3 minute read

RUACANA... SHOULD OLD ACQUAINTANCES BE FORGOTTEN...?

Op die foto hiernaas verskyn ek en my bloedbroer Ikasa Imasa sy aan sy, soos van ouds. Hy was ons nommer twee Casspir-bestuurder gedurende die laaste jare van die Grensoorlog. Baie kere het hy ook my Casspir bestuur. Hy en sy dogter het vir my, vroulief Riana Steyn Prinsloo en Skoonma Chrissie Steyn kom groet op Ruacana toe ek op 20 Desember 2017 op my spore gaan terugloop het. Sy dogter was so 'n jaar of wat oud toe ons weë geskei is destyds. So oud soos my eie dogter Luandri Prinsloo. Wat 'n wonderlike verrassing!

Ikasa het net voor die April 1989 inval by ons op Ruacana Veiligheidstak weggebreek en Opuwo in die Kaokoveld toe gegaan. Daar by Koevoet se Zulu 5 gaan aansluit, saam met Kaptein Nic Peens en andere. Ek onthou hom as 'n vurige makker, nie net as 'n bestuurder nie, maar ook een wat hom met die eerste en beste geleentheid uitgedraai het om te kon spore hardloop saam met die spoorsnyers. Hy was in die Casspir agter my toe ons daardie massiewe landmynkombinasie langs die dorp afgetrap het. Aiê, Chindele (swart Angolese benaming vir witman), het hy gesê. Ek het gedog julle het gevrek! Hy was baie dankbaar dat ek dit oorleef het, om hom nog daarna lekker rond te jaag en paraat te hou!

Advertisement

Met my onlangse besoek het hy gehoor dat ek op Ruacana was. Hy het ná die oorlog by SWAWEK (nou Nampower) aangesluit en is ondergronds by die kragstasie werksaam om elektrisiteit aan Namibië te voorsien. Hy het die mees suksesvolle beampte uitgedraai van al my Ovambo spoorsnyermakkers in die gevegspan. En hy het sy dogter saamgebring, want sy wou al die jare nog vir Kollie van Ruacana ontmoet. Haar vader se gevegspanmaat en bevelvoerder tydens die "Namibian War of Liberation". Sy is vandag 'n senior beampte in die Namibiese Weermag, gesetel in die ou Owamboland (Kunene Provinsie).

Ek en Ikasa het heerlik gesels in die sitkamer van oud-kollega en makker Roy Bassingthwaighte, Ikasa se huidige kollega by Nampower, se woning op Ruacana. Hy het my op hoogte gebring met die welstand van baie van ons oud-makkers en ook dié wie ons vooruit is. Soos ou Kasupi, my hulp-gunner op die nommer een Casspir. Wie ek so mooi gelas het toe 'n pom-z hom so vol gate geskiet het in die berge wes van Ruacana, en toe met 'n Puma af ge-casevac het Ondangwa toe. Ou John Alberto Hayes, my mede Angolees en halwe Dorslandtrekker afstammeling, wie ek en Swaer Bertie Steyn uit die Olusandjadam by Epalela van verdrinking gered het. Kollega Sersant Petrus Sheimi, my leermeester en rigtingwyser... wat 'n paar kontakte saam met my oorlewe het terwyl ek nog in die SAP Uniformtak was. Die Ngatjombe-broers op die nommer drie Casspir. Ou Hidipo Shiweda en Tobias Nekongo. Nog 'n paar ander... saluut, my broers, RIV!

Ikasa se dogter, as lid van die Namibiese Weermag, het my met groot respek bejeën toe ons gesels het. Sy wou so graag hê dat ek nie vir Namibië moet vergeet nie. My taak is nog nie afgehandel nie, het sy gesê. As ek aftree, moet ek terugkom, daar is nog baie jare voor my wat ek 'n bydrae kan maak tot die land waarvoor ek so hard geveg het. Sy het onthou dat die stories oor kampvure versprei is dat ek President Sam Nujoma se "lyfwag" was. Hulle Kollie van wesOvamboland! En toe gee beide Ikasa en sy dogter vir my die grootste verrassing in 'n lang tyd... Haar moeder Julia (Ikasa se eerste en enigste vrou) is al die afgelope tien jaar en langer die kookster vir President Sam Nujoma op sy plaas suid van Ruacana! En dat my naam so nou en dan genoem word in gesprekke. Sam Nujoma het my nie vergeet nie...

This article is from: