10 minute read

Die toordokter en sy 6-jarige slagoffer

Een Maandagoggend in April 1980 rapporteer die oom van die ongelukkige slagoffer by die Polisiestasie op Katima Mulilo en rapporteer dat ‘n familielid, ’n 6-jarige dogtertjie uit een van die inwonerstatjies in die oostelike gedeelte van die Caprivi, weggeraak het. Dié kind was reeds 6 dae soek. Dit word onmiddellik onder my aandag gebring. Ek voltooi die nodige Vermiste Personevorm maar daar is nêrens heen waarheen ek dit kan sirkuleer nie. Die Caprivi is ‘n afgeleë gebied en die naaste S.A. Polisiestasie is 400 kilometer ver geleë en daar is geen manier hoe die arme kind in hul Polisiewyk kon beland nie. Dié betrokke statjie is loopafstand van die Choberivier, wat die grenslyn tussen die Caprivi en Botswana vorm, geleë. Dit was die operasionele gebied en daar was geen kontak of kommunikasielyn tussen die Caprivi en Botswana nie. Inteendeel, die verhoudinge met selfs ons eweknie in die Botswana Polisie was stram. Ek probeer nogtans op nie-amptelike wyse ‘n boodskap na die Botswana Polisie deurstuur vir ingeval dié kind aldaar sou opduik. ‘n Paar kilometer verder noord was die Zambezirivier met Zambië aan die oorkant. Die verhoudinge met die Zambiërs was eweneens uiters stram vanweë die feit dat hul Swapo goedgesind was en hul gehuisves het. Wat die verhoudinge met hul verder gestrem het was die feit dat die S.A. Weermag wanneer nodig, oorgrensoperasies in Zambië geloods het.

Die kind se oom deel my mee dat die moeder van die kind hom gevra het om die vermiste kind by die Polisie aan te meld aangesien sy geen vervoer gehad het om dit self te doen nie en buitendien was haar statjie van die buitewêreld afgesny omdat die Zambezirivier in vloed was, sy walle oorstroom het en reeds sowat 40 kilometer ver die oostelike gedeelte van die Oos Caprivi binnegestoot het. Die laagliggende gedeelte van die oostelike gedeelte van die Caprivi was eintlik ‘n vloedvlakte wat jaarliks gereeld oorstroom en dan meestal slegs per helikopter bereik kon word.

Advertisement

Ek stel vas dat die vader van die kind ‘n Zambiese burger is en noord van Sesheke in Zambië woonagtig is. Hy was blykbaar kort van tevore in die Caprivi en daar was die moontlikheid dat hy die kind na familie in Zambië kon geneem het. Ek probeer nie-amptelik ‘n boodskap na Sesheke, wat direk oorkant Katima Mulilo geleë is, deurstuur.

Iets in die kind se oom se storie hinder my. Dit is asof my voorgevoel en sesde sintuig my waarsku om tog dieper na die aangeleentheid te kyk. Dit was boonop onduidelik in wie se geselskap die verlore dogtertjie laaste was. ‘n Vraag waarop die oom baie vae antwoorde gegee het. My voorgevoel sê my dat die oom nie die volle storie vertel nie en besig is om te lieg. Ek vra Adjudant - Offisier Johann Bacher, om met die moeder van die kind kontak te maak. Johann Bacher was ‘n uiters bekwame en ervare ondersoekbeampte. Hy en nog ‘n plaaslike lid reël met die Lugmag om hulle per Alouette-helikopter na die betrokke statjie te neem. Die moeder van die kind deel Johann Bacher mee dat die kind laaste in die geselskap van die betrokke oom gesien is en sy om daardie rede vir die oom gevra het om die kind as vermis by die Polisie aan te gee. Al die omliggende statjies weet reeds dat die kind weggeraak het. Die kind was laas toe sy gesien is in ‘n groenkleurige rokkie geklee.

Met Johann Bacher se terugkeer word besluit om die oom bietjie dieper te ondervra. Net voordat hy egter verder ondervra kon word, ontvang ons die boodskap by die Polisiestasie dat honde ‘n kombers uit die Choberivier getrek het en klaarblyklik besig was om aan die inhoud te kou. Die honde eienaar stel toe ondersoek in en vind beendere, wat vermoedelik van menslike oorsprong was, binne in die kombers. Daarmee saam was ‘n verslete groen rokkie wat die konneksie met die verlore dogtertjie was. Johann Bacher en nog ‘n lid vertrek na die Choberivier en lê beslag op die kombers en beendere en neem dit na die lykshuis by die plaaslik hospitaal. Die moeder van die kind ken die groen rokkie uit as dié van haar kind en die betrokke rokkie waarin die dogtertjie laas geklee was. Stappe word onmiddellik gereël vir ‘n lykskouing deur ‘n patoloog vanaf Windhoek. Die aanvanklike gebruik met lykskouings was dat dit deur ‘n patoloog vanaf Pretoria (gewoonlik Professor Loubser), gedoen sou word, wat dan op die gewone Flossie-geskeduleerde vlug na Katima Mulilo sou vlieg. Die patoloog sou na aankoms onmiddellik die lykskouing gaan uitvoer en

daarna met dieselfde Flossie na Pretoria terugkeer. Die Flossie sou dan op die lughawe wag tot die lykskouing afgehandel was. Forensiese patalogiesedienste is egter intussen na Windhoek oorgedra en moes ‘n patoloog vanaf Windhoek dié dienste verrig. Omdat daar nie direkte vlugte vanaf Windhoek na die Caprivi was nie, moes ‘n privaatvliegtuig vir dié doel gehuur word. Dié vliegtuig sou eweneens op Mpachalughawe wag totdat die lykskouing afgehandel is en dan die patoloog terug na Windhoek vlieg. ‘n Duur oefening. Meer oor die patologiese verslag later. Dié verslag en bevinding van die patoloog sou egter ons kaarte en gepaardgaande ondersoek, erg deurmekaar krap.

Die oom was op daardie stadium ons verdagte in die saak en hy word onmiddellik as verdagte aangehou. Johann Bacher plaas met sy ondervraging druk op die oom en word hy gekonfronteer met die feit dat die kind laaste in sy geselskap was en dat die liggaam van die kind (of dit wat daarvan oor was), gevind is. Die oom verloor sy selfversekerdheid oor die volgende twee dae en kom met die volgende relaas voor ‘n dag en word hy kort daarna na die landdros geneem vir die aflegging van ’n bekentenis. ‘n Verhaal met uiters grusame detail wat enige persoon slapelose nagte sou besorg. Volgens dié bekentenis was die feite kortliks as volg:

Hy is die oom van die kind en die eienaar van ’n winkeltjie (“Cuca shop”), wat in ‘n statjie aangrensend aan dié van die betrokke dogtertjie was. Sy verkope was egter swak en sy winkeltjie was besig om onder te gaan. Hy spreek ‘n toordokter vir “moetie” om sy verkope te verbeter en sy besigheid van ondergang te red. Saam met hom was nog ‘n familielid (wat ek die mielieboer sal noem), wat ‘n klein lappie mielies rondom sy modderhut aangeplant het. Sy mielie opbrengs was ook swak en hy besluit eweneens om ook die betrokke toordokter vir “moetie” te nader om sy opbrengs te verbeter. Die toordokter deel hul mee dat hy vir hul kragtige “moetie” sal voorberei maar ‘n liggaam van ‘n jong kind daarvoor nodig het. As toordokter was hyself opsoek na die brein en hart van ‘n kind. Hyself het die brein van die kind nodig gehad sodat hy nog ‘n slimmer toordokter kon word. Die brein was dus vir wysheid. Die hart sou weer verseker dat hy sterker en ‘n kragtige toordokter sou wees, wie se “moetie” sterker as enige ander toordokter se “medisyne” sou wees. Dié voorstel was vir hul aanvaarbaar en nadat die toordokter ook sy dolosse gegooi het, besluit die drie saam om die betrokke kind te vermoor en haar liggaam vir “moetie” te gebruik. Die kind was die ideale slagoffer omdat daar altyd gesê kon word dat haar vader haar na Zambië geneem het. Die reëling was dat die oom die kind met lekkergoed sou weglok en dan direk na die toordokter neem. Die mielieboer sou daar by hulle aansluit.

In die Swart tradisie skuif kinders maklik tussen familielede rond en was dit maklik om die kind sover te kry om saam met hom na sy stat toe te gaan toe hy noem dat hy die kind se pa uit Zambië verwag (wat ’n leuen was). Die moeder stem in dat die dogtertjie saam met die oom mag gaan, maar dat sy oor twee dae teruggebring moes word. Dit was die laaste maal wat die moeder die kind lewend sou sien. Die oom neem die kind reguit na die toordokter se sogenaamde spreekkamer waar die mielieboer later die aand opdaag. Die toordokter deel sy mede trawante mee dat hy die kind gaan doodsteek met ‘n dolk en dan gaan onthoof, wat hy dan ook doen. Die dogtertjie het blykbaar gegil maar niemand anders buite die groepie het dit gehoor nie omdat die toordokter se perseel ‘n entjie weg van ander inwoners geleë was. Daarbenewens was die inwoners gewoond aan gille vanuit die toordokter se kompleks en sou hulle, hulle waarskynlik nie daaraan gesteur het nie omdat hy ‘n toordokter was en gereeld met een of ander brousel besig was. Vrees vir die toordokter sou hul ook nie toelaat om in te meng nie. Hulle kon self getoor word en in ’n padda of wat ookal verander. Dit is grieselrige rituele wat hul by die toordokter se kompleks afspeel. Nadat die kind doodgesteek en onthoof het, sny hy haar hart uit asof hy gewoond daaraan is. Hy sit die hart en later die brein in ‘n aparte skottel vir sy eie gebruik. Hy sny ook die hande en voete af en plaas dit in ‘n aparte skottel Volgens die oom se bekentenis het die toordokter die oorblywende liggaamsdele in ’n drom geplaas. Die liggaamsdele is toe gekook om ‘n brousel te maak. Hierdie ritueel het die hele nag lank geduur.

Die hande en voete is ook in ‘n aparte houer gekook om die vleis te verwyder. Die toordokter het daarna die hande en voete se beendere afsonderlik in ‘n houer fyn gekap en vergruis. Die voete wat vergruis is het hy toe aan die oom gegee met die opdrag dat dié verpoeierde stof op die paadjie na sy winkel gestrooi moes word en dat dit dan “voete” (kliënte) na sy winkel sou lok. Die verpoeierde hande is aan die mielieboer gegee met die opdrag om dit oor sy lappie mielies te strooi om ‘n goeie oes te verseker. Die gekookte brousel is eweneens tussen hulle verdeel met die opdrag dat hul dit aan hul blyplekke moes gaan smeer om seker te maak die “moetie” werk kragtig en om onheil van ander toordokters af te weer. Ek vermoed dat hul ook van die brousel gedrink het en hulle aan kannibalisme skuldig gemaak het. Wat ’n grieselrige storie! Die oorblywende beendere en die rokkie van die kind het die toordokter in ‘n groen kombers toegedraai en in die Choberivier gaan versteek. ‘n Flater want honde sou dit later uitsnuffel. Met die lykskouing was die oorblywende bene spierwit en het ons vir mekaar gesê dit lyk asof dit gekook is. Min het ons op daardie stadium geweet dat dit waar sou wees.

Met die oom se bekentenis tot ons beskikking word die toordokter asook die mielieboer gearresteer. Die toordokter was ‘n harde neut om te kraak en wou eenvoudig niks erken nie. Ongeag die intensiteit van die ondervraging. Sy enigste kommentaar was dat sy moetie sterker was as enigiets wat ons teen hom kon inbring. Die mielieboer was makliker om te ondervra en hy vou eenvoudig voor die ondervraging. Hy lê ook ‘n bekentenis af wat min of meer dié van die oom bevestig. Al drie word onder andere van moord aangekla.

Ek was van mening dat ons ’n sterk saak gehad, saam met aanvullende verklarings van onder andere die moeder van die slagoffer en die persoon wat die kombers met liggaamsdele in die Choberivier gevind het.

Dit was egter nie die einde van die drama rondom hierdie saak nie. Die patoloog is ’n goeie vriend van die Afdelings-Speuroffisier (bekend as Kolonel Skankwaan van die duine) en deel hom mee dat hy met die lykskouing bevind het dat die bene wat in ‘n kombers toegedraai en in die rivier gevind is, die beendere van twee afsonderlike kinders was, naamlik die van die sesjarige slagoffer en die van ‘n elfjarige kind. Volgens hom is die liggaam gekook totdat alle vleis van die bene afgeval het.

Drama op drama.

Die volgende oomblik daag die betrokke Speurhoof vergesel van nog ‘n speurder by die stasie op om na die dossier en ondersoek te kom kyk. Volgens die patoloog was daar dus minstens twee kinders betrokke. Die ondersoek word opnuut bekyk. Ons het probeer vasstel of daar enige ander kinders is wat weggeraak het in die betrokke omgewing. Daar is nooit ander kinders as vermis aangegee nie en niemand het geweet van nog ‘n kind wat soek was nie. Die beendere van twee kinders in die betrokke kombers was ‘n raaisel.

Nog was dit nie die einde van dié verhaal nie. Die aanklaer besluit om die mielieboer as staatsgetuie met die nodige vrywaring teen vervolging te gebruik sou hy bevredigend in die staat se saak getuig. Hy lieg egter so, weerspreek sy eie bekentenis en pleeg meineed op meineed. Hy sou later afsonderlik op moord en meineed vervolg word.

Al drie word aan moord skuldig bevind en die mielieboer ook aan meineed.

Suidwes-Afrika was op daardie stadium sterk op pad na onafhanklikheid en die doodstraf word nie meer opgelê nie. Hulle word egter gevangenisstraf van tussen 18 tot 25 jaar opgelê. Ek vermoed egter ook dat hul straf na onafhanklikheid verminder is.

This article is from: