3 minute read

NAWOORD: HBH

Next Article
1982: Platoon 1

1982: Platoon 1

Ons manne het altyd gespog en gesê: “Ons bloed is Blou!” Maar as dit by ons vrouepolisie kom is hulle van staal! Hulle is van buite mooi en pragtig MAAR hulle het staal in hul pype! Kragtig wanneer nodig!

Ek was ook ‘n “straat-polisieman” en “stasie-haas” en later in die veiligheidstak en later weer terug na uniformtak – weer het ons dames my nie verkeerd bewys nie. Hulle het ‘n gees van omgee, simpatie en ordentlikheid in die Mag ingedra. Hulle het hul ou saai staatsdienskantore en die aanklagtekantore verfraai! Daar was ‘n nuwe gees in die Mag te bespeur. Ons registers en amptelike boeke is mooi oorgetrek – alles het die hand van ‘n dame getoon! Ons het ook ons taalgebruik opgeknap – ons het maar lekker Frans en Russies gepraat totdat ons dames gekry het.

Advertisement

Ek het die deernis en “omgee” by polisiedames opgemerk as hulle met kinders en vroulike slagoffers gewerk het. Jammer om te sê: Voor die koms van die vrou in die Mag was ons maar net nie op standaard nie!

(Kom ek motiveer: Sien ‘n besige aanklagtekantoor (AK) voor u geestesoog. ‘n Dame staan na-ure en kla van verkragting. Haar verklaring word ten hore van almal in die besige AK afgeneem. Sy kry nie eens ‘n koppie tee nie. Na aflegging van die verklaring en eed word sy dan agter in ‘n patrolliewa na die distrikgeneesheer geneem! Ek was daar – ons het net nie klas gehad nie! Ons was so basies – MAAR ons het die verkragter aan die einde van die dag gevang! Dink nou maar weer aan die hof waar die arme klaagster weer aan getuienis en kruisverhoor onderwerp word.)

Dames het daardie ekstra bietjie empatie ingedra en daardie omgee was vir my mooi. So uit die hart uit! Dan het hulle boonop styl gehad!

In die polisiekollege het die dames ons beeld verder gebou – die “anderkant” van die Mag is vertoon!

In die Afdeling Openbare Betrekkinge het hulle werklik beeld gebou!

In die veiligheidstak en by die Polisie se Intelligensie-afdeling het hulle plaaslik, in Suidwes-Afrika en in die buiteland ‘n groot rol vervul. In die eenkant was “Operasie K” besig met optrede terwyl een van ons dames juis aan die ‘anderkant’ besig was om met ons opponente te skakel! (Besig om inligting in te win.) Ek wonder wat sou gebeur het indien die SAP haar daar ‘gevang’ het? By die speurders het hulle ook goed gevaar! Selfs by Moord en Roof ....

Hulle het dieselfde bevorderingseksamens as ons geskryf! Hulle was goed! Ek het nooit lui polisiedames teëgekom nie. Voorts het ek gevind dat hulle baie goeie redigeerders van verslae, rade en dokumente was. (Na haar aftrede was brig Duveen Botha by die veiligheidstak werksaam waar sy gehelp het met die redigering van verslae! Sy was uitstekend – op ‘n latere geleentheid meer oor die formidabele dame!)

Wat my opgeval het van dames in die polisie met wie ek destyds in aanraking gekom het was: - hul getrouheid - hul skerpsinnigheid - hul sesde sintuig

En tog na alles gesê en gedaan dit was ‘n reuse sukses om dames in diens te neem – as ek so op my lewenspad terug kyk kon ons hulle al in die 1950’s indiens geneem het. Gister was ek in ons “groot nuwe Spar” – waar mens alles kan koop en hier in werkstyd kry ek ‘n dame polisie-sersant besig om inkopies in uniform te doen. Dit lyk net nie “reg” nie! Dit het my laat dink aan die woelige dae te Welkom toe ons bykans elke Vrydag-namiddag padblokkades moes hou terwyl ons Saterdae en Sondae onluste moes bekamp. Ek het destyds alle polisiedames in die distrik toegelaat om Vrydae in burgerdrag te werk juis om inkopies te doen en hul hare te versorg. Mens kan nie dag in, en dag uit, en week in, en week uit, in uniform wees nie – mens moet inkopies doen en ek het gedink dis die beste plan. Nadat hulle gedoen het wat hulle moes, moes hulle weer uniform aantrek.

Ek het ook gesien dat polisiedames bykans alles kan doen wat ‘n man kan doen!!

Ek salueer al ons dames!

This article is from: