
1 minute read
INLEIDING
Lewensoriëntering is die studie van die self met betrekking tot ander en tot die samelewing. Dit spreek vaardighede, kennis en waardes oor jouself, die omgewing, verantwoordelike burgerskap, ’n gesonde en produktiewe leefstyl, maatskaplike interaksie, ontspanning en fisiese aktiwiteite en loopbane en loopbaankeuses aan.
Al hierdie sluit geleenthede in vir die ontwikkeling en gebruik van ’n verskeidenheid lewensvaardighede om probleme op te los, ingeligte besluite te neem en gepaste stappe te neem om ’n betekenisvolle en suksesvolle lewe in ’n vinnigveranderende samelewing te leef. Die fokus val nie net op kennis nie. Die belangrikheid van die aanwending van vaardighede en waardes in werklike situasies en deelname aan fisiese aktiwiteite, gemeenskapsorganisasies en -inisiatiewe kry ewe veel aandag.
Lewensoriëntering in die VOO-fase beoog om:
• leerders te lei en voor te berei om toepaslik te reageer op die lewe se verantwoordelikhede en geleenthede • leerders toe te rus om optimaal op ’n persoonlike, sielkundige, kognitiewe, motoriesfisiese, morele, geestelike, kulturele en sosio-ekonomiese vlak te reageer • leerders te lei om ingeligte en verantwoordelike besluite oor hulle eie gesondheid en welstand, sowel as die gesondheid en welstand van ander te neem • leerders bloot te stel aan hulle grondwetlike regte en verantwoordelikhede, aan die regte van ander en aan kwessies aangaande diversiteit • leerders toe te rus met die kennis, vaardighede en waardes om ingeligte besluite oor vakkeuses, hoër- en bykomende opvoedingsgeleenthede, loopbane en die werksomgewing te kan neem • leerders bloot te stel aan verskeie studiemetodes en -vaardighede met betrekking tot assesseringsprosesse • leerders bloot te stel aan die waarde van gereelde deelname aan fisiese aktiwiteite
Lewensoriëntering in graad 10 tot 12 fokus op die volgende kernonderwerpe
• Ontwikkeling van die self in die samelewing • Maatskaplike en omgewingsverantwoordelikheid • Demokrasie en menseregte • Loopbane en loopbaankeuses • Studievaardighede • Liggaamsopvoeding
Die vakinhoud en verwante assesseringselemente is gebaseer op die onderwerpe soos in die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) uiteengesit.