Die allesoorheersende invloed van die toordokter in die Bos is ‘n werklikheid en iets wat in die westerse beskawing nie altyd begryp word nie.
• Die toordokter se “moeti” laat Forensies kopkrap Een Maandagoggend in April 1981 so teen half nege se kant kom ‘n plaaslike inwoner, ‘n jong man van so 19 jaar oud, uitasem by die Polisiekantoor ingehardloop en rapporteer dat ‘n toordokter die indoena, of dan die hoofman van hul statjie getoor het en dat hy kort daarna dood neergeslaan het. Dit klink na ‘n moord en Adjudant-Offisier Johann Bacher en nog ‘n ondersoekbeampte vertrek kort daarna na die statjie, ‘n klein nedersetting so 45 kilometer vanaf die Polisiestasie, langs die Linyanti-meer in die Oos-Caprivi. Die Linyanti-meer stam uit die Linyantirivier wat eintlik die verlenging van die Kwandorivier is wat later teen die Botswanagrens die Choberivier word. Met aankoms by die statjie vind Johann Bacher ‘n groot geraas soos mense skreeu en sien dat die plaaslike inwoners, ‘n groepie van so 40 mense, mans, vroue en kinders, eenkant saamgebondel het en dat ’n ander bejaarde man eenkant staan wat later blyk die toordokter te wees. Langs hom op die grond lê ‘n liggaam, die oorledene. Die inwoners is uiters aggressief en dreig daar en dan om die toordokter te gryp en hom te “halssnoer” en lewendig te verbrand. Wat sy bas op daardie stadium gered het was die feit dat hy ‘n toordokter was en gedreig het dat hy enige een wat nader beweeg, eweneens gaan toor en dat hul ook dood sou neerslaan. Die inwoners het, feitlik deur die bank, ‘n absolute vrees vir die toordokter en sy magiese kragte, maar spreek hom tog gereeld wanneer hul dit nodig ag. Johann Bacher slaag daarin om die gemoedere te kalmeer en beheer van die toneel oor te vat. Die toordokter erken dadelik, openlik en sonder dat daar enige druk op hom uitgeoefen word, dat hy vir die oorledene se dood verantwoordelik was. Hy deel Johann Bacher mee dat hy die oorledene genooi het om by hom ‘n biertjie ‘n te kom drink omdat hy gehoor het dat die oorledene ‘n ander toordokter se hulp ingeroep het om hom met sy liefdeslewe te help en dit met hom wou bespreek. Elke toordokter het sy eie gebied en word daar nie sondermeer met ‘n ander toordokter se jurisdiksie ingemeng nie. Dit was ontoelaatbaar. Die hoofman het toe ook baie vroeg daardie oggend van sy dood, so teen vyfuur by hom opgedaag en het hul vrede gemaak en om dit te vier, sou hul ‘n biertjie, eintlik maar ‘n tuis gebroude brousel saam drink, en die vredespyp rook. Volgens die toordokter se eie vertelling het hy, die toordokter, toe vir hul elkeen ‘n biertjie in ‘n blikbeker geskink en het hul lekker saam gekuier. So 20 minute later het hy, die toordokter, die oorledene meegedeel dat hy wat die toordokter is, hom getoor het en dat hy dood sou neerslaan. Weens die absolute en allesoorheersende vrees vir ‘n toordokter, het die arme hoofman in sweet en angs uitgeslaan en inderdaad 20 minute later self inmekaar gesak en gesterf. Op Johann Bacher se vraag hoe hy dan die oorledene getoor het, haal die toordokter ewe gedwee ‘n blik uit waarin ‘n vuilerige en gryskleurige poeier is en oorhandig dit aan Johann Bacher saam met ‘n houer bier. Volgens sy verduideliking het hy van sy sterk “moetie” in die oorledene se bier gegooi, en al wat toe verder nodig was, was om die oorledene mee te deel dat hy sou sterf. Volgens hom het sy “krag” as toordokter met hierdie woorde ingeskop en het die oorlede dan ook kort daarna doodgeslaan. Die toordokter word meegedeel dat hy as verdagte op ‘n klagte van moord gearresteer word. Die toordokter is ewe rustig en kalm, klaarblyklik min gepla oor sy arrestasie en deel Johann Bacher mee dat sy “kragte” sterker is as enige iets anders en dat hy nie bang is nie omdat sy “moetie” 26 Nongqai Vol 13 No 1