8 minute read

Die toordokter se “moeti” laat Forensies kopkrap

• Die toordokter se “moeti” laat Forensies kopkrap

Een Maandagoggend in April 1981 so teen half nege se kant kom ‘n plaaslike inwoner, ‘n jong man van so 19 jaar oud, uitasem by die Polisiekantoor ingehardloop en rapporteer dat ‘n toordokter die indoena, of dan die hoofman van hul statjie getoor het en dat hy kort daarna dood neergeslaan het.

Advertisement

Dit klink na ‘n moord en Adjudant-Offisier Johann Bacher en nog ‘n ondersoekbeampte vertrek kort daarna na die statjie, ‘n klein nedersetting so 45 kilometer vanaf die Polisiestasie, langs die Linyanti-meer in die Oos-Caprivi. Die Linyanti-meer stam uit die Linyantirivier wat eintlik die verlenging van die Kwandorivier is wat later teen die Botswanagrens die Choberivier word.

Met aankoms by die statjie vind Johann Bacher ‘n groot geraas soos mense skreeu en sien dat die plaaslike inwoners, ‘n groepie van so 40 mense, mans, vroue en kinders, eenkant saamgebondel het en dat ’n ander bejaarde man eenkant staan wat later blyk die toordokter te wees. Langs hom op die grond lê ‘n liggaam, die oorledene. Die inwoners is uiters aggressief en dreig daar en dan om die toordokter te gryp en hom te “halssnoer” en lewendig te verbrand. Wat sy bas op daardie stadium gered het was die feit dat hy ‘n toordokter was en gedreig het dat hy enige een wat nader beweeg, eweneens gaan toor en dat hul ook dood sou neerslaan. Die inwoners het, feitlik deur die bank, ‘n absolute vrees vir die toordokter en sy magiese kragte, maar spreek hom tog gereeld wanneer hul dit nodig ag. Johann Bacher slaag daarin om die gemoedere te kalmeer en beheer van die toneel oor te vat.

Die toordokter erken dadelik, openlik en sonder dat daar enige druk op hom uitgeoefen word, dat hy vir die oorledene se dood verantwoordelik was. Hy deel Johann Bacher mee dat hy die oorledene genooi het om by hom ‘n biertjie ‘n te kom drink omdat hy gehoor het dat die oorledene ‘n ander toordokter se hulp ingeroep het om hom met sy liefdeslewe te help en dit met hom wou bespreek.

Elke toordokter het sy eie gebied en word daar nie sondermeer met ‘n ander toordokter se jurisdiksie ingemeng nie. Dit was ontoelaatbaar. Die hoofman het toe ook baie vroeg daardie oggend van sy dood, so teen vyfuur by hom opgedaag en het hul vrede gemaak en om dit te vier, sou hul ‘n biertjie, eintlik maar ‘n tuis gebroude brousel saam drink, en die vredespyp rook. Volgens die toordokter se eie vertelling het hy, die toordokter, toe vir hul elkeen ‘n biertjie in ‘n blikbeker geskink en het hul lekker saam gekuier. So 20 minute later het hy, die toordokter, die oorledene meegedeel dat hy wat die toordokter is, hom getoor het en dat hy dood sou neerslaan. Weens die absolute en allesoorheersende vrees vir ‘n toordokter, het die arme hoofman in sweet en angs uitgeslaan en inderdaad 20 minute later self inmekaar gesak en gesterf.

Op Johann Bacher se vraag hoe hy dan die oorledene getoor het, haal die toordokter ewe gedwee ‘n blik uit waarin ‘n vuilerige en gryskleurige poeier is en oorhandig dit aan Johann Bacher saam met ‘n houer bier. Volgens sy verduideliking het hy van sy sterk “moetie” in die oorledene se bier gegooi, en al wat toe verder nodig was, was om die oorledene mee te deel dat hy sou sterf. Volgens hom het sy “krag” as toordokter met hierdie woorde ingeskop en het die oorlede dan ook kort daarna doodgeslaan.

Die toordokter word meegedeel dat hy as verdagte op ‘n klagte van moord gearresteer word. Die toordokter is ewe rustig en kalm, klaarblyklik min gepla oor sy arrestasie en deel Johann Bacher mee dat sy “kragte” sterker is as enige iets anders en dat hy nie bang is nie omdat sy “moetie”

Geen druk is op die toordokter uitgeoefen om sy betrokkenheid en aanspreeklikheid te erken nie. Hy word later dieselfde dag na die Landdros geneem om ‘n bekentenis af te lê. Hy hou by sy storie aan Johann Bacher en ons voorsien nie enige probleme met dié betrokke saak nie. Met sy bekentenis tot ons beskikking het dit gelyk na ‘n maklike saak en word hy aangekla op ‘n klagte van moord. Daar word met die Forensiese Patologiese Laboratorium in Windhoek gereël om die lykskouing op Katima Mulilo te kom doen. Die poeier en bier waarop beslag gelê is, word na die S.A. Polisie se Forensiese Laboratorium in Pretoria gestuur vir ontleding, vergesel van ’n volledige verslag. Die Patoloog uit Windhoek moet weer met ‘n huurvlug kom en die vliegtuig wag op die lughawe om hom na die lykskouing weer na Windhoek terug te vlieg.

Ons wag geduldig vir die Forensiese uitslag wat ek gedink het baie gou beskikbaar sou wees. Ons word slegs per brief in kennis gestel dat die forensiese ontleding nog aandag geniet. Na twee maande word ons van die uitslag van die forensiese ontleding in kennis gestel. Die laboratorium stel ons in kennis dat die poeierstof van onbekende oorsprong is en geensins gif van enige aard nie. Hulle bevinding word deur ‘n ander onafhanklike laboratorium bevestig. Met dié verslag word die mat bykans onder ons voete uitgeruk. Ons sit met ‘n baie goeie bekentenis en ‘n positiewe forensiese uitslag sou ons saak versterk om ‘n skuldigbevinding te verkry. Die toordokter (nou die beskuldigde) word ingetrek en vir die doeleindes van verdere ondersoek en om onduidelikhede uit te sorteer, spesifiek uitgevra na die oorsprong van die gif. Ons weet reeds dat dit die boombas van ‘n spesifieke boom is en besluit om monsters van die betrokke boom se bas en blare vir verdere ontleding te verkry. Hy stem in om ons te help en te gaan wys waar dié betrokke boom in die Caprivi voorkom. ‘n Verklaring word van die toordokter verkry waarin hy verklaar dat hy ons vrywilliglik en goedgunstiglik van dié inligting sal voorsien om te voorkom dat hy later in die hof kan beweer dat daar dwang op hom uitgeoefen is of mislei is. Sonder dat hy enigsins ingelig is dat die forensiese ondersoek daarop dui dat dit nie gif is nie, begin hy, toe die bykomende verklaring afgeneem word, lag en verklaar vol selfvertroue: “Die witman ken nie van die gif nie”. Monsters word van die boombas, die hout van dié boom en blare geneem en weer aan die Forensiese Laboratorium gestuur saam met foto’s van die boom hoe dit in sy natuurlike staat lyk. Die Forensiese Laboratorium stel ons na bykans nog twee maande in kennis dat die boom uitgeken is as inheems aan die Caprivi en dat ‘n biochemikus van ‘n onafhanklike laboratorium, bevestig het dat dit bekend is dat Bosmans ‘n pasta uit die boombas gemaak het en aan hul pyle gesmeer het wat hul op hul jagtogte gebruik het. Tog is dit bekend dat die Bosmans die diere wat met dié pyle gejag is, se vleis geëet het en het niks oorgekom nie. Niemand weet presies hoe die boombas (as sogenaamde gifstof) dan die dood veroorsaak nie. Bassies is dit nie gif nie. (Ek beskik nie meer oor die wetenskaplike naam van die betrokke boom nie omdat dié dokumentasie in die dossier geliasseer is en ek nie ‘n kopie van dié verslag gehou het nie.) Die Forensiese Laboratorium verwittig ons dat hul van die monsters na ‘n Federal Bureau of Investigation (FBI) laboratorium in Amerika gestuur het vir verdere ontleding en moontlike insig hoe dié bas (wat net so nie gif is nie), die dood kan veroorsaak. ‘n Hofsaak wat ek gedink het binne ‘n maand of twee in die hof afgehandel kon word is nou onbepaald uitgerek. Dié ondersoek deur die FBI word egter vinniger afgehandel as wat ek gedink het en hul verslag word na sowat ses weke ontvang. Daarvolgens is die boombas, hout van die boom en blare as sulks nie gif nie. Die teorie en aanduiding is egter dat dié bas, indien dit deur die slagoffer ingeneem word, en daar op een of ander manier spanning (stres) op die slagoffer geplaas sou word, dit een of ander chemiese reaksie in die ingewande van die betrokke persoon te weeg sou bring, wat dan uiters dodelik kon wees. Dit is dan hoe dit klaarblyklik werk: Die Bosmans volg die dier wat gejag is en

plaas dit onder stres wat dan die dood veroorsaak. Dieselfde het blykbaar met die toordokter se slagoffer gebeur. Weens sy absolute vrees vir ‘n toordokter was dit maklik om hom onder stres te plaas deur hom mee te deel dat hy getoor is en gaan sterf. Die dood word dus veroorsaak deur die chemiese reaksie wat in sy liggaam ontstaan.

Die Forensiese Laboratorium het onderneem om die teorie op skape en varke te toets waarvan die weefsel baie “naby” aan dié van menslike oorsprong is. Ek het egter die Caprivi met permanente verplasing verlaat voordat die Forensiese Laboratorium se toetsuitslae in dié verband beskikbaar was, en weet dus nie wat hul bevinding was nie. Ek neem egter aan dat dié toetse die teorie sou bevestig. Ek het agterna ook gewonder op watter wyse die Laboratorium te werk sou gaan, veral om dié diere onder stres te plaas. Ek weet wel dat ‘n skuldigbevinding verkry is en dat die toordokter tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis is wat ek vermoed later na Namibië se onafhanklikheid verkort is. Die tydperk wat die toordokter alreeds in aanhouding verkeer het, is met vonnisoplegging in aanmerking geneem.

‘n Baie interessante en unieke geval wat ‘n paar kinkels opgelewer het nadat ons gedink het dat dit sommer vinnig in die hof afgehandel sou word.

TOE ONS NOG HOEDE GEDRA HET ... TOE DAAR NET EEN BRIGADIER IN DIE WWR WAS ...

This article is from: