4 minute read

Dr Leon Wessels vertel

’n Doodse stilte het oor ons neergesak. Uiteindelik antwoord Motsemai: “Leeu, (deesdae noem hy my “Leeutjie”) as jy groot is en jy praat nog so, sal ek sê jy is ’n man.” Daarmee was die debat tussen ons afgehandel. Hulle wou nie verder met my daaroor praat nie en het dit duidelik gemaak dat ek nie weet waarvan ek praat nie. Die skande van die dompasstelsel sou jare daarna nog ’n werklikheid bly. Ek en Tersia het in die 1980’s aan die Comradesmarathon deelgeneem. Die staaltjies wat ek daardie tyd in hardlooptydskrifte gelees het oor die kameraadskap en ondersteuning tydens dié wedloop het my destyds aangegryp. Een van die verhaaltjies wat professor George Barrie van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit vertel het, het die onregverdigheid van die paswette belig. Barrie het dit oorspronklik in ’n tydskrif gelees. Die storie lui dat aan die beginjare van dié 90 kilometer lange ultramarathon daar slegs ’n handjievol mense deelgeneem het. Met die eindpunt nog etlike kilometers ver, verloor een van die agterosse stoom. ’n Swart vreemdeling wat nie aan die wedloop deelneem nie, kom van agter af aangedraf en vra: “Waar kom al die mense vandaan en waarheen is hulle op pad?” Die twee gesels en skuifeldraf so saam-saam terwyl die deelnemer sy spreekwoordelike tweede asem kry. Hy vra toe die vreemdeling om saam met hom tot in Pietermaritzburg te draf, want hy wou hom graag ’n beloning gee uit dankbaarheid vir die paar kilometer se ondersteunende saamdraf. Die antwoord was verrassend: “Jammer, dit kan ek nie doen nie, want my pas laat my nie toe om in Pietermaritzburg te kom nie. Hulle gaan my vang.”

Advertisement

Toe ek in die 1980’s Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena lees, het Poppie se swerfervarings my diep getref. Ek het toe besef dat ek deel was van haar swaarkry, want ek het gehelp om daardie kwetswette op die wetboek te hou. Ek kon eenvoudig nie meer maak asof ek nie geweet het nie en die blaam vir haar ellende op my voor-

ouers en voorgangers plaas nie. Die ongenaakbare wêreld wat Poppie te bowe moes kom en haar vlugtogte voor die gereg het my tot groot droefheid gestem. Hoe kon ons, ek, alles so gelate aanvaar het? Daar was ’n Poppie in die meeste huishoudings wat ek geken het. Elsa Joubert het my eendag vertel Poppie se stories is gegrond op die werklikheid. Daar was geen versinsels om die stories aan te dik nie. Dít het my geruk! Terwyl Poppie-hulle vir die soveelste keer op die lorries klim om te trek, sing hulle: “O God van Jakob, deur u hand, word gans u volk gevoed . . .” Die gesingery was vir my ekstra ontstellend, want ek het eenkeer gelees hoe die Afrikanerboerevroue in die Anglo-Boereoorlog, wanneer hulle op die ossewaens klim om weggevoer te word na die konsentrasiekampe terwyl die Britte hul plaashuise aan die brand steek, ook “O God van Jakob” gesing het. Die Afrikanervroue het die lied biddend gesing as inspirasie teen hul onderdrukkers, en dekades later het Afrikaners die onderdrukkers geword en sing dié wat deur hulle onderdruk word dieselfde lied as inspirasie. Toe Poppie moedeloos sê: “Ek kan die wet nie met my hande breek nie,” het ek haar hulpeloosheid verstaan; toe die kinders in 1976 teen dié wette opstaan en sy ondersteunend sê: “At last,” was ek en sy op dieselfde golflengte. Die wette moes waai! Selde tevore het ek die ongenaakbaarheid van die apartheidstelsel so helder gesien. Die predikament van die individu wat teen die magtige staatsmasjien te staan kom, het die onmenslikheid van die beleid vir my blootgelê. Geen wonder die internasionale gemeenskap het dít verklaar tot ’n “misdaad teen die mensdom” nie. Ek het ’n deel van Poppie Nongena op ’n vliegtuigrit gelees en was so ontroer dat ek saggies begin huil het. Ek was verleë oor my trane en het my bes gedoen om nie aandag te trek nie, maar ek het sonder twyfel geweet: ek sal nooit weer dieselfde wees nie. Die instromingsbeheermaatreëls is in 1986 van die wetboek geskrap danksy die aanbevelings van die Riekertkommissie. Daar was in die Nasionale Party geen logiese argument te voer teen die stap nie. Die het ’n nuwe era ingelui. Daardie dag in 1986 het ek vir Sexton Motsamai uit die parlement gebel en hom herinner aan ons gesprek jare gelede, toe ek nie kon verstaan waarom hy en sy vriende mense vir pasoortredings aantree nie. Sy kommentaar was bondig: “Leeu, jy is ’n man.” Natuurlik het ék nie die paswette geskrap nie, maar ek was by toe dit gebeur het. As kind het interne verset teen die apartheidsbedeling net nie op my Richterskaal geregistreer nie. Ek was net af en toe bewus van ’n ligte opstootjie wat aangevuur is deur ’n paar “moeilikheidmakers”. Ons het vas geglo dat ons as wit volk deur God beskerm word. Die Christendom sou oorwin oor die bose – waaronder ons die heidendom, die swart gevaar en die rooi gevaar verstaan het. Min Afrikaners met wie ek destyds in aanraking was, sou dit oorweeg het om in die buiteland te gaan woon. Vandag woon honderde duisende Afrikaners in die buiteland. Britse joernaliste verwys spottenderwys na die “Afrikaner- volkstaat” in sekere dele van Londen. Wys jou net hoe klein die wêreld geword en hoe vinnig dinge binne en buite Suid-Afrika kan verander. Dr Leon Wessels

Bo: Brig WA Wessels, Vader van dr Leon Wessels Nongqai: Julie 1937 p671

This article is from: