doen?”

Wel, gedane sake het geen keer nie, ek sal moet inspring en werk. Dit is so die einde van Oktober begin November 1963. Nou dat ek weet ek gaan Clanwilliam toe, begin ek ook om van die meubels te verpak wat ons nie elke dag gebruik nie. Begin by die sitkamerstel en die hangkaste van die spaarkamer.

Die eerste fout wat ek maak, ek meet die greinhoutplanke teenoor die lengte van die sitkamerbank en besluit om twee van die stoele onderstebo op die bank te plaas sodat dit net een houer maak. Ek saag op lengte en spyker die raam om die twee stoele en die bank vas. Vergeet van die goiingsak, breek weer los en nou word goiingsak in repe gesny en oor die houtgedeeltes van die stoele en bank gedraai. Raam word weer vasgekap. Dié verpakking vind plaas in die sitkamer. Dis groot fout nommer twee. Ek kom nog later daarby uit!

Nou vir die twee ander stoele en die koffietafel wat saam een houer moet maak. Meet, saag, gebruik nou vroegtydig die goiingsak en kap die raamwerk vas. Staan terug en bekyk my handewerk. Ek het gereken dis goed!

Ek was omtrent so ’n dag of wat besig met hierdie verpakking toe die distrikskommandant my vanaf Middelburg skakel en sê: “Meneer, jy word nou verplaas na Calvinia aan die Weskus. Die stasiebevelvoerder van Calvinia tree af aan die einde van Februarie 1964 en om hom tegemoet te kom, word hy met ingang 1 Januarie 1964 na Clanwilliam toe verplaas, want hy besit reeds ’n aftreehuis aldaar.”

“Ja Kaptein, dankie Kaptein, ek sal nou maar die spoorwegtrok en die mobielepakwa se datum van beskikbaarstelling verander en ook die bestemming waarnatoe dit moet gaan, Kaptein.”

“Goed so, maar stuur vir my dringend ’n nuwe verplasingskoste na Calvinia toe, want dis verder as Clanwilliam en ons kan nie daardie verplasingskoste vir Calvinia gebruik nie.”

“Ja, Kaptein, goed Kaptein,” maar dit kook in my – weer dieselfde oefening oor en hier sukkel ek só met die pakkery. Hy sê toe ook dat sersant Louw my gedurende Januarie 1964 sal kom vervang as stasiebevelvoerder by Knapdaar. Ek moet eers vertrek sodra hy arriveer en by oorgeneem het. Ek is bykans ’n dag betrokke om die nuwe verplasingskoste te bereken en ek bel terug na Middelburg toe. Daar is nie tyd vir land posdiens nie. Ek praat met die Stoorklerk, sersant Van Deventer, by die distrikskommandant se personeel en verstrek puntsgewys die nuwe verplasingskoste.

Hy sal dit per teleks Oudtshoorn toe stuur, dis waar ons afdelingshoofkwartier gesetel is. Terloops, distrikskommandantsetels het oor teleksgeriewe beskik. Daardie soort waar jy eers die bandjie moet tik met ’n spesiale tikmasjien wat gaatjies in ’n lang gedermte papierstrook maak wat jy dan in die

teleksmasjien invoer. Aan die ontvangkant word die papierstrook se gaatjies op ’n ontvangsmonitor outomaties gedekodifiseer sodat die boodskap in woorde op teleks papierrol uitgetik word, óf iets in dier voege! Ek dink dit het só gewerk!

Ek gaan maar voort met die pakkery en nou begin die bondels greinhoutplanke al minder raak. Ek het net een globale lengte van hout wat benodig word, aangevra en nie besef dat die hout in lengtes van 6 voet (±1,80m) lank is nie. Nou sit ek met baie kort stukkies plank wat nêrens pas en gebruik kan word nie, dis net goed genoeg om die warmwater geiser mee te stook in die badkamer. Ek kan nie meer aanvra nie, en al sou ek ook kon aanvra, sal dit nie betyds per trein versend kon word nie.

Ek gaan maar voort en kap die houtkaste aanmekaar, en maak maar bekisting vir die mees belangrikste meubels wat dalk beskadig kan word, soos bv. die spaarkamer se twee hangkaste, spieëlkas en Corrie se trousseaukis. Ons kamer se twee hangkaste en spieëlkas het ek net goiingsak om gesit en met papiersnippers gestop. Daar was nie genoeg planke nie. Leef intussen uit koffers want die hangkaste word verpak. Gebruik stoele en tafel in kombuis, want dit sal laaste verpak (be-krat?) word.

Nou vir die groot fout! Ja, dit was fout nommer twee! Ek en konstabel Molea wil die bekiste sitkamerbank met twee stoele uit die sitkamer neem en op die voorstoep hou waarvandaan ons dit op die mobielepakwa kan laai. O gaats, Meraai, nou kan ons die bekiste pakkasie nie by enige van ons huis se deure uitkry nie. Ek meet en pas, maar dit bly net mooi so twee duim (±4,5cm) te nou, al sou ons die deure moet afhaal. Oplossing, breek die raam oop, haal die stoele uit en verpak dit weer van nuuts af buite op die stoep. Kosbare ure gaan verlore, maar my Afrikaanse taalgebruik beïndruk vir Molea. Sy Afrikaanse woordeskat is met ’n klompie gevleuelde woorde verryk. My stasiemeester vriend bel my en sê dat ’n mobielepakwa nie meer beskikbaar is nie, hy het toe net ‘n toespoorwegtrok vir my bestel. Die toe spoorwegtrok is reeds so om en by die 20ste van Desember 1963 beskikbaar. Die meubels sal nou netso in die spoorwegtrok verpak moet word. Ek bel die distrikskommandant se Stoorklerk, en hy sê hy sal die verplasingskoste verminder met die huur en vervoer van die meubels per mobielepakwa wat nie meer beskikbaar is nie.

Ek verneem by Petzer wat sal die laatste datum wees waarop ons die meubels kan laai en hy sê toe net so voor Kersfees, dan sal dit redelik vroeg in Januarie 1964 te Calvinia wees. Dit gee my darem nog ’n paar dae tyd. Ek kap nou al kartonetikette op die bekisting vas waarop die bestemming as Calvinia aangedui word.

Die einde van die sage rondom ons verplasing is nog glad nie in sig nie, dit het nog maar net begin, want so ’n dag of wat voordat ek die meubels in die trok sou laai, lui die telefoon een aand so om en by 7nm (19:00). Ek antwoord. Dis adjudant-offisier Schalk Visagie. Ja, dis die nimlike swaer van wyle President PW Botha en die OP-naelloper wat ek só hard gelak het tydens ’n rugby oefening in die Baai dat ek van my kiestande verloor het. Schalk sê hy was met ’n paar dae vakansie te Calvinia en hy hoor toe dat ek soheentoe verplaas word. Sy vrou se familie bly in die distrik en hy vra toe of ek sou omgee om sy plek by Korsten in Port Elizabeth sal neem, dan kan hy na Calvinia toe verplaas word. Ek vertel toe vir hom hoe ingewikkeld my verplasing alreeds vir die distrikskommandant is met die verandering vanaf Clanwilliam na Calvinia toe, en ek glo nie dat hy dit sal goedkeur nie. Hy sê ek moet nie my meubels laai nie, hy bel my die volgende dag terug, want hy gaan met iemand in Pretoria praat.

Die volgende dag skakel Schalk weer en sê dat hy met majoor Buurman van Zyl, ja, dieselfde vet omie by wie ek aangesluit het in die Baai en wat die polisie rugbyspan in Port Elizabeth afgerig het, geskakel het. Buurman was ’n majoor en was die SA Polisie se sportoffisier en in die SA Polisiekollege gestasioneer en dié het hom verseker dat die verandering só sou kon plaasvind m.b.t. die omruiling van ons verplasings. Ek wag in afwagting om te hoor vanaf Middelburg en vra vir

Petzer of daar enige probleem is as ek die trok eers na Nuwejaar 1964 sou laai en dit dan na Port Elizabeth toe gestuur kan word. Hy het geen probleme voorsien nie. Die spoorwegtrok bly dan staan op die sylyn by Knapdaar.

Ek het nie lank gewag nie, toe lui die telefoon en die distrikskommandant, kaptein Bekker, is woedend. Hy wil weet hoekom word ek nou na Port Elizabeth verplaas en met wie het ek in Pretoria gekonkel. Ek pleit onskuldig en sê dat dit adjudant-offisier Visagie van Port Elizabeth is wat navraag gedoen het of ek sal omgee om Port Elizabeth toe te gaan. Ek het gesê dat ek nie sal omgee nie, maar dat hy vir hom, kaptein Bekker, in die saak moet ken. Ek was nie bewus dat Schalk erns daarmee gehad het nie. Wel, kaptein Bekker vra dat ek nou dringend my verplasingskoste na Port Elizabeth toe moet uitwerk en terugskakel. Hy meld ook dat Pretoria die verplasings van my en Schalk goedgekeur het. Die voorwaarde is dat ons meubels en persoonlike besittings op staatskoste vervoer sal word, maar dat ons moet afstand doen van al die ander eise, soos gelys in die Staande Orders Finansieel, waarop ons geregtig is en wat ons sou kon instel wat normaalweg deur ’n verplasing op staatskoste genoodsaak word. Ek is nou al gekonfyt om verplasingskostes uit te werk en dit was sommer binne ’n paar uur gereed en ek het dit telefonies aan die distrikskommandant se Stoorklerk deurgegee.

Pretoria se goedkeuring word weer telefonies aan my oorgedra en ek moet nie later as 01/02/1964 by die stasiebevelvoerder te Korsten polisiestasie in die Baai aanmeld nie. Ek vervang die kartonetikette met die nuwe naam van ‘plek van bestemming’ en gaan nou rustig voort met my polisiewerk en elke ledige uurtjie word aan die pakkery gewy. Dis ook nou dié tyd wat ons polisiebeamptes die kwesbare punte in die polisiewyke moet besoek tydens die Nasionale Noodtoestand wat nog in werking was. Dis ook tydens hierdie tyd wat die voorval met Boetietjie Jas en die knopkierie met die stuk yster, plaasgevind het wat ek vroeër in die boek gemeld het.

Die laaste is nog nie gesê nie, want nou kom sersant Louw se meubels so teen die einde van Januarie 1964 daar aan en dit is ook mooi verpak en bekis. Ek kon nog van die planke van sy bekisting gebruik om nog so een of twee items van ons te verpak en te bekis. Hy arriveer ook ’n dag of wat later en bly voorlopig met sy familie in ’n hotel op Burgersdorp. Hy kom alleen uit Knapdaar toe, sodat ek die geheimenisse van hierdie polisiestasie aan hom kan openbaar en dat ons die huis finaal kan ontruim en alle staatseiendom aan hom kan oordra.

Ons het iewers by iemand oorgebly terwyl ons die meubels uitgedra en gelaai het en Louw se meubels ingedra het. Ek kan nie eens meer onthou waar ons gebly het nie, selfs Corrie kan my nie hiermee help nie, maar wat ek wel kan onthou, is dat ons eers by die polisiestasie te Burgersdorp aangedoen het en die manne daar gegroet het en ook vir die Moll-familie op die dorp gaan totsiens sê het, voordat ons vertrek het.

Ons neem die lang pad Port Elizabeth toe met die vier kleingoed, Kobus, Anton, Werner en Christo in die Opel Car-A-Van en Corrie wat reeds in die begin van haar swangerskap met Nico was. Ons reis Port Elizabeth toe was heel voorspoedig en ons kom die namiddag daar aan. Die datum kan ek nie meer onthou nie, maar die feit van die saak is dat ek op 1 Februarie 1964 by Korsten polisiestasie moes aanmeld. Ons neem ons intrek by oupa en ouma Scholtz in Forest Hill by die militêre kamp. Oupa was na ’n dienstydperk van twee jaar by Grahamstad se militêre kamp, terugverplaas Port Elizabeth toe. Dit was ’n bedekte seën, want ons het nie die vaagste benul gehad waar ons verblyf gaan kry nie. Die rede daarvoor is enersyds die feit dat ons nie op volle staatskoste verplaas is nie, en andersyds, niemand was in daardie jare verplig om vir jou by jou nuwe standplaas verblyf te reël nie. Ons was maar te bly om na ’n plek verplaas te word wat vir beide van ons bekend is, en wat naby beide families sal wees. Oupa en ouma Dupie te Uniondale en die Scholtze te Port Elizabeth.

Die beweeg- en blyruimte by oupa Scholtz-hulle, was maar redelik beperk, want al vier seuns en ons is in een vertrek saamgebondel waar daar vir elkeen ’n plekkie ingeruim moes word om sy hoof te kan neerlê. Oupa-hulle se woning was, soos vele ander in die militêre kamp, ’n houthuis (“bungalow”). Hy het self die afskortings in die houthuis, ag kom ek noem dit van nou af bungalow, gemaak sodat dit ’n kombuis, sitkamer en drie slaapkamers het. Dit was toentertyd opgerig as slaapkwartiere vir een peloton (36) soldate wat onder opleiding was vir die gevegsfront tydens die 2de Wêreldoorlog van 1939-1945. Ons was maar net baie dankbaar dat hierdie toevlugsoord vir ons beskikbaar was, want nou kan ons begin uitkyk vir ’n verblyfplek. Ek en Corrie het natuurlik ’n finansiële bydrae gelewer tot die vermeerderde monde wat gevoed moes word in die Scholtze se huishouding.

Oupa het nog in die militêre kamp, by Kommandement Oostelike Provinsie, gewerk. Hy was in die Ondersteuningsdienste (“Auxiliary Services”) en moes wagdienste verrig. Hy het nog verskillende skofte gewerk, en wanneer daar nagdiens op sy roetine was, moes ons maar die kleingoed baie stil hou. Hulle het dan meestal buite baljaar. Tannie Lenie, Corrie se oudste suster was nog in die huis en het nie meer gewerk nie, want sy was ’n erge suikersiektelyer. Tannie Veronica, Corrie se jongste suster, was nog skoolgaande, en sy het soms met die kinders naby die swembad by ’n parkie gaan speel. Later, toe ons alreeds in ons eie woonplek was, het Oupa bevordering gekry na superintendent, wat behels het dat hy nie meer wagdiens hoef te verrig nie maar die wagte moes besoek.

Omdat ons nog nie ’n eie woonplekkie gehad het nie, het ek met ’n meubelvervoermaatskappy, Ward Broers, in Port Elizabeth gereël dat hulle ons meubels op die Noordeinde spoorwegstasie moet gaan afhaal as dit per trein arriveer, en dit moet berg, op ’n maand-tot-maand basis totdat ons ’n eie woonplek het. Hulle sal dan die meubels teen geen verdere koste na daardie plek toe vervoer. Gelukkig was die onkoste van berging en vervoer na en van die stoor geriewe na ons woonplek deel van die vervoerkoste op staatskoste van ons huishouding vanaf Knapdaar na Port Elizabeth. Die vraag was net waar gaan ons in die grote Port Elizabeth bly?

Waar gaan ons in PE bly? (Foto Google).

10.1 Ons behuising terwyl ek by polisiestasies in Port Elizabeth gestasioneer was.

Ek het op 1 Februarie 1964 by die stasiebevelvoerder te Korsten polisiestasie vir diens aangemeld. Die stasiebevelvoerder was luitenant Nothnagel en die 2de in bevel was adjudant-offisier M.P. Prinsloo. Ek het dienste aanvaar as adjudant-offisier in beheer van administrasie. Ons was ’n baie groot polisiestasie wat slegs ’n paar blanke woongebiede bedien het, maar die hele Korsten se kleurlinggebied wat vir myle (kilometers) ver gestrek het, was ons bedieningsgebied. Die personeel was oorwegend kleurlingkonstabels,-sersante en -senior sersante. Kleurlinge het daardie tyd nog nie adjudant-offisier- en offisiersrange gehad nie. Ek gaan julle nie verder vermoei om ’n klomp name van die personeel te verstrek nie, want dit was bykans ’n honderd man. Slegs as daar iets is wat nuuswaardig is wat ek met van die personeel ervaar het, sal ek sy naam meld.

Ons eerste verblyf:

Dit was, soos reeds gemeld, by oupa Scholtz-hulle, waar ons bykans elke dag die koerante deur geblaai het op soek na huurhuise. Ekself en Corrie, wat swanger was met Nico, wou bitter graag so gou moontlik ’n eie blyplek bekom. Terwyl ons nog by oupa Scholtz hulle was, het oupa Dupie-hulle eendag, vir die een of ander rede, in die Baai besoek kom aflê.

Hulle het ook ’n draai by oupa Scholtz-hulle kom maak. Oupa Dupie-hulle het toe daarop aangedring dat Corrie met die vier kinders vir ’n paar dae by hulle moet kom kuier. Ons pak gou-gou ’n groot koffer met kinderklere en ook ’n koffer vir Corrie se klere. Ek kry nie verlof nie, nog te kort op die nuwe stasie, en ons neem afskeid van mekaar. Weg is hulle Uniondale toe. Die verblyf was ’n welkome wegbreek uit die Baai en vir die kinders ’n nuwe ervaring om die ander oupa en ouma te kon ontmoet. Alhoewel hulle later, toe hulle groter was en ons hulle van die wegbreekvakansietjie vertel het, dit nie kan onthou nie. Na ’n week of wat, gaan haal ek toe een naweek vir Corrie en die kleingoed.

Ons was pas terug in die Baai, seker so ’n dag of twee later, ontvang ek by die polisiestasie ’n telefoonoproep vanaf oupa Dupie-hulle se buurman, oom Gerrie Vermeulen, dat oupa en ouma Dupie albei in George Hospitaal opgeneem is. Oupa vir ’n hartaandoening en ouma met ’n bloedklont deur die hart. My jongste twee broers, Thys en Fanie, was albei nog skoolgaande en ek was bekommerd oor wat gaan hulle alleen by die huis maak. Oom Gerrie stel my gerus en sê ek moenie my bekommer nie, hulle sal na die twee broers omsien. Oupa en ouma is beide na ’n paar dae ontslaan, en moes hulle maar tuis stil gedra. Corrie vertel dat toe sy daar by hulle met die kinders gekuier het, sy een aand gehoor het hoedat ouma redelik hard steun en kreun. Sy het gaan vra of sy iets kan doen vir haar, maar sy het net gesê dat sy ’n pyn in die bors het, en sy dink dit is maar net ’n kranklikheid wat sal verbygaan. Dit was toe blykbaar reeds diebloedklont wat sy omswerwinge deur haar lyf se are gemaak het. Ons almal was tevrede dat dinge nou weer in orde is in hulle huishouding en ons het toe maar ons gewone gang gegaan.

Ons tweede verblyf:

Ons het maar kort-kort deur die Baai se voorstede gery as ons hoor, óf in die koerante gelees het van ’n woning wat te huur is, om dit dan te gaan besigtig. Na ongeveer ’n maand óf twee, word een van Korsten se blanke sersante verplaas en ek, as administratiewe beampte wat die verplasing moet hanteer, stel by hom vas waar hy woonagtig was. Dit is ’n woonstel bo-op ’n motorhawe in Grahamstadweg in die Baai se industriële gebied, Deal Party Landgoed (“Estate”). Dit is egter baie naby die Sydenham spoorweg se rangeer- en lokomotiefwerf, maar tog naby genoeg aan Korsten polisiestasie. Nadat ons die plek gaan besigtig het, besluit ons om dit te huur. Hierdie besluit was uit nood gebore, want ons wou nie verdere ongerief vir oupa Scholtz-hulle bring nie en ons het mos darem ook ons trots gehad en wou in ons eie plekkie nesskop.

Ek kan nie meer onthou op watter datum ons, ons intrek in dié woonstel geneem het nie, maar dit was seker goed twee maande wat ons al in Port Elizabeth was. Die meubelvervoerders, Ward Broers, het ons meubels toe vanaf hulle stoorplek na die woonstel vervoer. Alle inligting oor ons verblyf alhier was eers met Corrie gekontroleer, want daar was nogal dinge wat sy daar ervaar het wat lesenswaardig behoort te wees. Ek stel haar met liefde aan die woord:

“Dit was alles behalwe kinderspeletjies om met ’n swanger lyf, Nico was op pad, en die ander vier seuntjies wat al vier nog onder vier jaar oud is, in ’n tweeslaapkamer woonstel op die eerste vloer te bly en te leef. Ons was maar huisgebonde gedurende die week wanneer die vader des huise by die werk swoeg en sweet en ek ook maar my porsie swoeg en sweet in die woonstel moes deurmaak. Soos reeds gemeld, was hierdie woonstel in die Industriële gebied van Port Elizabeth, en boonop bo-op ’n motorhawe wat motors herstel het en brandstof aan motoriste voorsien het. Daar was geen, maar geen speelplek buite nie, want die motorhawe was op die besige hoofweg na Grahamstad. Dus moes ek nou die kinders in hierdie beperkte ruimte besig hou en ekself, wanneer ek ’n ledige uurtjie, wat baie min was, gehad het, ook maar gesit en lees óf gebrei het. Die deur moes ek maar gereeld gesluit hou, want kleine handjies kon dalk die deur oopmaak en kleine voetjies kon dan die weg met die trappe af na die straat toe kry. Pa Ben het die twee slaap- en sitkamervensters se werweltjies op hulle skuiwers, met ’n tang styf vasgedraai sodat ondersoekende handjies ook nie hierdie plekke kon oopmaak en hulle dalk by die vensters sou uitval nie.”

“Wasdag was ’n nagmerrie. Pa Ben het in die gedeelte net agter die motorhawe se werkswinkel, twee drade vanaf een van ’n paar dennebome tot by ’n houtpaal gespan om as wasgoedlyne te dien. Die paal was reeds daar toe ons ingetrek het. Nou moes ek met my swaar lyf, met ’n skottel vol nat wasgoed die buite trappe tot vervelens toe op- en afloop om die wasgoed te gaan ophang, maar voor ek uit die woonstel gaan, moes ek die kinders eers maan om stil met hulle speelgoed te speel, en die deur word toegemaak. (Die arme bloedjies!) Wel dié woonstel is mos naby die rangeerwerf (“Loco”) van die spoorweë en al die treine was nog stoomenjins wat steenkool gebruik het wat steenkoolrook en -roet vrygestel het. Die Baai is, soos alom bekend, mos maar die plek waar die wind normaalweg agt uit sewe dae waai. Dit was nog voor die dae van tuimeldroërs, en die wasgoed moes maar noodgedwonge buite gehang word. Die bome en mure was swart van die roet en die gedeelte waar ons ons motor saans parkeer het, was stof getrap. As die wasgoed nie teen die bome vasgewaai het en met swart roet besmeer is nie, dan is dit die werkswinkel se roet besmeerde mure wat hulle laat geld het, óf selfs net ’n ligte briesie het van die stofgetrapte grond onder die wasgoedlyne sulke bruin kolle op die wit wasgoed gelaat. male sonder tal moes ’n laken of twee van nuuts af gewas word. Sukkel-sukkel af met die trappe, sukkel-sukkel op met die trappe, heen-en-weer tot alles hang, dan weer sukkel-sukkel af en sukkel-sukkel op met die trappe, heenen-weer totdat alle wasgoed wat droog is in die woonstel is.”

“Hierdie vier liefdeskinders, later ook die vyfde, was nie volmaakte wesentjies nie, en hulle het maar gereeld onder mekaar se velle ingekruip en baklei, kom ons noem dit meningsverskille gehad. My draadjie van geduld is soms tot bykans breekpunt beproef.”

“Een middag, terwyl Pa Ben iewers buite besig was, het die vier weer die een of ander probleme met mekaar gehad en hulle huil en raas en dan sê een: ‘Ma kyk vir Kobus’ en dan volg Anton: ‘Ma Kobus is stout,’ dan volg Werner en Christo met hulle eie relase van wat nou aanleiding gee tot hulle meningsverskille, want al vier moet mos gehoor word.”

“Ek is ongeduldig, want my swangerlyf word nie met geduld beklee nie, en ek sit al vier in hulle kamer en maak die kamerdeur toe. Ek stel die toemaakaksie maar sagkens want wie kan onder sulke treitering ’n deur saggies toemaak? Nou gaan die kakofonie maar daar binne aan en ek hou my doof. Dit raak stil, en toe een deur die toedeur vra of hy kan uitkom om te piepie, toe sê ek ja. Die een wie se watervlak só hoog was, sê hy kan nie die deur oopkry nie. Ek gaan aan die deurknip

voel en waarlik, die deur sit so vas soos ‘jam’ aan ’n wolkombers. Ek moet maar paai want nou begin al vier gelyk met hulle alt stemmetjies hulle deuntjies tjank.”

“Gelukkig kom die vaders des huise tussenbeide. Nou gaan daar wonderwerke gebeur! Hy vat aan die deurknip, draai dit, maar geen reaksie nie. Die deur bly vassteek met ‘n slot wat in die deurkoesyn vas is. Hoe de hel gaan hy in die kamer inkom? Hy gaan ’n leer by die werkswinkel leen en nou maak hy dit staan op die trappe. Stut die een poot van die leer op een van die trappe en die ander een word met drie bakstene geprop sodat die leer, alhoewel wankelrig, tog amper gelyk kan staan. Die vier agies kyk almal deur die venster na hierdie Houdini wat by die toe geskroefde vensterknip gaan inkom. Hulle bly gelukkig darem stil. Die een wat wou piepie se piepie is ook verby.”

“Hy praat met hulle by die venster en stel hulle op hulle gemak. Hy vra vir Kobus, as die oudste van die tweeling, om die venster se knip af te druk en teen die venster te druk sodat hy sy hand kan inkry om die werweltjie los te draai. maar nee, die venster gaan net op ’n skrefie oop. Pa gaan motor toe en kom met ’n tang te voorskyn, weer op met die leer en nou word die venster, wat net op ’n skrefie oop is, deur Pa oop forseer, sodat hy die tang kan deurstoot. Anton, ander een van die tweeling, is die een wat die tang vat en nou word hy man-tot-man deur die venster onderrig hoe om die werweltjie los te draai. Na ’n gesukkel is dit los en Pa klim by die venster in.”

“Daar sit nou vier mannetjies, óf is hulle agies? en een man, óf is dit ’n groot aap?, in ’n toe kamer. Pa, sien dat die knip van die slot vasgeslaan is, blykbaar het die veer in die slot afgebreek want daar is geen beweging na enige kant toe as die deurhandvatsel afgedruk word nie. Pa klim weer uit, kry ’n hamer en spy, (weet julle nie wat ’n spy is nie?, soek die woord maar in ‘n woordeboek op!) klim weer met die wankelende leer terug in die kamer en slaan die skarniere se penne uit. Ek word toe gevra om van die sitkamer se kant af die deur, aan die skarniere se kant, na die kamer se binnekant toe oop te druk. Dit werk en die deur maak nou van die verkeerde kant af oop. Dankie vader die kinders is verlos en my man is heelhuids na hierdie ontsnappingsdrama. Pa moes maar later, nadat die deur weer op sy skarniere teruggeplaas is, ’n nuwe slot aansit. Wat ’n storie Dorie! Ons was nie kwaad vir mekaar nie – rêrig, glo julle my nie?”

“Die laaste insident in hierdie verblyfplekkie van ons is toe die kinders my gesoek het, want hulle het gedink ek het weggeloop. Seker omdat ek al by geleentheid vir hulle, as hulle só stout is, gesê het ek gaan wegloop. Ek sit in die sitkamer en lees uit ’n boek. Die kinders speel in hulle kamer, en toe kom Anton uit die kamer uit en roep na my. Ek bly doodstil sit en haal amper nie asem nie. Die ander drie roep nou ook na my, maar ek bly stil. Nou begin hulle te tjank, loop na ons slaapkamer toe, na die kombuis toe, na die badkamer toe en nou begin die huilery eers. Anton maak die voordeur oop en met die trappe af en nou huil-roep hy na my. Ek beweeg nog nie, maar toe ek besef hy gaan dalk pad toe, kyk ek deur die sitkamervenster en sien hom voor die motorhawe verby draf. Ek maak die venster, wat net op ‘n skrefie kan oopmaak as gevolg van die vasgedraaide werweltjie, oop en roep na hom, toe eers besef hy dat ek al die tyd in die huis was. Die ander drie hoor my na Anton roep en vind my in die sitkamer. Nou word ek eintlik onder kruisverhoor geneem omdat ek nie op hulle roepery geantwoord het nie. Ek het lekker gelag oor hierdie poets wat ek hulle kon bak. Hiermee sluit ek my vertellinkie af in soverre dit ons verblyf in die woonstel aangaan.”

Dankie vir jou insette, my liefling. Ons het nie baie lank in hierdie woonstel gebly nie, want na ’n paar maande het die motorhawe van eienaar verwissel en die eienaar benodig toe die woonstel vir een van sy nuut aangestelde werktuigkundiges as huisvesting. Hy gee ons darem ’n paar maande kennis en terselfdertyd word die huurgeld verhoog. Nou begin die huissoekery weer in alle erns. Corrie se swanger lyf het net gehou totdat Nico op 3 Oktober 1964 in die kraamafdeling van die Port Elizabeth Provinsiale Hospitaal gebore is. Ons het nog in die woonstel in Deal Party Landgoed, bo-

op die motorhawe, gebly. Nou was ons gesin 2 plus 5. Ouma Scholtz het maar weer, soos vroeër voor Christo se geboorte, kom huishou solank Corrie in die hospitaal is en genoeg by die woonstel aangesterk het om die huishouding oor te neem. Ek het maar gereeld die kraamafdeling van die hospitaal by Corrie gaan besoek aflê en dan gereeld agter die glasafskorting gekyk na hierdie nuwe aankomeling. Hy was ’n groot baba, in vergelyking met hoe klein en petieterig die tweeling by geboorte was. Hy het so ’n frons op sy voorkop gehad, sodat Corrie gesê het: “Jy kan sien wie se kind dit is, sy frons is net soos sy pa s’n!”

Wel ek het hierdie beskrywing van die nuweling met trots aanvaar, dan is daar darem een wat soos ek lyk. Ha, ha, ha – toemaar, ek twyfel nie aan die ander vier se vaderskap nie hoor!

In die tydjie wat ons in hierdie woonstel gebly het, het oupa Dupie ook by een geleentheid kom dagsê toe hy in die Baai by die streekkantoor van die Kaapse Provinsiale Administrasie se Paaie afdeling, iets moes kom doen. Ek was by die werk, maar Corrie en die kleinspan was tuis met sy besoek. Min het ons geweet dat hierdie besoek van oupa Dupie by ons aan huis in die woonstel, die laaste keer sal wees dat een van ons vir oupa in lewe sou sien, want toe Nico omtrent 14 dae oud was, kry ek ’n telefoniese berig van oupa-hulle se buurman, oom Gerrie Vermeulen, in Uniondale, dat oupa Dupie oorlede is. Elders is die laaste foto wat van oupa en ouma Dupie saam geneem is. Dit was blykbaar Augustus 1964. Ek kan nie meer onthou wie dit aan my gegee het nie. As ek na oupa se gesigsuitdrukking kyk, het hy dalk toe alreeds nie baie gesond gevoel nie (My eie waarneming) Ouma Scholtz was net van plan om na haar woning terug te keer, toe die berig van oupa Dupie se afsterwe op 16 Oktober 1964 ons bereik het. Sy het toe aangebly totdat ek die begrafnis te Swellendam bygewoon het en eers na ’n week se verblyf op Uniondale, terug is by die huis. Julle vra dalk hoekom ek eers ’n week na die begrafnis teruggekom het en waarom die begrafnis in Swellendam plaasgevind het? Wel, oupa het alreeds kennis gegee dat hy einde Desember 1964 met pensioen gaan aftree wanneer hy 60 sou word en hulle sou hulle dan op Swellendam gaan vestig het. Dit was hom ongelukkig nie beskore nie, want die Liewe Heer het een van sy uitgesoekte sederbome kom kap.

Ek het saam met oom Rassie Kaapstad toe gery, sodat ons Oupa se verlof wat opgeloop het, by die Kaapse Provinsiale Administrasie se Hoofkantoor, kon laat uitbetaal, sodat ouma ’n kontantgeldjie het waarmee sy kon aangaan terwyl die boedel afgehandel word. Die tjekkie wat ons ontvang het en aan ouma kon oorhandig was sowat R110,00. Hierdie bedrag klink maar min, maar glo my, ouma kon daarmee die spreekwoordelike wolf van die deur af weghou. In teendeel, sy kon daarmee haar huishouding aan die gang hou totdat die boedel afgehandel is.

Die foto links in Augustus 1964 en regs by ons troue in 1959. Dink julle ek is verkeerd as ek tot die gevolgtrekking gekom het dat oupa Dupie alreeds nie baie gesond was in 1964 nie?

Rassie het gevra dat ek nog ’n paar dae by ouma agterbly, want hy moes teruggaan Transkei toe en hy kon nie langer bly nie, want daar was ook kinders en ‘n eggenote wat gewag het op sy terugkoms.

Voor Rassie se vertrek, het ons by Nieklaas en Babie se huis in Malgas byeengekom vir die laaste paar geselsies van ons kinders. Daar is toe ook ’n foto van ouma Dupie met al ons Du Plessis kinders, geneem. Daar was ook van die swaers teenwoordig. Dié foto verskyn elders.

Die dag breek toe aan dat ons die woonstel bo-op die motorhawe moes ontruim en weer van nuuts af blyplek moes vind. Ek dink die plakkers in vandag se tyd (2015) is beter daaraan toe as wat ons was. Ons kon nie op een plek ’n kaia opslaan en vir jare daar bly nie!

Ons derde verblyf:

Terug in die Baai het ouma Scholtz teruggegaan na haar huis toe, en ons het maar weer van nuuts af begin soek na ’n huurwoning. Ons het dit selfs oorweeg om ’n huis te Algoapark te koop, maar daar was nie genoeg spaargeld nie en ’n huislening wat die Staat my sou toestaan was maar ’n paar duisend rand, ek dink dit was maar sesduisend rand en dit was nie naastenby genoeg om ’n huis te laat bou óf te koop nie. Daardie jare het dit ongeveer R8000,00 gekos om ’n 3slaapkamerhuis te bou, die erf ingesluit en as jy ’n klaar geboude huis by iemand wou koop, was die prys so ’n duisend rand of twee meer as dié van ’n nuutgeboude huis.

Ons het weer ons lendene na oupa en ouma Scholtz-hulle gewend. Hulle het ons weer met liefde en simpatie ontvang. Daar was egter nou ’n baba meer wat by die skoonfamilie se bungalow in getrek het. Gelukkig het elke lid van die Weermag wat in ’n hout bungalow met afskortings gebly het, die gebruik gehad van ’n leegstaande bungalow wat neffens sy woonbungalow was. Daardie bungalow het net een afskorting gehad sodat twee huisgesinne elkeen ’n gedeelte as hulle huishouding se stoorplek kon gebruik. Ons moes nou ons meublement op eie koste vanaf die woonstel vervoer en het dit toe in die Scholtzse se stoorgedeelte van die ekstra bungalow geberg. Ons het tydens ons verblyf aldaar, bykans elke middag gery om na huurhuise te gaan kyk. Daar was nogal baie beskikbaar, maar dit waarin ons belanggestel het, se huurgeld was nie versoenbaar met my salaris nie. Dit was omtrent ’n heen-en-weer ryery in die Baai op soek na ’n huurhuis.

Voor L – R: Kowie van Daalen. (Haar eerste eggenoot het nog geleef); Ouma Dupie; Anna; Maggie (Toe nog nie getroud nie); Fanie en ekke. Agter L – R: Japie van Daalen; Thys; Japie (toe nog ongetroud); Hendrieka (Babie) van As; Rassie. (Sy vrou kon nie by begrafnis wees nie);Pieter Dunn (Anna se eggenoot); Nieklaas van As (Babie se Eggenoot.)(Foto: Swaer Schalk van Schalkwyk)

Ons vierde verblyf:

Ons kom te hore van ’n nuwe meenthuiskompleks wat in aanbou is in Kabegapark, net regoor die Kabegapark polisiestasie, en direk langs die hoofteerpad Kaap toe. Daar was net ’n padreserwe van sowat 25 treë vanaf die pad tot by die woonstelblok, waarin daar ’n klompie klein “willow” boompies was. Daardie jare was dit nie meenthuise genoem nie maar wel ‘Duplex woonstelle’ óf “maisonettes” Ons het die terrein gaan besigtig en gesien dat op grondvlak net die kombuis en ’n oopplan sit-eetkamer gehad het, dan ’n houttrap na die boonste vlak waar daar drie slaapkamers en ’n badkamer was. Kleiner as waaraan ons in Knapdaar gewoond was, maar dit was tog aanvaarbaar. Ons naam is aangeteken as ’n bespreekte huurder en ons sou eers na die Nuwejaar, 1965, kon intrek. Dit het beteken dat ons dus vir bykans drie maande by oupa Scholtz-hulle moes plak. Ons moesmaar ruim bydra tot oupa-hulle se vergrote huishouding, want tannie Lenie en tannie Veronica was albei nog in die huis. Ek het maar daagliks met ons motor, die Opel Car-A-Van, werk toe gery, want ek sou twee busse moes haal Korsten toe. Sou ek die bus as alternatiewe vervoermiddel gebruik, sou dit ekstra kontantuitgawes teweegbring.

Die dag breek toe aan dat ons die veilige hawe van oupa Scholtz-hulle verlaat en na die nuutgeboude woonstel toe vertrek. Die kompleks se naam was Lenteglos en baie netjies gebou. Dit het nog na verf geruik en die vensters se stopverf was nog nat onder die lagie verf in die houtvensterrame. Die trap na die boonste vlak het met ’n ‘L’-vorm geloop en het ’n houtreling ter beskerming gehad wat dit moeilik gemaak het om die vier hangkaste in die drie slaapkamers te kry. Dit was maar net my hande en een of twee ander helpende hande wat daar moes opsukkel. Ek het later die houtreling losgemaak en dit het toe heelwat makliker gegaan om alles bo te kry. Toe alles ’n plek gekry het en elke plek iets gekry het om neer te sit, het ons begin met die gordyne. Intussen moes ons die vier groter kinders, Nico was nog sowat 6 - 8 maande oud en het redelik sterk begin kruip, onder ons voete uithou sodat ons alles kan inrig.

Ons vermanings begin nou weer van nuutsaf aan die vier uitgespel – “Moenie na die teerpad toe afdwaal nie, speel in die sand tussen die “willows” waar ons julle kan sien, moenie raas nie, want daar is ander mense wat dalk wil slaap, moenie aan die woonstelle se mure krap nie, moenie ons huis se mure binne vuilmaak nie, moenie, moenie, moenie.”

Hulle klein breintjies het seker oortyd gewerk om in te neem wat Pa en Ma vir hulle gesê het. Hulle het goed geluister, want die enigste moeilikheid wat hulle gemaak het, was toe hulle van die vensters wat groot en laag bo die grond was, se stopverf begin uitkrap en daarmee gespeel asof dit klei is. Dié klagtes het ons d.m.v. een van die nuwe bure ontvang. Ek het maar weer stopverf gekry en ingesit – saak opgelos – geen misdaad gepleeg nie! Hulle kon toe met die orige gekoopte stopverf bak en brou.

Ek en Corrie gesels baie later oor ons verblyf te Lenteglos en sy vertel toe dat dit die plek was waar ons seker finansieel die moeilikste in ons hele getroude lewe gehad het. Ek is ’n nuut aange-stelde adjudant-offisier wat ’n hele R2400,00 per jaar gekry het. Van die R200,00 per maand het die SAP Betaalmeester geld afgetrek vir pensioen, versekering, aankoop van uniform, Akpol, Nonqai Polisietydskrif, sportklubledegeld en nog ’n paar items wat ons met die groot salaris van R150,00 per maand gelaat het. Ons huishuur het R55,00 beloop, ons het nog ’n paaiement van R15,00 op die motor betaal en dan het ons met dit wat oorgebly het, ons eie en die kinders se mae vol gehou en ons blakers met klere bedek, ons motor elke dag aan die gang gehou, iets vir die kerk weggesit – ag ja, kom ons los dit. Ons het daardie toets geslaag, want ons, dis nou ek en die kinders, het ’n vrou en eggenote, moeder, huishoudster, strykvrou, sieketrooster, kinderopvoeder, kosmaker, bedmaat tugmeesteres, en minnares in die woonstel gehad wat geen salaris ontvang het nie, maar slegs die voorreg gehad het om by die vader-des-huise te slaap. Geen geldjies vir ekstra mooi goedjies wat sy kon koop om aan haar te hang óf aan haar hande, gesig of lyf te kan smeer nie. Ek

het maar elke dag in uniform gewerk. Dankie Vader my dienste was geroetineerde kantoordienste van 7vm (07:00) tot ½5 nm (16:30). Met my tuiskoms is die pet afgehaal, tuniek uitgetrek en die ander uniformstukke eers afgestroop wanneer ek gaan slaap, want privaat slenterdrag was maar min met een pak klere vir die kerk.

My dienste by die Korsten polisiestasie het die tradisionele oorsigdienste behels. Dit het onder andere dienslyste vir lede opstel, inspeksies van registers in die aanklagkantoor, verklarings afneem van lede vir beseringsrade, beskadiging van voertuie, opstel van maandelikse opgawes wat na die distrikskommandant, die afdelingskommissaris en SAP Hoofkantoor toe moes gaan en opgetree as aanklaer waar lede departementeel verhoor moes word. Alle adjudant-offisiere in die Baai moes op ’n roteringsbasis ’n week lank tydens nagskof, toesigdienste oor lede op patrolliedienste gaan verrig en ook alle polisiestasies gaan besoek. Die stasies was Baakenstraat, Nuwe Geregshowe, Mountweg, Kabegapark, Korsten, Redhouse, Walmer, Kwazakhele en New Brighton. Ons moes alle motorbotsings waarby polisiebeamptes betrokke was, se tonele asook alle tonele waar skietvoorvalle plaasgevind het, gaan besoek en ’n verslag vir die distrikskommandant opstel. (Hedendaags is dit glo die take van offisiere)

Die interessantste werk wat ek moes doen, dit het my só twee maande besig gehou, was om die behoeftebepaling te doen vir die toe- en uitrusting wat twee nuwe polisiestasies wat in aanbou was, naamlik Gelvandale en Algoapark sou benodig. Albei hierdie nuwe polisiestasies sou in ons polisiedistrik wees, vandaar die taak wat my opgelê is. Ek moes eerstens albei polisiestasies se grondplanne bekom om te sien hoeveel kantore en ander ruimtes daar sal wees. Ek het dan ons bestaande polisiestasie se kantore se kamerinventarisse nagegaan en lyste gemaak wat alles daarin is, en dan die getalle van elke uit- of toerusting gedokumenteer. Die behoeftebepaling is toe op skrif gestel en aan die SA Polisie se kwartiermeester gestuur, sodat daar betyds aanvrae gedoen kan word vir die voorsiening van dit wat benodig word. Ek moes die voorstede wat deur daardie polisiestasies gepolisieer gaan word, besoek, die grense afbaken, straatplanne by die munisipaliteit gaan kry en rondtediensregisters (“beat registers”) opstel. Ek moes saam met ’n ander lid die voorgestelde rondtes gaan stap om te sien dat die tyd wat daar toegelaat word om van een punt na ’n ander te stap nie te kort of te lank is nie. Ek wonder of daardie registers nog in gebruik is? Sodra die nuwe Algoapark polisiestasie in gebruik geneem gaan word, sou die Korsten polisiestasie in onbruik verval en sou daardie kantore deur die speurders van Korsten beman word wat toe steeds net in voorafvervaardigde houtbungalows gehuis was. Die bestaande polisiewyk van Korsten sou dan in twee verdeel en Gelvandale en Algoapark sou dan die voormalige polisiewyk van Korsten bedien. Nuwe woonbuurtes het toe reeds in die Noorde van Port Elizabeth soos paddastoele begin ontwikkel en só sou die sluiting van een polisiestasie en die stigting van twee bykomende polisiestasies, dié besluit regverdig.

Omdat daar redelik baie motorbotsings met polisievoertuie in die Baai plaasgevind het, só ook deur die land, het die kwartiermeester, as proefneming, besluit om Tachometers in die patrollievoertuie te installeer. Hierdie meters het ’n klokmeganisme gehad wat die distansies, spoed, stilhouplekke en tydsduur daarvan en die afstaantyd in 24 uur op ’n sirkelvormige kaart aangedui het. Korsten polisiestasie was die enigste polisiestasie in die Baai wat dit op ’n proeftydperk van 6 maande moes gebruik. Die taak om dit te moniteer het op my skouers geval. Ek moes ’n opleidingskursus van 8 ure by die leweransiers van hierdie meters, Control Instruments, in die Baai deurloop om as kundige die kaarte elke oggend om 8vm om te ruil, die vorige 24uur se kaarte ontleed en verslae in te dien. Die sleutels van die Tachometers was in my kantoor toegesluit, dus kon die bestuurders nie die meter oopmaak en met die kaart peuter nie.

Só moes ek ook by een geleentheid, toe ’n blankekonstabel wat na bewering ’n meisie een nag sou opgelaai en haar te St Georges Strand, buite Port Elizabeth, probeer verkrag het, in die Streekhof

gaan getuig. Hy het beweer hy het haar wel opgelaai en slegs na haar huis toe geneem, want sy het laatnag alleen in ’n straat in ’n obskure woonbuurt geloop en hy was bang sy word gemolesteer. Ek was gevra om die kaart in die Tachometer van daardie dag te ontleed en by die hof in te handig as bewysstuk nadat ek daaroor getuig het. Ek het dit gedoen, maar gemeld dat ek alleenlik ’n ware prentjie kan skilder van die distansies, spoed en tye wat gery is, as die klaagster saam met my en die ondersoekbeampte in ’n voertuig sou ry met ’n blanko Tachometer kaart in, sodat ek die besonderhede met die kaart wat die nag van die beweerde poging tot verkragting, kan vergelyk. Ek sou dan ’n tweede blanko kaart in die meter plaas en dan sou die ondersoekbeampte saam met my en die aangeklaagde die roete wat hy gevolg het, moet aanwys. Ek kon dan die twee kaarte met die nag se kaart vergelyk en ’n ware prentjie skilder oor wie se relaas van gebeure juis óf vals is. Die klaagster s’n het geheel en al verskil van die besonderhede wat op die nag se kaart verskyn het, en die polisieman s’n het op enkele meters en minute na ooreengestem met sy relaas en op die nag se kaart. Hy is onskuldig bevind en die dame is later weens meineed vervolg. Hierdie soort verweer hoekom ’n persoon, dalk ’n vrou wat sê sy was verkrag, óf ’n man wat sou sê hy was beroof óf gekaap, en dan laat by die huis aankom óf die huis dalk sonder toestemming sou verlaat het, is so oud soos die berge en sal steeds nog in elke samelewing plaasvind. Die Tachometers is later, ek dink sowat 8 maande later, uitgehaal en is nie weer gebruik nie. Die rede? Onbekend aan my!

Die feit dat ek as ’n jong sersant reeds met die verantwoordelikheid as stasiebevelvoerder beklee was, het dit my terdeë voorberei en geskool vir die taak wat ek te Korsten polisiestasie moes verrig. Die enigste verskil was dat waar ek oor twee man en een voertuig te Knapdaar beheer moes uitoefen, was hier nou meer as 100 man, en sowat 15 voertuie. Beseringsrade van lede, skietvoorvalle, beskadiging van voertuie, departementele verhore van lede, motorbotsings ens., ens., was te veel om op te noem. Misdade was 1000± per maand wat in registers aangeteken is en aanklagtes teen lede m.b.t. oortredings teenoor aangehoudenes, was te veel om te noem. Terloops, terugskouend moet die leser besef dat daar jare gelede nie net engeltjies was wat in die polisiemag diens verrig het nie, en dat die ondersoeke teen lede dalk in verhouding met die klagtes en ondersoeke wat tans (in 2015) in die pers van gemeld word, seker nie, persentasiegewys, minder was as vandag s’n nie. In die vyftiger- en sestiger jare was die aantal polisiemanne in die land sowat 30000-40000 lede en vandag (2015) is daar bykans 200000, indien nie meer nie.

Gedurende hierdie tyd het ek gevind dat my Opel Car-A-Van stasiewa besig was om ontsettend te roes in die Baai. Ek het met die tussenkoms van ’n Chinese winkeleienaar te Schauderville, ’n kleurlingwoonbuurt in Korsten, kennis gemaak met ’n kleurlingpaneelklopper genaamd Jeff. Oom Koos Vreÿ het hom ook geken want hy het kleinere werkies vir hom aan sy motor daar laat doen, en hy het Jeff dus ook aanbeveel. Ek het die motor (stasiewa) laat regmaak deur die geroeste panele te laat uitsny en met nuwe staalplate te laat vervang en die motor is geheel en al oor gespreiverf. Dit het die volle bedrag van R30,00 gekos! Die stasiewa het regtig mooi in voorkoms vertoon met ’n ligte poeierblou kleur onder en ’n wit dak. Ek sou dié voertuig later in Humansdorp verkoop toe ek soontoe verplaas is.

Ons vyfde verblyf:

Baie kort nadat ek te Algoapark polisiestasie diens aanvaar het, moes die amptelike staatswoning wat langs die Korsten polisiestasie geleë is, her-toegeken word. Die vorige bewoner, adjudantoffisier J.T. (Jan) van Rooyen, wat sy bevorderingseksamen na luitenant geslaag en bevorder is, is verplaas. Offisiere kon daardie jare nie amptelike wonings bewoon nie – seker te veel salaris ontvang. Ag foeitog! Daar was drie aansoeke wat op ’n puntebasis toegeken moet word. Omdat ons vyf kinders het en Corrie nie buitenshuis gewerk het nie, het my aansoek die meeste punte gekry en ons kon hierdie huis betrek. Sersant Basson van Mountweg, wat die amptelike pakker van meubels vir lede was wat in en om Port Elizabeth verplaas word, wat ook ’n amptelike platbaklorrie

gehad het (ja weer ’n platbaklorrie, hierdie keer ’n groene), het ons huishouding vanaf Lenteglos na die polisiewoning by die Korsten polisiestasie vervoer. Dit het ons dus geen geld uit die sak gejaag nie. Ons is toe in ’n huis met drie slaapkamers, ’n eetkamer, kombuis, en badkamer met ’n groot stuk omheinde erf langs die polisiestasie. Die huishuur is maar ’n paar Rand en dit word sommer van my salaris verhaal. Ons moet net ons eie water- en ligterekening betaal.

Ons moes weer met ons predikasie aan die kinders begin met moenies – moenie uit die erf gaan nie, want die polisievangwaens kom te vinnig by die polisie-erf ingery, moenie die polisiebeamptes in hulle werk hinder nie, moenie die prisoniers wat op die polisieterrein werk, pla nie, moenie die erf verlaat en met die skoolkinders van die Dr. Viljoen Laerskool wat aan die polisieterrein grens, gaan gesels nie, moenie, moenie, moenie. Dalk het ons hulle te streng groot- gemaak met te veel negatiewe vermanings, gesprekke en preke, maar ons moes hierdie hand vol kinders, vir wie ons baie lief is, sovêr moontlik teen ongewenste handelinge en gewoontes wat hulle in hulle vormingsjare kon aanleer, beskerm.

Hulle kan maar self elkeen vir hulle families vandag vertel wat hulle onthou en óf ons verma-nings en gesprekke vir hulle nadelige óf verrykende gevolge gehad het. Om vir hulle meer afleiding te gee het ek in een van die bloekombome op die erf ’n skoppelmaai gemaak. Weet julle nie wat dit is nie, dis ’n swaai – “a swing” man !, sodat hulle mekaar kan besig hou – dalk nog uitval en seerkry ook! Gelukkig het dit nie gebeur nie. Ek het ook ’n groentetuin aangelê sodat ons darem selfversorgend kon wees wat ons groente-vitamiene aanbetref. Hier kon my salaris die spreekwoordelike wolf van die voordeur af weghou, want ek het baie minder met die motor gery, want die huis was langs die polisiestasie en ek kon daarheen stap.

10.2 Eerste aansoek vir bevordering na luitenant

Ek het, toe ek nog gedurende 1964 te Korsten polisiestasie gestasioneer was, aansoek gedoen om aan ’n bevorderingseksamen na luitenant deel te neem. Ek het vir my ’n bandmasjien gekoop en daarop die vrae en antwoorde opgeneem en dit daagliks in my kantoor teruggespeel met oorfone sodat dit niemand sal steur nie. My aansoek is na Pretoria gestuur. Die Keurraad (ook onder die polisie-offisiere as die mielie- of koringraad bekend) het nie soos dit vandag gedoen word, net in Pretoria sitting gehad nie, maar het deur die land gereis en by die verskillende afdelingskommissarisse se kantore sittings gehou waar daar dan onderhoude met al die kandidate uit die polisie se afdeling, gevoer is. Ons was sowat 10 kandidate wat voor die keurraad moes verskyn. Ek was laaste ingeroep en vir ongeveer ’n halfuur onder kruisverhoor geneem m.b.t. die twee aanranding aanklagtes wat teen my op lêer was. Die eerste geval wat onder bespreking was, was toe ek 18jr oud was en die prisonier in die selle te Baakenstraat polisiestasie geskop het. Die tweede een waar Boetietjie Jas, wat toe nog in daardie stadium in die Livingstone Hospitaal in die Baai gelê het en besig was om te herstel na die besering aan sy kop wat hy te Knapdaar opgedoen het. Die Keurraad het my aansoek afgekeur en ek kon na die kommissaris toe appelleer. Ek het my appèl wel ingedien. Na ’n wagtyd van bykans twee maande, is my appèl van die hand gewys en ek het my daarin berus. Wel die tyd wat toe verloop het voordat ek weer aansoek gedoen het om aan ’n offisierseksamen te kon deelneem, het van my net ’n ryper mens en ’n meer ervare polisieman gemaak.

Daar het darem iets positiefs uit die afkeuring van my deelname aan die luitenanteksamen, voortgevloei. Ek het besef dat ek werklik goed voorberei het vir die eksamen na luitenant, wat ek nie kon skryf nie, en het begin om te leer vir my Regsmatriek, want ek het nog steeds net standerd 8 (Graad 10) gehad. As jong polisieman, toe ek nog te Redhouse gestasioneer was, het ek deur Volkskorrespondensiekollege, genoem die VKK, (wat sedertdien gederegistreer is as ’n afstand opleidingskollege) vir matriek geregistreer, met dieselfde skoolvakke as wat ek in standerd 9 (Graad 11) in Swellendam gehad het. Ek kon st. 9 nie daar klaarmaak nie, want ons het mos Port Elizabeth

toe verhuis. Wel, met daardie skoolvakke kon ek ook nie by die VKK aangaan nie, want ek het nie al my leermateriaal ontvang nie, en by navrae het dit geblyk dat dit in die pos verlore geraak het en hulle wou dit nie vervang nie, tensy ek bereid was om weer daarvoor te betaal. (Daardie jare het ons ook maar probleme met posdiens gehad.) Ek het toe daardie poging maar laat staan. Nou is al die verskonings op ’n einde en ek het dadelik vir die Regsmatriek ingeskryf wat deur die Departement van Nasionale Opvoeding aangebied is, met die polisie se regsvakke as deel van die leerplan. Ek het daardie jaar (1964) aan die eindeksamen vir die Nasionale Senior Sertifikaat gaan deelneem en met net sowat twee maande se “swotting”, in die eersteklas geslaag. Dit wys jou net wat gedoen kan word wanneer ’n mens positief ingestel is teenoor teëspoede wat jou tref en jy dit wil oorkom. Dit help nie om in ’n hoekie te gaan sit en te pieker oor óf te tob oor jou teëspoed nie!

Ses jaar later, gedurende 1970, was ek gekeur om die eksamen na luitenant te kon aflê en het dit geslaag. Ek meld later meer daaroor.

10.3 Opening van die Algoapark-polisiestasie, Port Elizabeth

Soos reeds vroeër gemeld, was ek die taak opgelê om ’n behoeftebepaling te doen van die meubilering van die nuwe polisiestasie wat te Algoapark begin sou word. Die bestaande reeks van drie rye steen bungalows wat uit die oorlogsjare gedateer het, was deur die Departement Openbare Werke (DOW) omskep in ’n polisiestasie met kantore. Die slaaplokale was in kantore afgeskort en ek moes bepaal watter kantore deur wie beset moes word en watter meubels en polisietoerusting en -uitrusting en ander hulpmiddels daar voorsien moes word. Dis nou van tafels, stoele, kabinette, mat-te, snippermandjies, prisoniers se eetbakke, selmatte, koppies, pierings, pappotte, gewere, rewolwers, geweersakke, rewolwersakke, patrone, prisoniers se eiendomsakke, vingerafdruk items, skryfbehoeftes, en ag ja, honderde ander items wat benodig sou word. Daar is ook toe drie sinkselle as tydelike polisieselle op die terrein opgerig. Die afdeling se Opruk-Eenheid (’n eenheid wat oproer en stakings moes hanteer) is ook vanaf New Brighton-polisiestasie na Algoapark polisiestasie toe oorgeplaas. Elke polisieafdeling het so ’n eenheid gehad wat alle stakings, skarebeheer en samedrommings moes hanteer. Gelukkig het dié afdeling hulle eie staatseiendom gehad wat netso vanaf New Brighton-polisiestasie na hulle nuwe kantore te Algoapark polisiestasie oorgeplaas kon word.

Dié polisiestasie het op 10 Januarie 1966 in bedryf gegaan. Dit het met geen trompetgeskal, vlaghysingseremonie of besoekende hoogwaardigheidsbekleërs gepaard gegaan nie, slegs ons klomp polisiemanne wat moes inval en met die polisiewerk aangaan. Op dieselfde datum is ek, tesame met die nuwe personeel wat aan die stasie toegeken is, as tweede in bevel van die nuut geopende (beginnende) polisiestasie, Algoapark, in die noordelike voorstede van Port Elizabeth, verplaas. Die stasiebevelvoerder was luitenant S.M. van Zyl. Een van die mees bekwame offisiere wat ek geken het. Hy was een van vier Van Zyl broers, Cappie van Zyl, Frik van Zyl en nog een, wat almal offisiere geword het en almal was baie slim en het die Polisie Staande Orders omtrent uit hulle koppe geken. Maar o wee! Hierdie SM (Es Em, dit was sy noemnaam) het gereeld die mannetjie met die kurkhoedjie gesoen. Ek het maar ’n redelike swaar las moes dra, want male sonder tal moes ek maar instaan om sy taak ook te verrig wanneer hy vir dae aaneen nie op kantoor was om die septer te swaai nie. Hy word toe sommer op kort kennisgewing Transkei toe verplaas en ’n nuut-bevorderde luitenant Spangenberg word as die stasiebevelvoerder aangestel. Nou het sake darem beter gegaan, want die werk op hierdie stasie is nou eweredig tussen ons twee verdeel. Ons het nou ook ’n sekretaresse gehad wat al twee van ons se tikwerk moes behartig, sodat ek ook geen tikwerk hoef te doen nie.

10.4 Geboorte van Nico en sy dinge

Daar is reeds melding gemaak van Nico se geboorte, maar nou net so ’n paar gedagtes wat op hom van toepassing is, wat hy hier in Port Elizabeth as ’n kleuter aangevang het. Sy verdere ervarings word later onder die hoofstuk van ons verblyf te Humansdorp vermeld.

Ek het reeds gemeld dat toe ons in Lenteglos, in die woonbuurt Kabegapark in Port Elizabeth gebly het, ons die kinders maar onder ons voete moes uithou, want dis weer ’n woonstel en hulle moet nie ander bewoners hinder nie en die woonstelblok was langs die hoofroete na Kaapstad geleë. Nico was, toe ons daar ingetrek het, seker so 6-8 maande oud. Een aand het daar toe ’n verteenwoordiger gekom wat Electrolux-goedere bemark het. Hy demonstreer toe ’n buisstofsuier op wiele-tjies deur die mat op die sitkamer se vloer, te stofsuig. Sy verkooptegniek was natuurlik om hierdie egpaar te oortuig dat om die mat slegs met ’n besem af te vee, daar nog vele stof en ander ongediertes? in die pool van die mat is wat geweldig nadelig is vir kinders, en veral vir ’n kruipende seuntjie soos Nico. Hy vee ’n kol van die mat skoon met ’n handbesempie en toe suig hy dieselfde kol met die stofsuier. Ons skrik toe hy wys hoeveel stof en rafels en nog wat uit dieselfde kol gestofsuig is. Ons koop toe die stofsuier en nou is ons meer tevrede dat die mat immers skoner is, veral vir Nico wat daarop rondkruip.

Hierdie stofsuier het ’n geweldige aantrekkingskrag vir Nico gehad, want as Corrie die mat in die sitkamer gesuig het, het hy knaend na die stofsuier toe gekruip en bevoel en rond gestoot. Sy neem hom dan met die trappe op sodat hy in die kamers kan rondkruip en met sy speelgoed speel. Wanneer sy dan die kamers kom stofsuig het, word die verwydering van die karnallie omgekeer. Hy word in die sitkamer geplaas met sy speelgoed en Ma begin die kamers stofsuig. Ja jong, daar was nie geld vir die huur van ’n bediende nie! Hierdie gebruik om Nico heen en weer te verplaas vanaf die werkoppervlak met die stofsuier, het nie lank aangehou nie, want toe sy een oggend die slaapkamers en boonste gang begin vee-stofsuig, toe is meneertjie daar. Sy is verbaas, want hoe de duiwel kom hy daar, want die trap wat met ’n “L”-vorm loop met vyftien of meer trappe, het hy opgekruip. Sy neem hom weer af en toe sy bo kom, hou sy hom só stilweg dop. Hy kom wraggies op ’n manier die eerste paar trappies opgekruip tot by die platform, dan vat hy die steil opdraande trappies aan op pad boontoe. Niemand het dit vir hom geleer nie, dit het maar met sy eie beplanning in die klein breintjie (óf is dit ’n grote) tot stand gekom. Een môre toe sy onder stofsuig toe wil die mannetjie afkom na onder toe, en voordat sy kon keer toe kom hy kop eerste die trap afgekruip, en so twee óf drie trappe van bo-af, sien sy hom. Sy los alles waarmee sy besig is, en voordat sy hom kon keer toe tuimel hy gat-oor-kop die trappe af tot onder op die platform. Sy skrik haar buite weste en Nico skree hom buite weste, maar nadat al twee bedaar het na die groot skrik, sien sy dat Nico nie eens ’n skrapie of knoppe aan sy lyf het nie. Sy gaan aan met haar werk nadat hy getroos is en sy verdra hom maar by haar. Sy laat Nico se hulp met die stofsuier se rondstoot haar maar welgeval. Ek word natuurlik van hierdie voorval vertel toe ek tuiskom. Nou gesels ek met Nico, maar alhoewel hy nog nie kon praat nie, is hy tevrede in my geselskap – seker beïndruk met hierdie vader-deshuise se kennis van babataal, en nou tel ek hom op tot by die platform onder by die trappe en sê hy moet nou boontoe kom, ek gaan met die stofsuier werk.

Hy identifiseer die geluide wat ek maak asof dit die stofsuier se gezoem is. Hy begin op te kruip en toe ons bo kom, draai ek hom om en plaas sy knietjies in so ’n posisie dat hy agteruit die trappe moet afkruip en nie met sy kop eerste nie. Ek het dit net ’n paar keer gedoen, en nou snap hy die nuwe krapmetode en hy kom al sukkelende agteruit die trappe af. (Die Kaapse manne praat van hy “reverse” agteruit.) Ons het hom dit so ’n paar keer laat doen en kort-kort hand bygesit en nou is die vrese dat hy weer sal afval so ’n bietjie getemper.

Daar was tog nog ’n vrees van erge beserings wat hy kan opdoen. Dit was dat sy bene tussen die trappies sou inglip en hy dan direk grond toe sou val. Ek het toe maar twee stukke masonite (“hard

board”) gekoop en onder die oopkant van die trappe vas gespyker. Dit was nie lank daarna nie, seker so vier maande later, toe het hy begin loop. Hy kon nog nie loshande die trappe opklim nie, en het dit maar weer op sy sit-kruip-manier aangevat, totdat hy gesien het dat hy aan die reling van die trap kon vashou om op óf af te klim.

Verdere dinge wat op hom en die ander vier kinders betrekking het, sal so al gaande in my vertellinge gemeld word, veral as daar humor in gesien kan word óf waar hulle aan gevare blootgestel was. Ons lewens het nou om die 5 van die 2 plus 5 gedraai en dit was vir beide van ons, maar veral vir Corrie, ’n voltydse pligpleging wat sy met toegewydheid en liefdevolle hantering gedoen het. By alles wat ons beplan, aangekoop en/of aangepak het, moes die kinders altyd in gedagte gehou word. Die Ma en Pa se behoeftes aan klere en iets mooi het ons telkemale maar op die langebaan geskuif, om eers al die kinders se behoeftes te bevredig, naamlik kos, klere, speelgoed, slaapplekke, liefde en deernis. Dankie Vroulief, vir die onbaatsugtige wyse waarop jy die huishouding hanteer het, want vir lekkerruik- en spuitgoedjies en sagte roompies was daar nie geld nie, en die plaasvervangers vir daardie eksotiese fabrikate het jy maar van die kruidenierswinkel se rakke afgeneem, en wanneer jy wel so iets as geskenk ontvang het, het jy dit soos’n kleinood hanteer.

Soos reeds genoem, was ons volgende verblyf die amptelike polisiewoning op die Korsten polisiestasie se terrein. Ons het gerieflik in die polisiewoning te Korsten gebly, maar die verblyf aldaar was van korte duur. In die volgende hoofstuk word die rede vir hierdie kort verblyf gemeld.

HOOFSTUK 11: VERPLASING NA HUMANSDORP-POLISIESTASIE

Ons verblyf was nie baie lank in die goedkoop polisiewoning te Korsten nie, toe ek een oggend vroeg in Augustusmaand 1966 by Algoapark polisiestasie ’n telefoonoproep vanaf die administratiewe klerk by die distrikskommandant se kantoor ontvang. Hy sê toe dat ek die distrikskommandant, majoor Mildenhall, moet kom spreek. Die distrikskommandant van Korsten se kantoorkompleks is in Kempstonweg, net oorkant die eertydse Korsten-polisiestasie.

Ek ry toe vanaf Algoapark polisiestasie na Korsten toe. “Wat het ek tog verkeerd gedoen”, flits dit deur my gedagtes. Snaaks hoedat ’n mens eerste aan iets verkeerds dink wat jy dalk gedoen het as jy só uit die bloute gevra word om ’n senior offisier te kom spreek.

Toe ek by sy kantoor inkom, val hy sommer met die deur in die huis: “Meneer, sien jy kans om op kort kennisgewing na Humansdorp verplaas te word?”

Ek het gesê: “Ja, majoor, maar kan ek weier, want ek het gehoor dat drie ander adjudant-offisiere in die Baai reeds geweier het om te gaan?”

Die majoor sê toe: “Ja, jy kan weier, maar daar is ’n probleem op die stasie en dit moet dringend opgelos word. Die stasiebevelvoerder het uit diens bedank en die sersant wat daar is, is ook die staatsaanklaer in die hof en hy kan nie alles alleen behartig nie.”

“Goed Majoor, maar ek wil darem eers met my vrou daaroor praat.”

Majoor Mildenhall stap toe saam met my vanaf die distrikskommandant se kantoorkompleks om na ons huis toe en hy praat met Corrie oor die moontlikheid dat ons op kort kennisgewing Humansdorp toe verplaas gaan word. Ek hoop so stilweg dat sy nou behoorlik keelvol is van die rondswerf van een woonplek na die ander en dat sy nie sal wil gaan nie. Soos ek haar ken, sal sy en het sy, nooit eendag gewyfel om in te stem om saam met my met verplasing te gaan nie. Sy is eintlik baie bly en willig dadelik in. Sy is baie opgewonde, want ons gaan dan na haar eie kontrei toe! Ons stap terug

na die distrikskommandant se kantoor om my motor te gaan haal wat ek daar parkeer het. Mildenhall sê dat hy die nodige reëlings vir die verplasing sal tref. Ek keer terug na Algoapark polisiestasie en verwittig my stasiebevelvoerder dat ek binnekort na Humansdorp verplaas gaan word. Hy het my net die aller beste en voorspoed toegewens.

11.1 Word versoek om na Humansdorp te gaan om die vakante pos van stasiebevelvoerder dringend te gaan vul Mildenhall se versoek aan my of ek bereid is om Humansdorp toe verplaas te word, waartoe ek ingestem het, word net ’n paar dae na die onderhoud wat ek met hom gehad het, bewaarheid. Sersant Basson van Mountweg polisiestasie word opdrag gegee om my huishouding na Humansdorp toe te neem. Hy skakel my en kom maak ’n opname van alles wat karwei moet word en hoeveel pakmateriaal hy nodig het.

Ek word ’n paar dae afgegee en ek en Corrie, met die kleingoed, ry eers Humansdorp toe om te gaan kyk hoe lyk die spreekwoordelike ‘Stad Nineve.’

Huidige reklame bord vir Humansdorp se gastehuis in Du Plessisstraat 15, met die NG Kerk as ’n inlas. (Foto: Google).

Ons vind sersant Daantjie Strydom (hy was die broer van my vriend te Redhouse, Piet Strydom) by die polisiestasie en hy neem ons na die polisiewoning wat langs die polisiestasie geleë is. Dit is op die hoek van Du Plessis- en Kempstrate. Daar is ’n voetgangerhekkie tussen die polisieterrein en die polisiewoning se erf. Ons vind mev. Lamprecht in haar huis. Sy is alleen daar, haar man, ’n adjudant-offisier, het die polisie op kort kennisgewing bedank en hulle twee is besig met ’n egskeidingsaak. Ons sien dat dié woning netso groot is soos die een wat ons in Korsten bewoon en dat ons dus nie baie uitgawes sou moes aangaan wat gordyne aanbetref nie. Ons neem toe die gordyne van die sit-eetkamer oor by mev. Lamprecht teen R100,00, want daar is een venster meer as in ons huis te Korsten. Die gordyne wat voor die drie vensters in die sit-eetkamer was, was só opgehang en gespasiëer, dat dit gelyk het asof die hele muur vol vensters is. Sy was reeds besig om te pak en sou na ’n dag of twee die huis ontruim.

Ons gaan terug Korsten toe en wag dat sersant Strydom ons sal bel wanneer die polisiewoning te Humansdorp ontruim is. Op 6 Augustus 1966 bel hy en ek skakel weer vir sersant Basson dat hy op 7 Augustus die huisraad kan kom pak. Ons slaap die aand van 7 Augustus by oupa Scholtzhulle, dierbare skoonfamilie wat altyd byderhand is om ons te ontvang. Die oggend van 8 Augustus vertrek ons met sak en pak, die 5 seuns was natuurlik ook deel van die pak, Humansdorp toe. Gelukkig het ek geen aandeel gehad in die bekisting en verpakking van ons aardse besittings nie, dit was die taak van sersant Basson en sy handlanger, ’n kleurlingkonstabel.

Ons het natuurlik voor ons trek wat met die polisie se platbakvragmotor (weer ’n platbak) van sersant Basson, op die dorp arriveer, by die huis stilgehou wat ons gaan betrek. Die huis was leeg en die vloere was skoongevee en geskrop en dit het heel netjies gelyk. Ons vind toe vir die eerste keer die

badkamer het nog ’n kopergeiser waarin die water warm gemaak moet word met plankies en dun houtjies. Dit was dieselfde soort warm watersisteem as wat ons in Knapdaar se polisiewoning gehad het. Daar was ook nog ’n hout- (steenkool) stoof met ’n groot warmwatertenk (“boiler”) wat teen die muur vasgeheg was. Ek sou redelik gou, via die distrikskommandant te Uitenhage, per brief vra dat die Departement van Gemeenskapsbou, wat destyds die instandhouding van alle staatsgeboue en -persele hanteer het, die stoof, “ boiler” en die kopergeiser moet kom uithaal. Ek het versoek dat die kopergeiser vervang word met ’n elektriese geiser, en ons sou ons elektriese stoof kon gebruik as die houtstoof verwyder word. Dit het sowat ’n maand of twee drie geduur voordat die geiser vervang is, maar die elektrisiën van Departement Gemeenskapsbou het, nog voordat die houtstoof verwyder is, ons elektriese stoof op ’n muurprop gekoppel. Dit was later aan ’n gorrel (elektriese draad wat in ’n omhulsel direk op ’n kragbron gekoppel is) gekoppel, nadat die huis herbedraad was om die bykomende kragverbruik te kon hanteer. Ons kon toe die luukse van elektrisiteit, waaraan ons in Port Elizabeth gewoond was, geniet, want nou het ons ‘n elektriese geiser en ons kon ook ons elektriese stoof gebruik.

Dit is die polisiewoning waarin ons in Humansdorp gebly het. Ons het gedurende 2014 Humansdorp besoek en toe vind ons dat hierdie huis nou speurderskantore is. (Foto: Google)

Sersant Daantjie Strydom, die staatsaanklaer, het ’n paar van die polisiemanne se vrouens gevra om die huis te kom skoonmaak voordat ons ingetrek het. Die dag nadat ons ingetrek het, daag hulle by die huis op en bring koekies, terte en ander versnaperinge vir die nuwe stasiebevelvoerder en sy gesin. Só het ons sommer dadelik die polisiemanne en hulle gades ontmoet. Opregte plattelandse gasvryheid en omgee vir mense.

11.2 Aard van dienste en vriendekring te Humansdorp

Net nadat ons by Humansdorp aangekom het, het ek die Opel-Car-A-Van stasiewa verkoop en ’n demonstrasie voertuig, gekoop. Dit was ’n blou-grys 1966 model sessilinder Vauxhall Cresta motor met meer krag as wat die Opel Car-A-Van gehad het. Daar was uiteraard ook meer beweegruimte vir die vyf seuns.

Ek het maar pas begin om die administrasie wat tydens die afwesigheid van ’n voltydse stasiebevelvoerder agter geraak het, op datum te bring en om die personeel te leer ken, toe ek opdrag ontvang dat ek ’n ‘Bekwame Bevelvoerderskursus’ in Pretoria Polisiekollege moet gaan bywoon. Die kursus het ses weke geduur. Die tydperk was vanaf die middel Oktober 1966 tot die einde van November 1966. Ek het met die nuut aangekoopte motor gereis, maar eers vir Corrie en die kinders by ouma Scholtz-hulle gaan aflaai, want sy kon dan die ses weke wat ek sou weg wees, daarvertoef. Sy het gedurende dié tydperk vir ’n opvolgkonsultasie by ’n ginekoloog gegaan. Kobus moes ook vir ’n opvolgkonsultasie gaan voordat hy ’n operasie moes kry. Julle vra: “Watter operasie moes hy dan kry?” Ag, toemaar, vra hom maar self!

Schalk en Maggie was vanaf Pretoria op pad na Swellendam om daar te gaan kuier, maar hulle het via Port Elizabeth gereis. Hulle het toe vir Corrie en die kinders Humansdorp toe geneem en ook vir ’n dag of wat daar gekuier. Dit was sowat ’n week of twee voordat ek vanaf die kursus sou terugkom.

My ou vriend van Redhouse, speurderadjudant-offisier Piet Strydom, die jonger broer van sersant Daantjie Strydom, het saam met my gery en ons kon derhalwe die petrolkoste Pretoria toe en terug halveer. Ons kon darem toe ook spreekwoordelike ‘wiele onder ons blakers’ hê sodat ons in ons aftree in Pretoria kon rondry. Nadat ons gehoor het dat ons die kursus geslaag het, en die kursus ongeveer 11:00 afgesluit het, het ons dadelik in die pad geval terug Despatch toe waar Pieter gebly het. Daardie jare was daar nog geen spoedbeperking op nasionale paaie nie en ons het die distansie vanaf Pretoria na Despatch in sowat 10 ure afgelê. Ja dit het honderd-bedonderd gegaan, net stil gehou vir brandstof, daar ook gepiepie en weer die lang swartpad Oos-Kaap toe laat waai. Nadat ek by Pieter en Susan iets geëet en gedrink het, het ek deurgery Humansdorp toe. Het so om en by 9,30nm (21:30) tuisgekom.

Na die kursus het ek by Humansdorp my bevelvoerdersdienste hervat. Toe word alle adjudantoffisiere in Uitenhage- en Port Elizabeth se polisie distrikte, wat die ‘Bekwame Bevelvoerderskursus’ geslaag het, opdrag gegee om ons verworwe kennis aan die stasiebevelvoerders en ander lede in die twee distrikte oor te dra d.m.v. lesings. Ek het derhalwe maandelikse lesings by die verskillende polisiestasies in die Humansdorp landdrosdistrik, te wete Jeffreysbaai, Kareedouw, Stormsrivier en die drie stasies in die Hankey landdrosdistrik, Patensie, Hankey en Thornhill, gehou. Ons moes vorderingsverslae na die distrikskommandant en die Indiensopleidingafdeling te Pretoria hoofkantoor deurstuur. Hierdie rondryery en besoeke en die gee van lesings het gemaak dat ek baie ure na gewone kantoorure my administratiewe dienste as stasiebevelvoerder moes doen. Ek was tuis, maar ook nie tuis nie, want Corrie moes maar met die vyf seuntjies huishou, klee, voed, tugtig, liefhê en les bes ook nog tyd met haar eggenoot verwyl. Ek praat nie eens van die dienste wat sy moes verrig as ‘Spesiale matrone’ toe sy die visentering van vroulike prisoniers moes doen en maaltye vir blanke aangehoudenes moes voorsien nie. Dan was sy ook die gasvrou wanneer besoekende offisiere die polisiestasie kom besoek óf wanneer hulle vir twee dae lank ’n onverwagte inspeksie kom hou het. Daar het ons agtergekom dat die offisiere ’n onversadigbare dors vir tee of koffie gehad het. Soms het sy, getrou aan haar hoflikheid en goeie maniere, sodanige offisiere genooi vir ’n lekker bord boerekos vir middagete. Dankie liefste, jy verdien meer medaljes as wat aan jou man, as polisie-beampte, gedurende sy dienstermyn in die SA Polisiemag, toegeken is. Later meer oor so ’n paar insidente wat sy gehad het met haar visentering van die vroulike gearresteerdes.

Die besoeke aan die polisiestasies en die gee van lesings het vir sowat ’n jaar aangehou, toe kennis ontvang is dat dit maar gestaak kan word, want nou het alle lede in die twee distrikte leesstof vanaf die Indiensopleidingseenheid in Pretoria hoofkantoor, via ons, ontvang sodat hulle met selfstudie verdere kennis kon opdoen. Ek wonder of dit nie ook die gebruik (‘departementele beleid?’) moet wees wat deur senior personeel in die huidige polisiediens onderneem moet word om kennis aan

205

die ‘voetsoldate’ op voetsoolvlak, die konstabels, sersante en adjudant-offisiere, te gee nie? Indiensopleiding, wat die man-tot-man-onderrig metode insluit, is die mees doeltreffendste wyse hoe lede geleer kan word om polisiepligte meer doeltreffend te kan verrig. Dis maar net ’n gedagte van my wat só met die verbygaan gemeld word, want dis dalk “wishful thinking” dat dit in die Nuwe Suid-Afrika toegepas sal word, want dis mos iets wat onder die ‘ou regime’ gedoen was! Ja, en baie van die senior lede is in elk geval kader ontplooides deur die regering, wat self nog geleer moet word!

Afgesien van die werk wat ’n ekstra lading op my skouers was m.b.t. die gee van lesings en die rondryery tussen die polisiestasies, het die kursus te Pretoria ook ander voordele vir ons as egpaar ingehou, naamlik:

Eerstens: Ons het besef dat Corrie matiging moet kry om tjeks te kan uitskryf op my tjekrekening sodat sy geld kon trek as ek aan die einde van die maand nie by die polisiestasie is nie. Daardie jare was daar nie so iets soos bankkaarte, OTM’e, elektroniese oorplasing van geld na ’n bankrekening toe nie, dit was in kontant aan jou by die polisiestasie betaal, dan het jy, nadat jy jou rekeninge betaal het, maar self die restant, as daar nog oor was, gaan bank. Wanneer jy egter vir langer as ’n maand van die stasie af weg sou wees, moet jy betyds aansoek doen dat jy op die plek waar jy jou bevind, ’n skatkisorder in ontvangs kan neem. Ek het dus ’n skatkisorder te Pretoria ontvang en dit per pos aan Corrie gestuur, wat sy gaan bank het. (Ja, ek kon dit nie eens in Pretoria by Volkskas Bank gebank het nie, dit moes by jou tak gebank word of in kontant uitgekeer word.) Ek het ’n getekende tjek vir haar tuis gelaat sodat sy die ‘bedryfskoste van die huishouding’ kon laat aangaan. Omslagtig nè, maar dit was maar die tye waarin ons geleef het.

Tweedens: Ons het besluit dat sy moet begin om motor te bestuur want as ek vir lang tye van die huis af gaan wees, is sy spreekwoordelik in die huis met die vyf seuns vasgekluister. Die Vauxhall Cresta was dan ook die aangewese voertuig en die leermeester die persoon wat saans by die leerling slaap – dis nou ekke. Sy gaan by die verkeersdepartement van Humansdorp aan om haar leerlingbestuurderlisensie te kry. Daardie jare was dit nie nodig om ’n skriftelike eksamen af te lê nie, maar jy was mondelings getoets oor die betekenis van al die padtekens. Die padtekens was op ’n A3-folio, wat teen die een muur van die Verkeershoof se kantoor vasgeheg was. As jy kon sê wat almal beteken en waarvoor dit staan, het jy jou leerlinglisensie gekry. Sy het dit met vlieënde vaandels geslaag. Die leerlinglisensie was vir 3 maande geldig.

Die afrigting het nou in alle erns begin. Dit het gepaard gegaan met teregwysing, aanwysing, lering en soms kwaai woorde asook aanwysings van die kinders wat al vyf op die agterste sitplek gesit het, wat soms net gesê het: “Koppelaar Mamma.” Ek bestuur die motor die eerste paar middae na werk tot by die landingstrook vir ligte vliegtuie wat op die munisipale meentgronde, net buite die dorp, geleë is. Dit is net ’n redelike breë strook wat tussen die bosse oop geskraap en met gras bedek is. Beeste het daarop gewei en soms was daar ook nog swartkinders wat daar gespeel het. Die stuurwiel word nou aan die moeder-des-huise oorhandig. Die kinders word beveel om stil te sit, ek klim by die passasierskant in en nou begin die eerste bestuurles. Gelukkig het dit nie baie lank geduur voordat sy alles wat nodig was om die voertuig vorentoe en agtertoe te laat beweeg, bemeester het nie. Na een week het ek haar op die gruispad na Kromriviermond toe laat bestuur, want die hantering van ’n voertuig op gras en teer verskil hemelsbreed van dit wat jy op ’n gruispad teëkom. Net voor die leerlinglisensie verval, gaan ek saam met haar tot by die munisipaliteit se kantoorkompleks en ek stap terug huis toe. Sy bly agter met Louis Lazare, die munisipale verkeersbeampte, om haar be-stuursvermoë te toets. Na sowat ’n halfuur hoor ek die motor inkom, sy parkeer in die motorhuis en roep opgewonde uit terwyl sy haar lisensie in die lug rondswaai: “Ek het hom, ek het hom!” Sy word gelukgewens deur almal wat eintlik saam met haar die pyne van die bestuurdery deurgemaak het.

Omdat ek die mees senior polisiebeampte op die stasie was, en darem meer ervaring as enige van die polisiebeamptes onder my beheer gehad het, moes ek gereeld vir hulle met advies dien wanneer daar iets buitengewoon op die misdaadterrein plaasgevind het. Hierdie adviserende taak moes ek ook aan die bevelvoerders van die drie ander polisiestasies in die Humansdorp se landdrosdistrik onderneem, wanneer ek daarom genader word. Die distrikskommandant het ook by verskeie geleenthede opdragte aan my gegee om hulp te gaan verleen aan die bevelvoerders van die drie polisiestasies in die Hankey landdrosdistrik. Ek moes ook kriminele- en tugondersoeke teen lede van die mag te Humansdorp en Hankey se landdrosdistrikte ondersoek, en as daar ’n tugverhoor uit die ondersoek sou voortspruit, moes ek as aanklaer by die daaropvolgende tugverhore optree. Omdat sersant Daantjie Strydom die aanklaer in die landdroshof by Humansdorp was, moes ek ook daar as aanklaer in strafsake optree wanneer hy met verlof is. Hierdie verskeidenheid van take het ek baie geniet, want dit het my ervaringsveld van alle polisiewerksaamhede geweldig verbreed en ek het dit handig gebruik in my bevorderingseksamens. Later jare, tydens my taak as dosent by die Indiensopleidingafdeling in die SA Polisiekollege, kon ek my kennis wat ek op vele terreine gehad het, mondelings en skriftelik aan kursusgangers oordra. Later meer hieroor in hierdie boek.

Onder hierdie afdeling gaan ek ook net kortliks meld wie ons vriendekring tydens ons verblyf te Humansdorp was. Wel, omdat Humansdorp só naby Port Elizabeth geleë is, 50 myl (80km), het ons ons vriendekring te Port Elizabeth behou. Ons het elke maand ons maand se kruideniersware en ander inkopies by die verskillende supermarkte gaan doen, en terselfdertyd ook by oupa Scholtzhulle en Corrie se ander familie vir ’n uur of wat gaan kuier. Soms het ons ook na ’n fliek in een van die inryteaters gaan kyk, met die kinders wat almal in die kar gelê en slaap het. Ons het met ons verblyf van meer as 4 jaar te Humansdorp uiteraard nuwe mense ontmoet en van hulle het ook ons vriendekring verbreed. Kom ek meld so ’n paar van hulle:

Lollie Orffer, weduwee van adjudant-offisier Sarel Orffer wat selfmoord gepleeg het. Ek het vroeër, toe ek nog ’n jong konstabel te Redhouse was, onder hom gewerk. Lollie het naby die polisiewoning gebly; die Bosman-familie, Bossie was die gesondheidsinspekteur van die Afdelingsraad; die Paxton’s, sy vrou was een van Corrie se onderwyseresse en Paxton was ’n onderwyser by die Nico Malan Hoërskool te Humansdorp, hy was ook Corrie se klasonderwyser in st. 6 (Graad 8) te Kareedouw. Die Lazare’s, die hoofverkeersbeampte op die dorp, hy was ’n Fransman van geboorte, was te Mauritius gebore en het met ’n vreeslike aksent ons Afrikaanse taal gepraat. (Ja, dis hy wat Corrie getoets het en haar vaardigheid as bestuurder so beoordeel het dat sy vandag nog kan bestuur), Attie en Salomé van Wyk, die sendinglingpaar; George Kemp en sy familie en die Du Plessis’s op die plaas Beeskraal in die distrik. Die Cloetes, hy was die bestuurder van Humansdorp Uitrusters en dan die Vermeulens. Hans was die bestuurder van Suid-Kaap Voogdy wat later by Boland Bank geïnkorporeer is. Ons kom nog so van tyd tot tyd by hulle waar hulle tans te Franskraal woonagtig is. Ons het ook ’n punt daarvan gemaak om by die getroude polisiebeamptes aan huis te gaan koffie en/of tee te drink. Die skakeling het gemaak dat ek ’n goeie werksverhouding met hulle gehad het. Onthou, hierdie skakeling was geen verbroedering van ’n senior polisiebeampte met sy ondergeskiktes nie, maar dit het gemaak dat ons die spreekwoordelike ‘familie’ was wat saam gewerk, gelag, gehuil en mekaar ondersteun het.

Omdat ek, as bevelvoerder van die polisiestasie, ook die maandelikse vergaderings van die boereverenigings moes bywoon, en Corrie vir ’n tyd lank die sekretaris van die Die Vroue Landbou Vereniging, (VLV), die ekwivalent van die Transvaalse Vroue Landbou Unie (VLU), was en die kinders in die Kinderkrans was, het ons die geleentheid gehad om baie gou by die dorp en sy gemeenskap betrek te word. Omdat sy ’n boorling van die Humansdorp distrik was, het sy met mense kon gesels oor die bekendes wat sy in haar kinderjare geleer ken het. Ek het ’n damesskietklub op die dorp gestig en sy het later as lid saam kom skiet en só ook weer ander dames in die dorp leer ken. (Terloops, Salomé van Wyk het tydens ‘n skietoefening by die damesskietklub

se terrein, haarself met ‘n pistool in haar regterkuit geskiet. Sy het nie die bevele van my, as baanbeampte, nagekom nie!) Ek moes a.g.v. van my amp as stasiebevelvoerder op die dorp se padveiligheidskomitee dien, waar ons op daardie terrein weer met ander persone in die dorp kennis gemaak het. Ons het regtig baie gou gevoel ons is welkom in die dorp en die distrik.

Kom ek vertel hoe dit gekom het dat ons en die Vermeulens sulke goeie vriende geword het: Die Vermeulens het pas by die dorp ingetrek vanaf Riversdal. Hans, sy vrou en ander familie het hom Vim genoem, uitgespreek soos in ‘Fim’, moes ’n nuwe tak van die Suid-Kaap Voogdy, ’n distrikbank, op die dorp kom open en bestuur. Die gesin was regte Kapenaars want die hele lot het met ’n Kaapse tongval (aksent) gepraat wat met gerolde erre (bry) gepaard gegaan het. Die huis wat hulle betrek het, was so twee strate van ons af. Ons het hulle nog nie geken nie, maar ons het geweet van hulle.

Jeanette Vermeulen kom een aand, seker só 7uur namiddag (19:00), by die polisiestasie aan en sê dat by hulle huis ingebreek is. Nadat hulle ingetrek het, en al die bokse nog nie uitgepak was nie, het hulle die huis gesluit en met vakansie vertrek. Toe hulle in die donker vanaf vakansie van bykans drie weke tuiskom, vind hulle die huis is ingebreek. Om sake te vererger vind hulle dat die huis oortrek is met vlooie van die lank toestaan en omdat dit nie bewoon was nie. Ek gaan saam met haar terug na hulle huis toe, kyk na die toneel van inbraak, maak aantekeninge en ek vra dat hulle niks moet aanraak in daardie vertrek waar daar van die bokse oopgemaak is nie. Toe vind ek self uit hoe die vlooie by my broekspype inkruip. Ek, Vim, Jeanette en hulle kinders slaan net en krap ons bene van die gejeuk waar die vlooie ons byt, dit lyk kompleet asof almal aan ‘help-my-krap’ velsiekte ly. (As ek daaraan terugdink, jeuk my kop sommer.) Ek sê toe hulle moet die huis toemaak en my na die polisiestasie toe vergesel.

Ek het die hele klomp van hulle, drie dogters en twee seuns, van hulle ’n bietjie ouer en ander van hulle ons vyf seuns se maats, na ons huis toe geneem, waar Corrie hulle ontvang het. Ek kry ons hand vlieëspuit en vlieëgif (Pyagra, wat sedertdien nie meer beskikbaar is nie) wat ek in die spuit gooi en ek en Vim vertrek weer na hulle huis toe. Nou spuit ons daardie huis al langs die vloerlyste, en die vloermatte met hierdie spuit en die Pyagra wat aller vreesliks stink. Ons het die huis eintlik ge-“fumegate”, die huis weer toegesluit en ons het toe maar by ons huis gaan gesels, koffie- en tee gedrink en ietsie geëet. Na ’n ruk het ons besluit die vlooie is seker nou almal vrek, en die Vermeulens vertrek om in hulle stinkende huis te gaan slaap.

Seker so ’n week later, om ongeveer ½ 8 die oggend, kom Jeanette, nog in haar kamerjas en pajamas geklee en hare ongekam, die aanklagkantoor in en is baie opgewonde en sy sê, met ’n emosiebelaaide bry stem: “Hierg bo in die strgaat loop ’n meid met een van my rgokke aan, kom gaan vang haarg, dis sy wat by ons huis ingebrgeek het!”

Ek is saam met een van die konstabels en Jeanette agterna met hulle kombi. Ons kry die kleurlingvrou in Du Plessisstraat loop. Jeanette is eerste by die vrou en gryp haar vas en nou sê sy: “Kyk, die bleddie rgok is te lank virg haarg, kyk sy het sommerg ’n opnaaisel by die rgok se soom ingesit.”

Wel, die saak is verder ondersoek en baie van die gesteelde goed het ons by haar huis gekry. Nou is die vriendskapsbande stewig gesmee – daar het julle nou die storie. O ja, sy het gesê: “Ek is nog in my nagkabaai geklee, want ek moes nog brgekfis virg die kindergs maak en hulle toe by die laergskool gaan aflaai.” Later nog iets oor hoe ons vir hulle ’n poets gebak het toe hulle ’n viswinkel in Napier gehad het.

11.3 Gesin se wedervaringe te Humansdorp

By ’n gesin van sewe waar daar 6 manspersone is en een langhaarengeltjie, dis nou die 2 plus 5, sal daar altyd dinge wees wat ’n blywende indruk by almal van ons gelaat het, somtyds lagwekkend en humoristies en ander kere ’n bron van kommer en angs. Die wedervaringe wat ons as familie te Humansdorp gehad het en wat hier verwoord word, is nie noodwendig in kronologiese (datum) volgorde nie. Soos wat die gebeure uit my “black box” herroep word, só word dit hier neergeskryf.

Die ‘plus-vyf’ van die ‘twee-plus-vyf’, het nou al groter en ouer geword en hulle moes begin skoolgaan. Kobus, Anton, Werner en Christo het hulle skoolloopbaan by die Stulting Laerskool op Humansdorp begin.

Nico is die enigste een van die vyf wat eers in Pretoria ’n aanvang met sy skoolloopbaan gemaak het. Corrie het die seuns werklik netjies geklee vir hulle skool deur skooldrag aan te koop en truie, met die skool se kleure, vir hulle met die breimasjien te brei.

Waar begin ’n mens om te vertel van die kinders se wel en wee te Humansdorp? Kom ons skop sommer af met die jaar 1967 toe die tweeling, Kobus en Anton, skoolvaardig was en by sub A (hedendaags Graad 1) by die Stulting Laerskool ingeskryf is. Hulle was toe die enigste tweeling in hulle klas. Ons het by geleentheid van hulle klasonderwyseres, juffrou Van Rensburg, verneem dat hulle aanvanklik langs mekaar in een bank gesit het en sy hulle later noodgedwonge uitmekaar moes skuif, want as sy Kobus aangespreek het, het Anton geantwoord en andersom. Die verskuiwery was toe ook nie die oplossing nie, want hulle het by geleentheid haar weer getoets deur sitplekke om te ruil. Sy het aan ons vertel dat sy toe baie pertinent na klein verskille in hulle gesigte opgelet het om hulle van mekaar te kon onderskei. Dit was toe die einde van hulle “musical chairs” se spelery. Sulke klein blikskotteltjies! Ek wonder na wie aard hulle só?

L na R : Christo, Anton, Kobus en Werner. Kyk hoe netjies die vier mannetjies daar uitsien, met die Stulting Laerskool se kleredrag.(Die truitjies ook deur Corrie gebrei). Die foto is geneem toe Christo begin skoolgaan het. Nico toe nog by die huis. (Foto: Ben)

Al vier die groteres, dis nou sonder Nico wat toe net so oor twee jaar oud was, het gereeld by die Vermeulentjies gaan speel. Dit het ook nie lank geneem nie, óf hulle speel sokker in die vlei onder in die dorp, naby die kleurling- en swartwoonbuurte, saam met die kroes koppies. Dit het ook nie by speel alleen gebly nie, maar hulle het soms redelik ernstig handgemeen geraak. Gelukkig hoor ons eers later van alles wat hulle aangevang het. Só kom Christo een middag so kruppel-kruppel by die huis aan met sy voet wat bloei. Hy vertel vir sy Ma die mooi verhaal van die rassistiese-aanval wat daar naby die vlei gebeur het. Toe hy naby die vlei verbygestap het, het ’n klonkie (’n swart- seun)

hom, sonder rede, met ’n stuk glas ‘onder’ sy voetsool gegooi wat die sny veroorsaak het en wat nou so erg bloei. Corrie was nooit ’n verpleegster nie, maar die Liewe Vader seën mos moeders met allerhande gawes. Hulle kan om hoeke sien en met telepatie gedagtes lees, óf net in ’n kind se oë kyk en die waarheid óf leuen daarin lees. Sy maak die wond skoon en verbind dit, maar in die proses van eerstehulp wat sy toepas, het sy darem, met haar polisieman eggenoot se ondervragingstegniek, agter die waarheid gekom. Die waarheid is dat hy weer, soos gewoonlik, saam met sy boeties en die Vermeulens in die vlei gespeel, en in ’n bottelstuk getrap het. Saak opgelos, 10 uit 10 vir ma en 0 uit 10 vir die seun!

Kobus en Anton het maar kort-kort mangelontsteking gekry, dit is gedokter en dan val Werner en Christo nie lank daarna ook in met erge koors en seerkeel. Die distriksgeneesheer stel voor dat die tweeling se mangels uitgehaal word in die Junieskoolvakansie. Albei is saam in die hospitaal op die dorp en hulle mangels en neuskeëlmangels (“adenoids”) word verwyder. Dit was die einde van hulle mangelontsteking. Die distriksgeneesheer sê toe dat ons met Werner en Christo se operasie moet wag totdat Werner eers op skool is en dan kan hy en Christo s’n ook saam gedurende ’n skoolvakansie uitgehaal word. Dit het toe ook só gebeur – seker so gedurende 1968, want Werner het daardie jaar ook sy skoolloopbaan by Stulting Laerskool begin. Nico s’n was in ’n latere stadium uitgehaal.

Christo het, as kleuter, effe aankapknieë (“knock knees”) en platvoete gehad. Toe hy so 3-4jr oud was, het ’n ortopeut in die Baai gesê dat hy opgeboude steweltjies moet dra. Hy het ook aanbeveel dat ons ’n driewiel moet koop wat effe te klein vir hom is, sodat hy eintlik sy knieë uitwaarts moet hou terwyl hy die trapwerk op die voorwiel se trap, met die buitekante van sy voete moet doen. Die steweltjies was aan die binnekant met ’n ondersteunende binnesool toegerus en aan die buitekant van beide die stewels se loopvlak, opgebou. Dit was gelukkig deur die SA Polisie betaal, en só ook die versoling en heropbou as die opgeboude sool begin afloop het. Pretoria hoofkantoor het nog nie die een aansoek goedgekeur nie, of die tweede aansoek vir opbou is op hulle tafel. Hy was ’n regte roes op die stewels, maar hy het dit getrou gedra tot net voor hy in 1969 skool toe is. Die dra van die steweltjies het darem die gewenste uitwerking gehad, want sy knieë het darem nie meer ‘aangekap’ nie.

Een voordeel was dat hy baie jonk moes leer om die stewels aan die regte voet aan te trek en die veters self te strik. Hy het sy steweltjies aan sy voete aangetrek, die veters in elke steweltjie ingeryg en dit vas getrek, maar hy kon nog nie die veters strik nie. Wanneer ek of sy ma op ons besigste is, kom hy só gebukkend en kopomlaag, met sulke kort treetjies aangestap, want hy het in elke hand ’n stewel se veter vasgehou en kon dus nie regop loop nie, en dan het hy gevra dat ons sy steweltjies se veters moet strik. Hy het nogal komieklik gelyk as hy so aangeskuifel kom. Hy het vooroor geloop soos “The Hunchback of Notre Dame” wat met sy boggelrug die kinders banggemaak het (hy was darem nie so lelik soos ou boggelrug nie). Ek het op die internet die omslag van die boek “The Hunchback of Notre Dame” gesien en dit goed gedink om ’n afdruk daarvan in te skandeer. Dit kan gesien word hoe die ‘ou boggelrug’ vooroor loop. Volgens die boek se omslag is daar ook ’n DVD beskikbaar. Met baie geduld het ons binne net so ’n dag of twee hom stap vir stap gewys hoe om die veters te knoop. Hy het dit baie gou baasgeraak. Julle vra na ’n driewiel wat die spesialis aanbeveel het ons moet koop? Ja, ons het toe ’n driewiel vir hom gekoop. ’n Spik-splinternuwe een. Christo het dit gereeld gery, maar die ander drie, Kobus, Anton en Werner het gereeld ook allerhande truuks met die driewiel uitgehaal – soms drie op die driewiel en die vierde een trek hulle met ’n tou wat aan die handvatsels vasgemaak is. Ons moes die driewiel ook by ’n paar geleenthede laat sweis waar die asse of handvatsels die rowwe behandeling van die seuns nie kon deurstaan nie. Die fabrikante kon nog nie ’n driewiel maak wat ‘Du Plessistjies-bestand’ is nie! Christo kon sy

steweltjies eenkant toe skuif toe hy begin skoolgaan het en die driewiel het, sonder enige seremonie,’n rusplek op die munisipale vullisgat gevind.

By geleentheid het Corrie baie hempsknopies moes aanwerk, want seuns gryp mekaar mos aan die hemde en knope word in die proses afgeruk. Corrie sê vir Werner: “Ek is moeg vir al die knope se aanwerkery. Jy moet self jou hemp se knoop aanwerk.”

Kyk hoe krom loop die ou Boggelrug. (Foto: Google)

Sy steek gare in ’n naald en wys hom met die eerste steek hoe hy die knoop moet aanwerk. Sy laat hom alleen en hy kom wys haar die wonderlike nuwe manier hoe ’n knoop nou eintlik aangewerk moet word. Dit was deur die een gaatjie in die knoop, deur die materiaal, weer terug deur die materiaal en in plaas van weer deur die knoop se een gaatjie van onder af, nou om die buitekant van die knoop en weer deur ’n gaatjie terug deur die materiaal. Dit het te snaaks gelyk.

(Prentjie : Clip Art, ‘n bietjie aangepas deur Ben)

Corrie het te lekker gelag, en hom toe gewys hoe die knoop aangewerk moet word – ek hoop hy werk nou self sy hempsknope aan! Terloops, daarna het al die seuns maar te goed besef dat as hulle hempsknope af is, moet hulle dit self aanwerk. Mooi só Ma ! Weer 10 uit 10 vir jou.Vele hande maak mos ligte werk! Elke bietjies help.

Christo het nogal redelik gesukkel om ’n ‘r’ te sê. Hy was al seker so bykans vyf jaar oud, voordat hy dit kon bemeester, maar in die voorafgaande probeer tyd, het die woorde wat met ’n ‘r’ begin vir baie glimlagge by ons en van ons familie gesorg, want in die plek van ’n ‘r’ het hy ’n ‘d’ gesê. Hierdie onvermoë om ’n ‘r’ te sê, het Andries de Ridder, die eerste man van Corrie se suster Anna, die platjie wat hy was, altyd aangespoor om woorde wat met ’n ‘r’ begin uit te dink en vir Christo te vra om dit agter hom aan te sê. Die volgende woorde was sy geliefkoosde woorde om vir Christo te sê:

‘Die rooi rose is in die tuin.’ Die resultaat was dan : ‘Die dooi dose is in die tuin.’ Ons het seker maar fouteer om dan vir die napratery te lag.

Nico het as kleuter ook baie goed gepraat maar hy kon ook nie ’n ‘r’ uitspreek nie, seker by Christo aangeleer, en om die moeilikheidsgraad van die aanleer van ’n taal nog verder te voer, het hy gesukkel om ’n ‘L’(el) te sê. Ek het toe vir beide van hulle geleer om die ‘r’-klank te bry deur ‘ggg’ te sê. Beide van hulle het toe met die nuut aangeleerde ‘ggg-klank’ die ‘r’-klank baas geraak. Christo het sy bry afgeleer, maar Nico het dit bly behou. Wel Nico se probleem met die ‘el’ was, as ’n woord met ’n ‘el’ begin, het ook vir ons laat glimlag. Ons spoeltoilet op Humansdorp was op ’n gedeelte van die agterstoep ingebou – heel waarskynlik ’n latere toevoeging wat nie by die oorspronklike plan ingeteken was nie. Ons het vir die kinders geleer om “lave”, die afkorting van die Engelse woord “lavatory” (uitgespreek levvie) te sê. Wanneer Nico toilet toe wou gaan, het hy gepraat van ’n ‘valley’. Ons begin hom te leer om die ‘el’ te sê. Ma sê vir hom: “Nico, dis nie ’n ‘valley’ nie, maar ’n ‘levvie’.” Nou antwoord hy: “Issie Ma , dis nie ‘valley’ nie, dis ’n ‘valley’”. Wie kan dan nou jou lagspiere inhou? Hy het algaande begin om ‘levvie’ toe te gaan en nie meer na die ‘valley’ toe nie! Terloops, toe Werner so lekker kon begin praat daar in Knapdaar se wêreld, kon hy weer nie ’n ‘k’ sê om sy lewe te red nie. Hy het knaend ’n ‘t’ gesê as ’n woord met ’n ‘k’ begin. Daardie jare het almal mos maar van swartlede van ’n gemeenskap as ‘kxffxrs’ gepraat en dit was glad nie rassisties bedoel nie, want dit was die algemene aanspreekvorm – selfs die Engelse het eeue gelede al van ‘caffirs’ gepraat. Ewenwel, ons ry die dag Burgersdorp toe en daar ry toe ’n swartman met ’n fiets op die gruispad en hy sê toe so ewe: “Daar ry die taffer op die fiets!”

Ja, dis nou maar van kinders grootmaak en om hulle te leer praat. Dis maar een van die dinge wat hulle reeds as kleuters as mens moet baasraak. Die ironie van dit is dat jy die kinders leer loop, jy leer hulle praat en leer om na jou te luister, en sodra hulle dit kan doen dan sê jy weer: “Sit stil, bly stil, het jy nie ore nie?!” Wat ’n paradoks. Ek glo dat die laggery of glimlagge wat die verkeerde uitspreek van woorde veroorsaak het, nie ’n blywende geestelike of minderwaardigheidskompleks by hulle gelaat het nie. Veral as ek hulle, noudat hulle ‘ou manne’ is, hoor hoe vol kwinkslae hulle is en soms aan woorddiarree ly. (Ma sê, seker by Pa aangesteek!) Só piep die oue, só piep die jonge!

Wanneer kinders so kort opmekaar volg, leer die jongeres by die ouer kinders die moedertaal baie gou aan, en wanneer hulle skool toe gaan, is hulle woordeskat en kennis van die inhoud van die sub A en sub B (graad 1 en 2) se leesboekies nie vir hulle vreemd nie. Hulle taalvaardigheid was dan ietwat verder gevorder as hulle maatjies s’n wat saam met hulle, die skooljaar begin. Christo kon byvoorbeeld baie gou die registrasieletters en -nommers van motorvoertuie identifiseer en lees en ook sê van watter dorp die voertuie kom. Dit was ’n speletjie wat ons met Kobus, Anton en Werner gespeel het as ons met ons motor iewers heen gery het. Christo het dié speletjie baie gou gesnap en registrasieletters gememoriseer. Hy het soms baie gouer die korrekte antwoorde as die ouer boeties gegee wanneer ons die speletjie speel.

Nico weer, het ook daagliks gehoor hoe die tweeling, later Werner en nog later Christo, die Sub Aleesboekies se leeslesse vir ma kom voorlees. Dit was hulle huiswerk. Een aand kom ons so ’n bietjie laat terug van Port Elizabeth, en die vyf stuks het almal op die agtersitplek omgedop en geslaap. Ons kom tuis, hulle word wakker gemaak en nou word daar vinnig gesiggies gewas, (die voetjies sal die engeltjies in die nag kom was) tande geborsel, nagklere aangetrek, en laastens kom hulle een-een hulle gebedjies opsê. Nico se siel slaap nog, want hy kom soos ’n slaapwandelaar aangestap met oë styf toe. Sy gebedjie, die een wat al die kinders as hulle eerste gebedjie moes leer, klink só: “Ek is ’n kindjie klein, Jesus maak my hartjie rein, Amen.” Hy kom staan voor my, vou sy handjies saam en nou begin hy: “Ek is ’n…” nou vergeet hy die woorde, want hy begin al staande dieper slaap.

Ek help hom en sê voor: “Ek is ’n kindjie klein…” Hy herhaal “Ek is ’n kindjie klein…” maar steek weer vas, ek praat hard en raps hom met my hand op sy been, en sê: “Toe nou, gaan aan.” Hy skrik, maak sy ogies oop, maak dit weer toe en begin: “My naam is Koeloe…

(Prentjie : Clip Art).

Ek en Corrie lag saggies, want nou is sy slapende brein besig om die sub A se leesboekie se eerste les van ‘My naam is Koeloe, my naam is Langoor, ens’. die gebedjie se woordvolgorde binne te dring. Ek hou hom vas en gee hom ’n nagsoen en hy loop waggel-waggel bed toe. Lekker slaap Koeloe!

Op Humansdorp het daar later ’n tweede verkeersbeampte diens aanvaar wat gereeld met die amptelike motorfiets na die landdroshof toe gekom het om getuienis te kom lewer teen persone wat gedagvaar is om voor die hof te verskyn weens ’n verkeersoortreding. As hy ’n boetekaartjie uitgeskryf het en die oortreders, het versuim om die boete te kom betaal, dan moet hy in die hof getuienis kom lewer. Hy het altyd die motorfiets by die polisiestasie se motorhek se ingang, langs die heining wat ons woonhuis se erf van die polisiestasie geskei het, parkeer. Dit het baie na-aan die voetgangerhekkie wat in die heining was wat ’n deurloop vanaf ons huis na die polisiestasie verseker het, gestaan, met net genoeg ruimte gelaat dat die patrolliewaens deur die motorhek kon inry.

Die verkeersbeampte, Meyer, bekend as “Five bob”, was een dag in die landdroshof besig om getuienis in ’n saak te lewer waar Daantjie Strydom in die saak die aanklaer was. Christo en Nico het glo, sonder ma Corrie se medewete, by die hekkie uitgegaan en by die motorfiets gestaan en dit van alle kante af bekyk. Hier gevoel en daar gedraai, en o gaats! daar gaan die sirene af – tootwa, too-twa, too-twa, en hou aan met sy ge-too-twa lawaai. Ma skrik en kyk deur die kombuisvenster, sien die motorfiets staan, maar daar is niemand by die motorfiets nie. Nou hoor sy Christo, met ’n beangste stemmetjie om hulp roep vanaf die sitkamer se buitedeur, aan die voorkant van die huis. Sy maak vir hom oop en Nico is by hom, hulle val behoorlik die sitkamer in, hol direk kamer toe, hul oë is soos pierings en gesigte spierwit, asof hulle ’n spook gesien het. Wel, ou “Five bob” kom vanaf die landdroskantoor en kom maak die sirene se bek stil. Hy moes sy getuienislewering onderbreek, die vervolging se saak in die hof is vir ’n paar minute gestaak en eers weer hervat nadat hy die motorfiets se bek stil gemaak het. Die kinders het niks oorgekom nie –maar het darem ’n goeie skrobbering van my gekry – niks op die boude nie! Familie, die personeel in die landdroskantoor, die polisiemanne in die aanklagkantoor en ons vriende in die dorp, het gelag as daar weer oor hierdie insident gepraat word. En ou “Five Bob?” – hy moes ook maar glimlag. Daar was geen vervolging nie. Ek sal nou maar streng by die Gemenereg beginsel hou dat kinders onder 7 jaar nie toerekeningsvatbaar is vir gedrag wat andersins misdadig sou wees nie! Kyk hoe beskerm pa hulle nou – issie, die Gemenereg beskerm hulle!

Daar was heelwat geleenthede waar die vyf seuns op ’n kermisbed op die mat in die sitkamer moes slaap. Wanneer daar van die familie kom kuier het, moes hulle die twee ander slaapkamers in ons

huis ontruim sodat die gaste met hule kinders die twee slaapkamers kan gebruik. Ons seuns was maarte opgewonde om op die vloer te slaap en het ditbaie geniet. Daar was darem ekstra komberse op die vloer oopgegooi om die hardheid van die vloer so ’n bietjie te demp.

Hierdie foto wys hoe lê hulle in gelid agter mekaar in ’n krismisbed. Lepellê – “Koppe links, nee, kom ons maak dit koppe regs, ogies toe, slaap voort. Die feetjies sal jul voete was!” (Foto: Ben)

Nou so ’n paar gedagtes oor hoe ek en Corrie tot in ons siel bekommerd was toe Nico ’n soort stuipe-aanval gekry het. Nico was van kleins af maar gepla met erge slym, dokters het eintlik gesê dit kan nie sinusitis wees nie, want klein kindertjies se sinusse is nog nie ontwikkel nie. Ons glo nog dat dit maar sinusitis was wat hom van vroeg af gepla het deurdat hy ’n voortdurende ‘post nasale drup’ gehad het wat slym op sy bors laat saampak het. Hy was seker so vier jaar oud, toe hy die aanval gehad het. Hy het die middag geslaap, wakker geword met ’n geroggel van slym, hy het badkamer toe geloop en oor die bad se rand geleun, gebraak om van die slym ontslae te raak, en toe begin hy stuiptrekkings kry. Hy raak blou in die gesig en sy knieë gee onder hom pad. Corrie help hom, en stuur een van die kinders om dadelik vir my by die polisiestasie te kom roep. Gelukkig was ek daar, was net van voorneme om op ’n misdaadvoorkomingsoperasie te vertrek.

Ek hardloop huis toe, gryp vir Nico, begin mond-tot-mond asemhaling toepas, maar die stuipe bly aanhou en dit klink asof hy nie asem kry nie. Ek vra een van die polisiemanne om met die patrolliewa na die huis van dr. Turner, ons huisdokter en distriksgeneesheer wat net sowat twee blokke van ons af bly, te jaag, terwyl ek Nico op my skoot hou. Dr. Turner is gelukkig tuis, kyk dadelik na Nico, gee hom ’n inspuiting en sê ons moet dadelik by die hospitaal uitkom, hy skakel solank vir hulle om hom te behandel. Ons kom by die hospitaal aan en hulle wag ons by die ingang in. ’n Verpleegsuster vat Nico by my, steeds in spasma-rukkings, en verdwyn by die ongevalleafdeling in terwyl ek sy besonderhede by die toonbank moet invul. Ek wag nou in angs en spanning en so ook Corrie tuis by die vier ander kinders. Na ’n ruk kom die suster na my toe en sê sy rukkings het opgehou en hy is nou rustig. Ek gaan na hom toe. Hy lê met groot oë na my en kyk. Hy glimlag. Dis soos’n rots wat van hart en verstand afgewerp word. Hy bly toe die dag en ook die nag in die hospitaal. Ons gesin besoek hom die aand, en hy is eintlik heel inskiklik daar en heel ontspanne. Dr. Turner sê vir ons, die volgende môre toe hy ontslaan word, dat hy sal ’n afspraak vir hom by ’n kinderarts in die Baai maak. Ekself het daardie môre ’n jagafspraak gehad. Ek was aanvanklik huiwerig om vir sy ma en haar kinders alleen tuis te laat, wetende dat Nico ons die vorige dag só erg laat skrik het, maar sy het ingestem dat ek maar kan gaan, en dat sy sal regkom, want sy glo niks sal gebeur nie. Dankie, Vroulief, dat jy ook hier weer eens vir my gewys het hoe sterk jou geloof is. Daar het toe niks verder tuis gebeur nie, maar ek kon huis toe kom met ’n bosbokram wat ek geskiet het.

Die kinderarts in die Baai word besoek en hy kon ons nie ’n direkte oorsaak vir Nico se stuiptrekkings gee nie, hy was van oordeel dat dit dalk die begin van ’n epileptiese aanval was. Hy skryf toe sulke klein wit pilletjies voor om, as dit wel ’n epileptiese aanval was, dit in die toekoms ’n aanval sal

onderdruk, en sou dit nie een wees nie, sou dit nie vir hom kwaad doen nie. Hy moes gereeld gaan vir opvolgkonsultasies, en net voordat hy skool toe is, toe word die gebruik van die onderdrukkende pilletjies algaande verminder, sodat dit gestaak is toe hy in 1971 skool toe is. Nooit weer het hy enige soortgelyke aanvalle gehad nie. As ouerpaar is ons oortuig dat hy nog slym wou uitbring in die bad en dit toe nie wou uitkom nie, dit sy asemhaling geaffekteer het en dat hy eintlik aan die slym gewurg het. Ons het hom daarna baie fyn dopgehou en as hy snags begin hoes van die slym, dan het ons hom wakker gemaak en hom die slym laat uitbring. Hoe, vra julle? Op die ou beproefde manier: “Steek jou vinger in jou keel.” Dit het altyd gehelp sodat hy die slym kon uitbring en die res van die nag kon rustig slaap.

Weer was daar ’n insident wat ons tot kommer gestrek het waar Nico die bron van daardie kommer was. Dit het só gebeur:

Nadat hy die pilletjies begin drink het, het ons vir hom gesê hy moet nie uit die erf en in die dorp gaan rondloop nie. Ons moet altyd weet waar hy is, want as hy ‘n aanval sou kry, weet die mense nie wie hy is en wat hulle moet doen nie. Hy bly nou getrou saam met Christo in die erf speel. Die ander drie is in die skool. Toe Christo begin skool gaan, het Nico gereeld alleen met sy speelgoed in die erf gespeel. Hierdie saligheid het nie lank geduur nie, want toe kom die groot skrik vir ons.

Eendag gaan Corrie na buite en sien dat Nico nie in die erf met sy speelgoed speel nie. Sy begin soek – in die huis en oral in die hoekies wat in die erf is waar hy kan skuil. Sy kom by die polisie-erf in en kyk of hy nie dalk met die polisiemanne in die aanklagkantoor sit en gesels nie. Hy is nie daar nie. Corrie kom my kantoor binne sê dat sy vir Nico soek. Hy is net weg! Ons loop straat-op en straat-af, maar hy is nêrens te vinde nie. Die hele polisiemag van Humansdorp word nou opgekommandeer om na hom te help soek. Ons bekommer ons dood, want dalk lê hy iewers waar hy ‘n aanval gekry het en ons weet nie waar dit is nie. Ekself en al my polisiemanne wat aan diens is ry nou met die polisievoertuie en ons eie voertuie straat-op en straat-af. Die hele dorp is nou in rep en roer want die stasiebevelvoerder se een seuntjie is weg.

Kleurlingkonstabel Groep kom met die een patrolliewa by die polisiestasie ingery, en daar hoor hy dat ons na Nico soek. Nou is hy ook met die patrolliewa die strate in. Konstabel Groep kry vir Nico in Kempstraat, sowat twee straatblokke van die polisiestasie af. Hy is duidelik op pad huis toe. Groep sê vir hom: “Jou pa en jou ma en al ons polisiemanne soek jou. Klim in dat ek jou huis toe kan neem.”

Dis vrek, hy weier botweg en begin huis toe hardloop. Hy kom uit asem by die huis aan en almal is verlig dat die klein karnallie veilig is. Later vertel hy ons dat hy nie in die patrolliewa wou inklim nie, want hy was bang Groep sluit hom in ‘n sel op. Toe ons hom vra: “Waar was jy?”

Antwoord hy: “Ek het by ‘n seuntjie, Gysbert, gaan speel.”

Dit was Gysbert van den Berg wat laer af in Kempstraat gebly het. Hoekom hy soontoe gegaan het, weet die Vader alleen. Hy word berispe om nie weer die erf te verlaat nie, want ons weet nie wat met hom kan gebeur as hy nie onder oë is nie. Ons skakel die Van den Bergs en hulle is inskiklik dat Nico enige tyd daar by Gysbert kan kom speel. Nico word nou weer die leviete voorgelees om, as hy by Gysbert wil gaan speel, moet hy eers vir sy ma vra of hy kan. Daarna het hy ons nie weer só laat skrik nie, want as hy nie tuis is nie, weet ons darem dat hy by sy maatjie gaan speel het.

Gepraat van opsluitery, Corrie was eendag só kwaad vir al vyf van hulle, dat sy haar lot by my kom bekla het. Ek roep al vyf bymekaar en ek sê: “Kom ek gaan wys julle hoe die selle lyk.”

Die kinders is onbewus dat hulle ma haar lot by my kom kla het en hulle loop ewe gedwee en niks vermoedend saam met my. Ek gaan haal die selsleutels en nou vra hulle kort-kort ‘n paar vrae. Ek beantwoord dit opreg en eerlik. Ek sluit die blanke sel, wat op daardie oomblik geen prisoniere

gehuisves het nie, oop en stap in die oefenlokaal voor die sel in. Hulle volg gedwee. Ek wys hulle die afskorting waar die prisoniere daagliks moet stort, en sluit toe die sel oop en sê: “Wil julle nie gaan kyk wat alles in die sel is nie?”

Ek wys hulle die matras, die selmat, die blikbeker, die emmer met water, die toilet en die opgevoude komberse op die matras. Hulle staan so ietwat huiwerig en kyk oor mekaar se koppe hoe die sel van binne lyk. Ek gaan in en sê: “Kom in dat julle mooi kan sien hoe alles lyk.” Hulle kom saam met my ingestap, maar toe die vyfde een by my verby is, tree ek saggies agteruit en trek die seldeur toe.

O, aarde nou skree al vyf blou moord. Ek maak die seldeur oop en hulle peul stamp-stamp en oor mekaar by die sel uit. Ek sê toe: “Sien julle nou hoe lelik lyk die sel van binne? As julle nie vir Mamma wil luister nie, dan sal ons dalk daaraan dink om julle daarin te kom toesluit.”

Nou beloof hulle hart en siel met hulle mond dat hulle nie weer stout sal wees nie, en sal luister as Mamma met hulle praat. Soos dit maar met seuntjies gaan, het al die beloftes net van agtuur tot brekfis gehou. Gelukkig was dit darem nooit nodig dat ons hulle in ‘n sel moes opsluit nie.

Ja lesers, julle sal dalk vir my sê dat dit darem nie die regte benadering is van hoe om kinders te tug as hulle stout is nie. Wel ek dink die Sielkunde, die bietjie wat ek daarvan geleer het, verwys ook na hierdie metode as aggressiewe tugtiging. Gelukkig dink ek dat hulle met hierdie metode baat gevind het, want vier van die vyf het by die polisie aangesluit. Is dit dalk om nie in ‘n sel toegesluit te word nie? Ha, ha. Werner het ook daarby baat gevind, want hy sê dat daardie prentjie vir altyd in sy brein ingraveer is.

Julle dink seker dat dit net Christo en Nico is wat so onmoontlik was, nee, my liewe vriende die ander drie het hulle energie op die skool se speelgronde uitgeleef. Werner het darem nog vir twee insidente gesorg wat lesenswaardig behoort te wees:

Hy het glad nie gehou van gekookte aartappels nie. In ons huishouding was daar nie so ’n ding dat jy jou voorkeure óf afkeure vir kossoorte in jou bord, kan kwytraak nie. Dit was swaar genoeg vir ‘n moeder-des-huise om haar kinders te versorg, waaronder die voorsiening van voedsel ook een van die take is. Klein breintjies kan dus nie sê wat hulle wil hê en wat nie. So sit hy eendag met nog net sy aartappel in sy bord, hy het maar altyd baie stadig geëet, en een van ons huisreëls was dat niemand die tafel mag verlaat as die kos in hulle borde nie als op is nie. Hy het altyd sy aartappel(s) gelos vir laaste. Daardie dag kry hulle ook ‘n halwe skorsie by as ‘n ekstra groente. Hy het sy skorsie mooi uitgehol en die inhoud verorber en toe begin om op te staan. Toe sy ma sien sy bord is leeg toe sy afdek, sien sy dat die aartappel mooi onder die leë skorsiedop versteek is. Hy het hierdie dag daarmee weggekom, maar slim sal nog sy baas vang! By geleentheid ontdek Corrie, toe sy sommer so in die tuin rond stap om na die groentetuin te kyk, dat daar iets onder die “privet” heining, tussen ons huis en die polisiestasie lê. Wat dink julle het sy ondek? Daar lê ‘n paar ou gekookte aartappels onder die heining ingeskop. Weer het sy die liewe Werner se wegsteekplek ontdek. Sy het later, op ‘n subtiele wyse, weer haar verworwe ondervragingstegniek gebruik en gehoor dat hy nou eerste sy aartappel uit die bord gryp, en as ons nie vir hom kyk nie, dit in sy broeksak stop om dit later veilig in sy wegsteekplek gaan besorg. Weer 10 uit 10 vir ma en 0 uit 10 vir ons seun.

Diegene wat hierdie boek lees en vir Werner ken, kan nie besef dat hy so ’n swak smaak vir aartappels in sy jongetjiesdae gehad het nie, veral as hy nou so smaaklik aan harde- of slaptjips kan weglê nie. Hy sal hom darem nie daaraan ooreet nie. Hy steek dit beslis nog weg, maar nie onder heinings en skorsiedoppe nie, maar in sy maag onder sy hemp!

Kom ek sluit hierdie gedeelte af met Christo se bakkie klimmery. “ ‘n Wat?, vra julle. ‘n Bak-kie klimmery?!” Laat ek vertel:

Een van die plaasboere, ek dink sy van was Scheepers van die plaas Fairview, het die kontrak gekry om die polisiestasie van stukkies gekloofde hout te voorsien. Elke maand het hy sowat 1000 stukke hout met sy mankoliekige halfton Nissan bakkie (daardie jare was daardie bakkies nog onder die Datsun naam gemonteer), na die polisiestasie gebring. Ons het die brandhout benodig om daagliks, die hele dag deur, drie etes vir die prisoniere in aanhouding te maak. Die gevangenes wat hulle tronkstraf by ons polisieselle uitgedien het, was die papmakers. Hulle het die houtstoof regdeur die dag gebly stook en dit eers nadat die aandete voorsien is, stadigaan laat uitbrand. Hierdie bakkie met die opgestapelde gekloofde houtstukke het gewoonlik voor ons huis se motoringanghek, kom parkeer. Terwyl die eienaar, meneer Scheepers, by die aanklagkantoor in is om te hoor of hy die hout maar kan aflaai, het Christo by geleentheid op die bakkie met hout geklim. Hy maak toe ‘n speletjie daarvan deur kort-kort aan die een kant op die gekloofde hout op te klim, en weer aan die ander kant af te klim. Hy herhaal hierdie op- en afklimmery tot vervelens toe. Ons bediende, Martha, sien dat Christo bo-op die bakkie, op die hout is, en sê toe vir hom : “Jy moet afklim van die bakkie af!”

Hy antwoord toe ewe kordaat: “My pa is ‘n polisieman en ek kan maak wat ek wil.”

Ek het hom, nadat die klikbek Martha vir sy ma gaan vertel het van sy gespelery op die bakkie met hout, streng aangespreek. Ek het hom mooi laat verstaan dat hy nie kan maak wat hy wil omdat sy pa ‘n polisieman is nie.

Ek het altyd die volgende gesegde gehad: “My kinders is almal engeltjies”, ek bly dan stil en sluit af met, “sonder vlerke, maar soms met sterte soos die duiwel.” Die sterte kon ook as stêre gelees word, want op daardie plek op hulle lywe, het ‘Ben brand’, die platriem, soms ook gepraat!

11.4 Interessante gebeure en ondersoeke van misdaad te Humansdorp

Ons verblyf op Humansdorp het vanaf 8 Augustus 1966 tot einde Desember 1970 gestrek, en ek moes, soos reeds vermeld, ook uithelp met die ondersoek wanneer daar ernstige misdade gepleeg is, en somtyds het ek die ondersoek van ernstige misdade waargeneem.

Kom ek beskryf wat ek ervaar en gedoen het wat vir julle interessante leesstof behoort te wees: Die polisiewyk het onder andere heelwat vakansieoorde gehad om te polisieer, bv. Kromriviermond, Goedgeloof, Sea Vista, Cape St. Francis, Oesterbaai, Eersterivier en Oubosstrand, waar die premier van die Republiek, adv. John (Balthazar Johannes) Vorster, sy vakansiehuis gehad het. Sedertdien het daar ander strandoorde soos paddastoele opgeskiet. Ek laat dit nou maar daar. Hierdie oorde en strande was gedurende die tradisionele vakansietye ’n groot bron van probleme m.b.t. misdaad en verdrinkings en buite seisoentye was dit ook die broeiplek van misdadigers wat by leegstaande vakansiehuise ingebreek en eiendom gesteel en/of beskadig het. Gedurende Desembervakansies het daar vier blankekonstabels, vanaf Uitenhage, ons distrikshoofkwartier, op van die besigste strande diens gedoen en hulle het dan ook daar ’n 24-uur diens gelewer.

Sea Vista was die oorspronklike naam van ’n oord wat tussen Humansdorp en Cape St. Francis deur die suikermagnaat, Leighton Hullet, ontwikkel is. Nou is daar ’n marina ontwikkel en dit staan vandag bekend as Marina Martinique – speelplek van die rykes. (Foto: Google).

Daardie laaities was in hulle sewende hemel want hulle het polisiewerk in baaiklere gedoen en was so bruin gebrand soos brood wat aangebrand het. Ons aanklagkantoor was per radio verwittig om die verklarings of die gearresteerde persone te kom haal en die sake word dan by ons geregistreer en verder ondersoek. Ek moes hulle periodiek met verrassingsbesoeke gaan verras om vas te stel of hulle hulle werk doen óf om hulle te gaan help indien hulle probleme met van die vakansiegangers ondervind. Hulle het ’n Voorvalleboek bygehou waarin hulle aan diens en van diens moes boek en alle voorvalle wat by hulle gerapporteer word, moes aanteken. Ek maak ietwat later melding hoe Sea Vista amper-amper afgebrand het. Die strandoorde se eienaars het hulle gehuisves en hulle moes verklarings van klaers afneem en ook arrestasies uitvoer, indien nodig.

Die polisiestasie se personeel het bestaan uit sersant Daantjie Strydom, die aanklaer, konstabels Botha, Van Huyssteen, en Wilhelm Schreuder wat in die aanklagkantoor gewerk het. Die ondersoekbeamptes was konstabels Sandy van der Sandt wat die ondersoek van sake in die distrik by die plase behartig het en Johny Richardson, (uitgespreek Jou-nie) die sake wat in die dorp by die aanklagkantoor aangemeld was. Daar was sowat ses swartkonstabels en een kleurlingkonstabel.

Humansdorp polisiestasie was ‘n ‘A’-klas polisiestasie. Ons landdrossetel was in die dorp en die hofgebou en administratiewe kantore was regoor die polisiestasie geleë. Ons het elke dag kriminele verhore gehad wat verhoor moes word, want Jeffreysbaai was slegs ’n ‘C’-klas polisiestasie wat nie sy eie hofverrigting kon hanteer nie en hulle sake is dan ook by ons verhoor. Kareedouw en Stormsrivier was ‘B’-klas polisiestasies. Die landdros van Humansdorp het elke tweede week die hofsake aldaar gaan verhoor. Hierdie verhore het dan in ‘n kantoor by die polisiestasie gehou en die polisiestasie het dan as ‘n periodieke hofsetel bekend gestaan. Sou ’n beskuldigde daar deur ’n prokureur of advokaat verdedig word, is die saak na Humansdorp vir verhoor oorgeplaas. Ons was verplig om dienste by die hof te verrig wanneer die Streekhof eenkeer elke twee maande ’n sitting by die landdroskantoor gehad het. Alle ernstige kriminele- (Straf) sake van al die polisiestasies in Humansdorp en Hankey se landdrosdistrikte, is dan daar verhoor. Ons was ook vir bykans twee jaar opgesaal met spesiale streekhofverhore waar daar ANC-verhore plaasgevind het. Dit het as terroriste-verhore bekend gestaan. Gelukkig het die SA Polisie se Veiligheidstak van Port Elizabeth

die beveiliging en ander dienste by daardie sittings hanteer. Ons moes net die aangehoudenes tydens middagetes toesluit en van kos voorsien. Alle gevonniste persone wat gevangenisstraf van langer as een maand opgelê is, was na tronke vervoer. Die nie-blanke mans was na die Patensie-plaasgevangenis geneem vir aanhouding en werkverrigting by plaasboere. Dit was ’n tronk wat deur die sitrusboere gebou is en toe aan die Departement van Gevangenisse (tans die Korrektiewe dienste) oorgedra is vir die bestuur daarvan. Die plaasboere het dus aandele in dié tronk gehad en hulle kon van die prisoniers op parool uitneem om op die plase teen vergoeding te gaan werk, óf hulle het die prisoniers elke oggend gaan haal en saans teruggebring. Alle plaasboere was ook as spesiale bewaarders aangestel. Die nie-blanke vroue, asook die blanke vroue en -manlike gevangenes, was by die polisiestasie gehou en eenkeer per week is hulle na die Gevangenis te Port Elizabeth vervoer om aldaar hulle vonnisse te gaan uitdien. Alle nie-blanke manlike prisoniers wat gevangenisstraf van minder as ’n maand opgelê word, het hulle vonnis by die polisiestasie uitgedien. Hulle word met tronkklere uitgereik en hulle het in ’n aparte sel geslaap. Ons polisiestasie was dan bedryf soos ’n gevangenis en ons stasie het dan bekend gestaan as ’n “Lock-up” / ‘Opsluitplek’ soos gedefinieer in die Wet Op Gevangenisse. Hulle het dan daagliks onder die wakende oog van ’n swartkonstabel kamp- en tuindienste verrig, kantore skoongemaak en vloere gepoleer, pap voorberei vir aangehoudenes, by die landdroskantoor huishoudelike pligte en tuindienste gaan doen. Hulle het ook by ons huis in die tuin kom werk asook tuindienste by die Hooflanddros se huis. Sy huis het bekend gestaan as die Drosdy. Dis ’n oorlewering van ’n benaming gedateer uit Simon van der Stel se tyd toe hy magistraatdistrikte in die Kaapprovinsie begin aankondig het en die huise van magistrate só genoem is. Daar was twee swartkonstabels by die landdroskantoor wat diens moes doen as hofordonnanse om alle oortredings van wetgewing wat die instro-ming van Bantoes (swart persone )(“Influx control”) in stedelike gebiede reël, moes verrig. Hulle het ook die ontvangs van geld en die uitreiking van kwitansies aan bantoes (swart persone moes toe in geskrifte as ‘bantoes’ na verwys word ) wat hulle bantoebelasting kom betaal, hanteer. Hulle het dan terselfdertyd as prisonierswagte vir die prisoniers wat daar werk, opgetree.

Genoeg van die administratiewe aangeleenthede, kom ek skets ’n paar interessante sake waarby ek en van die ondersoekers by betrokke was. (Ek gaan tydens die beskrywing van sake wat ondersoek was, soms denkbeeldige name noem, want sovêr ek weet is daar van die mense wat daarby betrokke was, nog in lewe.)

Ek word een Sondagmôre by die huis deur konstabel Botha gebel en hy sê dat daar ’n blanke vrou op ’n plaas, wat aan die Du Plessis’s se plaas, Beeskraal, grens, oorlede is. Ek maak gereed en gaan na die plaas toe. Ek vind Herklaas du Plessis daar en hy neem my na ’n kamer in die onbewoonde huis. Herklaas en sy broer Daan, huur die plaas vir weiding vir hulle beeste, maar die plaasopstal is redelik verwaarloos en onbewoon. Ek vind die lyk van ’n skraal, maer?, witvrou, half geklee met ’n gekreukelde rok half om haar onderlyf vasgedraai, haar bolyf en borste is nakend, haar hare in slierte, haar oë starend na die plafon. Sy lê op haar rug op ’n ysterkatel met ’n klapperhaarmatras, sonder enige beddegoed. Die plek ruik na ’n kroeg. Daar is ’n paar leë brandewynbottels op die vloer. Sigaretstompies lê oral op die vloer voor die bed. Die vrou se gesig is blou geswel. Ek ondersoek vlugtig die lyk en sien dat sy blou kolle op haar bolyf het. Ek draai die lyk op haar sy en ek sien dat nadoodse bloedsakking of lykverkleuring (‘lividity’), wat voor rigor mortis (lykverstywing) plaas-gevind het, nie op dele van haar rug en boude teenwoordig is nie. Dit is ’n teken dat sy op haar rug op die bed gelê het toe sy oorlede is.

Julle vra dalk hoe ek tot so ’n gevolgtrekking kon kom. Wel, dit is maar deel van die leerplan wat ons tydens ons studies vir BA Pol.-graad moes leer. Sodra ’n persoon sterf, word die bloed se stollingfunksie onmiddellik gestaak, dit raak dun en vloei, as gevolg van gravitasie

(swaartekragwerking) na punte in die liggaam waar dit in are is wat nie onder druk is nie. Byvoorbeeld as dele van die liggaam in aanraking met ’n vaste voorwerp is, sal die lykverkleuring nie daar plaasvind nie. Daardie plekke verkleur dan in ligte rooi kolle op die vel, vandaar ook die begrip van lykverkleuring. Dit gebeur alles voordat lykverstywing (‘rigor mortis’) intree. Ek vertrou dat hierdie elementêre verduideliking die toestand waarin ek die lyk gevind het, verduidelik. Kyk na die voorbeeld hieronder. Dit is ’n liggaam wat op haar rug gevind is.

Die blaaie, die middel (heel waarskynlik ’n lyfband) en die boude wat op die een of ander wyse geknel of op die oppervlak waar dit gevind is, gedruk het, vertoon geen lykverkleuring nie. Terloops, ’n donkervel persoon se liggaam, toon ook die lykverkleuring na afsterwe. Dit is egter nie só opsigtelik as ’n ligtevel persoon s’n nie.

Wel, om nou voort te gaan met my vertelling, daar was ’n blankeman, ‘Gert’, in die kamer. Hy praat met ’n diktong, was onvas op sy voete en het dronkmansverdriet. Hy is groot van postuur, sowat sesvoet ses duim (bykans 2 meter) lank en breed geskouer. Hy sê dat die vrou sy wettig getroude vrou is, en dat sy in haar slaap oorlede is. Hulle was maar net ’n paar maande getroud. Hulle het in ’n rehabilitasiesentrum in Boksburg ontmoet waar albei van hulle weens drankmisbruik behandel was. Hy sê hy is ’n eks-polisieman wat te Johannesburg Blitspatrollie gestasioneer was. Hy het sy ontslag gekoop en na hierdie plaas toe gekom, want hy is glo een van die erfgename van die plaas. Hy en sy broer ‘Giel’ het dit saam geërf. By ondersoek is gevind dat Gert en sy vrou vroeër Saterdagaand by twee geleenthede by Herklaas-hulle op die plaas aangekom het en dat die vrou gekla het dat haar man haar geslaan het. Herklaas het ook getuig dat Gert die vrou in sy teenwoordigheid aangerand het deur haar met die vuis in die gesig te slaan. Hulle was hopeloos dronk en die laaste keer wat hulle sy plaas verlaat het, was so om-en-by eenuur die oggend. Ek arresteer die man en bel die begrafnisondernemer om die lyk te kom haal, en bel ook vir dr. Daan Delport om die lykskouing die Maandagoggend te kom doen. Die lykskouing se uitslag word aangeteken as: “Veelvuldige kneusings van sagte weefsel in gesig en lyf wat met geweld toegedien is wat inwendige bloeding en hartversaking veroorsaak het.”

Gert is alleen in die sel vir blanke prisoniers en hy begin onttrekking simptome kry en openbaar die simptome van delirium tremens, in algemene spreektaal bekend as ‘horries’. Hy praat aanmekaar met ’n onsigbare persoon, dan lag hy, skree hard en huil weer aanmekaar en slaan teen die sel se deur met ’n beker en bord, roep dan na sy pa en sy ma en begin pleitend praat met iemand wat nie daar is nie en hy smeek om ’n bier te kry. Ons kry die distriksgeneesheer en hy gee hom ’n inspuiting en hy bedaar. Ek gaan nie verder in fynere detail beskryf hoe die ondersoek en versameling van getuienis teen Gert verloop het nie, maar die uiteinde van die geval is, dat Gert sowat ’n maand later, alhoewel hy vir moord aangekla was, in die streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind word en tot een jaar gevangenisstraf gevonnis is. Opset om die oorledene te dood, was volgens die streekhoflanddros se bevinding afwesig, maar dat dood wel deur nalatigheid veroorsaak is.

’n Voorbeeld van lykverkleuring (Lividity) (Foto: Google - Deur my, Ben, aangepas.)

Die volgende geval is waar ’n kleurlingseun van 12 jaar op ’n plaas in ’n hoenderhok dood gevind word. Sersant Daantjie Strydom is die naweek aan diens en hy kom my by die huis inlig dat hy ’n blankeman, Fransen, op ’n plaas wat aan meneer Sarel Meyer in die distrik van Humansdorp behoort, vir moord op ’n twaalfjarige kleurlingseun, gearresteer het. Die feite word soos volg geparafraseer:

Fransen huur die woning op die plaas van die boer Sarel Meyer. Dit is in die Suurveld, ’n streek wat in Humansdorp se distrik bekend is;

Fransen en sy vrou, Elsa, bedryf ’n klere droogskoonmakery op Humansdorp, en hulle ry daagliks in en uit, na en van hulle werk;

By sy tuiskoms laat middag op die Vrydag, hoor hy by een van sy werkers op die plaas dat ’n kleurlingseun iets gering gesteel het in die waenhuis;

Fransen laat die seun kom en ondervra hom. Hy ontken alle kennis van die item wat gesteel is (dit was iets onbenullig, ek kan nie meer onthou wat dit was nie);

Toe roep hy een van sy werksvolk en hy laat die seun in die kombuis van die plaashuis sit onder die wakende oog van die werknemer. Hy het kort-kort die seun met ’n seekoeisambok oor die boude, oor sy rug en oor sy kop geslaan, maar hy bly die bewering van diefstal ontken;

Fransen het die werknemer opdrag gegee om ’n mudsak - dis nou ’n groot hennepsak (ook genoem ’n streepsak) in die waenhuis te gaan haal en hy sit die seun in die streepsak en bind dit met ’n stuk draad toe. Die streepsak is aan ’n tou vasgemaak en word, met die seun daarin, in die dam langs die huis ingedompel;

As hy uitgetrek word en nog steeds ontken dat hy gesteel het, is hy weer onder gedompel. Dit is herhaaldelik gedoen;

Die seun is na ’n ruk uit die streepsak gehaal en weer geslaan;

Toe dit reeds donker was, is die werknemer aangesê om die seun in die hoenderhokke te gaan toesluit, want hy wou nog die volgende môre met hom afreken;

Die seun is daar vir die nag gelaat, sonder enige komberse en/of bedekking om sy gekastyde lyf mee toe te maak;

Die Saterdagoggend vind hulle hom dood in die hoenderhok. Fransen het stil gebly, maar die werknemer wat bygestaan het, verklap die gebeure aan die plaaseienaar, meneer Sarel Meyer; Sarel het die polisie ontbied. Daantjie Strydom het uitgegaan en na ondersoek is Fransen gearresteer;

Ek laat weet die distrikspeuroffisier te Uitenhage, Kaptein du Toit, van die saak en die arrestasie en hy gee opdrag dat ek die verdere ondersoek moet waarneem;

Hyself kom Saterdagmiddag uit en vergewis hom van die omstandighede en hoe die misdaadtoneel lyk, want nou moet hy aan die koerantverslaggewers, die afdelingspeuroffisier te Port Elizabeth en die Nasionalespeurhoof in Pretoria, verslag lewer. Dis nou omtrent ’n opspraakwekkende saak, nie net vir Humansdorp en die Oos-Kaap nie, maar ook vir die hele land. Toe tel die oorsese media dit deur bemiddeling van SAPA en Reuters op en dit weerklink die wêreld oor. (Opskrifte soos bv. “This is how whites treat African children in South Africa” en selfs nog meer skerper uitsprake.)

Maandag kom Fransen voor die hof en doen aansoek om borg. Die vervolging opponeer borg. Sersant Strydom lewer getuienis en meld dat Fransen, tydens sy arrestasie, dreigemente geuiter het dat hy die volgende persone met sy ,303 geweer sal kom doodskiet as hy uitkom:

Vir hom, Daantjie Strydom, vir Sarel Meyer die plaaseienaar, sy vrou Elsa en vir my, Du Plessis. Hy het nie borg gekry nie en het in aanhouding gebly tot en met sy saak afgehandel is.

My ondersoek het toe behels om alle verklarings onder eed af te neem, die dossier vir die hof voor te berei en die bewysstukke, die sak, die tou, die sambok en foto’s van die toneel en die lyk in bewaring te neem. Sowat ses maande later word Fransen deur die Rondgaande Hooggeregshof te Uitenhage aan moord skuldig bevind en word tot ’n baie lang gevangenisstraf gevonnis. Die presiese termyn kan ek nie meer onthou nie.

Terloops, toe ek al ’n offisier was en by die Indiensopleidingseenheid te Pretoria gestasioneer was as ’n dosent, het ons ’n klomp kandidaatspeurders opgelei en ek het hulle na die Sentrale Gevangenis te Pretoria vergesel om hulle die gevangenis se administrasie, die galgkamer, die werkswinkels en akademiese opleidingsgeriewe in die tronk te gaan toon. Daar vind ek toe vir Fransen wat voor die gevangenis in die tuine werk. Ek het ’n paar woorde gewissel, maar nie in ’n diskoers met hom verval nie.

Saak afgehandel – Wat ’n ontsettende geval waar menseregte blatant geïgnoreer is en wat tot die dood van ’n onskuldige 12-jarige gelei het. Wie kry nie ’n knop in sy keel as hy hierdie saak so noukeurig gevolg het soos wat die media dit gerapporteer het nie? Wat nog te sê van myself en ons wat só nou betrokke was met hierdie saak! Lees hierdie gebeure weer stadig deur liewe leser en dan vra jy jouself af:

“Was dit nodig? Watter hartseer was daar nie vir die vader, moeder en familie van die afgestorwene nie? Is daar nie nou haat in hulle gemoed nie?”

Ek kan dit ongelukkig nie alles verwoord nie, maar ek weet dat die Here met Sy groot Genade vir my gehelp het om reg te laat geskied in hierdie saak.

Ek gaan nou so ’n bietjie afdwaal van die interessante gebeure waarmee ek besig is, want nou moet ek eers iets skryf oor die groot reën en vloed wat gedurende 1968 Port Elizabeth en omstreke getref het.

Daardie vloed het gebeur net toe Fransen vir moord te Uitenhage verhoor is. Die verhoor het by die Uitenhage se landdroshofsetel plaasgevind waar die Rondgaande Hooggeregshof sitting gehad het.

So het die alombekende Happy Valley in P.E. gelyk na die vloed.

Dit was laat in Augustus van 1968, die presiese datum kan ek nie meer onthou nie. Dit het in 24 uur sowat 500mm (in die ou mate ± 20 duim) gereën. Daarna het dit vir ’n paar dae met tussenposes

redelik hard gereën. Vir die saak teen Fransen is een week verhoor neergesit, beginnende vanaf die Maandag tot Vrydag. Ek en sersant Daantjie Strydom was getuies en ek het vroeg-vroeg die Maandagoggend na die plaas toe gegaan en die paar kleurlinge wat getuies was, met die patrolliewa gaan oplaai. Dit het redelik sterk gereën op Humansdorp en in die distrik.

Dit reën toe alreeds van vroeg die Sondagmôre af. Ons ry om ongeveer 8vm (08:00) vanaf die dorp om betyds te wees vir die hofsitting wat om 9vm (09:00) ’n aanvang sou neem. Uitenhage is net sowat 70km vanaf Humansdorp en die rit sou nie langer as so 35-40 minute neem nie. Wel so het ek gedink! Ons reis na Uitenhage het redelik voorspoedig verloop, maar toe ons die Gamtoosrivierbrug nader, toe sê ek vir Daantjie: “Jong, die Gamtoos kom af. Kyk hoe sterk loop dit en die water is modderbruin.”

Daantjie het bestuur, en sê: “Meneer,” (dis nou ek, want ’n adjudant-offisier se aanspreekvorm was ‘adjudant’ óf ‘meneer’) “ hy kom wel af, maar as dit nie baie langer gaan reën nie, sal dit nie sy walle oorstroom nie.”

Wel ons ry verder en gesels maar oor die saak waarin ons moet getuig. Hoe nader ons aan Uitenhage kom hoe harder reën dit en hoe stadiger moet ons ry. Ons bereik Uitenhage gelukkig net so ’n paar minute voor 9vm. Ons meld ons aan by die staatsadvokaat wat die aanklaer sal wees, en hy meld dat ons so ietwat laat gaan begin, want Fransen se advokaat, meneer Louw, kom vanaf Port Elizabeth, en hy het gebel om te sê hy moet ’n ompad vanaf sy huis deur die stad kom, want hy kan nie oor die Baakensrivierbrug wat deur die stad loop, kom nie, want die water is oor die brug. Adv. Louw daag sowat ’n halfuur later op en die verhoor neem ’n aanvang. Die saak verdaag om ongeveer 4nm (16:00) en ons vertrek terug Humansdorp toe. Ek laat die kleurlinggetuies by die polisiestasie slaap en gee hulle ook kos. Ek bel die Du Plessis’s van Beeskraal en meld dat die getuies te Humansdorp gaan bly en nie plaas toe gaan kom nie. (Ek het hulle in een van die kantore laat slaap en ook van die kos gegee.) Dit reën nog sagweg, sonder ophou. Terloops, dié advokaat Louw was die seun van wyle adv. Eric Louw vir jare die minister van Buitelandse Sake in kabinette van ’n paar Nasionale Party regerings.

Ek kon nie ’n foto van die Gamtoosrivier wat sy walle oorstroom het vind nie. Het toe maar hierdie een geneem van een van die strate in Port Elizabeth wat oorstroom was. Kyk die skade! Daar het bykans 500 mm reën in 24 uur geval. (Beide Foto’s: Google).

Dinsdagoggend gaan ek alleen deur Uitenhage toe saam met die getuies, want Daantjie moes sy aanklaerswerk by die landdroshof op Humansdorp gaan doen. Hy sou eers ’n dag of wat later as getuie geroep word. Dit reën eenstryk deur en toe ek die Gamtoosrivierbrug nader, sien ek dat die rivier sy walle begin oorstroom, maar dat die watervlak nog redelik ver van die pad af is. Toe ek op Uitenhage kom, vra ek die staatsadvokaat om die kleurlinggetuies so spoedig moontlik te laat getuig sodat ons kan terugkeer Humansdorp toe. Ek was bang dat die Gamtoosrivier meer water sou kry en ons van Humansdorp afgesny sal wees. Ons is toe so ongeveer halftwaalf (11:30) vanaf Uitenhage op pad terug Humansdorp toe. Mense, dit reën nog al die tyd. By die Gamtoosrivierbrug sien ek dat die water oor die brug se ryvlak stroom en dat die watervlak van die rivier nou oor die teerpad aan Humansdorp se kant loop. Ek is bang om oor die brug te ry en om die water oor die teerpad aan te durf. Ek sien ’n bakkie vanaf Humansdorp se kant aankom en dit begin die water, wat oor die pad loop, in te gaan. Ek sien dat die bakkie wielhoogte deur die water kloof. Die bakkie kom gelukkig deur en hy ry versigtig oor die brug. Ek vra die bestuurder, ’n boer van Hankey, of hy enige slote onder die watervlak gevoel het.

Hy antwoord : “Nee, maar as jy nie nou oorgaan nie, gaan jy hierdie kant moet bly.”

Ek bedank hom en volg sy raad en nou gaan ek soos ’n verkleurmannetjie, tree-vir tree stadig oor die brug. Ek kom veilig anderkant. Nou lê die vlakte waar die water oor die teerpad vir ongeveer 100 meter wyd vloei, voor. Die kleurlinge begin nou angstig praat en gesels hier agter my uit die patrolliewa se bak uit, maar ek stel hulle gerus. Dit het vir my gevoel of daardie 100 meter die langste was wat ek nog met ’n voertuig gery het. Die water klots aan my kant teen die deur, en dit begin onder deur die deure te syfer die bestuurder se kajuit in.

Die een kleurlingvrou roep uit: “O, heretjie, hier gaan ons vandag versuip!”

Ek maak haar stil en sy begin huil, maar nou konsentreer ek net om in die pad te bly, waar ek dink dit moet wees. Ek hou die distansie tussen die patrolliewa en die draadheining van die lusernland dop, wat ook onder water is, sodat ek nie van die pad af ry nie, want dan sal ons beslis in die moeilikheid wees. Die pad is daar opgevul, en die draadheining aan my kant van die pad is ook onder water. Daar steek net sowat ses duim (±16 cm) van die draadheining se bokant bo die water uit. Ek moet sorg dat die patrolliewa se enjin nie stol van die water wat onder die enjinkap inloop nie, daarom hou ek die rewolusies van die enjin baie hoog terwyl ek stadig op koppelaarbeheer (“clutch control”) en in eerste rat die 100 meter aandurf. Gelukkig is ek sonder enige teëspoed deur. My skoene is papnat asook my kouse en onderkante van my broekspype.

Die kleurlinge hieragter sê vanuit die patrolliewa: “Dankie Liewe Vader.” Ek het ook ’n stille gebed opgestuur om my dank te betuig vir Sy Vaderhand wat ons deur die vloedwater gelei het.

Ek het Woensdag- en Donderdagoggend alleen deurgery na Uitenhage, om as ondersoek-beampte my saak deur die Hoërhof te sien. Gelukkig het die Gamtoosrivier redelik afgeloop, want daar was nie meer water oor die teerpad nie. Die lusernland was egter nog toe onder water. Ekself en Daantjie sou op die laaste dag, Vrydagoggend, getuienis aflê. Die reën het algaande opgeklaar en Donderdag was dit ’n helder oopgetrekte dag. Almal in Port Elizabeth wat deur die vloed geraak is en die boere in die Gamtoosvallei het begin om hulle skade te bepaal. Nuuskolomme in die koerante en nuusberigte oor die radio het omtrent net bestaan uit berigte van skade aan eiendom, hartseer van familielede wat kinders en/of ouers aan die dood moes afstaan omdat hulle deur die watermassas meegesleur is en verdrink het, plaasdiere wat tot in die see deur die Gamtoosrivier meegevoer is. Tientalle motors en woonwaens is onder modder toegeslik, huise het inmekaar getuimel, sportgronde is verwoes en glo dit as u wil, in Russellweg in die middestad van Port Elizabeth wat redelik steil is met ’n afdraand na die see toe, het een witman in die voortrollende massa water wat in die straat afgekom het, beland en verdrink.

Die Vrydagoggend gaan ek en Daantjie Strydom weer Uitenhage toe om getuienis te gaan lewer en om te hoor wat die uitspraak van die Regter is. Ek het vir Corrie gesê dat ek en Daantjie, sodra ons klaar is by die hof, in die Baai sal gaan kyk of oupa en ouma Scholtz-hulle enige skade gely het, want ons hoor eintlik niks van hulle nie. Nadat ons getuienis gelewer het, en die saak vir die Staat afgesluit is, en Fransen getuig het en skuldig bevind is aan Moord en hy getuienis ter versagting van vonnis gelewer het, het ek en Daantjie Baai toe vertrek.

Sovêr as wat ons ry op pad Baai toe, sien ons net die ontsettende verwoesting en skade wat aan huise wat op laagliggende gebiede gebou is, aangerig is. Van die huise het behoorlik ingetuimel. Die paar klein riviertjies in en om Port Elizabeth het almal hulle walle oorstroom. Daar was die Chettyrivier, die Swartkopsrivier, die Baakensrivier, die Setlaarsrivier en ook die rivier wat deur die ‘Happy Valley’-oord in die Baai loop. Daardie rivier het die hele oord letterlik deurkloof. Die oord moes later heeltemal herontwerp en herbou word. Kyk na die foto elders in die boek, hoe die “Happy Valley” deur die watermassa verniel is.

Ons kom by oupa-hulle se huis aan. Hulle is nie daar nie. Hulle is by vriende wat hoër op in die straat bly. Pa Scholtz vertel soos volg aan my:

“Jong, dit was ’n vreeslike ervaring waar ek regtig bang was dat ons dalk nie die dag sal oorleef nie. Die water het die huis ingestroom en dit was in ’n stadium vensterbankhoogte aan die buitekant en binne in die huis het die water tot naby die beddens gekom. Gelukkig het die water gou afgeloop en kon ons die huis verlaat. Ons het baie skade gely en ons is nog besig om die huis skoon te maak.”

Hy het nie veel detail gemeld nie, en daarvoor moes ek met Corrie se suster, Veronica, konsulteer. Veronica deel toe die volgende besonderhede van daardie dag met my:

‘Pa Scholtz-hulle het uit die militêre kamp se ‘bungalows’ getrek, toe oupa met pensioen uit die Staandemag se ondersteuningsdienste getree het. Hulle het toe in een van die munisipale huise in Lucernelaan 42, in die Forest Hill woonbuurt ingetrek. Sy en Lenie, Corrie se oudste suster, ’n oujongnooi, was ook in die huis. Sy, Veronica, het in die Baai gewerk en Lenie, wat ’n suikersiektelyer was, het permanent by Oupa-hulle gebly. Ouma het vir haar en Lenie om ongeveer sesuur die Sondagoggend kom wakker maak en gesê hulle moet opstaan want die huis raak vol water. Hulle spring uit hulle beddens en hulle voete plons in die yskoue water wat reeds in hulle slaapkamer was. Toe kom hulle eers agter dat die water amper by die matrasse op die divan beddens is.’

‘Die komberse was ook reeds aan die kante, soos wat dit van die beddens afhang, sopnat. Hulle skrik baie groot en gaan plons-plons deur die water na die sitkamer toe waar Oupa en Ouma reeds deur die venster staan en kyk na die watermassa wat verby die huis dreun. Oupa het darem die mat in die sitkamer kon oprol voordat die water onder deur die voor- en agterdeure die huis kon binnekom, en dit op die eetkamertafel gesit. Hulle al vier het kussings en lappe teen die onderkante van die twee deure geprop om die binnesypeling van die water te keer, maar dit het eintlik niks gehelp nie. Die water het die huis binnegedring en was tot by die matrasse. Oupa kon nie die deure oopmaak nie, dan sou die massa water met geweld die huis binnegestroom het. Gelukkig het die watermassa algaande minder geword soos wat dit buite om die huis begin afloop het. Oupa-hulle was in dagklere geklee, maar sy en Lenie het al plonsende in die water in die kamer begin nagklere uittrek en dagklere aangetrek Toe hulle so enkeldiep in die water was, het Oupa-hulle die deure oopgemaak en kon hulle na buite gaan.’

Ja, dit was omtrent ’n traumatiese ervaring om vroeg-vroeg met dagbreek jouself in ’n oogwink in ’n watermassa in en om jou huis te vind, met reën wat sonder ophou neerstort. Veronica meld nog die volgende:

‘Hulle alvier het na een van die huise aan die oorkant van die straat, wat hoër as hulle s’n geleë is, gegaan, toe die inwoners hulle geroep het om daar te kom skuil. Dit het nog gereën, maar die ergste stormreën het reeds bedaar. Die stormwater wat hulle huis getref het, was afkomstig van die militêrekamp se gholfbaan waar die water teen ’n stuwal opgedam het en toe die wal breek, het dit met geweld langs die huise afgekom. Drie huise van hulle huis af, het die geweld van die watermassa die huis tussen die een slaapkamer en die kombuis getref, en die hele muur omgedruk en dit het net verder met ’n vernietigende spoed deur die huis gegaan en die anderkantste muur omgedruk en voortgesnel na die riviertjie wat onder Forest Hill Drive, geloop het. Daardie riviertjie wat vroeër slegs ’n droë loop was waarin die Suideinde begraafplaas uitgelê is, was toe reeds ’n massa water wat daardeur voortgesnel het op pad see toe. Dit was, volgens oorlewering, Port Elizabeth se eerste begraafplaas. Dit het vele grafte van 100 jaar en ouer oop gespoel en stukke doodkisplanke en geraamtebene het die rivier afgedryf waar dit honderde meters verder teen struike en boomwortels vas- gespoel het. Dit was later deur die munisipaliteit herwin en in dieselfde begraafplaas in ’n gemeenskaplikegraf herbegrawe. Die omgevalle en gebreekte grafstene wat oral rond gelê het, is by daardie graf staangemaak.’

‘Oupa en ouma het die aand by die mense wat aan die oorkant van die straat gewoon het, daar waar ek hulle gevind het, geslaap. Sy ken nie hulle van nie, maar onthou dat die man by die Port Elizabeth se Busdiens as ’n busdrywer gewerk het. Sy en Lenie het toe die aand by haar verloofde, en latere eggenoot, Johan Ungerer-hulle gaan slaap. Hulle het laer af in Lucernelaan gebly. Die Maandag het sy gaan werk en Oupa-hulle het met die groot opruiming begin. Die huis was vol modder soos wat die modderwater deur die huis gegaan het. Komberse moes droog gemaak word en ook van die matrasse. Die elektriese stoof en ys-vrieskas het ook in die slag gebly. Oupa het later nuwes gaan koop.’ Dis die inligting wat ek by Veronica bekom het. Dankie Veronica!

’n Maand of twee later het Pa Scholtz-hulle toe na ’n noordelike voorstad, Algoapark, getrek. Daar was nuut opgerigte drieverdieping munisipale woonstelgeboue. Daardie woonstelblokke is ingevolge die montasieboutegniek gebou. Dit is ’n tegniek waar elke vertrek se mure, met vensteren deuropeninge op die grond met gewapende beton in panele gegiet word. (Sterk aangemaakte beton met staal versterkings in die sement vasgelê.) Die droë gegote betonpanele word dan opgehys en op ’n sement fondasie wat op pilare gegiet is, met boute en moere aanmekaar vasgebout. ’n Hele woonstelblok van 23 eenhede word op daardie manier binne ’n week gebou. Op hierdie boumetode, wat deur die WNNR se bou-afdeling ontwerp is, kon die munisipaliteit 80+ woonstelle (vier blokke van 23 elk) vir bewoning vrystel. Port Elizabeth se munisipaliteit was dus die baanbrekers met hierdie soort behuising wat in ’n relatief kort tydjie opgerig kon word. Daardie woonstelle staan vandag nog daar. Die blokke woonstelle het almal boom- en plantname gehad. Oupa-hulle se woonstelblok was ‘The Aloes’. Hulle het op die eerste vloer gebly. Die grondvloer was parkeerruimtes en motorhuise vir die inwoners se voertuie.’ (Kyk gerus na die foto van “The Aloes” woonstelblok hier onder.)

Wel, ek en Daantjie is toe verder na sy suster, Maggie, se huis toe in Summerstrand, ’n woonbuurt wat onder Forest Hill woonbuurt geleë is, om te hoor of hulle nie skade gehad het nie. Hulle het skade vrygespring, maar vele duur huise in daardie rykmansbuurt het nie staande gebly nie. Nadat ons daar lekker koffie en beskuit genuttig het, het ons na die Boet Erasmus Rugbystadion vertrek, want Maggie het gesê ons moet gaan kyk hoe daardie stadion beskadig is. Dié stadion was jare gelede ook in dieselfde vroeëre rivierbedding as die begraafplaas gebou wat vir ’n eeu en langer nie lopende water gehad het nie. Ons kom by die stadion aan en toe sien ons hoe sterk water werklik kan wees. Dit het by die stadion se gras walle aan die westekant opgedam, en toe die wal breek het dit met ’n geweldige golf die speeloppervlak getref.

Ons sien daar trek rook in die middel van die veld uit. Ons wonder nog wat dit veroorsaak, toe sien ons daar kom ’n kruiptrekker en ’n stootskraper op die speelvlak uit. Ons stap nader. Mense, daar was ’n sloot omtrent 3 meter diep van Wes na Oos regoor die speelvlak van die stadion gespoel, waarin die trekker en stootskraper besig is om modder, klippe, bome, planke, ’n motorwrak, tuinmeubels en baie opdrifsels uit die sloot te stoot. Die sloot strek tot by die oostelike paviljoen. Dit was die paviljoen wat uitsluitlik vir die nie-blanketoeskouers gebou is, waar die onderste vyf rye sitplekke weggespoel is en die paviljoen hang in die lug. Wat ’n gesig! Nou besef ek eers wat die kragte van die natuur kan wees. Daardie vloedwater het die ‘Happy Valley” piekniek- en ontspanningsoord ook weggespoel die see in. Die gholfbaan in die militêrekamp, die stadion, die begraafplaas, die huise en Happy Valley is weer op dieselfde plekke herbou.

Ek wonder wat sal die inwoners oor ’n honderd jaar vanaf 1968 van Port Elizabeth sê as daar weer ’n honderdjarige vloed in dieselfde rivierbedding gaan plaasvind! Die onnosele blikskottels! Óf wat praat ek? Die weerkundiges het beweer dat as die reën wat so 50 km ver in die see geval het, op land sou geval het, daar ’n baie groter vloed in die Baai en omstreke sou gewees het.

Ek en Corrie het, toe oupa Scholtz-hulle reeds in The Aloes ingetrek het, daar gaan besoek aflê. Ons het uit ons karige maandelikse spaargeldjies ’n R100,00 aan hulle geskenk om deel van die koste vir die aankoop van nuwe meublement te dek. Ek het toe ook, dit was seker so 3 maande na die vloed en by die woonstel, op Ouma se versoek haar buffet se drie laaie oop geforseer, want daar was nog tafeldoeke, servette, skryfpapier en gehekelde lappies in wat begin vrot het van die modderwater. Ouma moes dit alles maar weggooi.

Regs in die foto is die oostelike sykant van die Aloes woonstelle waar Oupa Scholtz- hulle ingetrek het nadat hulle woning in Lucernesstraat in Forest Hill deur die vloedwaters beskadig was. Die syfers 49 -72 is die nommers van die woonstelle in dié blok. Links in die foto wys hoe elke blok woonstelle se vooraansig lyk. (Foto: Google)

Ek en Corrie het al die berigte wat in die Afrikaanse en Engelse koerante, ook die Suid-Ooster, Humansdorp se weeklikse koerant, se berigte uitgeknip en ’n plakboek daarvan gemaak. Ons het baie foto’s ook in die Huisgenoot en ’n paar ander tydskrifte gekry wat by die plakboek ingelyf is. Toe ons kinders in Pretoria-Noord in die Voortrekker Eeufees Laerskool was, het ons die plakboek aan die skool se biblioteek geskenk vir naslaanwerk.

Genoeg van die groot vloed, en nou gaan ek weer voort met die volgende paar interessante misdade waarby ek met die ondersoek daarvan betrokke was.

Nog ’n moordsaak wat interessante leesstof sal maak, is waar ’n man sy vrou se ‘boyfriend’ doodgeskiet het. Die omstandighede en feite is baie kortliks soos volg:

Meneer Thysie Heyns van die plaas Leeubosch, (in spreektaal in die distrik as Leebos bekend) sowat 15 kilometer uit Humansdorp op die ou Kaapse grootpad, N2, skakel die aanklagkantoor een Sondagmiddag en meld dat hulle huisbediende, kom ons noem haar ‘Siena’, met ’n wolhaarstorie vorendag gekom het wat lui: “Haar man het haar ‘boyfriend’ doodgeskiet en hom in die spruit laat gooi.” Heyns reken dis dalk sommer net ’n storie.

Konstabel Richardson gaan uit en hy laat weet my per radio dat hy ondersoek ingestel het na die bewering en dat daar waarheid in ‘Siena’ se storie steek. Ek besluit dat ek tog maar na die plaas toe sal uitgaan om te hoor wat aangaan, want as dit ’n moord is wat met ’n vuurwapen gepleeg is en al die partye is swartpersone, dan moet die distrikspeuroffisier van die voorval verwittig word, want swartmense kon nie vuurwapens besit nie, en waar het hy dan een gekry?;

Ek kom op die plaas aan en ons ondervra ‘Siena’, sy is baie gespanne en huil kort-kort en die volgende verhaal word stuk-stuk ontvou;

Haar man, Geelbooi, wat twee jaar gelede op die plaas gearresteer was en tronk toe was omdat hy ’n ander man met ’n mes gesteek het, het die Saterdagaand op die plaas aangekom, sonder dat sy dit geweet het;

Wat ek nou gaan skryf, het ons met die ondervraging van Geelbooi uit hom uitgetrek, in- teendeel, hy het ’n bekentenis voor ‘n landdros gemaak wat later in die hof teen hom as getuienis gebruik is;

Ons het uitgevind dat hy haar in die bed met haar ‘boyfriend’, wat sy aangeskaf het terwyl hy in die tronk was, sien slaap het. Hy het hulle nie wakker gemaak nie, maar na die opstal van meneer Heyns toe gestap. Hy ken die huis en hy weet dat die stoepkamer, waar die drie gewere van Heyns op die geweerrak hang, nie gesluit word nie. Hy was vir jare op die plaas werksaam en hy was die amptelike geweerdraer vir die Heynse as hulle gaan jag het. Hy kon dus ’n geweer hanteer;

Hy neem toe die ,303 geweer en kry twee ,303 patrone in die laai van die lessenaar wat in die stoepkamer staan. Hy laai die geweer en gaan terug na sy huis toe. Dit was baie laat in die nag, hy sê so ongeveer 12 uur middernag;

Hy skop die deur van die huis oop, skiet die ‘boyfriend’, voordat hy kan beweeg, langs ‘Siena’ in die bed met ’n kopskoot dood. Hy dreig die vrou dat hy haar gaan skiet as sy enige iemand van die voorval gaan vertel;

Hy gaan waenhuis toe, kry ’n kruiwa en laai die ‘boyfriend’ met die matras op die kruiwa en sê vir Siena om die kruiwa, met haar dooie ‘boyfriend’ daarop, na die spruit, wat agter die werkers se huis verbyloop, te gaan afgooi. Hy stap met die geweer saam met haar;

Sy doen dit onder protes, want sy was bang hy skiet haar ook. Sy moes die kruiwa in die motorhuis gaan bêre en terugkom huis toe. Toe sy terugkom, maak hy haar in die huis vas en hy gaan terug na die plaasopstal toe. Hy gaan sit die ,303 geweer terug op die geweerrak met die ongebruikte patroon nog in die magasyn; Geelbooi kom terug na haar huis toe, maak haar los en hulle slaap verder saam, tot met hane-kraai (Vroeg oggend). Hy vertrek toe van die plaas af en laat haar alleen op die plaas agter; Heyns kom wys die geweerrak in die stoepkamer uit. Toe sê Heyns die geweer is op die regte plek op die geweerrak geplaas, maar die loop het nou na die anderkant toe gewys as waarin hy, Heyns, dit saam met die twee ander gewere op die geweerrak, in dieselfde rigting geplaas het. Ek haal die geweer van die geweerrak af. Daar is wel ’n onafgevuurde patroon in die

magasyn; Ons lê beslag op die ,303 geweer en ongebruikte patroon, en neem volledige verklarings van ‘Siena’ en Heyns af. Geelbooi is weg. ‘Siena’ sê sy dink hy is na Boet Strydom se plaas toe by Billson, want daar is ’n bierpartytjie aan die gang. Billson is een van die smal treinspoor (Die Langkloof “apple express”) se spoorwegstasies en die plaas van Boet Strydom grens aan hierdie stasie. ‘Siena’ neem ons na die spruit toe, en ons vind die dooie ‘boyfriend’ in die spruit waar die matras nog skuins oor sy liggaam lê. Daar word nou ook beslag gelê op die matras en kruiwa. Ons soek die patroondoppie en vind dit by haar huis, waar Geelbooi die geweer herlaai het. Ek bel die afdelingsraad se ambulans om die lyk te kom haal en skakel ook vir Wilhelm Schreuder om foto’s te kom neem.

(Foto: Google).

Ek ry saam met Richardson na Billson toe waar ons Geelbooi vind. Hy word arresteer vir moord, huisbraak en diefstal en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en word aangehou in ons polisieselle by Humansdorp polisiestasie. Ek laat die distrikspeuroffisier op Uitenhage, kaptein Du Toit, per radio weet van die moord, en hy daag later die Sondagmiddag by die polisiestasie op en ek gaan met hom terug na die moordtoneel. Hy kry nou eerstehandse inligting wat hy aan hoër gesag en die media kan oordra.

Nadat Geelbooi aan strafbare manslag en aan huisbraak en diefstal skuldig bevind word in die Rondgaande Hooggeregshof te Uitenhage, word die saak afgesluit. Hy is nie weens moord skuldig bevind nie, want volgens die regter en assessore was daar versagtende omstandighede. Die klagte van huisbraak en diefstal het geslaag, want hy het die toe (ongesluite) stoepdeur oopgemaak en die geweer geneem, asook twee ,303 patrone. (Terloops, daar is gewysde sake wat die definisie van ‘Huisbraak’ wyer gestel het as om net ‘n deur oop te breek om toegang tot ‘n gebou te verkry. Die volgende gevalle sal nog as die misdaad “Huisbraak” geklassifiseer word:

1) ‘n Ongesluite deur wat toe was en oopgestoot word, óf

2) as dit net half oopgestaan het en die misdadiger moes dit verder oopstoot om toegang te verkry; 3)‘n venster wat toe was, maar nie opknip was nie;

4) ‘n venster wat oopgestaan het en daar met ‘n haakstok of ander implement deur die venster gesteek is om iets binne in die perseel nader te hak en dit dan te steel; en 5) laastens as daar toegang tot ‘n tent verkry is deurdat die toegetrekte óf toegeritste tentflap oopgemaak is om toegang te verkry.)

Geelbooi is ook skuldig bevind aan die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie wat deur daardie wapen afgevuur kan word. Ek weet nie eintlik watter omstandighede versagtend was nie, seker maar omdat hy irrasioneel en op die ingewing van die oomblik opgetree het as gevolg van sy jaloesie. Só word hy weer tronk toe gestuur vir ’n redelike lang tydperk. Terloops, die eertydse wet op vuurwapens en ammunisie het nie voorsiening gemaak dat ’n eienaar sy gelisensieerde vuurwapens en ammunisie in ’n kluis moes wegsluit nie. Daar was ook nie ’n bepaling in daardie wet dat die eienaar weens nalatigheid aangekla kan word omdat Geelbooi sy vuurwapen en ammunisie uit die stoepkamer verwyder het nie.

’n Soortgelyke Leemetford BSA ,303 geweer wat in ’n jaggeweer verander is.

Ek het op Humansdorp met baie meer ernstige misdade as op Knapdaar te doen gekry wat weer eens my ervaringsveld van ondersoek verbreed het. Die moordsake was verskillend en onder vreemder omstandighede gepleeg, as dié wat bloot net ’n messtekery of kierieslanery was waar persone in ’n dronk-geroesemoes-situasies in die lokasies (hedendaagse ‘townships’), gedood word. Die volgende een het nogal ’n verandering van modus operandi (wyse van optrede) op ’n moordtoneel opgelewer:

Die platteland se ernstige misdade het in die meeste gevalle oor naweke plaasgevind en wel snags laat, want plaaswerkers en dorpenaars het gewoonlik Saterdagaande en Sondagmiddae uitgekies om rond te beweeg en drinkpartytjies by te woon. Daardie byeenkomste was gewoonlik nie een van die tradisionele bier-en-spiritualieë partytjies wat só algemeen bekend is onder die blanke bevolking nie, maar wel kafferbier (hedendaags sorghumbier genoem) en dan die alomteenwoordige brousels soos heuningbier, ‘Barberton’, currìe/karie (heuningbier met allerhande bykomende gismiddels in), en vele brousels sonder name.

Die volgende moord het by ’n plaas net buite Humansdorp, op die Kromrivier gruispad, dié een waarop Corrie ook haar bestuurslesse gehad het, plaasgevind. Die eienaar, meneer Haasbroek, bel so teen 11 nm een Saterdagnag (23:00) en sê dat een van sy werkers hom meegedeel het dat ’n swartvrou in een van die werkershuise doodgebrand het.

Dit was my naweek aan diens en ek vertrek na die plaas toe saam met een van die swartkonstabels. Ek word deur die eienaar ingewag en hy neem my na die werker se huis toe. Dis donker en ons moes met flitse lig maak, want daardie jare het plaaswerkers se huise nie elektrisiteit gehad nie. Die werker sit voor die huis met sy lyf teen die muur gestut, hy is smoordronk, en die hele plaaswerkerskorps, van speenoud tot stokoud, is by die huis vergader en almal praat en skel gelyk. Ek maak hulle stil en een van die werkers wat darem nog op sy bene kan staan, is die persoon wat die meeste praat. Ek en die konstabel gaan die tweevertrekhuis in. ’n Swartvrou lê op haar sy op die plankvloer. Sy is dood. Die plek ruik na rook en is oral met roet besmeer. Die vrou is geklee in ’n nylonrok wat oral in haar lyf vasgebrand is. Daar is ’n sterk paraffienreuk in die huis teenwoordig. Haar hare is stomp op haar kop afgeskroei, haar lyf is oral, waar die rok vasgebrand is, sonder vel. Dit lyk maar aardig want die pienk vleis kom deur waar haar swartvel weggebrand is. Ja, ons almal se vleis is maar pienk, dis net die vel se kleurpigment wat verskil.

Ek maak aantekeninge en merk die plek waar sy lê sodat ek die Sondag in die lig ’n plan van die toneel kan optrek nadat afmetings gedoen is. Na voorlopige gesprekke met die werkers, word vasgestel dat die man in sy dronkenskap sy vrou geslaan het en toe sy val het hy paraffien oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek. Ek sou ook die volgende dag kom om meer samehangende verklarings van die getuies te kom afneem. Ek arresteer die man van die oorledene en hy word polisiestasie toe geneem. Ek het die swartkonstabel op wagdiens by die huis gepos en dorp toe gery om die ambulans te gaan bel om die lyk te kom verwyder. Ek het ook die voorval van moord ge-registreer en die verdagte toegesluit.

Die volgende oggend het ek afmetings geneem en bewysstukke versamel. Terloops, ek het ’n stuk van die vloerplanke onder die lyk uitgesaag en ook ’n paar stukke van die vrou se rok afgesny en vir ondersoek na die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS) te Pretoria gestuur om vas te stel of daar paraffien in die planke en in die rokmateriaal is, om die opset van moord te kan bewys. Ek het ook ‘n leë wynbottel in die kamer gekry wat na paraffien geruik het. Die uitslag sou bepalend wees om te kan bewys dat die vrou met voorbedagte rade vermoor is, deurdat paraffien eers oor haar gegooi en toe aan die brand gesteek is. Julle vra hoekom is die stukke rok en vloerplanke na die SABS toe gestuur en nie na die polisie se forensiese laboratorium nie? Onthou, daardie jare was daar nog geen sprake van ’n forensiese laboratorium in die polisie nie. Die eerste forensiese laboratorium is eers in die sewentiger jare deur kolonel, doktor (later luitenant-generaal) Lothar

Neethling tot stand gebring. Die beskuldigde is later deur die Rondgaande Hooggeregshof te Uitenhage aan strafbare manslag skuldig bevind en ’n redelike lang gevangenisstraf opgelê. Weer versagtende omstandig-hede gevind. Die bewysstukke wat vir ontleding weggestuur was, is positief vir paraffien getoets.

Soos reeds genoem, was ek ook gereeld deur polisiebeamptes van ondergeskikte polisiestasies in die gebied genader om hulp te kom verleen tydens ernstige misdade wat in hulle polisiewyk gebeur het. By geleentheid het Jeffreysbaai se stasiebevelvoerder, sersant Mostert, my gebel, ja, weer oor die naweek, en gesê dat ons moet kom help want mevrou Ferreira op die kleinhoewes by Kabeljousrivier, is vermoor.

Ek ry uit na Kabeljousrivier toe en vind sersant Mostert by die huis van mev. Ferreira. Dit is sterk skemer en ek moet met my flits die toneel fynkam om observasies te doen. Ek vind die liggaam van ’n bejaarde blankevrou wat op haar rug in die tuin voor die huis tussen die platgedrukte blomplante lê. Daar is ’n groot bloedbesmeerde klip by haar kop. Daar is ’n groot oop wond aan die regterkant van haar kop, haar grys haredos lê soos ’n stralekrans om haar kop uitgesprei en met bloed bevlek, haar bril, wat gebreek is lê langs haar kop, haar oë staan stil starend in die lig van my flitslig, haar mond is oopgesper en die boonste kunstande van haar stel kunstande is gebreek, een stuk sit nog in die gapende mond, die ander stuk lê op die grond by haar bril, haar rok is opgetrek tot by haar naeltjie en haar broekie is geskeur en om haar regterenkel gedraai. Haar regterbeen is skuins na die kant toe opgetrek, haar twee arms lê opgetrek na haar kop toe, asof sy ’n hou óf houe wou afweer. Ek stel toe aan sersant Mostert voor dat ons dringend die distrikspeuroffisier, kaptein Du Toit, te Uitenhage van die geval verwittig. Hy het dit sommer per tweerigtingradio in sy voertuig gedoen. Nou wag ons sy aankoms af.

Kaptein du Toit kom sowat ’n uur later op die toneel en nadat hy hom vergewis het van die toneel en die omstandighede waarin die lyk gevind is, is hy met ons eens dat mev. Ferreira dalk ook verkrag kon wees. Kaptein Du Toit versoek dat al die voertuie op die toneel verwyder moet word en ek en hy sal dan deur die nag in die sitkamer wagstaan. Die gordyne is weggetrek en alle ligte in die huis is uitgedoof. Ons het dus ’n onbelemmerde uitsig op die tuin en die lyk. Daar is ’n beginsel, wat alom in die ondersoek van misdaad bekend is, en dit is dat male sonder tal kom ’n misdadiger soms terug na die toneel wat hy verlaat het. Ons wagstaan op die toneel was juis om, sou die misdadiger opdaag, dat ons hom kan arresteer.

Die wagstaan het niks opgelewer nie en met eerste lig die oggend, skakel ons toe weer, vanaf die huis se telefoon, vir Jeffreysbaai- en Humansdorp aanklagkantore om ons voertuie terug te bring en te reël dat die liggaam na Humansdorp se lykhuis verwyder word. Jeffreysbaai se polisiebeamptes het geweet dat mev. Ferreira se een seun ’n verkeersbeampte te Port Elizabeth is, en hulle het hom telefonies van sy moeder se dood verwittig. Hy het uitgekom en by Jeffreysbaai se polisiestasie gewag om van ons te hoor wat nog op die toneel waggestaan het. Daar het hy en sy vrou in angs en afwagting gewag om inligting vanaf die misdaadtoneel te hoor. Hulle het toe saam met Jeffreysbaai se polisievoertuig by sy oorlede moeder se huis arriveer. Ons het die lyk bedek sodat hy nie sy moeder se ontblote onderlyf moes sien nie. Ons het hom net haar gesig gewys om eers net ’n positiewe uitkenning van sy moeder op rekord te kan hê. Hy, en sy vrou, was natuurlik geskok en het met trane in hulle oë en met stemme wat hulle emosies verklap, by hulle ma se huis ingegaan en al dwalende deur die huis gestap. Sy vrou het haar snikkend in sy arms gewerp en só het hulle vir ’n redelike lang tyd by mekaar gestaan in hulle verdriet vasgevang. Toe die lyk verwyder is deur die ambulans wat ons vanaf Humansdorp ontbied het, was ons taak voorlopig afgehandel. Ons het hulle versoek om liefs die huis te verlaat, want ons wag nog vir die vingerafdrukdeskundiges vanaf Port Elizabeth om hulle ondersoek ter plaatse te kom afhandel. Ons wou ook die toneel van misdaad so oorspronklik hou soos wat ons dit gekry het.

Kaptein Du Toit skakel, sommer van die huis se landlynfoon, vir speurder adjudant-offisier ‘Vyand’ Botha van Uitenhage se speurtak om die ondersoek te kom oorneem. (Sy bynaam ‘Vyand’, het hy by sy mede-speurderkollegas gekry, omdat hy alle misdadigers se vyand was.) Met Botha se aankoms, het ons ander die toneel verlaat. Lede van die polisie se plaaslike vingerafdrukkantoor het vanaf Port Elizabeth arriveer, opmetings gedoen om ’n plan op te trek en foto’s geneem van die toneel. Hulle het ook by die lykhuis te Humansdorp Hospitaal foto’s geneem van die lyk. Botha het nog dieselfde dag die tuinwerker van mev. Ferreira gearresteer. Die distriksgeneesheer van Humansdorp, dr. Turner, het die nadoodse ondersoek (post mortem) gehou en bloed-, speeksel- en vaginale vloeistofmonsters geneem.

Die huis was ’n paar dae later weer aan die dogter en haar man oorgedra, want al die ondersoeke op die moordtoneel was afgehandel.

Die uitslag van die vaginale smeer het verkragting bevestig. Die saak het later vir twee dae in die Rondgaande Hooggeregshof te Uitenhage gedien. Ek was maar een van die talle getuies wat geroep was om te getuig. Die tuinier se skuld is bo alle twyfel bewys toe sy semen in die vaginale vloeistof gevind is. Hy is aan moord skuldig bevind. Geen versagtende omstandighede kon aan die hof voorgehou word nie. Die tuinier is die eerste en enigste beskuldigde, tot in daardie stadium, uit die Humansdorp landdrosdistrik wat deur die Hooggeregshof ter dood veroordeel is vir sy onmenslike daad. Hy het die hoogste tol betaal toe hy in die Pretoria Sentrale Gevangenis aan die galg gesterf het.

Daar volg nou so ’n paar interessante gebeurtenisse waarby ek direk betrokke was. Dan meld ek verder van Corrie se taak as spesiale matrone, wat vroulike gevangenes, voor opsluiting, moes deursoek, wat vir komiese situasies gesorg het:

Ek het saam met konstabel Sandy van der Sandt ’n kuspatrollie gery. Dit was vanaf Oesterbaai, al met die strand langs tot by Thyspunt. Dit was staatsgrond en slegs die polisie- en bosboubeamptes het toegang daartoe gehad. Dit was ’n roete van so ongeveer 50-60 km. (Daar word ernstig gedink om ’n kernkragsentrale in die Oos-Kaap te Thyspunt op te rig. Wanneer julle hier lees, is dit dalk al opgerig.)

Toe ons by die laaste bewoonde plaas voor die grensdraad van Thyspunt aankom, waarop daar slegs twee arbeiderswonings is wat net deur twee arbeiders en hulle families bewoon word, meld een van die arbeiders, dat daar die vorige dag op die gronde van Thyspunt gejag is. Hy het ’n Landrover met twee witmans op die gronde aangetref, en hulle het heel onskuldig gesê dat hulle net na die strand toe gekom het. Hulle het toe vertrek. Hy het die Landrover se registrasieletters en -nommers neergeskryf en dit vir ons gegee.

Ons informant is seker dat die mense in die Landrover bokke geskiet het, want hy het heelwat skote die vorige dag hoor klap. Hy neem ons toe na die plek waar hy die Landrover gesien het. Ons vind motorbuitebandspore in die sanderige tweespoorpaadjie en in ’n digte bos vind ons ’n dooie bosbokram waarvan die binnegoed verwyder is en die keel afgesny is. Ons kyk nog verder rond en sowat 30 tree verder onder ’n ander bos vind ons ’n dooie bosbokooi waarvan die binnegoed ook verwyder en keelaf gesny is.

Ons loop soek-soek na moontlike koeëldoppies en vind een ,308 patroondoppie. Dit ruik nog na kruit. Ons laai die twee karkasse op en gaan terug polisiestasie toe. By die landdroskantoor, wat vroeër jare ook die registrasie van alle voertuie in ’n landdrosdistrik gedoen het, vind ons dat die Landrover aan ’n Terblanche van die plaas Palmietfontein behoort.

Ons plaas die twee karkasse in die koelkas van Jackie Ferreira se slaghuis op die dorp, en ons vertrek na die Terblanche se plaas. Ons vind die Landrover, ondersoek die bak en vind bloed op

die bak en ook dierehare – donkerbruin en rooibruin hare. Ek neem monsters van die droë bloed en dierehare wat op die Landrover gevind word. Terblanche word gekonfronteer met die bloed en die hare en die feit dat hy te Thyspunt was en daar gejag het. Hy erken sy teenwoordigheid op Thyspunt, maar hy ontken egter dat hy gejag het en sê dat die bloed en hare op die Landrover die van ’n bees is wat hy op sy plaas geskiet het en na sy eie slaghuis op die plaas vervoer het. Ek vind ‘n vars vel van ‘n geslagte bees in die koelkamer.

’n Bosbokram het horings en is amper swart van kleur (Foto: Google.

’n Bosbokooi het nie horings nie en is bruin van kleur.(Foto: Google).

Monsters van die bloed, en die hare op die nat beesvel van die bees wat in sy koelkamer hang, word geneem. (Die ironie van dit alles is dat ek vir Terblanche nogal gevra het om vir my ’n paar ongebruikte koeverte te gee sodat ek die monsters wat ek geneem het, daarin kon plaas, die koeverte merk en toegeplak het.) Op sy ,308 jaggeweer word beslag gelê, bloed en haar monsters van die twee bosbokkarkasse by Jackie Ferreira se slaghuis word geneem. Al die hare monsters en die geweer en patroondoppie word vir ontleding weggestuur. Die jaggeweer en patroondoppie, asook die hare is na die Suid-Afrikaanse Kriminele Buro (SAKB) van die SA Polisie te Pretoria gestuur, maar die bloed-monsters na die Departement van Gesondheid se laboratorium te Pretoria. Soos reeds vroeër vermeld, was daar nog geen forensieselaboratoriums wat die ontledings, vergelykings en skanderings kon doen nie.

Die uitslag van die bloed en hare op die Landrover se bak is positief geïdentifiseer met die hare en bloed van die twee bosbokkarkasse. Die SAKB bevestig dat die patroondoppie deur die ,308 jaggeweer afgevuur is. Ons gaan terug na die plaas Palmietfontein toe en waarsku Terblanche dat hy aangekla gaan word. Hy wys sy skoonseun uit as die persoon wat saam met hom te Thyspunt was en ek lê beslag op die Landrover asook ’n tweede jaggeweer. Dit was’n ,370 jaggeweer. Sy skoonseun, Herselman, ’n oud-polisieman, word insgelyks gewaarsku dat die saak na die staatsaanklaer gestuur gaan word vir oorweging van kriminele aksie teen hom en sy skoonpa.

Die staatsaanklaer besluit om beide die manne te vervolg. Beide persone word gewaarsku om voor die hof te verskyn en pleit skuldig op die aanklagte teen hulle en word later in die landdroshof skuldig bevind aan:

1) Jag buite seisoen,

2) Jag sonder eienaar se toestemming, in die alternatief ‘Betreding van staatsgrond sonder ’n permit’ en

3) Jag van beskermde wild – bosbokooie word gelys as beskermde wild. Die twee gewere asook die Landrover word aan die Staat verbeurd verklaar. Die twee bokkarkasse is vernietig. (Glo julle dat die twee karkasse vernietig is?) Beide aangeklaagdes is met swaar boetes gevonnis op al die aanklagtes.

Die volgende insident is waar ek ’n gesteelde motor met ons eerste splinternuwe motor, ’n 1969 Chevrolet Kommando, gejaag het:

Ek is een Sondagmôre tuis en maak gereed om saam met Corrie en die vyf seuns kerk toe te gaan. Die telefoon lui en konstabel Okkie Ferreira, op aanklagkantoordiens, sê dat Kareedouw polisiestasie geskakel het en die beskrywing gegee het van ’n motor wat brandstof by ’n garage (die enigste motorhawe op die dorp) ingeneem en weggejaag het sonder om daarvoor te betaal. Die beskrywing van die motor wat hy ontvang het was: ’n 1969 geel Ford Farlane sedan met Laingsburg registrasienommers en dat die bestuurder, ’n swartman is. Hy is alleen in die motor. Ek, geklee in ’n pakklere se langbroek en hemp sonder das, gryp my kombinasielyfband waarin my ,38 rewolwer is, Corrie en die seuns klim vinnig in ons motor en ek gaan laai hulle by die kerk af. Dit was so omen-by 15 minute voor nege die oggend. Die patrolliewa met die tweerigtingradio, bestuur deur konstabel Wilhelm Schreuder, is uit in die woonbuurtes met ’n swartkonstabel as passasier. Ek het vir Okkie Ferreira by die aanklagkantoor gaan oplaai om saam met my te gaan en die aanklagkantoor in beheer van ’n swartkonstabel gelaat.

Nou ry ons ore-in-die-nek met hierdie splinternuwe 1969 wit sessilinder Chevrolet Komman- do motor met ’n swart vinieldak, na N2 (toe nog die enigste nasionale pad tussen Port Elizabeth en Kaapstad wat deur die dorp geloop het). Ons gaan na die westelike ingang tot Humansdorp. Ons trek my motor langs die pad op die gruisgedeelte om reghoekig tot die teerpad te wys, om sodoende gereed te wees om die motor wat in aantog is dadelik te kan volg, sou hy ons teken om te stop, verontagsaam. Ek en Okkie klim uit en gaan staan langs die pad. Ons weet dat as die motor wel in Humansdorp se rigting weggejaag het, en nie in die Kaapse rigting nie, dit so ongeveer 20 minute sal duur vandat ons die telefoonoproep ontvang het, dan sal dit te voorskyn kom, want Kareedouw is 35 myl (ongeveer 55 km) vanaf Humansdorp. Gelukkig kom Schreuder en sy passasier hulle ook by ons voeg en ek vertel hom wat die posisie is en dat hy sy voertuig langs my motor moet trek, die enjin laat luier en dat hy en sy passasier nie moet uitklim nie, sodat, sou ’n agtervolging nodig blyk te wees, hy voor my die agtervolging kan aanpak.

Om ongeveer 09:00, net nadat ons die strategie van optrede klaar bepaal het, hoor ons hoe daar ’n motor teen ’n geweldige hoë spoed van Kareedouw se kant af aankom, maar ons kon dit nog nie sien nie, want in daardie rigting het die pad ’n lang draai wat in ’n duik na ons kant toe eindig, voordat dit op die bult, so ongeveer 400 treë van ons af, sigbaar sou word. Ek en Okkie beweeg na die kant van die pad toe en toe die motor uit die duik in ons gesigsveld kom, sien ons dat dit ’n geel motor is. Ons kon toe nog nie die registrasieletters sien of die fabrikaat en model van die voertuig en wie die bestuurder is nie. Ons kom staan langs mekaar en begin met hand seine te wys dat die bestuurder moet stop. Ons polisie intuïsie laat ons besef dis die motor waarvoor ons wag. Dit is duidelik dat die motor vinniger versnel en op ons afpeil en nie van plan is om te stop nie, ek trek my rewolwer om op die aankomende motor te skiet. Ek trek die sneller toe die motor nie verder as omtrent 50 treë van ons is nie, en daar is net ’n sagte klikgeluid soos die hamer op niks vasslaan nie. Ek besef dat ek, soos gewoonlik, my rewolwer wanneer ek tuiskom as ’n veiligheid- en voorkomingsmaatreël ontlaai en in ’n hangkaslaai in my kombinasielyfband, wegbêre sodat die wapen veilig is vir moontlike ondersoekende ogies en of soekende hande van klein kindertjies. Ek en Okkie spring uit die pad, die motor snel verby en gaan met skreeuende bande die draai in wat afdaal na die dorp se eerste woonbuurt toe.

Wilhelm en sy passasier se patrolliewa is dadelik in rat en begin die agtervolging. Ek en Okkie spring nou in my motor en ons volg die twee voortjaende voertuie voor ons. Ek sê vir Okkie om sy vuurwapen gereed te hou sou ons dit nodig kry in die jaag proses. Sy wapen was darem gelaai. Voordat ons die dorp se uitgang aan Port Elizabeth se kant bereik, gaan ek die patrolliewa verby teen ’n spoed van lig. Ons sien die motor sowat 500 treë voor ons, maar die pad is nou en daar naby Jeffreysbaai se afdraaipad, ongeveer 16 km vanaf Humansdorp, gaan ons Jeffreysbaai se patrolliewa verby wat deur Wilhelm op die radio opgekommandeer is om ’n enkel voertuig padblokkade by die aansluiting by N2 op te stel. Hulle is te laat om die blokkade op te stel en ons snel verby. Okkie klou vir wat hy werd is en somtyds gaan die naald op die spoedmeter hier na 120 myl per uur se kant toe (ongeveer 200 km p/u), die maksimum spoed volgens die vervaardigers van die motor. Die enjin sing, maar die Ford bly voor ons. Die distansie word nie kleiner tussen die twee voertuie nie. Die Ford gaan eerste oor die enkelbaanbrug oor die Gamtoosrivier, ongeveer 40 km vanaf Humansdorp en ek moes wag vir twee motors wat stadig van vooraf, nadat die Ford verby is, op die brug ingekom het wat nou op pad is na Humansdorp toe. (Dis dieselfde brug wat so onder water was met die groot vloed.) Ek swets maar so stilweg. My motor ruik na olie wat brand, maar ek steek die motor se neus in op die brug toe die tweede motor verby is, en nou volg die jaery van vooraf. Die voortjaende geel Ford is nou nie meer in sig nie. Die pad maak nou baie draaie na Thornhill toe, dan lê die Van Stadenspas met sy skerp draaie vir die volgende 6 kilometer voor, en nou moet ek al my bestuurs-vernuf en -vaardigheid aanwend om nie die pad te verlaat nie. Okkie sit steeds met groot oë met sy rewolwer in sy regterhand, sy voete reguit vasgeskop teen die enjinskerm by sy voete en hy hang soos ’n lapswael met sy linkerhand aan die handvatsel bokant die deur. Ons gesels deurentyd, maar hy kyk nie na my nie, want sy oë bly vasgenael op die pad voor ons. Kom ’n draai nader, dan sluk hy sulke lang slukke soos ’n volstruis wat klippe sluk en skop sy bene nog verder reguit. Toe ek die pas deur is, is daar geen teken van die Ford nie. Die nuwe herboude N2 se tweerigting nasionale pad begin net by die uitgang van die pas en daar is ’n swartman van die Kaapse Nasionale Paaieafdeling op diens om die verkeer weg te wys vanaf die nuwe toegangspad na die Van Stadensrivierspanbrug wat nog in aanbou is. Dié brug wat sedert die laat sewentigerjare in gebruik geneem is, het bykans ’n honderd persone na hulle dood sien val. Hierdie brug staan vandag nog bekend as die selfmoord brug in Suid-Afrika.

Die ou brug in Van Stadenspas met die nuwe spanbrug wat hoog bo die pas uitstyg. (Foto: Google). Ek vra die swartman of daar ’n geel motor voor hom verby is en in watter rigting dit gery het, Port Elizabeth toe of na Uitenhage toe. By die punt waar die swartman as wagdiens doen, is juis die

padaansluiting Uitenhage toe. Hy sê ja daar is ’n geel motor verby en wys Port Elizabeth toe. Die pad is dubbel en reguit. Nou loop die Chev voluit. Ons sien geen geel Ford motor nie. Ek wonder nog of die swartman wel verstaan het wat ek gevra het, dit nou maar daar gelaat.

Ek kom Port Elizabeth ingejaag en ry so vinnig moontlik direk deur na Kwazakhele polisie-stasie toe. Spring uit en identifiseer myself, vra die swartsersant op aanklagkantoordiens om die kantoor se tweerigtingradio te gebruik na Port Elizabeth en Uitenhage se Radiobeheerkamers toe. Hy stem in. Ek verskaf die inligting tot ons beskikking en hulle onderneem om alle patrollievoertuie per radio opdrag te gee om op uitkyk te wees na die motor. Ek en Okkie ry nou rustig terug Humansdorp toewat sowat 50 myl (80km) ver is en ons gesels land en sand oor die ervaring en bespiegel hoekom ons nie die Ford kon vang nadat ons oor die enkelbaanbrug oor die Gamtoosrivier is nie. Ek is nog bewus van die sterk olie reuk en sodra die motor 100myl per uur bereik (160kmp/u), {onthou die spoedperk op nasionale Paaie was toe nog 120 myl per uur (200kmp/u}), begin die motor te vibreer, maar teen 110mpu gaan dit verby. Nou ry ons net verby die 100mpu op die spoedmeter, sodat die vibrasie nie sy kop kan uitsteek nie. Ek laai Okkie by die aanklagkantoor af, sodat hy die nodige inskrywing in die Voorvalleboek kan maak en ek gaan na die kerk toe. Dis so ’n paar minute voor tienuur. Die kerk kom net na 10:00 uit en Corrie met die kinders klim in die motor en almal wil weet wat gebeur het. Ek gee ’n lopende relaas van wat gebeur het, terwyl ons terugry huis toe. As nabetragting besef ek dat ons 160 kilometer gery het, by Kwazakhele polisiestasie aangedoen het, die inligting na die twee Radiobeheerstasies deurgegee het, vir Okkie by die aanklagkantoor afgelaai het en binne ’n uur weer terug was by die kerk waar ek vir Corrie en die kinders sit en wag het. (Werk maar self uit wat my gemiddelde spoed was waarteen ons gejaag het op die ou N2 met ’n 6 km bergpas tussenin.)

Net so ’n model 1969 Chevrolet Kommando as myne waarmee ons die gesteelde motor gejaag het in Humansdorp. (Foto – Google).

Julle wil seker die end van hierdie storie hoor? Kom ek laat julle in die geheimenis van hierdie insident se einde in:

By die aanklagkantoor stel ons per radio by Laingsburg vas dat die geel Ford Farlane, ’n dokter se motor is wat gesteel is;

Dit het later geblyk dat die dief ook petrol by verskeie dorpe in die Karoo ingetap en weggejaag het sonder om daarvoor te betaal;

Hy is sowat twee weke later deur die polisie op Hankey arresteer op inligting wat deur ’n beriggewer voorsien is. Hy was toe nog steeds in besit van die Ford Farelane;

Hy het die motor in ’n klein bospaadjie gelos wat uit die N2 nasionale pad uitdraai nadat hy oor die Gamtoosrivierbrug was, dis hoekom ons hom nie weer kon optel in ons agtervolging nie. Hy het toe by vriende te Hankey gaan bly;

Hy was oorspronklik van Hankey waar hy gearresteer en gevonnis is tot twee jaar Gevangenisstraf weens huisbraak en diefstal en was in die Simondium Gevangenis naby Paarl opgesluit. Hy het daar uit ’n werkspan van medegevangenes ontsnap;

Hy het ‘n motor in Paarl gesteel en toe die motor by Laingsburg sonder petrol gaan staan het, het hy die Ford Farelane gesteel;

Hy was ook verbind met ’n inbraak by ’n winkel op Jeffreysbaai, waar van die dorp se inwoners gesien het dat ’n geel motor in die nag van die perseel weggery het. Hy het erken dat hy gedurende die twee weke voor sy arrestasie te Hankey, gereeld saans met die motor rondgery het en dit dan weer in die bospaadjie gaan verberg het;

Sy saak het voor die Streekhof te Humansdorp gedien weens huisbraak en diefstal, versuim om te betaal vir brandstof te Kareedouw, en ook oortredings van die padverkeersregulasies, onder andere die spoedperk deur Humansdorp veronagsaam het en ook versuim het om stil te hou toe hy deur polisiebeamptes, dmv handseine, nie wou stilhou nie. Hy was weer tot ’n lang gevangenisstraf gevonnis. Al die oortredings wat hy in die Karoo gepleeg het, is na ’n sentrale punt vir verhoor gestuur. Hy is onder begeleiding na Beaufort-Wes geneem waar hy in die streekhof op BeaufortWes verskyn het. Die klagtes teen hom aldaar was die ontsnapping uit `n gevangenis, die diefstal van die motor in Paarl en die een in Laingsburg en diefstal van petrol by vulstasies in die Karoo. My motor het ek die Maandag na die jaery op Sondag, by die motorhawe gelos waar ek dit gekoop het en gevra dat hulle moet kyk hoekom daar so ’n sterk oliereuk is en hoekom die motor só vibreer. Dit was vasgestel dat die fabriek ’n foutiewe dryfas in die motor gemonteer het en dat ek gelukkig was dat dit nie uit die ratkashuls (“bell house”) uitgetrek het toe ek teen so ’n hoë spoed gery het nie. Die oliereuk was afkomstig van die enjin se klepdeksel (“tappet cover”) wat nie behoorlik geseël het nie. Daar was gelukkig nog genoeg olie in die oliepan van die motor, sodat die enjin nie vasgebrand (“seized”) het nie.(in werktuigkundiges se taal sê hulle, ‘ die enjin is geblaas’). Dit was ’n splinternuwe motor en die General Motors se monteerfabriek in Port Elizabeth het die motor teruggeroep. Daar is toe ’n nuwe ratkas, nuwe (die regte) dryfas en die enjin se klepdeksel (“tappet cover”) gratis herstel en vervang. Gelukkig was die enjin nie beskadig nie. Sela.

Daardie beloofde insidente wat Corrie as spesiale matrone by die polisiestasie ervaar het, word nou verwoord:

Corrie, as my regterhand, het self ook twee ervarings gehad toe sy vroulike gearresteerdes moes visenteer voordat hulle opgesluit word. Sy was as ’n spesiale matrone vir dié taak aangestel. Ek moes aan die einde van elke maand ’n eis na SA Polisie Hoofkantoor indien vir die dae wat sy hierdie taak verrig het. Vir elke dag wat daar dan ’n vroulike gevangene in die sel is, het sy die betaling van ongeveer R0,50 (vyftig sent) per dag ontvang. Sy was ook as verskaffer van etes vir blanke gevangenes aangestel waarvoor die betaling ook maar sowat R1,50 per ete was. Dit was haar inkomste wat sy kon gebruik soos sy wil. Maandeliks het dit maar so tussen R10,00 – R20,00 beloop, afhangende hoeveel vroulike- en blanke gevangenes daar gedurende die maand gearresteer was.

“O, julle vra wat het daar met Ma gebeur tydens haar diens as spesiale matrone?” Ek gaan julle nuuskierigheid nou bevredig deur die volgende twee insidente vir julle te beskryf:

Die eerste insident:

Die aanklagkantoor versoek haar per telefoon om kantoor toe te kom om ’n vroulike gearresteerde te kom visenteer. Ek is in my kantoor en ek sien sy kom verbygestap saam met kleurlingkonstabel Groep wat ’n persoon aan sy arm het en ek hoor hulle gaan by die kantoor langs myne in sodat die visentering daar kan plaasvind. Dit was die kantoor van konstabel Richardson wat alle ondersoekwerk in die dorp verrig het. Ek hoor ’n gelag en sy kom my kantoor in. Sy sê sy gaan nie dié persoon visenteer nie, want dit lyk vir haar of dit ’n swart manlike persoon is wat ’n kopdoek en ’n rok aan het.

Ek gaan saam met haar na die kantoor waar die persoon is. Groep sê toe dat ’n klomp swartvroue in die lokasie (hedendaags word lokasies woonbuurtes of ‘townships’ genoem), New Look, hom voorgekeer het en gesê het dat hierdie persoon by hulle kom sit het en sy wou saam met hulle eet, maar dat hulle glo dat dit ’n man is wat soos ’n vrou vermom is om hulle te kom molesteer. Ons kry een van die swartkonstabels om as tolk op te tree. Dit is ’n vreemde persoon en is nie aan die inwoners van die New Look lokasie bekend nie. Die persoon word ondervra deur myself en Groep wat tolk, maar ons kan nie vasstel of die persoon wel ’n man of ’n vrou is nie. Hy/sy wil nie op daardie vraag antwoord nie.

Ek het dit op my geneem dat Corrie wel die persoon moet visenteer deur alle klere te laat uittrek. Vroue se visentering het op dié wyse plaasgevind. Konstabel Groep het by die deur, wat op ’n skrefie oop gehou is, gestaan, sodat hy dadelik kan reageer as Corrie sou sê die persoon is ’n man. Toe al die klere op ’n hoop op die vloer lê het sy gesê dit is ’n vroulike persoon, wat maar net soos ’n man gebou is. Sy het nie veel van vroulike buuste gehad nie en haar bene was gespierd en dik. Haar klere is deurgegaan en niks onwettig is daarin gevind nie. Sy was, net omdat sy nie ’n wettige inwoner van die dorp is nie, aangekla weens oortredings onder die Wet op Bantoe Administrasie. (Geen bewysboek en in beheerde gebied sonder permit.) Ja, dit was in die ou Suid-Afrika en instromingsbeheer van vreemdelinge (swartes) was streng toegepas, want hulle sou die werksgeleenthede en behuising van plaaslike inwoners in ’n beheerde gebied, ontneem. (Dit klink bekend na die hedendaagse vreemdelingehaat [xenofobie], wat in ons land plaasvind.) Ons het haar dadelik na die hof toe geneem, sy is skuldig bevind en met ’n paar Rand beboet, wat sy nie kon betaal nie. Ek het opdrag gegee dat sy dadelik na Port Elizabeth se Vroulike Gevangenis afgevoer moet word, want ek het uit ervaring geweet dat die ander vroulike gevangenes haar nie daar by hulle in die sel sal wou hê nie. Die vroulike gevangenes het seer sekerlik in die selle gehoor hoe daar deur die gevonnisde gevange-nes wat diens op die terrein verrig, gespot en gelag word oor die ‘moffie’ wat gearresteer is. Ja jong, niks bly ook ’n geheim vir aangehoudenes in tronke en in polisieselle nie!

Die tweede insident:

Nou ietwat van ’n komiese situasie wat sy ervaar het. Ek en konstabel Wilhelm Schreuder hoor op ’n Sondagmiddag daar staan ’n motor op die N2, net buitekant Humansdorp. Dit is nie behoorlik van die ryvlak afgetrek nie en daar sit twee blankevroue in die motor. Ons vind die motor, ’n Hillman Minx, sowat twee kilometer buite die dorp. Daar is twee jong vroue, ek skat hulle so 20-23jr oud wat besig is om wyn uit ’n bottel te drink. Ons gaan na die motor toe en beveel hulle om uit te klim, sodat ons die motor van die pad kan aftrek. Toe die twee uit die motor is, sien ons dat hulle heelwat onder die prop gehad het en al waggelend met ons wil argumenteer. Ons stoot eers die motor uit die pad en toe gee ons ons aandag aan die twee vroue. Ons gryp hulle en sê dat ons hulle arresteer vir ‘Drank gebruik in die openbaar.’ Hulle baklei, skop en krap, maar ons sleep-dra hulle een vir een na die patrolliewa toe plaas hulle agterin en maak die agterdeur toe. Hulle raas nou, baklei en vloek allerleliks. Wilhelm bestuur die vroue se motor polisiestasie toe en ek gaan met die patrolliewa terug dorp toe. Ons het nogal ‘n redelike aantal toeskouers gehad, want daar was ‘n paar motors wat nie by die vrouens se motor kon verbykom nie.

Die twee was behoorlik aan die baklei met mekaar agter in die patrolliewa. Hulle skree soos maer varke wanneer hulle mekaar se hare trek en mekaar se gesigte met hulle naels krap. Kort-kort val hulle teen die sifafskorting tussen die bak en die bestuurder se kajuit. By die polisiestasie kry ons hulle effe onder beheer deur hulle van mekaar te skei. Toe hoor ons dat hulle van die blankemeisies is wat te Patensie kom lemoene pak het. Daardie jare het blanke-meisies vanaf Zebediela, die lemoenwêreld in die Noorde van Transvaal, (huidig die Limpopo Provinsie) gekom om lemoene in die Kaapprovinsie te kom pak. Eers te Addo by Hermitage waar die Sondagsrivier se Sitruskoöperasie is, en dan kom hulle na Patensie toe om lemoene by die Gamtooskoöperasie te kom verpak. Daarna vertrek hulle na Joubertina in die Langkloof, vandaar na Grabouw en Elgin toe in die Wes-Kaap om appels te gaan pak. Hierdie twee dames was juis twee van een van daardie spanne wat soos trekvoëls deur die land getrek het om lemoene en appels te pak

Corrie word geroep om hulle te kom visenteer. Hulle is moederlooslik dronk en baie aggressief. In Richardson se kantoor, waar die vroulike prisoniers gevisenteer word, takel die twee toe weer mekaar. Corrie sê dat hulle moet hul klere uittrek. Die een sê vir die ander: “Ek vermoor jou!”

Die ander een weet nie met wie gepraat word nie, en skree sommer op Corrie: “Ja, ek vermoor jou.”

Ek en Wilhelm staan by die toe deur en Corrie sê net: “Bokkie kom help.”

Ons maak die deur oop, Corrie is nog nie aangeval nie en nou gooi ons twee mans alle ordentlikheid, kuisheid, menseverhoudings, empatie en al die ander byvoeglike naamwoorde wat jy kan gebruik wanneer mans met vroulike gearresteerdes werk, oorboord. Ek en Wilhelm gryp elkeen een, trek hulle kaalgat uit, Corrie gaan die klere na, vind niks wat gevaarlik is nie en nou sê ons vir hulle: “Trek julle aan en hou op met julle nonsies.” (Gelukkig het hulle geen saak teen ons twee mans gemaak dat hulle in hul eer en waardigheid, gekrenk of aangetas was nie! Het besope vrouens dan nog ‘dignitas’ as hulle oproerig is en onder bedwang gebring moet word?)

Nadat hulle deur die “boeke gesit” is, word hulle na die sel vir blankes geneem. Hulle hare staan soos Daisy de Melker s’n, die gifmoordenares wat in die polisiemuseum afgebeeld is. Hulle klere, daardie tyd het baie vrouens nog rokke gedra, is omtrent geskeur en hulle gesigte het rooi kraphale oor die wange. ’n Polisiesel en alleenopsluiting, is die beste plek waar ’n dronk mens tot verhaal en stilte kom.

Maandag kom hulle voor die hof, nadat hulle hulself meer respektabel probeer maak het met klere wat nog in hulle motor was. Hulle word met ’n paar Rand beboet weens “Drank gebruik in die openbaar”. Hulle het darem ’n paar Rand in die motor gehad en hulle verkas nadat hulle die boete wat hulle opgelê is, betaal het. Joubertina, hier kom ons twee vriendinne om appels te gaan pak, wees gewaarsku!

Ek het reeds vroeër melding gemaak van Oubosstrand waar die Staatspresident, adv. John Vorster, ’n strandhuis gehad het. Die polisie het toe ’n houthuis daar opgerig waar die spesiale wageenheid se polisiebeamptes, wat oom John en tant Tienie moes oppas, kon bly en leef solank as wat die egpaar en hulle naby-familie hulle by die see met vakansie bevind. Daardie huis was staatseiendom en ek, as die stasiebevelvoerder van Humansdorp, was ook verantwoordelik dat instandhouding gedoen word en inspeksies by hierdie woonhuis uitgevoer word.

Ek ontvang gewoonlik ’n teleks berig, per telefoon aan my oorgedra vanaf Uitenhage, wanneer die presidentspaar en die spesiale wageenheid by Oubosstrand sal wees. Ek gaan dan soontoe met ’n paar prisoniers, sluit die wagte se huis oop en begin skrop en ‘polish’ en skoffel om die huis. Dieselfde by oom John se huis. Ons neem die vier 200lb gasbottels en ry Humansdorp toe om dit met gas te vul, want daar was daardie tyd geen elektrisiteit te Oubosstrand nie. Laat beddegoed, tafeldoeke, handdoeke en alle gordyne, (as dit lyk of dit vuil is) by die wassery op Humansdorp, was

en stryk. Reël vir radiokommunikasie met Port Elizabeth se Radiobeheerstasie en laat ’n lys by die twee woonhuise waar dokters, apteke, hardewarewinkels, motorbuitebande, vars vrugte en groente gevind en op staatskoste vir die spesiale wageenheid se lede aangekoop kan word. Ek sal alle rekeninge en fakture, na die vertrek van die president en die wagte, by al die leweransiers op die dorp bymekaar maak, dit orden en op eisvorms lys en na Pretoria Hoofkantoor, via die distrikskommandant te Uitenhage, vir betaling deurstuur.

Na hulle vertrek, gaan ek en hou ’n inspeksie van alle staatseiendom by die wagte se huis. Ek maak lyste van tekorte, brekasies, beskadigde en ondiensbare items en dien ’n volledig skriftelike verslag via die distrikskommandant te Uitenhage na Pretoria Hoofkantoor in. Die distrikskommandant verkry magtiging vanaf die SA Polisie se kwartiermeester om dit wat te kort, gebreek of ondiensbaar is, af te skryf en om nuwes aan te vra. By ontvangs sal ek toesien dat dit weer by die wagte se woning besorg word. Hierdie prosedure was seker maklik sowat 10 keer herhaal, want soms het oom John vir slegs ’n langnaweek ook daar kom rus en dan het die spesiale wageenheid se manne ’n dag voor sy aankoms arriveer.

Ons polisiestasie moes soms ook maar persoonlike versoeke en takies vir die presidentspaar doen wat via die wagte per radioverbinding aan ons oorgedra word. So het tant Tienie, oom John se eggenote, eendag op haar reis vanaf Port Elizabeth waar sy ’n damesvergadering toegespreek het, gesien dat daar by die Gamtoosrivierbrug mooi groot groenmielies verkoop word. (Dieselfde brug waar ek en Okkie moes wag dat die twee motors wat van vooraf oor die brug aangekom het, by ons verbykom, voor ons die agtervolging van die geel Ford Farlane kon voortsit.) Ons word versoek of ons nie dalk vir haar huishouding ook van dié mielies kon kry nie. Ek skakel Thornhill polisiestasie in wie se polisiewyk dit is en vra dat die stasiebevelvoerder, sersant Bekker, ’n paar mielies koop en dit tot by Jeffreysbaai polisiestasie moet bring. Ek versoek Jeffreysbaai se stasiebevelvoerder, sersant Mostert, om sodra Thornhill dit kom aflewer hulle dit na Humansdorp polisiestasie toe moet bring. Só gesê, só gedoen. Sowat ’n uur later hou Jeffreysbaai se polisiebakkie stil en laai ’n hele mudsak van die groenmielies af. Die eienaar van die mielies het, toe hy gehoor het dis vir tant Tienie se huishouding, sommer ’n mudsak vol gestuur en gesê dat dit ’n geskenk van hom is. Ek gesels per radio met Oubosstrand en sê die mielies is op die dorp en dat ek nou ons patrolliewa met die mielies laat deurry na hulle toe, maar dat die wagte ’n halfpad ontmoetpatrollie moet reël om die mielies in ontvangs te neem. Dis gedoen. Tant Tienie het via die president se lyfwag, majoor Stan Schutte, haar dank betuig. Die wagte het blykbaar ook van die mielies gekry, want dit was ’n moerse lot wat hulle alleen nie sou kon baasraak nie. Terloops, dié majoor Stan Schutte het later verder in range gevorder en is uiteindelik na SA Polisie Hoofkantoor in Pretoria verplaas waar hy as luitenantgeneraal die land se Speurhoof geword en daar afgetree het. Ekself was later ook saam met generaal Schutte ’n lid van die generaalsklub, maar daaroor later. Generaal Schutte is sedertdien oorlede.

Gedurende September 2013 het ek die motorbestuurder van staatspresident Vorster se motor, by ’n geselligheid te Pretoria ontmoet. Hy is kaptein Tatties van Rooyen. Hy was toentertyd ’n sersant. Tatties vertel toe aan my van ’n insident waarby hy ook betrokke was toe ek die stasiebe-velvoerder van Humansdorp was. Hy meld dat die kwartiermeester in Pretoria vergeet het om toilet-papier vir die spesiale wageenheid se manne te gee. Hy het toe na Humansdorp toe gery waar hy met my kom gesels het oor hierdie nalate. Ek het gelukkig tot hul redding gekom deur een kartondoos met 144 rolle toiletpapier, wat vir die prisoniers se gebruik in die selle, deur Departement Openbare Werke voorsien word, aan hulle te gee. Ek het glo aan hom gesê om dit nie deur hulle agterente te trek nie. (Woordspeling) Gelukkig kon ek weer my voorraad d.m.v. ’n aanvraag by die Departement Openbare Werke se Streekkantoor te Port Elizabeth, aanvul. Wys jou net dat daar niks in die wêreld is wat nie ten alle tye deur amptenary nagekom kan en moet word nie.

Wel, Oubosstrand het gereeld my aandag geniet en derhalwe het ek soms ook vir Corrie en die kinders saamgeneem om na die twee huise te gaan kyk, wanneer die presidentspaar en die wageenheid se manne nie daar is nie. Die Stormsrivier (in daardie geweste ook die ‘Grootrivier’ genoem) loop neffens die presidentshuis in die see. Daar is die mond van dié rivier redelik wyd en baie opdrifsels word teen die walle vasgespoel. By een so ’n besoek het ek ’n afgesaagde olienhoutstomp opgetel. Dit het lank by ons huis voor die kaggel gestaan. Dit het die mooiste vorm gehad. Ons het dit op sy lengte (horisontaal) voor die kaggel geplaas. Later, toe ons alreeds in Pretoria-Noord gebly het, het ’n vriend van ons, oom Zoon Beukes, Kwarta Pretorius se pa, ’n muurhorlosie daarvan gemaak. Oom Zoon het die blok geneem, dit op sy lengte gekloof sodat die twee stukke soos ’n oop boek teen mekaar kon pas. Hy het die twee stukke teen mekaar vasgelym, geskuur, vernis en so `n muurhorlosie gemaak. Ons het nog steeds hierdie muurhorlosie en dit is steeds een van ons kleinode. Foto’s van die gekloofde stomp en die muurhorlosie verskyn elders in die boek.

Julle sal dalk dink dat ek van te veel insidente en/of misdaad in Humansdorp verwoord, maar dit is omdat die dorp op die destydse N2 hoofroete tussen Port Elizabeth en Kaapstad geleë is en dit die hoofdorp vir die dosyne strand- en vakansieoorde was. Misdaad en insidente was daar genoeg, veel meer as op Knapdaar en Burgersdorp. Tans loop die hoofroete tussen Port Elizabeth en Kaapstad, die N2, ongeveer 2km verby die dorp, maar die vakansie- en strandoorde het net vermeerder. En onthou, Corrie is in die distrik gebore, hier het die plaasgemeenskap vir haar en vir haar ouers geken, alhoewel hulle ’n geruime tyd reeds die dorp en distrik verlaat het.

Ek was nou die spreekwoordelike kitaarslaner van die polisie op die dorp en klagtes en inligting was op vertroulike wyse deur inwoners aan my geopenbaar. Ek het besef dat ek op hulle klagtes (somtyds net ’n terloopse opmerking) moet reageer, want daar kan wel ernstige misdade in die donker, deur inwoners van die dorp, gepleeg word.

Hier wys dit hoe die afgesaagde stomp gekloof is. Hier is die twee stukke wat teen mekaar gelym, geskuur, gepoleer en vernis is. (Foto’s: Werner)

By een so ’n geleentheid het ek inligting ontvang dat lede van die dorp se eerste rugbyspan, wanneer hulle op die dorp gespeel het, moederloos dronk raak en onverskillig in die laatnagure deur

die dorp rondrits. Wel, toe hulle weer een Saterdag teen ’n besoekende span gespeel het en as wenners uit die wedstryd getree het, en laatnag weer met hulle rondryery begin, het ek vroegaand reeds die stasie se blanke personeel opgekommandeer om in uniform in Hoofstraat, saam met my, ’n padblokkade te hou. Ek het ook toe reeds vir dr. Daan Delport, die assistent-distriksgeneesheer, telefonies verwittig dat hy op bystaan moet wees by sy huis, want daar sal seker ’n paar dronkbestuurders aangekeer word van wie hy bloedmonsters sal moet neem en ’n mediese verslag moet invul. Toe die eerste rugbyspeler aangekeer word, gevolg deur nog twee ander, het ons hulle dadelik na die aanklagkantoor geneem, dr. Delport geskakel, en hy het sy ondersoeke gedoen, sy vorms ingevul en bloedmonsters geneem. Dr. Daan Delport, nog ’n redelike jong dokter, bly toe sommer in die aanklagkantoor sit en gesels met ons tot in die vroeë môre-ure. Net gou-gou het die woord die rondte gedoen by die ander spul by die rugbyklub dat drie manne reeds gearresteer is, nou kom daar nog twee brawe manne met hulle motors om ondersoek te kom instel. Só was vyf van die vyftien eerste- span se spelers van die Humansdorp se rugbyklub in die spreekwoordelike ‘prisonierspan’ van die Humansdorp se polisiestasie opgeneem. Daar kom toe nog een, saam met ’n nugter man, by die polisiestasie aan, lekker getarra, (weet julle nie wat dit beteken nie? Hy was baie dronk!) en nou wil hy weet wat aangaan en of ons nie maar sy maters kan los nie. Een van die dorp se prokureurs, Ettienne Skein, is op die dorp se rugbyklub se komitee. Hy kom ook die aanklagkantoor binne. Hy was darem nugter. Terloops, hy was die seun van luitenant Skein wat by ons bevorderingseksamen te Middelburg (KP) as toesighouer voorgesit het. Hy wou weet of ons nie die manne op borg kan uitlaat nie. Ek het gesê eers na vier ure in aanhouding, want ons kan nie dronk persone op borgtog uitlaat nie.

Toe die dronk vriend nog wil argumenteer, toe sê ek vir Ettienne: “Hierdie man is in die aanklagkantoor, wat ’n openbare plek is en hy is dronk, as hy nie nou sy bek hou en die aanklagkantoor verlaat en in jou motor gaan klim en vir jou wag nie, word hy ook vir dronkenskap in die openbaar gearresteer.”

Dié brawe, slim man en dronkaard was toe deur mede-vriende weggelei. Einde van storie? Die mans is eers om 6uur die Sondagoggend op borgtog vrygelaat en hulle moes die Maandag in die hof verskyn. Dié voorval was die “talk of the town”, en nou het die inwoners maar baie lugtig geloop vir die polisiemanne op die dorp as hulle ‘n paar kappe agter die blad het.

Terloops, ek het hierbo vermeld dat dinge maar soms in die donker plaasvind. Ds. Basie van Eeden, ’n oud-Swellendammer en skoolmaat van my, en een van die NG Gemeente van Humansdorp se leraars, kom een môre onverwags by my in die kantoor aan. Hy wil sommer net kom gesels oor ons skooldae en skoolvriende. Net voor hy vertrek, vra hy : “Ben en hoe lyk die misdaad op die dorp?”

Ek sê toe vir hom: “Basie, ou vriend, die dorp sal verbaas staan as die son in die middel van die nag sou opkom en julle sien wie se motors staan voor wie se huise, en wie ry in ander mense se motors rond!” Hy het te lekker gelag.

In enige persoon se lewe kom daar soms dinge by jou verby, hetsy deur gedagtes of ’n persoon(e), van iets wat lank reeds in die verlede met jou gebeur het óf wat jy ervaar het, óf waarvan jy nog gedagtes uit jou onderbewussyn herroep. (Daardie ‘black box’ wat ek vroeër van gepraat het.) Dit het ook by menige geleenthede met my gebeur, veral as daar ’n persoon gearresteer word, en ek sy naam, tydens inspeksie, in die selregister raaklees.

Wel, ek moes as stasiebevelvoerder gereeld op ongereelde tye na-ure en oor naweke die aanklagkantoor besoek en ’n verrassingsinspeksie in die kleine uitvoer, wat ook ’n besoek aan die selle insluit. Ek kom die Sondagoggend, ek dink dit was gedurende 1969, sowat ’n jaar voordat ek offisier geword het, by die aanklagkantoor aan. Ek neem dadelik die sleutels van die brandkas en begin alle gelde te tel. Dit is gelde wat prisoniers in hulle besit gehad het tydens arrestasie en

242

borggeld wat betaal is. Boetes van aangehoudenes wat reeds gevonnis is en persone wat skulderkenningboetes vir geringe misdade, soos bv. Verkeersoortredings, kom betaal het. Die rede vir die tel van die geld, is om dit met die inskrywings in die onderskeie registers te kontroleer om te sien of die bedrae klop. Want daar was van die aanklagkantoorreserwes, net soos vandag nog die geval is by polisiestasies, wat van hierdie geld in hulle sakke steek, óf koeldranke en kos koop en die boeke (registers) dan ma-nipuleer (ons het sommer gesê hulle kook die boeke).

Ek gaan die selregister na en sien dat daar ’n wit egpaar as ‘behoeftige persone vir nagskuiling’, ingeboek is. (So terloops, daar was jare gelede die gebruik van padlopers, dis mense wat geryloop het, om by ‘n polisiestasie aan te klop vir oornag verblyf. As daar selle onbeset was, het die polisie altyd aan diegene gratis nagskuiling gegee.) Die inskrywing in die Voorvalleboek het na dié twee persone as boemelaars verwys. Ek besoek die selle en vra na klagtes en tel hulle om te sien of almal nog in die selle is waar hulle hoort. Ek besoek ook die blankesel en daar sien ek toe die twee wat kom nagskuiling soek het, op die selmatte en onder die komberse lê. Ek sê vir hulle dat hulle nou moet aanstaltes maak om te gaan, want ons mag dalk die sel later in die dag nodig kry vir gearresteerde persone. Die man kruip so in paaiemente uit onder die kombers, sy lang broek se regter broekspyp is opgeskuif en ek sien dat hy ’n regte horrelbeen het. Dit lyk asof die been ’n lang letsel van ’n ou wond aan die kuit het.

Toe skop my ‘black box’ in en ek sê vir hom: “My magtie Logie, (lees Loughie) waar kom julle nou vandaan?”

Hy antwoord: “Ek kom van die Kaap af en is op pad Port Elizabeth toe. Hoe ken meneer my?”

Ek vertel toe vir hom dat ek die bevelvoerder van die Knapdaar polisiestasie was en sy saak van aanranding en seksuele aanranding op sy vrou ondersoek het en dat die saak te Burgersdorp landdroshof gedien het. Dat dit gedurende 1962 was toe hulle padlangs na Bloemfontein toe op pad was en hulle by ’n spoorweg melkkanskuiling by die spoorweghalte Rockleigh, naby Knapdaar geslaap het.

Hy is baie verbaas en sê toe: “My hene, Meneer, ons was toe ook maar boemelaars soos nou. Nou onthou ek, ons het daar ook in die polisiesel geslaap en mevrou het nog die môre, voordat ons hof toe is, vir ons’n lekker bord kos gebring.”

Wel, die sel word oopgelaat sodat hulle kan vertrek wanneer hulle gewas en gereed is om verder die pad te vat Port Elizabeth toe. Ek stap toe gou oor huis toe en vertel vir Corrie van die geval, en vra of sy nie dalk maar twee borde kos vir hulle wil voorberei nie. Ons kon daardie jare vir haar, as spesiale matrone, etes vir blankes eis teen die groot bedrag van R1,50 per ete. Sy het vir hulle pap gemaak, brood en koffie gegee vir ontbyt en hulle is vort.

Dankie Liefste, dat jy dit ook uit jou hart gegee het, en nie vir die paar sente wat jy later daarvoor vergoed is nie, want die Here het mos gesê: “Ek was ’n vreemdeling en julle het My gehuisves; Ek was honger en julle het vir My iets gegee om te eet!…...” Ons sal nooit weet nie, maar dalk was dit die Here wat weer eens ons lewenspad gekruis het, en al was dit nie Hy nie, dan het ons probeer om die voorbeeld van naasteliefde wat ons Here vir ons op aarde nagelaat het, uit te leef.

Sóveel dae, soveel dinge. Ja, wie sou nou dink dat die All Blacks se rugbytoer na Suid-Afrika gedurende 1970, in die weegskaal was as gevolg van ’n arrestasie wat ek te Jeffreysbaai gemaak het. Die feite is soos volg:

Sersant Mostert van Jeffreysbaai polisiestasie bel een oggend, net so na 9vm en sê: “Meneer, die posmeester van Jeffreysbaai het gebel, hy sê dat hy vermoed dat ’n blankemeisie dagga per lugpos na Nieu Zeeland wil stuur. Ek het vir die posmeester gesê hy moet die posstuk eers terughou, dan skakel ek hom later. Meneer wat moet ek maak?”

Ek gee toe die volgende raad: “Ons kan haar vir besit van dagga aankla, maar dan moet ons haar positief met die posstuk verbind, en daar moet dan wel dagga in die posstuk wees. Weet ons wat haar naam is, en watter adres het sy opgegee as afsender? Ek sal jou sê, gaan na die poskantoor toe en wag daar vir my.”

Ek ry Jeffreysbaai toe en ontmoet Mostert by die Poskantoor. By die poskantoor gaan beide van ons na die posmeester se kantoor toe. Hy sê: “Hier is die posstuk wat versend moet word.”

Ek sien dis ten minste twee tydskrifte wat saamgerol en met ’n papier vasgeplak is. Dit lyk soos ’n koevert wat op die sykante oopgesny is en om die gerolde tydskrifte vasgeplak is. Die twee ente van die gerolde posstuk is oop sodat ons kon sien dis tydskrifte. Die naam van die geadresseerde is ’n persoon in Nieu Zeeland. Wat die afsender se naam is, kan ek nie meer onthou nie, maar kom ek gee haar ’n denkbeeldige naam en adres – ‘From: Elaine Carter, c/o Camping Site, Jeffreys Bay, South Africa. Contents: Periodicals.’

Die posmeester sê: “Jong ons kan nie die posstuk terughou nadat dit reeds ingegee en seëls opgeplak is nie. Ek het die meisie en die twee jongmanne wat saam met haar was, só beloer toe sy die tydskrifte op die toonbank plaas, en dadelik besef dat hulle van die klomp Nieu Zeelanders en Australiërs moet wees wat te Jeffreysbaai aan die Internasionale ‘Gunston’ branderplankkompetisie kom deelneem óf die deelnemers se ondersteuners is. Ek het die posstuk geweeg, seëls opgeplak en toe in ’n possak geplaas. Toe hulle die poskantoor verlaat, het ek dié posstuk uitgehaal en hier in my kantoor gehou want dit het opvallend swaarder as twee tydskrifte geweeg.”

“Nou hoekom kan jy nie die posstuk terughou nie?” vra ek.

Hy antwoord dadelik: “Omdat die Poskantoor Wet dit verbied, maar ons kan wel goedkeuring van Die Posmeester-Generaal te Pretoria bekom as ons ’n vermoede het dat ’n oortreding daarmee gepleeg word. Ons moet ons vermoede op skrif stel en aan hom stuur. Die lyn van kommunikasie in so ’n geval moet ook deur die SA Polisie se Hoofkantoor gaan.”

“Ag man ,” seg ek, “ons weet nog nie of daar ’n oortreding gepleeg is nie, want ons weet nie of daar dagga in die posstuk versteek is nie. Ons kan nie wag totdat ons eendag goedkeuring vanaf Pretoria ontvang nie, kom ons maak dit oop. As daar dagga in is, sit ons die wiele aan die rol vir die goedkeuring. Ons gaan dan na die kampterrein om vir Elaine Carter te gaan spreek, en waarsku haar om nie die land te verlaat nie.”

Ons twee partye stem in, en die posstuk word netjies oopgemaak en oopgerol. Dit is toe twee ‘My Fair Lady’ tydskrifte. Beide se skutblaaie is heel. maar in elkeen se binneblaaie is ’n vierkantige stuk uitgesny en dagga in ’n plastieksakkie, platgedruk, is in die holtes versteek. Ek en sersant Mostert spring weg op soek na die Elaine Carter. By die kampterrein hoor ons dat sy en twee mansvriende ’n bus gaan haal wat na Port Elizabeth op pad is. Ons ry direk na die opklimplek waar passasiers met die spoorwegbusdiens kan vertrek. Ons kry hulle nog in die dorp by die opklimplek waar hulle op die sypaadjie sit en wag vir die bus. Die bushalte was ongeveer 2 straatblokke vanaf die poskantoor.

Kom ek laat die gesprek wat gevolg het daar, en ek neem die besluit om vir Elaine te arresteer, want sy kon nie vir my ’n vaste adres in PE verskaf waar sy gaan bly nie, en ook nie vir hoe lank hulle nog in Suid-Afrika gaan vertoef nie. Sy word na die poskantoor toe geneem, sy identifiseer die posstuk as synde dit wat sy aan ’n vriend in Nieu-Zeeland wou versend en dat sy die tydskrifte só gedokter het om die dagga in te versteek. Ek sê vir die posmeester: “Wel hier is nou ’n oortreding gepleeg, ek neem besit van die posstuk as bewysstuk. Ek sal nou met my distrikshoofkantoor skakel sodat ons die regte pad kan loop vir die beslaglegging van die posstuk.”

Ek kom in Humansdorp aan met die gearresteerde en sy word deur die boeke gesit. Daantjie Strydom is die aanklaer en ons bring haar sommer voor die hof. Sy pleit skuldig en word deur die landdros skuldig bevind waarna haar saak vir 14 dae uitgestel word vir vonnis nadat ons haar vorige veroordelings gekry het. Sy word in die blankesel geplaas in afwagting dat ons haar die volgende môre na die Port Elizabeth gevangenis toe sal neem vir verdere aanhouding. Baie vroeg die volgende môre lui die telefoon. Dis die distrikspeuroffisier van Uitenhage en hy wil weet wat gaan aan, want die hel is los oor die meisiekind wat ons gearresteer het. Dis glo die afdelingskommissaris in die Baai en ook die Republiek se speurhoof uit Pretoria wat op sy nek lê. Ek verduidelik telefonies wat die feite van die saak is.

Hy sê: “Moet haar om hemelsnaam nie Port Elizabeth toe neem nie, wag ek kom terug na jou!”

Die einde van hierdie storie? Nee. Daar was op diplomatieke vlak met Buitelandse Sake en die Nieu-Zeeland se Konsulaat in Port Elizabeth, op aandrang van hulle Ambassade in Pretoria, geskakel en die onderneming gegee dat as ons die meisie sou toelaat, om sonder gevangenisstraf te gaan, hulle sal sien dat sy dadelik die land verlaat en dat die All Blacks rugbytoer wel later in die jaar sal plaasvind. Kyk net watter rimpelings het die arrestasie vir besit van dagga nie gehad nie. Daantjie Strydom en ek het vroeg-vroeg met die landdros gaan praat, die meisie weer voor die hof gebring, en die landdros het haar skuldigbevinding gehandhaaf en haar net ’n waarskuwing gegee, sonder dat ons gewag het vir haar vorige veroordelings. Dit was ’n wettig vonnis. Ons het haar uitgeboek en sy het daar by die polisiestasie gebly totdat ’n motor van die Konsulaat in PE haar kom haal het. Ek was deur die distrikspeuroffisier die versekering gegee dat die arrestasie wettig was en ons optrede binne die reg. Die koerante was vol van hierdie insident met opskrifte soos: “New Zeeland citizen arrested for Dagga in South Africa.”

Die dreigement dat die All Blacks se rugbytoer na Suid-Afrika afgestel sou word, is gelukkig nie in die koerante vermeld nie. Terloops, dit was die eerste rugbytoer van die All Blacks in Suid-Afrika waarin daar ook ’n nie-blanke was. Dit was ’n Maori wat ’n lid van die toerspan was, nl. Brain Williams. Ek het die toets wat daardie span teen die Springbokke in Port Elizabeth gespeel het gaan kyk. Hier neffens my skree een ou: “Keer daardie Ben Willemse (dis nou vir Brain Williams), vra sy pas, dan sal hy sommer uit die Baai weghol!” So ’n bietjie humor en fyn spot met die feit dat daar ‘n Maori in die span was.

Net maar ’n onlangse foto van die Nieu-Zeeland se rugbyspan. Hulle het amper nie in 1970 in RSA kom toer nie. (Foto: Google).

Dit was die eerste verbrokkeling van die destydse leliewit sportspanne, en dit het, kan julle glo, in die tyd van oom John Vorster, die Staatspresident, gebeur. (Hierdie Brain Williams se seun het in 2015 vir een van Nieu Zeeland se super rugbyspanne gespeel.)

Ek het reeds vroeër gemeld dat ’n polisieman op die platteland die spreekwoordelike speld met ’n grootkop was, want baie Buite-Departementele Dienste word namens verskillende staatsdepartemente deur hulle verrig. Dit was ook die geval, net soos te Knapdaar, dat ek as bevelvoerder van die polisiestasie in die landdrosdistrik van Humansdorp, as kontroleur van die jaarlikse Landbousensus aangestel is. Die boere het sommer gepraat van die ‘Pampoen-sensus’ want die lywige vorm van bykans 10 bladsye, het vrae bevat vanaf hoeveel hoenders daar op die plaas is, hoeveel beeste, varke, skape, bokke, hoeveel groente en gewasse gekweek en ge-oes word, en les bes, hoeveel mense op die plaas woon, hoeveel implemente, masjiene en voertuie daar is en wat is die bedrag verskuldig aan verband(e), wat is naastenby die inkomste en uitgawe van die boerdery, ens, ens. Konstabel Sandy van der Sandt was die opnemer van die sensus in ons polisiewyk, sersant Jan Barnard (bynaam Jan Patrollie) die opnemer vir die Stormsrivierpolisiewyk, sersant Mostert vir die Jeffreysbaaipolisiewyk en sersant Havenga die opnemer vir die Kareedouwpolisiewyk. Al vier die polisiewyke se sensusvorms moes deur my gekontroleer word en via die distrikskommandant te Uitenhage, deurgestuur word na die Departement Statistiek in Pretoria, wat die inligting in die vorms verwerk en aan die ander staatsdepartemente voorsien wat die inligting benodig vir hulle begrotings en beplanning, ens. Daarvoor het die Departement van Statistiek ons opnemers en vir my as kontroleur, ’n paar rand betaal. Dit was maar sowat 5c per opgawevorm vir my en 10c per opgawe vir ’n opnemer. Daar was ongeveer 200 plase in die vier polisiewyke.

Terwyl ek nou van die landbousensus as ’n Buite-Departementele diens melding gemaak het, noem ek ook wat nog op die werksterrein van ’n plattelandse polisiebeampte ingesluit was, waarvoor die onderskeie staatsdepartemente ’n bedrag aan die SA Polisie Hoofkantoor aan die einde van elke maand moes oorbetaal:

• Melkmonsters neem namens die Departement van Gesondheid, vir ontleding deur die Staat se Gesondheidslabarotorium in Pretoria;

• Diening van dagvaardings vir verkeersoortredings vir munisipaliteite, afdelingsrade en provinsiale rade;

• Wanbetalers van Inkomstebelasting vir Departement Finansies;

• Wanbetalers van beurse deur beurshouers vir Departement van Onderwys;

• Maandelikse reënvaldata vir Departement van Vervoer;

• Versending van ingewande van vermoedelike vergiftigde diere (ook van mense) aan Departement Gesondheid;

• Aanhouding van gevonniste gevangenes wat hulle gevangenisstraf by die polisiestasie uitdien en al hulle rekenings as hulle sou siek word en behandeling moes kry vir die Departe-ment Gevangenisse (huidig Korrektiewe dienste),

• Aanklaersdienste in landdroshof, vir Justisie, ens.

Dit was verbasend om elke einde van die maand die man-ure wat deur polisiebeamptes aan dienste vir ander staatsdepartemente verrig is, saam te stel en te vind dat dit soms honderde ure is wat goedskiks aan die polisie se uitvoerende dienste (lynfunksie) sou bestee kon word. Ek het verneem dat dié soort Buite-Departementele Dienste nou nie meer deur die polisie hanteer word nie. Die volgende geval wat ek ondersoek het nogal ‘n interessante geskiedenis :

Die Kemps, op ’n plaas net verby die Platjiesdrifrivierbrug op die Humansdorp-Kaapstad hoofroete, die destydse N2, bel en meld dat een van sy werksmense het die hand van ’n mens bokant die

water in ’n dam op die plaas, gesien uitsteek. Ek vertrek saam met konstabel Wilhelm Schreuder na die plaas toe.

Kemp roep een van sy werknemers nader en sê vir hom: “Neem die polisiemanne na die dam toe.”

Ons volg die swartwerker deur ’n ruie bloekombos na ’n dam toe wat in die bos is. Die werker wys toe na die hand van ’n swartpersoon wat bokant die water uitsteek. Hy sê dat hy het dit die oggend gesien toe hy kom water skep het vir sy huishouding. Hulle gebruik die damwater vir drink- en wasdoeleindes. Ons pluk ’n bloekomtak af waarin daar ’n mik is. Ek sny die klein takkies af en toe het ons ’n redelike lang haakstok. Dit was ongeveer so dik soos ’n heiningspar en ongeveer 2 meter lank en een van die sytakke het ‘n haak gevorm. Die dam is nie baie groot nie, ongeveer 10 meter in deursnee en ongeveer 20 meter lank. Die hand steek sowat 2 meter van die wal van die dam af, uit die water uit. Ons kry dit reg om na ’n paar pogings die haakstok se mik stewig om die hand en pols vas te haak en trek dit toe stadig na die kant toe. Dit gaan swaar en toe besef ons die hand is nog aan ’n liggaam vas, vandaar die moeilike nadersleep. Toe die hand en arm, wat nou ook bokant die water verskyn, sowat een meter van die kant af is, toe kom die kop van ’n swartpersoon ook bokant die water uit. Schreuder trek sy skoene uit, rol sy uniform se broekspype effe op en stap van die dam se wal die water in, hy buig vorentoe en gryp die hand vas en begin nou die lyk uit die water te trek. Hy val amper op sy sitvlak want die vel oor die hand en arm het van die skelet se bene losgekom en hy skud die velle in die water af. Ons lag vir die gesig wat hy trek en die woordeskat wat hy kwytraak.

Die werknemer van Kemp gaan toe die water in en trek die lyk aan sy klere uit die water uit en sê: “Baas, ek ken nie hierdie man nie. Hy werk nie op ons plaas nie.”

Die lyk is nog ten volle geklee, maar sy neus en ore is afgevreet, heel waarskynlik deur krappe en/of dalk nog visse wat in die dam is. Ek laat Schreuder en die swart werker by die lyk en ek gaan die distriksgeneesheer bel vanaf Kemp se plaaswoning af. Dr. Daan Delport sê dat hy sal uitkom. Ek sê toe vir hom dat die lyk begin ruik noudat dit uit die water is en dat hy by die polisiestasie moet aangaan om gasmaskers vir ons te kry om die stank ’n bietjie te demp as hy die lyk gaan ondersoek. Ek kontak die polisiestasie per tweerigtingradio wat in die patrolliewa is en sê dat hulle drie gasmaskers vir dr. Delport moet gee as hy by die aanklagkantoor aandoen.

Dr. Daan arriveer, nou stink die lyk baie erg, en ons staan eers ’n ent weg en gesels en sit die gasmaskers op. Hy begin die lyk te ondersoek en sê dat dit duidelik is dat die neus en ore wat beskadig is, deur krappe afgevreet is. Hy vind geen verdere beserings aan die lyk nie. Hy voltooi sy verslag. Nou begin die ondersoek om hierdie man se identiteit vas te stel. Dit kry ons baie gou, want die buurplaas van die Kemps was besoek en die huisbediende sê dat haar man reeds die vorige week se Vrydag met sy fiets na die dorp, (Humansdorp) toe is en dat hy nog nie teruggekom het nie. Ons neem haar na die dam toe en sy ken die lyk as dié van haar man uit. Nou karring ons met die haakstok in die water en trek sy fiets ook uit die dam uit. Dit was duidelik dat die man op pad terug van die dorp af, kortpad deur die bos gevat het en nie bewus was van die dam nie. Hy kon nie swem nie en het verdrink. Slegs ’n geregtelike nadoodse ondersoek is gehou. (Geen misdaad word vermoed nie.)

Ek het nou gepraat van gasmaskers wat ons by die ondersoek van die lyk wat ons in die dammetjie gekry het, moes dra om die ergste stank te temper. Daar was nog ’n geleentheid waar ons gasmaskers gedra het, en dit was toe ons ’n bosbrand te Sea Vista moes gaan blus het. Mnr. Leighton Hullet, van die Hullet suikermagnatefaam, is die eienaar van hierdie strandoord in die Humansdorp distrik. Bosslapers was altyd een van ons grootste probleme by verskeie van die strandoorde. Dié oorde was omring van bosse en veral ook oortrek met die “willow” uitheemse bome. Die bosslapers het een van hulle vure, sowat ’n kilometer ver vanaf Sea Vista, nie geblus nie

en toe ontstaan daar ’n geweldige groot brand in die bosse. Hulle hardloop weg en die eienaar van Sea Vista, waar alle wooneenhede se dakke met dekriet gedek is, skakel die polisiestasie en vra om hulp, want hy sien die vuur kom reg op sy oord afgepyl. Dit was vakansietyd en die oord was vol vakansiegangers.

Ek monster al ons lede op die polisiestasie, selfs dié wat van diens is, om te kom help om die voortwoedende vuur, wat deur ’n sterk wind aangedryf word, te kom blus voordat dit Sea Vista bereik. Daar is gelukkig ’n 20 treë wye gruispad in die pad van die vuur en ons het gedink ons sal dit daar kan keer. Humansdorp se munisipaliteit en ook die afdelingsraad het geen brandweer of brandbestrydingstoerusting nie. Hulle kom egter daar aan met twee vragmotors en ’n horde nieblankes met sakke en takke om te kom vuur doodslaan. Gelukkig het ek die bestuurder van een van die vangwaens, wat nog polisiemanne op die dorp gaan haal het, opdrag gegee om al ons gasmaskers, dertig daarvan, saam te bring, want ons oë is rooi van die rook en ons kele brand soos vuur. Toe die gasmaskers kom, toe kom daar sommer heelwat van die vakansiegangers om ons te kom help.

Ons het gedink dat die vuur homself sou uitwoed teen die gruispad, maar die vuur spring oor daardie 20 treë breë gruispad, in die oord in. Gelukkig kon ons daarin te slaag om die vuur in die oord te blus. Slegs een rondawel van die swartwerkers en een leegstaande 2-slaapkamer woning het afgebrand. Die vuur het homself teen die strand en die eerste marinas uitgewoed. Daardie “willows” wat grasgroen en welig groei, het gebrand asof jy petrol daarop uitgiet. Eers smeul die hele boom, dan vat dit vlam en die brandende blare skiet soos klein projektiele oor die pad en steek die bosse en bome in die oord aan die brand.

Leighton Hullet trakteer ons met koue bier, ja ek weet ons mag nie op diens drink nie, maar hier was dit werklik soos die spreekwoord lui: Die kalf is in die put (vuur!) Ons is pikswart van die roet, dis nou uniforms en privaatklere van die mense wat almal gehelp het, en oë wat rooi geswel is van die rook. Ons maak die gasmaskers bymekaar en kry net 29. Een is weg. Ek glo dat dit dalk in die vuur beland het en uitgebrand het. Ek stel ’n volledige verslag van die ‘tekort van staatseiendom’ op en stuur dit na ons distrikskommandant toe. Die gasmasker word afgeskryf en sowat 14 dae later toe arriveer daar ’n nuwe een vanaf die kwartiermeester in Pretoria. Sowat ’n maand later kry ek, saam met die polisiestasie se pos wat in ’n possak kom, ’n kennisgewing dat daar ’n geregistreerde pakkie vanaf Kaapstad aan ons geadresseer is wat by die poskantoortoonbank afgehaal moet word. Ek was maar huiwerig om dit te gaan haal, want dit was die tyd toe daar gereeld pakketbomme aan ANC uitgewekenes gestuur is, en ook pakkies wat weer deur hulle aan witmense gestuur is. Kleurlingkonstabel Groep gaan elke more die possak met pos by die Humansdorp poskantoor haal. Ek stuur hum terug met diue getekende kennisgewing om die pakkie te gaan afhaal. Hy was gewaarsku dat as die inhoud nie op die pakkie beskryf word nie, hy nie die pakkie in besit moet neem nie. Hy bring toe die pakkie na my toe, want hy het gesien dat die inhoud as “Police gas mask” gemerk is. Toe ek die pakkie ontvang en dit besigtig het, sien ek die afsender is ’n Engelse persoon vanaf Kaapstad en die inhoud is aangeteken as “Police gas mask.” Ek het dit toe oopgemaak en hier kom die verlore gasmasker uit die bloute by ons aan. In die pakkie is ’n kort briefie van die Engels-man wat sê sy seun het gehelp om die vuur te blus en het skoon vergeet om dit vir ons terug te gee. Ek het hom telefonies bedank en ons het toe maar hierdie gasmasker weer as ‘staatseiendom’ op rekening geneem.

So het ons as polisiebeamptes byna daagliks met traumagevalle te doen gehad. G’n wonder dat van die polisiemanne soms ’n bietjie koekoes (van hulle kop af) geraak het en vir behandeling by ’n inrigting moes gaan nie. Selfs Wilhelm het na sy aftrede, a.g.v. mediese ongeskiktheid, aan depressie gely weens baie dinge wat hy in diens deurgemaak het. Ek kan maar net die Vader in die hemel dank vir sy bystand en helpende hand, dat ek, tot nou toe nie in so ’n onstabiele

geestestoestand geraak het nie. Dis nie deur my eie goedheid en nie, maar slegs deur God se genade. Dankie Vader in die hemel. U genade is só oneindig groot!

Julle het seker nou al gevind dat Wilhelm Schreuder by baie van my ondersoeke van ernstige gevalle teenwoordig was. Hy was ons stasie, en vir die ander polisiestasies in die distrik, se amptelike plantekenaar en fotograaf waar ernstige misdaadtonele besoek moes word. Hy het ’n planteken- en fotografiekursus in Port Elizabeth by die SA Polisie se Plaaslike Vingerafdrukkantoor (PVAK) deurloop. Ek het hom, as hy beskikbaar was, saamgeneem, want hy moes dalk foto’s neem en ook later ’n plan van die toneel van misdaad teken. Ekself het baie planne van motorbotsings en misdaadtonele geteken as hy nie beskikbaar was nie. (Terloops, die ander ondersoekers, Sandy van der Sandt en Johny Richardson, het ook vele moord, verkragting, en aanranding Ernstige sake ondersoek. Ek het in hierdie boek net oor die misdade waarby ek persoonlik betrokke was beskryf, of met die ondersoek daarvan belas was.)

Motorbotsings van allerlei aard is ’n daaglikse taak van die plattelandse polisieman. Dit behels botsings van motors met fietsryers óf voetgangers; motors met bakkies óf bakkies teen mekaar; vragmotors met motors óf vragmotors teen mekaar; en so kan ek al die moontlike permutasies van welke voertuig(e) in botsing met mekaar kan wees, opnoem. Daar kom tog soms iets buitengewoons op die pad van ’n polisieman wat gewoond is om net motorbotsings te ondersoek, en die ervaring wat ek gehad het, is ook een van daardie uitsonderlike gebeure.

Ek het julle nou regtig baie nuuskierig. Wel, dit was ’n botsing tussen ’n Landrover en ’n Cessna sessitplek-vliegtuig! “’n Vliegtuig, hoe op aarde het dit gebeur?” vra julle in ongeloof.

(Foto: Google)

Die Paradysstrand vakansieoord was in die beginstadium van ontwikkeling. Dit is langs die Swartrivier in die Humansdorp distrik geleë en Gill Tunmer Development Projects van Johannesburg was die ontwikkelaars. Die terrein waar die ontwikkeling sou plaasvind, was nog ongerep, woes en leeg, net soutbosse en toegegroeide sandduine. Daar was een prototipe A-vorm strandhuis op die plek wat deur die bemarker van die voornemende Paradysstrandoord, John Lombaard, bewoon is en ook ’n soortgelyke tydelike houtstruktuur wat as kantoor gebruik is.

Die eienaar van die ontwikkelingsmaatskappy, Gill Tunmer, laat weet vir Lombaard per telefoon vanuit Johannesburg, dat sy seun wat by Wits op Universiteit is, en ’n gelisensieerde vlieënier is, gedurende die Saterdagoggend met ’n gehuurde Cessna sessitplekvliegtuig op die strand te Jeffreysbaai sou land. Hy versoek toe vir Lombaard om die seun en sy vriend daar te ontmoet. Die Saterdagoggend ry hy Jeffreysbaai toe met sy Landroverstasiewa en wag die vliegtuig in. Dit was

’n Soortgelyke Cessna wat deur ’n Landrover passasiersvoertuig beskadig is.

’n gebruik dat Gill Tunmer en/of sy familie met Jeffreysbaai se munisipaliteit die reëling het dat hulle op ’n besondere gedeelte van die strand sal land. Lombaard sien die vliegtuig, dit sirkel twee keer oor hom op die plek waar hy wag en, weg vlieg die vliegtuig in die rigting van Humansdorp. Hy is vies en ry nou Humansdorp toe – dis sowat 20km vanaf Jeffreysbaai.

Humansdorp het ’n munisipale landingstrook op die meentgronde. Ja, dieselfde landingstrook (vliegveld) waar ek vir Corrie geleer motor bestuur het. Toe Lombaard die dorp inkom, sien hy dat die vliegtuig op die landingstrook staan. Hy is hoog die duiwel in omdat die seun nie te Jeffreysbaai geland het nie, en ry met die Landrover op die landingstrook in die rigting van die vliegtuig. Die seun en sy maat staan buite die vliegtuig en wag hom in.

Dit was gedurende ’n wintermaand, die presiese maand en/of datum kan ek nie meer onthou nie, en die graslandingstrook was vol dou nadat die ryp gesmelt het. Lombaard trap rem om die Landrover tot stilstand te bring, die voertuig se wiele rem, maar dit het geen vastrapplek op die nat gras nie, en die Landrover se momentum laat dit eenvoudig al nader na die vliegtuig toe skuif. Lombaard swenk na links om die twee mans te mis en die Landrover tref die Cessna tussen die regter voorvlerk en die regter agter stertvlerk. Die impak van die botsing duik die bagasieruim se deur in en skeur ’n diep gat in die romp van die vliegtuig. Daar staan almal verbaas en kyk hoe die vliegtuig amper omgestamp word. Lombaard die herrie in vir die seun omdat hy nie te Jeffreysbaai geland het nie, die seun die duiwel in, want hy wou Maandag terugvlieg Johannesburg toe en hier staan sy vliegtuig gestrand met een moerse gat in die romp.

’n Klomp nieblankes van die lokasie (woonbuurt) vergader om die vliegtuig en nou kom ek op die toneel aan en moet ’n besluit neem: ‘Is die landingstrook ’n privaat plek of is dit ’n openbare plek, want ’n straat is dit nie.’ Ek besluit om dadelik opmetings te neem en gaan ’n plan optrek en verklarings van die drie persone afneem. Sersant Daantjie Strydom, wat die aanklaer is, wil nie ’n besluit neem oor die voorval of dit op ’n openbare plek plaasgevind het nie, en stuur die dossier na die prokureur-generaal (PG) te Grahamstad. Die PG beslis dat Lombaard vervolg moet word vir nalatige en onverskillige bestuur van ’n motorvoertuig op ’n openbare plek.

Nou die nadraai: Die seun het sommer van die polisiestasie met sy pa in verbinding getree. Gill Tunmer het die vliegtuigverhuringsmaatskappy te Johannesburg van die voorval verwittig. Hulle versoek ’n privaatvliegtuig vanaf Port Elizabeth om die seun en sy maat te gaan oplaai en terug te vlieg Johannesburg toe. PE se vliegtuigverhuringsmaatskappy stuur ’n span werktuigkundiges per voertuig om die beskadigde Cessna vlieggereed te kry tot in PE. Terloops, volgens ’n assessor het die vliegtuig se skade R3500,00 beloop – onthou dat ’n duisend rand in die sestigerjare amper soveel as ’n miljoen rand vandag is. Die saak word ’n maand of ’n bietjie later in die Humansdorp se landdroshof verhoor.

Gill Tunmer stuur weer sy seun en dié se vriend met ’n vliegtuig Humansdorp toe. Hulle getuig in die hof en vlieg nog dieselfde dag via Port Elizabeth terug Johannesburg toe. Lombaard word onskuldig bevind, want die botsing was nie as gevolg van sy opsetlike nalatigheid of onverskilligheid te wyte nie! Gill Tunmer skakel my persoonlik by die polisiestasie en bedank my vir die wyse waarop die aangeleentheid hanteer is en sê dat ek met Lombaard kan gaan gesels om ’n erf met ’n A-tipe strandhuis daarop te gaan uitkies vir die bedrag van R1500,00. Ek het hom bedank vir die aanbod, maar met my salaris het ek dit nie eers oorweeg nie. Ja, daardie erwe met ’n A-tipe strandhuis het daardie jare vir R2000,00 verkoop. Vandag is Paradysstrand ’n gevestigde en luukse strandoord met groot huise, teerstrate en ‘n marina. Wasek verkeerd om met ’n salaris van R150,00 per maand, met vyf kinders en ’n motor waarop ek geld skuld, nie die aanbod te aanvaar nie?

Huidig, in die Nuwe Suid-Afrika, lees ons bykans daagliks in die pers en hoor oor die radio en sien ons op die TV van polisiebeamptes wat by misdaad betrokke is en selfs vir lang termyne

gevangenisstraf vir hulle misstappe in laer-, sowel as hoër howe opgelê word. Ja, dis nou 2015, maar in my jare in die SA Polisie was ekself ook as jongeling aan die ontvangkant wat boetes betref vir onnadenkende handelinge, wat as misdade beskou was, waaroor ek reeds in hierdie boek van melding gemaak het. Die gesegde wat bestaan “dat die gemeenskap verdien die polisiemag wat hulle dien, want hulle is uit die gemeenskap gewerf en nou dien hulle daardie gemeenskap,” blyk tog waar te wees. Ek wil nie hier in enige filosofiese beredenering oor hierdie stelling verstrik raak nie, maar wat ek net wil beklemtoon is dat geen instelling, organisasie, maatskappy óf, soms ’n gesin, kan van misdaad gevrywaar word nie, want hulle bestaan uit en word bestuur of beheer deur feilbare mense!

Ek moes te Humansdorp sake teen polisiebeamptes ondersoek. Die interessantste een wat ek nou wil verwoord is die geval waar ek ’n aanklag van aanranding teen die stasiebevelvoerder van die Thornhill polisiestasie moes ondersoek. Kom ek laat sy naam en van eenkant. Die feite van die saak is kursories soos volg:

’n Werknemer van ’n algemene handelaar winkel op Thornhill, in die Hankey landdrosdistrik, rapporteer by die polisiestasie dat hulle ’n swartseun van so 12-14 jaar oud gevang het wat ’n botteltjie koeldrank uit die yskas geneem het en daarmee uitgestap het sonder om daarvoor te betaal. Dis diefstal! Hulle vermoed dat hy ook betrokke was by ’n inbraak wat sowat ’n maand vantevore by dieselfde winkel plaasgevind het, en nog onopgelos is.

Die stasiebevelvoerder, ’n blanke sersant, en ’n kleurlingkonstabel gaan arresteer die seun en bring hom polisiestasie toe. Daar word hy ondervra. Hy ontken alle aandadigheid aan die inbraak waaroor hulle hom ondervra. Hy erken die ‘steel’ van die koeldrank, want hy was dors. Die sersant gebruik subtiele, maar ook ongemagtigde fisiese ondervragingstegnieke. Sy voetsole word met ’n rottang geslaan, sy hande word met ’n vlagpaaltou vasgebind en hy word agter die een kantoordeur staangemaak met sy gesig teen die deur, die vlagpaal tou word oor die deur gegooi en die kleurlingkonstabel hys hom nou sentimeter vir sentimeter op teen die deur. Sy gesig skuur teen die houtdeur, en die sersant dien hom heelwat houe toe met die rottang oor sy boude en rug. Hy bly sy onskuld uitroep. Hierdie pyniging het vir bykans’n halfuur aangehou.

Hy word toegesluit vir die diefstal van die koeldrank. Sy ma word gewaarsku om die volgende dag in die landdroshof te Hankey teenwoordig te wees, want hy is nog minderjarig en ’n ouer en/óf voog moet altyd ’n jeugdige in sy hofsaak (strafhof) bystaan.

Die seun se saak word uitgestel tot ’n later datum en hy word op sy eie verantwoordelikheid, in die sorg van sy moeder, uitgelaat. Hy kla die aand by sy huis dat sy voete en lyf seer is, en sy ma neem hom die volgende môre na die distriksgeneesheer op Humansdorp toe. Die distriksgeneesheer, dr. Daan Delport, ondersoek hom en laat my telefonies weet dat die seun pimpel-en-pers houe oor sy rug, boude en voetsole het. Ek vra dat hy vir hom en sy ma na my kantoor toe moet stuur, nadat hy hom behandel het.

Hulle daag so ’n paar minute later by my kantoor op. Ek ondersoek hom en sien hoedat hy blou kneusplekke en hale oor sy boude en rug het. Sy voorkop en neus het oppervlakkige skuurwonde. Ek hoor sy storie uit, dis nou die een wat hierbo uiteengesit is, en ek neem ’n volledige verklaring van hom in die teenwoordigheid van sy ma. Ek vra konstabel Schreuder, ons kantoor se amptelike plantekenaar en fotograaf, om kleurfoto’s van die seun se gesig, en al die blou kolle en hale, in my en sy ma se teenwoordigheid in afsondering in een van die kantore, te kom neem. Ek laat hom en sy ma by die kantoor wag. Ek skakel die distrikskommandant (DK) te Uitenhage en vertel hom van die aanranding. Hy gee opdrag dat ek die saak moet ondersoek.

Ek neem die seun en sy ma tot by Thornhill terug waar hulle woonagtig is en kry die stasiebevelvoerder op kantoor. Ek waarsku hom ingevolge Regtersreëls dat ek ’n saak van aanranding

251

ernstig teen hom en sy konstabel ondersoek en dat enigiets wat hy sê of doen as getuienis teen hom in ’n hof gebruik kan word. Hy weier om ’n verklaring af te lê. Hy maak van sy swygreg gebruik. Nadat ek die kleurlingkonstabel ook gewaarsku het, lê hy ’n beëdigde verklaring af. Ek lê beslag op die vlagpaaltou en die rottang wat in die stasiebevelvoerder se kantoor agter die deur was. Ek roep Schreuder op die voertuig se tweerigtingradio om ’n foto te kom neem van die skuurmerke aan die bokant van die aanklagkantoor se deur.

Ek neem ook ’n verklaring van die seun se ma en van die winkelassistent en dien my eie verklaring in. Ek verkry die doktersondersoekvorm en laat konstabel Schreuder sy verklaring m.b.t. die neem van die foto’s inhandig en liasseer die foto’s in die dossier. Ek stel ’n précis (dis ’n opsomming) van die saak op, heg dit aan die dossier en gaan handig dit by die distrikkommandant te Uitenhage in. Hulle sal dit na die prokureur-generaal (PG) te Grahamstad toe stuur vir sy beslissing. (Hedendaags word dié kantoor mos die kantoor van die openbare vervolger genoem.)

Die dossier kom later terug en die PG het beslis dat net die stasiebevelvoerder weens Aanranding met die Doel om Ernstige Letsels te berokken, in die landdroshof te Hankey verhoor word en dat die kleurlingkonstabel as staatsgetuie teen hom gebruik moet word. Sou sy getuienis waarde vir die Staat se saak hê, kan hy dan ingevolge die Strafproseswet van vervolging gevrywaar word.

Die stasiebevelvoerder verskyn voor die hof, pleit skuldig aan gewone aanranding, die staatsaanklaer aanvaar sy pleit, direk in stryd met die opdrag van die PG, en hy word met ’n boete van R100,00 of ses maande gevangenisstraf beboet. Die saak se oorkonde, dis die relaas van getuienis wat afgelê is, moet weer na PG te Grahamstad gestuur word. Die PG besluit dat dié saak na die regters vir hersiening gestuur word. Die gevolg? Die regter wat die hersiening doen, verwerp die aanklag van Aanranding Gewoon en hulle maak ’n bevinding van ‘Skuldig aan Aanranding met die Doel om Ernstige Letsels toe te dien aan …’ en die vonnis word verswaar. Die opsie van ’n boete word weggelaat, en nou moet die stasiebevelvoerder gevangenisstraf van 6 (ses) maande gaan uitdien.

Die poppe dans nou behoorlik by die distrikskommandant (DK) en die afdelingskommissaris (Afkom) te Port Elizabeth. Hy word onmiddellik geskors, maar hy appelleer en ’n konstabel met ’n tydelike rang van ondersersant word in sy plek as stasiebevelvoerder aangestel. Sy appèl word heelwat later van die hand gewys. Ek neem hom na die Port Elizabeth gevangenis toe. Die afdelingskommissaris stel ’n offisier van die Baai aan om ’n geskiktheidsraad teen hom te hou. Die Raad beveel sy summiere ontslag aan en dit word deur die kommissaris bekragtig. Ek, wat die saak ondersoek het, was beslis nie die mees geliefde polisiebeampte in die Oostelike Provinsie toe hierdie saak baie wyd in die koerante gerapporteer is nie. Wel, ek het my nie daaraan gesteur nie, want ek kruip voor niemand om vriendskap te kry nie. Ek het net dit wat van my verwag is, en dit is om misdaad te ondersoek en om reg te laat geskied, gedoen, en het dit goed gedoen! Die ondersoek van misdade loop soms wye draaie in ons land, soms selfs oorsee. Die volgende het ons huishouding geraak. Corrie word een Maandagoggend, haar gewone tyd, so om-en-by halfses wakker en vind dat ek nie in die bed geslaap het nie. “Hoekom nie, Pa?” vra julle. Wel, nou word die waarheid stuksgewys ontbloot:

Een Sondagmiddag, so teen ongeveer 5nm (17:00) word ek by die huis geroep want daar is ’n geval van ’n blankemeisie van die dorp wat seksueel gemolesteer is. Dit was my naweek aan diens en die lid van die Mag wat die naweek aan diens is, moet aan alle klagtes gaan aandag skenk en sake ondersoek. Om moontlike herkenning van persone in hierdie saak se identiteit te beskerm, gebruik ek denkbeeldige name.

Ek vind ‘Marie’, ’n sestienjarige hoërskoolmeisie van die Nico Malan Hoërskool in die dorp, in die aanklagkantoor. Sy is in trane. Ek neem haar na my kantoor toe, onder die oë van nuuskieriges uit wat in die aanklagkantoor saamdrom. Ek versoek die aanklagkantoorsersant, konstabel Botha, om saam met my te gaan. In my kantoor verstrek sy haar ouers se adres en ek stuur Botha om een van hulle, verkieslik haar ma, te gaan haal. Marie se ma arriveer en is baie geskok toe sy haar dogter in die polisiestasie (my kantoor) sien sit. Botha het haar nie vertel wat met haar dogter gebeur het nie, daarom was haar ma nie voorberei vir wat gaan kom nie.

Ek groet die ma en sê vir haar dat haar dogter beweer sy is onsedelik aangerand deur onbekende persone wat in ’n meubelvervoerwa gery het.

Ek laat haar nou aan die woord. Sy begin al snikkende haar storie aan haar ma vertel. Dit lui soos volg:

“Ma, ek stap in Voortrekkerweg en ’n blou meubelvervoerwa, een van daardie grotes, stop by my. Die bestuurder en sy passasier is al twee witmans. Die passasier vra my of ek vir hulle kan beduie waar die naaste hotel is, want hulle wil daar oornag.”

’n Soortgelyke meubelvervoerwa waarin die beweerde seksuele molestering van ’n wit meisie, plaasgevind het. (Foto: Google).

“Wat soek jy in Voortrekkerweg, so ver van ons huis af?” vra haar ma.

“Ma, ek het net ’n entjie gaan stap.”

“Wat sê jy toe vir hulle?” vra haar ma.

“Ma, ek verduidelik toe dat hulle in Kerkstraat moet afdraai dan sal hulle twee Hotels sien. Die Royal Hotel en die Grand Hotel. Die passasier sê toe, klim in dan gaan wys jy ons die hotels. Ek klim toe in.”

“Nou waarom maak jy so ’n dom fout, my kind, ek het julle mos geleer om nie by vreemdes in te klim nie.”

“Ma, ek het gedink hulle lyk “alright” witmans en die passasier klim uit, ek klim in die bestuurderskajuit in en ek bevind my tussen die bestuurder en sy passasier. Ons het nie ver gery nie, toe sê ek vir die bestuurder, ‘Draai hier in Kerkstraat af,’ maar hy ignoreer my en ry verder deur die dorp.”

“Ek skree en ek pleit dat hulle my moet aflaai. Ek was vreeslik bang, maar hulle ry net aan. Deur die dorp tot anderkant naby Strydom se werkswinkels op die Humansdorp-Kaapse nasionale pad.”(Terloops, dis die plek waar ons die gesteelde Ford Farelane ingewag het.)

“Wat het hulle aan jou gedoen my kind?” vra die ma met groot bekommernis in haar stem en oë wat wil-wil trane stort.

“Ma, hulle laat my nie uitklim nie, en vra alle vrae aan my of ek al …..(gemeenskap – dis my woord hierdie) met ’n “boy friend” gehad het. Ek sê toe: ‘Nee, los my uit!’ Hulle begin aan my borste vat so oor my rok en die passasier begin met sy hande by my rok op te druk. Ek skree en knyp my bene toe en trek dit op tot teen my ken. Ek krap en slaan na hulle. Hulle vloek die aller lelikste woorde.”

“Het hulle jou seergemaak? Het hulle jou verkrag?” vra die ma en gaan nader en plaas haar arms beskermend om haar dogter.

“Nee ma. ”

“Wat is die nee, my kind?” vra haar ma.

“Hulle het my nie verkrag nie, maar my arms en bene is vol rooi kolle en ’n paar skrape.” Sy wys dit vir haar ma.

“Daar het baie karre by ons verby gery, en die passasier ruk toe die deur oop en trek my uit, en sê ek moet ‘fok off’ en daar trek die vragmotor weg in die rigting van Kaapstad. Ek het kortpad deur die onderdorp geloop na die polisiestasie toe.”

Ek het die meisie nie in haar vertelling onderbreek nie, net haar ma wat kort-kort ’n paar vrae gevra het. Ek het toe vir die ma en dogter gesê dat ek later, wanneer sy oor die skok en trauma gekom het, ’n volledige verklaring van haar gaan neem. Ek en Botha het hulle in die Volkswagen polisiemotor gelaai en by die huis gaan aflaai. Ek het hulle versoek om Maandagmôre na die distriksgeneesheer toe te gaan sodat hy kan vasstel hoe ernstig haar beserings is, en hy sal dit op ’n vorm aanteken en dit vir ons laat kry.

Ek spring dadelik aan die werk. Botha hervat sy diens in die aanklagkantoor en ek gaan vir Wilhelm Schreuder by sy huis oplaai. Hy is die ondersoeker van misdade wat in die dorp plaasvind (Johny Richardson wat altyd sulke sake ondersoek het, is verplaas) en Schreuder sal hierdie saak Maandagmôre ontvang om verder te ondersoek. Ek sê toe dat ons nou in die rigting van Kaapstad moet ry om te kyk of ons hierdie meubelvervoerwa kan opspoor. Toe ons by die Langkloofafdraaipad, sowat 20 km vanaf Humansdorp, bereik, besluit ek dat ons moet omdraai, want ons weet nie of die gesoekte voertuig reguit aan op pad na Kaapstad deur die Tuinroete is nie, en of dit nie dalk deur die Langkloof oor Joubertina en Oudtshoorn deur die Klein Karoo op pad Kaapstad toe is nie.

Ons draai om en gaan na die polisiestasie toe. By die aanklagkantoor het ek en Wilhelm om die beurt die polisiestasies op beide die moontlike roetes na Kaapstad gebel en ’n beskrywing van die meubelvervoerwa en hulle insittendes gegee en versoek dat hulle dit moet voorkeer en aanhou totdat ons daar kan arriveer om uitkennings te kom doen.

Sondagmiddag verloop redelik stil en ek het vir oulaas die dorp en die lokasies (woonbuurtes) per patrolliewa patrolleer. Om ongeveer 10nm (22:00), terwyl ek die registers nasien, hoor ek die telefoon in die aanklagkantoor lui. Ek beantwoord die oproep. Dis ’n oproep van die SA Polisie Mosselbaai. Hulle het ’n blou meubelvervoerwa voorgekeer. Hulle het dit by die polisiestasie laat parkeer. Ek gaan huis toe en vind Corrie en die kinders in droomland. Ek maak haar nie wakker nie. Ek gaan maak Wilhelm wakker en ons ry met die Volkswagen deur na Mosselbaai toe. Arriveer daar in die vroeë môre-ure. Ons kyk na die meubelvervoerwa. Dit beantwoord aan die beskrywing wat Marie vir ons gegee het.

Die bestuurder is ’n blankeman en sy passasier ’n kleurlingman. Daar is ook twee kleurlinge in die laaigedeelte van die vervoerwa. Die insittendes word deeglik deur ons, en ‘n speurder van

Mosselbaai, ondervra. Ons kontroleer hulle ritstate en bestelvormboek. Volgens hulle bestelvormboek was hulle nie naby Port Elizabeth of Humansdorp nie. Kom ek sluit dit nou kort. Dit blyk toe nie die vragmotor en verdagtes te wees wat ons soek nie. Ek bel Humansdorp aanklagkantoor en sê dat ons nou op pad is terug polisiestasie toe. Ek en Wilhelm is nou baie moeg, maar so elke 100 myl (±160km) ruil ons bestuurders. Toe ons deur Kareedouw is, naby Assegaaibosch Hotel, swenk Wilhelm skuins oor die pad. Ek skrik my buite weste, en vra: “Wat gaan aan?”

Hy sê net: “Meneer, ek is baie vaak, neem asseblief oor.”

Ons ry verder terug polisiestasie toe. Ek doen die terugboek van die voertuig in die aanklagkantoor, en sien dat dit reeds bykans 9vm (09:00) is. Ek gaan huis toe en vind Corrie wat redelik omgekrap is, omdat sy nie weet wat van my geword het nie. Sy erken sy was meer kwaad van blydskap dat ek niks oorgekom het nie, as wat sy werklik kwaad was.

Einde van hierdie storie? Nog nie. Nadat ek ‘n uur of twee geslaap het, gaan ek terug kantoor toe en Wilhelm is ook reeds daar. Hy het die vorm van die distriksgeneesheer by hom. Daar is nie veel aantekeninge daarop van enige noemenswaardige beserings nie. Ek betwyfel die waarheid van die meisie se storie. Ons laat haar en haar ma terugkom polisiestasie toe. Ek en Wilhelm ondervra haar om die beurt in een van die kantore. Sy breek na sowat ’n halfuur en kom met die hele sak patats vorendag. Sy wou wegloop van die huis af, daarom dat sy in Voortrekkerstraat gestap het. Sy het gedink iemand sal haar oplaai. Sy het tot by die anderkant van die dorp geloop en toe niemand stop om haar op te laai nie, begeef haar moed haar en sy draai om en begin terugstap dorp toe. Op haar terugtog deur die dorp, het sy die plan beraam om die polisie te vertel dat sy onsedelik aangerand is.

Die saak was uiteindelik as ‘Ongegrond’ (“False”) afgesluit. Na samespreking met die speuroffisier te Uitenhage, word daar besluit om geen aanklag teen die meisie in te bring nie. Ons sou klagtes van regsverydeling en Meineed kon registreer, maar dis toe laat vaar. Ja, so kan iemand heel onskuldig dalk in die tronk beland as gevolg van onwaarhede wat aan die polisie opgedis word as feite.

Met hierdie enkele voormelde gevalle waar ek sake ondersoek het of waarmee ek iets te doene gehad het, sluit ek hierdie afdeling af.

11.5 Bevorderingseksamen na luitenant en bywoning van die kursus om as offisier bevorder te word

Die salarisstrukture in die SA Polisie vir die range van konstabel tot kommissaris van die SA Polisie gedurende 1965, is in ooreenstemming gebring met dié van die ander Staatsdepartemente se salarisstrukture. Omdat daar in die SA Polisie drie meer range was as wat daar in die ander saatsdepartemente se range was, moes daar ’n amalgamering van range se salarisstrukture gedoen word, sonder dat die range sou wegval. Dit was nodig dat al die range vir senioriteit en dissipline doeleindes behou moes word in die Polisiemag wat toentertyd as ’n para-militêre Mag tot stand gekom en polisiëring dienste verrig het. Die gerieflikste plek waar die salarisse in die polisie se rangstruktuur saamgevoeg kon word, was natuurlik by die beginrange, naamlik vanaf konstabel tot luitenant. Dit het die gevolg gehad dat die topsalaris van ’n konstabel, sersant, adjudant-offisier en luitenant, almal op ’n topskaal van R3000,00 per jaar vasgestel is. ’n Konstabel met 12 jaar diens, ’n sersant met 5 jaar diens en ’n adjudant-offisier met drie jaar diens se topsalaris was dus dieselfde as ’n luitenant s’n.

Ek sou mos aan die bevorderingseksamen na luitenant gedurende 1965 deelgeneem het toe ek te Korsten polisiestasie diens verrig het, maar is toe, soos reeds vertel, my aansoek deur die Keurraad

afgekeur a.g.v. die aanrandingsaak teen my – die Boetietjie Jas voorval wat te Knapdaar plaasgevind het. Ek het met hierdie nuwe verandering aan die salarisskale van die junior range, besluit dat ek aan geen verdere bevorderingseksamen gaan deelneem solank hierdie ‘onregverdige praktyk’ van die salarisskale in plek is nie. Hoekom sou ek dan as die bevelvoerder van ’n polisiestasie alle verantwoordelikheid dra, terwyl ’n konstabel, sersant of ’n adjudant-offisier maandeliks dieselfde salaris as ’n luitenant, ontvang terwyl hulle net hulle minder verantwoordelike werk op die stasie verrig? Aikôna, ek gaan ook net my werk verrig, en niks meer óf niks minder nie!

Terugskouend, kan ek onomwonde verklaar dat dit ’n foutiewe besluit van my was. Hoekom?, vra julle nou julself af. Omdat daar elke jaar na 1965 bevorderingseksamens na die rang van luitenant aangekondig was, en ek glo dat ek nie langer as net die een jaar gepenaliseer sou word oor die spoke van die twee aanrandingsake wat teen my ingedien is nie. Ek sou dan hopelik ook gouer senior range kon beklee. Ek sê dit nou maar met ’n tong in die kies! Dalk sou ons nog meer verplasings in die gesig moes staar en ons lewenspad met ons optelsom van 2 plus 5 … sou dalk anders daar uit gesien het. Kom ons laat dit daar.

Wel, begin 1970 word daar weer aan die salarisstrukture vir die SA Polisiemag gewerk, want die staatsdienskommissie (SDK) het te veel klagtes, via die kommissaris se kantoor, van luitenante en bevelvoerders met laer range van polisiestasies ontvang. Die topsalaris van ’n luitenant is toe vermeerder na R3500,00 per jaar en die ander onderoffisiersrange is ook pro rata verhoog. Onmiddellik toe daardie verandering aangekondig word, het ek besluit om wel nou aan die eersvolgende bevorderingseksamen na luitenant deel te neem. Ek het aansoek gedoen en ek is tot die eksamen toegelaat. Die Keurraad sou eers oor die kandidate wat die eksamen geslaag het, voor die aanvang van die offisierskursus te Pretoria in die polisiekollege, besluit of ’n kandidaat die kursus gaan deurloop en óf hy geskik bevind gaan word al dan nie. Hierdie Keurraad het, soos reeds gemeld met my aansoek in 1965, onder die polisiebeamptes bekend gestaan as die Mielie- of Koringraad.

Ek het dadelik weggespring en saans tot laat met die boeke gesit en worstel, en selfs ook bedags in die kantoor wanneer my administratiewe werk afgehandel is, en ek nie benodig word vir bystanddiens óf vir ondersoekwerk nie. Die spreekwoordelik kers was vir drie maande vanaf April tot Junie 1970 aan albei kante gebrand, want ek was die vader-des-huise, eggenoot en tugmeester, minnaar en hulp tuis waar hulp benodig word, tikwerk in die kantoor, dissipline oor polisiebeamptes handhaaf, inspeksies doen, ondersoekwerk verrig wanneer ander lede van diens is, bywoning van vergaderings in die gemeenskap, praatjies lewer by instansies, maandelikse verslae opstel en versend en dan ook nog ’n porsie leerwerk elke dag probeer inkry. Die eksamen was gedurende Junie 1970 vir vier dae lank by die distrikskommandantsetel te Uitenhage geskryf. Ek het saam met drie ander adjudant-offisiere in die eksamenlokaal gesit. Ek het die Sondag voor die eerste eksamendag by oupa en ouma Scholtz-hulle in Cradockplek, Port Elizabeth, gaan bly. Hulle het die woonstel, The Aloes, verlaat, toe hulle ’n munisipale skakelhuis te Cradockplek as behuising aangebied is.

Die eksamen begin met alle erns soos volg:

• Maandagoggend, Magadministrasie A – dis die Mag se Staande Orders, al 700 daarvan;

• Maandagmiddag, Magadministrasie B - dis Staande Orders Voorrade en Staande Orders Finansieel, al 300 daarvan;

• Dinsdagoggend, Strafprosesreg;

• Dinsdagmiddag, Strafreg;

• Woensdagoggend, Engels;

• Woensdagmiddag, Ondersoek van Misdaad;

• Donderdagoggend, Wettereg en

• Donderdagmiddag, Afrikaans.

Ons moes ten minste 50% in elke vak kry om die eksamen te slaag – al die vakke in een eksamensessie, nie soos dit nou die gebruik is dat jy oor ’n paar jaar jou vakke kan afskryf óf dat dié wat jy nie slaag nie die volgende jaar kan herskryf nie. Nee, alles of niks! Jy kon dus nie krediete opbou nie.

Die uitslae kom so teen die begin van Augustus 1970 en ek slaag die eksamen met ’n persentasie van 65% of meer. So ook twee van die ander adjudant-offisiere naamlik speurderadjudant-offisier Koos Calitz en adjudant-offisier Gerrie van Rooyen. Adjudant-offisier, Bekker, wat later as kaptein die Mag verlaat het om ’n besigheidsman te word, het nie dieselfde 65% prestasie as ons ander drie behaal nie. Ons drie het twee kerwe op ons salaris gekry toe ons na luitenant bevorder is. Toe was ons weer dadelik op die topkerf van ’n luitenant se salaris. Wel ek het die gebeure so ’n bietjie vooruit geloop, maar nou sal ek die verskyning voor die Keurraad en die kursus as ’n kandidaatoffisier verwoord:

Soos reeds genoem, moes al die kandidate wat die eksamen na luitenant geslaag het, reeds laat September 1970 by die SA Polisiekollege te Pretoria vir ’n 13 weke kursus rapporteer. Een van die konstabels op die stasie, ’n outjie wat heraangesluit het, Yvonne Potgieter, het my na Port Elizabeth spoorwegstasie toe geneem en ons vier kandidate van Uitenhage distrik, saam met die vyf kandidate van Port Elizabeth distrik, het toe per trein na Pretoria gereis.

Toe al die kandidate te Pretoria arriveer het en daar appèl (“roll call”) gehou is, toe eers vind ons uit dat ons altesaam 309 kandidate is. Tot in daardie stadium die grootste aantal kandidate wat die eksamen na luitenant geslaag het. Die aantal kandidate wat 65% of meer in hulle eksamens geslaag het, was sowat 100. Alles was egter geheim gehou wat betref die werklike persentasie wat jy behaal het en wat jou posisie op die geslaagdes se lys van 309 kandidate is. Ons was ook die eerste kandidaat-offisierskursus wat reeds, nadat die kursus ’n aanvang geneem het, eers voor die Keurraad wat in die SA Polisiekollege se woonkompleks Rosehof, sitting gehad het, moes verskyn. Rosehof was een van die twee nuutgeboude slaapeenhede wat gebou is vir die eerste inname van vroulike lede van die Mag wat gedurende 1971 sou plaasvind. Ons was gedurende die eerste week in groepe van 10 uitgeroep om in angs en sweet in een van die slaapkamers van Rosehof te wag om voor die Keurraad te verskyn. Toe my groep geroep was, het daar toe alreeds 4 lede nie die goedkeuring van die Keurraad gehad om met die kursus aan te gaan nie, en hulle moes toe dadelik na hulle standplase vertrek. Julle wag seker in afwagting om te hoor of ek die ja-knik en -stempel van die Keurraad gekry het? Ja, ek het. Snaaks genoeg toe ek voor die ses top offisiere moes verskyn, een generaal-majoor, twee brigadiers, die hoofkapelaan, een kolonel en een kaptein wat die notule moes hou, het hulle my net een vraag gevra en dit was: “Hoekom het die Keurraad jou in 1965 afgekeur?” Toe ek begin praat, stop die een brigadier my en sê: ‘Gaan voort in Engels asseblief.’

Ek het hulle in my beste koningin se taal vertel dat ek weggewys was a.g.v. die aanrandingsaak wat teen my hangende was, en dat die een waarvoor ek jare der jare gelede as ’n junior lid, aan skuldig bevind was, ook teen my gehou is. Die generaal het net so terloops, nadat ek die omstandighede geskets het, in Afrikaans opgemerk: ‘Dit lyk my mos of jy in die polisiemag gewerk het?’ Ek het bevestigend daarop geantwoord, en al die ander offisiere teenwoordig het luidkeels gelag. Ek was nie meer as 5 minute voor hierdie ‘inkwisisie raad’ nie, in teenstelling met die lang en uitgerekte sitting en ondervraging wat ek in 1965 voor die raad moes verduur, en toe afgekeur was.

Nadat die Keurraad al die kandidate gesien en onderhoude met hulle gevoer het, het ons getal vanaf 309 gekrimp na 303 – ses het in die slag gebly. Daar is weer ’n eerste wat met ons klomp kandidate op die kursus gebeur het. Die Inspektoraat se bevelvoerder, ene brigadier Nolan Loxton, kom ons toespreek nadat ons reeds sowat 10 werksdae van die kursus agter die rug gehad het, net voordat ons, ons eerste skriftelike toets sou skryf. Die nuutste bevorderingsbeleid in die Mag betreffende die bevordering van kandidaat-offisiere as luitenante, word uit die spreekwoordelike perd se bek aan ons geopenbaar. Die nuut-bepaalde beleid was soos volg aan ons verduidelik:-

Die eksamen wat ons geslaag het, tel slegs 40 punte,

• die goedkeuring deur die Keurraad 20 punte en die res,

• 40 punte, sal opgemaak word met die punte wat jy in toetse op die kursus behaal het.

Ons sou ses toetse skryf, en daar is toe aan ons vertel dat jy eintlik jou posisie op die vertroulike voorranglys vir bevorderings na ’n offisiersrang, kan verbeter deur die toetse tydens die kursus met die hoogs moontlike punte te slaag. Sou jy enige van die toetse druip, sal jy summier teruggestuur word na jou standplaas toe.

Ons was almal maar skepties oor hierdie beleid, want offisiere wat die kursus die vorige jaar, 1969, deurloop het, het aan ons verduidelik dat jy eintlik niks sal oorkom as jy die toetse sou druip nie. O wee, watter ontnugtering het vir hierdie klomp ‘slim adjudant-offisiere’ gewag toe ons een Maandagmôre, nadat die eerste toets die vorige Vrydag geskryf is, in die saal bymekaar moes kom. Ons wag en skerts onder mekaar, maar weet tot in daardie stadium nie wat gaan gebeur óf gesê gaan word nie, want volgens ons rooster was daar nie ’n saalbyeenkoms geskeduleer nie. Al tien die Indiensopleidingeenheid se dosente, is op die verhoog teenwoordig. Die bevelvoerder van die Indiensopleidingafdeling, luit-kol Ben Stevens, en brigadier Nolan Loxton kom die saal in en ons word op aandag geroep. Nou raak almal stil in die saal, want Stevens stel vir Loxton aan die woord.

Die kort toespraak deur Loxton het soos volg verloop:-

“Dankie kol Stevens vir die geleentheid wat ek het om die name van die kandidaat-offisiere wat laas Vrydag se toets gedruip het, uit te lees. Sodra ek jou naam uitlees, staan jy op en erken dat jy die boodskap ontvang het, deur te sê: ‘Brigadier’!”

Die saal is nou, wat eers soos ’n byenes gezoem het en stil geraak het toe Loxton die verhoog betree het, nog verder doodstil geword sodat jy eintlik die buurmanne wat links en regs van jou sit, se onegalige asemhalings kan hoor. Ek sweer ek het nie asemgehaal nie. Nou word daar in klas volgorde die name van die druipelinge uitgelees. Daar was tien klasse en my klas was klas 4.

Soos die name een na die ander uitgelees word hoor jy, soms na ’n paar sekonde stilte :

“Brigadier” of dadelik spring ’n man op en vra, “Is dit ek brigadier?”

“Is jou naam J.P. Smith?”

“Ja brigadier?”

“Wel dan is dit jy!”

Met reëlmaat hoor jy ’n naam, gevolg met ’n uitroep van “Brigadier.” Die stemtone varieer van ’n bariton, tot ’n piep-fyn alt met die hoogste “do” op die toonleer, dan kyk ons om sodat ons wil sien watter vroulike lid is dan nou hier tussen ons mansmense. Daar word gegiggel, maar dadelik is die erns van die geleentheid weer by ons almal. Ek bly stip kyk na die brigadier wat met die pa- pier in sy hand staan. Nou val die swaard van vergelding, óf is dit geregtigheid?, op die hoof van ou Grey Greyling hier aan my regterkant gevolg met die naam van ‘Kaffer’ Botha aan my linkerkant. Ek sluit

my oë en my ore bly soos Haas Das s’n gespits, maar gelukkig word my naam nie uitgeroep nie.

Toe die name van die ander klasse se druipelinge uitgelees word, het ek so ietwat ontspan, want amper het ek flou geword van ’n te kort aan suurstof toe ek sulke kort staccato asemhalingsritme gehad het.

Toe die laaste naam uitgelees is, het die brigadier gesê: “Hierdie 61 manne wie se name ek uitgelees het, bly nou agter in die saal en die ander verkas na julle klasse toe en wag op julle dosente.”

Die stroewe uitdrukkings op die gesigte wat die manne in die saal gehad het, word nou met breë glimlagge vervang en nou begin die gerugstrooiery van wat daardie manne nou gaan oorkom. Daardie tyd toe rook ek nog pyp en nou stook ek die pyp dat dit bars op pad na die klaskamer toe.

Die een ou het die volgende te sê gehad toe hy die saal verlaat op pad klaskamer toe: “Jong hulle gaan my arresteer weens Beskadiging van staatseiendom.”

Toe vra die een ou: “Hoekom?”

Die spreker antwoord toe: “My poephol het die bekleedsel van daardie ‘chairs office tubular’ waarop ek in die saal gesit het, stukkend gevreet, en ek sweer daar is ook ’n gat in my onderbroek!”

Ja, almal het natuurlik hierdie humoristies sêding met ’n gelag begroet. Ons klasdosent, luitenant Bernie Mostert, arriveer en nou begin die manne vrae vra. Hy wil niks openbaar van wat daar met hierdie manne gaan gebeur nie. Daardie groep manne word sommer summier deur die ander kandidate as ‘Troep 61’ gedoop, en nou wag ons dat hulle so een-een na hulle klasse toe terugkeer. Met die eerste rookbreek, word hulle onder kruisverhoor geneem. Die vonnis was soos volg met voorwaardes daaraan gekoppel:

• Hulle sal nie nou teruggestuur word nie, maar hulle sal oor twee dae ’n opvolgtoets oor dieselfde onderwerpe skryf en sou enige een van hulle dit nie slaag nie, word hulle wat druip summier teruggestuur na hulle stasies toe;

• Ongeag met watter persentasie hulle die hertoets gaan slaag, sal die oorspronklike toets wat hulle gedruip het, se persentasie in berekening gebring word vir die vasstelling van ’n kandidaat se posisie op die bevordering se voorrangslys, en

• Die orige vyf toetse wat voorlê moet deur al die kandidate op kursus geslaag word, en daar sal geen hertoetsing plaasvind as enigeen sou druip nie.

Al 61 kandidate wat die her-toets afgelê het, met nuwe vrae natuurlik, het dit geslaag en hulle kon die kursus verder deurloop. Na hierdie episode, word die spreekwoordelike kers aan beide kante tot wie-weet-watter-tyd in die vroeë oggendure gebrand, want die groot skrik het gekom en nie een van ons wil die ongelukkige persoon wees wat sy vernedering en ‘domheid’ aan sy stasie, sy distrik, sy afdeling en les bes sy gesin en die gemeenskap, gaan openbaar nie.

End goed, alles goed. Ek het geslaag. Daar het toe nog een van die 303 kandidate in die stof gebyt, nie oor hy ’n toets gedruip het nie, maar daar het ’n klagte vanaf die Transkei, waar hy as speurder gestasioneer was, by SA Polisie Hoofkantoor aangekom, en hy moes eers wag totdat daardie klagte behoorlik ondersoek en afgehandel is. Die aard van die klagte teen hom was dat hy, as speurtakbevelvoerder, ook die eienaar van twee trekkers met skottelploeë, was. Hy het tydens werkure die landerye van die Xhosa hoofmanne teen betaling gaan ploeg en saai. Hy het selfs een van die swart speurderkollegas die ander trekker laat bestuur. Sou hy onskuldig bevind word, kan hy die volgende kandidaat-offisierskursus kom bywoon. Hierdie lid het tog, nadat hy vertoë gerig het, die volgende kandidaat-offisierskursus bygewoon en geslaag. (Agtergeblewenes gehelp, sien! Terloops, ek het my posisie op die voorranglys vir bevorderings met bykans 15 plekke verbeter,

259

nadat die kursus se toetspunte in berekening gebring is. Ek het gemeld dat daardie voorranglys ‘Vertroulik’ is, en nou vra jy jouself af hoe het ek dan uitgevind dat ek my posisie op daardie voorranglys verbeter het? Hierdie geheimenis sal geopenbaar word sodra ek die wel en wee van die nuwe luitenant, Barend Johannes du Plessis, gaan verwoord toe hy na Pretoria Hoofkantoor, Indiensopleidingafdeling, verplaas is.

HOOFSTUK 12: VERPLASING NA SA POLISIEHOOFKANTOOR, PRETORIA, AFDELING INDIENSOPLEIDING

Soos wat ek vroeër as ’n kind van die groter Du Plessis familie die hele Kaap Provinsie vol getrek het waar daar ’n Nasionale padkamp opgesit moes word, só het my eie familie wat as die twee plus vyf deur my gedoop is, ook aan die vooraand van nog ’n verplasing gestaan. Dié slag na ’n standplaas waar die Suid-Afrikaanse Polisie my dienste as offisier benodig het. In ons jare was daar nie so-iets soos vra waar jy gestasioneer wil wees nie, jy moes maar net gaan. Die naaste wat ons aan die hedendaagse keuse wat lede van die Mag het, gehad het, is dat jy op eie koste met ’n ander lid van die Mag, op sy eie koste, ’n ruilverplasing kon aangaan. Dit het egter slegs vir die onderoffisiersrange gegeld. Offisiere moes maar oppak en ry! Daar was destyds ’n gesegde onder die polisie se offisiersgeledere dat: “Hy het ongeleerde kinders en stukkende meubels van al die trekkery.” Gelukkig kan dit egter nie van my familie gesê word nie.

12.1 voorbereiding vir verplasing na Pretoria

Wel, nou het die voorbereiding vir die verplasing begin. Ek skakel Corrie vanaf Pretoria die aand laat, dit was seker so teen 10-uur nm (22:00) nadat ons kandidate se verplasings, tydens ’n amptelike banket, bekend gemaak is. Die presiese datum kan ek nie meer onthou nie, maar dit was seker sowat 2 weke voor die einde van die kursus. Ons uitpassering was die eerste Vrydagoggend van Desember 1970. Ek stel nou vir Corrie aan die woord oor hierdie telefoonoproep wat sy ontvang het:

“Pa bel my omtrent so om-en-by 10-uur die aand wakker. Die vyf kinders slaap al almal rustig en is in hulle eie droomwêreld vasgevang. Ek staan deur die blare uit die bed op en sommer so met my kaalvoete stap ek na die telefoon toe wat in die kort gangetjie teen die gangmuur op pad na die kombuis, gemonteer is. Gelukkig was die huis se vloere van hout en kon ek met geruste hart saggies en met warm voete die tog na die telefoon aanpak. Ek was baie seker dat die oproep van Pa af is, want hy het vroeër die week gebel en gesê dat hy onmiddellik sal laat weet waarnatoe ons verplaas is, as hulle deur die senior stafoffisier van die SA Polisie Hoofkantoor verwittig gaan word wat ons nuwe standplaas sal wees. Hy het bygevoeg dat dit tydens die amptelike banket die Vrydagaand sal geskied.”

“Pa sê hy wil nie baie lank praat nie, want daar is net ’n paar telefone in die kollege by hul slaaplokale beskikbaar en daar wag baie manne wat hulle geliefdes wil bel. Al die bykans driehonderd van hulle staan in toue voor die halfdosyn telefone. Hy is baie op die man af nadat ons begin praat het en nou klop my hart in my keel want nou gaan ek die boodskap van ’n verplasing ontvang. Ek trek ’n kombuisstoel nader, want ek is maar redelik bewerig in my bene. Ek hoor die boodskap, óf is dit oordeel?: “Liefste, ons word Pretoria toe verplaas, na die Afdeling Indiensopleiding toe. Ek moet gaan klasgee.”

“Die plek Pretoria ken ek, maar die aard en omvang van die opleiding waar klas gegee gaan word, is vreemde terminologie vir my. Hoe vreemd hierdie terminologie was, sal julle nog later in hierdie memoires van Pa lees.”

“Die kort gesprek word met die volgende paar woorde afgesluit: ‘Meisiekind, ek sal jou weer môreaand bel wanneer die telefone nie so baie deur ander kandidate benodig word nie. Ek sal dan seker meer duidelikheid hê oor die verplasing. Tata meisiekind, ons gesels weer later. Lief jou!’ Die verbinding met Pa word verbreek nadat ek hom totsiens gesê het.”

“Ek is iemand wat, soos dit aan almal bekend is, nie sukkel om aan die slaap te raak nie. Daardie nag het ek my eerste slaaplose nag gehad. Ek lê in die bed, oë toe, dan maak ek hulle oop en staar na die donker plafon in die slaapkamer. Bly rondrol, want my brein bly wakker en allerhande gedagtes flits soos kameraflitse deur my kop: Waar gaan ons bly? Pretoria is ’n vreemde plek vir my en die kinders. Ek was omtrent ’n senubol. My gedagtes bly dwaal en telkemale kom dit terug na die volgende paar gedagtes:”

“Sal ons kan huis koop? Het ons genoeg geld om ’n huis te koop? Moet ons nie maar liewer eers huur nie? In watter voorstad gaan ons bly? Ons moet vreemde distriksgeneeshere besoek. Hoe vêr is die skool? Hoe vêr is die kerk? Wat is ons naaste hospitaal? Ons sal as vreemdelinge nuwe bure hê, sal die kinders in die groot stad kan aanpas? Sal hulle nie die bure pla nie? Wat van hulle Kinderkrans? Wat van my VLV? Sal ek die motor daar kan bestuur? Moet die kinders na hulle skool toe aangery word, óf loop hulle? Of moet hulle gaan busry? Gaan hulle nie dalk verdwaal nie? Sal ons deurkom met Pa se salaris? Ek sal nie daar ’n ekstratjie verdien as spesiale matrone nie. Sal ek moet gaan werk? Waar gaan ek werk kry? en nog vele ander spookgedagtes.”

“Die dag breek en die oggendlig kom stadig die huis binne deur die toegetrekte gordyne. Ek is moeg, doodmoeg soos ek in sirkels gedink het en bly dink het en in stille gesprek met myself en in gebed met ons Hemelse Vader was. Ek het die bed deurmekaar en warm gerol. Ek het maar later opgestaan, te vroeg om die kinders wat skool toe moet gaan, Kobus, Anton, Werner en Christo, wakker te maak. Nico sal eers in Pretoria met sy skoolloopbaan begin. Ek gaan sit by die kombuistafel en my brein bly aktief met die spook van die Pretoria-toe-ganery. Ek maak maar koffie en begin rustig daaraan drink. Die tyd om kinders wakker te maak breek aan en die gewoel van vier seuntjies om elkeen ’n draai by die toilet en die badkamer te maak en gereed te kry vir skool laat my verplasing gedagtes ’n bietjie met rus. Nou kom hulle die kombuis in, ‘gespit’ en ‘ge-polish’ vir die skool. Hulle kry hulle ontbyt en nou breek ek die nuus vir hulle. Hulle begin vrae vra, en ek moet op die meeste vrae maar vae antwoorde gee en stel hulle gerus dat Pa nog met hulle oor die telefoon gaan gesels sodra hy kans kry.”

“Daardie aand bel Pa en sê: ‘Meisiekind, gelukkig kry ek, saam met die ander sewe ouens wat vir hierdie taak na Pretoria verplaas gaan word, goedkeuring van die bevelvoerder van Indiensopleiding, luit.-kol. Ben Stevens, om na die laaste periode in die dag, dis om ongeveer 4nm (16:00), met eiendomsagente te skakel sodat ons saam met hulle na huise wat in die mark te koop aangebied word, kan gaan kyk. Hy sê dat hy reeds na ’n paar huise gaan kyk het. Hy wil maar liefs koop, want hy is redelik seker dat ons nie baie gou uit Pretoria verplaas gaan word nie. Hy het egter nie van die huise gehou wat hy gesien het nie. Hy praat met elkeen van die seuns ’n paar woorde, en hulle klink darem redelik opgewonde vir die nuwe avontuur. Vir hulle was dit nie so ’n groot trauma soos vir my nie. Die laaste kind, Nico, gee die telefoon terug en ons praat nog ’n paar sinne met mekaar en toe sluit hy af: ‘Tata Meisiekind, ons gesels weer later. Lief jou!’ Ek groet, met meer vrae in my gedagtes as klarigheid oor die voorgenome verplasing.”

“Ek het darem nou dié versekering dat ons in ’n eie huis gaan bly en dat Pa die beste sal weet wat ons behoeftes as familie is, sodat dit wat hy gaan koop aan ons behoeftes sal voldoen. Algaande het ek myself vereenselwig met dit wat gaan gebeur en nou word my gedagtes in positiewe denke gekanaliseer. Dit raak al makliker om oor die verplasing te praat en te dink. Nou begin ek sistematies dink oor die gereedmakery om te trek. Dit sal darem op staatskoste wees. Ons gaan nog met vakansie na die Boland toe, na ouma Dupie en haar twee seuns wat nog in die huis is, Thys en

Fanie, en dan gaan ons ook nog op die plase by Anna, Kowie en Babie kuier. Die meubelvervoer maat-skappy sal al die verpakkings doen. Sersant Daantjie Strydom sal, in ons afwesigheid, ’n ogie daaroor hou.”

Einde van Corrie se bydrae in soverre dit die kennis van ons verplasing na S A Polisie se Hoofkantoor in Pretoria aangaan. Dankie Bokkie, vir dit wat jy kwytgeraak het, dis nou eers vir my ’n openbaring wat jy alles moes deurmaak, op geestelike en fisiese gebied, met hierdie groot ingryping en verandering in ons saamwees. Baie dankie dat jy nooit, maar nooit terugverlang het na die spreekwoordelike ‘vleispotte van Egipte’ nie en saam met my die pad van die lewe geloop het. “Dankie Here, vir hierdie mooi mens wat U aan my gegee het sodat ons as geesgenote nog steeds die lewenspad saam kan loop. U naam ter eer!”

Ekself het ook maar, wanneer daar stil tye in die dag tydens lesings en die aande na klas is, en na besoeke aan huise wat te koop aangebied word, ietwat van ’n bekommernis in my gemoed gehad oor hierdie verplasing. Ek het met my twee broers en suster, Rassie, Japie en Maggie, kontak gehad tydens die kursus. Net so ’n paar dae voor die uitpassering, het ek net na die laaste klas, saam met ’n eiendomsagent van Corlett Drive, na Pretoria-Noord vertrek om na twee huise te gaan kyk. Al twee was in Wesstraat, Pretoria-Noord geleë. Die een was nader aan die berg, maar vervalle is eintlik nie ’n woord om dit te beskryf nie. Daar was ’n groot stoep aan die voorkant waarvan die plafonne stuk-stuk uitgehang het, die mure was gebars en die plankvloere was deurgetrap. Die dak het jare laas verf gesien en plek-plek het rooi roes deurgeslaan. Die tuin was ’n oerwoud en die draadheining was afgerem, die motorhek en tuinhekkie het skuins aan skarniere gehang, en ek was eintlik verbaas dat die eiendomsagent my na hierdie huis toe gebring het. Ons het ons skrede na die tweede een gewend. Dit was ’n platdakhuis te Wesstraat 94A met drie slaapkamers, ’n siteetkamer, kombuis, ’n was-kamer en een badkamer met aparte toilet. Daar was ’n losstaande buitekamer met bediende toilet. Die huis was op ’n halwe burgererf wat eintlik nie veel aan gedoen is nie, want die gras het redelik hoog gegroei. Ek het ’n aanbod van R13 500,00 gemaak om dit te koop. Hierdie bedrag was binne die perke van R15 000,00 waarvoor ek ’n 100% huislening van die Staat kon kry. Die verkoper het my aanbod aanvaar.

Die Saterdagoggend is ek per bus uit na Rassie-hulle toe en hy het saam met my na die huis gaan kyk. Omdat ek redelik laat die middag die aanbod om te koop geteken het, het ek glad nie gekyk na die onmiddellike omgewing waar die huis geleë is nie. Ek was self verbaas toe ek saam met Rassiehulle vind dat die huis langsaan ’n redelike bouvallige woning is. Wel die koeël was deur die kerk en ons sal maar tevrede moes wees met waar ek gekoop het. Ek het ook vir Corrie telefonies laat weet van die huis waarop ek ’n aanbod gemaak het, en dat die eienaar te kenne gegee het dat hulle einde Desember 1970 sou trek en dat ons in Januarie 1971 okkupasie sou kon neem. Hy het my meegedeel dat hy my eenhonderd Rand sou gee sodat ek verf kon koop om die huis buite te verf, want die blou afwerking van die geute, vensterrame en deurkosyne aan die buitekant het verf gekort. Nou was my bekommernis so ietwat getemper, maar nou rol ek weer snags rond oor of ons sal uitkom met my salaris as luitenant as die huispaaiement, tesame met ’n motorpaaiement betaal moet word. Gelukkig het die opgewondenheid dat Corrie op pad is na Pretoria om die uitpasseringsparade by te woon en die daaglikse inoefening van die parade die ronddwalende gedagtes oor die finansies eenkant geskuif.

Ek het vanaf Pretoria Polisiekollege aansoek gedoen dat Corrie per trein na Pretoria, teen ’n afslagprys waarop ons polisielede geregtig was, kan reis. Dit het daardie tyd bekend gestaan as ’n vakansiekonsessietarief. As ons terugdink aan daardie tyd wonder ons hoe briewe en pos met gewone landpos altyd betyds by hulle bestemming aangekom het, want daardie aansoek moes weer vanaf Pretoria na Humansdorp gestuur word, sodat sy weer die konsessiesertifikaat by die spoorwegstasie te Port Elizabeth kon inhandig om haar kaartjie te kry. Dankie Vader, administrasie

in die huidige Polisiediens het sedertdien redelik makliker geword met selfone, internet, e-pos, Google en nog wat! Corrie het gereël dat die vyf knape by Daantjie Strydom-hulle in Humansdorp kan slaap vir die paar dae wat sy in Pretoria was vir die uitpassering. Die uitpassering was by die ou Loftus Versfeld Rugbystadion. Ons het as ’n paar pelotonne nuut-aangestelde luitenante voor die bykans eenduisend nuwe manlike konstabels op parade, ons plekke ingeneem.

Loftus Versfeld Rugbystadion waar ons uitpassering as luitenante in 1970 plaasgevind het. Die vroeëre stadion het ietwat anders daar uitgesien. (Foto: Google).

Corrie was by Maggie en Schalk in hulle huis in Valhalla tuis. Ek het toe vir haar en die Van Schalkwyk’s gaan wys hoe die huis lyk wat ek gekoop het. Sy was darem tevrede, en ons het albei maar gepraat wat en hoe ons dalk later veranderings sou aanbring. Ek is terug polisiekollege toe en Maggie het saam met haar na die uitpassering gegaan. Ek moes maar saam met die ander luitenante en konstabels wat met die busse vanaf die polisiekollege na Loftus toe gery het, terugkeer polisiekollege toe. Terloops, die kollege het nie genoeg busse gehad vir die 1000 + polisiemanne nie, en het ’n hele vloot munisipale busse as vervoer vir ons gereël. (Amper soveel soos wat die ANC-regering nou doen as hulle ‘n vergadering op ‘n plek gaan hou!)

Na uitpassering het ons eers na die SA Polisiekollege toe teruggegaan, waar ek, saam met die paar nuwe luitenante wat na Port Elizabeth toe moes teruggaan, voordat ons by ons nuwe standplase moet aanmeld, om te hoor dat ons ’n taak het om op ons treinrit te verrig. Ons was opdrag gegee om die nuwe konstabels wat na Port Elizabeth toe uitgeplaas is, op die trein in toom te hou. Ons sou dissipline moes handhaaf en sien dat hulle werklik as gedissiplineerde lede van die Mag optree tydens die 24 uur lange treinrit Port Elizabeth toe. Ek het ook die aand na die uitpassering, dit was op die eerste Vrydag in Desember 1970, by Maggie-hulle oorgeslaap. Schalk het ons toe die Saterdagoggend by Pretoria spoorwegstasie besorg, waar ek en ’n paar ander luitenante die klomp nuwe konstabels ingewag het. Ons taak om orde en dissipline te handhaaf het sommer al op die spoorwegstasie begin, want ons moes toesien dat hulle “kitbags” met gewere en hulle trommels in die kondukteurswa ingeboek word en dat hulle by die regte rytuie en kompartemente uitkom. Gelukkig het ons nie veel moeilikheid met die klomp jongmanne tydens die treinrit gehad nie, in teendeel, dit was aangenaam om met hulle te werk. Met ons aankoms te Port Elizabeth se spoorwegstasie, het ons die nuwe konstabels aan kaptein Cloete, Werwingsoffisier vir die Oostelike Provinsie en stasiebevelvoerder van Kwazakhele polisiestasie, oorhandig. Hy moes hulle na die afdelingshoofkantoor toe neem. Ons luitenante sou die Maandag ook by die afdelingshoofkantoor te Port Elizabeth wees, sodat ons as offisiere in die Mag ingelyf kan word. Konstabel Potgieter van

Humansdorp het ons met my motor, die Chevrolet Kommando, kom haal en ons is direk huis toe. Die kinders was natuurlik almal baie opgewonde, want die vader- en moeder-des-huise is terug in hulle midde. Jong ons het omtrent na hierdie vyf kleingoed verlang! Ek dink Daantjie-hulle het seker Halleluja gesing toe die vyf manne weer by ons kon intrek.

Die Maandag is ek deur Port Elizabeth toe om saam met die ander nuwe luitenante by die afdelingskommissaris se kantoor in Noordeinde, Port Elizabeth, te gaan aanmeld. Dit was:-

• Luit. Koos Calitz, takbevelvoerder van speurtak te Uitenhage. Hy het later afdelingskommissaris vir Johannesburg geword met die rang van luitenant-generaal en na aftrede het hy hom op sy plaas te Kabeljousrivier, naby Jeffreysbaai gaan vestig;

• Luit. Gerrie van Rooyen, hy was die stasiebevelvoerder van Despatch. Hy is as brigadier medies ongeskik vir diens bevind toe hy ’n hartaanval gekry en ’n paar hartvatomleidings moes kry. Hy het hom op Jeffreysbaai gevestig en is reeds oorlede;

• Luit. Schoombie, hy was by Korsten-polisiestasie die toesighoudende adjudant-offisier en het met sy nuwe rang van luitenant sy pos behou. Hy het die Mag as kaptein verlaat toe daar so ’n ietwat van ’n deurstamp in sy offisiersloopbaan gekom het;

• Luit. Bez (Peppi) Bezuidenhout, die speurtakbevelvoerder van die Korsten polisiestasie se speurders. Hy het as kaptein medies ongeskik uit die Mag getree en is ook reeds oorlede;

• Luit. Bekker, hy was, voor sy aanstelling as luitenant, die bevelvoerder van die ondersoek en navrae-afdeling van die uniformseksie te Korsten polisiestasie. Hy is na die Radio Beheerstasie te Mountweg as skofbevelvoerder geplaas. Hy het ook baie vroeg as kaptein die Mag verlaat om ’n besigheidsman te word;

• Luit. Eric (Snorre) Strydom was takbevelvoerder van die speurtak te Nuwe Geregshowe polisiestasie. Hy het daar aangebly en is later as brigadier medies ongeskik uit die Mag ontslaan. Hy was lank die Port Elizabeth Polisie en Oostelike Provinsie se rugbyafrigter. Hy is nog in lewe en het ’n private sekuriteitsbesigheid begin.

Ekself, dit weet julle nou al teen dié tyd, was na Pretoria toe verplaas as dosent by die afdeling indiensopleiding wat kantore in SA Polisie hoofkantoor asook in die SA Polisiekollege gehad het. Ons kantore in Hoofkantoor het ons doserende personeel net gebruik as navorsing gedoen is oor die vakke wat op die leerplan van alle kursusse verskyn. Dit was dan gerieflik om studiemateriaal vanuit die SAP se biblioteek aan te vra.

Ons inlywing het nie veel om die lyf gehad nie, eintlik net ’n sedepreek deur die afdelingskommissaris en dan het die kapelaan vir ons in gebed voorgegaan. Ons was met tee en happies, my seuns weet mos wat dit is, (versnaperinge) getrakteer. Ons was seker altesame sowat ’n uur daar toe ons kon vertrek. Ons offisiere vanuit Uitenhagedistrik, het toe weer by die distrikskommandant aldaar gaan aanmeld.

’n Lugfoto van die SA Polisiekollegedorp. Soos julle kan sien dit was werklik groot en uitgestrek. (Foto: Google)

Ek was reeds weer so teen middagete tuis waar ek al die polisiemanne, swart en wit, by die Humansdorp polisiestasie ontmoet het. Ek het nog daardie week so ’n bietjie werk gedoen, maar was meer by die huis as anders, om te help met die inpak van ons persoonlike eiendom. My verlof het ook toe aan die einde van daardie week begin en daarvoor was ons ook gerat om klarigheid te kry voor ons vertrek. Soos reeds gemeld, sou sersant Daantjie Strydom, die tweede in bevel van die polisiestasie, toesien dat ons meubels gelaai word terwyl ons met vakansie is.

Met ons terugkeer van vakansie, gaan ek gou by die polisiestasie aan om almal te groet. Die polisiewoning is leeg en al ons meubels en persoonlike besittings is deur die meubelvervoerders, Ward Broers van Port Elizabeth, gelaai en hulle sal dit in Port Elizabeth stoor totdat hulle dit na Pretoria moet vervoer. Ek het reeds met hulle ’n datum vasgemaak, ek dink dit was die 4de of 5de Januarie 1971, want ons kon eers op daardie datum okkupasie neem in ons nuut-aangekoopte huis in Wesstraat 94A, te Pretoria-Noord.

Ons vertoef nog so ’n dag of wat in die Baai by oupa en ouma Scholtz-hulle en sou dan die lang pad Pretoria toe aanpak. Ons het toe ook van die geleentheid gebruik gemaak om al Corrie se familie wat nog in die Baai gebly het, te gaan groet.

12.2 Vertrek na en aankoms te Pretoria

Ons vertrek so tussen Kersdag en Oujaarsdag, 1970, die presiese datum onthou ek nie meer nie, met ons Chevrolet Kommando Pretoria toe. Die motor is swaar gelaai want ons het al ons koffers met klere in die kattebak gehad en ons vyf seuns het soos bliksoldaatjies op die aanmekaar agterste sitplek gesit. Hulle was nog klein genoeg om langs mekaar in te pas. Só het ons die dag deurgery tot in Pretoria, net stilgehou vir brandstof, waar ons almal die ‘wit hasie’ toilette by die Caltex vulstasies besoek het om te gaan piepie – soms ook genommer twee. (Sal later so ietsie skryf oor die ‘wit hasie’ gesegde van ons kinders.) Ons het sommer langs die hoofpad by die sementtafeltjies en -stoeltjies stilgehou om iets te eet. Die iets was die padkos wat ouma Scholtz-hulle vir ons ingesit het. Ons kom laat middag in Pretoria aan en ons ry dadelik na my broer Japie-hulle toe in Pretoria Tuine. Hulle het ons hartlik ontvang en gesê dat hulle slaapplek vir ’n paar dae by oom Kal (Kallie) en tant San (Sannie) Kirstein, sy skoonouers, vir ons gekry het, totdat ons meubels arriveer en ons in ons huis te Pretoria-Noord kan intrek. Sy skoonouers het ook in Pretoria Tuine, nie ver van Japiehulle af nie, gebly.

Ons het later daardie week, na Nuwejaarsdag 1971, huis toe in Wesstraat 94A, in Pretoria-Noord, verkas, want ek het kennis ontvang dat die meubelvervoerwa op daardie dag sou arriveer. Ons het net nie geweet watter tyd nie. Ons het maar by die huis rondgestaan, die huis van binne en buite bekyk en ook deur die erf geloop. Die erf was maar redelik woes en leeg, soos daar in Genesis 1 geskryf staan, voordat God orde met sy skepping op aarde gebring het, maar ek sou later moes orde bring sodra elke ding ’n plek het en elke plek ’n ding het waar dit sal staan in ons huis. Die huis was ’n platdak en het IBR-dakplate opgehad – dis daardie lang plate met groot riffels wat oor die hele breedte van die huis gestrek het. Daar was ‘n kaggel in die sit-eetkamer. Die vensterrame en die deurkosyne was aan die buitekant blouselblou geverf. Die geute en aflooppype was ook blouselblou geverf, met die mure wat wit geverf is wat plek-plek begin afdop het. Die buitekamer met buitetoilet het eenkant agter in die erf gestaan. Die erf was met gewone draadheining omhein en daar was net ’n motorafdak langs die huis. Die vorige eienaar het beloof dat as ek die verf gaan koop en laat verf, hy my daarvoor sal vergoed.

Die meubelvervoerwa arriveer en nou is dit ’n geskarrel om elke stukmeublement in die regte vertrek en op die regte plek te kry. Eerste word die beddens in die kamers geplaas, en toe die kaste, en al die ander gebruiksitems. Die kartondose was gelukkig duidelik gemerk uit watter vertrek die inhoud kom soos wat dit in die huis in Humansdorp was. Ons het maar self die kartondose en die houtkaste begin uitpak nadat die meubelvervoerwa vertrek het. Ons kom toe agter dat daar een houtkas, wat ons self te Humansdorp gepak het, nie daar is nie. Daarin was bv. die elektriese ketel, die elektriese strykyster en heelwat ander kombuisware, asook onoopgemaakte blikkieskos en ander kruideniersware. Ek het dadelik ’n elektriese ketel en -strykyster gaan koop en die volgende dag per telefoon, vanaf my kantoor by die Indiensopleidingseenheid, in die SA Polisiekollege, met Ward Broers te Port Elizabeth in verbinding getree. Hulle het my versoek om ’n eis in te dien, dan sal hulle my vergoed. Hulle sal eers navrae doen om vas te stel of die kas nie by een van die ander twee adresse, waar hulle ook meubels afgelaai het, per abuis afgelaai is nie. Ons meubels en persoonlike besittings was met ’n koppeltender na Pretoria vervoer. Die een lot meubels was in Witbank en die ander iewers te Pretoria-Oos afgelaai. Ons huis was die laaste plek waar hulle moes aandoen om ons meubels af te laai.

Nadat ons brood, melk en ’n paar broodnodige kruideniersware in Pretoria-Noord aangekoop het, kon ons die eerste aand in ons vreemde kamers, maar in ons eie beddens slaap, nadat ons voor

die slaapkamervensters ons vorige huis se gordyne gehang het. Corrie moes later maar verstellings aan van die gordyne doen, maar vir eers was die kamers in privaatheid omskep. Gelukkig was die krag nie afgesny nie en kon ons darem met elektriese lig tot redelik laat kartondose en kaste uitpak. Ek gaan nie verder baie uitbrei oor hoe ons, Corrie gedurende die dag en ek saam met haar wanneer ek van die werk af kom, die eerste paar dae moes swoeg en sweet om ons huis leefbaar te maak nie. Ons moes ook die omgewing gaan verken om vas te stel waar die naaste kerk, die skool en die winkels is en later ook wat die busse se tydtafel stad toe en terug is.

Gelukkig bel Ward Broers later, seker so twee weke nadat ons reeds ingetrek het, my by die werk en sê dat hulle die verlore kas opgespoor het. Dit was per abuis in Witbank afgelaai. Die kas sal na ons adres toe gebring word. Hulle het toe niks verder aan die eis gedoen wat ek op skrif per pos aan hulle gestuur het nie, want ek moes eers vasstel of die inhoud van die kas nog ongeskonde is. Toe die kas ’n paar dae later by die huis afgelewer word, en ons die inhoud nagegaan het, was net van die kruideniersware vermis. Ons het besluit dat ons nie verder sou gaan met die eis nie en Ward Broers só ingelig.

Ek kon baie gou die elektriese krag se deposito gaan betaal en reël dat die rekening nou aan my gestuur word. Ek het dadelik ook my voertuig, die Kommando, in Pretoria geregistreer. Ek het ook aansoek gedoen vir ’n landlyntelefoon, en na ’n gesukkel van ’n paar maande, het ons ’n landlyn gekry. Dit was nog net ’n deellyn met ons bure in Jack Hindonstraat, die De Wets. Ons moes eers die telefoongehoorstuk optel om te hoor of die De Wets nie besig is om self te praat nie. As dit stil is, dan kon ons bel. Praat hulle, dan moet ons maar ’n tydjie wag en weer optel. Hierdie deellyn het amper soos die plaastelefoon in Knapdaar gewerk, met die uitsondering dat ons nie ’n kodelui gehad het nie. Ons het heelwat later ’n volwaardige lyn gekry.

Ek het intussen verf aangekoop en die prokureur wat die oordrag gedoen het, verwittig wat die bedrag is. Die prokureur het per brief laat weet dat hy die vorige eienaar versoek het om die aangeleentheid direk met my te finaliseer. Die vorige eienaar het nooit weer te voorskyn gekom om my te vergoed vir die R100,00 plus wat ek aan die verf se aankoop bestee het nie. Ek het besef dat dit ’n spreekwoordelike dooie perd is wat ek nou probeer opsaal, en dit maar laat staan en self die koste gedra. Ek sou so twee maande later eers begin verf, want ek moes intussen ’n kursus as dosent by die staatsdienskommissie (SDK) se opleidingskantore in die Noord-Vaal gebou se deurloop (’n soort arkade) in Pretoria gaan bywoon.

Ons kon gelukkig ’n paar honderd Rand eis vir dit wat ons ontbeer het met die verplasing, omdat ons op staatskoste verplaas is. Die bedrae, die items en die dienste waarvoor geëis kon word, was vervat in die SA Polisie se Staande Orders (Finansieel). Die eise het onder andere die volgende behels:

Reis- en verblyftoelae vir myself, Corrie en die vyf seuns vir die tydperk wat die verplasing geduur het vanaf Humansdorp na Port Elizabeth;

Ons motor wat vir die rit gebruik is, is volgens ’n voorgeskrewe kilometertarief vir myself en pro rata vir haar en die vyf seuns as passasiers, bereken. Die koste van sewe 1ste klas enkeltreinkaartjies (offisiere kon eersteklas reis) word bereken, saam met moontlike uitgawes vir beddens en etes op die trein, en sou die bedrag minder wees as dit wat geëis word vir die rit per motor, dan het hulle die bedrag uitbetaal soos bereken vir die treinrit. Gelukkig was die eis vir die gebruik van die motor ietwat goedkoper en is daardie bedrag uitbetaal;

Die herregistrasie van ons motor te Pretoria en die aankoop van twee nuwe nommerplate;

Die omskakeling van ons elektriese stoof en yskas na die kragsterkte van Pretoria – 240v in plaas van 220v;

Die aankoop van een stel nuwe somerskoolklere en een stel winterskoolklere vir elk van die vier kinders wat reeds skoolgaande was, naamlik Kobus, Anton, Werner en Christo. Vir Nico wat toe begin skoolgaan het, 1971, kon ek nie eis nie, want ons sou in elk geval nuwe skoolklere vir hom moes koop sou ons in Humansdorp aangebly het; en

Ek sou eers heelwat later die eis vir die installering van ’n landlyntelefoon eis, sodra ons die landlyntelefoon ontvang het.

Al hierdie eise het ek gelyktydig ingedien en omdat ek nou op die Polisie hoofkantoor se personeel was, het hulle dit dieselfde dag wat die eise ingedien is, in kontant uitbetaal. So het ons die eerste paar dae van die nuwe jaar die wolf van die deur af weggehou.

Ons het nou as nuwe ‘Vaalpense’ (Noemnaam vir Transvalers) ons in ’n nuwe provinsie, stad en gemeenskap bevind en daar sou ons moes sosialiseer, of vir die res van ons verblyf in die vreemde ongelukkig wees.

12.3 Eerste fase van inburgering in gemeenskap

Ons het sommer gou, nadat ons rus by ons Pretoria tuiste gevind het, voor die skole begin, saam met die kinders die roete vanaf ons huis te Wesstraat tot by die Voortrekker Eeufees Laerskool, wat op die h/v Eeufees- en President Steynstrate geleë is, gestap. Op die staproete het ons, dis nou ekself en Corrie, maar met die kinders gesels en hulle nou ingelyf in die veranderde omgewing waarin ons, ons nou bevind en die skool en die kerk waarheen hulle nou moet gaan. Aangesien die NG Gemeente Onderstepoort ook in Eeufeesstraat, in die blok net voor die skool, geleë is, het ons aanvaar dat dit ons gemeente sou wees. Ek het dus die eerste Sondag reeds ons lidmaatskapsertifikate by die kerkkantoor ingehandig en die kinders in die Sondagskool ingeskryf.

Na die verloop van ’n maand of twee het ons nog nie gehoor dat ons lidmaatskapsertifikate in die kerk gelees word nie, en toe ons navrae daaromtrent doen, sou ons verneem dat ons woonadres net buite die gemeentegrense van Onderstepoort val en dat ons eintlik binne die gemeentegrense van Pretoria-Noord NG Gemeente ressorteer.

Ons het toe met die Onderstepoort gemeente ooreengekom dat ons daardie jaar, 1971, daar sou bly, want die kinders het reeds met hulle Sondagskoolklasse begin, waarna ons dan in Januarie 1972 sou oorgaan na die Pretoria-Noord NG Gemeente toe. Dis só aanvaar en ons het dus in Januarie 1972 weer van nuuts af nuwe predikante en lidmate van die gemeente leer ken. Ons sou by hierdie gemeente bly tot einde April 1988, toe ons uit Pretoria-Noord na Wonderboom verhuis het. Gedurende daardie tydperk was ons net vir ’n paar maande nie in die gemeente nie, want ek was te Mafikeng gestasioneer. Meer hieroor later.

Ek stel nou weer vir Corrie aan die woord oor wat haar ondervinding was toe sy die vyf Du Plessis’tjies vir hulle eerste skooldag na Voortrekker Eeufees Laerskool, Pretoria-Noord toe vergesel het:

“Ja, al vyf die kinders is nou skoolgaande, want Nico het 6 geword in Oktober 1970 te Humansdorp en nou moes hy ook sy skoolloopbaan van 12 jaar begin. Dit op ’n heel vreemde plek. Ek is saam met die vyf stuks skool toe. Ek het saam met hulle gestap en so al geselsende hulle probeer gerusstel dat die verandering en die vreemdheid van Pretoria en hulle skool, net nog maar ’n fase in hulle lewens is en dat hulle dit sal kan verwerk en tog later sal geniet. Vir my was dit ook maar net so ’n vreemde ervaring maar ek het dit nie in my gesels met hulle laat agterkom nie, en my dapper gehou.

Die vyf Du Plessis’tjies saam in die laerskool by Voortrekker Eeufees Laerskool weer met truitjies wat Corrie gebrei het. L na R:Christo, Kobus, Anton, Werner en Nico. Dit lyk my Christo het nie baie lus vir die nuwe skool nie! (Foto: Ben).

“Ons kom by die skool aan en gaan saal toe. Oral rondom ons is vreemde gesigte. Ek ken niemand en die seuns is maar net so vreemd tussen die ander leerlinge. Hulle vyf sit ook nog verwyderd van mekaar op die vloer van die saal saam met die bykans 800 ander kinders. Die ouers sit agter in die saal op ’n paar stoele wat daar vir ons gerief geplaas is. Ek is na aan trane, voel vreeslik jammer vir my kinders wat nie een maatjie daar het nie. Op Humansdorp het hulle darem al, voordat hul skool toe is, maatjies gehad wat die skooljaar saam met hulle begin het. Een van die ander mammas wat langs my sit begin toe met my gesels. Sy het ook een van haar seuns vir die eerste keer skool toe gebring. Dit blyk toe dat hulle voorheen in Port Elizabeth gebly het en dat haar man by die Poskantoor werksaam is. Anton loer in ’n stadium daar van vooraf om na my kant toe, seker om te sien of ek nog daar is. Hy was maar die een wat gou op loop kon raak as ek nie reageer as hy my roep nie. Dit was seker maar omdat ek in die verlede gedreig het om weg te loop wanneer hulle my geduld tot die uiterste beproef het met hul stoutighede. Daardie uitdrukking op sy gesiggie sal my altyd bybly. ’n Uitdrukking van so iets tussen soekende afwagting en verlorenheid. Dit het my traankliere nog nader aan uitstorting gebring, maar gelukkig kon ek dit so stil-stil verberg. Na die saalopening is die kinders na hul onderskeie klasse toe en ek terug huis toe.”

“Op my alleen terugtog huis toe, gaan daar maar baie gedagtes deur my kop. Nou voel ek weer van nuuts af jammer – jammer vir die kinders, jammer vir myself, ja, sommer net jammer dat ons die veilige en bekende omgewing van Humansdorp moes verlaat. Ek het die verplasing darem nooit teen die polisie gehou of teen Pa wat die verplasing moes onderneem nie, want ek het maar te goed geweet dat ons gesin se toekoms, saam met Pa se vordering in die polisie, in ons eie hande is. Ek het ook besef dat ons gesin sal saam ons versterking en berusting vind in ons gebede tot die Here, ons God en ons Persoonlike Verlosser. Ja, en ons het darem van Pa se familie hier gehad waar ons kon gaan kuier het en wat aan ons die nodige ondersteuning in die vreemde gegee het.”

“Soos julle weet kan dit maar goed donderweer en reën in Januarie en het ek die eerste paar dae vir Nico, die graadeentjie wat voor sy boeties uitgekom het, by die skool gaan haal. Toe hy eers maats gemaak het, het hy en ’n maatjie wat in Stasiestraat gebly het saam gestap. Eendag was die weer dreigend en hy moes eintlik al by die huis gewees het. Pa was met die motor werk toe en ek

stap toe maar straat af om te kyk of ek hom nie te sien kry nie. Waar is die knapie toe? Sit op die hoek van Stasie- en Wesstraat op sy tassie met die maatjie en gesels.”

“Julle moet onthou ons Kapenaars was nie gewoond aan die donderweer van Pretoria nie! Ek vra hom toe of hy nie bang is vir die donderweer nie. Sy reaksie, ewe kordaat was: “Nee, ek is dit al gewoond.” Ek het maar so in die stilligheid geglimlag vir hierdie antwoord. Dit wys jou net hoe maklik kinders by ’n vreemde omgewing inskakel en maats begin maak. Baie gou het die ander vier ook hulle nuwe skool aanvaar en omdat hulle almal geseën is met talente in soverre dit sport aangaan, is hulle dus gou-gou in die skool se huissport in atletiek wat in vier onderskeie ‘kleur groepe’ ingedeel is, ingedeel. Gelukkig was al vyf in dieselfde groep sodat daar nie lojaliteitsverskille tussen hulle kon ontstaan nie. Ek sluit my aandeel van hierdie deel af, want Pa sal seker nog, soos hy die herinneringe herroep en nog op skrif gaan stel, melding maak van die seuns se sport- en akademiese prestasies.”

Dankie Bokkie, vir die deel wat nou by hierdie memoires ingesluit is. Net jy alleen kon dit so mooi verwoord, want ek was weens omstandighede net ’n luisteraar van dit wat bedags tuis en by die skool plaasgevind het as ek saans van die werk af kom. Ja, dis maar net ’n paar knypies van die sakke sout wat ons saam opgeëet het. Ek lief jou meer as niekerbôls, my skatlam.

Hoe langer ons te Pretoria-Noord gebly het, het ons voortgesette inburgering in die gemeenskap algaande spoed opgetel en het ons as volwaardige Pretorianers begin leef. Hierdie voortsetting van ons inburgering word later meer breedvoerig beskryf. Behalwe dat ek nog, selfs tot nou toe, dit nie oor my gewete kon kry om vir die Blou Bulle, daardie tyd Noord-Transvaal, se rugbyspan te kon skree en te ondersteun nie. Later skryf ek oor ’n insident wat my heeltemal genees het van persoonlike bywoning van rugbywedstryde te Loftus Versfeld.

Die volgende afdeling gaan ek verder wy aan my kursus wat ek moes deurloop by die SDK, om as dosent by indiensopleiding te kon optree.

12.4 Kursus as opleidingsbeampte by Staatsdienskommissie (SDK) en verdere studie

Ek is saam met die sewe ander nuwe luitenante, asook twee luitenante uit ’n vorige groep, aangesê om vir 10 werksdae ’n kursus by die Staatsdienskommissie (SDK) se opleidingseenheid te NoordVaal Gebou in Die Vaaldeurloop in Pretoria, te gaan bywoon. Ons moes die kursus deurloop om as dosente en opleidingsbeamptes in die Indiensopleidingseenheid te kan optree. Dit was die minimum vereiste wat deur die SDK daargestel is vir alle opleidingsbeamptes in die staatsdiens. As jy dan die kursus geslaag het, word jy ’n spesiale toelaag van so ’n paar Rand, kan nie eers meer onthou hoeveel nie, maandeliks betaal. Dit was darem ’n gerieflike meevallertjie vir ons huisgesin wat nou baie meer uitgawes in Pretoria gehad het as waaraan ons in Humansdorp gewoond was. Oom Rassie, wat toe ’n onder-sekretaris in die staatsdiens en by die SDK se Departement werksaam was, het ons klomp kursusgangers kom toespreek oor ons posisie as opleidingsbeamptes in die polisie en dat ons taak onlosmaaklik deel van Publieke Administrasie is. Dit was sy spesialisgebied, want hy het sy Universiteitsgraad in Publieke Administrasie verwerf en was juis besig om sy Honneurs daarin te doen. Hy het later ook sy MA en Doktorsgraad verwerf. (Rassie ou broer, as ek nie al die titels, werk en jou ‘swattings’ reg geskryf het nie, sien dit maar oor.)

Ons almal het die kursus geslaag en nou was al nege van ons polisie-offisiere opleidingsbeamptes. Omdat ons dosente in die toekoms ook opleiding in privaatklere moes doen, wanneer ons as gassprekers by buite-instansies moes optree en terwyl ons speurderkursusse aangebied het, het SA Polisie hoofkantoor goedkeuring verleen dat ons die helfte van ons uniformtoelaag vir die aankoop van privaatklere kan aanwend. Dit het gemaak dat ons so met verdrag ons klerekas met

nuwe pakke klere kon aanvul. Ons het dus ‘n voordeel teenoor ander junior offisiere gehad. Ons het ook die jongste mode nagevolg deur langbroek safari pakke aan te skaf. Terwyl ek die kursus bygewoon het, het ek daagliks met die bus stad toe gery en weer na 4nm (16:00) die bus huis toe gehaal. Ons het die kursus in privaatklere bygewoon want daar was nog vier ander Staatsdepartemente se kandidaat-opleidingsbeamptes saam op kursus. Corrie het reeds mel-ding gemaak van die alombekende donderweer wat gewoonlik in die somermaande losgebars het. Wel, ek het male sonder tal papnat gereën en moes my enigste twee pakke klere maar kortkort laat droogskoonmaak. Daardie berugte reën was by die Pretoria se inwoners bekend as die ‘staatsdiens-reën’, want dit het in die somermaande enige tyd van so half vier die middag tot so 5nm begin reën. Dan kon jy die verskillende kleure van reënjasse en sambrele uit dames se handsakke en leer aktetasse van mans sien uitdop. Kaleidoskoop van kleure. Soms was daar van die persone, na wie daar tans as agtergeblewenes verwys word, wat sommer ’n swart vullissak as jas, waarin drie gate gesny is, met ’n OK- of Checkers plastieksak oor die kop getrek, gebruik het. Ek het altyd gedink die spreekwoord: “Boer maak ’n plan” is net tot ons mense met witvelle beperk, maar my waarneming het my dus verkeerd bewys. Ek moes noodgedwonge maar so ’n dun plastiekjassie aanskaf om my klere te beskerm. Ek kon dit baie klein opvou en ook in my aktetas berg.

Tydens die kursus wat ek, saam met die ander polisie-offisiere en ander staatsamptenare by die SDK deurloop het, het die dosente ons aangeraai om verder te studeer, sodat ons in ons onderskeie beroepe die beste kan wees, want die staat het kundige, maar ook hoogsgespesialiseerde mense op middel-, senior- en top bestuursvlakke nodig om die Publieke Administrasie van ons land so doeltreffend moontlik te ontwikkel. Hierdie gedagtes was dus uiteraard ook die aard en inhoud van oom Rassie se aanbieding by die SDK. Luit.-kol. Stevens, die bevelvoerder by die indiensopleidingseenheid, het later as Senior Adjunk-kommissaris met die rang van luitenant-generaal afgetree. Hy het hierdie siening met akklamasie onderstreep. Hy was net een van ’n paar gegradueerdes in die mag met ’n BA- graad, met Kriminologie en Sielkunde as hoofvakke. Hy was juis besig om te studeer vir sy Honneursgraad.

Die ander dosente wat toe reeds voor ons nuwelinge se aankoms klasgegee het, was bykans almal besig met hulle tweede of meer jare se graad- of diplomakursusse. Ons nuwelinge word ook deur kol. Stevens ingelyf in die geheimenisse van ’n polisie opleidingsbeampte se taak in die Mag. Dit was ’n nuwe konsep wat toe net mooi 3 jaar in bedryf was, en hy was versiende genoeg om ons te motiveer om indiensopleidingskursusse tot die beste opleidingskursusse in die staatsdiens te laat ontwikkel. Ek glo hy het daarin geslaag, want die volgende dosente het oor óf ’n graad óf ’n diploma beskik:

• Majoor Henry Deacon (BA) Politieke wetenskap, hy is later Buro van Staatsveiligheid toe en was te Londen by die SA Ambassade gesetel;

• Luit. Bernie Mostert ’n Diploma in Staatsrekeninge en –finansies. Ek het hom opgevolg as senior SA Polisie gesekondeerde te Mafikeng. Hy het saam met my afgetree as generaal-majoor en is tans woonagtig in die Strand;

• Kaptein Hennie Fischer, Diploma in Werkstudie, het generaal-majoor geword en hoof van die Inspektoraat en het saam met my afgetree en woon te Newlands, Pretoria;

• Kaptein William (Bill) Knight, BA (Krim) as luit.-kol. afgetree en reeds oorlede;

• Majoor Andries Laas, Regsdiploma, as kolonel vir Hoofman Buthelezi van KwaZulu se Nasionalestaat as adviseur opgetree. Het as brigadier afgetree. Hy is reeds oorlede;

• Luit. Klein Thys de Beer, Polisie Diploma, het by Oppenheimer se Goudmyne as opleidingsbeampte gaan werk, nadat hy as kaptein uit die Mag getree het; en

• Luit. Sampie Oosthuizen, B.Com.. het generaal-majoor geword en het ook saam met my afgetree en is nou ’n eiendomsagent te Pietermaritzburg. Daar was nog ’n paar wat nie verder studeer het nie nl.:

• Luit. Jan-Jan Uys; as luit.-kol afgetree en is reeds oorlede;

• Kaptein Gert Smit, as brigadier afgetree en Australië toe verhuis, en reeds oorlede;

• Luit. Jan Schreuder, as majoor met pensioen afgetree en is in Kaapstad oorlede;

• Nog ’n Du Plessis, bynaam Roomkannetjie. Hy is as ‘n majoor na SAP hoofkantoor, Beurseafdeling oorgeplaas, en is in diens as luit.-kol. oorlede;

• Luit. Dries (Ore) Greyling, as majoor met pensioen en is oorlede;

• WP (Willem) van Zyl, wat as kolonel die Bevelvoerder van Hammanskraal opleidingskollege afgetree het, en op Nylstroom (nou Modimolle) gaan bly het en die burgemeester van daardie dorp geword het. Hy is sedertdien oorlede, en

• Louis Malherbe, as kolonel afgetree en te Oranjeville gaan boer. Hierdie man het vele liefdes in sy lewe gehad – drie keer getroud en drie keer geskei en nou loop hy los hotnot in die Vrystaat rond. Keer hom, hou julle dogters tuis, anders trou hy weer! Ha, ha.

Ons nuwe klomp het arriveer, en is deur Stevens gemotiveer, bearbei en amper sê ek ook bemoerbei, maar dit was darem nie só erg nie. Ons word by die diep kant ingegooi, want ons moet nou ons eerste kursus gaan aanbied. Dis ’n sersantkursus vir swartlede by die opleidingskollege, New Modderfontein. (Slegs as New Modder onder die polisiebeamptes bekend gestaan). Ons moes ’n kurrikulum saamstel, die leerstof navors en skryf, laat tik en druk, laat goedkeur deur die Inspektoraat en 14 dae later beskikbaar hê. Ons het omtrent gespook en gespartel, maar ons het die taak afgehandel en toe is ons onder die bevel van kaptein Bill Knight, New Modder toe en die kursus vir ’n week lank aangebied. Moes elke oggend vroeg-vroeg deur die verkeer Oos-Rand toe met ’n amptelike bussie en saans in die verkeer terugkeer. Dit was ons vuurdoop, maar ons het dit met vlieënde vaandels geslaag.

Van ons nuwelinge was ook gretig om te studeer. Ek het by Unisa eers gaan navraag doen of ek met my nasionale senior sertifikaat universiteitstoelating het. “Nee,” was die antwoord, maar ek kon dit op die volgende drie maniere oorbrug:

Eerstens kan ek vir die graadkursus inskryf dan kry ek voorlopige vrystelling omrede ek reeds ouer as 23 jaar is, en sou ek die graadkursus slaag, dan doen ek aansoek om algehele vrystelling wat dan deur die Vrystellingsraad oorweeg sal word, en as hulle tevrede is, word algehele vrystelling verleen;

Tweedens, ek kan twee toelatingsvakke op eerstejaar universiteitsvlak neem, en slaag ek dit, word die voorlopige vrystelling omgeskakel na algehele vrystelling, en

Derdens, ek kan eers die universiteitstoelatingsvakke deur Departement Nasionale Opvoeding skryf, dit slaag en dit op my senior sertifikaat laat byvoeg, dan word ek universiteitstoelating verleen. Omrede ek toe reeds amper twee jaar laas studeer het, het ek, volgens my oordeel, die maklikste uitweg geneem, naamlik om opsie drie uit te oefen. Ek het toe by Sukses Korrespondensiekollege vir twee matriek vrystellingsvakke ingeskryf, naamlik Plantkunde en Ekonomie. Ek het my lekker vergis met dié twee vakke se leerinhoud, want dit was so wyd soos die Here se genade. Ek het maar getrou saans, nadat die kinders bed toe is en Corrie gaan slaap het, tot watter tyd gesit en swot en werkopdragte voltooi. Ek het die einde van daardie jaar, 1973, die twee toelatingsvakke

geslaag, Ekonomie met onderskeiding en Plantkunde met ’n slaagsyfer van ’n hele 47%. Twee meer % as wat ek nodig gehad het. Ek sê altyd dat ek, net soos Langenhoven wat net 40% moes kry in sy vakke by Stellenbosch Universiteit om te slaag, want hy het toelating tot die eksamen gekry, omdat sy toetse deur die jaar 60% was om Predikaat te kry. Hy het in elke vak net sy antwoorde neergeskryf en as hy weet die antwoorde wat hy gegee het is 40% werd, dan hoef hy nie verder te skryf nie en handig hy sy antwoordstelle in. (Glo julle my dat ek ook net geskryf het tot ek 45% neergepen het?)

Ek het eers in 1975 ’n kursus by die United States Department of Justice Drug Enforcement Administration (DEA) deurloop om opleiding te kan gee in narkotiese middels en gevaarlike verdowingsmiddels.

In Januarie 1976 skryf ek toe by Unisa in as eerstejaar vir die BA (Pol) graad. Dit was ’n nuwe graadkursus by die Kriminologie Departement. Ek vat dit stadig met Practical English, Afrikaans I en Inleiding tot die Regswetenskap. Daardie einde van die jaar, terwyl ons met vakansie in die Boland by ouma Dupie was, hoor ek dat ek slaag in Afrikaans en die Inleiding tot Regswetenskap, maar die Koningin se taal dop ek met sowat 4%. Ek het vertoë ingedien, maar help niks, want my van is nie Baloyi óf Madiba nie. In 1977 word Engels as ’n alternatiewe taalkursus tot Afrikaans óf ’n Afrikataal vir alle BA-grade, behalwe vir die BA (Tale) graad, gestel. Nou is ek so gelukkig soos ’n vark in Palestina en gaan voort met die ander kursusse. Ek slaag my BA Artium graad (Polisiekunde) einde 1979 en dit word gedurende 1980 by ’n gradeplegtigheid aan my toegeken.

Ouma Dupie het, saam met Corrie, die gradeplegtigheid bygewoon. Ek het my graad in polisie uniform met toga ontvang. In plaas van die tradisionele akademiese hoofdeksel met tossel, het ek my polisiepet gedra. Almal was baie trots op my met die prestasie wat ek behaal het. Die gehoor in die Old Mutual saal by Unisa, het spontaan hande geklap toe ons drie polisiebeamptes die Kanselier wat die toekennings gedoen het, gesalueer het. Ouma Dupie was daardie tyd in Pretoria met vakansie by die ander kinders van haar en het ook by ons ’n draai gemaak waar sy ’n paar dae vertoef het.

My gradeplegtigheid. Ek is só trots op hierdie vrou van my! (Foto: Kobus, toe nog op skool.)

Die Suid-Afrikaanse Polisie Kriminele Buro (SAKB) het ons polisiebeamptes wat gelyktydig die BA Pol graad ontvang het, in die ouditorium van Unisa gefotografeer. Die lede is: Voor L-R: Ekself - Toe nog ’n majoor by die indiensopleidingseksie; Kaptein G.T. (Gert) Preez – het die polisie verlaat en as junior Lektor by Departement Kriminologie by Unisa begin werk; Kol. H.P. (Herman) Grobler - toe ’n lid van die Veiligheidstak, Johannesburg. Het saam met my as genl.-majoor afgetree. Agter L –R: Kaptein L.G. Esterhuizen – Gestasioneer te John Vorster Plein, Johannesburg by die Handelstak; Adj.-Off. B.R. Ferreira – By Veiligheidshoofkantoor te Pretoria, en kaptein M.W. (Tienie) – Was te Westonaria en later by Hoofkantoor en afgetree as ’n genl.-maj. Ek moet darem die tyd gegun word om my dank aan Corrie en ons kinders uit te spreek vir die ongerief wat hulle vir 4 jaar moes deurstaan toe ek die huishouding se aandroetine omvêr gewerp het met die spreekwoordelike kers wat ek vanaf 8nm (20:00) tot ou nag gebrand het. En ook die trousseaukis wat die bêreplek was van die boeke waaruit daar snags notas gemaak en naleeswerk gedoen is. Dan het die tikmasjien ook op die eetkamertafel ’n bêreplek vir 4 jaar gekry. Dankie vir julle geduld met my en die deurmekaar sitkamer!

Van ons ander nuwelinge het;

• Luit. John Sales by die Tegniese kollege ingeskryf vir die Diploma in Staatsrekeninge en Finansies. Hy slaag dit. Hy het as kolonel in Oudtshoorn afgetree en is ook oorlede;

• Luit. Jan Lourens het ingeskryf vir die Staatsdiens Diploma in Regte, en verwerf dit ook dieselfde tyd as wat ek graad gevang het. Het as generaal-majoor by hoofkantoor, opleidingseksie afgetree;

• Kaptein Wouter Grové wat so ’n paar jaar later by ons aangesluit het, het sy BA (Admin), sy Honneurs en sy MA-grade (Polisiekunde) verwerf. Het as Assistent-speurhoof met rang van luitenant-generaal afgetree en woon te Montagu;

• Luit. Gert Buckle sluit ook by ons aan en slaag sy B.Juris. Hy is as majoor oorlede, terwyl hy nog in diens was;

• Luit. Thys (Grobbie) Grobbelaar slaag sy BA (Pol), en BA (Pol) Hons. Hy bedank die Polisie as kaptein en gaan as junior Lektor by Unisa werk. Hy is reeds ’n professor;

• Luit. Koos Schenck sluit hom saam met Gert Buckle by ons aan en behaal sy BA (Volkekunde) graad. Hy tree af as brigadier en Bevelvoerder van die SA Polisie Gevorderde opleidingskollege te Paarl. Hy is tans woonagtig te Wellington.

Ben Stevens, nou ’n genl.-majoor en ek ’n luit.-kol., trek my nader om die instelling van ’n nuwe Diploma kursus by die Dept. van Nasionale Opvoeding RSA te help ontwikkel vir lede van die SuidAfrikaanse Polisie. Ek dien op die komitee as notulehouer en word opgesaal om, saam met die SA Polisie se Eksamenraad, die regsvakke van die beoogde Diploma kursus te skryf. Departement Nasionale Opvoeding berei die Afrikaans- en Engelse vakke voor en Unisa die Kriminologie vakinhoud. Die kursus word deur die Universiteitsowerhede geëvalueer en dit word goedgekeur en kry die benaming van - Die Nasionale Diploma (Polisie Administrasie). ’n Staatsdiens evaluering van RWK13 word aan hierdie diploma toegeken. Dit is die kwalifiserende kriteria wat gelykstaan aan enige ander instelling se Diploma kursus en die verwerwer daarvan kon eenmalig twee kerwe salaris verdien.

Ek word summier aangestel as Eksaminator vir die Afrikaanse Taalvraestel. Ek moet die vrae-stel en nasienershandleiding opstel en dit word dan deur Nasionale Opvoeding gemodereer, gedruk, bewaar en na die eksamensentra versprei voor die afneem van die eksamen. Ek verdien daarmee so ’n paar honderd rand jaarliks wanneer die eksamenskrifte nagesien is. Ek stel ook twee hulpeksaminatore as nasieners aan, want daar is elke jaar bykans 1200 eksamenskrifte wat nagesien moet word. Sommer die tweede jaar as eksaminator van Afrikaans het ek besluit om ook hierdie diploma te verwerf. Omdat ek alreeds die Polisie se Afrikaans- en Engelse vraestelle (vakke) tydens my offisierseksamen geslaag het, kry ek vrystelling daarvoor en pak ek die vier regsvakke met mening aan.

Tydens my diploma plegtigheid (Nas. Dipl. Pol. Admin.) Departement Nasionale Opvoeding. 1982 (Foto: Frank Louw).

Ek verwerf toe daardie diploma einde 1982. Die ander rede waarom ek ook hierdie diploma wou verwerf, was om vir die tweeling, wat toe reeds in die Polisie was, aan te moedig om so spoedig moontlik, wanneer hulle diensjare daarna is, die bevorderingseksamens in die Mag aan te pak. Oor al die seuns se loopbane na matriek, word later vermeld

Ek het intussen van die taak van eksaminator vir Afrikaans vir die diploma, afstand gedoen toe ek in 1985 na Bophuthatswana gesekondeer is. Dit sou vir my baie moeilik gewees het om bykans elke tweede dag vanaf Mafikeng na Pretoria te reis om eksamenskrifte te ontvang, aan my nasieners te oorhandig, terug te gaan Mafikeng toe, dit na te sien en dan terug te keer met die nagesiende eksamenskrifte om dit by die moderator te besorg.

Soos beloof, sal daardie tydperk wat ek aan die polisiemag van Bophuthatswana gesekondeer was, later meer breedvoerig beskryf word.

12.5 Teeninsurgensie-opleiding en grensdiens verrigting

12.5.1

Teeninsurgensie opleiding

Gedurende die laaste kwartaal van 1971 was ek deur die Teeninsurgensie Eenheid wat te hoofkantoor gesetel is, wat as TIN-eenheid bekend gestaan het, genomineer om saam met 45 ander offisiere teeninsurgensie-opleiding vir 4 weke te deurloop. Hierdie opleiding het in die polisie bekend gestaan as ‘bos-opleiding’. Ons word dadelik met wapens en kakie seiluitrusting uitgereik, (genoem “web”-uitrusting) en kry ook ons kamoefleeruniformstukke by die kwartiermeester (huidig Logistiek). Die eerste twee weke was die teorie in die SA Polisiekollege se asbes lesinglokale van die skietkunsafdeling, aangebied. Ons almal het in die ou-Berede blok geslaap. Terloops, ek kon my bed kies. Watter bed kies ek toe? Die bed wat op dieselfde plek staan waar ek geslaap het tydens my opleiding as rekruutkonstabel vanaf Junie 1953! Dit was seer sekerlik nie dieselfde bed nie, want die ou beddens het klapperhaarmatrasse gehad en dié waarop ons as offisiere geslaap het, het nuwe binneveermatrasse gehad. Dit was spesiaal deur die kwartiermeester vir die offisiere wat op ‘Boskursus’ kom, aangekoop. Die instrukteurs het ons vooraf gewaarsku dat ons die sagte beddens moet geniet, want wanneer ons die praktiese opleiding kry, sal ’n ou maar moet slaap waar jy ’n holte vir jou lyf en ’n klip vir jou kop kon kry. Die laaste twee weke van die kursus sou dus die praktiese bosopleiding wees. Ons groep het uit heelwat luitenante, kapteins, majoors en drie luitenant-kolonels bestaan.

Die instrukteurs sê vir ons, ons moet onthou dat die opleiding te Maleoskop in die bosagtige deel van die opleidingsterrein (hulle noem dit ’n ‘plaas’) sal plaasvind, sodat ons opleiding so na as moontlik kan wees soos ons dit op die grens sal ervaar. Ons word in drie groepe van 15 elk ingedeel. Elke groep het ’n gelyke aantal luitenante, kapteins en majoors met een luitenant-kolonel as bevelvoerder.

Ons vertrek vanaf die SA Polisiekollege met drie opruktrokke en in kamoefleerdrag geklee. Op Bronkhorstspruit hou die drie opruktrokke stil en ons kan nou vir oulaas iets koop wat ons dink ons sal nodig kry terwyl ons in die ‘bos’ is, want ons het elkeen net twee kartonne met rantsoene (“rat packs”) gekry waaruit ons vir 14 dae moet eet om aan die lewe te bly! Ha, ha. Ons hoor daar is baie bosluise in die veld, en die manne koop nou sakke uie, -aartappels en -lemoene en selfs ’n paar vars gebakte brode, botter, kaas en rou groente soos tamaties en ook ’n paar huisies knoffel – om die muskiete te verdryf. Die instrukteurs het ons net ’n kwartier tyd gegee om ons koop te koop. Hulle staan eenkant en lag onder mekaar. Ek dink hulle weet van iets wat ons nie weet nie. Ek het nog gerook en het net ’n pak vuurhoutjies en ekstra tabak gekoop.

Die bevel kom: “Opklim”, en daar gaan ons nou Maleoskop toe. Nie een van ons weet hoe dit daar lyk nie, maar die instrukteurs het gesê dis naby Groblersdal.

Ons kom so 10 km vanaf Groblersdal, op die Middelburg teerpad, by ’n padteken wat wys “SA Polisie Opleidingsterrein, Maleoskop.” Dis ’n grondpad en so twee km verder hou die drie opruktrokke stil en nou staan ons voor ’n valboom waar twee blankelede in kamoefleerdrag met R1-

gewere en in kamoefleerdrag wagstaan. Ons bly tjoepstil want ons hoor daar word na ‘wagwoord’ en ‘sit rap’ (situasie rapport) gevra. Ons weet nou dat die teorie wat ons geleer het, word hier tot die letter toegepas. Ons word deurgelaat en so 300 meter verder hou die drie opruktrokke langs mekaar voor drie markiestente stil en die opdrag kom: “Val in julle groepe in!”

Ons skarrel maar om by mekaar uit te kom, want ons drie groepe was nie elkeen apart in ’n opruktrok saam nie.

Die instrukteurs, alhoewel hulle onderoffisiere is, is skielik ons meerderes. Hulle is sersante, adjudant-offisiere en kaptein ‘Kaffertjie’ van Rensburg die Bevelvoerder van ons kursus. Ons word skielike van ons offisiersrange ‘gestroop’, haal net ons insignia en epoulette van ’n offisier af, en word nou manskappe. ‘Kaffertjie’ word, met permissie gesê, die moer in vir hierdie klomp offisiere (nou manskappe) wat soos ’n klomp beeste staan en rondtrap. Die instrukteurs begin nou almal bevele links en regs gee. Ons besef nou is ons aan die ontvangkant en kan nie op ons offisiersrange staatmaak vir voorkeurbehandeling nie.

Ons kom darem tot stilstand en die drie groepe staan langs mekaar. Die groepe kry nou roep- seine. Die eerste groep is afdeling Alpha, die tweede groep afdeling Bravo en ons groep is Afdeling Charlie. Elke groep kry ’n adjudant-offisier en ’n sersant instrukteur. Ons word beveel om te breek en so gou moontlik weer in ons groepe (afdelings) aan te tree met dit wat aan ons uitgereik is en wat ons saamgebring het, natuurlik ook dit wat ons te Bronkhorstspruit aangekoop het. Ons is nou in die hande van die sersant en adjudant-offisier wat aan elke groep toegewys is. Hulle gee nou die bevele en ons moet spreekwoordelik spring om dit uit te voer.

Jy sien nou ouens, elk met sy duffelsak, sy geweer, twee kartonne rantsoene (“rat packs”), ’n sakkie lemoene, of ’n sakkie uie en plastieksakke met vars brood, tamaties, botter, kaas, ens. Sy webuitrusting word skuins oor een skouer gedra, die ander skouer word vir die ekstra proviand in die vorm van lemoene, uie en nog wat, gebruik. Van sy ander eiendom plaas hy op die grond langs hom. Van hulle lyk soos ’n krismisboom waaraan daar te veel versierings gehang is.

Die volgende opdrag kom van ons adjudant-offisier, sy van is Bezuidenhout: “Alles wat aan jou uitgereik is en alles wat julle gekoop het te Bronkhorstspruit moet jy nou self optel en saam met my gaan. Onthou julle kom nie weer terug na hierdie punt toe nie.”

Nou eers besef ek hoekom die sersante en adjudant-offisiere by Bronkhorstspruit by die winkel so gestaan en grynslag het toe ons offisiere so mildelik bykomende proviand aangekoop het. Die blikskottels!

Ons staan nog in pelotonformasie en hy skree die bevel: “Voorwaarts mars!”

Elkeen gryp nou wat hy as sy eiendom ag met twee hande, en plaas van daardie eiendom onder elke arm, want hande is nou te min om alles vas te hou.

Ons stap nou in pelotonformasie met ’n bospaadjie langs en volg hom gedweë. Kort-kort vra die een na die ander offisier: “Hoe ver nog adjudant?”

Hy sê net: “Moenie gesels nie. Volg my!” (Harde gat né – of kom ons gebruik die sagter word: Hardebolkeil.)

Die manne besef nou dat die plek waarnatoe ons op pad is, word vir ons geheim gehou, soos wat dit ook gedoen word wanneer jy op grensdiens gaan. Jy hoor net hoe ’n sak uie gelos word in die bossies langs die bospaadjie, dan weer ’n sak lemoene wat val.

Een ou klou nog aan sy brood, maar sê later op gedempte toon : “Fokkit, ek laat die brood ook nou hier, wie de hel dit daar gaan kry, gee ek nie voor om nie. Ek kan dit nie meer vashou nie!”

Soos die proviand langs die bospaadjie verloor word, eintlik weggegooi word, vind ons ouens wat net ons basiese dinge by ons het, die situasie heel amusant en kort-kort word daar gegiggel. Ons gelag word summier gestaak, want ons word streng aangespreek en stil gemaak en stap net al dieper die bosse in.

Skielik word ons tot stilstand gebring deur die adjudant-offisier wat gaan stil staan en nou begin hy met die teoretiese handseine wat ons geleer het, te kommunikeer. Hy praat nou op fluistertoon met ons. Sowat 20 treë, in ’n effense oopte tussen die bosse, sien ons die nokke van ’n paar tente. Die oopte is met doringtakke omhein. Die teorie word nou sommer dadelik prakties toegepas. Twee manne word gevra om die plek van verskillende kante te nader, met die bosse tussen hulle en die ‘kamp’ as dekking. Hulle word as verkenners uitgestuur om te kyk of daar lewe in die kamp is, en hulle moet dan kom terug rapporteer aan die adjudant-offisier. Ons ander, saam met die instrukteurs, lê plat op die grond met gewere op gereedheid wysende in die rigting van die kamp. Na ’n rukkie kom die verspieders, die een na die ander, terug en sê dis veilig, want al die tente se flappe is toe en daar is geen lewende siel te bespeur nie. Daar is niemand op wagdiens nie en die ingang deur die doringtakheining/skerm is verlate. Ons kom regop uit ons lêposisie en word aangesê om die kamp met wapens op gereedhouding binne te gaan. Toe ons binne die omheining in die kamp is, word opdrag gegee dat ons nou kan ontspan. Daar word nou eers voorligting aan ons oorgedra wat ons te doen staan. Ons word vertel dat:

Die kamp ons tuiste vir die volgende 14 dae is; dat daar daagliks, en ook in die nag, wagte uitgeplaas moet word; en om jou liggaam se behoefte, nommer een te bevredig, moet ons in die tregters wat aan ’n pyp vas is en in die grond ingeplant is, gebruik. Hierdie pype was vier wat in gelid ingeplant is en met ’n hessianskerm afgeskort is, is ‘lelies’ genoem, want mans het mos lelies wat hulle moet afskud en dames, wat het hulle? – glo parras. Hulle kan dus nie die lelies gebruik nie – wel, daar was ook nie dames wat grensdiens gedoen het nie!; (Net ‘n komiese storietjie. Ek sal nie vir die waarheid instaan nie. Die Suiderkruisfonds se tannie, weet nie meer wat haar naam is nie, het eenkeer per jaar grensbasisse besoek, om geskenke vir die grensbewakers te oorhandig. Sy word uiteraard aan al die manne voorgestel en oral in die basis rondgewys. Toe hulle by die sakafskorting kom en sy sien hierdie pype (‘lelies’), toe wil sy weet waarvoor dit gebruik word. Daar word vertel dat die basisbevelvoerder vir haar gesê het dat daar vier manne onder die kamp in ‘n loopgraaf op gereedheid lê en dat hulle eers teen donker die basis sal binnekom. Sy vra toe glo of sy darem net ‘n woordjie vir hulle kan sê. Dit word goedgekeur en toe sê sy, met haar mond naby die een ‘lelie’,: “Ek is die tannie van die Suiderkruisfonds. Jammer manne ek kan julle nou nie persoonlik groet nie, maar wees asseblief paraat daar onder en pas julle self op. Groete, Tannie??) Dié storie is so aan ons vertel!.)

om nommer twee te bevredig, moet jy die opvoubare grafie, waarvan net een aan ons afdeling toegewys is, neem en jy moet met jou wapen dan die kamp verlaat en in die bosse ’n gat gaan maak en jou sit gaan sit en die gaatjie weer toe krap, soos ’n kat wat sy drolle gedrol het en dit dan toegekrap het;

daar moet snags pootjiefakkels om die kamp geplant word om indringers se teenwoordigheid betyds te verklap;

ons moenie luidrugtig gesels, lag of musiek maak nie, want geluide trek ver in die bos, veral snags;

ons word met loskruitpatrone uitgereik;

ons sal van nou af soos polisiemanne wat op die grens op aktiewe diens is, behandel word;

daar moet elke aand met laaste lig en elke oggend met eerste lig in vol gevegsmondering en oorgehaalde gewere in vooraf bepaalde punte om die kamp se buite rante, wat met doringtakke en gewone boomtakke gebou is, wag gestaan (eintlik gelê) word. Elkeen by ‘n klein openinkie in die doringtakmuur;

daar mag nie gepraat word nie, geen rokery nie, geen rondlopery agter die skerm(tak)muur nie en les bes geen ligte in die basis mag brand nie. Almal moet muisstil wees;

daardie posisies moet vir ten minste ’n uur gehandhaaf word, voordat die poste op ’n bevel verlaat kon word, en

dan bly net die toegewese aantal wagte vir die nag op hulle poste. Wagte word elke twee uur omgeruil.

Elkeen is nou ten volle ingelig m.b.t. hulle optrede in die basis en wat van hulle verwag word tydens wagstaandienste.

Vir die oningeligtes wil ek die redes vir hierdie gereedstaandienste by sonsondergang en sonsopkoms baie kortliks probeer beskryf:

Eerstens, elkeen ken sy plek waar hy moet wagstaan en wanneer die skemer daal, moet hy homself vergewis van waar die pootjiefakkels is, watter bome, struike, boomstompe, klippe of ander voorwerpe in sy gesigsveld is, sodat hy die plekke, soos dit algaande donker word, in die donker sal herken vir wat dit is;

Tweedens, dat hy dit nie vir ’n vyand of ander indringer sou aansien en onnodige skote afvuur wat die hele basis in die nagtelike ure uit hulle slaap sou ontwaak en na hulle punte toe laat beweeg nie;

Derdens, in die nag is ligte se skynsel van veraf waarneembaar en stemme se klank trek ver, en

Vierdens, dieselfde optrede word ’n halfuur voor eerste lig deur almal gevolg, want statistiek het getoon dat die meeste aanvalle op basisse in daardie ‘vuil’ skemerte, tussen nag en dag, plaasgevind het.

Kom ek los nou die aard en omvang van die praktiese opleiding wat ons gedurende die tydperk van 14 dae gehad het, en meld net so ’n paar dinge wat dalk lesenswaardig sal wees:

Eerstens, ons kom agter dat Maleoskop eens op ’n tyd ’n plaas was wat aan ’n swartkaptein, Mapogh en sy stam, behoort het en hulle is deur die regering uitgekoop en ’n nuwe tuiste te Lebowa Ghomo, in een van die swart Nasionalestate, gegee. Daar was geen geboue nie, net tente en die hele plaas was omtrent so vier kilometer in deursnee en baie bebos met lang tamboekiesuurgras tussen die bosse. Waar die destydse swartinwoners hulle hutte gehad het, is sulke kaal kolle tussen die bosse sigbaar en waar hulle beeskrale was het die onkruid en opslaanbossies welig gegroei. (Terloops, Maleoskop is onder die Nuwe Suid-Afrika se regering ook as ’n grondeis deur Mapogh se naasbestaandes hanteer en dit was aan hulle terug gegee.)

Tweedens, ons het nooit met afdelings Alpha óf Bravo te doen gehad nie, behalwe as hulle ons by ons kamp aangeval het óf terwyl ons op patrollie, gedurende die dag óf nag, deur hulle in ’n lokval gelei is, óf dit ons beurt was om hulle aan te val. Ons moes dus male sonder tal in die bosse slaap, weg van ons tente af. Ons moes dus die slaapsak waarop ons in die tente geslaap het, dan ook nog op nagpatrollie saamneem. Jou pakkasie in en op die rugsak het dus al swaarder geword.

Derdens, ons het een hele dag saam met die SA Lugmag, met hulle Harvard vliegtuie, grondtot-lug oefeninge gehou. Dit was nogal sports, want hulle het meelbomme uit die vliegtuie op ons gegooi as een van die afdelings ons posisie vir die vlieëniers as vyand geplot het. Elke afdeling het natuurlik hulle porsie meelbomme ontvang, want ons was offisiere wat, as ons in die bos op die grens sou diens doen, moet kan kaartlees en die vyand se posisie aan die lugsteun moes kan oordra.

Vierdens, ons het nie lopende water by die kampe gehad nie, maar by elke kamp was ‘n waterkar wat 150 gelling water (± 680 liter) gehou het. Dit was net elke derde dag aangevul. Ons moes dus water spaarsamig gebruik. (Dit werk uit op omtrent 15 liter water per dag per lid) om drinkgoed te maak, te waslap-bad, want om te stort was ons nie beskore nie, aangesien daardie gerief nie beskikbaar was nie. Maar eenkeer per week het die drie afdelings om die beurt na ’n lopende fontein gegaan, waar daar ’n selfgemaakte dammetjie van so tien meter in deursnee was, wat in die afloop van die fontein was, waarin ons onsself kon reinig. Hier kon ons, ons kroonjuwele en hele lyf was as ons kaalbas plat in die vlak dammetjie gesit het. Dit was meer ’n plaspoel as ’n dammetjie. Nou het ons ook ons onderbroeke en onderhemde vinnig gewas, want elke afdeling het net ’n halfuur gekry om die ‘badsessie’ te gebruik. Ons kamoefleerdrag was nooit gedurende die 14 dae gewas nie. Dit het maar redelik suur geruik na die derde dag, ek praat nie eens van hoe ons gelyk en geruik het toe ons na 14 dae teruggekeer het polisiekollege toe nie.

Laastens, dit was ’n besondere ondervinding om nagskiet te kon oefen. Daar was nie ’n skietbaan nie, maar ’n natuurlike stuk oop grond wat teen ’n koppie geëindig het, waar ons die skietoefeninge met verskillende vuurwapens, selfs AK 47’s, met skerppuntammunisie, geskiet het. Ons het sommer plat op die grond gelê en skiet, want daar was nie ’n gemaakte vuurpunt waarvandaan ons kon skiet nie.

Die dag voordat ons kursus klaar was, het al drie groepe by die drie markiestente waar ons met ons aankoms gedril was, bymekaargekom waar daar vleis gebraai en bier gedrink is. Terloops, ons het elkeen ook twee biere per dag gekry as ’n rantsoen, soos die manne eens op ’n tyd op grensdiens gekry het. Die instrukteurs het dit daagliks na ons kamp toe gebring. Hierdie rantsoen biere is na ’n paar jaar afgeskaf, want die nie-drinkers se biere het in die eerstespan drinkers se kele verdwyn en dan was hulle onkapabel om hulle dienste te verrig. Só het my tweede bier gewoonlik ook ’n gelukkige mede-kollega se meerdere dors geles. Sy toleransie was beslis baie hoër as myne wat die inname van bier betref.

Die instrukteurs was ook saam met ons by hierdie afskeidsfunksie. Nou was ’n sersant en ’n adjudant-offisier ’n onder-offisier en ons was almal weer offisiere. Die rangstruktuur het nou weer saak gemaak en die dissipline van die Mag is weer gehandhaaf.

Ja, Maleoskop was toe nog baie primitief ingerig, want dit moes lyk en voel soos op die grens. Later jare is luukse kantore, wonings vir die instrukteurs, slaaplokale met al die geriewe waaraan mens tuis gewoond was, ’n lapa, kwartiere vir offisiere wat op kursus kom, gebou. Daar is ook teerpaaie gemaak, ’n swembad en ’n skietbaan en selfs ook ’n baan waar handgranate gewerp is, gebou. Daar was later ook ‘n onderdakplek waar die werktuigkundiges herstelwerk aan voertuie gedoen is, opgerig.

Hiermee sluit ek my Teeninsurgensie-opleiding af.

12.5.2 Grensdiens

Gedurende Februarie 1972 word ek opgeroep om vir drie maande grensdiens in die Wes-Caprivi te gaan verrig. Drie maande se lief en leed kan onmoontlik nie alles op skrif gestel word nie. Daar word

so ’n paar foto’s van my grensdiens elders ingesluit. Gebeure wat my altyd sal bybly van my diensverrigting op die grens, word baie kortliks verwoord.

Ons vertrek met die Lugmag se C130 Herculesvliegtuig, alom bekend as die ‘Flossie’, vanaf Waterkloof Lugmagbasis. Ons hele kompanie, Foxtrot is ons roepsein, is saam gebondel in die hangmatsitplekke en daar is ’n groot voorraad proviand en selfs ’n Lugmag helikopter in die agterste gedeelte van die vliegtuig. Die rotorlemme natuurlik afgeskroef. Ons gesels vrolik na opstyging, en van die manne is maar stil want hulle is vrek bang, omrede hulle nog nooit gevlieg het nie. Later maak ons die sitplekgordels los en nou bekyk ons, so om die beurt, hoe lyk die wêreld hier onder ons vanuit die lug deur die ronde patryspoortagtige vensters. Toe ons sowat ’n uur in die lug is, word ons meegedeel dat ons nog ongeveer ¾ uur weg is om by ‘Decca’, die roepsein van die Lugmagbasis te Rundu, te land. Die gesels en die geskerts wat vroeër geheers het, raak nou doodstil en elke polisieman kyk stip voor hom en maak hulle sitplekgordels weer vas.

Kort-kort word daar ’n harde suisgeluid gehoor, wat klink asof die dêm Flossie nou gaan val, dan hoor ons by ’n Lugmag se een ‘pipper’ (ster) luitenant, dis net die drukking wat in die romp verminder word soos wat die vliegtuig laer afsak. Die vliegtuig is die een oomblik nog in die lug en toe duik dit sommer amper loodreg op die landingstrook af. Ons land met remmende wiele op die teer aanloopbaan en kom veilig te Rundu aan. Die rede vir hierdie skielike daling is om, sou daar naby in Angola ’n terroristebasis wees waarvandaan die terroriste SAM-vuurpyle op die vliegtuig kan skiet, dit met hierdie soort landingstegniek probeer vermy word. Ons verlaat die vliegtuig met ons uitrusting en ons trommels waarin ons privaatklere en skeergoed, leesstof, en, en, en…. wat nog in is, met ’n sug van verligting dat ons veilig op moederaarde is. Ons word aangesê om op vier oopbak 4x4 Bedfordvragmotors te klim en ons ry die dorpie Rundu, sowat 4 km vanaf die Lugmag- basis af, binne. Net swartes waar jy kyk en ’n paar huise en ’n polisiestasie.

Ons basis is aan die buitewyke van die dorp, net voor die swartbevolking se woongebied. Dis ontsettend warm en nou word die hele kompanie in vier seksies aangetree. Die distrikskommandant, majoor Flat Gert Booysen, (hy het ’n pankop gehad, vandaar die ‘flat’) spreek ons toe. Ons word voorligting gegee oor hoe en wat ons te doen staan en wie almal by die vier basisse gaan grensdiens doen. Die waarskuwing aan alle lede is dat hierdie gedeelte van die Caprivi soms binnegedring word deur die terroriste en dat ons voortdurend paraat moet wees. Dis sowat ’n uur se stanery, en toe val daar twee outjies flou. Ons word beveel om uit te tree en onder die skadu van die drie kameeldoringbome in die basis te gaan sit. Plat op ons sitvlakke op die sanderige grond. Nadat die voorligting afgehandel is, word die ander drie seksies elk met ’n 4x4 Bedford-platbakvragmotor na hulle basisse geneem.

Hulle basisse was, (1) te Bagani, op die oewer van die Okavangorivier. Hierdie basis was so ’n maand voordat ons aangekom het deur terroriste aangeval. ’n Paar van die insypelaars is doodgeskiet, maar daar was geen ongevalle onder die polisiemanne nie. Dit was dus ’n aanwyser dat ons nie op vakansie kom in die Wes-Caprivi nie, want die moontlikheid van kontak met terroriste is ’n gegewe. (2) Bwabata lê op die kaplyn (grens) tussen Caprivi en Angola, en (3) Sivumna, op die plek waar Angola, Oos- en Wes-Caprivi-en Zambië bymekaar kom op die oewer van die Kwandorivier. Sivumnabasis het weer sowat twee maande voor ons aankoms afgebrand a.g.v. weerlig wat die tente aan die brand geslaan het. Nuwe tente is voorsien.

Die Pont oor die Okavangorivier by Bagani toe ek op Grensdiens was. (1972). (Foto: Google).

Só lyk Bagani nou. ’n Brug oor die Okavangorivier en teerpad na Katima Mulilo. Die huise regs onder, is waar die basis was. In die middel bo, is ’n nuwe dorp. (Foto: Google).

Ons basis te Rundu is omhein en die volgende drie maande sou dit ons huis en haard in tente wees, waarin konstabels vier-vier slaap. Ons drie offisiere, kaptein Wimpie van der Merwe, die basisbevelvoerder, kaptein ‘Zapata’ Prinsloo die afdeling se seksiebevelvoerder, en ekself, die voorrade offisier, elk alleen in ’n tent. By elk van die vier basisse bly daar ’n sersant en twee konstabels van die vorige kompanie agter, want hulle moet die volgende week die nuwe groepe inlyf en bekendstel aan hulle basisse se grense en waar die oorgangspunte van die terroriste is. Hulle moet ook gewys word waar die swartbevolkingsgroepe in die basisse se patrolliegebied hulle hutte het, en moes ook die roetes van die verskillende voetpatrollies op die kaarte uitwys en dit dan saam met die nuwe groep loop. Daardie jare was die Wes- en Oos-Caprivi maar baie yl bevolk. Die grootste bevolkingsgroepe het eintlik by Rundu en Katima Mulilo gewoon. Daar was ook nog Boesmans wat naby Sivumna in hulle gras skuilings gewoon het. Hulle was egter nomade want hulle bly nooit langer as so ’n paar maande op een plek nie – bly net daar solank daar wild is wat hulle kan jag. In die Wes- en Oos-Caprivi, ook bekend as Caprivi Zipfel in Duits (Caprivi Strook in Afrikaans en -Strip in Engels), was daar baie grootwild soos olifante, buffels, tsessebes, en ook nog kleinere wild soos water- en rietbokke. Ons basisse kon ook so af en toe van die bokke jag vir vars vleis, want vars vleis het net eenkeer per maand vanaf die RSA per Flossie aangekom. Weekliks het ons egter pos en voorrade ontvang, soos ammunisie, toiletpapier, suiker, meel, petrol in konkas, voertuigonderdele, ens. Vir die ander kruideniersware, het ek, as voorrade-offisier, elke 14 dae ’n 4x4 vragmotor na Grootfontein en Tsumeb en soms ook na Otavi, toe gestuur. Met hulle terugkoms te Rundu is die aangekoopte kruideniersware, volgens die bestellings wat per radio van die ander drie basisse ontvang is, verdeel en dan vertrek die een of twee voertuie met die voorrade na die drie basisse toe.

Ek het ’n 4x4 Ford oop bakkie gehad en ’n konstabel wat dit bestuur het. Ek moes gereeld elke maand gaan voorraadopname van staatseiendom doen by die drie basisse, en ook by ons Hoofkantoor basis te Rundu. Alhoewel die drie basisse net sowat 200km vanaf Rundu is, het dit vir my en die vragmotors met die voorrade drie dae geneem, want die pad was maar baie sleg. Eintlik is die ‘pad’ maar net bosse wat oop geskraap is en verder is dit net sand en swart modder. Die roete wat dus gevolg word is in die rigting waar dit die mooiste gelyk het, en dit was gewoonlik in die omarambas (dis eintlik vervloë jare se riviere wat nie meer standhoudende water het nie). As jy dan daar vasval met die voertuie, trap die voertuie deur die sand en biesiepolle en dan is dit pikswart

modder. Wat ’n gemors! Die RSA-regering het saam met die Suidwes-administrasie, wat toe nog nie onafhanklik was nie, selfs probeer om die roete tussen Rundu en Katima Mulilo met wit kalkgruis te strooi, sodat die ryoppervlak darem meer stabiel kon wees. Dit het nie veel gehelp nie. Hierdie twee-spoor paad-jie was die ‘Golden Highway’ genoem. Op die kaplyn tussen Bwabata en Sivumna is dit ook net twee sandspore met staande waterpoele.

Die kaplyn is ’n strook van ongeveer 20 meter breed waar bosse en baie groot bome uitgekap is. Hierdie kaplyn het dan die noordelike internasionale grens tussen Suidwes-Afrika (die Caprivistrook) en Angola en plek-plek tussen Suidwes-Afrika en Zambië, uitgemaak. Die suidelike internasionale grens van die Caprivi tussen Suidwes-Afrika en Botswana, het ook net uit so ’n kaplyn bestaan. Nêrens was die grense afgesper nie. Ons was by geleentheid drie Ford 4x4 bakkies wat vasgeval het soos ons die een die ander probeer uittrek het. Iewers is daar so ’n foto wat dit uitwys.

Ek moes by geleentheid ook dringend petrol na ’n permanente basis in Suidwes (Namibië) se kant toe neem. Hierdie basis was in die hartjie van Kaokoveld, alombekend as Boesmanland, en op die oostelike grens tussen Botswana en Suidwes geleë. Dit was Sigereti genoem. Die kommissarisgeneraal van die Boesmanvolk was by ’n Boesmandorpie met die naam Tsumkwe gesetel. Ons het ook daar op ons terugkoms vanaf Sigereti, oornag. Die basis was sowat 30km verder, al teen die grens op in ’n noordelike rigting. Dit was nogal ’n ervaring, want daardie gedeelte was in die semiwoestyn van Suidwes, sand sovêr jy kyk, gelukkig geen duine nie, onherbergsaam en verlate. Daar was nog ’n permanente basis aan die suidelike grens van Angola, op die wal van die Okavangorivier, wat beman was deur uniformlede wat gewone polisiëring daar moes verrig Daar was heelwat Ovambostatte en hulle moes ook grensbeheer toepas. Hierdie basis was Nkuringkuru. Ek moes as voorrade-offisier ook vir hulle van tyd tot tyd van brandstof voorsien.

Dié foto is op die kaplyn tussen SWA (regs) en Angola (links) geneem waar drie Ford 4x4 patrollievoertuie in een modder-/watergat vasgeval het. (Foto: Ben)

Dit was ook die omdraaipunt van die voetpatrollies wat deur die manne van die grensbasisse waar hulle moet omdraai en dan terugkeer na Rundu toe. Die SA Weermag het ook met voertuie hierdie

gedeelte langs die Okavangorivier gepatrolleer. Dit was ook ’n gebied waar ons grensmanne op ’n Sondag sommer rustig langs die rivier uitgekamp en visgevang het.

Die foto hieronder toon die ingang van Bwabata grensbasis. Let op die humor van die polisiemanne wat daar gesetel was. (Welcome to Bwabata, land van melk en heuning – bring net jul eie koeie en bye.) Die Landrover wat onder ‘n seiltjie toe gemaak is, behoort aan ’n Engelsman wat as toeris op die ‘Golden Highway’ beland het vanaf Zimbabwe en toe met ’n buffel gebots het. Die Landrover was sodanig beskadig dat dit nie verder kon ry nie. Die eienaar is toe blykbaar deur die polisiemanne wat by Bwabata grensdiens gedoen het, na Rundu geneem. Hy is glo terug Engeland toe. Hierdie episode het voor ons kompanie se aankoms gebeur. Wat toe van die Landrover geword het weet ek nie, want toe ons na drie maande op die grens terug is RSA toe, toe was die voertuig nog steeds daar.

Hierdie foto is geneem op pad na die grensbasis Sigereti. Oral is daar sulke hoë miershope. (Foto: Ben)

Hierdie foto is geneem waar ons petrol van ’n Bedfordlorrie aflaai by die Sigereti grensbasis. (Foto: Ben)

Ons het ook weekliks by Rundu voorligting aan die SAW se verteenwoordigers gegee by hulle basis te Decca. Dis die naam wat die SA Weermag vir die geteerde landingstrook sowat 7km vanaf Rundu in die rigting van Grootfontein gegee het. Die Lugmag se helikopters vir die Wes-Caprivi was daar en ook ’n tentedorp vir die kompanie weermag offisiere en lotelinge. Daar het ek vir swaer Schalk van Schalkwyk, ‘n maj. in die Lugmag, tannie Maggie se man, teëgekom toe hy sy grensdiens gedoen het. Die weermag se dienstermyne het nie met ons SA Polisie se termyne gesinkroniseer nie en hy en ek kon net so 10-14 dae gereeld by mekaar uitkom om te gesels. Terwyl ek by een geleentheid te Sivumna was, kom die een patrollie net terug vanaf ’n dagpatrollie die basis binne. Die staande opdrag is dat die gewere en ander wapens buite ’n basis beveilig moet

word en dan eers word ’n basis betree. Sodra hulle ’n bietjie gerus het en rustig in hulle tente is, moet die gewere weer gelaai word, maar op veilig (“safety”) gestel word. Ons sit almal buite die tente en sowat ses polisiemanne speel handbal (“volley ball”) tussen twee tente. Ons hoor ’n onaardse geluid asof ons aangeval word, want ’n LMG (ligte masjiengeweer) knetter ’n lang sarsie koeëls hier verby die manne wat handbal speel. Ons almal val plat. Die LMG hanteerder kom uit die tent gehardloop en is krytwit in die gesig. Hy staan by die basisbevelvoerder, luitenant Brand, en hy bewe soos ’n riet. Hy sê toe hy weer die LMG laai en die rompdeksel van die geweer oor die patroonband toemaak, toe raak hy per abuis aan die sneller, voordat hy die veiligheidsknip kon opsit. Wel, hy word vreeslik uitgevreet, en word onmiddellik van die LMG afgehaal en hy word op spesiale wagdiens vir die nag geplaas. Hy sou later weens nalatigheid departementeel verhoor word vir sy nalatige hantering van die LMG. Die Here beskerm ons almal, want daardie dag het daar omtrent 20 koeëls deur die tent tussen die manne wat handbal gespeel het, gevlieg sonder dat een van hulle getref is. Net nog ’n hedendaagse wonderwerk wat die Here op aarde laat gebeur. Die Here leef, Hy het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan en Hy beskerm ons!

Een skemeraand word ons met ’n radioboodskap vanaf Bagani basis uit ons rustigheid in ons tente, tot paraatheid geroep. Daar is ’n pont oor die Okavangorivier, baie naby die grensbasis. Die rivier se walle is baie ruig, toegegroei met riete en bosse. Die twee lede wat aan die basis se kant van die rivier wagdiens verrig, hoor ’n groot geritsel in die riete en bosse aan hulle linkerkant. Hulle lig met hulle flitse en sien hoe ’n persoon met ’n kepsie, amper soos die Vreemde Legioen se kepsies met ’n beskermde flap agter die nek, deur die bosse in hulle rigting aangekruip kom. Toe die lig op hom val, spring hy op en hardloop al vallende terug verder die riete in. Die twee wagte trek los met ’n HMK (handmasjienkarabyn – 9mm kaliber) op hom. Alles is stil en nou word die ander lede van die basis per radio ontbied om ’n soektog op tou te sit om die persoon te vind. Hulle vind hom. Van die twaalf skote wat in sy rigting gevuur was, het drie hom getref, een die (R) hakskeen, een in die (L) elmboog en een deur die maag. Hy kreun en steun. Hy is nie in kamoefleerdrag geklee nie, maar in ligte kakieklere en die kepsie is ook van kakiemateriaal. Aangesien hierdie punt by die rivier ook bekend was as ‘n plek waar terroriste in die verlede, met die digte rietbosse hulle kruising van die grens kon verberg, het hulle vermoed hy is ’n terroris wat die rivier met ’n makoro (’n skuit gemaak van ’n uitgeholde boomstam) vanaf Angola, waar daar ’n bekende basis van terroriste is, gekruis het om dalk die terrein te kom verken vir ’n moontlike aanval.

Wanneer daar afgewyk word van die gewone wyse waarop mense die rivier kruis, word alle persone wat ietwat verdag voorkom, hanteer asof hulle terroriste is. Geen persone word as gewone BP’s (burgerlike persone) geag, totdat hulle plek van afkoms en plek van besoek klinkklaar uitgevind is nie. Die Veiligheidspolisie van Rundu, in die persoon van kaptein Gerrit Erasmus, (hy het ook as ’n generaal-majoor saam met my afgetree), is per Lugmag helikopter Bagani toe. Die gewonde swartman word na Runduhospitaal afgevoer. Al vier ons basisse is op gereedstaan diens. So teen 10nm (22:00) kom Gerrit Erasmus vinnig by ons basis in en vra wie van ons lede se bloedgroep is O RH NEG. Dit is net ekself en een konstabel. Ons word aangesê dat ons dadelik hospitaal toe moet gaan, want hulle is besig om die swartman te opereer en hy het baie bloed verloor en moet dringend ’n bloedoortapping kry. Hulle wil sy lewe red sodat hy ondervra kan word, want daar word vermoed dat hy ’n terroris is en hy kan deur ondervraging moontlik die Veiligheidspolisie van inligting voorsien. Ons hardloop sommer na die hospitaal toe, wat net onder ons basis geleë is.

Makoro bote word uit dik boomstamme gemaak (Foto: Google)

Daar is nog heelwat blanke hospitaalpersoneel aan diens en toe ons met ons kamoefleerdrag by die noodgevalle inhardloop, keer een verpleegster ons voor en vra of ons die manne is wat moet kom bloed skenk vir die operasie wat aan die gang is.

Ons antwoord bevestigend en nou wil sy ons naamplaatjie (“dog tag”) sien waarop ons naam en bloedgroep aangeteken is. Sy neem die besonderhede af en ons twee word summier in die teater toegelaat met kamoefleerklere en met stewels word ons, een aan elke kant van die operasietafel, op ’n bed laat lê en dadelik begin een van die verpleegsters, eers by my, en toe by die konstabel bloed in ’n sakkie te tap. Toe sy klaar is by my, gaan sy uit die teater en kom na ‘n paar minute terug en handig sy dit aan die teatersuster oor, sy koppel dit aan die pasiënt, en gaan na die konstabel toe. Hy kry ook sy bloedlating, en nou word ons aangesê om rustig te bly lê. Ons hoor net hoe dr. Nel, hy was later ’n distriksgeneesheer te Pretoria, met die teaterpersoneel gesels terwyl hy sny en slag. Die tweede sakkie met bloed word gekoppel en nou wag ons in angs om te hoor of ons nog moet bly. Ons lê stil met die pypies in ons arms, dit is net afgeklem, en toe die tweede sakkie begin leegloop sê die narkotiseur dat die pasiënt nog een eenheid moet kry. Wie se beurt is dit? Dis myne, ek is mos die luitenant, nou word ek weer getap. My kop raak lekker duiselig, maar ek hou my ‘pose’. Ons word toe aangesê om te gaan, maar toe hulle sien hoe bleek elkeen van ons is, word ons met bed en al in ’n klein saaltjie ingestoot. Ons kry tee en koekies, en nou word ons meegedeel om die res van die nag in die hospitaal te bly en sommer daar, in ons kamoefleerdrag, te slaap. Ons trek net ons stewels uit. Vroeg die volgende oggend voel ons beter en gaan ons terug basis toe.

Almal is bekommerd want ons kom dan nie uit nie, en nou wil hulle die A tot Z hoor wat plaasgevind het. Ons is nou die rolspelers en hulle die gehoor. Een outjie sê nog: “Ek sou nie gaan nie, al was ek die regte bloedgroep. Die donder kan maar vrek!” Dit was die siening van baie jongmanne, want hulle grensdiens het hulle in hulle daaglikse lewe saam met geliefdes en by polisie stasies waar hulle gewerk het, ontwrig. Mens kan hulle seker ook nie kwalik neem nie. Wat was die einde van hierdie ervaring? Gerrit Erasmus kom die volgende dag by die basis aan en gee toe voorligting oor die hele aangeleentheid. Dit was net ’n gewone burger, ’n Capriviaan, wat vir ’n paar dae na sy familie toe wou kom. Hy was werksaam in Angola by ’n Portugees wat groentetuine gehad het. Ek was in daardie stadium van my lewe ’n gereelde bloedskenker en voordat ons terug is Republiek

toe, het die hospitaal vir my en die konstabel elk ’n lapelwapen van die Suidwes Bloedoortappingsdiens, kom gee.

Die laaste ervaring wat noemenswaardig is, was toe die Sekretaris-generaal van die VVO, Mnr. Henry Kissinger, Suidwes-Afrika kom besoek het om samesprekings met die RSA, en met die swartbevolkingsgroepe van Suidwes kom hou het oor ’n VVO-besluit dat Suidwes-Afrika onafhanklik moet word. Die samesprekings sou die gevolg hê dat die bestaande mandaat wat Suid-Afrika gehad het om Suidwes te administreer, beëindig moet word. Ek moes ook ’n rol agter hierdie spreekwoordelike teatergordyn speel. Ek vertel:

Die hele aangeleentheid was ’n internasionale politieke speelbal, want daar word gesê die RSA skiet die swartinwoners van Suidwes wat daardie land verlaat het en na die land toe terugkeer om anargie te weeg te bring om sodoende die land met geweld oor te neem. Hierdie mense was South West Africa People’s Organisation (Swapo) lede en hulle word as terroriste gebrandmerk en ook só deur Suid-Afrika behandel. Verder het Suid-Afrikaanse swartes wat aan die ANC en PAC behoort het, Suidwes as afspringplek gebruik om Suid-Afrika te infiltreer.

Die samesprekings het dus oor die onafhanklikheid van Suidwes gegaan. Kom ek wees kort. Die inheemse swartbevolkingsgroepe van Suidwes, die Ovambo’s, Herero’s, Ovahimba’s en die Namas se aanspraak was dat hulle die eerste inwoners van die land was. Die swartbevolking van Suidwes het beweer dat die Rehoboth Basters geen aanspraak as eerste inwoners van die land het nie, want hulle het ontstaan uit die saamblyery en trouery tussen die Duitsers en die Afrikaners, wat eers later die land ingekom het.

Die swartbevolking, eintlik net ’n groepering van hulle, het gesê: “Dis ons land! Ons moet dit regeer nie Suid-Afrika nie!”

Wel, die samesprekings word in ’n hotel te Grootfontein gehou. Die afvaardiging het heelwat persone van Suid-Afrika, van die VVO, Suidwes se Administrateur-generaal, mnr. Jannie de Wet, ingesluit. Daar was ook hordes koerantverslaggewers van oor die wêreld teenwoordig. Soos brommers om stront.

Die Afrikaners maak ’n plan. Die Boesmans, wat ’n nomadiese volk is, moet ook by hierdie samesprekings betrek word, maar hulle is nie genooi nie. Dis nou hier waar ek onwetend ’n rol moes speel.

Ek weet waar die Boesmans se gebied in Suidwes is, want ek was al by Tsumkwe toe ek by geleentheid vir die Suidwesbasis, Sigereti, petrol in dromme moes neem. Die Veiligheidspolisie, weer in die persoon van Gerrit Erasmus, kom spreek my in die teenwoordigheid van ons basisbevelvoerder, kaptein Wimpie van der Merwe. Ek word soos volg voorgelig wat my te doen staan:

Ek moet privaat klere aantrek, net met ’n pistool bewapen word, en na Tsumkwe vertrek. Daar is met die kommissaris-generaal van die Boesman-bevolking gereël om die twee oudste inwoners van Tsumkwe, ’n man en vrou en ’n tolk by die kontrolehek by die toegang van Kaokoveld (Boesmanland) die volgende môre om 09vm (09:00) gereed te hê. Hulle moes in tradisionele Boesmandrag geklee wees. Daar sal ’n bakkie hulle kom oplaai. Dis nou ek wat daar moet wees. Ek moet die bakkie by Rundu polisiestasie kry. Dit was ’n blou 4x4 bakkie met ’n toe kappie wat Rundu se uniformlede vir algemene polisiewerk in hulle wyk gebruik het. Daardie tipe bakkies was nie op grenspatrollies gebruik nie, maar wel wit 4x4 bakkies. Die bakkie kry Grootfontein registrasienommers en letters, want Rundu se registrasieletters en nommers sou dalk onnodig aandag trek in Grootfontein.

Die bakkie het ’n kappie opgehad en ek moes die groenseiltjies afslaan en vasbind sodat niemand die drie Boesmans in die bakkie kon sien nie, en dan vertrek na Grootfontein. In die bosse, net buitekant die dorp, moes ek stilhou, die bakkie verberg en die Boesmans toelaat om hulle tradisionele drag van lendevelletjies, krale, pyl en boog, en jakkalssterte om die middellyf, weer te herskik na die stofpad se rit en dan moet hulle die dorp instap tot by die hotel.

Ek moes reeds om 02:00 die oggend van ons basis vertrek sodat ek betyds by die rendezvous (bymekaarkomplek) kon wees om die drie Boesmans op te laai. Soos reeds gemeld, dit is semiwoestyn en die pad soheentoe was verskriklik sleg. Ek was alleen en moes versigtig ry sodat ek nie vasval nie, want hulp is meer as honderd kilometer ver.

Ek kom darem betyds by die bymekaarkomplek aan en hier ontmoet ek vir Geelbooi, die tolk, en twee ou Boesmans, ’n man en sy vrou. Mense, hulle was nou nie lelik van ouderdom nie, maar kom ek sê hulle sou nie enige skoonheidskompetisie gewen het nie, ook nie onder die Boesmans self nie! Geelbooi praat vlot Afrikaans.

Hy is egter nie so klein van postuur soos die Boesmans voor bekend is nie. Die Boesmans het vanaf Tsumkwe met ’n polisie bakkie van Sigeretibasis gekom. Hulle, die bestuurder en sy passasier, moes daar wag totdat ek die drie Boesmans sou terugbring vanaf Grootfontein. Ons rit Grootfontein toe is sonder teëspoed. Ek trek die bakkie in die bosse buite Grootfontein en laat die drie uitklim. Hulle is met lendevelletjies, pyl en boë en met krale behang. Ek vra vir Geelbooi of hy Grootfontein ken. Hy sê nee. Wel nou moes ek self ’n plan bedink hoe hy by die Hotel moet uitkom met sy twee spreekwoordelike mede-Emmausgangers. Ek sê die twee oumense moet in die bos bly en Geelbooi moet weer agter in die bakkie klim en ek sal stadig by die hotel verby ry en ’n entjie verder gaan stilhou. Ons vertrek dorp toe. Ek ry stadig deur die straat waar die hotel is, en gaan hou sowat 200 tree verder, onder ’n boom, stil. Ek klim uit en staan langs die bakkie en rook rustig my pyp en ek praat met Geelbooi, sonder om my kop te draai, sommer so deur die afgeslane seilflappe wat langs die kappie van die bakkie is. Hy kyk deur ’n skrefie langs die afgeslane seilflappe en hy bevestig dat hy nou weet waar die hotel is. Ek loop ’n draai, koop ’n brood en melk vir my passasiers en vertrek op ’n ander roete terug na die bosse toe waar die twee oumense is. Die afspraak was dat die Boesmans net so na middagete, so tussen twee en drie namiddag, by die hotel moet opdaag. Hulle was glo reeds geskool deur die kommissaris-generaal van die Boesmanvolk wat om te gaan vertel.

Die drie Boesmans vanaf Tsumkwe wat ook die samesprekings te Grootfontein met Kissinger gehou het i.v.m. Suidwes Afrika se onafhanklikheid. (Foto: Ben)

Ek los hulle en hulle begin in die rigting van die dorp te stap. Ek los die bakkie tussen die bosse en stap met my privaatklere, dit was nog een van my ou blou kortbroek safari pakke, ook die dorp binne. Ek gaan verby die hotel en ek sien dat Geelbooi en die twee oumense op die stoep voor die hotel se ingang sit. Ek kan natuurlik niks hoor wat gesê word nie, maar sluit my aan by die klomp inwoners van die dorp en die joernaliste wat voor die hotel saamgedrom is. Jong dit was ure, wat ons so gestaan het, en kort-kort het een of twee persone uit die hotel gekom en met Geelbooi gepraat, hy tolk in sy klik-klak taal aan die oumense en hulle klik-klak terug wat Geelbooi dan in Afrikaans vertaal. Soms was Kissinger self daar wat vrae vra en nou word die vrae en antwoorde drieledig getolk: Van Engels na Afrikaans vir Geelbooi, Geelbooi van Afrikaans in klik-klak taal en so kom vrae gevra en antwoorde op vrae gegee. Omslagtig nè. Intussen flits die kameras van die koerantverteenwoordigers.

Dit was seker so 6nm (18:00) toe sien ek nou loop Geelbooi en die twee oumense in die rigting van die pad waarin ons gekom het. Ek slenter so 100 tree agter hulle aan en ons kom net voor donker by die bosse aan waar die bakkie verberg is. Aanvanklik het ’n paar koerantverslaggewers nog agter hulle aangestap en nog foto’s geneem en hulle het toe maar die aftog geblaas. Ek gee die brood en melk vir die drie musketiers en begin met my terugtog na Kaokoveld toe na die plek waar ek hulle die oggend opgelaai het. Ons kom stikdonker daar aan en die outjies van Sigereti sit rustig en slaap in hul bakkie. Hulle word wakker gemaak en hulle neem die drie Boesmans terug Tsumkwe toe. Ek vat die pad weer terug basis toe, via Maroelaboom, na Grootfontein, daarvandaan terug Rundu toe. Ek kom ou-nag, eintlik die vroeë môre-ure, die basis in. Vrek moeg, vuil en vol stof en nou moet ek ’n ‘sitrap’ (situasie rapport) aan die basisbevelvoerder lewer. Gelukkig hoef ek ook nie aan die Veiligheidspolisie terug te rapporteer nie, want Gerrit Erasmus en nog ’n paar ander van sy lede was, onder dekking, seker as verslaggewers?, by die samesprekings teenwoordig.

Die einde van die storie? Die volgende week kry ons, soos gewoonlik, natuurlik koerante vanaf die Republiek saam met die Flossie wat die basisse se pos bring. Daar is groot opskrifte oor hierdie Boesmans wat kom eis het dat hulle ook insette wil lewer oor die onafhanklikheid van Suidwes. Hulle het gesê dis hulle land, hulle voorouers, het die land nog voor die swartes bewoon en gejag. Hulle sê die swartmense is die inkommers. Volgens die joernaliste se verslae in hulle koerante, was die twee ou mense glo nie op hulle bek geval nie en het in detail uitgewei wat hulle van hulle ouers, se ouers, se ouers, se ouers gehoor het oor hulle bewoning en omswerwinge in die land. Hulle kon selfs vertel van die oorlog wat die Suid-Afrikaners teen die Duitsers gehad het.

Daar is toe in die koerante bespiegel hoe dit moontlik is dat die Boesmans geweet het van die samesprekings en hoe het hulle vanaf Kaokoveld so gou kon loop na Grootfontein toe. Geelbooi het hulle glo met twee antwoorde stil gemaak deur te sê hulle bly in Tsumkwe waar die Boesmans se hoofkwartier is en hulle het ook draadlose (radio’s) wat al ’n week lank gesels het oor die samesprekings wat gehou gaan word en tweedens hulle het twee dae gelede alreeds vanaf Tsumkwe begin stap, en stap is vir hulle as jagters iets alledaags, en het nou in Grootfontein aangekom. Ek onthou een van die Engelse naweekkoerante het seker nog vir twee weke allerhande vrae gevra oor hierdie drie Boesmans wat amper die samesprekings kom verongeluk het. Wel die oefening het vrugte afgewerp want die Boesmans is ook in die finale stadium van die onafhanklikheid van Suidwes-Afrika betrek.

Ek sou einde Mei 1972 saam met my kompanie terugkeer Republiek toe, maar uit die bloute word ek so om en by die 20ste Mei 1972, deur die distrikskommandant te Rundu geroep en beveel om dadelik my besittings op te pak, my uitrusting te kry, en alle dokumente en verslae aan luit. Boet Holtzhausen, die distrikskommandant se stoorman, oor te dra, want ek moet die Donderdag met die Flossie terugkeer Republiek toe. Die rede was dat ek as dosent by die Indiensopleidingseenheid benodig word om die regsvakke Strafreg en Strafprosesreg by ’n speurderkursus te Pretoria

Polisiekollege te gaan aanbied wat oor ’n week sou begin. Ek het dus, op 10 dae na, wel my drie maande op die grens deurgebring.

Dit was nog ’n hoofstuk in my lewe wat nie deur geld gekoop kan word nie. Die verrassing dat ek vroeër huis toe kom, was groot en Corrie met al ons seuns het vir my by die polisiekollege ingewag toe ek arriveer. Ek moes die volgende môre, dis die Vrydag, eers by Polisie hoofkantoor by die TIN (Teeninsurgensie) Afdeling rapporteer sodat ek ‘ge-debrief’ kon word. Dit het beteken dat ek ’n kort mondelikse verslag moet lewer oor die kompanie se werksaamhede en ook die dienste van die ander offisiere moes evalueer. Hulle sal weer met hulle terugkeer RSA toe dieselfde moet doen en my dienste sal dan ook deur hulle geëvalueer word. End goed alles goed.

Nou begin my voorbereiding vir die tuig wat ek weer moet opneem om as dosent kennis aan aspirant speurders oor te dra. Op plekke waar ek as dosent opleiding moes gee, word later in ’n ander afdeling van die hoofstuk verwoord. Ek gaan nou eers weer terugkeer na die lief en leed van die Du Plessis’s te Pretoria.

12.6 Die Du Plessis’s word volwaardige inwoners van Pretoria

Ons familie het nou al reeds twee jaar as inwoners van Pretoria en in die gemeenskap in PretoriaNoord, agter die blad waar ons nou volwaardig ingeburger is. Die volgende afdeling sal dan gewy word aan die lief en leed van ons as familie totdat die kinders volwassenheid bereik het en hulle, soos die spreekwoordelike kuikens, uit nes geskop is om te gaan solo vlieg.

Algaande het ons in die nuwe gemeenskap en in ons woonbuurt ingeburger geraak. Die Stadsraad van Pretoria het toe begin om alle wonings in Pretoria-Noord se nommers wat ’n A óf B na die nommer het, te hernommer. Die erfnommers het toe ook verander. Nou het ons huis se nommer van Wesstraat 94A verander na Wesstraat 302, maar die woning bly dieselfde.

Met die verloop van maande en jare later, het ons by gemeenskapsprojekte en byeenkomste ingeskakel. Ek meld net die gemeenskapsprojekte en verenigings waarby ons hele familie betrokke geraak het. Dit word nie volgens jaartal waarin dit plaasgevind het, vermeld nie. Dit het gemaak dat ons weer by hernuwing hegte bande met ons vyf seuns kon smee, want ons het hulle, waar ons kan, in hulle skooljare ondersteun.

By die Voortrekker Eeufees Laerskool het Corrie baie gou by die skool se “snoepie” ingeskakel en sy was daar vir bykans ses jaar besig om die skoolkinders se tande só stadigaan te laat vrot gaatjies kry van al die soetgoed, sodat hulle gereeld hulle tandartse moes besoek. Ha, ha. Onbetaalde en onbaatsugtige liefdesdiens, dis wat dit was, beslis nie ’n diens wat bedoel was om kinders te bederf nie. Sy het later selfs die eenvoudige boekhoustelsel van die snoepie se aankope en verkope moes byhou. Dankie vrou, dit was ook terapie vir jou alleenheid by die huis, noudat die kinders vir die helfte van die dag nie tuis is nie, en ek eers laatmiddag tuiskom.

Ekself is baie gou op die Onderwyser-ouervereniging van die skool gekies en ons het gesorg dat die wedersydse skakeling tussen die breër ouergemeenskap en die onderwysers van die skool op ’n gesonde kommunikasievlak is. Daardie pos het ek beklee totdat Nico sy laaste jaar op laerskool was.

Al vyf van hulle het in die laerskool aan atletiek deelgeneem, rugby gespeel en hulle was van die eerste klomp Voortrekker Eeufees Laerskool se kinders wat aan die krieketsport bekend gestel is, toe die sportonderwyser, meneer Izak de Villiers, krieket by die skool ingevoer het. Christo het in sy laaste laerskooljaar sy pligte as hoofseun van die Voortrekker Eeufees Laerskool getrou nagekom. Ek het ons Chevrolet Kommando motor ingeruil vir ’n nuwe 1972 geel 1600 Volkswagen Kombi en dit was toe die gerieflikste om vir tannie Du Plessis óf oom Dup te vra of hulle nie die

krieketspannetjie hiernatoe of daarnatoe sal neem nie. Selfs ook van die rugbyspelertjies. Ons het nie een keer geweier nie. Ons het selfs by een geleentheid die helfte van die krieketspan van Kobus, Anton en Werner na die Laerskool Rooiberg, anderkant Warmbad (tans Bela-Bela) geneem. Die ander helfte van die span was deur ’n ander ouer met sy kombi vervoer.

Die kinders het ook by die Kerkjeugaksie vir laerskoolkinders by die NG Gemeente Pretoria-Noord ingeskakel. Ons was ook saam met hulle en ander ouers die kampouers vir ’n naweek by ’n kerkjeugaksiekamp by Remardo kampterrein in Noord-Transvaal. Weer eens die kombi, hierdie slag die blou-en-wit een, want die geel-en-wit een is gesteel, gebruik om van die kinders en voorrade na die kampterrein te vervoer.

Die Rapportryerskorps van Pretoria-Noord het my genader om as Rapportryer by hulle korps aan te sluit. Ek het die uitnodiging aanvaar.

Julle vra: “Wat is die Rapportryers?” Ek het vroeër in hierdie boek melding gemaak van die Rapportryers wat ’n koets vergesel het op pad na die inwyding van die Voortrekker Monument, (1948) en wat deur ene Labuschagne te Burgersdorp, voorgelê en van die rapporte beroof is.

Wel, net weer oorsigtelik waarvoor hierdie organisasie staan:

Dit is ’n organisasie vir Afrikaanssprekende mans, wat gestig is nadat daar, soos tydens die Boereoorlog, jongmanne was wat rapporte van en na die slagveld teen die Engelse magte, moes gaan oordra aan en van die Boeremagte se generaals. Dan is daar strategieë beplan en opdragte aan die rapportryers gegee wat hulle weer aan die kommandante van die verskillende gevegsordes moes gaan oordra. Die Rapportryerbeweging is in 1948 gestig. Perderuiters wat toe rapportryers genoem is, het toe rapporte (eintlik groete-boodskappe) vanaf burgemeesters van die dorpe waarlangs die roete van die Voortrekkerwaens getrek het, vir die inwyding van die Voortrekkermonument, aan die feeskomitee moes kom oorhandig. So is korpse dan by die dorpe, waarlangs hulle gereis het met die rapporte, gestig. Die doel was om in die Afrikanergemeenskappe se kultuurgoedere, politiek, godsdienstige- en sosio-ekonomiese aangeleenthede saam te snoer om ’n verskil te kan maak in ’n gemeenskap. Ons moes onsself dus laat geld. Dit het gemaak dat ons baie gou ook hier, in die vreemde, ’n nuwe vriendekring kon opbou. Ek was vir jare die sekretaris en ook vir ’n paar jaar die voorsitter van die Rapportryerskorps in Pretoria-Noord.

Die Rapportryerbeweging se logo op ’n mansjetknoop. Die ruiter op die perd wat kultuurrapporte ontvang en aan gemeenskap oordra en vriendskapsbande (Die groetende hande) met mede-Afrikaners smee. (Foto Ben).

Ek het later by die Nasionale Party van Transvaal se bestuur van die Wonderboom kiesafdeling ingeskakel, waar min. Pik Botha, die Lid van die Volksraad (LV) was. Hy was later die SuidAfrikaanse Regering se verteenwoordiger by die VVO en later as Minister van Buitelandse Sake. Die LV wat in Pik Botha se afwesigheid as LV verkies is, was Danie Steyn. Hy is later as adjunkminister en minister in die kabinet aangestel. Die Lid van die Provinsiale Raad (LPR) was Otto Maree. Ek was later die voorsitter van die Jack Hindon NP-tak van die Wonderboom kiesafdeling. Ek moes later noodgedwonge bedank toe ons Mafikeng toe getrek het.

My betrokkenheid in die gemeenskap het gemaak dat ek ook later tot lid van die Belastingbetalersvereniging van wyk nommer 12 verkies was, waar oud-SAP kol. Jackson van Zyl, hy het later ’n ere-rang van brigadier ontvang, die stadsraadslid was. Dit het verder gelei tot my verkiesing op die Wonderboom Gebied Beplanningskomitee, wat die Stadsraad van Pretoria moes adviseer m.b.t. die stedelike-ontwikkeling vir die Noordelike gebiede van Pretoria en aanbevelings moes maak m.b.t. paaie, woonbuurtes, besighede, groeipunte en wat ook hersonering van gebiede en woonbuurtes ingesluit het. Huidig, onder die Nuwe Suid-Afrika, is daar wykskomitees wat hierdie taak in wyksverband doen. Later ook meer hieromtrent. Ek het ook ’n lewenslange lid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) geword, nadat ek ’n kontant bydrae van ’n paar honderd rand gemaak het. Hieronder is die logo van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings

(Foto - Solidariteit)

Sedertdien het ek en Corrie albei as lede van AfriForum aangesluit.

Die Afrikaner Broederbond (AB) het my genader om as lid ingeskakel te word. Ek het dit aanvaar en is gedurende 1976, toe ons land binne die skole-oproer van Soweto was, die aand in PretoriaNoord ingestel. Dié organisasie het later ’n naamsverandering ondergaan, naamlik ‘Die Afrikanerbond.’ Die hernoemde bond het nog steeds die afkorting AB behou. Aanvanklik was die AB ’n geheime organisasie net vir blanke mans, en geen volksvreemde manspersoon kon daarby aansluit nie. Lidmaatskap kon slegs op uitnodiging verkry word en sou enige AB-lid in die RSA teen jou uitnodiging beswaar maak, word jy nie in die Bond aanvaar nie. Die nuwe AB is nou oop vir enige Afrikaanssprekende persoon, ongeag ras, geslag en/of godsdienstige oortuiging. So ’n persoon kan ook self aansoek doen om by die AB aan te sluit, óf steeds op uitnodiging van die organisasie ’n lid van die AB word.

Die logo van die Afrikanerbond. (Google).

Die negatiewe konnotasie wat aan die ou AB gekleef het, is sedertdien op ’n sypad geskuif, want die voorsitter van die AB Hoofkantoor te Johannesburg, en selfs die huidige AB lede, kan nou hulle lidmaatskap bekend maak. (Soos ek nou myne aan julle bekendmaak.) Hulle kan selfs in die pers óf in die openbaar standpunte inneem, in soverre dit die Afrikaanssprekende gemeenskap in ons land aangaan, veral ons taal, kultuur, godsdiens, selfs dalk politieke oortuiging, ens. Ek is nou nog ’n rustende lid en is nie ’n dag spyt dat ek aan hierdie wonderlike egte Afrikaanse organisasie behoort nie, want ek het my alles feil vir dit wat eiendomlik is aan my Afrikanerskap. Ek is nie ’n

jukskeibreker óf ’n dweepsieke soos die lede van die Afrikaanse Weerstandsbeweging (AWB) nie, maar beywer my vir gesonde, regdenkende uitsprake wat my as Afrikaner raak. Met my betrokkenheid by die vele organisasies en/of verenigings moes ek uiteraard baie vergaderings bywoon, maar ons het ook geleenthede gehad waarby lede hul familie en eggenotes kon saambring om ’n ete, ’n braai óf waar ’n gespreksgeleentheid georganiseer is, te kon bywoon. As offisier in die Mag moes ek, saam met Corrie, minstens eenkeer per kwartaal ’n offisiersklubfunksie in die vorm van ’n dinee bywoon. Dan was ons baie formeel geklee, ek in die amptelike menasiepak van die SA Polisie se offisierskorps, bobbejaanpak genoem deur die polisieoffisiere, en Corrie in ’n lang aandrok. En het sy nie altyd te mooi en sjiek gelyk nie. Ek was trots op hierdie vroulief van my. Corrie het by die SA Polisie se Damesklub in Hoofkantoor aangesluit, want dit was eintlik van die eggenotes van offisiere verwag dat hulle daarby moet aansluit. Ons het maar beurte met ander offisiere en hulle eggenotes gemaak om die funksies, gewoonlik in die polisiekollege se groot gimnasium, te gaan bywoon. Die kinders moes maar tuisbly wanneer ons die funksies gaan bywoon het. “Het Pa-hulle ons regtig alleen tuis gelaat?” Ag man, julle was al mooigroot om na mekaar se wel en wee om te sien, en kinderoppassers sou in elk geval net eenkeer kom en dan nooit weer nie, want julle sou hulle omtrent ’n ‘lewe laat ly’ het! Julle was mos soet kinders! Ha, ha, ha.

Kyk hoe mooi lyk Corrie in haar aanddrag tydens ons eerste Offisiersklub funksie te Pretoria. (Foto: Ben geneem deur seun Anton.)

In die volgende paragrawe gaan ek probeer om verder die wel en wee van ons en ons kinders te skilder, soos wat ons dit vanaf ons aankoms tot ons vertrek na Mafikeng ervaar het. Dit sluit onder andere ook hulle dinge in terwyl hulle nog ‘onskuldige’ leerlinge in die laer- en die hoërskool was:

Ek is na die derde verkiesing tot ouderling in ons NG-gemeente te Pretoria-Noord voorgestel. Ek het die vorige twee nominerings my nie laat welgeval nie, want ek was toe baie weg van die huis met gedesentraliseerde opleiding. Met die derde nominering het ek so grappender wys aan die

besoekende predikant gesê: “Wel, ek sal maar aanneem, anders moet julle my dalk as prediker beroep waar ek dan ’n salaris moet kry, dalk nog preek ook.” Ha, ha. Later was ek tot hoofouderling verkies. Ek het gedien onder di. De Wet, Van der Linde, Zachie Loots, Hennie Dreyer en Schalk Naude, maar boweal het ek in die diens van God Onse Vader gestaan. ’n Diens wat ek met liefde, nougesetheid en toewyding probeer uitvoer het. Dit was deel van my geestelike groei in my geloofslewe. “Dankie Here dat U my daarvoor geroep het! Het ek U dalk soms teleurgestel in die uitvoering van U diens en uitlewing van my geloof? Dan weet ek U het my reeds vergewe toe ek berou getoon en om vergifnis gevra het.”

Corrie het by ’n Bybelstudiegroep van ons gemeente aangesluit. Sy het elke week die byeenkomste getrou bygewoon. Sy het net altyd gewag gemaak van die groot aantal vriendinne wat sy daar kon maak en die lewensverrykende ervaring wat dit was waardeur sy haar geloofslewe verinnig en versterk het. Ons het haar diens aan haar medemens en aan ons as familie, op ’n christelike wyse ervaar. Die wyse waarop sy huis en haard in God Onse Vader se naam gedien het, het ons dalk nie elke dag waardeer en raakgesien nie. Jammer liefste vir die oorsig, maar nou weet ons, terugskouend, dat wanneer jy soms ergerlik teenoor ons was, dit nodig was, nie omdat jy ons nie liefgehad het nie, maar dat dit nie ’n maklike taak was om vir hierdie klomp mansmense huis te hou, aan te spreek en voor lief te wees nie. Jy sê mos: “ ’n Mens se geduld gaan mos net tot so vêr!” –“Hoe ver?” “Só ver!” Ag, ons lief jou my vrou, soos vyekonfyt! Ons sal jou altyd liefhê.

Sy het gereeld ook sendingbussies by die bussiehouers gaan kollekteer en by die toesighoudende dame gaan inhandig, en dit weer gaan af lewer. Nog ’n liefdesdiens! So was sy ook een van die medewerkers, ‘n Toktokkie, vir Kansa (Kanker vereniging van Suid-Afrika). Steeds liefdesdiens wat in die gemeenskap gedoen is.

Al vyf die kinders het by die gemeente se jeugaksies en Kategese (Sondagskool) ingeskakel. Hulle het hulle seëls vir hulle diplomas eerlik verdien, want hulle was getroue bywoners van die byeenkomste. Ons het, wanneer ons dit kon bekostig, saam met hulle na kerkkampe gegaan en ook vir al die kinders as kampouers opgetree. Dit was altyd ’n geestelik verdiepende ervaring vir ons almal.

Ons was nog betrokke by hulle skoolloopbane by die hoërskool, deur gereeld hulle oueronderwyseraande by te woon. Hulle sportdeelname was nie net vir hulle belangrik nie, maar ons het dit aangemoedig, want dit is daar waar dissipline, gehoorsaamheid, mededingendheid, deursettingsvermoë en toegewyde oefening geleer word wat deel is van karakterbou. Ons het gesorg dat hulle elkeen hulle atletiekklere, rugbyklere en sportdrag kry. Corrie wat die minister van finansies in ons huishouding was, het net geweet waar om af te knyp sodat daardie voorreg hulle nie ontneem word nie. Ja, soms ten koste van hulle geliefde Ma en my liefling! “Bokkie, ek weet hoe jy soms maar met min mooi klere, gesiggoedjies, lekkerruikgoedjies en om nie eens te praat van die goue- en silwer dinge wat ’n vrou maar begeer nie, moes klaarkom! Dankie my vrou, dis maar al wat ons kan sê, met ’n dik gevoel in die keel en ’n nattigheid in die oë.” Ons lief jou!

Al vyf die seuns het in die laerskool, en ook in die hoërskool, krieket gespeel. Ek het met die seuns se hulp ’n krieketkolfblad in ons erf gemaak, deur die gras in ’n lang baan stomp af te sny vir ’n tuisgemaakte kolfblad, sodat die harde krieketbal darem ietwat van ’n wip kan hê op die kort gesnyde gras. Ek het egter geen beenskerms of bokse (“box”) gekoop nie, want dit was die skool se verantwoordelikheid. (Julle vra wat is Bokse? dis die ou dingetjie wat die kroonjuweeltjies, ook bekend as hulle toekoms, moet beskerm). Ons selfgemaakte krieketveld het soms 10 of meer spelers gehad soos wat hulle maats kom krieket oefen het in ons agterplaas. Ek moes male sonder tal vensterruite vervang, want as iemand vir my sê hulle kan ’n krieketbal goed plaas vanaf die kolf,

praat hulle loutere strooi. Die bal vlieg waarheen dit wil en jy is maar net gelukkig dat jy nie uitgevang word nie! Julle sê: “Issie Pa , ons kan!”

Nou ja, dalk kan ons professionele Protea spelers dit doen, maar julle as skoolknape, kon dit nie in ons agterplaas doen nie! Julle moer net als wat roer, en mog dit treffe! Ek moes dus nood gedwonge alle vensters aan die agterkant van die huis en die buitegebou beskerm deur stukke “hard board” (Masonite), te koop en dit met hakies aan die buitekant voor die vensters te hang. Dit het die vervanging van ruite uitgeskakel.

Al vyf die seuns het in die laerskool rugby gespeel en ook in die hoërskool. Ja, al vyf die seuns was gelyk op hoërskool. Werner moes later handdoek ingooi want die droë gras en stof op die wintervelde, het erge sinus veroorsaak. Hy het toe besluit om tennis te speel en daarvoor moes ons toe ook die regte klere en raket koop. Hy het dit baie geniet en soms het die ander vier ook sy raket gegryp en balle begin rondslaan. Hulle was egter die dood voor oë gesweer om dit nie te breek nie, want rakette was duur. Het dit gehelp? Ek glo nie, die waarskuwing het soos water van ’n eend se rug geloop. Die blikskottels!

Ons het ten minste elke Desember skoolvakansie met vakansie gegaan, want ons opleidingsafdeling in die polisiekollege het geen kursusse oor daardie tydperk aangebied nie. Ons was net soos die parlement, in reses! Ha, ha. Waar het ons dan gaan vakansie hou? Wel, met vyf seuns kon ons op geen ander plek as om by ons ouers gaan kuier nie. As ons eerste by ouma Dupie op Swellendam en my susters by Malgas in die distrik van Swellendam gaan kuier het, vertrek ons gewoonlik net na Kersfees. Dan gaan ons verder en bly ’n paar dae oor in Port Elizabeth by oupa en ouma Scholtz en by Corrie se familie sodat ons Nuwejaar by hulle kan wees. Met ons volgende vakansie draai ons gewoonlik die volgorde van die kuiertjies om. Dit was die kinders nie beskore om by hotelle en/of gastehuise oor te bly en by vreemde vakansieoorde te gaan uitspan nie, want die finansies het dit net nie toegelaat nie. Later, toe net Nico nog in die huis was, kon hy wel van daardie luukse voorregte, saam met ons gebruik maak. Terloops, ek het vroeër gewag gemaak van die gebruik wat ons kinders gehad het om “Die wit hasie” by ’n Caltex motorhawe, waar ons brandstof ingetap het, te gaan vang.

‘n Wit hasie was die reklame foto saam met ’n swartman wat soos ’n haas geklee was, by elke Caltex Motorhawe in die RSA. Die kinders het dan een-een die kleedkamers besoek om ’n ‘wit hasie’ te gaan vang. By geleentheid kuier ons weer op die plase te Malgas en een van die kinders sê toe, ek dink dit was Werner, dat hy ’n ‘wit hasie’ gaan vang. Een van tannie Babie(my suster Hendrieka) se kinders, dit was glo Niekie, hy was sowat 3-4 jaar oud, sê toe: “Vang vir my ook ’n wit hasie!”

Die klomp Du Plessis’tjies het lekker gelag en moes toe aan hom verduidelik dat Werner net toilet toe wil gaan om iets anders te gaan vang (doen)!

Die Caltex “wit haas” (Foto: Google)

Nou weer terug in Pretoria-Noord. Een middag, terwyl Corrie by die huis haar moederlike pligte nagekom het, lui die telefoon en ’n manspersoon sê vir haar: “Mevrou, jy moet asseblief jou kind kom haal, want hy het sy kop hier by die swembad oopgeval.”

Sy ontken dat daar ’n kind van haar by die Pretoria-Noord se munisipale swembad is. Die man raak stil, en sê: “Wag, ek vra gou sy naam”.

“Wat is jou naam, seun?”

Die man sê: “Dis Christo, mevrou.” Sy sê toe dat sy hom sal kom haal.

Sy was uiters verbaas dat hy daar by die swembad is, want hy en Nico het gevra of hulle by ’n maatjie kan gaan speel, waarop sy haar toestemming verleen het. Sy ry en gaan haal hom en Nico by die swembad. Sy kop bloei en hy hou ’n lap as ’n soort van drukverband op sy kop vas. Hy word sterk aangespreek omdat hy vir haar gejok het en nou neem hy ook nog die jonger boetie saam met hom. Sy moes hom toe na die HF Verwoerdhospitaal (tans die Steve Biko hospitaal) toe neem om steke in sy wond te kry. Hy vertel glo dat hy net ’n “summersault” gemaak en met die afkom slag, sy kop op die rand van die swembad geval het. So ’n klein niksnuts! Ek word eers van hierdie voorval vertel toe ek na werk tuiskom. Slaan sal tog nie help nie, maar hy word aangespreek om nie weer leuens te vertel nie. Ek het baie lus gehad om vir “Ben Brand”, ons opvoederslaanding, te gebruik. Ek het hom maar met sy seerkry alleen gelaat.

Terwyl ek dan nou Christo se wedervaring by die swembad beskryf het, moet ek ook ons trots vermeld toe hy as hoofseun van Voortrekker Eeufees Laerskool verkies is. Hy het dit met trots en toewyding gedra. Hy was ’n navolgenswaardige voorbeeld vir die kinders in die laerskool, veral die graad een- en tweetjies, wat hom soos ’n skaduwee op die speelgrond gevolg het. Amper soos bye agter nektar aan.

Weereens word Christo in hierdie ‘anale van my geskrifte’ vermeld en dit was toe hy sy regter skeenbeen gekraak het toe hy tydens ’n krieketwedstryd by die laerskool teen sy been geboul is. Hy moes toe weer na die HF Verwoerd Hospitaal vir X-strale geneem word en het toe gips aan die been gekry. Dink julle hy kon die regterbeen goed laat rus en stemmig loop? Nee, meneer het na ’n paar dae hierdie been se styfheid met die gips, gesien as die ideale voet waarmee hy ’n rugbybal kon skop en om dan nog te hardloop ook. Ek moes self by die apteek by twee geleenthede in die ses weke wat die gips moes aanbly, gipsverband gaan koop en die vuil, verflenterde en sagte gips aan die voet van nuuts af versterk. Hy is met hierdie gips aan die voet saam na Port Elizabeth waar ons vir oupa en ouma Scholtz-hulle gaan kuier het. Die distriksgeneesheer te Port Elizabeth het die gips toe verwyder. Hy het toe aan my gevra: “Wie het hierdie gips só dik aangesit?”

Ek het toe maar met die waarheid vorendag gekom en vertel dat ek dit by twee geleenthede self moes versterk. Hy het net stilweg geglimlag.

Kobus, as oudste van ‘n tweeling, en van die kinders, het ook sy porsie sportbeserings gehad. Die ergste was toe hy in ’n rugbywedstryd by die Pretoria-Noord Hoërskool, sy regterpols gebreek het. Corrie moes by daardie geleentheid die spit alleen afbyt met ’n kind wat kerm en kla en met groot pyn nie in sy bed kon slaap nie. Sy het hom in ’n stoel sitgemaak en die arm op ’n kussing laat rus. Ek was toe te Venda besig om die stampolisie aldaar op te lei. Ek het maar per telefoon van die ongeval verneem.

Anton weer, as jongste van die tweeling, het tydens ’n rugbywedstryd, ook by die Pretoria-Noord Hoërskool, sy tong losgeruk toe hy effens hoog (met ‘n stywe arm) deur sy opponente vleuel geduik is. Ek moes hom toe na die HF Verwoerd Hospitaal toe neem, sodat hulle oplosbare steke onder sy tong kon insit. Hy praat vandag nog baie, nou wonder ek of dit nie as gevolg van die tong is wat losgeruk was, en hy nou ’n spreekwoordelike ‘los tong’ het nie? Haai, Pa!

Anton en Kobus was in standerd 9 (Graad 11) tot onderhoofseuns van die Pretoria-Noord Hoërskool, vir hulle matriekjaar, verkies. Dit was die eerste en enigste keer dat daardie skool twee onderhoofseuns gehad het, en hulle moes toe noodgedwonge ook twee onderhoofdogters kies. Daar word verneem dat sedert hierdie uitsondering gemaak is, het dit nou ’n bestaande gebruik geword dat twee onderhoofseuns en -dogters verkies word. Ons as ouers, was nie ’n bietjie trots op hierdie twee se prestasie nie. Hulle was in die bevoorregte posisie om hulle jongste broer, Nico, in die hoërskool te ontvang en in te lyf. Toe was al vyf die Dupies op hoërskool – wat ’n prestasie, maar ai, die finansiële sak moes maar geskud word! Wel, dit was ‘n voorreg!

Kobus en Anton het beide met Pretoria-Noord Hoërskool se eerste rugby span ’n week by die rugbyakademie te Sportweni, aan die Natalse Suidkus, gegaan. Ons het maar weer ’n geldjie afgeknyp sodat hulle kon gaan, Dit was sowat R70,00 per speler met ’n paar rand ekstra vir sakgeld Hulle het darem by vriende en vreemdelinge, elk met ’n kollektelys, gaan kollekteer. Ons aandeel was op dié manier darem nie die volle bedrag van R70,00 wat nodig was nie.

Al vyf seuns in Pretoria-Noord Hoërskool. Agter van L na R:Anton St. 10 (Gr. 12) Werner St. 9 (Gr. 11) en Kobus St. 10 (Gr. 12). Voor van L na R: Christo St. 8 (Gr. 10); Nico St. 6 (Gr. 8) (Foto: Ben). Hulle moes nuwe rugbytruie by Sportweni aankoop as bewys dat hulle daardie rugbyweek bygewoon het. Dit was sulke oranje truie met die Sportweni logo daarop. Toe hulle weer na die skoolvakansie hulle wedstryde in die skool se rugbyliga hervat, het die span soms ook in hierdie oranje truie uitgedraf in plaas van die donkergroen met swart wat hulle gewone truie was. Gelukkig was die kleur nie pienk óf gekamoefleer soos wat die Blou Bulle se truie by geleentheid was nie! By geleentheid het die vyf seuns so ’n afvaardiging gevorm en na my toe gekom en gevra of ons nie vir hulle fietse sal koop nie. Ek het toe aan hulle verduidelik dat ons in elk geval nie staanplek vir vyf fietse by die huis het nie, en dat dit ’n baie groot uitgawe is, en dat ek en hulle Ma, van die standpunt uitgegaan het dat ons sal sorg dat hulle elkeen hulle eie sportdrag het, sodat hulle niks by van die vriende hoef te leen nie. As nagedagte het ek so terloops die volgende gesê: “Gaan

gerus en leen julle vriende se fietse om mee te ry, soos wat hulle julle sportdrag kom leen om mee te speel.”

Hulle het maar die weiering gelate aanvaar en seker ook besef dat om hulle nerwe met klere te klee, hulle mae vol te hou en om hulle van sportdrag te voorsien, baie kos met net ’n Pa wat geld in die huishouding inbring. Hulle Ma het eers later vir ’n paar jaar buitenshuis gewerk. Ek kom later daarby. Werner weer het, behalwe sy blindedermoperasie, ook maar sy teëspoede tuis gehad. Terwyl ek op grensdiens was, het Corrie gereeld elke week geskryf en al vyf die seuns het dan ’n kort briefie by haar brief ingesluit. Ek ontvang een week die dik brief en nou lees ek al die nuus van vrou en elk van die seuns. Ek lees in Anton se brief dat Werner met ’n pyl uit ’n boog geskiet is. Net dit, niks verder nie. Ek lees weer Corrie se brief, maar sy meld niks daarvan nie, lees weer Werner se brief, maar hy praat nie daaroor nie. Nou bekommer ek my morsdood. Waar aan sy lyf is hy geskiet? Wie het hom geskiet? Is hy in die hospitaal? Was dit tuis waar dit gebeur het, óf waar? Met watter soort pyl is hy geskiet? ens. ens. Ek skryf dadelik ’n brief en vra al hierdie vrae vir Corrie en ek sorg dat dit nog op dieselfde Flossie kom waarmee die pos gekom het, en wat nog dieselfde dag terugvertrek Republiek toe. Ek wag maar in afwagting vir die volle verhaal. Corrie skryf net só gou en meld dat sy dit nie wou meld nie, en sy nie die kinders se briefies gelees het wat hulle gestuur het nie. Die volle verhaal is, dat ’n seuntjie hom met ’n selfgemaakte boog en pyl wat ’n spyker as punt het, in die kuit van sy een been geskiet het. Die plek het glo ’n bietjie geswel, maar sy het dit behandel en hy het niks daarvan oorgehou nie. Dank die Vader dit kon só maklik erge gevolge gehad het! Iets soos klem-in-die-kaak óf hy kon ’n oog verloor het.

Christo het die vêrste met atletiek gevorder. Hy het ’n Noord-Transvaal skolerekord in hekkies 0/13 opgestel wat vir ’n hele paar jaar op die rekordboeke gestaan het, voordat dit verbeter is. Omdat hy in die naellope en hekkies presteer het, is hy ook die enigste een vir wie ons spykerskoene gekoop het. Die ander se sportdeelname was maar slegs beperk tot Huissport en soms ook tydens interkompetisies teen ander skole in Pretoria. Anton het ook by geleentheid met spykerskoene in die 100 meter vir seuns onder 18 by skoolsport en inter-skole gehardloop. Ek kan nie eens meer onthou by wie hy hierdie spykerskoene gekry het (geleen het?) nie.

Corrie het vir sowat ses weke elk in die Nasionale Party (NP) se verkiesingskantoor vir Jackson van Zyl, as raadslid vir die Stadsraad van Pretoria, gewerk en later ook in Danie Steyn, die LV vir Wonderboom, se verkiesingskantoor, wat toe Minister van Ekonomiese Sake was. Sy het toe Christo hoërskool toe is, vir die eerste keer in ons getroude lewe buitenshuis begin werk. Sy het ’n oggendpos, in die Staatsdiens, bekend as ’n 5/8ste pos per dag, by die Registrateur van maatskappye in die Departement van Handel en Nywerheid begin werk. Sy het vir net ses jaar daar gewerk. Toe Christo met matriek klaar was, het sy bedank. Ons het almal vir die NP gewerk. Ek was, soos reeds genoem, voorsitter van ’n wykskomitee bekend as die Jack Hindontak, en die kinders het selfs reklamestukke by huise in die Noorde gaan uitdeel. Kon ons daardie tyd voorsien dat die NP tot niet sou gaan? Nee, beslis nie, maar ek glo tot vandag toe nog dat dit was nie alles verniet nie.

Ek het weer tennis begin speel en by die SA Polisietennisklub van Pretoria-Noord, my moeg gehardloop agter tennisballe aan. Dit het my darem fiks gehou. Ons het baie goeie vriende daar gemaak, want Corrie het male sonder tal ook saam met ons tennisspelers kom braai. Ek het later jare opgehou tennis speel, maar dis iets vir later.

Ons geel en wit kombi word een nag onder ons afdak by ons huis te Pretoria-Noord gesteel. Ons het dié aand nog van die hospitaal af teruggekom waar ons Werner gaan besoek het, want hy het ’n blindedermoperasie gehad. Dit het gereën en ek het nie die aand die twee hekke met slot-enketting gesluit nie. Met al ons teëspoede moes ek toe na ses weke, met die geld wat die versekering

besluit het om my uit te betaal, ’n nuwe kombi aankoop. Intussen het Schalk, my swaer Van Schalkwyk, sy ou Datsun bakkie vir ons geleen sodat ons darem weer wiele onder ons blakers kan hê om Werner te gaan besoek. Ons het die bakkie gebruik, totdat ons nuwe blou-en-wit 2 liter Volkswagen Kombi gekom het. Omtrent 2 maande na die diefstal, ontvang ek ’n telefoonoproep van die Pretoria-Noord se speurders om my kombi te Nebo, in die destydse Lebowakgomo nasionale staat, in Noord-Transvaal, te gaan uitken. Ons almal is een Saterdagoggend weg om die uitkenning te doen. Ek het dit positief uitgeken, alhoewel dit ander gordyntjies en ’n ander radio ingehad het en daar ’n hele gereedskaptrommel met gereedskap in die kombi was. Die versekering het later vir my gekontak en gevra of ek nie dalk die ou kombi wil koop nie. Ek het nie belanggestel nie, en het ook nie die geld daarvoor gehad as ek dit sou wou terugkoop nie, want ekmoesdie nuwe kombiafbetaal. Nadat Corrie opgehou werk het, het ons gemeente ’n probleem gehad, want hulle kon nie ’n kantoordame kry nie. Sy het, met haar grootsheid as persoon en Christen, ingewillig om dit te doen, nadat die kantoorman, oom Doors le Roux, skielik oorlede is. Dit het toe geblyk dat sy ook as notulehouer vir alle kerkvergaderings moes optree. Sy het vir bykans twee jaar daar gewerk. Sy moes toe bedank want ons het na Bophuthatswana vertrek. ’n Ander gemeentedame het die taak kom oorneem. Dit was nie ’n hoogs betalende werk nie, maar meer uit ’n liefdesdiens as die materiële voordeel wat sy daaruit ontvang het. Weer eens kan ons net ons hoed lig vir dié bereidwilligheid van haar om in die diens van die Here in ons gemeente te kon staan.

Al vyf ons seuns het nie een standerd op skool gedruip nie, en het ook hulle matriekeksamens, geslaag. Ek het dit baie duidelik aan hulle gestel dat daar ongelukkig geen geld beskikbaar is om hulle universiteit toe te stuur nie, alhoewel almal universiteitstoelating gekry het. Ek het toe vir elkeen van hulle die voordele verbonde daaraan om na die Polisie toe te gaan geskets. Ek het aan hulle verduidelik dat:

hulle opleiding net ’n jaar in die Polisiekollege is en hulle sal tydens hulle opleiding darem maandeliks ’n salaris kry wat beter is as die ‘soldy’ van ’n weermag dienspligtige;

hulle na opleiding ’n groter salaris sal ontvang en hulle na twee jaar diens in die SA Polisie vrygestel word van diensplig en die verpligte militêre kampe vir 10 jaar sal vryspring;

sou hulle langer in die polisie wil aanbly, hulle vir beurse kan aansoek doen en so hulle self akademies bekwaam in die rigting wat hulle vir hulleself in die vooruitsig gestel het; en

hulle ook verseker is van ’n goeie mediese fonds terwyl hulle in diens van die polisie is.

Ek was toe in daardie stadium stadig maar seker op pad om in die offisiersrange te vorder, na kaptein, majoor en luitenant-kolonel.

Ons het vir hulle, soos wat hulle ontvoog en uit die huis is, bygestaan in die loopbane wat hulle vir hulleself gekies het. Nou sal hulle lewe as volwaardige verdieners van hul eie geld, hieronder verwoord word.

12.7 Kinders bereik volwassenheid

Kobus en Anton was dus die eerste van die vyf wat, nadat ek die voor- en nadele van aansluiting by die polisie, aan hulle bekend gemaak het, besluit het om by die polisie aan te sluit. Hulle het by die werwing afdeling van die Polisiehoofkantoor die nodige vorms vir voltooiing gekry, dit ingevul en het ook hulle mediese ondersoeke geslaag. Toe hulle telefonies laat weet word dat hulle aansoeke goedgekeur is en dat hulle nou as polisiebeamptes ingesweer moet word, het ek hulle na die Werwing Afdeling vergesel. Ek het hulle indiensneming deur die eedaflegging (inswering) behartig.

Dit was ’n besondere oomblik vir al drie van ons. Nou was ons drie polisiemanne in die huis. Na hulle basiese opleiding in die SA Polisiekollege te Pretoria, was beide by die Spesiale Wageenheid

geplaas. Ek glo dat elkeen van hulle eendag hulle eie wel en wee aldaar op skrif sal stel. Hopelik nie só lank daarmee wag soos ek nie.

Net nog ’n paar gedagtes omtrent hierdie twee mans. Omdat hulle van tyd tot tyd met diens uit Pretoria moes weggaan, het beide by Pretoria Sentraal se kaserne ingewoon. Na ongeveer 2 jaar het hulle egter besluit om aansoek te doen om by ons aan huis te mag inwoon. Hulle was nou volwasse mans. Ons het toe besluit om by ons huis te Pretoria-Noord aan te bou. Ons het twee slaapkamers aangebou en een bestaande slaapkamer in ’n tweede badkamer omskep. Terloops, hierdie aanbouery het bykans R3000,00 meer gekos as ons aankoopprys van die huis toe ons Pretoria toe gekom het in 1971. Nou het ons huis vier slaapkamers gehad en die vyf seuns kon nou baie meer privaatheid geniet. Nadat hulle termyn by die Spesiale Wageenheid verby is, was hulle by die Pretoriase blitspatrollie gepos. Beide van hulle het ook by geleentheid grensdiens moes verrig. Die detail daaromtrent word maar liefs eenkant gelaat. Dis genoeg om te meld dat ons as vader en moeder weer ook hier ons porsie bekommernis gehad het oor hulle veiligheid. Ons kon ons bekommernis en angs met vertroue in die hande van God Ons Vader laat. God het ons deur al die grensdienstye gehelp om nie aan ons geloof in Hom, te twyfel nie. Dankie Here!

’n Foto waar ek die tweeling as studentkonstabels ingesweer het. Anton links en Kobus regs. (Foto: Suid Afrikaanse Polisie Kriminele Buro - SAKB)

Kobus en Anton was beide by geleentheid, toe hulle by ons ingewoon het terwyl hulle by Radiobeheer gestasioneer was, as diakens in ons gemeente te Pretoria-Noord NG Gemeente, voorgestel. Dit was vir ons ’n trotse oomblik toe ek as ouderling en hulle as diakens saam in diens van die Here kon staan. Hulle moes hierdie God-geroepe taak ongelukkig na ’n tyd bedank, want hulle diens in die polisie het dit bykans onmoontlik gemaak om die taak as diakens na behore te kon verrig. Anton en Kobus het beide so met die tyd en verblyf by ons, ’n motor aangeskaf wat hulle spreekwoordelik op wiele geplaas het waarmee daar nou werk, ontspanningsplekke en ook na die

dames in hulle lewe toe kon gaan. Beide van hulle het aan die polisie se bevorderingseksamens deelgeneem en deur die range van konstabel, sersant, adjudant-offisier tot luitenant gevorder. Kobus het voor Anton sy offisierseksamen geslaag en was na aanstelling as luitenant na Secunda se veiligheidstak verplaas. Anton was na sy troue, wat later volledig vermeld word, na Port Shepstone as speurder by South Port polisiestasie aan die Suidkus van Natal, geplaas. Hy is later na Pretoria toe terugverplaas. Hy was by die speurtak te Pretoria gestasioneer toe hy sy offisierseksamen geslaag het.

Werner het aanvanklik ook besluit om die pad van sy tweelingbroers te loop, nadat hy matriek klaargemaak het. Hy het die nodige aansoekvorms vir indiensneming in die SA Polisie ingevul en toe moes hy vir die mediese ondersoek gaan. Die mediese ondersoek by die distriksgeneesheer was die keerpunt hoekom hy nie in die SA Polisie aanvaar is nie. Die bevinding was dat hy skoliose van die rug het. Met ander woorde sy ruggraat het ’n effe van ’n abnormale kromming gehad. Hy het dadelik aan ’n ander loopbaan begin dink met die vakrigting wat hy in die skool gevolg het, in gedagte. Ons het ook met my broer, Rassie, in gesprek getree en hy het toe aanbeveel dat hy dalk as ’n nuweling by die Ouditeur-Generaal (OG) se kantoor ingeskryf word. Hy moes toe uiteraard ook aan die oproepinstruksies van die weermag gehoor gee. Sou hy in die polisie aanvaar gewees het, sou die polisie vir die weermag verwittig het dat hy as konstabel in diens geneem is en hy nie vir die weermag oproepbaar is nie. Hy is toe as ouditklerk by die OG se kantoor in diens geneem. Hy was nie lank in sy nuwe werk gewees nie, toe hy deur die OG van diens vrygestel is om vir sy weermag opleiding (as loteling) te gaan. Hy het ook hier ’n beter salaris verdien as die outjies wat direk na skool nog nie in ‘n werk as loopbaan, in diens geneem is nie. Die OG het nogtans sy salaris vir die duur van sy opleiding betaal, minus die soldy wat hy maandeliks as loteling by die weermag ontvang het. Potchefstroom was sy basis.

Tydens sy opleiding te Potchefstroom het hy een middag op sy gewone drafoefening buite die basis gegaan, en toe hy weer tot sy sinne kom, toe sit hy in ’n Volkswagen, saam met ’n man wat gesê het, hy het hom langs die pad gesien lê, hom opgehelp en in sy motor gelaai. Die man het toe aan hom gevra waarnatoe moet hy hom nou neem. Werner het agtergekom dat hulle naby die huis van die ouers van een van sy oud-skoolmaats, Willem Basson is. Hy het die man gevra om daar stil te hou en hy het afgeklim en na die Bassons se huis gegaan. Willem se ma het toe Werner se basis gebel en ook vir ons. Hy kan van sy ‘omkap’ op sy drafekskursie, niks onthou nie. Hy was toe saam met sy kompanie na Lohatla, in die Noord-Kaap, waar hulle aan veldoefeninge moes deelneem. Hy het daar ook ‘flou’ geword en is in die eerstehulpafdeling vir behandeling opgeneem. Wel, daarna het vele doktersondersoeke op hom in die weermag begin. Om ’n lang storie kort te knip, hy was met epilepsie gediagnoseer. Hy is toe medies ongeskik, ek dink dit was graad 2, deur die weermag bevind, wat beteken het dat hy nie fisiese diens in ’n oorlogsituasie sou kon verrig nie, maar kantoorgebonde sou wees.

Hy het na sy aanvanklike opleiding, (terloops, hy het die hele opleiding klaargemaak) by ons aan huis gebly en daagliks maar bus gery na die OG se kantoor. Hy het ook ’n diploma verwerf in Staatsrekeninge en -finansies. Later het hy van die ouditeringsbaan van sy werk, oorgegaan tot die Inligtingstegnologie (IT). Hy het ook in daardie rigting sekere kursusse moes deurloop, wat hy met onderskeiding geslaag het. Met medikasie word sy epileptiese aanmanings onderdruk en het hy, genadiglik, nooit ’n aanval gehad terwyl hy gewerk het óf sy motor bestuur het nie. Hy het ook sy eie motor aangeskaf nadat hy die toets om ’n bestuurderslisensie te bekom, geslaag het. Nou het die voortuin van die Du Plessis’s te Wesstraat 302, gelyk na ’n plek waar tweedehandse motors te koop aangebied word, want Kobus, Anton en Werner se motors was op die grasperk en agter ons motor, wat onder die afdak gestaan het, geparkeer. Hy moes toe nog vir ’n paar jaar weermag diens te Pretoria gaan verrig. Dit was administratief van aard. Gelukkig was dit nie vir lang tye nie.

Die ander twee, Christo en Nico, het ook, nadat hulle matriek geslaag het, by die SA Polisie aangesluit. Ek kon ongelukkig nie vir hulle insweer as konstabels nie. Alhoewel ek nie vir hulle persoonlik kon insweer nie, was ons netso trots op die twee nuwe studentkonstabels, soos vir Kobus en Anton toe ek hulle kon insweer. Die rede waarom ek hulle twee nie kon insweer nie, was omdat ek met kursusse besig was toe die werwing afdeling van SA Polisie hoofkantoor hulle indiensneming behartig het. Nou was daar vyf polisiemanne in die huis met een staatsamptenaar, Werner, en om hierdie klomp manne te beheer was daar net een van die skoner geslag, naamlik Corrie. Ek wonder of elkeen wat hier lees, besef watter grootse taak Corrie gehad het! Ons eer haar diens aan ons as eggenoot en kinders. Christo was na uitpassering by Gezina polisiestasie in Pretoria gestasioneer. Daardie polisie-stasie is sedertdien gesluit en ’n nuwe polisiestasie, Pretoria-Moot is gebou wat die polisiëring van die Gezina voorstad en ander plekke in hulle polisiewyk, oorgeneem het. Hy was ook tydens sy diens te Gezina, genomineer om grensdiens te gaan verrig. Hy het dit op die Natal/Swaziland grens gedoen. Hy het sommer vir ekstra geld, sy dienstermyn op die grens met ses maande verleng. Sy eerste motor was so ’n geel Volkswagen Beetle. Dis ’n voertuig waaraan hy nog vir jare lank verknog gewees het. Terloops, met die skryf van hierdie boek, is dit nog steeds in sy besit. Ook hy het sy bevorderingseksamens in die SA Polisie geslaag en was as luitenant by die veiligheidstak te Pretoria hoofkantoor geplaas.

Nico se pad deur die polisiemag het ook gestrek van studentkonstabel voor opleiding te PretoriaNoord polisiestasie tot verplasing na Pretoria-Noord polisiestasie na uitpassering. Hy is later na die Kameeldrif-polisiestasie verplaas. Hy het insgelyks ook aan die polisie se bevorderingseksamens deelgeneem en was as luitenant by die Watervleuel, by Polisiehoofkantoor, geplaas. Kobus se eggenote, Louise, het saam met Nico die offisierskurus in Paarl deurloop en was saam met hom tot luitenant bevorder. Nico moes ook sy porsie grensdiens verrig en later was hy na verskillende stasies in Pretoria verplaas. Hy het nie op hom laat wag om ook ’n motor aan te skaf nie. Hy het Linnette se motor gekoop nadat Werner met haar getroud is. Die voortuin by ons huis te Wesstraat 302, het na ’n parkeerplek vir motors by ’n kerkdiens gelyk. Kobus se swart Golf, Anton se blou Chev., Werner se groen Jetta, Christo se geel Volkswagen en Nico se grys, watter motor was dit nou weer? – o ja, ’n Mazda 323, het ingeryg op die voortuin gestaan, met my Audi onder die afdak.

Soos julle nou al weet, is hierdie my en Corrie se memoires en nie die vyf seuns s’n nie, maar ek wil tog nou dat hulle volwasse mans is, elk met ’n werk, motor en ’n vaste verhouding met ’n meisie het, kortliks na hulle huwelike verwys, voordat ek met die volgende hoofstuk gaan uitbrei oor die plekke waarnatoe ek, as opleidingsbeampte, geneem is. Hulle kan elkeen nou al begin om hulle memoires te skryf vir hulle nageslag. Dit kan ’n interessante voortsetting van myne wees. Omdat ek maar ’n slegte geheue het vir presiese datums, het ek Corrie gevra om nou so ietsie te skryf oor die drie seuns wat in die huwelik getree het voordat ons na Mafikeng verplaas is.

Corrie is nou aan die woord:

‘Soos dit maar met jong, spulse manne gaan, het al die kinders seker maar hulle skoolliefdes, of verliefdheid, gehad. Dit het darem gelukkig oorgewaai. Na Kobus en Anton se polisieopleiding het hulle vir ’n tyd in die Pretoria Sentraal kaserne ingewoon, maar later gedurende 1982 weer goedkeuring gekry om by ons aan huis te kom bly. Hulle het by ons gemeente, die NG Gemeente Pretoria-Noord, se Belydende Kerkjeugaksie (BKJA) ingeskakel. Anton het daar vir Suzette Lombard ontmoet, op haar verlief geraak wat uiteraard op ’n verlowing uitgeloop het. Hulle is op 7 April 1984 in die NG Gemeente Wonderboompoort in die voorstad Mountain View, Pretoria in die huwelik bevestig. Ons het ’n heel aangename onthaal in daardie gemeente se saal gehad. Oupa en ouma Scholtz het vanaf Port Elizabeth gekom om die huweliksbevestiging by te woon. Watter voorreg was dit nie vir ons en die egpaar om vir oupa Flip en ouma Annie Scholtz aan Anton se kant

en ouma Jo van der Ahee aan Suzette se kant teenwoordig te kon hê wat in ons vreugde kon deel nie!’

‘Hoewel Kobus ook by die BKJA was, het hy sy lewensmaat ontmoet toe hy ’n polisieman by die Pretoriase Blitspatrollie was. Louise Marais was ook ’n lid van die SA Polisie en was te Wonderboompoort polisiestasie in Pretoria gestasioneer. Hulle verhouding het nie net by polisiewerk gebly nie, want hulle het gedurende Januarie 1984 verloof geraak.’

Anton en Suzette se troue.(Eerste huwelik)(Foto: Ben).

‘Kobus en Louise is op 25 Augustus 1984 in Louise-hulle se gemeente, die NG Gemeente Overkruin, te Wonderboom, Pretoria, in die huwelik bevestig. Ons het toe ook vir oupa en ouma Scholtz-hulle na die troue laat kom om ook in hierdie heuglike dag van ons familie ’n aandeel te kon hê. Aan Louise se kant was haar oupa Piet en ouma Louisa Griesel asook ouma Louie Marais teenwoordig om deel te wees van die heuglike geleentheid van ’n kleindogter.’

‘Die onthaal was in die SA Polisie Rondawel in Hesteapark, Pretoria-Noord. Tans is die rondawel in ’n baie swak toestand, maar destyds was dit een van die grootste en luukste rondawels in die Suidelike Halfrond. Dit was ook een van die gesogste plekke in Pretoria vir allerlei onthale. Jammer vir die latere verval.’

‘Werner het ook by die BKJA ingeskakel. Hy het daar ’n klasmaat van Kobus en Anton, Linnette van der Merwe, ontmoet en in haar begin belangstel. Die wedersydse belang-stelling het uitgeloop op ’n verlowing, so ’n dag of wat voor Anton se troue. Omdat hulle besluit het om in September 1984 te trou, het ons vir oupa en ouma Scholtz gevra om vanaf Kobus se troue by ons te kuier tot Werner en Linnette in die huwelik bevestig gaan word, want dis nie elke dag wat kleinkinders, ’n oupa en ouma by hulle huweliksbevestiging teenwoordig kan hê nie. Linnette was ook bevoorreg om haar twee oumas, ouma Sarie Booyse en ouma Joan van der Merwe, teenwoordig te kon hê. Ons het vir Werner se peetma, tannie Lenie Ferreira, my oudste suster, vanaf Port Elizabeth laat kom om die huweliksbevestiging te kom bywoon.’

Kobus en Louise tydens hulle huweliksbevestiging. (Foto gegee deur egpaar.)

Werner en Linnette tydens hulle huweliksbevestiging.(Foto: Ben).

‘Dié groot gebeurtenis het op 15 September 1984 in ons gemeente, die Pretoria-Noord NG Gemeente, plaasgevind. Die onthaal was in die Manhattan Hotel, een van Pretoria se spoghotelle naby Pretoria se spoorwegstasie. Dit was ’n noenontbyt wat baie gesellig afgeloop het, soos wat die ander twee huweliksonthale ook was. By die onderskeie onthale het die vergrote families die geleentheid gehad om mekaar beter te leer ken.

‘Soos julle kon aflei, het die drie oudste seuns binne die bestek van 6 maande in die huwelik getree. Dankie Vader dat dit nie dogters was vir wie ons moes bontstaan en regstaan nie! Ons het wel drie dogters in ons familie bygekry. Waar ons tot nou toe 2 plus 5 was is ons nou 2 plus 5 plus 3. Hierdie rekenkundige som sal nog later al groter word. Kom ons laat dit eers daar.’

‘Die verloop van dié drie se wel en wee, na hulle huwelike, word aan hulle oorgelaat om dit op skrif te stel, sou hulle ook daaraan dink om hulle memoires te skryf, soos wat hul Pa hierbo gemeld het.’

Dankie, Vroulief vir jou insette oor die drie mans se huwelike. Ek sou dit nie só volledig kon weergee nie. Ek sal wel later, soos my memoires meer ‘lyf’ gaan kry, tog somtyds na die kinders en hulle huwelikslewe verwys.

Christo het na sy ekskursie grensdiens, besluit hy moet ’n begin maak om vroeg-vroeg in die eiendomsmark in te kom, en het die nodige gedoen om ’n tweeslaapkamer woonstel in PretoriaNoord aan te skaf. Nou is hy ook ‘ontvoog’ uit ons huis en net Nico het nog agtergebly. Toe ons na ’n tyd verneem dat ek na Bophuthatswana Polisie gesekondeer gaan word, het Christo hom oor Nico ontferm en gesê hy moet, in plaas van om in ’n kaserne te gaan bly, by hom as loseerder kom intrek. ’n Regte besigheidsman, dis wat Christo was en nog steeds is, want nou het Nico hom gehelp om die woonstel te betaal, en gereeld vir hulle kos te kook! Ha, ha. Hierdie twee jongmanne is ook later getroud, maar ek sal later daaroor rapporteer.

Ons inburgering in die gemeenskap het algaande vir ons net ’n semi-permanente verblyf gegee, want ons was maar te bewus dat dit nie ’n permanente situasie sal wees nie, want, soos ek in die range sou vorder, ons noodgedwonge die een óf ander tyd sou moes verhuis. Dit het toe ook later gebeur toe ek as luitenant-kolonel as die senior SA Polisie Gesekondeerde na die onafhanklike staat, Die Republiek van Bophuthatswana, (BOP) moes gaan om as adviseur vir die kommissaris van die BOP-polisie, op te tree en beheer uit te oefen oor die kontingent van bykans 40 SA Polisiebeamptes wat aan BOP-polisie gesekondeer is. Hierdie tydperk in ons lewe sal later meer breedvoerig behandel word. Dit was werklik ’n ervaring.

Julle sal dalk dink dat my taak as opleidingsbeampte in die SA Polisie ietwat van ’n anti-kli-maks was op my lewe as polisieman wat só gewoond was om in die kontaksituasie te kon werk, waar misdaad, uitdagings, en gevare gereeld, spreekwoordelik, my metgesel was. Nee wat, ek het gou aangepas in die geroetineerde diensure van 07:00 tot 16:00 daagliks en naweke vry om by die familie te wees. As dosent was daar egter ook uitdagings wat ek in die volgende hoofstuk sal verwoord.

Ek moes wel tydens my eerstejaar diens by die indiensopleiding, by twee geleenthede per trein na Port Elizabeth reis om getuienis te gaan lewer in twee sake wat ek ondersoek het en nog uitstaande was toe ek vanaf Humansdorp verplaas is. By een so ’n geleentheid, het ek met ’n nuwe polisie motorkar teruggereis na Pretoria, en op die hoek van Kempston- en Uitenhageweg in Port Elizabeth, het ek ’n motordief vasgetrek. Dit het kortliks soos volg gebeur:-

Ek ry in Uitenhageweg en by die verkeerslig op die hoek van Kempstonweg, gebeur daar ’n motorbotsing voor my. Die twee motors blokkeer die kruising. Ek laat my motor luier en klim uit, en wil gaan help. Ek is in uniform geklee met rangtekens van luitenant. Dit sou sleg lyk as ’n polisieoffisier wat die botsing sien gebeur het, nie sou gaan help nie. Op pad na die botsingtoneel, spring ’n swartman, die bestuurder van die een motor uit, en begin al omkykende in my rigting hardloop. Ek gryp hom vas en dwing hom neer op die teerpad. En sê-vra:- “Waar dink jy gaan jy?!” Voordat hy nog kon antwoord kom daar ’n blankeman aangehardloop en hy wil die swartman slaan en skree:-“Moenie hom los nie, die xxffxr het my kar gesteel. My kar was voor die Springbok Hotel (op die Oostelike hoek van Uitenhage- en Kempstonweg) parkeer, en toe ek uit die hotel kom, toe sien ek net hoe ry die bliksem met my kar weg. Ek het agter die motor aangehardloop tot hier. Gee hom vir my!”

Ek paai die blankeman en hou die swartman vas. Ek vra die bestuurder van die motor wat net agter my gestaan het om na die Korstenpolisiestasie te gaan en te vra dat hulle iemand moet stuur om die botsing te kom waarneem en om die gearresteerde swartman te kom haal. Die polisiestasie is op die Suidwestelike hoek van die kruising waar die botsing plaasgevind het. Julle onthou nog seker, dit is die polisiestasie waar ek vroeër gestasioneer was en waar ons in die polisiewoning gebly het voordat ek Humansdorp toe verplaas is.

Wel, twee polisiemanne was binne minute daar. Hulle het sommer van die polisiestasie af geloop. Die een het die swartman by my geneem en saam met my na die polisiestasie gery waar die man opgesluit was vir diefstal van ’n motorvoertuig en onverskillige en nalatige bestuur van ’n voer-tuig. Die ander polisieman het die botsing hanteer. Ek het ‘n volledige verklaring van die botsing en die arrestasie van die beskuldigde by die polisiestasie ingedien.

Ek moes later ook vir hierdie saak terugkeer Port Elizabeth toe om getuienis in die Streekhof te kom gee. So julle kan sien ek het darem nie heeltemal verroes terwyl ek kantoorure gebonde was nie.

By die ander geleentheid moes ek getuienis gaan lewer in een van die sake wat ek kort voor my aanstelling as offisier ondersoek het. Dit was ’n strafbare manslag saak waar mense in ’n

motorbotsing oorlede is. Die saak het redelik lank gesloer, want daar was Chileense toeriste by betrokke en hulle moes maande daarna terugkeer Suid-Afrika toe om te kom getuig.

Ons familie was ook nie onaangeraak met hartseer dae nie, want ouma Dupie is 20 Junie 1983 oorlede. Ek, Corrie en twee van ons seuns, Werner en Christo, het toe per motor na Swellendam gegaan om die begrafnis by te woon. ’n Teraardebestelling van ’n familielid is en bly maar ’n hartseer aangeleentheid, maar soos dit dikwels by ’n begrafnis gaan, kon ons baie van ons neefs en niggies aan die twee seuns voorstel. Dit is net ’n jammerte dat ’n mens nie meer dikwels met hulle kontak gemaak het, anders as by ’n begrafnis nie.

In die volgende hoofstuk gaan ek die plekke waar ek opleiding moes doen, kortliks verwoord.

HOOFSTUK 13: ’N OPLEIDINGSBEAMPTE VAN SE TAAK IS VELERLEI AARD.

Al ons offisiere wat by die Indiensopleidingseenheid gestasioneer was, was uitdruklik deur die SA Polisiehoofkantoor verwittig dat ons nie tot ons kantore alleen beperk sou word en rustig navorsing doen oor ons spesialisvakke, lesings skryf, vertaal en/óf voorberei nie. Ons sou ook gedesentraliseerde opleiding moes doen. Omdat die Indiensopleidingseenheid ’n nuwe fase van opleiding vir lede van die Mag ingelui het, moes ons as geleentheidsprekers elders gaan optree en ook opleiding by ander plekke gaan waarneem. Die volgende plekke waarheen ek as opleidingsbeampte moes gaan om opleiding te doen, word nou verwoord.

13.1 Oral waar ek as opleidingsbeampte

opleiding moes gee

Gedurende my dienstermyn by afdeling indiensopleiding vanaf Jan 1971 tot Augustus 1985, het ons jaarliks ten minste twee blanke offisiers-, twee sersants-, twee speurders- en twee bevorderingskursusse van kaptein na majoor in die SA Polisiekollege aangebied. Ek gaan nou die plekke, buite Pretoria, noem en tabelleer waar ek opleiding moes gaan gee. Soms net ek en een ander offisier en by ander geleenthede was ons sommer ’n hele span. By dié plekke het daar soms ook iets komies of sommer net iets interessant plaasgevind wat dan ook vermeld sal word: Ek het reeds genoem dat my eerste kursus as nuweling dosent wat ek moes aanbied, saam met ’n groep ander dosente te New Modderfontein-opleidingskollege vir swartlede was. Die geriewe vir opleiding was maar baie basies, want dit was ou woonkwartiere van die werkers van ’n uitgediende goudmyn. Dit was egter blinkskoon en netjies gehou. Hulle was die eerste polisiemanne aan wie ‘n sersantskursus aangebied is.

Daarna het ’n reeks sersantkursusse in Soweto gevolg by onder andere die volgende polisiestasies: Alexandra, Jabulani, John Vorsterplein, Kliptown, Maroka, Soweto-Wes en Protea. Die opleidingslokale by hierdie stasies was self maar beknop, want ons kon dit net in hulle paradekamers aanbied. (Ag julle weet mos wat ’n paradekamer is. Wel vir die oningeligtes dis die vertrek waar alle polisiebeamptes wat vir ’n spesifieke toer van diens moet aantree om geïnspekteer te word voordat hulle aan diens geboek word.) Dié kursusse het in die winter van 1971 plaasgevind en ons het soggens met ’n bussie vanaf Pretoria Polisiekollege vertrek. Sodra ons Soweto inkom, moes ons die voertuig se ligte aanskakel, want dit was donker van die rook en mis (“smog”). Dit het eers so teen 10:00 se kant opgeklaar.

Ek was ook deel van die paneel dosente wat die heel eerste offisierskursus vir nie-blanke hoofsersante aangebied het. Ja, hulle was tot in daardie stadium nie adjudant-offisiere nie. Hierdie kursus het by Hammanskraal Opleidingskollege vir swart lede plaasgevind. Dit was ook gedurende 1971 se laaste paar maande. Inteendeel, hierdie opleidingskollege het toe so pas vanaf New

Modderfontein na Hammanskraal verskuif en was nog splinternuut gebou met ’n terrein wat baie ongelyk en onklaar was. Terloops, die bevelvoerder by hierdie nuwe Opleidingskollege was kolonel (afgetree as ’n briga-dier) Hamman. Hy het, toe ons daar aankom, gesê dat hy weet nie hoe ‘opgelei’ die studente aan die einde van hulle kursus, in soverre dit oor kennis van die Regspleging en die uitvoering daarvan, sal wees nie, want hulle werk elke dag, sewe dae in die week, van sonop tot middagete met graaf en pik. Na middagete word hulle geleer om te dril, met gewere natuurlik en nie met graaf en pik nie, want die kommissaris wil ’n groot uitpassering hê waartydens die nuwe nieblanke luitenante ook voorgestel moet word. Omdat daar só baie ‘kampdiens’ verrig moes word om die terrein gereed te kry, moes wetsklasse na aandete vir een uur lank, vir moeë en slaperige studente, klas gegee word. Op hierdie offisierskursus was daar net vier swart-, twee kleurling- en twee Indiër lede. Ons moes die Koningin se taal, wat ons in die Boland, Karoo óf die Vrystaat geleer het, tot die uiterste vlak van ons kennis, verby die “yes and no”-vlak, aanwend om studiemateriaal te verduidelik.

Al sewe het geslaag en is na luitenant bevorder. Hulle was die eerste nieblanke offisiere in enige van die magte, want die SA Weermag en Gevangenisdiens (tans Korrektiewe dienste) het eers ’n paar jaar later hulle nieblankes na luitenant bevorder. Die nuwe luitenante het toe saam met die swartkonstabels vroeg in Desember 1971 uitpasseer. Die bevelvoerder en sy opleidingspersoneel het wondere verrig, want die terrein was gelykgemaak en grassooie is gelê, paadjies is met klippe wat met kalk afgewit is, uitgelê. Die drilvertonings en die daaropvolgende massa gimnastiekvertoning van die studente, was met groot applous deur ’n groot groep VIP’s / VBP’e ( Very Importend persons / Baie Belangrike Persone. Ha, ha) BBP’s, begroet. Die nuutaangestelde luitenante het toe vir die eerste keer in die geskiedenis van nieblanke uitpasseringsparades, as pelotonoffisiere opgetree. In die verlede het slegs swart hoofsersante daardie taak verrig. Die hele historiese geleentheid was in alle koerante gedra en daar was ook ’n kort snit van twee minute op die African Mirror fliek wat altyd voor die hoofprente in die inry- en instapflieks gedraai het. (Daar was toe nog nie TV in RSA nie)

Die SA Polisie Regulasies is toe betyds gewysig dat hierdie offisiere ’n ‘S’ vir swart, ‘K’ vir kleurling en ‘A’ vir Asiër (Indiër ), voor hulle luitenantsrang moet skryf om hulle te onderskei van die blankeoffisiere. Hulle Sam Browne leerlyfbande se gespes, klinknaels en hakies en hulle baadjies se knope en rangtekens was van witmetaal teenoor die Blankelede se goud (oorgeblaasde geelkoper). Kyk hoe naïef en eng was die uitkyk van die Mag nie, (dalk van owerheidsweë), want daar moet mos ’n verskil wees, so is daar geredeneer! Ja, en die SA Polisie se Regulasies het baie duidelik gemeld dat hulle slegs senioriteit oor die nieblanke korps van die Mag beklee het, en dit het beteken dat hulle nie daarop aanspraak kon maak dat ’n blanke konstabel, -sersant of -adjudant-offisier hulle moet salueer nie! Hulle was geag steeds ondergeskik aan die blankes te wees! Hierdie bepaling in die Regulasies was later herroep, nog voor die totstandkoming van die Nuwe Suid-Afrika. (Dankie Vader, hierdie diskriminasie was nooit in die pers geopenbaar nie.)

Ek was ook betrokke by die eerste aanklagkantoorbevelvoerder- en toesighouerskursus vir nieblanke sersante wat gedurende 1976 by die SA Polisie se Meganiese skool te Benoni aangebied is. Ook die eerste van ’n paar soortgelyke kursusse wat later op afdelingsvlak deur gedesentraliseerde opleidingsbeamptes hanteer is. Ons Indiensopleidingseenheid wat toe nog onder die inspektoraat van die SA Polisie ingedeel was, het aansoek gedoen om TV-kameras en videomasjiene as opleidings-hulpmiddels te kan gebruik. Twee kleurtelevisiekameras met opnamemasjiene (video masjiene) is goedgekeur. Ek was genomineer om ’n kursus by die leweransiers, Tedelex in Pretoria-Wes, te gaan deurloop om die kameras en opnamemasjiene te kan hanteer. Ek moes toe weer by ons eenheid twee ander luitenante man-tot-man-onderrig gee om ook hierdie hulpmiddels te kan gebruik. Hier het ek dus die eerste keer die kameras gebruik om die kandidate af te neem terwyl hulle praktiese werk in ’n opgestelde aanklagkantoor verrig het. Die

video’s is dan teruggedraai en foute van hulle optrede kon uitgewys word. Ek het darem toe reeds ’n paar proeflopies agter die rug gehad toe ek ’n kamera by al die klasse van ’n blanke kandidaatoffisierskursus by die Pretoria Polisiekollege, wat die voormelde kursus voorafgegaan het, gebruik het. Elke kandidaat-offisier word in die onderwerp Openbare spraak opgelei en daar is die voordraer ‘gekamera’ en ‘gevideo’ en ‘geterugspeel’ – mooi nuwe woorde nè. Ons het nogal baie pret met die terugspeel gehad, want die voordraer het gewoonlik eerste vir sy optrede begin lag, as hy homself op die skerm sien!

Ek was by ’n geleentheid weer betrokke waar ons nieblanke offisiere opgelei het. Dit was by die nuutgeboude Soshanguve polisiestasie in die swart woonbuurt Soshanguve. Ons was ’n hele groep dosente wat daagliks met ’n bussie ’n groot groep swart adjudant-offisiere as offisiere daar gaan oplei het. Terloops, die Polisiehoofkantoor het toe reeds d.m.v. ’n wysiging in die SA Polisie Regulasies die rang van hoofsersant vir nieblanke lede, na dié van adjudant-offisier verander om in lyn te wees met van die blankes se rangstruktuur in die Mag. Hierdie polisiestasie het oor goeie geriewe beskik en ons het daagliks ons ete uit hulle menasie genuttig – dit was nie pap en derms nie!

Hierdie stasie se naam het nogal ’n interessante oorsprong. Hierdie woonbuurt was deur die President van die Republiek van Bophuthatswana, Kgosi (Hoofman) Lucas Mangope, daar begin. Die Republiek van Bophuthatswana as ’n onafhanklike staat, is deur wetgewing van die Republiek van Suid-Afrika, vir die Tswana bevolking tot stand gebring, maar soos dit maar gaan, was daar ook mense van ander bevolkingsgroepe in dié staat woonagtig. Mangope het hierdie woongebied laat proklameer sodat al die vreemdelinge (die nie-Tswanas) daarheen moes gaan, want hy wil hulle nie tussen sy mense hê nie. (Apartheid?) Dis nou die Sotho’s, Shangaans en die Nguni volke, dis nou Xhosa’s, Zulu’s en Swazi’s en Venda’s. Toe word ’n naam vir hierdie woongebied uit die verskillende swart bevolkingsgroepe saamgestel = So (vir Sotho’s) sha (vir Shangaans) ngu (vir die Nguni volke) en ve (vir die Venda’s) om Soshanguve te heet. Op omtrent dieselfde wyse het Soweto sy naam gekry, behalwe dat dit nie die name van die verskillende bevolkingsgroepe was waarvan afkortings geneem is nie, maar wel die gebiede waar hulle gewoon het, naamlik: So (South) we (Wes-tern) to (Townships,) Snaaks dat die ANC nog nie daaraan gedink het om die name van hierdie twee gebiede te verander nie, want dit was mos die breinkind van die ‘gehate’ Afrikaner wat dit uitgedink het! Kom ons laat dit daar, want hulle het tot vandag toe ook baie weinig straat- plek- of dorpsname wat Engels is, verander! Behalwe waar Cecil John Rhodes vernoem is. Ek noem dit maar net.

Ons het al meer van die nieblanke opleidingskolleges en/of ander polisie-instellings gebruik gemaak om ons nieblanke lede op te lei. Die volgende opleiding was weer te Soshanguve, maar dié keer was dit nieblanke konstabels en sersante wat as speurders opgelei is. Hulle opleiding was dieselfde leerplan as vir die blankes gewees. Inteendeel, al die kursusse wat aan nieblanke lede gegee was, se leerplanne was dieselfde as vir die blanke. Die eertydse bevelvoerder van die Indiensopleidingseenheid, kolonel Stevens, het altyd gesê: “Ons kan nie van ’n donkie ’n perd maak nie, maar ons kan wel van ’n donkie ’n opgeleide (geleerde) donkie maak! Ons moet ook nie die inhoud van die kursusse afbring na enige persoon se kennisvlak nie, maar ons moet die persoon wat ons oplei, optrek tot ons vlak.” Dit was nog altyd die beginsel van ons eenheid. Daarom is dieselfde kriteria vir alle rasgroepe se kursusse gebruik om te bepaal of ’n kursusganger die kursus geslaag het al dan nie. Dit was dus onvermydelik dat ook van hulle, net soos by die blankes, lede na hulle standplase moes terugkeer sou hulle nie die geskrewe toetse gedurende die kursus slaag nie.

’n Tweede offisierskursus, na luitenant, vir nieblanke lede te Hammanskraal Opleidingskollege het gevolg. By hierdie kursus het ek onder andere die vak ‘Verslaggewing / Reporting’ aangebied. Die kandidate kry toe ’n tuistaak waar elkeen, as ’n junior offisier, ’n gemotiveerde verslag na sy onmiddellike senior in rang moes opstel oor die een of ander onderwerp.

309

Die opdrag het soos volg gelees:

‘In u polisiewyk is daar ’n kruising op die N2-hoofroete na Port Elizabeth, waar daar, volgens statistiek, meer as 20 motorbotsings die afgelope ses maande plaasgevind het. Stel ’n verslag op aan u distrikskommandant waarin jy aanbevelings maak watter stappe die Provinsiale Administrasie moet neem om die kruising veiliger te maak.’

Ek het tydens die aanbieding van dié vak aan die kursusgangers gemeld dat hulle ’n goeie taalgebruik, ook resente besluite oor benamings, spelwyse, ens. moet handhaaf. Ek het hulle veral gewys op die gebruik van die metriekestelsel waar dit by massa en lengte kom, want ons praat nie meer van ponde, onse en jaarts, voete en myle nie, maar kilogram, milligram, millimeters, sentimeters, meters, kilometers, ens. Een van die kursusgangers, ’n kleurling speurderadjudantoffisier, van Port Elizabeth, alreeds diep in sy vyftigerjare, kon sy distansies en/of afmetings in kilometers, meters en sentimeters nie so lekker onthou om dit in verhouding met die eertydse myle, jaarts, voete en duime te bring nie. Hy kon die nuwe metrieke mate nie met die ou imperiale mate versoen nie. Sy antwoord lees onder andere soos volg:

“Ek sal die distrikskommandant versoek om die Provinsiale Raad te verwittig dat hulle die volgende padtekens voor die kruising moet aanbring om dit veiliger te maak, nl.: Hulle moet so ’n 200 sentimeters vanaf die kruising ’n waarskuwingsbord aanbring dat daar so ’n 100 sentimeters vorentoe ’n kruising is; dan moet hulle so 1(een) kilometer vanaf die kruising vier stoptekens aanbring sodat voertuie wat in elk van die vier rigtings die kruising nader, kan stilhou; dan moet hulle vanaf die bord wat 200 sentimeters vanaf die kruising is, drie spoedriffels, twee millimeters uit mekaar, op die teer aanbring, sodat motoriste hulle spoed moet verminder…..” en so het hy algaande homself in die verskillende afmetings/distansies vasgewoel, soos ’n vis in ’n net of ’n goudvissie in ’n visbak.

Ons dosente wat die eksamenskrifte nagesien het, het lekker hieroor gelag. Gewoonlik word nagesiende eksamenantwoordstelle nie aan kandidate teruggegee nie, maar in hierdie geval het ek vergunning van die bevelvoerder gehad om die aanhaling hierbo aan die hele klas te verduidelik sodat hulle weer by wyse van herhaling, die verskil tussen die twee matesisteme se bewoording kan begryp. Ek gaan toe na die skryfbord toe en begin onder mekaar die ou mate se bewoording te skryf, beginnende bymyle, jaarts, voete, duime, ens. en daarnaas, teenoor die ou mate, die metrieke mate wat naastenby die naaste aan die ou mate is. Toe ek by sentimeters kom om dit teenoor ± ½ duim te skryf, gryp die ouman sy kop vas en sê:

“My, Jirre kaptein, dis mos myne wat jy nou daar beet het! Ek het geweet hier kom moeilikheid toe ek klaar geskryf het, want ek het geen kop-of-stert geweet wat die distansies is met hulle nuwe name nie!”

Die hele klas bars uit van die lag en ek moet my houding as voorligter hou, en so glimlaggend het ek hom en al die kandidate tevrede gestel dat ons geen punte afgetrek het waar hulle dalk ’n bietjie klei getrap het met al die ‘meters’ nie. Daar kom so ’n groot sug van verligting van die ou man se kant af: “Dankie, Liewe Vader!”

Ek was ook betrokke, saam met slegs twee ander dosente, om ’n offisierskursus vir kleurling adjudant-offisiere te Maleoskop opleidingsterrein, aan te bied. Hierdie opleidingsterrein was daargestel vir die uitsluitlike opleiding van lede van die Mag wat grensdiens moes gaan verrig. Dit was nodig om die eerste drie weke van die kursus te Maleoskop aan te bied sodat gassprekers van buite die Mag, asook sprekers vanuit verskillende afdelings in die Mag, hulle aanbiedings aldaar kan kom gee. Dit sou eerstens te duur wees om hulle na die opleidingskollege te Bishop Lavis in Kaapstad te stuur, om hulle voorligting te kom gee en tweedens, die inligting wat daardie persone kom voordra, het deel van alle kandidaat-offisiere se leerplan uitgemaak, en derdens, die kandidate

moes ook ’n blitskursus van twee dae van die Maleoskop instrukteurs ontvang oor binnelandse beveiliging.

Die geriewe te Maleoskop was toe nog baie primitief en ons lesinglokaal was ’n groot tent en die slaaplokale was ook tente waarin die kursusgangers vier-vier geslaap het. Ek, Hennie Fischer en Gert Smit het elk in ’n tent geslaap. Daar was toe nog geen elektrisiteit na die opleidingsterrein aangelê nie. Beligting saans was d.m.v. kragopwekkers en stormlanterns.

Hier sit ek en ontspan met ’n boek in my tent te Maleoskop tydens die aanbieding van ’n kandidaatoffisierskursus vir kleurlinge. Ek het toe nog sterk aan my pyp gesuig! (Foto: Hennie Fischer)

Ek sit op ’n koppie en geniet die wegbreek tydens die kandidaatoffisierskursus vir kleurlinglede te Maleoskop. Let op die voertuie en tente in die vêrte. (Foto: H. Fischer).

Die geknetter van masjiengewere en R1-gewere het bedags die stilte in die bosomgewing, kort-kort onderbreek soos wat die Teeninsurgensie-opleiding rondom ons aangegaan het. Ons het dan vir rukke stil gebly met ons aanbieding en dit hervat as die geknetter stil raak. Dan het van die kursusgangers soms botstil gesit en met groot oë na jou gekyk wanneer daar ’n handgranaat of

twee by die handgranaatbaan, sowat honderd meter van ons tente af, ontplof het. (Hennie Westraat, een van my oud-kollegas, sê gewoonlik: “Hy sit soos ’n gans wat ver donderweer sien aankom”). Dan kan jy seker wees hulle het niks ingeneem wat jy probeer oordra nie, dan moet jy maar weer jou storie van vooraf begin vertel. Na drie weke het die groep, saam met my en kaptein Hennie Fischer na Bishop Lavis opleidingskollege in Kaapstad vertrek om die orige 10 weke van die kursus af te rond. Die kandidaatoffisiere het per militêrevlug Kaapstad toe vertrek en ek en Hennie het oor die naweek per motor gereis. Kaptein Gert Smit wat saam met ons te Maleoskop was, het sy dienste by die Indiensopleidingseenheid in die SA Polisiekollege in Pretoria hervat.

Ons het ons etes by die Bishop Lavis opleidingskollege geneem, maar ons het by ’n hotel naby Milnerton gebly en moes maar soggens na die kollege toe inry. Dit was ‘n goeie leerskool vir my en Hennie gewees. Ons het die 60+ vakke/onderwerpe wat nog in die 10 weke aan die kursusgangers oorgedra moet word, tussen ons twee verdeel. Dit het gemaak dat ons self ook saans baie instudeerwerk gehad om te doen, want baie van die vakke was buite elkeen van ons se spesialisgebied. Na aandete, voordat ons in studering van die vreemde vakke plaasvind, het ons ’n gesellige uurtjie in die kroeg gaan verwyl waar ons veerpyltjies gegooi het. So terloops, ek was daardie tyd nog ’n ywerige, verslaafde?, pyproker. Hennie het sowat ’n jaar vantevore opgehou om sigarette te rook en was dus van die slegte gewoonte om te rook, ontslae. Eendag sit ons weer so in die kroeg, nadat ons veerpyltjies gespeel het, en hy sê:

“Dup, kom ons gaan koop vir my ’n pyp en twak. Ek kan nie meer die lekker rustige manier waarop jy sit en pyp rook, verwerk nie.”

Ons stap uit die hotel en daar naby is ’n klein kafeetjie op pad na Bloubergstrand, waar hy (Hennie) vir hom ’n pyp uitgesoek en tabak en vuurhoutjies gekoop het. Ek het altyd gespog dat ek vir Hennie in die verderf in gelei het deur hom weer te maak rook. Wel, my ou maat het nou reeds jare gelede weer opgehou met rook. Hy het saam met my einde November 1992 as generaal-majoor afgetree.

Kaptein John Sales van ons eenheid in Pretoria, het vir vyf dae Bishop Lavis toe gekom om sy spesialis vak van ‘Finansiële Administrasie’ te kom aanbied. Ek en Hennie kon toe vir daardie week vinnig ’n draai in Pretoria maak. Ons het ons opgelegde taak met goeie resultate afgehandel. Tydens daardie kursus het ek my eerste bevordering, nadat ek as luitenant aangestel is, ontvang. Ek is na kaptein bevorder. Dit het só gebeur:

Ek is besig om in die klaskamer die onderwerp ‘Departementele verhore’ aan te bied, toe Hennie klop en vir my sê dat as ek die klas verdaag, ek na die bevelvoerder, kaptein Maat Saayman, se kantoor toe moet kom. Ek gaan, toe die periode om is, na die kantoor toe waar Hennie met Saayman staan en gesels en só al geselsende haal Saayman een ster van sy baadjie se een epoulet af en Hennie haal ook een ster van sy baadjie se een epoulet af en Saayman roep my nader en wens my geluk met my bevordering na kaptein. Hy plaas die twee sterre, een op elk van my epoulette, sodat ek nou die rang van kaptein dra. Heng, was ek nie trots nie! Maat Saayman stuur toe een van sy ondersersante na die kollege se stoorkamer toe om twee ander sterre te gaan haal sodat Hennie en hyself weer volwaardige kapteins kan wees. Saayman sê toe ek kan vanuit sy kantoor vir Corrie bel en die goeie nuus aan haar oordra. Sy was net so opgewonde toe sy die nuus verneem en het my gelukgewens.

Ek en Hennie Fischer tydens ’n funksie wat ons te Bishop Lavis-opleidingskollege in Kaapstad bygewoon het toe ons ’n kursus vir kleurling kandidaat-offisiere aangebied het. (Foto: Plaaslike Vingerafdrukkantoor, Kaapstad - PVAK.)

Ek gaan terug na die klaskamer toe en Hennie stap saam met my en gaan sit ook in die klas terwyl ek aangaan met die lesing. Hy wag om te sien of die kursusgangers darem sal opmerk dat ek in rang verander is. Nee, hulle luister maar met aandag en toe een ’n vraag vra:

“Luitenant wat as die aangeklaagde lid ….” en Hennie stop hom, en sê:

“Hoekom spreek jy die dosent nie op sy regte rang aan nie?” Die man sê toe:

“My jinne luitenant, ek sien nou eers jy is ’n kaptein!”

Almal is opgewonde en al glimlaggende kom die kursusgangers een-een vorentoe en word ek gelukgewens. ’n Ou voel in daardie stadium baie trots, want ons polisiebeamptes het geweet dat bevordering slegs sou plaasvind as jy jou taak in die Mag na behore uitvoer.

My pad as opleidingsbeampte/dosent, het my na die Caprivi Strook geneem waar ek, saam met kaptein Willem van Zyl die Stampolisie vir die Selfregerende Gebied van die Capriviane, moes gaan oplei. Watter ervaring was dit nie. Kom ek gee eers ’n kort beskrywing hoe dit gebeur het dat ek genomineer is:

Soos reeds vroeër gemeld, was ons drie Du Plessis’s by die Indiensopleidingseenheid, nl. Jan Harm du Plessis, wat saam met my bevorder is na luitenant (Hy het die bynaam Potswana van kaptein Dries Greyling gekry – weet nie meer wat dit beteken nie) en ’n majoor, ‘Melkkannetjie’ du Plessis, wat reeds voor ons as dosent by die eenheid diens gedoen het. (Majoor Dries Laas het my toe summier ‘swartsnor’ gedoop - ek wonder hoekom?, kan julle dalk raai? Daardie snor is lankal nie meer swart nie.) Net ‘n opmerking of twee oor die baie Du Plessis’s in ons land. Onthou julle, toe ek ‘n konstabel te Redhouse gestasioneer was, was ons ook drie Du Plessis’s. Oupa Dupie het altyd gesê: “Die Duplessis is só baie in ons land, daar is sewe in die parlement en een in die ‘Chamber of Horrors’ te Johannesburg.”

Jan word saam met kaptein Willem van Zyl genomineer om die Capriviane se stampolisie te gaan oplei om die kapteins en indoenas van die twee stamme in die Caprivi, die Basubias en die Mafwe stamme, te gaan beskerm en om wet en orde in stamverband te gaan handhaaf. Jan was getroud met Susie en sy het ’n dogtertjie by hom gehad. Jan het na sy egskeiding toesig en beheer oor sy twee tienerseuns gehad wat by hom ingewoon het. Daar was ook twee seuns uit Susie se eerste huwelik. Dit was ’n geval van my kinders, jou kinders en ons kind. Dit was, soos dit só dikwels die geval is, ’n resep vir onvermydelike stres en konflik in ’n huwelik, wat gewoonlik deur die saamgevoegde kinders veroorsaak word.

Wel, Jan en Susie was dit ook nie gespaar nie, want hy was nog nie ’n volle week weg van die huis af in die Caprivi nie, toe Susie vir kol. Stevens, toe nog die bevelvoerder van indiensopleiding, bel en meld dat sy in ’n erge konflik met die oudste seun van Jan was, soveel so, dat sy selfs bereid is om Jan te skei. Ek word deur Stevens genomineer om die Donderdag met ’n militêrevlug, die alombekende Flossie, na Caprivi toe te vertrek om Jan se plek in te neem. Hy sal met die terugkerende Flossie huis toe kom om sy familieprobleme uit te stryk. Ek moes toe vir die orige bykans 2 ½ weke die Capriviane, saam met Willem van Zyl oplei. Terloops, omdat die hele Caprivi Strook ’n operasionele gebied vir die SA Polisie en die SA Weermag was, om die insypeling van terroriste te keer en uit te wis, moes ons die opleiding ook in kamoefleeruitrusting doen.

Alhoewel ek grensdiens in die Caprivi verrig het, was dit net in die westelike gedeelte van die Caprivi Strook. Die oostelike gedeelte van die Caprivi Strook was onbekend aan my, maar baie gou het Willem my ingelig oor die kursusinhoud, die samestelling van die kursusgangers, ons verblyf in ’n dubbelkamer in die SA Polisie kaserne te Katima Mulilo, en ek word ook voorgestel aan die lede van die SA Polisie wat aldaar gestasioneer is.

Ons twee vertrek met ’n 4x4 Landrover met ’n kappie en sitplek vir 8 persone, na ons opleidingsterrein. Watter swak stuk grondpad is dit nie. Ons kruip meter vir meter deur diep dongas en watergate en kom sowat 5 myl (±8km) vanaf die dorp Katima Mulilo by ’n afdraaipaadjie tussen ruie bosse. Ons volg dié paadjie en kom sowat 50 treë verder by ’n groot gebou aan. Ek sou uitvind dat dit ’n eertydse Sweedse Sendinghospitaal was, wat in onbruik is en nou redelik vervalle is. Willem druk die toeter en nou peul daar 36 swartmanne uit die gebou en hy gee die bevel:

“Aantree!” Oë regs!/Fall in! Eyes right!”

Ek, saam met kaptein Willem van Zyl in die Caprivi waar ons Capriviane moes oplei as stampolisie vir hulle stamkapteins. Die gebou agter is deel van ’n ontruimde Sweedse Sendinghospitaal wat as opleidingslokaal gedien het. (Foto: Ben).

Hulle val half oor mekaar en begin in pelotonformasie aantree. Watter gesig was dit nie om hierdie manne te sien nie. Daar was manne in flentergat lang-kortbroeke, of was dit kort-langbroeke? ander het stukkende baadjies aangehad, party met stukkende T-hemde, ander kaal bolyf, van hulle met tekkies sonder veters, ander met verweerde en skeefgetrapte skoene aan hulle voete, ander kaalvoet en party is net in ’n onderbroek geklee. Van hulle het kroeshare wat wild staan, en daar was selfs een met ’n dun raam bril met ronde dik lense. Terwyl hulle nog elkeen probeer om sy plek te vind wat Willem en Jan reeds vroeër vir hulle by wyse van nommers, toegewys het. Willem gee die bevel: “Oë front/Eyes front!” Almal reageer en hulle staan ‘op die plek rus.’

Ek staan eintlik verbaas oor hierdie klomp malende manne wat ons nou as stampolisie met die nodige dissipline moet oplei. Die manne raak stil en elkeen het nou blykbaar sy plek gevind. Willem praat nou deur middel van ’n tolk met hulle en stel my aan hulle voor as die man wat vir hulle sal lesings gee en inligting verskaf wat hulle moet ken om as stampolisiebeampte hulle taak te kan verrig.

Die Maandag, nadat ek daar arriveer het, bring die Flossie bruin weermagklere, ‘brownies.’ Die bruin weermaglaphoede is vroeër aan die kursusgangers voorsien. Ses-en-dertig ,303-gewere, wat reeds van diens onttrek is en met FN-gewere vervang is, word vanuit die SA Polisie kwartiermeester se magasyn gestuur, waarmee die stampolisie se kandidate opgelei moet word. Hulle sou met hierdie gewere bewapen word. Hulle moes ook nog ten minste twee skietoefeninge met hierdie wapens doen. Dit het bloed, sweet en kragtige Afrikaanse woorde geneem om hierdie klomp baar manne in die geweerkuns, driloefeninge en wetlike aspekte op te lei. Bloed het gevloei toe Willem by een geleentheid een van die kandidate mooi moes wys hoe om sy geweer vas te hou. Na die demonstrasie, gooi Willem die geweer na hom en skree:

“Vang die f**ken geweer!”

Ek glo nie hy het geweet wat om te doen nie, want die geweer vang sy ken en daar verskyn ’n snymerk, ongeveer 1duim (±2,5 cm) lank waaruit die bloed vrylik vloei. Ons het dit maar met ’n pleister gedokter en hierdie man, asook ander kandidate, het baie gou besef hulle moet luister as ons praat en as ons hulle wys wat gedoen moet word. (Goeie menseverhoudings, nè.)

Ek moet net gou die volgende bietjie geskiedenis ook vertel wat Willem van Zyl aan ons vertel het toe hy as Distriksklerk in Keetmanshoop in Suidwes-Afrika gestasioneer was. Sy distrikskommandant was ene luitenant-kolonel Sieberhagen. Dit was alom bekend in die Mag dat hy kon vreeslik vloek. Die spreekwoord van ‘vloek soos ‘n matroos’, kan baie maklik vervang word met ‘vloek soos Sieberhagen’. Hy het veral die gewilde ‘f’-stopwoord in sy gesprekke gebruik. Willem vertel dat hyself later aan ook, partykeer onnadenkend, Sieberhagen se wyse van spraak geuit het as hy kwaad word. Wel, hierbo meld ek van die ‘bloed sweet en kragtige woorde’ wat gebruik moes word tydens hierdie opleiding – dit is deur Willem geuiter. Willem vertel dat Sieberhagen ’n groot jagter was, en dat hy by geleentheid tydens ’n teetydsessie in die kantoor vertel het hoedat hy ’n groot koedoebul geskiet het. Hulle moes toe hoor hoedat Sieberhagen sy geliefde ‘f’-woord soos volg tydens die vertelling gebruik het: “Jong, manne, ek het ’n f**en groot f**en koe- f**en doe f**en bul sien staan, met sy kop so f**en skuins gedraai en ek f**en skiet die f**en koe- f**en doe mors f**en dood met ‘n f**en kopskoot.” Willem sê, só het Sieberhagen in woord lettergrepe die f**en woord ge-f**en tydens sy vertelling van hierdie ‘groot koedoe’ wat hy geskiet het, totdat biltong gemaak is! Hulle manne kon natuurlik nie lag tydens hierdie ernstige vertelling wat die kolonel openbaar het nie. Hulle het later almal maar in hulle kantore lekker gaan lag. Mag ons hiervoor lag? Ons kon die tyd wat ons daar was, by van die polisiebeamptes gaan eet – eintlik gaan vleis braai. Die tweede naweek vra die een adjudant-offisier, John Adams, ’n lid van die veiligheidspolisie te Katima Mulilo, ons om by hom te kom vleis braai. Ons ry die Sondag, nadat ons ’n kerkdiens

bygewoon het wat een van die SA Polisie kapelane vir die inwoners van Katima en vir die lede wat grensdiens doen, gehou het, na John se huis toe.

John het by die kerkdiens gesê hy het ’n groot hond, maar dié is baie mak en sal niks doen nie. Ons moenie bang wees nie. Willem bestuur die Landrover en ons hou voor John se huis by die voetgangerhekkie stil en klim uit. Ons twee stap al geselsende na die huis toe.

John het ons gehoor aankom en hy skree iewers vanuit sy erf: “Kom sommer deur die garage.”

Ons hoor geen hond nie, en daar is ook geen kennisgewing op die hekkie dat daar ’n hond is wat die bewaker van die huisbaas is nie. Ek buk en draai die handvatsel van die motorhuisdeur en begin die kantelgaragedeur na boontoe kantel. Die deur was nog nie ’n derde oop nie toe steek ’n leeumannetjie sy kop onder deur die deur. Hy kyk so direk na ons twee lewende aardse wesens.

Dit was nie hierdie leeumannetjie nie, maar een wat nog nie soveel maanhare gehad het nie, maar ’n leeu was dit ’n leeu! (Foto: Werner).

Ek los die deur en Willem vloek een groot vloek en beide van ons nael terug na die Landrover toe. Willem gaan my verby op pad Landrover toe, ons kyk nie om nie. Hy spring by die passasierskant in en klap die deur toe, ek spring op die trappie by die Landrover se passasiers skuifdeur en toe dit in my haas om weg te kom, nie wou oopgaan nie, klouter ek tot bo-op die kappie. Hoe ek daar so spoedig kon opstyg weet ek nou nog nie. John kom by die garagedeur uitgestap wat hy verder na boontoe oopstoot. Hy roep na die leeu wat nou hier by die Landrover staan waar hy om die beurt na hierdie twee windverwaaide menslike spesies staar. John lag uit sy maag uit vir die twee offisiere wat só groot geskrik het en bang is vir die leeu. Hy sê dat ons maar kan uit- en afklim want die leeu sal ons niks maak nie.

Ek klim, met groot inspanning, stadig van die kappie af. Willem klim by die passasierskant uit en nou is ons baie braaf en staan by John en sy leeu. Hy vertel ons dat hy hierdie leeu hans groot gemaak het, want hulle het hom as ’n welpie in die Caprivi gekry toe sy ma deur een van die polisiemanne van kant gemaak is. Omdat die leeuwyfie by een van die Capriviane se krale ingekom en van hulle beeste gevang het, het hulle die polisie gevra om die leeu te kom skiet. Die polisie was nie bewus dat sy nog besig is om haar kleintjie te soog nie. Gelukkig kon die polisie die welpie opspoor en John het hom oor hom ontferm en begin grootmaak.

Ons gaan deur die garage John se erf binne en leeu se kind stap rustig saam met ons en gaan langs die halwe Sebra karkas lê wat op die grasperk lê, en hy begin rustig om met sy maaltyd voort

te gaan wat ons só onnadenkend kom onderbreek het. Dit was nou rêrig ’n groot skrik. End goed, alles goed, want ons het heerlik aan die braaivleis gesmul en ’n bier of twee onder die hemp gesit. Ons het darem nie nodig gehad om skoon onderklere te gaan aantrek nie! Ha, ha, ha.

Net soos die opdrag van Hoofkantoor en van die Regering se kant gekom het dat die Capriviane opgelei moet word om hulle stamhoofde te beskerm, en dalk later die kern van die Caprivi se polisiemag moet vorm wat by Suidwes-Afrika, hedendaags Namibië, na onafhanklikheid, by daardie polisiemag ingelyf sou word, só is die opdrag vir die opleiding van die stampolisie van Venda ontvang en moes ons dit ook hanteer. Weer is ek saam met Willem van Zyl deur brigadier Stevens, nou in Hoofkantoor gesetel, genomineer om ook hierdie taak te gaan verrig. Gert Smit, ook ’n dosent by indiensopleiding, het by ons aangesluit. Al drie van ons was toe reeds kapteins by die Indiensopleidingseenheid. Gert was nog nie op so ’n opleidingsekskursie vir die swartstate nie, en hy was dus die een wat hom by die veranderde tegnieke van aanbieding moes aanpas.

Ons basis was in die dorp Sibasa waar die destydse SA Polisie se polisiestasie was en nou deur die Vendapolisie oorgeneem is. Daar was nog steeds ’n klompie blanke personeel, mans sowel as dames, wat die Venda polisie moes help met die verburgering. Dís ’n terminologie wat deur die regering geskep is wat beteken dat ons blankes die swartpolisielede moet bystaan en help sodat hulle die nodige kennis, vaardigheid en toepassing van die wette van hulle nuwe onafhanklike staat kan oorneem, sonder dat daar ’n vakuum op daardie terreine sou ontstaan as die blanke personeel sou onttrek.

Al die ander Staatsdepartemente in die RSA het ook hulle gesekondeerde lede aldaar gehad wat met die verburgering behulpsaam was. Ons het juis in een van die SA Ambassade te Sibasa se gastehuise tuisgegaan. Die opleidingslokaal en -terrein was by ’n laerskool, sowat een kilometer buite die dorp op pad na die nuwe regeringsgeboue wat vir die Vendas gebou is. Die polisiekollege se gebou was nog in aanbou en ons kon dit nie benut nie. Die kursusgangers was twee-en-sewentig Vendas. Hulle is in drie klasse van vier-en-twintig elk ingedeel. Jong, dit was maar net so ’n klomp manne, soos die Capriviane, wat regtig nog baie ongeletterd was. Die hoogste skool standaard wat een of twee bereik het was “form 6”, gelykstaande aan die hedendaagse graad vier. Hulle taalvaardigheid het gewissel van goeie Vendataal, swak Engels, tot met ’n bietjie Afrikaans. Hulle ouder-domme het gewissel van 20 jaar tot die oudste een wat 55 jaar was. Ons het drie Venda onderwysers gekry wat as tolke in elk van die drie klasse opgetree het. Die praktiese opleiding, dril en geweerkuns, was weer eens met ,303 gewere wat vanaf die SA Polisie se kwartiermeester gestuur is. Hulle het aanvanklik so een week met hulle privaat klere die kursus deurloop en gedurende die tweede week was hulle uitgereik met bruin weermagbroeke, -hemde –slaprandhoede, -kouse en -stewels wat weer eens deur die SA Weermag se kwartiermeestergeneraal voorsien is.

Dit het maar gesukkel om ons goedgekeurde leerplan binne drie weke deur te werk, omdat alles in Engels en/of Afrikaans doseer word en dan moet dit in Venda getolk word, gevolg deur vrae vanaf die Venda kursusganger wat via die tolk aan ons getolk word. Ag vadertjie, wat ’n gesukkel. Ons het die hele agt ure diens per dag vanaf 07:00 tot 16:00, met ’n etensbreek tussen in, wat polisieopleiding plaasvind, dus gebruik om deur die teorie te worstel. Ons het dan na 16:00 tot sononder die praktiese opleiding gedoen. Na sononder het ons huis toe verkas en elkeen van ons het ’n beurt gehad om aandete voor te berei. Terloops, ons het middagete by die Regering se kompleks genuttig. Ons was ook telkemale deur die Sibasa SAP-lede genooi vir braaivleis of ’n ete en somtyds het ons ook, op uitnodiging, aan die huis van een van die ander gesekondeerde staatsamptenare ’n ete genuttig of soms net daar gekuier oor ’n skemerdrankie.

Net gou ’n komiese situasie wat ons ervaar het tydens die geskrewe toets wat afgelê moes word:

Willem van Zyl moet die begrip “Misdaad,” soos omskryf in die Gemenereg, aan die kursusgangers verduidelik, want hulle moet bewus wees dat hulle nie enige persoon in hulle hoedanigheid as stampolisiemanne kan arresteer nie, tensy die handeling van ’n persoon ’n misdaad uitmaak, en dit in hulle teenwoordigheid sou plaasvind. Hulle sou dan so ’n persoon kan arresteer. Die sogenaamde burgerlike arrestasie. Willem begin en hy beklemtoon dat die begrip misdaad drie elemente het, naamlik:

(a) ’n Handeling / An act;

(b) Die handeling moet onwettig wees / The action must be illegal; en

(c) Daar moet ’n straf wees vir die handeling / There must be punishment for the action.

Dit word tot drie of vier keer deur Willem d.m.v. die tolk aan hulle oorgedra.

Hy vra: “Verstaan julle nou? / Do you understand it now?”

Die tolk vra die vraag aan hulle en hulle sê almal ja en hulle knik hulle koppe instemmend.

Hy toets nou hulle assimilasie van hierdie stukkie belangrike regskennis wat hulle nou net ontvang het. Toe hy die eerste een vra, weer deur die tolk, hy moet sê wat is drie elemente van ’n misdaad, toe staan hy met ’n bek vol tande. Willem vra die tolk of daar enigeen is wat weet. Nou skud hulle almal hulle koppe heen en weer in ontkenning. Willem vloek saggies in Afrikaans, maar sy ervaring as opleidingsbeampte kom nou vorendag. Hy weet dat hy nou van ’n voorbeeld gebruik moet maak om hierdie ingewikkelde stukkie regskennis by sy leerlinge te laat insink.

Hy begin eers om ’n paar van die tien gebooie in die Bybel te noem wat eintlik die basis is van die gemenereg, soos byvoorbeeld: ‘Jy mag nie doodslaan nie, Jy mag nie steel nie, Jy mag die Here se naam nie ydellik gebruik nie’ en nou stop hy net daar. Hy besef nou is die leerders (kursusgangers) nie meer met hom nie! Ons opleidingsbeamptes het in so ’n situasie altyd gesê: “Ons het die klas verloor!”

Hy vra nou: “Het julle al gesien hoe julle se vroue of julle se Mammas koekbak?”

Die tolk dra die vraag oor, omtrent almal glimlag en knik hulle koppe instemmend. Nou begin Willem die onbekende vasknoop aan iets wat vir die leerlinge bekend is en hy begin:

“As jy koek wil bak moet jy meel hê, dan moet jy water, eiers en suiker hê, dan roer jy alles deurmekaar en dan moet jy ’n oond hê waarin jy die mengsel bak.”

“Verstaan julle nou?” Toe die tolk klaar getolk het, lag almal en hulle sê ja en knik net hulle koppe.

“Sien julle nou, dis soos ’n misdaad se elemente daaruit sien? Die meel en water is die handeling; die eiers en suiker is die onwettige handeling en, die vuur of oond waarin die mengsel gebak word, is die straf? Verstaan julle nou?”

Die tolk luister en tolk die vraag. Nou klink dit uit een mond “Ja.” Willem, hoogs tevrede vir hierdie briljante stukke improvisering, gaan hy met sy lesing aan en begin nou die gemeenregtelike misdade waarvoor hulle kan arresteer te noem:

“Hoogverraad, Sedisie, Moord, Strafbare manslag, Verkragting, Aanranding ernstig, Bedrog, Huisbraak en diefstal….. ens. ens.” Hy het nog nie eens by al die Strafproseswet se Eerste Bylae oortredings uitgekom nie, want hy is te bang vir verwarring. Die kursusgangers laat deur die tolk weet dat hulle nou verstaan. Goed kom ons los dit nou eers daar.

Die eksamen-/toetsingtyd kom na ’n paar dae. Ek is die junior kaptein in rang en ek word nou met die taak opgesaal om die geskrewe toets op te stel en op die skryfbord die vrae te skryf. Almal kan darem op ’n manier skryf. Ek skryf die eerste vraag op die bord. Begin by die belangrikste en dit wat ek weet hulle te kenne gegee het dat hulle verstaan:

Vraag/Question 1: Wat is die elemente van ’n Misdaad? / What is the elements of a Crime?

Vraag/Question 2: Noem net vyf Gemeenregmisdade / Name only five Common Law offences.

Ag, daar was net vyf vrae maar ek het dit so elementêr as moontlik gehou. Die tolk kyk op die bord en tolk dan ook elke vraag in Venda. Ons gee hulle ’n hele periode van 45 minute om hierdie vyf vrae op skrif te stel. Almal kan hulle antwoorde skryf in die taal van hulle keuse. Ek sal die Afrikaanse en Engelse antwoorde nasien en die tolke sal die antwoorde in Venda of ander Afrikataal. Daar was verskillende antwoorde uit die groep van 72, maar die mees klassieke een is die een wat vraag 1 soos volg in sy Afrikaans beantwoord het:

“Die elements van die crime is die meel, die water, en die hoender se eiers, die sweleke (suiker) en die stove.”

Vir sy vermoë om die voorbeeld te onthou, het ek hom ’n ½ punt gegee! Ek persoonlik dink my ou maat Willem, moes eintlik die voorbeeld van papmaak gebruik het, dan sou ons allerhande wyses van hoe om pap te maak van die leerders (kursusgangers) op skrif gekry het. Ons sou dan ’n resepteboek oor papmaak kon opstel!

Hierdie foto van die Fundudzi-meer het ek d.m.v. Google gekry. (Foto: Google)

Ons was een naweek deur adjudant-offisier Vreugdenburg, later ’n offisier by die Pretoriase Bitspatrollie, en later…., kom ons los dit maar, op ’n besoek aan Tshivase en die Fundudzi-meer in Venda geneem. Op ons roete na hierdie twee besienswaardighede, het ons besef dat Venda seker die mees vrugbaarste Nasionale Swartstaat is van al die Nasionale Swartstate wat in ons land is, wat as deel van die vroeëre Regering se aparte ontwikkelingsbeleid tot stand gebring is. Tropiese vrugte soos piesangs, papajas, lietsjies, avokado’s en ook sitrusvrugte bv. lemoene, nartjies en pomelo’s was oral verbou. Hierdie vrugte was selfs op kleiner ongeorganiseerde boerdery-metodes deur die Vendas om hulle statte aangeplant, teenoor ander plekke waar dit op groot skaal mee geboer is. Daardie gedeeltes was behoorlike bestuur. Aangeplante vrugtebome in boorde was netjies in dele geplant en op professionele wyse gesnoei, waar dit nodig is, en met sorg voorberei, bewerk en in stand gehou totdat dit oestyd is. Blanke bestuurders het die opkomende

swartboere gehelp sodat hulle die vrugbare landstreek tot die optimum kon benut. Hulle het ook die pakkamers daargestel en verpakking aan die Vendas geleer. Venda was dié streek wat bekend gestaan het as die Transvaal se vrugtespens. Hulle het ook baie vrugte na markte oorsee uitgevoer. Ons was ook beïndruk met ons besoek aan Tshivase toe ons hulle eeu-oue klipmure te siene kon kry. Dit is ruïnes wat, volgens oorlewering en navorsing deur geskiedskrywers, net so oud, óf selfs ouer kan wees as die Zimbabwe se ruïnes. Dis jammer ek kon nie foto’s daarvan neem nie, want die Vendavrou wat oor hierdie gebied as stamhoof heers, het ons met groot en lang gesprekvoering deur Vreugdenburg, toegelaat om die ruïnes te besoek, maar ons moes beloof om nie enige foto’s te neem nie. Ek wonder of iemand ooit eendag ’n behoorlike navorsing oor hierdie ruïnes die lig sal laat sien? Van daar af het hy ons ook, eers met vooraf oorreding en uiteindelike magtiging, na die Heilige meer, die Fundudzi, gegaan. Ek kon darem daar ’n foto neem. Dis ’n baie indrukwekkende meer, eintlik net ’n groterige dam, glad nie so groot soos byvoorbeeld die meer in die Zambezirivier, óf self soos ons groot damme in die Oranjerivier nie. (Hedendaags die Garieprivier genoem.)

Besproeiing word daaruit gedoen en mense word daarin gedoop, maar geen watersport of visvang word daar toegelaat nie – weet nie of dit tans nog die geval is nie. Met ons nuwe regering het dit dalk al ontaard as ’n “onheilige meer!” Ha, ha.

Ek sluit nou hierdie ervaring wat ek as opleidingsbeampte te Venda beleef het, af en gaan ek weer ’n draai maak by die teeninsurgensie-opleidingsterrein by Maleoskop, naby Groblersdal.

Hoofkantoor besluit dat die Indiensopleidingseenheid ’n kursus in openbare spraak, Verslaggewing, en Kommunikasie vir die instrukteurskorps van die Teeninsurgensieafdeling (TIN) te Maleoskop moet gaan aanbied. Daardie afdeling se werksaamhede het só vinnig vermeerder, dat hulle nuwe instrukteurs moes aanstel om al die grenskursusse te kan aanbied, en hulle dus opgelei moet word in die drie voormelde aangeleenthede wat van besondere belang vir instrukteurs is. Aangesien dit drie van die vakke is wat by die Indiensopleidingseenheid aan my opgedra is om voortdurend navorsing oor te doen, het die mantel op my geval om hierdie kursus van een week daar te gaan aanbied. Daar was sowat 10 sersante en ’n paar adjudant-offisiere wat hierdie voorligting moes ontvang.

Die derde oggend, in die vroeë môre-ure, het ek ’n groot behoefte om die toilet te gaan besoek, want my blaas het my gewaarsku dat dit tyd is om geledig te word. In die urinaal in die gemeenskaplike kleedkamer van die offisierskompleks, sien ek dat my urine bloedrooi is. Ek skrik, maar die grootste skrik kom toe ek baie erge pyne in my lendene begin ontwikkel. Ek het nog nooit gekraam nie, maar ek kon sweer kraampyne kan nie erger wees as dit wat ek ervaar het nie. (Ek is mos die vader van 5 kinders en dit was nie só seer nie!)

Ek verklee gou en so al gebukkende loop ek na die dienskamer toe en voordat ek nog kon praat, toe spring die konstabel aan diens op aandag en vra:

“Wat makeer kaptein?”

Ek sê net dat ek bloed passeer en dat ek geweldig pyn het. Die sersant wat op besoek was by die wagte word per radio ontbied en ek word onmiddellik per bakkie na die Groblersdal Hospitaal geneem. Ek was nie by magte om uit te klim nie, en die sersant gryp my sommer soos wat ek inmekaar op die bakkie se sitplek gesit het en dra my by die ongevalle in. Die suster aan diens sê net:

“Dis ’n erge niersteen wat hierdie man het.”

Ek word op ’n trollie neergesit, vinnig op my sy gedraai en ’n groot inspuiting op my linker boud gegee. Die pyn begin algaande verminder.

Ek sit later regop, nog in my kamoefleerdrag, en sê dat ek nou maar kan teruggaan Maleoskop toe. Toe ek en die sersant by die basis terug kom, sê die bevelvoerder, kol. Dawid “Sitting Bull” Erasmus net: “Nee ou maat, ons neem jou nou terug Pretoria toe. Moenie bekommerd wees nie, iemand anders is reeds vanaf indiensopleiding op pad hiernatoe en die manne kan maar rustig verkeer totdat kaptein Gert Smit van indiensopleiding arriveer om die kursus verder aan te bied.”

Ek word by die huis afgelaai. Ek het verneem dat kolonel Stevens reeds die distriksgeneesheer gebel het, en hy het gesê dat ek na Die Zuid-Afrikaansche Hospitaal moet gaan en dat dr. Vic Hesse my sal sien. Ek word in die hospitaal opgeneem, ’n drup aangesit, en die volgende oggend word ’n “scope” gedoen. Hulle haal ’n klomp saamgekoekte niersteentjies uit, dit lyk amper soos bruin suikerklontjies wat aanmekaar kleef. Ek word die volgende dag ontslaan toe ek skoon urine passeer.

Die grootste pyn het tuis nog vir ’n dag of twee geduur, want die “scope” het my omtrent inwendig seergemaak. Ek het soms op my knieë langs die bed gestaan en regtig trane gestort. Corrie moes maar gelate dié foltering aanskou. Al wat gehelp het, was as sy gereeld sterk pyn kapsules nader gebring het wat ek moes sluk om die pyn te verdoof. Wel, end goed, alles goed. Ek het na ’n paar dae weer my diens as dosent by Indiensopleidingseenheid aanvaar en Gert het die kort kursus te Maleoskop afgehandel.

Algaande, soos wat my dienste by indiensopleiding voortgesit is, en ek in die range bevorder is, het gedesentraliseerde opleiding aan instansies, polisiestasies, staatsdepartemente en privaat instellings gereeld na my kant toe gekom. Ander lede van die Indiensopleidingseenheid, het ook hulle porsie van gedesentraliseerde opleiding gehad. Sekere opleidingsonderwerpe is aan groepe, of aan enkelinge, van ons dosentekorps toegewys waaroor ons voortdurende navorsing moes doen en lesings skryf. Lesings moes gereeld aangepas word sodat die mees resente inligting en/of data oor ’n onderwerp aan kursusgangers oorgedra kan word. wetswysigings wat afgekondig en in werking tree, moes ook bygewerk word in lesings. Só moes ek dan ook, saam met ’n paar senior dosente, ’n nuut-ontwerpte gevorderde kursus vir polisie-offisiere opstel en lesings skryf.

Nadat die nodige lesings geskryf is, en praktiese take opgestel is, en van reeds bestaande onderwerpe lesings uit ons Indiensopleidingseenheid se argief bymekaar gemaak is, word ek aangesê om man-alleen hierdie Gevorderde opleidingskursus vir swartoffisiere te BOP Polisiemag te gaan aanbied. Daar was tien offisiere waaronder luitenante, kapteins en majoors. Hulle sou, as hulle die kursus wat oor 14 dae gestrek het, slaag, na hulle volgende rang bevorder word. Hierdie kursus was op aandrang van kolonel Ben Stevens, wat toe die adviseur van die BOP Polisiekommissaris was, en met goedkeuring van die BOP President, Kgosi (hoofman) Lucas Mangope, deur die SA Polisie hoofkantoor goedgekeur. Ek moes dit nou gaan aanbied.

Die hele samestelling van die kursus moes eers aan Hoofkantoor Inspektoraat voorgelê word, wat dit in beginsel goedgekeur het. Kol. Stevens het my een naweek tuis kom oplaai en ek het die hele kursusinhoud met hom te Mafikeng bespreek. Hy het dit goedgekeur. Reëlings is getref vir my verblyf te Rooigrond Gevangenis waar ek in een van die gastehuise sou tuisgaan en ek was ook die opleidingslokaal gewys. Dit was ’n saal in ’n hoërskool vir BOP-kinders. Die tydperk en datums is vasgestel, want dit sou gedurende hulle skoolvakansie moes geskied. Ek is die Maandag deur een van die SAP se gesekondeerde luitenante in BOP, terug na Indiensopleidingseenheid. Die voorbereiding vir die kursus het nou in alle erns begin. Opleidinghulpmiddels soos tru-projektor, films, blaaibord met skryfpapier, lesings, naambordjies, ens. is gereed gekry. Ek is van ’n amptelike voertuig voorsien en het die kursus gaan aanbied. Kolonel Stevens het die kursus geopen en majoor Bernie Mostert, wat ook aan BOP gesekondeer was, het ’n paar vakke aangebied wat net op die BOP-polisie van toepassing is. Ek het die veertien dae regtig geniet. Ek kon selfs daar op Woensdagmiddae tennis speel saam met lede van die gevangenisdiens. Etes was deur ’n kok, wat

vir die ander Gevangenisdiens lede wat in die gastehuis gebly het, voorsien en dan het ek ook by twee geleenthede ’n braai by van die gesekondeerde lede bygewoon. Ek kon ook as ’n AB-lid (Afrikaner Broederbond, tans die Afrikanerbond) een van hulle vergaderings in die dorp bywoon.

Ek kon die een naweek terugkom huis toe en het die Sondagmiddag weer terug vertrek om die laaste week te gaan klaarmaak. Een van die luitenante het baie swak op die kursus presteer en ek het aanbeveel dat hy nie vir bevordering na kaptein kwalifiseer nie. Ek is, na ’n kort seremonie by die Gerona, dis die goewermentsgebou van die Tswanas, waar president Mangope sy dank teenoor die SA Regering en die SA Polisie uitgespreek het oor die aanbieding van die kursus, terug huis toe. Ek sou by ’n latere geleentheid weer na BOP-polisie Hoofkantoor toe gaan, waar die Onafhanklikheidsmedalje van Bophuthatswana aan my toegeken is vir dienste gelewer aan hulle polisiemag.

Hierdie kursus se leerplan het gedien as raamwerk vir die opstel van ’n soortgelyke leerplan vir kapteins wat in die SAP is en wat eers ’n majoorskursus moes deurloop en slaag, voordat hulle bevorder sou word. Ons eenheid het natuurlik aanpassings gemaak deur onderwerpe, wat net op BOP-polisie van toepassing was, weg te laat en nuwe onderwerpe toegevoeg wat slegs op die SA Polisie se offisierskorps van toepassing was. By die opstel van daardie leerplan, kon ek darem op die kennis van seniorlede op ons afdeling staatmaak, want ons het as ’n span saam ‘kop gekrap en penne gelek’ om die leerplan af te rond!

Kol. Stevens is later bevorder na brigadier en het teruggekeer RSA toe. Hy het my meegedeel dat die BOP se kursusgangers, met die uitsondering van die luitenant wat die kursus gedruip het, wel na hulle volgende range bevorder was.

Versoeke vir gedesentraliseerde opleiding het maar kort-kort na ons Indiensopleidingseenheid gekom. Brig. Stevens was nou by SA Polisiehoofkantoor oorhoofs belas met opleiding in die SA Polisie en hy het maar voortdurend gekyk, en soms gehoor, waar opleidingsbehoeftes is, wat hy dan na ons eenheid toe gekanaliseer het. Die SA Regering het beplan om die Ciskei sy onafhanklikheid te gee en nou moes die onderskeie Staatsdepartemente se opleidingsbeamptes opleiding aan die swart staatsamptenare van Ciskei, een van ons land se Nasionalestate, gaan gee. Dit was genoem: ‘Die voorgenome verburgering van Staatsdepartemente in die Ciskei’. Opleiding moes by Mdantsane Polisie Hoofkantoor aan speurders en uniformlede wat aanklagkantoordienste verrig, gegee word.

Vir hierdie taak moes ekself, toe reeds ‘n majoor, saam met majoor Jan Lourens, hy het ook as generaal-majoor met pensioen uit die Mag getree, vir ’n week te Oos-Londen opleiding aan swartlede vir oorname van Mdantsane polisiestasie, gaan gee. Ek moes die uniform aangeleenthede met die aanklagkantoor- en toesighoudende sersante hanteer en Jan het die speurdiens se take onder hande geneem. Ons twee het eers saam met ons bevelvoerder, luitenantkolonel G.S. (Ian of soos alom bekend, Ghoeramuis) Engelbrecht, per motor na Oos-Londen gereis om eers met die afdelingskommissaris, te gaan konfereer om opleidingsbehoeftes te bepaal. Ons het na twee dae in Oos-Londen, teruggekeer en nou het ons voorbereiding in alle erns begin.

Nadat alle lesings voorberei en praktiese take, na ongeveer twee weke, uitgewerk is, is ons twee per SAL-vlug Oos-Londen toe. Ons word deur die afdelingskommissaris ontmoet en gaan toe saam met hom na Mdantsane polisiestasie toe. Die lede wat opgelei moes word was aangesê om in hulle ontspanningsaal byeen te kom met die nodige skryfbehoeftes. Oos-Londen se werwingsoffisier het alles vooraf gereed gekry. Onder andere het hy regte skoollessenaars by ’n skool te lene gekry. Ons kom die saal binne en die groep, bestaande uit senior konstabels, sersante en adjudantoffisiere, uniformlede sowel as speurders, en die stasie- en speurderbevelvoerders, kom op aandag. As senior van ons twee lede, neem ek die taak waar om die afdelingskommissaris aan die woord te

stel en ook terselfdertyd ons twee opleidingsbeamptes aan hulle bekend te stel. Het julle al so ’n klomp gesigte voor jou gesien wat met vrae op hulle gesigte sit? Wel, nadat die afdelingskommissaris sy woord gespreek het, en die lokaal verlaat het, neem ons twee oor. Ons het net ’n week gehad om ons opleiding te doen. Op die eerste dag bied ek en Jan, om die beurt, onderwerpe wat albei afdelings raak, aan en handig lesings uit. Onder andere onderwerpe soos kommunikasie, verklarings afneem, menseverhoudings, hantering van staatseiendom, dissipline, onderlinge samewerking met verskillende afdelings in die Mag, departementele verhore en nog so ’n paar ander onderwerpe. Die tweede dag word die manne in twee groepe verdeel, soos wat die spreekwoordelike skape en bokke van mekaar geskei word. Die uniformlede onder my beheer en die speurders onder Jan se beheer.

Ons neem ons groepe op ’n toer deur die polisiestasie kompleks en hulle moet aan ons uitwys waar daar verkeerd opgetree word. In die aanklagkantoor sê my groep hulle sien niks verkeerd nie. Ek wys aan hulle die swart skoensoolmerke en bloedspatsels op die muur van die aanklagkantoor, aan die publiek se kant, en vra hulle:

“Wat moet ek hiervan aflei?” Hulle bly stil.

Ek sê : “Dis hier waar die prisoniers geskop en geslaan word, nè?”

Hulle bly een en almal stil. Ek gee opdrag dat die aanklagkantoor se mure die volgende môre, wanneer ek weer met hulle gaan praat, skoon moet wees. Die registers op die rakke moet oorgetrek word en die snippermandjies moet leeg en op ’n plek buite sig geplaas wees.

Die volgende môre is alles skoon geskrop en op hulle plek. Daar is twee manne kort in my groep en Jan het ook speurders wat nie opgedaag het nie. Hy wou al die speurders se dossiere nagaan om hulle ondersoekwerk te kontroleer. Dié wat weg is, is weg met hulle dossiere en hulle sake boeke. Wel ons het die week toe deurgeworstel, maar dinge het algaande beter geraak. Die personeel op daardie stasie, die paar blanke- sowel as die swartlede, het besef dat jy streng dissipline moet handhaaf en voortdurend moet opvolg om te sien of opdragte uitgevoer is en of die take volgens voorskrifte afgehandel is.

Die lede wat so stil-stil verdwyn het, het later teruggekom en verskoning gevra vir hulle afwesigheid. Die redes wat hulle aangevoer het, is dat hulle bang was vir die SA Polisiehoofkantoor se offisiere. Hoekom, sal net hulle weet, want hulle wou nie sê hoekom hulle bang was nie – dalk skuldige gewete dat hulle iets verkeerds gedoen het en dat hulle nou voor stok gekry sou word. Ons weet nie! Ons het redelik daarin geslaag om die chaos op dié polisiestasie in orde te omskep, met geskrewe opdragte aan die blanke toesighouers hoe toesighouding moet geskied. Die blankelede is ook van inligting voorsien hoe om die swartlede voortdurend in diens op te lei en algaande take aan hulle te delegeer, sodat hulle later, by die algehele oorname van die polisiestasie, dit doeltreffend kan hanteer. Getrou aan die tradisie van alle speurders wat normaalweg op Vrydagmiddae braai, word ons twee ook met ’n braai getrakteer, nadat ons opleidingsessies afgehandel is. Ons kanselleer ons bespreking van die vlug Johannesburg toe, en neem ’n motor van die distrikskommandant van Oos-Londen na die SA Polisie se Motorhawe in Port Elizabeth vir heruitreiking aan ’n ander polisiestasie, want die distrikskommandant het ’n nuwe plaasvervangende motor gekry. Ons bly oor in Port Elizabeth en kry die Saterdagmôre ’n splinternuwe Ford patrolliewa waarmee ons Pretoria toe vertrek. Ons het dit Maandagmôre by die polisiemotorhawe in Pretoria gelaat vir uitreiking aan een van die stad se polisiestasies. Ons kom daardie Sondag, in die vroeë môre-ure, in Pretoria aan en dit reën katte en honde. Ons het vanaf Parys in die Vrystaat in die reën gery totdat ons tuis was. Dit was dié naweek wat die stad erge skade met riviere wat hulle walle oorstroom het, opgedoen het. Die Moreletaspruit en die Apiesrivier was beide in vloed. Skade het miljoene rande beloop want die Becker woonwapark was

vernietig, die Bon Accord-hotel het weggespoel en huise in laagliggende dele van Pretoria, veral Pretoria-Noord, was oorstroom. Ons het gelukkig heelhuids tuis arriveer. Die volgende plekke waar ek, soms alleen en soms saam met ander kollegas van Indiensopleidingseenheid, gedesentraliseerde opleiding moes gaan doen, of lesings moes gaan aanbied, sal net kortliks gemeld word. Sou daar iets besonders plaasgevind het, sal dit darem genoem word. Wel, hier volg nou van daardie aangeleenthede:’n Speurderkursus te Bishop Lavis opleidingskollege in Kaapstad, was nog een van my ervarings. Kleurlingkonstabels en -sersante was vir ses weke as leerlingspeurders opgelei. Hulle word eers as volwaardige speurders aangestel na ’n proeftydperk van ses maande nadat hulle die kursus geslaag het. Ek was vergesel deur luitenant Johan du Randt, wat sy eerste vuurdoop van gedesentraliseerde opleiding moes gaan doen. Ons het per Lugmag Flossie (C130 Hercules vliegtuig) gereis en ook weer só teruggekom. Ons het in die Boston Hotel te Bellville gebly en daagliks met een van die motors van die SA Polisie Motorhawe in Kaapstad, tussen ons verblyf by die hotel en die opleidingskollege, gery. Die motor is saans op die hotel se parkeerterrein parkeer en gesluit. Een oggend toe ons die motor wou aanskakel, vind ons die battery is gesteel, die klein venstertjie aan die bestuurderskant is stukkend geslaan, die radio is gesteel en al die drade onder die paneelbord is uitgeruk. Gelukkig was die radio nie ’n tweerigtingradio wat deur die polisie gebruik word nie, maar ’n gewone motorradio. Ons moes die motor maar laat insleep en ons het ’n ander een gekry om te gebruik. Ja jong, die polisie is ook soms aan die ontvangkant van die misdadigers! Die kursus het egter sonder verdere teëspoed goed afgeloop.

Melding is reeds gemaak van die speurderkursus te Bishop Lavis opleidingskollege in Kaapstad, maar ek wil tog so ’n paar interessante dinge meld oor die speurderkursusse wat te Pretoria aangebied word. Dit wat hieronder beskryf gaan word, kon ons uiteraard nie by die gedesentraliseerde opleidingslokale, wat nie te Pretoria gesetel is nie, aanbied nie. In Pretoria het besoeke aan instansies soos die Suid-Afrikaanse Polisie se Kriminele Buro, (SAKB) Sentrale Gevangenis en die Geregtelike Geneeskundige Laboratorium, deel uitgemaak van hulle leerplan. ‘n Kort beskrywing van daardie besoeke is soos volg:

’n Besoek is, tydens een speurderskursus, aan die Geregtelike Geneeskundige Laboratorium by die destydse H F Verwoerd Hospitaal gebring (ons het altyd daarna as die staatslykshuis verwys). Hierdie hospitaal heet nou die Steve Biko Hospitaal. Die rede vir dié besoek, is dat hulle tydens moord- en ander onnatuurlike sterfgevalle die post mortem (lykskouing) wat deur die distriksgeneeshere gedoen word, moet bystaan. Daar mag dalk koeëls-, mespunte of ander vreemde voorwerpe in die liggaam wees wat deel kan uitmaak van die bewysstukke wat bymekaar gemaak moet word, óf hy moet dalk bloed-, semen-, liggaamsvloeistowwe-, ingewande- of menslike weefselmonsters van die slagoffer (lyk) wat die geneesheer uit die liggaam verwyder het, in ontvangs neem vir ondersoekdoeleindes. In die lykhuis was daar destyds 20 yskaste en op ’n Maandagmôre kom Prof. De Kock met finale jaar mediese studente om ’n praktiese demonstrasie vir hulle te gee oor hoe ’n lykskouing gedoen moet word. ’n Lyk word uit die yskas gehaal en op ‘n marmer operasieblad gelê en dan word die dissektering van die lyk gedoen. Kom ek laat dit daar. Ek gaan dus een Maandagmôre saam met twee ander dosente met die 40 proefspeurders na die lykhuis, waar prof. De Kock ’n lykskouing gehou het op die liggaam van ’n blanke man wat vermoedelik vergiftig is. Die studente staan in ’n kring om die prof. terwyl hy sny en slag en ook sê wat hy doen. Ons neem vyf van die kandidaatspeurders op ’n keer, so 5 minute na mekaar, ook in om die lykskouing waar te neem. Baie van hulle kom naar-naar met kwylende monde uit en gaan hulle voeg by die ander wat nog wag om in te gaan. Daar kom weer een uit. Hy is grys in die gesig en hy sê: “Nee, O magtig, ek kan daardie reuk nie verdra nie.”

Toe hy opkyk, sien hy twee van sy maats is besig om elk aan ’n stuk biltong te kerf en smaaklik daaraan weglê. Wel, dit was die sneller wat hom laat katte skiet het. Baie ouens het hulle rug op hom gedraai en weggestap en die ander het kliphard aan die lag gegaan. Ons moes die laggende spul maan tot stilte want die studente kon nie Prof. De Kock hoor nie. Grillerig nè?

Die tweede besoekpunt was die Sentrale Gevangenis, in Potgieterstraat, Pretoria. Ek het vroeër melding gemaak dat ek die veroordeelde blankeman wat te Humansdorp, wat aanvanklik vir moord op ’n jong kleurlingseun gearresteer is, en na die Sentrale gevangenis te Pretoria oorgeplaas is om sy vonnis uit te dien, daar gesien het. Ek het hom in die tuine van die Gevangenis sien werk toe ek saam met kandidaatspeurders die gevangenis besoek het. Die kandidaatspeurders word na die ou Pretoria Sentrale Gevangenis geneem waar hulle besoek bring aan die werkwinkels waar gevangenes in plaat-, sweis- en houtwerk opgelei word. Hulle kwalifiseer dan tydens hulle gevangesetting as plaatwerkers, sweisers en skrynwerkers. Hulle maak dan tydens hulle verblyf in die gevangenis, meubels vir alle Staatsdepartemente. Daarna besoek ons die skool in die gevangenis waar die gevangenes skoolonderrig ontvang. Klasse vanaf standerd 6 tot matriek (Graad 8 – 12.) word deur gekwalifiseerde onderwysers aangebied.

NB Tans, 2015, onder die nuwe regering, is daar ’n beleid dat gevangenes nie verplig kan word om die bostaande onderrig te deurloop nie. Dit is vrywillig. Onder die ou bedeling het dié wat nie daarby ingeskakel het nie, hande-arbeid op tronkpersele en ander staatsinstellings onder gewapende wagte verrig. Dit mag nou nie meer gedoen word nie. Hulle sit rond op die oefenruimtes binne die tronkmure of speel net sokker. Glo menseregte wat hulle het om self te besluit wat hulle wil doen in die gevangenis!

Die volgende besoekpunt in die gevangenis is die Maksimum Veiligheidsarea wat die selle waar terdoodveroordeeldes aangehou word en ook die galgkamer geleë is. Dis gewoonlik dié afdeling waar die kandidaatspeurders die meeste vrae aan die begeleidende Hoofbewaarder vra. Terloops, ons het ook vir Tsafendas, een van die bodes in die Parlement, wat in 1966 die destydse Eerste Minister van die Republiek, dr. Hendrik French Verwoerd, tydens ’n parlementsitting met ’n mes doodgesteek het, in een van dié selle gesien sit. Hy was ’n Staatspresident Gevangene wat nie geskik gevind is om verhoor te word nie, aangesien hy geestelik gekrenk was. Hy het tydens sy verhoor gemeld dat hy slange in sy ingewande het en hy het stemme gehoor wat met hom gepraat het. Hy is later, na die nuwe regering aan bewind gekom het in 1994, oorgeplaas na die Sterkfontein psigiatriese hospitaal waar hy na ’n paar jaar as ’n baie ou man oorlede is.

Die kandidaatspeurders verwag eintlik iets baie besonders by hierdie selle, maar dis doodgewone selle wat net een persoon huisves met ’n ingeboude sementslaapbank, ’n toiletpot van sement en die spoelbak sit aan die buitekant teen die agterste muur van die sel met ’n verlengde knop wat die gevangene binne die sel kan trek. Beddegoed soos gewoonlik, maar daar is ook ’n traliedeur voor elke seldeur en ’n binne traliehek waarvandaan die bewaarders kan sien wat in die sel aangaan en waar hulle die gevangene se kos onder deur die traliehek deurstoot. In die plafonne is daar versinkte elektriese ligte agter ’n staalskerm wat 24 uur brand. Die Hoofbewaarder wat ons vergesel op ons toer deur die gevangenis, meld dat daar in die gang voor die ry selle, 24 uur deur gewapende bewaarders gepatrolleer word. Daar is een klein venstertjie hoog teen die agterste muur, net onderkant die plafon in elke sel. Daar is ook ’n gang agter die ry selle wat ewe-eens 24 uur gepatrolleer word.

Die laaste besoekpunt in die gevangenis is die galgkamer. Dié kamer is eintlik ’n dubbelverdieping aan die einde van die laan waar die selle vir terdoodveroordeeldes is. (in Engels bekend as “Death Row”). Dit het in die ou gevangenis aan die suid-westelike kant van die tronk gesit. Van buite af is ’n kort toring sigbaar as ’n mens na en van die polisiekollege met Mitchellstraat sou ry.

Kom ek beskryf eers die boonste kamer waar die galg was. ‘n Stel trappies lei van die gang af op na ’n dié kamertjie met twee vensters. Die galg is eintlik 10 dik toue wat hang aan ’n staalstaaf, wat in die betondak vasgeheg is. Reg onder die toue is daar twee hout valdeure, lyk amper soos twee houtdeure van ’n ingeboude klerekas wat plat op die vloer teen mekaar lê. Aan weerskante van die middellyn, waar die twee valle teen mekaar kom, is daar tien pare wit geverfde skoenspore, sowat 3 voet (±¾ meter) van mekaar. Die linker stel skoenspore op die linkervaldeur en die regter stel skoenspore op die regtervaldeur.

Daar is aan die voorkant van die valdeure, wysende na die voorkant van die voetspore, ’n staal hefboom. Sou die hefboom getrek word, ontsluit die penne wat die twee valdeure teen mekaar hou, en dit swaai op hulle skarniere, weg van mekaar af in die rigting van die kamer aan die onderkant. Daar is twee gewigte, in die vorm van twee sakke sand, aan elk van die valdeure se onderkant vasgeheg sodat die valaksie vinnig en met groot impak kan oopswaai. Die enigste ameublement in die kamer is ’n klein bedtafeltjie (“tables bed side complete” soos dit in kamerinventarisse beskryf word), waarop daar een rooi telefoon staan. Die Hoofbewaarder wat ons die galgkamer gewys het, meld dat elke terdoodveroordeelde kry ’n datum en tyd wat hy/sy gehang gaan word. Op die dag van die vonnisvoltrekking, word sy eie en die horlosie van die bevelvoerende offisier gesinkroniseer. Die ‘laksman’ kom en……….. Ek los die ritueel uit hoe die veroordeelde op die valdeure staangemaak word, die lus in die tou gemaak word en hoe die valdeure oopswaai. Terloops, nie een van die tien toue is ewe lank nie, want die lengte word bepaal na aanleiding wat die gewig en lengte van ‘n ter-doodveroordeelde is.

Nou vra julle hoekom die telefoon? Wel, die Hoofbewaarder, wat altyd tydens die vonnisvoltrekking, teenwoordig is, moet wag om te hoor of daar nie op nommer nege en neëntig ’n telefoonoproep van die Departement Justisie ontvang word wat dalk meld dat die doodsvonnis van die gevangene uitgestel of afgestel moet word nie. Uitgestel omdat daar ’n laat appèl teen die vonnis ingedien is, óf afgestel omdat die Staatspresident hom begenadig het. In die onderste kamer word die liggaam, terwyl dit nog aan die tou hang, deur die Distriksgeneesheer ondersoek en dood verklaar. Hy word afgehaal en op die marmer operasieblad neergelê en ’n lykskouing word uitgevoer en die verslag word deur die Departement van Gevangenisse (tans die Departement Korrektiewe Dienste) na Departement Justisie per hand gestuur wat die dood van die gevangene by die landdroskantoor in Pretoria registreer. Die oorspronklike galgkamer in die Pretoria Maksimum Gevangenis was met die nuwe bewind in RSA afgebreek. Daar is toe ’n replika van hoe die galgkamer gelyk het, elders in die Gevangenis opgestel en dit word nou as ’n museum daargestel. Die 134 politieke gevangenes wat sedert 1961 tot 1990 aan die galg gesterf het, se name word nou met gedenkplate teen die museum se mure vertoon. Die tronk is ook hernoem. In die replika kan net 6 van die 10 toue gesien word. Die “block and tackle” word gebruik om die 2 valdeure terug op te hys nadat die vonnis voltrek is. Sien die foto wat van Google verkry is.

Die laaste besoek word aan Die Suid-Afrikaanse Kriminele Buro van die SA Polisie (SAKB) gebring. Dis ’n regte openbaring vir die kandidaatspeurders, want hulle sien nou hoedat 20 dames by die ontvangseksie van die pos, die tien tot twaalf sakke pos wat daagliks vanaf die Poskantoor ontvang word, oopmaak. Konstabels en sersante begin die posstukke sorteer. Elke soort in verskillende vakkies. Berge pos in elkeen van die vakkies. Konstabels, sersante en adjudant-offisiere begin nou die ontvange vingerafdrukvorms te ontleed en die vingerafdrukke daarop word geklassifiseer. Hulle gaan na die soekkamer waar daar meer as 3 miljoen geklassifiseerde vingerafdrukvorms geliasseer is (dit was daardie tyd, dalk nou al meer). Daar word gekyk of die vingerafdrukke wat ontvang is, nie met enige van die vingerafdrukke in die argief versoenbaar is nie. ’n Oneindige lang en moeisame werk, want die ontleders sit ure aanmekaar met vergrootglase voor hulle oë om ’n stel vorms te klassifiseer. Hedendaags is daar ’n verkorte metode om die klassifisering te doen. Die vaardige hande en die kyk van die mens se oë is steeds nodig om die rekenaar te voer, sodat dit ’n positiewe resultaat kan lewer. As die rekenaar nie ’n argiefstel vingerafdrukke met die gesoekte een kan verbind nie, dan moet die mens steeds die ontvange stel eers klassifiseer. Nadat die SAKB ’n ‘Geen vorige rekord / No previous record’ vanaf die rekenaar vir versending na die polisie stasie wat dit aangevra het, ontvang, word die nuutste geklassifiseerde vingerafdrukvorm by die miljoene ander geliasseer. Sodra die beskuldigde dan gevonnis word, bly die oorspronklike afdruk in die argief, maar sou hy onskuldig bevind word, dan word daardie stel vingerafdrukke vernietig.

Na die vingerafdrukseksies besoek is, word die fotografie-, hare ontleding-, vervalste munte en geldnote- en ballistiekseksies besoek. By elkeen van hierdie seksies is daar ’n senior deskundige wat die kandidaatspeurders voorligting gegee in die werking van die seksies. Dit is nodig sodat hulle kan weet watter hulp hulle, as ondersoekbeamptes van kriminele sake, vanaf die SAKB kan ontvang. Prosedures en metodes oor hoe bewysstukke hanteer en aan hulle versend moet word, word prakties gedemonstreer. Huidig word hierdie en ander bewysstukke by die Polisie se forensiese laboratoriums gedoen. ‘n Paar jaar later toe die forensielaboratorium in Pretoria tot stand gekom het, het ons die kandidaatspeurders ook soheentoe geneem.

Daar word nou aandag en opleiding gegee om die inoefening van praktiese speurfunksies, sodat die kandidate hierdie faset van ‘n speurder se taak, kan bemeester. ’n Nagebootse moordtoneel word op die kollege se terrein, wat ver verwyder is van die beboude area, opgestel. Daar word van ’n winkelpop gebruik gemaak en sekere leidrade word op die toneel gelaat. Die toneel lyk nogal baie realisties. Ek het by geleentheid ’n foto van die toneel geneem.

Nagebootse moordtoneel op ’n afgeleë plek in die polisiekollege se terrein in Pretoria. (Foto: Ben).

Die groep word 10/10 op ’n slag na die toneel geneem en nou moet hulle waarnemings doen en elkeen teken in hulle sakboekies aan dit wat hulle vind, sonder om die leidrade te verwyder. Kandidaatspeurders kyk vir leidrade en hulle waarnemingsvermoë asook hulle vermoë om akkurate beskrywings te gee van wat waargeneem is en volledige verslae op te stel, word dan getoets. Elke groep word in aparte kamers onder toesig van ’n offisier gelaat en nou moet elkeen ’n volledige verklaring op skrif stel van wat hy gevind het. Die antwoorde word ingeneem en word dan, aan die hand van ’n volledige lys leidrade wat die dosent op die toneel geplaas het, beoordeel. Dit gee die doserende opleidingsbeampte ’n aanduiding op watter vlak elkeen se waarnemingsvermoëns en kennis is. As die kandidaat nie 80% of meer behaal nie, word daardie kandidaat aangesê om met sy notas, na die toneel terug te gaan en te soek vir meer leidrade. Vir elke groep kandidate word van die leidrade deur die dosent verwyder en ander in hulle plek geplaas. Dit word gedoen sodat die kandidate nie onderling van mekaar kan afskryf nie.

Daar word dan ’n lesing ‘Waarneming en dokumentering van leidrade,’ oor drie periodes van 35minute elk, gegee. Gonsgroepe word saamgestel in hulle lesingslokaal, waar ‘breintapsessies’ oor die lesing(s) gehou word. Dan word terugvoering aan kandidate gegee van watter spesifieke leidrade op die toneel geplaas is en dit word met hulle eie geboekstaafde waarneming kontroleer. Daar is vele metodes wat gevolg kan word om akkurate waarneming op ’n misdaadtoneel te kan doen. Hier-onder volg slegs ’n paar van die erkende metodes:

a) Doen waarneming op ’n misdaadtoneel deur gebruik te maak van denkbeeldige konsentriese sirkels vanaf die middelpunt van die toneel na buite. Dan moet alles neergeskryf word wat jy in elke sirkel waarneem, óf dit wat daar moet wees, nie teenwoordig is nie, óf

b) Daar kan van die blok-metode gebruik gemaak word. Hier word die toneel in denkbeeldige blokke verdeel en dan word daar na leidrade in elke blok gesoek en wat jy met die blote oog kan waarneem, word aangeteken, óf

c) Jy maak gebruik van die vee-metode. Hierdie metode is nie altyd aan te beveel op ’n toneel wat binnenshuis is nie. Dit kan dalk wel met vrug gebruik word buite ’n gebou of in die veld. Groepe

lede beweeg in een lang lyn langs mekaar en beweeg baie stadig oor die gebied met oë stip kykend waar hulle stap. Geen gepratery nie. As iets waargeneem word, stop elkeen in sy spore op sy plek in die linie, en die ondersoekbeampte gaan dit wat gekry óf gesien word, besigtig, notas word gemaak en die plek word gevlag.

d) Waarneming op horisontale en/of vertikale wyse. Dit is seker dié metode wat die meeste gebruik word. Wanneer daar (’n) groot objek(te) op die toneel gevind word, word elke objek van bo na onder en links na regs bekyk en alles wat op daardie objek waargeneem word, word aangeteken. As voorbeeld: ’n Lyk word vanaf die voete stapsgewys bekyk en werk deur tot by die kop óf vanaf die kop tot by die voete. Dan weer van die een arm af na die hande, of omgekeerd. By ’n lyk óf selfs ’n lewende slagoffer, is dit belangrik om die klere, ook merke, letsels of wonde in detail te beskryf. Daarna begin jy kyk wat op die onmiddellike omgewing van ’n lyk te vinde is. Dieselfde roetine word ook in (’n) kamer(s) gevolg.

Wanneer leidrade en/óf bewysstukke gevind word, word dit met genommerde vlaggies gemerk. Kleur- word bo swart en wit-fotografie verkies – indien nodig word ’n video ook gemaak.

Wat hierbo beskryf is, is maar net die spreekwoordelike oortjies van die seekoei. Elke toneel van misdaad is uniek en dit moet as sodanig benader word. ’n Speurder word nie in ’n week of ses gemaak nie, maar die voortgesette studie deur die kandidaat wanneer hy die kursus geslaag het, begin nou eers. Niks en niemand kan ervaring koop nie! Terloops, daardie jare het ondersoekers op misdaadtonele nie van skoenbedekkings en katoen-/chirurgiese handskoene gebruik gemaak nie. Ons het net maar versigtig gewees waar ons trap, waar ons vat en wat ons merk.

Kom ek gaan verder met die gedesentraliseerde opleiding en toesprake waarby die Indiensopleidingseenheid se dosente, en ek in besonder, betrokke was:

Die Provinsiale Departement van Gesondheid het SAP Hoofkantoor versoek dat iemand die personeel van Sterkfontein Psigiatriese Hospitaal te Edenvale moet kom voorlig m.b.t. die gevaar dat hulle instansie dalk deur terroriste aangeval kan word, óf dat terroriste dalk die hospitaal as pasiënte kan infiltreer en dit dan as afspringplek vir onheilige dade in die Oos Rand kan gebruik. Daar is deur hoofkantoor aanbeveel dat ’n offisier hulle sou voorlig m.b.t. die beginsels van doeltreffende waarneming en hoe hulle dit wat hulle waargeneem het, op skrif kan stel. Dit sou sowat ’n halfuur in beslag neem.

Die meetsnoer het op my geval om as gasspreker voorligting vir die verpleegpersoneel en werkers te gaan gee. Ek het die ontspanningsaal betree, nadat die superintendent van die hospitaal my ontvang het en tee aangebied het. Ons het lekker in sy kantoor gesels en toe het ek eers verneem dat, veral die swartwerknemers, bang is dat hulle nie ’n terroris sou kon uitken as hulle iemand vreemd op die terrein sou opmerk nie. Nou moes ek impromptu ook my voorbereide aanbieding in daardie rigting aanpas. Ek was in uniform geklee en al my medaljelinte was op die linkerbors op ’n medaljelintspeld. Nadat ek myself aan hulle voorgestel het, en gemeld het waaroor ek hulle gaan toespreek, het ek my rug op die gehoor gedraai en my regterhand op die medaljelintspeld geplaas en my linkerhand oorkruis op my regterbors. Toe draai ek weer met gesig na die gehoor toe. Ek het, steeds met my hande op my linker- en regterbors onderskeidelik, die volgende vraag aan my toehoorders gestel: (Daar was wit- en swartvroue verpleegsters en -susters en ’n paar manlike verpleërs, ’n dokter of twee en ’n klomp skoonmakers in blou oorrokke.) “Aangesien ek onder andere met julle gaan gesels oor waarneming/observation, gee ek julle die geleentheid om nou vir my te sê hoeveel medaljelinte het julle op my medaljelintspeld getel, en op watter bors dra ek dit?”

Ek kyk na hulle en nou gons dit letterlik en hulle praat onder mekaar. Terwyl ek só met gekruisde arms op my bors staan, begin ek ’n paar individue uitsoek in die gehoor en vra hulle wat hulle antwoord op my vraag is.

Soveel mense wat gevra is, so veel antwoorde het ek gekry. Heelwat van hulle het gesê op my regterbors, ander op die linkerbors, een het sowaar gesê daar is geen medaljelinte op my uniformbaadjie nie. Die aantal medaljelinte het gewissel van een tot omtrent 12, amper gelykstaande aan die medaljelinte van die Amerikaanse oorlogrolprente waar ’n generaal in uniform se medaljelinte vertoon word. Ek laat sak my hande en nou moet jy hoor hoe gesels die mense. Nou is daar baie vrae oor waarvoor is die medaljes aan my toegeken, en of dit ware goud- en/of silwer is waarvan die medaljes geslaan is.

Ek het nou die gehoor se aandag gehad en ek kon heel rustig my voordrag doen. ’n Aanbieding wat slegs ’n halfuur sou wees, soos versoek, het na ’n uur nog steeds aangegaan soos die gehoor my met vrae gepeper het. Wel, alles het goed afgeloop en ek is later deur Hoofkantoor, via ons bevelvoerder, verwittig dat die hospitaal hulle dank per brief uitgespreek het vir die voorligting wat hulle ontvang het. ’n Veer in my hoed, maar dit kon só anders verloop het in ’n veelrassige gehoor! Terloops, toe ek as generaal-majoor afgetree het, het ek sewe medaljelinte op die medaljelintspeld gehad. Tydens die voordrag het ek net ses linte gehad. Hieronder is ’n afbeelding van my medaljes wat aan hulle onderskeie linte op ’n speld geheg is. Die medaljes wat aan ’n persoon toegeken word, word in volgorde van belangrikheid op die medaljespeld gemonteer. As ‘n mens voor die persoon staan, begin die medalje van regs na links georden. Hierdie medaljes word slegs gedra tydens ’n medaljeparade of wanneer daar spesifieke opdragte is dat lede hulle medaljes moet vertoon. Vir alledaagse werksuniform word net die speld met linte op jou linkerbors gedra. Op jou menasiepak, word miniatuur-medaljes op ’n medaljespeld gedra.

Die sewe medaljes aan hulle linte. Sien die benamings van elke medalje onder Hoofstuk 20 Par. 20.1. (Foto: Ben)

Hoofkantoor het jaarliks uitnodigings per brief van die Hoof van die weermag ontvang om hulle Senior Staf- en Beheerkursus (SSBK) vir die Leer-, Lugmag -, Vloot en Geneeskundige Dienste se offisiere te Voortrekkerhoogte te kom toespreek. Ons was drie offisiere van die Indiensopleidingseenheid wat op ’n rotasiebasis dié weermag instellings besoek en voorligting m.b.t. ‘Die Samewerking tussen die SAP en SA Weermag’ gaan aanbied het. Die drie was Hennie Fischer, hy het later ook saam met my as generaal-majoor uit die Mag getree en William (Bill) Knight. Bill het as kolonel met pensioen uit die Mag getree en is reeds oorlede. Ekself was ook by hierdie voorligting-sessies betrek. By een só ’n kursus was my swaer, Johannes (Schalk) van Schalkwyk, ook ’n kursusganger. Ons het via Hoofkantoor gewoonlik ’n evalueringsverslag van die instellings ontvang m.b.t. die toepaslikheid van die onderwerp, die inhoud daarvan en die aanbiedingstyl en

die aanbieder se profiel. Ons evaluerings was gelukkig nooit onder die 80% nie. ’n Soortgelyke lesing was ook aan die Gesamentlike Stafkursus (GSK), wat deur die SA weermag vir hulle topbestuurders, en senior personeel van die verskillende Staatsdepartemente en selfs, by geleentheid, senior offisiere van Mauritius en Taiwan se weermagte, aangebied.

Die volgende twee sersantkursusse is in die ware sin van die woord nie gedesentraliseerde opleiding nie, want dit het in Pretoria plaasgevind, maar nie by die SA Polisiekollege waar ons lesinglokale was nie, daarom word dit ook onder hierdie hoofstuk behandel. Sersantkursusse vir SAP hoofkantoor en kwartiermeester se sersante, as eerste vlak bestuurders, het ook op ons beplanning van kursusse vir die jaar, verskyn. Daar was vier offisiere van ons eenheid betrokke en daardie kursusse was ‘opleiding in diens,’ met ander woorde, by hulle standplase in hoofkantoor en by die kwartiermeester. Hierdie kursusse het net veertien dae geduur en ons kon gelukkig tydens daardie tydperk tuis inwoon en het daagliks met ’n diensbussie na die opleidingslokale gegaan.

Ek meld net kortliks hoekom die taak van gedesentraliseerde opleiding van die Indiensopleidingafdeling af oorgeplaas is na elke polisie-afdeling in die RSA:

Hoofkantoor het ’n nuwe beleid van gedesentraliseerde opleiding daargestel naamlik dat dit die verantwoordelikheid van alle Afdelingskommissarisse in hulle onderskeie afdelings is en dat dit daar sal plaasvind. Ten tye van hierdie beleidsverandering was ek nie meer by indiensopleiding nie en die afdeling het toe ook ’n naamsverandering ondergaan. Die nuwe benaming was Gevorderdeopleiding en is vanaf die polisiekollege na die voormalige Paarl Onderwyskollege verskuif wat deur die Departement van Openbare Werke aan die polisie toegeken is as ’n opleidingskollege toe die Paarl Onderwyskollege gesluit het.

Die redes vir die verandering was, dat:-

Eerstens, Indiensopleidingsdosente hoef nie so baie rond te reis om kursusse aan te bied nie, Tweedens, sodat kennis, vaardighede en produktiwiteit van alle dienende junior lede in elke afdeling kan verbeter, en

Derdens, daar is opleidingsbehoeftes in elke afdeling wat eie is aan daardie gebied, wat dan op voetsoolvlak met opleiding reggestel kan word.

Elk van die destydse polisie-afdelings, daar was sowat 14 van hulle, waar afdelingskommissarisse die septer geswaai het, het opleidingsgeriewe (lokale) gekry met alles wat nodig is soos byvoorbeeld, lessenaars, stoele, skryfborde, blaaiborde, opleidingshulpmiddels en hulle eie opleidingsbeamptes, ens. Ons afdeling het toe ’n veertien dae opleidingsbeamptekursus vir luitenante en kapteins aangebied wat gedesentraliseerde opleiding in hulle polisie afdelings moes gaan doen. Daar was dan indiensopleiding op ’n man-tot-man basis aan junior personeel, wat in hulle afdeling gestasioneer was, gegee. Dit het baie besparing op SAP Hoofkantoor se opleidingsbegroting teweeggebring, want elke afdeling is nou getaak om hulle eie opleidingsbegroting op te stel. Kursusse vir lede van die SA Polisie se offisierskorps was steeds die verantwoordelikheid van ons afdeling. Ons afdeling moes egter nog gereeld geskrewe lesings, uit ons biblioteek, aan die gedesentraliseerde opleidingseenhede voorsien.

13.2 Take, ander as opleidingsbeampte, wat verrig is Alhoewel my dienste op die grens nie opleiding was nie, en ek later te Mafikeng in ’n administratiewe hoedanigheid diens verrig het, het ek dit goed gedink om daardie dienste nie hier te meld nie, maar onder aparte afdelings omrede daar soveel interessante inligting is wat ek meer breedvoerig kon behandel. Nadat ek vanaf Mafikeng na SA Polisie-hoofkantoor verplaas is, het ek tot my aftrede administratiewe dienste verrig. Ek wil tog nog die volgende dienste wat ek verrig het waar ek nie

direk met opleiding gemoeid was nie, terwyl ek nog in opleiding as ’n dosent gestaan het, kortliks vermeld:

Elke jaar word daar ’n klomp polisiekonstabels, sersante en adjudant-offisiere vanaf hoofkantoor, die kwartiermeester, SA Polisiekollege en vanaf polisiestasies in en om Pretoria, aangesê om dienste by die Pretoriase landbouskou te gaan verrig. Ek was toe as die bevelvoerder van daardie kontingent polisiebeamptes by die Pretoria skou van 1972 aangewys. Dit was gedurende Augustus en daar was toe, vir die eerste keer, ’n paar blanke vrouekonstabels onder die manskappe wat daar diens moes verrig. Alle arrestasies soos dronkenskap, diefstal, diefstal uit motorvoertuie, dronkbestuur, aanranding, oproerige gedrag en beskadiging van eiendom, was per patrolliewa na die Pretoria-Wes polisiestasie afgevoer vir aanhouding. Ons het ’n aanklagkantoor in die kleine beman waar daar wyksersantrapporte, voorvalleboek en ’n brandkluis was waarin die lede se vuurwapens en bewysstukke toegesluit kon word. Die interessantste insident wat ek wil meld is toe ’n vroue konstabel ’n witman met haar knuppel oor die kop geslaan het. Dit het só gebeur:

Konst. (v) Aurora van Staden, die dogter van kaptein Buks van Staden wat die polisie se beeldhouer was, het saam met my ’n rondte deur die skouterrein gestap. Ons kom drie jong witmans teë wat van voor uit die biertuin in ons rigting aangestap kom. Toe hulle by ons kom sê die een ou vir Aurora:- “O, jy is mos ’n PSB!”

Sy vra toe: “Wat bedoel jy?” en hy antwoord, “Dis ’n polisieman sonder balls!” Al drie van hulle lag kliphard en hulle wou nog wegslinger, maar Aurora sê niks, trek net haar knuppel uit haar tuniek se linkermou en slaan die ou een geweldige hou oor die kop. Hy is skoon nugter geskrik, val op die grond met ’n moerse knop op sy kop en die ander twee hol weg. Ek tel die man op en Van Staden sê sy wil ’n klag van ‘Crimen Injuria’ teen hom lê. Hy word gearresteer en aanklagkantoor toe geneem waar hy deur die boeke gesit en na PretoriaWes polisiestasie afgevoer is. Ek het haar later aangespreek en gesê dat sy eintlik haar magte oorskry het, want daar was geen fisiese geweld teenoor haar nie, maar dat sy reg opgetree het deur hom vir ‘Crimen Injuria’ aan te kla. Jong, hierdie insident het gou-gou onder die polisiemanne versprei en hulle het haar, met groot gelag, kom gelukwens met haar eerste arrestasie! Die man was die volgende dag voor die hof en Van Staden het kom vertel dat hy op die aanklag skuldig gepleit het, maar niks van die hou wat hy oor sy kop gekry het, aan die landdros gemeld het nie. Ons kan nou maar só stilweg lag oor hierdie insident. It serves him right! Ek wonder wat hy eendag vir sy kinders en kleinkinders gaan vertel – dalk dat ’n polisieman sonder ‘balls’, maar met ’n knuppel, hom gemo*r het! Ha, ha.

Die tweede geleentheid wat ek wel onder hierdie afdeling wil meld, is toe ek in beheer van die groep polisiebeamptes was, wat tydens die Engelse rugbytoerspan (Die Leeus) van 1973, te Loftus Versfeld, teen Hannes Marais se Springbokspan gespeel het.

Daardie jaar was brigadier Buurman van Zyl, dieselfde vetgat omie by wie ek in Port Elizabeth in 1953 as rekruutkonstabel aangesluit het, die afrigter van die destydse Noord-Transvaalse rugbyspan. Hy was die SA Polisie se sportoffisier en te Hoofkantoor gesetel. Hy was getaak om vooraf die dienste van die polisiekontingent by die rugbywedstryd uit te werk en te reël dat daar genoeg polisiebeamptes aan diens is. Ek was toe as kaptein, en nog steeds by indiensopleiding gestasioneer, in bevel geplaas van omtrent 100 polisiebeamptes met onderoffisiersrange. Die bestuurder van die Noord Transvaal se Rugby Unie, was Robert Denton. Watter windgat was hy nie! Hy het gedink dat hy in beheer van die polisiemanne is en dat hy hulle kan rondstuur en aan hulle opdragte gee. Hy het dit selfs met my ook probeer doen. Toe van die polisiemanne by my kom kla oor Robert se aanmatigende en baasspelerige houding, het ek hom gaan spreek. Ek het hom toe mooi laat verstaan dat ek in bevel van die polisiebeamptes is, dat ek alleen oor hulle bevel voer,

dat ek my opdragte op skrif van brigadier Buurman gekry het en slegs verdere opdragte van hom sou ontvang.

Ek moet darem eers vertel hoe die ou Loftus Versfeldstadion in daardie jaar daar uitgesien het. Daar was ’n oostelike oop paviljoen van asbessitplekke en tussen die oostelike paviljoen en die speelveld was daar, so ongeveer 10 rye, net soos by Nuweland in Kaapstad, staanplek vir ongeveer 1000 toeskouers. Hierdie staanplekke se staanoppervlak was op kontoervlakke, wat al hoër opgaan na die asbessitplekke se eerste ry. Só kon die toeskouers oor hulle mede staande vriende se koppe die veld en die spel sien. Daar was ook sulke dwarsbalke op kort staanders waarop die staande ouens met hulle arms kan leuen. (Amper soos die vasmaakplekke van die cowboys se perde wat in die Westerns gewys word.) Daardie kaartjies se pryse was uiteraard die goedkoopste. Die Westelike paviljoen was onder dak en die sitplekke was sulke aanmekaar houtbankies wat bo-op die sitgedeelte met nommers gemerk is. Die sitpleknommers was slegs sowat 18duim (±48cm) van mekaar gemerk. Van die plek-aanwysers het na Robert toe gegaan en gesê dat daar gesette mans en -vroue op sitplekke sit wat een en ’n halwe sitplek beset en ander kaartjiehouers raak omgekrap omdat hulle nie op hulle bespreekte plekke kan sit nie.

Ek word oor die stadion se luidsprekersisteem geroep om na die Unie se kantoor agter die hoofpaviljoen te gaan. Ek weet nog nie waaroor dit gaan nie. Toe ek daar aankom en Robert die probleem van sitplekbesetting deur groot mans- en of vroue aan my meld en my opdrag gee dat ek die vetgatte moet aansê om net een sitplek te beset, dis toe wat ek hom vertel dat hy moenie sy probleem myne maak nie. Watter “simple” opdrag, ek kan vetgatte mos nie skraler maak nie. Ek het toe sy kantoor verlaat. Ek het toe maar aangegaan om die polisiemanne wat op strategiese punte diens gedoen het, te gaan besoek. Ek word later weer oor die luidsprekersisteem vanuit die Unie se kantoor gevra om kantoor toe te kom en brigadier Buurman van Zyl te kom spreek. Ek het gedink ek weet nou waaroor ek geroep word. Ek gaan toe. Ek is ’n kaptein en Buurman ’n brigadier en nou moet ek hom as my meerdere respekteer en opdragte van hom nakom. Hy meld niks oor die vetgatte se sitplekbesetting nie, maar sê toe:

Só sien die huidige Loftus Versfeld daar uit. (Foto: Google)

“Kaptein, ons het daardie mense wat op die staanplekke sit, herhaaldelik gevra om te staan sodat dié wat nog buite wag, ook kan staanplek kry. Hulle raak baie ongeduldig en dreig om die ingangshek oop te beur om sodoende in te kom.”

“Ja, brigadier”, sê ek, “maar weet u dat daardie mense wat daar sit, in plaas van om te staan, mense is met piekniekmandjies, vrugte, nartjies, waatlemoene, braaiers en bottels Coke. (Dalk was daar iets meer saam met die Coke). Daar is ook ’n paar pappas en mammas met hulle babas in stootwaentjies. Die situasie kan eintlik plofbaar raak as ons sou vra dat hulle moet staan.”

Buurman sê: “Probeer maar.”

Robert is ook by hierdie gesprek teenwoordig, maar sê niks. Ek verlaat die kantoor en kry tien polisiemanne en dra die opdrag van brigadier Buurman aan hulle oor. Hulle stem almal saam dat ons eintlik vir moeilikheid gaan soek as ons dit gaan doen.

Ek sê: “Kêrels ’n opdrag is ’n opdrag, kom ons maak die beste van ’n slegte saak.”

Ons gaan die staanplekrye, vanaf die noordekant, in en sovêr ons loop vra ons die mense om op te staan. Party lag, staan op, skud die gras van hulle sitvlakke af, ander snou ons allerhande name soos bv. Platpote, fuzz en ander kwetsende woorde toe.

Nog ander het gesê: “Doen julle nou Denton se joppie vir hom?” óf

“Ag man, moenie só ernstig wees nie,” en nog gesegdes wat gelukkig nie skel- of vloektaal is nie. As dit vuiltaal was, dan sou ons die enkelinge moes arresteer. As ons dít sou moes doen, dan wil ek nie eers dink in watter penarie ons, ons sou bevind het nie. ’n Relatiewe rustige sportskare sou dan in opstand kom en in ’n gepeupel ontaard, want hulle sou nie wil sien dat van hulle mede rugbyondersteuners gearresteer word nie. Ek loop maar saam met die manne. Ek kyk om en dié wat aangesê was om op te staan, sit al weer. Toe ons die hele lengte van die staanplekke se rye deurgeloop het, begin ons nou op ons terugtog na die noordekant toe. Nou herhaal die proses homself. Ons sê maar weer: “Staan asseblief op en bly staan.”

Toe ons mooi almal in die middel van die staanplekke se rye op ons terugtog is, begin die ouens wat op die oostelike ooppaviljoen sit, ons met nartjies peper. Van die sittende toeskouers wat moes staan, loop ook deur. Ek sê vir die polisiemanne: “Halt.”

Almal gaan staan en ons kyk na die ooppaviljoen en alles raak net stil om ons. Van die jong konstabels wil net na die nartjiegooiers gaan om hulle te arresteer. Ek keer hulle en ek sê vir die manne: “Kom ons loop dat ons by ons plekke kan kom.”

Ons vertrek en almal neem hulle aangewese plekke rondom die veld in. Ons uniforms is pap-nat van die nartjiesap. Ek stap na die Unie se kantoor en kry brigadier Buurman en Robert daar. Ek wys hoe lyk my uniform van die nartjiesap en sê: “Brigadier ek is jammer, ek stuur nie weer my manne tussen daardie klomp “hooligans” in nie. Kan ek maar gaan?”

“Ja,” antwoord hy.

Denton en Buurman van Zyl herhaal oor die groot luidsprekers die versoek dat die mense asseblief moet staan. Hulle sê dat hulle eers kan gaan sit, wanneer die ander kaartjiehouers van staanplekke by die toegangshek inkom. Dit het die gemoedere so effe laat afkoel, maar tog was daar so hier en daar ’n vuisgeveg tussen die staande toeskouers. Dit het die polisiemanne wat by daardie deel diens gedoen het, gou-gou uitgesorteer.

Die nartjiesap het intussen droog geword en ons het darem die wedstryd kon sien. Ek roep die groep polisiemanne bymekaar nadat die wedstryd klaar was om appél te hou en bedank hulle vir die goeie

werk wat hulle gedoen het. Ons vertrek, maar daar bly net so hier-en-daar van die toeskouers oor. Hulle het seker die wedstryd oorgespeel! Ha, ha. Kan julle my kwalik neem dat dit die heel laaste keer was wat ek op Loftus Versfeld was en dat ek nou nog vir die WP en Stormers ondersteun i.p.v. die destydse Noord-Transvaal, tans die Blou Bulle en/of Bulls?

Ek het natuurlik ’n volledige skriftelike verslag na Hoofkantoor via kolonel Stevens van die diens wat ons daar verrig het, gestuur. Niks verder gehoor nie behalwe om ’n ‘dankie vir die diens’ wat vanaf Stevens gekom het. Dit was ook die laaste keer dat ek by Loftus Versfeld gaan diens doen het.

Soos wat ’n plattelandse polisiebeampte, in besonder die sersant in die ou bedeling, die spreekwoordelike speld met die grootkop moet wees, só is ’n polisie-offisier vanuit Pretoria Hoofkantoor, in besonder in die junior range, ook uitgelewer aan hoofkantoor se grille en giere. Hulle moet dan allerhande dienste gaan doen wanneer daar dienste van beveiliging iewers in Pretoria gelewer moet word. Ons het dit soms geniet, want dit was iets anders as om by hoofkantoor ’n pennelekker of dosent te wees. Dan val die meetsnoere gewoonlik op ’n offisier met die rang van luitenant of kaptein om beheer te neem van ’n klomp onderoffisiere tydens die verrigting van sodanige diens.

Ek moes by een so ’n geleentheid ’n klomp polisiebeamptes hanteer en beheer wat wagdienste by die Burgerspark-hotel in Pretoria, moes verrig toe die sekretaris van die Verenigde Volke Organisasie (VVO) Henry Kissinger, kom samesprekings hou het met die SA Regering oor die onafhanklikheidswording van Suidwes-Afrika. Terloops, dit was nadat Kissinger ook in 1972, terwyl ek op grensdiens was, met die administrateur-generaal van Suidwes-Afrika en RSA se minister van Buitelandse Sake samesprekings gevoer het. Die hotel se twee boonste verdiepings was afgesonder vir Kissinger, sy amptenare en Amerika se Intelligensiedienste/Central Intelligence Agency (CIA) se veiligheidsbeamptes. Hulle het ook in skofte gewerk en in en om die hotel observasie gehou. My manne moes voor die hotel en in die straatblok waar die hotel geleë is, rondtediens stap. Dit was van vroegoggend tot laat in die nag en ook nog die volgende dag. Ek moes die nodige diensure van die polisiebeamptes uitwerk en ook die gedeeltes van die straatblok wat deur hulle gepatrolleer moes word aan hulle bekend maak. Ek het die eerste dag gewerk deur die lede gereeld te besoek en om ongeveer 9nm (21:00) huis toe gegaan. Ek het weer om 1vm (01:00) die volgende oggend by die lede kom besoek aflê. Ek het toe maar deurgewerk totdat ek vanaf Hoofkantoor berig ontvang het dat die beveiligingsdienste om ongeveer 1nm (13:00) kan onttrek. Kissinger en sy entourage het toe met Pretoria se verkeersbeamptes, met loeiende sirenes voor, en drie Amerikaanse swart Cadillac ampsmotors op ’n streep agterna, vertrek. Daar was ongemerkte SAP veiligheidsmanne en ook van die Buro van Staatsveiligheid / ‘Bureau for State Security (BOSS)’ se lede in die hotel ontplooi. Só het nog ’n diens ten einde geloop wat niks met opleiding te doen gehad het nie. Tydens hierdie diens het ek teruggedink aan die tyd toe ek as ’n jong konstabel rondtediens in Port Elizabeth se strate moes stap en later toe ek ’n sersant was ook konstabels op my toer van diens moes gaan besoek. My bene het gelukkig hierdie buitengewone oefening tydens die lang ente se stadige stappery, gehou.

Terwyl ek nog by Indiensopleiding met die rang van majoor was, roep ons bevelvoerder, kolonel G.S. (Ghoeramuis) Engelbrecht, my. Hy sê dat Hoofkantoor vra dat een van die Indiensopleiding se majoors, as aides-de-camp vir die Staatspresident, meneer PW Botha, moet optree. Julle sê julle weet nie wat hierdie Latynse woord beteken nie? Wel my liewe leser, volgens ’n Verklarende Woordeboek beteken dit ‘persoonlike-adjudant’ of ‘vleuel-adjudant’. Kortweg verduidelik, kry die Baie Belangrike Persoon (BBP) twee kapteins wat met koorde en epoulette van goudkleurige gevlegte draadjies van regs na links oor hulle borskas behang en vasgeknoop word waaraan twee moerse tossels hang. Die twee offisiere tree dan op as die BBP se hulp. Lyk baie soos ’n mynwerker se trapfiets wat met allerhande blink goeters versier is. Is julle nou tevrede?

So lyk die gevlegte koorde en tossels van ’n Aides-de-camp (Ek het die gesig op die foto uitgeblok. Foto - Google)

Wel, Staatspresident Botha sal as geleentheidspreker tydens die uitpaseringsparade van 1000+ studente en bykans 200 nuwe luitenante, by die SA Polisiekollege optree. Gewoonlik word twee kapteins as aides-de-camps vir hoogwaardigheidsbekleërs wat by ’n parade gaan optree, genomineer, maar by hierdie geleentheid was die privaatsekretaris van meneer Botha, vlootkaptein Ters Ehlers, deur meneer Botha aangesê om as een van sy aides-de-camp’s op te tree. Daarom soek Hoofkantoor ’n majoor om darem ’n rang, amper gelyk aan dié van ’n vlootkaptein wat gelykstaan aan ’n kolonel, as tweede aides-de-camp op te tree.

Die mantel het weer op my geval om hierdie taak te gaan verrig. Ek moes saam met die offisier in bevel van die parade, majoor Alwyn Lesch, na die Uniegebou gaan om die verloop van die parade aan hierdie see-otter (dis mos die bynaam wat ons polisie vir vlootoffisiere gee) Ehlers, te gaan verduidelik. Ons moes met sketse wys hoe die parade opgestel gaan word en watter roete die Staatspresident sou stap tydens die inspeksie van die parade.

Daarna moet die aides-de-camp’s stelling langs die podium inneem en daar bly staan totdat die parade verby marsjeer het en die Staatspresident die saluut waargeneem het. Daarna moes ons weer voor die hele prosessie vanaf die podium loop na die onthaalarea waar ons nou ons sabels, Sam Browne lyfbande en pette kon afhaal om saam met die ere-gaste te verkeer. Ehlers het toe nooit saam met my by die parade kom oefen nie, maar gelukkig het ons tydens die werklike parade geen deurstampe gehad nie. Die deel van die BBP-prosessie waar die inspeksie plaasgevind het, was deur SAUK-televisie gebeeldsend. Ek was ook saam met die see-otter op film vasgelê. Ek was toe ongevraag ook een van die belangrike persone! – Ou brêk gat!, of wat sê julle?

Soos ons familie in rou gedompel was met oupa en ouma Dupie se afsterwe, het ons ook weer voor die geopende grafte van oupa Flip Scholtz op 18/01/1989 en ouma Annie Scholtz op 24/11/1990 gestaan. In beide gevalle moes ons per motor reis na Port Elizabeth waar die teraardebestelling plaasgevind het. Weer eens met baie van die niggies en neefs aan Corrie se kant, by hernuwing met ons kennis gemaak.

Om by die voormelde paragraaf aan te sluit, word daar vir algemene kennis gemeld dat ons reeds jare gelede besluit het om veras te word en ons as in ‘n nis by die Voortrekkermonument gehou moet word. Die grootste beweegrede was omdat daar nou sovele begraafplase in ons land nie in stand gehou word nie en daar onwelkome rondlopers en sluipslapers daar skuil wat die besoeke aan (’n) graf(te) van geliefdes gevaarlik maak vir persone om daar stil-tye by (’n) afgestorwene(s) se graf(te) te verkeer!!

Ons gaan gereeld in Swellendam, wanneer ons daar met vakansie is, die grafte van oupa en ouma Dupie besoek. Daar sien ons ook hoe swak die begraafplaas onderhou word. In Pretoria se drie grootste begraafplase is die instandhouding sprekend afwesig. Gras en vuilgoed staan oral kniehoogte en van die grafstene lê omgegooi en waar daar marmerbeeldjies op ’n graf is, lê heelwat stukkend langs die grafte.

(Foto’s Ben)

Met sulke vandalisme in gedagte het ons toe ’n nis in die gedenktuin van die Voortrekker-monument gekoop. Hierbo word die sertifikaat afgedruk. Die granietsteen is reeds gegraveer met net die afsterwedatums wat ontbreek. Die Bybelvers is dieselfde een wat die besoekende predikant in Pretoria-Noord ons kom troos het toe ouma Dupie oorlede is. (2Kor 5 : 1b ....Wanneer ons aardse verblyf, wat net ‘n tentwoning is, afgebreek word, ons ‘n permanente blyplek by God het.)

Hierdie hoofstuk word nou afgesluit. Ons wedervaringe te Mafikeng, waarnatoe ek gesekondeer is om beheer uit te oefen oor al die SAP se gesekondeerde polisiebeamptes aan Bophuthatswana polisiemag en om terselfdertyd as adviseur vir die BOP-polisiekommissaris op te tree, word onder die volgende hoofstuk uiteengesit.

HOOFSTUK 14: SEKONDERING EN VERPLASING NA MAFIKENG

Gedurende Julie 1985 was ek by Gevorderde opleiding in die SA Polisiekollege. Hoekom die nuwe benaming? Soos reeds vroeër vermeld, het ons eenheid ’n naamsverandering vanaf Indiensopleiding na Gevorderde Opleiding ondergaan. Die gedesentraliseerde opleiding, wat eintlik ‘opleiding is terwyl lede nog in diens staan’, is oorgedra na die afdelings in die SA Polisie waar die afdelingskommissarisse nou verantwoordelikheid daarvan moes neem. Gevorderde Opleiding het dus net gegaan oor opleiding wat aan polisiebeamptes en -offisiere gegee word wat op bevordering staan en/of wat in sekere vaardighede en kennis opgelei moet word wanneer hulle na gespesialiseerde afdelings in die Mag verplaas word.

My bevelvoerder, brigadier G.S. Engelbrecht, het my aangesê om generaal-majoor Ben Stevens by hoofkantoor te gaan spreek. Julle sal algaande sien dat die lede wat van tyd tot tyd in hierdie boek

genoem word, nie in rang stilgestaan het nie, maar bevordering gekry het. Só is Engelbrecht bevorder en het as brigadier afgetree en Stevens het later as luitenant-generaal afgetree. Ek kom in hoofkantoor aan en Stevens se sekretaresse ontvang my en Stevens kom haal my by sy kantoordeur. Hy sê: “Sit Dup, ek wil met jou praat oor ’n moontlike verplasing.”

Wel, ek is bang dat hy iets van my te hore gekom het wat nadelig is vir opleiding en dat ek nie meer as dosent daar kan aanbly nie. (Dis mos net menslik om bang te wees, nie waar nie?)

Gelukkig is hy ’n persoon wat redelik op die man af is met sy gesprekke en hy breek die spanning in my toe hy sê: “Claasen wat by Bernie Mostert te Mafikeng oorgeneem het as bevelvoerder oor die gesekondeerde lede te Bophuthatswana, het nonsens aangejaag (in polisie taal sê ons sommer dubbel K middel A aangejaag) en hy moet dringend vervang word. Ek wil graag hê dat jy sy plek moet neem. Hoe voel jy oor dit?”

Die seuns was nou reeds almal volwasse manne en met die uitsondering van Christo en Nico, was die ander drie reeds getroud en uit die huis uit. Ek antwoord: “Generaal, ek het nie beswaar nie, maar ek het my eie huis en dis baie kort kennisgewing, en ek sal dit seker nie gou verhuur kry nie.”

Hy antwoord toe dat hy met die kwartiermeester sal gesels en vir hulle vra om my woonhuis op hulle lys van wonings te plaas om dit op ’n staatshuurnemingskema aan lede van die polisie te kan verhuur. As dit gebeur, het ek geen beswaar nie, en ek word van voorligting voorsien wat my taak alles te BOP-polisie sal behels.

Bophuthatswana was een van die Nasionale Tuislande, wat onafhanklikheid van die RSA gekry het en dit het reeds as selfstandige Republiek tot stand gekom. Daardie Republiek het uit sewe (7) stukke grondgebiede bestaan wat oor die ou-Transvaal- en Vrystaatprovinsies gestrek het. Die eerste president was Kgosi (Hoofman ) Lucas Mangope. Die naam van die dorp Mafeking was toe verander om Mafikeng te heet. Ek stem in en die aand tuis het ek met Corrie gesels en haar van die verwikkelinge vertel. Sy het ook geen besware geopper nie, en geredelik saam met my gestem dat die verplasing ’n ander terrein van ervaring vir beide van ons sal oopmaak. Generaal Stevens het beloof dat hy alles met meneer Van der Walt, die RSA se Ambassadeur te Bophuthatswana, sal uitklaar. Die eerste sekretaris, meneer Hennie Starbuck, sal met my kontak maak sodat my verplasing en verpakking en vervoer van ons meubels en huishouding gereël kan word.

14.1 Vertrek en aankoms te Mafikeng

Starbuck, by die Suid-Afrikaanse Ambassade te Bophuthatswana, skakel my en meld dat hy nou alle reëlings, in samewerking met die SA Polisie, sal tref vir my sekondering. Hy sê dat die SuidAfrikaanse Departement van Buitelandse Sake gebruik maak van Baron’s meubelvervoerders wat te Pretoria gesetel is. Hulle sal met my skakel. Baron’s skakel my en ek verstrek ons woonadres te Pretoria-Noord en gee telefonies ook ’n opgawe van ons meubels en persoonlike besittings vir hulle. Daar word ooreengekom dat hulle die eerste week in Augustus ons verhuising sal waarneem. Ek besoek die SA Polisie se kwartiermeester en verstrek die besonderhede van ons woning te Wesstraat 302, in Pretoria-Noord aan die behuisingafdeling. Ek moes ook ’n geskrewe ooreenkoms met die Staat aangaan. Die kwartiermeester sal die nodige reëlings tref m.b.t. die verhuring van ons woning aan (’n) polisiebeampte(s) wat vir die bewoning van wonings onder die staat se huurnemingskema kwalifiseer. Die huurgeld sal maandeliks van die huurder se salaris verhaal word en in my huislening se rekening te Absa-Bank, deur die Betaalmeester-generaal van die SA Polisie inbetaal word

Wel, Baron’s kom baie vroeg die môre op die afgespreekte datum by ons huis aan en hulle begin dadelik die pakkery met alle erns aanpak. Ons het net ons dra- en onderklere in koffers gepak en in

ons motor gelaai. Ons het werklik baie goeie diens van Baron’s ontvang. Al die klere in die hangkaste wat op klerehangers gehang het, is netso in kartonklerekaste opgehang en verseël. Ons het net gestaan en toekyk hoe Baron’s se vier pakkers alles gepak en ingelaai het. Omdat ek Oujaarsnag 1984 ’n Nuwejaarsvoorneme gemaak het om op te hou om te rook, het ek al my rookpype, tabakhouer en ander rookgoeters, wat reeds vanaf 1 Januarie 1985 in die een ingeboude kas gestaan het, aan een van die pakkers geskenk. Drie van die vier pakkers was nie rokers nie. Die een wat die rookgoed ontvang het, was natuurlik bly om die duur rookpype as ’n vroeë Kersgeskenk te kon ontvang.

Ek en Corrie het toe maar per motor na ons nuwe woning te Akasiastraat, in die woonbuurt Mimosapark in Mafikeng vertrek. Terloops, die dorp Mafikeng het sy tweede naamsverandering gedurende 2009 ondergaan toe dit na Mahikeng hernoem is. Hoekom weet die vader alleen. Ons was natuurlik voor die meubelvervoerwa daar en het heel eerste by die BOP-polisie se hoofkantoor aangemeld en die kommissaris, brigadier Seleke, ontmoet. Daarvandaan het ons na die woning gery en toe vir Claasen en sy eggenote daar ontmoet. Hulle was toe reeds in afwagting van die aankoms van ons meubels. Hulle meubels sou weer deur dieselfde Baron’s na sy nuwe standplaas te Lichtenburg vervoer word. Op pad na ons nuwe woning word ek in Cunninghamstraat in Mafikeng deur ’n verkeersbeampte gestop omdat ek te vinnig gery het. Ek het die 60km per uur spoedbeperking in die dorp met ’n paar km p/u oorskry. Ek neem toe maar die boetekaartjie in ontvangs. Sal later daaraan aandag gee.

By die huis waar Claasen en sy eggenote vir die meubelvervoerwa gewag het, het ons toe van die SA Polisie se gesekondeerde lede ontmoet. Onder andere vir luitenant Van der Merwe en kaptein Tim Slabbert. Baron’s het sowat ’n uur na ons arriveer en hulle het alles, maar alles weer uitgepak en in die onderskeie vertrekke reggepak. Ons het ons klere in die hangkaste opgehang. Niks gekreukel nie. Dit was, soos Corrie sê, ‘die maklikste trekkery van haar getroude lewe.’ Een van haar beste rokke het egter aan ’n metaalstrook in een van die kartonhangkaste vasgehaak en dit was beskadig. Ons het ’n eis ingedien en dit was sonder enige gekibbel gou-gou deur Baron’s betaal.

Nadat alles ’n plek gekry het in die groot huis wat in ’n ondestebo ∩-vorm gebou is, met 22 vensters, het ons vroeg-vroeg ter ruste gekom. Ek moes egter weer dorp toe gaan en by Mafikeng polisiestasie vir adjudant-offisier Kady O’Callaghan kry sodat hy my na ’n hardewarewinkel kon vergesel waar ek krane en koppelpype vir ons wasmasjien moes koop. Ons sou later nog materiaal vir die 22 vensters, waarvoor ons nie genoeg van ons Wesstraat-huis se gordyne gehad het nie, gaan koop. Gelukkig het die ambassade ook vir die aankoop van nuwe gordyne, nadat ek ’n eis ingedien het, betaal.

Ek is die volgende môre vroeg by die eerste vergadering van seksiehoofde en gesekondeerde lede wat as adviseerders vir die bevelvoerders van die BOP-polisie optree, aan almal voorgestel. Daarna het ek na die Suid-Afrikaanse ambassade gegaan waar ek meneer Van der Walt en al sy personeellede ontmoet het. Die dag het baie gou te min ure gehad vir wat ek alles moes doen. Ek moes my sekretaresse, Hannetjie Faull, en al die ander gesekondeerde lede by BOP-polisie se hoofkantoor en by die Mafikeng polisiestasie, ontmoet. Ek het vlugtig na my kantoor gegaan en is ek deur kaptein Mulder van Eyk, die gesekondeerde lid wat bevel voer oor opleiding en ook as hoof van die inspektoraat optree, bekend gestel aan wat my taak alles behels. Ek sou later ’n volledige lys van pligte vanaf die SA ambassade ontvang.

Ek was verplig om Bophuthatswana-polisieuniform te dra. Een van die gesekondeerde lede het saam met my gegaan en gaan wys waar hulle kwartiermeester gesetel is. Dit was op ’n perseel langsaan die Rooigrond Gevangenis. Dit is dieselfde tronk waar die alombekende Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) se leier, wyle Eugene Terre’Blanche, sy gevangenisstraf gaan uitdien

het toe hy een van sy plaaswerkers ernstig aangerand het. Ek het tussen die rye rakke op oop bokse, wat in ’n chaotiese deurmekaarspul vol uniformstukke was, afgekom. Een van die BOPoffisiere het my darem gehelp om uniformstukke uit die stukkende bokse te kry wat pas. Dit was omtrent ’n oefening, want baadjies, broeke, hemde, pette en ander uniformstukke was nie behoorlik in nommer groottes op die rakke uitgepak nie. Ek sou later daarvan werk maak wanneer ek eers ten volle by my kantoor ingeburger is.

Nou moes ek van my Suid-Afrikaanse Polisie se luitenant-kolonelsrang afstand doen, want ek is deur die SA Polisie met ’n tydelike rang van vol kolonel beklee. Ek het toe die salaris van ’n vol kolonel ontvang, asook ’n maandelikse buitelandse toelae. My twee uniforms van die BOP-polisie was ’n gratis uitreiking en ons het gratis in die ambassadehuis gebly. Finansieel was dit beslis ’n voordelige situasie waarin ons, ons nou bevind het. Ek moes nou uiteraard met SA Polisie hoofkantoor skakel deur bemiddeling van die SA Ambassade.

Mnr. Lucas Mangope, die President van Bophuthatswana, het vroeër die RSA se ambassadeur gevra dat hy die senior gesekondeerde polisieoffisier, wat Claasen vervang het, wil ontmoet. Ek is toe saam met die ambassadeur, meneer Van der Walt, na Mangope se suite in hulle parlementsgebou Die Gerona.

Daar is ons toe op tee en koekies trakteer. ’n Baie aangename en belese ouman wat ’n gesprek met ons in mooi Afrikaans gevoer het. Hy het die hoop uitgespreek dat ek ook dieselfde diens aan lede van sy ontwikkelende polisiemag sal lewer as wat Stevens en Bernie Mostert tydens hulle dienstermyne gelewer het. Ek het hom daardie versekering gegee. Min wetende dat ek my taak aldaar te nougeset uitgevoer het. Later meer hieroor.

Ek het die eerste week van my diens te BOP-polisie Hoofkantoor gewy aan die nagaan van my pligstaat en ontmoeting van die gesekondeerde lede in Mafikeng. Ek het nou eers besef dat die Bophuthatswana se verkeerspolisie ook onder die bevel van die BOP-polisie se kommissaris ressorteer.

Die Garona was Bophuthatswana se parlementsgebou en dit is tans Noord-Wes Provinsie se parlementsgebou in Mahikeng. (Foto - Prinsloo op Google).

Daar was ’n senior verkeersbeampte van die eertydse Transvaalse Provinsiale Verkeersdepartement, ’n man met die van Botha, aan die hoof. Hy sou ook onder my beheer

ressorteer as ’n gesekondeerde lid. Ek het hom daar en dan my verkeersboetekaartjie, met my skriftelike vertoë gegee. Die boetekaartjie was teruggetrek, want ek was in amptelike diens tydens die oortreding.

Aangesien my taak te Mafikeng meer van ’n administratiewe en toesighoudende aard was, het ek nie werklik in die kontaksituasie met misdaad te doen gekry nie. Ek het wel by wyse van inspeksies en onderhoude die misdaadbekamping en alles wat daarmee gepaard gaan, hanteer. Ek moes derhalwe die werk wat die gesekondeerdes verrig, beoordeel en toesien dat hulle direk met die opleiding van ’n Tswana polisielid/lede gemoeid is. Daardie lid/lede sou na verloop van tyd dan die gesekondeerde lid se plek as bevelvoerder/toesighouer oorneem.

14.2 Wedervarings te Mafikeng

My taak was beslis nie só uitdagend as wat dit was toe ek midde in die kontaksituasie op polisiestasievlak diens verrig het nie. Ook nie so interessant soos die verskeidenheid van onderwerpe wat ek as opleidingsbeampte moes navors en moes doseer nie. Dit het egter beslis vir my nuwe perspektief gegee oor die moeilike taak wat ’n offisier het om op alle terreine van ’n polisiemag bevel te voer en in besonder met groot getalle swartlede te werk waar voortdurende opleiding op ’n persoon-tot-persoon gegee moet word. Ek moes selfs ook toesien dat alle departementele- en wetlike voorskrifte op voetsoolvlak tot by die offisierskorps, nagekom word. My wedervarings op voormelde werksterrein en in ons persoonlike omgang met die inwoners van Mafikeng word baie kortliks hier-onder verwoord:

My persoonlike sekretaresse, SA Polisie vrouesersant Hannetjie Faull, neem my toe na die tiksterspoel toe waar sy ’n swart vrouesersant aan my voorstel wat gemoeid sal wees om al my amptelike tikwerk te doen. My eerste ondervinding was dat sy baie vinnig kon tik, maar my handskrif het haar aanvanklik baie vreemde woorde in ’n Afrikaanse- óf Engelse voorlegging laat tik. Die briewe, memoranda, voorleggings, inspeksieverslae, verklarings, ens. moes male sonder tal oorgetik word om haar nuutgeskepte woorde wat in geen woordeboek verskyn nie, uit te laat. Gelukkig het sy haar tikwerk op ’n woordverwerker gedoen en kon veranderings baie maklik en gou gedoen word. Algaande het sy verbeter, en het sy eintlik goed presteer. Dank aan Hannetjie dat sy hiermee gehelp het.

Die verkeersafdeling se administratiewe kantoor was in dieselfde gebou as my kantoor. Ek stap in en gesels met Botha en hy verduidelik wie wat daar doen. Daar is seker so ’n dosyn swart dameverkeersbeamptes en ’n paar manlike lede wat elk by ’n lessenaar sit en werk. Daar staan bokse vol papiere by elkeen op en langs hulle lessenaars. In Bophuthatswana moes alle gelisensieerde motorvoertuigbestuurders hulle bestuurderslisensies jaarliks hernuwe. Ek vind toe uit dat daardie bokse vol papiere ’n paar duisend aansoeke vir hernuwing van lisensies is en ook van lisensies wat vir die eerste maal uitgereik moet word. Ek tel van die aansoeke op en sien dat van die aansoeke reeds meer as ’n jaar daar lê en stof vergader. In van die ander bokse was daar honderde verkeersboetekaartjies wat geprosesseer moes word, hetsy om dit na die staatsaanklaer te stuur vir die uitreiking van dagvaardings, of om vertoë te hanteer. Ek vra dat Botha na my kantoor moet kom en ek vra hom of hy enige plan van aksie het hoe daardie klomp lisensie-aansoeke en ander administratiewe funksies afgewerk gaan word en wat sy toesighoudingsfunksie alles behels. Ons het toe maar koppe bymekaar gesit en ’n plan van aksie uitgewerk, want hy was maar taamlik in die war wat en hoe hy alles moet doen. Dit het al beter gegaan met opvolgaksies, want ek het onaangekondig by hulle kantoor ingestap, en na die werkvolume gekyk en individuele werkers se werk nagegaan.

Bophuthatswana se Landswapen (Coat of Arms) (Foto Google).

Omdat dié land in sewe stukke verdeel is en dit ’n wye gebied beslaan het, was daar uiteraard ook baie polisiestasies. Mangope het geglo, “Bring die polisie na die mense en nie die mense na die polisie toe nie.” Toe het hy ’n paar polisie-afdelings en ’n hele paar distrikskommandantsetels tot stand gebring op plekke waar die SA Polisie nie enige polisiestasies voor afhanklikheid gehad het nie. Ek moes toe begin om die land te deurkruis om inspeksies te gaan doen saam met die gesekondeerde blanke lede van die SA Polisie. Al die polisiestasies was saam met ‘n gesekondeerde lid besoek. Daar was egter te veel polisiestasies om dit hier op te noem. Mafikeng alleen het drie gehad nl. Mafikeng, Mmabatho en Montshiwa. Daar was ook vier grensposte met Botswana wat deur BOP-polisie beman, en ook lede van die SA Polisie se TIN-afdeling wat grensbeheer toegepas het was, nl. Skilpadshek, Ramatlabama, Makgobistad en Kopfontein..

Ek was deur die kommissaris verplig om die opening van ’n dobbelhuis (Casino) te Thaba N’chu te gaan bywoon. Dit was nog een van Sol Kerzner se plekke waar hy sy geld gemaak het. Ek het vir Corrie saamgeneem toe ek by die twee polisiestasies te Thaba N’chu gaan besoek aflê het en ’n verrassingsinspeksie daar uitgevoer het. Ons het toe in ’n hotel te Tweespruit in die Vrystaatprovinsie tuisgegaan, want die hotelle te Thaba N’chu was nie meer van die sindelikste nie. Daar was ook nog ’n verkeerspolisiestasie waar ek heelwat ongerymdhede ontdek het en waaroor ek verslag moes lewer.

Ek het tweemaandeliks ’n internasionale byeenkoms tussen die SA Polisie en die Polisie van Bophuthatswana gaan bywoon waar oorgrens polisiëringsaangeleenthede bespreek was en besluite geneem moes word. Dit het gewoonlik by verskillende plekke plaasgevind, bv. in Kimberley, by Mmabatho, by Sun City en ook in Pretoria by Pretoria SA Polisie hoofkantoor. Ek moes vir al my reise buite die grense van Bophuthatswana reisplanne indien en ek kon dan by die ambassade vir reis- en verblyftoelae eis, veral as ek moes oorslaap. Wanneer ek met diens na BOP-polisiestasies toe gegaan het en ek deur dele van die Republiek van Suid-Afrika moes reis om daar uit te kom, was ek verplig om privaatklere aan te trek.

Ek het my eie staatsvoertuig gehad om my dienste te verrig. As ek bv. by Ga Rankuwa óf by Odi, by Hlabane naby Rustenburg óf by Sun City moes gaan inspeksie hou, het Corrie gewoonlik saamgegaan en dan het ons ook die geleentheid gebruik om in Pretoria oor te slaap. Sodoende kon ons ons kinders gereeld sien.

Tydens my kort tydjie van 10 maande te Bophuthatswana, moes ek gereeld vergaderings by BOPpolisie se hoofkantoor bywoon. Ek het gemiddeld 20 vergaderings ’n maand gehad wat ek moes bywoon. Ek het toe al ’n porsie van hoe die nuwe Suid-Afrika nou daar uitsien, gehad. Vergaderings wat laat begin en ure duur, met geen konkrete besluite nie, óf “a committee is to be appointed to investigate this matter and they must report back at the next meeting.” By die “next meeting” is die “committee” nog nie reg om verslag te lewer nie, en aangeleenthede word maand na maand oorgedra. Frustrasie, frustrasie en baie kosbare tyd (en geld) word vermors en eetgoed in oorvloed. Ek was getaak om saam met die adjunk-kommissaris, brigadier Sekame, ’n nuwe Polisiewet en Regulasies vir hulle polisiemag op te stel. Ons het die SAP Regulasies en die Republiek se Polisie wet as riglyne gebruik vir die opstel van hulle wetgewing. Ons kon dit nie in die kort tydjie voltooi

nie, en dit was, na ek verneem het, nog nie voltooi toe die ANC die onafhanklikheid van Bophuthatswana tot niet verklaar het toe hulle in 1994 in Suid-Afrika aan bewind gekom het nie. Binne die bestek van omtrent 2 maande moes ons die medaljes vir 10 jaar diens, vir Bekamping van terrorisme en vir Uitmuntende diens, wat reeds ontwerp en deur die Dept. Heraldiek in die RSA goedgekeur is, laat munt en die linte moes nog geweef word. Die enigste maatskappy wat die linte kan weef, is ’n fabriek in Kaapstad.

Omtrent ’n week voor die uitpaseringsparade waartydens medaljes ook aan lede oorhandig sou word, moes ek na Kaapstad toe gaan om die medaljelinte te gaan haal. Corrie het saam gegaan asook van die BOP-polisiemanne. Ons het met Mangope se presidensiële amptelike straler na Kaapstad toe gevlieg, die linte gekry en dieselfde namiddag teruggekeer na Bophuthatswana toe. Ek het in daardie selfde week nog na Rosslyn te Pretoria gegaan waar ek die medaljes wat geslaan en name van die ontvangers gegraveer is, gaan haal het. Die sertifikate van die medaljes wat by die BOP-staatsdrukker te Babelegi, naby Hammankraal, gedruk is, moes ook afgehaal word. Alles het darem reg verloop en ek was getaak om tydens die parade te Mafikeng beheer te neem van die medaljes se ordening volgens die ontvangers daarvan en oorhandiging aan die president wat dit aan die ontvangers aangespeld het.

Daar het by geleentheid ’n groot oproer van die Bophuthatswana Universiteit (Unibo) se studente plaasgevind toe minister Pik Botha die inwoners van Mafikeng en Mmabatho tydens ’n politieke vergadering in die Hoërskoolsaal te Mafikeng kom toespreek het. Dit het gelei tot ’n knuppelslanery en rubberkoeëls se skietery deur BOP-polisie se taakmag onder beheer van luitenant Van der Merwe. Ek was teenwoordig in die saal maar nooit by die skietery nie. Moes die volgende dag volledig verslag doen oor wat by die saal gebeur het. Daar het niks buitengewoons gebeur nie. Daar was maar net die tussenwerpsels van teenwoordiges wat nie gehou het van wat Pik Botha gesê het nie. ’n Tipiese politieke vergadering.

Tydens BOP-polisie se medaljeparade. Die ding wat voor ons op die tafel lê, is ’n skinkbord wat ek opgestop en met die BOP-polisie se kleure oorgetrek het. Die medaljes was in volgorde, soos wat dit aan die ontvangers aangespeld word, hierop gerangskik. Die een vrouekonstabel het die

skinkbord met die medaljes gedra en die ander een het die medaljes vir president Mangope oorhandig wat dit aan die ontvangers daarvan aangespeld het. (Foto : Col. George)

“The University of Bophuthatswana (Unibo) at Mafikeng.” Hierdie universiteit het sedertdien ’n naamsverandering ondergaan en dit is tans een van die huidige kampusse van die Noord-Wes universiteit. (Foto: Google).

Ek moes die hoof van die verkeersafdeling te Taung (uitgespreek ‘ta hoeng’ – dis die plek waar die prehistoriese skedel van die mens ontdek is) departementeel aankla omdat hy ’n privaat passasier op sy amptelike motorfiets ’n geleentheid gegee het toe hy vir diens moes aanmeld. Hy was baie ongeskik en hardgebak toe ek met hom daaroor gepraat het. Sy ongedissiplineerde optrede teenoor my in die teenwoordigheid van twee van sy ondergeskiktes, het my geen alternatief gelaat as om hom departementeel aan te kla nie. Hy is later deur ’n BOP-polisie majoor departementeel verhoor. Verder het ek baie swak toesighouding waargeneem tydens my inspeksies by polisiestasies en dit tot vervelens toe in my inspeksieverslae gemeld. Bv. foute wat deur die gesekondeerde offisiere aan BOP-Bevelvoerders op skrif uitgewys is en ook skriftelike riglyne, wat gegee is hoe foute herstel moes word, is na maande nog niks aan gedoen nie. Aan geringe sake is maande laas iets aan gedoen wat ondersoek betref, en nog vele tekortkominge betreffende ondersoek van misdaad en administratiewe werk was oral te vinde.

Ek was deur die SA Ambassade genomineer om op die Springbokklub as addisionele lid te dien. Dit is die naam van alle sosiale klubs vir SA Ambassades se personeel regoor die wêreld. Ons, dis nou ek en Corrie, het by twee geleenthede tydens ons verblyf te Mafikeng van die byeenkomste bygewoon. By hierdie byeenkomste kon ons die ambassade se personeel en hoogwaardigheidsbekleërs in die dorp Mafikeng, ontmoet. In hierdie vreemde gemeenskap moes ons uiteraard ook vertroud raak met ’n vreemde distriksgeneesheer, tandarts, predikante, ens.

In ons privaat hoedanigheid het ons ook gou-gou by die NG Gemeente te Mafikeng ingeskakel, en ook Bybelstudiebyeenkomste bygewoon. Dit was ook nie lank nie, toe word ek as ouderling ver-kies en só het ons gou ander inwoners van die dorp leer ken. Ons het ook ete-byeenkomste by van hulle gehad. Ek het as AB- en Rapportryerslid ook by hierdie kultuurorganisasies van die dorp ingeskakel. Net nog ’n insident wat in Mafikeng plaasgevind het. Een van BOP-polisie se konstabels, wat net so ’n maand of wat as ’n volwaardige konstabel uitpasseer het, doen rondtediens in die dorp. Hy sien ’n jong witman met ’n pakkasie op sy rug. Hy nader die man en vra:

“What is your name?”

Kom ek gee hierdie Engelsmannetjie ’n naam. “I am John Bedford, from Engeland.”

Die ondervraging gaan voort en die konstabel vra: “What are you doing here in Mafikeng?”

Die jongman sê: “I am a backpacker and a tourist in your country.”

Die konstabel verstaan die man verkeerd en hy dink die man sê hy is ’n ‘terrorist’. (So asof ’n terroris sal sê hy is ’n terroris!) Die konstabel gryp die man en nou spook hulle in die straat voor ’n groot meubelwinkel. Die konstabel slaan die man in die proses met sy knuppel en boeie die man. Die konstabel vra vir hulp d.m.v. sy tweerigtingradiotjie aan sy lyf. ’n Patrolliewa daag op en die konstabel met sy ‘terroris’ word polisiestasie toe geneem. Hierdie episode het amper ’n groot internasionale reaksie uitgelok. Die SA ambassadeur in Bophuthatswana, meneer Van der Walt, moes vinnig die spreekwoordelike vure doodslaan deurdat hy in Pretoria met die Engelse ambassade kontak gemaak het en die misverstand tussen wat die toeris gesê het en wat die konstabel gehoor en laat optree het, in die reine te stel. Die beseerde toeris het koninklike (‘Royal?’) behandeling gekry en is op staatskoste Pretoria toe geneem. Die BOP-kommissaris het die konstabel net berispe.

Ek kan maar net vra: “Wat het verkeerd gegaan?” Ons kan net sê: “Kommunikasie, kommunikasie, kommunikasie!!”

Tydens ons verblyf te Mafikeng het ons die goeie nuus verneem dat Suzette, Anton se vrou, verwagtend is en dat die sonar dui op die moontlikheid van ’n kleinseun wat gebore sal word. Groot was ons verbasing toe die groot dag op 20 September 1985 aanbreek en ons deur Anton telefonies verwittig word dat ’n babadogtertjie, Simone, gebore is. Hier het die sonar dus verkeerd voorspel. Wanneer ’n mens na die foto’s van Simone kyk, dan kan niemand die feit betwis as ons sê dat Simone, selfs as ’n peuter alreeds die gelaatstrekke van ’n beeldskone dame gehad het nie.

Ons word toe die trotse oupa en ouma van ons eerste kleinkind. Nou het die rekenkundige som verander na 2 plus 5 plus 3 plus 1 (Simone ons eerste kleinkind onder ons rekenkunde som vir kleinkinders). Hierdie rekenkundige som sal nog oor die jare verander.

Die trotse pappa en mamma, Anton en Suzette, het die volgende foto’s vir ons gegee.

Só onskuldig en só mooi. (Foto’s: Anton du Plessis)

Alhoewel ons baie gelukkig was te Mafikeng en gou by die gemeenskap ingeburger geraak het, het ons verblyf aldaar nie baie lank geduur nie. Ons kortstondige verblyf aldaar het egter nogtans ons

lewenservaring verbreed. Ons vriendekring is ook verbreed, want ons het nie net met die gesekondeerdes gesosialiseer nie, maar ook met die gemeenskap van Mafikeng. Die redes waarom ons verblyf baie kort was, word onder die volgende afdeling volledig vermeld.

14.3 Aangeleenthede wat tot desekondering gelei het

Julle vra dalk nou: “Hoekom is Pa na net 10 maande se diens aldaar gedesekondeer en het julle na die RSA terugkom?”

Wel, julle sal seker besef dat ek as lid van die SA Polisie se offisierskorps, wat deur die range gevorder het en gewoond was aan die streng dissipline wat in die SA Polisie gehandhaaf is, ek my nie met slapgat- en ongedissiplineerde lede kon ophou nie. Allermins kon ek dit ook nie oogluikend toelaat en verdra nie en het, waar ek sodanige optrede van lede tydens my besoeke aan polisiestasies te Bophuthatswana teëgekom het, werk daarvan gemaak om dit reg te stel. Die regstelaksies het mondelingse berispings, geskrewe riglyne en vermanings ingesluit en les bes, waar dit growwe ongedissiplineerdheid was, het ek departementele verhore teen lede laat instel. Ek het in die vorige afdeling reeds van twee of meer gevalle melding gemaak. Daar was beslis baie meer gevalle wat ek nie nou gaan tabelleer nie, want dis water onder die brug deur, maar ek het by monde van die eerste sekretaris van die ambassade, meneer Starbuck, verneem dat die BOPpolisie gevra het dat ek gedesekondeer moet word. Die rede daarvoor was dat my besoeke en inspeksies aan polisiestasies onnodige wrywing onder die polisiebeamptes veroorsaak het, want hulle was gewoond daaraan om slegs deur senior swartlede van hulle Mag tereggewys te word. ’n Tweede rede was dat toe die regering van Bophuthatswana besluit het om spesialekonstabels, met lae skolastiese kwalifikasies, onder standerd 6 (graad 8), aan te stel om wagdienste by polisiestasies en regeringsgeboue te doen, ek my bedenkinge in ’n vergadering uitgespreek het oor die feit dat daardie spesiale konstabels onder die toesig en beheer van die Bophuthatswana weermag sal ressorteer. Hulle bevelvoerder sal ’n swart BOP-weermag adjudant-offisier wees. My argument was dat as daardie persone as konstabels aangestel en ingesweer word, hulle onder die beheer, toesig en dissipline van die BOP-polisie moet val. Ek het gemeld dat hulle nie as spesiale soldate aangestel is nie en dat polisie wagdienste verskil van die wagdienste wat soldate moet uitvoer. Verder het ek gemeld dat die SA Polisie se hoofkantoor R3 miljoen aan BOP-polisie, met magtiging van die SA Regering, oorgedra het vir die totstandkoming van ’n nuwe afdeling in hulle polisiemag waaronder die spesiale konstabels aangestel kon word.

Ek het later verneem dat dit glo die laaste strooi was wat die spreekwoordelike kameel se rug gebreek het, om my te laat desekondeer. Daar is gesê dat ek tweespalt tussen die BOP-polisie en BOP-weermag met my uitspraak sou gesaai het. ‘Bols’, ek het net die waarheid gepraat! Later met die nou reeds bekende inval van Bophuthatswana deur die ANC se linkervleuel en die AWB se stormjaers wat dit probeer onderdruk het, het die besluit dat die spesiale konstabels onder die beheer van die BOP-weermag moet ressorteer, geboemerang. Die rede was dat die spesiale konstabels sommer net gehensop het en nie hulle taak van beveiliging kon doen nie en by die BOPweermag se afvalliges aangesluit het. Die BOP-weermag was ook weerloos teen die aanslag van die opstand van die ANC. In teendeel, die adjudant-offisier van hulle weermag wat beheer oor die spesiale konstabels moes uitvoer, was juis een van die ANC se belhamels wat in die BOP-weermag gedien het en soldate gewerf het om die inval en val van die BOP-regering van Lucas Mangope te probeer bewerkstellig het. Sela.

Dis nog nie die einde van hierdie sirkus nie. Ek was ook telefonies deur die sekretaresse van BOP se Minister van Buitelandse Sake, meneer Rowan Cronjé, ja, dieselfde Rowan Cronjé wat in SuidRhodesië (tans Zimbabwe) en die onafhanklike staat, Ciskei, waar hy onderskeidelik as minister en adviseur gedien het en sy poste aldaar verlaat het, versoek om dringend na sy kantoor te kom vir ’n

onderhoud. Ek het die regte protokol gevolg en vir die eerste sekretaris van die ambassade, meneer Starbuck, telefonies verwittig dat ek gevra is om na Rowan toe te gaan vir ’n onderhoud. Hy het telefonies sy goedkeuring verleen. Ek het ook vir die kommissaris van die BOP-polisie, brigadier Seleke, verwittig van die versoek. Ek het toe na Die Gerona, die parlementsgebou, te Mmabatho gegaan. Daar is ek goed ontvang en hy het gevra dat ek die aangeleentheid m.b.t. die aanstelling van die spesiale konstabels moet skets. Ek het dit gedoen, en hy het gevra dat ek dit op skrif moet stel. Ek het dit gedoen en ek het vir myself ’n afdruk van my geskrewe verslag gehou.

Ek het goedkeuring gekry om na Pretoria te reis waar ek ’n afspraak met generaal Stevens kon nakom. In Pretoria het ek ’n lang onderhoud met Stevens gehad en aan hom my afdruk van die gesprek met Rowan Cronjé gegee. Hy het dit aanvaar. Hy het my die versekering gegee dat daar geensins teen my opgetree sal word nie, want hy stem saam dat ek niks buite my mandaat as gesekondeerde gedoen het wat my desekondering geregverdig het nie. Hy het gesê dat ek rustig moet wees en met my werk aangaan totdat die desekondering afgehandel is. Hy het verder gesê, dat sou die SA Polisie hoofkantoor teen my desekondering by Bophuthatswana beswaar maak en dit sou slaag sodat ek kan aanbly, dit ’n onuithoubare situasie vir my sal daarstel. Die SA Polisie sou ook geen ander senior polisieoffisier in my plek aan Bophuthatswana sekondeer nie. Die bestaande gesekondeerde offisiere sou daar aanbly, totdat dit nie meer nodig is om hulle daar te hou nie.

My desekondering en voorbereiding tot ons terugkering na Pretoria en my aanstelling as seksiehoof van die SA Polisie hoofkantoor se eiendomseksie en ook as personeeloffisier, word volledig in die volgende hoofstuk vertel.

Met die volgende paar woorde kan ek hierdie tydperk van my diens afsluit:

Ek is geensins jammer vir my optrede in Bophuthatswana nie, maar sou graag vir ’n langer tydperk daar wou bly om die inlywing van die Nasionale Staat BOP by die Nuwe Suid-Afrika te kon meemaak. Ek het werklik baie kennis opgedoen deur saam met die gemeenskap van BOP en sy polisiemag te werk. Dit was beslis vir my ’n oefenlopie hoe ons in die nuwe Suid-Afrika wat in 1994 tot stand gekom het, sou moes saamleef.

HOOFSTUK 15: VERPLASING NA SA POLISIE HOOFKANTOOR, PRETORIA

Soos reeds genoem, was dit duidelik dat die Tswanas my nie meer in hulle midde wou hê nie. Ek glo nog dat hulle van mening was dat ek te streng opgetree het teenoor die polisielede van hulle polisiemag. Kom ons los dit daar, verdere diskoersvoering oor die rede(s) maak in elk geval nou nie meer saak nie. Dis water onder deur die brug.

15.1 Voorbereiding vir desekondering vanaf Mafikeng en vertrek na Pretoria

Die tydjie in Bophuthatswana het nou kort geraak. Die RSA se ambassade het my gekontak en meegedeel dat hulle nou weer met die verhuising van my persoonlike besittings gemoeid sal wees. Hulle het gevra dat ek ’n inventaris van ons meubels en persoonlike besittings vir hulle moes gee. Dit was maklik want ek het nog die oorspronklike inventaris, toe ons vanaf Pretoria gekom het, gehad. Ek kon dit netso aan hulle oordra.

Ek was verbaas dat die adjunk-kommissaris van BOP-polisie, brigadier Sekame, ’n afskeidsgeselligheid vir my gereël het. Alle seksiehoofde by hulle hoofkantoor en die gesekondeerde offisiere te Mafikeng is op tee en versnaperinge in die konferensielokaal getrakteer. Die BOP-kommissaris en sy drie ex-Rhodesiese “has beens” wat senior-offisier status beklee het,

het dit nie bygewoon nie. Dink maar wat julle wil. Wel, ek en die teenwoordiges was eintlik bly dat hulle nie teenwoordig was nie. Sekame het ’n paar minute gepraat en sy beste wense op my pad vorentoe uitgespreek. Hy het ’n swart Parker balpuntpen in ’n geskenkpakkie aan my oorhandig. Ek het bloot hom en die ander offisiere bedank vir die geskenk en hulle alles van die beste vir die toekoms toegewens.

Die gesekondeerde SAP-lede te Bophuthatswana het eenparig besluit om ook van ons afskeid te neem. Hulle het spontaan bygedra tot ’n kollektelys wat my sekretaresse, op eie inisiatief, geopen het. Selfs die gesekondeerde SAP-lede buite Mafikeng nl. te Mogwase, Taung en Thaba N’chu, het ook ’n bydrae gelewer. ’n Bedrag van bykans R600,00 was gekollekteer en aan ons oorhandig. Ons kon dit goedskiks vir ’n geskenk aanwend. Hierdie gebaar was werklik deur ons waardeer. Ons het gewik en weeg oor watter geskenk ons as aandenking wil aanskaf. Eers gedink aan geleentheidstafeltjies van BOP-marmer (dit het ’n rooierige kleur) wat te Taung gemyn en aldaar vervaardig word, maar ons finale besluit het geval op ’n wol geweefde ronde vloermat. Ons het met die instruktrise van die Bophuthatswana inrigting vir gestremde persone, kontak gemaak. Dit was by Thlamalang naby Lichtenburg. Ons is saam met haar na haar tuiste naby Mareetsane waar Corrie uit die verskillende patrone kon kies. Die mat is ’n maand of wat later by ons in Pretoria afgelewer. Ons is toe einde Mei 1986 gedesekondeer. Baron’s het weer ons verhuising hanteer en weer eens het ons onder die indruk gekom van die professionele manier waarop hulle ons meubels verpak, vervoer en hanteer het met die aflaaiproses. Ons kon in ons huis te Wesstraat 302, in PretoriaNoord intrek. Die huurder was betyds deur die SA Polisie se kwartiermeester kennis gegee om die woning te ontruim en hy is van ’n ander woning voorsien. Ons het gou-gou ons voete gevind en dit was asof ons nie weg was nie, want niks was vreemd vir ons in ons gemeenskap nie. Ek het toe reeds gehoor dat ek na SA Polisie hoofkantoor toe verplaas is as personeeloffisier en ook as bevelvoerder van die staatseiendomseksie.

15.2 Seksiehoof: Staatseiendomseksie en personeeloffisier by SAP Hoofkantoor te Pretoria

Ek het op 1 Junie 1986 my SA Polisie-uniform uit die trommel tussen die motbolle gehaal en my rangtekens van ’n luitenant-kolonel vasgespeld en by die SA Polisie se hoofkantoor, by die Senior Stafoffisier, vir diens gaan aanmeld. Ek moes van my kolonelsrang wat ek te Bophuthatswana gehad het, afstand doen, omdat dit net ’n tydelike rang was om ooreen te stem met die ander RSA Staatsdepartemente se gesekondeerde beamptes. Al my ander voordele soos ’n buitelandse toelaag, gratis staatswoning en gebruik van ’n staatsvoertuig, moes ek van afstand doen. Gelukkig het dit geen uitwerking op ons lewenstandaard gehad nie, want al die voordele wat ons geniet het, se geldelike vergoeding, het ons gespaar. Ons het nie rojaler te Mafikeng geleef as wat ons in die RSA aan gewoond was nie, daarom kon ons weer in ons ou roetine inval.

Ek het dadelik ingeval by die werksaamhede van die seksie, wat tweërlei van aard was. Dit was egter nie vreemd vir my nie, want my ondervinding as stasiebevelvoerder het beide take vergemaklik. Die enigste verskil was dat ek nou die personeeloffisier van bykans 1000 polisiebeamptes en 300 plus burgerlike werknemers se personeelaangeleenthede by die SA Polisie hoofkantoor moes hanteer. Voeg daarby verantwoordelikheid neem van alle staatseiendom in gebruik by SA Polisiehoofkantoor. In daardie stadium was hoofkantoor personeel in ses geboue in die stad gehuisves. Wachthuis was maar een van die geboue, maar dit was die hoofgebou aangesien die kommissaris en die generalestaf asook die ministerie van Polisie daarin gesetel was. My kantoor en personeel wat my moes bystaan, het al die kantore op die tussenvloer (mezzaninevlak) beset. Dit is die vlak tussen die grondvloer en die eerste vloer. Die Senior Stafoffisier het my gewaarsku dat daardie twee seksies se werksaamhede nie op peil is nie, en dat ek die standaard van werkverrigting so spoedig moontlik op nommer moet kry. Ek het so stilweg gewonder hoekom

daar dan niks aan die swak werksverrigting deur hoofkantoor gedoen is nie. Het seker net vir my gewag. Ha, ha.

My voorganger was ’n vol kolonel met twee majoors wat hom moes bystaan. Daar was twee adjudant-offisiere, drie sersante, twee konstabels en drie dames wat burgerlike werknemers was. Die kolonel is verplaas nadat ek sy pos oorgeneem het, die een majoor het afsiek geboek en sou later medies ongeskik uit die Mag tree en die ander majoor het vir ’n verplasing gevra. Nou het die las op my skouers en die ander personeel net soveel swaarder geword.

Nadat ek vir ’n week lank net die werk van elke personeellid op die seksie, nagegaan het om te sien wat dit alles behels en waar daar tekortkominge gevind is, het ek ’n personeelvergadering belê en hier het ek elke man en vrou in die vergadering aangespreek oor wat ek by elk gevind het wat nie na wense uitgevoer word op hulle lessenaars nie, en toe ’n voorligtingsessie gehou waar elkeen ook ’n inspraak kon lewer. Dit het die gewenste uitwerking gehad en ek kon na ’n week die verskil sien in die gehalte van die werk wat na my lessenaar gebring is vir finale afhandeling. In hierdie tyd het ons die blye boodskap ontvang dat Kobus en Louise hulle eersteling verwag. Hulle was toe te Josefsdal grenspos, op die grens met Swaziland, gestasioneer. Ons kon ons blydskap ongelukkig nie in persoon gaan betoon om by hulle op Josefsdal te gaan kuier en ondersteuning te gee vir die bevalling wat voorlê nie, want kort voor die geboorte van Annélia, wat op 29 Augustus 1986 haar lewenslig aanskou het, moes ek op ’n middelvlakbestuurskursus, wat onmiddellik opgevolg is met ’n Onluste- en Skarebeheerkursus vir offisiere te Maleoskop, gaan bywoon. Gedurende daardie tyd van afwesigheid, het Corrie by Anton-hulle te South Port in KwaZulu Natal gaan kuier. Ek het eers gedurende September 1986 weer teruggekeer na Pretoria toe. Ons kon darem by ’n latere geleentheid die kleinding gaan sien en ook by haar doopplegtigheid teenwoordig wees. Die wiskundige som het nou op 2 plus 5 plus 3 plus 2 (Annelia het bygekom) gestaan. Dankie Liewe Vader in die Hemel dat U ons reeds op ons relatiewe jong jare geseën het met twee kleinkinders wat gesond en volmaak geskape is. Ons loof U daarvoor. Kan ek maar die geykte uitdrukking in Afrikaans gebruik wanneer mense oor hulle kleinkinders praat? Ek kry geen teëspraak daarvoor nie. Wel, ons twee kleinkinders, en elkeen wat nog daarna in ons familie opgeneem is, wat die wiskundige som laat verander het, is die fraaiste en slimste kleinkinders!

Annélia dogter van Kobus en Louise as ’n baba tydens doop en as sprankelende dame. (Foto:Kobus du Plessis)

Op 1 Januarie 1987, is ek saam met die eerste 10 luitenant-kolonels wat op die middelvlakbestuurskursus was, bevorder na kolonel. Ek het toe nog die amp van personeeloffisier en bevelvoerder van die staatseiendomseksie beklee. Dinge het nou by hierdie twee seksies gevlot, want ek het in oorleg met die Senior Stafoffisier van hoofkantoor, twee nuwe luitenante na my twee seksies laat verplaas om dié offisiere wat toe reeds verplaas was, te vervang. Hulle was luitenant Okkie Ferreira en luitenant Jan Zeelie. Okkie het my op die personeelseksie kom help, want hy was die stasiebevelvoerder te Grahamstad polisiestasie en ek het hom reeds geken as ’n lid met ’n onkreukbare karakter en toegewyde polisieman te Humansdorp. (Ja, hy is die een wat saam met my die gesteelde motor te Humansdorp gejaag het.) Zeelie het vanaf die Afdeling Indiensopleiding gekom, wie se spesialis vakke staatseiendom van die SA Polisie, was.

Ek het weer met die Senior Stafoffisier in gesprek getree en hom meegedeel dat ek bekommerd is oor die feit dat daar nie jaarliks ’n parade-inspeksie by al die seksies van die SA Polisie hoofkantoor plaasvind nie. Terloops, die polisie se Staande Orders verplig elke rekenpligtige amptenaar van ’n polisiekantoor, ongeag die vlak van bevelvoering, dat so ’n inspeksie jaarliks uitgevoer word en daarna moet ’n verslag aan die kwartiermeester gestuur word. Die Senior Stafoffisier is die rekenpligtige vir die SA Polisie se hoofkantoor te Pretoria, en hy het dadelik opdrag gegee dat die staatseiendomseksie so ’n parade-inspeksie by hoofkantoor moet laat plaasvind.

Daar was nou die spreekwoordelik kat in die duiwehok, met die verskil dat die duiwehok, Wachthuis is waar die SA Polisie hoofkantoor gesetel is. Die Senior Stafoffisier het dadelik alle seksiebevelvoerders saamgeroep vir ’n voorligtingsessie waar ek die Staande Orders Voorrade aan hulle voorgehou het oor hoe so ’n inspeksie by hulle seksies uitgevoer moet word. Dit was nodig, want dit was algemeen bekend dat 90 persent van die offisiere wat in hoofkantoor gesetel was, geen benul gehad het van wat alles op ’n polisiestasie, polisiedistrik en polisieafdeling in die praktyk moet plaasvind om die Mag se Staande Orders Voorrade na te kom nie. Die inspeksies is na ’n verloop van sowat drie weke by al die seksies afgehandel, en nou moes my seksie die inspeksieverslae kontroleer, ondiensbare items/meubels/elektroniese apparatuur, ens. afskryf en nuwes ter vervanging van die ondiensbares aanvra. Ek kon na sowat ’n maand ’n verslag vir die Senior Stafoffisier opstel wat hy aan die kwartiermeester kon voorlê. Dit was toe die begin waar die kwartiermeester, die Veiligheidspolisie, die Finansiële-, Teeninsurgensie- en Onlustebeheerafdelings, vir die eerste keer ook volwaardige parade-inspeksies kon hou. Ek was toe deur die kwartiermeester en deur die Senior Stafoffisier, vir hierdie inspeksies geloof. Ek het maar net die taak wat aan my opgedra is, sovêr moontlik binne die voorskrifte van die polisie se Staande Orders uitgevoer.

15.3 Gediagnoseer met klierkanker

In elkeen van ons se lewens is daar geleenthede of insidente wat ons sal bybly, hetsy dit ’n traumatiese of ’n vreugdevolle geleentheid was. Só het my 50ste verjaardag aangebreek en ek het al die naaste familie, wat te Pretoria beskikbaar was, die Saterdag vir ’n braaivleisbyeenkoms genooi om die wonderlike 50 lewensjare saam by ons aan huis te kom vier. Oom Rassie vra toe só terloops vir my : “Wanneer kan jy aftree?”

Omdat ek reeds voor 1955 by die polisie aangesluit het, kon ek met vervroegde pensioen op 55 jaar aftree. Ek antwoord hom toe:

“Jong, ek kan op 55 jaar aftree, en ek dink ek gaan dit doen, want ek is dit aan my familie verskuldig om lekker saam met hulle die lewe te geniet.”

Hierdie gesprek was nie verder gevoer nie, maar min het ek geweet dat daar Iemand groter is as ek, wat die loop van ons aardse lewenspad bepaal. God se pad wat Hy met elkeen van sy gelowige

kinders loop, verskil soms hemelsbreed van dit wat sy kind(ers) oor besluit. Dit is ook presies wat met my, en ons familie se lewens vroeg in Januarie 1988, gebeur het toe dit tot stilstand geruk is. Dit was toe ek met klierkanker, Hodgkin se limfoon (H.L) gediagnoseer is.

Kom ek skets die kort tydjie in my lewe waar ek en Corrie besef het dat daar dalk iets drasties verkeerd is met my gesondheid wat die aanloop was voor die diagnosering van klierkanker. Die eerste tekens was toe ons November 1987 op pad na Port Elizabeth met vakansie was. Ek het baie ongemak op die krop van my maag ervaar toe ons by Hannetjie en Josh Faull te Lichtenburg oorgebly het. Ons het die aand braaivleis geëet en die volgende môre het ek kos bedank, want ek het gesê dat ek nog versadig is van die braaivleis. Ek het toe maar net aan iets baie lig gepeusel en ’n koppie koffie gedrink. Ons het vertrek en langs die pad het ek steeds daardie ‘versadigde gevoel’ gehad, so veel so dat ek by ons stilhouplekke niks wou eet nie.

Ek gaan die aanloop nou kort knip. In Port Elizabeth, by oupa en ouma Scholtz-hulle, en ook die besoeke aan die familie, het ek steeds nie eintlik vir kos lus geraak nie, het maar geëet terwille van die moeite wat met die voorbereiding gemaak is en om nie aanstoot aan die voorbereiders (die kokkinne) te gee nie. Ek het andersins nie sleg gevoel of enige pyn ervaar nie. Ek het ’n graaf en pik by oupa gekry en het toe aangebied om die ingang by hulle motorhek, wat baie ongelyk was, reg te maak. Ek moes daar met my motor inry en dit was maar moeilik om daar in te kom. Ek het toe die eerste aand regtig pyn in my lae rug ervaar, maar dit toegeskryf aan die abnormale oefening met die pikslanery en graafspittery. Die tweede dag het ek die ingang behoorlik gelyk gemaak. Die pyn het algaande sterker geword, maar tog skiet gegee as ek stilsit en nie baie woel nie.

Ons vertrek daarvandaan na South Port in Natal toe waar Anton gestasioneer was en hulle toe gebly het. Selfs daar het ek nog die pyn ervaar, veral as ek geslaap het. Het dit toe maar weer toegeskryf aan die vreemde bed en matras, want ons albei het op enkelbeddens geslaap. Ek het nog steeds maar die dik gevoel op die maag gehad. Ons was net ’n dag of twee daar en toe teruggekeer Pretoria toe. Tuis aangekom het ek nie dadelik dokter toe gegaan nie, menende dat die pyn en ongemak sal verbygaan.

Op Nuwejaarsdag, 1 Januarie 1988, gaan ek en Corrie na die SA Polisie se Hondeskool om ’n kultuurdag van die Afrikaanse Kultuurvereniging van die SA Polisie (AKPOL) te gaan bywoon. Ek voel regtig pap en ongemaklik, maar ons bly tot so voor ete en gaan terug huis toe. Ek het uiteindelik besluit om na ons huisdokter, dr. Braam van Aardt, te gaan. Ek dink dit was die Maandag 3 Januarie 1988. Hy ondersoek my, en sê hy kan eintlik nie iets fout vind nie, maar ek moet maar ’n chirurg gaan spreek. Hy sal ’n afspraak maak. Hy gee my ’n inspuiting teen die pyn. Ek gaan nog werk toe, alhoewel ek nie veel geslaap het gedurende die nag nie. Corrie bel my by die kantoor en sê dat dr. Van Aardt vir my ’n afspraak gereël het by dr. De Beer, ’n chirurg. Ek gaan spreek hom die volgende middag (04/01/1988) en hy sê hy voel iets abnormaal in my buikholte. Hy wil hê dat ek ’n buikskandering (“cat scan”) by dokters Lingerfelder en Vennote in die Louis Pasteur Mediese Sentrum moet ondergaan. Ek vertrek dadelik soontoe. Dis ’n langdradige proses want ek moet eers getoets word vir die moontlikheid van ’n allergie vir jodium, want dit moet tydens die skandering in my ingetap word sodat abnormaliteite in die buik op die skanderingsfoto’s kan fluorideer. Ek moes ook bykans ‘n twee liter watermengsel, met tussenposes van ’n kwartier, drink. Ek het nie geweet hoekom ek dit moes drink nie, weet net dit was bitter sleg op die palet. Ek het later verneem dat dit ook abnormale groeisels in spierweefsel en ingewande op die skaderingsplaat sal uitwys.

Foto van ’n ‘Cat Scan’ (Foto Google).

Dit raak redelik laat die middag en so teen half vyf is ek klaar met al die geskandeerdery. Lingerfelder roep my in en hy sê dat hy op die geskandeerde foto’s sien dat daar ’n redelike groot groeisel in die buikholte is. Hy sal sy verslag opstel en ek moet dit na dr. De Beer toe terugneem. Dit is reeds na 5nm en dr. De Beer se spreekkamers is gesluit. Ek steek toe die verslag met die skanderingsfoto’s onder sy deur, deur. Ek verkas huis toe. Ek gee ’n kort relaas vir Corrie wat gedoen is, maar meld nie dat dr. Lingerfelder gesê het dat dit lyk na ’n kwaadaardige gewas nie. So is ek besig om alleen, in stilte, met my Hemelse Vader in gesprek te tree.

Elke oomblik draai hierdie uitslag in my kop rond. “Hoekom ek? Ek kan nie nou al gaan nie! Here, ek wil dan nog met pensioen gaan! Ek wil nog ’n oupa wees vir my kleinkinders, ’n pa vir my kinders wat nou as volwassenes my hulp nog nodig het! Wat sal gebeur as Corrie nou alleen gelaat word sonder eggenoot wat vir jare aan haar sy gestaan het. Hoekom!? Hoekom!?”

Ek kan nie sê of Corrie dalk toe al iets agtergekom het nie, maar as sy dit vermoed het, het sy dit nie aan my openbaar nie. Dalk ook maar in stilte haar Hemelse Vader aangeroep vir bystand vir dit wat vir beide van ons voorlê. Ek rol weer rond daardie nag en my gedagtes dwaal weer en ek kom op ’n punt waar ek amper vir God kwaad is omdat hy my só met hierdie monster in my buik gestraf het. Dankie Vader, ek verval in ’n pynlose slaap dié nag. Ek word eers die oggend wakker, en nou dank ek God vir die stilte wat Hy in my gemoed gebring het, sodat ek ’n goeie nagrus kon hê. Ek vind berusting en besef dat ek nie die enigste kind van God is wat kanker opgedoen het nie, en dat Hy my sal deurdra, as dit sy wil is. Ek vertrek werk toe soos gewoonlik. Dié dag ry ek met my motor werk toe. Hoekom, weet ek nie, maar dit was seker deur ’n Hoër hand só beskik.

So teen ongeveer middagete op 05/01/1988, se kant kry ek by die werk ’n telefoonoproep persoonlik van dr. De Beer af. Hy sê dat ek hom dringend moet kom spreek. Ek vertrek dadelik na sy spreekkamer toe. Sy ontvangsdame neem my, voor ander pasiënte, in na dr. De Beer toe. Hy sê dat hy bekommerd is oor die gewas wat in my buikholte is, en dat hy liefs so spoedig moontlik wil opereer. Hy vra dat ek dus so om en by drieuur die middag by die Jakaranda Hospitaal moet inboek vir ’n operasie die volgende oggend, (06/01/1988). Hy sê verder dat alhoewel die gewas volgens alle aanduidings kwaadaardig is, dit ’n kliertumor (kankergewas in ’n klier) is. Daar is egter baie tipes klierkanker en die korrekte een sal eers met ’n histologiese ondersoek vasgestel kan word. Volgens hom is klierkanker gewoonlik een van die kankers wat ’n goeie prognose het as ditmet chemoterapie behandel word, mits dit vroeg genoeg gediagnoseer word. Met daardie bietjie gerusstelling ry ek eers kantoor toe en skakel die Senior Stafoffisier en deel hom mee wat die diagnose is van my dokters-ondersoeke. Hy is baie simpatiek gesind en wens my sterkte toe vir die operasie en sê dat ek my nie oor die werk moet bekommer nie, want hy sal reël dat dinge daar sal reg loop. Ek vertrek huis toe met my motor, want as ek moes bus haal huis toe, sal ek nie voor 3nm by die hospitaal kan wees nie. Op pad bly hierdie swaard wat oor my lewe hang, soos wat ek gedink het dit is, in my gedagtes ronddwaal. Ek voel aardig, sommer nog sieker as net die dik gevoel op die krop van my maag.

By die huis vertel ek vir Corrie dat ek dadelik hospitaal toe moet gaan want dr. De Beer wil my die volgende môre opereer. Sy help my om ’n tassie te pak terwyl ek my uniform uittrek en privaatklere aantrek. Dink julle my gemoed was nou beter as die vorige dag en nag? Nee my liewe leser, nou het ek al stiller geraak, net ja en nee op Corrie se vrae geantwoord. Sy het dadelik saam met my na die Jakaranda Hospitaal toe vertrek. Terwyl ek op pad na die hospitaal met DF Malanrylaan, in Mayville ry, besef ek, ek moet nou my hart oopmaak teenoor my eggenote want ons is mos een in lewe en in gees.

Ek trek van die ryvlak af en draai na haar en sê: “Bokkie, ek het kanker en dr. De Beer wil my môreoggend daarvoor opereer.”

Ek begin hartseer te huil en sy sê, ook met ’n emosiebelaaide stem: “My man, ek het dit vermoed, maar wou jou nie verder ontstel nie. Moenie bekommerd wees nie. Ek en jy moet glo dat die Here ons sal bystaan in hierdie tyd. My gebede het reeds vir jou, die dokter en verpleegsters opgegaan.”

Ons hou mekaar vas en na ’n rukkie toe ons emosies onder beheer is, ry ons verder. Nou gesels ons openlik met mekaar oor wat ons dalk te wagte kan wees, maar met die uitsondering dat ons elke keer vir mekaar sê dat ons net moet glo dat as dit die Here se wil is, Hy my sal gesond maak en met ons as familie sal wees. Ons moet net nie begin twyfel nie. Ons moet in geloof bly bid. Ek word by die hospitaal ingeboek en nou lê ek alleen in die hospitaalbed, want my ondersteuner en geesgenoot, Corrie, het huis toe verkas. Sy en van die seuns kom my die aand tydens besoektyd besoek. Daar is maar kort-kort ongemaklike stiltes rondom my bed, maar ek besef dat almal die erns van my toestand besef en dat lighartige praatjiemakery nie daar tuishoort nie. Na besoektyd kom die lang nagtelike ure waarin ek weer met die Here worstel en die een gebed na die ander in stilte opstuur. Na bykans twee ure se wakker lê en met stormagtige gedagtes wat deur my brein dwaal, vind ek skielik hoe my gedagtes weggeneem word van die trauma wat ek deurgaan en ’n gevoel van heerlike vrede omhul my. Ek dank God vir hierdie kosbare oomblik, want ek weet dat Hy by my is. Ek het die nag deurgeslaap.

Ek word die volgende môre in ’n paar lang ure opereer. Nadat ek in die saal bygebring is, kom dr. De Beer in en hy gesels met my. Hy sê:

“Ek het ’n baie groot gewas in jou buikholte by een van die kliere verwyder, maar dit was nie moontlik om alles uit te sny nie, want ’n deel was om die aorta en ’n ander gedeelte om jou nierpype vasgegroei. Dit was te gevaarlik om daar te sny. Die deel wat agtergebly het, is so groot soos my handpalm, maar ek het dit met merkers gemerk want as dit later nodig is dat jy chemoterapie moet ondergaan, wil hulle op toekomstige skanderings sien of die gewas kleiner word al dan nie. Dié wat ek uitgehaal het, sal nou histologies ondersoek word om die aard van die kanker te identifiseer. Ek het ook op jou maag ’n paar dikker steke ingesit, om as jy dalk chemo moet kry en jy gaan naar word, moet dit die wond kan toehou en dit sal verhoed dat die steke nie uitskeur nie.”

Ek het nog ’n paar vrae gevra oor hoe lank ek in die hospitaal gaan wees en wat sy mening is oor die resultaat van chemo en ag, sommer nog ander niksseggende vrae. Ek was nog lekker deurmekaar van die narkose en het redelik ongemaklik gevoel met al die pype en monitors aan my lyf.

Die volgende dag het ek al opgestaan en met al die pype, drup, monitors en nog met die hospitaal se operasiekleed aan, my toiletbesoeke gedoen. Die operasiewond was van onder my borsbeen vertikaal, deur my naeltjie tot net bokant my skaambeen. Die snit was ongeveer 30cm lank. Dit het gemaak dat ek nie baie regop kon loop nie, maar vooroor geboë en só skuifel-skuifel vorentoe beweeg het.

Dr. De Beer kom sien my dieselfde dag en sê:

“Die gewas is kwaadaardig. Die limfoom is as Hodgkin se Limfoon (Siekte) geïdentifiseer. Wanneer jy ontslaan word, sal ek ’n afspraak maak vir chemoterapie by die HF Verwoerd Hospitaal, by dr. Faulkson en vennote, die onkoloë.” (Hierdie hospitaal is sedertdien hernoem na die Steve Biko Hospitaal.) Die Faulksons, die man, sy eggenote, hulle een seun en dogter was almal onkoloë in die groep. Hulle was regdeur Suid-Afrika en ook oorsee bekend as van die beste onkologiegroepe wat daar is.

De Beer het my baie gereeld kom besoek en na my vordering gevra en na die wond en alle uitskeidings gekyk. Ek kon die tweede dag, met behulp van die verpleegsters, uit die nagjurk van die hospitaal kom en ook van die hospitaal se katoen driehoekdoek, wat jou lendene toemaak, ontslae raak. Nou kon ek darem makliker beweeg met my eie onderklere en nagklere aan. Dit het vir my gevoel asof ek van ’n spreekwoordelike doodskleed ontslae geraak het.

Ek het meer as genoeg besoeke in die hospitaal gehad van dokters, vrou, kinders, broers en suster, vriende en selfs van die Senior Stafoffisier, polisiekapelane en van my kantoorpersoneel. Ek het maar redelik oes gelyk, en selfs ook só gevoel, want hoe kan ’n mens jouself positief indink as jy gehoor het jy het kanker? Die tien dae wat ek in die hospitaal was, het te stadig vir my omgegaan, want solank as wat ekdaar was, het mygedagtes telkemale maar teruggedraai na die “doodsvonnis” wat ek ontvang het. Só het ek gedink! Ek het kort voor my ontslag besoek ontvang van ds. Hennie Venter, ’n polisiekapelaan, hy lees toe Psalm 39 en gee ’n paar kort gedagtes rondom die Skriflesing, wat my gedagtes toe tot ruste laat kom het. Toe het ek besef dat God my nie gestraf het deur die kanker wat ek gehad het nie, maar dat Hy alleen my hoop is op ’n voortgesette lewe waar ek vry van die kanker sal wees. Hetsy in my aardse lewe óf as dit God se wil is, in die hiernamaals.

Ds. Hennie het sy paar gedagtes soos volg afgesluit met: “Die Here alleen sal sorg vir jou. Hy laat nooit sy kinders in die steek nie. Sy wil met jou en ons as sy kinders, sal altyd aan ons geopenbaar word!” Na sy gebed het ’n gevoel van vrede oor my gekom en nou het ek gevoel dat ek nie alleen staan in hierdie stryd om die kanker te oorwin nie, maar God is aan my kant, my vrou, my kinders, my broers en susters, my vriende, my kollegas, my gemeente, ja almal is saam met my as gelowiges besig om saam met my die stryd te stry! Ek kon net telkemale sê : “Halleluja!”

Nà my ontslag uit die hospitaal moes ek na ongeveer 2 weke teruggaan na dr. De Beer toe om die kleinere steke in die wond uit te haal. Hy het egter gesê dat die dikker steke eers na die eerste chemoterapie behandeling uitgehaal sal word, want ek sal baie naar word en hy wil kyk hoe die wond hom gedra na die sametrekking van die maagspiere tydens braking a.g.v. die chemo. Hy het toe ’n afspraak vir my by dr. Faulkson gemaak.

My eerste besoek by drs. Faulkson en Vennote was nogal ’n interessante maar ook ’n pynlike ervaring. Voordat chemo toegedien kon word, word ek geweeg, ’n kleurfoto word van jou gesig en hare geneem, en ek word voorsien van ’n instansie wat pruike in Pretoria vervaardig. Die foto was juis dat, sou ek ’n pruik moet kry, dit min of meer dieselfde kleur van my eie hare sou hê. ’n Bloedmonster word getrek en word ontleed om die bloedplaatjies- en wit bloedselle se telling in my liggaam vas te stel. Corrie was saam. Ek word verder ondersoek en ’n beenmurg monster is nodig. Ek lê op my sy en my linkerheup word na vore gedraai en ’n holnaald, ek sweer dit was so dik soos die naalde waarmee hulle beeste inspuit, word nou stadig, millimeter vir millimeter skuins in my bekkenbeen ingedruk en met ’n effe draaibeweging word daar dan van die beenmurg (rooi) in die bekkenbeen uitgehaal – so ’n lang wurmpieagtige stukkie omtrent so twee sentimeter lank. Ek het amper flou geword. Corrie sê ek het algaande, soos die naald sy rigting begin kry in my liggaam, witter en witter om die kiewe geword. Net betyds het die dr. die naald en monstertjie uitgetrek anders sou ek dalk net daar omgekap het. Wel, dit was die pynlike ervaring saam met die interessante wat hierbo genoem is. Dié monster was nodig omdat dit ook histologies ondersoek moet word om vas

te stel of my kanker nie dalk al in my skelet uitgesaai het nie. Gelukkig was die resultaat negatief. Dit alleen het ook ’n verdere gevoel van berusting by my gelaat.

’n Datum, sowat 2 weke later, is bespreek wat ek weer moet hospitaal toe kom om my eerste chemo te ontvang. Die ses dikste steke op my buik was nog steeds in en op plek. Die wond was reeds op die oog af gesond. Ek moes weer ’n bloedmonster gee, is weer geweeg en nou wag ons sodat die bloedmonster se ontleding beskikbaar raak. Die bloedmonster kom en ek gaan in die behandelings lokaal, net sowat twee deure weg van die ontvangsarea, en lê op ’n bed. Daar is vier beddens en elkeen is nou beset. Ek word deur die suster aan diens op my gemak gestel en sy sê dat hulle nou twee sakke vloeistof, saam met twee klein sakkies chemo in my arm gaan intap. My regterarm word in die binnekant van die elmboog ontsmet en die naald word ingedruk. Pynloos, maar dit bly maar ’n grillerige affêre. Sy meld dat ek nou ’n koue gevoel in my regterarm se are sal ondervind en ’n smaak asof ek dalk een of ander metaal kou, amper asof daar tinfoelie tussen jou tande is. As ek nou daaraan terugdink, wil ek amper weer daardie koue gevoel in my arm kry en smaak in my mond ondervind. Dankie Vader dit is maar net my gedagtes wat met my parte speel! Ek lê stil en die twee sakke vloeistof neem ongeveer 2 uur om in my liggaam in te tap. Die suster kom kort-kort ’n draai by my maak. Sy sê ook dat ek teen die aand se kant sal begin naar word en heelwat braak. Corrie neem my huis toe. Sy bestuur. Ek kry ook ’n hand vol pille om vir tien dae te drink en ek moet in Maart 1988 terugkom vir my volgende chemo-behandeling. Die datum word sommer bepaal en ek kry die afspraakdatum op ’n kaartjie. Die aand so om en by 7nm (19:00) kry ek die aller aakligste naarheid en moet dadelik by die toilet uitkom. Ek maak dit net-net. Hierdie naarheid en braaksessies hou tot laat in die nag aan. My maagspiere ruk op ’n knop en ek kry seer. Ek hou maar ’n kussing op my maag vasgedruk om die rukbewegings te verminder. Ek is pootuit en Corrie is al die tyd wakker en is baie simpatiek gesind. Sy raak later aan die slaap en ek slaap maar redelik onrustig dié nag. Geen verdere braking gedurende die nag nie. Die ander dag môre het ek nie baie lus vir eet nie. Ek begin met die klomp pille wat ek daagliks moet sluk. Die slegste pille wat daar op die rak is, maar ek byt vas. Corrie is die verpleegster en sy dien die regte dosisse toe. Ek gaan spreek dr. De Beer en hy haal daardie osriem steke op my buik uit. Hy is tevrede dat die snit sodanig herstel het, dat dit nie sommer sal oopgaan met die volgende behandeling in Maart nie. Ek gaan nou die behandelingstyd van agt maande baie kortknip. Ek het na presies 33 dae siekteverlof na die operasie besluit om terug te gaan werk toe. Ek het nog soggens bus gery en in die middae weer met die bus terug huis toe. Ek is elke middag maar baie pê en moeg, is hondmaer en met ‘n geel kleur in die gesig. My mond was, solank ek die pille gedrink het, vol seertjies en my tandvliese baie sensitief en bloederig as ek tande geborsel het. Ek het nie baie van my kop se hare verloor nie, maar die hare op my lyf het plek-plek uitgeval. Ek het amper gelyk soos ’n brandsiek mofskaap waar kaal kolle in die wolvag vertoon word. My kussing en kussingslope ruik na die chemo wat ek ontvang het en my sweet kleur die kussingslope amper mostert geel. Ons moes van die kussings ontslae raak want daardie reuk het aan die vere vasgekleef. (Terloops, chemo is eintlik ’n bestanddeel van mostertgas. Die helende funksie daarvan is eintlik gedurende die tweede wêreldoorlog uitgevind, toe dokters aan die fronte op die slagvelde in veldhospitale pasiënte vir skietwonde moes behandel en amputasies moes uitvoer. Dit is sommer as verdowingsmiddel aangewend en toe het die dokters gesien dat diegene wat mostertgas ontvang het, se wonde gouer genees het as die wat dit nie ontvang het nie. Dit is in der waarheid ’n gifstof wat in jou liggaam ingetap word. Só is aan my vertel, hoe waar dit is, weet ek nie!)

Gedurende my behandelingstydperk het ek ’n ewige afsku gehad in vleis, wors, kaas, eiers en ook vir melk. Ek het tog van tyd-tot-tyd daarvoor gevra en dan moes Corrie dit somtyds ontgeld want ek sou allerhande uitsprake maak oor dié kos as sy dit voorgesit het. Jammer, Liefste, ek besef nou eers watter diamant van ’n engel aan my sy is en hoe sterk jy was om my selfs in daardie tye op te

beur, by te staan en te versorg. Ek weet jy het stille trane gestort en ek was nie by magte om jou te troos en te ondersteun nie, want my toestand was vir my belangriker as joune! Ek weet nou dat die een wat die kankerlyer oppas en versorg, net soveel, indien nie meer nie, voor gebid moet word nie.

“Ek dank u Vader, ’n duisend maal duisend, vir die vrou wat U op my pad gebring het. Amen.”

Die Donderdagoggend voor die behandelingsdatum, wat gewoonlik op ’n Vrydag was, moet ek ’n draai maak by die Onkologie Afdeling om my bloed te laat trek vir ontleding. Die uitslag sal bepaal of ek die volgende dag chemo kan kry. Op die Vrydag, net na middag 12 uur, neem een van my personeellede my hospitaal toe en as die bloedtelling reg is, kry ek my behandeling. Corrie kom haal my so om en by 2nm (14:00) terwyl die laaste sak chemo nog besig is om ingetap te word. Die braaksessies begin nou gouer nadat die chemo ingetap is en ons moes met die laaste sessie redelik vinnig huis toe ry want ek wou-wou net begin braak in die motor. Ons het gelukkig net-net die huis gehaal. Vir die laaste sessie chemo, na agt maande, moes die naald vir die intap van die chemo boop my regtervoet ingesit word, want toe het die are in my regter- en linkerarm platgeval. Ek het elke tweede maand ’n “cat scan” gekry om die vordering van die kanker wat agtergebly het te monitor om vas te stel of dit aanhou groei het, kleiner geword het óf net dieselfde gebly het. Na die sesde behandeling in Augustus 1988, het die “cat scan” gewys dat die limfoom besig is om kleiner te word. Ek het net ses behandelings ontvang vanaf Januarie 1988 tot Augustus 1988. Gedurende Mei en Julie kon ek nie behandeling ontvang nie, want my witbloedseltellings was sodanig dat ek nie chemo kon ontvang nie. Die laaste twee behandelings was dus in Junie en Augustus 1988. Chemo is gestaak, maar ek moes toe nog elke maand by die onkoloog se spreekkamers ’n draai gaan maak sodat hy die nodige ondersoeke kan doen. Elke drie maande daarna, is weer ’n “cat scan” geneem en die kankergewas wat agter gebly het, het algaande kleiner geword. “Halleluja, die Here is onbeskryflik Groot!”

Na 18 maande het die onkoloog my in remissie verklaar en kon ek hom slegs elke ses maande kom spreek. Die kanker het verdwyn. Wonderwerke gebeur wanneer God se kinders hulle geloof behou en hulle gebede verhoor word. Na die derde jaar moes ek die onkoloog slegs elke jaar gaan spreek en ’n “cat scan” laat neem. Later het hy my versoek om slegs elke twee jaar te kom, slegs vir monitering. Gedurende 2008, twintig jaar na die kanker gediagnoseer is, het hy verklaar dat ek nou nie meer hoef te kom vir ’n ondersoek nie, maar dat indien ek iets abnormaal by enige van my kliere sou vind, ek onmiddellik na hom moes kom.

“Dankie, Liewe Here, vir u onuitputlike genade aan my en my familie met die gesondmaak van ’n baie erge siek verganklike liggaam. U is my Vader en ek is U kind, só ook die eggenoot en kinders en kleinkinders wat U aan ons geskenk het. Immanuel.”

Gedurende my behandelingstydperk is die immuniteit van my gestel afgebreek en was ek baie vatbaar vir die geringste kieme en virusse wat in die lug was. Ek moes my handel en wandel oppas. Ek het juis in daardie tyd ook weer nierstene gekry en ontsteking in die hoof slagaar in my arm gekry, waarin die drup was toe ek vir die nierstene opgeneem is.

Ek sluit hierdie gedeelte af met ’n Engelse aanhaling van ’n onbekende outeur: “Cancer is a strange cell. If you ever have it, you will never be free of it. If you never had it, don’t feel too cozy, you can get it. Pray for the day there will be a permanent cure.”

Ag ja, kom ek sluit hierdie traumatiese deel van ons lewe af met ’n dankgebed aan onse Vader:

Dankie, ons Hemelse Vader dat ek as een van U aardse kinders, vir sovele ekstra jare wat U ook aan my lewe toegevoeg het, sodat ek my eggenoot, kinders, kleinkinders en agterkleinkind kan liefhê, geniet en waardeer. Ek loof U daarvoor. Amen.

15.4 Hervatting van diens na behandeling vir klierkanker

Ek en Corrie het saam besluit dat siende ek nie meer die groot erf in Pretoria-Noord alleen sou kan baasraak nie, en dat ons nie weet wat die toekoms vir my inhou met die chemo behandeling nie, ons die huis in die mark moet sit. Hierdie besluit is gedurende Februarie 1988 geneem toe ek my eerste chemobehandeling gekry het. Wonder bo wonder kry ons dadelik ’n aanbod vir die huis. Dit was heelwat beter as die prys wat ons aanvanklik in 1971 daarvoor betaal het en die daaropvolgende verbouing wat ons gedoen het. Ons koop toe ’n meenthuis in Wonderboom, Pretoria. Ons het reeds teen die einde van April 1988 okkupasie geneem, alhoewel die koop eers op 1 Mei 1988 gefinaliseer is. Wonderboom Mews, nommer 20 in Elizabethstraat 175, Wonderboom word ons eiendom. Ek kry nog steeds chemobehandeling en is steeds so maer soos ’n kraai en my gelaat is maar redelik geel. Na drie en dertig dae siekteverlof het ek besluit dat alhoewel ek nog chemo kry, ek nogtans gaan terugkeer na my werk by die SA Polisie hoofkantoor, want ek wou nie by die huis sit en myself bejammer nie.

Ek bly egter as bevelvoerder aan by die twee seksies in hoofkantoor wat ek voor my siekte hanteer het, en die werk word na die beste van my vermoë gedoen.

Ons ervaar ook gedurende die mees traumatiese tyd in ons lewe, glanspunte en groot vreugde in ons familie. Die veranderinge in ons familie, het nou op gereelde maat begin verander, daarom moet die nou al bekende wiskundige som met spoed aangepas word. Baie van die veranderings het plaasgevind toe ek nog steeds in diens van die SA Polisie was. Ek wil dit ook met julle deel deur dit in te voeg by die gedeeltes waar ek melding maak van my diens na die kankerbehandeling. Geniet dus die beskrywing van hoe die veranderings ons wiskundige som geraak het.

Die eerste van die glanspunte, na die geboorte van Simone van Anton en die geboorte van Annelia by Kobus en Louise, is toe ons gehoor het van die aankoms van nog kleinkinders en huwelike van kinders en kleinkinders. Nou skop ek af met die eerste kleinseun wat gebore is:

Kobus en Louise wat nog steeds op die Josefsdal grenspos gestasioneer was, dit is op die grens van Swaziland, word ’n tweede kind ryker op 17/06/1988 en ons kry vir Jacques as kleinseun by. Ons almal is só opgewonde en só ook sy sussie. Ons familie groei na die wiskundige som van 2 plus 5 plus 3 plus 3 (Jacques het bygekom).

Jacques altyd in ’n vrolike luim – oudste seun van Kobus en Louise (Foto’s: Kobus du Plessis)

Slegs twee maande later ontvang ons ook die goeie nuus dat Anton en Suzette in Port Shepstone ’n tweede dogter verwag. Marike maak haar verskyning in die wêreld op 18/08/1988. Nie net die ouerpaar wat ’n dogter ryker geword het nie, maar ook ons as grootouers wat nog ’n kleinkind ryker geword het. ’n Regte knewel van ’n dogter en ons wiskundige som moet weer eens aangepas word tot 2 plus 5 plus 3 plus 4 (Marike het bygekom). Watter groot en onverdiende seën ontvang ons nie as familie nie, en dit selfs in die tyd wat ons die grootste trauma in ons lewe ondervind met die kanker wat by my gediagnoseer is en waarvoor ek nog behandeling ontvang. “God is groot en het sy kinders lief!”

Marike, sy poseer al van kleins af. Sy is die 2de dogter van Anton en Suzette. (Foto’s: Anton du Plessis)

Algaande sleep die maande verby en die werk hou nooit op nie. Ons is tuis baie gelukkig, want alle siektes bly weg en my gewone besoeke aan die onkoloog is alles negatief. Ek word gedurende Junie 1989 deur die Senior Stafoffisier, generaal-majoor H.P.M. de Villiers, aanbeveel vir bevordering na die rang van brigadier. Ons is 40 genomineerdes, maar bevordering sal eers geskied sodra die Bevorderingsraad later die jaar sitting sal hê. Ek het intussen ’n majoor bygekry by die personeelseksie. Hy was een van die eks-spoorweg polisie-offisiere wat in 1988 by die SA Polisie ingelyf is. Die werklas word darem nou minder en ek kon meer gereeld by al die seksies in hoofkantoor gaan besoek aflê om dienste te monitor.

Op 1 Oktober 1989 word ek saam met die eerste paar genomineerdes tot brigadier bevorder. Ek bly voorlopig aan by die twee seksies wat ek sedert 1986 bevel oor geneem het. Ek is toe ook een van die gelukkige staatsamptenare wat aanspraak kan maak op die motorsubsidieskema vir staatsamptenare met die rang van direkteur en hoër, alom bekend in die staatsdiens as ‘Krismiskarre.’ Ek skaf toe ’n nuwe Audi 500 E sedanmotor aan om die Audi wat ek in 1984 gekoop het, te vervang. Corrie kry ook haar eerste motor, ’n blou outomatiese Citi Golf 1400 motor.

Werner en Linnette verras ons met die nuus dat hulle ook ’n kindjie verwag. Dit sal die eerste een wees wat te Pretoria die lewenslig sal aanskou. Die heuglike dag vind plaas op 04/12/1989 toe Stephné haar aankoms bekendmaak.

Stephné met ’n krulle-bol hare en sy met haar akademiese hoofdeksel. (Foto’s: Werner du Plessis). Nog steeds glo ons dat al die kleinkinders die mooiste en slimste is wat gebore word. Ouma Corrie dra nou haar spogboekie (“Brag book”), waarin daar verskeie foto’s van die spannetjie is, oral saam in haar handsak. Ons kan met reg maar spog, want mooi was nog nooit lelik nie Nou moes die wiskundige som van ons familie nogmaals aangepas word sodat ons nie tred verloor nie. Dit lees nou: 2 plus 5 plus 3 plus 5 (Stephné het bygekom). Watter wonderlike gebeurtenis in ons lewe! “Dankie Here”!

Hierdie jaar was vir ons ’n gelukkige en voorspoedige jaar waarin ons ook ’n huwelik van nog een van ons seuns, kon gaan bywoon. Ja, dit was dié van ons jongste seun, Nico. Hy tree op 06/10/1990 in die huwelik met ’n geskeide vroutjie, Annerie Laubscher (Nee Jansen van Rensburg). Nou is ons wiskundige som 2 plus 5 plus 4 plus 5 (Annerie het bygekom), Sy het twee kinders, ’n 7 jr en 9 maande oue Lyndall Laubscher en ’n 5 jr en 4 maande oue Neil Laubscher. Hulle word onmiddellik in ons wiskunde som opgeneem, want hulle word outomaties ook ons mooi en slim kleinkinders. Die antwoord op dié som is nou 2 plus 5 plus 4 plus 7 (Lyndall en Neil het bygekom). Het amper ’n optelmasjientjie nodig om die antwoord van die som te kry.

Ons het algaande, soos die huwelike voltrek is, ook swaers en skoonsusters bygekry wat deel geword het van ons uitgebreide familiekring. Kom ek noem hulle by hulle name:

Nico se huwelik met Annerie. Hy kry sommer 2 kinders by, Lyndall en Neil. Ek het mos alreeds gesê al ons kleinkinders is die mooiste kleinkinders! (Foto’s: Ben en Nico du Plessis).

Lyndall en Neil. Ek het mos alreeds gesê al ons kleinkinders is die mooiste kleinkinders! (Foto’s: Ben en Nico du Plessis)

Suzette, Anton se eerste vrou, se ma, Juliana, het nog geleef, sy is sedertdien oorlede, maar haar pa is oorlede voor haar troue met Anton. Louise, Kobus se vrou, se pa en ma, Dawie en Annatjie, het bygekom. Linnette, Werner se vrou, se pa en ma, Neels en Sophie. Beide van hulle is reeds oorlede. Neels in ’n motorongeluk en Sophie na ’n lang siekbed weens septisemie. Sy het dit opgedoen nadat ’n niersteen haar uretra geblokkeer het en dit gebars het. Watter trauma het ons nie deurgegaan met beide van hierdie twee wonderlike aangetroude familielede nie!

Annerie, Nico se vrou, se pa en ma het bygekom, Johan en Dalene Jansen van Rensburg. Johan is 02 Februarie 2013 oorlede in ’n Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) se Ouetehuis in Pretoria. Dalene was ‘n paar jaar bedlêend weens ’n terugslag na ’n operasie. Sy is op 31 Januarie 2015 oorlede.

Ons uitgebreide familie het dus met rasse skrede gegroei. Hoe gelukkig is ons nie, maar die Liewe Vader het ook van tyd tot tyd van sy sederbome in sy bos kom kap en ons moes, saam met ons kinders, in hartseer en trane by geopende grafte byeenkom. Ons kan maar net ‘n dankgebed opstuur:

“Dankie Vader dat U ook die Heler is van stukkende harte en aanvaarding vir ons gee vir die gemis van geliefdes, na ’n teraardebestelling.”

Van hier af meld ek nou ook die kinders en kleinkinders wat getroud, geskei en nog kinders in hulle huwelike bygekry het, daarna volg my laaste bevordering en aftrede en alles wat daarmee gepaard gegaan het.

Kobus en Louise se derde kind, Ruan, is op 10/09/1993 te Secunda gebore, toe hulle daar gestasioneer was. Kobus by die Veiligheidspolisie en Louise by die distrikskommandant se personeel.

Ruan, Kobus en Louise se derde. Hy was klein-klein reeds groot! (Foto’s: Kobus du Plessis)

Die wiskundige som het nou 2 plus 5 plus 4 plus 8 gelees. (Ruan het bygekom). Ruan was toe die heel jongste kleinkind wat in ons lewe bygekom het en wat voorwaar, soos die ander kleinkinders, ook ’n ligstraal in ons familie is.

Christo het gelukkig na sy Ma se vermanings geluister toe sy grappenderwys sê dat sy nie met ’n oujongkêrel opgeskeep wil sit nie. Hy het toe besluit om die liefde van sy hart, Leana Roode, te vra om sy huweliksmaat te wees

Christo en Leana op hulle troudag. (Foto: Christo)

Christo en Leana is op 08/07/1995 in die huwelik bevestig. Hy is ons tweede jongste seun, en die laaste van ons vyf seuns, wat nou die huweliksband omgekry het. Watter heuglike gebeurtenis was dit nie in ons en ons uitgebreide familie nie. Almal het hulle gate uit geniet tydens die onthaal. Nou het daardie wiskundige som na 2 plus 5 plus 5 (Leana het bygekom) plus 8 verander. Ons uitgebreide familie word met Chris en Christine Roode as swaer en skoonsuster aangevul. Hulle het toe op ’n plaas in Naboomspruit geboer. Hulle het sedertdien die plaas verkoop en weer ’n plaas te Ermelo distrik gekoop. Ons het alreeds wonderlike dae by hulle aan huis deurgebring, alhoewel hierdie plaas baie kouer is in die winter as hulle vorige een wat in die Bosveld was.

Hierdie foto is geneem toe Christo en Leana in die huwelik bevestig was. Van links na regs: Elke dame staan voor hulle eggenote –Linnette en Werner; Louise en Kobus; Leana en Christo; Corrie en ek; Annerie en Nico en Suzette en Anton – (Sy eerste vrou).(Foto’s: Christo).

Net nadat al die heildronke tydens die onthaal afgehandel is, het ons van die geleentheid gebruik gemaak om al vyf die seuns, saam met hulle gades, te fotografeer as deel van ons foto-argief. Daardie foto, wat tydens Christo en Leana se troue geneem is, is die eerste foto van ons vyf seuns met hulle eggenotes saam met Corrie en myself. Kan julle ons trots in ons oë sien? Die foto verskyn elders in die boek.

So algaande, met die verloop van jare, het onswiskundige som noodgedwonge verander. Die eerste ongelukkige verandering, waar die som verminder moes word, het gekom a.g.v. ’n breuk in een van die seuns se huwelik. Anton en Suzette se huwelik is finaal op 28/06/1998 in die egskeidings-hof ontbind. Redes vir die breuk wat plaasgevind het, is nie van enige belang nie. Alhoewel Suzette in ons gedagtes nog een van ons familie is, omdat sy die moeder van ons seun se kinders (ons kleinkinders) is, moes die wiskundige som onvermydelik aangepas word. Met groot hartseer het dit nou 2 plus 5 plus 4 (Suzette is weg) plus 8 gelees.

Na twee jaar en ’n paar maande na sy egskeiding, het Anton besluit om hom weer in die eg te verbind. Hy is toe op 10/02/2001 getroud met ’n geskeide vroutjie Elthea Spies, (nee Jansen). Elthea het twee minderjarige kinders, Gerda en Thinus, waaroor sy die toesig het en hulle word nou in die nuwe huwelik as ons kleinkinders geag. Uiteraard moes ons die wiskundige som aansuiwer en dit lees toe soos volg: 2 plus 5 plus 5 (Elthea het bygekom) plus 10 (Gerda en Thinus het bygekom). Izak en Sannie Spies, ouers van Elthea, is deel van ons steeds groeiende uitgebreide familie. Izak is reeds oorlede. Daar het ’n redelike tyd verloop voordat ons dit weer nodig gevind het om die formule van die wiskundige som te verander. Ons, as ouerpaar van ons kinders, hulle eggenotes

en hulle kinders, was maar te bewus van wat in die Bybel geskryf is oor ons afhanklikheid van ons Hemelse Vader. Ons dra hulle en alle ander gelowiges altyd aan die sorg van ons Hemelse Vader op hetsy ons voorspoed of teëspoed, vreugde of hartseer oomblikke ervaar.

Anton en Elthea met Gerda en Thinus. Watter mooi gesin het hulle nie gemaak nie! (Foto’s: Anton).

Ons het juis ongekende vreugde en opgewondenheid ervaar toe Lyndall, wat maar altyd die dogter van Nico en Annerie, en kleindogter van ons, geag is, ook besluit het om ’n lewensmaat op ’n permanente basis te kry. Sy is toe op 15 Desember 2007 met haar hart se punt, Marco Combrinck, in Gordonsbaai in die huwelik bevestig.

Lyndall en Marco se huwelik. Sy is ons eerste kleinkind wat in huwelik bevestig is. Sy is die dogter van Nico en Annerie. (Foto: Ben).

Uiteraard word Marco, alhoewel aangetroud, nou ook een van ons kleinkinders. Daardie wiskundige som het telkens verander wanneer daar ’n toevoeging en/of uitsluiting van iemand in die familie is. Dit word dus nou verander na 2 plus 5 plus 4 plus 11 (Marco kom by).

Weens omstandighede buite ons beheer, het Anton en Elthea na die verloop van bykans 11 jaar besluit om hulle huwelik te ontbind. Weer het dit gepaard gegaan met hartseer en soms, ergerlikheid. Die huwelik is op 14 Maart 2012 finaal ontbind. Elthea se kinders het nou reeds opgegroei tot rooihakskeen tieners en hulle is saam met haar na nuwe weivelde. Noodgedwonge

het die wiskundige som, soos by vorige geleenthede, weer verander en is dit soos volg aangepas: 2 plus 5 plus 4 (Elthea is weg) plus 9 (Gerda en Thinus weg).

Watter vreugde was dit nie vir oupa- en ouma grootjie Ben en Corrie du Plessis, en oupa en ouma Nico en Annerie du Plessis nie, toe ons hoor dat daar ’n eerste agterkleinkind vir ons en die eerste kleinkind in Nico-hulle se familie, op pad is nie! Ons vreugde ken geen perke nie. Alexander Combrinck (Alex) word op 3 Augustus 2009 gebore. Watter trotse dag vir al die oupas, oumas en vir die ouerpaar! Met vreugde word die wiskundige som aangepas om soos volg te lees: 2 plus 5 plus 4 plus 9 plus 1 (Alex kom by).

Ons eerste agterkleinkind, Alex. Hy is die kind van Marco en Lyndall, skoonseun en dogter van ons seun Nico en Annerie. (Foto’s: Nico du Plessis)

Die verloop van ons lewens is egter nie in ons hande nie, en ons vreugde moes weer eens plek maak vir hartseer toe ons verneem dat daar storms op die see is waar Lyndall en Marco se huweliksbootjie vaar. Ons gaan nie nou in detail in hoekom hulle toe op 26/10/2011 besluit het om die huwelik te laat ontbind nie. Lyndall is nou ’n alleen-ouer met Alex. Ons moet nou ook die wiskundige som se antwoord verander na 2 plus 5 plus 4 plus 8 (Marco vertrek uit Lyndall se lewe) plus 1.

Algaande het die lewe maar sy gang in ons familie gegaan met al die teëspoed, maar ook met ons voorspoed, wat gelukkig meer is as ons teëspoede. Die seuns het, met die uitsondering van Werner wat steeds by die ouditeur-generaal se kantoor werksaam is, die polisie verlaat en ’n ander werk opgeneem waarin hulle hulself nou weer met volle aandag, lojaliteit en toewyding, kan uitleef in nuwe beroepe. Bevorderings het ook nie uitgebly nie. Dankie, Liewe Vader dat ons familie só geseën is dat hulle almal ’n baie goeie werk het. Wanneer ek hierdie memoires afsluit, sal daar ’n finale samevatting wees van hoe die seuns, dogters (skoon) en kleinkinders in hulle lewens gevaar het as volwassenes, met betrekking tot die betrekkings wat hulle op hulle werksterrein beklee het. Ek is nog steeds by die wiskundige som wat steeds onderhewig is aan verandering. Nico en Annerie se seun Neil, het besluit dat hy ook ’n lewenslange vonnis gaan aanvaar deur hom op 17 Maart 2012 in die huwelik met Leandi Brent te laat bevestig. Al die seuns met hulle geliefdes het die besondere byeenkoms bygewoon. Wat het hierdie huweliksplegtigheid dan só besonders gemaak? Dit was by Leandi se ouerhuis op ’n kleinhoewe naby die Hartbeespoortdam. Die pragtige tuin was só mooi versier, dat ’n mens amper meer geneig was om die versierings, voëls en mooi plante te bewonder i.p.v. om met aandag weer ‘n slag na die huweliksformulier te luister. Nou het die antwoord op ons wiskundige som weer eens verander. Dis nou 2 plus 5 plus 4 plus 9 (Leandi is in ons midde as kleindogter aanvaar) plus 1.

Neil Laubscher se troue met Leandi Brent. Dis ons seun Nico en Annerie se seun en kleinseun van ons. Watter mooi paartjie. (Foto: Nico).

Julle dink dat julle al alles gehoor en gelees het van hierdie skrywer wat ook die wiskunde onderwyser in die familie moet wees, maar liewe leser julle het dit verkeerd! My kennis van Wiskunde is maar net beperk tot die optel- en aftreksomme wat ons toentertyd in die skool moes leer. Corrie is die een wat Matesis (Hedendaags se wiskunde) op skool gehad het.

Ons was weer eens opgewonde toe ons gedurende Januarie 2013 gehoor het dat Annélia, die dogter van Kobus en Louise, wat verloof was aan Gerhard Meyer, besluit het dat hulle twee ook gaan afhak en hulle is, tydens ’n lekker, amper plattelandse atmosfeer te Muldersdrift, naby Krugersdorp, op 21/03/2013 in die huwelik bevestig.

Watter oupa en ouma kan nie trots wees op ’n kleinkind wat gaan trou nie? Ja, ons harte het geswel van trots. Die oupa en ouma aan Louise se kant van die familie, Dawie en Annatjie, het hulle vreugde en trots ook met hulle dogter en nuwe skoonseun met oorgawe geniet. Al ons kleinkinders is vir ons ’n trots. Ek moes maar die skryfyster (pen) weer uithaal en die antwoord van ons wiskundige som in die oefenboek van ons lewe vir die soveelste keer verander. Die antwoord het nou gestaan op 2 plus 5 plus 4 plus 10 (Gerhard is in ons familie opgeneem as kleinkind) plus 1.

Nog is het einde niet! Daar is nog ’n paar kleinkinders wat nog nie in die eg aan ’n lewensmaat verbind is nie. Dit is een van Anton se twee dogters uit sy eerste huwelikmet Suzette, Simone en Marike. Dan is daar Jacques en Ruan, seuns van Kobus en Louise, en Stephné, dogter van Werner en Linnette. Laaste maar nie die minste nie, dalk neem Lyndall, die dogter van Nico en Annerie, ’n besluit om weer af te haak. Die tyd sal ons maar leer. Sou daar ’n huwelik plaasvind voor die ter perse gaan van hierdie boek, sal dit ook die wiskundige som laat verander.

Annelia en Gerhard se troue. Dogter van ons seun Kobus en sy eggenoot, Louise. Beide uitgevat, soos dit ‘n huwelikspaar betaam. Mooi en gelukkig. (Foto: Ben)

Anton het, na sy tweede huwelik met Elthea, vir bykans 2 jaar die alleen paadjie van ’n geskeide man geloop en later aan ’n oud-skoolmaat, Analize Potgieter, verloof geraak. Sy was ook die slagoffer van twee vorige huwelike. Na hulle verlowing het hulle samesyn eers op 30 November 2013 op ’n huweliksband uitgeloop. Analize se twee kinders, Pieter en Sonika, wat reeds volwasse mense is, maar nog alleenlopend is, is ook nou deel van ons uitgebreide familie. Die antwoord op die wiskundige som lees nou 2 plus 5 plus 5 plus (Analize) plus 12 (Pieter en Sonika is nou in ons familie) plus 1. Ons uitgebreide familie word verder vergroot met Analize se ouers as ons swaer en skoonsuster. Ons verwelkom dus vir Dawie en Winnie Potgieter in ons kring van aangetroude swaers en skoonsusters.

Anton en Analize se troufoto’s lyk so ietwat anders as ons ander kinders se troufoto’s, en ook anders as sy vorige huwelike se foto’s. Die rede? Hulle troue se tema het ’n troue in die Middeleeuse tydperk uitgebeeld. Pa en ma Corrie het dit in gewone kleredrag bygewoon, maar 80% van die gaste was aangetrek om by die geleentheid te pas. Die huweliksbevestiging het in die oopte, net met ’n plek wat soos ’n outydse kapel versier was, plaasgevind. Daar was groot pret toe die Edelman en vrou (“My Lord and my Lady”) tussen die geregte wat voorgesit is, versoeke tot die gaste teenwoordig gerig het, wat dan nie die versoeke kon weier nie, want dit sou konsuis tot ’n ongelukkige en teenspoedige lewe lei.

Daarom het almal maar goedskiks saamgespeel en met allerhande komiese gebare en humoristiese antwoorde te voorskyn gekom. Baie van die items wat die terrein so opgedollie het, is gemaak deur Anton se nuwe bruid, Analize, Anton se twee dogters uit sy eerste huwelik en Analize se kinders en ’n paar vriendinne. Die onthaalplek was ook by ’n redelike groot lapa op dieselfde terrein en was só opgedollie sodat dit nie by die geleentheid, die troue, moet afsteek nie.

Anton en Analize geklee soos ’n edelman en sy vrou : ‘My lord and my lady.’ (Foto: Ben)

Sonika, dogter en seun Pieter van Analize, geklee om by die geleentheid te pas. (Foto’s: Anton du Plessis)

Sonika en Pieter, kinders van Analize, is ook nog ‘vrylopend’, soos die reeds gemelde kleinkinders van ons, en sal seker ook met die verloop van tyd lewensmaats ontmoet en hulle in die eg verbind. Ek het hierdie boek al amper klaar geskryf, toe ons op 1 Oktober 2014 die goeie nuus ontvang het dat Marike met haar verloofde, Vernon Palmer, getroud is. Dit was maar ’n stillerige troue met net die ouers teenwoordig. Die onthaal vir ons ander familie het later gekom, sodat ons ook deel kon hê aan hulle geluk. Nou het die wiskundige som weer verander om 2 plus 5 plus 5 plus 13 (Vernon nou ons kleinseun) plus 1. En só het die tyd verby gegaan, en my boek is klaar, maar terwyl dit nog geredigeer word, is Anton se oudste dogter, ons kleindogter, Simone op Saterdag 25/07/2015 by Izotsha, aan KwaZulu se Suidkus in die eg verbind met Dirk Janse van Noordwyk. Ons alombekende wiskundige som word soos volg verander: 2 plus 5 plus 5 plus 14 (Dirk het as kleinseun bygekom) plus 1.

Marike en Vernon se troue. Sy is die jongste dogter van ons seun Anton en sy eerste vrou Suzette. Weer moet ek die nou al bekende gesegde herhaal: “Watter mooi gelukkige paartjie maak dié twee nie!”. (Foto: Anton)

Simone en Dirk aan Suidkus tydens hulle huweliksbevestiging. Sy is die oudste dogter van ons seun Anton en sy eerste vrou Suzette. Kyk net hoe gelukkig lyk die paartjie nie!”. (Foto: Who’s Annah Photography)

15.5 Oorplasing na SA Polisiehoofkantoor as stafoffisier vir die senior stafoffisier

Ons eerste klomp kolonels wat gedurende 1989 na brigadier bevorder is, het plaasgevind toe daar heelwat nuwe poste deur die parlement geskep is, en die SA Polisiemag daardie nuwe poste nog in daardie finansiële boekjaar van die departement moes vul. Ons was dus die enigste brigadiers wat bevorder was sonder dat ons eers ’n Senior Bestuurskursus moes deurloop. Ons het egter nie

so ’n kursus vrygespring nie. Die Spoorwegopleidingskollege te Esselenpark, naby Kemptonpark, het nie meer spoorwegpolisiebeamptes opgelei nie, want hulle was by die SA Polisie ingelyf. (Die spoorwegmense het na Esselenpark as Eselspark, verwys – ek wonder hoekom?) Die SA Polisie kon toe van daardie opleidingskollege se geriewe gebruik maak. Ek was toe een van 44 brigadiers wat die Senior Bestuurskursus te Esselenpark Kollege vanaf 22/01/1990 – 16/02/1990 deurloop het. Ek het redelik hoog geslaag en my voorrang posisie op die bevorderingslys is met ’n hele paar plekke verbeter. Ek sou later daardie jaar my intrek neem op die 10 de vloer in die SA Polisie hoofkantoor as stafoffisier (eintlik ’n hulp) vir die Senior Stafoffisier.

Ek moet seker eers die benaming van ‘Senior Stafoffisier’ in SA Polisie se hoofkantoor so ’n bietjie omskryf. Ek glo dis ’n pos in die SA Polisie wat nie by ander staatsdepartemente, of die ander Magte, weermag en korrektiewedienste, bestaan nie. Alhoewel die kommissaris van die SA Polisie die Rekenpligtige amptenaar is, is daardie magte en bevoegdhede aan die pos van ‘n offisier met die rang van generaal-majoor gedelegeer. Hy het dus die posbenaming van Senior Stafoffisier beklee. Hierdie pos was omvangryk van aard, want in hoofkantoor het daar bykans 1000 polisiebeamptes gewerk van konstabels regdeur alle range tot by luitenant-generaal. Daar was ook 300 plus burgerlike werknemers. Hierdie pos het eintlik gelyk gestaan aan dié van ’n afdelingskommissaris wat in polisie-afdelings regdeur al die provinsies bevel gevoer het oor distrikskommandante. Distrikskommandante het weer bevel gevoer oor stasiebevelvoerders in sy distrik. Ek gaan nou nie verder die organigram van beheervlakke in die destydse SA Polisiemag beskryf nie. Weet net dat die pos van Senior Stafoffisier in hoofkantoor gelyk gestaan het met dié van afdelingskommissarisse, gepaardgaande met dieselfde verantwoordelikhede. Ek word dus later gedurende 1990 as stafoffisier vir die Senior Stafoffisier na die 10de vloer in Hoofkantoor verplaas. Brigadier Pilot Loots, die vorige stafoffisier van die Senior Stafoffisier, word die Senior Stafoffisier van hoofkantoor met die rang van generaal-majoor en die vorige Senior Stafoffisier, generaal-majoor Louw Erasmus, word bevorder na luitenant-generaal en word beklee met een van die ander senior beheerposte te Hoofkantoor. ’n Hele omwenteling en nuwe aanstellings by hoofkantoor wat nou die spreekwoordelike Aäron en Hur vir die kommissaris, generaal Johan van der Merwe, moet wees wat die SA Polisiemag moet bestuur. Ek is dus ook een van die groep offisiere by hoofkantoor van wie die SA Polisie se afdelingskommissarisse en distrikskommandante gepraat het van en verwys het as “Hulle”: ‘Ons moet nou só-en-só maak, want Hulle in Pretoria sê só! Wie is hulle? Hulle is by hoofkantoor!” Corrie het altyd die volgende gesegde gehad as een van ons in die huis gepraat het van ‘hulle’ in plaas van om ’n persoon se naam te noem: “Hulle dra brille van aartappelskille!” As jy dit van haar gehoor het, het jy geweet om die “hulle” van ’n naam of name te voorsien! Ha, ha.

My taak by hierdie afdeling was velerlei van aard, naamlik, saam met die Senior Stafoffisier, toesighouding oor alle “Vertroulike”- en “Geheime” korrespondensie te hanteer. Ook die bevorderings van alle offisiere in die Mag, met die uitsondering van die generalestaf, alle oortredings teen offisiere, hulle verplasings en dan ook die opstel van memoranda na die kommissaris en die Minister van Polisie, moet hanteer. Ons moes ook alle briewe wat direk aan die kommissaris van Polisie gerig is m.b.t. klagtes, deurlees, die ontvangs erken en na die toepaslike afdeling van die Mag vir nodige optrede en terugrapportering verwys. Die afdeling se bevelvoerder aan wie die brief oorhandig is, moet die beantwoording van die klagte namens die kommissaris doen óf aan die kommissaris voorlê vir sy handtekening as die inhoud van die brief wat ontvang is van so ’n aard is dat hy daarvan moet kennis dra.

Die Walvisbaai-enklawe wat in Namibië geleë is, was nog deel van die RSA se grondbesit en die distrikskommandant met sy drie polisiestasies aldaar het onder die Senior Stafoffisier se beheer geressorteer. Ek was dus ook daarby betrokke. Walvisbaai was dus een van Suid-Afrika se vissers-

hawe. Wanneer die vis ‘loop’, dan kan jy dit ruik. Die Walvisbaaiers sê dan : “Ons ruik weer vandag die Rand en sente!”

Ek moes eintlik die taak van ‘n afdelingsinspekteur verrig en die Senior Stafoffisier was die afdelingskommissaris van daardie gebied. Tydens my diens by daardie afdeling, het ek by drie geleenthede na Walvisbaai op inspeksies gegaan. By een geleentheid het ek Corrie saamgeneem toe ek ’n nuwe bakkie vir die distrikskommandant moes neem. Ons het toe vir ’n paar dae daar gebly en met die weermag se C130 (Flossie) vragvliegtuig teruggekeer Republiek toe.

By die volgende geleentheid was ons omtrent 6 senior lede van Hoofkantoor wat daar gaan besoek aflê het. Eintlik was ek en Hennie Fischer die enigste twee wat daar gaan werk het, want ek moes al drie die polisiestasies gaan inspekteer en Hennie die speurderskantore. Die ander klomp het gaan visvang en ons het later by hulle aangesluit. Kom ons vergeet wat alles daar op hierdie ekskursie gebeur het. Ek het ’n video van ons uitstappie – nie van die werk nie! Dalk is dit nog êrens in ons huis.

Vir die oningeligtes wat nog nie in Walvisbaai was nie, net die volgende interessantheid. Die ouer huise in Walvisbaai het geen dakplate op nie, maar spitsdakke van plank wat oorgetrek is met “rubbertex.” Dis ’n soort materiaal wat vroeër jare gereeld gebruik is om op vloere en op dakke te sit om dit waterdig te maak. Die ouer wonings het ook geen geute nie. Die rede?, die reënval vir daardie gebied is maar millimeters per jaar, maar daar is gereeld digte mis oor die dorp en al langs die kus op.

Die ander besondere stukkie inligting is dat, toe ons laas daar was, het die dorp net een teerpad gehad, die hoofstraat en al die ander paaie in die dorp was soutpaaie. Hulle was baie gelyk en het soos teerpaaie gery. As dit egter baie mis óf reën op die paaie kry, moet jy maar versigtig ry, want dit kan snotglad word. Voor inlywing by Namibië was dit mos deel van Suid-Afrika en dit was die enigste plek waar staatsamptenare, ook SA Polisielede, hulle skottelgoedwassers, wasmasjiene en yskaste wat deurgeroes het, moet vervang. Die rede? Die sout in die lug wanneer dit mistige weer is, kleef oral vas. Die polisiemanne, ek dink ook die staatsamptenare, het ’n ‘roestoelaag’ ontvang, wat in maandelikse paaiemente by hulle salarisse gevoeg word. Ek weet ongelukkig nie wat die bedrag was nie.

Die seesout soutpanne is net buite Walvisbaai geleë. Daar vroetel honderde flaminke daagliks in die vlak soutwater. Hier onder is ’n baie mooi lugfoto van die soutpanne. Die verskillende kleure is die verskillende grade van soutvorming as die seewater verdamp. Wisselbou, soos in Landbou, word ook hier gevolg. Daar word dus regdeur die jaar sout geskraap.

Die laaste geleentheid wat ek daar was, was toe Corrie ook saam met mede senior offisiere en hulle vrouens gegaan het. Die manlike spesie het weer gaan visvang en ek moes maar weer die stasies besoek en inspekteer. Hulle het my omtrent aangejaag, sodat ons nog voor sononder na die viswaters van Namibië kon vertrek. Ons het vir die paar dae by die munisipale chalets, net buite Walvisbaai, gebly. Ons seun, Nico, wat te hoofkantoor by die Watervleuel gestasioneer was, het saamgegaan om die watervleuelstasie by Walvisbaai te gaan inspekteer. Die kommissaris het goedgekeur dat sy vrou, Annerie, ook kon saamgaan. Die vrouens het vroeër na die RSA teruggekeer terwyl ons mans nog agtergebly het en later met ons vangste weer met die Flossie kon terugkeer RSA toe.

Julle dink seker dat die ouman homself lekker gate uit geniet het op die 10de vloer, want kyk net wat het hulle nie alles aangevang nie. Nee my liewe leser, dit was nie een van die maklikste portefeuljes wat ek beklee het nie, maar ek het die drie uitstappies, saam met die werk wat ek daar moes verrig, geniet. Ja, dit is só, maar die verantwoordelike posisies wat senior offisiere in hoofkantoor beklee, het met groot spanning gepaard gegaan, daarom dat die kommissaris dit

goedgedink het dat sy senior personeel, van tyd tot tyd so ’n wegbreeksessie verdien. Inteendeel, by een van daardie sessies was hy ook saam. Dit het die Minister van Polisie se goedkeuring weggedra.

Terwyl ek nog as stafoffisier van die Senior Stafoffisier diens gedoen het, is ek weer saam met 44 brigadiers genomineer om ’n Topvlak Bestuurskursus, vir bevordering na generaal-majoor, te gaan bywoon. Dié kursus is by die SA Polisie Akademie te Graaff Reinet oor die tydperk 2-13 September 1991 aangebied. Dié terrein en alle geriewe was vroeër die Graaff Reinet Onderwys Opleidingskollege wat gesluit het. Hierdie kursus was, uit leer- en skriftelike werkstukke oogpunt gesien, seker die moeilikste kursus wat ek in my hele loopbaan gehad het. Saans na die dag se vele voorligtingsessies, moes die spreekwoordelike kers maar kort brand en slaap moet jy vinnig slaap om weer betyds vir ontbyt en klas te wees.

Fisies het ons geen opleiding gehad wat ons koppe kon skoonmaak na ’n dag se rustig sit en luister en notas afneem nie. Die fisiese oefening was aan onsself oorgelaat. Omdat die akademie in Graaff Reinet omtrent 1,5 km uit die sentrale dorp geleë is, het ons daagliks maar soheentoe gestap om ons inkopies te gaan doen om sodoende ’n bietjie af te wen wat tydens die klassittery opgewen was.

Ek het die kursus geslaag, maar vier van die kursusgangers het dit ongelukkig nie gemaak nie. Vroeg in Maart 1992 word die eerste 6 brigadiers wat die kursus geslaag het, na generaal-majoor bevorder en ek was met ‘n latere bevorderingsessie in Augustus 1992 bevorder. In die volgende afdeling word my aanstelling as Hoof van die SA Polisie se Administrasie hanteer.

15.6 Oorplasing na SA Polisie-hoofkantoor as hoof van administrasie Generaal-majoor Chris van Niekerk wat die Hoof was van die SA Polisie se administrasie wat in die Veritas-gebou in Burolaan in Pretoria-middestad gesetel is, het skielik baie ernstig siek geword en ek moes toe, nog voor my bevordering na generaal-majoor, die stoel op 1 Mei 1992 gaan oorneem. Gelukkig was daar net een aspek wat vir my redelik vreemd was, naamlik die bevel oorneem oor die Sentrale Vuurwapenregister. Hierdie taak kon ek gou bemeester deur die destydse vuurwapenwet deeglik te bestudeer. Met die nuut verworwe kennis het ek baie ongerymdhede geïdentifiseer. Ongelukkig moes daar van twee van die 20 offisiere ontslae geraak word. Hulle het die destydse vuurwapenwet, m.b.t. die uitreiking van vuurwapenlisensies, nie nagekom nie en hulle skuldig gemaak aan omkopery. Hulle is strafregtelik verhoor en het albei gevangenisstraf ondergaan. Gelukkig was die ondersoek teen dié twee lede deur speurders ondersoek en kon ek rustig met my taak aangaan. Jammer om te sien hoe offisiere wat bevelvoerders van komponente was, hulle loopbane in die SA Polisie weggesmyt het. Ek praat nie eens van die skandvlek wat hulle op hulle families gebring het nie. Ja, my liewe lesers, selfs onder die ou bedeling, voor die Nuwe Suid-Afrika gekom het, was daar ook maar swakkelinge in die polisiemag, sowel as in die staatsdiens. Ek glo dat dit egter nie die omvang gehad het wat ons hedendaags van hoor, sien en ervaar nie.

Die Sportafdeling in die Mag was ook onder my beheer as die Hoof van Administrasie ingedeel. Ek het self weer begin om aan sport deel te neem deur by die SA Polisie se rolbalklub aan te sluit. Ek het gedurende Junie 1992 reeds aan my eerste Suid-Afrikaanse Mans Vierspel Rolbalkampioenskappe aan die Oos-Rand deelgeneem. Ek is nou nog bly dat ek die stap, om rolbal te speel, geneem het, want na my aftrede het hierdie sportdissipline vir my die fisiese oefening gegee wat ’n mens nodig het om jou liggaam fiks te hou. Ek moes ook daardie jaar die SA Polisie se Jaarlikse Atletiekkampioenskappe, in my hoedanigheid as Hoof van Administrasie, gaan bywoon waar ek medaljes aan wenners van sekere items moes oorhandig. Watter plesier was dit nie!

Ek gaan beslis nie verder vir julle vermoei deur die omvang van elke komponent van die Mag se administrasie uit te spel wat my verantwoordelikheid was nie. Daardie taak was groot en enorm in

371

omvang wat met verantwoordelikheid gepaard gaan, net soos al die generaals in die Mag ook hulle spreekwoordelike pond vleis moes bring by hulle gedelegeerde take in die Mag. Hulle moes die bestuur van die SA Polisie hanteer, sodat Wet en Orde in die Republiek na behore gehandhaaf kan word. My bevordering na generaal-majoor wat gedurende Augustus 1992 aangekondig was, was terugwerkend tot 1 Augustus 1992.

My bevordering na generaal-majoor in die SA Polisie (Foto: SAKB).

My aftrede het nou nadergekom, alhoewel ek nog diens kon verrig totdat ek 60 jaar oud word. Hoekom het ek dan na ouderdom van 56 jr en 1 maand met pensioen afgetree? Kom ek verwoord dit in die volgende hoofstuk.

Met die paar foto’s, op die volgende bladsy, van hoe die Suid-Afrikaanse Polisie se kenteken met die verloop van jare verander het toe ek nog dienend was, sluit ek hierdie hoofstuk af.

Links bo: Die wapen voordat ons `n Republiek geword het in 1960. Middel bo: Nadat ons `n Republiek geword het (Die kroon is verwyder). Bo regs: Die 8-punt ster se vorm het verander. Links onder: Die Suid-Afrikaanse nasionale wapen word vervang met `n aalwynboom en die bewoording verskyn net in Engels. Middel onder: Die 75 jaar herdenkingswapen wat in 1988 deur almal gedra

is. Regs onder: Die veranderde generaalskenteken, die gekruisde sabel en staf verskyn onder die wapen.

HOOFSTUK 16: ONS AFTREDE

Julle merk seker dat ek praat van ons aftrede en nie van myne nie. Corrie het, net soos ek, dalk tog nog meer, besef dat die Bybel se spreekwoord van: 'n Tyd om te kom en 'n tyd om te gaan, ook vir beide van ons sou aanbreek en nie net vir my alleen nie.

16.1 Hoekom afgetree voor die ouderdom van 60 jaar?

Ek het reeds vroeër gemeld dat ek sal meld hoekom ek vroeër afgetree het as die algemene aanvaarde ouderdom van 60 jaar vir mans in die polisie en die staatsdiens. Wel, die spreekwoord lui mos: "Beloftes maak skuld." Ek gaan baie kort die omstandighede hier onder meld.

Alle staatsamptenare, en ook die polisiebeamptes, wat voor 1ste Januarie 1955 by die staatsdiens in diens geneem of by die polisie aangesluit het, kon na die bereiking van die ouderdom van 55 jaar met pensioen aftree. Dan was daar 'n tweede groep beamptes en polisiemanne wat tussen 1ste Januarie 1955 en 31 Desember 1958 in diens geneem of aangesluit het, hulle kon op 58 jaar met vol pensioen aftree. Almal wat daarna in diens geneem en aangesluit het, moes noodgedwonge wag tot hulle die ouderdom van 60 jaar bereik het. Die uitsonderings is alleenlik wanneer iemand as gevolg van sy mediese toestand, as medies-ongeskiktheid die diens kan verlaat. Daar moes egter eers 'n Mediese Raad belê word en die aanbeveling moet wees dat sodanige lid met pensioen kan aftree. Daardie aanbeveling moet deur die departement of die polisie goedgekeur word. (Ek dink vandag se dae is die norm nie meer ‘n Raad wat moet besluit as jy weens jou gesondheid wil aftree nie, maar jy word bloot ‘n ‘goue handdruk’ gegee en weg is jy!)

Diegene wat op 55 of 58 jaar kon aftree, kon self besluit of hy in die staatsdiens of in die polisie wil aanbly tot enige ouderdom na 55 en/of 58, maar nie langer as die voorgeskrewe ouderdom van 60 jaar nie. Daar was egter een voorwaarde daaraan verbonde, en dit is dat jy drie maande skrifte-lik kennis moet gee dat jy op 'n bepaalde ouderdom wil aftree. Baie lede, offisiere inkluis, het van daardie voorskrifte gebruik gemaak. Die enigste nadeel was dat as jy op enige ouderdom 55 of 58 wil aftree jy minder pensioendraende diensjare in die staatsdiens of die polisie sal hê. Dan sal jou gratifikasiebedrag (globale bedrag/ “lump sum”) en die jaargeld (jou maandelikse pensioen) minder wees as diegene wat tot hul 60ste jaar aangebly het.

By geleentheid, gedurende Oktober/November 1992, was daar die geleentheid aan generaals in die polisie gebied om op enige ouderdom af te tree en dat die aantal pensioendraende diensjare bereken sal word asof hulle op die ouderdom van 60 jaar met pensioen aftree. Hierdie vergunning het voortgespruit uit 'n gesprek wat die eertydse Minister van Wet en Orde, Hernus Kriel, met die laaste kommissaris van die polisiemag voor die nuwe Suid-Afrika in 1994 tot stand gekom het, generaal Johan van der Merwe, gehad het. Die volgende is 'n aanhaling wat gevind word in die boek: Die Gloriejare van die Suid-Afrikaanse Polisiemag 1913 tot 1994. Die samestellers van die boek het 'n onderhoud met generaal Van der Merwe gevoer en hy het die volgende gesê, ek haal aan:

“Julle besef natuurlik dat hier gaan nie vir al die generaals plek wees nie. Daar is in elk geval te veel droë hout in die polisie.” Sluit aanhaling soos dit op pagina 182 staan.

Ek gaan nie verder uitbrei oor watter generaals moes loop, oor daar te veel was en watter die droë hout is waarvan Hernus Kriel melding gemaak het nie. My kollega, generaal-majoor Pilot Loots, het vir die kommissaris gevra of hy nie ook kan aftree nie, want hy kon alreeds op 55-jaar afgetree het, maar het aangebly. Aan sy versoek is voldoen. Hy skakel my waar ek by Veritasgebou die hoof van die Mag se administrasie was en meld dat hy die kommissaris genader het om ook van die vergunning gebruik te kan maak en dat hy dit goedgekeur het. Ek het vir Corrie gebel en haar vertel dat ek van voorneme is om die kommissaris te nader om ook van die aangebode voorreg gebruik te maak. Sy het geen beswaar as ek dit sou doen nie. Julle vra dalk: "Hoekom het Pa eers met Ma gekonsulteer voordat jy met die kommissaris gaan gesels het?"

"Ek het gevoel dat my aftrede ons lewenswyse sal affekteer, want ons het nog nie eers saam gesels oor wanneer ek met pensioen gaan aftree nie."

Ek maak telefonies 'n afspraak by die kommissaris se sekretaresse om generaal Johan van der Merwe te kom spreek. Sy het dit vir 11 uur (11:00) gemaak. Ek stap vanaf Veritasgebou na Wachthuis waar die kommissaris gesetel, is. Generaal Van der Merwe ontvang my en ek val sommer dadelik met die deur in die huis en sê:

"Generaal ek wil graag ook van die geleentheid gebruik maak om voor 60 jaar op pensioen af te tree. Ek kon al reeds op 55 jaar gegaan het en met my geskiedenis van klierkanker wat nou in remissie is, het ek gevoel dat ek nou 'n rustiger lewe saam met my vrou en familie kan begin."

Genl Van der Merwe sê toe: "Dup, ek is jammer dat jy nou al wil gaan, want ek sou jou dienste by administrasie wil behou, noudat alle probleme by die sentrale vuurwapenregister uitgesorteer is. Jou rede is vir my aanvaarbaar, laat Pilot ook jou naam op die memorandum aanbring."

"Dankie, generaal."

Ek verlaat sy kantoor en besoek Pilot en meld dat die kommissaris gesê het dat my naam ook op die memorandum bygesit word. Pilot het dit gedoen.

Ek en Pilot het toe saam met heelwat ander generaals einde November 1992 met volle pensioen afgetree. Daar was van ons afskeid geneem op 30 November 1992. Ek is nie 'n dag spyt dat ek op 56 jaar en 1 (een) maand afgetree het nie. Ek het vroeër, toe ek nog 'n luit-kol. by die Indiensopleidingseenheid was, aansoek gedoen om my pensioendraende diensjare te vermeerder deur vanaf my sestiende verjaardag op 02/10/1952 tot ek by die polisie aangesluit het op 16 Junie 1953, 'n tydperk van 8 maande en 'n paar dae, terug te koop. My jare diens het toe met heelwat jare vermeerder waarop die pensioen bereken kon word.

Ek gaan julle egter nie met die formule vermoei wat gebruik is om my gratifikasie en jaargeld te bereken nie. Dit, liewe leser, is in kort hoekom ek vroeër as 60 jaar met pensioen uit die polisiemag getree het.

16.2 Wel en wee tydens aftrede

Ek gaan onder hierdie afdeling nie alles streng volgens jaartal en datum volgorde neerpen nie, eerder aangeleenthede wat by mekaar hoort, as groep uitlig. Onder hierdie afdeling sal die “ektrompet” dalk ook sagter geblaas word, want nou doen en geniet ek en Corrie baie keer dinge saam. Die eerste aspek wat onder hierdie hoof dien gemeld te word, is dat ek nou ongehinderd my rolbal kan gaan beoefen.

Rolbal:

Soos reeds gemeld, het ek in 1992, voor my aftrede, begin rolbal speel. Corrie het dapper probeer om ook te begin, maar na slegs een middag het die son haar só ongenadig behandel, dat sy wyslik besluit het om maar die spreekwoordelike handdoek (rolballe?) in te gooi.

Rolbal speel by Pretoria-Noord se rolbalklub, het nou baie van my aftree-tyd in beslag geneem. Omdat hierdie sport so ’n uitdagende sport is, moes ek gou-gou die basiese beginsels van die sport onder die knie kry. Dit het daartoe gelei dat ek daarin begin presteer het. Na net twee jaar, 1994, word ek die klub se sekretaris, in 1995 verteenwoordig ek die klub weer by die Suid-Afrikaanse Mans Vierspelrolbalkampioenskappe (SA’s) te Kaapstad en word die vierspel waarin ek ’n spanlid was, as wenners van een van die 44 seksies bekroon.

Die klub het my nog by vier ander geleenthede gekies om hulle by die SA’s in ’n vierspan te gaan verteenwoordig. Ek het amptelik gedurende 2006 die klub verwittig dat ek my nie meer beskikbaar stel om by die SA’s te gaan deelneem nie, want my ander take in die klub het baie tyd en aandag geverg. Die mantel het toe vir ses jaar op my skouers geval om die president van die klub te wees. Ek kon ook my kennis van die sport verder verbreed en het ’n vlak 1 en -2 skeidsregterkursus asook ’n vlak 1, 2 en 3 afrigterskursus geslaag. Daardie kennis het ek altyd met mede rolbalspelers gedeel deur gereeld by klub-, distrik- en provinsialerolbaltoernooie te kon optree.

Toekennings en prestasies wat op al hierdie vlakke behaal is, word weerspieël in die lys van die sertifikate en toekennings wat in die laaste Hoofstuk gemeld word.

Links: Ontvanger van presidentstrofee en ere-lidmaatskap van Pretoria-Noord Rolbalklub. Regs: As lid van ’n vierspel rolbalspan wat aan die Nasionale Mans Vierspelrolbalkampioenskappe te Kaapstad gaan deelneem het en een van die seksiewenners was. L-R : Ferdie Nell; ekke; Kevin Usmar en Dawie van Zyl. (Foto’s Frank Louw)

Gedurende Augustus 2012 het ek by die Meyerspark Rolbalklub aangesluit toe ons na die Wilgers Aftree-oord verhuis het. Ons verhuising word later van melding gemaak. As ‘n laaste gedagte oor rolbal aan aldie lesers:Moet vir geen oomblikdink dat die rolbal as’n sportdissipline net vir oumense is nie. Om dit as “old men’s (women’s) marbles” te noem, is ’n verkeerde benaming, want ons het

tans nasionale- en provinsiale rolbalspelers, dames en mans, wat in hulle twintigerjare is, en daar is selfs leerlinge van so jonk as 13 wat reeds provinsiale kleure ontvang het.

My provinsiale kleure, dis nou die Noord-Transvaalse Madeliefie, het ek ontvang nadat ek as die sameroeper van Die Staandekomitee vir Afrigting vir die distrik aangewys is. Dié amp het onder andere behels dat kursusse vir kandidaatafrigters in die Gauteng-Noord se rolbaldistrik (provinsie) beplan en aangebied word. Afrigtersklinieke vir distrikrolbalspelers (provinsiale spelers) moes ook saamgestel en aangebied word.

Die gesegde dat ’n foto nie lieg nie, word onwaar bewys met die foto hier onder, want kyk hoe sonder plooie is ons outoppies! Ha, ha.

Dit was die laaste trofee wat ek saam met my mede-spelers by Pretoria-Noord Rolbalklub verower het, voordat ons Wilgers toe verhuis het. Dit was die Ope-vierspel vir mans in 2012. Links –Regs: Jaap Combrink (Eerste); Ekself (Skipper); Basie Leibbrandt (president van die klub) en Olla van Dyk (derde).(Peter Jacobs, my tweede, was ongelukkig afwesig met die fotonemery.) (Foto: Frank Louw)

Alhoewel ek ’n stoere WP en Stormers rugbyondersteuner is, dra ek nogtans met trots die kleure van die provinsie (Gauteng-Noord) wat dit aan my toegeken het. Die taak, eers as lid en daarna as sameroeper van die staande komitee vir afrigters, het ek vir bykans 8 jaar hanteer. Ek het die spreekwoordelike aflosstok aan ’n medelid, Pieter (Rassie) Erasmus, oorhandig toe ek weens baie pyn en ongemak wat ek in my regterheup ervaar het, bedank het, want ek kon nie meer praktiese demonstrasies aan spelers en kandidaat-afrigters gee nie. Ek het later tog ‘n operasie, waar ek `n heupvervanging, ondergaan het, gekry. Watter verligting van pyn ervaar ek nie nou nie!

Ek sluit hierdie gedeelte af deur my dank en waardering teenoor Corrie uit te spreek, wat nooit aan rolbal as sport deelgeneem het nie, maar my getrou in my diens te Pretoria-Noord Rolbalklub bygestaan het. Sy het gereeld toebroodjies gemaak, etes help voorberei, diens in die klub se kombuis gedoen, geldelike bydraes gegee en by al ons funksies aan my sy gestaan. Baie dankie, my liefling. Woorde van dank is beslis nie genoeg nie.

Jy is ’n vrou waarvan daar in Spreuke 31verse 10 tot 31 geskryf staan: “ ’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene …” Lees hierdie verse gerus weer met aandag oor en oor. Sy is ook my beminde soos Salomo in Hooglied sy beminde besing. Dankie meisiekind, ek lief jou. Klink dit

stroperig en aangesit? Nee, liewe leser, ons twee het nou ons verhouding as egpaar verinnig en versterk deur baie meer tyd saam te wees en om dinge saam aan te pak en deur te voer waar elkeen van ons ’n aandeel kon hê.

Oorsese besoeke:

Ons beide het besluit dat ons nou die geleentheid gaan gebruik om oorsee te gaan toer. Die geleentheid het vroeër gekom as wat ons gedink het. Gedurende Mei 1993 het een van ons gemeente (NG Overkruin) se predikante, ds. Johan van Zittert, gevra of ons saam met hom na Israel toe wil gaan, want hy is besig om ’n toergroep uit die gemeente bymekaar te maak. Ons het dadelik ingestem. Watter ondervinding was dit nie! Nou het ons as gelowige kinders van God die ervaring gehad om die plek waar Christus as mens op aarde gebore is en die plekke waar Hy ’n jong seun was, gewerk, gewandel, gekruisig, gesterf en opgestaan het uit die dood, en opgevaar het na die hemel te kon besigtig. Ons kon nou die plekke wat in die Bybel van geskryf word, eerstehands sien en besigtig. Ons kon die Via Dolorosa saam met baie Christene bewandel, die Olyfberg, die tuin van Getsemane en ook die Rotsgraf besoek. Golgota, die plek wat Kopbeenplek (hoofskedel) genoem word buite Jerusalem, waar Jesus gekruisig was, is ook besoek ’n Paar foto’s word elders ingesluit. Ons het die berg Masada, die Dooie see, die see van Ga-lilea, waar ons met ’n boot op gevaar het om die rowwe branders te kon ervaar, en vele kerke, en ook die enigste christelike kibboets, besoek.

Die toer was maar sewe dae uit en tuis en ons het amper nooit tot stilstand gekom nie, want ons toergids het ons na allerlei plekke, geboue en dorpe geneem. Ek kon vir Corrie ’n smaragring by die fabriek in Tiberias koop. Volgens haar bly dit een van haar kleinode. Ons kon by geleentheid toe ons in Kaapstad was, by ’n juwelierswinkel ’n paar smaragoorkrabbe, met dieselfde motief, in die vertoonvenster sien. Ek het dit toe vir haar as ’n geskenk gekoop, want sy het dit oor en oor verdien, want toe sy kinders moes grootmaak, en ek nie so ’n luukse kon bekostig nie, moes sy klaarkom met goedkoop juweliersware.

Sakwapen van Gauteng North kleure as rolbalafrigter. (Foto: Ben).

Links bo – Die Via Dolorosa; Links onder – Die tuin van Getsemane. Let op die dik stamme van die olyfbome. Regs bo - Die Heilige muur of Klaagmuur in Jerusalem; Middel regs – Die dooie see. Let op die soutkristalle; Regs onder: Die rotsgraf. Corrie naby die opening met haar kontantbuiksakkie (amper soos die buidel van die kangaroe!) en hoed in die hand. (Foto’s: Ben).

Ons kon as groep ’n nagmaalsdiens in die tuin, waar die rotsgraf is, bywoon. Die diens is deur ons predikant gelei. Die wyn was in kelkies wat uit olyfboomhout gedraai is, bedien. Ons het nog steeds die kelkies. Die brood was klein ongesuurde plat broodjies. Om in daardie tuin die gewyde oomblikke te herleef, laat ons eintlik weer opnuut klein voel in die teenwoordigheid van God ons Vader. Die tuin van Getsemane op die Olyfberg was ook besoek. Dit is daar waar Christus gevange geneem is nadat hy tot God Die Vader soos volg gebid het:

“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”.

Liewe leser, het jy ’n paar duisend rand wat jy vir “High days and holidays” weggesit het, óf vir jou kinders as erfgeld wil nalaat? Dan mense, gebruik dit, want dit is werklik die moeite werd om Israel

te gaan besoek. Dis ’n lewenservaring wat geen geld kan koop nie! Moet net nie in hulle somer gaan nie, dis dan baie, baie warm en bedompig. ’n Volledige bespreking van ons toer gaan ek nie doen nie, en ek sluit met wat hierbo geskryf is, hierdie ervaring af.

Op ’n boot op die see van Galilea op pad na Kapernaum. Ds. Johan van Zittert het, toe ons in die middel van die see, wat baie onstuimig was, die boot laat stil hou en het die gedeelte in Matt 8 : 2327 gelees. (Foto Ben

Ons volgende oorsese besoek was die reis met die Symphony boot na die Mosambiekse eilande, Bazaruto in besonder. Ons het saam met van ons kollegas en hulle gades die toer meegemaak. Ons het spesiale T-hemde laat druk waarop die boot se naam en die jaartal op geborduur is. Elkeen het ook ’n blou en ’n wit T-hemp aangeskaf. Die T-hemde het natuurlik hulle dratydperk reeds lankal bereik en kan nog net op die foto hieronder gesien word. Ons het as ’n groep ’n bussie gereël wat ons vanaf Pretoria na Durban vervoer het. Ons het ’n lekker onthaal by die International Police Association se gastehuis (IPA) in Durban bygewoon

Die foto is geneem voordat ons op die boot gegaan het. Lyk ons nie ’n bietjie verskrik (Bang) nie? (Foto: Symphony fotograaf).

Ons het oud-kollegas en hulle gades daar ontmoet en ’n hond uit ’n bos gesels. Die aand het ons in ’n 3-ster hotel op die strandfront geslaap. Dit was een van die Off-Beat vakansieklub van die Polisie se tyddeel selfsorgeenhede. Die volgende oggend het ons weer met die bussie na die kaai gery waar ons boot voor anker gelê het. Ons boot was die luukse passasiersboot “The Symphony.” Durbanhawe was ons vertrekpunt na Bazaruto toe.

Ons het dit baie geniet op die boot, want ons was voorbereid op die moontlikheid dat bewegingsiekte ons op die oop see sou vang. Die vooraf geslukte pilletjie ter voorkoming van bewegingsiekte het vir ons gewerk. Van ons kollegas en hulle eggenotes was braaf en het nie daarvoor voorsiening gemaak nie. Hulle het toe maar met kwylbekke en naar kolle op die maag, met tye in hulle kajuit moes deurbring en eers, nadat die skeepsdokter inspuitings gegee het, kon hulle darem die terugreis saam met ons op die dek geniet. Kos was daar in oorvloed op die boot en ’n groot verskeidenheid vermaak was vir die passasiers aangebied. Toe die kaptein van die boot verneem dat daar oud-generaals van die SA Polisie op die boot is, het hy versoek dat ons saam met hom afgeneem word.

Vir die tradisionele “The Night of the Captain”, moes ons mooi aantrek en was ons paar generaals wat daar was, sy gaste. Die toer het maar sowat vier dae geduur, maar die ervaring om op so ’n groot passasiersboot te reis en te ontspan, was die moeite werd. ’n Mens kry nie elke dag die geleentheid om op so ’n vakansietjie te gaan nie.

Die generaals is van L – R: Ben du Plessis, Daan Hugget; Pilot Loots; die kaptein van die boot; Alwyn Conradie (reeds oorlede); Gerrit Erasmus en Bernie Mostert. (Foto deur Symphony fotograaf)

Die onderste foto is geneem by ons aankoms van die kapteinsaand. Die kaptein van die boot ontvang elke generaals egpaar en word uitgenooi om by hom aan tafel te kom sit om aandete te nuttig. (Foto: Symphony fotograaf)

Onderste foto is ‘n Poskaart (lugfoto) van die Symphony passasiersboot.

“The European High Lights Tour”, wat die bywoning van die Duitse “Oberammergau Passion Spiele” (Passiespele) ingesluit het, was ons volgende ekskursie oorsee. Afgesien van verskeie lande wat ons besoek het, was die hoogtepunt natuurlik die Passiespele wat elke 10 jaar in die dorp Oberammergau in Duitsland gehou word. Meer inligting volg ietwat later, want dis werklik die moeite werd om van ons ervaring aldaar in meer detail te rapporteer. Engeland was ons eerste plek waar ons ’n dag of wat vertoef het. Ons het met die moltreine na plekke gereis, wat ’n eerste ervaring vir ons was. Die Buckingham Paleis se wagte wat omgeruil is vir die volgende skof is te siene gekry

Die omruiling van die wagte by Buckingham Paleis. (Foto: Google, want my foto was ’n bietjie van ’n flop.)

Die Madame Tousseau wasmuseum was ons volgende besoek en ons het gesig gewys by die Nasionale Museum, en ’n paar inkopies gedoen by Harrods, die wêreldbekende winkelsentrum. Wel dis genoeg. Ons is toe met die “ferry” vanaf The White Cliffs of Dover oor die Engelse kanaal na Calais in Frankryk toe. Die volgende lande slegs oorgebly, óf gedurende die dag gestop en besienswaardighede gaan kyk óf deur die nag per bus gereis: België, Oostenryk, Nederland,

(natuurlik die Walletjes besoek, net om te kyk, nie om te ervaar nie! Ha, ha) Italië, Venesië (met die gondels op die seestrate tussen die geboue gevaar) en die eiland Burano, waar die kantmakery is.

Ons het vanaf Venesië teruggekeer na Italië, die Vatikaan gaan besoek en ander besienswaardighede gesien. Toe per bus terug Frankryk toe waarvandaan ons terug na Suid-Afrika vertrek het.

Die mees belangrikste vir my van die toer, ek glo ook vir al ons reisgenote, was die aankoms en die oorbly van elke toerlid by ’n Duitse-egpaar in die dorp Oberammergau in Duitsland.

Watter ervaring was dit nie om die Passiespele te kon bywoon nie. Die hele dag in ’n groot buiteligouditorium, deels onder dak, in twee sessies vasgenael gesit en kyk en luister hoe die een toneel na die ander voor ons deur inwoners van hierdie dorp die lewe, wandel, kruisiging en opstanding van Jesus uitbeeld. Dit is só realisties uitgebeeld dat jy jou kan inleef in die intog van Jerusalem, die skoonmaak van die tempel waar Jesus hoenders, duiwe, varke en skape losgelaat en tafels omgekeer het. Kinders wat in die tempel was waar die mark bedryf is, het geskarrel om die geld wat Jesus afgeneem en op die grond neergegooi het, op te tel en toe laat spaander.

Jesus verdryf die geldskieters en verkoopsagente uit die tempel. (Jesus met die swart jurk en wit lang ‘rok’) Dit was aanvanklik ’n A3 -grootte foto in die boek, daarom moes ek die foto las. Let op die kinders in die linker-onderste hoek van die foto hoe hulle na die geldstukke gryp. (Photo: Oberammergau Pasion Spiele book.)

Al die foto’s wat in hierdie boek verskyn, is geneem uit die boek ‘Passion Spiele, Oberammergau 2000.’ Ons het die boek gekoop omdat daarin die hele geskiedenis beskryf word van hierdie tienjaarlikse Passiespele wat in hulle dorp gehou word.

Die tablo waar Jesus tot God Sy Vader bid in Getsemane, gevolg deur Sy gevangeneming, was só realisties voorgedra, sodat ’n mens die spreekwoordelike speld in die ouditorium kon hoor val. Tydens Judas se verraad, waar elkeen gesien en gehoor het hoedat die silwer muntstukke op die vloer val en wegrol, het ek amper hardop my teleurstelling geuiter vir die lafhartige daad. Jesus se verhoor en sy kruisiging was só aandoenlik gespeel deur die inwoners van Oberammergau, dat mens nie anders kon as om met klam oë na die spel op die verhoog te staar nie.

Die kruisigingstoneel was ook só realisties dat die 4200 mense in die gehoor botstil gesit en luister het na die houe wat Jesus ontvang het toe Hy gegèsel is, asook die harde hamerhoue wat in die ouditorium weerklink het toe die spykers deur sy hande en voete in die kruis ingeslaan is, waarop Jesus vasgemaak gelê het. Geen geluid is uit die mond van Jesus tydens die foltering gehoor nie. Die kruis is toe met hom opgehys. Die kruiswoorde wat in die stilte van die ouditorium weerklink het, was amper smekinge tot sy Vader, tot sy dissipels en tot die misdadiger aan sy sy. Daarna die houe wat met ’n riet op die doringkroon gereën het. Maria se huil-gekerm toe sy haar kind, Jesus, in haar skoot vasgehou het nadat Hy van die kruis afgehaal is, was aangrypend gewees.

van die

is.

Watter aandoenlike tonele! Dit het trane in my oë gebring en ek het stilweg gehuil. Met my beperkte kennis van Duits kon ek die dialoog volg, want dit wat voorgestel is, het die volgorde van dié gebeurtenis, soos dit in Die Bybel beskryf word, getrou nagevolg. Ons het ook ’n boek met Engelse dialoog aangekoop. Na hierdie stille, amper heilige tydjie, wat dit my geneem het om my waarneming van die kruisigingstoneel te beskryf, het ek besef dat die bewoording van lied 199, vers 4, in die Liedboek, eintlik my persoonlike waarneming daarvan, weergee. Ek het daardie bewoording van vers 4 in die vorm van ’n kruis gerangskik:

Lied 399 vers 4

Na ’n nag van onder-

Maria met Jesus nadat Hy
kruis afgehaal
(Photo: Oberammergau Pasion Spiele Book)

vraging, na ’n nag van géseling, word die Heer ter dood veroordeel, word Hy na die kruis gebring. Met die spykers, met die slae deur die marteling, die spot, wys die diepte van die liefde van ons Here, van ons God.

Ek het slegs ’n paar van die foto’s ingesluit van tonele wat by my die grootste indruk gelaat het en wat my altyd sal bybly. Daar was ‘n verbod geplaas op die neem van foto’s tydens die Passiespele, vandaar die besluit om foto’s uit die aangekoopte boek te reproduseer.

Jesus word ter dood veroordeel. (Photo: Passion Spiele Book.)

Ek gaan nou oor na ons voorlaaste oorsese reis. Of is dit die laaste? Dalk sal ons teen wil en dank tog nog oorsee gaan. Dié slag vanaf Kaapstad na Robbeneiland toe. Ha, ha.

(Photo’s: Oberammergau Passion Spiele Book)

Ons het ook saam met Christo en Leana deur Botswana getoer en by die Victoriawaterval in Zimbabwe besoek gaan aflê. Watter grootse natuurwonder! Ons het in net sowat tien dae eintlik met ’n sirkelroete deur ons noordelike buurlande gereis.

Victoria-waterval van Zimbabwe se kant uit die lug gefotografeer. (Foto’s: Werner).

Ons het toe deur die Caprivi Strook, wat nou as Oostelike Namibië hernoem is, by Katima Malilo iets geëet en is toe verder na Rundu toe op die destydse “Golden High way” wat nou geteer is. By Rundu het ons na die oorblyfsels van my grensdiens se basis gaan soek. Ek kon die terrein naby die hospitaal aan hulle uitwys.

Ek het wel hierdie foto op Google gevind wat die huidige Rundu se teerstraat (hoofweg na Katima Malilo) en een van die vele winkels aantoon. (Foto: Google)

Tydens ons grensdiens te Rundu basis, het die Parkeafdeling van die SWA se Administrasie ’n laning groot Dolfbome, ’n inheemse soort kiaatboom, langs die straat wat voor die basis verbyloop, geplant. Daardie stompe het ek geglo sal nooit groei nie. Wel, ons het daardie bome op ons besoek aan die basis gesien hoedat dit uitgeloop en gegroei het. Jammer ek het nie ’n foto daarvan geneem nie. In daardie stadium het ek baie sleg gevoel, want ek het kort-kort gebraak, en nie aan foto’s gedink nie.

Vooruitgang in Rundu het ook nie agterweë gebly nie. Winkels soos Shoprite, Spar, en motorhawens wat Caltex-, Shell- en BP-petrol verkoop, is in die dorp gesien. Ons het toe verder deur die

noorde van Namibië, deur die Etosha Wildreservaat, terug deur die suide van Namibië, deur Botswana met die Trans-Kalaharihoofweg na die RSA, gereis.

Watter ervaring was dit nie! Afgesien daarvan dat ons werklik baie wilde diere in Etosha gesien het, sal ek ook onthou dat dit die rit is waar ek ontsettend naar was vanaf Katima Malilo totdat ons in die reservaat arriveer het. Ons het probeer om ’n geneesheer in die hande te kry by Rundu, maar moes tevrede wees met medikasie wat ’n apteker voorsien het. Ek het gelukkig een dag later weer mens begin voel.

’n Klompie “Phantom trees” (Spookbome) in Etosha.(Foto: Google).

Ons het die “Phantom trees” (Spookbome) in Etosha gaan besoek. Dit het ’n vlesige stam en takke met baie klein blaartjies aan die takke. Die bome was egter kaal. Lyk nogal na ’n baster Kremetartboom en het ook die voorkoms van ’n baie groot spekboom. Hierdie bome is uniek en kom net daar voor. Die gebied waar daar ’n groot versameling van bome is, is tans afgekamp om dit te bewaar, want soos die liewe mensdom (die regoplopende kreature) maar is, is daar op die ouer bome name in harte met messe uitgekap/gesny.

Die Wimbledon Experience se kort toertjie in Junie 2012, was ons volgende ervaring. Leana en Christo het by geleentheid gevra of ons nie vir so ’n dag of wat Engeland toe wil gaan om tennis op Wimbledon te gaan kyk nie. Wie sou nou vir so ’n uitnodiging nee sê? Dit was omtrent ’n kort toertjie.

Blits besoek te Wimbledon 2012 saam met Christo en Leana. Ons het ook die Londen Eye besoek en gery. (Foto’s: Poskaarte en Ben).

Die Donderdag is ons hier weg en Sondag weer veilig terug by die huis. Mense, het ons nie die tennis en kort uitstappies in Engeland geniet nie! Ons het met huurmotors, busse en met die moltrein (‘tube’) gereis. Tennis gekyk vir ’n dag en toe met die rooi Londense “Hop-on” busse gery en ook met die London Eye-wiel London vanuit ’n ander hoek bekyk.

Die interessante van die “Eye” is dat dit beweeg baie stadig ononderbroke soos ’n wiel, selfs met op- en afklim van die passasiers. Dit het 36 borrels (“bubbles”) wat elkeen 25 toeriste kan neem Dankie kinders. Dit was kort, maar tog ’n lewenservaring wat ons in ons grysheid bygekry het en wat onthou sal word. Dit word waardeer..

Vakansies en saamwees geleenthede met gesin:

Julle sê dalk: “Julle is afgetree, dit is mos een lang vakansie!, nie waar nie?”

“Nee, julle is verkeerd. Ons wil juis wegbreek wanneer ons voel ons stêre jeuk om by familie te gaan kuier óf saam met ander, óf die kinders, óf om alleen na ander plekke te gaan om weg te kom van ’n geroetineerde lewenswyse tuis. Dit bring gewoonlik meer rustigheid en saamweestye by ons wanneer ’n mens jou in ander geselskap en omgewings bevind.”

Ek sal sommer so kortliks na vakansies verwys waar ons dan juis die wegbreek geniet het.

Ons het saam met ’n toergroep blomme in Namakwaland gaan kyk. Watter ervaring was dit nie. Ons het snags met die trein gereis tot in Kaapstad, vandaar tot in Namakwaland, en gedurende die

dag met drie busse die blomme gaan besigtig. Watter wonderlike skildery wat ons Liewe Vader vir ons met blomme met allerhande kleure en soorte, sonder palet en penseel, geskilder wat ons fisies kon beleef en bewonder het. Dankie Here. Ons het hierdie skoonheid reeds by drie geleenthede gaan geniet.

Links: Bokbaaivygies gefotografeer by die hospitaal by Nieuwoudtville, tydens een van ons blommetoere aan die Weskus. Regs: Nog ander blomme in God se aardse tuin in die Weskus. (Foto’s: Ben)

Ons het vele vakansies op ons eie deur die bemiddeling van die SA Polisie se Off-Beat Vakansieklub onderneem. Dit het ons op ver en vreemde paaie in Suid-Afrika geneem. Só het ons die land net verder en beter leer ken. Wat ’n wonderlike land bly ons nie in nie! Verder het ons by ’n paar geleenthede ons vriende saamgenooi of ons het hulle vergesel toe hulle die uitnodiging vir ’n gesamentlike vakansie tot ons gerig het. Ek moet melding maak van hulle, want van hulle is nie meer met ons nie: Koos en Lilian Vreÿ (Koos alreeds oorlede); Maggie en Johannes (Schalk) van Schalkwyk, Ad en Rita Smaal en Ann Serfontein (Schalk, Ad en Ann reeds almal na Hoër orde geroep). Só is vriendskapsbande verstewig en verinnig. Daardie ure, dae en soms weke saam, bly vir ons ’n herinneringspoel waaruit ons van tyd tot tyd kan delf.

Dan my liewe kinders, met julle en julle families het ons wonderlike tye saam op vakansies beleef. Dankie kinders vir die omgee, die liefde en empatie waarmee julle op daardie vakansies, soms net ’n wegbreek, ons hanteer het. Kinders en kleinkinders is ’n gawe wat God aan ’n mens skenk, en daarom te meer word julle saamwees met ons met opregte liefde en deernis waardeer. Ons troetel daardie saamweesgeleenthede.

Die aller belangrikste byeenkoms waar ons saam met die kinders, kleinkinders en die een agterkleinkind kon saam wees, tesame met ons vriende en ons uitgebreide familie, wat beskikbaar was, het op 03/10/2009 plaasgevind. Die kinders het baie moeite gedoen om die byeenkoms en die feesvieringe te reël. Hierdie byeenkoms, wat maak dit só belangrik? Dit was ons goue bruilof waar ons die Here kon dank vir 50 jaar getroude samesyn.

Voor van L na R :

Neil, seun van Nico en Annerie; Nico; Anton, die jongste een van die tweeling; Nou ekke en Corrie; Kobus, die oudste van die tweeling; Werner gevolg deur Christo.

Agter van L na R :

Gerda Spies, dogter van Anton en Elthea (sy tweede huwelik); Ruan, jongste seun van Kobus en Louise; Annerie, eggenote van Nico; Elthea eggenote van Anton; Stephné, dogter van Werner en Linnette; Marike, dogter van Anton uit sy eerste huwelik met Suzette; Lyndall Combrinck, dogter van Nico en Annerie met klein Alex op haar arm; Simone, dogter van Anton uit sy eerste huwelik met Suzette; Annelia, dogter van Kobus en Louise; Louise, eggenote van Kobus; Linnette, eggenote van Werner; Leana, eggenote van Christo, Marco Combrinck, eggenoot van Lyndall, dogter van Nico en Annerie en Thinus Spies, seun van Anton en Elthea. (Afwesig Jacques, seun van Kobus en Louise)

Foto Frank Louw

Ons het almal die paadjie van nostalgie met lief en leed van ons gesin kon ervaar toe Werner en familie ’n besondere CD saamgestel en vertoon het. Dankie vir almal wat ’n aandeel daaraan gehad het. Here ons roem U naam!! Dit was inderdaad ’n heuglike dag vir die Du Plessis-famille. Almal het saam die aller mooiste dag vir ons gereël. Ons dank die Vader in die hemel dat Hy vir ons as familie gespaar het sodat ons as ouerpaar ’n leeftyd saam met julle kon vier.

Ek wil die volgende humoristiese situasie vertel toe ons by geleentheid saam met Werner-hulle in die Kaap gaan vakansie hou het.

Vroeër het ek melding gemaak van die Vermeulens wat ons leer ken het in Humansdorp. Wel, ons het goeie vriende geword en hulle het na Napier, naby Bredasdorp, verhuis nadat oom Hans (Vim) sy vorige besigheid in George verloor het a.g.v. ’n skelmstreek van sy vennoot. Hulle het nou ’n viswinkel/kafee bedryf in Napier. Ons ry van Malgas af na Kaapstad. Werner-hulle met sy motor en ons met myne. Ons hou so ’n entjie van die viswinkel af stil. Ek sê vir Werner hy moet ingaan en sê dat hy ’n inspekteur van die Inkomstebelastingskantoor, in Pretoria is. Hy moet dan sê dat hy oom Hans se verkoopbelastingsregister wil nagaan. So gesê so loop Werner, met sy welige bos baard, die viswinkel in. Ons staan buite. Werner sê oom Hans sit by die toonbank en lees in ’n tydskrif. Hy meld toe, soos afgespreek, dat hy vanaf Pretoria se Inkomstebelastingskantoor is en dat hy die ver-

koopbelastingsregister wil nasien. Oom Hans, ewe ongeërg, sê: “Dis daar agter, gaan kyk maar !” Hy lyk nie baie gepla nie, kyk net na hierdie mannetjie wat sy boeke wil nasien.

Links: Verwelkomingsbord.

Regs: Hoofstraat Napier – pad na Caledon en Bredasdorp loop in die middel van die dorp deur.

(Foto’s: Google).

Ek, Corrie en Linnette gaan toe die viswinkel in. Nou lag ons almal. Hans sê hy was eintlik moerig vir die man wat só uit die bloute sy registers wil kom nasien. Tannie Jeanette kom tussen die rakke uit en toe word daar gelag, gesels en ons drink lekker tee by hulle in die viswinkel. Ja, en Jeanette kan tog só lekker brrry en as sy begin pgrrraat, klink dit soos’n grrramofoon wat opgewen is. “My magtig waarg kom julle nou vandaan?”

Gedurende 2012 het die kinders weer ’n slag ingespring en ’n gesinsbyeenkoms gereël. Watter aangename byeenkoms was dit nie toe ons as gesin by ’n vakansieplaas, nie ver van Pretoria af nie, kon saamkuier. Kyk na die foto wat met dié byeenkoms geneem is en julle sal sien dat almal vrolik en opgeruimd was – ag, die enkele een wat ’n bietjie frons, sal ons maar miskyk. Ons almal het gesê dat ons dit meer keer moet doen, maar ai, om ’n naweek te kry wat almal pas, is eintlik moeiliker as om iets op die Lotto te wen. Ha, ha.

Ons familie groep in 2012 – Kinders, skoondogters, kleinkinders en ’n agterkleinkind.

Voor L na R: Leana; Linnette; Corrie; Ekke; Annerie en Louise. Heel voor sit Lyndall en Alex. Agter. L na R: Christo; Werner; Stephné; Annelia; Simone; Anton; Marike; Neil; Nico; Ruan; Kobus en Jacques. (Toe die foto in 2012 geneem is, was Annelia, Neil, Marike en Simone nog nie getroud nie en Anton nog alleenlopend na sy tweede egskeiding.) ( Foto: Christo du Plessis)

Ons sal weer probeer! Daar is reeds meer nuwe bykomelinge! Kleinseun Neil is met Leandi getroud, kleindogter Annelia wat met Gerhard getroud is en kleindogter Marike met Vernon. Anton is weer in die huwelik bevestig met Analize, wat twee kinders het. Daar was ook, soos reeds vroeër vermeld, mense wat ons familiekring verlaat het a.g.v. egskeidings, maar die lewe gaan voort op elkeen se lewenspad. Anton se oudste dogter uit sy eerste huwelik, Simon, het reeds haar voorgenome huwelik met haar verloofde, Dirk Jansen van Noordwyk, op 25/07/2015 aan al die familie bekend gemaak. Hulle kon egter heelwat verder in hierdie boek as ‘n egpaar ingesluit word.

Verdere veranderings van ons familie se wiskundige som:

Gedurende ons aftrede het ons familie se wiskundige som van tyd tot tyd verander. Ek glo u het nou almal hierdie som se waardes reg gelees. Kom ek maak die ietwat van ’n onverstaanbare som se waardes weer eens bekend:

Die eerste syfer - 2 = ek en Corrie

Die tweede syfer - 5 = die vyf seuns

Die derde syfer - 5 = die skoondogters

Die vierde syfer - 14 = die kleinkinders – dié wat getroud is, se wederhelftes ook bygetel.

Die vyfde syfer - 1 = agterkleinkind - as daar nog bykom, verander hierdie syfer dien-ooreenkomstig.

Hospitalisasie:

Ons het beide maar gereeld in die hospitaal ’n draai gemaak – Corrie vir onstabiele bloeddruk en haar oë is geopereer toe sy in elke oog ’n lensinplanting ontvang het. Sy het ook haar porsie van groot operasies gehad soos knobbels (‘bunions’) wat op beide voete verwyder is. Albei haar skouers is geopereer omrede daar skeuring van spiere by die skouergewrigte was. Sy is ook as ’n tipe 2 diabeet gediagnoseer. Gelukkig het sy nie nodig om haar met insulien in te spuit nie, maar sy beheer dit deur ’n tablet te gebruik en haar dieet getrou na te volg.

Na my kankeroperasie het ek by twee latere geleenthede ’n hernia (’n breuk in die operasie- snit) op my buik gehad. Tydens die tweede operasie moes daar gaas onder die snit ingesit word sodat die nuwe snit behoorlik geheg kon word. ’n Liesbreuk het my weer in die hospitaal laat beland en my regterheup het ’n titaniumprostese gekry weens die degenerasie van die dybeen se knop en die bekkenbeen se sok. Ek het later ’n knievervanging op my linkerbeen gekry. Ek volstaan dan hiermee met hierdie oorsigtelike beskrywing van ons operasies en hospitalisasie, want niemand stel tog seker verder belang in al ons krankemente, pyne en skete nie!

Ek sluit hierdie gedeelte af waar ek op 20/09/2008 ’n algehele verwydering van my prostaat laat doen het, want dit het tekens van kanker getoon. Dit het my nou vir die res van my lewe gelaat met ’n spontane gelek van die blaas wat aanvanklike vir my ’n ergerlike las was, ek dit nou aanvaar het as ’n veranderde lewenswyse. Seuns, dogters en alle lesers, kom ek gee nou maar ’n woord van vermaning aan julle almal, met die openbaarmaking van my persoonlike liggaamlike toestand na die operasie:

Onthou dat daardie operasie het, nie net tot die voortdurende lekkasie van die blaas nie, maar ook tot erektiele disfunksie gely. Nou kan ek julle verseker dat ek en Corrie, in ons jeugdige bejaardheid, beide vrede gemaak het dat die intieme sy wat ’n getroude paar, ongeag hulle ouderdom, beleef, nou vir ons tot ’n einde gekom het. Onthou seks is nie die alles in ’n verhouding/huwelik nie. Ons ondervind nou dat ons huweliksband al stewiger in ons lewe saamgebind word, want nou leef ons saam met en vir mekaar.

Ek wil graag, na aanleiding van wat ek in voormelde paragraaf kwytgeraak het, tog die volgende dagstukkie wat Ds. Solly Ozrovech vir 17 Julie (vir enige jaar) geskryf het, hier herhaal. Wees geduldig met my en lees dit met aandag deur en julle sal die waarheid daarin weer by hernuwing kan inneem en julle geestelike lewe daardeur verinnig, verryk en versterk. Ek haal aan:

“… 17 Julie DRINKBAKKE SONDER HOOP

Lees vandag Jer. 2 : 10-19 – My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap wat gebars het. (Jer. 2 : 13)

Om water op te gaar was nog altyd ’n uitdaging. Vandag word dit in damme gedoen, en dit is dikwels groot ingenieursprestasies. In Bybelse tye het hulle drinkbakke uitgebeitel uit poreuse sandsteen rotse. Dit moes dan met pleisterwerk afgerond word om te verhoed dat die water wegsyfer. As die pleister gekraak het, sou die drinkbak spoedig leeg wees….. Ons kan wel wonder waarom daardie mense so dwaas sou wees, maar ons is waarskynlik niks beter nie. Die gebroke bakke wat ons gebruik, is genot, plesier, sport, geld, kos en seks. Party mense vul elke oomblik, behalwe hulle werkstye, met een of meer van hierdie tydverdrywe. Die tragedie is dat hulle dink dat hierdie dinge al is waaroor die lewe gaan en dat hulle lewe daardeur verryk word. Hulle sien nie die leegheid en doelloosheid van dit alles nie. Gaan ’n slag na ’n Casino en kyk hoe mense met albei hande twee ma-sjiene voer met die ydele hoop om meer geld te kry, en jy sien die gebarste bakke van ons tyd.

Die vraag wat elkeen van ons onsself moet afvra, is of ons by die Bron van Lewende water drink, of vertrou ons op gebarste bakke?...” Einde van die aanhaling.

Ek vertrou dat julle uit dit wat Ds Ozrovech geskryf het, sien dat ons maar voortdurend ons lewe moet rig na die enigste Bron waaruit ons die Lewende water kan put!

Byeenkomste van Generaalsklub en Bond van oud-polisiebeamptes:

Omdat ek ’n generaal was voor aftrede, kon ek aanbly as lid van die SA Polisie se Generaalsklub. Ons het, sovêr dit binne ons vermoë was, getrag om al die funksies en reise wat hulle gereël het, by te woon. So het ons weer by Walvisbaai ’n draai gaan maak waar ons ’n hele naweek gebly het en onder andere ook die bekende Duin 7 gaan klim het. ’n Uitstappie na Margate toe was gereël en ons kon met die Suidkustreintjie by ’n paar stasies gaan afklim waar ons iets te drinke, te ete en te siene kon kry. Ons kon toe nog gereeld met die SA Lugmag se Flossie (C130 Hercules vragvliegtuig) vlieg want van die dienende generaals het dit kon reël. Die Lugmag moet in vredestyd al sy vliegtuie vir ’n sekere aantal ure elke maand laat vlieg sodat dit nie staan en ‘oproes’ nie. Só het ons dan as amptelike passasiers saam met die Flossie kon reis. (Ons moes natuurlik almal vrywaringsvorms voltooi.) Aangename besoeke aan die Goudini Spa, Klub Mykonos aan die Weskus en ’n verblyf te Jeffreysbaai, was maar ’n paar van die geleenthede waar ons mekaar se geselskap en teenwoordigheid kon geniet.

Op 23 Augustus 2012, het die Generaalsklub sy 25 ste bestaansjaar gevier. Ek was wel nie 25 jaar lank ’n lid van die klub nie, maar as generaal vanaf 1 Augustus 1992 het ek wel by die baanbrekersdatum, saam met Corrie en ander generaals, feesgevier. Ons was by Weesgerus Vakansie-oord te Nylstroom en ons het ook ’n aansit dinee gehad in Pretoria. Tydens die opening het ds. Cas Kruger, oud-polisiekapelaan, voordat hy die dinee met ’n gebed geopen het, melding gemaak van die ‘vrou agter elke generaal’ tydens hul dienstermyn in die Mag. Hy het die volgende gesê, ek haal aan:

“Kom ons kyk wat die woord generaal beteken. Dit beteken die volgende:

G = GELOOF

E = EERLIKHEID – HY LIEG NIE

N = NEDERIGHEID - HY IS OOK ’n OOM

E = EMPATIE – HY GEE OM

R = RUGGRAAT – HY IS NIE BANG NIE

A A = HY IS OOK ’n ADVOKAAT EN ’n ADVISEUR WANNEER HY BESLUITE NEEM

L = LEIER – MENSE EN MANSKAPPE HET NA HOM OPGESIEN. ”

“Nou kom ek by die GENERAALSVROU : Sy was altyd deel van ’n span, vrou alleen gelaat om huis en haard aan mekaar te hou terwyl hy gewerk het. ’n Metgesel by uitnemend-heid. ” Einde van die aanhaling.

Dankie, Corrie vir jou getroue bystand deur al die jare, nie net as generaalsvrou nie, maar as polisieman se vrou deur al die range wat ek gevorder het tot ek die hoogste sport bereik het. Sonder jou aan my sy, sou ek dalk klaaglik misluk het in my loopbaan. God het dit só gewil dat ek jou juis in ’n kerkdiens moes ontmoet en raaksien. Ek lief jou met heel my hart.

Ons het ’n sosiale / informele klub van al die generaals wat te Pretoria en Johannesburg woonagtig is, en saam op 30/11/1992 afgetree het, byeengebring. Ons hou dan elke maand ’n ete-byeenkoms

by die een of ander restaurant in Pretoria of in Johannesburg. Ons groep was aanvanklik 16 generaals met hulle eggenotes, maar mettertyd het van hulle gesterf, óf uit Pretoria en Johannesburg verhuis. Ander het doodeenvoudig ‘te oud’ geword om nog rond te rits. Ons is tans maar sowat 16 siele, soos daar in kerktaal verwys word na ’n gemeente! Ek wonder wie sal die laaste egpaar óf enkellopende wees wat die spreekwoordelike lig sal afskakel van hierdie groep en die deur agter hulle toemaak?

Ons het by die Bond van Afgetrede Polisiebeamptes aangesluit. Dit is ’n bond waaraan alle polisiebeamptes, wat in die ou- sowel as die nuwe bedeling gedien het, kan aansluit. Selfs al het hulle uit die polisie uitgetree deur ’n pakket te aanvaar. Burgerlike beamptes wat by die polisie diens verrig het, kan ook hierby aansluit. Tweemaandelikse byeenkomste word gereël en dis voorwaar ’n lekker sosiale klub waar geen rang eintlik tel nie. Ons praat gewoonlik oor allerhande dinge, behalwe om oor die huidige stand van polisiëring in die land te praat. Ons het, wat polisiewerk betref, afgeskakel toe ons uit- of afgetree het. Ons geniet die saameet, die saambraai, die saam oud word en ook die samesyn so eenkeer ’n jaar by Weesgerus Vakansie-oord te Modimolle (Nylstroom).

Ons het ook as afgetredenes by die SA Polisie se Bejaardesorgfonds aangesluit. ’n Maandelikse geldelike bydrae word gegee en hulle voorsien ons afgetredenes van inligting oor ons medies, pensioen, en reël ook byeenkomste waar ons met medebejaardes kan kommunikeer. Daar is so ’n algemene cliché wat lees: “Oud word is nie vir sissies nie!” Wel ons geniet dit terdeë, want ons leef nog, ongeag die pyne, skete en mankemente wat daarmee gepaard gaan. Dankie, Liewe Vader in die Hemel!

Wat het nou met die seuns gebeur?

Omdat die seuns nou oud en getroud is, kan hulle self hulle onderskeie memoires skryf as toevoeging tot myne. (As hulle wil!) Ek het derhalwe besluit dat ek slegs iets baie kort oor hulle gaan meld. Soos ek reeds vroeër in hierdie geskrif gemeld het waar hulle gewerk het, met wie hulle getroud is, en watter aanwas daar, deur hulle toedoen, in ons familie was, is dit dus oorbodig om verder oor hulle lewens uit te wy.

Ons vier seuns wat in die polisie was, Kobus, Anton, Christo en Nico het van werk verander, maar Werner het op die personeel van die Ouditeur-generaal aangebly. Kleinkinders het groot geword, begin vry, gestudeer, begin werk, getrou en begin kinders kry. Die siklus wat ’n egpaar se lewe volg, soos ons s’n ook, het weer eens gewys dat die verandering gepaardgaan met ingryping in elkeen van ons lewens. Daarom kan geeneen wat sê hy/sy is ’n gelowige, die bestaan van ’n God ons Vader in die hemel, ontken nie!

16.3 Ons verhuising na Wilgers-aftreeoord

Reeds gedurende 2011 het Christo en Leana ons genader en gevra: “Sal Pa en Ma in ’n aftree-oord gaan bly as ons ’n geskikte een geïdentifiseer het waar ons ’n eenheid kan koop?”

“Ja, kinders maar gee ons nog so ’n jaar of twee kans, dan sal ons by ’n aftreeoord gelukkig wees,” het ons geantwoord.

’n Mens is mos bang vir die onbekende, daarom ons versigtige antwoord. Toe hulle egter in die begin van 2012 baie ernstig begin kyk het na huise in die aftreeoorde in Pretoria, het hulle ons weer genader. Ons het ingestem. Ons het toe saam met hulle na eenhede gaan kyk. Hulle het besluit dat hulle nou al in ’n eenheid vir hulle aftrede moet belê. Hulle het toe ’n eenheid in ’n nuwe aftree-oord, die Wilgers Aftreeoord, gekoop. Ons moes die eenheid vir hulle ‘oppas’ en ons meenthuis te Wonderboom vir verhuring beskikbaar stel. Ons het met hierdie ooreenkoms akkoord gegaan.

Ons het vir bykans 3-4 weke stuk-stuk na die aftreeoord getrek. Al vier seuns, wat in Pretoria woonagtig is, saam met hulle eggenotes, geliefdes en kinders, het hierdie verhuising deurgemaak. Nico was nie by nie want hy woon in KwaZulu Natal. Die Pretoria seuns het met hulle dubbelkajuitbakkies en sleepwaens gekom en só het ons huishouding die pad gevat Wilgers toe. Dit het amper gelyk soos Die Groot trek, dié verskil was dat daar nie ossewaens was nie, maar dubbelkajuitbakkies! Ha, ha.

Op 11/08/2012 het ons toe ons sit by die Wilgers Aftreeoord, in die Ooste van Pretoria gekry. Nou het ons amper soos ’n nuut (pas) getroude egpaar ons in ’n vreemde plek bevind. Ons moes nou vasstel waar is ons kerk, bank, hospitaal, huisdokter, tandarts, poskantoor, rolbalklub, motorhawens vir herstelwerk aan motors en volmaak van motors se petroltenks, Spar, Pick-en-Pay, DisChem Apteek, polisiestasie en waar kan ons ’n privaat posbus huur. Corrie moes uitvind waar is die haarkappers, die mooi-maak plekke en voetmassering, naelversorging, ens. Gelukkig het ons baie gou ons voete in hierdie kontrei gevind en alles is nou uitgestryk en in plek. Ons het reeds by die kerk se weeklikse Bybelstudie en hulle seniorbediening ingeskakel. Ek het myself as ’n dienswerker vir die NG Gemeente Meyerspark se lidmate in die kompleks, beskikbaar gestel. Ek speel rolbal by ’n ander klub en is ook reeds verkies tot sameroeper van die sekuriteitskomitee (sekuriteitsportfolio) van die aftreeoord.

Ons het reeds baie vriende gemaak. Ons banksake is in orde, ons het reeds by ’n tandarts besoek afgelê en ook ’n nuwe huisdokter en ’n privaatposbus hier naby bekom. Daar is selfs ou bekendes vanaf Wonderboom wat ook hulle laaste woonplek alhier kom koop het en nou afgetree is. Ons leef lekker en veilig. Ons het selfs al gewoond geraak aan die kos wat in die oord se kombuis voorberei word. Dankie Christo en Leana vir julle vêrsiendheid, en ook vir die ander kinders wat ook items gekoop en aan ons geskenk het om ons verblyf hier aangenamer te kon maak, en ook aan dié van julle wat dienste vir ons kom verrig het. Dankie vir elkeen van julle met julle families wat ons getrou hier kom verras met besoeke en ons in ons aftrede ondersteun.

Christo en Leana se woning in die Wilgers Aftreeoord waar ons dit vir hulle moet ‘oppas.’ (Foto: Ben).

Christo-hulle het redelik vroeg al magtiging gekry om die doringboom voor die huis af te saag, want dit het ’n skaduwee oor die sonpanele (“solar panels”) van die woning se geiser gegooi het. Daar is sedertdien ook ’n dubbel patio hortjiesafdak (“louvre roof”) aangebring.

Omdat ek, en Corrie ook, baie lief is vir die verskeie kleure wat ’n mens kry van litrose, het ons heelwat van die hangmandjies vanaf Wonderboom Mews saamgebring en dit herplant. Dit hang nou gerieflik onder een van die dubbel patio hortjiesafdak se rame.

Op 27 November 2013 het die aftreeoord onder ’n wolkbreuk deurgeloop wat met haelkorrels so groot soos gholfballe verwoesting gesaai het. Gelukkig was die aftreeoord se versekering reeds in plek en op datum betaal. Die eenheid waarin ons bly, was ook nie gespaar nie. Die volgende skade is aangemeld:

Daar was 140 sementdakteëls in flarde geslaan en water het die plafonne van die kombuis en suite badkamer van die hoofslaapkamer gevlek; alle fasieborde moes vervang word; die PVC (plastiek) aflooppype en die vullistrollie asook die reënmeter moes vervang word. Twee groot ruite aan die suidekant van die eenheid is flenters geslaan, die ribbe van die hortjiesafdak (louvres), is ingeduik met honderde duike wat die toemaakmeganisme verhinder sodat die afdak nie dig kon sluit nie.

Ander inwoners/eienaars se parkeerafdakke se geriffelde sinkplate is ook beskadig, motorkarre wat buite gestaan het se skade het derduisende rande beloop a.g.v. duike en vervanging van ruite; plastiekstoepmeubels van bewoners is onherstelbaar beskadig en ag dan praat ek nie eers van die tuine nie. Tuine in die kompleks is verwoes en gras is duike ingeslaan asof iemand dit met ’n stomp voorwerp sentimeters in die gras ingedryf het.

Ongeveer 10 minute nadat die haelstorm verby is en dit nog baie sterk gereën het, het ek koes-koes teen die stormreën na buite gehardloop en van die haelkorrels gaan optel en gefotografeer.

Die finale skade in die aftreeoord het bykans vier miljoen Rand beloop. Drie kontrakteurs het vir bykans twee maande, sewe dae per week, gewerk om alles wat beskadig was, te herstel of te vervang.

Haelkorrels so groot soos eiers en gholfballe. (Foto’s: Ben)

Ons het gedurende Mei 2014 besluit om die tuin te laat uitlê, want net die bietjie gras voor die woning lyk maar baie afgeskeep. Ons het dieselfde persoon gekry wat ons bure se tuin uitgelê en beplant het, sodat ons tuinuitleg by dié van die buurvrou s’n kan aanpas, want ons twee eenhede is aanmekaar en vorm ’n eenheid.

Ek het ’n paar foto’s geneem en in plaas van net gras, soos in die vorige foto, is daar nou ’n netjiese tuin uitgelê. (Foto’s: Ben)

Omdat daar nie ’n baie groot grond/grasgedeelte aan die voorkant van die woning is nie, het ons besluit om die beperkte gedeelte deur ’n professionele tuinuitlegger te laat doen. Die plante is ook deur hulle voorsien, behalwe die mooi hibiskus wat ons vanaf Wonderboom saamgebring het. Ek het weer eens heelwat potte waarin ek plante geplant het, maar dit is nog in die groeistadium, daarom laat ek dit gerieflikheidshalwe weg. Sodra die potte se plante in volkleur is, sal dit mooi by die uitgelegde tuin inskakeer. Die nuut uitgelegde tuin en die potte, is maar die deel wat my besighou wanneer ek nie rolbal speel nie.

HOOFSTUK 17: SLOTGEDAGTES

Die volgende is maar net ’n paar slotgedagtes om hierdie memoires mee af te sluit. Julle, as lesers, is seker nou net mooi keelvol van al die ervarings wat ek in die polisiemag beleef het, en ook waar ons as familie sekere paadjies in ons gesinslewe moes loop. Daar-om gaan ek niks, maar niks, melding maak van enige verdere herinneringe wat ek dalk nie aan gedink het óf uitgelaat óf vergeet het tydens die skryf van my memoires nie. Ek vra nederig om verskoning sou ek dalk iets wetenswaardig uitgelaat het, waarvan u as leser dalk kennis dra, weet egter verseker dat ek dit wat geskryf is, uit die spreekwoordelike ‘black box’ van my geheue moes opdiep.

Ek sou egter my plig versaak indien ek sou nalaat om ’n paar dankies te sê aan diegene wat die skryf van hierdie boek moontlik gemaak het:

Eerstens: Aan die Here al die eer wat my geseën het met die gesondheid, tyd en herroeping van my en Corrie se herinneringe uit ’n al hoe oud wordende geheue. Dankie Here, ek loof U, want U is die enigste lewende God wat U kinders nooit sal verlaat nie. U seëninge kom onverdiend op ons neer!

Tweedens: Toe ek hierdie boek ’n opskrif of titel moes gee, het ek baie gedink en soms byna paniekerig geraak, dat die boek net as ‘Ben se Memoires’ bekend sou wees. Een môre, tydens my stiltetyd met My Hemelse Vader, lees ek die bekende gedeelte in Johannes 6 waar Jesus die 2 vissies en 5 brode aan duisende mense as ’n ete voorgesit het. Vers 10 en verder, kry die gebeurtenis weer eens vir my, by hernuwing, betekenis dat Jesus nooit sy navolgers vergeet het of in die steek gelaat het nie. Wel, God het vir my en Corrie ook nie in die steek gelaat nie, want ons het mekaar as ’n egpaar gevind en in die eg verbind, waar daar uit wedersydse liefde vir mekaar, vyf volmaak geskape seuns gebore is. Watter voorreg was dit nie om hulle in liefde op te voed, somtyds selfs op te voeter, nie.

Ons beker van geluk het al hoe voller geraak met die seuns wat ook in die eg verbind is met hul geliefdes. Kinders is uit hulle huwelike gebore en ons beker van geluk het steeds voller geraak met die aankoms van ons kleinkinders. Selfs van daardie kleinkinders het ook reeds in die huwelik getree met eggenotes wat hulle in liefde gevind het. Die eerste agterkleinkind is gebore en watter egpaar kan nie met nederigheid God dank vir die kinders, kleinkinders en agterkleinkind(ers) wat die nasate van twee mense is wat in 1959 in die eg verbind is nie. Kan ek anders, óf dalk kwalik geneem word, as ek sou sê dat my en Corrie se lewe saam het net so ’n vermeerdering, deur God se hande- werk, ondergaan as die vissies en die brode wat Hy laat vermeerder het by die see van Galilea? Dankie Here, dat ek daardie wonderwerk van U wat in die Bybel opgeteken is, as inspirasie vir hierdie boek se titel kon gebruik.

Dan derdens: Dankie aan Corrie, my eggenote, wat my al die jare van ons huwelik, deur dik en dun ondersteun, bygestaan en vir my aan die Here opgedra het as ek dae aaneen van die huis afwesig was om misdaad te ondersoek óf opleiding aan polisielede te gaan gee, en sy ons kinders moes grootmaak. Dankie bokkie, jy is werd om geliefde, deurdrukker en kind van God genoem te word. Ek het jou baie lief. Dankie dat jy ook baie van die tikfoute raakgesien en reggestel het.

Vierdens aan ons kinders: Dankie Kobus en Louise, Anton en Analize met julle families, wat ons nooit geminag of vergeet het terwyl julle self die ontsettende groot taak gehad het om julle dagtaak te verrig en julle kinders groot te maak nie.

Die dankies geld ook vir Werner, Linnette en hulle dogter, Stephné, maar meer nog vir die slinkse wyse waarop hulle my, as rekenaar onkundige (rekenaar domme), só sistematies in die geheimenisse van die werksaamhede van ’n rekenaar ingelyf het, sodat ek hierdie boek op rekenaar kon skryf. Dank aan Werner wat my gehelp het om die voorlopige boek uit te druk en die foto’s helderder te maak en tik- en taalfoute, wat geïdentifiseer is, reggestel het.

Aan Christo en Leana wat eintlik die inisieerders vir die skryf van hierdie boek was. Só algaande het hulle kort-kort met ’n nuwe motivering vorendag gekom, sodat ek nie moet moeg raak en die hele poging moet staak nie. Dankie julle. Met almal se motivering en somtyds kort aanhalings wat ek uit die boek aan julle voorgelees het, het julle my oorreed om dit wat in my, en somtyds in Corrie, se lewens gebeur het, graag te boek te stel.

Dankie ook aan Nico en Annerie, wat in Umhlanga in KwaZulu Natal woonagtig is en wie nie só naby soos die ander kinders was om my ook aan te spoor en aan te moedig nie, maar tog in gees by my was. Hulle het gereeld, tydens besoeke aan ons, verneem hoe die boek vorder.

Ek moes male sonder tal ook feite van ’n gebeurtenis of situasie wat ek saam met my kinders en ook Corrie beleef het, by Corrie uitklaar, sodat ek só na as moontlik by die waarheid kan bly! Dankie daarvoor.

Dankie aan almal van julle vir die baie keer wat ons uitgenooi is om te kom eet, saam met julle vakansie te hou en soms net lekker saam te kuier.

Dankie ook aan Corrie se jongste suster, Veronica, wie ek moes raadpleeg oor die gebeure rondom oupa en ouma Scholtz se woning wat met die groot reën in Port Elizabeth oorstroom was en hulle moes verhuis. Sy kon feitlike weergawes gee waaroor ek nie beskik het nie. Baie dankie.

Vyfdens aan al ons nasate: Ek het aan elk van die seuns ’n brief gegee waarin ek die oorsprong van die titel van my boek, 2 plus 5 plus…? aan hulle bekend gemaak het. Ek het hulle versoek om ook daardie brief aan hulle eggenotes en kinders te gee. Die gedagte het by my opgekom dat hulle, en al hulle nasate, net so ’n deel van hierdie boek is as dit wat ek oor ons en hulle daarin geskryf het. Hulle is toe versoek, indien hulle wil, om enigiets wat hulle aan die lesers van die boek wil

openbaar m.b.t. my en Corrie se lewens, aan my te stuur sodat ek dit by hierdie boek kan insluit. Dit wat in die volgende hoofstuk volg, is die bydraes wat ek van hulle ontvang het. Baie dankie! ‘n Paar laaste woorde van dank: Dankie is ‘n klein woordjie maar dit spreek boekdele van ons waardering wat julle gedoen het:

- aan Werner wat die moeite gedoen het om ‘n drukkery te kry wat die boek gedruk het,

- aan Leana en Christo wat die drukwerk gefinansier het, en

- aan ons Bybelstudie vriende, Basie en Ria van Wyk, wat dae deur die boek geworstel het om dit taalkundig te versorg.

HOOFSTUK

18: BYDRAES DEUR ONS KINDERS EN HULLE GELIEFDES

Soos reeds vermeld het ek die seuns, met hulle geliefdes, versoek om enigiets wat hulle dalk wil skryf, wat betrekking het op my en Corrie se lewe, hulle dit aan my moet stuur vir insluiting in hierdie boek. Ek het getrag om dit wat ek ontvang het, net so in die boek op te neem. Ek sal slegs die een wie se bydrae volg, eers aan die leser wat dalk nog nie die wiskundige som van die Du Plessis’s verstaan nie, kortliks bekend stel en so hier en daar ’n stelling wat gemaak is, herformuleer.

Kobus is die oudste van die tweeling en is dus ook die oudste van ons kinders. Hy het sowat 3 ure voor Anton die lewenslig as mens aanskou. En was dit nie ’n verrassing vir ons as jong getroude egpaar nie! Sy bydrae het hy soos volg verwoord:

Dit is voorwaar ’n groot voorreg om ’n bydrae te kan lewer in die boek waarin Pa sy memoires te boek gestel het. Ek doen dit met graagte.

Pa Ben was altyd bereid om die spreekwoordelike ekstra myl te loop vir sy kinders, skoonkin-ders en ook só vir sy kleinkinders. As ek dus moet skryf oor Pa se invloed op my lewe, kan ek nie anders as om te sê dat ek nie vir ’n beter Pa kon gevra het nie. Dit geld dus eweneens ook as skoonpa en oupa vir ons familie.

As daar aan enige sportbedrywigheid van die seuns aandag aangegee moes word, was Pa altyd daar om sy plig as vader na te kom. Met raad en daad het hy ons as kinders bygestaan in ons sport en selfs saam gespeel met rugbybal, krieketkolf- en bal en ook wenke gegee oor hoe ons die spel waarmee ons besig is, moet speel. Hy het selfs ’n krieketkolfblad agter ons groot erf in Wesstraat, Pretoria-Noord gesny waar ons, ons kolf- en boulwerk kon oefen.

Dit het gelei na menige vensters wat uitgeslaan is. Hy het toe ook hiermee ’n plan beraam, soos hy altyd maar gedoen het wanneer daar probleme is wat opgelos moes word. Hy het staalspykers in die mure ingeslaan en ‘hard board’-velle gesny wat oor die vensters gepas het. As ons dan begin krieketoefen, het ons die borde opgesit. Siedaar, geen gebreekte vensterruite meer nie!

Die krieketkolfblad in ons tuin het ietwat anders gelyk! (Foto: Google).

Ons kon Pa altyd langs die sportvelde kry wanneer ons seuns aan enige wedstryd deelgeneem het. Daar was altyd ’n bemoedigende woord as ons span sou verloor en het saam in ons vreugde gedeel as ons gewen het.

Noudat ons volwasse mans is met ’n familie van ons eie, ervaar ons dat Pa steeds sy lewens-wyse handhaaf, soos ons hom as klein kinders geken het. Hy is nog steeds die een wat altyd bereidwillig is om ander persone te help. Ma Corrie het by geleentheid gesê: “Pa is bereid om spreekwoordelik sy broek uit te trek om ander te help.”

Pa is waarlik die een persoon wat ek kan nader vir hulp, raad en bystand. Hy sal alles in sy vermoë doen om my te help.

Hy was die hoof van ons huis gewees en het getugtig wanneer nodig en gehelp waar hulp verleen moes word in die huishouding. Dit is vandag nog steeds net só waar en ek sal altyd die respek, liefde en eer aan hom betoon, want hy verdien dit.

Laastens, ook net ’n woord van dankie aan ma Corrie wat Pa altyd deur dik en dun bygestaan het, wat saam met Pa die nukke en streke van ons kinders verdra het, en ’n navolgenswaardige voorbeeld vir ons gestel het, hoe om as ouerpaar ons kinders te vorm vir die lewe wat vir hulle voorlê. Dankie Ma !

Ek, as die oudste seun, weet dat ons nie vir beter ouers kon gevra het nie.

Ons het julle as ouers oneindig lief.

Kobus

Anton is die jongste van die tweelingseuns wat ons lewe kom verras het op 28 Junie 1960. Wat ek van Kobus, sy tweelingmaat, hierbo geskryf het, is netso op hom ook van toepassing. Hy is nou aan die woord:

“Ek is trots om in Christen-oortuigings opgevoed te kan wees.

Ek is trots om ’n deel van ’n uitgebreide gesin te wees waar liefde en hartseer met mekaar gedeel kan word.

Ek is trots om ’n Pa en Ma te hê wat altyd ’n voorbeeld vir ons vyf seuns was.

Ek is trots daarop om ’n Du Plessis genoem te kan word.

Ek is trots om my uitgebreide gesin te kan liefhê.

Ek is geseënd met al die bogenoemde.

Ek kan nog in al God se genade en liefde leef met die wete dat wat ook al gebeur het en dalk nog sal gebeur, deel uitmaak van God se groter plan met ons almal.

Ek is die tweede oudste van die vyf seuns en ek weet dat wat ek in die verlede gedoen het en ook moontlik in die toekoms sal doen, nie altyd almal se goedkeuring weggedra het nie. Ek weet ook dat dit met tye baie hartseer en pyn vir almal, maar by uitstek vir my ouers veroorsaak het en daarvoor vra ek om verskoning. Ek sal egter nooit verskonings aanbied vir wie ek is en wat ek geword het nie. Ek is immers die produk van twee liefdevolle en manjifieke ouers met beginsels wat onwrikbaar vasgelê was.

Daar was tye in my lewe wat niemand geweet het wat aangaan nie maar dit was beter so vir almal. Ek het baie van my hartseer en frustrasies met party mense probeer deel. Dit is egter moeilik om aan enigiemand te verduidelik wat ’n ou se ervarings is wanneer daardie persoon nog nie dieselfde pad as jy gestap het nie. Met al die seer en die sinkplaatpad wat ek gery het in my lewe kan ek wel sê dat my ouers, Ben en Corrie, my ongelooflik bygestaan het en met raad gedien het. Met my egskeidings was ek maar redelik in diep gate van depressie, maar ek moet getuig dat die Christelike grondslag wat beide my ouers daargestel het, my, met my knieë op die grond, berusting laat vind het.

Onvoorwaardelike liefde was nog altyd deel van my ouers se samestelling en ek het van hulle kant nog nooit ’n gevoel van verwerping ervaar nie. Daar was nog altyd die warm liefde wat net ’n ouer vir sy kind kan hê.

Liefde het verskeie fasette en ek moet ook noem dat dissipline nog altyd deel van my ouers se liefdevolle omgang met ons was. Dit was nie altyd lekker om ’n pak slae op die lyf te loop nie, maar dit is nou lekker om te weet dat die pak slae nooit onverdiend was nie. In die hedendaagse konteks, sou die pak slae van die verlede, dalk as kindermishandeling gebrandmerk kan word. Pa en Ma het nog nooit regverdiging gesoek vir enige pak slae wat ek te lyf geloop het nie. Hoekom nie? Die pak slae was regverdig en in liefde gedoen net soos hulle alleen dit kon doen. ’n Ou het dit nie altyd verstaan nie en was maar redelik rebels wanneer dit gebeur het. Nou dat ek ’n ouer met kinders is, wat ook vrese, hartseer en mislukkings ervaar, kan ek terug kyk en sê dat my ouers hulle uitstekend van hulle opvoedingstaak en Godgegewe opdrag gekwyt het.

Ek is en sal nog steeds ’n kind vir my ouers wees en sal hulle teregwysings en raad altyd aanvaar omdat hulle dit uit liefde doen.

Daar is keuses wat ’n ou kan maak en ek het baie negatiewe en positiewe ervarings in my lewe gehad. Ek het nie my ouers gekies nie, hulle was vir my gekies deur ons Hemelse Vader. As ek kon kies, sou ek dieselfde keuse gemaak het.

Ek raak skoon nostalgies as ek onthou:

“Bell Bottom” broeke, liefdevol gemaak deur Ma omdat ons agterstewes gejeuk het om ook in die mode te wees,

Dis nie ons seuns nie, maar net om die ‘Bell bottom’ pype van langbroeke te wys. Ja, die klokke het ook vir ons seuns gelui! (Foto: Google).

Die aande voor die radio met “Squad Cars” na die oordenking om seweuur,

Trekpleisters op die pitswere,

Tuisgemaakte “moeti” van klapperolie en nog wat, vir skilfers, ’n Konkoksie vir skurwe hakke, want kaalvoet loop was hard op die hakke, Tuis gebreide truie met ronde nekke, v-nekke en allerhande modegiere,

Ek onthou stoeisessies saam met Pa in die sitkamer, om oor die koffietafeltjie te val en daaroor te lag, partykeer die huil as Pa ons knyp. Kobus en ek saam teen Pa, later die jongeres en later, soos ons ouer word, een-een teen Pa,

Pa se afwesigheid as hy polisiemanne moet gaan oplei of sy grensdiens moet gaan doen en Ma wat die fort moes hou,

Pa en Ma se teenwoordigheid langs die sportvelde,

Ons eie krieketkolfblad agter in die erf, met die skerms oor die huis en buitekamer se vensters om te keer dat ons dit stukkend slaan,

Die omdraai van elke sent om die gaatjies toe te stop om ons dan ook ’n sakgeldjie te gee en sportdrag te kan hê,

Pa se kasset rolmasjien (bandspeler) in ons kamer, met ons opgeneemde musiek op,

Die nuwe aanbouings by ons huis om ons as jong polisiemanne te akkommodeer,

Tuisgebakte brood en konfyt uit Ma se kombuis met al haar innoverende maniere om uit min vir baie te kan sorg, en

Soveel baie dinge wat ’n kinderlewe volgemaak het sonder om dit op daardie stadium te besef.

As ons na die hedendaagse tendense kyk van sovele kinders wat die pad byster raak, dan moet ons erken dat met die grondslag wat vir ons, deur ons ouers gelê was, ons alles wat ons bereik het en wie ons vandag is, ’n produk is van die ongelooflike liefde en opvoeding wat ons van ons ouers gekry het.

Ek het ook, soos wat my ouers gedoen het, gepoog om dieselfde grondslag vir my eie kinders daar te stel. Ons ouers se kleinkinders en agterkleinkinders, wat daar is en moontlik nog sal kom, is ook ’n direkte resultaat van wat my ouers gedoen en bereik het.”

Baie dankie vir alles. Ek lief jul.

Anton.

Werner is ons derde seun, die tweede bevalling wat Corrie gehad het na die tweeling se geboorte. Hy is getroud met Linnette van der Merwe, sy hart se punt, en hulle het besluit dat dit wat nou volg, hulle gesamentlike bydrae vir hierdie boek is. Sy is dan ook een van ons vyf “ware dogters” wat in ons gesin bygekom het.

“Ek het lank gedraai om my bydrae te skryf want daar is so baie wat mens kan sê en tog voel dit of dit so min is as mens dit wil opsom in `n bladsy of twee. Na vele tob en oorweging het ek en Linnette besluit om die taak saam aan te pak en wil dan ons bydrae tot Pa se memoires soos volg saamvat:

Die opvoedingsjare tot en met my skoolverlating

Hierdie tydperk in my lewe is daar `n paar goed wat uitstaan en ek wil begin met die grondslag wat daar gelê is in ons opvoeding in ons gesin. Daar was altyd tyd vir speel saam met Pa en broers (hier

dink ek het Ma aan die kortste ent getrek) maar Ma was altyd teenwoordig of in die omtrek. Op skool is ons altyd ondersteun met die aktiwiteite waaraan ons deelgeneem het en geen moeite is ontsien om ons altyd op die regte plek te kry en te ondersteun nie. Ek dink aan die ondersteuning langs die sportvelde, die aanry na meer as een van die oefeninge of wedstryddae. Saterdae en selfs party naweke as `n geheel wat vir ons opgeoffer is. Wat nog vars in my geheue bly vassteek, is toe ons byvoorbeeld krieket by Settlers en Rooiberg moes gaan speel en ook die bywoning van kerkjeugaksie se kampe.

Die tyd wat Pa opgeoffer het om my touwys te maak en af te rig met tennis sal my altyd by bly, aangesien ek die enigste een van ons kinders, wat op skool was, wat dié sport opgeneem het terwyl die ander rugby gespeel het. Maar ek het hier `n belangrike grondslag in my lewe van Pa geleer dat sport, soos tennis, twee bene het – ’n persoonlike doel wat bereik moet word (wanneer jy enkels speel) en ook `n span wat ondersteun moet word (sodra jy dubbels speel). Ek het die les dan later ook in krieket toegepas – speel vir jouself (met die kolf) maar sodra jy gaan veldwerk doen of boul doen dit vir die span en doen dit met net soveel oorgawe asof jy dit vir jouself sou doen. Hierdie tyd roep ook baie herinneringe op van;

Pak slae wat uitgedeel is.

Ons vyf wat in die selle in Humansdorp toegemaak was (die rede nou onbekend). Die grondslag wat hiermee gelê is, is: “As jy aanjaag, jy ook verantwoording moet doen.” Dis vandag nog by my ingeprent.

Die stoei teen Pa. Soms al vyf of vier (toe Nico nog klein was) teen Pa en die getjank en gekerm as ons dit nie teen Pa kon maak nie, ander kere het ons dit wel gemaak as Pa ons toegelaat het om te wen. Die verskil is dat ons geleer is dat alles nie oor wen gaan nie.

Tye wat Pa weg was met afgedeelde diens of opleiding en die aande daarna wat ons kleurskyfies (foto’s) gekyk het.

Die gesinsvakansies waar daar moeite gedoen is met die besoek van geskiedkundige en ander besienswaardighede. Iets wat ek vandag nog nie ontgroei het nie, partymaal tot groot ergernis van Linnette en Stephné, as ek wil ry en gaan kyk en hulle wil lees en rustig wees.

Die grondslag van sport wat nie net gespeel is nie, maar ook gekyk moes word. My eerste groot rugbywedstryd wat ek op Loftus gaan kyk het saam met Pa en broers, krieket op St. Georges Park in Port Elizabeth, atletiek op Pilditch stadion en, toutrek en selfs gymkhana wat ons in die polisiekollege gaan kyk het.

Ons eie vrugteboord en groentetuin in die erf en die maak van konfyt en ingelegde perskes en kerrieboontjies saam met Pa en Ma;

Gesinsetes aan tafel (selfs met wyn op Sondae) en stiltetyd wat daarna gehou is.

Krieket speel op `n tuisgemaakte kolfblad agter in die erf in Pretoria-Noord.

Ons Saterdae se werk in die tuin en die baklei wie gaan die “lekker” werk doen – ja, want om grasrande met `n skaapskêr te knip was nie lekker vir my nie!

Waar hou ons op ….? daar is net te veel om te verwoord! Dankie, liewe Pa en Ma ! Hierdie vormingsjare kan opgesom word met die volgende uitstaande items:

Ek was in die weermag met Nasionale Diensplig. Omdat ek in `n huis opgevoed is in `n groot gesin en met militêre beginsels, was my diensplig nie ’n groot aanpassing nie. Ja, vandag weet ek dit was deel van die opvoeding: Staan op as die wekker afgaan óf as Ma jou wakkermaak, maak jou bed op, sorg dat jy deur die badkamer is, aangetrek kom en dan in die kombuis vir ontbyt. Hierdie take en roetine sou `n belangrike deel uitmaak van my diensplig. Ander ouens moet geleer word hoe om bed op te maak, inspeksies was geen snaaksigheid vir my nie, aangesien ’n netjiese kamer en kas in die huis altyd deel was van Ma se inspeksies. Menige maal as jy by die huis gekom het, was jy begroet met `n kas se inhoud wat op die vloer lê en dan moes daar van nuuts af reggepak word.

Stryk was ook nie vreemd vir my nie, aangesien ons gereeld ons eie klere moes stryk indien ons dit wou aantrek voor die huishulp dit op Dinsdae gedoen het.

Skoene skoonmaak en poleer was deel van ons daaglikse taak by die huis, so dit wat die instrukteurs vir die ander moes leer was deel van my normale pligte. Ek het by meer as een geleentheid `n kompliment van die staandemag lede en ander rang bekleërs gekry.

Tydens my tweede jaar diensplig, begin ek op `n onverklaarbare wyse epileptiese aanvalle kry. By die tweede of derde geleentheid wat dit plaasvind, word ek opgeneem in die siekeboeg en word Pa en Ma laat weet dat ek in die siekeboeg opgeneem is na so `n aanval. Ek word deur `n dokter behandel met die rang van luitenant. Tydens sy besoek aan my bed, kry hy die boodskap dat daar `n oproep van majoor Du Plessis vir hom is. Hy keer terug na my bed met sulke groot oë en wil weet hoekom ek nie aangedui het dat my Pa `n majoor is nie. Ek sê toe dat hy seker nie my lêer gelees het nie, want by my inname die vorige jaar, het ek dit so aangedui. Hy vertel vir die res van die siekeboegspan dat hy uitgek@k was en daar vir hom laat verstaan is dat as die weermag nie my kan behandel nie hulle moet toesien dat ek na Pretoria oorgeplaas word sodat Pa-hulle na my kan omsien. Ek weet nie hoe vêr hy oordryf het nie, maar ek kan vandag vir julle sê ek was binne twee dae by die Militêre Mediese Instituut in Pretoria waar `n private neuroloog my gesien het. Later jare met my Burgermag diens kry ek my lêer onder oë en sien dat die dokter `n groot rooi kring om Pa se naam en rang getrek het.

Gedurende hierdie jare kry ek advies oor studies, lewensversekering, motorkoop, korttermynversekering, huiskoop, verbandversekering, verloof raak, trou en alles wat daarmee gepaard gaan. Hierdie advies word vandag nog toegepas en ek probeer om dieselfde beginsels by Stephné in te prent.

Die jare as getroude paar en gesin

Pa en Ma se ondersteuning tydens Stephné se geboorte, die aande se kuier by die woonstel, die oppas van Stephné tydens ons aande uit, Pa se vingers in Stephné se mond en aankondiging dat daar nog `n tand is, sal altyd onthou word.

Die besoek aan Pa-hulle in Mafikeng en die oorslaap by ons aan huis tydens hulle besoek aan Pretoria. Ook die saam vakansie hou in Port Elizabeth, Oudtshoorn, Swellendam en Kagga Kamma, sal altyd gekoester word.

Dan moet ons melding maak van die bystand en ondersteuning wat aan ons gebied is tydens die wegval van my skoonouers, Pa Neels en Ma Sophie. Vandag nog koester ons die verhouding wat geskep is tussen ons as gesin en Ma-hulle tydens hierdie moeilike tyd in ons lewe.

Die volgende sal ook altyd by ons bly – met ons trek na Florauna is Stephné so twee jaar oud en in die jaar wat volg begin sy al mooi praat. Sy sit by my terwyl ek besig is om een Saterdag besproeiing in te sit en werk met die plastiekpype en `n Stanley mes. My hand gly en ek sny amper een van my vingers af met die mes. Ek gee `n knoop, maar maak of niks ernstigs gebeur het nie sodat die klein merrie nie die vloekwoord moet onthou nie. Voordat ek verder met die werk kan voortgaan, vra sy ewe kordaat vir my: “Pappa is hy `n f#@*&n aap?” Nou moet ek mooi trap en vra eers vir haar waar hoor sy dit. En die trotse reaksie – by Oupa ! Ek en Linnette probeer mooi praatjies maak om dit uit haar woordeskat te kry, maar kon uiteindelik nie meer die lag inhou nie en bars uit van die lag.

Dan moet ek seker ook uitlig dat ek vir Pa eers na sy aftrede oorreed het om weg te beweeg van die tikmasjien na `n rekenaar. Al was die “opleiding” `n groot uitdaging, het Pa dit baasgeraak en kyk waar trek ons vandag al! Ek dink reeds by die derde rekenaar en twee drukkers – een met skandeer funksie. Dit het alles begin met die rolbalklub se nuusbrief, Die Kitty, wat soms aande aaneen gedoen was en dan moet daar gery word tussen ons en Pa-hulle vir proeflees en regstellings. Wel my grootste uitdaging, ek wou Pa op e-pos kry dat ons die dokumente kon stuur tussen ons. maar helaas, al het ons geëindig met `n rekenaar en drukkers by Pa en ure se opleiding, wou hy nie internet en e-pos gehad het nie! Met ons deursetting- en oorredingsvermoë het ons tog daarin geslaag dat hy vandag sy eie e-posadres het. Dit spreek vir my boekdele dat hy hierdie prestasie, vir ’n man van sy ouderdom, kon baasraak. Ek wonder wanneer begin hy nou behoorlik om die internet te “surf” – miskien moet ons met Ma daarmee begin. (Ek swerf alreeds,maar verdwaal ook baie!)

Die ondersteuning tydens die bou van ons woning te Muckleneuk word opreg waardeer, want frustrasies en probleme wat oorbrug moes word, was daar genoeg. Hulle het ons, soms ongevraag, ondersteun, gehelp en met raad gedien. Dankie ouers.

Met hierdie paar gedagtes wil ons net ons opregte dank en liefde uitspreek teenoor ons ouers en ons Hemelse Vader. Ons wil Hom in besonder bedank vir die ryk en vol lewe wat Hy aan ons met hierdie twee wonderlike mense, Pa en Ma, gegee het.

Baie dankie met al ons liefde.

Werner en Linnette.”

Louise is die vrou wat ons oudste seun, Kobus, se hart gesteel het en met wie hy getroud is. Sy is ook een van die “ware dogters” in ons lewe.

“As ek so vinnig aan Pa Ben dink, kom vier beelde in my gedagtes op:

Pa wat sy arm uitsteek en die “dames” in sy lewe teen sy sy vastrek en ’n drukkie gee.

Pa se glimlag wanneer hy met belangstelling na sy “dogters” en kleinkinders luister.

Pa wat deur sy tuin loop en liefderyk sy plante aanraak.

Pa wat vies is oor die kos wat in die restaurant voor hom neergesit is, veral as dit nie in sy smaak val nie.

Dis nou wel nie Pa en Ma nie, maar Pa het ook só sy liefde betoon teenoor al sy ‘dames.’

Wel mense, hier is ek en Corrie met ’n gekloonde foto. Dit lyk mos net soos ons, maar heelwat meer hare! Ha, ha, ha. (Foto: Google)

As ek verder dink!

`n Persoon wat `n rolmodel is en vir wie ek bewonder vir dit wat hy in die lewe bereik het en sy konstante deelname en betrokkenheid by soveel dinge in die gemeenskap. Pa deel my liefde vir tuinmaak en ek het van vroeg af al by Pa geleer dis dié blom se naam, dié een aard goed in `n koue Secunda, ens.

Dis al 30 jaar sedert my eerste kennisname met die Du Plessis-gesin, ek was genooi vir aandete en ’n jaar later amptelik deel van die familie. Pa, het ek vooraf verneem, is `n “moeilike” offisier werksaam in die polisiekollege. Deur die jare het ek Pa ervaar as `n persoon wat sal uitdeel en gee aan ander en die vrede wil bewaar as daar `n omgekraptheid is tussen die mense rondom hom. Ook dat sy gesin en familie vir hom baie belangrik is.

Pa is nie Pa sonder Ma nie....

Die liefde tussen Pa Ben en Ma Corrie het my met ons eerste ontmoeting opgeval, ook die hande vashou en Ma wat (soms sonder veel keuse) op Pa se skoot sit. Daar is en was altyd `n spesiale huweliksverhouding en dieselfde liefde ervaar ek ook van my wonderlike lewensmaat aan wie die voorbeeld gestel is. Ma het jare gelede aan my gesê sy sal nooit met Pa verskil of baklei voor ander nie en ek het dit so ervaar. (Dit het so bietjie verander na Pa afgetree het, maar dis gegewe die veranderde omstandighede – heel verstaanbaar, want julle is mos nou alleen in die huis.)

Ek en Kobus is geseënd met drie kinders wat Pa en Ma se nalatenskap eendag sal voordra. Dankie vir die standvastige voorbeeld wat julle as ouers vir ons en vir ons kinders daargestel het.

Geluk met Pa se memoires, dis deel van hierdie wonderlike nalatenskap.

Liefde Louise”

Christo is ons tweede jongste seun wat dus vierde in die ouderdomhiërargie staan. Hy is ook die laaste een van ons seuns wat in die huwelik bevestig is. Sy eggenote Leana, is die vyfde liefdevolle dogter wat ons gekry het.

“ ’n Seun se gewaarwording van sy verhouding met sy vader begin uit die aard van die saakwanneer die seun nog baie klein is. In my en Pa se geval is dit dan ook nie anders nie – die regte fondament is reeds vroeg gelê en die boublokke wat bygesit word is waardevol. In ’n verhouding wat langer as 50 jaar bestaan, is daar soveel wat gebeur en daarom wil ek slegs ’n paar dingetjies uitlig – soort van ’n paar uitstaande gebeurtenisse en/of waarnemings uit my verskillende lewensfases.

Pa was my held! Die “Sheriff” van die dorp! Ek het gereken dat Pa se status my ’n vrypas gegee het om te doen wat ek wil omdat Pa altyd daar sal wees om my te ondersteun, maak nie saak wat gebeur nie.

Pa was die manlike sheriff vir my, nie die vroulike een nie!’ (Foto: Google)

Ek was, so word vertel, ’n bietjie van ’n stoutgat toe ek klein was! Daar was verskeie insidente uit my kleintyd wat bewys lewer van my geloof in Pa se heldestatus. Alhoewel ek dit nie van myself kan glo nie, word dit vertel dat ek kleintyd eendag op Humansdorp, toe ek agtergekom het dat ek kon klipgooi, voor ons huis klippe na verbygaande motors gegooi het. Blykbaar het een van die motoriste stilgehou en my gekonfronteer – my repliek was eenvoudig – my Pa is ’n polisieman en ek kan doen wat ek wil! So was daar ook die insident toe ek Humansdorp se verkeersbeampte se blink motorfiets geïnspekteer het deur aan alles te vat en hier te vryf en daar te druk en per ongeluk ook die sireneknoppie raakgedruk het! Groot konsternasie het gevolg, maar ek het geweet dat Pa tot my redding sou kom!

In ’n skoolloopbaan wat oor twaalf jaar strek, word ’n ouer deeglik getoets. In ons geval, met ons vyf seuns, het Ma en Pa se tweede skoolloopbane in hulle lewe oor ’n effens langer periode gestrek. Daar is elke jaar nuwe behoeftes waarin voorsien moes word – behalwe skoolfonds en sakgeld, moes ons ouers ook hul sak skud elke keer wanneer ons aan ’n nuwe sportsoort begin deelneem het. Met vyf seuns wat almal lief vir sport was en aan omtrent alles wat die skool aangebied het, deelgeneem het, moes daar voorsiening gemaak word vir rugbytokse, krieketskoene, spykerskoene, tennisrakette en wat nog meer. Ek kan goed onthou hoe ons twee Volkswagenkombi’s amper soos skoolbussies geword het. As Pa nie kon nie, het Ma die stange gevat en is Laerskool Voortrekker Eeufees en Pretoria-Noord Hoërskool se rugby- en krieketspanne oor die lengte en breedte van Pretoria gekarwei! Met Pa se polisieman salaris en Ma se kortstondige halfdag-staatsdiens salarissie, moes daar noodwendig gemeet en gepas en goed begroot word om aan al die kinders se vele behoeftes te voorsien. Daar was nie geld vir luukses nie, maar ek kan met alle eerlikheid sê dat ons nooit op materiële gebied gebrek gely het nie en dat Pa en Ma uitstekend daarin geslaag het om in ons behoeftes te voorsien totdat ons op ons eie bene kon staan. Kinders grootmaak gaan natuurlik nie net oor voorsiening in hul materiële behoeftes nie. Meer belangrik is dat ek kan getuig dat Ma en Pa waarlik julle doopgelofte nagekom het deur met liefde,

geduld en groot genade, ons godvresend groot gemaak het en ons vir die res van ons lewens voorberei het.

In my jong volwasse jare het die verhouding tussen Pa en my ontwikkel tot een van waarin ek Pa al meer as mentor begin sien het. Pa moes ondermeer raad gee oor goed soos motorkoop en die aanskaf van my eerste eie blyplek, ens.

Ek kan nie meer presies onthou of Pa ’n besliste mening gehad het oor watter soort motor die ideale eerste ryding vir my sou wees nie, maar wat ek wel weet, is dat hy gereken het dat elke jongman vroeg na skool deur die “W & P” stadium gaan – die W staan vir wiele en die P vir woord wat daarmee rym! Die filosofie hou in dat ’n man aanvanklik nie eintlik wiele aanskaf vir enige funksionele rede nie. Jy wil slegs wiele hê om jou in staat te stel om meisies te beïndruk en by hulle te kan gaan kuier! Hoe dit ook al sy, ek glo dat Pa ingenome was met my eerste keuse van ’n motor. My geliefde Vollie (Volkswagen Kewer) is nog steeds in ons besit en, hoofsaaklik as gevolg van Leana se sentimentele aard, sal ons seker nooit daarvan ontslae raak nie.

Pa se advies oor belegging in eiendom was eenvoudig – hoe gouer ’n mens in jou eie blyplek belê, hoe beter. Om op die ouderdom van 22 jaar dus die gewigtige besluit oor die koop van ’n woonstel te neem, was net soveel makliker met die ondersteuning en raad wat Pa in dié verband aan my gegee het.

Die sukses wat Pa in sy loopbaan bereik het, het my geïnspireer. Ek het gesien wat die vrugte van harde werk is. Een van Pa se vroeë leerstellings was dat “wat werd is om gedoen te word, is werd om goed gedoen te word”. Dit bly my steeds by. Enigiets wat mens doen, moet jy altyd poog om dit na die beste van jou vermoë te doen. Ek het ook by Pa geleer dat daar geen kortpaaie na sukses is nie, maar dat daar wel paaie is wat mens kan help om suksesvol te wees. Een van daardie paaie is om jouself akademies toe te rus. Pa se voorbeeld, ondersteuning en aanmoediging in hierdie verband was vir my van onskatbare waarde.

`n Paar jare gelede het die lot op my geval om die heildronk op Pa en Ma in te stel met hul 50-jaar huweliksherdenking. Omdat dit so ’n besondere mylpaal was, het ek ’n kort “spietsie” voorberei en baie van dit wat ek by daardie geleentheid gesê het, dink ek is werd om herhaal te word. Gelukkig het ek my toesprakie op skrif gestel en dit in my persoonlike argief geliasseer. Ek wil dus my bydrae afsluit deur die volgende uittreksel uit die toespraak aan te haal:

“Om hierdie mylpaal te bereik, is iets wat slegs ’n uitgelese groepie getroudes beskore is. So bietjie navorsing toon dat slegs sowat 5% van huwelike die 50 jaar kerf bereik. Dit is dus sonder twyfel ’n baie groot prestasie waarop julle besonder trots kan wees!

In die proses wat julle 50 nie-uit-nie bereik het, het julle baie saam deurgemaak – spreekwoordelik ’n hele aantal sakke sout saam opgeëet. Daar was lekker tye en daar was moeilike tye. Ons as kinders en kleinkinders hoop dat ons tot die meeste van die lekker tye bygedra het! Ten opsigte van die moeilike tye dink ek veral aan die tye wat julle gesondheid nie altyd na wense was nie. Pa se stryd met kanker wat hy met die hulp van Bo suksesvol oorkom het. Pa en Ma se binnekennis van hospitaalteaters vir etlike ou operasietjies. Genadiglik was die meerderheid van hierdie hospitaalbesoeke met sukses bekroon en het die Liewe Vader julle met relatiewe goeie gesondheid bedeel oor die grootste deel van jul 50 jaar saam. Daarvoor is ons baie dankbaar!

Julle was en is steeds twee mense wat ook steunpilare in die gemeenskap is. Ma wat as diaken dien, by Bybelstudie in die gemeente betrokke is en vroeër jare, gehelp het om ons kinders by sportgeleenthede te kry – ’n “Mom’s Taxi” in die ware sin van die woord! Pa wat jare reeds leiersposisies in die kerkraad en sy geliefde rolbalklub beklee.

409

Volgens die HAT woordeboek dui die woord “goue” [soos in goue bruilof] ook op “uitmuntend, baie waardevol, baie voorspoedig, bloeiend en gelukkig”. Ek is seker dat u met my sal saamstem dat hierdie woorde definitief op Ben en Corrie van toepassing is. Kom ons staan en drink ’n heildronk op Ben en Corrie op hierdie grootse geleentheid van 50 jaar van huweliksgeluk!”

Met al my liefde Christo”

Leana is die vrou wat Christo se voete vir ewig onder hom uitgeslaan het en nog een van ons wonderlike dogters is. (Al die foto’s hieronder is deur Leana voorsien)

“Die geseënde man en vrou

"Gelukkig is die mens wat nie loop volgens die raad van goddeloses... nie. Hy vind egter vreugde in die gebooie van die Here en oordink Sy voorskrifte dag en nag. Hy is soos ’n boom geplant langs waterstrome, wat vrugte dra op die regte tyd... in alles wat hy doen, is hy voorspoedig." (Psalms 1:1-3 NLV). ’n Geseënde man of vrou is geneig om uit te staan, omdat sulke mense ’n dieper karakter het, hul gees sagter is, hul moed groter is, hul leierskap beter is, hulle belange wyer is, hul deernis meer opreg is, en hul oortuigings meer tasbaar is. Hulle het vreugde ten spyte van moeilike omstandighede en toon wysheid wat baie meer is as hul jare. Hulle het ’n geestelike wortelstelsel wat afgroei na strome lewende water. As gevolg hiervan, is alles waaraan hulle raak voorspoedig.

Toe ek hierdie stukkie lees het ek dadelik aan Pa en Ma gedink. Ek het eers laat in die familie gekom - het mos vir Bokkie van die rak af gered! Deur die jare het julle soos my eie ouers geword. Daar was die kere wat ek woedend vir die mans by die werk in my kar na julle toe gery het net vir troos. Pa het ewe rustig geluister, Ma het koffie gemaak en nadat ek ’n halfuur gekuier het, was ek reg om die mans en die wêreld weer in die oë te kyk.

Dan was daar die verjaardae - ek glimlag nou nog as ek die kleremaakpop sien waaroor Pa baie bekommerd was toe ek aangedui het dat Ma graag ’n pop vir haar verjaarsdag wil hê.

Met Pa se 70ste verjaarsdag het ons al die tantes laat opvlieg - wat ’n missie was dit nie om hulle op ’n vliegtuig te kry nie! Eers toe ek hulle bymekaar sien, het ek besef dat Pa die Boeksie in hulle gesin was want sy sussies is baie erg oor hom.

Ma se 70ste verjaarsdag. Ek is so trots op haar; sy is pragtig en so goed versorg!

Ma se 70ste verjaarsdag. Ek is so trots op haar; sy is pragtig en so goed versorg!

Hulle is ons beste toergidse. Ons het saam die wêreld getoer - diep deur Suidelike-Afrika se wildernis tot aarbeie en room by Wimbledon. Op Rundu en Katima Mulilo wys Pa ons die plekke waar hy grensdiens gedoen het en vertel al die staaltjies asof dit gister was. Hy het ook vertel van die dag wat hy amper ’n maaltyd vir ’n leeu was toe hy te Katima Mulilo die stampolisie van die Capriviane moes gaan oplei. U het seker dit alreeds vroeër in die boek raakgelees.

Pa is altyd blymoedig en vol grappies; hy gesels met almal (selfs met ons honde en Bibie die Papegaai by ons huis). Hy is mal oor kinders, altyd besig en organiseer van die afdak tot die kerk se kospakkies of die rolbalklub se Kitty. Hy het die vermoë om Ma te verpes en dan gee sy so ’n skewe laggie vir hom wat straal van liefde. Pa is onbaatsugtig - een van die voorvalle wat ek altyd sal onthou is toe ’n olifant in die Marekele Nasionale Park ons bestorm en hy toe sê dat hy dink dit sal goed wees as hy uitklim en die olifant hom jaag sodat ons kan wegkom! Ek sukkel nou nog om te glo dat dit ’n plan was!

Pa en Ma is altyd daar om te help; van iemand wat vinnig ’n ritssluiter moet insit tot bereidheid om op baie kort kennisgewing toesig te hou oor herstelwerk wat aan ons motor-hek gedoen moes word. Hulle harte is oop vir die armes en kook sop, koop smeergoed en maak kospakkies om die arm mense te help, daarom is hulle geseënd.

Ma is altyd so prakties en sien goedjies raak wat ek totaal miskyk. So kry ek toe ook sakkies om my broodjies in te rooster en beïndruk daarmee my hele familie en hulle vriende met die oulike goed wat ek altyd het.

Hulle kinders is hulle rykdom en lewe. Hulle is trots op hulle seuns. Ouma sê altyd baie ernstig dat sy nie bederf nie, maar as sy die kleinkinders nooi vir ete sorg sy altyd dat sy vir elkeen sy of haar spesiale gereg kook.

Pa en Ma is ’n voorbeeld vir elkeen van ons, as mens maar ook as ’n getroude paar, vriende en veral ons Pa en Ma.

Met al my liefde.

Leana.”

Nico is ons jongste seun. Toe die ander vier reeds klaar was met skool het hy nog vir sowat twee jaar die hoërskool se banke blink gesit. Hy het ook die pad geloop van drie van sy broers om by die polisie aan te sluit. Nico aan die woord:

As ek ‘n terugblik op my eie lewe moet doen, dan kan ek duidelik die invloed van beide my ouers, Ben en Corrie, in my lewe sien. Daardie goeie standvastige beginsels wat die grondslag van alles wat ons geleer is, vanaf opvoeding, kultuur, waardestelsels, geloof en jou kerk, politiek, sport, geldsake tot werksetiek en vele meer. Al hierdie beginsels en waardes word nog elke dag in my lewe toegepas, hetsy by die werk of in my persoonlike lewe met my vrou en kinders. Daarvoor sê ek baie dankie vir my ouers, maar bowenal aan die liefde wat ons só mildelik van julle ontvang het, en nog steeds ontvang.

As ek kyk na wat ek en my broers bereik het in ons loopbane, dan kan dit net opgedra word aan die grondslag wat daar by die ouerhuis gelê was in die eerste 18 jaar van ons lewens. Daar is heelwat dinge wat by my vassteek as ek terugdink aan my kinderjare, waarvan sekere staaltjies reeds vroeër deur Pa in hierdie boek vasgelê is. Ek onthou dat ek as kind aan soveel dinge blootgestel was, goed en ander nie so goed nie. Ek sal maar slegs ‘n paar voorbeelde noem. Kom ek begin by dié wat nie só goed was nie:

• Die weeklikse meng van Pa se pyptabak – twee soorte wat saam gevoeg en gemeng moes word. Dis is ‘n wonder dat ek nie al op skool begin rook het nie. Ek het dit wel probeer maar dit gelos, want dit was te sleg! (Jy was die enigste een van die kinders wat daardie takie goed gedoen het!).

• Elke tweede dag Pa se skoene wat hy by sy uniform gedra het, moes skoonmaak en poets. Ek is nou nog allergies daarvoor en betaal maar iemand om dit vir my skoon te maak, as ek op die lughawe aankom en iewers heen moet vlieg.

Die dinge wat by my nie so ’n goeie (slegte) indruk gelaat het nie, is dit wat ek hierbo gemeld het. By nabetragting kan ek sê dat dit die enigste take is wat ek nie van gehou het nie, maar dit gedoen het omrede Pa my gevra het om te doen. Kom ek noem nou ‘n paar van die goeie dinge wat ek uit my kinderjare onthou:

• Die bystand deur my ouers verleen, soms Pa en soms Ma, wat die eerste week saam met my gestap het toe ek by Graad 1 begin skoolgaan het te Pretoria-Noord.

• Die ondersteuning op die sportveld, óf daardie skooltaak wat op nommer 99 eers begin is en môre ingehandig moet word.

• Daardie DIY (“Do it yourself”) takies in en om die huis, want as polisieman het ek nie ekstra geld gehad om dit wat gebreek is, te vervang óf te laat regmaak nie, gelukkig het ek die ondervinding om dit self te doen, by Pa gesien en by hom geleer hoe om ‘n plan te maak.

• Huistake wat Ma my geleer het, soos kos kook, wat ek met vrug kon gebruik, veral toe ek by Christo in sy woonstel gebly het.

• Ma se aanwysing hoe om klere te stryk, knope aan te werk en klere reg te maak, want in ‘n huis waar daar net seuns is, moes ons dit maar doen. Dit kom my nog steeds goed te pas, want ek moet dit ook soms in my getroude lewe doen.

• Advies deur Pa oor geldsake. Dit het gegaan oor huis koop, motor aanskaf (Pa het altyd gesê: “Jy moet onthou dat ‘n motor loop nie op water nie - begroot dus vir brandstof en instandhouding!”) Advies oor beleggings en die opstel van ‘n persoonlike maandelikse begroting.

• Om te staan by jou beginsels sonder om dit noodwendig kort-kort onder ander se neuse te vryf, soos byvoorbeeld jou kerk, -politiek, -taal en -kultuur.

Hierdie lys kan nog baie langer wees, maar dit is nie my boek met my memoires nie, dis Pa s’n. Daarom wil ek langs hierdie weg net weer eens dankie sê vir die liefde en vrygewigheid waarmee ons deur hulle omvou word. Ek hoop dat hierdie ode, te same met dit wat my broers en hulle families met jou as leser gedeel het, sal besef watter spesiale twee mense ons ouers vir ons is. Ons dank ook aan ons Hemelse Vader wat vir ons hierdie ouers gegee het en ons hoop dat hulle nog baie jare met ons sal wees.

Met al my liefde

Nico

Annerie is die eggenote van Nico du Plessis, die jongste van ons seuns, en nog een van ons vyf dogters wat ons met liefde in ons familie ingeneem het.

“Liewe Pappa

Ek wil net baie dankie sê dat Pappa en Mamma vir my en my twee kinders 23 jaar gelede,(dis nou al langer!) sonder enige voorbehoud, in die Du Plessis-familie ontvang het. Ons het dadelik welkom gevoel en julle het ons onmiddellik as skoondogter en kleinkinders aanvaar.

Baie dankie vir al die liefde en ondersteuning, óf dit nou finansieel óf vervoer óf my gesondheid óf aangeleenthede m.b.t. my kinders was, was my keuse julle en julle plek na wie toe ek my kon wend. Ek kon te eniger tyd net die telefoon optel en my behoeftes aan julle oordra, en dan die nodige hulp ontvang.

Ek kon altyd met groot vrymoedigheid Pappa se naam as ’n verwysing aan enige instansie, hetsy dit ’n dokter óf ’n hospitaal is waarnatoe ek moes gaan, óf waar ek vir ’n werk aansoek gedoen het, gee.

Dankie dat ek, Lyndall, Neil en ons kleinkind, Alex, altyd welkom is by julle aan huis. Ons is soos ware kinders en agterkleinkind hanteer. Dankie dat daar nooit ’n verjaardag of Kersfees verbygegaan het sonder dat daar nie ’n geskenk aan ons gegee is nie. Dit word opreg waardeer.

Ek, my kinders en kleinkind Alex, sal Pappa altyd onthou as iemand met vaste Christelike beginsels en ’n persoon wat respek afdwing en ’n hulpvaardige persoon is. U stel altyd vir ons ’n navolgenswaardige voorbeeld.

Met al my liefde, Annerie.”

Simone, met die Franse uitspraak van ‘Sie-môn’, is ons oudste kleinkind, gebore uit die eg tussen Anton en sy eertydse eggenote, Suzette. Watter ligstraal het sy nie in ons lewens gebring nie! Met die ter perse gaan van hierdie boek, het ons van haar voorneme gehoor om met haar verloofde Dirk gedurende Julie 2015 in die huwelik te tree.

“Oupa het my siel gevoed net soveel soos Ouma ons vet gevoer het met boerekos (pampoenkoekies!).

Oupa Ben se kreatiwiteit het bygedra tot die ontwikkeling van my eie ryk verbeelding, want elke besoek aan Oupa en Ouma se huis, was ’n ontdekkingsreis. In Oupa en Ouma se tuin, waar Oupa

se groen vingers ’n welige woud geskep het, was daar allerhande skatte om te ontdek: albasters in die potplante, ’n bokkie wat deur die blare loer, suurbessies wat ons kon eet en avokadopere wat Oupa vir ons geoes het.

Ek was nog altyd baie lief vir feetjies soos om vir die dwergies in die bure se tuin te gaan kuier op pad kerk toe, was baie spesiaal en Oupa het altyd moeite gedoen om hierdie besienswaardigheid op ons middag stappies in te sluit.

’n Kosbare herinnering van Oupa is op sy skoot waar ons prentjies op die plafon gesoek het asof ons wolke dophou, want in die houtplafon se vlamme het daar ’n kabouter weggekruip wat Oupa vir ons gevind het. Ouma het ook ’n vissie en ’n houtlepel uitgewys.

Ek is (amper) te oud om op Oupa se skoot te sit en Oupa en Ouma het nie meer ’n houtplafon nie, maar ek sien steeds die kabouter vir ons lag en my en Mieke wat op Oupa-hulle se stoele wieg.

Ek het julle baie lief, want julle is ons enigste Oupa en Ouma wat ons nou het.

Simone”

Marike is die tweede dogter van Anton en Suzette, met die troetelnaam van Mieke. Sy het so stilweg ons beker van geluk en trots volgemaak toe sy aan die Suidkus van KwaZulu Natal gebore is. Sy is die regte professionele student in ons familie. Sy is tans besig om navorsing te doen vir haardoktorsgraad. Sy is getroud met Vernon Palmer.

“Hi Oupa ,

Ek laat weet net ek sal nie iets vir Oupa se memoires kan stuur nie. Ek het ’n paar keer probeer maar die woorde wil maar nie lekker uitkom nie. Ek is nie só goed met woorde nie, daarom kry ek nie iets wat mooi en reg kan laat geskied in dit wat ek wil sê nie. Jammer Oupa, maar weet dat ek lief julle albei.

Marike.”

Annélia is die oudste kind van Kobus en Louise wat gebore is terwyl hulle op die Josefsdal grenspos op die Swaziland-grens gestasioneer was. Sy is die blondekoppie, wat net soos die ander kleinkinders, ook ’n gekoesterde plekkie in ons harte ingeneem het. Sedertdien is sy reeds ’n getroude vroutjie aan die sy van Gerhard Meyer.

“My Oupa is ’n streng maar tog ’n interessante man. Dinge wat altyd in my gedagte sal wees oor hierdie Oupa van my is die volgende:

Skeerkwas met room –Oupa het, as ek nuuskierig kom kyk het hoe hy skeer, so ongeërg sommer die skeerkwas met skuim oor my voorkop gesmeer. Ek het dan in die spieël gaan kyk en as ek die wit blerts skuim sien, lekker gelag. Ek moet bieg, en wonder hoe wend ’n mens die hedendaagse skeerjel aan met so ’n groot kwas?

Nou skiet iets anders my geheue te binne - die groot buis tandepasta. Sjoe, Oupa se tande was seker baie vuil as hy so ’n groot buis tandepasta moet gebruik. Snaaks hoe ’n mens met die verstand wat jy gaandeweg bykry, helderheid kry oor sekere dinge in die lewe. Die ou Prep-buisie was maar net die skeerroom wat ontbreek het en wat vroeër nie vir my kon sin maak nie.

Stiptelikheid: Die dae van uniform dra kom nou terug na my. Klokslag elke oggend, is Oupa in die kombuis. Ouma, die liewe vrou wat sy vir hom is, reg met die ontbyt, koffie en vruggie. Die

verskillende soorte ontbytkosse kan ek ook herroep as Weet-Bix, Pro Nutro, mieliepap, hawermout en ander graankosse. Dan is hy, netjies in uniform en altyd op dieselfde tyd, vort na sy werkplek toe. Ek was nooit seker waar Oupa gewerk het nie. Verkeer is nie iets wat ek op daardie ouderdom aan gedink het nie, maar nou wonder ek nogal of Oupa darem elke oggend betyds by die werk aangekom het. Na sy aftrede het dinge uiteraard so ’n bietjie verander. Daar het nou sommer drie maaltye bygekom, naamlik die 10 uur tee, middagete en koffie om 16:00. Hierdie etes het seker nie ontbreek tydens sy daaglikse afwesigheid van die huis af nie, maar nou het dit meer tydsgebonde geraak. Nou dat ek daaroor dink, ek moes seker vir Gerhard na hom toe gestuur het vir ’n paar stiptelikheid sessies.

Strengheid: Behoede ons as ons te hoog in Oupa se avokadoboom klim of die vrugte daarvan pluk. Ek onthou menigmaal waar ons ’n streng woordjie of selfs ’n piets, as straf moes verduur. Wat is piets ….? Ja, dis mos ’n Oupa woordjie! Ek onthou ook ’n spesifieke geval waar ek en Simone goed raas gekry het, toe ons feetjierokkies gemaak het van Oupa se hibiskusblomme. Hierdie blomme herinner my nog altyd aan daardie gebeurtenis, en wil ek dit vandag aan hom en Ouma as liefdesruiker gee.

Speel: My lang blonde hare was seker een van Oupa se gunsteling speelgoed. Ek het altyd gewonder of Oupa nie maar vir homself ’n ou dogtertjie kon bestel met wie se hare hy daagliks kan speel en streel nie? Hoekom nou net ’n klomp seuntjies bestel? Soos gesê, met ouderdom kom wysheid en só het ek ook besef dat Oupa die beste van beide wêrelde gehad het. Dalk nie as ouer nie, maar as grootouer, want hy het definitief nie ’n tekort aan kleindogters wie se hare hy kon streel, vroetel en mee speel nie.

Suksesvolle loopbaan: Hierdie is tog van my latere herinneringe. Dit spreek tog vanself dat om as ’n generaal in die SA Polisie te kon aftree, en om só welbekend in die gemeenskap te wees, hy beslis die geleenthede wat in sy lewe hom aangebied is, aangegryp en ’n sukses daarvan gemaak het. Wat ’n wonderlike loopbaan!

As ek nou weer na hierdie lysie hierbo kyk en my herinneringe van hom kom duidelik na my terug, dan wil ek meld dat Oupa ’n eg-Oupa is. Ek noem hom ’n ‘S-man ,’ want hy is Spesiaal op sy manier. Met al my liefde.

Annélia”

Jacques is ons eerste kleinseun, gebore uit die eg tussen Kobus en Louise toe hulle nog op die Josefsdal grenspos gestasioneer was. Hoe trots was ons nie toe ons van sy koms verneem het nie. Hy is en bly nog een van ons trotse kleinkinders.

“ ’n Mens se lewe is baie gebaseer op sy of haar geloof en waardes en baie hiervan, indien nie die meeste nie, word van ’n mens se ouers af oorgedra na hulle kinders. Die waardes wat ek van my ouers af geleer het, sluit eerlikheid, opregtheid, lojaliteit, selfrespek en respek vir ander en vele ander waardes in, waarvoor ek opreg dankbaar is. Maar nes ek eer aan my ouers, Kobus en Louise du Plessis, daarvoor kan gee, moet ek dieselfde eer aan hulle ouers, my grootouers Oupa Ben en Ouma Corrie, gee. Nie net omdat ek die waardes hierbo gemeld van my ouers ontvang en aangeleer het nie, maar dat ek ook dieselfde waardes van Oupa en Ouma aangeleer het.

Ek onthou vele vakansies wat ek by Oupa-hulle deurgebring het, waar hulle met liefde na my omgesien het, gevoed het en maniere geleer het.

Soms was ek nie die maklikste kind om mee huis te hou as ek weg van my ouerhuis was nie, en soms ondankbaar was vir dit wat hulle vir my gedoen het, het ek nooit enige klagtes van hulle gehoor nie. Hulle het net weer en weer my met liefde hanteer. Oupa was soms streng met my, maar as dit nie daarvoor was nie, sou ek seker nie al die lesse van die lewe kon leer nie.

Ek wil afsluit deur te sê dat Oupa en Ouma liefdevolle en opregte mense is en nog altyd was en ek elke dag dankbaar is vir die invloed wat hulle op my lewe en die lewe van die res van ons gesin en ons uitgebreide familie gehad het.”

Ek eer hulle. Liefde,

Jacques.

Stephné is die enigste kind van Werner en Linnette, en die tweede jongste van ons kleinkinders. Ons het haar seker die meeste in haar kinderjare gesien, want hulle het nooit ver van ons gebly nie. Nog ‘n ligstraaltjie in ons lewens!

“As daar een ding is wat vir my uitstaan van my tyd saam met my Oupa, is dit die stories van sy jeug en grootword tyd, stories van wat lank reeds vergete is en sprokies wat my in verbeeldingstogte neem waar ek myself steeds nog somtyds kan bevind.

Meeste van hierdie fantasieë het in Oupa se tuin afgespeel – die klim van die toring (die avokadopeerboom), die jag van die bokkie, die versiering van die prinsesse met die verskeidenheid blomme en natuurlik ons kleinkinders se gunsteling speletjie – wegkruipertjie tussen die plante. Baie van hierdie idees kom van Oupa se ryk verbeelding. Oupa sou altyd ons aandag trek na iets nuuts in die tuin en ons dan los om ons eie stories en idees uit te leef. Een van die herinneringe waar my Oupa die rol van boef én held gespeel het, is toe ek leer swem het. Oupa het die taak gekry om my vir my eerste swemles te vat. Tannie Ransa was ’n tawwe sweminstrukteur, geen kind kon wegkom van haar manier van dinge doen nie. Ek het gehuil langs die swembad en huil-huil gepleit dat Oupa my moet wegvat van wat ek nou moes doen. Selfs die vasklou aan Oupa se been het nie gehelp nie. Maar na die eerste swemles was Oupa die held wat my elke keer na my gunsteling buitemuurse aktiwiteit gevat het!

Ek was baie bevoorreg om my groot familie ten minste een keer in my leeftyd te besoek, saam met Oupa-hulle wanneer hulle op vakansie gegaan het. Die Du Plessis- en Scholtz-familie lê ver en wyd oor Suid-Afrika versprei. Oupa het altyd probeer om die interessante dele van ons land vir my te wys. Hierdie reise saam met hulle sal my altyd baie na aan die hart lê.

Oupa het my leer skryf, nogal voor ek laerskool toe gegaan het. Ek onthou nog toe ek by Woelige Werkers Kleuterskool was en ons moes leer om blokletters op papiere te trek, ek botweg geweier het om enige ander manier te skryf as om "vas" te skryf, want dit is hoe my Oupa my geleer het!

Oupa is ’n rolmodel wat ek vir geen ander sal verruil nie. Oupa het my geleer dat daar ’n tyd en plek vir alles en almal is. Al wat ek kan sê is, dankie liewe Oupa, vir die tonne kole vir die vure van my verbeelding en die lewenslesse wat diep wortels het en groen blare van vreugde skiet.

Met al my liefde

Stephné.”

Ek wil tog ’n laaste dankie sê, en dit is vir my kinders en kleinkinders wat sulke mooi dinge van my en Corrie in hulle bydrae gemeld het. Dit word opreg waardeer. Hierdie hoofstuk word nou afgesluit en die Du Plessis se geslagsregister sal in die volgende hoofstuk so volledig as moontlik ingeklee word.

HOOFSTUK 19: DIE DU PLESSIS’S SE GESLAGSREGISTER

Alhoewel ek in die voorwoord van hierdie boek gemeld het dat ek nie die geslagsregister van die Du Plessis’s wou navors nie, het ek tog besluit dat die navorsing wat deur my oudste broer, dr. Rassie du Plessis, ’n klompie jare gelede reeds onderneem is, in hierdie geskrif van my in te sluit. Die insluiting word sonder enige kommentaar gedoen, maar word bloot vir die interessantheid daarvan vir enige leser ingesluit. My dank aan broer Rassie vir die goedkeuring dat ek dit mag gebruik. Die enigste toevoeging en/of weglating in dit wat ek van hom ontvang het, is Rassie en Sarie se kinders en hulle uitgebreide familie wat ek weggelaat het en ons gesin se besonderhede wat ek bygevoeg het. Die oorspronklike dokument wat ek van hom ontvang het, is nog in my argiewe en dit wat nou volg is ’n hertikte weergawe daarvan.

Aan die einde van die geslagsregister, verduidelik ek kortliks hoedat elke seun met sy geslagsregister kan aangaan. Ek veronderstel dit sal op dieselfde wyse genommer word soos die hele geslagsregister van begin tot die einde genommer is.

GESLAGSREGISTER: BAREND JOHANNES DU PLESSIS: OPVOLGINGSLYN VAN VADER NA SEUN(S)

Opvolging Nr. Volle name Opvolgdatum en/of Geboortedatum Oorlede – datum waar bekend Getroud – Datum – met wie en geboortedatum – Sterfdatum – waar bekend

1a Guillaume du Plessis I – (Landheer) 1201

b1 Pierre du Plessis I

b2 Jean du Plessis (Later Graaf van Warwick)

2b1 Pierre du Plessis I (Landheer) 1249

c1 Guillaume du Plessis II

3c1 Guillaume du Plessis II (Landheer) 1271 ± 1308 (?)

d1 Pierre du Plessis II

d2 Jean du Plessis

4d1 Pierre du Plessis II (Landheer) ± 1318 (?) ± 1331 (?)

e1 Guillaume du Plessis III

e2 Pierre du Plessis (Chevalier)

e3 Eustache du Plessis

e4 Alips du Plessis

5e1 Guillaume du Plessis III (Ridder en Landheer) 1332 1373 Charlotte de la Celle

f1 Pierre du Plessis III

f2 Sauvage du Plessis

f3 Jean du Plessis

f4 Jeanne du Plessis

f5 Catherine du Plessis

6f1 Pierre du Plessis III (Heer{Lord} en Landheer) 1373 (?) 1388 (?) Ragonde Vigiere

g1 Jean du Plessis I

g2 Heliot du Plessis

g3 Marguerite du Plessis

g4 Helene du Plessis

7g1 Jean du Plessis I (Heer {Lord}en Landheer) 1401 1466 Catherine Fretarde

h1 Francois du Plessis

h2 Mande du Plessis

h3 Antoinette du Plessis

h4 Claudine du Plessis

8h2 Mande du Plessis (Heer{Lord} en Landheer) 1455 Marie de la Tousche

i1 Sauvage du Plessis

9i1 Sauvage du Plessis (Heer en Landheer) 1458 (?) 1512 Francoise L’Evesque (31/01/1474 en Jeanne de Rouyeres

(15/12/1485 – dogter van ’n ridder

j1 Francois du Plessis I

j2 Hervé du Plessis

j3 Anthoine du Plessis

j4 Jacques du Plessis

j5 Marie du Plessis

j6 Francoise du Plessis

j7 Gilles du Plessis (Kind by 2de vrou)

j8 Anthoinette du Plessis (Kind by 2de vrou)

10j1 Francois du Plessis I (Heer en Landheer) 1502 (?) 1520 Madelene de Champropin

k1 Francois du Plessis II

k2 Claude du Plessis

k3 Thomette du Plessis

k4 Charlotte du Plessis

k5 Susanne du Plessis

k6 Reneé du Plessis

k7 Jeanne du Plessis

11k1 Francois du Plessis II (Heer en Landheer)

(Weens geloofsvervolging sy eiendomme verloor) 1510 1560 22/03/1541 Francoise de Chargé (Dogter van Ridder)

l 1 Jean du Plessis II

l 2 Guillaume du Plessis

12l1 Jean du Plessis II ± 1548 1640 Judith Anne du Plessis de Mornay

(Afstammeling van Kardinaal Richelieu)

M1 Charl du Plessis

13m1 Charl du Plessis 1600

n1 Jean Prieur du Plessis

(Ons stamvader het na Suid-Afrika gekom?)

14n1 Jean-Prieur du Plessis 1638 07/12/1708 Junie 1687 Madalene Menanteau en 1701

Lorraine Marie de Buissot

o1 Charl-Prieur du Plessis

o2 Jean-Louis du Plessis

o3 Judith du Plessis

o4 Maria du Plessis – kind uit 2de huwelik

o5 Anna du Plessis – kind uit 2de huwelik

o6 Pieter du Plessis – kind uit 2de huwelik

15o2 Jean-Louis du Plessis 13/02/1691 05/05/1714

p1 Anna du Plessis

p2 Jan du Plessis

p3 Petrus du Plessis

16p3 Petrus du Plessis 21/03/1717 29/11/1739 Breggie Boeiens

q1 Madalena Geertruida du Plessis

q2 Petrus du Plessis

q3 Anna du Plessis

q4 Maria Elizabeth du Plessis *Sien q7 hier onder

q5 Jan Gabriel du Plessis

q6 Daniel du Plessis

q7 Maria Elizabeth du Plessis * Is dit korrek? Sien

Q4 hierbo

q8 Barend Louis du Plessis

q9 Carel Jacobus du Plessis

17q8 Barend Louis du Plessis 08/04/1753 27/03/1774 Elizabeth Blignaut

r1 Pieter Jacobus du Plessis

r2 Barend Johannes du Plessis

r3 Johannes Petrus du Plessis

r4 Daniel Jacobus du Plessis

r5 Rachel Jacoba du Plessis

r6 Izaak Jacob du Plessis

r7 Jan Jeremias du Plessis

r8 Carel Samuel du Plessis

r9 Pieter Benjamin du Plessis

r10 Jacobus Philippus du Plessis

18r4 Daniel Jacobus du Plessis 17/04/1781 16/02/1806 Susanna Maria de Villiers

s1 Jacob Daniel du Plessis

s2 Johannes Daniel du Plessis

s3 Johannes Erasmus du Plessis

s4 Charl Izaak du Plessis

s5 Margaretha Susanna Elizabeth du Plessis

19 s3 Johannes Erasmus du Plessis 05/11/1814 09/10/1898 17/08/1846 Rachel Sarah Johanna Roux

t1 Hendrina Aletta du Plessis

t2 Susanna Maria du Plessis

t3 Rachel Johanna Berndina du Plessis

t4 Margaretha Elizabeth du Plessis

t5 Daniël Jacobus Frederik du Plessis

t6 Paul Johannes du Plessis

t7 Johannes Erasmus du Plessis(Oupa Hansie) 24/08/1862 22/02/1942 18/08/1890

Jacoba Susanna du Toit

t8 Gertruida Petronella du Plessis

t9 Jacob Daniël du Plessis

20 t7 Johannes Erasmus du Plessis (Oupa Hansie) 24/08/1862 22/02/1942 18/08/1890

Jacoba Susanna du Toit

u1 Margaretha Gerhardina du Plessis (Tant Maggie) 14/07/1891 07/07/1942 08/07/1913 Charles George Eyssen *

u2 Johannes Erasmus du Plessis (Oom Hansie) 02/04/1893 30/04/1961 ? Adriana Jacomina v/d Westhuizen

u3 Rachel Johanna Gertruida du Plessis (Tant

Rachel) 03/08/1895 23/07/1946 ? Albertus Jacobus Smit

u4 Stephanus Francois du Plessis (Oom Fanie) 03/12/1896 28/08/1976 ? Sarah Elizabeth Eyssen *(Broer & suster)

u5 Daniël Johannes du Plessis (Oom Danie) 24/02/1898 02/12/1976 1ste vrou? Dinah Kuhn – oorlede ?

2de vrou ? “Baby” Maritz

u6 Christina de Wet du Plessis (Tant Chrisjan ook genoem tant Christie) 03/09/1900 26/08/1962 ?Theunis Christoffel Botha

u7 Paul Roux du Plessis (Oom Paul)18/11/1902 21/06/1969 ? Daisy Eselina van Schalkwyk

u8 Jacob Johannes du Plessis (Oupa Japie-my pa) 17/12/1904 16/10/1964 ? Hendrika van Eck

u9 Jacoba du Plessis (Tannie Kotie) 31/12/1907 25/05/1983 ? Henricus Jacobus Storm Roux

21 u8 Jacob Johannes du Plessis 17/12/1904 16/10/1964 ? Hendrika van Eck

v1 Johannes Erasmus du Plessis 03/07/1931 29/12/1951 Susara Aletta Elizabeth Duvenage

v2 Anna Johanna Jacomina du Plessis 03/09/1933 ? Petrus Lafras Dunn *

v3 Jacoba Susanna du Plessis 10/05/1935 ? 1ste man Jacob Francois van Dalen Oorlede? 2de man Christian Dunn * Broers

v4 Barend Johannes du Plessis (Dis nou ekke) 02/10/1936 03/10/1959 Cornelia Scholtz

v5 Hendrika du Plessis05/01/1938 ? Nicolaas van As

v6 Margaretha Gerhardina du Plessis 23/08/1939 ? Johannes van Schalkwyk

v7 Jacob Johannes du Plessis 20/05/1942 Erika le Grange

v8 Matthys Frederik du Plessis 15/11/1948 Aug ? 1ste Anna Nieuwenhuys (oorlede) ? 2de Catharina Maria Vorster (Wed) gebore Coetzee

v9 Stephanus Francois du Plessis 15/08/1952 ? Johanna Catharina (Joey)Deetlefs

22 v4 Barend Johannes du Plessis 02/10/1936 03/10/1959, Cornelia Scholtz geb. 17/09/38

w1 Kobus du Plessis (Tweeling) 28/06/1960 25/08/1984 Louisa Frederika Marais

w2 Anton du Plessis (Tweeling) 28/06/1960 07/04/1984 Suzette Lombard - geskei

10/02/2001 Elthea Ethrea geb. Jansen voorheen Spies – weer geskei

30/11/2013 Analize geb. Potgieter, voorheen van der Walt, voorheen

Neethling.

w3 Werner du Plessis 22/11/1961 15/09/1984 Susara Carolina v/d Merwe

w4 Christo du Plessis 13/01/1963 08/07/1995 Leana Roode

w5 Nico du Plessis 03/10/1964 06/10/1990 Anna Catharina Janse van Rensburg, voorheen Laubscher

WANNEER ENIGE VAN DIE SEUNS WIL AANGAAN MET HIERDIE GESLAGSREGISTER, SAL HY SY VOLGNOMMER MET ALFABETIESE NOMMER UIT 22 v4 NEEM EN DAN KRY SY REGISTER DIE VOLGENDE NOMMER, NAAMLIK: 23 w1 GEVOLG DEUR SY NAAM EN VAN EN ANDER BESONDERHEDE.

AS dit Kobus is, begin sy nageslag dus by 23 w1 met sy naam en besonderhede en die kinders se nommers begin nou met x1 (oudste kind) gevolg deur sy ander twee kinders se nommers. x2 en x3.

AS dit ANTON is, begin sy nageslag by 24 w2 met sy naam en besonderhede en die kinders se nommers begin nou met y1 (oudste kind) gevolg deur sy ander kind (ers) se nommers. y2 ens.

OP DIESELFDE WYSE GEBRUIK DIE ANDER DRIE SEUNS OOK HULLE NOMMER UIT 22 v4 en volg dieselfde volgorde soos hierbo uiteengesit

HOOFSTUK 20: LYSTE VAN MEDALJES, AANPRYSINGS EN SERTIFIKATE

ONTVANG

WAT NIE IN MEMOIRES VERMELD WORD NIE

Gedurende my kinderjare, my dienstermyn in die SA Polisie en my betrokkenheid by gemeenskapsinstellings en -organisasies, het ek heelwat toekennings, sertifikate en eerbewyse ontvang wat nie in hierdie memoires gemeld is nie. Dit word as ’n bundel in ons huis bewaar asook die medaljes wat aan my toegeken is tydens my diens in die SA Polisie. Die volgende is ’n getabuleerde lys van al hierdie items.

20.1 SA Polisie Medaljes en -aanprysings

• Brevet deur Sy Edele Minister van Justisie met aanstelling as adjudant-offisier in die SA Polisie 01/10/1963.

• SA Polisie Medalje vir Troue Diens in die SA Polisiemag (18 jaar diens) 16/06/1971.

• Kommissie deur Die Staatspresident van Republiek van Suid-Afrika met aanstelling as luitenant in die SA Polisiemag 03/08/1971.

• SA Polisie Medalje vir die Bekamping van Terrorisme 22/04/1977.

• SA Polisie Ster vir Troue Diens in die SA Polisiemag (20 jaar diens) Gekwalifiseer op 01/07/1973 - medalje is laat toegeken op 01/05/1979.

• Onafhanklikheidsmedalje van die Republiek van Bophuthatswana 28/03/1983 (Toegeken omdat kursusse vir BOP-polisie-offisiere aangebied is.)

• SA Polisie Ster vir Verdienste in die SA Polisiemag (30 jaar diens) 16/06/1983.

• SA Polisie Gedenkmedalje – Herdenking van 75 jaar na die totstandkoming van SA Polisiemag (1913 tot 1988) 01/04/1988.

• SA Polisie Ster vir Uitmuntende Diens met aanstelling as generaal-majoor in die SA Polisiemag 15/09/1992. Die letters S.O.O kan nou agter my handtekening aangebring word (As ek wil, maar ek wil nie). Die letters verteenwoordig die Latynse woorde Stella officii optimi. (In Afrikaans vertaal is dit die: “Ster vir Uitmuntende Diens.”

20.2 Ander sertifikate en toekennings

• Bybelkennis eksamen NG Kerk, Hoër Deel, 1951 in Tweedeklas (Swellendam NG Gemeente).

• Kaaplandse Junior Sertifikaat (Std 8) 1952 – Tweede graad geslaag, gedateer 02/02/1953.

• Bevestiging as lidmaat van NH of Geref. Kerk van SA, Pretoria-Wes gemeente 25/10/1953.

• St. Johns Ambulans Vereniging, Eerstehulp sertifikaat, 02/11/1953.

• Akpol-lidmaatskap ontvang 12/08/1955 (Afrikaanse Kultuurvereniging van die SA Polisie).

• Sertifikaat – Slaag 2de klas sersanteksamen in SA Polisie gedateer 07/11/1959.

• Basiese noodhulp onderrig 9-16 Aug 1962 – Noodhulp diens van Suid-Afrika.

• Sertifikaat – Slaag adjudant-offisierseksamen SA Polisiemag gedateer 12/11/1963.

• Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap, Nasionale Senior Sertifikaat – Std Xeersteklas geslaag gedateer 01/12/1965.

• Diploma, South African Amateur Pistol Union, Range officer/baanoffisier 28/11/1969.

• Departement van Nasionale Opvoeding RSA Nasionale Senior Sertifikaat gedateer 01/12/1973.

• Sukses Korrespondensiekursus – Slaag Plantkunde en Ekonomie vir Nasionale Senior Sertifikaat, vir universiteitstoelating vir graadkursus 19/03/1974.

• United States Department of Justice : Drug Enforcement Administration (DEA), Course of Instruction in Narcotics and Dangerous Drug Laws dated 03/07/1975.

• Universiteit van Suid-Afrika, (UNISA) Baccalaureus Artium Graad (Polisiekunde) 1979 gedateer 30/04/1980 – (Toekenningsdatum).

• Departement Nasionale Opvoeding RSA Nasionale Diploma (Polisie-Administrasie) gedateer 01/071982.

• Nasionale Party van Transvaal – Oorkonde vir 25 jaar diens gelewer aan Nasionale Party –1983/09/12 (Ons moes mos nou die datum agterstevoor begin skryf!).

• Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) Sertifikaat as klublid 100 – Eenmalige donasie van R100,00 – 1984

• SA Polisie Tin-eenhede (Teeninsurgensie) Kursus in Onluste- en Skarebeheer (offisiere) vanaf 1986/08/25 tot 1986/09/12.

• SA Polisie Senior Bestuursontwikkelingskursus 1/1990 vanaf 1990/01/22 tot 1990/02/16 by Esselenpark opleidingskollege.

• SA Polisie Topvlak Bestuursontwikkelingskursus Nr. 1/1991 vanaf 1991/09/01 tot 1991/09/14 by SA Polisie Akademie te Graaff Reinet.

• SA Polisie se Dienssertifikaat tydens pensioenering : Dienstermyn 1953/06/16 tot 1992/11/30.

• Aanstelling as Vrederegter deur Minister van Justisie 1993/02/26.

• Oorkonde van Federasie van Rapportryerskorpse vir 10 jaar diens. Toegeken op 1993/26/03.

• International Police Association (IPA) (South African Section) 10 years’ Service Certificate, 1986/09/30 – 1996/09/30.

• Die Afrikanerbond, 20 jaar lidmaatskap sedert 20/07/1976 tot 1999. Sedert 1999 as ’n ere-lid aangebly.(Nou begin almal die datum skryf soos hulle wil!)

• City of Tshwane Metropolitan Municipality, Vrywillige diens aan Wykskomitee, (Wyk 50) 10/2001 tot 09/2003.

• International Police Association (IPA) (South African Section) 20 years’ Service Certificate, 1986/09/30 – 2006/09/30.

20.3 Rolbal sertifikate en toekennings

• Bowls South Africa – Umpires Course Level One / Skeidsregterskursus vlak een –1996/02/05 (kan net op klubvlak as skeidsregter optree.)

• Seksiewenners Suid-Afrikaanse Nasionale Mans Viertal rolbalkampioenskappe te Kaapstad – Mei 1996.

• Gemengde Vierspelkampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 1995/1996 seisoen.

• Bowls South Africa – Afrigterskursus Vlak 1 (Klubafrigter) geslaag Mei 1997.

• Mans Vierspelkampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 1996/1997 seisoen.

• Gemengde Vierspelkampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 1996/1997 seisoen.

• Mans Gelote Vierspelkampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 1998/1999 seisoen.

• Mans Ope Parekampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 1999/2000 seisoen.

• Bowls South Africa – Skeidsregterskursus Vlak 2 geslaag (Kan op distrik en provinsiaal as skeidsregter optree) 2000/06/28

• Bowls South Africa – Afrigterskursus Vlak 2 (Gevorderd – Kan op provinsiale vlak afrig.) geslaag 2000/08/18.

• Bowls Gauteng North – Voorsitter van Distrik Staande komitee vir Afrigters Sept 2001 tot 2008.

425

• Mans Enkelspel Skemerkompetisiekampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 2000/2001 seisoen.

• Mans Enkelspel Skemerkompetisiekampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 2002/2003 seisoen.

• Mans Enkelspel Skemerkompetisiekampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 2003/2004 seisoen.

• Mans Enkelspel Skemerkompetisiekampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 2004/2005 seisoen.

• Bowls South Africa – Afrigterskursus Vlak 3 (Senior – kan op Nasionale- en Internasionale vlak afrig.) 25/10/2005.

• Mans Enkelspel Skemerkompetisiekampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 2005/2006 seisoen.

• Mans Ope Vierspel kampioen Pretoria-Noord Rolbalklub 2006/2007 seisoen.

• Presidentsbeker Pretoria-Noord Rolbalklub 2008/2009 seisoen – vir Uitstaande diens aan klub gelewer.

• Sertifikaat van ‘Onverdienstelikheid’ (Verkeerde swaai gerol tydens ’n kompetisie) PretoriaNoord Rolbalklub – ’n bietjie humor by die ernstige dinge.

• By ses (6) geleenthede vanaf 1995 tot 2010 volhuistellings (Full house scores) van agt (8) skote (die maksimum) behaal tydens vierspelkompetisies op klub- en distrikvlak). Ses medaljes. (een silwer en vyf goud.)

• Op 2011/08/13 Ere-lidmaatskap ontvang vanaf Pretoria-Noord Rolbalklub.

• Mans 2x4x2 Kampioen Kompetisie onder spreiligte te Pretoria-Noord Rolbalklub 2010/2011.

• Mans Ope Vierspelkampioen Pretoria-Noord-Rolbalklub 2011/2012

• Naaswenners van mans Ope Vierspel te Meyerspark Rolbalklub 2013/2014

426

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.