Genl.maj. (dr) Johan Burger
As voorsitter van die generaalsklub van die voormalige Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) is dit vir my 'n uitsonderlike voorreg om hierdie voorwoord te skryf. Die SAP het wel in 1995 opgehou bestaan maar die generaalsklub, al is dit in vele opsigte in 'n nuwe gedaante, bestaan na 36 jaar nog steeds.
Die skrywer van die bygaande artikel oor die generaalsklub, luitenantgeneraal Johan Ferreira, wys tereg uit hoe die staatkundige veranderings in Suid-Afrika gedurende die middel 1990's baie van die destydse lede van die klub weens verskeie redes genoop het om te bedank. Tog het die klub skynbaar voortbestaan selfs nadat die SAP en tien ander polisiemagte van die sg. onafhanklike en selfregerende Suid-Afrikaanse state in 1995 by die nuut-gestigte Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingelyf is.
In 'n onderhoud wat ek in 2021 met generaal JV van der Merwe vir die April uitgawe van die Generaalsklub Nuus gevoer het, gee sy herinneringe aan hierdie oorgangstydperk 'n bykomende perspektief. Genl Van der Merwe as die laaste kommissaris van die SAP, van 1990 tot 1995, was ten nouste betrokke by die fundamentele veranderinge van daardie tyd. En hy onthou die impak van die veranderings op die generaalsklub sò:
Nadat die nuwe polisiediens in 1995 tot stand gekom het en daar met militêre range weggedoen is het die klub skynbaar net opgehou om te funksioneer en het dit stilweg tot niet gegaan.
Nadat genl Van der Merwe op 31 Maart 1995 met pensioen afgetree het, het hy en ander afgetrede generaals van die SAP bymekaar gekom en besluit om 'n 'nuwe' generaalsklub bestaande slegs uit afgetrede generaals te stig. By nabetragting kan waarskynlik geredeneer word dat dit eerder 'n herstigting van die 'vorige' generaalsklub was. Die 'nuwe' generaalsklub het egter ook 'n nuwe grondwet ontwikkel en slegs afgetrede generaals van die ou SAP en Spoorwegpolisie kon lede word.
Genl Van der Merwe is by die stigting van die 'nuwe' generaalsklub as voorsitter verkies en het daardie pos beklee tot sy uittrede in Januarie 2020. En benewens die (her)stigting van die generaalsklub in 1995 het genl Van der Merwe hom ook beywer, ten spyte van groot teenstand van sommige lede, om lidmaatskap van die klub uit te brei na offisiere wat eers in die SAPD generaals geword het of range wat daaraan gelykwaardig was beklee het. Dit het hy reggekry toe 'n paslike wysiging van die klub se grondwet in 2014 goedgekeur is.
Die 2014 wysiging van die klub se grondwet en die daaropvolgende bevestiging van etlike jonger SAPD-aangestelde generaals het uiteraard baie positiewe gevolge vir die klub meegebring. Dit
beteken onder meer dat die klub veel langer sal kan voortbestaan en uiteraard, met die groot aantal jonger lede, dat daar ook veel meer energie en vernuwende denke na die klub toe gebring word. Daarom is dit so belangrik dat ons ook hierdie belangrike ontwikkeling van 'n hoofsaaklik sosiale dimensie van ons polisie en veral van sy generaals behoorlik boekstaaf. Derhalwe hoop ek ook dat hierdie belangwekkende weergawe van die historiese verloop van ons generaalsklub vir ons lesers net so interessant sal wees as vir ons wat deel daarvan geword het.
Genl.maj. (dr) Johan Burger
Voorsitter: Generaalsklub van die Suid-Afrikaanse Polisie
Maart 2024
Die Generaalsklub van die Suid-Afrikaanse Polisie het op 22 Augustus 2012 sy vyf-en-twintigste bestaansjaar gevier1 .
Aanvanklik het die Generaalsklub bestaan uit die dienende en afgetrede generaals wat vroeër in die Suid-Afrikaanse Polisie gedien het. Alle dienende- en afgetrede generaals en hul eggenotes het outomaties lidmaatskap verwerf.
Met die verloop van tyd het al die dienende generaals ook afgetree en bestaan die Klub huidig slegs uit afgetrede generaals wat ingevolge die Polisiewet van die vorige regering aangestel is.
Sakwapen van die Generaalsklub-baadjie
Die agtergrondsgeskiedenis wat tot die stigting van die Generaalsklub gelei het, word kortliks geskets.
Die rangstruktuur van die Suid-Afrikaanse Polisie het sedert 1913 verskillende vorms aangeneem. Anders as in die meeste Westerse lande, waar die polisiemagte normaalweg ʼn burgerlike of siviele rangstruktuur gehad het, het die Suid-Afrikaanse Polisie vir die grootste tydperk van sy bestaan, militêre range gebruik.
1 Hierdie geskiedkundige artikel is gedurende Augustus 2012 opgestel – HB Heymans
Rangtekens van die Generaals
Die polisie-offisiere in die vorige bedeling het die range luitenant; kaptein; majoor; luitenant-kolonel; kolonel; brigadier; generaal-majoor, luitenant-generaal en generaal gehad. ʼn Kapelaan se rangtekens was op perskleurige epoulette gemonteer.
Daar word van ʼn generaal vereis om ʼn GENERALIS te wees. Hy moet alle fasette van polisiëring ken en kan uitvoer.
Om ʼn generaal in die Suid-Afrikaanse Polisie te kon word, was nie vir enigeen beskore nie. Slegs offisiere wat tydens hul loopbane elke moontlike geleentheid aangegryp het, kon dit vermag. So ʼn offisier moes uitgestyg het bo die groot groep en moes dwarsdeur sy loopbaan gepresteer het. Selfs dan was dit nie vanselfsprekend dat ʼn offisier ʼn generaal sou word nie. Hy moes deurgaans kon bewys dat hy oor die kundigheid, leierskap, integriteit en eerbaarheid beskik om in aanmerking te kom. Hierdie aspekte het eweseer gegeld vir ʼn kandidaat se eggenote en status in die samelewing.
Wanneer ʼn nuwe generaal-majoor die eerste keer ʼn vergulde kasteel en gekruisde sabel en staf op sy skouers plaas, kan hy met reg dankbaar wees dat hy een van die min uitgesoekte offisiere is wat deur sy loopbaan getoets, gelouter en uitgedaag is om net die beste te lewer en dat hy elke toets met onderskeiding geslaag het.
Die Suid-Afrikaanse Polisiekollege, oftewel die alma mater van alle lede van die Suid-Afrikaanse Polisie, was die bymekaarkomplek van die generaalsklub waar hulle sosiaal kon verkeer en meedoen aan die ryke tradisies en esprit-de-corps wat deur die jare ontwikkel het. Elke bevelvoerder van die Polisiekollege het altyd ʼn noue verbintenis met die generaalsklub gehad en het graag die geriewe van die kollege tot die beskikking van die generaals gestel. Al wat nodig was, was ʼn enkele foonoproep.
Die Kommissarisse van die Suid-Afrikaanse Polisie
Die eerste Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie, Kolonel TG Truter, het die rang van Kolonel beklee. Die destydse regering het hom wel die rang van generaal-majoor aangebied, maar hy het dit nie aanvaar nie.
Die heel eerste Kommissaris wat die rang van generaal-majoor beklee het, was generaal-majoor IP de Villiers. Hy is tydens die Tweede Wêreldoorlog van ʼn kolonel tot generaal-majoor bevorder en in bevel geplaas van die Polisiebrigade van die Unie Verdedigingsmagte.
Generaal-majoor IP de Villiers. 1928 - 1945
Die eerste Kommissaris wat die rang van ʼn generaal beklee het
Generaal George Fivaz het in 1994 opdrag van President Mandela ontvang om ʼn nuwe SuidAfrikaanse Polisiediens tot stand te bring en om die onderskeie nasionale state en selfregerende gebiede se polisiemagte in die nuwe bedeling tot een polisiediens te amalgameer.
Die volgende lede van die generaalsklub het ook in hul dienstydperke as Kommissaris van die SuidAfrikaanse Polisie gedien:
• Generaal MCW Geldenhuys;
• Generaal PJ Coetzee;
• Generaal HG de Witt; en
• Generaal JV van der Merwe
Generaal MCW
Geldenhuys
1978-1983
Generaal JV van der Merwe
1989-1994
Generaal PJ Coetzee 1983-1986
Generaal HG de Witt 1986-1989
Lt.genl. JG le Roux Stemmet. Waarnemende Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie
Lt.genl. MJA Bester. Waarnemende Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie
Generaal George Fivaz het in 1994 opdrag van President Mandela ontvang om ʼn nuwe Suid-Afrikaanse Polisie-diens tot stand te bring en om die onderskeie nasionale state en selfregerende gebiede se polisiemagte in die nuwe bedeling tot een polisiediens te amalgameer.
Luitenant-generaal Le Roux Stemmet het as Kommissaris van die SuidAfrikaanse Polisie waargeneem nadat generaal George Fivaz as die Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangestel is.
Na Luitenant-generaal Le Roux Stemmet se afgetrede het luitenant-generaal Mike Bester ook vir ‘n tydperk waargeneem as die Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie. Hulle moes verantwoordelikheid aanvaar vir die taak as Hoof-Rekenpligtige van die Suid-Afrikaanse Polisie totdat die wetlike prosesse om al die polisiemagte te amalgameer, afgehandel was. Met die amalgamering van al die voormalige polisiemagte in Suid-Afrika is generaal Bester aangestel as een van die vier Adjunk-Nasionale Kommissarisse van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Luitenant-generaal Le Roux Stemmet het as Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie waargeneem nadat generaal George Fivaz as die Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangestel is.
Ontstaan van die Generaalsklub
Vanaf die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Polisie in 1913, het talle half-amptelike instellings ten bate van die lede van die Mag ontstaan. Hieronder tel die talle sportklubs, teeklubs, offisiersklubs en damesklubs oor die lengte en breedte van die land waarin lede en offisiere van die polisie hul kameraadskap en samehorigheid uitgeleef het.
Teen 1987, in die dienstyd van generaal Hennie de Witt, het daar ʼn behoefte onder die dienende generaals van die Suid-Afrikaanse Polisie ontstaan om ʼn forum te stig waar hulle en hul eggenotes op ʼn gereelde wyse bymekaar kon kom en om ook op ʼn meer informele en gemoedelike wyse kontak met mekaar te kon geniet.
Hierdie gedagte is ook sterk deur die destydse Minister van Wet en Orde, meneer Adriaan Vlok ondersteun.
Op die 22 Augustus 1987 daag daar 17 dienende- en 41 afgetrede generaals by die Polisiekollege op om die Generaalsklub formeel te stig.
Die vergadering neem die besluit dat alle teenwoordige generaals, sowel as die 27 generaals wat met verskoning nie die vergadering kon bywoon nie, as stigterlede aanvaar sal word. Alle afgetrede generaals het ook bona-fide lidmaatskap van die Klub ontvang.
Die doelstelling van die klub was hoofsaaklik om kameraderie tussen afgetrede en dienende generaals te bevorder en om kontak met die weduwees van afgetrede klublede te behou en om hulle steeds by die bedrywighede van die klub te betrek.
Aanvanklik is erkenning ook aan die eggenotes van ons generaals gegee vir die ondersteuning en bystand wat hulle tydens hul mans se loopbane aan hulle gegee het. As teken van die talle opofferinge wat hulle ook oor die jare moes maak, het elke generaalsvrou ʼn goue hangertjie, waarop die kentekens van die generaalsrang gepryk het, ontvang.
Van die oud-generaals, soos generaal Daantjie Bester, het tot ʼn baie hoë ouderdom aan die bedrywighede van die generaalsklub deelgeneem. Hulle het altyd met groot dankbaarheid verklaar dat hulle nog, na al die jare, kon voel dat hulle nog steeds aan die Suid-Afrikaanse Polisie BEHOORT.
Die eerste bestuurskomitee van die generaalsklub het bestaan uit luitenant-generaal RPJ van Vuuren (voorsitter) met generaal-majoor JC Coetzee; generaal-majoor PM du Plessis en generaal MCW Geldenhuys. Kaptein M. de W. Dippenaar is as sekretaris aangewys.
Luitenant-generaal Hennie Westraat het as lid van die Suid-Afrikaanse Polisie Bejaardesorgfonds
talle bejaarde lede van die generaalsklub met hul verjaardae en ander belangrike gebeurtenisse in hul lewens, besoek.
Generaal Hennie Westraat tydens ʼn besoek aan generaal en mevrou Nothnagel
Minister Adriaan Vlok is as beskermheer en Minister Roelf Meyer as adjunk-beskermheer aangewys.
Woelinge in die staatkundige bestel van die land se regering het vir die meeste dienende generaals in die Klub nie veel van ʼn toekoms ingehou nie. Hulle het dan ook, toe so ʼn aanbod aan hulle gemaak is, eerbaar uit die diens getree. Die afgetrede generaals het egter hulle lidmaatskap van die klub en hulle aanstelling in terme van die ou bedeling as jaloerse kleinood bewaar en beskerm.
Nie net in Pretoria, waar die moederklub gesetel is nie, het die Wes-Kaap die Klub se kameraderie ewe bedrywig onder ʼn eie voorsitter voortgesit.
Toe die huidige regering in 1994 aan bewind gekom het, het daar intense woelinge in die SuidAfrikaanse Polisie geheers. Talle van die dienende generaals van die “ou” en geliefde SuidAfrikaanse Polisie kon hulle nie vereenselwig met hierdie veranderinge nie en was nie bereid om in die nuwe bedeling te dien nie Hulle het verkies om eerder van die aanbod gebruik te maak om uit diens te tree
Die lede van die Generaalsklub het ook, hoofsaaklik weens die nuwe kultuur wat in die nuwe Polisiediens sou kom, besluit dat slegs offisiere wat ingevolge die vorige polisiewet as generaals aangestel is, gekwalifiseer het om by die generaalsklub aan te sluit.
In die kort bestaan van 25 jaar van die Generaalsklub, het sy lede met hul jarelange ervaring en breinkrag hulle op vele terreine van ons samelewing bewys.
In 1987 is die eerste Topbestuurkursus vir die senior Brigadiers van die Suid-Afrikaanse Polisie aangebied. Die brigadiers wat die kursus suksesvol voltooi het, is later as generaals-majoor aangestel.
Topbestuurskursus 1987
ʼn Blaaskans tydens die eerste topbestuurskursus by Maleoskop
Op die foto is luitenant-generaal Basie Smit, generaal-majoor AP van Dyk, generaal-majoor Johan van Niekerk, generaal-majoor Fanie Malan en luitenant-generaal Johan Viktor Tydens die kursus was die kursusgangers hierbo nog brigadiers, maar die range waarmee hulle afgetree het, word teenoor hul name genoem.
Ons generaals kon hulself ook behoorlik handhaaf in die teenwoordigheid van die top-generaals van die ander Magte van Suid-Afrika.
Dit was ʼn tradisie van die vorige bedeling dat die top-generaals van die Leër, Vloot, Geneeskundige Diens, Lugmag en Suid-Afrikaanse Polisie as amptelike verteenwoordigers van hul onderskeie Magte, aan die opening van die Parlement deelneem.
Die foto’s hier onder is geneem tydens een van die laaste Parlementsopeninge van die vorige bedeling.
Hier onder staan (agter) luitenant-generaal Hendrik de Villiers, luitenant-generaal Lothar Neethling, Vise-admiraal Dries Putter, luitenant-generaal Alwyn Conradie en luitenant-generaal Dawie Knobel. In die voorste ry sit luitenant-generaal Jan van Loggerenberg, generaal Johan van der Merwe, generaal Jannie Geldenhuys, luitenant-generaal Kat Liebenberg en luitenant-generaal Mulder van Eyk
Op dieselfde geleentheid was die generaals vergesel van hul eggenotes.
Op die foto onder die generaals, verskyn hul onderskeie eggenotes in dieselfde posisies as hul mans
ʼn Vroeëre Parlementsopening (ongeveer 1982) wat die RSA se top-generaals as amptelike verteenwoordigers van die Republiek se Magte bygewoon het.
In die voorste ry saam met mnr. Piet Marais (voorsitter van Krygkor) en generaal Constand Viljoen (HSAW), sit generaal Mike Geldenhuys (Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie) en luitenantgeneraal Frikkie Engels.
In die agterste ry is generaal-majoor JAB Laubscher, luitenant-generaal Christie Zietsman, luitenantgeneraal Vic Verster en luitenant-generaal Johann Coetzee.
Ons het miskien die name van die ander Magte se generaals vergeet, maar ons eie generaals sal ons nooit vergeet nie.
Die toevoeging van Burgerlikes tot die Offisiersgeledere
Vroeër jare was dit byna ongehoord vir ʼn burgerlike persoon om tot die offisiersgeledere van die Suid-Afrikaanse Polisie gevoeg te word. Hierdie siening het oor die jare verander.
Ofskoon die Suid-Afrikaanse Polisie deur die jare briljante en toegewyde offisiere opgelewer het, was dit in die sewentiger en tagtigerjare tóg nodig om kundiges op ander gebiede, soos forensiese deskundiges, kenners van strategiese beplanning, kommunikasie en regsgeleerdes in die Mag aan te stel. Die felle aanslag teen die Staat wat die Suid-Afrikaanse Polisie moes trotseer, en die nuwe ontwikkelinge op forensiese gebied, het die aanstelling van sulke kundiges genoodsaak.
Een van die eerste burgerlikes wat uiteindelik tot ʼn luitenant-generaal in die Suid-Afrikaanse Polisie gevorder het, was luitenant-generaal Lothar Neethling.
Hy was ʼn wetenskaplike met twee doktorsgrade wat aangestel is om die Forensiese WetenskapLaboratorium tot stand te bring. Deur sy besondere ywer en oorredingsvermoë het hy daarin geslaag om die Forensiese Wetenskap-Laboratorium binne enkele jare uit te bou tot een van die bestes in die wêreld Met die wetenskaplikes wat mettertyd by hom aangesluit het, kon hulle getuienis en bewysstukke wat op misdaadtonele gevind is, wetenskaplik ontleed en met die pleging van misdade verbind. Selfs hoogs-gespesialiseerde toetse, soos DNS-ontledings kon mettertyd deur die Forensiese Laboratorium gedoen word.
Generaal-majoor Leon Mellet
Leon Mellet, destyds ʼn bekende joernalis by die Natal Mercury het in die tagtigerjare van die vorige eeu as ʼn luitenant-kolonel by die nuutgestigte Afdeling Openbare Betrekkinge van die SuidAfrikaanse Polisie aangesluit. Weens sy uitstekende skakeling met die media is hy baie gou by die personeel van die destydse minister van Wet en Orde, meneer Louis le Grange, aangestel. Sy bekwaamheid en buitengewone vermoë om met die media te skakel is gou raakgesien en hy is later ook as ʼn generaal-majoor aangestel.
Luitenant-generaal André Pruis
Toe die aanslag teen die staat in die tagtigerjare op sy felste was, is daar besluit om ʼn kundige strateeg as burgerlike in die Mag aan te stel. ʼn Akademikus van die Universiteit van die Oranje Vrystaat, André Pruis is aangestel om die topbestuur te help met strategiese bestuur. Onder sy bekwame leiding is talle uiters belangrike strategieë ontwikkel. Ook André Pruis is vinnig bevorder tot die generale-staf. Na die 1994-bewindsoorname het hy voortgegaan met sy dienste in die nuwe Suid-Afrikaanse Polisiediens, waar hy met sy aftrede een van die Adjunk-Nasionale Kommissarisse was
Luitenant-generaal (ds) Stoffel Colyn (toe nog ʼn generaal-majoor)
Die Suid-Afrikaanse Polisie het deur die jare die geestelike welsyn van sy lede hoog geag. Om daardie rede was die eerste kapelaan wat met ʼn militêre rang aangestel is, ds. Doempies Cloete. Tydens die Tweede Wêreldoorlog, was hy ʼn geliefde kapelaan in die Unie Verdedigingsmagte. Hy was op sy tyd een van die hoogs gedekoreerde offisiere in die Polisie. Hy het ook ʼn generaalmajoor in die Suid-Afrikaanse Polisie geword.
Luitenant-generaal (ds) Stoffel Colyn het na ds Cloete die pos as hoofkapelaan oorgeneem. Benewens die verantwoordelikheid vir die geestelike welsyn van die lede van die Mag, het hy hom ook op talle ander terreine, waar die welsyn van die Mag ter sprake was, onderskei. Weens die moeilike omstandighede, geweld en trauma waaraan lede van die Suid-Afrikaanse Polisie blootgestel was, is die kapelaansdiens onder sy leiding ook uitgebrei. ʼn Afdeling Maatskaplike Dienste en Sielkundige Dienste is in sy dienstyd tot stand gebring om die nodige berading te gee aan dié lede wat dit nodig gehad het.
Na luitenant-generaal Colyn se aftrede het generaal-majoor (ds.) Basie van Eeden by hom oorgeneem. Hy het die goeie werk van ds. Colyn voortgesit.
In 1972 het die Suid-Afrikaanse Polisie, met die samewerking van Unisa, en veral Professor Tjaart van Heerden (ʼn voormalige polisie-kaptein), die BA (Polisiekunde) graad tot stand gebring. Hierdie kwalifikasie was spesiaal ontwikkel om polisiebeamptes ook akademies toe te rus om die eise van die samelewing die hoof te kon bied. Verskeie van die lede het hierdie geleentheid aangegryp om hulle beter te bekwaam.
Generaal-majoor Daantjie Huggett was die heel eerste lid van die Generaalsklub wat die BA (Polisiekunde)-graad verwerf het. Na hom het talle generaals ook die kwalifikasie verwerf. ʼn Hele aantal generaals het ook mettertyd Honneurs- en selfs Magistergrade in die Polisiekunde verwerf.
Luitenant-generaal Koos Calitz is sover bekend, die eerste polisie offisier wat ʼn Magistergraad in Polisiekunde verwerf het.
Daar is natuurlik verskeie ander generaals wat ook universiteitsgrade in ander gebiede soos die regte, geskiedenis, sosiologie en sielkunde verwerf het. Ons dink hier aan generaal Johann Coetzee, wat ʼn Magistergraad in Geskiedenis aan die Randse Afrikaanse Universiteit verwerf het.
Generaal Johan van der Merwe het ook ʼn B-Iuris-graad aan Unisa verwerf.
Generaal-majoor Herklaas Meyer het weer die grade BA en ook die BA-Honneursgraad in Staatsleer en Internasionale Politiek aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.
Generaal-majoor Meyer en mevrou Meyer is die trotse ouers van drie dogters wat ook by die Mag aangesluit het.
Generaal-majoor Herklaas Meyer Trotse vader met sy drie dogters
Luitenant-generaal (dr) Stan Schutte het na sy aftrede sy groot ideaal verwesenlik om sy doktorsgraad in die Polisiekunde aan Unisa te verwerf. Sy proefskrif het gehandel oor ʼn
polisiekundige ontleding van die United Democratic Front. In sy dienstyd was hy onder andere die Hoof van die Speurtak en ook Hoof van die Veiligheidstak.
Luitenant-generaal (dr) Stan Schutte Luitenant-generaal Koos Calitz
Generaals wat baanbrekerswerk in die Suid-Afrikaanse Polisie gedoen het In die sestigerjare het die tegnologie en wetenskap op alle terreine al hoe groter eise aan die SuidAfrikaanse samelewing gestel.
Die Suid-Afrikaanse Polisie moes by hierdie veranderinge aanpas om te sorg dat hulle altyd een tree voor die misdadigers is
Vroeër jare was feitlik al vereiste wat aan lede van die Mag gestel word om hulself beter te bekwaam, die interne polisie-bevorderingseksamens.
In hierdie verband het generaal-majoor HJ du Plooy baanbrekerswerk gedoen om die kurrikulums van die drie bevorderingseksamens op te stel. Hy het ook saam met professor PJ van der Walt van Unisa handleidings vir studente in die kriminologie opgestel.
Mettertyd het dit duidelik geword dat kennis wat in hierdie eksamens verwerf is, nie voldoende was om die offisiere van die Mag toe te rus vir die moderne eise van die samelewing nie.
Die interne polisie-bevorderingseksamens is in die sewentigerjare van die vorige eeu vervang deur die Nasionale Diploma in Polisie-Administrasie – ʼn behoorlik geakkrediteerde kwalifikasie van die Departement van Nasionale Opvoeding.
Luitenant-generaal Ben Stevens, een van die vroeë graduandi van die Mag, is die taak opgelê om ʼn seksie Gevorderde Opleiding by Hoofkantoor tot stand te bring, waar kandidaat-offisiere behoorlik opgelei is om hul taak as offisiere te verrig.
Hy het geen gras onder sy voete laat groei nie en het spoedig ʼn groep ervare offisiere om hom versamel. Hierdie dosente was almal kenners op hul eie terrein, en hulle het saam ʼn kundige groep offisiere gevorm wat die kursusgangers in alle fasette van polisie-administrasie opgelei het.
Luitenant-generaal Ben Stevens as ʼn jong gegradueerde kaptein
Luitenant-generaal Wouter Grové
Luitenant-generaal Ben Stevens kan tereg beskou word as die vader van gevorderde opleiding in die Suid-Afrikaanse Polisie.
Die meeste offisiere van die laat sestigerjare tot middel-sewentigerjare is onder generaal Ben Stevens se vaandel in die Suid-Afrikaanse Polisie opgelei.
Luitenant-generaal Wouter Grové het later die vaandel van die Afdeling Gevorderde Opleiding oorgeneem.
Die Afdeling Gevorderde Opleiding het naderhand so ontwikkel dat Junior, Middelvlak, Senior en Topbestuurskursusse in die laat tagtigerjare ingestel is. Daar is toe besluit dat kapteins wat kwalifiseer om na majoorsrang bevorder te word, eers ʼn junior-offisierskursus suksesvol moes deurloop om vir bevordering in aanmerking te kom.
Terselfdertyd moes luitenant-kolonels ʼn Middelvlak-Bestuurskursus; en “vol” kolonels ʼn Senior Bestuurskursus deurloop en slaag om vir bevordering na die volgende hoër rang in aanmerking te kom.
Uiteindelik was daar die Top Bestuurskursus. Hierdie kursus was ingestel om die senior brigadiers te sif en te keur vir aanstelling in die rang van generaal-majoor. Tydens hierdie kursusse was
kundiges op elke terrein genooi om die kandidate in te lig en voor te berei om as die room van die Mag aangestel te word. Die kandidate moes voor die aanvang van die kursus moeilike voorkursustake indien en tydens die kursus onder groot druk strawwe eksamens aflê. Onder die kandidate was daar natuurlik gesonde wedywering om te sien wie van hulle bo-aan die lys sou kom.
Generaals Flip Fourie, Hendrik de Villiers en Le Roux Stemmet gesellig saam by een van die generaals se funksies.
Twee van ons generaals het hulself ook in hul dienstyd as advokate bekwaam.
Generaal Daantjie Bester en luitenant-generaal Mulder van Eyk het, behalwe vir die verantwoordelike poste wat hulle beklee het, ook nog die tyd gevind om hulself as advokate te bekwaam en tot die Balie toegelaat te word.
Generaal Daantjie BesterLuitenant-generaal van Eyk het ook rede om trots te wees op sy seun en naamgenoot, Mulder.
Generaal-majoor Mulder van Eyk (junior) het, nes sy pa, ook ʼn advokaat geword. Hy spog ook met die volgende kwalifikasies:
Nasionale Diploma (Polisie Admin), BA (Polisiekunde), LLB, M Tech, PHD en LLD.
Luitenant-generaal Mulder van Eyk (senior) Generaal-majoor (dr) Mulder van Eyk (junior)
Generaal-majoor Mulder van Eyk (junior) is tans die Hoof: Navorsing en Curriculum-ontwikkeling in die Afdeling: Opleiding in Hoofkantoor.
Nog ʼn generaal wat met die onderskeiding kan spog dat sy dogter ook ʼn generaal in die Polisie geword het, is wyle generaal-majoor AP van Dyk en sy eggenote Marietjie. Hulle dogter, Renee, is ook onlangs in die Wes-Kaap as ʼn generaal-majoor in die Polisie aangestel.
Generaal-majoor Jan du Preez, wat van ʼn konstabel deur die polisierange gevorder het tot ʼn generaal-majoor, het na sy uittrede ʼn doktorsgraad in die teologie verwerf en ʼn geordende predikant in die NG-Kerk geword.
Generaal-majoor du Preez sal ook onthou word as een van die gewildste motiveringsprekers by die Suid-Afrikaanse Polisie se Bestuursontwikkelingskursusse.
Luitenant-generaal AJ (Bert) Wandrag het ook diep spore in die Suid-Afrikaanse Polisie getrap –veral by die afdelings Teeninsurgensie en Onlusbeheer.
Hy was een van die offisiere wat ʼn leiersrol gespeel het tydens die Silverton Volkskas-beleg en die Kerkstraat-bomontploffing.
Generaal Wandrag het ook ʼn groot rol gespeelmet die ontwikkeling van die Casspir-onlustevoertuig. Die Generaal en sy eggenote Dimpels, het ook na die lede wat teeninsurgensiediens aan ons landsgrense verrig het, as hulle “seuns” beskou en baie gedoen om na hulle belange om te sien.
Die Taakmag-opleidingsentrum, Verdrag, is vernoem na luitenant-generaals Vic Verster en Bert Wandrag.
Hy was ook ʼn groot gees by die “Bobbies” rugbyklub in Pretoria.
Luitenant-generaal Bert Wandrag
Generaal-majoor Piet Steyn het ook vir baie jare ʼn noue verbintenis met die Pretoriase Polisie Rugbyklub gehad. Afgesien van die feit dat hy in die sestiger- en sewentigerjare vir Bobbies en Noord-Transvaal as losskakel verteenwoordig het, was hy ook vir ʼn tydperk die voorsitter van die Polisie-Rugbyklub in Pretoria.
Luitenant-generaal “Sterk-Hans” Dreyer is deur generaal Mike Geldenhuys aangewys as die eerste, en enigste bevelvoerder van Operasie Koevoet, wat tydens die bosoorlog in die destydse SuidwesAfrika Opgetree het. Hy het Koevoet as een van die gedugste teen-insurgensiemagte in die wêreld uitgebou.
Luitenant-generaals Neethling, Wandrag en Dreyer
Toe dit met die nuwe bewind se Waarheid- en Versoeningskommissie duidelik geword het dat ons makkers wat oor die veiligheid van die land gewaak het, geen genade sou ontvang nie, is die OudSAP-Lede Liefdadigheidstrust onder leiding van generaal Johan van der Merwe in die lewe geroep.
Die hoofdoelwit van die Liefdadigheidstrust was om fondse in te samel vir die lede, wat in die loop van hul dienste geïmpliseer was met optredes wat in die loop van hul diens uitgevoer is, waarvoor amnestie geweier is. Deur fondsinsameling het hulle feitlik berge versit om sulke lede by te staan met die geweldige regskoste wat hulle in die gesig gestaar het. Generaal Johan van der Merwe, luitenant-generaals Hendrik de Villiers, Le Roux Stemmet, Johan le Roux en generaal-majoor Bertus Steyn het die afgelope jare reuse werk verrig om ons kollegas by te staan
Luitenant-generaals Le Roux Stemmet en Hendrik de Villiers
Generaal-majoor SJ de Swardt sal as die vader van die elite Spesiale Taakmag van die SuidAfrikaanse Polisie beskou word.
Reeds in 1972 het hy en die pioniergroep, wat toe as die “Bliksems” bekend gestaan het, spesiale opleiding onder sy leiding ontvang.
Generaal-majoor Johan de Swardt
Enkele lede van die generale staf het hulle nie net op sportgebied onderskei nie, maar ook hulle merk as sport-administrateurs gemaak.
Luitenant-generaal Alwyn Conradie in sy Springbok-baadjie
Generaal-majoor Manie van Zyl in sy jong dae as stoeier
Luitenant-generaal Alwyn Conradie, ʼn bobaas hengelaar, het Springbokkleure in Hengel verwerf.
Generaal-majoor Manie van Zyl is met Springbokkleure in Stoei vereer Hy is ook in sy tyd as die stoeier van die eeu aangewys. Dit is voorwaar ʼn prestasie om op trots te wees!
Luitenant-generaals Bert Wandrag (Skyfskiet) Hennie Westraat (Stoei) en Louw Malan (Judo) het die Springbokspanne as spanbestuurders na die buiteland vergesel. Luitenant-generaal Hennie Westraat het ook sy Protea-kleure as spanbestuurder van ʼn toerspan na Rusland ontvang.
Luitenant-generaal Hennie Westraat
Luitenant-generaal Louw Malan
Generaal-majoor Johan Kruger het Natal in drie Junior Suid-Afrikaanse kampioenskappe; en die Suid-Afrikaanse Polisie in vyf Suid-Afrikaanse kampioenskappe verteenwoordig. Dit was in die goue era van atletiek in die Suid-Afrikaanse Polisie.
Generaal-majoor Johan Kruger
Eerste Afrikaanse Natal sakwapen
Hy het Natal in vyftig provinsiale Atletiekbyeenkomste verteenwoordig en was ook die eerste Afrikaanssprekende kaptein van die Natalse Atletiekspan.
Met die toekenning van Natal-kleure aan hom, het hy versoek dat die sakwapen op sy baadjie in Afrikaans moet wees. Dit was die eerste Afrikaanse Natal-Atletiek sakwapen ooit wat aan ʼn atleet toegeken is.
Hier is generaal-majoor Johan Kruger (regs).
Hy behaal in 1961 in King’s Park die tweede plek in die 440 treë in 48.2 sekondes. Hier staan hy saam met twee Polisie Springbok-atlete, Tokkie Peters en Angus McCay.
Op 17 Januarie 1962 wen generaalmajoor Johan Kruger die 100 treë in 9.6 sekondes in die King’s Park-stadion in Durban
Deur die jare het van ons generaals ook hul skryftalent ontwikkel.
Luitenant-generaal Hennie Westraat het van die ontstaan van die Generaalsklub, sy gewig vierkantig by die bedrywighede van die klub ingegooi. Met sy inisiatief en leiding, het hy DIE GENERAAL, ons klub se lyfblad, tot stand gebring. In hierdie blad word gereelde nuusbrokkies oor die wel en weë van ons lede gerapporteer.
Generaal van der Merwe, ons huidige voorsitter, pen in 2010 sy ervarings in sy boek TROU TOT DIE DOOD TOE neer Die boek handel oor sy loopbaan in die Suid-Afrikaanse Polisie, en beeld onder meer op treffende wyse sy moeilike ervarings tydens politieke onrus wat in die jare tagtig in die land voorgekom het.
Generaal Johan van der Merwe Die omslag van generaal van der Merwe se boek
Generaal-majoor Herman Stadler het ook ʼn boek oor sy herinneringe in die Veiligheidstak die lig laat sien.
Generaal-majoor Herman Stadler
Generaal-majoor Chris Crafford het in die hoë ouderdom van 92 jaar, ʼn lekker-leesboek oor sy ervarings in die Suidwes-Afrika Polisie uitgegee. Die titel van die boek is “VAN DIE DEPOT TOT DUITSWES”.
Dit is voorwaar ʼn unieke prestasie vir ʼn man van sy jare.
Generaal-majoor CP de W Crafford
Generaal-Majoor Jan Lourens
Die boek se omslag-blad
Nog ʼn oud-generaal, naamlik generaal-majoor Jan Lourens hou homself met die digkuns besig en is onlangs deur die ATKV van Centurion vir sy werk vereer
Selfs die eggenotes van ons generaals het hul merk in die samelewing gemaak.
Mevrou Nan Henning, die eggenote van wyle generaal-majoor Piet Henning. Sy is op 9 Augustus 2003, op 92 jarige ouderdom, in Dewetsdorp oorlede. Hoewel daar 64 boeke uit haar pen gevloei het, was sy formeel opgelei in musiek, orrel en sang. Sy was dan ook baie jare musiekonderwyseres, orreliste en sangeres. Sy was ook gereeld gehoor oor SAUK radio. Sy was vir baie jare orreliste en koorleidster in die NG Kerk te Pietermaritzburg en het ook verskeie kere sangoptredes vir die SAUK gedoen
In haar latere jare het sy haar toegespits op haar skryfkuns
Haar laaste boek het sy op die ouderdom van 80 jaar, geskryf. Een van haar gunsteling-boeke, Waar die Alpekronkels blom, het oor haar ervarings van ʼn reis in Europa gehandel.
Verskeie eggenotes van ons generaals het hulle ook op ʼn ander manier onderskei. Toe die wenresepteboek KNUPPELDIK AAN KONINGSKOS en sy Engelse weergawe FIT FOR A KING ʼn klompie jare gelede deur die damesklubs van die polisie gepubliseer is, het hierdie resepteboek baie gou ʼn topverkoper geword. Dit het gelei tot die stigting van die KNUPPELDIK-TRUST, waarvan verskeie van ons generaals se eggenotes tot die Raad van Trustees verkies is.
Die doelstellings van die Trust was onder meer om die fondse wat deur die boeke se verkope opgelewer is te skenk aan hulpbehoewende organisasies, soos die Suid-Afrikaanse Polisie Weduwee en Weesfonds, die Bejaardesorgfonds van die Suid-Afrikaanse Polisie en polisiebeamptes wat gestrem gelaat is weens beserings. Die boeke is oral in die land versprei deur die onvermoeide ywer en inisiatief van die talle eggenotes van ons generaals, soos mevroue Mollie de Witt, Juliette Neethling, Lena Smit, Anna-Beth Fivaz, Doreen Loots en andere.
Die resepteboeke het deur die jare letterlik miljoene rande ingesamel wat dit vir hierdie polisieorganisasies moontlik maak om na die welsyn van ons lede om te sien.
Die huidige voorsitter van die Trust is Dr Elma Kruger, eggenote van die generaalsklub se kapelaan, Dr Casper Kruger.
Sekere vertakkings van die Suid-Afrikaanse Polisie het oor die afgelope 25 jaar ʼn rype oes van generaals opgelewer. Daar het naderhand ʼn persepsie ontstaan dat sommige vertakkinge die poort was waardeur ʼn offisier moes gaan om ʼn generaal te word.
Die volgende Bevelvoerders van die Suid-Afrikaanse Polisiekollege (wat toe nog brigadiers was), het generaals geword:
Ons dink hier aan generaals Willem van Zyl, Alwyn Conradie, Bernie Mostert, Frik Reynecke, HC Muller en Daantjie Huggett
Die Veiligheidstak het ook ʼn hele paar kommissarisse, soos generaals Mike Geldenhuys, Johann Coetzee en Johan van der Merwe opgelewer. Daarbenewens is ook talle ander lede van hierdie tak tot die geledere van die generalestaf gevoeg.
Nog ʼn vertakking van die Suid-Afrikaanse Polisie wat ʼn hele paar generaals opgelewer het, was die Kwartiermeester. Manne soos generaals John Keevy, Charles van Onselen, Maans Engelbrecht,
Frik Reynecke, Chris Crafford, JC Coetzee, Ig Coetzee, Le Roux Stemmet en Hennie Westraat was op een of ander tyd die Kwartiermeester van die Suid-Afrikaanse Polisie.
Vanselfsprekend het Wachthuis ook sy kwota generaals opgelewer. Offisiere soos generaals John Keevy, JP Gous, Theo Crous, Mike Geldenhuys, Johann Coetzee, Hennie de Witt, Johan van der Merwe en George Fivaz het almal Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie geword.
Dit is ook interessant dat die offisiersgroep (oftewel “offisierskool”) van 1970 waarskynlik die meeste generaals van alle groepe opgelewer het. Hier word gedink aan die volgende generaals: George Fivaz, Adriaan de la Rosa, Wouter Grové, Johan le Roux, Koos Calitz, Chris Serfontein, Hennie
Westraat, Ben du Plessis, Daantjie Huggett, Krappies Engelbrecht, Hans du Toit, Tertius Calitz, Obie Oberholzer, “Gryper” Muller, Nick Snyman, Vic Haynes, Piet du Toit, Tienie Cronjé, Coen Spaumer, Johan Koen, Jan Lourens en Tokkie Nienaber.
In die loop van jare was daar ook twee offisiere aan wie die ererang van generaal-majoor toegeken is, naamlik aan generaal-majoor Lemmer toe hy as die burgemeester van Johannesburg verkies is en ook die legendariese generaal-majoor Louis Snyman vir sy jarelange verbintenis met die SuidAfrikaanse Polisiekollege.
Generaal-majoor Louis Snyman sal met groot ontsag onthou word deur die geslagte polisiemanne wat sedert die dertigerjare tot en met die sewentigerjare hulle opleiding onder sy streng hande deurloop het. Hy was ʼn ware instrukteur, ruiter en militaris. Sy forse gestalte, dawerende paradestem en penregop-houding het groot agting afgedwing by die rekrute en studente wat onder sy hande deurgeloop het.
Manne van sy kaliber sal ʼn mens nie gou weer raakloop nie.
Generaal-majoor Louis Snyman
Met die totstandkoming van die TBVC-state en Selfregerende Gebiede se onderskeie polisiemagte in die tuislande, is generaals Roy During, Johan Viktor, Chris van Niekerk, Johan Griebenauw, Bart Vosloo, JFH Visser en Jack Buchner op een of ander tydstip die kommissarisse van die onderskeie magte.
Van ons generaals se kinders het ook groot prestasies in die samelewing bereik.
Hier dink ons aan Dr Niel van Heerden, wat die Direkteur-generaal van Buitelandse Sake en ook ons land se Ambassadeur in Engeland was. Hy is die seun van wyle generaal-majoor JJ van Heerden
Nog ʼn polisieman se seun, wat alombekend en geliefd onder sy lesers is, is die rubriekskrywer in Beeld, Volksblad en Die Burger, BLOU WILLEM. Hy is die seun van wyle luitenant-generaal PJ Theron en mevrou Tinkie Theron. Generaal Theron sal deur die offisiere wat onder hom gedien word, onthou word as een van die ware here van die Suid-Afrikaanse Polisie.
Wyle mevrou Tinkie Theron was ook ʼn stigterslid en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Polisie Offisiers-damesklub. Sy was ook voorsitter van die Bond van Oud-Polisiebeamptes se damesgroep.
Luitenant-generaal PJ Theron
Op die gebied van musiek het generaal-majoor Nick Snyman ʼn lisensiaat in musiek verwerf.
Hy en mevrou Snyman ook nie ʼn bietjie trots op hul drie seuns wat groot opgang in die vermaaklikheidsbedryf gemaak het nie.
Hulle drie seuns is die bekende groep BROERS.
Generaal-majoor Nic Snyman en mevrou Snyman
Wyle Luitenant-generaal Frikkie Engels se twee begaafde en kunssinnige kinders, Margie en Johan, het op hul onderskeie terreine ook groot hoogtes in die wêreld van die kunste bereik.
Margie (eggenote van generaal Coen Spaumer) het roem verwerf as stigter, dirigent, beoordelaar en leier van bekende kore.
Margie het die grade BA (Mus), Honneurs en B.Ed, sowel as lisensiate aan Unisa, Trinity College en die LRSM (Royal Schools) verwerf
Sy het talle kore, soos die NKP dameskoor, wat later die Jakaranda Kinderkoor geword het, gelei. Daarbenewens was sy ʼn musiekonderwyseres aan die Hoërskool Wonderboom en ʼn musiekdosent by die Pretoriase Onderwyskollege.
Margie het die Suid-Afrikaanse Polisiemannekoor ook met groot onderskeiding vanaf 1986 tot 1992 afgerig. Onder haar leiding het hulle ʼn eerste prys verower by die Roodepoortse Eisteddfod.
In Middelburg is sy as hoof van die Musieksentrum aangestel toe haar eggenoot, generaal-majoor Coen Spaumer daar as adjunk-provinsiale kommissaris aangestel is.
Sy het ook oor die hele land opgetree as beoordelaar by die ATKV, koorfeeste en eisteddfods Om alles te kroon is sy ook ʼn eksterne eksaminator vir koorleiers wat deur die Universiteit van Pretoria aangebied word.
Johan Engels het in die Kunste en Ontwerp aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Hy het homself tussen 1975 en 1980 by TRUK gevestig as top-ontwerper van stelle vir die opera, ballet en teater.
Terwyl hy aan TRUK verbonde was, het hy onder andere operastelle ontwerp vir die Swanemeer, Giselle, Die Neutkraker, Romeo en Juliet en La Bayadere.
Hy word oor die ganse wêreld as een van die toonaangewende ontwerpers beskou Sy dienste by die voorste operahuise in die wêreld is vir jare vooruit bespreek.
Wyle luitenant-generaal Frikkie Engels en mevrou Engels was en is met reg trots op hulle twee talentvolle kinders.
Uitstappies en Gesellighede van die Generaalsklub
In die afgelope 25 jaar het die generaalsklub onvergeetlike uitstappies en toere gereël. Hier dink ons aan die geleenthede na Port Edward, Walvisbaai, Worcester, Wees Gerus en onlangs met ons mondigwordingsgeleentheid, by Klub Mykonos, Langebaan.
2009 - Die generaals en hul eggenotes smul aan ʼn afval-potjie by Klub 2000, Loftus Versveld Vlnr: Mevrou Bets van Vuuren, Luitenant-generaal Dolf van Vuuren, generaal majoor Hennie Fischer, mevrou Drienie Fischer, mevrou Zena Conradie en generaal-majoor Mac MacDonald
Mevrou Bets van Vuuren en luitenant-generaal Dolf van Vuuren in gesellige luim tydens ʼn uitstappie van die Generaalsklub
Gesellig tydens ʼn besoek aan Maleoskop in 1991
Vlnr luitenant-generaal Lou Erasmus, luitenant-generaal Johan Victor, generaal-majoor Tienie
Cronjé en brigadier Willem Schoon (range waarmee hulle afgetree het)
Nog ʼn geselligheid by Maleoskop
Op die foto is generaal-majoor Piet Kruger, generaal-majoor HC Muller, luitenant-generaal Le Roux Stemmet generaal-majoor John Kelly
Luitenant-generaal Stemmet omstreeks in 1987 in gesprek met twee toekomstige generaals, brigadier Tienie Cronjé en kolonel Johan Ferreira. Dit was tydens ʼn spanbou vir Hoofkantoorseksiehoofde by Maleoskop.
As ons aan hierdie geleenthede dink kom die die aand toe ‘n bus vol generaals in dik sand by Lauberville, Walvisbaai vasgeval het, of toe die groep generaals die oggend inderhaas per bus Worcester toe moes reis om eerstehands te kan verneem van ʼn drama wat hom die vorige dag by Wachthuis afgespeel het, of toe die vol bus generaals duskant Paternoster op die treinspoor gaan staan het, en die wyse raad wat uitgedeel is hoe die bus van die spoor af moes kom.
Luitenant-generaal André Pruis en generaal-majoor Leon Mellet besig met ʼn paar nagtelike eskapades by Lauberville
Die samesyn, die stories en lekker lag sal vir altyd in ons gedagtes voortleef.
As ons terugkyk oor die wel en weë van die afgelope 25 jaar, voel dit soos gister.
As ons by die Feesmaal aansit om die 25 jaar te gedenk, dink ons weer aan die aangename tye en die kameraadskap wat ons saam belewe het.
Ons vergeet ook nie ons kollega-generaals en hul eggenotes wat ons die afgelope 25 jaar ontval het nie.
Ons dink met liefde en heimwee hulle nagedagtenis en eer hulle vir die bydrae wat hulle nie net aan die generaalsklub gelewer het nie, maar ook vir dit wat hulle vir hul gesinne en ons land beteken het.
Saamgestel deur lt.genl. Johan Ferreira: Pretoria
Augustus 2012
NUWE ADVERTEERDER – SYNEXUS – NEW ADVERTISER
BEKENDSTELLING / INTRODUCTION
WIE IS SYNEXUS
Synexus, is die wêreld se grootste multinasionale maatskappy wat toegewy is aan die werwing van pasiëntvrywilligers en die uitvoer van kliniese proewe deur voltydse GCP-opgeleide ondersoekers by sy eie kliniese proefpersele regoor die wêreld namens farmaseutiese, biotegnologie- en CROkliënte. Synexus bedryf 'n wêreldwye netwerk van toegewyde navorsingswebwerwe (DRS) in 11 lande. Synexus het tans meer as veertienduisend pasiënte wat vir kliniese proewe ingeskryf is. Synexus het onlangs meer as 75 navorsingswebwerwe in die Verenigde State bygevoeg.
Synexus is 'n maatskappy wat toegewy is aan die uitvoer van kliniese studies en het die doeltreffendheid van nuwe medisyne en behandelings vir meer as 20 jaar ondersoek. Ons bied 'n vriendelike, ontspanne omgewing waar jy die kans het om die toekoms van gesondheid vir jouself en vir ander te help vorm.
Ons het 3 toegewyde kliniese navorsingswebwerwe, sowel as verskeie geaffilieerde terreine in SA. Elke webwerf het sy eie toegewyde span hoogs opgeleide dokters en verpleegsters om ons pasiënte te voorsien die vlak van gemak en professionaliteit wat gewoonlik in private gesondheidsorg gevind word. Of jy nou jou vordering oor 'n koppie tee bespreek, of 'n komplimentêre ontbyt geniet nadat jy gevas het vir 'n bloedmonster, hierdie persoonlike aanraking maak 'n Synexus-kliniek so 'n verwelkomende plek vir jou om aan 'n kliniese studie deel te neem.
WAT IS KLINIESE STUDIES
Mense is geneig om nie veel na te dink oor hoe behandelings aan hulle beskikbaar gestel is nie, maaralles van aspirien tot chemoterapie isnoukeurig getoets voordat dit deur jou dokter voorgeskryf word.
By Synexus fokus ons op wat bekend staan as 'laatfase' kliniese studies. Hierdie studies kyk na die uitwerking van die medisyne wat bestudeer word op die toestande wat hulle ontwerp is om te behandel en almal sal vroeër fasetoetse ondergaan het. Ons het baie verskillende studies wat by baie verskillende behandelings en toestande pas, waarvan die resultate help om 'n gesonder toekoms te verseker.
Hoe word kliniese studies gereguleer?
'n Kliniese studie kan slegs aan ons studiepasiënte aangebied word sodra dit goedgekeur is deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Regulerende Owerheid (SAHPRA), sowel as 'n
onafhanklike etiekkomitee wie se taak dit is om die regte, waardigheid en welstand van alle studie te verseker pasiënte word nie gekompromitteer nie.
Verlede jaar in Synexus SA het sowat 500 mense aan ons goedgekeurde studies deelgeneem, met elke pasiënt bekend aan ons personeel op voornaam en behandel met die geduld, sorg en deernis waarvoor ons bekend is.
Tydens die studie sal jy gereeld deur ons hoogs opgeleide en toegewyde dokters en verpleegsters geassesseer word en jou gesondheid sal gemonitor word deur die goedgekeurde riglyne en besonderhede in die studieprotokol te gebruik.
Hoe neem ek deel aan 'n kliniese studie?
Om aan 'n kliniese studie deel te neem is 'n persoonlike keuse en ons sal die inligting verskaf wat jy nodig het om 'n ingeligte besluit te neem. Ons moedig jou aan om jou besluit ook met diegene na aan jou te bespreek.
As jy besluit jy stel belang om moontlik deel te neem, maak ons jou reis so eenvoudig en insiggewend moontlik.
1. Jy kan hierdie vorm huis toe neem om dit met jou gesin te bespreek voordat jy 'n besluit neem.
2. As jy besluit om deel te neem en die ingeligte toestemmingsvorm onderteken, kry jy 'n eenvoudige behandelingsplan om te volg. Jou toestand sal regdeur die studie gemonitor word en jy sal deurgaans spesialisadvies en -ondersteuning gebied word.
3. Die plan kan vereis dat jy ons kliniek gereeld besoek, en ons kan dalk help met jou reisreëlings. Jy is ook welkom om enige tyd iemand saam met jou na die kliniek te bring vir ondersteuning.
4. Onthou jy kan 'n belangstelling toon sonder om jou tot 'n studie te verbind en jy is vry om enige tyd te onttrek sonder om 'n rede te gee.
WHO IS SYNEXUS
Synexus, is the world's largest multinational company dedicated to recruiting patient volunteers and conducting clinical trials by full-time GCP-trained investigators at its own clinical trial sites around the world on behalf of pharmaceutical, biotechnology and CRO clients. Synexus operates a global network of dedicated research sites (DRS) in 11 countries. Synexus currently has more than fourteen thousand patients enrolled in clinical trials. Synexus recently added more than 75 research sites in the United States.
Synexus is a company dedicated to conducting clinical studies and has been investigating the effectiveness of new medicines and treatments for more than 20 years. We offer a friendly, relaxed environment where you have the chance to help shape the future of health for yourself and others.
We have 2 dedicated clinical research sites, as well as several affiliate sites in SA. Each site has its own dedicated team of highly trained doctors and nurses to provide our patients with the level of comfort and professionalism usually found in private healthcare. Whether discussing your progress over a cup of tea, or enjoying a complimentary breakfast after fasting for a blood sample, this
personal touch makes a Synexus clinic such a welcoming place for you to participate in a clinical study.
WHAT ARE CLINICAL STUDIES
People tend not to think much about how treatments are made available to them, but everything from aspirin to chemotherapy has been carefully tested before being prescribed by your doctor.
At Synexus, we focus on what are known as 'late phase' clinical studies. These studies look at the effects of the medicines being studied on the conditions they are designed to treat and all will have undergone earlier phase trials. We have many different studies that suit many different treatments and conditions, the results of which help ensure a healthier future.
How are clinical studies regulated?
A clinical study can only be offered to our study patients once it has been approved by the South African Health Products Regulatory Authority (SAHPRA), as well as an independent ethics committee whose job it is to ensure the rights, dignity and well-being of all study subjects patients are not compromised.
Last year in Synexus SA, around 500 people participated in our approved studies, with each patient known to our staff by first name and treated with the patience, care and compassion for which we are known.
During the study you will be regularly assessed by our highly trained and dedicated doctors and nurses and your health will be monitored using the approved guidelines and details in the study protocol.
How do I take part in a clinical study?
Participating in a clinical study is a personal choice and we will provide the information you need to make an informed decision. We encourage you to discuss your decision with those close to you as well.
If you decide you are interested in possibly participating, we make your journey as simple and informative as possible.
1.You can take this form home to discuss it with your family before making a decision.
2. If you decide to participate and sign the informed consent form, you are given a simple treatment plan to follow. Your condition will be monitored throughout the study and you will be offered specialist advice and support throughout.
3. The plan may require you to visit our clinic regularly, and we may be able to help with your travel arrangements. You are also welcome to bring someone with you to the clinic for support at any time.
4. Remember you can show an interest without committing to a study and you are free to withdraw at any time without giving a reason.