2 minute read
SOWETO-ONLUSTE 1976: Charlotte Jacobs
Midde-in die 1976-onluste word ons oor die land uitgeplaas. Blougat en grootoogonskuldig. Wat weet jy nou in elk geval as jy uit die kollege kom. Boekekennis en dis dit!
Ek meld Sondagmiddag laat by my Vrystaatse dorpie aan, waar die aanklagtekantoor-sersant duidelik nie geweet het wat om met my te maak nie. Hy stuur my dus huis toe en sê ek moet maar die volgende dag halfsewe by die aanklagtekantoor aanmeld. So gesê, so gedaan. Die volgende oggend vroeg is ek daar. Opgewonde vir hierdie groot dag wat voorlê. Maar o wee, die stasiebevelvoerder is 'n kwaai gryskop omie en ek kry my eerste uittrap omdat ek nie dadelik met my aankoms begin werk het nie. En basta die sersant - hy kon my nie huis toe stuur nie, want hy is nie die stasiebevelvoerder nie!
Advertisement
Ai, my hart bons en my maag is op 'n knop. Niemand wil nou jou eerste dag só begin nie.
Soos ek gesê het, is dit midde-in die 1976-onluste en ons word op parade meegedeel dat niemand huistoe gaan nie, die polisiestasie is jou nuwe huis.
Vir die volgende paar dae hou die polisievroue die fort terwyl die manne die onluste bekamp. In 'n stadium word van die polisiemanne deur 'n skare omring wat begin toi-toi. Nou, as hulle eers begin toi-toi, is daar moeilikheid. Die kinders loop voor, dan die vroue en dan die manne. Ons het een hondeman en een hond op die stasie en daardie aand dryf daardie gedugte twee-manspan 'n hele aggressiewe skare uitmekaar. Ons pragtige wit Alsatian en sy geleier is die helde van 'n donker gevaarlike nag. Maar van oraloor kom die beseerdes en oorledenes in en met groot oë skryf ek alles in die voorvalleboek.
Laat een middag staan 'n swart vrou teen die ingang se deurkosyn. Sy huil hartverskeurend in haar kopdoek. Haar gebrokenheid en smart is tasbaar. Eintlik wil ek haar net omarm en troos, maar dis onluste en sy is hier om haar seun, wat aan die onluste meegedoen het, se lyk uit te ken. En ons is mos geleer om professioneel op te tree. In my binneste wonder ek of my sagte hart dit gaan oorleef. Maar die hart is baie sterker as wat jy dink. En so met verloop van tyd leer jy om jou werk te doen en jou professionele afstand te hou.
Maar vanaand, as jy alleen is, kan jy nie die trane van skok, ontnugtering en hartseer keer nie. Want ek is net 'n jong agtienjarige, oorbeskermde kind wat nog nooit met die dood gekonfronteer is nie.Die stasie se wit Alsatian was die held van een onlustevoorval