24 minute read

VROUEPOLISIE-GESKIEDENIS | WOMEN POLICE HISTORY

HOOFSTORIE

LUITENANT KOLONEL DANELIA CHRISTELLA VELDHUIZEN

Advertisement

Ek is gebore op 2 Oktober 1958 in Empangeni in Noord-Natal. Ek het daar groot geword en my hele skoolloopbaan daar voltooi. Ek het gedink dat ek ‘n onderwyseres wou word, maar ek dink die Here het ander planne vir my lewe gehad. My loopbaan in die Polisie het begin nadat my familie tydens ‘n Desember skoolvakansie by my pa se jongste broer en sy familie gaan kuier het. In die sitkamer van hul huis was daar ‘n groterige geraamde foto van my neef, Gert Labuschagne in sy Spoorwegpolisie-uniform. Hy het net so ongelooflik professioneel gelyk en dit was net daar waar ek besluit het dat ek ook iets belangriks met my lewe wil maak en het net na die skoolvakansie by Empangeni Polisiestasie gaan aansoek doen om by die Mag aan te sluit.

Foto 1 - Foto van my neef, Gert Labuschagne wat my aangespoor het om by Polisie aan te sluit. Foto 2 - Foto van my pa, Andries Labuschagne, in sy Polisie-uniform.

Aanvanklik was my pa, Andries Labuschagne, wat ook ‘n hele ruk lank in die Spoorwegpolisie was, nie gelukkig dat sy “dogtertjie” so ‘n gevaarlike werk moet doen nie. Maar met heelwat oorreding van my ma Adrie en gesmeek van my kant af, het hy ingestem dat ek ‘n Polisievrou kan word. Op 25 Maart 1977 word ek ingesweer as ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Polisie en so begin ‘n wonderlike reis van opwinding, avonture, hartseer en baie ervaringe. Kort nadat ek as student by die Polisiestasie begin werk het, het ek my eggenoot, Philip Veldhuizen ontmoet. Hy was vanaf Durban verplaas Empangeni toe. Ons het dadelik baie van mekaar gehou en net meer as ‘n jaar later is ons getroud.

die drilgrond. (Foto 3 - Afgetrede Lt Kolonel Philip Veldhuizen.) Nadat ek ‘n maand in die Polisiekollege in Pretoria was, het Philip met sy patrolliehond-kursus by die Polisie se Hondeskool begin. Dit was natuurlik lekker dat ons mekaar party middae kon sien en die Saterdae as ons af was, by sy ouers in Florida kon gaan kuier. Ek het baie goeie skoonouers en skoon familie gekry en was baie bederf met lekker eetgoed vir die res van die week in die kollege. Ek was nog altyd ‘n baie gedissiplineerde persoon en het dus die opleiding geniet. Ek hou ook van dril en ander militêre parades en het dit vreeslik geniet. My enigste probleem was seer blase aan my voete van my Polisie skoene. Ons het natuurlik baie pret ook gehad en een hiervan was om met ons manlike kollegas te kompeteer om

(Foto 4 - My kollege opleiding. Ek is tweede van links in die 2de ry.)

Terwyl ek by Empangeni Polisiestasie gewerk het, was my pligte om lasbriewe, dagvaardings en navrae te doen. Ek en my vroue kollega en vriendin, Antoinette Brits was albei nogal kort en het gesukkel om die groot Dodge “vans” te bestuur want ons bene kon nie by die pedale bykom nie. Toe besluit ons om die lasbrief en ander dik registers te gebruik om op te sit sodat ons darem by die voorruit kon uitsien terwyl ons half sittende half staande bestuur. Antoinette se man was ook ‘n hondeman op dieselfde stasie. Ek het op Alexandra Polisiestasie in Pietermaritzburg begin werk nadat Philip verplaas is na die Honde Eenheid in Mountain Rise. Ons het skofte gewerk en op dieselfde skof as ons, was daar ook ‘n Konstabel met die van Velthuysen. Radio beheer het nogal hul hande vol gehad met drie konstabels met “dieselfde” van op een skof. Op ‘n stadium het ek ook by Radio Beheer Hilton gewerk en dit baie geniet. Met die koms van my eerste seun, Theoneil, het ek gevra om liewer kantoor ure te werk wat ek toe weer op Alexandraweg Polisiestasie gedoen het. Ek het ook ‘n hele ruk op Howick gewerk en my tweede seun, Jonathan, is gedurende daai tyd gebore. Ek het meestal administratiewe dienste gedoen, maar het wel uitgehelp met klagtes as daar nie genoeg mense op die skofte gedurende kantoor ure was nie. Ek onthou hoe ek ‘n ongelukstoneel moes bywoon toe ek agt maande swanger was en hoe ek gesukkel het om die opmetings, ensovoorts moes maak met my groot maag. Ek het ook baie aansoeke vir vuurwapen lisensies gedoen en meeste was van persone wat uit Zimbabwe gevlug het. Hulle verhale het my baie geraak. Ons is uiteindelik na Queenstown in die Oos Kaap toe. Philip was in die Veiligheidstak en ek was die Stasiebevelvoerder se klerk. Daar was heelwat lede wat ingeskryf het vir die Polisie Diploma en toe ek besef dat van die baie jonger lede dalk voor my bevorder gaan word, het ek Philip aangespoor om saam met my te studeer. Dit was nogal moeilik vir my wat heeldag moes werk, huis toe gaan en twee klein seuntjies te versorg en al die ander huishoudelike pligte moes nakom. Daar was nie op daardie stadium geld vir ‘n huishulp nie. Ek het dus probeer om saans nie te laat te gaan slaap nie en het dan so vieruur in die oggend opgestaan en gestudeer. Met eksamen tyd het ek self al tussen twee en drie uur in die oggend opgestaan om seker te maak dat ek al die nodige kennis het om te slaag. Ek het deurgedruk en aan die einde van 1989 het ek al my vakke geslaag. In Julie 1990 het ek die tweede inname van die offisierskursus by die Polisie opleidings Kollege in die Paarl bygewoon. Dit was een van die lekkerste kursusse wat ek voltooi het en ook een van die mees trotse oomblikke in my Polisie loopbaan toe ek my Luitenant epoulette op my skouers gekry het. Ek was ook die eerste vroue Polisie Offisier in die geskiedenis van Queenstown. (Foto 5 - Ek ontvang my Diploma in Polisie Administrasie.) Na die offisierskursus is ek van Queenstown Polisiestasie verplaas na die Distrikskommandant wat ook op Queenstown was. My bevelvoerder daar was ‘n baie goeie en gedissiplineerde man, Kolonel Hays. Op daardie stadium het ek onder andere, indiensneming gedoen. Wanneer die nuwe lede ingesweer moes word het ek hulle afsonderlike gevra om die Nasionale volkslied te sing. Meeste was baie skaam om te sing, maar ek was darem genadig en het hulle gerusgestel dat ek sommer terg. Ek was ook die enigste nuwe offisier by die Distrik en het meeste van die Departementele ondersoeke gekry om te hanteer. Gelukkig het Kolonel Hays gesien wat gebeur en het toe persoonlik die ondersoeke toegeken aan die ander offisiere ook. Ek is verplaas Brighton Beach Distrik toe in Julie 1991 nadat die Staat Philip verplaas het weens doodsdreigemente van terroriste organisasies. Ek was die hoof van Logistiek en het ‘n wonderlike Distrikskommandant, Brigadier Smith gehad. Hy was ‘n baie regverdige man en het goeie mense

verhoudings gehad. Terwyl ek daar was, is ek genomineer vir ‘n logistieke kursus in Paarl. Ek is baie lief vir die Wes-Kaap en was dus baie opgewonde. Tydens die oggend samekomste was daar geen musiek begeleiding wanneer die liedjies gesing was nie. Ek het toe aangebied om elke oggend die klavier te speel. Twee van my kollegas wat op dieselfde kursus was, het by my op die verhoog gestaan vir morele ondersteuning.

(Foto 6 - Koerant berig in The Representitive, Oktober 5, 1990 wat handel oor die feit dat ek die eerste vroue-offisier in Queenstown was.)

(Foto 7 - Ek , 4de van links in tweede ry, saam met kollegas op logistieke kursus in Paarl.)

was vreeslik interessant gewees. ‘n Ander kursus wat ek bygewoon het terwyl ek in Brighton Beach gewerk het, was ‘n SWOT kursus. Ons was ‘n hele aantal Polisie vroue wat die moes bywoon en ons het Brigadier Smith gesmeek om ons vir drie dae te verskoon sodat ons almal saam kon gaan. Hy het toestemming verleen en dit

( Foto 8 - Ek in die middel tydens ons SWOT-kursus.) In 1995 is ek Amanzimtoti verplaas omdat die Distrikte toegemaak is. Ek het ook grotendeels administratiewe dienste verrig. Met die aftrede van die Stasiebevelvoerder, Kolonel Mouton, is ek aangestel as Stasiebevelvoerder. Ek het dit nie baie geniet om die “baas” te wees, nie omdat ek te veel in die voorgrond was. Ek hou daarvan om hard te werk, maar hou nie daarvan dat al die aandag op my gevestig moet word nie. As Stasiebevelvoerder was dit permanent die geval.

(Foto 9: Koerant berig toe ek aangestel is as Amanzimtoti se Stasiebevelvoerder)

(Foto 10 - My administratiewe personeel in Amanzimtoti. Ek is voor, derde van links.)

(Foto 11 - Ek saam met ander Stasiebevelvoerders.)

(Foto 12: Artikel waar ons mense waarsku om nie enige persoon op straat te gebruik om te help nie)

(Foto 13 - Koerant berig oor voertuig wat aan my oorhandig word.) Na twee jaar as Stasiebevelvoerder, het ek aansoek gedoen om by Menslike Hulpbronne by die Area Kommissaris, Durban Suid te gaan werk, maar was by Kommunikasie geplaas omdat die hoof daarvan ‘n verplasing geneem het. In die begin wat dit nogal moeilik want daar was niemand om

my op te lei nie, maar ek het baie vinnig geleer. Ek het dit baie interessant gevind en omdat ek ‘n baie kreatiewe persoon is, kon ek my uitleef in my werk. Ek was ook baie gelukkig nadat Adjudant offisier Rani John aangestel is by kommunikasie. Behalwe dat sy my kollega was het en ons gou baie goeie vriendinne geword het, was sy net soos ek ook baie kreatief en het net soos ek gedink. Ons het soms mekaar se sinne voltooi, of het iets begin beplan en dan agtergekom dat ons idees dieselfde is.

(Foto 14 - Ek en Adjudant Offisier Rani John) Ek ly in ‘n mate aan obsessiewe kompulsiewe versteuring en ek kon nie die ou metodes wat gebruik was om soos byvoorbeeld om maandelikse opgawes van vyf en twintig stasies te kombineer en dan een opgawe aan die Provinsie te stuur nie. Die verskillende formate ensovoorts was vir my net te deurmekaar. Toe het ek dokumente met tabelle ensovoorts ontwerp wat eenvormig was vir almal. Dit het baie meer professioneel gelyk en was baie makliker om die gekombineerde opgawe op te trek. Die Provinsiale Hoof van Kommunikasie, Generaal Bala Naidoo was so beïndruk dat hy die hele provinsie instruksie gegee het om daardie vorms te gebruik.

(Foto 15 - Saam met Generaal Bala Naidoo by my afskeidsfunksie.) Ons het vyf en twintig stasies en ook ander eenhede gehad wat ons bedien het. Ons was op bystand vir kommunikasie vir al hierdie stasies en moes meeste van die tonele waar ernstige misdaad plaasgevind het, bywoon. In sekere gevalle het van die media ook die tonele bygewoon, maar daar was ook baie gevalle waar hulle foto’s benodig het en dan nie gehad het nie. Ek het toe besluit om dinge vir onsself makliker te maak en het toe aansoek gedoen vit ‘n kamera. Ons kon toe self foto’s neem, nie net van tonele nie, maar ook van funksies ensovoorts. Omdat ons self die tonele bygewoon het, het ons dus nie nodige en korrekte inligting bekom om aan die media oor te dra.

Wat ek ook baie van kommunikasie gehou het, was die beplanning en uitvoering van funksies. Ek kon uiting gee aan my kreatiewe idees en ons Area Kommissaris, MajoorGeneraal Ramsaroop het ons baie ondersteun en vrye teuels gegee. Hy kon my altyd vertrou want hy het geweet ek sal altyd net my beste lewer. Ek dink nie ek het hom ooit teleurgestel nie. Ek het ook baie Ministers en ander belangrike mense ontmoet wat my werk baie interessant gemaak het. Ek en my span het ook projekte aangepak wat die gemeenskap geraak het. Dit was veral lekker om met die kinders te werk en hul opgewondenheid te beleef.

(Foto 16 - Ek saam met Derick Watts.)

(Foto 17 - Koerantberig oor ons uitreik na kinders.) Behalwe vir koerant berigte, moes ons soms Televisie onderhoude doen. In die begin was ek nogal senuweeagtig, maar ek het gou gewoond geraak daaraan. Self die Radio onderhoude het gou soos “tweede natuur” geword. Een van die snaakste radio onderhoude wat ek moes doen, was oor ‘n storie was versprei is oor ‘n kind wat deur ‘n luislang opgeëet is. Gewoonlik sou die Radio stasie ‘n opname maak en dit later uitsaai. Maar op hierdie spesifieke dag was dit ‘n lewendige uitsending. Ons Area kantoor was reg langs die Lughawe en die vliegtuie is dan baie laag en raas vreeslik. Net toe ek die storie (wat natuurlik heeltemal vals was) begin vertel, kom die passasiers vliegtuig oor. Die radio omroeper moes toe maar verskoning maak aan die luisteraars en toe alles stil was het ek weer die storie begin vertel. Nog iets wat ek seker altyd sal onthou is toe ek en ‘n ander Kaptein ‘n gyselaarsdrama bygewoon het. Die man het reeds sy vrou geskiet asook ‘n familie lid. Die Polisie se onderhandelaar het die man probeer oorreed om die mediese personeel toe te laat om sy vrou te behandel. Die familie lid was in die been geskiet en kon darem ontsnap. Na ‘n hele paar ure het die Taakmag oorgeneem

en die man in die hand geskiet, die vuurwapen afgeneem en hom gearresteer. Ongelukkig het sy vrou gesterf voordat sy hulp kon ontvang. Ek was vreeslik beïndruk met hoe goed hulle te werk gegaan het. Hulle was doodstil, het toe ‘n skoot afgevuur en die situasie is opgelos. Maar dis nie die deel wat my bybly nie. Toe die Taakmag met al hul gewere en ammunisie op die toneel aankom en ek weet daar gaan nou ‘n geskietery of iets plaasvind, het ek aan kant van die Polisie voertuig inbeweeg en agter die wiel ingesak. Wel, ek het by myself geredeneer dat ek op daai tydstip nie van enige nut was nie en dat ek nog te jonk was om iets oor te kom en gereken dat dit veilig is agter die wiel. Binne sekondes was die Kaptein agter die ander wiel. Ons het net in stilte na mekaar gestaar en daarna lekker hieroor gelag. Daar was nie interne opleidings programme vir kommunikasie beamptes nie en dit was vir my baie belangrik dat die lede op die stasie die nodige kennis moet bekom om hul pligte behoorlik uit te voer. Ek het aansoek gedoen om ‘n kursus te kan aanbied vir die vyf en twintig lede wat kommunikasie op hul stasies gedoen het. Die Area Kommissaris het dit goedgekeur en ons het vir drie dae weggegaan na Port Edward. Ek het ook toestemming verkry om Scelo Scott, wat by Hoofkantoor was, te kry om die lede in sekere aspekte op te lei. Ek kan nie onthou wat sy rang was nie, maar hy was baie goed met kommunikasie. Kolonel Krish Nair was die Hoof van Finansies by die Area en het in samewerking met die Area Kommissaris, al die skryfbehoeftes wat elkeen van die lede benodig het, goedgekeur. Behalwe vir die feit dat die lede baie baat by die kursus gevind het, was dit ook ‘n goeie tyd vir spanbou en ‘n geleentheid vir die lede om mekaar beter te leer ken. In 2007 het die Areas gesluit en is ek verplaas na Umlazi. Brigadier Coenraad Marais, wat die hoof van Misdaad voorkoming by die Area was, het die Stasiebevelvoerder van Umlazi geword. Dit was ‘n baie goeie ervaring om in so ‘n groot “Township” te werk. Ons was baie goed deur die gemeenskap ontvang en gelukkig kan ek en Brigadier Marais bietjie Zulu praat en verstaan. Brigadier Marais is ‘n man wat altyd “volgens die boek” werk en ek het baie by hom geleer. Hy is waarlik ‘n man met integriteit. Ongelukkig vir ons het hy ook geglo aan misdaad voorkoming en dus het ons voetpatrollie gestap in daai hitte met ons “bulletproof vest” en vuurwapen. Ek was daar ook die hoof van Kommunikasie en het ‘n goeie offisier, Kaptein Kephu Ndlovu gehad wat baie belangrike mense geken het. Ons het vreeslik lekker saam gewerk. Ek het al die Administratiewe pligte behartig en hy het rondgery en die ander kommunikasie pligte nagekom. Wanneer ons belangrike projekte wou doen, het hy met sy belangrike vriende reëlings gemaak en het ons baie suksesvolle byeenkomste gehad. Ek het ook ‘n klerk en drie vrywilligers gehad wat almal een klein kantoortjie gedeel het. Dit was ‘n prefab gebou en dit was vreeslik warm in die somer. Ten spyte van alles het ek baie lekker saam met die lede gewerk.

(Foto 18 - In Umlazi saam met my meisies in ons kantoor.)

Ek het ook gevind dat die lede baie positief was veral toe ons ‘n padblokkade moes beman in afwagting van die Minister van Polisie. Dit het vreeslik baie gereën maar die lede was positief en professioneel. Daar was ook menige tye wat lede van politieke partye die Polisiestasie se hek geblokkeer het en dan moes ons wag vir die Onluste Eenheid om hulle te kom verwyder. Ek was die “Champion” vir die Vroue Netwerk vir die Umlazi Distrik. Tydens ‘n Provinsiale byeenkoms moes ons voorstellings maak van sekere van die doelwitte. Ek het toe klere gemaak vir twee poppies wat Polisievroue voorgestel het by die Aanklagtekantoor. Hulle was uniek en het baie aandag ontvang.

(Foto 19 - Die twee poppies waarvoor ek uniform gemaak het). In April 2009 is na Chatsworth verplaas omdat my isiZulu nie goed genoeg was vir die radio onderhoude ensovoorts nie. Die isiZulu sprekende offisier is toe van Chatsworth na Umlazi verplaas. Brigadier Zondi was die Stasiebevelvoerder en ek het ook baie goed onder sy bevel gewerk. Hy was ‘n streng man en het ook altyd volgens die regte voorskrifte gehandel, het goeie mense verhoudings gehad en was baie regverdig. In November daardie jaar is ek genader om deel te wees van ‘n groep van ses Polisie vroue wat 600km sal stap vir die 16 Dae van geen geweld teen vroue en kinders Veldtog. Ons het elke dag so tussen ses en sewe ure gestap. Ons het baie ondersteuning langs die pad gekry, maar die hitte op die teerpad was vreeslik. Behalwe vir die veldbrand en die blase op ons voete, het ons klere ons ook geskaaf. Maar na ‘n goeie nagrus was ons weer reg vir die pad. Die veldtog was geopen deur die Minister van Polisie en die Provinsiale Kommissaris van KwaZulu Natal. Ons het gestap vanaf Estcourt na Port Shepstone via die agterpaaie. Op die laaste dag was daar weer ‘n funksie om die Veldtog af te sluit. Voorwaar ‘n baie goeie ondervinding.

(Foto 20 - Koerant berig oor ons 600 km staptog.)

Die rede waarom ek genader is, is vanweë die feit dat ek die Comrades Maraton vantevore gehardloop het. Die ander vrouens het ook soortgelyke fiksheid gehad.

(Foto 21 - Ek en Dominee Charles Panaino oppad na die eindstreep in Pietermaritzburg)

Ek hou van avontuur en probeer om verskeie dinge aan te pak of te probeer. Die Comrades was ‘n lekker uitdaging en ek het dit drie keer voltooi. Ek het ook aan verskeie Ultra marathonne deelgeneem vir hardloop en stap. Goeie oefening vir ‘n Polisielid.

(Foto 22 - Ek links saam met spanmaats tydens 'n 50 km staptoer.) Brigadier Marais is na amper ‘n jaar nadat ek op Chatsworth begin het, aangestel as Stasiebevelvoerder nadat Brigadier Zondie bevorder is na Generaal. Dit was wonderlik om weer saam met hom te werk. Hy was nie net ons Baas nie, hy was ook ons mede kollega en het baie kere saam met ons gewerk en misdaadvoorkoming gedoen. Selfs in die nag. Een van hierdie

aandpatrollies het Brigadier Marais, Kolonel Krish Nair, Lt Kolonel Val Reddy en Kaptein Tazz Kisten en ek patrollie gedoen in ‘n Mercedes Vito. Ons het op die Polisie radio gehoor van ‘n voertuig wat net ‘n paar minute vantevore gekaap is. Ons was naby daardie area en het begin uitkyk vir die voertuig. Dit was nie lank voor ons die gekaapte voertuig gesien en dit begin agtervolg het nie. Gelukkig is Kaptein Kisten ‘n baie goeie bestuurder en het ons die voertuig begin inhaal. Die kapers het begin stres en het uit die bewegende Polo uitgespring. Kolonel Nair het uit die Vito gespring, gehardloop en in die bewegende Polo gespring en die handrem opgetrek. Dit was teen ‘n afdraande en die Polo sou met die reëlings gebots het as Kolonel Nair dit nie betyds gestop het nie. Brigadier Marais en Kaptein Kisten het intussen ook uitgespring en die verdagtes agterna gesit. Ek en Lt Kolonel Reddy het by die voertuig gebly en die radio beman. Met die hulp van ander lede en die honde eenheid is die twee kapers gearresteer. Die eienaar was baie beïndruk met die Polisie veral nadat hy in kennis gestel is dat die voertuig deur senior offisiere teruggevind is.

(Foto 23 - Koerant berig oor die suksesvolle arrestasies van kapers en terugvind van gekaapte voertuig.)

Chatsworth het twee keer ‘n jaar ‘n karnaval gehad en die gemeenskap het dit baie besoek. Ons het elke jaar ‘n Polisie stalletjie gehad waar mense kon sien watter wapens gebruik is in misdade, hoe die verskillende dwelms lyk ensovoorts. Ons het diens daar verrig en antwoorde verskaf op die publiek se navrae. Ons het baie pret daar gehad.

(Foto 24 - Ek hou 'n luislang vas tydens by die Chatsworth Karnaval.)

(Foto 25 - Saam met Poo Bear by Chatsworth Karnaval.)

Brigadier Marais was ‘n misdaadvoorkoming-bevelvoerder en ons het dus baie padblokkades en ander misdaadvoorkomingsoperasies gehad. Ek het baie goeie verhoudings met my bevelvoerders en my kollegas gehad en het dus geniet om spesiale dienste saam met hulle te werk.

(Foto 26 - Ek en mede kollegas tydens 'n padblokkade in Chatsworth )

(Foto 27 - Ek saam met vrouelede by Chatsworth Polisiestasie.)

Chatsworth Polisiestasie was een van daardie stasies wat gedurig deur die Provinsiale bestuur, die ministers en die Portefeulje Komitee besoek is. Natuurlik moes die Polisiestasie dan ekstra mooi skoongemaak word ensovoorts. Ek het van my pa geleer om ‘n nutsman te wees en het al die teëls reggemaak of vervang wat stukkend was en ander klein herstel werkies in en om die stasie gedoen. Ek het ook die van die lede en klerke gekry om my te help om die tuine mooi en skoon te maak. Die Gemeenskapspolisiëring Forum van Chatsworth was baie sterk en dit was deel van my pligte om in samewerking met hierdie forum misdaadvoorkomingsinitiatiewe te organiseer. Ek het dan gereël vir die Polisie helikopter, honde eenheid en ander eenhede sodat die publiek kon sien wat elkeen se dienste behels.

(Foto 28 - Ek saam met Kolonel Krish Nair en Lt Kolonel Val Reddy tydens 'n sport byeenkoms teen misdaad)

(Foto 29 - Foto van die Polisie helikopter wat deur my geneem is tydens misdaadvoorkomings geleentheid.)

(Foto 30 - Pret tydens 'n misdaadvoorkomingsinisiatief) Ek het in ‘n Christelike huis grootgeword en ek dink dit het ‘n baie belangrike rol in my Polisie loopbaan gespeel want ek het altyd simpatie en empatie vir mense gehad. My ouers was baie goeie rolmodelle en het ons geleer om altyd net ons beste te lewer en om mense met respek te behandel soos ons graag behandel wil word. Hulle het ons baie aangemoedig om te presteer en om voluit te leef. Ek het Natal klere verwerf in atletiek en judo.

(Foto 31 - Saam met my ouers, Andries en Adrie Labuschagne op die MSC Sinfonia.) My moeder het op die ouderdom van tagtig jaar ons uitgedaag om saam met haar te gaan Zipline. Ek en my suster, Noelien Botes was maar baie skrikkerig vir die gedeeltes wat baie hoog en baie lank was. Maar ons kon nie toelaat dat ma ons “oorwin” nie en het dus maar saam gaan gly. Dit was ‘n baie lekker ervaring.

(Foto 32 - Ek, my ma Adrie en suster Noelien na ons Zipline ondervinding.)

(Foto 33 - Ek ontvang my 20 jaar medalje van Generaal Van Eyk) Ek het ook verskeie medalje Parades bygewoon en is veral trots op my verskillende medaljes vir diensjare, 10 jaar, 20 jaar, 30 jaar en 40 jaar. Ek onthou toe ek my 20 jaar medalje moes ontvang, het my skoonma, Magriet Veldhuizen, spesiaal haar planne om na Johannesburg terug te keer verander om teenwoordig te wees wanneer ek my medalje ontvang. ‘n Wonderlike gebaar wat regtig baie vir my beteken het.

(Foto 34 - Ek saam met klerk Esther Pillay en Kolonel Krish Nair by 'n medalje parade)

(Foto 35 - Lt Kolonel V G Naidoo, Lt Kolonel M R Pillay, Brigadier C F Marais, Lt Kolonel Rumchander, Kolonel K Nair en ek nadat ons almal ons 30 jaar medaljes ontvang het.)

Aan die begin van 2016 het ek besluit om in te skryf by ‘n kursus wat deur ons kerk aangebied is. Dit was Woordskool genoem en ons moes klas bywoon en eksamen skryf. Ek het die eerste en tweede jaar suksesvol voltooi en my sertifikate daarvoor ontvang. (Foto 37 - Ek ontvang my sertifikaat van Pastoor Peet Roode. Pastoor Gerhard le Roux links agter my en Dr Anthony Jacobs in middel.) Ek is baie dankbaar dat ek so baie geleenthede gekry het in die Polisie om te vorder in my lewe. Ek dink byvoorbeeld aan die 50/50 studie verlof en die verskeie kursusse wat gehelp het dat ek my pligte meer professioneel kon uitvoer. Ek is ook dankbaar teenoor my kinders wat met twee Polisie ouers groot geword het en hulle menige tye by familie moes gaan slaap omdat ek en Philip albei moes werk. Dit het hulle sterk gemaak want vandag is hulle wonderlike gedissiplineerde en verantwoordelike kinders waarop enige ouer kan trots wees.

(Foto 38 - Ek saam met my seuns en skoondogters, vlnr Rene, Jonathan, Theoneil en Meike) Op 31 Oktober 2018 word my diens as ‘n lid van die Suid Afrikaanse Polisie Diens beëindig, na ‘n loopbaan van een en veertig jaar en sewe maande. My vader is oorlede twee jaar voor my afskeidsfunksie, maar ek weet dat hy baie trots was op wat ek bereik het, want hy het dit verskeie kere aan mense genoem. Gelukkig was my moeder en ander familie lede teenwoordig en almal het my pa se woorde beaam.

(Foto 39 - Ek saam met my ma, Adrie Labuschagne, Suster Noelien Botes en broer, Athian Labuschagne by my afskeidsfunksie.) Ek is dankbaar dat ek vir soveel jare so baie mense kon help, dat ek so baie ondervinding kon opdoen en ervaringe kon beleef, soveel vriende, kollegas en bevelvoerders kon ontmoet en met ‘n onberispelike rekord my aftrede kon begin.

Addisionele Foto’s

(Foto 40 - Ek op een van die Berede Eenheid se perde.)

(Foto 41 - Voorbladartikel oor vroue, Lt Kolonel Reddy links en ek regs)

(Foto 42 - Ek op 'n motorfiets.)

This article is from: