3 minute read

Dr HA Abbott

Next Article
Nawoord

Nawoord

Dr Henry Abbott

Advertisement

My Pa was ‘n lid van die SuidAfrikaanse Polisie. In sy jong dae was hy een van die min manne met ‘n motorfietslisensie en is kort-kort na ‘n ander stasie in die destydse Vrystaat en Kaapprovinsie verplaas. Na agtien jaar diens was hy by sy 21ste stasie, insluitende 10 jaar diens by Hoofkantoor. Vir my Pa was ‘n ding net reg of verkeerd. Vroeg in 1951 was die stasiebevelvoerder op Mafeking so veregerlik dat hy sê: “Wat is die verste plek wat jy het? Vat hierdie verdomde man en stuur hom soontoe!” So het my Pa en Ma op Witdraai aangekom in Julie 1951, pas ‘n week na die laaste veiling van Kamele op die eertydse kameelteelstasie van die SA Polisie. Om jou kinderjare in die Kalahari deur te bring is seker een van grootste gawes wat ‘n mens van die Here kan ontvang. As die Psalmskrywer sê: “Die meetsnoere het vir my op lieflike plekke geval” dan weet elke Kalahariekind presies wat hy bedoel. Op 68-jaar kry ek nog altyd trane in my oë om net daaraan te dink. Om so iets wonderlik te beleef, net om dit weer vyf en ‘n half jaar later te verloor, maak ‘n ontsettende verlies in ‘n mens wakker. Dit lyk altyd vir my of die kinders van Kalaharieboere wat reeds op ‘n jong ouderdom na die Kosskool op Askham is, later na Upington, maar wat nog altyd die vaste band van ‘n Familieplaas in die Kalahari het, dit miskien ‘n bietjie makliker gehad het. Na die skrywe van ons boek oor Witdraai en die kamele het ek ‘n hele paar geharde polisiemanne gesien erg bewoë raak, so dis nie net ek nie. Ek kan ook die gevierde Boesmanleier David Kruiper aanhaal wat by geleentheid gesê: “O, Witdraai, as ek jou maar kon kry”. Hulle het darem natuurlik later ‘n groot stuk van Witdraai gekry en dis reg so! Omdat die aanklagkantoor direk langs die stasiebevelvoerder se huis is, met die enigste telefoon in die omgewing, en omdat my Ma dikwels as die manne op patrollie uit was, al een was wat die telefoon kon antwoord het ek sommer eintlik in die aanklagkantoor groot geword. Alhoewel ekself later in ‘n Wetenskaplike rigting gespesialiseer het, en eers by Departement Landbou en later Waterwese gewerk het, was my Broer, Skoonsus en Skoonpa almal in die Mag, en ek voel altyd tuis in ‘n polisiekantoor en by die Mag se mense. Ek was bevoorreg om baie van die Groot Geeste in die Mag persoonlik te ken, en ook ‘n groot klomp gewone Polisiemanne. Ek het die uiterste respek vir hulle en die groot werk wat hulle onder die moeilikste omstandighede denkbaar moes doen. Dis seker daarom dat ek so ‘n passie het vir die geskiedenis van die kamele, die Polisiemag en die Boesmans wat soms as spoorsnyers aan die selfde kant was as die Polisie, en soms as vee- of wilddiewe of gifpylmoordenaars aan die anderkant. Toe ek in ongeveer in 2005 met die Witdraai-boek begin het, het ‘n paar mense gesê: “Jy moes al 20-jaar terug hiermee begin het, want toe het al die mense nog gelewe”. Dis waar, maar gelukkig lewe mense in die Kalahari lank, en hulle het goeie geheues. Die nasate het ook oopbek na hulle Pappas en Oupas se stories geluister en kon die interessantste en belangrikste stories lekker oorvertel. Vandag se jeug sal seker net oor TV-stories kan oorvertel. Hierdie Spesiale uitgawe saam met brig. Heymans, sal help om die inligting en foto’s wat ek bymekaar gemaak het, iewers vas te vang. Ek hoop u geniet die foto’s en vertelling uit ‘n tyd toe SuidAfrika se Agterland nog die Wilde-Weste was, en jy sal besef dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Miskien leer u iets daaruit. Veral PJN Bothma se vertelling oor die Withond by Keimoes is ‘n juweeltjie, en onthou tog om te kyk of daar nie iets onder daardie Vyeboom langs die kanaal weggesteek is nie!

This article is from: